SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.71 número3Holistic redemptive pastoral ministry in the fragmented transit hall of existenceThe forming of a contemporary understanding of church office: Jesus' calling to discipleship índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


HTS Theological Studies

versión On-line ISSN 2072-8050
versión impresa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.71 no.3 Pretoria  2015

http://dx.doi.org/10.4102/HTS.V71I3.2887 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die Wereldbond van Gereformeerde Kerke, die Nederduitse Gereformeerde Kerk en 'n status confessionis teen die teologiese en morele regverdiging van apartheid

 

The World Alliance of Reformed Churches, the Dutch Reformed Church and a status confessionis against the theological and moral justification of apartheid

 

 

Piet J. Strauss

Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

Correspondence

 

 


OPSOMMING

In 1982 the World Alliance of Reformed Churches (WARC) announced a status confessionis against the theological and moral justification of apartheid. It expelled two member churches, the Dutch Reformed Church (DRC) and the Netherdutch Reformed Church of Africa (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika) because of their known support of apartheid. This situation could only be changed if these two churches were to unequivocally reject apartheid on the basis of a status confessionis and show specified practical examples of this rejection. The meaning of a status confessionis as applied by the WARC is analysed. The reason why the WARC came to a status confessionis is historically investigated. The reaction of the DRC to this resolution and its readmittance as a member of the WARC is clarified. Attention is also given to the condition that accepting a status confessionis against the support of apartheid does not mean - for the WARC at least - that a new confession of faith should follow from this.


 

 

Inleiding en probleemstelling

Die Algemene Vergadering van die Wereldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) in 1982 in Ottawa (Kanada) kom met die sterkste veroordeling van apartheid waartoe kerke as geloofsinstellings in staat is. In die sogenaamde internasionale jaar van die kerk teen apartheid verwerp die WBGK die teologiese en morele regverdiging van apartheid (hy noem dit ook separate development) met 'n status confessionis. Met hierdie stap sorg hy - waarskynlik - vir die hoogtepunt van 1982 se kerklike jaar teen apartheid (Strauss 2004:99).

Die Algemene Vergadering beskou apartheid as rassisme. Vir hom is dit afgodery, verraad teenoor die evangelie, 'n dwaling en kettery. Die teologiese en morele regverdiging daarvan is 'n pseudo-religieuse ideologie en 'n weerspreking van die evangelie. Apartheid steun 'to a large extent' op 'n teologiese en morele regverdiging. 'n Regverdiging wat hy in die Afrikaanse gereformeerde kerke vind. Die aard van apartheid in Suid-Afrika wek weerstand in die vorm van 'n status confessionis deur die lidkerke van die WBGK. Dit beteken dat dit nie moontlik is om hieroor van hulle te verskil sonder 'seriously jeopardizing the integrity of our common confession as Reformed Churches' nie. Gereformeerd kerklike steun vir apartheid ondermyn die geloofwaardigheid van die verkondiging van die evangelie en die gereformeerde belydenisse. Kerke in Suid-Afrika wat apartheid regverdig, misbruik die evangelie én die belydenisse. Gods Woord belowe vrede, regverdigheid en bevryding. Dit is goeie nuus vir die armes, redding vir die verdruktes en 'n oordeel waar die regte van mense ontken, en humaniteit en die gemeenskap van die gelowiges vernietig word.

Daarom skors die vergadering 'reluctantly and painfully' die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) as lidkerke omdat hulle apartheid ondersteun. Lidmaatskapsregte, soos die stuur van afgevaardigdes na algemene vergaderings en na die kommissies en komitees van die verskillende departemente van die WBGK, word hulle ontneem. Die skorsing bly van krag totdat die Uitvoerende Komitee tevrede is dat daar by hierdie twee kerke 'n change of heart is. Hulle sal terugverwelkom word as die volgende in hulle gebeur: Swart Christene word nie meer van die erediens en die nagmaal uitgesluit nie, die slagoffers van apartheid word ondersteun en sinodes verwerp dié beleid ondubbelsinnig (unequivocally) (WARC 1983:176-180; volledige besluit ook in Hofmeyr, Millard & Froneman 1991:333-337).

Die bewoording is duidelik skerp veroordelend. Tog ontstaan daar twee vrae na aanleiding van hierdie verklaring van die WBGK.

In die eerste plek gee dit min detail oor wat in die pogings om apartheid teologies en moreel te regverdig, afgekeur word. Apartheid word sonder motivering en ongenuanseerd rassisme, afgodery, dwaalleer, 'n ideologie en weersprekend met die evangelie genoem. Wat wel motiverend vir hierdie stellings kan wees, is die stellings van die WBGK wat hierop volg. Dit is dat apartheid van die onversoenbaarheid van mense uitgaan en so die werk van Christus om te versoen en te verenig, geringskat; dat apartheid met rassistiese strukture wit mense bo swartes op grond van hulle ras bevoordeel; en dat apartheid onreg en verdrukking skep waardeur families van mekaar geskei word en miljoene mense swaarkry (WARC 1983:175; ook in Hofmeyr et al. 1991:336).

Die vraag is dus: Lei die gesamentlike gewig van al hierdie stellings vir die WBGK tot 'n kerklike weerstand teen apartheid op die vlak van 'n status confessionis? Ondermyn hierdie faktore die geloofwaardigheid of integriteit van die gereformeerde belydenis? Wat is die inhoud en die effek van die status confessionis van die WBGK en waarop is dit gebaseer?

Tweedens word apartheid hier huidjie en muidjie afgekeur. Om aan te toon dat alle vorme van apartheid in sy visier is, plaas die WBGK die woorde separate development telkens na apartheid verduidelikend in hakies. Daarom stel hy dit as sy derde vereiste vir die heropname van die NGK en die NHKA in die WBGK: Hulle ondubbelsinnige verwerping van apartheid. Die vraag is, is hierdie afleiding korrek? Hoe sou die NGK hierop reageer om sy skorsing opgehef te kry?

Die NGK het sy steun aan apartheid by die Algemene Sinode van 1986 verander met die dokument 'Kerk en Samelezving-1986' (KS-1986) (NGK 1990b). KS-1986 was die eerste amptelike reaksie van die NGK op - onder meer -Ottawa-1982. Hoe het die NGK in sy situasie op die status confessionis en die drie vereistes van Ottawa-1982 gereageer? Het die NGK met sy kritiek op apartheid na 1986 op die vlak van 'n kerklike belydenis beweeg? Veroordeel KS-1986 en KS-1990 apartheid ongekwalifiseerd? Waarom is die skorsing van die NGK eers twaalf jaar na KS-1986, in 1998, opgehef?

In die lig van hierdie vrae word daar gekonsentreer op die WBGK, die NGK en 'n status confessionis teen die teologiese regverdiging van apartheid.

 

Die WBGK en apartheid: 'n Belydende kerk?

Teen 1982 het die WBGK reeds 'n geskiedenis in sy hantering van apartheid gehad.

Apartheid was die ongenoemde rede vir die Algemene Vergadering van die - toe - Presbiteriaanse Wêreldalliansie

(PWA) in 1964 in Frankfurt, Duitsland, om rassisme as verraad teen die evangelie te verklaar. Op hierdie stadium was apartheid reeds 'n internasionale nuusmaker. Die dramatiese onrus by Sharpeville en op ander plekke in Suid-Afrika sedert 21 Maart 1960, sou daarvoor sorg (Strauss 2004:99). Volgens die PWA in 1964 (sien WARC 1983) is die uitsluiting van enige persoon uit any congregation op grond van ras, kleur of nasionaliteit in stryd met die geloofsaard van die kerk. So iets maak die getuienis van die kerke oneffektief. Die Algemene Vergadering in Nairobi in 1970 noem rassisme afgodery. 'n Kerk wat 'n segregation of peoples ondersteun as 'n lewenswet - ook vir die kerk - is nie 'n egte (authentic) lid van die liggaam van Christus nie. Die NGK en die NHKA word by name genoem, maar die saak nie opgevolg nie (vgl. volledige besluit in Hofmeyr et al. 1991:334).

By hierdie Algemene Vergadering van 1970 waar die PWA omvorm word tot die WBGK, is daar pogings van 'nie-Afrikaanse kerke' uit Suid-Afrika om die NGK uit die WBGK geskors te kry. Slegs die tussenkoms van die Uitvoerende Komitee en 'n besluit om sake later in Suid-Afrika deur te praat, verhoed dit (Strauss 2002:189, 2004:99).

Hierna sou die weerstand teen die NGK se steun aan apartheid vanuit lidkerke van die WBGK hoofsaaklik uit Suid-Afrika uit die familie van die NGK kom. Woordvoerders teen apartheid in hierdie familie sou 'n voorbeeld en inspirasie vir hulle doen en later in die sogenaamde Bekennende Kirche (Belydende Kerk) in Duitsland in die 1930's teen Adolf Hitler en die nasionaal-sosialisme vind (De Gruchy 1983:75). Dieselfde woordvoerders kon ook gebruik maak van terme wat reeds in die verklarings van die WBGK voorkom. Terme wat op die grond- of basisvlak van die geloof van gereformeerde kerke lê en kernwaarhede aansny met belydenisimplikasies (Strauss 2004:100): Die veroordeling van rassisme (by implikasie apartheid) as afgodery en verraad teen die evangelie en die stelling dat so iets die verkondiging van die evangelie oneffektief maak. Hier word rassisme as - streng gesproke -'n etiese kwessie voor 1982 reeds in verband gebring met die grondvlak van die geloof en daarvan 'n ernstige dogmatiese kwessie gemaak - 'n gebruik wat die idee van 'n belydende kerk teen apartheid stimuleer.

'n Belydende kerk werk in sy belydenisse met die basis of akkoord van kerklike gemeenskap (Smit, C.J. 1984:62-65). 'n Akkoord wat die dogmaties georiënteerde kernwaarhede van die Christelike geloof moet verwoord. In 'n gereformeerde kerk is die Bybel sy eerste of voltooide norm en sy belydenis of geloofsreaksie hierop die tweede of onvoltooide norm (Bouwman 1985:569) Die belydenis as 'n Skrifgebonde, onvoltooide, menslike uitdrukking van die kern of vertrekpunte van die Christelike geloof gaan egter alle ander kerklike aktiwiteite, eweneens onvoltooid en hersienbaar, vooraf. Daarom is belydenisgebonde of -georiënteerde uitsprake die sterkste uitsprake wat 'n kerk kan maak.

Die eerste spore van 'n belydenisbeweging teen die teologiese en morele begronding van apartheid kom in 1965 van die direkteur van die destydse Christelike Instituut, Beyers Naudé. Naudé verlaat die bediening in die NGK in 1963 (vgl. Naudé 1964). Op 15 Julie 1965 kom hy met 'n oproep in die lyfblad van die Instituut, Pro Veritate: 'Die tyd vir 'n belydende kerk is daar!' Hy sien parallelle tussen die situasie in Nazi-Duitsland en apartheid Suid-Afrika in die 1960's (Naudé 1965:1).

In 1976 promoveer 'n jong predikant van die NG Sendingkerk, 'n aparte kerk in die NG Kerkfamilie, in Kampen, Nederland met 'n proefskrif getitel Afscheid van de onschuld (Boesak 1977). Allan Boesak adem 'n swart bevrydingsteologie waarin hy swart koppel aan mense wat hulle in 'n bepaalde kader van verdrukwees bevind. Na sy terugkeer na Suid-Afrika verwerf hy gou 'n invloedryke posisie in die NG Sendingkerk. Boesak is deel van 'n radikale interkerklike drukgroep teen apartheid, die NG Broederkring. Later noem hierdie groep hulleself die Belydende Kring. In hierdie naam kom die strewe na 'n belydenisbeweging teen apartheid direk na vore. Hulle word hierin versterk deur die Sinode van 1978 van die NG Sendingkerk wat verklaar dat apartheid nie met die evangelie van Jesus Christus versoen kan word nie (Boesak 1983:8).

In 1981 is Boesak 'n sentrale figuur by die totstandkoming van die 'Alliance of Black Reformed Churches in Southern Africa' (ABRECSA). 'Alliance' herinner aan die Engelse naam van die WBGK, die 'World Alliance of Reformed Churches'. Boesak se instemming met die naam ABRECSA openbaar sy voorkeur vir die WBGK as dié ekumeniese liggaam wat teen apartheid ingespan moet word. In sy openingsrede by die eerste ABRECSA-konferensie in Oktober 1981 by Hammanskraal bepleit Boesak 'n eietydse anti-apartheidsbelydenis (Smit, D.J. 1984b:30).

Boesak se invloed is ook sigbaar in die ABRECSA-charter wat die konferensie uitreik. Hierin gebruik die byeenkoms frases wat in die WBGK-besluite van 1982 geyk raak. So glo ABRECSA unequivocally dat apartheid sonde is. Die morele en teologiese regverdiging daarvan is 'n verdraaiing (bespotting) van die evangelie, kettery en verraad teenoor die gereformeerde tradisie. Daarom word die WBGK opgeroep tot aksie teen die NGK in sy regverdiging van apartheid. Die NGK is immers 'n lid van die WBGK en Boesak en van sy geesgenote lidmate van 'n lidkerk van die NG Familie. Die WBGK moet lidkerke aanmoedig om die radikale 'Program ter Bestryding van Rassisme' van die Wereldraad van Kerke te ondersteun. Hierdie program het 'n spesiale fonds wat geld vir humanitêre doeleindes aan organisasies in Suider-Afrika wat hulle regerings met die wapen beveg, skenk. Organisasies soos die ANC (Suid-Afrika), Swapo (Namibië), Zanu en Zapo (Zimbabwe) (vgl. volledige verklaring in De Gruchy en Villa-Vicencio 1983:161-8; kyk ook Strauss 2002:187) ontvang geld uit hierdie fonds.

Van buite Suid-Afrika kom daar in hierdie tyd ook steun vir 'n kerklike belydenisbeweging teen apartheid. In 1977 oorreed die Suid-Afrikaner Manas Buthelezi die Lutherse Wereldbond wat in Dar es Salaam vergader, om te verklaar dat die situasie in Suid-Afrika 'n status confessionis daarstel (De Gruchy & Villa-Vicencio 1983:160-161). Op 14 Februarie 1980 verklaar 'n konsultasie oor rassisme by Hammanskraal dat wit Christene se onwilligheid om van rassisme afstand te doen, swart Christene noop om 'n belydende kerk te word (Smit, D.J. 1984:19-20).

Teen hierdie agtergrond was 'n klimaat aan die opbou wat die gebeure by die WBGK in 1982 beslis sou beïnvloed. Hierdie moontlikheid is verhoog deur die standpunt van die gerekende Suid-Afrikaanse missioloog, David Bosch, aan die begin van 1982 dat apartheid 'n kettery is 'which strikes at the very foundation of the church' (Bosch 1983:36).

Dat apartheid vanuit die grondoortuigings of belydenis van die gereformeerde kerke weerspreek moet word, het teen 1982 'n uitkringende konsensus onder kerklikes geword. Beide ABRECSA en die NG Broederkring het vooraf dokumente aan die lidkerke van die WBGK versprei om hulle vir die debat oor apartheid by Ottawa-1982 voor te berei. Die NGK en die NHKA kon by hierdie byeenkoms 'n vuurwarm ontvangs verwag.

 

Die inhoud en impak van die status confessionis van die WBGK van 1982

Hoewel elemente van die besluit oor apartheid van die WBGK in sy aanloop tot en formulering op die Algemene Vergadering van 1982 nie duidelik gemotiveer is nie, was die aanvaarding van 'n status confessionis teen die teologiese en morele regverdiging van apartheid deur lidkerke van die WBGK teen hierdie tyd 'n realistiese moontlikheid. In die emosionele klimaat ten gunste van so 'n status confessionis kon 'n kerk se weerstand hierteen vir hom ingrypende konsekwensies inhou. Boesak en sy geesgenote was dus suksesvol in die wyd verspreide aanvaarding van terme soos verraad teenoor die evangelie, afgodery, 'n dwaling, kettery en die ondermyning van die geloofwaardigheid van die gereformeerde belydenis. In die skerp reaksie uit die Derde Wêreld teen Westerse kolonialisme, chauvinisme en rassemeerderwaardigheid, het hierdie terme 'n sterk bondgenoot gevind.

Die vraag is of die verteenwoordigers van die NGK en die NHKA die omvang en diepte van hierdie klimaat behoorlik gepeil het in hulle voorbereiding vir die vergadering. Dat hulle nie op alles voorbereid was nie, blyk uit hulle reaksie op die gebeure by die opening van die vergadering.

Die Algemene Vergadering van die WBGK in Ottawa begin met 'n nagmaalsgeleentheid waarby die afgevaardigdes aansit. 'n Nagmaal wat ook hulle eenheid (en gelykheid) in Christus simboliseer. Kort voor die diens lê 11 verteenwoordigers van die jonger NG Kerke egter 'n verklaring af waarin hulle aandui dat hulle hulle onttrek aan die diens. Hulle doen dit omdat anderskleuriges in Suid-Afrika nie by die nagmaal van die wit gemeentes van die NGK en die NHKA mag aansit nie. Volgens hulle kan die teologiese kettery van hierdie kerke wat apartheid racism regverdig, na die nagmaalstafel teruggevoer word (NGK 1982:1008).

Hierdie demonstrasie word vir die verteenwoordigers van die NGK, volgens eie getuienis, 'n 'pynlike ervaring' (NGK 1982:1010). Apartheid as tema oorheers die res van die vergadering.1

By die aanwysing van 'n nuwe president vir die WBGK stel die Nominasiekomitee voor dat dit 'n persoon uit die Derde Wêreld moet wees wat genoeg ervaring van die WBGK en sy 149 lidkerke het. Terselfdertyd moet hierdie keuse 'n harde en geloofwaardige nee teen apartheid laat hoor. Die verkiesing sal 'n aanduiding wees van die WBGK se houding oor apartheid én die opkoms en erkenning van die Derde Wêreld na die Tweede Wêreldoorlog. Boesak word deur die Nominasiekomitee voorgestel en deur die vergadering verkies (Verslag Nominasiekomitee in NGK 1982:1018-20). Behalwe om sy veronderstelde bekwaamheid, staan die motivering van sy verkiesing in na-apartheidsterme ook in die teken van 'n doelbewuste regstellende aksie.

In 'n toespraak voor die Algemene Vergadering van die WBGK herhaal Boesak van sy bekende frases teen die teologiese regverdiging van apartheid deur wit gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Frases wat in die ABRECSA-charter voorkom sal net so in die WBGK-besluit of verklaring van 25 Augustus 1982 opgeneem word. Vir Boesak is apartheid 'n pseudo-religious ideology en 'n pseudo-gospel'. Die teologiese regverdiging daarvan bring die geloofwaardigheid van die evangelie in gedrang. Dit is afgodery, kettery en 'n degradering of veronthumanisering van mense. Omdat die NGK apartheid teologies en moreel ondersteun het én steun, moet hy volgens Boesak aanspreeklikheid vir die bestaan daarvan aanvaar. Hierdie steun deur gereformeerde kerke stel 'n status confessionis daar (Boesak 1983:1-9). 'This means that churches should recognize that apartheid is a heresy, contrary to the Gospel and inconsistent with the Reformed tradition, and consequently reject it as such' (Boesak 1983:8).

Begrippe soos dat apartheid afgodery, kettery, die ontkenning van die mens as beeldraer van God en 'n kwasi-evangelie is, beweeg onteenseglik op die vlak van 'n kerklike belydenis. Dit handel immers oor kernwaarhede as die soort waarhede wat in 'n belydenis wat sy eie tyd moet oorleef, opgeneem kan word. Met die aanvaarding van hierdie begrippe bevind kerke hulle dus in die buurt van 'n status confessionis. Al word al die begrippe hierin gebruik nie vanuit die Skrif of die belydenis gemotiveer nie. Die betekeniswaarde van die begrippe lê op die vlak van die Christelike belydenis.

Na 'n ope hearing oor apartheid op die middag van 19 Augustus en 'n indringende debat deur die hele vergadering op 25 Augustus 1982, word die voorgestelde verklaring van 'n ad hoc-kommissie oor apartheid met enkele wysigings met 220-20 aanvaar. Twaalf persone bly buite stemming (verslag WBGK sekretaris-generaal Perret in NGK 1982:1018; Strauss 2004:105).

Gemeet aan dit wat reeds verduidelik is, is die uitkoms van die verklaring 'n triomf vir Boesak, die NG Broederkring, ABRECSA en die kerklike belydenisbeweging teen apartheid. Die nou bekende terme vir 'n teologiese en morele regverdiging van apartheid kom hierin voor: Dit is 'n dwaling, afgodery, kettery, ensovoorts, en plaas die WBGK in sy weerstand daarteen op 'n status confessionis. Oor die status confessionis verduidelik die Algemene Vergadering dat dit nie moontlik is om hieroor van hom te verskil sonder om die integriteit (erns en geloofwaardigheid?) van die gemeenskaplike belydenis (common confession) van gereformeerde kerke te ondermyn nie (WARC 1983:177; volledige besluit ook in Hofmeyr et al. 1991:333-337).

Die implikasie: Steun aan apartheid benadeel die hart van die kerklike bediening. Volgens die WBGK is dit 'n growwe kerklike misstap wat die belydenis as akkoord van kerklike gemeenskap en die inhoud van die evangelie waaruit die kerk leef, aantas.

Wat die WBGK betref, is die teologiese en morele ondersteuning van apartheid in Suid-Afrika nie net 'n dogmaties etiese kwessie nie. Dit sny dieper. Dit het 'n kwessie van belydenis geword. Kerklike weerstand daarteen kom vanuit die hart van die gelowiges se geloofsoortuigings.

Sterker kan 'n vergadering van kerke hulle nie uitspreek nie. Boonop word die skuldige lidkerke, die NGK en die NHKA, uit die WBGK geskors. Hulle lidmaatskapsregte word hulle ontneem. Daarby is hulle op die paadjie terug uitgelewer aan die begeleiding, oordeel en evaluering van die Uitvoerende Komitee waarvan Boesak die voorsitter is (NGK 1982:1013; Strauss 2004:107).

Whyte koppel die kwessie van 'n status confessionis aan die uitdrukking dat apartheid a heresy is. Die impak daarvan in 1982 is so ernstig dat hierdie kettery 'n status confessionis regverdig. Hy plaas die saak dus op dieselfde vlak as die kettery van die gnostici, Marcioniete en docetiste in die tyd van die vroeë kerk. Volgens hom was die Bekennende Kirche teen Hitler in die 1930's in Duitsland 'n sterk motivering vir die WARC-besluit van 1982 (Whyte 2012:150-1).

Die vraag of 'n dogmaties etiese kwessie soos apartheid tot 'n status confessionis kan lei, word dus oortuigend en positief deur die WBGK beantwoord. In sy ondersteuning van so 'n status confessionis voer Alfred Rauhaus van die Evangeliese Gereformeerde Kerk in Duitsland aan dat 'n status confessionis 'concerning ethical matters' moontlik is. Mense moet altyd verantwoordelik optree. Alle verwerplike menslike gedrag bou op oortuigings wat bots met die Christelike geloof. 'n Etiese dwaling berus op 'n leerdwaling in die wydste sin van die woord. Apartheid is gebaseer op 'n dwaling oor die beeld van die mens. Daarom was dit absolutely and unconditionally condemnable (kyk Rauhaus 2009). Rauhaus gee dus verdere inhoud aan woorde soos dwaling en kettery.

In sy steun aan die 1982-verklaring van 'n status confessionis deur die WBGK, koppel Henriksson dit aan die gereformeerde belydenis van die merktekens van die ware kerk. Volgens hom roep dit 'n status confessionis op as die geloofsingesteldheid, praxis en organisasiestruktuur van 'n kerk, die merktekens van die ware kerk, naamlik die suiwere bediening van die Woord en die sakramente en die handhawing van die kerklike tug weerspreek. Hy neem hierdie weerspreking by die NGK van 1982 én daarna waar (Henriksson 2010:268).

Hiermee word die keuse vir die verklaring van die WBGK in 1982 van status confessionis duidelik en verstaanbaar gemotiveer.

 

Onmiddellike kerklike reaksie: Die isolering van die NGK en die NHKA

In die gereformeerd-kerklike wêreld het die NGK en NHKA in hulle kerklike of teologiese en morele steun vir apartheid alleen gestaan. Die bal vir die verdere verloop van die spel was nou in hulle hande.

Op 17 September 1982 verwerp die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die NHKA die besluit van die WBGK oor apartheid. Die NHKA is nie van voorneme om aan die vereistes van die WBGK te voldoen nie en onttrek hom aan die Wêreldbond (volledige verklaring in Hofmeyr et al. 1991:338-340). Behalwe vir sy eie jong kerk, beperk hierdie onttrekking die ekumene van die NHKA tot die Afrikaanse gereformeerde kerke. Sy isolasie was feitlik volkome. Dreyer noem dit 'n isolasie wat in 1997 in 'n ander rigting gestuur word. In hierdie jaar aanvaar die Algemene Kerkvergadering 'n nuwe kerkorde wat uitdruklik bepaal dat die NHKA ekumeniese betrekkinge met ander kerke onderhou (Dreyer 2011:18).

In die NGK verloop sake anders.

Die Algemene Sinode van 1982 neem 'met leedwese' kennis van die WBGK se besluit oor apartheid en sy eie lidmaatskap van die Bond. 'n Eensydige beeld van die NGK is aan die Algemene Vergadering voorgehou. Die gevolg is 'n skokkende oordeel oor die NGK. Die sinode 'betreur' die voorwaardes vir die herstel van sy lidmaatskap. Verder sien hy elemente van die bevrydingsteologie in die formulerings van die WBGK. In 'n voorlopige reaksie op die klagtes en gevolgtrekkings van die Bond sê die Algemene Sinode dat 'n rassebewussyn en liefde vir jou eie volk nie sonde is nie (NGK 1982:1369).

Hierdie reaksie is egter tentatief en onvolledig. Dit dek nie die volle besluit van die WBGK nie. Nie by benadering nie. Die NGK onttrek hom egter nie aan die WBGK nie. Hy skort wel sy finansiële bydraes tot hierdie liggaam op (NGK 1982:1369; volledige besluit ook in Hofmeyr et al. 1991:342).

In kontras met die NGK en die NHKA aanvaar die NG Sendingkerk egter die Ottawa-besluit oor apartheid. Na die besluit van hulle Sinode van 1978 dat apartheid onversoenbaar is met die evangelie, is dit nie moeilik om dieselfde lyn verder te neem nie (Durand 1984:125). Die Sinode van 1982 neem sy besluit oor apartheid op 01 Oktober, nie lank na Ottawa nie. Die gloed van die gebeure by Ottawa kon nog oorspoel op die Sendingkerk. Boonop word Boesak die assessor van hierdie Sinode sodat hy sy invloed ook in sy eie kerk kon laat geld.

Die NG Sendingkerk aanvaar dat kerklike weerstand teen die 'sekulêre evangelie van apartheid' 'n status confessionis daarstel. In 'n verdere stap op hierdie lyn kom die vergadering met 'n anti-apartheidsbelydenis. Daarmee gee hulle gevolg aan 'n gedagte wat reeds by Boesak geleef het. Op inisiatief van Gustav Bam benoem die sinode 'n ad hoc-kommissie wat 'n konsepbelydenis vir hierdie Sinode moet regkry. Die konsep word finaal en dus amptelik deur die Sinode van 1986 met geringe wysigings aanvaar as die Belydenis van Belhar (uit 'Die NG Sendingkerk en apartheid' deur die Sendingkerk amptelik gestuur aan die Algemene Sinode van 1982, NGK 1982:1069-1087). Vir Bam is die teologiese en kerklike steun aan apartheid 'n saak wat sy geloof bedreig. Weerstand daarteen vra meer as 'n blote beleidsverklaring of 'n administratiewe reëling. Die woorde wat hier uitgespreek word, moet ook die status van 'n belydenis hê (NGK 1982:1072-1073).

Vir die NGK sou die NG Sendingkerk met hierdie belydenis die gevolge of eise van Ottawa-1982 kompliseer. Vanuit die breë belydende beweging teen apartheid was daar nou Ottawa-1982 en sy vereistes, én die aanvaarding van die Belydenis van Belhar. Vir een van sy jonger of familiekerke, die NG Sendingkerk wat in 1994 opgaan in die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suidelike Afrika (VGKSA), was Belhar 'n logiese konsekwensie van Ottawa-1982 én die nuut geformuleerde identiteit van hierdie kerk (Strauss 2013:45). As 'n saak in sy familie sou die NGK hom dus nie van Ottawa-1982 of Belhar kon losmaak nie. Beide het reaksie gevra. En, familie moet en wil ernstig geneem word.

Teen die agtergrond van al hierdie bedoelde of nie-bedoelde gevolge van Ottawa-1982, was die stukke KS-1986 en KS-1990 van die Algemene Sinodes van 1986 en 1990 nie genoeg om die WBGK van 'n change of heart by die NGK te oortuig nie. Met die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) wat ook 'n status confessionis in 1984 formuleer én nader aan gereformeerde familie van die NGK was, was dit minder gekompliseerd. Nadat die verteenwoordigers van die NGK by die GES van 1992 in Athene hulle instemming met die stelling dat kerklike steun aan apartheid sonde is, betuig het was die NGK hier weer aanvaarbaar (Strauss 2015:73).

 

Die NGK antwoord met KS-1986 en KS-1990

Met sy KS-1986 en KS-1990 het die NGK op beide die WBGK en die GES geantwoord. Die feit dat hy hom in ekumeniese kringe oor apartheid moes verantwoord, was een van die talle redes waarom die NGK hierdie dokumente die lig laat sien het (NGK 1986a:87; Strauss 2015:72).

Die KS-1986 word gevolg deur 'n hersiene KS-1990. Laasgenoemde sny meer praktiese voorbeelde aan om aan te dui wat hy bedoel met sy houding oor apartheid in Suid-Afrika.

In sy kern spreek die NGK hom in KS-1986 en KS-1990 teen 'n gedefinieerde apartheid uit. Volgens KS-1986 is die 'hantering' van apartheid as 'n politieke en maatskaplike sisteem wat mense verontreg en een groep onregmatig bo 'n ander groep bevoordeel, nie Christelik eties aanvaarbaar nie. Dit is sondig, in stryd met die Bybel en 'n 'ernstige dwaling'. Dit bots met naasteliefde en geregtigheid en tas die menswaardigheid aan van almal wat daarby betrokke is (NGK 1986b:52). Gedwonge skeiding of afsonderlikheid as 'n voorskrif kan nie uit die Bybel afgelei word nie. Die pogings van die NGK in die verlede om dit te doen, moet as 'n fout erken en afgewys word. Apartheid het die regmatige volkeverskeidenheid omvorm tot 'n politieke ideologie en 'n onderdrukkende stelsel. Apartheid is egter nie die enigste oorsaak van lyding in Suid-Afrika nie. Mense van verskillende gemeenskappe het mekaar eenvoudig nie aanvaar nie. 'In soverre as wat die NGK hieraan deel gehad het, bely hy sy ootmoed en berou (NGK 1990b:40).

Hierdie kernopsomming van KS-1986 en KS-1990 bevat belangrike elemente of bewoordings wat ook in anti-apartheidskerklike kringe geleef het: Begrippe soos 'n ernstige dwaling, 'n politieke ideologie en 'n onderdukkende stelsel. Daar is egter twee opsigtelike tekortkominge om die WBGK tevrede te stel.

In die eerste plek word apartheid nie ondubbelsinnig (unequivocally) afgekeur nie. Apartheid word gekwalifiseer as iets wat in sy hantering skeefgeloop het en nie noodwendig in sy begronding dwaal nie. In sy Die verhaal van die NG Kerk se reis met apartheid 1960-1994 - 'n getuienis en 'n belydenis as 'n stuk van die NGK na 1994 bly Frits Gaum by hierdie onderskeiding van die Algemene Sinode (stuk afgedruk in NGK 1998:45).

In die tweede plek hanteer beide KS-1986 en KS-1990 apartheid asof dit hoofsaaklik 'n Christelik etiese probleem skep. Van 'n status confessionis wat die teologiese en morele steun daarvan sou veroorsaak, word nie gepraat nie. Die naaste wat KS hieraan kom, is sy verwysing na 'n ernstige dwaling. 'n Ernstige dwaling is egter nie noodwendig van 'n belydenisaard nie (kyk die soortgelyke standpunt by die WBGK in NGK 1994:32). Sterk woorde in die besluit van WBGK-1982 soos kettery, afgodery, verraad teenoor en misbruik van die evangelie, 'n pseudo-religieuse ideologie en 'n weerspreking van die evangelie, ontbreek by KS-1986 en KS-1990. Die probleem dat hierdie tiperings van apartheid soos geykte slagspreke en nie gemotiveerde kerklike uitsprake nie klink, kanselleer nie die sake waarom dit gaan as van 'n belydenisgehalte nie. Dit verhoog wel die skerpheid en wrewil van die taal wat gebruik word. 'n Wrewil wat moeilik by KS-1986 en KS-1990 as 'n profetiese stem 'na binne', inpas.

By die Algemene Sinode van 1994 van die NGK moes sy Algemene Sinodale Kommissie (ASK) rapporteer dat KS-1986 en KS-1990 en konferensies met Suid-Afrikaanse lidkerke van die WBGK nie die Uitvoerende Komitee van die WBGK in Julie 1993 bevredig het dat die NGK kan terugkom in die WBGK nie (NGK 1994:32). Vir die Uitvoerende Komitee lê die drie vereistes van 1982 vir die hertoetrede van die NGK binne die raamwerk van 'n status confessionis. Boonop koppel hy hertoetrede ook aan die eenwording van die NG Kerkfamilie. Hier word by mekaar verby gepraat toe die Algemene Sinode sy ongelukkigheid met die WBGK te kenne gee omdat laasgenoemde se nie-aanvaarding van die KS-1986 en KS-1990 en ander NGK-optredes vir die NGK beteken dat die WBGK nie sy integriteit aanvaar nie. Volgens die Algemene Sinode van 1994 kan so 'n situasie nie onbepaald voortduur nie. Die NGK sal in die nabye toekoms die voortsetting van sy lidmaatskap heroorweeg (NGK 1990a:442-443).

Een ding was hier teen 1994 duidelik. Die herstel van die verhoudinge tussen die NGK en die WBGK het nou die wysheid van skerp ekumeniese geeste nodig wat simpatie na beide kante toe het. Albei kan baat by 'n gesamentlike gesprek wat begrippe en houdings opklaar. Die Uitvoerende Komitee van die WBGK neem hierin die inisiatief. In 1997 kom daar 'n kentering in die verhouding van die NGK met die WBGK.

 

'n Kentering: Apartheid word omskryf en die NGK beweeg na 'n status confessionis

'n Afvaardiging van die Uitvoerende Komitee van die WBGK ontmoet die Dagbestuur van die ASK van die NGK in April 1997 in Bloemfontein. Op die vergadering wat stram begin, ontwikkel daar mettertyd 'n ander atmosfeer. Die ASK ervaar by die verdaging 'n baie beter 'gesindheid'. Die ASK is dus nie verbaas om twee weke later 'n uitnodiging na die 23ste Algemene Vergadering van die WBGK in Debrecen, Hongarye, te kry nie (NGK 1998:40).

By hierdie vergadering word die nuwe verhouding voortgesit. Die Uitvoerende Komitee lê 'n voorstel van homself en die verteenwoordigers van die NGK (die sogenaamde 'joint' voorstel) voor. As hierdie vergadering én die Algemene Sinode van 1998 van die NGK die voorstel aanvaar, word die skorsing van die NGK uit die WBGK opgehef. Die voorstel herbevestig standpunte wat reeds in die 16-jaarlange gesprek figureer.

In punt 1 sê die WBGK dat hy die teologiese en morele regverdiging van apartheid verwerp en dat dit 'n status confessionis daarstel (Strauss 2013). So 'n regverdiging weerspreek die Evangelie as dwaalleer. In punt 2 word die 'ondubbelsinnige'-uitspraak van 1992 herhaal. Die NGK moet apartheid as sondig en verkeerd veroordeel, nie alleen in sy praktiese gevolge nie, maar ook in sy 'fundamental nature'. In punt 3 onderneem die WBGK om die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie te fasiliteer.

In 'n pastorale brief wat die gesamentlike voorstel vergesel, verduidelik die WBGK dat die Ned Geref Kerk volhou dat die fout met apartheid in sy implementering en nie ook in sy teorie lê nie. Die WBGK glo egter dat die gedwonge skeiding van mense van verskillende rasse die sentrale Bybelse waarheid ontken dat alle mense gelyk geskape is na die beeld van God. Hierdie ontkenning bring Christene se band met Christus in gedrang (Strauss 2013). Die NGK het reeds aan die eerste twee vereistes van Ottawa voldoen. 'n Veroordeling van apartheid in sy geheel - soos in die 'joint resolution' - sal hieraan voldoen (NGK 1998:40-42).

Dit is duidelik dat die Uitvoerende Komitee van die WBGK terug is by Ottawa-1982. Die potensiële struikelblok van die voltooide eenheid van die NG Kerkfamilie is versag. Daarby het die Komitee nou verduidelik wat die wesensaard van die soort apartheid is wat die WBGK veroordeel. Die NGK word op hierdie punte tegemoet gekom, maar dan moet hy apartheid soos hier omskryf, 'ondubbelsinnig' veroordeel. Wat dus oorbly, is die ondubbelsinnige veroordeling van apartheid. 'n Veroordeling in die kader van 'n status confessionis. Die aanvaarding van die 'joint resolution' word egter deur die WBGK aangebied as 'n reddingsboei uit hierdie situasie. Die wysheid van ekumeniese geeste wat kerklike verhoudinge wil herstel, was aan die werk (Strauss 2013:34)!

Die sekretaris-generaal van die WBGK, Milan Opocensky, woon die Algemene Sinode van 1998 ook by om die 'joint resolution' toe te lig. So belangrik is die afhandeling van hierdie sloerende saak vir hom, dat hy daarvoor spesiaal van Genevé kom. Volgens hom beteken die aanvaarding van 'n status confessionis nie dat 'n belydenis hierop moet volg of dat die WBGK die Ned Geref Kerk in die aanvaarding van die Belydenis van Belhar indwing nie. So iets lê nie op sy terrein nie (rede in NGK 1998:479; Strauss 2002:239; Strauss 2013). Die sekretaris-generaal weerspreek dus die stelling van lede van die Sinodale Kommissie van die VGKSA meer as 'n dekade later dat die aanvaarding van Belhar een van die vereistes vir die hertoelating van die NGK tot die WBGK was (NGK 2002:393; Strauss 2013:34). Wat in 1998 ook bekend is, is dat die verteenwoordigers van die VGKSA by Debrecen teen die gesamentlike voorstel gestem het (Strauss 2002:239). In hulle verstaan van die hertoelating van die NGK tot die WBGK was die aanvaarding van Belhar 'n vereiste. Hulle mening is egter nêrens ge-eggo of in die besluite van relevante vergaderings bevestig nie. Miskien het Gustav Bam se motivering vir 'n status confessionis én Belhar by die Sinode van 1982 van die NG Sendingkerk by hulle nageleef.

Dit was egter nie 'n WBGK-vereiste nie. Boesak het by Ottawa-1982 die pas aangegee, maar ekumeniese ringkoppe soos Opocensky het by Debrecsen-1997 weer oorgeneem.

Die aanvaarding van die 'joint resolution' deur die Algemene Sinode van 1998 volg na 'n bespreking in 'n byna gewyde atmosfeer. Net soos Opocensky en die WBGK wil die Algemene Sinode die boeke van apartheid nou toemaak. Amptelik het dit as landsbeleid immers reeds in 1994 gesterf.

Die aanvaarding van die 'joint resolution' word verduidelik deur 'n amendament van assessor Mike Smuts en aktuarius Pieter Coertzen wat ook aanvaar word. Die amendament koppel die verstaan van die 'joint resolution' aan die pastorale brief en Opocensky se toeligting ter vergadering. In 'n ander mosie word die begrip status confessionis, dit kom van Michiel Botha en Johan Botes, verduidelik. Hierdie mosie onderskryf die toeligting van aktuarius Coertzen in die bespreking dat die formulering van die Algemene Sinode, apartheid as verkeerd en sondig verwerp 'not simply in its effects and operations but also in its fundamental nature , reeds 'n belydenis vanuit 'n geloofsperspektief is. Dit sluit volgens die vergadering aan by die 'joint resolution se verstaan van 'n status confessionis (NGK 1998:413). Die finaliteit van die debat word onderstreep deurdat hierdie besluite van die Algemene Sinode geen onrus in die gemeentes verwek nie (Strauss 2013:45).

In 'n proses waarin emosies en begrippe nie altyd korrek verstaan is nie, het die 'joint resolution' 'n oplossing vir beide die NGK en die WBGK gebring. Opocensky het verduidelik dat die NGK se aanvaarding van die besluit van Debrecen-1997 die jarelange drama beëindig het. Die einde van die paadjie terug vir die NGK is bereik. Vir die NGK van 1994 in 'n veranderde Suid-Afrika, was dit ook 'n spyker in die doodskis van sy ekumeniese isolasie. In hierdie opsig het 'n nuwe dag vir hom aangebreek.

 

Die NGK ekumenies herstel: En Belhar?

Ottawa-1982 het die ekumeniese isolasie van die NGK versnel. Debrecen-1997 en die positiewe reaksie van die NGK daarop het hierdie proses help omkeer. Behalwe dat die NGK so deel kon wees van die vereniging van die WBGK en die GES in 2010 in Grand Rapids (Verenigde State van Amerika [VSA]), het die bilaterale en multilaterale ekumeniese verhoudinge van die NGK - in Suid-Afrika en wêreldwyd - sedertdien snel toegeneem. Waar die NGK in 1982 'n swart skaap onder kerke wêreldwyd was, is die pad nou oop na meer en groter ekumene as voor 1982. Hierdie verhaal word elders beskryf (Strauss 2013:33-35, 60-61, 72-74, 113-114, 140-141).

'n Onvoltooide neweproses bly egter die vraagstuk van groter eenheid in die NG Kerkfamilie. 'n Proses wat sedert 1994 telkens gekompliseer word deur die uiteenlopende reaksies in hierdie familie op die Belydenis van Belhar. Miskien kan die wyse ekumeniese manne van die gereformeerde ekumeniese wêreld ook hierin 'n rol speel. Die WBGK is immers 'n fasiliteerder van die proses (Strauss 2013:137).

Hoe dit ookal sy, die benadering van beide die WBGK en die NGK na 1982 het eventueel tot die herstel van die lidmaatskap van die NGK van eersgenoemde gelei. In die proses is die kerklike gewig van die besluit van Ottawa oor apartheid en 'n status confessionis gehonoreer, maar ook ruimskoots van 'n kerklike diskresie en 'n pastorale omgang - uit respek vir mekaar - met mekaar gebruik gemaak. Hierdie styl vertoon ook die deurwerking van die gees van die belydenis: veral van die verklaring van die tien gebooie deur die Heidelbergse Kategismus (Jonker 1994:117).

'n Belangrike stelling waarmee beide rolspelers makliker by mekaar kon uitkom, was die oortuiging dat die aanvaarding van 'n status confessionis nie noodwendig tot 'n nuwe belydenis moet lei nie.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Boesak, A.A., 1977, Afscheid van de onschuld, Kok, Kampen.         [ Links ]

Boesak, A.A., 1983, 'He made us all but...', in J.W. de Gruchy & C. Villa-Vicencio (eds.), Apartheid is a heresy, pp. 1-19, David Philips, Johannesburg.         [ Links ]

Bosch, D.J., 1983,'nothing but a heresy', in J.W. de Gruchy & C. Villa-Vicencio (eds.), Apartheid is a heresy, pp. 24-38, David Philip, Johannesburg.         [ Links ]

Bouwman, H., 1985, Gereformeerd Kerkrecht II, De Groot Goudriaan, Kampen.         [ Links ]

De Gruchy, J.W., 1983, 'Towards a confessing church', in J.W. de Gruchy & C. Villa-Vicencio (eds.), Apartheid is a heresy, pp. 75-93, David Philips, Johannesburg.         [ Links ]

De Gruchy, J.W. & Villa-Vicencio, C., 1983, Apartheid is a heresy, David Philips, Johannesburg.         [ Links ]

Dreyer, W., 2011, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika - die eerste 250jaar, Kital, Pretoria.         [ Links ]

Durand, J.J.F., 1984, 'Belhar - krisispunt vir die NG Kerke', in G.D. Cloete & D.J. Smit (reds.), 'n Oomblik van waarheid, bl. 123-134, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Henriksson, L., 2010, A journey with a status confessionis, Lund University, Lund.         [ Links ]

Hofmeyr, J.W., Millard, J.A. & Froneman, C.J.J., 1991, History of the church in South Africa. A document and source book, Unisa, Pretoria.         [ Links ]

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid, Hugenote-Uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Naudé, C.F.B., 1964, My beslissing, Christelike Instituut van Suid-Afrika, sn, n.p.         [ Links ]

Naudé, C.F.B., 1965, 'Die tyd vir 'n belydende kerk is daar!' Pro Veritate 15 Julie, bl. 1.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1982, Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode, sn, n.p.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1986a, Kerk en Samelewing, Hugenote, Wellington.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) 1986b, Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode, sn, n.p.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1990a, Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode, sn, n.p.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeede Kerk (NGK), 1990b, Kerk en Samelewing, Pro Christo, Bloemfontein.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 1994, Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode, sn, n.p.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerd Kerk (NGK), 1998, Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode, sn, n.p.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 2002, Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode, sn, n.p.         [ Links ]

Rauhaus, A., 2009, 'Is an ethical status confessionis possible?', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 65(1), Art. #285, 6 pages. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v65i1.285        [ Links ]

Smit, C.J., 1984, God se orde vir sy kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Smit, D.J., 1984, 'Wat beteken 'n status confessionis?', in G.D. Cloete & D.J. Smit (reds.), 'n Oomblik van waarheid, bl. 14-38, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2002, 'Toenemende isolasie deurbreek', in P.R. du Toit, J.W. Hofmeyr, P.J. Strauss & J.M. van der Merwe (reds.), Moeisame pad na vernuwing: Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na 'n nuwe relevansie 1974-2002, bl. 183-241, Barnabas, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2004, 'Die teologiese en morele regverdiging van apartheid en 'n status confessionis. 'n Vergelyking tussen die Wereldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese Sinode se hantering van die saak', Acta Theologica Supplementum 6, 96-121.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2013, Kerkwees in die branding, Sunmedia, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2013, 'Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Algemene Sinodale verband 1994-2011', Acta Theologica 33(suppl. 18).         [ Links ]

Strauss, P.J., 2015, Gereformeerdes onder die Suiderkruis: Die verhaal van vier Afrikaanse Gereformeerde Kerke, Sun Media, Bloemfontein.         [ Links ]

Whyte, I., 2012, Send back the money, James Clarke, Cambridge.         [ Links ]

World Alliance of Reformed Churches (WARC), 1983, Proceedings of the 21st General Council, World Alliance of Reformed Churches, Geneva.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Piet Strauss
PO Box 339, Bloemfontein 9300
South Africa
straussp.hum@ufs.ac.za

Received: 12 Jan. 2015
Accepted: 14 Mar. 2015
Published: 13 July 2015

 

 

1.In sy brief oor wat die WBGK oor apartheid en die lidmaatskap van die NGK besluit het, skryf die algemene sekretaris van die WBGK, Edmond Perret, op 15 September 1982 dat apartheid by nie minder nie as drie van die beprekingsgroepe van die Algemene Vergadering geopper is. Gevolglik het die organiserende komitee dit aan 'n ad //oc-kommissie opgedra om 'n konsepverklaring vir voorlegging aan die volle vergadering, voor te berei (brief in NGK 1982:1017).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons