SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.69 número2Pornography: human right or human rights violation?Church leadership as mediator for an impossible reality: a practical theological study of the role of leadership in the transformation of congregations índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


HTS Theological Studies

versão On-line ISSN 2072-8050
versão impressa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.69 no.2 Pretoria Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Meditasie: Bybelgefundeerd of 'n vermenging van gelowe? 'n Pastorale ondersoek

 

Meditation: Bible based or a mix of religion? A Pastoral investigation

 

 

Amanda L. du Plessis

School of Ecclesiastical Sciences, North-West University, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

The influence of other religions on the Christian community was a perceptible trend that cannot be ignored in the realm of spirituality. Meditation was one such example and consequently requires thoughtful investigation. Some Christians found meditation a valuable spiritual discipline that aids their spiritual growth but, in my opinion, also opened up the door for them to become victims of a subtle spiritual deception. The question posed was: how can Christians distinguish between the many and often-conflicting views on meditation found in easily accessible literature? A need therefore exists to define meditation as a possible Christian spiritual expression by distinguishing its uniqueness from the influences of other non-Christian religions and popular opinion.


 

 

Inleiding

Daar is vandag 'n groter algemene bewustheid rondom spiritualiteit in die samelewing. Die redes hiervoor is legio en lê buite die reikwydte van hierdie artikel. In die proses is daar tog 'n kommerwekkende tendens wat nie geïgnoreer kan word nie, naamlik die vermenging van gelowe wat hierdeur moontlik in die Christelike kerke kan insluip. Meditasie is een so 'n voorbeeld wat verdere ondersoek verg. Aangesien bykans alle gelowe meditasie voorstaan, word dít juis 'n fokusveld vir die uitbreiding van 'n valse ekumeniese strewe waarvan die sogenaamde opkomende kerk 'n deel vorm. Dit is 'n eenheidsbeweging onder verskillende gelowe en/of kerke wat na samewerking streef en gekant is teen die idee van eksklusivisme, aangesien dit as onaanvaarbaar beskou word om mense om watter rede ook al uit te sluit. Inklusiwisme akkommodeer alle mense, alle gelowe en alle standpunte in 'n poging om ten slotte almal en alles tot 'n eenheid saam te snoer (Janse van Rensburg 2011:45). Ruimte word geskep vir verskeidenheid, en eenheid beteken dat almal die reg het om te glo en te doen soos hulle wil.1 Vir die Christen is meditasie 'n waardevolle geestelike dissipline2 waardeur hy of sy geestelike groei en verdieping kan beleef. Die realiteit is egter dat hulle potensiële slagoffers van subtiele misleiding kan word.

In die praktyk wil dit voorkom asof diegene wat mediteer iewers op 'n kontinuum geplaas kan word. Die een grenslyn word gestel deur diegene wat meditasie as volkome onbybels beskryf en iets waarvan die Christen hom of haar moet distansieer. Prof. Johan Malan, voorheen van die Universiteit van die Noorde, het artikels ter onderskrywing van hierdie siening op die internet gepubliseer (Malan 2011a, 2011b). Teenstrydig hiermee is die grens wat gestel word deur diegene wat meditasie voorstaan, soos byvoorbeeld die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit in Kaapstad (Anthonissen 2012) en die Sentrum vir Hedendaagse Spiritualiteit3 in Pretoria (Pienaar 2012). Alhoewel hulle benadering op die oog af Skrifgetrou voorkom, wys diepere ondersoek dat sommige van die tegnieke wat deur hulle voorgehou word as Christelike meditasie op, of baie naby aan die mistiese vlak beweeg deur 'n vermenging met oosterse meditasietegnieke. Onder dié meditasietegnieke val transendentale meditasie, joga, Boeddhisme en Zen. Hierdie tegnieke word dikwels in Christelike kerke of by Christelike kampe aan die gelowiges voorgehou as 'n manier om God op 'n nuwe wyse te ontdek en ook hul verhouding met Hom deur middel van die tegniek en kontemplatiewe gebed te verdiep (Nicol 1989:7).

In die lig van bogenoemde inleidende gedagtes kan die volgende vrae gestel word: Wat moet die hedendaagse Christen met die standpunte in verskillende publikasies maak? Is meditasie 'n Christelike geestelike dissipline of is dit 'n mengelmoes van gelowe? Mag die Christen mediteer, en indien wel, wat is die Skriftuurlike beginsels daarvoor? Gaan meditasie slegs oor kognitiewe en rasionele geloofsbelewenisse, of word daar 'n meer emosionele belewenis ook ingesluit?

Die Bybelse fundering van meditasie word omskryf deur middel van 'n literatuurstudie vanuit die reformatoriese gesigspunt asook 'n pastoraal-terapeutiese invalshoek. Deur die literatuurstudie sal die subtiele misleiding van geloofsvermenging in meditasie ontbloot word. Die reformatoriese vertrekpunte is allermins fundamentalisties, aangesien die vertrekpunt die Bybel as die gesaghebbende Woord van God is. Binne die konteks van die Bybel en die konteks van die lesers kan dit konkreet van toepassing gemaak word op gelowiges se lewens. My doelstelling is om die vermenging van gelowe waaraan Christene blootgestel word deur die verskillende meditasietegnieke uit te wys en Bybel-gefundeerde riglyne vir Christelike meditasie daar te stel. Ten einde die doelstellings te bereik, word daar hoofsaaklik op drie aspekte gekonsentreer, naamlik (1) stilte wat die uitstaande kenmerk van meditasie is; (2) hoe genesing in verband staan met meditasie; en (3) die gebruik van die Bybel tydens meditasie. Die doel is dus om te bepaal hoe die Christen se begrip van meditasie deur hierdie drie aspekte gevorm word.

 

Stilte

Tydens meditasie is stilte die vernaamste kenmerk. Die wyse waarop stilte verstaan of gedefinieer word, is bepalend vir hoe meditasie beoefen word. Den Hertog (2011:7) noem stilte 'n 'onderbeligte teologiese tema' en iets wat in die hedendaagse lewe skaars geword het, weens die gedurige appèl wat op die mens se aktiewe gedagtegang gemaak word. In die Bybel is die aspek van stilte 'n deurlopende tema. Van die bekendste en mees aangehaalde verwysing van stilte is byvoorbeeld dié van die profeet Jesaja wat die volk aanspoor tot stilte (Jes 30:15), asook die talle verwysings daarna in die Psalms. In God se gesprek met Job (Job 38—11) het God ook vir Job tot stilte vermaan, sodat hy aandag kon gee aan die woorde van God. Hierdie gesprek tussen God en Job herinner sterk aan die woorde van die sewentiende-eeuse Francis Bacon. Peels (2011:9) haal Bacon aan: 'Silence is the sleep that nourishes wisdom', asook die woorde van Kierkegaard: 'Ik ontdekte dat ek minder en minder te zeggen had, tot ik uiteindelijk stil word en began te luisteren. En in stilte hoor ik de stem van God.'

