SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.70 issue1The lived theology of the Harry Potter seriesTendencies in film hermeneutics author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.70 n.1 Pretoria Jan. 2014

http://dx.doi.org/10.4102/HTS.V70I1.2808 

ORIGINAL RESEARCH

 

Geestelike veerkragtigheid as reaksie op kerkskeuring

 

Resilience as answer to the problem of church schism

 

 

Yolanda Dreyer

Department of Practical Theology, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The article investigates theories of resilience as applied to individuals and groups. From a group perspective, the potential of and obstacles to resilience are examined against the backgound of post-apartheid South Africa. Individual perpetrators and victims, as well as corporate bodies such as institutionalised faith communities have been affected. For the liberation of South Africa's wounded soul, resilience is needed. In the article, psychological dimensions of resilience theory are brought into dialogue with the theological hermeneutical model of Ernst Fuchs in order to show how an encounter with the Jesus narrative of care for wounded people can foster resilience, liberate and bring healing to both faith communities and to this predominantly religious country.


 

 

Psigiese veerkragtigheid in reaksie op teenslae

Teenslae in die lewe kan 'n groot verskeidenheid vorme aanneem. Sommige daarvan het 'n traumatiese effek op mense. Volgens Norris en Sloane (2007:78-98) ervaar ongeveer 90% van mense minstens een traumatiese gebeurtenis in hulle lewe. Traumatiese gebeurtenisse ontwrig mense se lewens. Mense reageer verskillend op dieselfde gebeure. Vir sommige lei traumatiese ervarings tot chroniese stres wat jare lank kan voortduur. Ander lyk asof hulle redelik maklik daarby verbykom en met 'n positiewe, konstruktiewe lewe kan voortgaan. Sommige mense onttrek hulle aan die lewe, raak sinies, moedeloos, aggressief, depressief of ly aan posttraumatiese stresversteuring. Ander kry voortdurend terugflitse en nagmerries, voel konstant onveilig en ly aan hiperwaaksaamheid. Nog ander raak afhanklik van middele soos alkohol of dwelms in 'n poging om die pyn te verdoof en die herinneringe te ontsnap. Southwick en Charney (2013:7) identifiseer terreine waarop traumatiese gebeure verandering kan meebring in mense, naamlik, onder andere, hoe hulle hulleself op psigiese gebied ervaar, hoe hulle ander ervaar, hoe hulle breinnetwerke reageer op bedreiging, hulle siening oor die sin van die lewe en van hulle plek in die wêreld.

Daar is egter ook mense wat 'n weg vind na herstel ten spyte van traumatiese ervarings. Hulle ervaar ook die effek van trauma, maar word nie daardeur lamgelê nie. Hulle vind gesonde en konstruktiewe maniere om die stresvolle gevolge daarvan te verwerk en kan weer 'n sinvolle bestaan voer. Van hulle getuig selfs dat hulle kosbare lesse geleer het, dat hulle sterker en wyser voel, dat hulle nader voel aan geliefdes, dat hulle meer bewus is van die goeie dinge in die lewe en meer waardering daarvoor het as 'n nagevolg van die traumatiese gebeurtenis (Southwick & Charney 2013:2; kyk Stinnett & DeFrain 1985). Sommige ervaar selfs 'n nuwe gevoel van roeping.

Hierdie vermoë om op 'n gesonde en konstruktiewe manier met stres om te gaan, hang nie net af van individue en hulle eie innerlike krag en vermoëns nie, maar ook van eksterne hulpbronne soos ondersteuningsisteme, byvoorbeeld familie, vriende en instellings. Hulle kultuur, godsdiens en gemeenskap kan ook bydra tot ondersteuning (kyk Southwick et al. 2011). Die vermoë om 'terug te spring' van teenslae en trauma word resilience genoem en sal in hierdie artikels met 'veerkragtigheid' of 'geestelike veerkragtigheid' weergegee word. Resilience is die vermoë van 'n objek om terug te keer na die oorspronklike vorm nadat dit op die een of ander manier gebuig, ingeduik or verwring is. Mense wat beskik oor geestelike veerkragtigheid, word gebuig, maar breek nie (Vaillant 2002:285). Die American Psychiatric Association (APA)1 beskryf veerkragtigheid as die vermoë om aan te pas by moeilike omstandighede, trauma, tragedie, bedreiging en ingrypende terugslae soos gesins-, verhoudings- en gesondheidsprobleme, asook probleme in die werkplek en finansiële stres. Hierdie aanpassing vind nie eensklaps plaas nie; dis 'n proses. Volgens Froma Walsh (2006:4) is dit die vermoë om sterker anderkant uit te kom. Dit is 'n aktiewe proses van uithou, oorwin, herstel en groei in reaksie op die krisisse en die uitdagings van die lewe.

Psigiese veerkragtigheid is 'n komplekse en dinamiese verskynsel wat op verskillende vlakke uitspeel (kyk Bonanno 2004, 2005; Carver 1998; Layne et al. 2007; Luthar, Cicchetti & Becker 2000; Rutter 1985). Dieselfde persoon reageer soms meer veerkragtig as ander kere. 'n Persoon kan ook in sekere omstandighede meer veerkragtig reageer as in ander. Iemand kan byvoorbeeld met groter veerkragtigheid reageer by die werk as tuis, of andersom (Southwick & Charney 2013:8).

Faktore wat bydra tot veerkragtigheid en strategië wat veerkragtige mense aanwend om teenslae in hulle lewe te oorkom, is deur Southwick et al. (2005; kyk Southwick & Charney 2013:13) geïdentifiseer as, onder meer: realistiese optimisme; 'n probleemoplossende oriëntasie; die moed om hulle vrese in die oë te kyk; die vermoë om hulp te soek en te aanvaar; die vermoë om 'n sin vir humor te behou; verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle eie gesondheid en emosionele welsyn; morele krag; godsdienstige praktyke wat hulle help om sin te vind in die lewe; die vermoë om 'n geleentheid te ontdek, selfs in die moeilike omstandighede; om die traumatiese gebeure te sien as 'n geleentheid tot persoonlike groei. Sulke psigiese veerkragtigheid word nie net aangetref by individue nie, maar ook by instansies, gemeenskappe en samelewings.

Hierdie artikel sluit aan by die verhaal van 'n kerk wat uit die sosiale sisteem van apartheid in Suid-Afrika kom, kerkskeuring meegemaak het en nou vasgevang is in 'n siklus van verlies. Dit ondersoek die moontlikhede vir wat oor is van die geloofsgemeenskap om hoop te herwin en 'n positiewe toekomsverhaal te ontwikkel.

Sommige kulture of subkulture neig tot selfgesentreerdheid en kla oor alles. Hulle sien hulleself as die slagoffer en doen derhalwe nie veel om hulle omstandighede te verbeter nie. Sommige Afrikaanssprekende groepe het in die geskiedenis en tot vandag toe 'n merkwaardige veerkragtigheid in reaksie op teenslae vertoon en kon 'n beduidende bydrae tot die land lewer. Ander groepe vertoon weer 'n 'laer-trek'-mentaliteit en onttrek hulle in 'n eie enklawe (kyk Sundermeier 1975:65). Hulle verval dikwels in blamering: alles is ander se skuld. Volgens Southwick en Charney (2013:15) is selfgesentreerde, ontevrede en blamerende groepe juis nie dié wat met veerkragtigheid reageer op trauma, teenslae en ongewenste verandering nie.

Die vraag is of selfs sulke groepe 'n mate van veerkragtigheid sou kon 'aanleer' en 'kweek' en of psigiese veerkragtigheid 'n inherente eienskap is waaroor mense beskik of nie. Veerkragtigheid is wel in 'n mate 'n keuse, hoewel die keuse vir sommige mense makliker en natuurliker kom as vir ander wat gouer oorweldig voel deur omstandighede (Southwick & Charney 2013:20). Mense wat hulle in 'n spiraal van verlies bevind nadat hulle binne 'n kort tyd verlies op verlies ervaar het, sal dit ook moeiliker vind om met veerkragtigheid op verlies te reageer (kyk Hobfoll 2001:337-421; Saul 2014:6). Veerkragtigheid kan versterk word deur middel van kennis en inoefening. Richardson (2002) onderskei drie fases waarin die ondersoek na psigiese veerkragtigheid en hoe dit beoefen word, verloop het. Die fases word vervolgens kortliks aangetoon.

 

Ondersoeke na psigiese veerkragtigheid

Op die vakgebied van die psigologie het daar 'n verskuiwing plaasgevind vanaf 'n probleem-gerigte benadering ('Wat is fout?') tot 'n meer positiewe benadering wat sterk punte en psigiese veerkragtigheid beklemtoon. Hierdie verskuiwing het gelei tot ondersoeke na die persoonlike en interpersoonlike vermoëns van mense, en daar is gevind dat mense se innerlike krag veral gestimuleer word wanneer hulle met moeilikhede gekonfronteer word (Richardson 2002:307). In die praktyk is waargeneem dat sommige mense die vermoë het om 'terug te spring' nadat hulle platgeslaan is deur teenslae, terwyl ander dit besonder moeilik of selfs onoorkomelik vind. Hierdie verskynsel is wyd ondersoek en teoreties beskryf (kyk Benson 1997; Garmezy 1991; McCullough & Snyder 2000; Rutter 1985; Seligman & Csikszentmihalyi 2000; Werner & Smith 1992). Richardson (2002) beskryf drie fases van die ontwikkeling van insigte ten opsigte van psigiese veerkragtigheid.

Die eerste fase het gefokus op die verskynsel en het die eienskappe van psigiese veerkragtigheid nagespeur. Eienskappe sluit in 'n sterk gevoel van eiewaarde en goeie ondersteuningsnetwerke. Geloof en godsdiens kan positiewe faktore wees wat tot psigiese veerkragtigheid bydra. Godsdiens en persoonlike spiritualiteit vorm 'n buffer wat individue help om emosioneel en fisies te oorleef in situasies van intense lyding (Griffith 2010:13). Godsdiens kan ook vir 'n groep hierdie positiewe uitwerking hê. Godsdiens het die kragtige moontlikheid om goed te doen, maar die ewe kragtige potensiaal om skade aan te rig (Griffith 2010; kyk Kirkpatrick 2005:5).

Die tweede fase het gefokus op die proses van psigiese veerkragtigheid wanneer mense teenslae in die lewe beskou as 'n geleentheid om te ontwikkel. Sulke mense ontwikkel hanteringsvaardighede wat hulle in staat stel om teenslae in die toekoms makliker en effektief te oorkom en verwerk. Richardson (2002:312; kyk Tedeschi & Calhoun 2004:1-18) noem hierdie soort groei 'resilient integration'.

Die derde fase fokus op teoretisering ten opsigte van veerkragtigheid: eerstens word die konsep self en wat dit behels, ondersoek. Tweedens word die krag onderliggend aan psigiese veerkragtigheid as verskynsel ondersoek (kyk Richardson 2002:307-309). Verskillende dissiplines, onder andere ook teologie en spiritualiteit, is geïnteresseerd in die motiverende energie wat lei tot 'n veerkragtige reaksie op teenslae. Gelowige mense se geestelike oortuiging dat hulle krag van God kom, dra by tot selfgemotiveerdheid en 'n veerkragtige respons tot moeilikhede in die lewe. Dit het selfs 'n positiewe effek op mense se immuunstelsel (kyk Brody & Brody 2000). Positiewe denke stuur 'n stroom positiewe energie deur liggaam, siel en gees (Richardson 2002:315-316), terwyl negatiewe emosies negatief inwerk op die liggaam en algemene gesondheid van mense (kyk Mookadam & Arthur 2004). Geloof kan derhalwe 'n hulpbron wees wat tot 'n gesonde lewenshouding en opbouende gewoontes bydra. Dit het op hulle beurt weer 'n positiewe uitwerking op mense se fisiese en geestesgesondheid (kyk Affleck & Tennen 1996:899-922; Chang, Maydeu-Olivers & D'Zurilla 1997:433-440). Dit werk byvoorbeeld positief in op 'n mens se immuunstelsel (kyk Cohen et al. 2003:652-657; Segerstrom & Sephton 2010:448-455) en kan selfs beskerming bied teen die negatiewe uitwerking van stres (kyk Zeidner & Hammer 1992:709-746). Gelowige mense kan oor die hulpbron van 'n sterk innerlike motivering en krag beskik.

Die sisteemteoretikus en gesinsterapeut, Froma Walsh (2009:6), onderskei in haar werk op innerlike veerkragtigheid tussen 'gees' en 'siel'. 'Gees' is vir haar die kern van 'n mens se innerlike krag en 'siel' is die bron van mense se outentisiteit, geestelike diepgang, vreugde en verdriet. Dit is in verhouding met God. Daaruit kom 'n motiverende krag voort. Mense wat in God se teenwoordigheid lewe en getrou is aan hulle morele waardes, kan hierdie krag ervaar; mense wat ontrou is aan hulle eie spiritualiteit, se psigiese energie word egter daardeur gedreineer.

Geesteskrag, geestelike energie en geestelike veerkragtigheid kom van twee bronne: van diep binne die mens (interne bron), sowel as van eksterne hulpbronne soos ondersteuningsisteme en godsdiens. Hierdie geestelike energie versterk hoop, die ervaring dat die lewe basies ordelik verloop en nie in chaos verval nie, asook die ervaring van beheer oor die lewe sodat hulle nie net uitgelewer voel aan die kragte van die lewe nie (kyk Richardson 2002:319). 'n Goeie balans tussen interne en sosiale hulpbronne bied die beste kans op innerlike veerkragtigheid. Die gemeenskap dra dus by tot 'n individu se veerkragtigheid, en geestelik veerkragtige individue is nodig om 'n gemeenskap te help om konstruktief te reageer op teenslae en verlies.

'n Veerkragtige reaksie fokus op positiewe verandering. Die Jesus-narratief gaan in wese oor positiewe verandering en bied 'n kragtige motivering om met veerkragtigheid te reageer op teenspoed en verlies. 'n Hermeneutiese model vir hoe die Jesus-verhaal 'n geloofsgemeenskap tot nuwe lewe kan bring sodat hulle 'n positiewe bydrae tot die wêreld kan lewer, sal nie op mag, politiek en dwang berus nie. 'n Model vir nuwe lewe sal ten doel hê om die geloofsgemeenskap te bring tot (1) insig in hulleself en hulle menswees, (2) die verstaan van wat outentieke lewe voor God en saam met hulle medemens behels en hoe om dit te verkry, en (3) 'n veerkragtige gemeenskap te wees wat gemotiveer word deur die krag van die Jesus-narratief. Die 'nuwe hermeneutiek' van Ernst Fuch bied 'n model om te beweeg van die 'ek', 'n na binne gerigte, selfgesentreerde oriëntasie na die 'ons', 'n relasionele en evangeliese oriëntasie.

 

Die hermeneutiese boog

In die filosofie het die fokus van die fenomenologie verskuif vanaf die verstaan van die fenomeen self na die insig dat hoe iets geken word, 'n invloed het op die saak self (toegepas op die praktiese teologie deur Don Browning 2007:6-7). Die een wat die fenomeen ondersoek, word deur die ondersoek verander. Die fenomeen self word deur die ondersoeker verander. Die proses van ken laat niks onaangeraak nie. Toegepas op die Jesus-narratief ontstaan daar 'n nuwe verhouding tussen hoorder en die Jesus-verhaal self. Die lewensverhaal van die ondersoeker word in een van twee rigtings verander: óf tot 'n outentieke, óf tot 'n onoutentieke nuwe verhaal. Watter een dit sal wees, hang af van hoe die ontmoeting tussen die ondersoeke en die teks verloop. Vir Ernst Fuchs ([1954] 1963:63, 1965:131) is die ontmoeting met die Jesus-narratief 'n eksistensiële saak. Die Skrif is die 'boek van die lewe' wat spreek tot die werklike lewe van hedendaagse gelowiges. Die lewe van Jesus is vir hom 'n gebeure wat gekommunikeer word deur die Jesus-verhaal. Interaksie met die teks help lesers om waardes te vind wat betekenisvol is vir hulle lewe. Fuchs (1968:23, 80, 205) noem hierdie lewende ontmoeting tussen leser en teks 'n 'hermeneutiese situasie'.

Die hermeneutiese situasie is 'n soeke na waarheid (Fuchs 1968:30, 38). Waarheid word nie gevind in dogmas of proposisies, direk afgelei uit die Skrif nie. Waarheid 'is' nie, maar 'verskyn' aan mense binne die werklikheid van hulle egte lewe. In die kommunikasie en interaksie tussen die mens en die Jesus-narratief ontstaan insig en begrip (kyk Huxel 2004:296). Deur hierdie 'kommunikatiewe handeling' (Fuchs 1968:26) wat in geloofstaal uitgedruk word, word die lewende woord van God oorgedra om te spreek in die werklike lewensituasie (Fuch [1960] 1965). God kom so aan die woord. Die ervaring van God se genade verdiep en die lewe van die gelowige word in beweging gebring (Fuchs 1968:58). Geloofstaal verskil van rasionele taal (Fuchs 1968:91) en maak dit vir mense moontlik om helderheid te vind in hulle soeke na waarheid (Fuchs 1968:10; kyk Huxel 2004:299). Hierdie proses kan gesien word as die bron van 'teologiese veerkragtigheid'. Die Jesus-narratief word deur Christen-gelowiges toegepas in die lewe. Gelowiges het reeds voorkennis van die dinge van die lewe, maar hierdie kennis is nie voldoende nie. Vir outentieke menslike bestaan is meer as kennis nodig. Daardie 'meer' is naamlik 'n relasionele verstaan van die menslike bestaan (Existenzverständnis in Fuchs se taal) (kyk Huxel 2004:302).

Die eerste fase van die ondersoek na die fenomeen van veerkragtigheid kom ooreen met Fuchs se model van beweging van die voorkennis na die relasionele verstaan van menswees (Existenzverständnis). Om teenslae in die lewe (die fenomeen) net te verstaan sal 'n mens nie help om van 'n onoutentieke na 'n outentieke bestaan te te beweeg nie. Eers in relasie kan die onoutentieke menselike bestaan getransendeer word en kan die mens tot outentieke bestaan kom.

Fase twee en drie van die ondesoek na veerkragtigheid fokus op hoe mense in hulle alledaagse bestaan bevryding kan ervaar. Toegepas op die Christelike geloofsgemeenskap, is die vraag hoe interaksie met die Jesus-narratief en met mekaar (in relasie, 'saam verstaan' - Einverständnis) 'n geloofsgemeenskap kan help om bevry te word van die effek van teenslae en verlies en met geestelike veerkragtigheid op teenspoed en verlies te reageer.

Sowel innerlike persoonlike veerkragtigheid as die energie wat van buite af kom, byvoorbeeld van ondersteuningstelsels soos die geloofsgemeenskap, is nodig om konstruktief op teenspoed te kan reageer. Daar word dikwels tussen godsdiens en spiritualiteit onderskei omdat godsdiens 'n geskiedenis van uitsluiting en geweldpleging het. Spiritualiteit word dan gesien as bron van persoonlike krag en lewensin, as die relasie met die Goddelike. Volgens Griffith en Elliott Griffith (2002:15) is spiritualiteit 'n uitdrukking van 'n mens se keuse om te leef 'in relasie tot alles wat bestaan'. Griffith (2010:21) wys egter daarop dat ook spiritualiteit, en nie net godsdiens nie, 'n donker kant kan hê. Spiritualiteit kan ook die bron wees van die krag om skade te doen, veral wanneer ideologiese oortuigings ter sprake is. Sowel godsdiens as spiritualiteit behoort dus altyd met 'n hermeneutiek van suspisie benader te word.

Om in hierdie lewe 'n outentieke en geestelike lewe te lei is nie iets wat moontlik word deur middel van slegs teoretiese of psigologiese kennis nie, omdat 'n mens se hele lewe in God se teenwoordigheid gelei word (Fuchs 1968:11) en dat geloof eksistensieel ervaar en verstaan word (Fuchs 1968:46). Om God so vanuit die totaliteit van menslike ervaring te begryp (Einverständnis met God) is 'n dinamiese saak, 'n gebeure (Fuchs 1968:173, 175). Dit is God se liefde wat geloof as Einverständnis met God moontlik maak. Volgens Fuchs (1968:50) wil liefde sigself openbaar. Dit wil verstaan word. Hierdie soort verstaan is nie 'n oefening van die menslike verstand nie. Dit is om voor God te leef en die vreugde en vrede te ervaar wat met so 'n lewe gepaard gaan (Fuchs 1968:156).

Outentieke menslike bestaan, 'n lewe van vreugde en vrede, beteken nie dat alle teenslae of vrees sal verdwyn nie. Dit beteken dat gelowiges in staat kan wees om vrede en vreugde te midde van en ten spyte van teenslae te ervaar. Net in God se nabyheid kan vrede, vreugde en liefde die toon, 'n konstante in 'n mens se lewe word (Fuchs 1968:155; kyk Huxel 2004:305). 'Verstaan' is in hierdie sin nie abstrakte kennis nie, maar eksistensiële ervaring binne 'n werklike menslike konteks (Fuchs 1968:79). Die Jesus-gebeure openbaar die ware gees van God se wet: om God se geregtigheid 'n werklikheid te laat word, om ander te help en te dien in liefde (kyk Jüngel & Schunack 2003:208). Op hierdie manier vind mense in hulle alledaagse lewe die waarheid waarna die Jesus-narratief verwys (Fuchs 1968:244).

Die lewende interaksie met die Jesus-narratief het 'n effek: dit verander mense se lewe en verhoudings. Einverständnis met God wat 'n lewe van vrede, liefde en vreugde tot gevolg het, maak ook Einverständnis met die ander moontlik. Dit is juis vir die ander wat die liefde bedoel is en saam met wie die vreugde ervaar kan word (kyk Fuchs 1968:239-242). Mense het 'n keuse van waarin hulle probeer om lewensvervulling te vind: in liefde, gerig op die ander, óf in hulleself (Fuchs 1968:57; kyk Huxel 2004:310). Geloof is die teenwoordigheid van God in mense ter wille van mense (Fuchs 1968:121). 'n Self-gerigte bestaan is onoutentiek, rusteloos, onvervuld. 'n Lewe in liefde en vrede is outentieke menslike bestaan (Fuchs 1968:144; kyk Huxel 2004:310). Teologiese taal kan dus nie abstrak en lewensvreemd wees nie, maar druk hierdie egte menslike ervaring en geloofservaring uit.

Teologiese waardes soos liefde, vreugde en vrede wat net werklik in God se teenwoordigheid ervaar kan word, kan op psigiese vlak tot 'n optimistiese lewensbenadering lei. Optimisme is die enkele faktor wat die meeste tot 'n veerkragtige reaksie op die teenspoed van die lewe bydra. Optimisme is toekomsgerig. Mense hoop en vertrou dat alles goed sal uitwerk, dat hulle genoeg sal hê en sal slaag met wat hulle aanpak. Realistiese optimisme is egter nodig. Teenslae word nie ontken nie, maar optimisties georiënteerde mense beweeg vinniger daarby verby as dié met 'n meer pessimistiese ingesteldheid. Optimiste gebruik hulle energie om oplossings te vind (Southwick & Charney 2013:25, 29). Diane Coutu (2002:48) waarsku dat 'n realistiese siening van die lewe harde en moeisame werk vereis. Daarsonder is outentieke veerkragtigheid egter nie moontlik nie. Helen Keller (1903:12-13) noem onrealistiese optimisme 'valse optimisme'. Dit is gevaarlik omdat sulke mense die risiko's onderskat en hullself oorskat. Hulle is dan nie voorbereid wanneer dinge skeefloop nie (kyk Kruger & Dunning 1999:1121-1134). Negatiewe emosies en reaksies veroorsaak dat 'n mens se visie vernou, terwyl positiewe emosies help om die perspektief te verbreed. Met 'n breë perspektief is 'n mens beter in staat om inligting in te neem en te verwerk wat kan help om 'n oplossing te vind (kyk King & Hicks 2009:317-330). Met 'n breë perspektief kan geleenthede effektiewe identifiseer en lewensin makliker gevind word.

Vanuit 'n teologiese perspektief op veerkragtigheid sou optimisme gesien kon word as 'n manifestasie van geloof. Gerhard Ebeling, 'n ander bekende eksponent van die nuwe hermeneutiek, beskryf die 'geestelike immuunstelsel' soos volg: dat die grondslag van geloof en die sleutel tot hoop in die ontmoeting met Jesus lê. Elke keer as Hy ontmoet word, word die hoop weer nuut (Beutel 2012:627).

 

'n Veerkragtige gemeenskap

Omdat relasies as eksterne krag saam met mense se innerlike vermoëns 'n groot rol ten opsigte van innerlike veerkragtigheid speel, kan psigiese veerkragtigheid met behulp van 'n interaksionele model verstaan en verduidelik word. Sisteemteorieë bied 'n breër perspektief op relasionele en sosiale prosesse binne gemeenskappe en groepe soos families (kyk Walsh 2006:12). Die geloofsgemeenskap is reeds deur Jesus gesien as 'n andersoortige familie (fictive family). Insigte met betrekking tot familiesisteme en hulle veerkragtigheid al dan nie, kan derhalwe toegepas word op hierdie andersoortige 'familie', die geloofsgemeenskap.

In geloofsgemeenskappe word mense vanaf geboorte tot die dood, deur al hulle lewensfases en in alle omstandighede, geestelik versorg. Die geloofsgemeenskap is 'n sorggemeenskap en die klem is op wedersydse omgee. Beide faktore wat hoofsaaklik tot psigiese veerkragtigheid bydra, word hierin voorsien. Die geloof dra by tot mense se innerlike krag en die geloofsgemeenskappe verskaf die eksterne hulpbronne wat nodig is, naamlik gemeenskap, geborgenheid, ondersteuning en sorg.

Geloof en geloofspraktyke soos gebed en ritueel kan tot dankbaarheid, vrede en hoop lei (Walsh 2009:14). Dit het weer 'n positiewe uitwerking op hoe mense oor hulleself voel, en op hulle interaksie met die wêreld rondom hulle. Geloof en die aanvaarding van die geloofsgemeenskap kan help om mense van skuld te bevry en genesing te ervaar na 'n skaamte-ervaring. Daardeur word verhoudings herstel: met God, die ander, en die self. Rituele en seremonies versterk die ervaring van verbondenheid en fasiliteer lewensoorgange (kyk Imber-Black & Roberts [1998] 2004:89). Sommige lewensoorgange is deel van gewone ontwikkelingsprosesse, hoewel hulle ook nie noodwendig maklik of gladweg verloop nie. Hulle vereis egter wel minder psigiese veerkragtigheid as onverwagte en ongevraagde ingrypende veranderings in mense se lewe. Geloof en geloofspraktyke kan 'n goeie grondslag bied om verandering en teenspoed meer effektief te deurstaan.

Godsdiens het egter nie altyd 'n positiewe uitwerking op mense nie. Soms is dit juis die oorsaak van pyn. Een aspek van die meeste godsdienste wat oor die eeue heen heelwat ellende vir mense veroorsaak het, is patriargie (kyk Bridges & Spilka 1992:43-53; Dollahite 2007; Walsh 2009:15; Wilcox 2004). Selfs in konserwatiewe godsdienstige kringe waar tradisionele geslagsrolle as vanselfsprekend aanvaar word, kan verwronge magsverhoudings spanning tot gevolg hê (kyk Sullivan 2001:610-626). Verwronge magsverhoudings in gesinne lei dikwels tot geweld en die seksuele misbruik van kinders.

'n Ander negatiewe faktor wat tipies in godsdienstige kringe voorkom, is 'n veroordelende houding ten opsigte van mense en groepe wat as 'onaanvaarbaar' beskou word, dikwels uit godsdienstige oorwegings. 'n Voorbeeld hiervan is hoe godsdienste dikwels met homoseksuele mense en ander seksueel-geïriënteerde minderhede omgaan. Mense wat sleg behandel word deur godsdienstige mense en groepe, verwerp dikwels die godsdiens (kyk Yip 2002:199-212) en ontbeer dan die positiewe innerlike krag van geloof en die positiewe eksterne krag van die sorg en ondersteuning van die geloofsgemeenskap - beide faktore wat tot psigiese veerkragtigheid sou kon bydra om hulle teen die negatiewe en dikwels vernietigende houdings en gedrag te staal waarmee hulle daagliks in die samelewing gekonfronteer word.

 

Psigiese veerkragtigheid en hoop

Geloofsgemeenskappe kan hulle menslike onvolmaaktheid transendeer wanneer hulle die positiewe waardes wat hulle verkondig, werklik in praktyk stel en uitleef (Walsh 2009:19). Indien 'n geloofsgemeenskap 'n sorggemeenskap is, soos dit veronderstel is om te wees, kan dit tot die geestelike, psigiese en fisiese welsyn van mense bydra en hulle stimuleer om 'n veerkragtige innerlike te ontwikkel wat hulle kan help om teenspoed en verlies op 'n konstruktiewe wyse te deurstaan. Sonder teenslae is veerkragtigheid nie nodig nie. Dit is dus juis moeilikheid wat veerkragtigheid stimuleer en laat ontwikkel. Wanneer 'n geloofsgemeenskap deur die skok en verlies oorweldig en lamgelê word, is dit dikwels psigies veerkragtige individue wat die gemeenskap weer tot aksie aanspoor sodat die gemeenskap kan word wat dit veronderstel is om te wees: 'n sorggemeenskap en hulpbron vir die ondersteuning van mense.

Kollektiewe trauma is die effek van teenslae op die onderlinge relasies in families, gemeenskappe en samelewings volgens Saul (2014:3). Traumatiese insidente kan deur die natuur, mense of sosiale werklikhede soos armoede, onderdrukking of ontheemding veroorsaak word. Wanneer diegene wat die oorsaak van die traumatiese ervaring is, hulle aanspreeklikheid ontken, is die effek wat dit op die slagoffers het, nog erger. Hulle 'kom weg daarmee' en gaan ongehinderd voort met hulle lewens, terwyl die hele lewe van die slagoffers ontwrig is, soms met permanente gevolge. Wanneer 'sosiale vertroue' op hierdie manier geskend word, laat dit slagoffers met 'n gevoel van skok, verraad, waardeloosheid en vernedering. Die wêreld waarop hulle vertrou het, bestaan nie meer nie. Die verlies voel onherstelbaar. Die weg tot genesing vir slagoffers van kollektiewe trauma is om weer vertroue op te bou in hulle sosiale omgewing (Saul 2014:4). Daarvoor is dit nodig dat die skade wat hulle gely het, erken word, dat diegene wat dit veroorsaak het, aanspreeklikheid aanvaar en dat reg en geregtigheid geskied.

Kollektiewe trauma veroorsaak dikwels dat mense hulle gevoel van verbondheid met en geborgenheid in hulle sosiale omgewing verloor. Ander soorte trauma is dikwels die gevolg van skielike en onverwagse gebeure. Hierdie soort trauma kan egter ongesiens en oor 'n lang tydperk ontstaan vanweë sosiale beheermeganismes en die gepaardgaande ervaring van magteloosheid. Sosiale beheer is tweeledig. Dit het 'n eksterne en interne aspek. Die eksterne aspek gaan oor sosiale konvensies wat mense se lewens reguleer. Die interne aspek gaan oor self-polisiëring: mense internaliseer die eksterne sosiale beheer dermate dat hulle daarmee saamwerk en dit in stand hou, ook al veroorsaak dit vir hulleself en ander skade (kyk Foucault [1975] 1995:173). Diegene wat op hierdie manier toegee aan en saamwerk met sosiale beheer oor hulle, is geneig om hard en ongenaakbaar te wees ten opsigte van ander wat nie aan hierdie norme voldoen nie. Volgens die filosoof Michel Foucault (1982:778) veroorsaak dit verdeeldheid tussen groepe mense. Die ander word dan nie gesien as 'n waardevolle mens in eie reg nie, maar as deel van 'n onaanvaarbare groep. Die groep word gestereotipeer en daarmee word mense hulle mensheid en menswaardigheid ontneem. 'Onmense' hoef nie soos mense behandel te word nie. Die daders se gewete hoef hulle dus nie te pla nie en hulle meen ook nie dat hulle godsdienstige waardes daardeur in die gedrang kom nie. Inteendeel, 'godsdienstige waardes' word dikwels juis aangegee as die rede vir hulle uitsluitende en krenkende gedrag.

Wanneer 'n gemeenskap geleidelik agterkom dat dit nie langer die ondersteunende sorggemeenskap is wat dit veronderstel is om te wees nie, lei dit tot 'n verlieservaring. Kai Erikson (1976) beskryf dit soos volg:

'I' continue to exist, though damaged and maybe even permanently changed. 'You' continue to exist, though distant and hard to relate to. But 'we' no longer exist as a connected pair or as linked cells in a larger communal body. (bl. 302)

Die verlies aan vertroue in institute en sisteme veroorsaak dat verhoudings skade ly (Saul 2014:5) en mense ervaar die bedreiging dat hulle gaan verloor wat vir hulle kosbaar en van waarde is. Wanneer die een verlies op die ander volg, word mense in 'n 'spiraal van verlies' vasgevang. As so 'n afwaartse spiraal eers momentum gekry het, is dit moeilik om daaruit te kom. Die gevolg kan angs, depressie en eensaamheid wees. Sosiale verhoudings ly skipbreuk en mense raak steeds meer geïsoleerd. Hulle verloor belangstelling in die lewe en ervaar vervreemding van hulleself, ander en God. Om hiervan te herstel moet 'n gemeenskap of individu uit die spiraal van verlies losbreek en 'n opwaartse positiewe beweging moet aan die gang gesit word (Saul 2014:6).

Om genees te word moet die gemeenskap of instituut by veranderde omstandighede kan aanpas en op 'n veerkragtige manier op die teenslae reageer. Individue wat oor psigiese veerkragtigheid beskik en die omkeerproses aan die gang sit, kan dit nie van buite af doen nie, maar in solidariteit met die gemeenskap. Hulle is net effektief wanneer hulle 'van binne' af as deel van die gemeenskap werk. Om suksesvol te kan aanpas by nuwe omstandighede vereis 'n duidelike bewustheid van die rol van sowel die dader as die slagoffer.

Apartheid, gelegitimeer deur godsdienstige oortuigings, is die verlede-verhaal van Suid-Afrika. Transformasie het die afgelope 20 jaar sedert die aanbreek van demokrasie op verskeie vlakke plaasgevind. Die Suid-Afrikaanse samelewing is egter steeds 'n gewonde samelewing. Groepe word steeds gestereotipeer en in hulle menswees gereduseer. Gevolge is steeds angs, depressie en vervreemding wat dikwels in geweld omsit. Selfs ná 20 jaar van demokrasie is daar 'n behoefte aan 'n veerkragtige kommunale reaksie sodat die land saam opgebou kan word. In 'n hoofsaaklik godsdienstige land sou geloofsverhale die innerlike krag en geloofsgemeenskappe die eksterne krag kon bied wat nodig is vir psigiese veerkragtigheid. In die geval van die Christelike godsdiens is dit die Jesus-narratief wat 'n raamwerk bied vir die verstaan van die sin van die lewe en vir 'n positiewe, opbouende en kragtige uitlewing daarvan in relasie tot voordeel van almal.

Jesus se wysheid was nie buite-wêrelds nie, maar kom uit sy kultuur. Soms het hy die kultuur krities benader 'van buite af'. Tog was Hy solidêr met die grootste deel van die bevolking, naamlik die armes en ellendiges. Hy het saam met hulle geleef, hulle onderrig, beelde uit hulle leefwêreld gebruik en hulle wysheid onderskryf. In daardie sin was sy betrokkenheid 'van binne af'. Hy het nie gekonformeer aan die verwagtings van die magsgroepe in sy kultuur waar hulle waardes nie ooreengekom het met dié van God se koninkryk nie (Legrand 2000:111-112). Volgens Legrand (2000) is Jesus se houding een van 'integrale vryheid': hy behoort tot die kultuur, maar is krities teenoor kulturele sowel as teen-kulturele patrone. Jesus was 'n katalisator vir verandering. Hy bied iets nuuts aan God se mense.

Die taak van die katalisator vir verandering is eerstens om mense bewus te maak dat verandering nodig is, hulle tweedens te oortuig waarom dit nodig is en hulle derdens te motiveer om die verandering te aanvaar (kyk Malina & Pilch 2013:235-238; Pilch 2011:81-99). Dit is nie genoeg dat mense instem nie; hulle gedrag moet diepgaande verander. Die veranderde gedrag moet versterk word om die nuwe 'gewoontes' en 'vanselfsprekende manier van doen' te word wat op die lang duur volgehou kan word. Dan het mense nie meer 'n bemiddelaar nodig nie, maar word hulle self diegene wat die veranderde gedrag voortsit en versprei.

Die bevrydende boodskap van Jesus kan nie met mag van bo af afgedwing word nie. So 'n manier van doen druis reëlreg in teen die gees van die boodskap wat gebring word. Kerklike institute val dikwels ten prooi van 'n 'mag-van-bo-af'- mentaliteit waarmee die wese van die boodskap wat hulle wil oordra, aangetas word (kyk Burns, Chapman & Guthrie 2013:153). In die geloofsgemeenskap behoort alle mense gelyk te wees voor God, met mekaar saam te werk om God se boodskap te bring en uit te leef en saam besluite te neem wat die Jesus-saak tot voordeel sal wees.

Wanneer die geloofsgemeenskap ontwrig en getraumatiseer is, is dit belangrik dat leiers en volgelinge sal ooreenkom oor wat hulle gemeenskaplike grondslag is. Volgens Saul (2014:183) is konflik nie noodwendig sleg nie. Dit het kreatiewe potensiaal wat benut kan word. Kerklike institute is dikwels so bang vir konflik dat hulle wegskram daarvan van bo af en in ou bekende en oneffektiewe oplossings terugverval. As konflik met kreatiwiteit benader word, kan die gemeenskap met veerkragtigheid terugspring uit die chaos en 'n nuwe evangeliese koers inslaan.

Sowel individue as die gemeenskap kan tot die genesing van kollektiewe trauma bydra. Diepgaande genesing kan deur die een of ander vorm van openbare erkenning of herinnering, asook die aanvaarding van die nodige aanspreeklikheid bevorder word (Saul 2014:183). Herstel vind plaas in relasie. Dit is die taak van leierskap om weer 'n vertrouensverhouding op te bou.

 

Veerkragtige herstel

Wanneer chaos in 'n groep of organisasie dreig, is dit eerstens nodig om die graad van volwassenheid en angs te beoordeel. Hierdie twee kragte bepaal die balans van die groep (Burns et al. 2013:206). Herrington, Creech and Taylor (2003) vergelyk 'n instelling met 'n opgaardam: 'n gebrek aan balans tussen volwassenheid (die dam) en angs (die water) maak dat die water ontstuimig raak, oor die damwal spoel en verkwis word. 'n Hoë vlak van volwassenheid help'n groep, gemeenskap of instansie in staat stel om effektief met angs om te gaan. Ontwrigting en ongewenste verandering verhoog die angs. Die taak van die leiers is om die groei van volwassenheid te stimuleer sodat die balans herstel kan word. As die angs buite beheer raak, eskaleer die ontwrigting en chaos of selfs disintegrasie dreig.

Groepe wat in konflik verkeer, is almal deur oortuigings, waardes en belange gedryf. In geloofsgemeenskappe sal albei groepe probeer om hulle oortuigings Bybels te regverdig (kyk Burns et al. 2013:211). Groepvorming het dikwels 'n lang geskiedenis en groepe het hulle eie leiers. Dit is die taak van die leierskap van die oorhoofse gemeenskap om eenheid en genesing te fasiliteer. Hoe effektief hulle dit doen, sal afhang van hulle eie verhoudings in die sisteem en of hulle gesag aanvaar word. Gesag word deur die gemeenskap aan die leierskap toegeken (Bartholomew 1981:118-132; kyk Weber 1958:248). Formele gesag het te doen met 'n posisie wat iemand beklee, terwyl en informele gesag te doen het met die verhouding en graad van vertroue tussen die leier en die mense (kyk Burns et al. 2013:212). Jesus het byvoorbeeld nie 'n amptelike leiersposisie met formele gesag beklee nie, maar het informale gesag uitgeoefen op grond van die krag van sy persoon en boodskap en sy verhouding met die mense.

Leierskap wat effektief op verandering reageer, dra by tot die groei en volwassenheid van die gemeenskap. Die taak van sulke leiers is om die botsende belange van groepe, hulle stryd om mag, die verhoudings en onderhandelinge te bestuur (Burns et al. 2013:210). Die kritiese suksesfaktor is om 'n vertrouensverhouding op te bou. Ongewilde besluite sal vertroue ondermyn en dit sal die verhouding skaad. Verhoudings moet doelbewus opgebou word. Dit is 'n tydrowende proses. Effektiewe leiers is dié wat bereid is om hulle eie menslikheid te erken en te openbaar. Dit skep vertroue (kyk Burns et al. 2013:214-216, 221). Vertroue en egte verhoudings word opgebou wanneer leiers mense toelaat om te sien dat hulle gewone mense is wat met hulle eie menslike beperkings worstel. Benewens die opbou van 'n vertrouensverhouding is dit ook belangrik dat die leierskap die belange van die onderskeie groepe verstaan. Geloofwaardige leiers is dié wat self-insig toon en hulle belange eerlik verklaar. In 'n oop en eerlike verhouding is daar ruimte vir onderhandeling eerder as manipulasie en geheime agendas.

Onderhandeling is volgens Newman (1994:153) die proses waar twee of meer partye met sowel eenderse as botsende belange saam soek na 'n oplossing wat vir albei aanvaarbaar sal wees. Belange moet openlik verklaar word vir onderhandelings om te kan vorder. Belange het te doen met wat groepe meen hulle sal kan wen of verloor en op watter wyse hulle belange beskerm sal word (Burns et al. 2013:220). Die uitkoms van onderhandeling is een van drie moontlikhede: die belange en mag van die partye word gehandhaaf, word versterk of word verminder (Burns et al. 2013:218).

In 'n 2013 artikel beskryf die voorsitter, Wim Dreyer, die veranderende houding van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ten opsigte van apartheid sedert die Tweede Wêreldoorlog. Aanvanklik het die Kerk apartheid teologies geregverdig en Afrikaner-nasionalisme ondersteun. Later het kritiese stemme begin opklink, maar steeds in solidariteit met die Kerk. Nog later, in 2010 is apartheid sowel as die teologiese regverdiging daarvan heeltemal verwerp. Sedert die einde van apartheid in Suid-Afrika in die 1990's het neo-koloniale magsmisbruik, nepotisme, geweld, midaad en korrupsie die land lamgelê. 'n Veerkragtige reaksie is nodig om die siel van Suid-Afrika te bevry van die knelgreep van apartheid en die gevolge daarvan. 'n Veerkragtige reaksie van die Hervormde Kerk is nodig om die besluit van 2010 werklik in die praktyk uit te leef en die gevolge van die besluit in eie geledere te deurstaan.

Op die 2010-besluit wat onomwonde verklaar het dat apartheid nie in ooreenstemming is met die Evangelie van Jesus Christus is nie en dat dit gegrond is op 'n ideologie van uitsluitendheid, wat onreg verteenwoordig, het kerkskeuring gevolg. Die skok en verlies van die skeuring kan die kerk lamlê, óf die geloofsgemeenskap kan met psigiese en geloofsveerkragtigheid reageer op die groot verskeidenheid teenslae. Die leierskap kan uit vrees vir die chaos van konflik terugval in ou bekende en oneffektiewe 'oplossings', óf hulle kan die gemeenskap stimuleer tot groei en volwassenheid, met geloofwaardigheid opbou aan vertrouensverhoudings en oop en eerlik wees oor hulle eie menswees en worsteling.

Hierdie bydrae het ten doel om 'n teologiese en psigologiese grondslag te bied sodat geloofsgemeenskappe wat teenslae ervaar met veerkragtigheid daarop kan reageer. Psigiese en geloofsveerkragtigheid kom van binne (psigiese vaardighede en geloofskrag) en van buite (verhoudings en die geborgenheid van 'n sorggemeenskap). Ontmoeting met die Jesus-narratief vorm die grondslag vir innerlike geloofskrag en vir die sorgkarakter van die geloofsgemeenskap. 'n Gemeenskap wat uit hierdie krag leef, kan die waardes van God se koninkryk glo, aanvaar, uitleef en uitdra. Hierin lê die hoop op 'n kragtige nuwe begin.

 

Erkenning

Medingende belange

Die outeur verklaar hiermee dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Affleck, G. & Tennen, H., 1996, 'Constructing benefits from adversity: Adaptational significance and dispositional underpinnings', Journal of Personality 64, 899-922. http://dx.doi.org/10.1111/j.1467-6494.1996.tb00948.x        [ Links ]

Bartholomew, J.N., 1981, 'A sociological view of authority in religious organizations', Review of Religious Research 23(2), 118-132. http://dx.doi.org/10.2307/3511923        [ Links ]

Benson, P.L., 1997, All kids are our kids, Minneapolis Search Institute, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Beutel, A., 2012, Gerhard Ebeling: Eine Biographie, Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Bonanno, G.A., 2004, 'Loss, trauma, and human resilience: Have we underestimated the human capacity to thrive after extremely adversive events?', American Psychologist 59, 20-28. http://dx.doi.org/10.1037/0003-066X.59.1.20        [ Links ]

Bonanno, G.A., 2005, 'Resilience in the face of potential trauma', Current Directions in Psychological Science 14, 135-138. http://dx.doi.org/10.1111/j.0963-7214.2005.00347.x        [ Links ]

Bridges, R.A. & Spilka, B., 1992, 'Religion and the mental health of women, in J.F. Schumaker (ed.), 1992, Religion and mental health, pp. 43-53, Oxford University Press, New York, NY.         [ Links ]

Brody, H. & Brody, D., 2000, 'Three perspectives on the placebo response: Expectancy, conditioning, and meaning', Advances in Mind Body Medicine 16, 216-232.         [ Links ]

Browning, D., 2007, Equality and the family: A fundamental, practical theology of children, mothers, and fathers in modern societies, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Burns, B., Chapman, T.D. & Guthrie, D.C., 2013, Resilient ministry: What pastors told us about surviving and thriving, IVP Books, Imprint of InterVarsity Press, Downers Grove, IL.         [ Links ]

Carver, C.S., 1998, 'Resilience and thriving: Issues, models and linkages', Journal of Social Issues 54, 245-266. http://dx.doi.org/10.1111/j.1540-4560.1998.tb01217.x        [ Links ]

Chang, E.C., Maydeu-Olivers, A. & D'Zurilla, T.J., 1997, 'Optimism and pessimism as partially independent constructs: Relations to positive and negative affectivity and psychological well-being', Personality and Individual Differences 23, 433-440. http://dx.doi.org/10.1016/S0191-8869(97)80009-8        [ Links ]

Cohen, S., Doyle, W.J., Turner, R.B., Alper, C.M. & Skoner, D.P., 2003, 'Emotional style and susceptibility to the common cold', Psychosomatic Medicine 65, 652-657. http://dx.doi.org/10.1097/01.PSY.0000077508.57784.DA        [ Links ]

Coutu, D., 2002, 'How resilience works', Harvard Business Review, May, 46-55.         [ Links ]

Dollahite, D.C., 2007, 'Latter-Day Saint marriage and family life', in D.S. Browning & D.A. Clairmont (eds.), American religions and the family: How faith traditions cope with modernization and democracy, pp. 124-150, Columbia University Press, New York, NY.         [ Links ]

Dreyer, W.A., 2013, 'The Reformed Church and apartheid' (original in Afrikaans), HTS Teologiese Studies/Theological Studies 69(1), Art. #1944, 7 pages. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v69i1.1944        [ Links ]

Erikson, K.T., 1976, 'Loss of communality at Buffalo Creek', American Journal of Psychiatry 133(3), 302305.         [ Links ]

Foucault, M., [1975] 1995, Discipline and punish: The birth of the prison, Vintage, New York, NY.         [ Links ]

Foucault, M., 1982, 'The subject and power', Critical Inquiry 8, 777-795. http://dx.doi.org/10.1086/448181        [ Links ]

Fuchs, E., [1954] 1963, Hermeneutik, Müllerschon Verlag, Bad Cannstatt.         [ Links ]

Fuchs, E., [1960] 1965, Gesammelte Aufsätze II: Zur Frage nach dem historischen Jesus, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Fuchs, E., 1965, Gesammelte Aufsätze III: Glaube und Erfahrung, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Fuchs, E., 1968, Marburger Hermeneutik, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Garmezy, N., 1991, 'Resiliency and vulnerability to adverse developmental outcomes associated with poverty', American Behavioral Scientist 34, 416-430. http://dx.doi.org/10.1177/0002764291034004003        [ Links ]

Griffith, J.L., 2010, Religion that heals, religion that harms: A guide for clinical practice, Guilford Press, New York, NY.         [ Links ]

Griffith, J.L. & Elliott Griffith, M., 2002, Encountering the sacred in psychotherapy: How to talk with people about their spiritual lives, Guilford Press, New York, NY.         [ Links ]

Herrington, J., Creech, R. & Taylor, T., 2003, The leader's journey, Jossey-Bass, San Francisco, CA.         [ Links ]

Hobfoll, S.E., 2001, 'The influence of culture, community, and the nested-self in the stress process: Advancing conservation of resources theory', Applied Psychology: An International Review 50(3), 337-421. http://dx.doi.org/10.1111/1464-0597.00062        [ Links ]

Huxel, K., 2004, 'Theologie als Sprachlehre des Glaubens: Zum hermeneutischen Programm von Ernst Fuchs' , Zeitschrift für Theologie und Kirche 101, 292-314. http://dx.doi.org/10.1628/004435404774519175        [ Links ]

Imber-Black, E. & Roberts, J., [1998] 2004, Rituals for our times:Celebrating, healing, and changing our lives and our relationships, Rowman & Littlefield, Oxford.         [ Links ]

Jüngel, E. & Schunack, G. (eds.), 2003, Ernst Fuchs Lesebuch: Ausgewälte Texte, Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Keller, H., 1903, Optimism: An essay, Doubleday, New York, NY.         [ Links ]

King, L.A. & Hicks, J.A., 2009, 'The detection and construction of meaning in life events', Journal of Positive Psychology 4, 317-330. http://dx.doi.org/10.1080/17439760902992316        [ Links ]

Kirkpatrick, L.A., 2005, Attachment, evolution and the psychology of religion, Guilford Press, New York, NY.         [ Links ]

Kruger, J. & Dunning, D., 1999, 'Unskilled and unaware of it: How difficulties in recognizing one's own incompetence lead to inflated self-assessments', Journal of Personality and Social Psychology 77, 1121-1134. http://dx.doi.org/10.1037/0022-3514.77.6.1121        [ Links ]

Layne, C.M., Warren, J.S., Watson, P.J. & Shalev, A.Y., 2007, 'Risk, vulnerability, resistance, and resilience: Toward an integrative conceptualization of posttraumatic adaptation', in T.K.M. Friedman & P. Resick (eds.), Handbook of PTSD: Science and practice, pp. 497-520, Guilford Press, New York, NY.         [ Links ]

Legrand, L., 2000, The Bible on culture: Belonging or dissenting?, Orbis, Maryknoll, NY.         [ Links ]

Luthar, S.S., Cicchetti, D. & Becker, B., 2000, 'The construct of resilience: A critical evaluation and guidelines for future work', Child Development 71, 543-562. http://dx.doi.org/10.1111/1467-8624.00164        [ Links ]

Malina, B. & Pilch, J., 2013, Deutero-Pauline Letters, Fortress Press, Minneapolis, MN. (Social-science Commentary).         [ Links ]

McCullough, M.E. & Snyder, C.R., 2000, Classical sources of human strength: Revisiting an old home and building a new one, Journal of Social and Clinical Psychology 19, 1-10. http://dx.doi.org/10.1521/jscp.2000.19.1.1        [ Links ]

Mookadam, F. & Arthur, H.M., 2004, 'Social support and its relationship to morbidity and mortality after acute myocardial infarction: Systematic overview', Internal Medicine 164(14), 1514-1518.         [ Links ]

Newman, M., 1994, Defining the enemy: Adult education in social action, Stewart Victor Publishing, Sydney.         [ Links ]

Norris, F.H. & Sloane, L.B., 2007, 'The epidemiology of trauma and PTSD', in M.J. Friedman, T.M. Keane & P.A. Resick (eds.), Handbook of PTSD: Science and practice, pp. 78-98, Guilford Press, New York, NY.         [ Links ]

Pilch, J.J., 2011, 'Paul, a change agent: Model for the twenty-first century', in P. Spitaler (ed.), Celebrating Paul: Festschrift in honor of Jerome Murphy-O'Connor, O.P., and Joseph A. Fitzmyer, S.J., pp. 81-99, Catholic Biblical Association of America, WA. (The Catholic Biblical Quarterly Monograph Series 48).         [ Links ]

Richardson, G.E., 2002, 'The Metatheory of resilience and resiliency', Journal of Clinical Psychology 58(3), 307-321. http://dx.doi.org/10.1002/jclp.10020        [ Links ]

Rutter, M., 1985, 'Resilience in the face of adversity: Protective factors and resistance to psychiatric disorder', British Journal of Psychiatry 147, 598-611. http://dx.doi.org/10.1192/bjp.147.6.598        [ Links ]

Saul, J., 2014, Collective trauma, collective healing, Routledge, New York/London.         [ Links ]

Segerstrom, S.C. & Sephton, S.E., 2010, 'Optimistic experiences and cell-mediated immunity: The role of positive affect', Psychological Science 21(3), 448-455. http://dx.doi.org/10.1177/0956797610362061        [ Links ]

Seligman, M.E.P. & Csikszentmihalyi, M., 2000, 'Positive psychology', American Psychologist 55, 5-14. http://dx.doi.org/10.1037/0003-066X.55.1.5        [ Links ]

Southwick, S.M., Vythilingam, M. & Charney, D., 2005, 'The psychobiology of depression and resilience to stress: Implications for prevention and treatment', Annual Review of Clinical Psychology 1, 255-291. http://dx.doi.org/10.1146/annurev.clinpsy.1.102803.143948        [ Links ]

Southwick, S.M., Litz, B., Charney, D.S. & Friedman, M.J. (eds.), 2011, Resilience and mental health: Challenges across the lifespan , Cambridge University Press, Cambridge. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9780511994791        [ Links ]

Southwick, S. M. & Charney, D.S., 2013, Resilience: The science of mastering life's greatest challenges, Cambridge University Press, New York, NY.         [ Links ]

Stinnett, N. & DeFrain, J., 1985, Secrets of strong families, Little, Brown, Boston, MA.         [ Links ]

Sullivan, K.T., 2001, 'Understanding the relationship between religiosity and marriage: An investigation of the immediate and longitudinal effects of religiosity on newlywed couples, Journal of Family Psychology 15(4), 610-626. http://dx.doi.org/10.1037/0893-3200.15.4.610        [ Links ]

Sundermeier, T., 1975, Church and nationalism in South Africa, Ravan Press, Johannesburg, South Africa.         [ Links ]

Tedeschi, R.G. & Calhoun, L.G., 2004, 'Posttraumatic growth: Conceptual foundations and empirical evidence', Psychological Inquiry 15(1), 1-18. http://dx.doi.org/10.1207/s15327965pli1501_01        [ Links ]

Vaillant, G.E., 2002, Aging well: Surprising guideposts to a happier life from the landmark Harvard study of adult development, Little, Brown & Co, New York, NY.         [ Links ]

Walsh, F., 2006, Strengthening family resilience (2nd edition), Guilford Press, New York, NY.         [ Links ]

Walsh, F. (ed.), 2009, 'Religion, spirituality and the family: Multifaith perspectives', in F. Walsh (ed.), Resources in family therapy, pp. 3-30, 2nd edn., Guilford Press, New York, NY.         [ Links ]

Weber, M., 1958, From Max Weber: Essays in sociology, translated by H.H. Gerth and C. Wright Mills, Oxford University Press, New York, NY.         [ Links ]

Werner, E. & Smith, R., 1992, Overcoming the odds: High risk children and youth, McGraw-Hill, New York, NY.         [ Links ]

Wilcox, W.B., 2004, Soft patriarchs, new men: How Christianity shapes fathers and husbands, University of Chicago Press, Chicago, Il.         [ Links ]

Yip, A.K.T., 2002, 'The persistence of faith among non-heterosexual Christians: Evidence for the neo-secularization thesis of religious transformation', Journal for the Scientific Study of Religion 41(2), 199-212.         [ Links ]

Zeidner, M. & Hammer, A.L., 1992, 'Coping with missile attack: Resources, strategies, and outcomes', Journal of Personality 60, 709-746. http://dx.doi.org/10.1111/j.1467-6494.1992.tb00271.x        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Yolanda Dreyer
Private Bag X20, Hatfield 0028
South Africa
Email: yolanda.dreyer@up.ac.za

Received: 13 Aug. 2014
Accepted: 24 Aug. 2014
Published: 20 Nov. 2014

 

 

This article is an adaption of a speech delivered at the conference of the 'New Directions in Practical Theology' group, 0709 May 2014 at the Princeton Theological Seminary, Princeton, NJ, United States of America.
1.http://www.apahelpcenter.org/featuredtopics/feature.php?id=6&ch=2, besigtig 09 Mei 2012.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License