SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.73 issue1Die verhouding tussen Ou-Testamentiese wetenskap en Teologiese interpretasie van die Bybel: Handelinge 8:26-40 as gevallestudieEphesians 1:14 and 1:22, 23 as a scriptural maximum-minimum for ecclesiology author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.73 n.1 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i1.3211 

ORIGINAL RESEARCH
https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.3211

 

Johannes Dreyer (1500-1544) - Die Hervormer van Herford

 

 

Wim Dreyer

Department of Church History and Church Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

During 2017, churches with roots in the 16th century Reformation look back at five centuries of reformed Christianity. Much attention is given to important leaders of the Reformation such as Luther and Calvin. However, there are many forgotten 'heroes' who will receive no accolades, nor will they be mentioned in any publication. In this contribution the author tells the story of dr Johannes Dreyer, the forgotten reformer of Herford in Westphalia (Germany). After giving some biographical and contextual information, Dreyer's church order, which was published in 1534 in Wittenberg, is discussed in terms of language, structure and theological content. The conclusion is reached that the implementation of new church orders were an integral part of the reformation process as well as applying reformed doctrine to the practical situation of churches.


 

 

Kerkhervorming in Herford (Wesfale)

Martin Luther het in 1517 sy stellings teen die Roomse aflaatpraktyk opgestel en aan die kerklike owerhede gestuur. Dit was die eerste van 'n reeks geskrifte wat tot ingrypende sosiale, politieke en kerklike verandering gelei het. Luther se optrede het die geskiedenis van Europa en die Christendom onherroeplik verander. Na Luther het ander invloedryke persone en kerklike leiers na vore getree wat welbekend is en wie se verhale dikwels deur historici vertel word. In hierdie artikel word die storie van 'n onbekende hervormer vertel, dr Johannes Dreyer van Herford.

Luther se optrede het nie net die gang van die geskiedenis verander nie, maar ook die lewe van gewone mense. In 1524, skaars sewe jaar nadat Luther sy stryd teen die aflaatpraktyk begin het, skaar 'n jong Augustynse monnik van Herford in Wesfale hom aan die kant van die Lutherse beweging. Johannes Dreyer (1500-1544) het in 1520 in Wittenberg met Luther en Melanchthon kennis gemaak en in 1524 begin om die evangelie volgens Lutherse beginsels in die openbaar te verkondig.

Onder die ouer Duitse kerkhistorici het Johannes Dreyer1 bekend gestaan as die 'Hervormer van Herford'2 en dit was algemeen bekend dat hy 'n belangrike bydrae tot die vestiging van die Kerkhervorming in Wesfale en in besonder in die Graafskap Ravensburg gelewer het. Herford is ongeveer 150 km oos van die Nederlandse grens, 250 km suid van Emden en val tans in die distrik van Bielefeld.

Wesfale beslaan die grensgebied tussen Duitsland en Nederland. Die grense van Wesfale het deur die geskiedenis verskuif en verskillende dorpe en stede is daarby in- of uitgesluit. Dortmund, Bielefeld, Osnabrück, Lemgo, Minden, Herford en Münster is ou historiese dorpe in Wesfale, waarvan die geskiedenis tot in die Middeleeue teruggaan. Herford is in 789 n.C. deur Karel die Grote amptelik tot dorp verklaar, met die doel om die handelsroete te bewaak wat daar oor die Werrerivier gaan.

In hierdie bydrae bespreek ek die kerkorde wat dr Johannes Dreyer in 1532 vir Herford opgestel het. Die implementering van Dreyer se kerkorde het grootliks daartoe bygedra dat die Kerkhervorming in Herford en omliggende dorpe deurgevoer is. Volgens Angermann (1995:100) was Minden (1530), Herford (1532) en Lemgo (1533) van die eerste Wesfaalse dorpe waar daar Lutherse kerkordes ingevoer is. Dit dui daarop dat die opstel en implementering van kerkordes 'n integrale deel in die proses van transformasie en kerkhervorming was.

Die Dreyerischen Kirchen Ordnung is 'n baie vroeë voorbeeld van hoe reformatoriese kerke hulle ná die breuk met Rome in die praktyk georganiseer het. Dreyer se kerkorde is in 1534 in Wittenberg gepubliseer deur die uitgewer Johannes Kluck onder die titel Ordinantie kerken ampte der erliken Stadt Hervorde (Dreyer 1534). Die kerkorde het vir meer as driehonderd jaar by historici verbygegaan (Hölscher 1888:20), totdat Hölscher dit aan die einde van die 19e eeu tussen ander dokumente ontdek en weer uitgegee het. Selfs daarna is relatief min daaroor gepubliseer. Tans is Anna Krabbe (2014) aan die Christian Albrechts Universität zu Kiel besig met 'n doktorale proefskrif oor hierdie geskiedenis.

Vir die geskiedenis van die Kerkhervorming in Wesfale is die geskrifte van Hermann Hamelmann (1526-1595) belangrik (sien Rauschenbusch 1830). Hamelmann is in Osnabrück gebore en het vanaf 1552 as priester in Kamen gedien. In 1553 het hy aangekondig dat hy hom by die Lutherse beweging gaan aansluit. Hy moes noodgedwonge Kamen verlaat en reis toe na Wittenberg waar hy Melanchthon ontmoet en met hom 'n gesprek oor die Nagmaal gevoer het. In 1553 is hy na Bielefeld beroep en in 1556 na Lemgo. In 1560 is hy as streeksuperintendent van die Lutherse kerke aangestel en in 1573 het hy die Oldenburg Kerkorde opgestel. Hamelmann se kerkgeskiedenis (in Latyn) en kennis van die vroeë Lutherse predikante het in die opeenvolgende eeue as primêre bron vir die studie van die Kerkhervorming gedien. Hy verwys daarin onder andere na die geskiedenis van dr Johannes Dreyer (Hamelmann 1711:201).

Nog 'n belangrike aspek van die geskiedenis van die Kerkhervorming in Wesfale is die oorgang van Lutherse na Calvinistiese denke wat in die 17e eeu plaasgevind het. Die oorsaak van hierdie 'tweede' hervormingsbeweging in Wesfale was die invloede vanuit Nederlandse Calvinistiese kringe asook die Palts waar die Heidelbergse Kategismus in 1563 die lig gesien het. In 1605 het Hertog Simon VI tot die Calvinisme oorgegaan en op die cuius regio eius religio-beginsel Calvinistiese predikante in die streek aangewys. Baie Lutherse predikante het hulle posisie verloor, onder andere 'n familielid van Johannes Dreyer (moontlik sy kleinseun Johann) wat in Donop predikant was en in 1608 sy standplaas moes ontruim. As gevolg van die hertog se optrede was die bevolking van die gebied gedeeltelik Luthers en gedeeltelik Calvinisties.

