SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.72 issue3Recovering core identity, hermeneutical and contextual preachingLike an eagle carries its young author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.72 n.3 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v72i3.3205 

ORIGINAL RESEARCH

 

Hou Christus die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in stand?

 

Does Christ sustain the Netherdutch Reformed Church of Africa?

 

 

André Ungerer

Reformed Theological College, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The Netherdutch Reformed Church of Africa (NRCA) that is situated in South-Africa is currently experiencing a serious decline in numbers. The question arises whether Christ will sustain the NRCA in the words of the Afrikaans Hymn 477 in the 'Liedboek van die Kerk' (Hymnbook of the Church): 'Christ will maintain his church Is it a matter of faith, or even more - a matter of obedience? The membership of the NRCA mainly consists of white Afrikaans-speaking people. Apart from the situation in the NRCA there is also a serious decline in the number of white people in South Africa. It raises the question about the sustainability of the NRCA if it continues to maintain a membership of predominately white Afrikaans-speaking people. The NRCA is very much institutionalised with a history that lacks missional intention and involvement in the community. This study investigates the possibility for a more applicable missional curriculum in the training of theology students to counter the lack of missional involvement. It also investigates new ways to reach the unchurched society with a missional approach. The Fresh Expression Movement that originated in the UK provides a new paradigm for the NRCA that will hopefully lead to a new way of thinking and doing. Will Christ sustain the NRCA? The answer lies in the willingness of the NRCA to show a missional heart for all the people of Africa, especially those in Southern Africa.


 

 

Hou Christus die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in stand?

Hou Christus self sy kerk in stand -

vergeefs die hel se woede.

As Here aan Gods regterhand regeer

Hy ons ten goede.

Hoe dikwels sing ons hierdie woorde van Lied 477:1 en waaraan dink ons wanneer ons dit sing? Dink ons aan die gemeente wat Christus in stand sal hou ten spyte van moeilike ekonomiese of ander uitdagende omstandighede? Voel ons getroos deur hierdie woorde omdat Christus daarmee aandui dat hy die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) in stand sal hou? Dit is waarskynlik die bedoeling en versugting by elke Hervormde lidmaat wanneer die lied gesing word.

Eintlik bedoel ons: 'Hou Christus self die Hervormde Kerk in stand .'. Die woorde van die lied wek hoop dat, al gaan dit sleg met die Hervormde Kerk, veral na die kerkskeuring wat in 2011 begin voltrek het, die dalende lidmaatgetalle, die ontvolking van die platteland, die stryd om finansiële oorlewing en sommer 'n algemene vlaag van mismoedigheid wat dreig om 'n mens soms te oorspoel, Christus die Hervormde Kerk in stand sal hou!

In antwoord hierop kan 'n mens krities vra: Regtig? Sal Christus regtig die Hervormde Kerk in stand hou sodat ons uiteindelik na 'n dekade of twee die golf sal uitry as 'n groeiende en lewenskragtige Kerk? Daar is ernstige bedenkinge en dit is nie omdat 'n mens skielik 'n kleingelowige is nie. Dié bedenkinge is op verskeie faktore geskoei wat in die volgende bladsye kortliks beredeneer word. Dalk is dit eers nodig om enkele uitgangspunte te stel as basis van die beredenering wat volg:

Hierdie studie is eerder 'n langtermyn-vooruitskouing wat dalk oor etlike dekades heen kan voltrek. Die 70ste Algemene Kerkvergadering (AKV) het moedig probeer om nuwe rigting in te slaan na die pynlike kerkskeuring, en duidelike koersaanpassings kon uit die besluite afgelei word. Maar gaan die Kerk in staat wees om die snelveranderende tye waarin ons leef, te trotseer? Enkele van die uitdagings word onder die loep geneem en so deeglik moontlik kragtens die toekoms verreken.

Tendense in die Westerse wêreld, maar veral in die VSA, word deeglik in ag geneem. Dit wil blyk of Suid-Afrika in hierdie globaliserende wêreld gewoonlik kort op die hakke van die VSA is wat die navolging van sekere tendense betref. Die moderne inligtingstegnologie het ons in 'n wêrelddorpie ingeforseer wat ons blootstel aan invloede uit alle oorde soos nog nooit in die geskiedenis van die mensdom nie. Die Kerk sal die uitwerking van hierdie invloede en tendense terdeë moet verreken.

Die kerk as instituut word toenemend gekonfronteer op 'n wyse wat die seerste maak - lidmate wat gewoon vertrek om op ander wyses hulle geloof uit te leef óf om in ongeloof te verval. Hierdie studie fokus ook op die uitwerking van die kerk as instituut en wys op ander verskyningsvorme van kerkwees wat meer vloeibaar is en wat uit reaksie teen institusionalisme ontstaan het.

Hoe die Hervormde Kerk oor dekades daar gaan uitsien, bly 'n vraag. Dit is soos om in 'n dowwe spieël te kyk en 'n raaiselagtige beeld te sien. Tog word geoordeel dat daar bitter min van die Hervormde Kerk soos ons die Kerk vandag ken, sal oorbly.

 

Hou Christus die Hervormde Kerk in stand, al kwyn die lidmaatgetalle?

In 'n artikel van Clem Sunter (2015), Future prospects for South African youths, wys hy op tendense na aanleiding van die syfers wat hy in 2014 by die SA Statistiekdiens rakende die jongmense van ouderdom 0-24 jaar bekom het. In hierdie ouderdomskategorie is die verhouding onder die verkillende bevolkingsgroepe soos volg: swart 84.6%, Kleurling 8.2%, Asiër 1.8% en wit 5.4%. Sedert 1990 het die getal swart jeugdiges met 11% toegeneem, terwyl die getal by die Kleurlinge, Asiërs en wit mense onderskeidelik met 1%, 9% en 15% afgeneem het. Sy beraming is dat die syfers in 2030, volgens die huidige groeisyfers, vir die ouderdomsgroep 0-24 jaar (in elke groep van 100 mense), soos volg daarna gaan uitsien: 91 swart, 7 Kleurling-, 1 Asiër- en 1 wit jeugdige. Tans is die totale aantal swart kinders van ouderdom 0-4 jaar 'n allemintige 4.9 miljoen, terwyl die totale wit populasie maar 4.5 miljoen uitmaak. In totaal beloop die aantal swart jeugdiges 50% van die bevolking (26 miljoen van 'n totale bevolking van 54 miljoen). Sunter (2015) se groot kommer gaan oor werkverskaffing aan hierdie jong opkomende geslag. Wat die Hervormde Kerk en ook ander tradisionele Afrikaanse kerke betref, wentel die kommer oor die volhoubaarheid van die Kerk in die toekoms.

Die afname in geboortes onder Kaukasiërs blyk wêreldwyd 'n tendens te wees. In Die Hervormer van Mei 2013 is daar verwys na 'n artikel van prof Erik Holm in Beeld van 30 April 2010. Volgens hom is die sero-groei-syfer vir 'n bevolkingsgetal om dieselfde te bly, 1.1 dogters per moeder. As die menslike aanwas 0.6 dogters per moeder is, sal die mens binne 'n eeu uitsterf. Hy meld dat geen bevolking 'n aanwaskoers van minder as 0,9 dogters per moeder oorleef het nie. Vervolgens noem hy dat die aanwaskoers van die wit bevolkings van Europa, die VSA en Australië gemiddeld ongeveer 0,8 dogters per moeder is. Brittanje en die VSA staan op 0.8; in Duitsland op 0.65 en in Italië op 0.5. Die gemiddelde in Euromark-lande is 0.7. Dit dui op 'n onherstelbare uitsterwingstempo.

Wat die wit Suid-Afrikaners betref, sal die getal wit mense (sonder emigrasie) oor drie generasies minder as 'n kwart van die huidige getal wees en daarna eksponensieel verdwyn (Holm 2010). 'n Generasie by die mens word beskou as 'n tydperk van 33 jaar. Volgens die halfjaar-berekeninge van Statistieke SA vir 2014 beloop die getal wit mense in Suid-Afrika 4 554 820, wat 8.4% van die totale bevolking uitmaak. Dit beteken dat, volgens Holm (2010) se voorspelling, die totale wit bevolking oor 99 jaar 1 138 705 (of minder) sal wees. Die uitwerking van hierdie vermindering op kerke wat die wit Afrikaanssprekende gemeenskap verteenwoordig, is verreikend.

Daar is tans 'n afname in geboortekoers onder wit Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, wat uiteraard ook in die onderskeie Afrikaanse kerke gereflekteer word. Die getal gedooptes in die Hervormde Kerk toon veral sedert 1995 'n skielike afname wat tot op hede 'n tendens gebly het (Almanak & Bybelse Dagboek 2015:214). In 2014 was die persentasie kinders wat in die jaar gedoop is (1107) 'n skamele 0.97% van die totale lidmaattal van 113 595. Wanneer 33 jaar van 2014 afgetrek word (1982), is 5083 uit 193 091 gedoop, m.a.w. 2.63% van die totale lidmaattal. Dit dui op 'n definitiewe afname in die getal dopelinge die afgelope 33 jaar (een generasie).

Die Hervormde Kerk (soos ander Afrikaanse kerke) het die afgelope 33 jaar 'n geweldige afname in lidmaattal beleef. In 1982 was daar 193 091 lidmate en in 2014 'n totaal van 113 595 - 'n afname van 79 496, dit wil sê 'n val van 41%.

In die vorige paragrawe is daar met die totale lidmaattal van die Hervormde Kerk gewerk, dit wil sê dooplidmate ingesluit. Volgens die Almanak and Bybelse Dagboek (2015:244) was die aantal belydende lidmate van die Hervormde Kerk 91 516 in 2014. Ungerer (2013b:2) wys daarop dat die Hervormde Kerk met die jaarlikse afnamekoers van lidmate, teen die jaar 2037 nie maar gaan bestaan nie. Die kerkskeuring wat gedurende 2013 'n hoogtepunt bereik het, kon dalk die prentjie versomber het, maar feit is dat daar 'n dalende tendens is.

 

 

Hierdie tendens in die NHKA en tradisioneel Afrikaanse kerke is in lyn met wat in alle Westerse lande gebeur. In haar boek Christianity after religion: The end of church and the birth of a new spiritual awakening (2012), stel Diane Butler Bass dit dat kerklidmaatskap in omtrent alle Westerse lande dramaties krimp (kyk ook Hirsch 2006). Mense beskryf hulleself steeds as geestelik (spiritueel), hoewel nié 'godsdienstig' nie. Butler Bass noem dat die weeklikse bywoningsyfers van eredienste in die VSA 'n aansienlike afname toon, dat mense makliker oorskakel na ander godsdienste as in die verlede en ook dinge uit ander godsdienste neem wat vir hulle voordelig lyk, en dat die tradisionele institusionele Christendom 'n beduidende afname toon (Butler Bass 2012:Hoofstuk 1).

Die Christendom maak tans meer as 'n derde van die wêreldbevolking uit en groei vinniger as die Islam (kyk Gaum 2011:64). Daarby groei die Christendom flink in Afrika suid van die Sahara, die Suid-Amerikas, China en Suid-Korea, om maar enkele voorbeelde te noem. Soos genoem, kwyn die Christendom in die tradisioneel Westerse lande. In 1910 het Europa en die Amerikas byna 93% van die Christene bevat; 'n eeu later was dit slegs 62.7%. Gedurende dieselfde tydperk het die persentasie Christene wat in Asië en Afrika woon, van 5.6% tot 36,7% toegeneem (Ungerer 2013a:2).

Teenoor die stand in die tradisionele Weste is die Moslems in Frankryk besig om 'n gemiddelde aanwaskoers van vier dogters per moeder te handhaaf. Holm (2010) noem dat projeksies daarop dui dat sowel Frankryk as Duitsland teen 2050 oorwegend Islamitiese bevolkings sal hê. In die VSA was daar in 1970 sowat 100 000 Moslems; vandag is daar meer as 9 miljoen (Holm 2010). Butler Bass (2012) lewer in hierdie verband die volgende bydrae:

Only 20 percent of the population attend church each weekend! The number of Americans who do not attend church increased 92 percent since 1991! Christianity in America has suffered a loss of 9.7 percentage points in eleven years! The number of Islamic mosques in America has increased 25 percent since 1994! Adherents to Buddhism have increased 170 percent in a decade! (Butler Bass 2012, hoofstuk 2)

Samevattend kan gesê word dat die Christendom steeds die grootste en vinnigste groeiende godsdiens in die wêreld is, behalwe in die Weste (en onder die wit Suid-Afrikaners). Daarby blyk dit dat die Kaukasiërs aan die uitsterf is, soos ook duidelik in die wit bevolking in Suid-Afrika gereflekteer word (Holm 2010; Sunter 2015). Waar die kerk, veral in die Suidelike halfrond besig is om onder ander bevolkingsgroepe te groei (vgl. Gaum 2011:47), is die tradisionele kerke wat die wit Afrikaanssprekendes verteenwoordig, tans kwynende en sterwende kerke. Wat 'n geweldige paradoks - sterwende kerke midde-in 'n groeiende Christendom rondom ons.

 

Hou Christus die Hervormde Kerk as instituut in stand?

In 'n ontleding van die NHKA skroom Steenkamp (2015) nie om die swak plekke van die Kerk uit te wys nie. Hy noem dat, indien die Hervormde Kerk 'n organisasie soos enige ander organisasie sou wees, die Kerk beskryf sou kon word as 'n toksiese organisasie wat 'n paradigma van selfvernietiging geïnternaliseer het (Steenkamp 2015:5). In dieselfde asem verwys hy na die institusionele karakter van die Kerk waarop 'n definisie van 'n toksiese omgewing gegee word:

'n Toksiese organisasie omgewing is een wat bepaalde eienskappe vertoon, naamlik daar is (a) 'n geskiedenis van swak prestasie en swak besluitnemingsprosesse, en (b) hoë vlakke van ontevredenheid en gevolglike uittrede uit die organisasie. Hierdie tipe kwaliteite word normaalweg, maar nie noodwendig in alle gevalle nie, aangetref in sterk hiërargiese organisasies wat op burokratiese wyse funksioneer en bestuur word. (Steenkamp 2015:5)

Dit wil lyk of nie net die Kerk nie, maar ook ander institusionele organisasies wêreldwyd onder toenemende druk verkeer. Gaum (2011:119) verwys na Christopher Hayes, die Washingtonse redakteur van Nation, se opmerking dat byna elke pilaar van die Amerikaanse samelewing gedurende die afgelope dekade (2000-2010) meegegee het. Dit sluit in General Motors, die Kongres, Wall Street, Amerikaanse bofbal, die Katolieke Kerk en die hoofstroommedia. In Suid-Afrika blyk dit nie veel anders te wees nie en kan die Amerikaanse lys dalk met Eskom, die regering, plaaslike owerheid en korrupte instellings aangevul word. Die implisiete sosiale kontrak lê aan skerwe en is vervang met massa-skeptisisme, minagting en ontnugtering (Gaum 2011:119).

Die organisasie van die kerk ten brede huisves 'n hele kaboedel institusionele denke. Niemandt (2007:39) beskryf onder organisasie: die strukture, sinodes en kerkrade, waaraan die persepsie kleef dat dit uit die hemel self kom en ten alle koste in stand gehou moet word. Hy verwys na 'n strukturele verknogtheid wat aanpassings in baie kerke byna onmoontlik maak. Ook kerkordes wat veronderstel is om prakties uitdrukking te gee aan dit wat kerke glo, ontaard te maklik in 'n meganistiese beheer- en kontrolemeganisme wat maklik misbruik kan word. Hy noem verder dat organisasies sukkel om hulle werklike take uit te voer omdat strukture vir hulle so belangrik geword het en die pad van verandering na organisasievernuwing meestal morsig is.

Daar is tans 'n wêreldwye wegbeweeg van die kerk as instituut. Gibbs (2005:61) verwys spesifiek na die onder vyf-en-dertigs wat die institusionele kerk verlaat. Hirsch (2006:Kindle) oordeel dat anti-institusionalisme eintlik niks anders is nie as 'n soort 'heilige rebellie' wat teen ideologieë, strukture, kodes en tradisies gemik is wat die vryheid van God se mense beperk en die boodskap van die evangelie striem. Butler Bass (2012:Hoofstuk 1) meld dat daar 'n toenemende getal mense is wat hulleself as spiritueel eerder as godsdienstig beskou. Die term 'spiritueel' dui meer op die persoonlike lewe van die mens, soos hul denke en ervaringe, terwyl die term 'godsdienstig' (religious) meer op die openbare sfeer dui, byvoorbeeld lidmaatskap van 'n denominasie en deelname aan hul gebruike asook 'n onderhorigheid aan die betrokke doktrines. Gaum stel die saak skerp in die veroordeling van institusionalisme:

Solank ons vaskyk teen die kerk as instelling of 'instituut' - veral as 'n organisasie met mense in ampte wat op 'n voorgeskrewe manier 'kerk hou', wat sorg dat vergadering kerkordelik korrek plaasvind en wat besluite neem ná oorweging van allerlei voorstelle en teenvoorstelle en amendemente, en wat die kerk op die koop toe met 'n sterk hand bestuur - só lank sal ons teleurgesteld wees in die kerk se doen en late. (Gaum 2011:119)

Hirsch (2006; vgl. Steenkamp 2015:29) noem dat die beweging wat die Heilige Gees geïnisieer het, 'n organiese beweging van mense was en dat dit nooit bedoel was om 'n godsdienstige instituut te word nie. Hy maak ten opsigte van Konstantyn die volgende opmerking:

Far too long, historians have accepted the claim that the conversion of the Emperor Constantine (ca. 285-337) caused the triumph of Christianity. To the contrary, he destroyed its most attractive and dynamic aspects, turning a high-intensity, grassroots movement into an arrogant institution controlled by an elite who often managed to be both brutal and lax. (Hirsch 2006: Hoofstuk 2)

Kragtens die Edik van Milaan in 313 het dit voordelig geword om 'n Christen te wees. Die regering het goed vir Christene gesorg, hulle eiendomme is beveilig, Sondag het 'n verpligte rusdag geword, mooi kerkgeboue is opgerig en predikante se salarisse is betaal terwyl hulle van belasting vrygestel is (Steenkamp 2015:29; Viola & Barna 2008). Dit het tot gevolg gehad dat geboue grootliks in die Weste gesien word as sinoniem met kerk wees (Niemandt 2007:38). Kerkgeboue is deel van ons kerkkultuur, maar dit raak 'n probleem wanneer gemeentes kwyn en die inkomste verminder. Om 'n kerkkompleks in stand te hou kos baie geld, en 'n verwaarloosde gebouekompleks is dikwels die eerste aanduiding van 'n finansieel sukkelende gemeente.

Die term ekklesia verwys in 'n universele sin na al die eerste-eeuse gelowiges wat oor die hele Romeinse wêreld versprei was. Getz (2003:48-9) noem dat die term ekklesia 82 keer deur Bybelse skrywers gebruik word, maar dan in die konteks van gelowiges wat in spesifieke geografiese areas woonagtig was. Getz voer verder aan dat ons neig om die term ekklesia1 te letterlik te wil sien as 'n byeenkoms of as 'n gemeente. Bybelse skrywers het die term gebruik om Christene te beskryf, hetsy hulle vir aanbidding byeen was, of versprei was oor die gemeenskap heen - in hulle huise, terwyl hulle inkopies gedoen, by familie gekuier of 'n besoek by die plaaslike badhuis afgelê het. Die plaaslike kerk en/of gemeente (ekklesia) in daardie tyd moet kragtens verhoudinge verstaan word - nie strukture of geboue of plekke waar byeenkomste gehou is nie (Getz 2003:49).

Viola & Barna (2008:Hoofstuk 2) sluit by die gedagte oor die betekenis van ekklesia aan en noem dat die term 114 (kontra Getz 2003:49) keer in die Nuwe Testament voorkom en telkens na 'n byeenkoms van mense verwys. Die Engelse woord Church het sy oorsprong in die Griekse woord kuriakon, wat beteken om aan God te behoort. Dit het oor tyd heen die betekenis van huis-van-God gekry, wat altyd na 'n gebou verwys. Hulle staan baie krities teenoor die kultuur van kerkgeboue en noem dat die Christendom die eerste nie-tempel-gebaseerde godsdiens was wat verskyn het:

In the minds of the early Christians, the people - not the architecture, constituted a sacred place. The early Christians understood that they themselves - corporately - were the temple of God and the house of God. (Viola & Barna 2008:Hoofstuk 2)

Viola & Barna (2008) maak die volgende siniese opmerking: calling an ekklesia (Bride of Christ) a building would have been like calling your wife a condominium or your mother a skyscraper.' Hulle (Viola & Barna 2008, hoofstuk 2) noem dat die vroeë kerk gebreek het met die tradisie wat spruit uit tempel- en sinagogebyeenkomste deur op enige informele plek byeen te kom. Die herkoms van kerkgeboue is aan Konstantyn te danke, wat die eerste kerkgeboue opgerig het aan die hand van die heidense tempels ter ere van hulle gode. Hy rig veral geboue op volgens die Basilika-model, waar baie heidense tradisies dan ook gestalte in die kerkgeboue kry. Die Basilika het dieselfde funksie ingeneem as 'n hoërskoolouditorium vandag deurdat dit ideaal is om 'n passiewe gehoor te huisves wat na 'n vertoning kyk. Alle kerkgeboue se sitplekke is só gerangskik dat sittende erediensgangers na die liturgiese ruimte (preekstoel) kyk. Dit lei daartoe dat onderlinge intimiteit en oop deelname verlore gaan. 'The professional clergy performed the acts of worship while the laity looked on as spectators' (Viola & Barna 2008:hoofstuk 4). Volgens Viola & Barna is die hele ontwerp van die kerkgebou, die plasing van sitplekke en die liturgiese ruimte een van die vernaamste redes hoekom die meeste lidmate onbetrokke is - die erediens as hartklop van die gemeente skep onbetrokkenheid.

Hierdie soort denke mag dalk vreemd wees aan die Hervormde Kerk, veral omdat kerkgeboue en die gepaardgaande inrigting van eredienste oor eeue heen as't ware deel van ons geestelike DNS geword het. Die klem wat die Reformasie op die verkondiging van die Woord lê met die sentrale plek wat die preekstoel inneem, sal waarskynlik die misnoeë in hierdie soort denke laat toeneem. Tog is die kerklike landskap besig om om ons te verander deurdat Christene al hoe meer op informele wyses weg van die tradisionele kerkgeboue byeenkom. 'n Groot deel van die kerk se oorlewing lê juis daarin om hierdie informele sektor van kerkwees te omarm en uit te bou.

 

Hou Christus die kerk in, deur of ten spyte van die predikantsamp in stand?

Nog 'n aspek van die instituut as organisasie wat aandag verdien, is die ampsbeskouing en spesifiek die betaalde amp van predikant. Dit is geen geheim dat die predikantsamp in die algemeen aansien verloor het nie. Butler Bass (2012) verwys na die seksskandaal rakende Rooms-Katolieke priesters wat in 2002 oopgevlek is. Sy verwys dan na die effek wat dit op die siening van geestelike leiers in die algemeen gehad het.

In 2010, only 53 percent of Americans said that ministers had 'high or very high' ethical standards - they trusted grade-school teachers, police officers, doctors, and military leaders more than ministers of the church - a percentage down almost 14 points since the scandal broke. Clergy ranked with bankers (post-Wall Street crisis) as the profession seeing the greatest decline over the decade. (Butler Bass 2012, hoofstuk 3)

Hirsch (2006:188) meen dat die geïnstitusionaliseerde kerk daartoe lei dat te veel mag in strukture gesetel is. Waar mag in die instituut vasgelê word, ontwikkel daar 'n kultuur van weerstand en word die instituut 'blockers' pleks van 'blessers' wat sy missionale opdrag betref.

Viola & Barna (2008) handhaaf ernstige kritiek teenoor die pastor as betaalde ampspligtige van die gemeente. Behalwe dat dit volgens die Nuwe Testament nie regtig stand hou nie, huldig hulle die volgende mening: 'Paying a pastor encourages him to be a man pleaser. It makes him the slave of men. His meal ticket is attached to how much his congregation likes him' (Viola & Barna 2008:Hoofstuk 8).

Die grootste nadeel is die onderliggende mentaliteit wat gekweek word met die predikant as betaalde werknemer van die gemeente. Omdat die predikant betaal word, rus die grootste deel van die gemeente se verantwoordelikheid vierkantig op sy/haar skouers. Die predikant moet die lidmate bedien (tevrede hou) deur huisbesoeke, siekebesoeke, verskillende projekte te inisieer en te lei, goeie eredienste aan te bied, 'n lieftallige persoonlikheid te openbaar, die vrede tot elke prys te handhaaf en so min moontlik 'n appèl op lidmate te maak ten opsigte van hulle priesterskap van die geloof. Wanneer 'n predikant te eerlik raak en sekere gesagsfigure (veral dié wat ruim bydra) openlik teëgaan, kan jy al te gou herinner word aan die groot bydrae wat die persoon lewer en dat hy/sy liefs nie geaffronteer moet word nie (Ungerer 2013a:18-19).

Viola & Barna (2008:Hoofstuk 5) meen dat die uitlig van die predikant en die verhewestelling (deur middel van betaling en ander voorregte) van hom as persoon bo die res van die gelowiges die rede was vir die ontstaan van die lekekonsep: 'The term laity is one of the worst in the vocabulary of religion and ought to be banished from the Christian Conversation'.

Te veel lidmate skuil agter hul skynbare (of werklike) gebrekkige kennis en is beskroomd omdat hulle geestelik minderwaardig voel om enige soort 'geestelike' taak te verrig. In my poging om in 'n vorige gemeente kleingroepe te vestig, is ek ernstig deur 'n ouer vroulike lidmaat berispe dat dit net die dominee is wat bevoeg is om Bybelstudies aan te bied, dit ten spyte van die goeie ondersteunende materiaal wat voorsien is vir alle kleingroepbyeenkomste. Een van die eerste verskonings wat aangebied word wanneer lidmate aangemoedig word om hulle geloof met ander mense te deel, is iets soos volg: 'Nee, ek kan nie - ek ken nie die Bybel goed genoeg nie. Dit is mos die predikant of kerkraad se werk ...' Lidmate is oor die algemeen geïnfekteer met 'n swak religieuse selfbeeld waarvan die eerste spore so ver terugstrek as die vierde eeu n.C. toe kerk die eerste trekke van institusionalisering begin openbaar het.

Hoe volhoubaar is die amp van predikant met vergoeding deur die gemeente daaraan gekoppel? Dit is algemeen bekend dat baie gemeentes sukkel om predikante in voltydse werkruimtes te onderhou. Die aantal deeltydse werkruimtes in die Kerk bevestig die toedrag van sake. Die Kerk sal indringend moet besin oor die opleiding van predikante ten einde hierdie situasie te hanteer.

 

Hou Christus die Hervormde Kerk in stand?

Tot dusver is 'n somber prentjie van die Hervormde Kerk (en ander Afrikaanse kerke) geskets. Daar is sekerlik ander faktore wat die prentjie nog verder sal versomber, maar dit is die genoemde faktore wat in hierdie studie aandag gaan geniet. Die kwynende lidmaatgetalle in die Hervormde Kerk gaan ons noop om diepgaande te besin. As daar dan in 2030 (Sunter 2015) net een wit persoon (ouderdom 0-24) in 'n groep van 100 oorbly, hoe gaan die kerklike landskap in die Hervormde Kerk daar uitsien? Hoeveel lidmate van alle ouderdomsgroepe gaan daar in totaal oorbly. Hoeveel gemeentes gaan in hul huidige vorm oorleef? Wat gaan van die talle kerkgeboue word wat landswyd soos monumente troon. Hendriks (2010:5) haal 'n jong diaken van die NG gemeente Brandvlei soos volg aan: 'Dominee, ek voel die hele tyd skuldig . ek voel skuldig dat ons kerk so leeg is en agteruitgaan en ek voel skuldig dat ek my geld gee vir die instandhouding van geboue as daar soveel nood om ons is. Ons het veel sinvoller kerk in 'n groot sitkamer.'

Miskien het dit tyd geword om aandag te gee aan die spreekwoordelike olifant in die woonkamer: die voor-diehand-liggende waaroor niemand praat nie - ten minste nie waar dit 'n persoon onnodig kan blootstel nie. In 'n ringsvergadering wat onlangs in die platteland gehou is, het 'n ouderling na die voorlegging wat 'n lid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor volhoubare kerkwees gehou het, opgestaan en soos volg opgemerk: 'Julle wil hê ons moet die Kerk vir die swartes oopgooi .' Dit is waarskynlik dieselfde ongesproke argument wat in sommige kringe in die Hervormde Kerk aan die opbou is teen die gebruik van die term 'missionaal'. Die term missionaal word verpolitiseer en die verdagmakery teen die term word langs rasselyne gevoer.

Soos reeds genoem, lê die paradoks daarin dat daar sterwende kerke bestaan midde-in 'n groeiende Christendom rondom ons. Daar is twee opsies en by beide gaan tyd 'n groot faktor wees. Die resultate sal oor tyd heen realiseer. Dit kan korter wees of selfs oor etlike dekades realiseer. Die eerste moontlikheid is om die status quo te handhaaf met beperkte groei uit kerkvervreemde lidmate en ongelowiges uit dieselfde homogene groep wat die Hervormde Kerk tans kenmerk. Met alles wat tot dusver gesê is oor dalende getalle onder die witmense in Suid-Afrika, hoort hierdie eerste opsie eerder tot 'n kwynende en sterwende Kerk te lei. Die tweede opsie is om missionaal onder alle mense te werk, ongeag of dit getallegroei vir die Kerk meebring of nie. Hierdie opsie dra die moontlikheid dat die Kerk op verskeie maniere kan floreer en gedy.

Daar sal denkskuiwe moet plaasvind - weg van 'n na-binne-gerigtheid en die instandhouding van strukture (vgl. Dreyer 2011:77; Van der Merwe 2011:8) na 'n gestuurdheid. Dit gaan eerder beteken dat die Kerk weggegee moet word. Elke gemeente moet hulself sien as 'n gemeenskap van gestuurdes. Die antieke woorde wat gebruik is by die wegsending na 'n aanbiddings geleentheid: 'Ita, missa Est' (gaan, jy word gestuur) moet 'n werklikheid in elke gemeente en lidmaat se lewe wees (Du Preez, Hendriks & Carl 2014:5). Dit sluit aan by Wright (2010:26) se woorde rakende 'n missionale ekklesiologie: 'World evangelization requires the whole church to take the whole Gospel to the whole world.'

Om dit te vermag sal daar meer holisties na die Hervormde Kerk se manier van kerk wees gekyk moet word. Die Hervormde Kerk sal deel van Christus se kerk vir alle mense moet wees deur 'n missionale ekklesiologie te ontwikkel. Hierdie missionale ekklesiologie ontwikkel vanuit missionale teologiese vorming.

Vervolgens word daar eerstens na missionale teologiese vorming gekyk en na meer volhoubare maniere om predikante as tweede-loopbaan-predikante in die Kerk aan te wend. Dan word 'n praktykgerigte missionale ekklesiologie bespreek as moontlike werkswyse in die Hervormde Kerk.

 

Die opleiding van predikante

Volgens Hirsch (2006:Hoofstuk 1 en 7) is die probleem met institusionalisme dat dit verword in 'n gesagstruktuur wat wil regeer en nie meer die mense op voetsoolvlak wil dien nie. Dit het ook vir die kerk bepaalde implikasies wat die opleiding betref:

So religious institutionalism happens when in the name of some convenience we set up a system to do what we must do ourselves so that over time the structures we create take on a life of their own. A classic example is churches outsourcing education to external organisations. Initially, these training organisations exist to fully serve the grass roots. However, over time they increase in authority, eventually becoming ordaining bodies whose imprimatur is needed to minister. As the provider of degrees, they become increasingly more accountable to the government bodies than they do to the mission of the church. But the net result for the local community is that not only do they become dependent on an increasingly powerful and cloistered institution, they also lose the ancient art of discipling and education for life in the local setting. The local church as a learning and theologizing community is degraded as a result. (Hirsch 2006, hoofstuk 7)

Niemandt (2007:40) verwys na 'n verslag van die Hartford Institute of Religion Research wat daarop neerkom dat, hoe beter die opleiding van predikante, hoe swakker die missionale uitset in hulle gemeentes. Die Hervormde Kerk het nog altyd (met goeie reg) geroem op sy goeie teologie en daar word met groot trots in eie kringe van die hoë akademiese standaard van die teologiese opleiding gepraat (Niemandt 2015:36, 43). Wanneer dit egter by 'n missionale bewussyn en missionêre uitsette kom, is daar meer dikwels 'n onvermoë en argeloosheid te bespeur. Daarom dat teologiese opleiding in 'n belangrike verhouding tot kerk wees staan, want wanneer dit voeling met kerkwees verloor, raak dit irrelevant (Niemandt 2015:33).

Tog meen Niemandt (2015:42-3) dat die Hervormde Kerk te min klem op die missionale ekklesiologie lê terwyl daar 'n sterk klem op die akademiese opleiding en kognitiewe ontwikkeling van predikante geplaas word. Sy verwys na die werk van Paas (2011:126) wat aandui dat die meeste dosente in die era van die Christendom opgelei is en dus baie ondervinding in prediking, pastorale werk en kerkpolitiek en so meer het, terwyl hul min ondervinding in sosiale geregtigheid en kreatiewe evangelisasie het. Daarby sluit Niemandt (2015:48) aan by Du Preez et al. (2014:2) wat dui op die geweldige klem wat universiteite op navorsing plaas sodat dit tot 'n soort akademiese godsdiens lei, dikwels ten koste van die kerk. Hulle opinie is dat daar 'n sigbare impak op Afrika suid van die Sahara sal wees as teologiese instellings in ware missionale instellings verander word (Du Preez et al. 2014:1).

Niemandt (2015:70-79) doen die volgende moontlikhede aan die hand wat die teologiese opleiding van die NHKA betref. Dit word vervolgens kernagtig saamgevat:

Eerstens pleit sy dat amptelike missionale praktyke deel gemaak word van die bestaande kurrikulum om sodoende die opleiding van binne af te transformeer. Om die NHKA se kurrikulum vanuit 'n missionale vertrekpunt te herskryf sal 'n lang en moeisame proses wees; daarom dié van-binne-af-transformasie-benadering. Dosente en studente moet gesamentlik deel van hierdie missionale vorming wees. Insigte wat vanuit die praktyk klaskamer toe kom, gee nuwe perspektiewe vir die herskryf van die kurrikulum. Tweedens is 'n holistiese benadering wat die behoeftes van die hele persoon aanspreek, onontbeerlik. Die behoeftes word in die volgende drie kenmerke opgedeel: (1) Die spirituele ontwikkeling en karaktervorming, (2) praktiese ervaring en vaardighede en (3) die ontwikkeling van 'n gesonde teologiese agtergrond. Derdens gaan dit oor spirituele ontwikkeling en karaktervorming wat in 'n informele konteks moet plaasvind (vgl. Du Preez et al. 2014:2). Dit gaan hier om op die regte ruimtes, verhoudings en lewensritmes te fokus. Vierdens noem sy dat die Hervormde Kerk erns moet maak met praktiese ervaring en vaardighede. Dit moenie hier gaan oor die aanbied van modules in praktykvorming nie, maar om studente die praktyk in te stuur. Sy is van mening dat daar weggedoen moet word met kerkspesifieke opleiding, aangesien missionale leiers wyer moet fokus as op 'n spesifieke kultuur of groep mense. Die krisisse waarmee studente in die praktyk te doen kry, dien as belangrike groeigeleenthede tot nuwe insig en transformasie. Vyfdens is die vorming van 'n gesonde teologiese agtergrond, met die Bybel as normatiewe bron, van groot belang. Die Bybel moet nie tot 'n akademiese boek gereduseer word nie; dit moet eerder vir die gelowige die narratief en opdrag bied waarvan hul deel is, en ook 'n belangrike verwysingspunt gee vir 'n missionale bediening in 'n diverse Suid-Afrika. Sesdens word die belang van ondersteunende mentorskap uitgewys. Studente moet gehelp word met die identifisering van mentors wat hulle op die reis kan begelei, tydens die studies en ook daarna in die bediening.

Die opleiding van teologiese studente sal opnuut gestruktureer moet word na 'n missionale teologiese vorming ten einde voornemende predikante voor te berei vir 'n missionale ekklesiologiese bedieningspraktyk. Daar kan steeds klem gelê word op goeie teologiese opleiding, hoewel daar gewaak moet word teen 'n oordrewe rasionalistiese aanslag wat tot 'n soort akademiese godsdiens kan lei.

 

Tweede-loopbaan-predikante

In 'n brief aan die Kuratorium (NHKA), gedateer 18 Junie 2015, vra dr Stephan Hoffman, organiserende sekretaris by die Bybelgenootskap en verbonde aan die Hervormde Kerk, dat die teologiese opleiding en by implikasie die manier van predikant-wees in die Kerk hersien moet word. Hy noem dat die voltydse opleiding van predikante oor 'n ses-jaar-periode 'n duur en veeleisende metode is wat die Kerk en potensiële studente dalk reeds nie kan bekostig nie. Omdat daar geen alternatiewe pad na die bediening is nie, moet voorgenome studente vir ses jaar 'n inkomste ontbeer net om in 'n gemeente te land wat hul slegs deeltyds kan bekostig. Omdat predikante as teoloë opgelei is, is baie min van hulle toegerus om effektief 'n tweede inkomste te genereer. Sy pleidooi is dat die Fakulteit Teologie2 moontlikhede sal ondersoek om afstandsonderrig tot op 'n sekere vlak te inkorporeer. Persone wat reeds gegradueer is, moet byvoorbeeld makliker toegang tot 'n soort teologiese opleiding kry wat hul in staat stel om binne drie jaar predikante van die Kerk te word. Studente wat tans aan Universiteit van Pretoria studeer, se kursusse moet so aangepas word dat hulle aan die einde van die ses jaar ook alternatiewe professies kan beoefen.

Volgens 'n verslag aan die Algemene Sinode (2013) is 'n tweede-loopbaan-predikant iemand wat 'n ander beroep beklee en graag ook as predikant opgelei wil word. Hierdie persoon het afhanklikes en moet bly werk en kan nie die luuksheid bekostig om 'n voltydse student aan 'n universiteit te wees nie. Dit kan 'n boer, 'n onderwyser, 'n jeugwerker of enige ander professionele persoon wees wat op 'n deeltydse basis opgelei wil word. Hierdie soort opleidingsmodel vind wel by ander denominasies plaas, onder andere die Presbiteriaanse Kerk en die Lutherse Kerk, wat van afstandsonderrig gebruik maak.

Op 21 April 2015 het verteenwoordigers van die Kuratoria van die NHKA en die NGK se noordelike sinodes byeengekom om onder andere die moontlikheid van afstandonderrig vir teologiese opleiding te ondersoek. Daar word tans 'n ondersoek na die moontlikhede geloods en daar sal later dié jaar terug gerapporteer word.

Die opleiding van tweede-loopbaan-predikante kan enersyds 'van buite' geskied deur middel van afstandsonderrig en andersyds 'van binne' waar residensiële studente begelei word om hulle tydens hulle studie vir 'n aanvullende loopbaan voor te berei. In hierdie verband skryf Hoffman (2015) soos volg: 'Hulle kan byvoorbeeld ten minste ook as onderwysers gekwalifiseer word. Ek het die Nagraadse Sertifikaat in Senior en Tersiêre Onderrig gedoen terwyl ek voltyds twee gemeentes bedien het; dit is heeltemal moontlik om dit deel van die kursus te maak.'

Nog 'n moontlikheid is dat die Kerk, by wyse van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK), persone uit plaaslike gemeentes oplei om evangeliedienaars te wees - ook wat betref Woordverkondiging tydens eredienste. Dit sal uiteraard persone wees wat oor die nodige gawes beskik en wat eendragtig deur die bepaalde gemeente genomineer is. Die opleiding behoort kandidate 'n basiese toerusting te bied ten opsigte van teologiese onderbou asook die voorbereiding en lewering van preke. Uiteraard sal hierdie evangeliedienaars onderworpe wees aan die gewone opsig wat deur meerdere vergaderings uitgeoefen word. Hierdie maatreël kan veral aangebring word in vêrafgeleë plattelandse gebiede waar daar waarskynlik in die toekoms 'n nypende tekort aan predikante ervaar kan word.

Dit beteken dat daar in die toekoms verskillende vlakke van opleiding in die Kerk kan wees: 'n sterk kern van teoloë en predikante met ses jaar universiteitsopleiding, persone wat reeds in 'n bepaalde beroep staan en wat 'n tweede-loopbaanopleiding verkies (drie jaar?) en evangeliedienaars met 'n HTK-kwalifikasie (vgl. Ungerer 2013a:20; 2014:6) wat basiese dienswerk in 'n gemeente verrig.

Seker die belangrikste, naas die nuwe fokus wat op missionale teologiese vorming gelê word, is om voornemende predikante te bemagtig om 'n primêre beroep te beoefen terwyl gemeentebediening as 'n tweede loopbaan geskied - sonder dat kwaliteit noodwendig ingeboet word. Die klem moet verskuif van die predikant as professionele persoon wat alles vir almal moet doen na dié een wat elke lidmaat moet bemagtig om werklik missionaal te dink en te leef en om gestuurdes (vgl. Keifert 2006) in hul wêreld te wees.

 

Praktykgerigte missionale ekklesiologie

Hirsch maak die volgende belangrike opmerking:

All great missionary movements begin at the fringes of the church, among the poor and the marginalised, and seldom, if ever, at the center. It seems that when the church engages at the fringes, it almost always brings life to the center. (Hirsch 2006:30)

Dit is waarskynlik waar die Hervormde Kerk se fokus sal moet lê: die 'fringes' van die samelewing. Dit is ook daar waar die Kerk se grootste ongemak sal lê omdat dit nie die tradisionele werkswyse van die Kerk is nie.

Dit is egter vanuit die 'fringes' waar die beste voorbeelde van missionale bewegings na vore tree, soos die beweging na meer losse strukture en informele wyses van kerk wees. Informele byeenkomste van geloofsgemeenskappe vind in koffiekroeë, kuierplekke, in huise en ander lokale plaas. Dit werk op hierdie plekke omdat daar mense is wat gebreek het met die tradisionele kerk en waarskynlik nooit weer sal terugkeer nie (vgl. Cray, Clark, Dennen, Feeney, Freeman & Gaze 2003:1-15). Dit is vir diesulkes dat Viola & Barna (2008:Hoofstuk 3) die organiese kerke as alternatief voorhou, wat neerkom op eredienste wat deur gelowiges in huise gehou word. Viola (Viola & Barna 2008:Hoofstuk 3) noem dat hy hom die afgelope 19 jaar met hierdie wyse van kerk wees besig hou. Die 'gemeente' groei en vermeerder in verskillende huisbyeenkomste dwarsdeur 'n stad (sekere gebied). Hulle beskou hulself steeds as een kerk en kom soms byeen in groter byeenkomste in lokale wat hulle huur of goedgunstig bekom vir die doeleindes van die byeenkoms. Die inkleding van die byeenkomste geskied volgens geen vasgestelde orde nie, is nie afhanklik van een mens nie en gaan van die veronderstelling uit dat Jesus Christus as hoof van sy kerk die erediens lei. Dit beteken dat deelnemers die 'liturgie' lukraak aanvul met Skrifgedeeltes, getuienisse, spontane sing van geestelike liedere, lees van gedigte, gebede, ensovoorts. Dit lei volgens Viola tot spontaneïteit, kreatiwiteit en 'n vars benadering. Viola beskryf 'n onlangse byeenkoms wat hy bygewoon het en sluit die vertelling met die volgende gedagtes af:

None of this was rehearsed, prescribed, or planned. Yet the meeting was electric. It was so rich, so glorious, and so edifying that it became evident to everyone that someone was indeed leading the meeting. But He was not visible. It was the Lord Jesus Christ! His leadership was being made manifest among His people. We were reminded again that He in fact is alive ... alive enough to direct His church. (Viola & Barna 2008:Hoofstuk 3)

Verdere voorbeelde van hierdie beweging word in die werk van Cole (2005) en Hirsch (2006) gevind. Cole het begin om organiese kerke in Long Beach, Kalifornië, in enige bymekaarkomplek behalwe die tradisionele kerkgeboue te vestig:

We were sent to find and reach people ... who were in deep pain and had lost all hope . we were sent to give them a sense of hope and personal meaning . we were sent to start new churches, which we call Awakening Chapels, among urban postmoderns. (Cole 2005:22)

'n Nuwe organisasie, naamlik die Church Multiplication Associates (CMA), is onder leiding van Cole (2005:22) begin.

Sy uitgangspunt is dat kerke as deel van 'n beweging vermeerder moet word. Maar daar moet reg begin word. Dissipels moet vermeerder word, dan leiers en dan kerke . Die Bybel gee ons nêrens opdrag om kerke te begin nie, maar om dissipels te maak, wat weer dissipels maak. 'The way to see a true church multiplication movement is to multiply healthy disciples, then leaders, then churches, and finally movements - in that order' (Cole 2005:98). En 'n verdere opmerking oor dissipelskap: '[W]e started articulating this profound goal for CMA. We want to lower the bar of how church is done and raise the bar of what it means to be a disciple' (Cole 2005:50; vgl. Hirsch 2006:103).

Hoewel Cole (2005) se CMA rondom geloofwaardige dissipelskap waardevolle insigte bied, sal dit vir die Hervormde Kerk moeilik wees om dieselfde model na te streef. Ook die beskrywing van huiskerke (Viola & Barna 2008) sal vir baie Hervormers swaar op die gemoed lê. Tog kan die revolusie, soos Barna (2005) dit stel, nie gekeer word nie. Naas die institusionele kerk het 'n beweging posgevat wat onstuitbaar is en die kerklike landskap onomkeerbaar sal verander (Barna 2005:106-109).

Gelukkig het 'n ander beweging met die naam Fresh Expressions die afgelope jare op die toneel verskyn wat werklik hoop bied omdat die Anglikaanse Kerk as instituut aan die Hervormde Kerk as instituut herinner. Die Anglikaanse Kerk, oftewel The Church of England, was die ontwerpers van hierdie beweging wat in 1994 met 'n verslag, Breaking new ground: Church planting in the Church of England, begin het (Cray et al. 2003:1-15). In 2002 is 'n New Board of Mission saamgestel om die vorige verslag te verfyn. 'n Verslag met die naam Mission-shaped Church is uitgebring wat steeds die kerk as belangrik ag in die voortsetting van God se sending. Die verslag het 'n subafdeling bevat wat die Fresh Expression-beweging in wese as kerkplanting tipeer. Naas die institusionele kerk word geloofsgemeenskappe in die veranderende konteks waarin ons lewe, op allerlei wyses gevestig (Cray et al. 2003:xi-xiii).

Aartsbiskop Rowan Williams was die eerste persoon wat die uitdrukking 'mixed economy' gebruik het in sy verwysing na 'fresh expressions' en oorgeërfde vorme van kerk wees. Beide kan binne dieselfde denominasie bestaan, met 'n onderlinge verhouding van wedersydse respek en ondersteuning (MSM Uitdeelstuk 2015, A02:10). In hierdie 'mixed economy' van onderlinge naasbestaan mag dit gebeur dat die tradisionele kerk en/of gemeente vanuit die vars uitdrukking van kerk wees gevoed word. Dit mag ook nooit gebeur nie, omdat die Fresh Expression-gemeenskap van gelowiges 'n lewe van sy eie kry en onafhanklik voortbestaan (MSM Uitdeelstuk A02:1-17). Vars uitdrukkings van kerk wees gebeur meesal by die 'fringes' waarna Hirsch (2006:30) verwys. Die Fresh Expression-literatuur, die tientalle DVD's wat gemaak is, asook materiaal op die internet, dien as 'n magdom inspirerende voorbeelde hiervan.

Cray et al. (2003:44) gee enkele variëteite van Fresh Expressions weer:

alternatiewe aanbiddings gemeenskappe

kuierplek-kerke (Café church)

selkerke

kerke wat uit gemeenskapsinisiatiewe spruit

midweek- en veelvoudige kerke

netwerk-gefokusde kerke

kerke gekoppel aan skole

kerke vir soekers

tradisionele kerkplanting

klooster-geïnspireerde kerke

kerke vir jongmense.

Daar is talle voorbeelde in die Hervormde Kerk waar gemeentes in hul gemeenskappe missionêr betrokke is. Dit sluit enigiets in van die bemanning van sopkombuise, armoedeverligting, betrokkenheid by bejaarde- en kindersorg, Diakonale Pleegsorghuise (DPS-huise) tot vele ander terreine. Onlangs het die Hervormde gemeente Ermelo begin om honderde slaggate in hul dorp op te vul - iets wat selfs die aandag van die media gelok het. Dit is alles goeie voorbeelde van missionêre aksies, maar kan nog nie heeltemal in die Fresh Expression-kader geklassifiseer word nie. Daar is wel twee voorbeelde van Fresh Expressions-'gemeentes' wat voorgehou kan word:

In die Hervormde gemeente Klerksdorp Doringkruin is daar 'n lidmaat, Nico Botha, wat 'n aantal jare gelede uitgenooi is om saam met 'n klomp manne sendingwerk in Indië te gaan doen. Vir hom het dit nie sin gemaak om in die vreemde te gaan sendingwerk doen terwyl 'n stad soos Klerksdorp soveel sendingpotensiaal bied nie. In sy woorde: 'Toe stap ek maar oor die straat en begin 'n bediening by die Lantern-hotel.' Die Lantern (soos algemeen bekend in Klerksdorp) bied laekostebehuising aan minder gegoede mense van alle agtergronde. Daar is baie misdaad, dwelmmisbruik en prostitusie in daardie area. Sy bediening by die Lantern sluit multikulturele 'eredienste' in op Woensdagaande, algemene hulpverlening en 'n bediening onder die prostitute. Daar vind ook spesifieke kinderbediening tydens die erediens plaas, en na afloop van die erediens word daar altyd saam geëet. Die gemeente staan hom op 'n beperkte skaal by deur middel van fondse wat gegee word en 'n kleingroep wat hulp verleen.

Die Lantern-gemeente beskou hulleself as 'n gemeente met Nico as hulle dominee. Daar het ook betroubare leiers uit eie geledere na vore gekom wat hom in die bediening bystaan. Die Lantern-gemeente voel hulle tuis waar hulle is en Doringkruin-gemeente is vir hulle net 'n naam. Die enigste verbintenis tussen die twee gemeentes is Nico Botha, hulle bewus wees van mekaar, sporadiese stoflike hulpverlening en die betrokkenheid van 'n kleingroep. Uiteraard kan daar groter skakeling plaasvind, hoewel die verskille tussen die twee kontekste spontane oor en weer besoeke inhibeer.

Die tweede voorbeeld is die gemeente Stoffberg wat gedurende 2013 in 'n situasie van vasgelooptheid verkeer het. Die predikant, ds. Mariaan Beukes vertel in 'n skrywe aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, gedateer 20 April 2015, dat daar net sewe lidmate oorgebly het en hoe hulle om 'n tafel gesit en erediens hou het. Die gemeente kon nie meer elektrisiteit bekostig nie en was in proses om hulle kerkbanke te verkoop. Die kombinasie met Roossenekal-gemeente het in daardie stadium ook versuur en is later verbreek. Sy skryf soos volg:

In Augustus 2014 luister ek na 'n hoorbeeld op RSG. Vroue agter tralies! Sowaar: Afrikaanse vroue in die gevangenis op Middelburg. Na afloop van die hoorbeeld bel ek die Direkteur Kommunikasie van DKD, Sarie Peens. Ek stel dit duidelik dat die gemeente Stoffberg die Read for Redemption-program gaan steun, en sommer alles alleen op hul sal neem. Die Sondag kondig ek aan dat ons tronk toe gaan; hospitale is so voorspelbaar! Elk geval, ons wil mos die lig vir die wêreld wees en na mense deur die oë van Christus kyk. 'O', het hul gesê, 'Wat gaan ons doen?'. 'Ek weet nie' was my antwoord, maar ons gaan dit doen. 'Ek dink ons moet boeke en tydskrifte insamel'. Daardie Maandag het 'n dame na my toe gekom waar ek in 'n apteek werk en gevra of ek weet van iemand wat 'n nut het vir ou tydskrifte en boeke. Dit was die teken wat selfs Gideon sou tevrede stel. Die res is geskiedenis. (Beukes 2015)

Die gemeente van sewe lidmate en hul predikant het begin om vroue in die gevangenis van Middelburg van boeke en tydskrifte te voorsien. Dit het uitgebrei na Carolina en nog later Bethal. Van die 150 vroue wat hulle tans bedien, is 40 tot 45 wit en die res is swart. Kleur speel geen rol nie en daar is tans versoeke van Potchefstroom om ook dáár betrokke te raak.

Dit het ook nie net by boeke en tydskrifte gebly nie. Daar word tans onderklere en toiletware ingesamel om in die vroue se mees basiese behoeftes te voorsien. Daar word ook op groot skaal wol en breinaalde aan die vroue voorsien en steeds is daar te min wol. Intussen het die gemeente se lidmaattal tot 37 aangegroei en word daar elke tweede Sondag 'n erediens in Stoffberg se kerkgebou gehou. Die gemeente besoek die onderskeie gevangenisse een Vrydag 'n maand en is tans oorweldig deur die groot vraag na hulp en middele vir die vroue; vandaar ds. Beukes se versoek om hulp vanaf die Kommissie.

Die gemeente Stoffberg is 'n uitstekende voorbeeld van 'n missionale gemeente wat 'n vars uitdrukking van kerk wees (Fresh Expression) tot stand kon bring en daardeur kon floreer. Dit is duidelik dat hierdie bediening nuwe energie gegenereer het en dat hulle uit 'n situasie van vasgelooptheid kon ontsnap. Hulle kon vry kom van 'n beheptheid met instandhouding en 'n na-binne-gerigtheid en hulle is boonop met getallegroei geseën. Dit herinner weereens aan Hirsch (2006:30) se woorde: '... It seems that when the church engages at the fringes, it almost always brings life to the center.'

Ungerer (2013a) sluit op 'n manier hierby aan:

'n Gestuurde gemeente kan geloofsgemeenskappe help vestig sonder dat dit enige voordele vir die sturende gemeente inhou. Geloofsgemeenskappe kan oral en in alle lae van die samelewing gevestig en bedien word: by die fabriek of ander werksplekke tydens etensure, in woongebiede waar die tradisionele kerk reeds vertrek het vanweë demografiese verskuiwings en omdat dit die kerk uit haar diepte laat voel het, enige plek en omstandigheid waar die gevestigde kerke traag is om uit te kom. Op hierdie wyse word organiese kerke wat tog op die een of ander wyse 'n naelstring na die sturende gemeente het, gevestig - daar ontstaan 'n simbiotiese verhouding tussen die organiese kerk en die institusionele kerk. Die organiese kerk word bygestaan met kundigheid en allerlei hulpbronne, en die institusionele kerk word toenemend gestroop van institusionele denke. (p. 17)

 

Hou Christus die Hervormde Kerk in stand - Gevolgtrekkings

Vanuit hierdie studie word die volgende as gevolgtrekkings aangebied:

Die Hervormde Kerk is 'n sterwende kerk. Die kwynende lidmaattalle bevestig dit onteenseglik. Die situasie versleg verder vanweë 'n afname onder wit Afrikaanssprekendes wat die primêre voedingsbron vir die Kerk is.

Daarmee saam is daar 'n wêreldwye wegbeweeg van alle institusionele instellings. Die Hervormde Kerk word as 'n institusionele instelling geklassifiseer wat in wese toksiese kenmerke vertoon en 'n paradigma van selfvernietiging geïnternaliseer het.

Die huidige manier van kerk wees skep grootliks lidmate wat passiewe toehoorders en ontvangers van dienste is. Daar is oor die algemeen 'n gebrek aan 'n missionale bewussyn onder lidmate in gemeentes.

Die opleiding van predikante is op gemeentebediening gerig wat op instandhouding en eie oorlewing fokus. Die opleidinginstansie is tans nie in die vermoë om studente teologies missionaal te vorm nie vanweë die inhoude van die huidige kurrikulum en manier van opleiding nie.

Daar is 'n toenemende aantal predikante wat in deeltyds in bedieningsruimtes werk en nie altyd toegerus is om 'n inkomste uit ander bronne te genereer nie.

 

Christus hou die Hervormde Kerk in stand - mits ...

Christus hou die Hervormde kerk in stand, mits die Kerk daarin gaan slaag om:

predikante en leiers met 'n sterk missionale bewussyn en gerigtheid te kweek. Dit sal predikante moet wees wat grootliks in hulle eie lewenstog voorsien en wat onbevrees hulle leierskap kan openbaar sonder om verkneg te wees deur gemeentes wat hul salaris betaal.

sy lidmaatkorps so te mobiliseer dat hulle soos ware soldate van Jesus Christus (2 Tm 2:4) hul bevelvoerder tevrede wil stel.

bereid te wees om Kerk vir alle mense te wees ongeag kleur, taal of kultuur.

bereid te wees om in die 'fringes' van die samelewing betrokke te raak en daar hoop, sin en betekenis te bring -en te ervaar hoe God nuwe energie en lewe in die sentrum bewerkstellig

naas die instituut ruimte te laat vir vars (selfs vreemde) uitdrukkings van kerk wees, dit te omarm, wel wetende dat God se koninkryksekonomie op verrassende maniere gestalte kry - selfs al vind die plaaslike gemeente geen baat daarby nie.

 

Slot

Hou Christus self sy kerk in stand - Hou Christus die Hervormde Kerk in stand? Die antwoord lê in die dinge waarmee die Kerk in die volgende dekades gaan besig wees. As die Kerk in wese eksklusief gaan bly fokus op een homogene groep, en as die Kerk voortgaan met 'n na-binne-gerigtheid en angsvallig met eie instandhouding besig gaan bly, is dit onwaarskynlik dat Christus die Hervormde Kerk in stand gaan hou. Dit sal in die annale van die kerkgeskiedenis opgeteken staan: 'n Skreiende paradoks van die kerk in die 21ste-eeuse Suid-Afrika - 'n Kerk, by name die Nederduitsch Hervormde Kerk, wat nie kon aanpas nie en gesterf het te midde van 'n groeiende Christendom binne die Suider-Afrikaanse konteks.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Almanak & Bybelse Dagboek, 2015, Jaarboek van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Jaargang 109, Sentik, Pretoria.         [ Links ]

Barna, G., 2005, Revolution. Worn out on church? Finding vibrant faith beyond the walls of the sanctuary, Christian Art Publishers, Vereeniging.         [ Links ]

Butler Bass, D., 2012, Christianity after religion. The end of church and the birth of a new spiritual awakening, [Kindle] Harper Collins Publishers, New York, NY.         [ Links ]

Cole, N., 2005, Organic church. Growing faith where life happens, Jossey-Bass, San Francisco, CA.         [ Links ]

Cray, G.C., Astin, M., Clark, J., Dennen, L., Feeney, D., Freeman, S., Gaze et al., The mission-shaped church. Report from a working group of the Church of England's Mission and Public Affairs Council. Church House Publishing. London.         [ Links ]

Dreyer, W.A., 2011, Praktiese ekklesiologie en bedieningspraktyk: Met verwysing na die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika', PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Du Preez, K.P., Hendriks, H.J. & Carl, A.E., 2014, Missional theological curricula and institutions, Verbum et Ecclesia, 35(1), 8, http://dx.doi.org/10.4102/ve.v35i1.1326        [ Links ]

Gaum, F., 2011, Fluit-fluit die kerk is uit, Bybel Media, Wellington.         [ Links ]

Getz, G.A., 2003, Elders and leaders. God's plan for leading the Church, Moody Publishers, Chicago, IL.         [ Links ]

Gibbs, E., 2005, Leadership next. Changing leaders in a changing culture, Intervarsity Press, Downers Grové, IL.         [ Links ]

Hendriks, H.J., 2010, Verslag aan die 14 de Algemene Sinode te Boksburg gehou op 10-14 Oktober 2011. Klein Gemeentes. http://www.kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda_2011.pdf        [ Links ]

Hirsch, A., 2006, Forgotten ways. Reactivating the missional church, [Kindle], Brazos, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Hoffman, S., 2015, 'Voorstel - Teologiese opleiding', Skrywe aan die Kuratorium van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, gedateer 18/06/2015. Ongepubliseerde Kerkdokument.         [ Links ]

Holm, E., 2010, 'Nie minder nie; nie meer nie', Die Beeld, 30 April 2010, p. 8.         [ Links ]

Kasper, W., 1993, 'The church as communio', New Blackfriars, 74.871 (1993), 232-244. http://dx.doi.org/10.1111/j.1741-2005.1993.tb07310.x        [ Links ]

Keifert, P.R., 2006, We are here now. A new missional era. A missional journey of spiritual discovery, Allelon Publishing, Eagle, ID.         [ Links ]

Liedboek van die kerk, 2001, Vir gebruik by die erediens en ander byeenkomste, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Luz, U., 2010, 'Ortsgemeinde und Gemeinschaft im Neuen Testament', Evangelische Theologie, 70(6), 404-415. http://dx.doi.org/10.14315/evth-2010-0604        [ Links ]

McDonnell, K., 2002, 'The Ratzinger/Kasper debate: The universal church and local churches', Theological Studies, 63(2), 227-250. http://dx.doi.org/10.1177/004056390206300201        [ Links ]

Moderamen van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2015. Agenda van gewone vergadering gehou op 15 Mei. Ongepubliseerde Kerkdokument. Pretoria.         [ Links ]

MSM, 2015, 'Mission context and the mixed economy, members handout (A02)'. Nederduits-Gereformeerde Kerk, 2013. Agenda van die vyftiende Algemene Sinode, 10 Oktober 2013, Verslag oor klein gemeentes, pp. 87-88.         [ Links ]

Niemandt, D., 2015, ''n Evaluasie van teologiese opleiding in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in die lig van missionale ekklesiologie', MA verhandeling, Departement Godsdiens- en Sendingwetenskap, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Niemandt, N., 2007, Nuwe drome vir nuwe werklikhede. Geloofsgemeenskappe in pas met 'n postmoderne wêreld, Lux Verbi B.M., Wellington.         [ Links ]

Paas, S., 2011, 'Prepared for a missionary ministry in 21st century Europe', European Journal of Theology, 2011, 2, 119-130.         [ Links ]

Steenkamp, P., 2015, 'Die volhoubaarheid van kerkwees in die toekoms. 'n Memorandum in opdrag van die Kernkomitee Finansies en Administrasie en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika'. Ongepubliseerde Kerkdokument. Pretoria        [ Links ]

Sunter, C., 2015, Future prospects for South African youths, viewed 7 June 2015, from http://proteamedia.com/?p=1268        [ Links ]

Ungerer, A.G., 2013a, 'Hou Christus die Hervormde Kerk in stand?' Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT), 1(3), 1-20.         [ Links ]

Ungerer, A.G., 2013b, 'Hoe lyk die kerk in ons wêreld?' Die Hervormer, 106(2), 1.         [ Links ]

Van der Merwe, J.C., 2011, 'Missionale gemeentes in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika - teologies verantwoord', HTS Teologiese Studies, 67/3, 9 bladsye by http://dx.doi.org//10.4102/hts.v67i3.1094        [ Links ]

Viola, F. & Barna, G., 2008, Pagan Christianity? Exploring the roots of our Church practices, Tyndale House Publishers, Carol stream, IL.         [ Links ]

Wright, C.J.H., 2010, The Mission of God's People, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
André Ungerer
andreung@telkomsa.net

Received: 16 Sept. 2015
Accepted: 29 Dec. 2015
Published: 15 July 2016

 

 

Project leader: A. Ungerer
Project number: 82329542
Description: This research is part of the project, 'Contextualised Reformed Theology in South Africa', directed by Dr André Ungerer of the Reformed Theological College, Faculty of Theology, University of Pretoria.
Note: Hierdie artikel is 'n verwerking van 'n artikel wat in die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT) Jaargang 1, nommer 3 verskyn het met die titel 'Hou Christus die Hervormde Kerk in stand?'
1 Kasper (1993) se werk oor die kerk as Communio kan bygelees word. Kyk ook die werk van McDonnell (2002) waar Ratzinger en Kasper se standpunte oor die universele en plaaslike kerk bespreek word. Ook Luz (2010) se werk Ortsgemeinde und Gemeinschaft im Neuen Testament bied goeie insig.
2 Die teologiese studente van die NHKA ondergaan hulle opleiding by die Universiteit van Pretoria.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License