SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.69 número1Review article: the mountain motif in the plot of Matthew índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


HTS Theological Studies

versão On-line ISSN 2072-8050
versão impressa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.69 no.1 Pretoria Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Gesinsbediening in 'n postmoderne kerk vanuit Bybels- teologiese perspektiewe

 

Biblical perspectives on family ministry in a postmodern church

 

 

J.M. (Thinus) van Staden; Yolanda Dreyer

Department of Practical Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The aim of the article is to reflect on biblical-theological perspectives on family in order to enrich postmodern faith communities. In the post-biblical period the biological family was central to the process of the institutionalisation of the church and the spiritual aspect of family was underplayed. The church father, Augustine, indowed marriage with sacramental status. This emphasised the presence of God in the family, but 'procreation' dominated his theology of marriage. The sacramental status of marriage along with the dominance of patriarchy made marriage indisputable. This obstructed any possibility of thinking creatively about marriage in a postmodern context. In his reformation of marriage Martin Luther succeeded in deconstructing the sacramental status of marriage, but did not succeed in overturning patriarchal dominance. The reality of postmodern families differs vastly from that of biblical times and the times of Augustine, Aquinas and Luther. The challenge of the church in a postmodern world is to reflect in a responsible biblical theological way on the relationship between adults and children from the perspective of the kingdom of God. This article aims to contribute in this regard.


 

 

Inleiding

Die huwelik en gesin verkeer in 'n krisis (vgl. Browning 2007:53; Sell 1995:42). Dit is veral sigbaar in die gesinsveranderinge wat sedert die 1960's ingetree het (kyk Browning 2007:55). In hierdie tyd van agteruitgang van die gesin, bevind die kerk sigself ook in 'n krisis (vgl. Anderson 2011:11; Buitendag 2002:2; Heitink 2007:19; Immink 2007:854). Wêreldwyd beleef veral Protestantse kerke 'n kommerwekkende verlies aan lidmate, terwyl die kerk se invloed op die samelewing ook kwyn.

Verskeie ondersoekers stel dit onomwonde dat godsdiensorganisasies wél 'n belangrike bydrae tot die welstand van gesinne lewer (kyk Browning 2007:57, 226; Dean 2010:17-21; Guerra 2002:xxi-xxviii; Post 1998:22-23; Sell 1995:13-14; Smith & Denton 2005:264). Dit is egter ook duidelik dat kerke nie hierdie verantwoordelikheid ten opsigte van die welstand van gesinne teenoor gesinne en die groter gemeenskap nagekom het nie (vgl. Anderson 2009:7-8; Browning 2007:57, 226; Dean 2010:17-21; Lyon & Smith 1998:9; Rainey 2001:13; Strommen & Hardel 2000:17). Kerke kan gesinne ondersteun en versterk deur 'n gesinsetiek te ontwikkel wat as basis vir die ontwikkeling van toepaslike gesinsbedieningspraktyke kan dien. Daartoe wou hierdie artikel 'n bydrae lewer.

 

Die gesin: 'n Nuwe orde en huishouding

Die teologiese perspektiewe is op die begrippe 'huwelik' en 'gesin' gefokus. Vier historiese aspekte is in ag geneem:

  •  Bybelse uitsprake oor die huwelik en familie is teen die agtergrond van die sosio-kulturele, politieke en religieuse Mediterreense konteks waarin die Bybel ontstaan het, geïnterpreteer.
  •  Daar is nie so iets soos 'n Bybelse verstaan van die huwelik en familie nie omdat sosio-kulturele veranderinge gedurende Israel se geskiedenis en dié van die vroeë Christelike gemeentes plaasgevind het.
  •  Politiek en kultuur het 'n invloed op vroeë Christene se verstaan van die eise van die evangelie ten opsigte van die huwelik en die familie gehad.
  •  Dit was veral die nawerking van die insigte van Thomas Aquinas ([1265-1274] 1947; kyk Dreyer 2008:732) en Martin Luther (kyk Buitendag 2007; Luther 1999) wat die prakties-teologiese gesprek oor die huwelik en gesin beslissend beïnvloed het.

Die praktiese teoloog Don Browning verstaan die belang van die huwelik en gesin teen die agtergrond van veral Nuwe-Testamentiese tekste (kyk Anderson et al. 1998; Browning et al. [1997] 2000; Malina 2001; Osiek & Balch 1997). Wanneer Jesus byvoorbeeld in Matteus 10:35 (kyk ook Luk 12:51-53; Mark 13:12-13) sê: 'Ek het gekom om tweedrag te bring tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees', moet dit nie as kritiek op die hedendaagse kerngesin verstaan word nie, maar eerder as kritiek op die patriargale kuituur van daardie tyd (Browning et al. [1997] 2000:134). Jesus is deur die vroeë kerk verstaan as die Messias wat van enkelinge en families verwag het om hulle lewens aan die eise van die koninkryk van God, eerder as aan die sosiale kodes van die patriargale kultuur te onderwerp (vgl. Osiek & Balch 1997:131). Gevolglik was daar deur die eeue heen spanning tussen lojaliteit jeens die biologiese huishouding en lojaliteit jeens die koninkryk van God. Die spanning is verlig sodra gesinne en ook families in geheel tot bekering gekom het.

Die Christelike kerk het nie in 'n vakuum ontstaan nie. Dit het die patroon van die biologiese gesin aangeneem. In hierdie 'huiskerk' het die reëls van God se koninkryk voorrang bo die kodes van die biologiese familie geniet. Dit het in 'n positiewe sin aan vroue 'n vryheid besorg om in diens van God te lewe en nie meer aan patriargale magte onderdanig te wees nie. Volgens Browning (2003:43; kyk Browning et al. 2000:134-135; Osiek & Balch 1997:131) het die vroegste Jesus-beweging 'n gees van gelykwaardigheid tussen mans en vroue meegebring:

Jesus is portrayed as objecting to the patriarchal patterns of unilateral divorce of Jewish wives by their husbands, a practice that filled the ranks of the poor primarily with rejected women. Jesus is reported as saying that Moses allowed husbands to divorce wives because of 'your hardness of heart.' From the beginning, he continues, '"God made them male and female." 'For this reason a man shall leave his father and mother and be joined to his wife, and the two shall become one flesh. So they are no longer two but one flesh. Therefore what God has joined together, let no one separate' (Mark 10:5-9). Although Jesus is pictured as standing against divorce, his stand is consistent with the 'defensive' family strategy of the postexilic period. It was a strategy designed to keep Hebrew men from divorcing their Hebrew wives in order to marry local, wealthier, non-Jewish women of families who had occupied Israel during the exile. (bl. 135)

'n Studie van Matteus 19-20, waarin Jesus egskeiding verwerp (19:1-9), kinders gebruik om dissipelskap te demonstreer (19:13-15), rykdom as onversoenbaar met die koninkryk van God beskryf (19:16-30), die gelykenis van die vrygewige wingerdeienaar vertel (20:1-16) en dissipel-wees met slaaf-wees vergelyk (20:25-28), dui daarop dat dissipelskap in die vroegste Jesus-beweging as 'n beweging van gelykes beskou is (Browning et al. 2000:135; vgl. Osiek & Balch 1997:131). In 'n eer-en-skande-samelewing is dit opmerklik dat Jesus hiërargie en status met 'n nuwe gemeenskap van gelykheid tussen man en vrou en ryk en arm en 'n nuwe respek vir kinders vervang (Browning et al. 2000:136). Net soos wat die sosiale konstrukte van die post-eksiliese tyd op die struktuur van die tempel oorgedra is, is die nuwe verhoudings van radikale gelykheid in die Jesus-beweging na die huiskerke oorgedra. Indien die hipotese reg is dat Galasiërs 3:28 verwys het na 'n vroeg-Christelike doopformulier wat die nuwe status van gelowiges beskryf het, onthul dit hoe die nuwe verhouding tussen man en vrou, eienaar en slaaf, Griek en Jood binne die huiskerke hervorm is: 'Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.' Anders- as in die post-eksiliese tyd toe mans aangemoedig is om ter wille van die reinheid van Israel van hulle vroue te skei, het Paulus die Christelike gelowiges ontmoedig om, selfs van hulle ongelowige vroue, te skei (Browning et al. 2000:137; kyk 1 Kor 7:10-16).

Soos wat die Jesus-beweging na die Grieks-Romeinse wêreld uitgebrei het, het vroue as prominente leiers van die vroegste Christelike gemeentes na vore getree. Browning et al. (2000) verwys soos volg hierna:

Some of these women were wealthy and hosted meetings of the church in their homes. Some, like Priscilla, were married but achieved distinction independently of their husbands as founders of important churches throughout Asia Minor - a leadership role rare for women in the Greco-Roman world (Acts 18:1-4, 18-21; Rom. 16:3). (bl. 137-138)

Paulus bevind homself in die spanningsvolle verhouding tussen die nuutgedefinieerde verhoudings van die voor-Pauliniese kerk aan die een kant en die sosiale orde van die Grieks-Romeinse wêreld aan die ander kant. Paulus se siening van geslagsgelykheid was minder radikaal as die van die voor-Pauliniese Christelike geloofsgemeenskap, maar steeds kontroversieel binne die konteks van sy tyd (kyk Browning et al. 2000:137; vgl. Malan 2005:259). Só radikaal is die nuwe sosiale orde binne die Pauliniese gemeentes dat Paulus met tye apologeties te werk gaan vanweë beskuldigings dat Christene die sosiale orde van die Grieks-Romeinse wêreld ondermyn (Browning et al. 2000:138; vgl. Osiek & Balch 1997:107-118). Browning et al. (2000) stel dit soos volg:

Paul, in an effort to minimize this criticism, made a distinction between inner and outer freedom. He advised Christians to remain the same in their public roles: slaves should remain slaves, Jews should remain circumcised, and wives should remain obedient to their husbands in spite of their new equality in Christ. In fact, it is precisely in this context that Paul compromised the gender egalitarianism of Galatians and asserted that the divine image in the wife was mediated through the husband. The man, he insisted, 'is the image and reflection of God; but woman is the reflection of man' (1 Cor. 11:7). External conformity was of little importance, Paul counseled, in comparison to the deeper freedom and equality that all Christians enjoyed through their identification with Christ (1 Cor. 7:7-24). (bl. 139)

In 'n poging om gelowiges teen beskuldigings en moontlike geweld van buite te beskerm, het hy 'n beroep op gelowiges gedoen om minstens na buite die publieke kodes van die Grieks-Romeinse wêreld na te kom. Terselfdertyd het Paulus die grondslag gelê dat gelowiges daardie selfde kodes in die privaatheid van hulle gesinslewens met 'n nuwe gesinsetiek vervang.

In 'n prakties-teologiese refleksie op die belang van die huwelik en gesin behoort daar 'n sensitiwiteit te wees vir die feit dat die Bybel binne 'n patriargale, eer-skaamte-samelewing geskryf is. Die gees van gelykwaardigheid binne die vroeë Jesus-beweging asook die ontluikende trajek van gelyke agting vervang manlike eer en dominansie met 'n Christelike etiek van opofferende liefde terwyl vroulike skaamte met 'n Christelike etiek van gelykwaardige agting vervang word. Jesus se benadering tot die huwelik, familie en gemeenskap was om hiërargie en status met 'n nuwe gemeenskap van gelykheid tussen man en vrou te vervang. Die identiteit, rol en status van gesinslede word deur die evangelie van Jesus Christus beïnvloed. 'n Praktiese teologie van die gesin behoort dus geskoei te word op hierdie nuwe orde en nuwe huishouding wat Jesus tot stand gebring het.

In hierdie artikel word spesifiek op die plek van kinders binne die gesin in die postmoderne kerk gefokus. Don Browning (2007) se aansluiting by die Bybels-teologiese perspektiewe van Paulus in die Nuwe Testament dien as vertrekpunt. Hierdie perspektiewe kan egter nie in die huidige postmoderne konteks verstaan word sonder om die dogmenhistoriese en Bybels-teologiese invloed van teoloë soos Thomas Aquinas en Martin Luther in ag te neem nie. Daarom is dit ook nodig om Ou- en Nuwe Testamentiese tradisies in ag te neem.

 

Vanaf prokreasie tot geloof alleen

Die 'voor-Christus' Israel en die 'na-Christus' Aguinas

In antieke Israel was die kerngesin vir prokreasie en die uitgebreide gesin vir oriëntasie belangrik (Malina 2001:135). Die ideaal dat die hedendaagse kerngesin vir prokreasie en identiteitsvinding verantwoordelik moet wees, word egter weens die groot persentasie afwesige vaders en die kloof wat tussen die leefwêrelde van ouers en kinders bestaan, nie verwerklik nie (Browning 2007:66).

Die huwelik het gedurende die verloop van die geskiedenis van Israel en die vroeë kerk verskeie veranderinge ondergaan. Die verskuiwings tydens die nomadiese patriargale periode, die regionale en monargale Israelitiese periode, die na-eksiliese periode, die Pauliniese oorgang tussen Israel en die kerk en die post-Pauliniese institusionaliserende kerk dien as voorbeelde van sodanige veranderinge. Hierdie verskuiwings moet tydens die ontwikkeling van 'n praktiese teologie van die gesin verreken word. Tydens die Israelitiese periode is egskeidings verbied om onderlinge vrede tussen Israelitiese families te handhaaf, terwyl egskeidings tydens die na-eksiliese periode juis aangemoedig is en selfs verpligtend was om te verseker dat Israel se identiteit beskerm word.

Paulus se teologie behoort in die huidige interne gesprek van die Protestantse kerk 'n sentrale rol te speel. Dit behels 'n ander verstaan van die huwelik as tydens die voor- en na-eksiliese Israelitiese periodes. Paulus het analogieë met die omliggende kultuur van sy tyd gesoek, maar steeds krities en kontra-kultureel daarmee omgegaan. Paulus se aansluiting by Aristoteles, waarin hy Aristoteles se proporsionele liefdesetiek vervang en nuwe inhoud gee, dien as voorbeeld hiervan (kyk Browning et al. 2000:146). Die Middeleeuse teoloog Aquinas (kyk Aquinas [1265-1274] 1947) het groter aansluiting by die Aristoteliese tradisie gevind en vertoon daarom ook groter ooreenkoms met die voor-Christelike Israelitiese tradisie. Vir Aquinas is prokreasie 'n sleutelsaak. Vir Paulus staan geloof sentraal. Met Paulus as vertrekpunt kan daar vanuit Ou- en Nuwe Testamentiese getuienis afgelei- word dat ekonomiese- en maatskaplike geregtigheid vir weerlose vroue en kinders 'n onmisbare deel van 'n praktiese teologie van die gesin behoort te vorm.

Vir Aquinas kan die rol van biologiese ouers met betrekking tot die welstand van kinders en gesinne, vaders in huisgesinne, asook die vriendskap tussen man en vrou in die skeppingsorde gegrond word. Aquinas het egter 'n natuurlike basis tot gesinsvorming as onvoldoende geag. Daarom het hy die natuurlike geneentheid tot gesinsvorming nie alleenlik uitgebrei nie, maar ook deur 'n teleologiese argument getransformeer. Vaders, moeders en egpare word binne 'n Christelik-etiese dimensie opgeroep om in navolging van Christus, 'n lewe van opofferende liefde te leef. Aquinas het ongelukkig die teleologiese dimensie te ver gevoer en aan die huwelik 'n sakramentele karakter verleen. Aquinas se siening van die huwelik as sakrament is eksegeties debatteerbaar omdat hy die woord 'misterie' (sacramentum) in Efesiërs 5 nie teen die agtergrond van 'n Christelike etiek wat op Paulus gebou is, verstaan het nie (kyk Buitendag 2007:445-461; Dreyer 2008:739-765). Huweliksetiek behoort vir Christene op gelyke agting gegrond te word. Luther se kritiek op die sakramentele verstaan van die huwelik (waar prokreasie in 'n patriargale sin steeds sentraal staan) behoort onmisbaar te wees vir 'n hedendaagse praktiese teologie van die gesin.

 

Moderne en postmoderne tendense: Liefde, wederkerigheid en gelykheid

Saamwoonverhoudings in die huidige postmoderne samelewing stel die kerk voor uitdagings. Die huwelik word uitgestel en soms glad nie voltrek nie. Die implikasies van huweliksverhoudings wat van die kerk se leiding, die beskerming van die staat en die gemeenskap van gelowiges losgemaak word, behoort verreken te word. Die huwelik as instelling was oor baie eeue heen 'n bousteen vir gesinne, gemeentes en gemeenskappe. Volgens Tom Thatcher (1999:64) behoort die kerk postmoderne tendense nie sonder meer te aanvaar nie, daar behoort eerder alternatiewe gebied te word. Hy meen dat die begrip 'verbond' weer vastigheid kan bied. 'n Verbondsmatige verstaan van verhoudings word geskoei op 'n etiek van wederkerige selfopoffering, waarin kinders as God se seën op die huwelik beskou word.

Die huwelik is post-patriargaal deurdat dit die nie-hiërargiese uniekheid van vroue of moeders en mans of vaders vier (vgl. Thatcher 1999:154-164). Binne 'n postmoderne kultuur kan die liefde van moeders vir hulle kinders 'n kragtige getuie van God se liefde vir sy verbondskinders wees (Thatcher 1999:161). Moederliefde is in wese 'n model van agapé-liefde. Browning (2003) rig egter 'n waarskuwende woord. Agapé is 'n ingesteldheid wat ten doel het om 'n middelgrond te vind tussen individualisme, wat geen plek aan opofferende liefde toeken nie en 'n liefdesmodel, wat selfopoffering as 'n doel in sigself beskou en daarom dikwels met onderdanigheid en selfprysgawe verwar word (vgl. Browning 2007:188,2003:45). Die gelykwaardigheidsbeginsel vereis dat almal in die gesin aktief aan die welsyn van ander lede van die huisgesin sal meewerk. Selfopoffering is dus nie 'n doel in sigself nie, dit werk mee tot 'wederkerige gelykwaardigheid'. Alle gelowiges, ongeag geslag, behoort die rol van Christus in die gesin uit te beeld. Dit sluit vriendskap, liefde en wederkerigheid in. Self-prysgawe en gelyke waardering van ander vorm 'n sikliese etiek: dit vloei deur al die lewensfases heen van die een gesinslid na die ander. Gesinne wat deur hierdie etiek gelei word, word gemeenskappe wat met mekaar kan praat en wat saam sin en betekenis in hulle wêreld kan vind. Daardeur word hulle in staat gestel om belangrike waardes op die vier terreine van die gesinslewe te vind, naamlik gedeelde huiswerk, gedeelde inkomste, gedeelde kinderversorging en gedeelde waardes (Browning et al. 2000:224).

Gelykwaardigheid van vaderskap en moederskap veronderstel dat mans en vroue persoonlike vervulling in die gepaardgaande deugde en eienskappe van ouerskap kan vind, soos byvoorbeeld sagtheid, speelsheid en versorging (vgl. Thatcher 1999:163). Dit sluit ook die ervaring in van hoe hul kinders hul liefde beantwoord. Die toenemende tendens dat vaders aktief by die grootmaak van kinders betrokke is, is een van die positiewe resultate van postmoderniteit. Sell (1995:132) beklemtoon die opkoms van 'simmetriese gesinne' waar beide vaders en moeders loopbane kan hê en terselfdertyd die verantwoordelikheid vir die grootmaak van hul kinders kan aanvaar. Browning (2007:58) praat van 'n kritiese gesinsetiek.

Die patriargale huweliks- en gesinsmodel behoort daarom vervang te word met 'n model wat:

  •  prakties-teologiese strategieë betrek om gelykheid van mans en vrouens te bevorder
  •  op 'n radikale liefdesetiek van gelyke agting gebaseer is
  •  gelyke toegang tot die voorregte en verantwoordelikhede van die gesinslewe bevorder.

Browning (2007) verwoord 'n liefdesetiek van gelyke agting soos volg:

[T]his ethic means that a husband or wife should (1) treat the other with unconditioned respect (as an end and never as a means only) and (2) within this mutual respect work to enhance the well-being of the other. Concretely, the ethic of equal regard means that husband and wife should each in principle have equal access to the privileges and responsibilities of both public and private worlds, although this may be realized differently in specific households depending on individual interests and talents. (bl. 225)

'n Gevolg van 'gelyke agting', volgens Miller-McLemore (2004:52), is dat 'verantwoordelijkheid' en 'leierskap' gedeel word; iets wat sy oorsprong in 'n 'skeppingsverhaal' het en in die lig van Nuwe-Testamentiese getuienis oor Jesus verstaan word (vgl. Browning et al. 2000:134-135). Gelykheid beteken egter nie dat die rolle of bydraes van mans en vroue dieselfde of identies behoort te wees nie. Teen die agtergrond van Ruether (2001:208) se beskouing dat mans en vroue in hulself oor die volle reikwydte van menslike potensiaal- beskik, beklemtoon Miller-McLemore (2004) die onderskeie bydraes van mans en vroue. Volgens haar baat kinders by die diversiteit van die bydraes van beide ouers. Sy verwoord gelyke agting soos volg:

Equal regard describes a relationship between husband and wife characterized by mutual respect, affection, practical assistance, and justice - a relationship that values and aids the self and others with equal seriousness. Among the advantages of such a relationship is that children raised within such a context benefit from the fuller participation of each parent in their lives and the living example of mutuality and justice between parents. (Miller-McLemore 2004:52)

Indien die bydraes van mans en vrouens nie as konflik ervaar word nie, dra die diversiteit van die bydraes tot die geestelike welsyn van kinders by. Hierdie spirituele dimensie word nie altyd in die teologie van die huwelik en gesin na waarde geskat nie (vgl. Thatcher 1999:209). In teenstelling met die veronderstelling van die vroeë kerk, asook gedurende die Middeleeue, dat die huwelik die spiritualiteit van gelowiges negatief beïnvloed, behoort die kerk juis tot 'n 'konjugale spiritualiteit' van egpare by te dra (Thatcher 1999:213). Die begrippe 'verbond' en 'eenheid' is belangrike simbole van die dialektiese verhouding tussen egpare en bied ruimte vir afsonderlike identiteite sowel as eenheid met mekaar. Indien die huwelik slegs as kontraktueel beskou word, gaan die spirituele dimensie verlore. Die kontraktuele siening beklemtoon unieke identiteit en veronderstel gelykheid, maar dit is in sigself nie voldoende nie. Konjugale spiritualiteit beklemtoon die spirituele reis van die egpaar in verhouding met God. Om die aanvulling van die kontraktuele en konjugale te waardeer, is dit nodig om die begrippe 'teleologie' en 'deontologie' in die Christelike etiek in ag te neem. Laasgenoemde, de-ontos, beklemtoon 'n verhouding van verantwoordelikheid omdat dit deur 'n kontrak voorafgaan word. Eersgenoemde, telos, dui daarop dat die kontrak nie die doel van die verhouding is nie. Die doel is die wedersydse spirituele verryking wat in 'n verhouding met God gevind kan word (kyk Thatcher 1999:215). Daardeur kan die huwelik 'n betekenisvolle spirituele en teleologiese instelling wees. Thatcher (1999:64, 153) se beklemtoning van die huwelik as verbond hou die moontlikheid in dat singewing van 'n huweliksverhouding te maklik weer na 'n deontologiese eerder as 'n teleologiese vertrekpunt kan teruggly. Die begrip 'verbond' is waardevol as die telos nie uit die oog verloor word nie. Vanuit so 'n perspektief op die verbond kan lewensmaats verantwoordelik met ouerskap omgaan. Daarom sal die spirituele dimensie van die huwelik en gesin die nodige stabiliteit vir kinders bied.

Volgens Thatcher (1999:54-61) temper so 'n geloofsreis post-Christelike individualisme. Dit ontbloot 'afgodery van romantiese liefde' en bied 'n antwoord op hedendaagse kortstondige verhoudings en seksualiteit. Huweliksliefde, wat nie op 'n deontologiese wyse in die natuur van die mens gegrond is nie, maar eerder op 'n teleologiese wyse in 'n verhouding met God, bied 'n postmoderne moontlikheid tot die herwaardering van gesin en huwelik (vgl. Thatcher 1999:224). Die uitdaging vir die postmoderne kerk is om 'n verskuiwing van liefde as 'n emosie na liefde as 'n ingesteldheid en 'n verhouding mee te bring (Thatcher 1999:225). Peck (1978:69, 107) beskryf liefde as 'the will to extend oneself for the purpose of nurturing one's own or another's spiritual growth.' Hierdie siening verteenwoordig 'n teleologiese benadering tot liefde as geestelike groei. Wat dus vir die kerk op die spel is, is om op die welstand van mans, vroue en kinders te fokus.

'n Nasionale peiling onder 1035 Amerikaanse terapeute het aan die lig gebring dat die terapeute 'n ingesteldheid getoon het om eerder op die welstand van die gesin en al die gesinslede as op die welsyn van 'n individu te fokus. Die studie het bevind dat die belangrikste onderliggende terapeutiese filosofie nie in selfaktualisering gesetel was nie, maar eerder relasioneel van aard was (vgl. Wall et al. 1999:139; vgl. Laquet 2005:1). Die ondersoek het bevind dat die meeste terapeute gesinsetiek as verhoudings wat deur omgee, liefde, vriendskap en gelykheid gerig word, beskou het. Browning et al. (2000:200) het tot die gevolgtrekking gekom dat die terapeute primêr besorg was oor gelyke agting, wat die behoeftes van individuele gesinslede met die welstand van die hele gesin probeer balanseer het. 'n Tweede belangrike aspek van die ondersoek is dat slegs 2.4% van terapeute aangedui het dat hulle egskeiding op 'n gereelde basis as moontlike oplossing vir gesinsprobleme voorgestel het (Browning et al. 2000:199), terwyl 33.3% daarop ingestel was om huwelike te red en egskeiding so ver as moontlik te vermy. Wanneer kinders betrokke is, het 56% aangedui dat hulle selfs meer besorg oor egskeiding is. Vanuit die navorsing was dit egter opmerklik dat bykans 25% van pastorale terapeute minder versigtig was wanneer kinders by egskeidings betrokke was (Browning et al. 2000:202).

 

Die sentrale posisie van kinders

Kinders is een van die belangrikste redes waarom die postmoderne kerk op 'n verantwoordelike wyse met die gesin en die huwelik behoort om te gaan (Browning 2007, 2003). Volgens Peck (1978:112) het kinders en huweliksmaats nie net 'n behoefte aan goeie kommunikasie nie, maar in die besonder ook aan nabyheid. Die tipe kommunikasie waardeur mense nabyheid ervaar, is wanneer daar empaties na mekaar geluister word. Peck noem dit intensionele luister en beskryf die waarde daarvan soos volg: 'This knowledge that one is being truly listened to is frequently in and of itself remarkably therapeutic' (Peck 1978:117).

Die klem op verhouding en kwaliteit-kommunikasie beteken nie dat die vorm van gesinne nie in die postmoderne wêreld van belang is nie (Browning 2007:57-58, 40, 53-55, 65-66, 68-70). Browning (2007) stel dit soos volg:

Intact families have, on the whole, more emotional and material resources for this task (of raising children). We need to recognize that family pluralism has too often meant exempting men from their responsibilities in raising children, leaving women to do the job. Some people do not believe that fathers are very important to families... In contrast to this view, we believe that the Christian tradition, common sense, and the recent social-science evidence summarized by Whitehead, Wilson, and others make a strong case for the importance of the educative and moral role of fathers- with children, in addition to their procreative and financial contributions. Even if it were possible to replace fathers with government supports, better-paying jobs for single mothers, day care, and elaborate social and extended-family networks, it would be unhealthy for both men and society to have increasing numbers of single men adrift without connections to families. (bl. 57-58; vgl. Thatcher 1999)

Daar is teoloë wat meen dat kinders uit huisgesinne waar beide natuurlike ouers teenwoordig is, beter daaraan toe is as kinders uit enkelouergesinne en hersaamgestelde gesinne (kyk Browning 2007:57-58; Gottman 1999:3-4; Thatcher 1999:142146). Ideale moet egter nie daartoe bydra dat dié wat nie daaraan voldoen nie, hulle eie 'onwaardigheid' internaliseer nie (vgl. Browning et al. 2000:272; Garland 1999:22). Die ideaal van 'n intact, two-parent family mag nie daartoe lei dat ander as 'afwykend', 'siek' of 'onvoldoende' getipeer word nie. Daar is enkel- en aanneemouers wat groter sukses as biologiese ouers met die opvoeding en welsyn van kinders het (vgl. Thatcher 1999:142). Kerke behoort hiervoor begrip en waardering te hê. In die ontwikkelende wêreld word arm huisgesinne deur armoede, swak gesondheidsdienste, sosiale ongeregtigheid en politieke onrus geraak. Begrip is nodig vir die seerkryverhale van gemolesteerde vroue en kinders wat dit moeilik vind om intieme verhoudings te vestig en in stand te hou. Vir baie mense is die kerk, wat juis 'n 'huis' van aanvaarding en heelwording moet wees, 'n plek waar hulle veroordeel en gestigmatiseer word. Daar is dwingende teologiese en sosiale redes waarom die kerk prioriteit aan die ontwikkeling van 'n grondige, verantwoordbare teologie van die huwelik en gesin behoort te gee.

Die argument dat kinders 'n sentrale posisie in 'n praktiese teologie van gesinne behoort in te neem, word deur insigte vanuit die sielkunde ondersteun. 'Gehegtheid', een van die primêre behoeftes van menswees, verwys na die diepliggende en langtermyn emosionele verbintenis (Sternberg 1995:463). Dit behels die behoefte aan 'n veilige emosionele verbintenis met byvoorbeeld ouers, kinders en lewensmaats (Johnson 2003:4). Dit bied aan kinders 'n veilige basis vanwaar hulle die wêreld kan verken, met die wete dat hulle altyd 'n veilige plek het waarheen hulle kan terugkeer. Die eerste ervaring van gehegtheid is tydens geboorte of selfs vroeër. Voorheen is veronderstel dat gehegtheid by geboorte, bekend as 'binding', slegs tussen moeder en kind belangrik is, maar later is besef dat binding ook tussen vader en kind moet plaasvind (Sternberg 1995:466). Wanneer kinders in 'n omgewing grootword waarin daar nie voldoende binding is nie, het dit verskeie negatiewe gevolge (kyk Johnson 2003:4; Sternberg 1995:463).