Die stilte voor God of in God se teenwoordigheid ontstaan uit ontsag en verwondering oor die openbaring van wie God is. Die manier hoe God homself aan die mens openbaar is dus in hierdie verband belangrik, aangesien dit bepalend is van die manier hoe die mens uiteindelik na God luister. Vervolgens word daar gefokus op die Godsopenbaring volgens die reformatoriese teologie en volgens die mistisisme.

Godsopenbaring volgens die Reformatoriese teologie

Volgens die reformatoriese teologie4 openbaar God homself deur die boek van die natuur (Ps 19:2; Rom 1:20), die geskrewe Woord (1 Tim 3:16-17) en die vleesgeworde Woord (Joh 1:1, 14). Eerstens, word God se openbaring deur die natuur as die algemene openbaring beskryf en ontneem dit die mens van alle verontskuldiging om God nie te ken nie. Tweedens, is die belydenis dat die Bybel die wil van God volkome insluit, asook alles wat die gelowige moet weet vir sy of haar saligheid (Jooste 2011:44). Derdens, ken die gelowige God deur die vleesgeworde Woord, Christus. In hierdie verband is dit duidelik dat God homself laat ken, en dit is nie die mens self wat kennis oor God verwerf nie, maar God wat kennis van homself aan die mens gee. So kan die gelowige God alleen ken vir sovêr God homself aan die mensdom bekend maak (Feenstra 1947:33).

Volgens Hebreërs 1:1, het God in die Ou-Testamentiese tyd op baie verskillende maniere5 met die gelowiges gespreek, maar in die laaste dae het Hy deur die Seun gepraat. God het Homself kom openbaar in Christus (Joh 1:18). Vir die gelowige is Christus, as die Woord van God, daarom die sleutel tot kennis van alles in die skepping (Jooste 2011:45). God openbaar Homself derhalwe nou finaal en volmaak in Jesus Christus. Jesus is die enigste Middelaar tussen God en die mens (Joh 14:6; 1 Tim 2:5).

Meditasie oor die Woord is 'n manier hoe die gelowige vir God leer ken. Dit is gedissiplineerde denke wat op 'n bepaalde onderwerp of Skrifgedeelte fokus deur die reflektering of bepeinsing op die openbaring wat daarin opgesluit is (Toon 1991:90-92). Elke woord of frase in die Skrifgedeelte word bewustelik oordink en dit word dieper ontgin. In hierdie proses word hy of sy op alle vlakke van sy of haar menswees aangeraak, aangesien meditasie dikwels ook sekere emosies ontlok wat aanleiding tot gedragsverandering gee (Toon 1991:109).

Vir die Christen lê die krag dus nie in die stilte as sodanig nie, maar juis in God se teenwoordigheid wanneer daar met die Woord omgegaan word. Die coram Deo vul die mens met verwondering (bv. Johannes) en verootmoediging (bv. Jesaja). Die verhouding is persoonlik van aard, deurdat God die mens aanraak en die mens daarop reageer.

Godsopenbaring volgens die mistisisme

Die mistisisme glo dat God se taal stilte is, asof God nie praat nie, maar net op 'n intuïtiewe vlak 'gehoor' kan word deur drome en visioene (Virkler & Virkler 2005:72). Volgens hulle is meditasie - ongeag of dit hindoeïsties-transendentale meditasie, boeddhistiese, islamitiese of 'Christelike' meditasie is - 'n toestand van volkome liggaamlike en geestelike rus (Malan 2011b), ten einde met die dieper, meer kreatiewe vlakke van die psige kontak te kan maak. Die rasionele denke moet tot stilswye gebring word om na slegs die mistiese vlakke oor te skakel. Hierdie transendentale toestand staan ook bekend as 'suiwere bewuswording' (Mace 2008:23; Rhodes 2008:7) en word verkry deur onder andere asemhalingstegnieke of die gebuikmaking van 'n mantra.6

Volgens Nicol (2002:29) word God verklein as Hy slegs op die rasionele of verstandelike vlak geken word. Alhoewel elke gelowige op die oog af met Nicol se stelling sal saamstem, is die oplossing wat hy bied misleidend. Die verandering in bewussynsvlak word dan voorgehou as 'n teken dat die gelowige genoeg gehad het van die verskillende gedagtes en gevoelens rondom God, en nou gereed is om God op 'n dieper vlak te ontmoet. Volgens Brandt (2006:121) 'eindig enige weg vanuit die subjek na die transendente by die mistieke, woordlose swyg en wag.' Rhodes (2008:6) spreek sy bekommernis uit dat die mistisisme wil voorgee dat die gelowige tydens die alternatiewe bewussynsvlak (trans) 'n persoonlike ontmoeting met God kan hê; en God se stem in hierdie mistieke toestand 'gehoor' kan word deur visioene en innerlike stemme, om daardeur bykomende openbarings wat in die Bybel te vinde is, te ontvang. Hiermee word 'n alternatiewe openbaringskanaal na God geskep, aangesien die verstandelike en geestelike kennisname van God se openbaring deur Jesus Christus, soos in die Bybel beskryf, eenkant toe geskuif en met openbarings en ingewings7 tydens meditasie vervang word (Malan 2011a). Nicol (1989) verduidelik die openbarings en ingewings tydens die alternatiewe bewussynstoestand as volg:

As mens op ingewings wag, kan jou eie innerlike of selfs bose magte ook met jou praat. Hulle wat mediteer ontvang soms ingewings van Bo ... ons kan nie vanselfsprekend aanvaar dat hulle van God kom nie en moet hulle versigtig hanteer, maar hulle kan kosbaar wees. (bl. 97)

Dit blyk hieruit dat die Christelike geloof slegs 'n saak van ervaring is en sodoende word die rasionale denke en ervaring geskei. Hierdie gedagte het sy oorsprong in die sestiende eeu by Ignatius van Loyola wat die ervaringsmatige aard van ons kennis van God beklemtoon het (Brandt 2006:139). Persoonlike ervaring word die norm vir die beoordeling van tradisionele idees aangaande die teologie. Volgens Pagitt speel die verbeelding (ervaring en ingewings) 'n belangrike rol in die herskryf van die Christelike geloof (aangehaal deur Janse Van Rensburg 2011:64). Dit is nie meer die leer oor Christus (ortodoksie) wat van belang is nie, maar in die plek hiervan word die lewenstyl van Christus (ortopraxis) die nuwe fokus.

Die gelowige en stilte

Wat kan die gelowige dus hieruit aflei? Verwys stilte as tema in die Bybel regtig na die leegmaak van jou gedagtes deur na 'n alternatiewe bewussynsvlak te beweeg, of verwys dit na aandagtig en afwagtende luister? Myns insiens, dui dit op die laasgenoemde - juis omdat Jesus nie die mens se verstand uitgesluit het in Sy reaksie op die vraag rakende die Groot Gebod nie (Matt 22:37; Luk 12:30). Verder doen Paulus 'n beroep op die verstandsdimensie van die mens (1 Tim 2:3-4; Rom 12:1-2; Fil 1:9-11, 4:7-9). Nêrens in die Bybel word die opdrag gevind dat die gelowige sy denke moet leegmaak nie. Dit is deur die menslike verstand en geloofservaring dat die gelowige in kennis toeneem en daardeur God en Sy verlossingswerke leer ken op die geestelike groeipad (Baars 2011:83). Hierdie toeneem van kennis is egter nie die blote versameling van feite nie. Vir die gelowige beteken dit om God persoonlik te leer ken, wat aanleiding gee tot bekering en die uitbou van die Christelike karakter in die gelowige se lewe (Toon 1991:108).

In hierdie verband beskryf Peels (2011:11) drie verskillende tipes stilte in die Bybel, asook die effek wat dit op die verhouding tussen God en die gelowige het. Eerstens is daar die stilte as gevolg van God se handelinge met Sy volk wat die gelowige vervul het met vertroue (Eks 14:13; Jes 7:4, 30:15), of met angs (Ps 76:7-10; Jes 47:5; Heb 2:20). Tweedens is die stilte tot God die houding van die vrome, wat hom- of haarself aan God oorgee en hierin is daar veral in die Psalms talle voorbeelde van die persoonlike verhouding met God (Ps 37:7, 73). Derdens is daar die stilte van God self as 'n manier van oordeel (Ps 22:2) of teofanie (1 Kon 19:12).

Den Hertog (2011:7) maak 'n belangrike stelling dat stilte nie soseer gaan oor die stil word nie, as oor die beweging van die menslike siel na God om in verwagting uit te sien na 'n ontmoeting of kontak met Hom. Hierdie stilte is dan soos Boenhoeffer (Huijgen 2011:54) beskryf het, geen mistiese of leë stilte nie, maar 'n gekwalifiseerde Woordgevulde stilte. Om te swyg voor die Woord is juis dat die Woord homself kan openbaar. Dit is dus nie misties nie, aangesien die Woord nie 'n abstrakte idee is nie, maar 'n konkrete persoon in Jesus Christus.

'n Belangrike onderskeid tussen Bybelse meditasie en mistisisme se siening van meditasie word gevind in hul standpunt ten opsigte van die openbaring van God. Wanneer die gelowige aandagtig en afwagtend luister na die Woord, word God aan hom of haar geopenbaar en sodoende vind daar verdieping in die gelowige se verhouding met God plaas. Hierteenoor beweer die mistisisme dat die mens sy of haar eie kontakpunt met God is en geen Middelaar na God nodig het nie. Volgens Keating (Janse van Rensburg 2011) is die doel van meditasie as volg:

To find God, you first have to know there is an 'other'. Then you must make contact with the 'other'. Then you discover there is no 'other'. You are the 'other. (bl. 101)

In mistisisme word die mens dan eintlik self god wanneer hy of sy stil word om met die innerlike self kontak te maak.8 Dit het sekere implikasies op sy of haar menswees, aangesien die mens sy of haar eie verlosser, en daarom ook geneser, word. Die vraag wat nou ontstaan is hoe genesing dan in verband met meditasie staan.

 

Hoe genesing in verband met meditasie staan

Alhoewel min Christene sal ontken dat dit God is wat genees, is die verband tussen meditasie en genesing 'n volgende belangrike aspek waaroor versigtig en met onderskeiding gehandel moet word. Vind daar enige genesing tydens meditasie plaas, en indien wel, wie is verantwoordelik daarvoor? Om 'n antwoord hierop te verkry word daar eerstens gefokus op die reformatoriese teologie rondom genesing en tweedens op die mistisisme se siening rondom genesing.

Genesing volgens die reformatoriese teologie

Mediese hulpverlening was reeds sedert die vroegste tye redelik sterk gekoppel aan die godsdiens. In talle van die primitiewe kulture is die priester en medisyneman een en dieselfde persoon en in die Ou Testament is die priester en profeet in baie opsigte tegelykertyd geneesheer (bv. Elisa en Naaman in 2 Kon 5). Ook in die Nuwe Testament is daar 'n groot oorvleueling tussen mediese en godsdienstige hulpverlening. Die aardse bediening van Jesus Christus was 'n voorbeeld van die oorspronklike eenheid hiervan. In elke genesingsdaad van Jesus is genesing sowel as verlossing konkreet gedemonstreer (Coetzer 2003:6).

Die Bybel stel God voor as die eintlike Geneser (Eks 15:26; Deut 32:39; Jer 30:17). Tydens genesing is daar sekere menslike gawes wat 'n rol speel, naamlik geloof (Luk 18:42), gebed (Jak 5:14-16), voorbidding (Num 12:10-15), en 'n blye hart (Spr 17:22). Daar is selfs voorbeelde van mediese sorg wat gebruik is om genesing te bewerkstellig (2 Kon 20:7; 1 Tim 5:23), maar die betrokkenheid van God is nie ontken nie. Genesing het plaasgevind deur wonderwerke van God self (Gen 20:17), deur die profete (1 Kon 17:17-24), deur Jesus (Matt 4:24), of deur middel van Sy volgelinge deur die kragtige werking van die Heilige Gees (Hand 5:15-16).

In die Ou Testament is daar verskeie Hebreeuse woorde wat vir genesing gebruik word. Die meeste van hierdie woorde het egter die betekenis om iets na sy oorspronklike staat te restoureer, of verwys na die verwydering van iets wat siekte of abnormale omstandighede veroorsaak. Volgens Brown (1995:25) is die woord rapha sentraal in die Ou-Testamentiese beskrywing van genesing. Rapha kom 69 keer in die Ou Testament voor en verwys na God as die Geneesheer en Sy genesingswerke met die gelowige (Monroe & Schwab 2009:122). 'n Vroeëre weergawe van rapha het verwys na to stitch together, soos daarna verwys word in Genesis 50:2,-

Eksodus 15:26, 2 Kronieke 16:12, Job 13:4 en Jeremia 8:22. 'n Latere weergawe van die betekenis van rapha verwys daarna om te restoureer, heel te maak of te genees. Dit word gebruik met verwysing na die genesing van mense (Gen 20:17; Eks 21:19; 2 Kron 30:20), die herstel van gebreekte voorwerpe (1 Kon 18:30; Jer 19:11), die suiwering van water (2 Kon 2:22; Esra 47:8-9), en die rehabilitasie van 'n plaaggeteisterde land (2 Kron 7:13-14; Wilkinson 1998:54). Rapha word nie net as werkwoord gebruik nie, maar ook as selfstandige naamwoord, wanneer daar in Eksodus 15:26 na God verwys word as Yahweh-Rephucha. Barth verwys na hierdie teksgedeelte as die 'divine Magna Carta in all matters of health and all related questions' (Wilkinson 1998:54; Gaiser 2010:21).

Die woorde vir genesing in die Nuwe Testament reflekteer hoofsaaklik dieselfde betekenis as die wat in die Ou Testament gebruik word. Van die bekendste woorde is onder andere therapeuo, iaomai, sozo, apokathistemi, apoluo en katharizo.

Therapeuo word gewoonlik as werkwoord gebruik en in die oorspronklike Grieks dui dit daarop om 'n diens te lewer, byvoorbeeld die genesing deur 'n mediese praktisyn (Luk 4:23; 8:43), die genesing deur Jesus (Matt 4:23 e.v.), en die genesing deur die dissipels (Matt 10:8; Mark 6:13; Luk 10:8). Therapon is 'n naamwoord wat na die persoon wat diens aan ander lewer verwys (bv. Moses in Heb 3:5; Wilkinson 1998:78). Die werkwoord iaomai het sy oorsprong in die grondwoord iatros, wat die Griekse naam vir 'n geneesheer is en verwys hoofsaaklik na fisiese genesing (Luk 14:3-4), met een uitsondering in Lukas 9:42, waar daar verwys word na eksorsisme, en die metaforiese gebruik daarvan in Matteus 13:15, Lukas 4:18 en Johannes 12:40 (Wilkinson 1998:79). Sozo beteken letterlik om te genees en die selfstandige naamwoord soteria verwys na gesondheid. Beide woorde is adjektiewe van sos wat beteken om te red. Sozo se intensiewe vorm is daisozo en dit dui op die verlossing van fisiese en geestelike gevaar, siekte en dood (Wilkinson 1998:80). Apokathistemi is nog 'n werkwoord en beteken om iets tot die oorspronklike of vroeëre toestand te herstel, byvoorbeeld die man met die gebreklike hand (Luk 6:6-11). Apoluo beteken letterlik om 'n mens te red of bevry van een of ander toestand of situasie (Luk 13:12; Mark 5:34). Katharizo is 'n verdere begrip wat vir genesing gebruik word en beteken om skoon te maak. Hierdie woord word in twee gevalle gebruik met verwysing na die genesing van melaatses (Matt 8:1-4; Luk 17:11-19). Dit het die betekenis dat die melaatses nie net van hul melaatsheid genees is nie, maar dat die letsels ook genees is (Wilkinson 1998:83).

Vanuit die woordbetekenisse blyk dit dat genesing van die liggaam nie suiwer fisies is nie, en die verlossing of redding van die siel ook nie slegs suiwer geestelik is nie - aangesien beide verenig is in die volkome bevryding van die mens in sy geheel (Wilkinson 1998:82; Gaiser 2010:35). Die genesing is dus 'n voorafskaduwing van die volkome verlossing van die gelowige met die wederkoms van Jesus. Dit gee aan die bedieningswerk van Jesus 'n eskatologiese dimensie - 'n heenwysing na die dag waarop alles totaal herstel en genees gaan word (Monroe & Schwab 2009:124).

Genesing volgens die mistisisme

Die tegnieke wat hierdie denkrigting tydens meditasie gebruik, is hoofsaaklik die korrekte manier van asemhaling en ontspanningsoefeninge. Alhoewel die fisiese voordele hiervan nie ontken word nie (Colbert 2007:130), lê die onderskeid by die mistisisme in die verdere oorskakeling na 'n alternatiewe bewussynsvlak of die ervaring van 'n trans, waartydens die mediteerder hom- of haarself oopstel vir die invloed of beïnvloeding van die geesteswêreld (Malan 2011a).

Volgens Krüger (1988:113-119) is die ervaringe wat die mistiese mediteerder beleef uiteindelik buitesintuiglike waarnemings9, soos byvoorbeeld heldersiendheid, telepatie, telekinese, selfgenesing en die beheer van die gees oor die liggaam. Dit laat die Christen met 'n wesenlike vraag of ander geeste dan ook genesing kan bring? Volgens 2 Tessalonisense 2:9-12 het Satan wel die mag om wondertekens te doen en daardeur misleiding te bring. Monroe en Schwab (2009:127) sê in hierdie verband is daar egter 'n belangriker vraag, naamlik, kan Satan die gelowige se verlange of soeke na vertroosting en genesing gebruik om sy of haar aandag af te trek van die werklike Geneesheer? Die Oosterse tegnieke van meditasie is 'n antichristelike selfverlossingsleer, deurdat die mediteerder na dieper bewussynsvlakke daal waarin hy of sy die vermoëns verkry om hulself (of 'n ander persoon in die geval van 'n medium) te genees, hul probleme op te los, en vrede met die omstandighede te maak (Nicol 1989:11; Malan 2011b). Met hierdie verandering in bewussynsvlak, word dan kontak met die 'god binne-in hulself' gemaak, wat verkeerdelik as die God van die Bybel aangesien word. Dit is 'n poging tot 'n veranderde, holistiese lewenswyse waarin gees en materie saamvloei. Paulus gee in 2 Korintiërs 11:3-4 'n duidelike waarskuwing teen hierdie praktyke (Malan 2011b).

Dit is dan vanuit hierdie samevloeiing van gees en materie dat die volgende voorbeeld van subtiele misleiding plaasvind. Gesprekstelevisieprogramme soos onder andere Aan die ander kant (Mariette Theunissen) en Crossing over (John Edward), is voorbeelde van waar daar kontak gemaak word met afgestorwenes en boodskappe van of vir hul geliefdes gegee word. Hierdie is sondige praktyke wat deur God verbied word (Jes 8:19-23) en kan lei tot 'n totale verwarring van die gelowige wat in rousmart of in onkunde hieroor verkeer. In programme soos The Mentalist en The ghost whisperer word dieselfde idees as familievermaak aangebied.

Hierdie misleiding was aanwesig in die Ou-Testamentiese tyd (Jer 23:16-22) en is steeds aanwesig in die hedendaagse kerke. Op die webblad van 'Discerning the World' (2012) word 'n resensie van die boek Have Heart: Bridging the gulf between heaven and earth, geskryf deur Steve en Sarah Berger (Grewe 2012), gegee. Die Bergers is pastore van 'n Amerikaanse gemeente met 4000 lidmate. Die boek handel oor die dood van hul seun, Josiah. In die boek word geestelike en spirituele leiers aangemoedig (en opgelei) om kontak met die afgestorwenes te maak, omrede hulle die mensdom kan lei na 'n nuwe verstaan en nuwe openbarings wat 'n nuwe wêreldbeskouing tot gevolg kan hê.' Dit word voorgehou asof die afgestorwenes oor antwoorde op die wêreldprobleme beskik wat sal bydra tot wêreldvrede. Skrifgedeeltes soos Daniël 8:25, Matteus 24:3-5, 1 Tessalonisense 5:3, 1 Timoteus 4:1 en 1 Johannes 4:1 waarsku hierteen. Verskeie wêreldbekende predikers wat op Christen-televisienetwerke te sien is, verleen hul steun hieraan (Grewe 2012).

Op 'n subtieler vlak word die tegniek self ook as genesend voorgehou, soos die geval van die sogenaamde mindfulness en breath psychotherapy. Mace (2008) beskryf in sy boek Mindfulness and mental health hoe boeddhistiese meditasietegnieke kan bydra tot die bevordering van psigiese gesondheid. Edwards (2011), emeritus professor en navorsingsgenoot van die Universiteit van Zululand se Sielkunde fakulteit, het 'n aantal artikels oor breath psychotherapy geskryf. Alhoewel hy begrippe soos die Heilige Gees, gebed en Christelike meditasie gebruik, is sy fokus op die kosmiese geheel en talle nuwe tydperk-begrippe word voorgehou. Die volgende aanhaling vorm deel van sy slotwoord:

In addition to the generation of such experiences as hope and love, conscious One Breath practice typically leads to helpful actions on behalf of other people and the environment at large. Such practice inevitably leads to hope for all sentient beings on planet Earth and the cosmos for the foreseeable future, because knowledge becomes conscious that each breath is a link to what has been called many names: God, the Absolute, Brahmin, Tao, Allah; of that reality which was, is and will be forever. This One Breath is infinitely available. (Edwards 2011:7)

In hierdie meditasietegniek word die asem gesien as die skakel tussen liggaam en verstand of denke [mind], en om deur die korrekte asemhaling in 'n trans te gaan, vind genesing plaas. Is hierdie tegniek nie 'n duidelike voorbeeld van hoe die Bybel misbruik kan word deur die Woord van God op gelyke vlak met oosterse meditasiemetodes te stel nie? Alhoewel Edwards Skrifverwysings (soos Gen 2:7; Joh 20:21) aanhaal, vind daar 'n voortdurende vermenging en gelykstelling van alle godsdienste in die meditasieproses plaas, wat 'n direkte invloed op Christene se Godsbeskouing kan veroorsaak.

Genesing en die gelowige

Uiteindelik laat bogenoemde sieninge insake genesing die gelowige nie net dieper nadink oor wat hy of sy glo nie, maar ook oor die persoon van God. Wanneer die gelowige oor die verwante Skrifgedeeltes mediteer of nadink, word sy of haar verwysingsraamwerk rondom genesing en God as die geneesheer gevorm. Alhoewel die gelowige die mediese wetenskap raadpleeg in 'n siektetoestand, weet hy of sy dat genesing uiteindelik van God afkomstig is. Terwyl daar Bybelse voorbeelde is waar die mediese wetenskap vir genesing genader is, bestaan daar geen Bybelse gronde vir die mistiese genesingspraktyke nie - inteendeel word dit veroordeel en verbied.

Genesing is onderworpe aan die soewereine wil van God, en daar is sommige gevalle wanneer God nie genees nie (Clayton 2011:60). Teologies gesproke, aanvaar die gelowige- dat God die mens gesond wil maak en lyding verminder deur heelheid teweeg te bring, en dat God in staat is om dit te kan doen. Die gelowige glo ook in die onveranderbaarheid en getrouheid van God (Heb 13:8), en dat Hy nie wispelturig in Sy omgang met die mens is nie. Wanneer die gelowige hieroor nadink, besef hy of sy dat daar geen maklike verklaring gegee kan word oor hoekom God somtyds genesing bring en in ander gevalle nie. Clayton (2011:60) noem dat in enige noemenswaardige teologie rondom genesing, die probleem van die sonde of boosheid nie uitgesluit behoort te word nie, en daarom is die teologie oor genesing eerder sakramenteel10 van aard. Sodoende is genesing dan 'n herinnering aan die geneesheer en ook aan die komende volmaakte verlossing met die koms van Jesus Christus. Daarom kan geen genesingsgebeurtenis losstaande van God se algehele verlossingsplan met die mens geïnterpreteer word nie. Vir die gelowige is elke genesing 'n herinnering aan die verbondsbelofte van God aan hom of haar en 'n teken van sy of haar vaste hoop in God. Genesing het dan 'n eskatologiese aspek wat heenwys na God (Op 21:3-4) en nie na enige ander gees of tegniek nie.

 

Die gebruik van die Bybel tydens meditasie

Die derde aspek wat voortvloei uit die vorige twee aspekte ('Stilte' en 'Hoe genesing in verband staan met meditasie'), is die gebruik van die Bybel tydens meditasie. Sonder om by die diskoers oor die gesag van die Woord aan te sluit, word hier slegs op die siening rondom die weg na saligheid gefokus. Iets van dieselfde waarskuwing wat Jesus in Matteus 22:29 gee '[/julle dwaal omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie', kom ook in hierdie verband na vore. Volgens Baars (2011:70) is Psalm 1:2 en Josua 1:8 van fundamentele belang vir die opdrag om die Woord van God dag en nag te oordink, sodat die gelowige uit God, deur God, en tot God kan leef. Hierdie Skrifgedeeltes (Ps 1:2; Jos 1:8) is ook 'n bewys daarvan dat meditasie oor die Woord nie die leegmaak van die gelowige se verstand is nie, maar juis 'n aktiewe bewustelike oordink van die betekenis van die Woord. Daarom bevat meditasie 'n aspek van (in)oefening en dissipline. Baars (2011:71) maak baie toepaslik ook die allegoriese verwysing na Levitikus 11:3 en Deuteronomium 14:6, wanneer hy sê dat die gelowige die geestelike voedsel moet kou en herkou om die smaak daarvan ten volle te ontdek.

Die reformatoriese siening van die gebruik van die Bybel tydens Christelike meditasie

Die reformatoriese teorie bely dat geloof uit die Woord van God is (Rom 10:17) en dat wanneer die gelowige die Woord lees of hoor (deur prediking), stel die Heilige Gees hom of haar in staat om die beloftes wat God in Sy Woord maak, in geloof aan te neem (Malan 2011b). In teenstelling hiermee, het mistiese tegnieke gedurende die sestiende eeu 'n groot deel van die aanbidding in die Rooms Katolieke Kerk uitgemaak, om hierdeur 'n menslike weg na God aan te bied. Alhoewel daar baie redes vir die ontstaan van die Hervorming was, wys Brandt (2006:127) daarop dat dit wil voorkom asof dit juis hierdie aspek was wat die oorwegende rede tot die sestiende-eeuse Reformasie was. Luther het die teorie dat die mens deur mistiese ervarings heilsekerheid ontvang, verwerp. Vir hom berus die gelowige se heilsekerheid op die belofte van God en formuleer Luther dit met die woorde extra nos. Dit beteken dat die gelowige die heil buite hom- of haarself in Christus vind, pro nobis. So kom Luther dan tot die uitspraak dat God nooit anders met die mens handel as deur Sy Woord nie, en dat die gelowige ook nie anders met God kan handel as deur geloof in die Woord nie (Brandt 2006:129).

Vir Calvyn was die religieuse motief die eer van God of soli Deo Gloria - God word primêr verheerlik deur 'n gedissiplineerde lewe wat ingerig is volgens God se Woord en wet (Inst. I, 2, 2:52). Vir Calvyn vind die gelowige heilsekerheid deur die kruis en die opstanding van Jesus, en die hele Christelike lewe is op die vereniging met Christus gebaseer (Inst. III, 1, 1:589). Calvyn noem dit ook die mistieke vereniging met Christus, en alhoewel dit misties klink, geskied die vereniging deur die aanhoor van die Woord en deur die gelowige se gehoorsaamheid aan die Woord -nie deur die mistieke ervarings soos deur die alternatiewe gelowe voorgehou word nie (Inst. III, 11, 10:803). Wanneer die gelowige die Woord hoor en dit oordink, lei die Heilige Gees hom of haar daarin. Die Heilige Gees se werking is daarom nie gelee in mistieke ervarings nie, maar word 'n proses van lewensheiliging wat as 'n gehoorsame antwoord op die Woord van God geskied. Calvyn (Inst. I, 9, 3:107) wys verder daarop dat die Heilige Gees nie die openbaring van die Woord aanvul of te bowe gaan nie, maar dit outentiek maak. God word sodoende in 'n 'spanpoging' tussen die Woord en die Gees geopenbaar, en daarom kan Woord en Gees nie geskei word nie.

In 'n sekere sin kan die gelowige gebed en meditasie ook nie van mekaar skei nie. Die gelowige begin die meditasie eers met gebed deur die Gees te vra om hom of haar te lei om die Woord te verstaan. Biddende meditering oor die Woord het tot gevolg dat daar as't ware 'n weg gebaan word tussen die gelowige se verstand en hart, sodat hy of sy daardeur beweeg word om hul daaglikse lewe volgens die waarhede van die Woord te leef en God daardeur te eer (Toon 1991:109).

Die mistiese siening rondom die belangrikheid van die Bybel tydens meditasie

Die mistiese omgang met die Bybel gaan vanuit die paradigma dat die Bybel op verskillende maniere geïnterpreteer kan word en dat dit nie meer die enigste gesaghebbende bron tot geestelike begeleiding is nie (Rhodes 2008:5). Dit word voorgehou dat die nuwe geslag nie met ou metodes bereik kan word11 nie en sodoende word apologetiese en grondige teologiese beredenering verwerp, om plek te maak vir 'n ervaringsteologie gebaseer op liefde en goeie dade. Alles is dus aanvaarbaar, solank dit liefde en goeie dade bevorder. Die emotiewe en ervaringsbelewenis word lynreg teenoor die rede en logies-rasionele argumente gestel. Alhoewel die emotiewe en ervaringsbelewenisse 'n belangrike deel van menswees is, is die probleem dat die rede en logies-rasionele argumente verwerp word. Dit is dus 'n geval van die een wat ten koste van die ander aanvaar word. Rhodes (2008) verwys na twee aanhalings waar hierdie oorbeklemtoning van die emotiewe en ervaringsbelewenisse sonder die rede en logies-rasionele denke, die vermenging van ander gelowe met die Christelike geloof tot gevolg het:

I don't believe making disciples must equal making adherents to the Christian religion. It may be advisable in many (not all!) circumstances to help people become followers of Jesus and remain within their Buddhist, Hindu and Jewish context. (bl. 8)

I am a Christian today because of a Hindu meditation master. She taught me some things that Christians had not. She taught me to meditate, to sit in silence and openness in the presence of God ... I believe that all people are children of God. (bl. 8)

Vir die gelowige is sulke praktyke onbybels, aangesien die mistisisme wil voorhou dat Jesus Christus nie die enigste weg na God is nie (Joh 14:6-7). Jesus word dus uit die eksklusiewe Bybelse raamwerk uitgelig en binne die oosterse mistisisme geplaas. Janse van Rensburg (2011:74) gebruik die volgende aanhaling om te wys hoe die mistisisme Jesus en Boeddha gelyk stel:

Jesus is the way to a new kind of life. Jesus and Boeddha have this in common with all great spiritual teachers: to make human beings more conscious of themselves, to get to be more real. (bl. 74)

Misleiding vind ook plaas wanneer mense glo dat God deur mistiese meditasie geken kan word (Rom 10:17; 2 Kor 11:3-4; Joh 1:18).

Diepgaande oordenking van Woordgedeeltes het oor die algemeen geen plek in die mistiese meditasie nie, omrede daar slegs op een woord of sinsnede (mantra) of op die asemhaling gefokus word om na die alternatiewe bewussynsvlak te beweeg. Malan (2011a) stel dit duidelik dat, alhoewel God nie deurgrond kan word nie, daar nie 'n donker en misterieuse kant aan God is soos wat die voorstaanders van mistisisme beweer nie. Die mediteerder wat na 'n alternatiewe bewussynsvlak oorbeweeg, het uiteindelik geen onderskeidingsvermoë om die ingewings wat hy of sy ontvang, te toets aan die Woord onder leiding van die Heilige Gees nie, aangesien die rasionele denke tot stilstand gedwing is. Sodoende is die mediteerder oop vir indrukke en idees wat vernietigende gevolge in sy of haar geestelike lewe tot gevolg kan hê, want hulle word deur 'n blinde liefde vir alle mense van alle geloofsoortuigings oorweldig (Malan 2011b).

Die gelowige se gebruik van die Bybel tydens meditasie

Vanuit bogenoemde sieninge is die verskillende benaderings in die gebruik van die Bybel tydens meditasie deur die reformatore en die mistisisme duidelik, en daarom moet die gelowige ook oor hierdie aspek dieper nadink. Wanneer die gelowige in tye van stille bepeinsing is, is dit nie 'n woordelose ervaring nie, maar die oordenking van die Woord (Ps 1:2, 19:14; Jos 1:8) en die persoon van God (Ps 119, 48:10, 77:13, 104:34, 143:5). Dit is 'n aktiewe verstandelike proses waarin Woordgedeeltes oordink en begrond word. Petrus vermaan die gelowige in 1 Petrus 2:2 om te '... smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.' God openbaar homself deur die Woord aan die gelowige en hy of sy moet tye van afsondering hê, waarin hulle die Woord oordink om God te leer ken. Baars (2011:81) waarsku egter dat afsondering alleen geen doel dien nie - die doel moet wees dat die gelowige hom- of haarself losmaak van die gejaagdheid van die lewe, sodat daar op God se Woord gefokus kan word.

Christelike meditasie is om op 'n verantwoordelike manier met God se Woord om te gaan. Die gelowige moet die Woord lees en herlees om die toepassing daarvan op sy of haar lewe te vind. Alhoewel meditasie na persoonlike omgang met God streef, mag dit dus nie daar stop nie. Die Woord moet in die gelowige se lewe deur gehoorsame navolging geïmplementeer word. Bavinck (Baars 2011:90) het in hierdie verband die volgende gesê: 'Mediteren doe ik, wanneer ik al lezende mij zelf zie als de persoon tot wie God spreekt, en wanneer ik dus God met mij laat bezigzijn.'

 

Slotwoord

Brandt (2006:27) haal Rahner aan wanneer hy na gebed as grundakt verwys. Die term grundakt verwys na sekere dade van die mens 'waarin die heelheid en eenheid van menswees te vinde is'; dit sluit ook dade wat nadenke voorafgaan in, 'met ander woorde, dade waarin rasionaliteit en ervaring nie geskei kan word nie'.

Christelike meditasie is ook 'n grundakt, omdat dit uiteindelik nie 'n oefening is wat van buite die gelowige as 'n plig aan hom of haar opgelê word nie, maar 'n realisering van die verbondsverhouding tussen God en die gelowige is. As gevolg van die verbondsverhouding, is meditasie of die oordenking van die Woord 'n ontmoetingsplek tussen God en die gelowige - daar waar God homself aan die gelowige openbaar en die gelowige God ken tot die mate waarin Hy homself openbaar. In hierdie proses word die gelowige in sy of haar totale menswees aangeraak - rasioneel, emotief en affektief - wat oorvloei na die sosiale. Daar is niks misties aan Christelike meditasie nie, aangesien die gelowige nie 'n verandering in bewussynsvlak hoef te beleef om God te ontmoet nie. Die gelowige kan, op grond van God se genade en weens die verbondsverhouding, vir God op sy of haar eg menslike wyse leer ken deur in oorgawe aan Hom te leef. Die gelowige se Godsbeskouing sal uiteindelik die bepalende faktor wees van hoe hy of sy meditasie (of elke ander geestelike dissipline) uitleef.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Anthonison, C., 2012, 'Sentrum vir Christelike Spiritualiteit: Kaapstad', besigtig 07 Desember 2012, by http://1joh4.wordpress.com/2008/09/18/sentrum-vir-christelike-spiritualiteit-kaapstad/        [ Links ]

Baars, A., 2011, 'Ruminare verbum: Over de meditatieve omgang met het Woord', in G.C. den Hertog (red.), Stil tot God, bls. 69-93, Teologische Universiteit, Apeldoorn.         [ Links ]

Brandt, S.J.P., 2006, 'Die logika van geloof: Gebed as raakpunt tussen rasionaliteit en ervaring by Rahner en Calvyn', PhD Div proefskrif, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Brown, M.L., 1995, Israel's Divine Healer, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Calvyn, J., 1949, Calvin's Institutes, vols. 1 & 2, ed. J. Allen, William B. Eerdmans Publishing Co., Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Clayton, P., 2011, 'The theology of spiritual healing', in F. Watts (ed.), Spiritual healing: Scientific and religious perspectives, pp. 44-63, Cambridge University Press, Cambridge. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9780511973406.004        [ Links ]

Coetzer, W.C., 2003, 'Traumaberading', studiegids, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.         [ Links ]

Colbert, D, 2007, Die sewe pilare van gesondheid, Struik Christelike Boeke, Kaapstad.         [ Links ]

Den Hertog, G.C., 2011, Stil tot God, Teologische Universiteit, Apeldoorn.         [ Links ]

Edwards, S.D., 2011a, 'Breath Psychotherapy', Inkanyiso: Journal of Human and Social Science 3(1), 13-23.         [ Links ]

Feenstra, J.G., 1947, Onze Geloofsbelijdenis, JH Kok, Kampen.         [ Links ]

Gaiser, F.J., 2010, Healing in the Bible, Baker Academic, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Grewe, J., 2011, Review of Have Hart: Bridging the gulf between heaven and earth, by S. Berger & S. Berger in Discerning the World, viewed February 2012, from http://www.discerningtheworld.com/2012/01/17/have-heart-bridging-the-gulf-between-heaven-and-earth-all-the-while-normalizing-necromancy/        [ Links ]

Huijgen, A., 2011, 'Zwijgen voor het Woord: De functie van het zwijgen voor het kennen van God volgens Dietrich Bonhoeffer', in G.C. den Hertog (red.), Stil tot God, bls. 53-67, Teologische Universiteit, Apeldoorn.         [ Links ]

Janse van Rensburg, J., 2011, Jesus is die Een: verloor ons nie die evangelie in die emerging church nie?, Christelike Media Publikasies, Kaapstad.         [ Links ]

Jooste, C., '2011, Sola Scriptura: - Die skrifbeskouing in die Gereformeerde Kerke van Suid Afrika sedert 1959: 'n Dogmaties-historiese ondersoek', MTh verhandeling, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit.         [ Links ]

Krüger, J.S., 1988, Aandag, kalmte en insig: 'n Uiteensetting van Theravada Boeddhistiese meditasie aan die hand van die (Maha-) Satipatthana-sutta, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria. (Studia Originalia 8).         [ Links ]

Mace, C., 2008, Mindfullness and mental health, Routledge, Taylor & Francis Group, London.         [ Links ]

Malan, J., 2011a, 'Meditasie 'n Oosterse tegniek', in Bible Guidance, besigting 18 Julie 2011, by http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Meditasie'nOosterse tegniek.htm        [ Links ]

Malan, J., 2011b, 'Oosterse meditasie sluip so die Kerk in', in Bible Guidance, besigtig 18 Julie 2011, by http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Kontemplasie.htm        [ Links ]

Monroe, P.G. & Schwab, G.M., 2009, 'God as Healer: A closer look at Biblical images of inner healing with guiding questions for counselors', Journal of Psychology and Christianity 28(2), 121-129.         [ Links ]

Nicol, W., 1989, Stem in die stilte, Orion, Pretoria.         [ Links ]

Peels, H.G.L., 2011, 'U komt stilheid toe', in G.C. den Hertog (red.), Stil tot God, bls. 9-20, Teologische Universiteit, Apeldoorn.         [ Links ]

Pienaar, A., 2012, 'Wie is ons', in Sentrum vir eietydse spiritualiteit, besigtig 07 Desember 2012, by http://www.spiritualiteit.co.za/spiritualiteit-wie.php        [ Links ]

Rhodes, R., 2008, 'The Maze of Mysticism in the Emerging Church Movement', Christian Apologetics Journal 7(1), 2-26.         [ Links ]

Toon, P., 1991, Meditating as a Christian: Waiting upon the Lord, Collins Manufacturing, Glasgow.         [ Links ]

Virkler, M. & Virkler, P., 2005, Dialogue with God, Bridge-Logos, Gainesville, FL.         [ Links ]

Wilkinson, J., 1998, The Bible and healing: A medical and theological commentary, William B. Eerdmans Publishing Co., Grand Rapids, MI.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Amanda du Plessis
Internal Box 147, Private Bag X6001
Potchefstroom 2520, South Africa
Email: amanda.duplessis@nwu.ac.za

Received: 22 Mar. 2012
Accepted: 05 Sept. 2012
Published: 06 Mar. 2013

 

 

Note: This article is published in the section Practical Theology of the Society for Practical Theology in South Africa.
1 Janse van Rensburg (2011:45) verduidelik verder: '"Eenheid in verskeidenheid" is die wagwoord. So word almal ingesluit en kan ons bou aan een mensheid waarin daar uiteindelik geen verskil in geloof meer sal wees nie, waarin alle landsgrense opgehef word en vaderlandsliefde en patriotisme met gemeensaamheid vervang word.' Hy (2011:56) wys verder daarop dat die resultaat is dat die kerk vir die wêreld aanvaarbaar moet word, daarom mag die kerk nie praat oor sonde en straf, en Jesus as die enigste Verlosser nie. Fox het in sy boek The coming of the cosmic Christ, geskryf dat daar 'n wêreldwye ontwaking van wysheid sal wees wat uit al die wêreldgodsdienste sal put - hy verwys daarna as 'deep ecumenism' (soos aangehaal deur Janse van Rensburg 2011:93).
2.Geestelike dissipline kan in verband gebring word met 1 Timoteus 4:7. Dit is die Griekse woord gumnazoo wat gebruik word en die grondwoord vir gimnasium en gimnastiek vorm. Net soos wat 'n sportman of -vrou 'n gedissiplineerde oefenprogram moet hê, moet Christene hul ook gedissiplineerd daaraan toewy om in hul geloof tot geestelike volwassenheid te groei. Nog voorbeelde waar hierdie metafoor gebruik word, is Handelinge 20:24; 1 Korintiërs 9:24 en Hebreërs 12:1.
3.Op die webblad van die Sentrum van Hedendaagse Spiritualiteit kan gesien word dat die meeste teoloë betrokke by die sentrum ook opleiding in die Boeddhisme ondergaan het, en word die Boeddhistiese meditasie tegnieke hier gebruik.
4.Die leer van die Skrif word in al drie van die besondere belydenisskrifte van die gereformeerde kerke aangespreek, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art. 2-7), Heidelbergse Kategismus (vr. 19, 22, 98) en Dordtse Leerreëls (1:3, 2:5, 3/4:8, 17, 5:14).
5.God het in die Ou-Testamentiese tye verskillende maniere gebruik om met die gelowiges te praat, byvoorbeeld met Jesaja deur middel van gesigte (Jes 6), met Jakob deur 'n droom (Gen 28:10-22), en met Abraham en Moses het God direk gepraat (Gen 18; Eks 31:18).
6.Die betekenis van die woord mantra is letterlik die bevryding van gedagtes. Man beteken om te dink en tra beteken om bevry te word (Rhodes 2008:7).
7.Die Nuwe Era-skrywer, Dick Sutphen verwys na goeie en slegte geeste wat die mediteerder intuïtief beïnvloed. Hy waarsku dat daar teen laasgenoemde weerstand gebied moet word, maar dat die goeie geeste hoofsaaklik van Indiane, Hindoes, Egiptenare en Chinese afkomstig is, omdat hierdie volke volgens hom oor besondere wysheid beskik (Malan 2011a). Hierdie is 'n bewys dat daar met afgestorwenes kontak gemaak word.
8.Volgens Janse van Rensburg (2011:111) het verskeie charismatiese televisie predikers van Amerika (VSA) soos Kennith Hagin, Kenneth Copeland, Morris Cerullo en Bennie Hinn reeds op die idée ingekoop dat die mens eintlik self god is. Hulle gebruik die meditasie tegniek deur joga om die geloof in die self en eenwording met God te fasiliteer.
9.Hierdie gawes en magte is na bewering latent in elke mens aanwesig en kan ontwikkel word. Dit is dieselfde gawes wat ook in joga aangeleer word (Mace 2008:4-23).
10´A sacrament is an outward, visible sign of an inward, spiritual grace; it is a present symbol and manifestation of the divine reality, one that serves as a promise of a fuller, completed state to come' (Clayton 2011:60).
11.'The old paradigm taught that if you had the right teaching, you will experience God. The new paradigm says that if you experience God, you will have the right teaching' (Rhodes 2008:9).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons