SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.70 número3Mani (216-276 CE) and Ethiopian enochShorter or longer text in Ezekiel 6: The role of genre índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


HTS Theological Studies

versión On-line ISSN 2072-8050
versión impresa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.70 no.3 Pretoria mar. 2014

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v70i3.2094 

ORIGINAL RESEARCH

 

Conversio Ad Docelitam: Calvyn oor bekering en Christenwees

 

Conversio ad docelitam: John Calvin on conversion and being a Christian

 

 

Wim A. Dreyer

Department of Church History and Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

This contribution describes John Calvin's understanding of what it means to be a Christian. When Calvin 'converted' to the Reformation in the early 1530s, the term 'Protestant' did not exist. There was no systematic body of doctrine or a confession you could put your signature under. So Calvin became a 'lover of Christ'. The unity with Christ was a central part of his theology but also his personal spirituality. Calvin also understood his own conversion as a 'conversio subita ad docelitam', a conversion to a 'teachable frame of mind'. Calvin's love for Christ, his love for the Word of God and a teachable frame of mind not only defined his theology, but also his piety and spirituality.


 

 

Inleiding

Wat is tipies aan Calvinistiese 'spiritualiteit'? Die diversiteit in spiritualiteit en fragmentasie op kerklike terrein wat so kenmerkend is aan die een-en-twintigste eeu, maak dié vraag aktueel. In hierdie bydrae word enkele opmerkings oor Johannes Calvyn se verstaan van Christenwees en bekering gemaak, met die veronderstelling dat dit kan help om Calvinistiese spiritualiteit te tipeer.

Wat beteken dit om 'n Christen te wees? Breedweg sou dit as 'n lewe van geloof in en gehoorsaamheid aan God Drie-enig beskryf kon word. Christenwees het te doene met doctrina et vita, met 'leer en lewe', met ortodoksie en ortopraksie (Van Wyk 2010:49). Die geloof in Christus lei tot 'n lewe van dissipelskap, selfverloëning en die regte gebruik van die lewe wat God as gawe aan elkeen skenk. Dit is 'n lewe onder leiding van die Woord en Gees (Van Wyk 2010:57-58).

Calvyn se persoonlike leuse, wat in 'n sekere sin ook tiperend van sy persoonlike geloofslewe was, het gelui: 'Cor meum tibi offero, prompte et sincere' (kyk Lee 2004:103). Hierdie leuse word met illustrasies in verskeie van sy publikasies uitgebeeld, onder andere die Franse vertaling van dieInstitusie van 1566 (Backus & Bendict 2011:94). Dit kan vertaal word met 'My hart offer ek aan U, sonder huiwering en met oortuiging.' Dit verwoord die oortuiging dat 'n mens sy hele lewe in diens van God moet opoffer.

Calvyn se skryfwerk spreek van 'n diep en persoonlike geloof, van toewyding aan God en die oortuiging dat die Woord van God normatief is om te onderskei wat God van elke Christenmens verwag. Dit is iets anders as die streng, rigiede en veroordelende beeld van Calvyn wat dikwels geskep word. Daar word selfs toenemend aanvaar dat daar by Calvyn 'n 'mistieke' element teenwoordig was (Chin 2003:183-184). Chin toon aan dat daar by Calvyn 'n inherente spanning te bemerk is: 'n Warm, mistieke ingesteldheid getemper deur 'n analitiese en logiese verstand. Laasgenoemde is te begrype teen die agtergrond dat Calvyn 'n hoogs begaafde regsgeleerde was.

Indien ons met aandag lees wat Calvyn sélf geskryf het kan dit bydra tot 'n nuwe waardering vir 'n eg Calvinistiese spiritualiteit. In hierdie bydrae word 'n paar tekste uit die pen van Calvyn aan die orde gestel, waardeur ons iets ontdek van sy verstaan van bekering, wat dit beteken om 'n Christen te wees en op grond van die Woord te onderskei wat die wil van God is. Om die leuse van die Renaissance te benut: Ad fontes! In 'n soeke na Calvinistiese spiritualiteit, is die logiese vertrekpunt Calvyn self.

 

Liefde vir die Woord

Calvyn was ses-en-twintig toe sy neef, Pierre Robert d'Oliviet (Olivétanus), se Franse vertaling van die Bybel verskyn het, waarvan hy die voorwoord geskryf het (vgl. teks in Backus & Chimelli 1986:13-38). Dit was ook Olivétanus wat Calvyn aangemoedig het om die Bybel noukeurig te bestudeer, om só tot groter insig te kom en te onderskei tussen ware en valse leer (Dankbaar 1957:7).

Van die begin is reformatoriese spiritualiteit gekenmerk deur respek en liefde vir die Woord van God (Dreyer 1998:297). Die Woord dien as basis waarop en waarvolgens daar onderskei word wat die wil van God is. Dit is kort en kragtig geformuleer in die slagspreuk sola Scriptura. As een van die leidinggewende figure tydens die sestiende-eeuse Kerkhervorming, wat dikwels gekonfronteer is met baie moeilike besluite, het Calvyn altyd teruggegryp na die Woord as norm waarvolgens kerklike en persoonlike geloofsbesluite geneem moes word. Die korrelasie en integrasie tussen Calvyn se gelowige omgaan met die Woord, sy teologiese arbeid en praktiese kerkhervorming gee 'n bepaalde integriteit aan sy lewe en werk. Calvyn kan nie anders verstaan word as 'n 'teoloog van die Woord' nie (Opitz 1994:99 e.v.).

As teoloog van die Woord het Calvyn moeite gedoen om noukeurig eksegese van die hele Bybel te doen en te kommentarieer. Sy waardering vir die Woord van God kom onder andere in sy eksegese van Psalm 1 (Calvin [1557] 1845:1) na vore. Hy interpreteer die 'wet' waarvan Psalm 1 praat, as die hele Woord (tota Scriptura) van God. Calvyn (1557:35) skryf die volgende kommentaar oor Psalm 1:1-2 en die vreugde wat in God se Woord te vind is:

From his characterising the godly as delighting in the law of the Lord, we may learn that forced or servile obedience is not at all acceptable to God, and that those only are worthy students of the law who come to it with a cheerful mind, and are so delighted with its instructions, as to account nothing more desirable or delicious than to make progress therein. From this love of the law proceeds constant meditation upon it, which the prophet mentions on the last clause of the verse; for all who are truly actuated by love to the law must feel pleasure in the diligent study of it.

Dit is opvallend dat Calvyn in hierdie gedeelte onderskei tussen diegene wat hulle met God se Woord besig hou omdat hulle daartoe gedwing word en diegene wat met vreugde die Woord oordink omdat dit vir hulle lekker is. Om vreugde in God se Woord te vind is nie iets waartoe enigiemand gedwing kan word nie, maar dit vloei vanuit 'n innerlike oortuiging en geloof wat deur die Heilige Gees opgewek word.

Kenmerkend van Calvyn se teologie is die feit dat hy in die eerste en laaste instansie 'n student van die Woord was. Alhoewel sy Institutio Christianae Religionis (hierna: Institusie) (Calvin [1559] [1845] 2002) 'n besondere bydrae gemaak het tot die sistematisering van reformatoriese teologie en leer (doctrina), skryf hy in die voorwoord ([1559] [1845] 2002:24) van die Institusie dat dit geskryf is met die doel om die lesers voor te berei om self die Woord van God te lees sodat dit nie te moeilik of onverstaanbaar vir hulle sal wees nie. Calvyn se totale teologie staan in diens van die Woord en is 'n poging om God se Woord te ontsluit.

D'Assonville (2010:136-137) het aangetoon dat Calvyn se Skrifbeskouing (vgl. Calvin [1559] [1845] 2002: I/6/1) en eksegetiese metode saamgevat kan word in die begrippe sola Scriptura asook tota et una Scriptura. Die Skrif is nie net die enigste bron van ware Godskennis nie, maar moet ook in sy totaliteit en eenheid gelees en verstaan word. Sy diep respek vir die Woord van God word duidelik uit die feit dat hy nie selektief met die Woord omgaan nie. Daarom moes die hele Bybel sistematies uitgelê word en ook sistematies gepreek (lectio continua) word.

Calvyn se Skrifbeskouing impliseer nie 'n formele, fundamentalistiese of legalistiese benadering nie, maar eerder 'n dinamiese verstaan van die Woord wat in Christus sy ontstaan het. Die feit dat Calvyn nie 'n fundamentalis was nie, blyk uit sy waardering vir deeglike uiteensetting van die leer gegrond op histories-grammatiese eksegese van die teks. Daarvan is die eksegese in sy kommentare 'n sprekende voorbeeld.

By Calvyn moet 'n mens altyd die intrinsieke verbondenheid tussen Woord en Gees veronderstel (D'Assonville 2010:136). Dit is duidelik verwoord in sy bekende antwoord aan Sadoleto:

For seeing how dangerous it would be to boast of the Spirit without the Word, he declared that the Church is indeed governed by the Holy Spirit, but in order that that government might not be vague and unstable, He annexed it to the Word. (Calvin 1539:8)

Hierdie verbintenis tussen Woord en Gees verwoord Calvyn se kritiek teen Roomse verbintenis tussen Woord en kerk, asook die anabaptiste se verbintenis tussen die Gees en Geesvervulde mens wat beteken dat God se wil buite die Woord openbaar word. Die Gees openbaar geen nuwedoctrina aan die gelowiges nie, maar lei elke gelowige om te onderskei wat God in sy Woord sê en wat Hy van ons verwag.

Teen hierdie agtergrond moet ons ook Calvyn se ampsbegrip verstaan. In sy Ordonnances Ecclésiastique (vgl. teks in Pont 1981:23-47) word die amp van 'herder en leraar' getipeer as een waarin die Woord 'n sentrale plek inneem. Dit is die roeping van die gemeentelike pastor om die Woord te bestudeer, sodat hy dit suiwer kan verkondig en lidmate kan vermaan om in gehoorsaamheid aan God te leef. Daarbenewens leef die kerk onder die heerskappy van Christus, wat deur sy Woord en Gees die kerk regeer tot eer van God.

In Artikel 21 van die Ordonnances Ecclésiastique (sien vertaling in Pont 1981) lees ons:

Sodat vasgestel kan word met watter toewyding elkeen die studie van die Skrifte beoefen en sodat almal teen luiheid beskerm sal word, sal elke week 'n ander leraar die Bybelgedeelte wat ter sprake is uitlê. (bl. 26)

Dit word vanselfsprekend van elke leraar verwag om die noukeurige studie van die Skrif nie uit dwang nie, maar met vreugde te onderneem.

 

Om Christus lief te hê

Vir Calvyn was die kern van die verhouding tussen die gelowige en Christus om έν χριστώ (Rom 6:11) te leef. Emil Brunner (1935:33) was van mening dat Calvyn se verstaan van uitverkiesing, sakramente, die kerk en heiligmaking gegrond was op sy verstaan van die eenheid met Christus, om 'in Christus' te wees.

Calvyn het dié mistieke eenheid tussen die gelowige en Christus nie as 'n opname van die gelowige in die Goddelike bestaan beskou nie, maar eerder dat die gelowige deur die geloof en krag van die Heilige Gees met Christus een is (Chin 2003:184). Chin (2003) formuleer dit soos volg:

To be sure, Calvin's notion of unio mystica was the Reformer's solution to overcome Osiander's mystical teachings. What Calvin meant by unio mystica or 'union with Christ' did not involve any suggestion of a gross mixture of substances between Christ and the believer. For Calvin, it was a spiritual, yet real union. (bl. 205)

Vir Calvyn was één saak baie duidelik: Ware Christenwees beteken dat die gelowige deur die krag van die Heilige Gees één is met Christus en Hom daarom ook moet liefhê (vgl. in die verband Lee 2010:2-5). 'n Voorbeeld hiervan vind ons in die voorwoord wat Calvyn geskryf het vir Olivétanus se uitgawe van die Bybel wat in 1535 verskyn het (vgl. Backus & Chimelli 1986:13-38). Hy begin met die woorde: 'Aan almal wat Jesus Christus en sy evangelie liefhet, groete.' Hierin verwoord Calvyn sy verstaan van Christenwees en rig 'n uitdaging aan die hele kerk. Christenwees beteken om in die geloof aan Christus verbonde te wees, om 'n dissipel van Christus te wees, iemand wat by Hom leer en Hom volg (Neuser 2001:16; Cottret 2000:89-90). 'n Dissipel van Jesus Christus beantwoord Christus se liefde met vertroue, getrouheid en liefde. Calvyn se verstaan van geloof het beteken dat God die eerste inisiatief neem, dat die mens reageer en dat daar op 'n resiprokale wyse 'n liefdesverhouding tussen God en mens tot stand kom. Christenwees berus dus op 'n liefdesverhouding tussen die gelowige mens en Jesus Christus. Hy het homself beskou as iemand wat in 'n liefdesverhouding met Christus staan.

Christenwees, dissipelwees, kerkwees staan volgens Calvyn in die teken van selfverloëning (Calvin [1559] [1845] 2002:423-436; Van Wyk 2010:59). Selfverloëning is van belang in die Christen se verhouding met sy medemens en met God. Christenwees beteken om afskeid te neem van die mag en selfverheerliking wat die mens vir homself opeis en 'n lewe te leef waarin God verheerlik word deur woord en daad. Dit impliseer 'n lewe van toewyding aan God (heiligheid).

Christenwees, dissipelwees, kerkwees is ook inklusief. In Calvyn se voorwoord tot Olivétanus se Bybelvertaling skryf hy dat om Christen te wees, is 'n erflating waartoe ons almal geroep word sonder aansiens des persoons (Backus & Chimelli 1986:32). Elkeen wat Jesus Christus erken en bely, dra die eretitel 'Christen'. Die mees eenvoudige mens wat sy vertroue op Christus stel, is in alle opsigte 'Christen' en geroepe om tot eer van God te leef. Daarom waarsku Calvyn ([1559] [1845] 2002:632) in sy Institusie (IV/1/13) dat ons nie te noukeurig moet probeer onderskei wie die ware en wie die valse gelowiges is nie. Die kerk is en bly altyd corpus permixtum. Daar sal altyd foute en gebreke in die kerk wees. Die kerk bestaan immers uit sondaars, anders as wat sommige anabaptistiese groepe se standpunt was. Daarvan getuig hulle pogings om 'n societa perfecta te stig en 'sondaars' van die kerk uit te sluit. Christene mag hulle nie van die kerk afskei nie, maar hulle eerder onderwerp aan die vermaning van medegelowiges wat gehoorsaam soek na die wil van God (Calvin [1559] [1845] 2002:IV/1/15).

Vir Calvyn was dit vanselfsprekend dat Jesus Christus oor die kerk regeer. In die hersiene uitgawe van die Ordonnances Ecclésisastiques wat in 1561 in Genève van krag geword het, is dit duidelik dat Christus deur sy Woord die kerk regeer, deur die verkondiging van die evangelie. Calvyn praat op 'n aangrypende wyse oor die kerk (vertaling in Pont 1981):

God is die outeur van die prediking, deur die Heilige Gees. Die sigbare kerk is daar waar mense één God en Christus bely. Waar die Woord gehoorsaam word waar gelowiges in liefde en in eensgesindheid om die nagmaal vergader. (bl. 23)

En dan die merkwaardige woorde, na aanleiding van Augustinus (Calvin [1559] [1845] 2002:629 IV/1/8): 'Daar is baie skape buite die kerk, en baie wolwe binne die kerk' (vert. deur outeur).

 

'n Bekering tot leerbaarheid

Dit was na alle waarskynlikheid deur die loop van 1533 dat Calvyn tot die Kerkhervorming oorgegaan het, tydens sy verblyf in Angouleme. Op daardie stadium was hy besig met navorsing in die biblioteek van Du Tillet (Cottret 2000:65; Dankbaar 1957:2528; Wendel 1978:42). Calvyn se 'bekering' is al dikwels bespreek en nagevors (vir 'n oorsig sien Lee 2004:103-104). Die vraag is: Hoe het dit gebeur dat dié jong en briljante regsgeleerde met 'n uitgebreide kennis van Latyn, Hebreeus, Grieks, Filosofie, Geskiedenis en die Patristiek 'n 'Christen' geword het?

Calvyn het selde oor homself geskryf. Tog is daar enkele tekste waarin ons 'n blik kry op sy geloof en bekering. In sy Brief aan Sadoleto (Calvin 1540:110) maak hy die opmerking dat hy nie vir God gekies het nie; dat God hom gekies het en geroep het om in sy diens te staan. Dit het gebeur deur die 'verligting van die Heilige Gees' en deur God se Woord wat 'n 'lewendige lig in sy hart gegee het.' Deur die Woord en die Gees kon hy 'onderskei waarop dit aankom'.

Ons kry meer insig in Calvyn se bekering in sy beskrywing daarvan in die voorwoord van sy kommentaar op die Psalms soos volg:

God, by a sudden conversion, subdued and brought my mind to a teachable frame, which was more hardened in such matters than might have been expected from one at my early period of life. Having thus received some taste and knowledge of true godliness I was immediately inflamed with so intense a desire to make progress therein, that although I did not altogether leave off other studies, I yet pursued them with less ardour. (Calvin [1557] 1845:23)

Volgens Cottret is die betrokke sinsnede besonder moeilik om te vertaal (Cottret 2000:68). Hy verwys onder andere na Ganoczy se standpunt dat dit opmerklik is dat die frase in die Latynse teks conversio subita ad docelitam die woord 'subita' gebruik word en nie 'subite' nie. Eersgenoemde dui op 'n bekering deur die krag van God, terwyl laasgenoemde dui op 'n skielike bekering. Die verwarring word vererger omdat die woord 'subita' ooreenkom met die Franse woord 'subie', dus iets wat met jou gebeur, iets buite jou beheer. Karl Barth (1995:138) is van mening dat die debat oor Calvyn se bekering as 'skielik' of 'van Bo' deur 'n piëtistiese verstaan van bekering beïnvloed word. Hy beklemtoon dat bekering God se ingrype in die lewe van 'n mens is en dat Calvyn, in die inleiding tot sy Kommentaar op die Psalms (Calvin [1557] 1845:25), dit ook só verstaan het.

Dit is verder opvallend dat Calvyn 'n baie spesifieke inhoud aan bekering gee, naamlik dat dit 'n 'bekering tot leerbaarheid' is. Om Christen te wees, beteken om te luister, om te onderskei wat God se wil is, om met jou oor naby die mond van die Here Jesus te leef. Bekering beteken dat jy Jesus Christus as Leermeester het, luister na sy woorde en daarvolgens leef. Bekering impliseer dissipelskap, 'n leergierigheid. Luister, leer en doen lei tot die lewe (Matt 7:24-29) (Dreyer 2014:3 van 8).

In sy Institusie (III/3/5) gee Calvyn ([1559] [1845] 2002:411) 'n verdere uiteensetting van wat bekering is. Daar beskryf hy bekering as poenitentia.Dit dra die betekenis van skulderkenning, boete, verootmoediging en afkeer aan sonde en 'n nuwe lewe van gehoorsaamheid. Hy beskryf dit soos volg:

Indeed, I am aware of the fact that the whole of conversion to God is understood under the term 'repentance', and faith is not the least part of conversion On this account, in my judgment, repentance can thus be well defined: it is the true turning of our life to God, a turning that arises from a pure and earnest fear of Him; and it consists in the mortification of our flesh and of the old man, and in the vivification of the Spirit. (Calvin [1559] [1845] 2002:411)

Calvyn verbind bekering ook aan wedergeboorte. Sodanige bekering lei tot 'n vernuwing van denke, 'n verandering van gees en in uitwendige handelinge. Dit lei tot 'n intense begeerte om in gehoorsaamheid en toewyding aan God te leef. Dit lei tot die herstel van die beeld van God in ons:

Therefore, in a word, I interpret repentance as regeneration, whose sole end is to restore in us the image of God that had been disfigured and all but obliterated through Adam's transgression Accordingly, we are restored by this regeneration through the benefit of Christ into the righteousness of God; from which we had fallen through Adam. (Calvin [1559] [1845] 2002:420)

Die gevolg van wedergeboorte is 'n proses van heiligmaking. Hierdie proses het die geaardheid van stelselmatige verandering (Lee 2004:107), maar dit neem ook nie weg dat wedergeboorte 'n eerste stap in die proses van bekering en heiligmaking is nie. In Christus word die mens 'n nuwe skepping. Deur die handeling van God vind die conversionis originem plaas en begin God sy werk in ons. God skep in die mens die begeerte en ywer vir geregtigheid. God self buig, vorm en rig ons denke om met ywer die liefde na te jaag. Sodanige transformasie en vernuwing is slegs moontlik deur die kragtige werk van God in die mens. In die proses ontvang die mens 'n nuwe gees en hart. So word die tweede skepping of wedergeboorte die begin van 'n egte Christelike spiritualiteit.

In Nederlands is daar die uitdrukking: 'Men die nie studeert, ben niet bekeerd.' Dit is veral waar van iemand soos Calvyn. Bekering, vernuwing van denke, groter insig, om te kan onderskei waarop dit aankom het vir Calvyn ten nouste saamgehang met teologiese studie.

In die argief in Genève is daar meer as 20 000 dokumente wat Calvyn met sy eie hand geskryf het. Daarin vind 'n mens die klassieke akademikus aan die woord, wat met sy fenomenale kennis van die Bybel, teologiese vraagstukke en geskiedenis van die vroeë kerk, klassieke Romeinse en Griekse tekste en grondtale, bykans oor enige onderwerp grondige kommentaar kon lewer. 'n Bekering tot leerbaarheid was nie vir Calvyn beperk tot 'n paar teksverse uit die Bybel nie, maar die intense bewustheid van 'n roeping om die Woord van God noukeurig te bestudeer en te verkondig. Daarvan getuig meer as 1500 preke wat behoue gebly het (Cottret 2000:289). Meer as 900 preke is uit onkunde in die negentiende eeu vernietig. Calvyn het daagliks gepreek, op Sondag tweemaal.

Vir Calvyn was bekering en roeping keerkante van dieselfde muntstuk (Cottret 2000:69). Beide verg die vermoë om gehoorsaam na die wil van God te vra. Christenwees verg bekering, gehoorsaamheid en diensbaarheid. Christenwees beteken om leerbaar te wees. Christenwees beteken dat jy jou roeping wat jy van God ontvang het getrou tot uitvoering te bring. Vir Calvyn was sy roeping die bestudering en verkondiging van die Woord.

 

Gevolgtrekking

Calvinistiese spiritualiteit?

Calvyn het elke poging aangewend om in anonimiteit te leef en het homself nooit as die middelpunt van die Kerkhervorming beskou nie. Aan God moet die eer gegee word, soli Deo gloria (Meeter 1957:10). Kenmerkend van 'n Calvinistiese spiritualiteit is 'n lewe waarin alle eer aan God gegee word, 'n lewe uit en deur God se genade (sola gratia).

Hierdie anonimiteit waarna Calvyn gestreef het, word die duidelikste geïllustreer deur die gebeure rondom sy dood en begrafnis. Calvyn het 'n paar dae voor sy dood sy vriende byeengeroep, hulle gegroet en opdrag gegee dat daar geen seremonie by sy begrafnis mag wees nie. Die lykbesorger het die dag met sy dood sy liggaam kom haal en in 'n anonieme graf begrawe, sonder dat iemand anders teenwoordig was. Daarom is die presiese plek van Calvyn se graf steeds onbekend (Febvre 1968:267).

Calvyn het nooit 'n kultusfiguur geword of groot persoonlike aanhang verwerf nie. Die hele idee van 'n charismatiese of invloedryke geestelike leier is heeltemal vreemd aan sy denke. Selfs Theodor Beza, Calvyn se vriend en opvolger in Genève, skryf in sy biografie van Calvyn dat hy nie van 'n man 'n engel wil maak nie (soos aangehaal in Cottret 2000:3-4). Dit was vreemd aan Calvyn dat iets soos 'Calvinisme' sou ontwikkel. Dit het steeds om iets anders gegaan: Kennis van die Skrif waaruit ons God leer ken en leer om Jesus Christus te volg en lief te hê.

Hoe kan ons 'n Calvinistiese spiritualiteit tipeer? As ons na Calvyn self luister, word dit duidelik dat egte spiritualiteit by wedergeboorte en die eenheid tussen Christus en Christen begin. Dit gebeur deur die krag van die Heilige Gees en lei tot 'n lewenslange proses van bekering. Dit verg 'n lewe van toewyding aan God en vreugdevolle gehoorsaamheid aan die Woord van God. Christenwees gaan allereers oor die liefdesband wat tussen Christus en sy volgelinge bestaan. 'n Ware Christen het die begeerte om na Christus te luister, wil by Hom leer en wil in sy voetspore volg. Calvinistiese spiritualiteit verg ten diepste 'n bekering tot leerbaarheid - conversio ad docelitam. Dit kan nie sonder die werk van die Heilige Gees gebeur nie.

Die wêreld sien te dikwels Christene wat sukkel met Christenwees. Christene en kerke se soeke na politieke mag en welvaart is vir baie 'n teken dat die Christelike geloof 'n leuen is. Vir baie mense is die kerk se regverdiging van ideologie, politieke beleid, reuse kerkgeboue, materialisme en vermaaklike eredienste 'n verlies aan integriteit en geloofwaardigheid. Die verlies aan integriteit lei daartoe dat die stem van Christene en die kerk al moeiliker in die wêreld gehoor word.

Sou reformatoriese kerke werklik erns maak met die verbintenis tussen geloof en lewe, respek vir die Woord, die eenheid met Christus en 'n lewe van selfverloëning wat so tipies aan Calvyn se eie geloofslewe was, kan dit die verlies aan integriteit voorkom.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Backus, I. & Chimelli, C. (eds.), 1986, La vraie pieté, Labor et Fides, Genève.         [ Links ]

Backus, I. & Benedict, P., 2011, Calvin and his influence, 1509-2009, Oxford University Press, Oxford." http://dx.doi.org/10.1093/acprof:oso/9780199751846.001.0001        [ Links ]

Barth, K., 1995, The Theology of John Calvin, transl. G.W. Bromiley, Wm. B. Eerdmans Publishing, Grand Rapids.         [ Links ]

Brunner, E., 1935, Vom Werk des Heiligen Geistes, Zwingli-Verlag, Zürich.         [ Links ]

Calvin, J., 1539, 'Reply to Sadoleto', viewed 15 March 2014, from http://rels365fa10.pbworks.com/w/page/33320860/Calvin's%20%E2%80%9CReply%20to%20Sadoleto%E2%80%9D        [ Links ]

Calvin, J., [1540] 1986, 'Lettre á Sadolet', in I.D. Backus & C. Chimelli (eds.), La vraie piété, pp. 81-119, Labor et Fides, Genève.

Calvin, J., [1557] 1845,Commentary on the Book of Psalms, vol. 1, transl. J. Anderson, viewed no date, from http://www.ccel.org/ccel/calvin/calcom08.titlepage.html

Calvin, J., [1559] 2002, Institutes of the Christian Religion, transl. H. Beveridge, R.J. Dunzweiler (ed.), viewed no date, from http://www.ccel.org/ccel/calvin/institutes.titlepage.html

Chin, C.S. 2003, 'Calvin, mystical union and spirituality', Torch Trinity Journal 6, 183-209.         [ Links ]

Cottret, B., 2000, Calvin: A Biography, transl. M. W. McDonald. T&T Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Dankbaar, W.F., 1957, Calvijn - Zijn weg en werk, GF Callenbach N.V., Nijkerk.         [ Links ]

D'Assonville, V.E., 2010, 'Calvin as an exegete of Scripture: A few remarks with reference to Calvin research in general', in C.J. Smit, W.A. Dreyer & J.J. Gerber (eds.), John Calvin 1509-2009: A South African perspective, pp. 129-144, Conventus Reformatus, Potchefstroom. (In die Skriflig, 44, suppl. ser. 3).         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1998, 'Spiritualiteit, identiteit en die etos van die Nederduitsch Hervormde Kerk', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 54 (1/2), 289-314. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v54i1/2.1409        [ Links ]

Dreyer, W.A., 2014, ''n Kerk met integriteit', Die Hervormer, 8 bl., besigtig 10 Julie 2014, by http://hervormer.co.za/gesprek/index.php/alle-bydraes/27-htk-opening-feb-2014.html        [ Links ]

Febvre, L., 1968, Crayon de Jean Calvin Au cœur religieux du xvi siècle, Service d'Edition et de Vente des publications de l'Education Nationale (S.E.V.P.E.N.), Paris.         [ Links ]

Lee, D., 2010, '"The Holy Spirit as Bond" in Calvin's thought: Its functions in connection with the extra Calvinisticum', PhD Dissertation, Faculty of Divinity, University of Edinburgh.         [ Links ]

Lee, H.B., 2004, 'Calvin's sudden conversion (subita conversio) and its historical meaning', Acta Theologica, suppl. 5, 103-116.         [ Links ]

Meeter, H.H., 1957, Het Calvinisme. Zijn theologische en staatkundige grondgedachten, transl. P. Prins, J.H. Kok N.V., Kampen.         [ Links ]

Neuser, W.H., 2001, 'The first outline of Calvin's theology - The preface to the New Testament in the Olivétan Bible of 1535', Koers - Bulletin for Christian Scholarship 66(1/2), 1-22. http://dx.doi.org/10.4102/koers.v66i1/2.385        [ Links ]

Opitz, P., 1994, Calvins theologische Hermeneutik, Neukirchener, Neukirchen.         [ Links ]

Pont, A.D., 1981, Historiese agtergronde van ons kerklike reg, dl. 1, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

Van't Spijker, W., 1990, 'De kerk bij Calvijn: Thecratie', in W. van't Spijker, W. Balke, K. Exalto & L. van Driel (reds.), De Kerk: Wezen, weg en werk van de kerk naar reformatorische opvatting, bl. 143-162, Uitgeverij De Groot Goudriaan, Kampen.         [ Links ]

Van Wyk J.H., 2010, 'What are the key characteristics of a Christian life? A comparison of the ethics of Calvin to that of Augustine and their relevance today', in C.J. Smit, W.A. Dreyer & J.J. Gerber (eds.), John Calvin 1509-2009: A South African perspetive, pp. 41-69, Conventus Reformatus, Potchefstroom. (In die Skriflig, 44, suppl. ser. 3).         [ Links ]

Wendel, F., 1978, Calvin - The origins and development of his religious thought, transl. P. Mairet, William Collins & Sons, London.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Wim Dreyer
17 Elephant Road
Monument Park 0181
Pretoria, South Africa

Received: 04 Nov. 2013
Accepted: 15 May 2014
Published: 08 Sept. 2014

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons