SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.71 issue1Die liminale ruimte vir inkongruensie tussen predikant en lidmaat: 'n narratief gebaseerde prakties-teologiese ondersoek in gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.71 n.1 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4102/HTS.V71I1.2949 

ORIGINAL RESEARCH

 

Streef na vrede met almal? Hebreërs 12:14 in perspektief

 

Strive for peace with everyone? Hebrews 12:14 in perspective

 

 

Albert J. Coetsee

School for Ancient Language and Text Studies, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

What sounds like a simple exhortation in Hebrews 12:14 has caused a great deal of discussion amongst biblical scholars. Does the writer of Hebrews command his hearers to strive for peace with everyone everywhere, or is he exhorting them to strive for peace with all the members of their faith community? Both interpretations have arguments for and against. The main arguments of both interpretations are the interpretation of the place of this exhortation in Hebrews, the meaning of the preposition μετά + genitive and the nuance of ειρήνη within this context. This article tries to determine to whom the writer of Hebrews is referring with πάντων in 12:14 by doing thorough exegesis of this verse, and by so doing evaluating biblical scholar's interpretation of πάντων. From this analysis certain implications are drawn for the first hearers and believers today.


 

 

Inleiding

Die opdrag in Hebreërs 12:14 lyk met die eerste oogopslag baie eenvoudig te wees:

Είρήνην διώκετε μετά πάντων και τòν άγιασμόν, ού χωρίς ουδείς οψεται τòν κύριον. [Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie.1]

Maar, soos DeSilva (2000:457) dit so mooi saamvat: wat vir ons dalk soos 'n eenvoudige vermaning lyk, het geen klein debat onder kommentatore veroorsaak nie. Biblioloë is verdeeld oor die interpretasie van hierdie opdrag. Die spil waarom die meningsverskil draai, is die vraag na wie die Hebreërskrywer met hierdie 'almal' (πάντων) verwys. Beveel hy sy hoorders om te strewe na vrede met alle mense oral, of beveel hy hulle om te strewe na vrede met al die lede van die geloofsgemeenskap aan wie hy skryf?

Dat die interpretasie van 'almal' inderdaad 'n groot meningsverskil veroorsaak, is duidelik uit die onderstaande tabel (Tabel 1) wat 'n illustrasie bied van hoe die mees prominente navorsers πάντων interpreteer.

 

 

Beide hierdie groepe het argumente vír en téén hulle interpretasie van πάντων. Die hoofsaaklike gronde waarop beide groepe hulle interpretasie berus, het te make met die plek van hierdie opdrag in Hebreërs, die betekenis van die voorsetsel μετά + genitief en die betekenis van ειρήνη in hierdie konteks.

Hierdie artikel wil poog om te bepaal na wie die Hebreërskrywer met πάντων in Hebreërs 12:14 verwys deur hierdie vers in besonderhede na te gaan, en sodoende biblioloë se argumente vir die interpretasie van πάντων deurlopend te evalueer. Vanuit die bepaling na wie πάντων verwys sal daar uiteindelik gekom word by die implikasies van hierdie opdrag vir die Hebreërgemeente en gelowiges vandag.

 

Die plek van Hebreërs 12:14 binne die struktuur van die boek

Navorsing oor die struktuur van Hebreërs het die afgelope dekades baie aandag geniet.2 Ten spyte hiervan is daar egter steeds nie konsensus onder biblioloë oor Hebreërs se struktuur nie. Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit egter nie nodig om betrokke te raak by die fynere detail van Hebreërs se struktuur nie. Die doel is eenvoudig om te bepaal watter invloed die plek van Hebreërs 12:14 binne die struktuur van die boek op die interpretasie van die vers het.

Hebreërs 12:14 val binne die laaste makro-afdeling van Hebreërs, naamlik 10:19-13:25.3 Hierdie makro-afdeling bestaan in wese uit aanmoedigende materiaal,4 en sentreer rondom die dringende oproep aan die hoorders om te volhard in hulle getrouheid aan Hom wat met hulle praat.5 Die opdrag in 12:14 om te streef na die heiligmaking 'waarsonder niemand die Here sal sien nie', sluit direk aan by hierdie makro-afdeling se dringende oproep tot volharding in getrouheid.

Oor die plek van 12:14 binne Hebreërs 12 is daar egter meningsverskille. Sommige beskou 12:14 as die begin van 'n nuwe perikoop, naamlik 12:14-29 (vgl. Attridge 1989:366; Lane 1991:444), terwyl ander 12:14 weer beskou as deel van 12:12-17 (vgl. Bruce 1990:346; Koester 2001:539). Die volgende redes kan aangevoer word ten gunste van 12:14 as deel van 12:14-29:

Die gebruik van die redegewende voegwoord διό aan die begin van 12:12 dui nie op die begin van 'n nuwe perikoop nie, maar wys dat 12:12-13 die konklusie van 12:4-11 is.

Die oorgang vanaf 12:13 word bewerkstellig deur die ankerwoorde άγιότης/άγιασμός (12:10, 14) en ειρηνικός/ ειρήνη (12:11, 14).6

In teenstelling met 12:1-13 het die verse wat volg niks te make met die tema van υπομονή of παιδεία nie, en in 12:14-17 word die hoorders in dood-eenvoudige etiese terme vermaan (vgl. Johnson 2006:323).

Op grond van die inclusio wat χάρις (12:15, 28) vorm kan 12:14-29 as perikoop geïdentifiseer word.

Gevolglik moet 12:14 beskou word as die eerste vers van 12:14-29. Laasgenoemde perikoop kan weer op sy beurt verdeel word in die drie onderafdelings van 12:14-17, 12:18-24 en 12:25-29:

Hebreërs 12:14-17 bestaan uit 'n waarskuwing teen afvalligheid, veral vanuit die optrede van Esau, en vorm sodoende die inleiding vir die geheel.

In 12:18-24 vergelyk die skrywer God se vreesaanjaende openbaring by Sinai met die vreugde van sy openbaring onder die nuwe verbond.7

Vanuit 12:14-24 as agtergrond bevat 12:25-29 dan die primêre waarskuwing om God wat vanuit die hemel met die hoorders praat, nie te verwerp nie, onder andere omdat Hy nog een maal die aarde en die hemel sal skud.

In geheel handel 12:14-29 dus oor 'n waarskuwing teen afvalligheid in die lig van die hoorders se voordelige situasie onder die nuwe verbond. Dit kom gevolglik voor asof die skrywer vorige prominente temas van sy boek in hierdie perikoop tot 'n klimaks bring.8

Wanneer 12:14-17 dan van nader beskou word, is dit duidelik dat hierdie verse die inleiding vir die geheel van 12:14-29 vorm (vgl. Attridge 1989:366-367). Die aanmoedigende genre van hierdie onderafdeling is duidelik uit die gebruik van die imperatief διώκετε (12:14). Op grond van die hoofwerkwoorde kan 12:14-17 in twee sinne verdeel word, naamlik 12:14-16 en 12:17:

12:14-16 is een lang sin ('n periode)9 wat die algemene vermaning tot vrede en heiligmaking bevat, sowel as die drieledige vermaning aan elke hoorder om aanhoudend te sorg vir die ander lede van die gemeenskap in die lig van moontlike afvalligheid wat dreig. Sodoende herroep 12:14-16 soortgelyke opdragte van vroeër (vgl. 2:1;3:12; 4:1, 11; 6:4-8; 10:26-31, 38-39). Hierdie drieledige opdrag word beskryf met drie bysinne wat elk met μή τις begin (vgl. Blass & Debrunner §487; vgl. ook §370[1]). Inhoudelik word elke μή τις-bysin telkens langer en meer kompleks. Die eerste twee bysinne verwys na Deuteronomium 29:18, en die derde is 'n opsomming van Genesis 25:29-34.

12:17 spel klimakties sekere kontemporêre implikasies rakende afvalligheid vir die hoorders uit vanuit Esau se optrede. Die Hebreërskrywer verwys opsommenderwys na Esau se reaksie toe hy besef het dat Jakob op bedrieglike wyse sy seën gekry het (Gen 27:30-40).

Konklusie 1

Vanuit die bogenoemde is dit duidelik dat die skrywer in 12:14-17 die hoorders beveel om aanhoudend vir die ander lede van die gemeenskap te sorg in die lig van moontlike afvalligheid wat dreig. Hulle moet vir mekaar op die uitkyk wees. Die skrywer is dus in 12:14-17 in die eerste plek besorg oor sy hoorders. Die plek van 12:14 binne die struktuur van Hebreërs maak dit dus meer waarskynlik dat die skrywer in 12:14 'n opdrag vir sy hoorders onder mekaar gee, naamlik dat hulle onderling vrede met almal in hulle geloofsgemeenskap moet soek (vgl. Attridge 1989:367; Cockerill 2012:634). Dit sou impliseer dat die skrywer nie in die eerste plek sy hoorders hier aanmoedig om te streef na vrede met alle mense nie.

Tog kan hierdie argument van die invloed van die plek van Hebreërs 12:14 binne die struktuur van die boek nie alleen deurslaggewend wees vir die interpretasie van die vers nie. Die plek van 12:14 binne Hebreërs maak dit nie onmoontlik dat die skrywer hier na die breër gemeenskap kon verwys nie. Daarom moet daar naas die plek van 12:14 binne die struktuur van die boek ook gekyk word na die sintaktiese analise van die vers.

 

Die sintaktiese analise van Hebreërs 12:14

Met sintaktiese analise word bedoel 'n ondersoek na die voegwoorde en partikels wat relasies tussen sinne of frases aandui, sowel as die Tyd, handelstadium en handelsaard van werkwoorde vir hulle spesifieke nuanse.

Die sintaktiese analise van Hebreërs 12:14 kan visueel soos volg uiteengesit word soos in Figuur 1.10

 

 

Hierdie visuele uiteensetting kan eksegeties soos volg omskryf word:

Die hoofwerkwoord van die vers is διώκετε, wat op grond van die praesens-Tyd dui op 'n bevel tot voortdurende handeling. Die hoorders word dus beveel om 'voortdurend' of 'aanhoudend' te streef na vrede.

Die werkwoord διώκετε het 'n dubbele voorwerp, naamlik είρήνην en τòν άγιασμόν. Die καί voor τòν άγιασμόν funksioneer bloot as voegwoord, en word nie epeksegeties by είρήνην gebruik nie. As heel eerste woord in die sin staan είρήνην in 'n emfatiese posisie, en word die woord gevolglik sterk beklemtoon.

Die voorsetselfrase μετά πάντων skakel met die hoofwerkwoord διώκετε.

Die bysin ού χωρίς ουδείς οψεται τòν κύριον word aan τον άγιασμόν gekoppel deur die voorsetselfrase ού χωρίς, met τον άγιασμόν as die antesedent van ού.11 Die voorsetselfrase dui op 'n voorwaarde. Gevolglik word die belang van die strewe na heiligmaking met hierdie bysin beklemtoon.

Die hoofwerkwoord van die bysin ού χωρίς ουδείς οψεται τον κύριον is οψεται, wat op grond van die futurum-Tyd dui op 'n handeling in die toekoms.

Ουδείς en τον κύριον is onderskeidelik die onderwerp en voorwerp van οψεται.

Vir die doeleindes van hierdie studie is dit veral nodig om stil te staan by die voorsetselfrase μετά πάντων. Verskeie akademici argumenteer dat die skrywer se keuse van hierdie voorsetsel - saam met die breër konteks - daarop dui dat hy nie verwys na alle mense in die breedste sin moontlik nie, maar na alle lede van die geloofsgemeenskap:

Lane (1991:438) en Moffatt (1924:208) argumenteer dat μετά + genitief hier verwys na 'saam met', aangesien die skrywer σύν vermy. As begronding hiervoor verwys hulle na die gebruik van μετά in Hebreërs 11:9 en 13:23.

Foerster (1976:413) stel dat είρήνη μετά nie eendrag met ander kan beteken nie, deels omdat dit die voorsetsel πρός in plaas van μετά sou vereis, en deels omdat dit nie die konteks pas nie. As begronding hiervoor verwys hy na die gebruik van πρός in Romeine 5:1.

Blass en Debrunner (§227[3]), in hulle bespreking van μετά + genitief, vertaal είρήνην διώκειν μετά in Hebreërs 12:14 as 'vrede saam met', en nie as 'vrede met' nie.

Volgens hierdie teorie maak die Hebreërskrywer se gebruik van μετά πάντων dit dan duidelik dat hy sy hoorders beveel om saam met almal na vrede te streef. Aangesien dit hoogs onwaarskynlik is dat die Hebreërskrywer sy hoorders sou beveel om saam met ongelowiges te strewe na vrede (Ellingworth 1993:662), en aangesien die breër konteks verwys na die skrywer se besorgdheid vir sy hoorders, is dit volgens hierdie interpretasie van μετά πάντων dan waarskynlik dat die skrywer sy hoorders beveel om saam met almal van die geloofsgemeenskap te strewe na vrede.

Tog is daar ander wat argumenteer dat die skrywer se gebruik van die voorsetsel μετά in 12:14 nie noodwendig daarop dui dat hy slegs na lede van die geloofsgemeenskap verwys nie, aangesien dit nie noodwendig as 'saam met' vertaal hoef te word nie:

Ellingworth (1993:662), wat vanuit die onmiddelike konteks self oortuig is dat 'almal' in Hebreërs 12:14 na 'alle lede van die Christelike gemeenskap' verwys (hetsy sterk of swak, fiks of siek), en nie na 'almal, of hulle Christene is of nie', noem dat die voorsetselfrase in 12:14 nie deurslaggewend hoef te wees nie. Alhoewel die soortgelyke opdrag na vrede in 2 Timoteus 2:22 μετά + genitief bevat vir die betekenis van 'saam met', is hy oortuig dat daar getuienis is van 'n ontwikkeling waarin die onderskeid tussen μετά in hierdie sin, en σύν en πρός, verdwyn het. As begronding hiervoor verwys hy na die soortgelyke opdrag na vrede in Romeine 12:18,12 waar μετα πάντων verwys na 'met almal'. In die lig hiervan kan die voorsetselfrase μετα πάντων in Hebreërs 12:14 op dieselfde wyse vertaal word.

DeSilva (2000:457), in sy evaluering van Lane (1991:438) se teorie dat die Hebreërskrywer προς πάντων sou moes gebruik het in plaas van μετα πάντων as hy vrede 'met almal' bedoel het, stel dat Lane se bewering oordrewe is. DeSilva (2000:457) verwys dan net soos Ellingworth (1993:662) na Romeine 12:18 as bewys van die gebruik van μετα πάντων as 'met almal'.

Aan die ander kant stem Cockerill (2012:634) saam dat 'populêre' Griekse gebruik dit moontlik maak dat die Hebreërskrywer met μετα πάντων verwys na 'met almal' in plaas van die meer algemene 'saam met almal' ('n verwysing na bykomstigheid), maar dat dit volgens hom onwaarskynlik is. As begronding hiervoor argumenteer hy dat die Hebreërskrywer deurlopend elegante Grieks gebruik, en dat die konteks van 12:15-16 daarop dui dat die skrywer hier besorg is oor sy hoorders. In wese stem hy dan saam met die interpretasie van Lane (1991), naamlik dat die Hebreërskrywer alle lede van die geloofsgemeenskap oproep om te strewe na vrede met mekaar.

'n Selfstandige ondersoek na die voorkoms en gebruik van die voorsetsel μετά in Hebreërs dui aan dat dié betrokke voorsetsel 23 keer in Hebreërs voorkom. Van hierdie 23 voorkomste word die voorsetsel 9 keer deur die akkusatief gevolg (4:7, 8; 7:28; 8:10; 9:3,27; 10:15, 16, 26), en 14 keer deur die genitief (4:16; 5:7; 7:21; 9:19; 10:22, 34; 11:9, 31; 12:14, 17, 28; 13:17, 23, 25). Lane (1991:438) en Moffatt (1924:208) is korrek deur na Hebreërs 11:9 en 13:23 te verwys as gevalle waar μετά + genitief in Hebreërs vertaal moet word as 'saam met'. Hierby kan waarskynlik ook nog die gebruik van μετά in Hebreërs 5:7, 9:19 en 13:25 gevoeg word. Maar in die oorblywende 7 voorkomste van μετά gevolg deur die genitief (11:3113 en 12:14 uitgesluit) pas 'n vertaling van 'saam met' glad nie, en moet die voorsetselfrase vertaalword as 'met' (4:16; 7:21; 10:22, 34; 12:17, 28; 13:17). Dit sluit aan by Blass en Debrunner (§227) se stelling dat μετά + genitief as 'met' in die Nuwe Testament verwisselbaar is met σύν + datief.

Gevolglik is Cockerill (2012:634) heeltemal korrek deur te sê dat die Hebreërskrywer deurlopend van elegante Grieks gebruik maak, maar sy bewering dat μετα πάντων as 'met almal' nie by die Hebreërskrywer se Grieks pas nie, neem nie die Hebreërskrywer se gebruik van μετά + genitief in ag nie. Gevolglik is ook DeSilva (2000:457) korrek deur te stel dat Lane (1991:438) se bewering oordrewe is dat die Hebreërskrywer προς πάντων sou moes gebruik het in plaas van μετα πάντων as hy vrede 'met almal' bedoel het. Laastens is ook Ellingworth (1993:662) korrek in sy bewering dat die onderskeid tussen μετά in hierdie sin, en σύν en πρός, verdwyn het.

Konklusie 2

Uit die sintaktiese analise van Hebreërs 12:14, gepaardgaande met die teorieë van toonaangewende akademici, is dit duidelik dat die frase μετα πάντων daarop kan dui dat die Hebreërskrywer met 'almal' in 12:14 slegs na lede van die geloofsgemeenskap verwys. Dit is die geval wanneer μετα πάντων vertaal word as 'saam met almal', met die opdrag in 12:14 wat dan daarop neerkom dat die Hebreërskrywer sy hoorders beveel om saam met almal van die geloofsgemeenskap te strewe na vrede. Tog hoef die voorsetsel μετά + genitief nie noodwendig as 'saam met' vertaal te word nie, soos duidelik is uit die Hebreërskrywer se gebruik van μετά + genitief en die soortgelyke opdrag na vrede in Romeine 12:18.

Gevolglik is die gebruik van die voorsetselfrase μετα πάντων nie deurslaggewend vir die interpretasie of die Hebreërskrywer in 12:14 met πάντων verwys na alle mense oral of na al die lede van die geloofsgemeenskap aan wie hy skryf nie. Die meeste wat argumenteer vir 'n vertaling van μετα πάντων as 'saam met almal' koppel hulle begronding in elk geval aan hulle interpretasie dat die konteks (tereg) fokus op die hoorders, wat dit meer waarskynlik maak dat die skrywer in 12:14 'n opdrag vir sy hoorders onder mekaar gee. Tot dusver is laasgenoemde die enigste geldige teorie dat die Hebreërskrywer in 12:14 sy hoorders beveel om te strewe na onderlinge vrede.

Vervolgens moet daar naas die plek van 12:14 binne die struktuur van die boek en die sintaktiese analise van 12:14 ook gekyk word na die semantiese analise van die vers.

 

Die semantiese analise van Hebreërs 12:14

Vir die doeleindes van hierdie studie moet daar bepaal word wat die Hebreërskrywer bedoel met είρήνη in 12:14, aangesien dit 'n direkte invloed het op die interpretasie van πάντων. Om die betekenis van είρήνη binne konteks te bepaal, moet daar semantiese analise of woordstudie gedoen word van διώκω, είρήνη en άγιασμός.14

Die werkwoord διώκω word met verskillende betekenis-nuanses gebruik. Afgesien van enkele minder algemene gebruike (vgl. L&S 1996:440), word dit veral op twee maniere in die Nuwe Testament gebruik:

Die meerderheid van die kere verwys διώκω na die handeling van vervolg, naamlik om mense te onderdruk en te teister vanweë hulle geloofsoortuigings (BDAG 2000:254; L&N 39:45; vgl. Matt 5:10).

Die tweede algemeenste gebruik van διώκω in die Nuwe Testament verwys na die figuurlike uitbreiding van die handeling van 'haastig volg' of 'agtervolg', naamlik om iets te doen met intense moeite en met 'n definitiewe doel of mikpunt voor oë (L&N 68.66; TDNT 1976:2:230). Wanneer διώκω op hierdie wyse gebruik word, kan dit vertaal word as 'om te strewe na' of 'om te jaag na'.

In Hebreërs 12:14 word διώκω sonder twyfel op laasgenoemde wyse gebruik. Dit is duidelik uit parallelle gedeeltes in die Nuwe Testament waar die werkwoord διώκω gebruik word om Christene op te roep om te strewe na geregtigheid (δικαιοσύνη; Rom 9:30,31; 1 Tim 6:11; 2 Tim 2:22), gasvryheid (φιλοξενία; Rom 12:13), liefde (αγάπη; 1 Kor 14:1), die goeie (το αγαθόν; 1 Tess 5:15) - en veral van belang vir hierdie studie, vrede (είρήνη):

Romeine 14:19 > άρα ούν τά της ειρήνης διώκωμεν καί τά της οικοδομής της είς αλλήλους ['Kom ons streef dan na die dinge wat die onderlinge vrede en mekaar se opbou bevorder'].

1 Petrus 3:11 > έκκλινάτω δέ άπο κακοΰ καί ποιησάτω αγαθόν, ζητησάτω είρήνην καί διωξάτω αυτήν ['En laat hy afwyk van die kwaad en die goeie doen, laat hy vrede soek en dit najaag'].15

Lane (1991:449) wys tereg daarop dat διώκω 'n sterker nuanse van strewe of soeke bevat as die meer algemene ζητέω. Gevolglik beteken dit dat die Hebreërskrywer sy hoorders in 12:14 oproep om alles in die stryd te werp in hulle aanhoudende strewe na είρήνη en άγιασμός. Uit die konteks is dit duidelik dat die skrywer van sy hoorders verwag om met gehoorsaamheid op hierdie opdrag te reageer op grond van die groot genade wat God aan hulle in Christus geskenk het.

Die selfstandige naamwoord είρήνη het 'n lang geskiedenis van gebruik (vgl. L&S 1996:490). In die antieke Griekse denke het die woord nie hoofsaaklik verwys na die verhouding tussen mense of selfs 'n houding nie, maar op die afwesigheid van oorlog, naamlik 'n staat van vrede. Die gebruik van šālôm in die Ou Testament het weer 'n ander nuanse: die stam van hierdie woord beteken 'welsyn', met die klem op materiële welsyn. In die profetiese geskrifte van die Ou Testament het šālôm later ontwikkel as 'n element van eskatologiese verwagting, naamlik 'verlossing' in die sin van 'n finale staat van ewige vrede (TDNT 1976:2:400-406).

In aansluiting hierby word είρήνη in die Nuwe Testament hoofsaaklik op twee maniere gebruik (BDAG 2000:287-288; TDNT 1976:2:411-417; vgl. L&N 22.42, 25.248):

1. Aan die een kant kan είρήνη verwys na 'n toestand van welwese wat baie ooreenstem met die Hebreeuse gebruik van šālôm. In hierdie verband word είρήνη dan gebruik as verwysing na welvaart en gesondheid, óf as sinoniem vir messiaanse verlossing, naamlik verlossing van die hele mens in 'n eskatologiese sin (vgl. Luk 1:79; 2:14) of vrede as 'n staat van versoening met God (vgl. Rom 5:1).

2. Aan die ander kant kan είρήνη verwys na 'n toestand van harmonie of eensgesindheid, naamlik 'vrede' of 'harmonie'. In hierdie verband word είρήνη dan gebruik om te verwys na die vrede tussen owerhede (vgl. Hand 12:20), óf harmonie in persoonlike verhoudings (vgl. Rom 14:17; 1 Pet 3:11).

Met die eerste oogopslag lyk dit of είρήνη in Hebreërs 12:14 op laasgenoemde wyse gebruik word, naamlik as 'n verwysing na 'vrede' of 'harmonie' tussen mense. Die meerderheid akademici volg dan ook hierdie interpretasie (vgl. o.a. Allen 2010:585; Attridge 1989:367; Cockerill 2012:633-634; Hughes 1977:536). Aangesien daar egter duidelik 'n direkte koppeling is tussen είρήνη en άγιασμός in 12:14, moet daar eers woordstudie van άγιασμός gedoen word voordat είρήνη in meer detail omskryf kan word.

Die selfstandige naamwoord άγιασμός is afkomstig van die werkwoord άγιάζω, wat verwys na die handeling van iets of iemand 'toewy'. In aansluiting hierby verwys άγιασμός na die persoonlike toewyding van iets of iemand aan die belange van 'n goddelikheid (L&N 53.44; vgl. L&S 1996:9). Die woord kan daarom weergegee word met 'toewyding' of 'heiligmaking'. In die Nuwe Testament verwys die woord altyd na die proses van heilig word of die resultaat van heilig wees in 'n morele sin (BDAG 2000:10; TDNT 1976:1:113; vgl. Allen 2010:585).

Dwarsdeur die boek Hebreërs is dit duidelik dat die mens nooit heiligheid of heiligmaking verkry deur self daarna te strewe nie. Heiligmaking is alleen 'n gawe wat Christus aan die gelowige gee deur hom of haar aan God toe te wy op grond van sy offerdood (Heb 2:11; 9:13-14; 10:10,14,29; 13:12; vgl. McCown 1981:60). Maar alhoewel heiligmaking 'n gawe van Christus is, moet gelowiges ook daarop reageer. Hulle moet stewig vashou aan die gawe wat Christus aan hulle gegee het (Lane 1991:450) deur te reageer met die praktiese uitlewing van hierdie heiligheid (Bruce 1990:348) in die vorm van hulle persoonlike optrede en gepaste aanbidding (Attridge 1989:367; vgl. Heb 12:28; 13:15-16).16 Of soos Koester (2001:531) dit mooi saamvat: die hoorders is reeds heiliges (3:1; 6:10; 13:24) wat gereinig is (2:11; 10:10,14,29), maar hulle moet hierdie heiligheid nastreef (vgl. McCown 1981:69).17 Dit is waartoe die hoorders beveel word in 12:14. Dat hierdie aanhoudende strewe na heiligmaking glad nie oorbodig is nie, is duidelik uit die waarskuwing wat die skrywer aan sy hoorders gee met die voorwaarde ού χωρίς ούδείς όψεται τόν κύριον (vgl. Matt 5:8).18

Die direkte koppeling tussen είρήνη en άγιασμός in 12:14 impliseer dat είρήνη in hierdie konteks op soortgelyke wyse as αγιασμός geïnterpreteer moet word. In wese sou dit beteken dat net soos άγιασμός verwys na die 'heiligmaking' waartoe die hoorders moet strewe op grond van die heiligheid wat Christus aan hulle geskenk het, verwys είρήνη dan na die 'vrede' of 'harmonie' tussen mense waartoe die hoorders moet strewe op grond van die vrede wat Christus aan hulle geskenk het.19

Voor daar egter aanvaar kan word dat laasgenoemde verklaring die betekenis van είρήνη in 12:14 weergee, moet daar eers kortliks stilgestaan word by die interpretasie van είρηνικός in 12:11. Daar is reeds aangedui dat είρηνικός (12:11) / είρήνη (12:14) een van die ander woorde is wat die oorgang tussen 12:1-13 en 12:14-29 bewerkstellig, en die twee perikope saambind. Daar bestaan dus die moontlikheid dat die betekenis van είρηνικός 'n direkte verband hou met die betekenis van είρήνη.

Oor die algemeen verwys die adjektief είρηνικός na dit wat verband hou met vrede, naamlik iets wat behoort by 'n harmonieuse verhouding (BDAG 2000:288), of iets wat te make het met die vryheid van angs of innerlike wroeging (L&N 25.249). Dit kan weergegee word met 'vredeliewend' of 'vredevol'.

In Hebreërs 12:11 verduidelik die skrywer hoe die tydelike lyding wat die hoorders ervaar in die vorm van goddelike dissiplinering uiteindelik baie voordelig is: dit produseer ''n vredevolle vrug van geregtigheid' (καρπόν είρηνικόν ... δικαιοσύνης). Uit die konteks is dit duidelik dat 'vrede' nie hier na die vrede tussen mense verwys nie, maar na vrede tussen God en mens in die sin dat die persoon wat goddelike dissiplinering aanvaar, daardeur leer om op God en Sy alwysheid te vertrou (vgl. Attridge 1989:364; Cockerill 2012:628).

Uit die bogenoemde is dit dan duidelik dat είρηνικός in 12:11 en είρήνη in 12:14 nie 'n direkte betekenisverband met mekaar deel nie, en slegs funksioneer as ankerwoord. Gevolglik kan daar bevestig word dat die Hebreërskrywer in 12:14 met είρήνη verwys na vrede tussen mense op grond van die vrede wat Christus geskenk het.20 Lane (1991:449) gaan daarom te ver deur te argumenteer dat 'vrede' in 12:14 nie verwys na harmonie binne die gemeenskap of in persoonlike verhoudings nie, maar na 'n 'objektiewe' realiteit, naamlik die gawe van eskatologiese verlossing en 'n teken wat dui op die teenwoordigheid van die nuwe era en na die toekomstige perfeksie (vgl. Allen 2010:585; DeSilva 2000:457; Ellingworth 1993:661).

Konklusie 3

In Hebreërs 12:14 word die hoorders beveel om sonder ophou te strewe na vrede 'met almal' op grond van die vrede wat Christus hulle gegee het, en na heiligmaking op grond van die heiligheid wat Christus hulle geskenk het. Van die hoorders word verwag om gehoorsaam te wees aan hierdie opdrag op grond van die groot genade wat God aan hulle in Christus geskenk het. Indien nie, waarsku die skrywer, sal hulle nie die Here sien nie.

Uit die spesifieke nuanses van διώκω, είρήνη en αγιασμός binne die konteks van 12:14 is dit egter nie moontlik om met oortuiging af te lei of die skrywer met πάντων verwys na alle mense oral, of die geloofsgemeenskap aan wie hy skryf nie. Tog tiep die skaal so effens in die guns van πάντων as die geloofsgemeenskap as mens die direkte koppeling tussen είρήνη en άγιασμός in ag neem. Die skrywer se opdrag om te strewe na heiligmaking sluit sonder twyfel nie die breër gemeenskap in nie. Met die strewe na heiligmaking verwys die skrywer daarna dat die geloofsgemeenskap moet strewe na heiligmaking op grond van die heiligheid wat Christus aan hulle geskenk het. Hierdie interpretasie word verder ondersteun deur die feit dat die opdrag om te strewe na heiligmaking in 12:14b die pad voorberei vir die opdragte onderling in 12:15-16 (vgl. Lane 1991:451). Indien so verstaan, is dit meer waarskynlik dat die skrywer met είρήνην διώκετε μετα πάντων verwys na die hoorders se opdrag om te strewe na vrede met al die lede van die geloofsgemeenskap aan wie hy skryf.

 

Eindkonklusie

In hierdie artikel is daar gepoog om te bepaal na wie die Hebreërskrywer in 12:14 verwys met 'almal' (πάντων), aangesien daar hieroor verdeeldheid is onder biblioloë. Sommige meen dat die skrywer in 12:14 sy hoorders beveel om te strewe na vrede met alle mense oral, terwyl ander meen dat hy hulle beveel om te strewe na vrede met al die lede van die geloofsgemeenskap aan wie hy skryf.

Vanuit die bepaling van die plek van Hebreërs 12:14 binne die boek, die sintaktiese analise van die voorsetselfrase μετα πάντων en die semantiese analise van είρήνη is daar bepaal dat slegs die plek van 12:14 binne die boek en die koppeling tussen είρήνη en αγιασμός werklik die interpretasie ondersteun dat die skrywer met 'almal' verwys na al die lede van die geloofsgemeenskap aan wie hy skryf, en nie na alle mense oral nie. In 12:14-17 beveel die skrywer sy hoorders om aanhoudend vir die ander lede van die gemeenskap te sorg in die lig van moontlike afvalligheid wat dreig. Die plek van 12:14 binne die struktuur van Hebreërs maak dit dus meer waarskynlik dat die skrywer in 12:14 'n opdrag vir sy hoorders onder mekaar gee, naamlik dat hulle onderling vrede met almal in hulle geloofsgemeenskap moet soek. Net so maak die koppeling tussen είρήνη en άγιασμός dit meer waarskynlik dat die skrywer in 12:14 sy hoorders beveel om te strewe na onderlinge vrede, aangesien die opdrag om te strewe na heiligmaking nie die breër gemeenskap insluit nie. Die strewe na vrede binne konteks kom dan daarop neer dat die hoorders noukeurig moet sorg dat nie een van hulle geloofsgenote van die lewende God afvallig word vanweë apostasie nie. Vir gelowiges vandag beteken dit dan dat die opdrag in Hebreërs 12:14 hulle oproep om gedurig op die uitkyk te wees dat hulle medegelowiges in die geloof volhard. Hulle moet daartoe strewe dat niemand vanweë enige rede van die lewende God afvallig word nie.

Tog is dit hoegenaamd nie 'n uitgemaakte saak dat die skrywer in 12:14 met 'almal' slegs na die lede van die geloofsgemeenskap aan wie hy skryf, verwys nie. Nie die sintaktiese of semantiese analise van 12:14 kon hierdie argument oortuigend ondersteun nie. Dit is ook meer waarskynlik dat die eerste hoorders hierdie opdrag eenvoudig sou gehoor het as 'Streef na vrede met almal' (DeSilva 2000:458). Hierdie opdrag sou ook waarskynlik ander soortgelyke opdragte in die Skrif - waarvan die meeste aan die hoorders goed bekend sou gewees het -oproep (vgl. Ps 34:15 [33:15 LXX]; Rom 12:18; 14:19; 1 Pet 3:11). Dit sou in effek beteken dat die Hebreërskrywer met hierdie opdrag sy hoorders oproep om te strewe na vrede met alle mense oral - ook diegene wat hulle vervolg (Heb 10:32-34). Dit mag dalk nie altyd moontlik wees nie, want hulle vervolgers mag weier om in vrede met hulle saam te lewe. Maar die Hebreërskrywer verwag van sy hoorders om te midde van vervolging en onderdrukking vredeliewend te bly, en om nie te reageer met vergelding en aggressie nie (vgl. Bruce 1990:348). Sodoende kan die seën van God se vrede deur hulle vloei na die lewens van ander, en kan die effek van die evangelie ervaar word in die gemeenskap in geheel (vgl. Hughes 1977:536). Indien die opdrag in Hebreërs 12:14 so verstaan word, word presies dieselfde optrede van gelowiges vandag verwag.

Met alles in ag geneem lyk dit nie of ons in Hebreërs 12:14 voor 'n keuse gebring word tussen 'almal' (πάντων) as alle mense oral of 'almal' as al die lede van die geloofsgemeenskap nie. Die keuse bestaan nie uit óf ... óf nie, maar uit én ... én. DeSilva (2000:458-459) se voorstel lyk baie verstandig as hy argumenteer dat die Hebreërskrywer in 12:14 sy hoorders in die eerste plek oproep om te strewe na vrede binne die gemeenskap, maar dat dit 'n oordrewe beperking sal wees om 'n absolute (of selfs sigbare) lyn te trek tussen die geloofsgemeenskap en die breër gemeenskap (vgl. Gal 6:10). Naas die geloofsgemeenskap roep die skrywer ook sy hoorders op om te strewe na vrede met alle mense.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Allen, D.L., 2010, Hebrews: The new American commentary, vol. 35, Broadman & Holman Publishers, Nashville, TN.         [ Links ]

Arndt, W., Danker, F.W. & Bauer, W., 2000, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, based on Walter Bauer's Griechisch-deutsches Worterbuch zu den Schriften des Neuen Testaments und der fohrchristlichen [sic] Literatur, 6th edn., University of Chicago Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Attridge, H.W., 1989, The Epistle to the Hebrews, Hermeneia, Fortress Press, Philadelphia, PA.         [ Links ]

Blass, F. & Debrunner, A., 1961, A Greek grammar of the New Testament and other early Christian literature, transl. and ed. R.W. Funk, University of Chicago Press, Chicago, IL.         [ Links ]

Bruce, F.F., 1990, The Epistle to the Hebrews: The new international commentary on the New Testament, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Calvyn, J., 1853, Commentaries on the Epistle of Paul the apostle to the Hebrews, transl. and ed. J. Owen, Christian Classics Ethereal Library, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Cockerill, G.L., 2012, The Epistle to the Hebrews: The new international commentary on the New Testament, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Coetsee, A.J., 2014, 'Die sprekende God in die boek Hebreërs: 'n Openbaringshistoriese studie', PhD proefskrif, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

DeSilva, D.A., 2000, Perseverance in gratitude: A socio-rhetorical commentary on the Epistle 'to the Hebrews', William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Ellingworth, P., 1993, The Epistle to the Hebrews: The new international Greek Testament commentary, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Foerster, W., 1976, 'είρήνη, είρηνεύω, είρηνικός, είρηνοποιός, είρηνοποιέω', in G. Kittel & G. Friedrich (eds.), Theological dictionary of the New Testament, transl. and ed. G.W. Bromiley, vol. 2. pp. 400-420, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Grässer, E., 1997, An die Hebräer. Teilband 3: Hebr 10, 19-13, 25, Benzinger, Neukirchen. (Evangelisch-Katholischer Kommentar zum Neuen Testament Band 17).         [ Links ]

Guthrie, G.H., 1994, The structure of Hebrews: A text-linguistic analysis, Brill, Leiden. (Supplements to Novum Testamentum 73).         [ Links ]

Hughes, P.E., 1977, A commentary on the Epistle to the Hebrews, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Janse van Rensburg, J.J., 1980, 'Die ontleding van sintaktiese struktuur in die Griekse Nuwe Testament: Die ontwerp van 'n metode, geïllustreer met Romeine 8: 'n Hermeneutiese studie', PhD proefskrif, PU vir CHO.         [ Links ]

Johnson, L.T., 2006, Hebrews: A commentary. The New Testament library, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Kittel, G. & Friedrich, G. (eds.), 1976, Theological dictionary of the New Testament: Volumes 1-10, transl. and ed. G.W. Bromiley, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Koester, C.R., 2001, Hebrews: A new translation with introduction and commentary. The Anchor Bible, vol. 36, Yale University Press, New Haven, CT.         [ Links ]

Lane, W.L., 1991, Hebrews 9-13: Word Biblical commentary, vol. 47B, Thomas Nelson Publishers, Nashville, TN.         [ Links ]

Liddell, H.G. & Scott, R., 1996, A Greek-English lexicon, revised and augmented by H.S. Jones & R. McKenzie, Clarendon Press, Oxford.         [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E.A. (eds.), 1996, Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains, 2nd edn., vol. 1 & 2, United Bible Societies, New York, NY.         [ Links ]

MacLeod, D.J., 1989, 'The literary structure of the book of Hebrews', Bibliotheca Sacra 146, 185-197.         [ Links ]

McCown, W.G., 1981, 'Holiness in Hebrews', Wesleyan Theological Journal 16(2), 58-78.         [ Links ]

Mitchell, A.C., 2007, Hebrews: Sacra pagina series, vol. 13, Liturgical Press, Collegeville, PA.         [ Links ]

Moffatt, J., 1924, A critical and exegetical commentary on the Epistle to the Hebrews: The international critical commentary, T&T Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Nauck, W., 1960, 'Zum Aufbau des Hebräerbriefes', in W. Eltester (ed.), Judentum - Urchristentum - Kirche, Festschrift J. Jeremias, Beihefte zur Zeitschrift für die neutestamentliche Wissenschaft 26, pp. 199-206, Alfred Töpelmann, Berlin.         [ Links ]

Vanhoye, A., 1989, Structure and message of the Epistle to the Hebrews, transl. J. Swetnam, Editrice Pontifício Instituto Biblico, Rome. (Subsidia Biblica 12).         [ Links ]

Weiss, H.F., 1991, Der brief an die Hebräer: Kritisch-exegetischer kommentar über das Neue Testament, Bd. 13, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Westcott, B.F., 1974, The Epistle to the Hebrews: The Greek text with notes and essays, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Westfall, C.L., 2005, A discourse analysis of the letter to the Hebrews: The relationship between form and meaning, T&T Clark, London. (Library of New Testament Studies 297).         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Albert Coetsee
Private Bag X6001
Potchefstroom 2520
South Africa
albertcoetsee@gmail.com

Received: 23 Mar. 2015
Accepted: 07 Apr. 2015
Published: 03 July 2015

 

 

This article was initially a paper presented at the NAVNUT/NAVNOT conference (20-22 January 2015) at the North-West University, Potchefstroom Campus.
1. Alle Afrikaanse vertalings kom uit die nuutste proefvertaling wat deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika uitgegee is, naamlik 'Die Bybel: 'n Direkte Vertaling'.
2. Kyk veral die monografieë van Guthrie (1994), Vanhoye (1989) en Westfall (2005).
3. Nauck (1960) was die eerste persoon wat geargumenteer het dat Hebreërs op grond van die inclusio in 4:14-16 en 10:19-23 beskou moet word as 'n diskoers met drie hoofafdelings, gebou rondom horatiewe blokke materiaal, elkeen gekenmerk deur parallelle gedeeltes aan die begin en einde. Die drie makro-afdelings wat hy identifiseer is 1:1-4:13, 4:14-10:31 en 10:32-13:25. Myns insiens maak dit meer sin dat 4:14-16 en 10:19-23 die begin van 'n nuwe makro-afdeling in Hebreërs aandui, wat beteken dat die drie makro-afdelings geneem moet word as 1:1-4:13, 4:14-10:18 en 10:19-13:25.
4. Alhoewel 11:1-40 nie 'n enkele imperatief of hoofsin-subjunktief bevat nie, en die afdeling gevolglik verklarend in vorm is, is die bedoeling sonder twyfel om die hoorders aan te moedig.
5. Kyk Coetsee (2014:72-76) vir 'n gedetailleerde beskrywing van verwysings na God se spraak in hierdie makro-afdeling.
6. 'n Ankerwoord is 'n woord aan die einde van een perikoop en dan weer aan die begin van die volgende om 'n oorgang tussen twee perikope te bewerkstellig, en die twee perikope saam te bind (vgl. MacLeod 1989:186-190; Vanhoye 1989:20).
7. Hierdie kontras word pragtig aangedui deur
Ού γαρ προσεληλύθατε (12:18) en άλλα προσεληλύθατε (12:22).
8. Die saamtrek van so baie temas in 12:14-29 maak dat talle akademici hierdie afdeling as die pastorale, teologiese en retoriese klimaks van die boek beskou (o.a. Cockerill 2012; Ellingworth 1993; Guthrie 1994; Lane 1991; Westfall 2005).
9. Blass en Debrunner (§464) beskryf 'n periode as die organisering van 'n hele aantal klousules of frases tot 'n afgeronde eenheid.
10. Hierdie metode van visuele uiteensetting van die sintaktiese analise van 'n vers is gebaseer op die uiteensetting wat deur J.J. Janse van Rensburg (1980) in sy proefskrif ontwikkel is.
11. Volgens Blass en Debrunner (§216[2]) is hierdie die enigste plek in die Nuwe Testament waar die voorsetselfrase
χωρίς voorafgegaan word deur sy komplement.
12.
εί δυνατόν το έξ υμών, μετά πάντων ανθρώπων είρηνεύοντες ['As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense'J.
13. Die voorsetselfrase
μετ' είρήνης in 11:31 moet waarskynlik vertaal word met 'in vrede', naamlik dat Ragab die spioene in vrede ontvang het.
14. Afkortings word gebruik om te verwys na woordeboeke waaruit verklarings kom. TDNT verwys na Kittel en Friedrich (reds. 1976) se Theological dictionary of the New Testament (1976), L&S na Liddell en Scott se A Greek-English lexicon (1996), L&N na Louw en Nida (reds. 1996) se Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains en BDAG na Arndt, Danker en Bauer se A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature (2000).
15.1 Petrus 3:11 is deel van die langer aanhaling van Psalm 34:13-17 in 1 Petrus 3:1012. 1 Petrus 3:11 bevat die woorde van Psalm 34:15 (33:15 LXX). Naas Romeine 14:19 en 1 Petrus 3:11, vgl. ook 2 Timoteus 2:22, waar die geadresseerdes beveel word om te strewe na geregtigheid, geloof, liefde en vrede.
16. Lane (1991:450) verwys daarna dat woorde wat eindig met -
μος in Koine Grieks dikwels verwys na 'n aksie of proses. Cockerill (2012:634) stel dat hierdie beskrywing baie gepas is: Alhoewel 'heiligheid' in Hebreërs altyd verwys na die gawe wat God aan gelowiges deur Christus gee, verwys 'heiligheid' in 12:14 nie net na 'n eenmalige gawe nie, maar eerder na 'n aanhoudende reiniging van sonde dwarsdeur die gelowige se lewe op grond van Christus se gawe.
17. Vir parallelle uitsprake oor Christene se oproep om heilig te lewe, vergelyk onder andere Romeine 6:19,22; 1 Tessalonisense 4:3; 1 Petrus 1:15-16 ('n aanhaling uit Lev 11:44, 45; 19:2; 20:26).
18. Hebreërs 12:14 het 'n opvallende parallel met Matteus 5:8-9. In Matteus 5:8 sê Jesus dat diegene wat rein van hart is, God sal sien (
οτι αύτοί τόν θεόν όψονται); vgl. Hebreërs 12:14 se voorwaarde sin ού χωρίς ούδείς όψεται τόν κύριον. In Matteus 5:9 noem Jesus die vredemakers (οί είρηνοποιοί) geseënd; vgl. Hebreërs 12:14 se verwysing na είρήνη. So opvallend as wat dit mag wees, dui hierdie parallelle waarskynlik nie op direkte afhanklikheid nie, maar eerder op die gemeenskaplike (Christelike) agtergrond van beide Matteus en Hebreërs.
19. Vergelyk Hebreërs 13:20 en 7:2 wat onderskeidelik impliseer dat God en Christus (met Melgisedek as 'n tipe of voorafskaduwing van Christus) die bron van vrede is.
20. Cockerill (2012:633) stem in 'n mindere sin met hierdie interpretasie saam deur te sê dat die 'vrede' waarna hier verwys word, die resultaat is van die heiligheid wat Christus aan die hoorders gegee het.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License