SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.71 número1Peace in the Book of EzekielMessianic peacemakers: Intertextual relationships between Zechariah 9-14 and the Gospel of Matthew índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


HTS Theological Studies

versão On-line ISSN 2072-8050
versão impressa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.71 no.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4102/HTS.V71I1.2991 

ORIGINAL RESEARCH

 

Swaarde wat in ploegskare verander, is nie vrede nie - Vrede (שָׁלֹום) in Jesaja 40-66

 

Swords turning into ploughshares is not peace - Peace (שָׁלֹום) in Isaiah 4044

 

 

Chris van der Walt

Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

'Swords being turned into ploughshares' are often portrayed as being tantamount to peace. Peace though has got a more extensive meaning than only the absence of war. Whilst war and destruction is on the forefront in Isaiah 1-39, the opposite is true in Isaiah 40-66. The intention of this article is therefore to demonstrate the extensive meaning of peace (שָׁלֹום) as it unfolds as a motive in Isaiah 40-66. Because of a lack of space, only the first three passages directly mentioning שָׁלֹום [peace] will be discussed. Even though this discussion will be incomplete, it will reveal that peace is not part of man's normal state, that not everyone will experience peace and that there is a direct link between peace and the rule of God.


 

 

Inleiding

Agtergrond

Een van die bekendste uitdrukkings wat met vrede geassosieer word, is: 'Swords into ploughshares' wat onder andere visueel uitgedruk word in 'n bekende beeldhouwerk van Evgeniy Vuchetich en in die Verenigde Nasies se kunsversameling opgeneem is. Hierdie beeld figureer ook duidelik in die ontwapeningsprogram van die Verenigde Nasies. Die gedagte is verder ook so goed gevestig dat dit dikwels deur verskillende sosiale en politieke groeperinge in hulle retoriek gebruik word. Name van vredesorganisasies wat bloot heet: 'Swords into ploughshares' dra daarom 'n perseptueel gevestigde boodskap oor. In hierdie artikel word egter aangedui dat dit 'n onvolledige boodskap is omdat vrede meer inhou as die afwesigheid van oorlog.

Dit is egter nie net in die sosiale en politieke domein waar vrede met 'swaarde wat ploegskare word' geassosieer word nie. In Bybel-wetenskaplike bronne word dieselfde idee aangetref. 'n Colloquium wat in 2005 oor Jesaja 2:1-5 gehou is, se neerslag is byvoorbeeld neergepen in die boek Isaiah's vision of peace in Biblical and modern international relations (Cohen & Westbrook 2008). Aansluitend hierby lewer Brueggemann (1998a:25) die volgende kommentaar op Jesaja 2:1-4: 'The nations will learn peace and will practice it' en verder sê hy ook nog:

In Jerusalem moreover, is the torah of Yahweh that will make available to the nations Israel's Yahweh-given secret for peace. That is, the torah is the clue for peace in the world. (p. 25)

Ter bevestiging hiervan het daar in 2013 'n artikel verskyn genaamd: 'An exegetical analysis of the vision of peace in the Book of Isaiah (2:1-5)' (Groenewald 2013). In al genoemde gevalle word daar dus van die veronderstelling uitgegaan dat Jesaja 2:1-4 'n direkte openbaring oor vrede bevat. Die term vrede (שָׁלֹום) kom egter nie in hierdie perikoop voor nie maar word eers 'n paar hoofstukke later (9:6) direk genoem en nog later in uitkringende dimensies uitgewerk.

Sover dit die uitwerk in meer dimensies betref, is daar volgens Beuken (2003:94) in die openbaring wat Jesaja in 2:1-5 ontvang, 'n vooruitskouing na Jahwe se inisiatief in Deutero-Jesaja. Brueggemann (1998a:24) sluit direk hierby aan met sy standpunt dat Jesaja ná die oordeel van hoofstuk 1-39 nuwe moontlikhede vir Jerusalem in 40-66 in die vooruitsig stel. Dit gebeur omdat die profeet verby die komende verwoesting en onvrede kyk na God se langtermyndoelwit en deel van daardie doelwit is werklike vrede.

Dit is opvallend hoe min literatuur oor die tema van vrede in Jesaja bestaan en dat daar selfs min in kommentare daaroor gesê word. Die doel van hierdie artikel is daarom om lig te werp op die betekenis van 'vrede' in Jesaja. As gevolg van ruimtebeperking sal slegs die eerste drie verse waarin direk van vrede gepraat word, ondersoek word. In die eerste hiervan kom die oorsprong van vrede na vore, in die tweede waar vrede nié gevind sal word nie, en in die derde gedeelte word die verband tussen vrede en regering gestel.

Werkswyse

Aangesien daar baie verskillende wetenskaplike vertrekpunte is waarmee die boek Jesaja benader word,1 word as vertrekpunt vir hierdie artikel geneem dat die boek Jesaja (1-66), soos in die Masoretiese teks opgeneem, 'n kanoniese en teologiese eenheid is. Dit sal primêr sinchronies gelees word2 om vrede as teologiese tema beter te verstaan. Om die ontvouing van die motief van vrede (שָׁלֹום) suksesvol te bespreek is dit eerstens nodig om betekenismoontlikhede van שָׁלֹום in die Ou Testament na te gaan. Daarna sal met 'n tematiese lees, teksverse in Jesaja 40-663 waarin שָׁלֹום voorkom, geïdentifiseer en eksegeties ontleed word.4 Alhoewel slegs drie gedeeltes bestudeer sal word sal dit egter reeds aantoon dat die begrip 'vrede' meer inhou as die huidige beperkte denke daaroor.

Betekenismoontlikhede van שָׁלֹום

Dit is nie moontlik om 'n eenvoudige betekenis vir שָׁלֹום te gee nie en verskeie situasies in die Ou Testament word as vrede getipeer. Hierdie situasies wissel van die afwesigheid van oorlog en wanorde tot die aanwesigheid van materiële voorspoed en stilte. Daar is egter geeneen van bogenoemde situasies waar God nié teenwoordig is nie (Gregory 2009:747).