Dreyer se kerkorde is ook vanuit 'n taalkundige perspektief belangrik (Hölscher 1877:393). Dreyer het sy kerkorde in Nederduits geskryf, in teenstelling met byvoorbeeld Luther wat in Latyn of Hoogduits geskryf het, of Calvyn wat in Latyn en Frans geskryf het. Dreyer se kerkorde en preke wat behoue gebly het, is alles in Nederduits en hy het ook weekliks in Herford in Nederduits gepreek. 'n Deel van die Kerkhervorming was juis die gebruik van moedertaal en plaaslike dialekte in die plek van Latyn soos gebruiklik was in die Roomse liturgie en geskrifte van die tyd.

Dreyer se kerkorde gee 'n goeie beeld van die ontwikkeling van Nederduits soos dit in daardie tyd gebruik is. In terme van die Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis is dit belangrik om daarop te let dat talle Nederduitsers vanaf 1652 na die Kaap van Goeie Hoop verhuis het, onder andere uit Wesfale en gebiede teen die Noordsee rondom Groningen en Emden (Oos-Friesland). In hierdie bydrae poog ek om ook iets van die taalkundige aspek te verwoord met aanhalings en vertalings.

Ekskurs: Die vroeë immigrante aan die Kaap word dikwels in Suid-Afrikaanse historiografie op 'n simplistiese wyse as van 'Duitse' of 'Nederlandse' of 'Franse' herkoms beskryf, terwyl die taal-, kulturele en geografiese herkoms in werklikheid daarmee op 'n anachronistiese wyse aangedui word. Europa het in die 17e eeu totaal anders gelyk as vandag. Die meeste immigrante sou eerder as 'Nederduits' beskryf kan word, wat nie sonder meer as sinoniem vir 'Nederlands' gebruik kan word nie.

Nederduits is die versamelnaam vir 'n aantal dialekte wat in die noorde van Duitsland en Nederland gepraat word. Hierdie Wes-Germaanse dialekte het nie die klankverskuiwing na Hoogduits ondergaan nie. Nederduitse dialekte is onder andere in gebiede soos Groningen, Oos-Friesland, Sleeswyk-Holstein en Wesfale gepraat.

Met die emigrasie van Nederduitsers na die Kaap na 1652 is die term 'Nederduits' as taal- en kulturele aanduiding algemeen gebruik (vgl. De Vrese, aangehaal in 'n voetnoot deur Den Besten 2012:102). Dit het tot ná die Groot Trek voortgeduur, vandaar die bekende benaming in Suid-Afrika van 'Nederduitsch Hervormde Kerk' asook 'Nederduitse Gereformeerde Kerk'. Dit kan gesien word in die Algemeen Reglement van die Nederduitsch Hervormde Kerk wat opgestel is tydens die eerste Algemene Kerkvergadering wat in 1824 in Kaapstad sitting geneem het. Die titel van die 1824-kerkorde was Algemeen Reglement voor het bestuur der Nederduitsche Hervormde Kerk, in Zuid-Afrika, ontworpen in de Algemene Kerkvergadering, gehouden binnen de Kaapstad, op den 2 November, en volgende dagen van het jaar 1824 (volledige teks is te vind in Pont 1991:216). Met die Algemene Kerkvergadering het daar vir die eerste keer juridies en kerkregtelik 'n selfstandige gereformeerde kerk in Suid-Afrika tot stand gekom, waaruit die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika ontwikkel het.

In die vroeë Kaapse geskiedenis is 'n Europese immigrant oor die algemeen 'n Duijtsman, Engelsman of Fransman genoem (Den Besten 2012:102). 'Duijtsman' het verwys na persone van Wes-Germaanse afkoms en is gebruik vir Duitsers sowel as Nederlanders. 'Duijtsman' het op twee maniere vervorm: Onder die Hottentotte het dit vervorm na 'Duusman' en in Engels na 'Dutchman'. Laasgenoemde het daartoe aanleiding gegee dat die Nederduitsers aan die Kaap as 'Dutchmen' of 'Nederlanders' bekend geword het.

'n Groot aantal mans het as matrose, soldate en amptenare in diens van die Nederlandse VOC gestaan. Ongeveer 4000 ongetroude 'Duitse' mans3 het hulle tydens die VOC- bewind (1652-1795) aan die Kaap gevestig,4 maar hulle koms word in teenstelling met die ongeveer 200 Franse Hugenote (ca. 1688) nie as so belangrik beskou nie. Die maklike wyse waarop by die 'Duitse' immigrante verbygegaan word, blyk uit die volgende aanhaling: 'Te wyte aan die min Duitse vroue aan die Kaap kon 'n Duitse gemeenskap nie aan die Kaap gevestig raak nie en het hierdie enkellopende Duitse mans met nie-Duitse vroue getrou. Die VOC, wat vasbeslote was om Nederlands as die taal van die Kaap te vestig, het ook geweier om aan die Duitse Lutherse Kerk enige bestaansreg te gee. Die assimilasie van Duitsers in die Nederlandse taal en kultuur het maklik verloop' (Van Oort 2008:20). Hierdie 'maklike verloop' waarna Van Oort verwys, het eerder daarmee te make dat die meeste 'Duitse mans' in werklikheid van Nederduitse afkoms was en as noordwestelike Europeërs kultureel en taalkundig nie só kategories van Nederlanders onderskei kan word nie.

Nog 'n vraag wat in groter diepte bespreek moet word, is hoe die spiritualiteit van die vroeë Kaapse koloniste getipeer kan word. Die tradisionele standpunt is dat dit primêr deur die Calvinisme van die Franse Hugenote en gereformeerde ortodoksie (veral na die Sinode van Dordrecht 1618-1619) vanuit Nederland bepaal is. Dié saak is egter nie so eenduidig nie en berus eerder op 'n ideologiese en dogmatiese interpretasie van die geskiedenis. Die belang van die Sinode van Dordrecht is na my mening in die Afrikaanse kerkgeskiedenis oorbeklemtoon. In die vroeë Kaapse periode was die Heidelbergse Kategismus waarskynlik meer bekend as die Dordtse Leerreëls, juis omdat die Heidelbergse Kategismus in die Nederduitse gemeenskap as kategese handboek gebruik is en op 'n besondere wyse die Lutherse en Calvinistiese denke in een dokument verwoord het (sien in dié verband Dreyer 2014, asook Dreyer 2015). Sieketroosters aan die Kaap het hoofsaaklik van die Heidelbergse Kategismus gebruik gemaak in die kategese en onderwys wat hulle aangebied het.

Prof. Van Lieburg van die Vrije Universiteit van Amsterdam se navorsing het die invloed van die Duitse en Engelse teologie (insluitend Luther en Duitse Piëtisme) op die Nederlandse Nadere Reformasie aangetoon. Hy toon verder aan dat 'n groot getal van hierdie publikasies na die Kaap gestuur en deur die gewone mense gelees is. Een voorbeeld hiervan is die kis boeke wat ds Theodorus van der Groe (1705-1784), predikant van Kralingen naby Rotterdam, aan die jong weduwee Susanna Bosman (dogter van 'n Kaapse sieketrooster) gestuur het, soos blyk uit die VOC se inventaris. Van der Groe was een van die laaste leiersfigure in die Nederlandse Nadere Reformatie. Sommige van die boeke wat hy aan Susanna Bosman gestuur het, was in Nederduits geskryf en vertoon invloede vanuit die Duitse Piëtisme (Van Lieburg 2015).

 

Kort lewenskets van Johannes Dreyer

Johannes Dreyer (afwisselend ook Johan, Dreiyer, Dreijer of selfs Dreyerus) is in 1500 in Lemgo gebore.5 Sy vader, Bernhard Dreyer, was raadsheer van Lemgo wat eervol vermeld word: Facit honorificam mentionem Horlenius in epigrammatis cujusdam Bernhardi Dreyers (Hamelmann 1711:207). Merkwaardig is dat verskeie bronne aantoon dat Bernhard Dreyer 120 jaar oud geword het.6 Johannes Dreyer se oom, dr Hermann Dreyer, het sy doktorsgraad in teologie aan Wittenberg voltooi en het van 1494 tot 1524 as hoof van die Augustynse Orde in Herford gedien. Dit het daartoe bygedra dat Johannes Dreyer ook tot die Augustynse Orde toegetree het, aanvanklik in Osnabrück en later in Herford.

In Osnabrück het Dreyer onder Gerhard Hecker (1470-1538) gewerk. Hecker was by die Ryksdag te Worms (1518) as hoof (Ordensgeneral) van die Augustynse Orde betrokke en het opdrag ontvang om Luther gevange te neem en aan Rome uit te lewer - iets wat nie gebeur het nie. Hy was ook by die Ryksdag teenwoordig om Luther se beroemde woorde aan te hoor: Wenn ich nicht durch Zeugnisse der Schrift und klare Vernunftgründe überzeugt werde; denn weder dem Papst noch den Konzilien allein glaube ich, da es feststeht, daß sie öfter geirrt und sich selbst widersprochen haben, so bin ich durch die Stellen der heiligen Schrift, die ich angeführt habe, überwunden in meinem Gewissen und gefangen in dem Worte Gottes. Daher kann und will ich nichts widerrufen, weil wider das Gewissen etwas zu tun weder sicher noch heilsam ist. Gott helfe mir, Amen!7

Hoe Hecker se geskiedenis verder verloop het, is onseker, maar hy het gereeld met Luther gekorrespondeer. Hierdie korrespondensie is vernietig en bestaan nie meer nie. Dreyer het in 1530 aan die Universiteit van Wittenberg immatrikuliert, wat beteken dat sy naam daar vir die eerste keer in die lys van studente verskyn het. Hy het ook sy doktoraat aan die Wittenberg Universiteit voltooi, hoewel die datum van voltooiing onbekend is. Dit het nie beteken dat hy voltyds in Wittenberg gewoon en studeer het nie. Studente het dikwels hulle studies in die kloosters onder leiding van 'n plaaslike 'doctorvater' gedoen. Baie kloosters, asook instellings van die Broeders des Gemeenen Levens, het nou bande met universiteite gehandhaaf en bygedra tot die akademiese vorming van priesters wat die vermoë daartoe gehad het (vgl. Goncharenko 2012:26-29). In die kloosters is hulle blootgestel aan die Middeleeuse Skolastiek, Nominalisme maar ook nuwe ontwikkelings in eksegese en tale, onder invloed van Erasmus en die Humanisme. In die Augustynse kloosterordes was die teologie van Augustinus ook goed bekend.

Nadat Dreyer by die Augustynse klooster in Herford (waarvan sy oom, dr Hermann Dreyer, die hoof was) aangesluit het, het hy steeds deur briefwisseling met Hecker kontak behou. Uit die briefwisseling is dit duidelik dat hulle teologie grondig deur Luther beïnvloed is (Hölscher 1877:394). Teen 1524, die jaar waarin Hermann Dreyer dood is, was die meerderheid van die Augustynse Orde in Herford (Dreyer ingesluit) reeds Luthers-gesind en dié getal is voortdurend deur nuwe aankomeling versterk. Nadat Dreyer in 1524 openlik die Lutherse leer aanvaar het, het hy met kragtige evangeliese prediking begin. Daarvan lees ons:

Die Bürgerschaft fing in Folge der gewaltigen evangelischen Predigten, die Dr. Johannes Dreyer eines gewesenen Augustinermönchs des Klosters zu Herford sich den reformatorischen Grundsätzen im Jahre 1525 zuzuwende [Dreves 1881:314]

Die finale keerpunt het in 1530 gekom toe eers die Neustädter Kirche en daarna die Altstädter Kirche of Münster na die Kerkhervorming oorgegaan het. Dreyer het in 1529 Wittenberg besoek (waarskynlik vir studie) en met sy terugkeer na Herford gevind dat die stadsraad reeds die stad en kerk aan die Lutherse leer verbind het. Hy het sy monnikkleed in 1530 afgelê en in 1532 is Dreyer as eerste evangeliese predikant in Münster aangestel.

Dreyer het in 1540 'n beroep as superintendent na die Martinikerk in Minden aanvaar. Dit het nie net vir hom en sy gesin 'n groter inkomste beteken nie, maar dit het ook die vertroue getoon wat in hom gestel is. Die beroep het veral onder invloed van Urbanus Rhegius en Gerhard Oemiken plaasgevind, wat toe reeds op aanbeveling van Rhegius in Minden as predikant werksaam was. Dreyer was nie gelukkig in Minden nie, veral as gevolg van konflik wat daar ontstaan het. Hy is in 1544 in Minden oorlede.

Benewens sy geboorte in Lemgo is daar enkele gegewens oor Johannes Dreyer se familiegeskiedenis bekend. Hy is met Anna Koch getroud, hoewel die datum onseker is. Van Johannes en Anna Dreyer se dogter (ook Anna) is dit bekend dat sy met Martin Meybom, vise-rektor van die Lemgo Gymnasium, getroud is (Bratvogel 2011:89; sien ook Rauschenbusch 1830:108). Hy het dié posisie tot in 1552 beklee, waarna Martin en Anna Meybom na Alverdissen (net buite Lemgo) verhuis het, waar hy tot met sy dood as predikant gedien het. Dr Johannes Dreyer se skoonseun was dus ook vir 'n kort tydjie predikant. Meybom se bediening in Alverissen was beperk omdat hy en sy vrou in 1557, net 15 weke na die geboorte van hulle seun (Heinrich Meybom) beide aan die pes omgekom het. Heinrich is deur die Lutherse predikant, dr Martin Chemnitz (1522-1586) aangeneem, het filosofie en letterkunde aan die Universiteit van Helmstedt studeer en is later ook as professor in digkuns aangestel. Dié kleinseun van dr Johannes Dreyer het 'n groot rol in die ontwikkeling van die Duitse taal gespeel.

Johann Dreyer wat in 1567 gebore is en as Lutherse predikant in Donop gedien het, is na alle waarskynlikheid nog 'n kleinseun van dr Johannes Dreyer (Dreves 1881:322). Donop is 30 km vanaf Herford en naby Lemgo. Hamelmann (1711:243) noem hom 'n praestans vir [vooraanstaande man]. Johann Dreyer het op 'n stadium sy spraak verloor en in 1608 moes hy die pastorie ontruim worüber er sich sehr beklaget (Dreves 1881:322). Dit hou ook verband met die optrede van hertog Simon VI waarna reeds verwys is.

 

Kerkhervorming in Herford: 'n Komplekse proses

Die afskeid van die Roomse kerk en gebruike was nie vir almal ewe maklik nie. Die verhaal van Herford is tipies van die wyse waarop die Kerkhervorming in die eerste jare na 1517 plaasgevind het. Dit het nie oornag gebeur nie, maar deur 'n proses van persoonlike worsteling, stryd, konflik, weerstand en uiteindelike aanvaarding wat gewoonlik etlike jare geduur het. Dit is eintlik vanselfsprekend; geen mens verander oornag en sonder moeite van geloof nie. In Johannes Dreyer se lewe was dit baie duidelik, as mens in gedagte hou dat hy reeds in 1520 in Wittenberg gestudeer, teen 1524 hom openlik met Luther geïdentifiseer, maar nog in 1529 in sy monnikkleed na Wittenberg gereis en eers in 1530 die kleed afgelê het. Dit was 'n proses wat meer as 10 jaar geduur het.

Die komplekse verloop van die Kerkhervorming word goed geïllustreer deur die uiteenlopende standpunte van die plaaslike stadsraad, die Augustynse klooster (waarvan Dreyer deel was) en die 'Fraterhaus' (Broederhuis). Die Augustynse klooster en die Fraterhaus was twee onafhanklike instellings in Herford, hoewel hulle dig bymekaar gestaan het. Die Augustyners in Herford was meer ingestel op die funksionering van die kerk, terwyl die Fraterhaus op persoonlike vroomheid en gemeenskapsdiens gefokus het (vgl. Dreves 1881).

Die Augustynse klooster het betreklik vroeg die evangeliese geloof en vroomheid van Luther begin navolg. Soos algemeen bekend, was Luther ook verbonde aan 'n Augustynse klooster in Erfurt. Na raming was daar in hierdie periode sowat 800 Augustynse kloosters in Europa, wat in hulle teologiese denke veral op Augustinus gerig was. As 'n mens Augustinus se stryd teen Pelagius se opvatting oor die goeie werke in gedagte hou, is dit te verwagte dat die Kerkhervorming uit die Augustynse kloosters sou kom.

In Herford was daar onderskeibare partye en denkrigtings. Dreyer en ander lede van die Augustynse klooster was reeds deel van die Lutherse beweging, terwyl die Fraterhaus nog aan die tradisionele Roomse geloof vasgehou het. Ook die stadsraad van Herford was meer Luthersgesind. As gevolg hiervan het daar konflik tussen die stadsraad en die Fraterhaus bestaan en wou die stadsraad dit sluit. Daar het korrespondensie tussen die Fraterhaus en Luther behoue gebly, waarin die Fraterhaus sy hulp inroep om die sluiting van die instelling te voorkom (vgl. Hölscher 1888:18-19; Stupperich 1966:219-238).

Luther, Melanchthon en Bugenhagen het by meer as een geleentheid met die rektore van die Fraterhaus (Gerhard Wiskamp en Jakob Montanus) gekorrespondeer. Dit blyk uit die briefwisseling dat Luther die rektore persoonlik geken het (Stupperich 1966:224). Een van die briewe van Bugenhagen aan Herford (17 Oktober 1529) waarin hy onder andere na die Marburg Dispuut verwys, is deur Johannes Dreyer, wat toe in Wittenberg was, na Herford teruggeneem. Heelwat briewe uit die tyd, waarna in ander briewe verwys word, is verlore (Stupperich 1966:224-225).

Die stadsraad het die Fraterhaus as 'n Roomse klooster beskou en wou dit verander in 'n skool. Luther, wat van mening was dat die broeders nie Roomse monnike was of die Fraterhaus 'n klooster is nie, het dit teengestaan. Hy het die Fraterhaus selfs as 'n voorbeeld vir andere beskou (vgl. Krabbe 2014):

Es ist an mich gelanget, wie man die Schwestern und die im Bruderhause nötigen will, ihren Stand und Kleider zu verlassen, und sich nach des Pfarrherrs und Predigers Meinung begeben sollen. [] Weil denn die Brüder und Schwestern (die bei euch das Evangelium erstlich angefangen) ein ehrbarlich Leben führen und ein ehrliche, züchtige Gemeine haben, darneben das reine Wort treulich lehren und halten, ist meine freundliche Bitte E(eure) W(eisheit) wollten nicht gestatten, daß ihnen Unruhe und Erbitterunge um dieser Sache willen widerfahre, daß sie noch geistliche Kleider tragen und alte löbliche Gewohnheit, so nicht wider das Evangelion sind, halten. Denn solche Kloster und Brüderhäuser mir aus der Maßen gefallen. Und wollte Gott, alle Klöster wären also, so wär allen Pfarrherrn, Städten und Landen wohl geholfen und geraten. (bl. 122)

Aan die ander kant het Bugenhagen (wat die voorwoord tot Dreyer se kerkorde geskryf het), 'n ander mening gehad, wat hy in 1532 in 'n brief aan Johannes Dreyer te kenne gegee het (vergelyk teks in Stupperich 1966:230-231). Dreyer het daarna as predikant van Herford 'n leidende rol in die sluiting van die Fraterhaus gespeel. Dit het in 1540, die jaar dat Dreyer van Herford na Minden vertrek het, op 'n disputatio uitgeloop waartydens Heinrich Vogelmann aangevoer het dat dit om die suiwer Evangelie gaan. Die argument was dat die broeders nie die evangeliese benadering ten volle aanvaar of verkondig nie (Stupperich 1966:234).

Die verskille en konflik tussen die Kerkhervormers in Herford en die Fraterhaus is begryplik as 'n mens in gedagte hou dat die Fraterhaus gevestig is deur die Broeders des Gemeenen Levens, wat in die 14e eeu deur die Nederlander Geert Grote in die omgewing van Deventer begin is (Hölscher 1888:8). Dit het daarna deur die vestiging van Broederhuise en Susterhuise versprei. Dié beweging het 'n belangrike stimulus gebied vir die ontwikkeling van die Moderne Devotie of Devotio Moderna, 'n Middeleeuse herlewingsbewing. Beroemde teoloë wat deur die Broeders des Gemeenen Levens beïnvloed was, is Thomas à Kempis en Erasmus van Rotterdam, wat in Deventer skoolgegaan het. Die Broeders des Gemeenen Levens het groot invloed uitgeoefen in die Nederduitse gebiede van Wesfale asook die noorde van Duitsland en Nederland en waarskynlik die grond voorberei vir die Kerkhervorming - waarom Luther ook nie per se teen hulle gekant was nie.

Die Fraterhaus in Herford is gebou op grond wat ridder Diedrich von Uten geskenk het en het in 1431 deur 'n pouslike bul amptelike status verkry (Hölscher 1888:9). Die broeders en susters het hulle toegespits op persoonlike spiritualiteit, toewyding aan God, onderwys aan kinders en die versorging van armes. Hulle was gekant teen die wanpraktyke wat in die Rooms-Katolieke Kerk (veral onder die priesters) voorgekom het. Hulle het hulle beywer vir 'n vernuwing in geloofslewe en die goeie werke. Die huise waarin hulle gemeenskaplik gewoon het, was nie kloosters nie en hulle het ook geen kloosterbeloftes afgelê nie.

In Herford was ook 'n Schwesternhaus. Die susters in Herford is gelei deur Anna von Limburg, 'n invloedryke persoon van adellike afkoms wat tot die einde 'n verbete stryd teen die Kerkhervorming gevoer het (Angermann 1995:93). In Herford was daar gevolglik vier partye aktief, te wete die stadsraad, die Augustynse klooster, die Broederhuis en Susterhuis. Dit het die veranderingsprosesse en Kerkhervorming uitermate gekompliseer. Uiteenlopende en onverwagte standpunte is gestel.

Aan die ander kant was daar ook meer verdraagsaamheid en geduld as wat 'n mens in sulke omstandighede sou verwag. Almal het nie altyd met alles saamgestem nie, ook nie met Luther nie. Teen hierdie agtergrond was die opstel van 'n kerkorde wat eensgesindheid en die voortgang van die Kerkhervorming kon bevorder, noodsaaklik. Dit is duidelik dat die opstel van kerkordes 'n belangrike meganisme of instrument was om die Kerkhervorming op vaste bane te lei.

 

Publikasies

Dreyer se eerste publikasie was Eine korte underwysynge yn dem hylgen Worde Goddes (Dreyer 1528). Dit beslaan 38 bladsye en is deur Johannes Kluck in Wittenberg uitgegee. Dit bevat 14 hoofstukke en op 'n tipies evangeliese wyse is dit ryk aan aanhalings uit die Skrif wat opvallend genoeg nie orals ooreenstem met Luther se vertaling nie (Hölscher 1877:294).

Die boekie is geskryf toe Dreyer op besoek in Braunschweig was. Die Stadsraad van Braunschweig het hom mondeling uitgenooi om daar te preek. In sy prediking wat in die boekie gepubliseer is, trek hy te velde teen die vals profete. Dit gee 'n goeie indruk van die destydse Bybels-dogmatiese eksegese en prediking op grond van bepaalde reformatoriese beginsels.

Op die binneblad verskyn die uitgebreide titel, outeur en datum. Daarin is die sola Scriptura-beginsel baie duidelik, naamlik die Woord van God wat die bron en norm vir die verkondiging is: Eine korte underwysunge von deme heylsamen worde Goddes sampt syner krafft unde eyne Hantwysunge (nie seker oor spelling) ynn de hylgen schrifft darbeneven eyn summe eynes wahrhafftigen rechten Christliken levendes an eynen Erbarn Radt unde gantze gemeyne der löffliken Stadt Brunswyk geschreven. Dor Johan Dreyer. - Jheremia 6: Höret myne stemmen, so werde ick iuwe Godt syn, unde gy werden myn volck syn.

In 1532 het Dreyer sy vortreffliche Kirchenordnung in niederdeutscher Sprache (Hölscher 1877:294) opgestel. Dit is dadelik deur die stadsraad ingevoer. In opdrag van hertog Johann von Cleve, wat 'n groot aanhanger van Erasmus van Rotterdam was, is die invoering van die kerkorde in 1535 gestaak omdat die hertog 'n Erasmiaanse hervorming wou invoer. Urbanus Rhegius, die Lutherse teoloog wat hom in die Noorde van Duitsland daarvoor beywer het om eenheid onder die Lutherse stede en kerke te bewerkstellig, het heftig beswaar gemaak teen die Erasmiaanse hervorming. Dieselfde jaar is die proses hervat om die Dreyerischen Kirchen Ordnung verder te implementeer.

Dreyer se Ordinantie kerken ampte der erliken Stadt Hervorde het op 7 April 1532 as kerklike ordinansies van krag geword. Die voorwoord in die publikasie is deur die bekende en invloedryke Johannes Bugenhagen geskryf, wat in 1546 die begrafnisdiens van Martin Luther gelei het (Roper 2015:69). Die voorrede van Bugenhagen is gedateer 'Wittenberch [sic] 1533' (Dreyer 1534:47), maar dit is eers in 1534 gedruk deur Johannes Kluck, uitgewer in Wittenberg.

In die voorrede loof Bugenhagen Dreyer se werk in die opstel van die ordinansies. Hy rig die voorwoord aan die stadsraad en burgemeester (Dreyer 1534:44) en verseker hulle dat hy die ordinansies van begin tot einde deurgelees het en onder die indruk gekom het dat die predikant van hulle stad 'n 'geleerde en vroom man is'. Hy noem Dreyer broder Doctorem Joannem Dreyer en bid dat God deur sy genade sal gee dat die Ordinantie einen guden vortgang gewinne, sid to den ehren und iwer Stadt to der salicheit unde beteringe, Amen. Hy sluit sy voorwoord af met 'n vermaning dat almal hulle teen valse profete, vals godsdiens, bose owerhede en moorddadige mense moet verset. Die kerk het gude Propheten en Tuchtmeistere nodig (p. 47).

Volgens Bugenhagen is die doel van die kerkorde om subjektiewe willekeur van ampsdraers van die kerk te voorkom en die eenheid (Ersammenheit - p. 45) in die kerk en stad te bevorder. Die Kerkhervorming was in die eerste dekades 'n uiteenlopende beweging. Die eenheid van die kerk in leer, lewe en diens was nie vanselfsprekend nie. Daarom het Rhegius, Melanchthon en andere hulle deurlopend beywer vir die eenheid van die kerk, onder andere deur ordelikheid en dissipline. In hierdie voorrede gee ook Bugenhagen pertinent aandag aan die saak.

Dreyer het waarskynlik nie alleen aan die kerkorde gewerk nie, hoewel hy as enigste outeur vermeld word (Angermann 1995:100). Op die eerste bladsy (p. 44 in Hölscher se 1888-uitgawe) staan onder die titel Dorch D. Johan Dreiyer, Sampt Predicanten wat waarskynlik vertaal kan word as 'deur dr Johannes Dreyer, saam met predikante'. Let daarop dat op dieselfde bladsy, in Bugenhagen se voorwoord, die wisselspelling Dreyer gebruik word. Dreyer het die kerkorde in 1532 vanaf die preekstoel in die Münster afgelees, waarna die gemeente Te Deum laudamus gesing het en dit as amptelike kerkorde gegeld het.

 

Inhoud van die kerkorde

Dreyer se kerkorde beslaan in Hölscher (1888) se uitgawe 64 gedrukte bladsye. Dit is dus 'n redelik omvangryke kerkorde, verdeel in verskillende hoofdele. Dreyer het aan sy kerkorde 'n drievoudige deling gegee. Na die inleiding volg die eerste deel wat handel oor amp, erediens, sakramente en 'n onderafdeling oor die dissipline, tug en regskape Christelike lewe. Die tweede deel handel oor die onderwysers, koster en orrelis, en die derde deel oor die diakonie, barmhartigheidsdiens en huwelik.

Wat taal betref, soos reeds gemeld, skryf Dreyer in Nederduits. Dit is duidelik anders as Nederlands en Duits. Vir Afrikaanssprekendes is dit egter opmerklik hoeveel woorde as Afrikaans herkenbaar is. Ook die eredienste is slegs in Nederduits gelei en die gemeente is betrek deur sang, wat wel nog Latynse liedere ingesluit het. Van die mense word verwag om met hulle alledaagse klere (gewontliker kledungen) die erediens by te woon, omdat Christus en die dissipels nie in prag (solcke pracht) gelewe het nie. Dreyer se kerkorde vertoon 'n sterk demokratiese tendens (Angermann 1995:101). Die erediens, prediking en kerkorde praat met gewone mense in hulle moedertaal, mense wat met gewone klere die erediens bywoon en in hulle alledaagse lewe as Christene leef.

Die hoofstukke is nie genommer nie, maar is wel van opskrifte voorsien. Die opskrifte lees soos volg:

Ordinantie kerken ampte erliken Stadt Hervorde8

Dorch D. Johan Dreiyer, Sampt Predicanten und vorordten.

1534

Vorrhede Unde Inhalt der Ganzen Ordeninghe

 

Dath Erste deel van deme Prediger Ampthe, unde Sacramente

Van den deiners des wordes off Predicanten [Predikantsamp]

Van der Bicht [Bieg]

Van den Sacramenten unde Christlichen Ceremonien [Erediens]

Van der dope [Doop]

Düdesch Dopen [Doop van dooies]

Van dem Sacramente des Altars off Misse [Nagmaal]

Dath bevel von Christi van dem Sacramente wert also beschreven dorch 1 Corinth. 11 und Evangelisten [Instelling deur Christus]

Düdesche Misse [Nagmaal aan gestorwenes]

Ceremonien [Ordelikheid in erediens]

Der Misse Ceremonien [Wyse van nagmaalbediening]

Van der metten offt morgensange [Voorsang voor erediens]

Van der Vesper [Aanddiens met gebede en sang]

Van der Erwelinge und affsettinge und vorsorginge der Predicanten [Onderafdeling oor dwaling, ban, kerklike dissipline en traktement]

Vorsorginge der Predicanten [Pastorale sorg tot regskape lewe]

Van dem rechte banne [Ban]

Van uthwendigem Christliken wandel [Christelike lewenswandel]

Van de virdagen [Onderhouding van die Sondag].

 

De ander [tweede] deel der Ordinentien van der schole unde Costerie

Scholemeister und sine gesellen [Skoolmeesters en assistente]

Van de esfinge der meisters [Vergoeding van skoolmeesters]

Arbeidt der meisters in der schole [Werksopdrag]

Der erste hupe [Inhoud van eerste jaar - Grammatika]

De ander hupe [Inhoud van die tweede jaar - Briewe van Cicero]

De drüdde hupe [Inhoud van derde jaar - Latyn grammatika]

Van den schriffscholeren [Skryfkuns - Geletterdheid]

Stede der schole und vorsorginge der meisters [Fasiliteite en vesorging van skoolmeesters]

Van der jundfrowen schole [Onderrig aan meisies]

Van der Kosterie und Organisten [Kosters en orreliste].

 

De drüdde deel der Ordinentien van der Vorsorginge der armen, Und van dem diaconampte und van der Ehe

Beddelers [Bedelary]

Van den Diaken offt Kistenheren [Beheer van fondse]

Van dem Kore der Diaken [Verkiesing van diakens]

Bevel der diacon [Opdrag van die diakens]

Van der armen kiste [Armekis - Gelde]

Schatgifte [Skenkings]

Van dem Ehestande [Oor die huwelik].

 

Enkele teologiese inhoude

Dit is nie moontlik om in die bestek van hierdie bydrae die teologiese fasette van Dreyer se kerkorde volledig te bespreek nie. Daar word volstaan met enkele kort opmerkings.

In die inleiding tot die kerkorde stel Dreyer (1534:50) dit soos volg: Dat dat hillyge worth Godes lütter und regne in unsen Barren geprediket were. Die doel van die kerkorde is volgens Dreyer dat die Woord van God 'suiwer en reg in ons dorp verkondig word' (Barre - vgl. Engels 'burrough'). Die Woordverkondiging word in die konteks van Matteus 28 geplaas (Dreyer 1534):

Na dem male dat Evangelion ys ene Krafft Godes der da an lövet [glo], und solkes hefft unse Here Jhesus verordenth und synen Jungeren [dissipels] gebedenn [gebied] wente an den ende der werlt tho dryvende Matthei 28. [bl. 52]

Daarna volg 'n volledige aanhaling van die teksgedeelte in Matteus 28. Dreyer wys daarop dat die kerk nie mag afwyk van hierdie opdrag van die Here Jesus nie.

Dit is ook opvallend (indien ek die Nederduits korrek vertaal), dat Dreyer pertinent na Luther se vertaling van die Bybel verwys vir gebruik in die prediking: an inhalt des lutherenn wordes Godes na wente willen und mothen, mith unsen willen offte weten nicht staden inn düsser unser stadt thu Hervorde, Secten, Bartien [partyskappe], affdelinge, off valsche Predinge, wedder dath Evangelion und Sacramenten off Overicheith, denn van solcken dingen und anderen moeth geleret werden na inhalt des Wort Godes Indien hy na Luther se vertaling verwys, is dit waarskynlik die eerste uitgawe wat in 1522 gepubliseer is. Die volledige standaardvertaling van Luther het eers in 1534 verskyn, die jaar waarin die kerkorde gepubliseer is, maar twee jaar na dit in Herford afgekondig is. Die verwysing na Luther se vertaling moet verstaan word teen die agtergrond dat die Latynse Vulgaat nie meer gebruik is nie, net in moedertaal gepreek is, en om partyskappe en verdeeldheid te voorkom. Daar was dus 'n 'amptelike Bybel' wat die eenheid sou bevorder, maar ook beskou is as die 'suiwer evangelie'.

Teologies gesproke verander hierdie uitgangspunt die totale funksionering van die kerk en erediens. Waar in die Rooms-Katolieke Kerk en erediens die sakramente sentraal staan en die erediens in Latyn deur die priester gelei word, bepaal Dreyer se kerkorde dat die verkondiging van die Woord sentraal staan, dat die erediens in die mense se moedertaal geskied en dat die lidmate deelneem aan die erediens deur hulle sang. Ek meen dat Angermann (sien hierbo) korrek is met haar siening dat die Kerkhervorming die 'demokratisering' van die Christelike geloof en kerk bevorder het.

Wat die bieg betref, die volgende: In die Lutherse tradisie is daar uiteenlopende opvattings oor die bieg as 'n derde sakrament. Dit word nie soos in die Rooms-Katolieke Kerk universeel as sakrament aanvaar nie. Luther self het dit waarskynlik nie as 'n sakrament beskou nie, hoewel hy besondere groot waarde aan die bieg geheg het. In Dreyer se kerkorde is die volgorde en inhoud van die bieg, gevolg deur sakramente, van belang. Dit is duidelik dat hy nie die bieg as 'n sakrament verstaan het nie, omdat hy eers die bieg afsonderlik behandel en dan in 'n volgende gedeelte die sakramente, doop en nagmaal. Dit word ook eksplisiet gestel wanneer hy (p. 61) praat van Dat andere Sacrament. In Nederduits het andere die betekenis van tweede. Nadat hy oor die bieg en die doop gehandel het, handel hy oor die tweede sakrament, die heilige tafelsakrament.

Tegelykertyd beskou hy die bieg as uiters belangrik en in werklikheid 'n voorwaarde vir deelname aan die sakramente. Dit kan vergelyk word met die gedagte van voorbereiding vir nagmaal, soos in die Calvinistiese tradisie bekend is. Hy skryf:

Dat nemant thom Sacramenten gelaten werden he hebben ersten tho vorn einem von dem Predikern, dem dat bevalen is, berychtynghe gegeven sines gelovens, up dat nicht dorch ore vorsümenisse jemand unwerdich und thu siner verdömenisse dar tho ga [p. 56]

Dit kan vertaal word as 'dat niemand tot die sakramente toegelaat word as hy nie tevore by een van die predikante, wat daartoe opdrag ontvang het, van sy geloof getuig het nie, sodat iemand nie as gevolg van versuim onwaardig en tot sy oordeel daaraan deelneem nie'. Opvallend van hierdie bieg is dat dit nie in die eerste plek oor sondes gaan nie, maar om die ware evangeliese geloof.

Dat die regte lewenswandel ter sprake gekom het, is duidelik uit die gedeelte wat oor die dissipline en tug handel. Met die oog op die deelname aan die sakramente was die bieg 'n geleentheid waar die predikant kon vasstel of die voormalige Roomse gelowiges die evangelie en die sakrament reg verstaan en reg glo. Dit is hoekom in sekere gebiede (soos in die Palts met die Heidelbergse Kategismus) die bieg deur kategese vervang is. Wat Dreyer betref, is die bieg 'n noodsaaklike geloofsgesprek ter voorbereiding vir deelname aan die sakrament.

In twee gedeeltes verwerp Dreyer die Roomse praktyk om aan die gestorwenes die doop en nagmaal te bedien op grond van die feit dat daar geen sodanige opdrag in die Woord te vind is nie. Daarop word nie verder ingegaan nie.

Wat die doop betref, verbind Dreyer dit aan die wedergeboorte en die werk van die Heilige Gees (p. 59). Die doop is ingestel Dewile uns den Godt der Here salich gemaket hefft dorch dat bat der weddergebort und vornyginge des hilgen geystes. Die doop is ter wille van ons ingestel deur God die Here sodat ons salig gemaak word deur die bad van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees. Dit is ook opmerklik dat die kerkorde die kinderdoop verpligtend maak, maar tegelykertyd die Roomse gebruik verbied om tydens die doop die Eksorsismus uit te spreek. In die Roomse dooppraktyk was dit algemeen om die mag van die duiwel op die kind deur 'n eksorsisme-ritueel te 'verbreek'. Dreyer beskou dit as strydig met die Woord en lastering teen die Heilige Gees, want wanneer die kind gedoop word en die Heilige Gees ontvang, is die kind nie meer in die mag van die duiwel nie. Eksorsisme dui op ongeloof, want die dopeling behoort volledig aan God en nie aan die duiwel nie.

Wat die nagmaal betref, is dit die tweede sakrament wat Christus ingestel het tot ons 'troos en versterking':

Dat ander Sacramente von Christo unsem Heren ingesettet uns thu troste und sterkinge, is dat Sacramente des lives [liggaam] und blodes [bloed] unsere Here Jhesu Christi unter dem brode und wine uth krafft des wordes entholden [ontvang word]. (p. 61)

Die sakrament word deur die Woord bekragtig en staan nie los van die Woordverkondiging nie. Dreyer wys verder daarop dat die Mis (Misse) eintlik die nagmaal (aventmahl) is waarin Christus volgens sy bevel gedenk word, soos dit deur die apostels aan die kerk oorgelewer is. Hy verwys na die misstande wat mettertyd ontstaan het en eindig in 'n volgende gedeelte met aanhalings uit die Skrif waar die instelling van die nagmaal aan die orde gestel word. Dit is duidelik dat Dreyer poog om 'n deeglike Bybelse fundering vir die viering van die nagmaal te gee, juis teen die agtergrond van die Nagmaalstryd wat kenmerkend was van talle twisgesprekke van die tyd.

 

Slotopmerkings

Met hierdie enkele opmerkings oor die struktuur en teologiese inhoud van die Dreyerischen Kirchen Ordnung word dit duidelik hoe ingrypend die Kerkhervorming was. Die transformasie wat plaasgevind het, het niks onaangeraak gelaat nie. Die kerklike taal, kleredrag, seremonies, nagmaal, doop en lewenswyse van die gelowiges in Herford is omvattend en grondig hervorm. Die verskuiwing van en sakramentele ekklesiologie en liturgie na 'n kerk wat (volgens Luther se insigte) as creatura Verbi bestaan en geen ander doel het as om die Woord van God reg en suiwer te verkondig nie, het 'n fundamentele wesenskenmerk van reformatoriese kerke geword.

Die opstel van en kerkorde as deel van Kerkhervorming staan voor die uitdaging om dit wat op grond van die Woord as suiwer leer (doctrina) geformuleer word, in praktiese en werkbare maniere van kerkwees te evertaalf. Dit wat bely en geglo en verkondig word, moet ook in die sigbare kerk tot uitdrukking kom. Dreyer het met sy kerkorde van 1532 and 1534 uitnemend daarin geslaag om die kerklike praktyk in terme van die beginsels van die Kerkhervorming te struktureer.

In ons omgang met die geskiedenis kan en mens maklik vassteek by die groot en bekende verhale en name, by mense soos Luther, Calvyn en andere. Tog is die voortgang en vestiging van die Kerkhervorming ondenkbaar sonder die insette van onbekende en vergete mense soos drJohannes Dreyer, die hervormer van Herford.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Angermann, G., 1995, Volksleben im nordosten westfalens zu beginn der Neuzeit, Waxmann Verlag, Münster.         [ Links ]

Bauks, F.W., 1980, Die evangelischen Pfarrer in Westfalen von der Reformationzeit bis 1945, Luther-Verlag, Bielefeld.         [ Links ]

Bratvogel, F.W., 2011, Bernhard copius und das Lemgoer Gymnasium, V & R Unipress Gmbh, Göttingen.         [ Links ]

Den Besten, H., 2012, Roots of Afrikaans. Selected writings of Hans den Besten, redaksioneel versorg deur Ton van der Wouden, in Creole Language Library 44, John Benjamin Publishing Co., Amsterdam.         [ Links ]

Dreves, A., 1881, Geschichte der Kirchen, Pfarren, geistlichen Stiftungen und Geistlichen des Lippischen Landes, F. L. Wagener, Lemgo.         [ Links ]

Dreyer, J., 1528, Eine korte underwysynge yn dem hylgen worde Goddes, Johannes Klück, Wittenberg.         [ Links ]

Dreyer, J., 1534, 'Ordinantie kerken ampte der erliken Stadt Hervorde', redaksioneel versorg en uitgegee deur L. Hölscher (1888) in Reformationsgeschichte der Stadt Herford. Im Anfang die Herforder Kirchenordnung von 1532, pp. 44-108, Bertelsmann, Gütersloh.         [ Links ]

Dreyer, W.A., 2014, 'The Heidelberg Catechism: A 16th century quest for unity', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 70(1), Art. #2092, 5 pages. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v70i1.2092        [ Links ]

Dreyer, W.A., 2015, 'South Africa: The early quest for liberty and democracy', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), Art. #2873, 7 pages. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v71i3.2873        [ Links ]

Goncharenko, S.V., 2012, Wounds that heal. The importance of Church discipline within Balthasar Hubmaier's theology, Pickwick Publications, Eugene, OR.         [ Links ]

Hamelmann, H., 1711, Opera Genealogico-historica de Westphalia et Saxonia etc., red. E. C. Wasserbach en uitgegee deur H. W. Meyer, Lengoviaebesigtig 30 September 2015 by https://play.google.com/store/books/details?id=GMlcAAAAcAAJ&rdid=book-GMlcAAAAcAAJ&rdot=1        [ Links ]

Hölscher, L., 1877, Dreier, Johann", in: Allgemeine Deutsche Biographie (1877), besigtig 29 September 2015 by http://www.deutsche-biographie.de/pnd137238711.html        [ Links ]

Hölscher, L., 1888, Reformationsgeschichte der Stadt Herford. Im Anfang die Herforder Kirchenordnung von 1532, Bertelsmann, Gütersloh.         [ Links ]

Krabbe, A., 2014, 'Religiöse Gemeinschaften und lutherische Stadt: Konflikt und Koexistenz in Soest und Herford 1521-1609', in Mitteilungen der Residenzen-Kommission der Akademie der Wissenschaften zu Göttingen, Jahrgang 3 (2014), red. Gerhard Fouquet, pp. 121-128, Uninversitätsdruckerei Christian Albrechts Universität zu Kiel, Kiel.         [ Links ]

Pont, A.D., 1991, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg, deel 2, Kital, Pretoria.         [ Links ]

Rauschenbusch, A.E., 1830, Bilder von Westphalischer Theologen, Verlag von M. Scherz, Schwelm.         [ Links ]

Roper, L., 2015, 'Martin Luther', in P. Marshall (ed.), The Oxford illustrated history of the reformation, pp. 42-75, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Stupperich, R., 1966, 'Luther und das Fraterhaus in Herford', in K. Aland (ed.), Geist und Geschichte der Reformation. Festgabe Hanns Rückert, Walter de Gruyter & Co, Berlyn.         [ Links ]

Van Lieburg, F., 2015, 'Luther in Dutch Pietism', ongepubliseerde lesing tydens 'n konferensie oor Luther and Calvinism. Image and reception of Martin Luther in the history and theology of Calvinism, RefoRC, Emden.         [ Links ]

Van Oort, C.P., 2008, Die ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans: 'n inklusiewe perspektief en implementering in 'n lesreeks, Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Noordwes Universiteit, Potchefstroom.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Wim Dreyer
wim.dreyer@up.ac.za

Received: 28 Sept. 2015
Accepted: 29 Dec. 2015
Published: 28 Feb. 2017

 

 

1 Hölscher, L., 1877, Dreier, Johann", in: Allgemeine Deutsche Biographie (1877), te vind by http://www.deutsche-biographie.de/pnd137238711.html, besigtig op 29 September 2015.
2 Stupperich, R., 1966, 'Luther und das Fraterhaus in Herford', in K. Aland (ed.), Geist und Geschichte der Reformation. Festgabe Hanns Rückert, Walter de Gruyter & Co., Berlyn.
3 Sien http://www.safrika.org/degenen.html vir volledige inligting oor Duitse immigrante.
4 Een van die Nederduitsers wat hom aan die Kaap gevestig het, was Johannes Augustus Dreyer (1689-1759), die seun van ds. Johannes Dreyer wat tot 1708 met sy dood in Grube as Lutherse predikant gedien het. Dreyer het in 1713 met die skip Nesserak in Kaapstad geland en is op 31 Januarie 1716 getroud met Sarah van Wijk, die dogter van 'n wynboer van Stellenbosch. Hulle kinders was Johannes Frederik Dreyer, Johannes Augustus Dreyer, Sara Dreyer, Thomas Frederik Dreyer, Andries Dreyer en Anna Cornelia Dreyer. Sy skoonvader Arij van Wijk was een van Adam Tas se ondersteuners in die stryd teen goewerneur W. A. van der Stel se magsmisbruik. Van Wijk het die plaas Schinderkuijl in 1705 bekom en mettertyd 8000 wynstokke aangeplant. Die plaas staan vandag bekend as Leeuwenkuil en Willie Dreyer is die eienaar (sien http://www.leeuwenkuilfv.co.za/about-us/). Ds. Johannes Dreyer van Grube is 'n nasaat uit die Dreyer-familie van Wesfale waarvan dr Johannes Dreyer van Herford ook deel was. Volgens die argivaris van die Wesfaalse Argief is die doopregisters uit die 16e eeu nie meer beskikbaar nie, wat genealogiese navorsing bemoeilik. Talle van ds. Johannes Dreyer van Grube se nasate in Suid-Afrika het as predikante in verskillende kerke gedien.
5 Sommige bronne stel sy geboorteplek as Bega. Die meeste bronne, insluitend Bauks, F.W., 1980, Die evangelischen Pfarrer in Westfalen von der Reformationzeit bis 1945, pp. 104-105, Luther-Verlag, Bielefeld, meen dit is Lemgo. In werklikheid is die twee dorpe net 15 km uit mekaar; dus maak dit nie werklik verskil nie.
6 Vergelyk in hierdie verband Dreves (1881:314) se verwysing na Johannes Dreyer. In die gedeelte verwys Dreves verbasend genoeg na Johannes Dreyer as die seun van 'eines 120 Jahr alt gewordenen Lemgoer Rathsherrn'.
7 Deutsche Reichstagsakten, Jüngere Reihe, Bd. II, No. 80, pp. 581-582.
8 Waar die oorspronklike teks van Dreyer se kerkorde woordeliks aangehaal word, het ek die oorspronklike Gotiese skrif getranskribeer en, waar nodig, die Nederduits in Afrikaans vertaal.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License