SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.70 issue1Behind the numbers are believers, congregations and the church, a practical theological reflection on membershipThe Missional congregation in the South African context author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.70 n.1 Pretoria Jan. 2014

http://dx.doi.org/10.4102/HTS.V70I1.2699 

ORIGINAL RESEARCH

 

'n Narratief vir kerk-wees vandag

 

A narrative of church life today

 

 

J. Christo van der Merwe

Reformed Theological College, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

We live in a time when survival seems to be the biggest concern of most mainline congregations and denominations. How can the church possibly survive? This is a question that is asked in almost every corner of the institution. Since the 1960s, numerous books and articles have been published, trying to get a handle on why the mainline churches are in decline. Whatever the cause may be, decline is causing great fear and anxiety in the mainline churches. In an effort to answer the underlying question: 'What shall we do to turn the situation around?', some churches are simply trying to 'market' themselves and their message. Others try to 'do' church differently. Some try to rediscover the purpose of the church, et cetera. Cheryl Peterson argues that churches are, in fact, facing an ecclesial crisis, that is much more than a crisis of declining numbers and membership. There is a deeper and more basic issue that must be explored, one that has to do with the church's theological identity, and that is: what it means to be church? This article is about the question: Who is the church? And it answers the question on the basis of Peterson's thesis by means of a narrative of the church that commences with the Spirit.


 

 

Inleiding

Die een-en-twintigste eeu word geteken as 'n hoogs komplekse fenomeen, 'n tydperk waarin terrorisme, tegnologiese innovasie, 'n onvolhoubare omgewing, 'n onbeheerste verbruikersmentaliteit, en onophoudelike verandering ons op elke gebied konfronteer (Hirsch & Altclass 2009:25). Rendle (1998:3) beskryf dit as 'n tyd van groot verandering, nie slegs in die kerk nie, maar ook wat betref ons gesinne, ons werkplekke, regering, skole - en so kan die lys aangaan. Frambach (2007:17) noem dit, kultureel gesproke, 'n tydperk van massiewe tektoniese plaatverskuiwings. Die een-en-twintigste eeu word dus gekenmerk deur veranderende paradigmas. Die begrip paradigma verwys na 'n patroon,'n voorbeeld of 'n model. Paradigmas vorm die essensie van hoe 'n mens die lewe verstaan. Wat die kerk betref, gebeur 'n paradigmaskuif wanneer 'n nuwe lewensnarratief so inslag vind dat dit die identiteit, etos en praktyke van 'n kerk verander (Niemandt 2013:40). 'n Paradigma kan met ander woorde gesien word as die narratief oor hoe 'n sisteem werk, of as die DNS van 'n organisasie. Wanneer daar 'n paradigmaskuif plaasvind wat die kerk betref, verander die onderliggende manier van verstaan en onuitgesproke aannames, die insig in en oor die kerk. Dit word 'n nuwe spel met nuwe reëls. Alhoewel die kerk in die geskiedenis al 'n sestal paradigmaskuiwe (Niemandt 2013:179) beleef het, is die huidige paradigmatiese verskuiwing so groot en allesomvattend dat die kerk nie slegs in die proses gemarginaliseer is nie, maar ook gelaat is met 'n gevoel van ontmagtiging omdat die antwoorde en metodes wat in die verlede vir die kerk gewerk het, net nie meer funksioneel is nie. In hierdie hoogs komplekse, veranderende wêreld roep en stuur God die kerk met die bedoeling dat dit deel sal wees en deel sal neem aan wat God besig is om te doen, eerder as dat die kerk bloot probeer om in eie behoeftes te voorsien (Tyra 2013:26). Die kerk self verkeer egter in 'n krisis. Behalwe die uitdagings van die komplekse samelewing word die voortbestaan van hoofstroomkerke wêreldwyd ook bedreig deur, onder andere, drastiese getalledalings, en die gepaardgaande toenemende finansiële druk, wat selfs van die instandhouding van wat daar nog van die hoofstroomkerke oor is, 'n oorlewingstryd maak. Peterson (2013:1) verwoord iets van baie navorsers se oortuiging wanneer sy sê: 'The viability of the mainline churches is being questioned in nearly every corner of the church, with some prognosticators even predicting their demise'. Volgens Frambach (2007:18) behoort so 'n waarneming op sigself nie as verrassing te kom nie. Wanneer die effek van paradigmaskuiwe in ag geneem word, is dit duidelik dat die kerk in die sogenaamde 'Christelike era' 'n bepaalde plek gehad het wat mettertyd verlore gegaan het. Die Christelike era het sy aanvang in die vierde eeu n.C. geneem met keiser Konstantyn se wettiging van die Christelike geloof en Theodosius se verklaring van die Christelike geloof tot staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk. Sodoende het die Christelike godsdiens beweeg van 'n gemarginaliseerde minderheidsposisie waarin Christene onderdruk en vervolg is, na 'n sentrale meerderheid met 'n posisie van mag en rykdom. Dít het daartoe gelei dat die kerk een van die magte in die Romeinse Ryk geword het. Met die verval van die Romeinse Ryk het pous Gregorius die magsvakuum wat in Rome ontstaan het, gevul. Sodoende het kerk en staat één geword - en het die magte van kerk en staat vervleg geraak. Gaum (2011:5354) beskryf dit as 'n tyd waarin die funksies van die samelewing (kultuur) die taak van die kerk geword het: om 'n dokter te wees moes jy kerk toe gaan; om onderrig te word moes jy kerk toe gaan; om na te dink oor die natuur moes jy kerk toe gaan. Musiek, wetenskap, regspraak en wiskunde was alles op die kerklike agenda. Toe die pous in 800 n.C. die nuwe keiser kroon, was die vorming van die Christendom as heersende paradigma voltooi. Kerk en staat was een. Selfs die Kerkhervorming van die sestiende eeu het nie die magsposisie van die kerk ongedaan gemaak nie. Die Christendom het as dominerende meesternarratief alles bepaal: die kerk en die staat en selfs alle maatskaplike strukture. Hierdie situasie het ook hier ter lande in die vroeë Kaap bestaan (Gaum 2011:26). Gedurende die afgelope twee eeue is die kerk na die rand van die samelewing geskuif. Hoewel aspekte van die Christelike era steeds in dele van Afrika en Latyns-Amerika sterk voortleef, is die invloed van die Christelike kerk in die res van die Westerse wêreld dramaties aan die taan. Sekularisasie en godsdienstige pluralisme het as nuwe kulturele realiteite op die toneel gekom. Die Christendom-paradigma wat min of meer geduur het van die middel van die vierde eeu tot die middel van die twintigste eeu het meegebring dat die Christelike geloof en die Christelike kerk 'n sentrale, kultureel onderskryfde plek in die openbare lewe van baie Westerse gemeenskappe geniet het. Nie slegs in die Verenigde State van Amerika nie, maar ook in baie ander Westerse lande het daar 'n akkommoderende en intieme verhouding tussen die kerk en die oorheersende kultuur van die groter gemeenskap bestaan. Tot so 'n mate dat in 1900 die Christene in Europa en Noord-Amerika 77% van Christene wêreldwyd uitgemaak het. Teen 1998 het Christene in Europa en Noord-Amerika 38% van Christene wêreldwyd uitgemaak. Die projeksie is dat teen die jaar 2025 sal Christene in Europa en Noord-Amerika slegs 27% van Christene wêreldwyd uitmaak (Frambach 2007:19). Hieruit blyk in watter mate mense se houding oor godsdiens verander het en steeds besig is om te verander. Die kerke self begin ook toenemend besef dat die era toe die Christelike godsdiens en die institusionele kerk die Weste oorheers het, finaal verby is. Hiermee word egter nie die einde van die Christelike spiritualiteit bedoel nie en ook nie die einde van kerk as instelling nie. Die einde van 'n spesifieke era of bedeling en manier waarop die kerk in die samelewing gefunksioneer het, het wel aangebreek. Die kerk het sy invloed verloor en het een van baie stemme geword. Kerke besef ook toenemend dat die paradigmaskuif wat besig is om te gebeur nuwe uitdaging vir die hoofstroomkerke meebring. Talle publikasies wat in die laaste paar dekades die lig gesien het, bied uiteenlopende oplossings aan oor wat die kerk ten opsigte van die nuwe uitdagings te doen staan om te oorleef. Terwyl daar aan die een kant konsensus is oor die feit dat hoofstroomkerke in 'n krisis verkeer (Driskill 2012:113-114), is daar aan die ander kant nie eenstemmigheid oor wat die kerk in hierdie situasie te doen staan nie.

 

Uiteenlopende antwoorde

In die soeke na antwoorde het kerke wêreldwyd verskillende benaderings gevolg. Sommige het begin fokus op beter bemarking van hulleself. Dit blyk die hoofstrategie te wees van Leonard Sweet en andere in die sogenoemde 'church-growth'-beweging. Volgens Wagner (1977:12) is die term 'church growth' 'n 'McGavranism', verwysende na Donald McGavran wat verantwoordelik was vir die term. 'Church growth' omvat, volgens Wagner, alles wat nodig is om mense wat nie 'n persoonlike verhouding met God het nie, in 'n persoonlike verhouding met God te bring en om in dié proses van hulle verantwoordelike kerklidmate te maak. Hierdie strategie, wat sommige navorsers 'attractional evangelism' noem, fokus daarop om kulturele behoeftes te verstaan om sodoende beter te fokus op wat die kerk die kultuur kan bied. Ward wys daarop dat religieuse instellings vanaf ongeveer die agtiende eeu met die ontspanningsindustrieë moes begin kompeteer vir mense se tyd, aandag en geld. Die gevolg was dat kerke '... have reshaped faith as an attraction or commodity' (Ward 2002:62) om in staat te wees om te kompeteer. Hierdie benadering steun op programme en strategieë wat aandag aan mense se behoeftes gee en hulle help om die relevansie van die evangelie vir hulle lewe te verstaan. Goeie voorbeelde hiervan is die sukses wat die Alpha-kursus wêreldwyd het. Soos die Alpha-benadering, volg Willow Creek ook die benadering om die Christelike geloof aan te bied op 'n wyse wat by die kontemporêre kultuur aansluit (Ward 2002:63).

Ander weer (McLaren 2000:22-24) is van oortuiging dat die oplossing nie is om meer mense by die kerk uit te bring nie. Die probleem, volgens hulle, is die vorm waarin die kerk die boodskap verpak. Die sogenaamde beweging van die ontluikende kerk het ontstaan as 'n reaksie teen die beweging van die groeiende kerk in 'n poging om nuwe maniere van kerk-wees, wat meer outentiek en relasioneel is, te ondersoek. Carson (2005:12) beskryf die ontluikende kerk as 'n beweging of as 'n 'gesprek'. Soms word na die beweging verwys as 'ontluikende vriendskap'. Daarmee word nie bedoel dat dit vriendskap is wat ontluik nie, maar hoe belangrik vriendskap in hierdie beweging is. Peterson se opsomming van hierdie beweging is: 'Yet, emerging-church leaders interpret that people are not looking to "join" organizations; they are looking for authentic community and deep spiritual experiences' (Peterson 2013:3). Vergelyk in hierdie verband ook Chan (2012:7-9) se opmerkings oor die hedendaagse mens se toenemende belangstelling in spiritualiteit. Terwyl belangstelling in spiritualiteit egter aan die toeneem is, soek mense outentieke spirituele belewenisse steeds buite die kerk, omdat hulle juis nie outentieke spirituele belewenisse binne die tradisionele kerke vind nie (Butler Bass 2012:26).

Trouens diegene buite die kerk se persepsie van die 'evangelical Christianity' is allesbehalwe outentieke spiritualiteit. Hulle beskou Christene oor die algemeen as skynheilig, antigay, beskermd en totaal uit voeling met die werklikheid, te polities, veroordelend en daarop uit om bekeerlinge te werf slegs om self te kan oorleef (Peterson 2013:3). Tyra (2013) se waarneming is dat die Christendom as sodanig, 'n beeld-probleem het:

... a good number of scholars attribute to the fact that there is too much Pharisaism and fundamentalism at work within too many traditional evangelical churches. To the degree that many members of the emerging generations associate such attitudes and actions as legalism, judgmentalism, separatism, dogmatism, pugilism, and hypocrisy with conservative churches, traditional evangelicals will increasingly find themselves feeling that they are swimming upstream as they engage in ministry contextalization. (bl. 39)

Compton (2003) oordeel dat baie mense, wat deel is van hoofstroomgemeentes, waarskynlik die gevoel het dat hulle bloot deel is van 'n hegte gemeenskap van vriende en kennisse. By nadere ondersoek van hierdie gemeenskappe kan daar miskien gevind word dat dit nie noodwendig Christelike gemeenskappe is nie:

The array of beliefs among these churches' members is myriad. Members of these churches may be more at ease describing the responsibilities of membership (e.g. attendance, prayer, financial giving, service) than what it means to be transformed beings whose lives are characterized by Christlike morality, justice, and mercy (bl. 66)

Ward (2002:74) sluit hierby aan deur daarop te wys dat mense wat sê hulle is 'spiritual but not religious' wel 'n begeerte na God het, hoewel hulle nie die behoefte het om God binne die institusionele kerk te soek nie. Daarom doen sommige hoofstroomkerke moeite om ruimtes van radikale gasvryheid te wees in 'n poging om nie net die negatiewe beeld van die Christendom met 'n positiewe beeld te vervang nie, maar ook om die postmoderne mens se soeke na egte spiritualiteit te bevredig.

Die benadering van Rick Warren in sy gepopulariseerde reeks: Purpose-driven church (1995) en The purpose-driven life (2002) is 'n poging om die gelowige en die kerk in staat te stel om hulle bestaansdoel te ontdek om sodoende aandag aan die behoefte aan spiritualiteit te gee. Volgens hierdie benadering is die onderliggende probleem van die huidige ekklesiologiese krisis dus dat gelowiges nie meer weet wat die bestaansdoel van die kerk is nie. Peterson (2013) wys egter daarop dat ook hierdie benadering ten diepste nie is wat dit bedoel om te wees nie:

... however, even though The Purpose-Driven Church begins by asserting 'it is not about you' the clear thesis of the book 'is that it is about you and your fulfilment'. (bl. 4)

Die ekklesiologie wat Warren aanbied, is dus in wese nie veel verskillend van die ekklesiologieë van die ander bewegings wat op individue se behoeftes fokus nie.

'n Goeie beskrywing van die situasie waarin die hoofstroomkerke hulle tans bevind, is dat dit 'n 'massive roaming of the mind' (Hirsch & Altclass 2009:27) is, soos wat die soeke na oplossings en antwoorde in intensiteit toeneem. Die probleem is egter dat die meeste van wat bedoel is as nuwe denke oor die toekoms van die Christendom in die Weste, dikwels slegs daarin slaag om die kerk se dilemma opnuut te beklemtoon en dan oplossings aan te bied wat nie veel verskil van die benaderings en tegnieke wat in die verlede gevolg is nie. Die gereedskap en die tegnieke wat in die vorige eras van die Westerse geskiedenis gewerk het, werk tans nie meer nie. Sover dit die kerk en sending raak, is 'n nuwe paradigma nodig, 'n nuwe visie van die werklikheid, 'n fundamentele verandering van denke, persepsies en waardes. Dit op sigself verg dat gelowiges deur eerlike en indringende vrae oor God se doel met die kerk, in die geloof sal onderskei wat God se doel is, en om dan, op grond van geloofsonderskeiding, verskillend te begin handel ooreenkomstig met wat God van die kerk verwag.

 

Die oplossing lê dieper

Dit is belangrik om daarop te let dat of die vertrekpunt nou is dat die hoofstroomkerke hulle bemarkbaarheid, relevansie, geloofwaardigheid, outentisiteit, of doel verloor het, die oplossings wat voorgestel word,veronderstel dat lidmaatverlies die kerk se eintlike probleem is, en dat die oplossing gevolglik te vind is in strategieë om lidmaatverlies teen te werk. Die vrae waarop kerke antwoorde bly soek, is: wat staan ons te doen om die vermindering van lidmaatgetalle om te keer? Wat kan gedoen word om mense terug te bring kerk toe? Wat kan gedoen word om die kerk te laat groei te midde van veranderende lewensomstandighede? Peterson (soos onder andere ook Hirsch & Altclass 2009; Tyra 2013; Wright 2006) vestig die aandag daarop dat die krisis wat die hoofstroomkerke beleef veel meer is as 'n krisis van dalende lidmaatgetalle. Tyra (2013) stel dit soos volg:

There is a deeper and more basic issue that must be explored, one that has to do with the church's theological identity, that is, what it means to be the church. (bl. 4)

Die hoofstroomkerke se krisis is ten diepste 'n identiteitskrisis. Die feit dat die kerk kultureel irrelevant geword het en sy outentisiteit verloor het, is simptome van ʼn dieper liggende probleem, naamlik dat gelowiges nie weet wie hulle as kerk is nie. In plaas van te soek na oplossings en strategieë om lidmate te behou of te bekom, moet die kerke eerder opnuut besig raak met 'n teologiese vraag wat 'n teologiese antwoord vereis, naamlik: wie is die kerk?

'n Vraag wat egter die teologiese vraag vooraf gaan, is: Hoe het dit gebeur dat gelowiges se denke oor kerk hulle in die huidige situasie laat beland het?

Peterson (2013:5) is oortuig dat die strategieë wat daarop fokus om lidmate te behou of te bekom, van meet af met 'n verkeerde konsep van die kerk werk. Dit is 'n konsep wat gebaseer is op die beginsel van vrywillige assosiasie van mense. Dit op sigself is deel van die kerk se identiteitskrisis. Die meeste Protestante in die hoofstroom - afgesien van hulle teologiese tradisies - werk in die praktyk met die beskouing van kerk as die vrywillige assosiasie van individue wat self kan kies. Hierdie konsep fokus op die individu en op sy of haar keuse om met 'n bepaalde gemeente, denominasie of selfs met 'n niedenominasionele entiteit te affilieer, eerder as op die Drie-enige God wat die kerk roep, byeenroep, verlig, en stuur. Waar die respons(e) op die kerk se krisis gebaseer word op individue se behoeftes en op programme wat daarop gemik is om individue terug te lok kerk toe, kom Peterson (2013:5) tot die volgende slotsom: 'This is an anthropological, even sociological, rather than a theological concept of the church'. Die gevaar wat in so 'n benadering vir die kerk verskuil lê, is reeds in 1989 deur Ferdinand Deist uitgewys. Deist (1989:896) vestig die aandag daarop dat reeds Nietzsche daarop gewys het dat mense hulle denksisteme, gebruike, gewoontes, oortuigings, instellings, ensovoorts, van 'n mitiese of mistieke omhulsel voorsien om dit buite kritiek te stel. Nietzsche het dit as sy taak beskou om die gemistifiseerde instellings en opvattings te demistifiseer, dit wil sê, om mensgemaakte stralekranse en godemaskers af te haal en gelowiges te laat sien vir wat hulle instellings en opvattings is, naamlik gewone menslike instellings (David West 2010:146). Deist (1989) merk dan op:

Ek wil suggereer dat die taak van die kerk óók is om gemistifiseerde menslike sisteme te demistifiseer, sodat die menslike sisteme en denke as menslike produkte kenbaar sal wees en die mens mens kan bly en hom nie begin verbeel dat hy God is nie, sodat mense voor God alleen sal neerkniel en Hom alleen sal aanbid. (bl. 896)

Hiermee word nie geïmpliseer dat denksisteme, gebruike, gewoontes, oortuigings, instellings ensovoorts in sigself boos is nie. Die punt is dat waar dit die vertrekpunt en uiteindelike dryfkrag word, bestaan die gevaar dat menslike sisteme uiteindelik sodanig gemistifiseer word dat God verduister word, soos wat Deist genoegsaam aangetoon het (Deist 1989:894-915).

 

'n Missionale ekklesiologie is nodig

'n Ontwaking oor hoe Christene die kerk sien, is tans oor die hele wêreld aan die gang. Begrippe soos 'gestuurde gemeentes' en 'missionale ekklesiologie' is aan die orde van die dag (Niemandt 2013:20).

Metodologies is ekklesiologie 'n sistematiese taak wat 'van onder af' aangepak moet word in teenstelling met 'van bo af'. Waar 'n ekklesiologie 'van bo af' poog om 'n uitvoerige beskrywing te gee van die wesenlike aard en struktuur van die kerk wat enige gegewe konteks oorstyg, begin 'n ekklesiologie 'van onder af' met die kerk se werking in die konkrete kerklike praktyke. Omdat die kerk se lewe konkrete vorm aanneem in die web van sosiale praktyke wat deur die gemeenskap aanvaar en bevorder word, asook in die aktiwiteite van die individuele lidmate, is dit daarom 'not unreasonable to describe the concrete church, at least initially in terms of agency rather than in terms of being' (Peterson 2013:5).

'n Ekklesiologie 'van onder af' begin met die werk van die Heilige Gees self binne die beweging van God se ekonomie - die missio Dei - wat aan die kerk sy eiesoortige identiteit gee. Missio Dei is die nou reeds bekende begrip wat sedert Willingen1 'n tipe van ekumeniese konsensus gekry het. 'More recently has come the trinitarian missio Dei breakthrough to "missional church," a term - and a reality - that itself needed nearly another half century to emerge' (Simpson 2007:7677).

Missionaal is 'n byvoeglike naamwoord wat iets aandui wat verband hou of gekenmerk word deur sending ('mission') of wat oor die kwaliteite, kenmerke of dinamika van sending beskik. 'Missional is to the word mission what covenantal is to covenant, or fictional to fiction' (Wright 2006:24). So kan daar byvoorbeeld verwys word na 'n missionale lees van Eksodus, met die bedoeling dat dit die dinamiese betekenis van God se missie vir Israel en die wêreld, en die relevansie daarvan vir die Christelike sending vandag ondersoek. Of daar kan gesê word dat Israel 'n missionale rol ten opsigte van die nasies gehad het - wat impliseer dat hulle 'n identiteit en rol gehad het wat in verband gestaan het met God se uiteindelike bedoeling om die nasies te seën. Dit is teen hierdie agtergrond dat Wright (2006) opmerk:

Thus I would argue that Israel had a missional reason for existence, without implying that they had a missionary mandate to go to the nations (whereas we could certainly speak of the missionary role of the church among the nations). (bl. 24)

'n Missionale benadering fokus op die alles insluitende aard van die missio Dei. In die Suid-Afrikaanse konteks verwys 'missionaal' na die totale konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit is nie beperk tot of uitsluitend van enige kultuur, groep of stand nie. Dit hou verband met die postmoderne, post-Christelike, postdenominasionele en postapartheidkontekste, omdat dit juis die lokale konteks kenmerk waarin God die plaaslike gemeente en kerk geroep het. Hoewel dit nie moontlik is om elk van hierdie kontekste volledig te beskryf nie, is dit vir die doeleindes van hierdie artikel nodig om die uitdagings wat elk op sigself meebring, kortliks uit te lig.

 

Postmodernisme

Die begrip postmodernisme dui op kulturele selfbewussyn wat die basiese aannames uitdaag waarna sommige filosowe en sosioloë verwys as die 'moderne eksperiment'. Die moderne eksperiment verwys na hoe die wêreld verstaan is sedert die Verligting en soos dit gesistematiseer is deur die opkoms van die empiriese wetenskap. Baie van die filosofiese fondasies vir hierdie moderne eksperiment - soos byvoorbeeld die oormaat vertroue in rasionaliteit, die buite rekening laat van die intuïtiewe en bonatuurlike, die voorrang wat die individu bo die groep geniet het - word deur die postmodernisme uitgedaag.

Kitchens (2003:69) lig vier 'bewyse' vir 'n postmoderne wêreld uit:

  • Modernisme se aanspraak dat die mens in 'n selfonderhoudende heelal leef, word nie langer aanvaar nie.
  • Moderniteit het misluk in sy poging om die rede in die plek van God as basis vir moraliteit en gemeenskap te vind.
  • Die einde van die moderne era het gelei tot die ineenstorting van die geloof in onafwendbare vooruitgang.
  • Die postmoderne kritiek teen moderniteit daag die aanname uit dat kennis inherent goed is.
  • Addisionele bewyse van die postmodernisme sou ook die volgende kon wees (Kitchens 2003:10-13):
  • Die aanbreek van die postmoderne era word verder ook gekenmerk deur die vernouing van die modernistiese kloof wat daar vroeër tussen die natuurwetenskap en teologie was.
  • Die afname van die modernisme se invloed word gekenmerk deur verminderde klem op individu.
  • Postmodernisme help die mens om die waarde te sien van maniere om die wêreld voortdurend te definieer in die narratiewe van bepaalde tradisies.
  • Postmoderne mense ervaar die lewe baie meer holisties as bloot net deur hulle denkvermoë.

 

Post-Christendom

Kitchens (2003:1421) wys daarop dat min kulture tans 'n Christelike raamwerk, waarvolgens die wêreld verstaan moet word, onderskryf, soos byvoorbeeld om die 'Sabbatdag' te onderhou. Wêreldwyd is daar 'n voortdurende ontkoppeling aan die gang tussen geloofsgemeenskappe en die meer omvattende kultuur. Sommige navorsers (Mead 2001:69-70) meen dat die konteks waarin die kerk self tans verkeer, meer met die apostoliese era van die eerste eeu gemeen het, as met die kerk in 1950's. Die kerk sal dus van voor af moet leer hoe om in 'n gemeenskap te leef waar die regeringsvorme, ekonomiese sisteme en kulturele instellings nie die kerk se doel beaam nie en ook nie deel in die kerk se waardes nie, en wat die kerk selfs mettertyd moontlik kan begin teenstaan. Die uitdaging is verder dat die kerk dit sal moet doen sonder die magsposisie wat dié instelling in die vroeëre era geniet het toe dit 'n plek in die gemeenskap gehad het wat Frambach (2007:18) beskryf as 'a culturally supported, central place in the public life of many Western societies'.

 

Postdenominalisme

Dit is belangrik vir die kerk om te erken dat kerklike denominasies, waarvan die historiese bestaan ooreenstem met nasiestate, in belangrikheid afgeneem het in hierdie vroeë jare van die een en twintigste eeu (net soos wat nasiestate verplig word om te begin plek maak vir 'n globale politieke gemeenskap). Dit is algemeen bekend dat daar by baie lidmate 'n verlies aan lojaliteit teenoor denominasionele instellings posgevat het, (Kitchens [2003:22-23] noem dit 'loss of brand loyalty'). Om in berekening te bring dat die kerk 'n postdenominasionele era betree, kan dié instelling aanspoor om sy tradisies op 'n dieper teologiese vlak te ondersoek sodat die kerk, by wyse van spreke, elke tradisie se kaf van die koring kan skei.

 

Postapartheid

Gaum (2011:70) wys op onlangse navorsing waaruit dit blyk dat jong Afrikaners se prioritisering van waardes in Suid-Afrika drasties in postapartheid verander het. Ekonomiese oorlewing, welvaart en materiële sukses, en nie meer 'n Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing nie, blyk vir jong Afrikaners die oorheersende prioriteit te wees. Genoemde navorsing het bevind dat feitlik al die respondente wat daaraan deelgeneem het, hulleself as Christene beskou. Nagenoeg 'n derde van hierdie respondente is gereelde kerkgangers en aktiewe lidmate binne hulle eie onderskeie gemeentes. 'n Verdere derde het aangedui dat hulle minder gereeld kerk toe gaan, en die ander derde het aangetoon dat hulle hulself as Christene beskou maar in wese kerkloos is. Die meerderheid wat aan die ondersoek deelgeneem het, het aangedui dat hulle aan een van die Afrikaanse susterskerke behoort, terwyl hulle terselfdertyd baie krities teenoor dié kerke is. Hulle is van die oortuiging dat Afrikaanse kerke minder veroordelend moet wees en dat hulle meer menslikheid, Christelike liefde en verdraagsaamheid teenoor alle Suid-Afrikaners moet openbaar.

Uit hierdie navorsing het dit duidelik geword dat jong Afrikaners ten opsigte van godsdiens twee teenstrydige sienings handhaaf. Aan die een kant het hulle 'n behoefte aan groter individualisme en vryheid, en aan die ander kant is daar 'n toenemende behoefte aan geestelike warmte, Godvresendheid en 'n gevoel van godsdienstige geborgenheid. Dit blyk dat die hedendaagse Afrikaner meer vrydenkend geraak het ten opsigte van moraliteit en waardes, en ook dat jong Afrikaners al meer tuis voel in 'n geglobaliseerde samelewing, waarin 'n postmoderne lewens- en wêreldbeskouing aan die orde van die dag is.

Hieruit kan gesien word hoe jong Afrikaners se persepsies en waarde-oordele ten opsigte van Christenskap sedert 1994 'n metamorfose ondergaan het. Hulle is baie minder Christelik konserwatief as voorheen; daar is 'n nuwe openheid en verdraagsaamheid, terwyl verskeidenheid geakkommodeer word. Die postmoderne wete dat alles verander en niks 'ewigdurend' is nie, bring mee dat onsekerhede wat gewoonlik met die prysgee van gevestigde tradisies en omstandighede verbind word, minder bedreigend en traumaties ervaar word. Uit die navorsing blyk dit ook dat die meeste jong Afrikaners waarskynlik besig is om balans te probeer vind tussen wat was en wat is - al gaan dit met worsteling en met minder of meer onsekerhede gepaard. Hieruit is dit duidelik dat die tafel, by wyse van spreke, in alle opsigte gedek is vir 'n missionale kerk. Die begrip 'missionaal' dek al bogemelde kontekste. Die term impliseer immers die roeping van die kerk en die gemeente in die plaaslike konteks, ongeag die kultuur of die omstandighede wat moontlik in 'n bepaalde konteks kan heers. Wright (2008:264) stel dat die sending van die kerk niks meer of niks minder is as die uitwerking van Jesus se opstanding, in die krag van die Gees, in antisipering van die tyd wanneer God die aarde sal vul met sy heerlikheid, die hemel en aarde nuut sal maak, en sy kinders uit die dood sal opwek om die verloste wêreld te bewoon en daaroor te regeer nie:

If, then, the church is to be renewed in its mission precisely in and for the world of space, time, and matter, we cannot ignore or marginalize that same world. (Wright 2008:264)

Dit beteken dat die kerk nie die 'red van siele' en 'goeie werke' van mekaar mag skei nie. Die wêreld van ruimte, tyd en materie is immers 'n wêreld waarin regte mense woon, waar regte gemeenskappe gevorm word, waar moeilike besluite geneem word, waar skole en hospitale die getuienis is van die 'nou en die hier' van die evangelie, en waar die polisie en die tronke getuig van die 'nog nie' van die evangelie. Die wêreld van ruimte, tyd en materie is 'n wêreld waar parlemente, stadsrade, buurtwagbewegings, en alles tussenin, funksioneer met die oog op die voordeel van die gemeenskap, dieselfde gemeenskap waar anargie beteken dat boelies (ekonomies of maatskaplik, sowel as fisiek) altyd gaan wen, waar die swakkes en diegene wat kwesbaar is, altyd beskerming nodig gaan hê, en waar die maatskaplike en politieke strukture van die gemeenskap altyd deel van die Skepper se ontwerp sal wees. Die kerk wat nuut gemaak is deur die boodskap van Jesus se opstanding, moet 'n kerk wees:

... that goes to work prescisely in that space, time and matter and claims it in advance as the place of God's kingdom, of Jesus's lordship, of the power of the Spirit. (Wright 2008:265)

 

Trinitariese basis vir missionale denke

'n Trinitariese basis vir missionale denke beteken dat sending nie primêr 'n aktiwiteit van die kerk en gemeente is nie, maar 'n eienskap van die God wat stuur. Die klassieke leer van die missio Dei as God die Vader wat die Seun stuur, en God die Vader en die Seun wat die Heilige Gees stuur, word uitgebrei om ook 'n ander 'beweging' in te sluit: 'Father, Son, and Holy Spirit sending the church into the world ... Willingen's image of mission was mission as participating in the sending of God' (Bosch 1993:390). Missio Dei so gesien, beteken dus dat die 'en' tussen kerk en sending en/of apostolaat wegval. Die kerk se werk in die wêreld kan niks anders wees nie as God se beweging na die wêreld toe - perichorese. Niemandt (2013:26) beskou dit as 'n beweging of dans wat al meer mense (en die ganse skepping) innooi om in pas met God te lewe en te 'dans'. Die ou kerkvaders het perichoresis gesien as ' 'n goddelike dans wat so opgestel word dat alles in pas saam met die Drie-enige God lewe' (Niemand 2013:26). Ward (2002) wys daarop dat die beeld van die 'goddelike dans' nie soseer gaan oor die dansers nie, maar oor die patrone van die dans self as 'n verwewing van ekstatiese bewegings:

When we speak of parts played by divine persons in perichoresis - for example the Son 'indwells' the Father, the Father 'contains' the Son, the Spirit 'fills' the Father - we are telling a story which enables us to enter the personal currents of love within God. (bl. 53)

Die kerk is God se instrument in hierdie Goddelike dans. Daar is dus 'n kerk omdat daar sending is, nie omgekeerd nie. Om deel te neem aan sending is om deel te neem aan die beweging van God se liefde na mense toe in die totaliteit van 'n bepaalde konteks (Bosch 1993:390).

Die wese en identiteit van die kerk lê dus daarin dat die kerk die gemeenskap van Jesus se volgelinge is wat deur die Gees geroep is (Niemandt 2013:70). Hierdie siening op sigself hou vir die hoofstroomkerke 'n herbesinning in oor die Persoon en werk van die Heilige Gees, aangesien 'n groot leemte juis is dat Heilige Gees die mees verwaarloosde en misverstane lid van die Drie-eenheid in die hoofstroomkerke geword het. Tyra (2013:213) stel dit soos volg: 'It is no secret that pneumatology is a topic that has been much neglected in the history of the church, even among evangelicals.' Daar sal later in die artikel teruggekom word na die plek en die werk van die Heilige Gees.

Om by die Drie-enige God en wat God doen te begin, en nie by die kerk en die lidmate se behoeftes nie:

...is also methodologically usefull in that it allows a way around the 'functional versus ontological' impasse that seems to plague much Protestant conversation about the doctrine of the church. (Peterson 2013:6)

Histories definieer die meeste Protestantse kerke die kerk in terme van wat in die vergadering van die byeengeroepte gemeente gebeur. Die regte verkondiging van die Woord, die bediening van die sakramente en die regte toepassing van die tug word as konstituerend vir kerk-wees gesien. Wesenlik aan kerk-wees is dus: God praat - vandaar die verwysing na die kerk as Woordgebeure. Die Reformatore moes, nadat die Reformasie die 'waarhede' van die Rooms- Katolieke Kerk omver gewerp het, hulleself en hulle volgelinge opnuut verseker dat die Reformatoriese kerk die ware kerk is. 'The solution was to relocate the "truth" of the church in the communication of the gospel. If the gospel was truly communicated, then there was the church' (Ward 2002:66). Die klem val op die suiwer kommunikasie van die Woord en sakramente. Hierdie kenmerke van kerk-wees word gebruik om te oordeel wat en waar is ware kerk, en waar nie.

Die historiese Protestantse fokus op ontologie het te doen met hoe die verband tussen die kerk se wese en God se wese verstaan is:

... a concern that has traditionally played out in terms of monistic and hierarchal concepts (and structures) of the institutional church. In particular, these concerns have focused on the Thomistic ideas of an analogy of being and not with the question of ontology itself, which simply means an accounting of something's nature or existence. (Peterson 2013:6)

Ekumeniesgesinde Protestante het egter begin om 'n nuwe ekklesiologiese paradigma te aanvaar, wat sedert die middel van die twintigste eeu te voorskyn gekom het. Trouens die paradigma waarbinne die kerk hom tans bevind, word beskryf as ''n ontluikende ekumeniese paradigma' (Niemandt 2013:170). Hierdie paradigma dink oor kerk in terme van die Drie-eenheid. 'Ecclesial communion is modeled on the idea of the communion of persons within the Trinity and is experienced horizontally as well as vertically' (Peterson 2013:6).

Vir Peterson hoort die interafhanklike vrae na die kerk se identiteit en die kerk se doel in die sentrum van 'n sistematiese ondersoek na die kerk se aard. Sodanige ondersoek beteken om die ontluikende missionale paradigma gelyktydig te vergelyk en te kontrasteer met die twee ander belangrike kerklike paradigmas van die laaste eeu, naamlik die neo-Reformatoriese konsep van die kerk as ''n Woordgebeure' ('where the starting point is the proclamation of the word that justifies the sinner') en die ekumeniese paradigma van die kerk as 'gemeenskap' ('where the starting point is the immanent Trinity as a communion of persons') (Peterson 2013:7). Die paradigma waarin die kerk gesien word as Woordgebeure, behou die Reformatoriese fokus op die verkondiging van vergifnis van sonde as 'n gawe wat van buite af na die mens toe kom, met ander woorde as 'n Woord wat tot die mens gerig is en wat die gemeenskap van die kerk skep. Die paradigma wat fokus op die kerk as gemeenskap, beklemtoon weer dat hierdie gawe nie slegs verklaar word nie, maar dat Christus self die gawe is. Soos wat die gelowiges in die liggaam van Christus opgeneem word, stel Hy hulle in staat om gemeenskap te hê met die Drie-enige God, 'n proses waarin die nagmaal sentraal figureer.

Vanuit 'n terugskouende perspektief gesien, skiet die paradigma van Woordgebeure en dié van die gemeenskap daarin tekort, naamlik, dat beide nie die paradigmas van die postmoderne, post-Christelike, postdenominasionele kontekste in dieselfde mate verreken as wat die missionale paradigma dit doen nie. Die missio Dei-paradigma maak erns daarmee dat God die kerk deur Woord en sakrament skep en byeenroep, maar ook uitstuur.

Alhoewel die paradigmas van gemeenskap en missio Dei beide 'n Trinitariese basis vir ekklesiologie het, motiveer Peterson haar keuse vir die missio Dei-paradigma soos volg:

... the attempt to ground ecclesiology in the Trinity by means of communio and perichoresis poses difficulties because the divine unity is where God is most different from God's creatures, even the creation that we call church. What is first in our knowlegde of the triune nature are the divine missions of Word and Spirit, which in turn ground our knowledge of the processions and persons of the Trinity. (Peterson 2013:94)

God se 'binnekant', dit is die misterie van God, kan volgens Peterson slegs geken word vanuit God se 'buitekant', dit is God se beweging na die skepping toe in 'mission' (Peterson 2013:94). Hierdie beweging geskied in die eerste plek deur die werk van die Heilige Gees. God se 'diepste natuur', word dus onderskei, nie deur in die eerste plek op die innerlike, die Trinitariese wese van God te fokus nie, maar om te fokus op God se ek-sentriese, sentrifugale, uitreik in liefde na die wêreld toe. So word die werk van die Heilige Gees gesien as die eerste manier waarop God na die wêreld toe uitreik. Die Gees is die Goddelike misterie wat van 'binne af' gestuur word om daardie misterie 'buitekant' te wees, met ander woorde ten volle teenwoordig en aktief in die wêreld, in die menslike geskiedenis en in die mens se belewenisse: 'The Spirit is God Inside Out' (Peterson 2013:94). Die kerk is geskep deur die Gees en is deel van hierdie uitwaartse beweging van die Gees. Dit is in hierdie verstaan van missio Dei waarin die kerk haar identiteit en doel vind. Soos reeds vroeër in die artikel, word die klassieke verstaan van die missio Dei gedefinieer as: God die Vader wat die Seun stuur, en God die Vader en die Seun stuur die Gees, 'n beweging wat uitgebrei word om die Vader, die Seun en die Heilige Gees in te sluit wat die kerk in die wêreld in stuur. Volgens Peterson (2013:95) is dit egter die omgekeerde hiervan wat die orde van God se werk in die wêreld reflekteer, naamlik dat die missio Dei met die Gees begin.

Soos reeds aangetoon, word die kerk se identiteit in die missionale paradigma deur die missio Dei gedefinieer: trouens die kerk se identiteit is gegrond in die kerk se deel wees van die missio Dei, dus gedefinieer in terme van 'n sturende God se eie Trinitariteit. Frambach (2007:21) formuleer dit soos volg: 'In short, no Trinity, no mission; no Trinity, no church. The movement to mission is rooted in the very life of the triune God.' Die Drie-enige God is die werkende energie van alles wat die kerk is en doen. Omdat God 'n sturende (missionale) God is, is die kerk in wese 'n missionale gemeenskap, uitgestuur én byeengeroep deur God. Dit gebeur egter dikwels ten onregte dat die missionale ekklesiologie as teenstelling vir die ekklesiologiese raamwerk van die Reformatore gestel word. Die magdom literatuur oor ekumeniese ekklesiologie en die sentrale paradigma van gemeenskap (koinonia) word egter nie in hierdie teenstelling verreken nie:

The important contributions of this paradigm - not least of all its emphasis on relationship and reconciled diversity - as well as its limitations should be engaged in the search for a contextual ecclesiology. (Peterson 2013:7)

Terwyl Peterson die paradigma van missio Dei as vertrekpunt neem, stel sy dit duidelik dat sy nie kies vir hierdie een paradigma teenoor die ander twee nie. Peterson wil ook nie 'n nuwe 'bloudruk-ekklesiologie' daarstel nie. Sy wil 'n benadering tot die vraag na die kerk se identiteit voorstel wat nie alleen die sterk punte van al drie paradigmas integreer nie, maar wat pertinent met die Heilige Gees begin. Verder kies sy die narratiewe metode vir haar benadering. Die uniekheid van Peterson se bydrae is dus om 'n pneumatologiese fokus met 'n narratiewe metode te verbind. Die vraag: wie is die kerk? moet beantwoord word deur te vra: wie is God? en, wat is God besig om te doen?:

Rather than beginning with the immanent Trinity, I suggest beginning with the actual historical community of the church as narrated in Scripture as it relates to the work of the Trinity in the economy of salvation, that is, the economic Trinity. (Peterson 2013:7)

Op sy beurt moet die antwoord op hierdie vraag fokus op die konteks, (postmodern, post-Christelik, postdenominasioneel en postapartheid waarin die kerke en gemeentes hulleself bevind.

 

Die verhaal van die kerk wat met die Gees begin

Die verhaal van die kerk is dus 'n verhaal wat begin met die Gees. Vir die kerk beteken dit dat dit 'n verhaal is waarin die Gees steeds aktief werk.Vir Tyra (2013) is dit duidelik:

... that the Spirit of mission is active in our world and in people's hearts and lives, readying each person for an encounter with a compelling presentation of the gospel. (bl. 12)

Aansluitend hierby is dit ook goed om van Ward (2002:78) se opmerking kennis te neem: '[W]hen we look at the Holy Spirit we see the energy of God that creates and sustains life.'

Die tipering van die kerk as 'Spirit-breathed church' (Peterson 2013:8) is gebaseer op 2 Timoteus 3:16: 'Die hele Skrif is deur God geïnspireer ...' Op grond hiervan, oordeel Peterson, kan 'n narratiewe lees van Johannes 20:21-22 soms genoem die Johannese Pinkster (Bennema 2002:195-213), ook gebruik word om die kerk te sien as deur God 'geïnspireer'. Hierdie teksgedeelte berig oor hoe Jesus sy missionale opdrag aan sy dissipels gee. 'Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.' Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: 'Ontvang die Heilige Gees!' (Joh 20:21-22). Die Gees waarvan hier sprake is, is dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het (Rom 8:11). Hierdie Gees gee aan die dissipels die identiteit en doel as mense wie se primêre roeping nie is om die dooies te begrawe nie, maar om in die nuwe lewe van die opstanding te wandel en om uitgestuur te wees as getuies van die lewegewende krag van die evangelie van Jesus Christus.

'n Narratiewe metode wat met die Gees begin, bied dus die beste moontlikheid om oor die identiteit van die kerk te besin op 'n wyse waarby die missionale fokus van die derde paradigma (missio Dei) tegelykertyd geïnkorporeer word met die teologiese bydraes van die paradigmas van Woordgebeure en gemeenskap.

 

Narratief as metode

'n Narratiewe metode maak gebruik van verhale en dramas, nie van filosofiese of polemiese argumente of proposisies nie (Deist 1987:111). Frambach (2007:35-36) is oortuig dat die kerk wat 'in the midst of tumultous transition' leef, meer stories nodig het en nie meer reëls nie. Die kerk het vandag paraboliese taal en paraboliese dade nodig - kragtige stories wat sy selfvoldaanheid en vormvastheid kan laat verkrummel, terwyl dit opnuut die krag van God se storie en die belofte van God se regering oordra. As menslike wesens skep die mens betekenis uit wat hy belewe deur narratiewe of stories te konstrueer en te leef. Hierdie stories is soos bande wat die mens gedurende sy lewe op natuurlike wyse terugspeel, soms onbewustelik. Nie alleen maak die mens die lewe tot stories nie, maar die mens lewe ook in hierdie stories deur die stories op te voer (Framback 2007:36). Met ander woorde, hulle stories inspireer wat die mens doen, en wat die mens doen, inspireer hulle stories. Kennis van die wêreld, van ander en van die mens self word veronderstel in die mens se stories.

Mense, gemeenskappe en gemeentes word met ander woorde gevorm deur hulle stories. Die narratief is 'n vorm van Bybelse geloof. Niemandt (2013:126) wys daarop dat die Bybel as narratief, die Groot Verhaal, 'Grand narrative' (Ward 2002:70) is van wie God is en wat God besig is om in hierdie wêreld te doen deur en in Jesus Christus. Dit beteken dat die rol van Jesus in 'n nuwe situasie kreatief uitgespeel word deur die groot narratief van Jesus te volg, maar op 'n manier wat die nuwe situasie benader vanuit wat reeds voorheen gebeur het.

Die krag van narratief lê dus daarin dat dit kan help om die gemeenskap waarbinne die gemeente geroep is, nuut te ontdek omdat veral stories help om geloofsgemeenskappe te lei, te vorm, te inspireer en te transformeer. Dit is wanneer lidmate se stories oorvertel word en 'n verband getrek word tussen lidmate se ervarings en stories in die Bybelse narratief dat die lidmaat se plek binne God se narratief gesien kan word. In die oorvertel van stories, onder leiding van die Gees van God, merk ons iets op van die werk van God. Trouens, die diepste waarhede oor God se nuwe bedeling is in eenvoudige verhale meegedeel. Niemandt (2013:127) wys daarop dat die saak nog dieper sny: missionale denke vereis 'n nuwe verhaal. Die kerk het tot nou toe eintlik slegs een verhaal geken. Dit is 'n verhaal wat op die kerk self gerig is, die verhaal gaan oor die groei van die kerk, oor meer lidmate en beter hulpbronne en kragtiger invloed. Hierdie verhaal gryp nie langer mense se verbeelding aan nie. Dit bring mee dat 'n nuwe Bybelse verbeelding so belangrik is, aangesien dit leiers in staat stel om alternatiewe verhale te vertel oor die nuwe moontlikhede wat die Gees oopmaak. Uit hierdie kreatiewe verbeeldingsproses help die narratiewe in die Bybel die kerk om volgens Niemandt (2013:127) 'nuwe taalhuise' te bou.

'n Narratiewe metode, veral wanneer daar oor die kerk se identiteit nagedink word, is om verskeie redes 'n geskikte metode. 'n Narratiewe metode is 'n nuttige metode om die probleem van identiteit as kategorie te minimaliseer. Om na die kerk se identiteit eerder as na die kerk se aard of wese te verwys, kan miskien daartoe lei dat sommige dit as 'n sosiologiese benadering verstaan. In sodanige benadering word identiteitstudies (o.a. Burke & Stets 2009) gebruik om 'n groep se identiteit te bepaal teenoor die identiteit van ander groepe. Sodanige teenstelling wat die kerk betref, moet juis vermy word, aangesien dit daartoe kan lei dat 'n mentaliteit van 'ons' en 'hulle' geskep word, iets wat op sy beurt 'n groot struikelblok vir die missio Dei is. Terwyl dit waar is dat die kerk 'n duidelik en unieke identiteit het, is dit 'n identiteit nie hoër as, of teenoor ander nie, maar 'n identiteit in verhouding tot die Een wat die Ander is, naamlik God wat die mens as die God ken wat in liefde na die mens toe kom. 'n Verdere rede wat 'n narratiewe metode geskik maak, is dat dit goed resoneer met 'n postmoderne, post-Christendomkonteks, waar die werklikheid relasioneel, deur verhaal en narratief verstaan word, eerder as deur 'waarhede wat proposisioneel of as universeel geldend gestel word'.

'n Narratiewe benadering tot ekklesiologie (Scharen 2005:125-142) is veral ook geskik vir die hoofstroomkerke waar die geskiedenis van daardie kerke mettertyd vervorm is deur 'n narratief waarin die kerk se storie ineengestrengel geraak het met die storie van 'n sogenaamde Christelike land of kultuur (Gaum 2011:53). Oral waar die sogenaamde Christelike lande van die Christelike era plek moet maak vir 'n sekulêre wêreld, kry die kerk egter 'n nuwe geleentheid om sy missionale identiteit in die narratief van die Bybel te herontdek. 'n Narratiewe metode wil dus die identiteit van die kerk ondersoek deur die kerk se plek in die verhaal van die Bybel te oorweeg in terme van die kerk se verhoudinge, karakter en doel, en dit dan hermeneuties op kerk-wees in die huidige konteks toepas. Ondanks die waarde van 'n narratiewe metode is daar weinig ondersoeke na die natuurlike verbintenis tussen narratief, ekklesiologie en sending beskikbaar. Die narratiewe metode is ook nog nie eksplisiet gebruik in die drie ekklesiologiese paradigmas waarna in hierdie studie verwys is nie.

In die perspektief wat Peterson (2013:105) open, naamlik om 'n narratiewe ekklesiologie te ondersoek wat met die Gees begin, is die eerste vraag: waar in die Bybelse narratief behoort 'n mens te begin? Die narratief van Handelinge blyk hier die logiese antwoord te wees. Dié narratief berig immers hoe die kerk sy spesifieke identiteit en doel deur die Heilige Gees ontvang het, soos wat Jesus dit ná sy opstanding beloof het en soos wat die kerk dit tydens Pinkster ontvang het. In die Nuwe Testament ontvang die kerk sy unieke karakter van die nuwe lewe van die opstanding soos gegee deur die Gees. Die Gees wat Jesus oor sy dissipels uitadem, is dieselfde Gees wat Hom uit die dood opgewek het (Rom 8:11) en 'n volk skep wat in koinonia leef en op die 'Weg' van die opstanding en vergifnis bewandel, terwyl hulle gelei en bemagtig word deur dieselfde Gees wat in hulle woon. In skerp kontras met die kommer wat die hedendaagse gesprek oor kerk-wees oorheers, is daar in die narratief van Handelinge tekens van 'n gemeenskap wat so georiënteer is na die moontlikheid van 'n nuwe gemeenskapslewe dat hulle nie oor hulle eie toekomstige oorlewing bekommerd is nie. Al word die begrip missio Dei nie uitdruklik gebruik nie, is die verhaal van sending wat dáár vertel word, volkome in lyn met hoe missio Dei teologies verstaan word. Dit is 'n verhaal van dieselfde Gees wat oor die dissipels uitgeadem is en wat hulle oor en buite hulle eie gemaksones neem om geloofs-, etniese en maatskaplike grense oor te steek, terwyl hulle koinonia skep, en verlossing en redding vir almal aankondig. In die narratief van Handelinge leer die kerk egter nie slegs wat die identiteit en doel van die kerk in die eerste eeu was nie, maar veral ook wat die identiteit en doel van die kerk van vandag is. Vir 'n te lang tyd is die verhouding tussen die Gees en die kerk buite rekening gelaat wanneer daar oor ekklesiologiese vorming besin is. 'n Narratiewe ekklesiologie wat met die Gees begin, open nuwe en vars perspektiewe op die vraag: Wie is die kerk? Die narratiewe identiteit van die kerk word nie net dwarsdeur die Bybel, en veral in Handelinge aangetref nie, maar dit lê ook ingebed in die historiese geloofbelydenisse van die kerk (Peterson 2013:121-136). Die Bybel en die historiese geloofsbelydenisse is as bronne vryelik toeganklik om vir kerkleiers, wat erns maak om met die identiteitskrisis van die kerk in 'n postmoderne, post-Christelike, postdenominasionele en postapartheidskonteks, hulp en leiding te gee. Die probleem is egter dat ekklesiologie in die Protestantse teologie, in vergelyking met die Rooms-Katolieke teologie, histories gesien 'n meer periferiese rol gespeel het. In elke periode van die kerk se geskiedenis het bepaalde ekklesiologieë gestalte gekry soos wat geloofsgemeenskappe in hulle besondere kontekste geworstel het met die konkrete probleme van daardie tydperke. Die vrae wat in die Westerse kerk gevra word in 'n poging om tot 'n bepaalde selfverstaan te kom, moet onder andere gesien word teen die agtergrond van die unieke konteks waarin die verhouding tussen kerk en staat 'n deurslaggewende rol gespeel het. Wat ten opsigte van die kerk in Amerika waargeneem word, kan in 'n groot mate ook op die kerk in Suid-Afrika toegepas word:

Too often, when tackling the doctrine of the church, American theologians look only to the 'blueprint ecclesiologies' that were developed across the Atlantic under Christendom, including those from the Reformation tradition. (Peterson 2013:13)

In die proses om daadwerklik aandag aan die krisis van die skerp getalledaling te gee vra die meeste kerke dus telkens: Wat kan ons doen om weer te groei? Hoe kan ons hierdie proses omdraai? Soos reeds aangetoon, is die antwoorde op hierdie vrae gebaseer op verkeerde uitgangspunte, onder andere dié van vrywillige assosiasie. Dit het 'n pragmatiese denkwyse as vertrekpunt, en die fokus bly steeds op strategieë om die getalledaling ter wille van eie oorlewing om te keer in plaas daarvan om te besef dat die kerk in wese 'n identiteitskrisis beleef.

Die werklike krisis, naamlik dat gelowiges nie weet wie die kerk is nie, het dus deels ontstaan omdat toegelaat is dat die kerk se identiteit deur die narratief van 'n sogenaamde Christelike land gevorm is, en omdat steeds aan die kerk gedink word as 'n vrywillige assosiasie, en ook omdat daar hoofsaaklik gefokus word op oplossings wat aandag aan die mens se spirituele behoeftes gee. Hierdie denke het onvermydelik daartoe gelei dat die behoeftes van die individu en die instelling mettertyd die primêre dryfkrag en werkende energie word, in plaas van God.

Taken to the exstreme, [such] thinking easily leads to the view expressed by George Barna, an evangelical pioneer of church marketing: 'Think of your church not as religious meeting place, but as a service agency - an entity that exists to satisfy people's needs.' (Peterson 2013:31)

Wat die kerk dus in die huidige krisis nodig het, is 'n gesonde teologiese konsep van die kerk wat begin met die vraag: wie is God en wat is God besig om te doen?

 

Om kerk te wees in die tyd wat aangebreek het

Tyra (2013), net soos onder andere Peterson (2013), Wright (2006), Hirsch en Altclass (2009), Niemand (2013) is oortuig dat 'all Christian theology should be missional, focusing on what God is up to in the world through his Son Jesus Christ and the Holy Spirit' (Tyra 2013:25). Die missioloog, Christopher J.H. Wright (2006), gaan van die veronderstelling uit:

...mission is not just one of the list of things that the Bible happens to talk about, only a bit more urgently than some. Mission is, in that much-abused phrase, 'what it's all about'. A Biblical informed theology, cannot help but include a focus on mission. (Wright 2006:22)

As dit die kerk se bestaansdoel is om deel te neem aan waar en waarmee God in sy wêreld besig is, eerder as dat die kerk bloot daarna strewe om in eie institusionele behoeftes te voorsien, behoort die doel van die teologie te wees om die lidmate van die kerk - korporatief sowel as individueel - te bemagtig om inderdaad God se mense te wees, dit is getroue getuies van Christus en sy koninkryk in hulle huise, woonbuurte, werkplekke en in die gemeenskap as geheel.

Die probleem is egter dat Christelike teologie te dikwels beoefen word sonder om die implikasie van die missio Dei ten volle te verreken. Dit is dus nie vreemd dat die hoofstroomkerke oor die algemeen nie 'n missionale selfverstaan het nie aangesien

... a theology that is intended simply to encourage church members in their faith convictions and provide them with biblical support for their liturgical practices, as valid as these goals are, cannot be considered missional. (Tyra 2013:27)

Aan die ander kant is teologie wat nie ook die kontekstuele aard van alle teologie in berekening bring nie, ook nie missionaal nie. Elke geslag se teoloë moet so met die Bybeltekste omgaan dat die Heilige Gees hulle in hulle unieke omstandighede kan lei tot 'n nuwe lewende rekontekstualisering van die evangelie '... that will be compelling to their generation given its spesific modes of intellection and expression, as well as the particular existential and religious questions it ponders' (Tyra 2013:27).

 

Visie vir kerk-wees in die tyd wat aangebreek het

Daar is reeds aangetoon dat die hoofstroomkerke se krisis nie 'n oorlewingskrisis is nie, maar 'n krisis van identiteit. Die antwoord op die kerk se krisis is nie te vind in nuwe strategieë of programme nie, maar dit lê in die herwinning van 'n teologiese identiteit vir die kerk om kerk te wees in die kairos wat aangebreek het. Die doel van ekklesiologie is nie om by wyse van proposisies die regte manier te vind om oor kerk te dink of om 'n bloudruk te ontwerp vir kerk-wees wat geskik vir alle tye en plekke is nie. Die doel van ekklesiologie is om die konkrete kerk in sy bediening en sending te onderskraag. Gemeentes moet bygestaan en begelei word om hulle lewe en bediening te verstaan in die lig van wat God die Heilige Gees besig is om in en deur hulle te doen.

Die onvermydelike vraag is egter: hoe kan hierdie teologiese nadenke oor die identiteit van die kerk vertaal word in die ritme van die lewe van 'n gewone hoofstroomgemeente? Die bedoeling, soos reeds gesê, is nie om net weer 'n nuwe plan vir oorlewing te ontwerp of 'n stap-vir-stap-uiteensetting te gee van hoe die gemeente hervorm kan word tot 'n Geesgeïnspireerde gemeenskap nie. Die bedoeling is ook nie om uit te wys dat 'n gemeente en kerk wat nie missionaal is nie, nie kerk in die ware sin van die woord is nie. Die punt is ook nie dat 'n gemeente eers bepaalde dinge moet doen alvorens die gemeente kerk in die ware sin van die woord kan wees nie.

Die kerk is nie die skepping of resultaat van mense se werk nie. Die vraag: wie is die kerk? lei nie na 'n voorgeskrewe stel aktiwiteite nie, maar na herontdekking en heropname ('reclaim') (Peterson 2013:144) - of nog beter - om heropgeneem te word deur die Bybelse identiteit wat God aan die kerk gegee het as 'n Geesgeïnspireerde kerk. Die Gees bemagtig die kerk om aan die een kant die evangelie se belofte van vergifnis van sonde te ontvang en om dit tegelykertyd uit te leef in 'n koinonia van verhoudings wat uitloop in die groter gemeenskap, en wat dié instelling steeds verder oor grense lei, terwyl die evangelie in woord en daad met 'n gebroke wêreld gedeel word. Dit gaan dus nie oor 'n stel nuwe dinge om te doen nie. Die punt waaroor dit gaan, is eenvoudig: Jy is die kerk, so wees kerk.

In plaas van 'n 'plan vir oorlewing' stel Peterson ''n plan van herlewing' voor. Die begrip herlewing moet hier in sy mees basiese betekenis verstaan word, naamlik om iets terug te bring na die lewe toe. Die vraag is egter: '... what might it look like for the mainline churches to be revived by the Spirit and live into a Spirit-breathed identity?' (Peterson 2013:44). Niemandt (2013:72) kies om eerder van ontwaking te praat. Ontwaking is vir Niemandt meer omvattend as net 'n herlewing, aangesien dit die ganse manier waarop mense leef en die aard van godsdienstigheid verander. Die Bybelse narratief van die kerk, soos vertel in Handelinge, is so 'n verhaal van ganse verandering. Dit is 'n verhaal wat beweeg van dood na nuwe lewe, van vrees na vryheid. Toegepas op kerk-wees vandag, is die eerste ding wat agterhaal moet word, die siening dat kerk 'n vrywillige assosiasie van mense is. Op sigself is dit baie moeilik om mense van 'n lank gevestigde siening van kerk-wees te beweeg na ''n nuwe (evangeliese) manier' van dink oor kerk. In die proses om die kerk so te beweeg, moet die woord 'vrywillig' geheel en al vermy word wanneer daar oor kerk gepraat word. Vrywilligers meld by vrywillige organisasies aan. In plaas van vrywilligers moet die kerk die beginsel van dissipelskap leer herwaardeer. Volgens Watson is dissipelskap nie slegs anders as vrywilligers nie, dit som Christus se hele plan vir die wêreld op. 'Yet for all its brilliant simplicity, it is the one approach that most western churches have neglected' (Watson 1983:18). In die plek van dissipelskap het kerke verslae, kommissies, konferensie, seminare, veldtogte, liturgiese hervormings en so meer, terwyl daar min aandag gegee word aan die betekenis van dissipelskap, iets waarsonder die kerk eintlik nie kerk kan wees nie.

Dissipels van Jesus, anders as vrywilligers, offer hulle vir die Heilige Gees om vir die missio Dei beskikbaar te wees en om met die gawes waarmee God die kerk geseën het, met toewyding te dien. In plaas daarvan om tyd, talente en geld vrywillig aan te bied, sal 'n Geesgeïnspireerde kerk bid dat die Heilige Gees dissipels sal toerus met al die geestelike gawes wat nodig is om die kerk te bemagtig vir bediening binne en buite die mure en grense van die gemeente self.

Narratief kan ook op praktiese wyse in die gemeente en kerk gebruik word om lidmate deur middel van Bybelstudie, prediking en liturgie te help om nuut te dink oor die vraag: wie is die kerk? Die basiese bronne wat die kerk nodig het om 'n Geesgeïnspireerde identiteit te herwin is vryelik toeganklik: naamlik die Bybel, die geloofbelydenisse, en die liedereskat van die kerk.

Verskillende verhale word vertel (Peterson 2013:145147) van hoe die narratief van byvoorbeeld Handelinge gebruik word as lens vir 'n gemeente se deelname aan die missio Dei. So gebruik een gemeente 'n studie wat op die kerk se verhaal in Handelinge gebaseer is, met as titel: 'Ontdek die kerk weer vir die eerste keer.' Daar word van nuwe intrekkers in die bepaalde gemeente verwag om die studie te deurloop. Dit kan egter ook gebruik word as Bybelstudie vir die gemeentelede self, en as inhoud by huisbesoek, of as inleiding by vergaderings. Die doel is om lidmate te help verstaan hoe 'n Bybelse verhaal in een verweef is met die storie van die gemeente.

In 'n ander geval rus die leraar gemeentelede toe om die Bybel te lees deur die lens van deelname aan die missio Dei deur saam te reflekteer oor die volgende vrae: Wat is God besig om te doen in hierdie vertelling? Wat leer ek hieruit oor wie God is? Wat leer ek hieruit oor wat God my roep om te wees? Waar sien ek 'n ooreenstemmende scenario in my lewe, my verhoudings, woonbuurt, werkplek en wêreld? Hoe kan ek deelneem aan Jesus se sending in terme van hierdie kontekste?

Leraars gebruik narratiewe prediking om die verbintenis tussen die verhaal in die teks en die storie van hulle lewe te modelleer. Gemeentes slaag ook oor die algemeen goed daarin om die storie van hulle gemeente of denominasie se geskiedenis te vertel. Die uitdaging is hoe om dié storie as deel van die Groter Storie te vertel, naamlik van hoe die Gees die gemeente gelei het om die evangelie (in woord en daad) uit te dra in die konteks van die bepaalde plek en bepaalde woonbuurt? Die oogmerk is dat 'n gemeente moet leer om raak te sien wat God besig is om in hulle huidige omstandighede te doen, nie slegs om te sien wat God in hulle verlede gedoen het nie.

Soos wat gemeentelede opgeneem word in en identifiseer met hierdie nuwe Bybelse narratief, word dit belangrik dat hulle ook sal leer om hulle verhaal met ander te deel, aangesien hulle geroep word om getuies te wees van 'al hierdie dinge' (Hand 1:18). Met ander woorde gemeentes moet leer om te evangeliseer; dit beteken om in staat te wees om met ander te deel wat God besig is om in hulle lewe en hulle wêreld te doen. Hulle moet ook leer om die hoop te kan deel wat in hulle lewe is. 'Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe' (1 Pet 3:15) en ook om tekens van die opstanding (nuwe lewe) te kan uitwys waar ook al dit in die gemeente gesien kan word.

In hierdie proses is dit van wesenlike belang om te kan onderskei waar en hoe God in die wêreld werk. Onderskeiding lei tot nuwe insigte oor jou eie mens-wees, oor ander mense en oor God. Niemandt (2013:72) wys daarop dat missionale spiritualiteit ten nouste verbonde is aan onderskeidingsvermoë. Onderskeidingsvermoë het alles te doen met die gemeente se vermoë om te luister. Luister, in hierdie sin, beteken om te luister na die Woord en om te luister na die wêreld (konteks). Die gemeente se betrokkenheid by die wêreld lei tot 'n verdieping in die verhouding met God, en hierdie hegter verhouding lei weer tot intenser betrokkenheid by die wêreld. Dit is 'n dubbele beweging wat eg en naby God leef en die kerk noop om twee vrae te stel aan die konteks waarbinne die kerk is:

  • Wat is God besig om te doen? Die kerk behoort te vra wat die Gees van God aan die doen is in God se wêreld.
  • Wat wil God doen? Die kerk behoort te vra wat God wil doen in sy wêreld. Hoe lyk dit wanneer God alles deur sy Gees met Hom wil versoen en die stukkende verhoudings wil herstel? Hoe sluit 'n gemeente aan by wat God aan die doen is?

In aansluiting hierby bied Kitchens (2003:38-39) vier riglyne vir die proses van onderskeiding aan. Die eerste riglyn is: bid vir die leiding van die Heilige Gees wanneer die gemeente begin met die proses van onderskeiding en aanvaar dan dat God dit sal gee. Dat gelowiges dit sal doen, klink voor die hand liggend, maar is nie vanselfsprekend nie:

Many of us mainline Christians are a bit leery about praying for the gift of guidance from the Spirit. We are far more comfortable with the first two persons of the Trinity than we are with the third. (Kitchens 2003:38)

In die proses van onderskeiding is die gawe, werk en leiding van die Gees onontbeerlik. Kitchens (2003:38) is oortuig dat baie van wat hy die 'dryness' in die hoofstroomkerke noem, toegeskryf kan word aan die 'ways we shut ourselves off from the Spirit's energy and leadership'. Toe Jesus die dissipels belowe het dat die Gees hulle sal lei in alle waarheid (Joh 16:13), het hulle 'n situasie in die gesig gestaar wat soortgelyk aan die kerk se eie situasie vandag is. Die konteks waarin die dissipels gewoond was om Jesus te volg, sou radikaal verander ná sy dood. Hulle sou nie langer op sy leierskap kon reken om vir hulle die pad te wys nie; hulle sou op hulle eie wees. Die Gees, so het Jesus hulle verseker, sal hulle help om nuwe maniere te ontdek om Hom ná sy opstanding te volg. Die kerk leef tans self ook in 'n konteks van verandering, en soos die dissipels, kan die kerk reken op die Gees se leiding in die soeke na nuwe maniere waarop die Here in hierdie nuwe konteks vir bediening gevolg kan word. Die tweede riglyn vir die proses van onderskeiding is om te verstaan dat 'n nuwe vorm van gemeentelike lewe, wat moontlik deur onderskeidingsvermoë ontdek kan word, nie strydig moet wees met die tradisie waarvan die Christelike kerk erfgename is nie, en veral nie met die bediening, dood en opstanding van Jesus Christus nie. Die derde riglyn is dat Christene kollegas moet vind, beide ampsdraers en nie-ampsdraers, wat ook daarna streef om oop te wees vir die leiding van die Gees en na hulle te luister om sodoende ook by hulle te leer.

Die vierde riglyn is 'as you begin to employ your best guesses, watch to see if they produce good fruit of the spirit' (Kitchens 2003:40). Die punt is, deur die hele proses van onderskeiding sal die oorkoepelende vraag gevra moet word of die kerk se onderskeidingsvermoë die vrugte van die Gees dra (Gal 5:22). Binne hierdie raamwerk, en by wyse van die twee bewegings waarop Niemandt gewys het, naamlik: om in die Woord te wandel én om in die wêreld te wandel, lei die Gees die gemeente om in die geloof te onderskei dit waarop dit werklik aankom. Dit gaan dus oor sowel die interpretasie van die teks van die Skrif, as die teks van die konteks waarbinne die kerk geroep is om kerk te wees. Niemandt wys daarop dat die uitdrukking 'om te wandel', dui op 'n lewe van vroom en opregte mense wat baie naby aan God lewe. Dit is die presiese betekenis van wandel in die Woord en wandel in die wêreld. 'Dit is om so naby aan God te leef en so oop te wees vir die feit dat God in sy wêreld aan die werk is, dat hierdie lewensreis saam met God geloop of "gewandel" word' (Niemandt 2013:73). Die woord wandel herinner ook dat Christene mense van die Weg is en dat 'n missionale spiritualiteit 'n spiritualiteit is van mense wat op reis is. In kort beteken wandel in die Woord dat die gemeente en kerk toelaat dat hulle lewe en onderskeidingsvermoë, wat geloof betref, gevorm word deur hulle omgang met die Woord. Niemandt (2013:74) wys egter daarop dat wandel in Woord beteken dat die gemeente en kerk afstand moet doen van die modernistiese manier waarop die hoofstroomkerke met die Woord omgaan. Wandel in die Woord hou in dat die Bybel nie gesien word as 'n versameling proposisies en waarhede wat die gemeente en kerk, met genoeg kennis, studie en opleiding, kan bemeester en beheer nie. Wanneer die Bybel só gehanteer word, word dit bloot 'n stuk toerusting of hulpmiddel. Om in die Woord te wandel het meer te doen daarmee om in die teks in te beweeg en saam met die teks te leef. Dit is 'n lees van die Bybel saam met ander, wat eerder op vorming as inligting gerig is. Dit beteken nie dat daar maklike antwoorde op al die uitdagings is nie. Wandel in die Woord is 'n geestelike reis wat intense onderskeidingsvermoë verg. Dit is 'n proses van diep luister - diep luister na die Woord en die diep luister na die gespreksvennote wat saam in die Woord wandel. Wat egter in hierdie proses belangrik is, is om 'n klimaat te skep waar 'n gemeente kan wandel in die Woord en kan leef in die Bybelse narratief (Niemandt 2013:75).

 

Bevindings

Die narratief van Handelinge is ’n verhaal van die kerk wat telkens probeer bykom by waar die Gees al reeds aan die werk is. ’n Ekklesiologie wat begin met die Gees, is gebaseer op die oortuiging dat dit die Gees is wat dissipels van Jesus Christus innooi in ’n lewe in die Drie-enige God. Dit is net die Gees wat dit moontlik maak om aan die werk van die Drie-enige God te kan deelneem, omdat dit die Gees is wat die kerk bymekaarmaak, toerus en weer uitstuur. Sonder die teenwoordigheid, leiding en krag van die Heilige Gees kan die kerk nie kerk wees nie.

'n Ekklesiologie wat met die Gees begin het, mond uit in missionale spiritualiteit. Dit beteken om deurentyd bewus te wees van en sensitief te wees vir die krag en die werk van die Heilige Gees. Niemandt (2013:186) wys daarop dat dit nie ’n geval is van emosionele uitbarsting tydens aanbidding nie. Om bewus van en sensitief vir die Gees te wees beteken eerder om te leef vanuit die oortuiging dat die Gees die lewende, kragtige, bevrydende, veranderende teenwoordigheid van God in die totale werklikheid van die mens se bestaan, binne en buite Christelike gemeenskappe is. Missionale spiritualiteit is om in die kragveld van die Drie-enige God te leef. Vir die plaaslike gemeente en kerk beteken dit om meer oplettend te wees vir, en bewus te wees van wat die Heilige Gees reeds besig is om te doen in die gemeente en ook in die woonbuurt, dorp, stad, land om Christus te verkondig.

Dat die plaaslike gemeente en kerk die nuwe lewe sal weerkaats wat die Heilige Gees in en deur die lidmate bring. Omdat hierdie nuwe lewe iets is wat net God teweeg bring en nie iets wat die gemeente self kan skep nie, roep die Gees Christene om meer intensioneel te wees in die wyse waarop hulle iets van hierdie nuwe lewe weerkaats in hulle lewe as ’n gemeente wat beide saamgeroep en gestuur word.

Gemeentes kan in besonder meer bewus en oop wees vir die beweging van die Heilige Gees in die wyse waarop hulle vergifnis van sonde ontvang sowel as gee, en ook hoe hulle deelneem aan die gemeenskap (koinonia) hoe en waar God hulle in sy wêreld stuur.

Die vraag, wie is die kerk? kan soos volg beantwoord word: (Peterson 2013:147) Die kerk is ’n Geesgeïnspireerde groep mense wat leer hoe om die belofte van vergifnis van sonde te beliggaam binne hulle eie gemeenskaplike lewe ‘imperfectly as no doubt will be the case’ (Peterson 2013:147). Die kerk is ’n Geesgeïnspireerde groep mense wat in die wêreld ingestuur word om God se vergifnis, koinonia en genesing met ’n stukkende wêreld vol pyn te deel.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Bennema, C., 2002, 'The giving of the Spirit in John's Gospel: A new proposal?', The Evangelical Quarterly 74(3), 95213.         [ Links ]

Bosch, D.J. 1993, Transforming mission. Paradigm shifts in theology of mission, Orbis Books. Maryknoll, New York, NY.         [ Links ]

Burke, P.J. & Stets, J.E., 2009, Identity theory , Oxford University Press, Oxford. http://dx.doi.org/10.1093/acprof:oso/9780195388275.001.0001        [ Links ]

Butler Bass, D., 2012, Christianity after religion. The end of church and the birth of a new spiritual awakening, HarperOne, New York, NY.         [ Links ]

Carson, D.A., 2005, Becoming conversant with the emerging church, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Chan, S., 2012, 'Foreword', in B.C. Demarets, B.Nassif, S.Hahn, J. Driskill & E. Howard (ed.), Four views on Christian Spirituality, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Compton, S.C., 2003, Rekindling the mainline. New life through new churches, The Alban Institute, Rowman Littlefield Publishing, Cambridge.         [ Links ]

Deist, F. 1987, A concise dictionary of theological terms, Sigma Press, Pretoria.         [ Links ]

Deist, F.E., 1989, 'Die kerk. 'n Verenigende of verdelende faktor in die ontwikkeling van Suid-Afrika?', HTS Teologiese Studies/Theological Sudies 45(4), 894-915. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v45i4.2339        [ Links ]

Driskill, J., 2012, 'The progressive face of mainline protestant spirituality', in B.C. Demarets, B.Nassif, S.Hahn, J. Driskill & E. Howard (ed.), Four views on Christian Spirituality, pp. 113-142, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Frambach, N.C.P., 2007, Emerging Ministry. Being Church Today, Augsburg Fortress, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Gaum, F. 2011, Fluit-fluit die kerk is uit, Bybel-Media, Tygerberg.         [ Links ]

Hirsch, A. & Altclass, D., 2009, The forgotton ways handbook, BrazosPress, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Kitchens, J., 2003, The postmodern parish. New ministry for a new era, The Alban Institute, Rowman Littlefield Publishing, Cambridge, UK.         [ Links ]

Niemandt, N., 2103, Nuwe leiers vir nuwe werklikhede, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.         [ Links ]

McLaren, B.D., 2000, The Church on the other side, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Mead, L.B., 2001, The once and future church collection, The Alban Institute, Rowman Littlefield Publishing, Cambrigde, UK.         [ Links ]

Peterson, C.M., 2013, Who is the Church? An ecclesiology for the twenty-first century, Fortress Press, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Rendle, G.R., 1998, Leading change in the congregation: Spiritual and organizational tools for leaders, The Alban Institute, Rowman Littlefield Publishing, Cambridge.         [ Links ]

Scharen, C.B., 2005, '"Judiciuos narratvies", or ethnography as ecclesiology', Scottish Journal of Theology 58(2), 125-142. http://dx.doi.org/10.1017/S0036930605000979        [ Links ]

Simpson, G.M., 2007, 'A reformation is a terrible thing to waste: A proimising theology for an emerging missional church', in C. van Gelder (ed.), The missional church in context. Helping congregations develop contextual ministry, pp. 65-93, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Tyra, G., 2013, A missional orthodoxy. Theology and ministry in a post-Christian context, IVP Academic, Downers Grove, IN.         [ Links ]

Wagner, C.P., 1977, Your church can grow, Regal Publishing, Scottsdale, AZ.         [ Links ]

Ward, P., 2002, Liquid church, Hendrickson publishers, Peabody, MA.         [ Links ]

Warren, R., 1995, The purpose driven church. Growth without compromising your message and mission, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Warren, R., 2002, The purpose driven life. What on earth am I here for?, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Watson, D., 1983, Discipleship, Hodder and Stoughton, London.         [ Links ]

West, D., 2010, Continental philosophy: An introduction, Polity Press, Cambridge, UK.         [ Links ]

Wright, C.J.H., 2006, The mission of god. Unlocking the Bible's grand narrative, IVP Academic, Downers Grove, IN.         [ Links ]

Wright, N.T., 2008, Surprised by hope. Rethinking heaven, the resurrection, and the mission of the church, HarperOne, New York, NY.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Christo van der Merwe
PO Box 234, Kempton Park 1620
South Africa
Email: christo.vandermerwe@up.ac.za

Received: 24 Apr. 2014
Accepted: 07 June 2014
Published: 20 Nov. 2014

 

 

1.'The Willingen meeting stated the trinitarian basis of a theology of mission in this way: "The missionary movement of which we are a part has its source in the Triune God Himself." An interim report from Willingen captured the church-and-mission significance of the trinitarian breakthrough this way: "All were agreed that 'mission' is essential to the nature of the Church and not something super-added to it." Willingen's official report said: "There is no participation in Christ without participation in His mission to the world' (Simpson 2007:76).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License