Aansluitend hierby stel Carlson (1997:1634) dit ook dat vrede die betekenis het van totale welstand en sekuriteit wat geassosieer word met die teenwoordigheid van God by sy volk. Hierdie toestand word in die Ou Testament verbind met die verbond en daarom word vrede ook gesien as God se geskenk aan Israel. Vrede was egter afhanklik van Israel se gehoorsaamheid aan die verbond.

In die profetiese boeke is vrede ook deel van die eskatologiese bestel waar redding vooropstaan. שָׁלֹום, wat die mees prominente term is wat met 'vrede' vertaal word, het verder 'n wye reeks konnotasies naamlik heelheid, gesondheid, sekuriteit, welstand en redding. Dit is ook van toepassing op 'n wye reeks kontekste:

  • die welstand van 'n individu (Ps 37:37; Jes 32:17)

  • interpersoonlike verhoudings (Jos 9:15)

  • verskillende partye tussen wie daar nié konflik is nie (Deut 2:26; 1 Kon 5:12)

  • die verhouding tussen God en mens (Ps 85:8; Jer 16:5).

Gerleman (1997:1340) gaan nader hierop in deur te wys dat Israel se ongehoorsaamheid en ongeregtigheid die verbond, en daarmee saam ook die vrede wat daar tussen hulle en God was, verbreek het. Die vals profete, wat nie rekening met die bepalings van die verbond gehou het nie, het egter bloot aanvaar dat God dit sou laat goed gaan met sy volk ongeag hulle optrede en dat hulle altyd politieke vrede sou geniet (Ps 89). Jeremia het ernstig teen hierdie wanopvatting gewaarsku (14:13-16) en gelykluidend met Jesaja die komende oordeel in die Babiloniese ballingskap aangekondig (Jer 21:7; Jes 39:5, 6).

Soos aangedui, kan שָׁלֹום verskillende betekenismoontlikhede hê. Stendebach (1977-2006:23) baken dit egter af tot twee semantiese reikwydtes, naamlik (a) 'vrede en vriendelikheid' wat die teenpool is van oorlog en vyandigheid (dus polities gefokus) en (b) 'welstand, sukses en goeie geluk' (dus klem op materiële goed).

Die betekenis van שָׁלֹום is dus nie voor die hand liggend nie. In hierdie verband sê Gerleman (1997):

Seldom do we find in the OT a word which to the same degree as šālôm can bear a common use and yet can also be filled with a concentrated religious content far above the level of the average conception. (p. 1340)

Uit bogenoemde kan die volgende afleidings gemaak word: Die betekenis van שָׁלֹום is divers, maar kan breedweg getipeer word as 'n verhoudingswoord wat betrekking het op die politieke en materiële sfere waar gunstige omstandighede teenwoordig is. In die Ou Testament het שָׁלֹום altyd 'n duidelik godsdienstige ondertoon.

 

Spanning tussen 'vrede' en 'geen vrede' in Jesaja

Na die openingswoorde van die boek Jesaja5 word byna die hele Hoofstuk 1 daaraan gewy om die oortredings van die volk te skets en die daaropvolgende oordeel profeties aan te kondig. Daar is egter te midde van die sterk oordeelsaankondiging reeds belofte van 'n ander werklikheid wat in die vooruitsig gestel word en dit is dat Sion weer 'stad van geregtigheid' genoem sal word (1:26, 27).

In teenstelling met die hoofsaaklik veroordelende aanslag van die eerste hoofstuk stel die boodskap van 2:1-6 'n gebrek aan oorlog in die vooruitsig en bevat dit die bekende 'swaarde na ploegskare' profetiese uitspraak. Vanaf 2:6 word egter weer voortgegaan met die tema van veroordeling en dit loop selfs deur tot in Jesaja 39. Veroordeling en vernietiging deur oorlog is egter nie 'n tema wat deurloop tot in Jesaja 66 nie. Oorlog word net tot in Jesaja 42:25 genoem en daarna nie weer nie. Vanaf Jesaja 45:7 kom vrede (שָׁלֹום) aan die orde en daar word twaalf maal in 40-66 in uiteenlopende verbande daarvan gepraat. Oorlog verskuif dus in Jesaja 40-66 na die agtergrond ter wille van vrede wat op die voorgrond kom staan. Vrede sal egter nie universeel deur alle mense geniet word nie.

In die onderstaande lys van verse waarin vrede (שָׁלֹום) voorkom word die spanning tussen 'vrede' en 'geen vrede' in Jesaja 40-66 aangedui:

1. 45:7 - Jahwe bewerk vrede.

2. 48:22 - Geen vrede vir die goddelose.

3. 52:7 - Vrede aangekondig.

4. 53:5 - Die vrede wat aangekondig is, word deur iemand bewerk.

5. 54:13 - Kinders word deur die Here geleer en daar is vrede.

6. 55:12 - Daar word met vrede getrek en met vrede leiding gegee.

7. 57:2 - Daar is durende vrede.

8. 57:19 - Die Here gee oral vrede.

9. 57:21 - Geen vrede nie.

10. 59:8 - Geen vrede nie.

11. 60:17 - God gee vrede bo alles.

12. 66:12 - God gee vrede.

 

Jesaja 45:7

'Ek maak die lig en skep die donker; Ek maak vrede (שָׁלֹום) en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge.'

Die eerste vers onder bespreking is deel van die koningsprofesie in 45:1-8. Op sy beurt vorm dit deel van die groter eenheid van Jesaja 44:24-45:25 wat handel oor Jahwe se triomf wat deur Kores sal geskied (Berges 2008:370).

Die kern waaroor dit in 45:1-8 gaan is die aankondiging van Jahwe dat Hy Kores van die Perse as sy gesalfde roep om die Babiloniese mag te breek ter wille van Israel se vrylating uit ballingskap. Waar daar in die voorafgaande gedeeltes gefokus is op die dispuut tussen Jahwe en sy volk asook tussen die gode van die ander volke en Jahwe, verskuif die profeet nou sy fokus na verlossing in die geskiedenis van die wêreld. Eers word die funksie wat Kores6 daarin sal vervul gestel, maar dan verdwyn hy van die toneel ter wille van die lydende Dienaar. In alles word die tema van God se skeppende mag kragtig vanaf 40:14-44:23 na 45:1-8 oorgedra (Childs 2001:348).

Struktureel pas Jesaja 45 dus in die kader van die nuwe begin wat God deur Jesaja vir die volk in ballingskap eers aankondig en later bewerk. Die ballingskap was die gevolg van God se geregtigheidseis dat oortreding van die verbondsbepalings gestraf moet word.7 Jahwe se verhouding met sy volk is egter nie deur die ballingskap vernietig nie, aangesien Hy getrou bly aan sy verbond en 'n nuwe begin maak. Die eerste deel van daardie begin is om Homself opnuut bekend te maak sodat Jesaja se hoorders, wat nog in ballingskap verkeer, Hom sal vertrou (Van der Walt 2014).

Wat God van Homself bekendmaak, is dat Hy die onvergelyklike en soewereine God is wat sy skeppingsarbeid voortsit. Omdat Hy nie bloot 'n streeksgod is nie kon Hy nie net die volk in ballingskap na Babel laat gaan - wat volgens opvatting in die Ou Nabye Ooste nie deel van sy magsgebied was nie - maar ook hulle terugkeer daaruit bewerk. Hy wat hulle in die vernietiging van ballingskap oorgegee het, is daarom ook die een wat weer die situasie tot omkeer kan bring (Firth & Williamson 2009:172).

Wat belangrik is in hierdie eerste vermelding van vrede in Jesaja 40-66 en waarop Berges (2008:403) tereg klem plaas, is dat die vrede wat bewerk word deel van Jahwe se voortgesette skeppingsarbeid is. Vrede is immers nie deel van die normale wêreldorde nie, en daarom vereis dit 'n nuutskepping.

Om die nuutskeppende aksies van Jahwe te beklemtoon word daar 'n verskeidenheid woorde gebruik vanuit die semantiese veld waar 'skepping' as 'n aksie van God uitgedruk word. Die woorde is ה ׂ שעָ ,ָברָָּא, en יצַָר(Van Leeuwen 1998:735).

In die eerste plek word gesê dat Jahwe lig vorm. Hiervoor word יוֹצֵר gebruik wat volgens Swanson (1997:3670) normaalweg gebruik word vir die werk wat 'n vakman doen wanneer hy iets voortbring. Om die skeppende vermoë van God te beklemtoon word die stam יצר vyf maal in Hoofstuk 45 gebruik (7, 9, 11, en 2 maal in 18). Verder word יצר ook satiries teenoor die afgode in 44:9-20 gebruik. Daar word die ambagsman יוֹצֵר genoem wat probeer om 'n god te maak (יצַָר).Die absurditeit van die poging word egter in 44:12-17 in 'n spotlied uitgelig.

Die volgende woord, wat twee maal gebruik word, is וּבוֹרֵא.8 Goldingay and Payne (2007:27) stel dit egter dat hierdie twee partisipiums nie digterlik geïnterpreteer moet word nie. Die herhaling moet eerder gesien word as 'n bydrae tot die teologiese argument dat Jahwe alles skep. Hulle wys tereg ook daarop dat die teologiese argument hier nie te ver gevoer moet word sodat dit dogmaties gelees word nie.9

Deur ברָָּא te gebruik, word by die boodskap van God se skeppende werk soos dit in Genesis 1:1-2:3 verhaal word, aangesluit. Deur te sê dat God skep, word aangedui dat Hy die kosmiese gebeure sowel as die menslike geskiedenis in aansyn roep en dat Hy steeds daarby betrokke is (Van Leeuwen 1998:730). Wat hier spesifiek aan die skeppingswerk van God toegeskryf word, is donker (חשֹךְֶׁ) wat op die gebied van die natuur lê en antiteties teenoor lig (אוֹר) staan. God skep ook rampspoed (ערָ) wat op die gebied van die menslike geskiedenis val en dit staan antiteties teenoor שָׁלוֹם. Waarop die fokus hier val is inklusiwiteit om die boodskap aan die ballinge oor te dra dat hulle Jahwe kan vertrou om werklik tot stand te bring wat Hy deur die profeet aankondig.

Die volgende gedagte in verband met God se skeppingswerk is dat gesê word Jahwe עשֹהֶ שָׁלוֹם. Die literatuur is dit eens dat עשָָהׂ die mees algemene woord is wat vir God se skeppende aksie gebruik word. Daar is egter verskillende standpunte oor wat met שָׁלוֹם bedoel word. Goldingay and Payne (2007:27) sien dit as vrede wat volgens die geskape werklikheid tussen God se skepsele moet bestaan. Paul (2012:257) kies vir 'n meervoudige betekenis van vrede, voorspoed en seën. Indien die konteks in ag geneem word blyk Paul se standpunt voor die hand liggend te wees.

Daar sou in hierdie verband selfs sover gegaan kan word as om te sê dat al die moontlikhede wat aan die begin van die artikel as kontekstuele moontlikhede vir שָׁלוֹם aangedui is, hier van toepassing kan wees naamlik:

1. Dat Jahwe op interpersoonlike verhoudingsvlak 'n nuwe begin skep deur die profeet se verkondiging aan die ballinge. Hy doen dit deurdat Jesaja opnuut aan die ballinge verkondig wie Jahwe is en waartoe Hy in staat is op persoonlike en kosmiese vlak.

2. Dat שָׁלוֹם die welstand van 'n individu inhou aangesien Jahwe deur Kores 'n nuutskepping op politieke terrein daar sal stel wat vir die hoorders van Jesaja politieke rus kan inhou.

3. Dat konflik ná Kores se optrede waarvoor God hom geroep het, nie weer sal wees soos voor die ballingskap nie.

Interim waarneming: Vrede hou in dat die verhouding tussen God en sy volk herstel moet word. Ter wille hiervan kondig Jesaja God se werk aan wat Hy deur Kores gaan laat geskied. Die profeet spreek die ballinge aan sodat hulle insig sal ontvang om die uitvoering van God se nuutskeppingswerk reg te verstaan en Hom sal vertrou. Tweedens word die universele nuutskeppingswerk van Jahwe bekendgemaak en daardeur eis Hy al die aandag vir Homself en sy skeppende vermoë op. Dit sou 'n aanvang neem deur die vernietiging van die Babiloniese ryk deur Kores as God se gesalfde.

Uit bostaande is dit gevolglik duidelik dat daar op 'n ander manier oor vrede gedink moet word as wat in die aanvangsparagraaf gemeld is. Indien die aanhef van die Verenigde Nasies (VN) se manifes gelees word, is dit ook duidelik dat Jesaja 45:7 'n ander vertrekpunt vereis as wat in Artikel 1 van die Verenigde Nasies se manifes (United Nations n.d.) gestel word en soos volg lees:

The Purposes of the United Nations are:

1. To maintain international peace and security, and to that end: to take effective collective measures for the prevention and removal of threats to the peace, and for the suppression of acts of aggression or other breaches of the peace, and to bring about by peaceful means, and in conformity with the principles of justice and international law, adjustment or settlement of international disputes or situations which might lead to a breach of the peace. (n.p.)

Uit bostaande word dit dus duidelik dat vrede gesien word as die normale toestand wat daar tussen mense bestaan. Wanneer daar van die veronderstelde toestand van vrede afgewyk word, moet daar dan deur middel van eksterne ingryping gepoog word om vrede te herstel terwyl die denke wat onvrede veroorsaak het, onaangeraak gelaat word.10 Die bespreking van Jesaja 48:7 het dit egter duidelik gemaak dat vrede nie as gegewe vertrekpunt gesien kan word nie, maar wel die afwesigheid daarvan. Die bewerking van vrede kan ook nie deur eksterne middele bewerk word nie maar slegs deur 'n verandering van denke.

Vrede word tweedens ook nie deur mense geleer en beoefen soos wat Brueggemann aangedui het nie en dit word ook nie deur die Torah aangebied nie, maar deur God geskep.

 

Jesaja 48:22

'Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here.'

Die twee hoofstukke wat na Jesaja 45 volg, reflekteer verskillende literêre vorme wat onder andere spotliedere (46:1-4; 47:1-15) en 'n reddingsprofesie (46:9-13) insluit. Die funksie van hierdie gedeeltes is enersyds om getuienis te lewer oor die vernedering van Babel en haar gode, en andersyds om die redding aan te kondig wat Jahwe bring. Die oorkoepelende tema van Jesaja 48:1-19 word deur Sweeney (2005:76) gestel as 'n herhaling van vroeëre bewyse van Jahwe se kennis en almag om daarmee opnuut kennis oor te dra dat die tyd van Jakob se redding nou aangebreek het. Daar moet ook geen twyfel daaraan wees nie dat dit Jahwe is wat dit sal laat gebeur.

Die struktuur van Jesaja 48 self is ingewikkeld en word op uiteenlopende wyse ingedeel. Berges (2010:510) deel byvoorbeeld die gedig op grond van literêre oorweging in twee gelyke dele op (1-11 & 12-22), met vier strofes in elk. Childs (2001:372) sien egter die hele hoofstuk as 'n homiletiese eenheid wat rondom die gebruik van שׁמע gestruktureer is nadat dit in vers 1 met 'n imperatiewe שִמְׁעוּ [luister!] ingelei is. Die funksie hiervan is 'n oproep aan die ballinge in Babel om hulle los te maak van hulle wantroue in die plan wat God aangekondig het om hulle deur Kores (48:14) te bevry. Binne die groter konteks van Jesaja 40-55, wat handel oor instruksie aan Israel in ballingskap, is Childs se standpunt dus die mees aangewese.

Soos hierbo aangedui, volg Jesaja 48:20-22 op die Here se reddingsaankondiging aan die huis van Jakob in die Babiloniese ballingskap. Die hoorders moet ag slaan daarop dat God eers die ballingskap aangekondig het en dit ook laat gebeur het. Nou kondig Hy redding aan en ook dit sal Hy laat gebeur. Almal was egter nie ewe geneë om dit te aanvaar nie (48:4). Die spanning wat daar tussen God en sy volk bestaan het en reeds in Jesaja 1 en 2 na vore gekom het, is dus steeds teenwoordig.

Om hierdie spanning aan te spreek, tree die profeet as God se mondstuk op en vervul hy die primêre funksie wat profete in die Ou Testament gehad het en dit is om perspektief binne 'n bepaalde situasie te gee (De Jong 2007:462). Die wyse waarop die profeet dit in hoofstuk 48 doen is om heen en weer tussen God se aksies en die aksies van die nageslag van Jakob te beweeg. Hy skets wat God gedoen het en nog gaan doen aan die een kant, en aan die ander kant wat Israel nagelaat het om te doen, maar ook veronderstel is om nog te doen. Sodoende kry hoofstuk 48:1-19 'n samevattende karakter van wat reeds in Jesaja 40-47 gesê is (Watts 2005:178).

Aangesien Jesaja 48 nog die aankondiging van redding uit Babel bevat en nie die fisiese gebeure verhaal nie, moet hierdie profetiese lied nog as eskatologies gesien word, maar dan ook in samehang met 48:20 waar daar by wyse van 'n perfektum, emfaties gesê word 'Jahwe hét (גָּאַל) sy dienaar Jakob verlos.' Vir Jahwe en die profeet staan dit dus vas.

Teen voorafgaande gesien, is die weg dus nou voorberei vir die oordeelsprofesie in vers 48:2211 omdat God se komende redding en sy gewilligheid om bekeerlinge te vergewe deeglik bekendgemaak is (Sweeney 2005:81). Die redding is egter nie inklusief vir almal in Babel nie en God sê (אָמַר - perf.) met beslissing: 'Géén vrede sê God vir die goddelose.'

Hulle wat van die vrede uitgesluit sal wees, is die רְשׁעָיִם of goddeloses. Wanneer רָשעַׁ gebruik word, sluit dit altyd bose intensie en onreg teenoor God en mense in, en daarom is dit van betekenis dat רָשעַׁ die mees toepaslike antoniem is wat in die Ou Testament vir צדַָק gebruik word (Carpenter & Grisanti 1998:1203). Die goddelose is die vyand van God en om God se vyand te wees, het altyd konsekwensies. Hierdie konsekwensies word altyd deur Jahwe geïnisieer en lei tot vervloeking wat die afwesigheid van vrede beteken (Van Leeuwen 1997:1261).

Prakties gesien is die goddelose in hierdie verband hulle wat nie bereid is om die lewe in Babel te verlaat ter wille van God se sorg nie. Hulle het hulleself dus van die beloftes van God vervreem en beskou vertroue op Hom as 'n risiko. In teenstelling met vertroue op God word daar gekies vir verbondenheid aan en versorging deur die Babiloniese ryk (Brueggemann 1998b:109).

Interim bevinding: In 'n homilie maak die profeet opnuut vir Jahwe aan die ballinge bekend in terme van wat Hy in die verlede aangekondig en laat gebeur het. Die nageslag van Jakob word opgeroep om vir Jahwe te vertrou omdat Hy hulle sál red. Die wat egter vir God hierin teenstaan sál geen vrede geniet nie, wat beteken dat hulle aan Babel uitgelewer sal bly en van God geskei en saam met Babel sal ondergaan.

Wat die funksie van Jesaja 48:22 betref, die volgende: Dit sluit die eerste subeenheid (40-48) van die drie groot subeenhede (40-48; 49-55; 56-66) van die laaste deel van Jesaja (40-66) af met 'n dreiging teenoor die teenstanders van God. Daarna begin Jesaja 49:1 met 'n nuwe gedagtelyn. In hierdie nuwe gedagtelyn word die dienaar, in wie God verheerlik sal word, al duideliker aan die orde gestel (Berges 2010:115). Babel word ook nie meer by name in 49-55 genoem nie terwyl Sion al meer aangespreek word. Kores en die afgode verdwyn ook van die toneel. Die klimaks van die subeenheid (40-55) se argumentasielyn lê in 49:1-54:17 waar die profeet dit duidelik stel dat Jahwe, Sion herstel. Die aankondiging van daardie herstel en die verband wat dit met vrede het, word in Jesaja 52:7 aangetref.

 

Jesaja 52:7

'Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: "Jou God regeer!"'

Sover dit die strukturele verbintenis van Jesaja 52 met die voorafgaande hoofstukke betref, die volgende: Jesaja 52 is aan 51 verbind deur middel van 'n aantal tematiese en stilistiese motiewe waaronder die herstel van Sion vanuit haar vernedering (51:11, 12, 19 skakel met 52:8, 9).

Daar is algemene ooreenstemming dat hoofstuk 51:1 'n nuwe eenheid inlei en dat dit gepas in 52:12 afgesluit word.

In Jesaja 52:1-6 word daar teruggekyk in die geskiedenis na Israel wat oorheers is, eers deur Egipte, later deur Assirië en toe Babel. Dié volke se konings het almal beduidende rolle gespeel in die verdrukking en swaarkry van die volk. Nou het daar egter 'n nuwe era aangebreek en daardie nuwe era word in 'n nuwe perikoop wat in die Masoretiese Teks vanaf 52:7-10 strek, aangekondig. Hierdie perikoop verskil van die vorige in die sin dat die profeet self aan die woord is. Dit wat die profeet aankondig is dat daar in teenstelling met die selfversekerde leiers waarvan 52:5 melding gemaak het, nou 'n nuwe boodskap kom oor 'n ander regeerder (Koole 1998:230). Tematies gesien het die perikoop in vers 7 en 8 twee oproepe om aandag. Hierdie twee verse het 'n konsentriese struktuur met die buitenste twee sinne wat elk die berig oordra van 'n aankoms. Wat egter in die sentrum staan en al die aandag opeis is: ' Jou God is Koning' (vs. 7b). Die perikoop word dan met 'n loflied afgesluit (Beuken 1983:160).

Die nuwe boodskap begin in 52:7 en is aan Sion gerig. Alhoewel die boodskapper baie duidelik in vers 7 genoem word, is die fokus van die vers nie op die boodskapper gerig nie, maar wel op die boodskap (Koole 1998:233). Dit kondig aan dat die God van Sion, Koning is. Hierdie selfde gedagte word ook in Nahum 1:15 aangetref en indien dit as profetiese ontvouing gesien word, kan daar inderdaad gesê word dat Nahum se profesie hier 'n historiese werklikheid word (Goldingay & Payne 2007:265).12

Die verlossing wat Jesaja (40:1) asook Nahum (1:15) vroeër aangekondig het, is dus besig om 'n realiteit vir Sion te word. Wat die betekenis van 'Sion' hier is, word deur Adams (2006:113) as buigbaar aangedui13 en kan moontlik beide die stad én sy inwoners beteken. Die tekstuele konteks bevestig dat beide die stad en die inwoners bedoel word. Metafories word die stad as 'n vrou beskryf wat weer mooi klere kan aantrek na al haar vernedering (52:1). Die verwoeste stad sal egter ook self herbou word. Hierdie gedagte staan in direkte teenstelling met Babel wat in die stof moet gaan sit (47:1).

Diegene wat van ander volke afkomstig was en verantwoordelik was daarvoor dat Sion verdruk en verontreinig is, sal nie meer daar te vinde wees nie (52:1, 2). In teenstelling met die vroeëre vernietigende teenwoordigheid van ander volke op Sion, klink daar nou 'n boodskap op wat die teenwoordigheid van 'n ander regeerder aankondig. Brueggemann (1998b:138) stel hierdie boodskap voor as dié van 'n boodskapper wat by die ballinge aankom met die boodskap dat daar 'n geveg was en dat Jahwe die oorwinnaar van die oorlog is. Al die ander magte is oorwin en daar is nou net een Koning, en daardie Koning is Sion se koning en Hy regeer. Die gevolg hiervan is dat Juda nou vry is om uit ballingskap terug te keer. Alhoewel dié voorstelling van Brueggemann die gevoelswaarde van herstel oordra, hou die aankondiging meer as dit in. In die boek Jesaja word daar nie melding gemaak van oorlog tussen Jahwe en die ander gode nie. Die naaste wat daar aan konfrontasie gekom word, is verskeie regsprosesredes (41:21-24; 43:8-13; 45:20-25). In die regsprosesredes word die gode en hulle aanhangers gedaag om te bewys dat hulle gode is en ook bestaan. Niemand, behalwe Jahwe, kon egter getuienis van Godwees aanvoer nie. Ten spyte hiervan is daar tog, in die denke van die dienaars van die gode, mag aan die gode toegeken. In die denkraamwerk van die Ou Nabye Ooste was dit egter so dat die gode se magsgebied as geografies beperk gesien is. Met die aanvang van die Babiloniese ballingskap is die wegvoer van Israel gevolglik gesien as die resultaat van 'n nederlaag wat Jahwe teen die god van Babilon sou ly (vgl. Dan 1:2) (Goldingay 1989:15).

Israel, wat hulle denke deur ander volke laat bepaal het en nie deur die profete van Jahwe nie, het hierdie siening gedeel (vgl. Jes 40:27). Jahwe bevestig egter opnuut aan sy volk dat Hy die soewereine is wat die geskiedenis bepaal en dat Hy bepaal het dat sy volk in ballingskap weggevoer sal word. Dit was nie omdat Hý nie meer beheer uitgevoer het dat die ballingskap plaasgevind het nie, maar omdat sy vólk Hom verlaat het en Hy hulle daarom volgens die bepalings van die verbond (Deut 28:47, 48) oorgegee het aan ander volke. God was dus nooit buite beheer of in 'n geveg om regering betrokke nie. Die aankondiging aan Sion dat sy God durend regeer (מָלךְַ) dien dus as verdere versterking om die verkeerde persepsie wat Sion gehad het (49:14), reg te stel toe Sion gesê het: 'Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!'

In aansluiting by bostaande gedagte dat daar geen ander God is nie, word dit uit Jesaja 40-66 duidelik dat daar in werklikheid ook geen ander Koning is nie. Alhoewel Jesaja 1-39 talle male na verskillende aardse konings verwys, word die benaming 'koning' in Jesaja 40-66 vir net een persoon gebruik en dit is vir Jahwe, hier genoem die Koning van Jakob. Dit sou 'n heel eenvoudige historiese verduideliking kon hê, naamlik dat daar toe in Juda geen koning meer was na wie verwys kon word nie omdat Juda in hierdie stadium (ca. 559-530 v.C.) onder heerskappy van koning Kores van Babel was. In die teks van Jesaja is daar egter 'n opvallende afwyking daarvan om die benaming 'koning' vir Kores te gebruik. In die Ou Testament word daar 19 keer na Kores verwys, naamlik in 2 Kronieke, Esra, Jesaja en Daniël. In 2 Kronieke, Esra en Daniël word Kores konsekwent as koning (מלך) gekwalifiseer, maar glad nie in Jesaja nie. Benamings wat wel vir Kores gebruik word, is 'herder' in 44:28 en 'gesalfde' in 45:1. In beide gevalle staan Kores in direkte maar ondergeskikte relasie tot Jahwe en word hy gekwalifiseer as 'n funksionaris van Jahwe. Hiermee word die alleenheerskappy van Jahwe as Koning verder beklemtoon. In verband hiermee maak Blenkinsopp (2013) die volgende opmerking wat verdere lig op hierdie saak werp as hy sê:

Deutero-Isaiah's theological position must have been experienced as radical when it was first enunciated. It is even more so in its implications, since it opened up the possibility of severing religious ties with nationality and territory and contemplating, perhaps for the first time, the possibility of a future without the apparatus of an independent state system. (p. 70)

Dit is egter nie net in Jesaja wat die universele regering van Jahwe verkondig word nie. Ook in Psalm 96:7-10 is daar 'n oproep om God te prys omdat Hy nie tot die tempel of Israel beperk is nie maar ook deur ander nasies geprys moet word (Flynn 2014:41).14

Omdat Jahwe binne hierdie nuwe sisteem as die alleenheerser aangekondig word, roep dit Jesaja se hoorders op tot 'n denkverskuiwing. Die einde van vreemde bedreiging het aangebreek en vir diegene wat hierdie boodskap hoor en aanvaar, het daar emosionele rus aangebreek (Beuken 1979:162). Verder hou die goeie nuus wat aangekondig word in dat die mag van die onderdrukker gebreek is. Daarom kan die ballinge terugkeer na Sion waar daar net een Heerser is en dit is die Koning van Jakob. Die feit dat Jahwe volkome in beheer is, word bevestig deur die uitspraak in 52:12 waar die ballinge gerus gestel word dat hulle nie haastig hoef te vertrek nie. Daar kan 'n rustige atmosfeer wees omdat hulle koning alles so onder sy beheer het dat hulle vertrek nie as 'vlug' nie, maar as 'vertrek op eie tyd' gesien kan word.

In die aankondiging van terugkeer na Sion, is die primêre saak egter nie die terugkeer van Israel nie, maar God se regering. Israel se terugkeer moet gevolglik gesien word as 'n byproduk van die Koning se regering en Hy bring sy volk in sy triomftog met Hom saam (52:8). Dit is oor hierdie terugkeer dat die profeet bykans nie genoeg woorde kan vind om dit mee aan te kondig nie en daarom 'n aantal woorde gebruik wat volgens Koole (1998:233) bykans sinonieme is naamlik טוֹב ,שָׁלוֹם en יְשׁוּעָה. Al hierdie woorde het egter 'n verwysing na een persoon en dit is na die regerende koning.

Samevattend kan dus gesê word dat 52:7 dit duidelik maak dat daar net een persoon is wat durend regeer en dit is God. Wat veral van belang is, is die direkte konnotasie wat gemaak word tussen die feit dat God regeer en vrede. Wanneer daardie durende regering vir jou goeie nuus is, lei dit tot 'n verhoogde staat van vreugdevolle emosie met 'n emosionele ekwilibrium wat met die term 'vrede' beskryf word.

 

Samevatting

Uit die drie gedeeltes wat ondersoek is, blyk dit duidelik dat vrede nie bloot as die teenpool van oorlog gesien kan word nie en dat dit ook nie 'n toestand is wat natuurlikerwys in menslike verhoudings bestaan nie. Die verse wat ondersoek is, het dit laat blyk dat God vrede deur middel van nuutskepping tot stand bring. In hierdie verband kan vrede beskryf word as die afwesigheid van vreemde oorheersing, en die aanwesigheid van God se direkte regering. Wanneer daar egter nie 'n herstelde verhouding met God is nie omdat die perspektief wat die profete gee nie aanvaar word nie, is daar nie vrede nie. In die laaste plek het dit duidelik na vore gekom dat daar 'n direkte verband is tussen die erkenning van God se koningskap en die vrede wat sy onderdane beleef. Hierdie vrede kan dan beskryf word as die rustigheid wat bestaan as gevolg van die wete dat iemand wat tot alles in staat is, volkome in beheer van die situasie is en dat hulle wat aan Hom verbind is, deel is daarvan. Dit lei dus tot 'n staat van emosionele ekwilibrium wat intern tot stand gebring word maar in- en ekstern ervaar word.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Adams, J.W., 2006, The performative nature and function of Isaiah 40-55, T&T Clark, London.         [ Links ]

Berges, U., 2008, Jesaja 40-48, Herder, Freiburg.         [ Links ]

Berges, U., 2010, Jesaja: Der Prophet und das Buch, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.         [ Links ]

Berges, U., 2012, The Book of Isaiah: Its composition and final form, Sheffield Phoenix, Sheffield.         [ Links ]

Beuken, W.A.M., 1979, Jesaja, deel II, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Beuken, W.A.M., 1983, Jesaja, deel II B, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Beuken, W.A.M., 2003, Jesaja 1-12, transl. W.A.M. Beuken, Herder, Freiburg.         [ Links ]

Blenkinsopp, J., 2013, David remembered: Kingship and national identity in ancient Israel, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Brueggemann, W., 1998a, Isaiah 1-39, Westminster John Knox, Louisville, KY.         [ Links ]

Brueggemann, W., 1998b, Isaiah 40-66, Westminster John Knox, Louisville, KY.         [ Links ]

Carlson, C., 1997, 'Peace', in W.A. Elwell (ed.), Baker encyclopedia of the Bible, Baker Book House, Grand Rapids, MI, vol. 2, pp. 1634-1635.         [ Links ]

Carpenter, E. & Grisanti, M.A., 1998, s.v. 'רָשעַׁ', in W. VanGemeren (ed.), New international dictionary of Old Testament theology and exegesis, Zondervan Grand Rapids, MI, vol. 3, pp. 1201-1204.         [ Links ]

Childs, B.S., 1983, Introduction to the Old Testament as scripture, SCM, London.         [ Links ]

Childs, B.S., 2001, Isaiah: A commentary, Westminster John Knox, Louisville, KY.         [ Links ]

Cohen, R. & Westbrook, R., 2008, Isaiah's vision of peace in biblical and modern international relations: Swords into plowshares, Palgrave Macmillan, New York, NY.         [ Links ]

De Jong, M.J., 2007, Isaiah among the ancient Near Eastern prophets: A comparative study of the earliest stages of the Isaiah tradition and the Neo-Assyrian prophecies, Brill Academic, Leiden.         [ Links ]

Firth, D.G. & Williamson, H.G.M., 2009, Interpreting Isaiah: Issues and approaches, Apollos, Nottingham.         [ Links ]

Flynn, S.W., 2014, YHWH is king: The development of divine kingship in ancient Israel, Brill, Leiden.         [ Links ]

Gerleman, G., 1997, s.v. 'שָׁלֹום', in E. Jenni & C. Westermann (eds.), Theological lexicon of the Old Testament, Hendrickson, Peabody, MA, vol. 3, pp. 1337-1348.         [ Links ]

Goldingay, J., 1989, Daniel, Word Pub, Dallas, TX.         [ Links ]

Goldingay, J. & Payne, D.F., 2007, Isaiah 40-55: A critical and exegetical commentary, T&T Clark, New York, NY.         [ Links ]

Gregory, T.M., 2009, s.v. 'Peace', in M.C. Tenney (ed.),The Zondervan encyclopedia of the Bible, Zondervan, Grand Rapids, MI, vol. 4, pp. 747-750.         [ Links ]

Groenewald, A., 2013, 'An exegetical analysis of the vision of peace in the Book of Isaiah (2:1-5)', Verbum et Ecclesia 34(2), Art. #866, 7 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ve.v34i2.866        [ Links ]

Koole, J.L., 1998, Isaiah III, 2: Isaiah 49-55, Peeters, Leuven.         [ Links ]

Melugin, R.F., 2008, 'Isaiah 40-66 in recent research: The "unity" movement', in A.J. Hauser (ed.), Recent research on the major prophets, pp. 142-194, Phoenix, Sheffield.         [ Links ]

Paul, S.M., 2012, Isaiah 40-66: Translation and commentary, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Stendebach, F.J., 1977-2006, s.v. 'שָׁלֹום', in G.J. Botterweck & H. Ringgren (eds.), Theological dictionary of the Old Testament, vol. XV, pp.13-49, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Swanson, J., 1997, s.v. 'יצַָר', in Dictionary of Biblical Languages with semantic domains: Hebrew (Old Testament), Logos Research system, Oak Harbor.         [ Links ]

Sweeney, M.A., 2005, The Prophetic Literature, Abingdon, Nashville, TN.         [ Links ]

Tiemeyer, L., 2008, 'Recent currents in research on the prophetic literature', The Expository Times 119(4), 161-169. http://dx.doi.org/10.1177/0014524607085988        [ Links ]

United Nations, n.d., Charter of the United Nations and Statute of the Intrnational Court of Justice, Ch. 1, 'Purposes and principles', viewed 18 May 2015, from http://www.un.org/en/documents/charter/chapter1.shtml        [ Links ]

Van der Walt, C., 2014, 'The deaf cannot see: An accumulation of blindness and deafness as combined theme in Isaiah 42 and 43', In die Skriflig/In Luce Verbi 48(2), 6 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i2.1764        [ Links ]

Van Leeuwen, C., 1997, s.v. 'רשׁע', in E. Jenni & C. Westermann (eds.), Theological lexicon of the Old Testament, Hendrickson, Peabody, MA, vol. 2, pp. 1261-1265.         [ Links ]

Van Leeuwen, R.C., 1998, s.v.'אָרָּב', in W. VanGemeren (ed.), New international dictionary of Old Testament theology and exegesis, Zondervan, Grand Rapids, MI, vol. 1, p. 728-735.         [ Links ]

Watts, J.D.W., 2005, Isaiah 34-66, Word books, Dallas, TX.         [ Links ]

Yamauchi, E., 1998, 'Cyrus', in W. VanGemeren (ed.), New international dictionary of Old Testament theology and exegesis, vol. 4, Zondervan Grand Rapids, MI, vol. 4, pp. 493-495.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Chris van der Walt
PO Box 19498, Noordbrug 2522
South Africa
Email:chris.vanderwalt@nwu.ac.za

Received: 06 Apr. 2015
Accepted: 20 May 2015
Published: 25 Aug. 2015

 

 

1 Vir ʼn goeie oorsig oor die wyse waarop die boek Jesaja oor die afgelope jare benader is, kan die volgende gelees word: Tiemeyer (2008).
2 Vir volledige bespreking kan die volgende bronne geraadpleeg word: (1) Childs (1983), (2) Melugin (2008), (3) Berges (2012).
3 Sweeney (2005:73) stel dit duidelik dat die literêre en retoriese karakter van Jesaja 40-66 sodanig is dat dit sinchronies gelees moet word. Alhoewel dit die gewenste weg sou wees om 40-66 in geheel te hanteer, is dit as gevolg van die beperkte ruimte wat aan artikels toegestaan word, nie moontlik nie. Daarom sal slegs toegespits word op die eerste drie verse waar dit voorkom. Die eerste twee kom uit 40-48 wat
ʼn logiese subeenheid is en onder andere handel oor die realisering van vroeëre profesieë aangaande die herstel van Israel gedurende die vroeë Persiese periode. In 40-55 word ook verkondig hoe God sy seën sal gee aan ʼn vernietigde volk in ballingskap. Die 'onvrede' wat in 1-39 aangekondig is en in die ballingskap gerealiseer het, word dus reeds profeties in 40-55 omgekeer (Childs 2001:288).
4 Dit word in die vooruitsig gestel om die verdere ontvouing van die tema in opvolgende artikels te behandel.
5 Die gesig handel oor Juda en Jerusalem in die tydperk lank voor die Babiloniese ballingskap beginnende by Ussia (783-742). Die tydperk waaroor die boek handel strek egter veel verder tot selfs na die Persiese Ryk en het uiteindelik ook eskatologiese uitsprake in Jesaja 56-66.
6 Kores het die Persiese Ryk gevestig en regeer vanaf 559-530 v.C. Babel is in 539 v.C. deur hom ingeneem toe hy Nabonidus en sy seun Beltsassar verslaan het (Yamauchi 1998:494).
7 Vergelyk Deuteronomium 28, 29. Hierdie straf is in die ballingskap voltrek toe Nebukadnesar vanaf 605 v.C. in toenemende mate eers Jerusalem beset, die inwoners na Babel weggevoer en in 586 die stad vernietig het (Yamauchi 1998:493).
8 Die gebruik van
ברָָּא in Deutero-Jesaja het reeds baie aandag in die literatuur gekry. Vir 'n goeie verduideliking hiervan kan Van Leeuwen (1998:735) geraadpleeg word.
9 Die rabbis in die Talmud het egter die gedeelte dogmaties gelees en as gevolg van dogmatiese oorwegings aangepas vir die liturgie (vir meer volledige bespreking vgl. Paul 2012:258).
10
ʼn Punt van kardinale belang wat wel in Artikel 1 van die VN se manifes genoem word en later in Jesaja 40-66 uitgewerk word, is die verband tussen geregtigheid en vrede (60:17). Dit is egter nog nie deel van die skopus van hierdie artikel nie.
11 Jesaja 48:22 is identies aan 57:21 en sluit daar ook 'n eenheid af.
12 Die verbintenis tussen Nahum en Jesaja op hierdie punt is breedvoerig in ander literatuur bespreek en hiervoor kan onder andere Koole (1998:232) en Paul (2012:382) geraadpleeg word.
13 Adams stel dit dat Sion-Jerusalem (soos ook die Dienaar) meerduidig van aard kan wees met die volgende moontlikhede: Geografiese Jerusalem (44:26, 28; 46:13; 51:3, 11); Die inwoners van die stad self (40:1, 2; 51:16; 52:7-9); Die draer van die goeie boodskap (40:9-11); Die ontvanger van die goeie boodskap van herstel (52:1-10); as
ʼn vrou (52:1).
14 Flynn (2014:41) gee 'n verduideliking van die ontwikkeling in die Psalms oor hoe Jahwe se koningkryk universeel deur die nasies erken sal word.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons