SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.70 número3Reimagining mission in the public square: Engaging hills and valleys in the African City of TshwaneMusic, singing and dancing in relation to the use of the harp and the ram's horn or shofar in the Bible: What do we know about this? índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


HTS Theological Studies

versión On-line ISSN 2072-8050
versión impresa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.70 no.3 Pretoria mar. 2014

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v70i3.2693 

ORIGINAL RESEARCH

 

Onderskeid (בין) in die Ou Testament

 

Discernment (בין) in the Old Testament

 

 

Ananda Geyser-Fouché

Department of Old Testament Studies, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

Discernment is one of the concepts that urge each and everyone to think critically and anew. The concept of a never-ending spiral of thinking is very familiar in the circles of reformed churches. This concept is also known from the wisdom literature in the Old Testament. The realisation that you do not know, means approaching the ability to grasp something of wisdom. In order to find out what the Old Testament is saying about 'discern', I did a textual research on the two Hebrew words: בין and בחן I apply the results of this research to the context of the church (with specific reference to the 'Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika' [NH Church]) attempting to find out what the church's responsibility is with regards to what is really important (i.e. discernment).


 

 

Inleiding

Hierdie studie het voortgespruit uit 'n versoek van die kerk (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika) om meer te wete te kom oor wat in die Ou Testament geskryf is oor 'onderskeid'. Dit is nodig om te stel dat daar nie slegs een spesifieke teologie in die Ou Testament is nie1, nog minder in die hele Bybel2. Hierdie studie gaan nie probeer om so iets vas te stel nie, maar eerder om te kyk of die moontlikheid dalk bestaan dat daar 'n baie fyn, goue draadjie deur die Ou Testament loop met betrekking tot dit waarop dit werklik aankom, en spesifiek in die God-mens-verhouding.

Die vraag na dit waarop dit werklik aankom - om te onderskei, is eintlik baie eie aan hoe die meeste protestante kerke nog altyd teologie beoefen het. Die term 'kritiese teologie' word onder andere3 gebruik wanneer daar gevra word na die kerk se teologie. Dit beteken ook dat daar nie 'n vrees is om vrae te vra nie. Om te onderskei is om dit te doen wat die reformasie van die begin af nagestreef het, om weer te kyk, om te hervorm, om terug te gaan na die Bybel as bron en vertrekpunt.

As ons krities dink, vra ons vrae en toets ons antwoorde. Die proses van kritiese navorsing vind ons in alle vakdissiplines. Dit kom onder andere ook voor in die opvoedkunde4 en in die ekonomiese wetenskappe5. Coghlan en Brannick (2001:19) stel die proses van kritiese vraag en oplossing in die vorm van 'n spiraal voor (Figuur 1).

 

 

Dit is die proses van 'n vraagstuk wat lei tot die beplanning van 'n aksie, die aksie word uitgevoer en dan word dié betrokke aksie geëvalueer, waarna gereflekteer word oor die antwoorde, die proses van nuut dink, wat dan weer daartoe lei dat die sirkel nooit gesluit word nie, maar voortdurend vorentoe spiraal. So 'n proses van refleksie is ook 'n baie eerlike proses. Indien dit kollaboratief kan plaasvind, waar alle rolspelers geleentheid kry om te reflekteer, is die resultate gewoonlik beter.

 

'n Teksondersoek na 'onderskeid' in die Ou Testament

In die soeke na wat die Ou Testament te sê het oor onderskeid, het ek dit goed gedink om te gaan soek na teksgedeeltes waarin daar verwys word na onderskei en onderskeidingsvermoë. Die woord onderskeid kom nie baie voor in enige van ons twee Afrikaanse vertalings nie. Ek het my soektog toegespits op twee Hebreeuse woorde, die een is (bagan) en die ander een is (biyn)6. Ek gaan van elke woord 'n kort bespreking gee en dan 'n teksondersoek doen van waar hierdie werkwoordstamme voorkom in die Ou Testament, asook wat hulle vertalingsmoontlikhede in die spesifieke tekste is.

 

בחן(bagan)

Die werkwoord (bagan) word gewoonlik met toets vertaal en kom in kontekste voor waar daar van die suiwerheid of die loutering van geloof gepraat word. Dit word meestal gebruik as 'n aksie van God se kant af. Hy is die een wat toets en onderskei tussen wie opreg van hart is, en wie nie.

In die Qal-vorm word dit meestal vertaal met 'ondersoek'; 'goedkeur'; 'om te probeer'; 'om te suiwer'; en 'om te louter'. Voorbeelde hiervan is onder andere in: Jerermiah 6:27; 9:6; 11:20; 12:30; 17:10: 20:12; Sagaria 13:9; Malahagi 3:10; 3:15; Psalm 7:10; 11:4; 11:5; 17:3; 26:2; 66:10; 81:8; 95:9; 139:23; Job 7:18; 12:11; 23:10; 34:3; Spreuke 17:3; en 1 Kronieke 29:17.

In die Nifal-vorm word dit gewoonlik vertaal met 'getoets'; 'beproef'; 'om ondersoek te word'. Voorbeelde hiervan is, onder andere, in: Genenis 42: 15 en 16; en Job 34:36.

 

בין(biyn)

Die werkwoord (biyn) word in die meeste gevalle in die Afrikaanse vertalings vertaal met verstaan/ begrip hê, maar kan ook vertaal word metonderskei. Dit is in die meeste gevalle 'n aksie van die mens se kant af. Die mens begryp, verstaan en onderskei wat reg en wat verkeerd is.

In die Qal-vorm word dit gewoonlik vertaal met 'opmerk'; 'verstaan'; 'gewaar'; 'om op te let'; 'om te bemerk'; 'om in ag te neem'; 'om kennis te neem'; 'om te besef'; 'om te onderskei'. Voorbeelde hiervan is onder andere in: Deuternomium 32:7; 23:29; 1 Samuel 3:8; 2 Samuel 12:19; Jesaja 6:9 en 10; 32:4; 43:10; 44:18; Jeremia 9:11; Hosea 4:14; 14:10; Psalm 52; 19:13; 28:5; 49:21; 50:22; 58:10(9); 73:17; 82:5; 92:7; 94:7 en 8; 139:2; Job 6:30; 9:11: 13:1; 14:21; 15:9; 18:2; 23:5; 23:8; 32:9; 34:16; 36:29; 38:20; 42:3; Spreuke 2:5; 7:7; 14:15; 19:25; 20:24: 21:29; 23:1; 24:12; 28:5; 29:7; 29:19; Daniel 9:2,22 en 23;10:1; 11:30 en 37; 12:8 en 10; Esra 8:15; Nehemia 8:8; 13:7; 2 Kronieke 11:23.

Die Nifal-vorm word meestal vertaal met 'wys wees'; 'om te kan onderskei'. Voorbeelde daarvan is, onder andere, in Jesaja 10:13. Die Nifal partisipium word veral gebruik om iemand te beskryf wat wys is, iemand wat insig het of iemand wat kan onderskei. Dit word ook baie keer parallel gebruik met .Voorbeelde hiervan is onder andere: Genesis 41:33 en 39; Deuternomium 1:13; 4:6; 1 Samuel 16:18; 1 Konings 3:12; Jesaja 3:3; 5:21; 29:14; Jeremia 4:22; Hosea 14:10; Spreuke 1:5; 10:13; 14:6 en 33; 15:14; 16:21; 17:28; 18:15; 19:25; Prediker 9:11.

Die Polel-vorm (Deut 32:10) word vertaal met 'beskut'; 'versorg'; of 'bewaak'.

Die Hifil-vorm word vertaal met 'ag gee'; 'verstaan'; 'begryp'; 'om te onderskei'. Voorbeelde hiervan is, onder andere, in: 1 Konings 3:9 en 11; Jesaja 29:16; 40:21; 56:11; 57:1; Miga 4:12; Psalm 32:9; 33:15; Job 28:23; Spreuke 1:2 en 6; 8:5 en 9; 14:8; 17:10 en 24; 28:2, 7 en 11; Daniel 1:4 en 17; 8:5, 17, 23 en 27; 9:23; 10:11, 12 en 14; Nehemia 8:2, 3 en 12; 10:29; 1 Kronieke 15:22; 25:7; 27:32; 28:9; 2 Kronieke. 34:12. Die Hifil-vorm word ook vertaal met: 'om te verduidelik'; 'om verstaanbaar te maak'; 'om te onderrig' en voorbeelde daarvan vind ons in: Jesaja 28:9 en 19; 40:14; Psalm 119:27, 34, 73, 125, 130, 144 en 169; Job 6:24; 32:8; Daniel 8:16; 11:33; Esra 8:16; Nehemia 8:7 en 9; 1 Kronieke 25:8; 2 Kronieke 26:5; 35:3.

Die Hitpolel-vorm word vertaal met: 'ag gee'; 'verstaan'; 'om aandag te gee'; 'om te verstaan'; 'om te bekyk'; 'om insig te hê'. Voorbeelde daarvan is, onder andere, in: 1 Konings 3:21; Jesaja 1:3; 14:16; 43:18; 52:15; Jeremia 2:10; 9:16; 23:20; 30:24; Psalm 37:10; 107:43; 119:95, 100 en 104; Job 11:11; 23:15; 26:14; 30:20; 31:1; 32:12; 37:14; 38:18.

 

Resultate van die teksondersoek

Uit bostaande bespreking van die woorde en het dit duidelik geword dat slegs die woord hom daartoe leen om met 'onderskeid' (dit waarop dit werklik aankom) vertaal te kan word. Die vorm waarin dit die meeste so vertaal word, is die Nifal partisipium en ook sekere Hifil-vorme. Ek sal dus in die verdere bespreking veral op die tekste fokus waarin die woord in hierdie vorm voorkom of waar dit in ander vorme, binne die konteks, wel met die begrip vertaal kan word. Ek gaan die tekste, met 'n eie vertaling, lys waarna ek dit kortliks sal bespreek.

 

Tekste in die Ou Testament waarin die woord בין(biyn) voorkom met die vertalingsmoontlikheid van 'onderskeid'

Nifal partisipium7

 

 

Hifil-vorme van בין wat in die konteks van 'onderskei' verstaan kan word

 

 

Ander vorme van בין wat in die konteks van 'onderskeid' verstaan kan word

 

 

Bespreking van die tekste

Wat onmiddellik opval is die feit dat hierdie woord die heel meeste gevind word in die wysheidsliteratuur of in tekste met tipiese taal en kenmerke uit die wysheidsperspektiewe. 10 Nog 'n opvallende teks (1 Kon 3:8-4) is die een waar JHWH met Salomo (die Bybelse voorbeeld van wysheid) in gesprek is en waar hy dan spesifiek vra vir onderskeidingsvermoë en waar YHWH dan aan hom onderskeidingsvermoë sowel as wysheid gee.

Die teksondersoek wys dat die woord meestal in die wysheidsliteratuur voorkom. Dit kom ook voor in die profeteboeke en dan spesifiek in verwysing na die volk se onvermoë om te onderskei. Daaruit is dit duidelik dat om die Here te dien 'n kenmerk is van iemand wat kan onderskei en wat verstandig is. Job gebruik die woord om sy onvermoë om God te begryp uit te druk. Volgens Spreuke is die mens wat die Here soek, die een wat kan onderskei en verstandig is. Die Psalmis wys daarop dat die mens sy of haar eie dwaling moet raaksien (kan onderskei) - dwase kan dit nie insien. Die term van nederigheid word ook sterk beklemtoon - praal verhoed die mens om te onderskei.

In Daniël kom die woord veral voor in die apokaliptiese gedeelte, waar dit vertaal kan word met 'gee ag'; 'let op'; 'begryp'; 'insig hê'; en dit hou verband met God se openbaring aan Daniël (kyk, onder andere, Dan 10:11-14). Dit onderskei Daniël van ander in dié opsig dat hy insig het in dit wat God wil hê hy moet sien. Sy onderskeidingsvermoë om insig te hê in visioene en drome, plaas hom in 'n ander kategorie as sy vriende wat kennis gehad het van boeke en van die wysheid van hulle tyd. Dit koppel die begrip 'onderskeiding' in 'n seker sin baie sterk aan God se openbaring (ook van Homself).

Die profetiese literatuur gebruik die term om te dui op die volk wat dwaas was deur van God weg te dwaal en iets op eie stoom te probeer doen. Hy is die enigste Here, net Hy is God en Hy is in beheer van lewe, dood en gesondheid. Om te onderskei volgens die profetiese literatuur, is om volgens God se verbond te leef en getrou aan God te wees. Die profetiese literatuur beklemtoon dat dit nie 'n geringe saak is nie, maar wel die lewe. Jesaja 44 is 'n duidelike voorbeeld uit die profetiese literatuur met die tema: om die Here te dien is verstandig en dui op onderskeidingsvermoë. Hosea vergelyk die volk met 'n prostituut omdat hulle wegdwaal van God en nie getrou bly aan Hom nie. Dit maak van hulle 'n onverstandige volk wat nie kan onderskei nie. Diegene wat nie op die Here se waarskuwing ag slaan nie, sal vernietig word. In Daniël word die tema van nederigheid weer beklemtoon.

Op grond van die feit dat die wysheidsperspektief so sterk voorkom met betrekking tot onderskeid, wil ek oorsigtelik stilstaan by die algemene aard en inhoud van wysheidsliteratuur.

 

Wysheidsliteratuur11

Die feit dat hierdie woord veral in die wysheidsliteratuur of dan wysheidsgenres voorkom, maak tog sin. Wysheid is nog altyd gesien as die soeke na dit waarop dit werklik aankom, die soeke na sin in die lewe. Perdue (2008:1) sê dat wysheidsliteratuur ook binne 'n bepaalde sosiohistoriese konteks ontstaan het en daarbinne verstaan moet word.

Die voortdurende soeke na dit waarop dit werklik aankom, kan duidelik gesien word in die ontwikkeling van die wysheidsliteratuur. Dit is duidelik wanneer daar byvoorbeeld gelet word op die optimistiese teologie wat in ouer gedeeltes in die boek Spreuke gevind word. Daarin vind ons die kousale gedagte dat solank jy goed doen, dit met jou goed sal gaan. Dit is teen hierdie bestaande, meganiese idee van die lewe, wat latere wysheidsgeskrifte soos Prediker en Job polemies gerig is. Hulle beproef albei die gedagte van kousaliteit en bewys albei dat wat God en wat wysheid aanbetref, daar geen klinkklare antwoorde is nie.

Wysheidsgeskrifte in die Bybel is boeke soos Spreuke, Prediker en Job. Loader (1987:103) sê: 'Die wysheidsleraar aanvaar dat God die instandhouer van die skeppingsorde is. Daarom is alle wysheid in wese religieus, selfs waar dit alledaags en "wêrelds" klink.'

Perdue (2008:6) verwys ook daarna: 'Wisdom is based on the fear of God'. Hierdie vrees vir God word gesien as die begin en einde van wysheid. Dit is wat die boek Spreuke ook sê wanneer in Spreuke 1:7 gesê word (kyk ook Spr 9:10, 15:33; Job 28:28; en Ps 111:10) dat wysheid begin met die dien van die Here. Die woord 'vrees' kan eerder gesien word as respek of agting12, om soos Job te besef dat God onbegryplik groot, almagtig en soewerein is. God het sy wysheid gebruik om die kosmos en die menslike samelewing te konformeer. Hierdie tema is ook die skakel met die Ou Testamentiese verbond en die wysheidsliteratuur. Dit hou verder verband met die Israelitiese wysheid.

Loader (1987) stel dit soos volg:

Wysheid soos in die Israelitiese geskrifte beskou, word gemotiveer deur die skeppingsteologie. Wysheid beteken om in te skakel by die orde wat God in die lewe en die skepping geplaas het. Wysheid lei tot harmonie en sukses, terwyl dwaasheid uitloop op disharmonie en mislukking. (bl. 44)

Ongeag die ooreenkomste het elke boek 'n eie beklemtoning. In die boek Prediker handel dit oor die sinneloosheid van die lewe, dat alles 'n gejaag na wind is. Die skrywer kom tot die gevolgtrekking dat slegs God en 'n verhouding met Hom aan die mens sin in die lewe gee. Spreuke bestaan uit heelwat losstaande wysheidspreuke, maar sê veral dat wysheid sonder God nie kan bestaan nie, dat om sonder God te lewe niks ander as dwaasheid is nie. Die boek Job stel 'n worsteling met God voor, dit wys daarop dat die mens en sy opinie eintlik niks is nie omdat God almagtig en soewerein is. Tog wanneer mense hulle na God wend vir hulp en met God in gesprek tree, vind hulle juis rus in die wete dat God in beheer is (Geyser-Fouché 2009:14). Wanneer die geskrifte beskou word, is daar duidelike temas wat deur al die geskrifte aangeraak word. Dit behels temas soos die mens se omgang en houding teenoor besittings (rykdom teenoor armoede); die verhoudings tussen mense (hetsy met hul medemens, medegelowige, eggenoot, kinders of God); die lewenswandel van die mens. Dit behels mense se siening van hulleself, die opregte wandel voor God, asook die gevolg van die mens se lewenswandel. In hierdie verband is dit veral interessant om op te merk dat al die geskrifte 'n lewe van nederigheid voorskryf, maar dat dit nie selfvernedering is nie. Ben Sira sê byvoorbeeld:

Moenie jouself hoër ag as jou volk nie, onthou sy woede sal nie ophou nie. Meer en meer moet jy trots verminder want die einde van die mens, is 'n wurm. (7:16-17, [outeur se eie vertaling])

In die wysheidliteratuur is dit duidelik dat God almagtig en in beheer is, dat die mens niks het om op te roem nie. Nederigheid is die naaste wat 'n mens aan wysheid kan kom, sodra jy weet dat jy nie weet nie, is jy wyser as wanneer jy dink jy weet.

 

Gevolgtrekking

Uit die Ou Testament is dit duidelik dat om te kan onderskei oor dit waarop dit werklik aankom, slegs moontlik is vanuit 'n verhouding met die lewende Here. 'n Verhouding met die Skepper, Onderhouer, Verlosser, Trooster en Vader is al wat belangrik is. Om die Here te soek ( of ), dit is verstandig, dit is om te kan onderskei. Prediker sê dat 'n lewe sonder God 'n lewe sonder sin is en Job ontdek dat daar rus is in die wete dat God in beheer is. Volgens Spreuke begin wysheid met die dien van die Here. Hierdie gedagtes vorm die fondament van wysheid. Dit bepaal hoe die mens dink. Dit gee aan mense sin maar ook rustigheid. Uit die wysheidsliteratuur leer mens nie net van onderskeiding nie, maar ook iets van die misterie van God en 'n ontmoeting met Hom. Job se berusting spruit voort uit sy Godservaring. Uit sy immanente en transendente13 ervaring van God, beleef hy God anders - nie meer 'n abstrakte God, wat volgens meganiese reëls werk nie, maar juis 'n misterieuse, almagtige God wat vry is van die begrensdheid van menslike denke; nogtans bly Hy besig en in beheer van sy skepping.

Rahner (Van den Hoogen 2011:33) interpreteer die konsep van openbaring as die gebeurtenis van God se vrye en vergewende selfkommunikasie, waar selfkommunikasie verwys na God se Goddelikheid as die realiteit van genade wat na mense toe kom en by hulle aktualiseer in hulle vryheid en persoonlike verantwoordelikheid vir hulleself (vrye keuse).

Die selfopenbaring van God aan die mens, is elke keer 'n nuwe ervaring en bly 'n misterie wat hoër en verder strek as enige kognitiewe bekwaamheid.

Hierdie misterie beskryf Van den Hoogen (2011) as 'the unattainable'. Hy sê dit is:

... something that perplexed the minds of people of old, as fascinating and impenetrable as the dark of night. It is something that both magnetises people and sweeps them along in the ecstasy of dance, something magical. (bl. 11)

Hierdie misterie noop die mens om voortdurend te soek, 'n mens kan nie by 'n antwoord arriveer nie. Uit die wysheidsliteratuur sien ons dat om te weet dat ek nie weet nie, juis wys is. Om te besef hoe ver ek tekort skiet, maak my wys. Dit herinner aan Paulus (2 Kor 12:10) wat sê dat hy juis sterk is omdat hy swak is en dat God se wysheid eintlik vir mense na dwaasheid lyk. Wysheid is wanneer die mens besef dat God in beheer is, wanneer die mens uit God se hand leef en die eie ego afsterf. Voordat mense nie besef dat hulle eintlik tot niks in staat is nie, is hulle nie in staat om wysheid uit te leef nie. Wysheid is nie menslike kennis of vaardighede nie, dit is nie boekgeleerdheid nie. Dit is vreemd vir die wêreld. Paulus (1 Kor 1) wys daarop dat Christus se kruisiging dwaas is vir die wêreld, maar wys is by God. Dit wat vir die materiële wêreld na dwaasheid lyk, is eintlik God se wysheid. In sy groot wysheid het God deur Christus se kruisiging afgebuig na die mens om sy liefde aan die mens te bewys.

In ons soeke na antwoorde gaan ons altyd terug na die Bybel toe: die Bybel wat Karl Barth beskryf as mensewoorde wat God se Woord word deur die prediking van die Heilige Gees14. Dit rig ons en deur die werking van die Heilige Gees spreek dit tot elkeen, in ons eie konteks.

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het (spesifiek in 2013) by 'n punt gekom waar die kerk moes onderskei oor wat werklik van belang is. Wanneer die bos gesnoei word van alles wat deur die tyd bygevoeg is, wat is die kern wat oorbly?

Onderskeiding beteken eksistensiële vernuwing. Dit is om in my alledaagse lewe tot in die wortel van my bestaan te vernuwe. Onderskeiding is om krities alles te bekyk en dan te vernuwe, en getrou aan die hervorming is dit 'n voortdurende proses wat nooit stagneer nie. Alhoewel dit 'n menslike proses van waarheidsvinding is, is dit eerstens 'n spirituele proses onder leiding van die Heilige Gees. Alleen wanneer 'n ontmoeting met God plaasvind, kan daar werklik onderskei word waarop dit aankom sodat vernuwing en hervorming kan plaasvind. Van den Hoogen (2011:31-32) verwys na Rahner se transendente struktuur van kennis in dié verband. Die feit dat die mens 'n vrye keuse het, maak dit 'n eksistensiële keuse wat nie los gesien kan word van die misterie van 'n Godsontmoeting nie. Hy (Van den Hoogen 2011) stel dit soos volg:

... knowledge always entails mystery as a horizon with which we are partly familiar, or which makes us anxious or bored. In knowing reality one touches one's spiritual depths ... 'But only when one begins to ask about asking itself, and to think about thinking itself, only when one turns one's attention to the scope of knowledge, to transcendence and not only what is understood categorically in time and space within this transcendence, only then is one just on the threshold of becoming a religious person. (bl. 32)

Die kern van alles is 'n verhouding met God. Selfs die Ou Testament beklemtoon dat dit nie offers en rituele is wat God wil hê 15 nie, maar dat ons die Here sal soek. Die woord 'soek' dui op 'n voortdurende besig wees met God, om Hom in alles te ken en om 'n lewendige verhouding met 'n almagtige, misterieuse God te hê. Die Ou Testament sê om te kan onderskei is om God te ken, om Hom alleen te dien. Dit beteken ook dat alle instellings en rituele tweede plek kry. Dit is mensgemaakte instellings wat aan plek, tyd en kultuur gebonde is. Selfs Jesus was gekant teen die oorbeklemtoning van menslike instellings; Hy beskuldig die Fariseërs omdat hulle van instellings afgode gemaak het16. Die kerk kan haar afvra of sy nog besig is met dit waarop dit werklik aankom. Die vraag kan beantwoord word deur te vra: hoekom doen ons wat ons doen, gaan dit oor God se eer of oor eie motivering? Solank God en sy koninkryk gedien word met dit wat ons doen, is ons nog by die kern van dit waarop dit aankom.

Is ons nederig, beskeie, soos 'n Job bewus van ons onvermoë om voor God te staan? Bly ons daarom afhanklik en erkentlik lewe, of staan die eie ek en eer voorop - gaan dit oor God of oor my belange, my kultuur, my erfenis? Ja, al dié dinge is wel van belang, maar staan nie eerste in belang nie17. Dit waarop dit werklik aankom, is God se eer.

Karl Barth (Van Zyl 1993:19) beskryf Jesus as die Heer wat kneg geword het - sy heerskappy bestaan daarin dat Hy Hom onderwerp. Sy ryk is diens - dit is inderdaad wat die mens ook in die kerk is - diensknegte van God. Dit gaan dus nie oor die self nie, maar oor God, dit gaan nie oor wat die mens by die kerk kan kry nie, maar oor wat die mens (dienskneg) kan bied. Van Zyl (1993:24) beskryf Karl Barth se siening van deemoed of nederigheid soos volg:

As ek reken dat ek self weet wat reg is, kies ek reeds die verkeerde en as ek self in die werk wil stel wat ek gekies het, doen ek reeds verkeerd. Mens is in sy diepste kern sondig. In sy hoogmoed wil hy self God en sy eie helper wees, daardeur haat hy God en naaste. (Van Zyl 1993:39)

Alleen deur Jesus Christus is dit vir die mens moontlik om 'n nuwe mens te wees. God bevestig reeds in die Ou Testament sy ewige liefde wat onveranderd bly. 18

Ons leef uit God se genade. Dan kan ons nie anders as om volgens die liefde van Christus teenoor almal te leef nie. Dit gee vir die kerk die antwoord oor waarop dit werklik aankom. Om kerk te wees, is om God te ken en om vanuit 'n verhouding met die lewendige God nie anders te kan as om sy liefde uit te leef nie. Dit behels die gesindheid en ingesteldheid waarmee daar met mense omgegaan word, hoe 'n mens ander mense oor hulleself laat voel. Dit behels basies respek vir almal. Van den Hoogen (2011:145) verwys ook daarna wanneer hy praat oor die taal wat ons gebruik. Hy sê taal moet opbouend, begrypend, bemoedigend en troostend wees. Mense wat God ken, lewe anders en praat anders. Die gesindheid en ingesteldheid is nie iets wat ons kan vasvang in dade en reëls nie; dit is spontaan, vloei uit my lewe uit God se hand. Dit grens aan die onmeetbare, spirituele wat nie in woorde, reëls en rasionele denke vasgevang word nie, maar wat voortvloei uit my Godservaring, die transendente en immanente belewing van God se teenwoordigheid maak dit moontlik om te leef en te onderskei dit waarop dit werklik aankom.

Die wysheidsliteratuur word gekenmerk deur 'n voortdurende soek, 'n reflekterende spiraal vorentoe. Hierdie voortdurende soeke, in die eerste plek na God en in die tweede plek na dit wat werklik van belang is ('n verhouding met God), is direk afhanklik en staan in verhouding met God se openbaring en die mens se belewing van God. Hart (1995) beskryf Karl Bath se siening oor God se openbaring soos volg:

When God reveals himself ... it is in the form of Word He is the one who initiates and brings to completion the act of knowing by, on the one hand, positioning himself objectively to be known, and on the other, entering into us as the Holy Spirit and creating the faith which responds appropriately Revelation for Barth as Christina Baxter has put it, 'straddles objectivity and subjectivity, and is never completed or finished, for the relationship between God who is giving Himself to be known, and the "human subject" who is receiving the capacity to know God is a continuing relationship: it has to be "new every morning" or it is not knowledge of God at all. (bl. 83)

Om God te ken en uit sy hand te lewe - dit is onderskeidingsvermoë. 'n Onderskeid wat my nederig hou omdat ek my eie nietigheid besef. 'n Onderskeid wat my dring tot omgee en liefde omdat ek self soveel het om voor dankbaar te wees. 'n Onderskeid wat my nooit laat arriveer nie, maar altyd soekend laat omdat my verhouding met God daagliks vernuwe.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Anderson, W.H.U., 1999, 'The problematics of the Sitz im Leben of Qoheleth', Old Testament Essays 12(2), 233-248.         [ Links ]

Barth, K., 1936, Church dogmatics, transl. G. Thomson Edingburg, T&T Clark.         [ Links ]

Bartholomew, C., 1999, 'Qoheleth in the Canon? Current trends in the interpretation of Ecclesiastes', Themelios 24(3), 4-17.         [ Links ]

Bender, C.J.G., Daniels, P., Lazarus, J., Naude, L., & Sattar, K., (2006), Service-learning in the curriculum: A resource for higher education institutions,The Council on Higher Education, Pretoria.         [ Links ]

Beukes, J., 2003, 'Kultuurkritiek en die hervormde benadering tot teologiebeoefening: 'n Gestaltegewing en uitdaging', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 59(1), 31-46. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v59i1.651        [ Links ]

Breytenbach, A.P.B., 1995, 'Nadenke oor die kerkbegrip: Enkele perspektiewe op grond van die Deuteronomistiese geskiedenis', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3), 702-711. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v51i3.1425        [ Links ]

Breytenbach, A.P.B., 2005, 'The Church's responsibility towards the social order: An Old Testament hermeneutic problem', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 61(3), 861-881. ttp://dx.doi.org/10.4102/hts.v61i3.467        [ Links ]

Coghlan, D., & Brannick, T., 2001, Doing action research in your own organization, Sage Publications, London & Washington DC.         [ Links ]

Clifford, R.C., 1999, Proverbs a commentary, John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Clifford, R.J., 2009, 'Proverbs, Book Of', in K.D. Sakenfeld (ed.), The new interpreter's dictionary of the Bible, Me-R, Abingdon Press, Nashville, TN, vol. 4, pp. 657-658.         [ Links ]

Collins, J.J., 1997, Jewish wisdom in the Hellenistic age, Westminster John Knox, Louisville, KY.         [ Links ]

Estes, D.J., 2008, 'Wisdom and Biblical theology', in T. Longman & P. Enns (eds.) Dictionary of the Old Testament: Wisdom, Poetry & Writings, Inter-Varsity Press, Nottingham, pp. 853-858.         [ Links ]

Garrett, D., 2008, 'Proverbs 3: History of interpretation', in T. Longman & P. Enns (eds.), Dictionary of the Old Testament: Wisdom: Wisdom, poetry & writings, Intervarsity-Press, Nottingham, pp. 566-578.         [ Links ]

Geyser-Fouché, A.B., 2009, 'Wysheid: Vind rus in die stilte', Konteks 20(8), 14-15.         [ Links ]

Grant, J.A., 2008, 'Wisdom poem', in T. Longman & P. Enns (eds.), Dictionary of the Old Testament. Wisdom, poetry & writings, Inter-Varsity Press, Nottingham, pp. 891-894.         [ Links ]

Hart, T., 1995, 'The Word, the words and the witness: Proclamation as divine and human reality in the theology of Karl Barth', Tyndale Bulletin 46(4), 81-102.         [ Links ]

Klingbeil, G.A., 2008, 'Ecclesiastes 2: Ancient Near Eastern background', in T. Longman & P. Enns (eds.), Dictionary of the Old Testament: Wisdom, poetry & writings, Inter-Varsity Press, Nottingham, pp. 123-144.         [ Links ]

Loader, J.A., 1987, 'Tekste met 'n wysheidsperspektief', in F. Deist & W. Vorster (red.), Woorde wat ver kom, bl. 103-122, Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Loader, J.A., 1987, 'Spreuke', in J.J Burden & W.S. Prinsloo (red.), Tweegesprek met God, bl. 41-48, Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Loader, J. A., 1992, 'Seeing God with natural eyes: On Job and Nature', Old Testament Essays 5, 346-360.         [ Links ]

Longman, T., 2008, 'Ecclesiastes 3: History of interpretation', in T. Longman & P. Enns (eds.), Dictionary of the Old Testament: Wisdom, poetry & writings, Inter-Varsity Press, Nottingham, pp. 140-149.         [ Links ]

Longman, T. & Enns, P. (eds.), Dictionary of the Old Testament: Wisdom, poetry & writings, Inter-Varsity Press, Nottingham.         [ Links ]

Lucas, E.C., 2008, 'Wisdom theology', in T. Longman & P. Enns (eds.), Dictionary of the Old Testament. Wisdom, poetry & writings, Inter-Varsity Press, Nottingham, pp. 901-912.         [ Links ]

Morrison, J. D., 2004, 'Barth, Barthians, and evangelicals: Reassessing the question of the relation of Holy Scripture and the Word of God', TRINJ25NS, 187-213.         [ Links ]

Murphy, R.E., 1992, Ecclesiastes Word Books, Dallas, TX. (Word Biblical Commentary, vol. 23A).         [ Links ]

Perdue, L.G., 2008, The sword and the stylus. An introduction to wisdom in the Age of Empires, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Van den Hoogen, T., 2011, A taste of God. On spirituality and reframing foundational theology, LIT, Berlin. (Nijmegen Studies in Theology, vol. 3).         [ Links ]

Van Rooy, H.F., 1991, 'Riglyne vir die prediking oor die wysheidsliteratuur, toegespits op die boek Spreuke', In die Skriflig/In Luce Verbi 25(3), 303-321. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v25i3.1381        [ Links ]

Van Zyl, F.J., 1993, Die mens as sondaar. Karl Barth se beskouing, KITAL, Pretoria.         [ Links ]

Viljoen, A. & Venter, P.M.V., 2013, 'An exploration of the symbolic world of Proverbs 10:1-15:33 with specific reference to "the fear of the Lord"', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 69(1), Art. #2008, 6 pages. http://dx/doi.org/10.4102/hts.v69i1.2008        [ Links ]

Von Rad, G., 1972, Genesis. A commentary, SCM Press, London.         [ Links ]

Weeks, S., 2010, An introduction to the study of wisdom literature, T & T Clark, New York, NY.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Ananda Geyser-Fouché
PO Box 13138
Hatfield 0028
Pretoria
South Africa

Received: 17 April 2014
Accepted: 20 June 2014
Published: 08 Oct. 2014

 

 

Note: This article was initially a paper delivered in June at the VTT (Voortgesette Teologiese Toerusting) with the theme: 'Onderskei oor dit waarop dit werklik aankom'.
1.Kyk onder andere Breytenbach (1995) se artikel in hierdie verband.
2.Die lang pad wat Bybelnavorsing gestap het van diachroniese tot sinchroniese ondersoeke het dit duidelik gemaak dat elke teks uniek is en dat elke Bybelboek vir en teen (
ʼn) spesifieke konteks(te) geskryf is, wat voortgevloei het uit bepalende ideologieë en reaksie(s) op die sosiohistoriese omstandighede.
3.Verwys na Beukes (2003) vir
ʼn bespreking van die mosaïek van teologiebeoefening in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.
4.Kyk Bender et al. (2006) in hierdie verband.
5.Verwys na Coghlan en Brannick (2001).
6.Die woord: word meestal gebruik vir kennis en word eerder gebruik in terme van begrip, insig, verstaan of om te kan onderskei. Von Rad (1972:89) bespreek die begrip van 'om te weet' in die antieke tye in sy kommentaar op die sondeval soos volg: 'So far as knowledge of good and evil is concerned, one must remember that the Hebrew word yd
ʻ ("to know") never signifies purely intellectual knowing, but in a much wider sense an "experiencing", a "becoming acquainted with", even an "ability". To know in the ancient world is always to be able as well (Wellhausen). "Knowledge of good" should not immediately suggest a capacity for distinction within the moral sphere in a narrower sense; it certainly does not indicate the knowledge of absolute moral standards "good and evil" should be understood more as what is "beneficial" and "salutary" on the one hand and "detrimental", "damaging" on the other.'
7.In baie gevalle dui die Nifal-partisipium op die kwaliteit van
ʼn persoon wat in Engels met 'discerning' vertaal kan word. Die woord 'onderskeidende' sou ʼn direkte vertaling kon wees, maar dit is nie moontlik om dit so te vertaal nie. Daarom is 'skerpsinnige' deurgaans in hierdie vertaling gebruik om 'discerning' weer te gee.
8.Span die sintuie in om te verstaan/onderskei, dan lei verstaan/onderskeiding tot bekering.
9.Selfverheffing is om nie te onderskei nie.
10.Terminologie soos: 'regverdig teenoor dwaas'; 'verskillende weë'; vermanings, vergelykings, vergeldingsleer, vrees vir JHWH. Sien onder andere Perdue (2008:152-197) vir
ʼn bespreking van wysheidperspektiewe in Psalms.
11.Die bespreking is baie kortliks en oorsigtelik en is 'n samestelling van inligting verkry uit: Anderson (1999); Bartholomew (1999); Clifford (1999 en 2009); Collins (1997); Garrett (2008); Estes (2008); Grant (2008); Klingbeil (2008); Loader (1987 en 1992); Longman (2008); Lucas (2008); Murphy (1992); Perdue (2008); Van Rooy (1991) en Weeks (2010).
12.Kyk ook Viljoen en Venter (2013) vir
ʼn bespreking van die 'vrees vir die Here'.
13.Kyk Loader (1992) oor immanensie en transendensie, spesifiek in Job.
14.CD I/1, I2 - Karl Barth, Church Dogmatics (transl. G. Thomas, T&T Clark, Edingburg, 1936). Kyk ook Morrison (2004) se bespreking oor Barth se skrifbeskouing.
15.Kyk onder andere Spreuke 15:8, 21:2 & 27, Jesaja 1:11, asook Jeremia 7:22-23.
16.Kyk onder andere Matteus 23, Lukas 11:37-54, Lukas 18:9-14.
17.Kyk Beukes (2003) asook Breytenbach (2005) in hierdie verband.
18.Jesaja 54:7: 'Ek ontferm my oor jou met
ʼn liefde wat nooit vergaan nie.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons