SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.71 issue1Die liminale ruimte vir inkongruensie tussen predikant en lidmaat: 'n narratief gebaseerde prakties-teologiese ondersoek in gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.71 n.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4102/HTS.V71I1.3027 

ORIGINAL RESEARCH

 

'Dink voordat jy praat': Die krag van die tong by Philo en Jakobus

 

'Think before you speak': The power of the tongue by Philo and James

 

 

Gert J. Steyn

Department of New Testament Studies, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

It is appropriate to reflect on the ability of language in pursuing and establishing peace. This contribution briefly explores the Jewish Wisdom literature, the Jewish-Hellenistic philosophy of the corpus Philonicum and the wisdom genre of James 3 as valuable sources on the power of the tongue. At least five practical guidelines regarding speech and its role in the creation of peace are deduced from these three collections of literature: the tongue might be small, but its effects are powerful; believers' speech should be characterised by truth and honesty; there are times when one needs to speak up and openly; but there are also times that one should be cautious and rather keep quiet; wisdom is needed in exercising the ability to differentiate when to speak and when to keep quiet. It is important, however, to develop the ability to distinguish when to speak and when to keep quiet.


 

 

Inleiding

Taal is 'n magtige kommunikasiemedium. Die verbinding van lettergrepe, klank-stringe en intonasies in verskeie kombinasies kommunikeer gedagtes en emosies tussen sprekers en hoorders, tussen skrywers en lesers, tussen senders en reseptors. Taal kan saambind in liefde, dit kan beweeg tot trane, dit kan troos en oorreed, dit kan vrede skep en bemoedig. Maar taal kan ook lei tot skeiding; dit kan dryf tot woede, dit kan aggressie aanwakker en lei tot oorlog. Die Joodse wysheid bevestig dit alreeds: 'Die tong het mag oor dood en lewe' (Spr 18:21). Die pen is dus inderdaad dikwels magtiger as die swaard!1 Lande se konstitusies en kontrakte is verwoord in taal. Wette is geformuleer in taal. Wysheid is gegiet in taal. Enersyds is taal die teken-sisteem van konsepte en emosies, andersyds is taal die instrument waarmee konsepte en emosies opgewek en beheer word. Die gesproke woord kan bou of afbreek, dit kan lei tot geweld of tot vrede. Jakobus stel dit in geen onduidelike terme nie: '[Die tong] is 'n onbestendige kwaad, vol dodelike gif' (Jak 3:8).2 Wat gesê is, is gesê, en dit kan moeilik ongedaan gemaak word. Geen wonder dat die Matteaanse Jesus self die gevolge van dit wat onder mekaar gesê word, sterk benadruk nie:

Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee. Want op grond van jou woorde sal jy vrygespreek word, en op grond van jou woorde sal jy veroordeel word. (Matt 12:36-37)3

Dis daarom gepas, na my mening, om by 'n kongres oor vrede te besin oor die vermoë van taal om vrede te bewerkstellig.4 Gegewe die Joodse Wysheidsliteratuur, die Joods-Hellenistiese filosofie van die corpus Philonicum, en die wysheidsgenre van Jakobus 35 deurdrenk met tradisiemateriaal (kyk Davids 1982:52; Lockett 2012:15),6 blyk dit sinvol te wees dat hierdie skrywers se sienings oor die mag van die tong hier naas mekaar ter tafel geplaas word. Bindemann (1995) bevestig die wysheidsoorlewering in Jakobus tussen skrywer en adressante:

Das hohe Maß weisheitlicher Überlieferung im Jakobusbrief erklärt sich nicht allein aus der Theologie seines Verfassers; es erlaubt auch Rückschlüsse auf das Frömmigkeit-sprofil der intendierten Leser. Die subtile Verarbeitung weisheitstheologischer Argumente läßt darauf schließen, daß die Adressaten im Repertoire jüdisch-christlicher Weisheitsfrõmmigkeit zu Hause waren und daher vom Verfasser des Jakobusbriefes auf ihre weisheitliche Kompetenz angesprochen wurden. (bl. 192)

Wall (1997:159-179) sluit hierby aan en bied 'n duidelike uiteensetting hoe 'perfektheid' (Jak 3:2), 'geregtigheid' en 'vrede' (Jak 3:18) 'n raam bied vir die skrywer se betoog. Hierbinne word onbedagte rede (Jak 3:3-8, 14-16), suiwer rede (Jak 3:17) en geveinsde of dubbelsinnige rede (Jak 3:9-12) aan die orde gestel. Op sy beurt is Metzner (2013:261) myns insiens korrek in sy aanname dat die outeur van Jakobus homself bewys as iemand wat 'n 'rhetorisch und weisheitlich gebildeter Lehrer' was.7 Beide Philo en Jakobus se vermanings dat daar met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid met die mag van die woord omgegaan moet word, verdien ernstige besinning in die soeke na, en skep van, vrede.

 

Die intertekstuele verknoping van Joodse Wysheidspreuke by Philo en Jakobus

Die intertekstuele teksspore van spreuke uit die Joodse Wysheidsliteratuur is sigbaar in die werke van Philo en Jakobus.8 Veral die spreuke uit die Wysheid van Jesus ben Sira (tweede eeu v.C.) kan duidelik waargeneem word.9Hierdie spreuke, wat aanvanklik in Jerusalem in Hebreeus gekomponeer is teen die begin van die tweede eeu v.C., en later in Alexandria in Grieks vertaal is teen die einde van dieselfde eeu, was 'n invloedryke wysheidskorpus wat duidelike spore gelaat het op sowel die Grieks-Joodse literatuur as op sommige van die vroegste Christelike geskrifte. Veral die draaipunte tussen (1) praat of stilbly, (2) woorde wat opbou of woorde wat skade berokken, en (3) woorde wat opreg bedoel is of wat vals aangewend word deur huigelary, kan by sowel Philo as Jakobus bespeur word en is duidelike temas uit die Joodse Wysheidsliteratuur.10

Verskeie spreukekettings uit die Wysheid van Jesus Sirag staan duidelik vroeër in die Wysheid se tradisielyn en slaan later deur by Philo en Jakobus. So berig Sirag 5:12-14 byvoorbeeld:

As jy insig het, antwoord jou naaste; indien nie, plaas jou hand voor jou mond.13 Eer sowel as skande kom deur dit wat gesê word en 'n mens se tong kan tot sy val lei.14 Moenie 'n kwaadprater genoem word nie en moenie met jou tong valstrikke stel nie.

Lamparter (1972) som hierdie spreukeketting gepas op in die volgende samevatting:

Der Doppelzüngige, der bald so, bald anders redet, wie es gerade opportun ist, auch der Unbedächtige, der drauf los redet, ohne aufmerksam zuzuhören und seine Worte mit Bedacht zu wãgen, sowie der Ohrenblãser, der den Andern etwas ins Ohr flüstert, was er nicht frei und offen auszusprechen sich getraut, -sie alle ernten - mit Recht - Verachtung. Den Weisen, der in der Furcht Gottes wandelt, erkennt man daran, da£ er seine Worte abwãgt und, weil er innerlich gefestigt ist (V.10), zu dem steht, was er sagt, da£ er es aufrichtig meint und die doppelzüngige, hinterhãltige Rede verabscheut. (bl. 36)

Soortgelyke spreuke oor die keuse om te praat of te swyg kan gevind word by Sirag in 'n uitspraak soos die volgende:

Moenie jou weerhou daarvan om te praat wanneer die geleentheid dit vereis nie, want dit is deur die gesproke woord dat wysheid bekend sal word en onderrig deur die woorde van die tong geskied. Moenie die waarheid weerspreek nie en skaam jou oor jou onkunde. (Sir 4:23-25)11

'n Interessante tipe ringskomposisie kan gevind word in Sirag 19:13-17, waar die stelling van vers 16 - dat almal met die tong gesondig het - die parallelisme van vriend en vyand verbreek:

19:13 = spreek 'n vriend aan 19:14 = spreek jou naaste aan

19:15 = spreek 'n vriend aan 19:17 = spreek jou naaste aan

19:16 = 'Daar is 'n mens wat fouteer, maar nie doelbewus nie, en wie het nogal nie met sy tong gesondig nie?'

Dieselfde motief kom weer na vore in Sirag 25:8 ('Gelukkig is die mens wat nie met sy tong sondig nie') en soortgelyks in Jakobus 3:2 ('Almal van ons struikel tog dikwels. As iemand nie met woorde struikel nie, is hy 'n volmaakte man en ook daartoe in staat om sy hele liggaam in toom te hou') (vgl. ook Martin 1988:109). Hartin (2003:173) is korrek: 'Sins of the tongue are the hardest to avoid.'

 

Die bron van alle vrede

In die Joodse wysheid gee sy haar eerste gawe deur die aanbieding van vrede (Martin 1988:xci). Vergelyk byvoorbeeld Sirag 1:18: 'Die respek vir die Here is die kroon van Wysheid, dis om vrede te maak en perfekte gesondheid te laat floreer.'

In Philo se tweede boek Oor Drome, maak hy die stelling dat slegs God die ware en mees egte vrede is (θεός μόνος ή άψευδεστάτη και πρός άλήθειάν έστιν ειρήνη), en dat elke geskape en verganklike essensie voortgaande oorlog is (Philo, Som. 2.253). Wie in staat is om oorlog (πόλεμον), behoefte (ανάγκην), die skepping (γένεσιν) en vernietiging (φθοράν) prys te gee, en oor te gaan na die ongeskape wese (προς το άγένητον), na die onsterflike God (προς το άφθαρτον), na die vrywillige beginsel (προς το έκούσιον) en na vrede (προς είρήνην), kan genoem word die terrein en stad van God (λέγοιτ' αν ένδίκως ενδιαίτημα και πόλις είναι θεοΰ; Philo, Som. 2.254). Die liefdesbeginsel in die Johannes briewe, te wete 'Wie nie liefhet nie, ken God nie, want God is liefde' (1 Joh 4:8), sou op soortgelyke wyse by Philo kon geld ten opsigte van die vredesbeginsel: 'Wie nie vrede het nie, ken God nie, want God is vrede.' Philo sê voorts dat dit nie beskou moet word as iets anders wanneer daar oor die voorkoms van vrede of die voorkoms van God gepraat word nie, want dis dieselfde ding; want vrede is nie slegs die deelgenoot nie (ού θιασώτης μόνον), maar ook die hoof van die lewende God se magte (άλλα και εξαρχός έστιν ειρήνης) wat met verskillende name onderskei word (Philo, Som. 2.254).

Direk opvolgend tot Jakobus se betoog oor die mag van, en die beheer oor die tong, volg sy uiteensetting oor twee soorte wysheid.12 Hy onderskei tussen 'n soort lewenstyl van 'bittere naywer en selfsug' - wat allermins die bewys is van 'n sogenaamde soort wysheid. Wie so leef en meen hulle het wysheid, vertel 'n leuen. Die soort lewenstyl is 'aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade'. Daarom kom dit nie van Bo nie. Daarenteen is die soort Wysheid wat van Bo kom13

allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak. (Jak 3:13-18)

Smelik (1963:71-72) beklemtoon die funksie van 'allereers' hier in Jakobus se betoog en meen '"Allereerst" staat hier, om als het ware het hoofdkenmerk aan te geven, waar alle andere eigenschappen uit voortvloeien en mee samenhangen.' Maar dis veral die voorafgaande perikoop (Jak 3:1-12)14 wat groot waarde inhou vir ons verkenning van vrede deur verantwoordelike spreke. Hartin (1991:98) som die strekking van die perikoop gepas op: 'Jas 3.1-12 was concerned above all with the divisions which arose within the community and the author feared that teachers could inspire and fuel those divisions.'

 

Die tong as 'n skerp wapen

Die antieke Grieks-sprekende wêreld was bekend met die krag van taal en die metafoor van spraak wat vergelyk is met die gevaar van 'n skerp swaard. Voorbeelde hiervan kan onder andere gevind word by Sophokles (Ajax 815) en Pseudo-Phocylides (124.118) wanneer hulle skryf: οπλον τοι λόγος άνδρι τομώτερός15 έστι σιδήρου ('Die woord is vir 'n man 'n wapen wat skerper is as yster').16 Dieselfde beeld word ook in die Septuagint (LXX) aangetref. So vermeld Spreuke 12:18 byvoorbeeld dat 'Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees' (είσιν ο'ΐ λέγοντες τιτρώσκουσιν μαχαίρα), en verwys Psalm 57:4 (LXX 56:5) na mense wie se 'tonge soos skerp swaarde' is (ή γλώσσα αύτών μάχαιρα όξεΐα). Ook Psalm 64:3 verwys na 'tonge soos swaarde'. Selfs in die profetiese literatuur word op dieselfde beeld gesinspeel wanneer gepraat word van 'aanval met die tong' (πατάξωμεν αύτον έν γλώσση; Jer 18:18).17

In 'n positiewe sin word 'n soortgelyke gedagte later gevind ten opsigte van die Logos van God wat vergelyk word met 'n skerp swaard. Dis veral in die geskrifte van die Hellenistiese Jood, Philo van Aleksandrië, waar dit op verskeie plekke aan die orde gestel word. Hy verwys byvoorbeeld na die Logos as die 'lem': τω τομεΐ των συμπάντων έαυτοΰ λόγω (Philo, Her. 130; kyk Bruce 1985:80) en dat God sy eie Woord, die 'verdeler' (lem) van alles, geslyp het (οΰτως ό θεός άκονησάμενος τόν τομέα των συμπάντων αύτοΰ λόγον; Philo, Her. 140). In sy allegorie oor die sewe-armige kandelaar (Philo, Her. 225) verduidelik Philo voorts dat die siel in drie dele verdeel kan word en elk hiervan weer in twee dele. Die sewende arm verteenwoordig vir hom 'die heilige en goddelike Woord (ό ιερός και θείος λόγος), die verdeler (of lem) (τομεύς) van hulle almal'. Die onbekende skrywer van Hebreërs sluit aan by dieselfde gedagte en stel dit duidelik dat die Woord van God skerper is as 'n swaard met twee snykante en dat dit deurdring tot siel en gees, tot by gewrigte en murg (Ζών γαρ ό λόγος του θεοΰ και ενεργής και τομώτερος ύπέρ πασαν μάχαιραν δίστομον; Heb 4:12).

 

Die gespletenheid van menslike spreke

Een van die gevare van menslike spreke waarteen die Wysheid waarsku is woorde wat verwond, maar vermom is as mooi woorde. Sirag maan dat jou woord ondubbelsinnig moet wees (Sir 5:10) en waarsku dat die vyand soete woorde met sy lippe sal sê, maar in sy hart sal hy planne beraam om jou in 'n put te gooi (Sir 12:16). 'Human speech', sê Edgar (2001:179) tereg na aanleiding van Jakobus 3, 'is divided and unwhole'.

Volgens Philo is die woord tweekantig: enersyds kan dit waarheid wees, maar andersyds kan dit leun wees (δίδυμος δέ ό λόγος, ό μέν άληθής, ό δέ ψευδής). Daarom is die bedoeling, volgens hom, dat wanneer twee duiwe voorgeskryf word in die Joodse wet as reiniging vir spraak, die een duif spraak verteenwoordig van wat waar is en in alle opsigte heilig en perfek moet wees, terwyl die ander duif weer valse spreke verteenwoordig wat uitermate verkeerd is en regstelling benodig (Philo, Mut. 248).

Jakobus se konklusie in sy rede oor die tong is dat niemand die tong kan tem nie (Jak 3:8).18 Uit dieselfde mond word God geloof en geprys, maar die medemens - God se beeld - word daarmee vervloek (Jak 3:9). Dit, meen Jakobus, behoort nie die geval te wees nie (Jak 3:10).19 Carson (2007:1006) is van mening dat Jakobus 3:9 'n sinspeling is op Genesis 1:27 en verband hou met die skeppingsnarratief. Die beskouing van die mens as die beeld van God kan inderdaad na die skeppingsnarratief teruggevoer word, en word - myns insiens - voorts versterk deur die onmiddellike konteks: 'Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar geen mens kan die tong tem nie' (Jak 3:7-8).20

Sowel Philo as Jakobus maak dit dus duidelik dat 'n mens nie uit twee monde mag praat nie. Valse spreke is teen die verwagting van God en druis in teen die wet van God. Die Dekaloog stel dit immers duidelik: 'Jy mag geen vals getuienis spreek nie' (ού ψευδομαρτυρήσεις; Eks 20:16). Onegte en vals woorde oor 'n ander hou 'n verkeerde beeld voor en lei uiteindelik tot onmin, skeiding en oordeel. Dit skep onenigheid en rusie. Vals gerugte kan nie vrede bewerkstellig nie - nie tussen mens en mens nie en nog minder tussen mens en God. Daarom verwys Philo na die offers wat nodig is om herstel te bring vir verkeerde dinge wat gesê is en daarom doen Jakobus 'n beroep op oorgretige vroeë-Christene om liewer nie almal leermeesters te wil wees nie, 'want julle moet weet dat ons wat leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word' (Jak 3:1). Dit hoort veral nie by leermeesters om uit twee monde te praat nie.21 Dis veral Jakobus 3:2 wat dit duidelik maak dat die een wat daarin slaag om nie met sy tong te sondig nie, 'n volmaakte (perfekte) mens is. In Jakobus 3:2 staan die 'perfekte mens' (άνδρα τέλειον) teenoor die άνήρ δίψυχος van Jakobus 1:8 (Cheung 2003:200). Hartin (1999:152) wys daarop: 'Here the concept of integrity dominates. Those who always tell the truth are those who harmonize thought and speech.'

 

'n Tyd om stil te bly en 'n tyd om te praat

Die retoriese rol van woorde wat opbou, aanspoor en bemoedig kry veral gestalte in die wysheids- en onderrigliteratuur. So berig Sirag (10:19): 'wie sy woorde tel, is verstandig'. Verskeie verdere voorbeelde kan in Sirag gevind word (vgl. Sir 20:1-2, 5-8, 13; 22:27; 23:8). Die rol van taal in die Wysheidsliteratuur kan moeilik oorbeklemtoon word. Dis by wyse van taal dat Wysheid onderrig. Maar dis juis ook die krag van taal en die verantwoordelike gebruik daarvan wat die inhoud van hierdie onderrig is. So meen Prediker 3:7 byvoorbeeld dat daar nie net 'n tyd is om stil te bly nie, maar ook 'n tyd om te praat. Hierdie gebruik tree onder andere sterk na vore in die dialoog tussen Elimas en Job. Wanneer Job byvoorbeeld op die ashoop sit en sy lot bekla in Job 3, tree sy vriend Elimas met hom in gesprek en sê: 'Sal dit jou vermoei as iemand met jou redeneer? Ek kan nie stilbly nie (letterlik 'Maar wie kan sy woorde onderdruk?'; ίσχυν δέ ρημάτων σου τίς ύποίσει;). Jy het self baie mense reggehelp en dié wat moed verloor het, het jy weer moed ingepraat. Jou woorde het dié wat struikel, opgebeur, dié wat wou val, het jy weer opgehelp' (Job 4:2-4). Elimas verwys na die retoriese krag van Job se eie woorde in die verlede. Dit kon die wat struikel opbeur en die wat wou val moed inpraat. Die Wysheidsliteratuur bevestig dat: 'Die tonge van wyses genesing bring' (γλώσσαι δέ σοφών ίώνται; Spr 12:18). Aldus poog Elimas nou self om vrede te bring in Job se gemoed en probeer hy taal inspan vir hierdie doel. Hy maak 'n appèl op Job se vroomheid en wil weer vrede sien tussen Job en sy God. Hy móét praat. Hy kan nie stilbly nie, sê hy vir Job.

Maar na die poging van Elimas om Job te bemoedig en te vermaan (Job 4-5), breek Job se weeklag onkeerbaar deur en verwoord hy sy intense pyn en bitter lyding (Job 6-7). Hy sê: 'Nee, ek kan nie stilbly nie, in my beproewing wil ek praat, in my bitter lyding wil ek kla' (Job 7:11). Ook Job voel dat hy nie kan stilbly nie. Hy roep ten hemele. Hy wil sy klagtes uitstort voor God en kla oor sy bitter lyding en die beproewing waardeur hy moet gaan.

 

Beheersing van die tong

Die Wysheidsliteratuur plaas groot klem op beheersing van die tong (bv. Sir 11:7-9). Martin (1988:109) het reeds bevestig dat: 'The problem of an unruly or hasty tongue is one that is addressed in the earlier wisdom tradition (Prov 10:8, 11, 19; 16:27, 28; 18:7, 8; 21:25; Sir 19:16; 20:1-8).' Ook Balz en Schrage (1973:39) het vroeër reeds aangedui: 'Vor allem die Weisheitsliteratur bietet viel Material, das die "Geisel der Zunge" (Hiob 5,21) anprangert, ihre verderbenbringenden Wirkungen schildert (vgl. Sir. 18,14ff.; 22,27f. u.ä.) oder dem Heil und Leben verheifit, der Gewalt über sie hat (Spr. 18,21; Sir. 14,1 u.o.).' Die Wysheid meld, onder andere, dat die mens nie sy hart vir enigeen moet oopmaak nie (Sir 8:19) en dat die een wat nie sy mond verbypraat nie, gelukkig is (Sir 14:1). Voorts moet 'n vermetele mens byvoorbeeld nie teëgegaan word nie, sodat hy jou nie uitlok om in jou eie woorde gevang te word nie (Sir 8:11).

Die gedagte dat woorde en dade aan mekaar gekoppel is, kom duidelik voor by sowel Philo van Aleksandrië as by die skrywer van die Jakobusbrief. So vermeld Philo dat ongeregverdigde optrede (άδικος πραξίς) selfs 'n groter oortreding is (βαρύτερον αμάρτημα) as om sleg te praat. Aldus: woorde wek, maar dade trek. Hy sê voorts: '... want die woord, sê hulle, is die skadu van die daad' (λόγος γαρ εργου φασί σκιά; Philo, Mut. 243). Die spreker is uiteindelik verantwoordelik vir wat ookal uit die mond uitgaan en moet verantwoording doen voor die gereg aangesien die handeling van praat binne ons eie mag is (ώς αν δή τοΰ λέγειν έφ' ήμίν ύπάρχοντος; Philo, Mut. 243). Daarom word streng strawwe deur Moses opgelê aan diegene wat slegte oortredings (έπι τοίς μεγάλα άδικοΰσι) begaan en wat met 'haastige tonge' uiter (προπετεία δέ γλώττης έξελάλησαν) wat hulle reeds in hulle ongeregtigde gedagtes beplan het (S γνώμη μέν άγνώμονι έβουλεύσαντο; Philo, Mut. 244).

Volgens Philo is daar drie oortreders waaraan mense blootgestel word: die denke (διανοίας), spreke (λόγου) en aksie (πράξεως). Volgens die Joodse wet meen hy dat die reinigingsoffers wat hiervoor gebring moet word 'n skaap is vir reiniging van die denke, gevleuelde diere ('n paar duiwe) vir reiniging van die spreke, en fyn meel as reiniging vir die dade (Philo, Mut. 245). Hy interpreteer die voorskrif van voëls as offer vir spreke in lig van die feit dat spraak 'n ligte en gevleuelde ding is. Dit vlieg rond en tref in enige rigting - vinniger as 'n pyl uit 'n boog. Dit wat eers een keer gesê is kan nie weer herroep word nie. Dit tref die ore en weergalm hard terwyl dit deurdring tot alle vorme van gehoor (Philo, Mut. 247).

In die Philoniese fragmente oor die Vrae aan Genesis (QGII 3) word vermeld dat die mond enersyds die setel is van smaak, maar andersyds ook die setel van 'n veel belangriker instrument, naamlik dié van geartikuleerde spraak. Verwysende daar na Sokrates, word geargumenteer dat die tong op verskeie maniere in verskillende rigtings slaan en verskillende dele aanraak ten einde 'n woord te vorm - wat die tong derhalwe 'n instrument maak wat onder die direkte bestuur van die rede of denke is. 'n Soortgelyke idee kan ook gevind word in die Wysheid van Salomo wanneer die skrywer meen dat die rede (ό λόγος) 'n vonk is in die klop van ons hart σπινθήρ έν κινήσει καρδίας ήμών (Wys 2:2).

Jakobus maak dit duidelik dat almal dit moeilik vind om hulle tong in toom te hou. Hy skryf dat indien enigiemand nooit 'n fout begaan met dit wat hy (lees ook sy, GJS) sê nie, is hy of sy 'n volmaakte mens en in staat om die hele liggaam in toom te hou (εϊ τις έν λόγω ού πταίει, ούτος τέλειος άνήρ δυνατός χαλιναγωγήσαι και ολον τό σώμα; Jak 3:2). Hy vergelyk die mag van die kleine tong (ή γλώσσα μικρόν μέλος έστιν)22met verskeie voorbeelde, waarvan die eerste twee ontleen is aan tipiese antieke modusse van vervoer, naamlik te perd (ruiter) of te boot (stuurman). Hierdie beelde is geensins vreemd aan die Griekse literatuur van die tyd nie en kan veral by Philo (Philo, Leg.All. 3.223-4; Op.Mun. 83) en Plutarchus (Mor. 33) nagespeur word:23

Dis soos 'n stang in 'n perd se bek (τών ίππων τους χαλινούς είς τα στόματα; 3:3).

Dis soos die klein roer van skepe (τα πλοία ... ύπό έλαχίστου πηδαλίου; 3:4) (vgl. Philo, Op.Mun. 86; Det.Pot. 53; Leg.All.

2.104; ook 4 Makk 7:1-3).

Dis soos 'n klein vonk in 'n woud (ήλίκον πΰρ ήλίκην ΰλην άνάπτει; 3:5)24 (vgl. bv. Ps 39:24; 26:21; Sir 28:22; asook Sir 11:32 ['Met één vuurvonk word baie kole aan die brand gesteek'] en Spr 16:27 ['redevoering is soos 'n vuur']).

Ten opsigte van Jakobus se eerste beeld meen Philo dat dit belangrik is om die tong in toom te hou. Hy skryf dat die mees uitstekende en perfekte soort reiniging is om nie enige ongepaste sake in 'n mens se gedagtes toe te laat nie, maar om dit met vrede en wetsgehoorsaamheid (είρήνη και εύνομία) te reguleer, omdat die wet die heerser is van die reg (ήγεμών έστι δικαιοσύνη). Die tweede soort is om iemand nie in jou taal te beledig nie (λόγοις μή διαμαρτάνειν ψευδόμενον), of om vals te sweer nie (ψευδορκοΰντα), om te bedrieg (άπατώντα), of om drogredenasies te bedryf nie (σοφιζόμενον), of om vals inligting te verskaf nie (συκοφαντοΰντα) - of in kort: om iemand se mond en tong los te laat25 tot besering van enigiemand (συνόλως στόμα και γλώτταν έπ' όλέθρω τινών άνιέντα), want dit is beter om 'n toom (χαλινόν) en 'n onbreekbare ketting (δεσμόν άρρηκτον) op daardie dele te plaas (Philo, Mut. 240).

Veral die laaste twee beelde herinner aan metafore in die Wysheid van Salomo. In die Wysheid word dit duidelik gemaak dat trots en rykdom van nul en gener waarde is (Wys 5:8). Die skrywer daar sluit dan aan by die Platoniese denke dat dit slegs 'n skaduwee (ώς σκιά) is wat verbygaan (Wys 5:9). Hy lys verskeie voorbeelde van kortstondigheid (Wys 5:10-14), waarvan die eerste die metafoor is van 'n boot (ώς ναΰς) wat geen spoor nalaat wanneer dit oor die golwe gevaar het, of sy kiel die water deurklief het nie. In Jakobus se beeld lê die punt van vergelyking egter anders. Hier word klem gelê op die krag van die roer wat in staat is om die magtige skip in 'n bepaalde koers te stuur. Die effek is anders. Die boot het nie spoorloos verdwyn nie, maar is van koers gestuur. Die effek van die tong se krag laat sy spoor duidelik na.

Die beeld van die tong wat soos 'n vonk26of soos vuur is,27 is ook nie vreemd in die Joods-Hellenistiese literatuur nie.28 Dit is veral positief in gebruik in apokaliptiese beskrywings van die Here se voorkoms en die oordeel wat Hy uitspreek. In Jesaja word genoem dat in die Naam van die Here wat van ver af kom, sy lippe vol wraak is en sy tong 'n verterende vuur is (Jes 30:27) [nader in die MT]. In die droom van 2 Esdras 13 kom vuur uit die mond van die een wat gesien word, en wanneer hy praat verbrand alles (2 Esd 13:4). Dit lyk soos ontploffings van vuur wat hy uit sy mond stuur, asof hy van sy lippe af 'n vlammende asem uitblaas en vanuit sy tong vonke stuur (2 Esd 13:10). Jakobus gebruik γλώσσα (Jak 3:5) as sinoniem vir λόγος (Jak 3:1).

Τελειος funksioneer hier (Jak 1:4) as uitdrukking van deug - nie sondeloosheid nie (Davids 1982:137). DeSilva (2012:256) sluit aan by hierdie gedagte van die deugdelikheid van spraak in die ontleende wysheid van Jakobus: 'Proper moral formation ... requires learning the proper regulation of one's speech (Sir 19:16; 22:27; 28:12-26; Jas 3:6-12)'.

 

'Wees stil en luister'

Die Wysheidsliteratuur meen dat een wat sy tong bedwing, is wys (Spr 10:19); dat jy dadelik gereed moet wees om te luister, maar nie gou om te antwoord nie (Sir 5:11); en dat jy ingelig moet wees voordat jy praat (Sir 18:19). Die klaaglied van Psalm 39 (38 LXX):1-2 begin met die bidder se voorneme om te let op sy optrede sodat hy nie oortree met sy tong nie. Hy plaas 'n wag voor sy mond wanneer die sondaar teen hom beraadslaag. Hy swyg selfs deur nie eers iets goed te sê nie.

Philo, op sy beurt, siteer weer die frase Σιώπα και άκουε ['Wees stil en luister'] wat in LXX Deuteronomium 27:9 aan Moses en die Levitiese priesters toegeskryf word ten opsigte van Israel. In sy bespreking hiervan is Philo van mening dat hierdie oproep om stil te bly en te luister 'n bewonderenswaardige opdrag is. Nie net dien stilbly as genesing teen onkunde nie, maar dit bied ook die geleentheid om aandag te skenk aan diegene wat waardevolle inligting aan jou oordra (Philo, Her. 10). Philo verstaan die oproep ook nie net in terme van stilbly met die tonge en luister met die ore nie (ού γάρ παραινεί μόνον γλώττη σιωπαν και ώσιν άκούειν), maar om stilbly ook toe te pas ten opsigte van jou siel (άλλά και ψυχή; Philo, Her. 11). Hy verduidelik dat talle mense wanneer hulle iemand hoor, nie ten volle luister nie, maar dat hulle gedagtes wegdryf (εξω πλανώνται) en dat hulle aan duisende ander dinge dink, of dit nou oor hulle verhoudings is (τά συγγενικά), oor vreemdelinge (τά όθνεία) of oor hulleself (τά ίδια) en dat hulle op hierdie manier nie die spreker hoor nie (Philo, Her. 12).

Elders vermeld Philo nog 'n verdere rede om soms eerder te swyg. Wanneer 'n magtige regter die persoon aankla wat voor hom teregstaan is dit nodig om te swyg, omdat dit selfs moontlik is om jouself te verdedig deur stil te bly (δι' ησυχίας άπολογείσθαι). Hy meen dat dit veral van waarde is vir diegene wat onmagtig is om 'n antwoord te gee oor enige van die sake wat weens gebrek aan ondersoek of begrip aan die orde kom. Die Joodse gebruike en wette weerhou hulle tonge (των έθων και νομίμων την γλωτταν επεχόντων); dit sluit en stik hulle monde toe (τό στόμα κλειόντων και άπορραπτόντων; Philo, Legat. 360). In dieselfde verband verwys Philo na sommige geskooldes wat eerder verkies om hulle tonge te laat uitsny as dit die enigste manier is om hulle te verhinder om dinge te sê wat eerder ongesegd moes bly (Philo, Det. 175). So word daar byvoorbeeld vertel van sommige wyse manne wat tydens hulle foltering op die strekwiel eerder hulle eie tonge uitgebyt het as om geheime te verklap wat deur hulle folteraars uit hulle gewurg wou word. Op hierdie wyse, meen Philo, het hulle hulle folteraars groter marteling besorg as die foltering wat hulleself moes deurstaan (Philo, Det. 176).

Stilswye gedurende regsake herinner ook onwillekeurig aan die swye deur Jesus self tydens sy verhoor voor die Joodse Raad (vgl. Mark 14:60-62; par. Matt 26:62-64). Wanneer die Hoëpriester aan Jesus vra of hy dan geen antwoord het op die klag wat teen hom ingebring word nie, bly Jesus aanvanklik stil en praat Hy nie 'n woord nie (ό δέ έσιώπα και ούκ άπεκρίνατο ούδέν). Dis eers wanneer die Hoëpriester aan Jesus vra of Hy die Christus is, die Seun van die Gepresene (συ εί ό χριστός ό υιός του εύλογητοΰ;) dat Jesus hom antwoord: έγώ είμι.

Terug by Philo se betoog oor stilbly. In sy Joods-Hellenistiese filosofie argumenteer hy dat die blote feit dat die mens toegerus is met 'n mond en tong en organe van spraak, beteken nie dat 'n mens alles moet sê of dinge moet onthul wat eerder ongesê moet bly nie. Daar is tye waarin daar eerder stilgebly moet word. Hy reken dat diegene wat geleer het om te praat, ook geleer het om stil te bly. Hulle wat hierdie beginsel nie toepas nie, wys hulle swakheid uit om te kan swyg wanneer hulle behoort te swyg (Philo, Det. 102). Dis presies dieselfde gedagte wat ook in die Joodse wysheid na vore kom: ''n Onverstandige mens praat met minagting van 'n ander; 'n verstandige mens swyg' (Spr 11:12). Dis dus op hierdie selfde gedagte van stilswye in die Joodse wysheid en Joods-Hellenistiese filosofie, waarop Jakobus ook voortbou: 'As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos' (Jak 1:26).

 

Konklusie

Die Joodse Wysheidsliteratuur en die Joods-Hellenistiese filosofie bring verskeie aspekte van onderlinge kommunikasie deur taal duidelik na vore. Hierdie wysheidsriglyne word ondersteun deur drie literatuurgroepe: die Wysheidsliteratuur van die OT (LXX), die Joods-Hellenistiese filosofie soos verteenwoordig deur Philo van Alexandrië, en die vroeg-Christelike literatuur soos veral in die brief van Jakobus. Hierdie wysheidsriglyne is van groot waarde wanneer onderlinge vrede nagestreef wil word. Uit ons kort bespreking hierbo, sluit dit, onder andere, minstens die volgende vyf riglyne in:

Die tong mag klein wees, maar sy effek is magtig. Dit behoort uiters verantwoordelik gebruik te word. Dit besit die vermoë om sake se koers te kan verander, of selfs om alles te vernietig.

Moenie uit twee monde praat nie. Dieselfde mond kan die waarheid praat, maar ook lieg. Net soos 'n fontein nie twee soorte water kan voortbring nie, behoort gelowiges se spraak altyd 'n teken van die waarheid te wees en op te bou.

Daar is beslis 'n tyd om te praat. Veral wanneer dit nodig is om die naaste te bemoedig, maar ook om getuienis te lewer van God se openbaringswerk.

Maar daar is ook 'n tyd om liewer te swyg. Daar is beslis tye wanneer gelowiges behoort te swyg, soos wanneer hulle onder die indruk kom van die grootheid van God. Voorts moet hulle eerder stilbly as om te lieg. Philo meen dat daar onder bepaalde omstandighede eerder geswyg moet word, sodat dit nie beskou word as 'n teken van onkunde nie, sodat daar aandag geskenk kan word deur te luister (praat sonder om te luister kan dikwels lei tot misverstande en rusie, i.p.v. vrede), en sodat dit as instrument van selfverdediging in regssituasies toegepas kan word.

Die vermoë moet ontwikkel word om te onderskei. Onderskeid tussen praat en stilbly, is die vermoë om die situasie te lees. Die riglyne is: waarheid praat, lei tot liefde en vrede! Valse spreke lei onnodig tot onmin en onvrede.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Attridge, H.W., 1989, The epistle to the Hebrews: A commentary on the epistle to the Hebrews, Hermeneia, Fortress Press, Philadelphia, PA.         [ Links ]

Baker, W.R., 1995, Personal speech-ethics in the epistle of James, Mohr-Siebeck, Tubingen. (Wissenschaftliche Untersuchungen zum Neuen Testament 2[68]).         [ Links ]

Balz, H. & Schrage, W., 1973, Die 'Katholischen' briefe. Die briefe des Jakobus, Petrus, Johannes und Judas, Vandenhoeck & Ruprecht, Góttingen. (Das Neue Testament Deutsch).         [ Links ]

Bauckham, R., 1999, James. Wisdom of James - Disciple of Jesus the Sage, Routledge, London.         [ Links ]

Bauer, W., Gingrich, F.W., Arndt, W.F. & Danker, F.W., 1979, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, University of Chicago Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Bindemann, W., 1995, 'Weisheit versus Weisheit. Der Jakobusbrief als innerkirchlicher Diskurs', Zeitschrift für die Neutestamentliche Wissenschaft 86, 189-217. http://dx.doi.org/10.1515/zntw.1995.86.3-4.189        [ Links ]

Bruce, F.F., 1985, The epistle to the Hebrews: The English text with introduction, exposition and notes, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI. (New International Commentary of the New Testament).         [ Links ]

Carson, D.A., 2007, 'James', in G.K. Beale & D.A. Carson (eds.), Commentary on the New Testament use of the Old Testament, pp. 997-1013, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Cheung, L.L., 2003, The genre, composition and hermeneutics of the epistle of James, Paternoster Press, Milton Keynes.         [ Links ]

Davids, P.H., 1982, The epistle of James: A commentary on the Greek Text, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI. (New International Greek Testament Commentary).         [ Links ]

DeSilva, D.A., 2004, 'The epistle of James. Promoting consistency of belief and behavior', An introduction to the New Testament: Contexts, methods & ministry formation, pp. 814-840, InterVarsity Press, Downers Grove, IL. http://dx.doi.org/10.1093/acprof:oso/9780195329001.001.0001        [ Links ]

DeSilva, D.A., 2012, The Jewish teachers of Jesus, James, and Jude, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Dibelius, M. & Greeven, H., 1975, James, Fortress Press, Philadelphia, PA. (Hermeneia).         [ Links ]

Edgar, D.H., 2001, 'Has God not chosen the poor? The social setting of the epistle of James', Journal for the Study of the New Testament Supplements 206, 179.         [ Links ]

Geyser, A.S., 1980, 'The letter of James and the social condition of his addressees', Neotestamentica 9, 25-33.         [ Links ]

Hagner, D.A., 2012, 'James', in The New Testament: A historical and theological introduction, pp. 671-687, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Hartin, P.J., 1991, 'James and the Q sayings of Jesus', Journal for the Study of the New Testament Supplements 47, 98.         [ Links ]

Hartin, P.J., 1999, A spirituality of perfection. Faith in action in the Letter of James, Liturgical Press, Collegeville.         [ Links ]

Hartin, P.J., 2003, James, Liturgical Press, Collegeville, PA.         [ Links ]

Jarrett, C.E., 1988, 'Philosophy of language in the service of religious studies', Semeia 43, 143-159.         [ Links ]

Jobes, K.H., 2011, Letters to the Church. A survey of Hebrews and the general epistles, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Kistemaker, S.J., 1986, 'The theological message of James', Journal of the Evangelical Theological Society 29(1), 55-61.         [ Links ]

Kotzé, P.P.A., 1991, 'Jakobus roep die kerk van sy dag op tot verwesenliking van die evangelie', in J.H. Roberts, W.S. Vorster, J.N. Vorster & J.G. Van der Watt (reds.), Teologie in Konteks, bl. 468-493, Orion, Halfway House.         [ Links ]

Lamparter, H., 1972, DieApokryphen I. Das Buch JesusSirach, Calwer Verlag, Stuttgart.         [ Links ]

Lockett, D., 2012, An introduction to the Catholic epistles, T&T Clark, London.         [ Links ]

Martin, R.A., 1982, James, Augsburg Publishing House, Minneapolis, MN. (Augsburg commentary on the New Testament).         [ Links ]

Martin, R.P., 1988, James, Word Books, Wacom TX. (Word Biblical Commentary 48).         [ Links ]

Metzner, R., 2013, 'Der Lehrer Jakobus. Überlegungen zur Verfasserfrage des Jakobusbriefes', Zeitschrift für die Neutestamentliche Wissenschaft 104, 238-267. http://dx.doi.org/10.1515/znw-2013-0013        [ Links ]

Mohrlang, R., 2005, 'Matthew and Paul: A comparison of ethical perspectives', Society for New Testament Studies Monograph Series 48, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Mußner, F., 1975, Der Jakobusbrief, Herder, Freiburg.         [ Links ]

Nolte, S.P. & Wolmarans, J.L.P., 1993, 'The tongue as a fire', Acta Patristica et Byzantina 4, 80-84.         [ Links ]

Smelik, E.L., 1963, De Brief van Jakobus. De stiefapostel, G.F. Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Thiselton, A.C., 1979, 'The "interpretation" of tongues: A new suggestion in the light of Greek usage in Philo and Josephus', The Journal of Theological Studies 30(1), 15-36. http://dx.doi.org/10.1093/jts/XXX.L15        [ Links ]

Van der Horst, P.W., 1978, The sentences of Pseudo-Phocylides, in Brill, Leiden. (Studia in Veteris Testamenti Pseudepigrapha 4).         [ Links ]

Wall, R.W., 1997, Community of the wise. The letter of James, Trinity Press International, Valley Forge, PA. (The New Testament in context).         [ Links ]

Westcott, B.F., 1974, The epistle to the Hebrews, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Gert Steyn
Private Bag X20
Hatfield 0028, Pretoria, South Africa
Email: gert.steyn@up.ac.za

Received: 07 May 2015
Accepted: 23 June 2015
Published: 30 Sept. 2015

 

 

1 So het die briefie in Handelinge 15:23-29 byvoorbeeld ten doel om rustigheid te bewerkstellig onder die nie-Joodse Christene van Antiochië, Sirië en Silesië oor die plek van die besnydenis.
2 Volgens MuBner (1975:167) is die beeld ontneem aan die gifslang, met verwysing na, onder andere, Psalm 139:4 en 1QH 5,26.
3 Vergelyk ook Mohrlang (2005). Jobes (2011:193) meen dat daar heelwat sinspelings is op Jesus se lering in die Matteusevangelie wat in die Jakobusbrief gevind kan word. So identifiseer sy, onder andere, Jakobus 3:6 as sinspeling op Matteus 5:22, en Jakobus 3:10-12 as sinspeling op Matteus 7:15-20. Dis egter debatteerbaar en die vraag is of hier nie eerder na gemeenskaplike bronnemateriaal - soos die Wysheidsliteratuur, en spesifiek Sirag - gesoek moet word nie. Myns insiens het Bauckham (1999:88-91) duidelik aangetoon dat hierdie gedeelte in Matteus duidelike verbintenisse het met (nie-Joods) Hellenistiese literatuur.
4 Vergelyk Jarrett (1988:157): '[D]velopments in linguistics and philosophy of language may of course prove useful to those concerned with religious texts and utterances.'
5 Sien Bauckham (1999) wat die Jakobusbrief vanuit Wysheidsperspektief bespreek. Hartin (1999:42) bevestig:
Ά study of the structures through which James gives expression to his teaching shows that the letter adheres to many forms that are characteristic of Hebrew Wisdom literature.' Kotzé (1991:478) dui tereg aan: 'Wysheid word genoem in 1:2-7, na verwys in 1:12-18 en emfaties benadruk in 3:13-18.' Davids (1982:55) dui op sy beurt op die ooreenkomste tussen 1QS4, Matteus 5 en Jakobus 3 (veral met verwysing na 3:17) waar lyste van gemeenskapsdeugde voorkom. Hiervolgens is hy van mening dat die funksies van die Wysheid die volgende gevolge het: (1) dit produseer die deugde van die Christelike lewe, (2) hierdeur word toetse deurstaan en 'n perfekte lewenswyse gekweek, en (3) dit kontrasteer met επιθυμία as goeie gawe van God wat na die lewe lei.
6 Vergelyk Kistemaker (1986:55): The epistle of James appears to be a collection of sayings and thoughts loosely put together! Dibelius en Greeven (1975:181) het dit reeds voorheen bevestig.
7 Die onderskeiding tussen 'n 'woord van wysheid', ''n woord van kennis', 'profesie' en 'lering' soos deur Paulus vermeld in 1 Korintiërs 12:8-10 is nie altyd duidelik nie (Thiselton 1979:35) - 'n tendens wat ook opval by Philo en Jakobus.
8 Wysheid funksioneer by Jakobus soos die Gees funksioneer by Paulus (Davids 1982:52). Hagner (2012:676-677) bied 'n uitstekende uiteensetting aan van die temas uit die Joodse wysheid wat in die Jakobusbrief aangetref word. Veral Jakobus 1:26 en 3:3-12 het in hierdie geval betrekking waar dit handel oor die uitdaging aangaande die beteueling van die tong. Hagner verwys ook na die studie van Baker (1995) oor taal-etiek in die Jakobusbrief. Ook DeSilva (2004:821) bied 'n skema aan waarin die ooreenkomste tussen Jakobus en die Joodse Wysheidstradisie met mekaar vergelyk word.
9 So ook Bauckham (1999:74-108) en DeSilva (2012:49). Elders argumenteer DeSilva (2004:828): 'Like Proverbs and Ben Sira, James gives considerable space to the topic of controlling our speech. The topic is announced in 1:19, 26, and is seen to be of sufficient importance that the lack of control of our tongue renders our religion "empty"!
10 Hierdie aspekte kom kortliks aan die orde in die bespreking hieronder.
11 Vergelyk ook Sirag 23:7; 28:12 - veral met Jakobus 3:9-12 - en Sirag 18:16.
12 Wysheid in die Ou Testament is enersyds nou verbonde aan praktiese handelinge en andersyds aan God self (Davids 1982:52).
13 In sy bespreking van Jakobus 1:5 verwys Geyser (1980:29) na die feit dat Wysheid, volgens die Joodse tradisie, slegs verkrygbaar is van God en daarom 'n objek van gebed is.
14 Sien onder andere die kommentare van Hartin (2003:172-190) en Dibelius en Greeven (1975:181-206) vir 'n deeglike en verantwoordelike uitleg van die perikoop.
15 Cf. Bauer et al. (1979:822). Dis verder interessant om daarop te let dat die selfstandige naamwoord
τομός ook gewoon 'boekrol' of 'volume' beteken (soos dit in die LXX in Jes 8:1 en 1 Ezra 6:22 gebruik word).
16 Verdere verwysings by Attridge (1989:134), Van der Horst (1978:98, 199) en Westcott (1974:102).
17 In soortgelyke gevegstaal berig Sir 8:16: 'Moenie die stryd aanknoop met 'n humeurige mens nie
18 Jakobus 3:1-12 behoort verstaan te word in die lig van Jakobus 3:13-18: suiwer spreke vloei voort uit die Wysheid.
19 DeSilva (2004:828) dui aan dat Jakobus se voorbeelde in Jakobus 3:10-12 herinner aan soortgelyke woorde van Ben Sirag aangaande die ironie van teenoorgestelde gevolge wat voortvloei uit dieselfde mond. Hy verwys veral na Sirag 28:12 asook na die Jesus-tradisie (Matt 7:16-17).
20 MuBner (1975:166) huldig 'n soortgelyke mening en verstaan dit as sinspeling op Genesis 1:26 en 9:2, terwyl Edgar (2001:179) weer op sy beurt Jakobus 3:7-8a sien as sinspeling op Genesis 1:26-28.
21 In Kotzé se struktuuranalise van Jakobus, verdeel hy die perikoop van Jakobus 3:1-12 soos volg: 'A (1-2): Die man wat sy tong kan beteuel, is volmaak. B (3-6) Die tong oefen - magtige, verwoestende invloed uit; C (7-10a) en is ontembaar en tweeslagtig. D (10b-12) Die gelowige se spreke moet integriteit vertoon soos -boom wat vrugte dra na sy soort.'
22 Tereg sê MuBner (1975:160): 'Wer das Kleine beherrscht (wie der
τέλειος άνήρ), beherrscht auch das Grofie!.'
23 Aldus Dibelius en Greeven (1975:189): 'Hence, in both authors a pessimistic twist to the metaphor which is used by Jas for the same purpose in vv. 5, 6. Therefore, he seems to be dependent upon tradition here also, and consequently it seems that all of the metaphors which have been mentioned are ones which Jas has borrowed.'
24 Smelik (1963:65) en andere het reeds aangetoon dat die eerste twee beelde die positiewe beherende mag van die tong uitdruk, terwyl die laaste beeld dien om beide moontlikhede daar te stel: naas die gewenste ontsteking van die hout deur die vonk omvat die beeld ook die onbeheersdheid van krag wat eenmaal in werking gestel is en die katastrofiese gevolge daarvan. Ook R.A. Martin (1982:37) bevestig die positiewe mag van die tong in die eerste twee beelde.
25 Die Wysheid van Sirag berig: 'Gevrees in sy stad is die loslippige mens, en wie ook al voortvarend is in wat hy sê, hy word gehaat' (Wys 9:18).
26 Die beeld van vonke in droë strooi kom onder andere voor in die Wysheid van Salomo (3:7) en Jesaja (5:24). In Wys 2:2 en 3:7 word die term
σπινθήρ gebruik.
27 In die woorde van MuBner (1975:165): 'Es gibt niemand und nichts, vor dem die verleumderische Zunge haltmachen würde; alles vermag sie in Brand zu stecken.'
28 Nolte en Wolmarans (1993:82) is van soortgelyke mening: 'It seems that James took traditional material and reinterprets it.' Hulle konkludeer dat Jakobus se gebruik van hierdie metafoor van die tong as 'n vuur die gevolge van die bose gebruik van die tong grafies kommunikeer (Nolte & Wolmarans 1993:83). Hartin (2003:176) bied verskeie verwysings: 'There are many biblical references to the tongue as a fire/flame: Pss 39:1-3 (38:2-4 LXX); 120:2-4 (119:2-4 LXX); Prov 16:27 LXX; 26:21; Isa 30:27; Sir 28:13-26'

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License