Die behoefte aan gehegtheid en binding verdwyn nie na die kinderjare; dit is in alle lewensfases teenwoordig (Sternberg 1995:465; vgl. Johnson 2003:11). Mense is voortdurend op soek na kontak met 'n betekenisvolle ander (Johnson 2003:5). Gottman (2001:19-20) bevestig die belangrikheid van sterk, gesonde emosionele bande tussen ouers en kinders. Wanneer ouers (of ander primêre versorgers) in gebreke bly om gesonde emosionele bande met hul kinders te kweek, ondervind kinders lewenslank probleme om emosionele verbintenisse te vestig. Negatiewe gevolge daarvan mag insluit dat kinders nie emosionele spanning kan hanteer nie, sukkel om aandagtig na ander te luister en probleme ondervind om hulle emosies te beheer (kyk Gottman 2001:22).

Die negatiewe effek van die egskeidingsproses op die geestelike en fisiese gesondheid van volwassenes is bekend (Gottman 1999:3). Die effek op kinders as gevolg van die meegaande huwelikspanning, -konflik en -verbrokkeling is uiteenlopend, maar sluit depressie, sosiale onttrekking, swak sosiale prestasie, gesondheidsprobleme, swak akademiese prestasie, 'n verskeidenheid gedragsprobleme en 'n merkbare afname in lewensduur in (Gottman 1999:4).

 

Gesinsbediening

Die taak van die kerk in die postmoderne tyd is om lidmate met 'n verantwoordelike teologie van die huwelik en gesin te begelei. Browning (2007:226) beskryf hedendaagse gesinsetiek soos volg: 'Die huwelik is 'n nie-hiërargiese, post-patriargale verhouding, geskoei op 'n etiek van wederkerige gelykwaardigheid.' In hierdie verhouding word ruimte gebied vir die spirituele dimensie naas wat hierbo as die 'kontraktuele' beskryf is. Al die volwassenes in die huishouding en in die geloofsfamilie is by die versorging, opvoeding en geloofsvorming van kinders betrokke.

Kerke kan, ter wille van die welsyn van kinders, hande met die burgerlike en koöperatiewe wêreld vat (Browning 2007:227). Dit hoef egter nie 'n binne-kerklike aangeleentheid te wees nie; verskillende geloofstradisies kan mekaar hierin ondersteun (ibid:229). Geloofsgemeenskappe het 'n medeverantwoordelikheid vir opvoedkundige programme (ibid:230-231). Gedurende teologiese opleiding behoort die teologie van die huwelik en die gesin 'n prominente plek te kry (vgl. ibid:231). Kerke het 'n krities-profetiese roeping om die probleme in die samelewing, wat negatief op die gesinslewe kan inwerk, uit te wys en 'n teologiese diskoers hieroor te voer (vgl. ibid':232-233). Die toenemende verskynsel van die 'afwesige pa', asook die probleem van egskeiding, behoort tydens die ontwikkeling van pastorale bedieningspraktyke hoë prioriteit te geniet (vgl. ibid:233-235). Oorkoming van dié probleme sal meer as individuele terapie verg, alhoewel laasgenoemde steeds 'n sentrale plek sal inneem. Wat nodig is, is dat kerke, op die basis van 'n toepaslike gesinsetiek soos in hierdie artikel verwoord, op sistematiese wyse toepaslike bedieningspraktyke sal ontwikkel om gesinne te ondersteun en te versterk.

Al hierdie sake sal 'n plek in 'n verantwoordelike gemeentebou en gesinsbediening kan kry. Browning (2007:226-235) se insigte kan soos volg aangevul word:

  •  Gemeentes behoort 'n kritiese gesinsetiek te ontwikkel.
  •  Gemeentes behoort, in die lig van kommunikatiewe handelinge in diens van die evangelie, teologiese teorieë en gemeentelike programme te ontwikkel om gesinsbediening te ondersteun.
  •  Gemeentes behoort jongmense vir die huwelik- en gesinslewe voor te berei deur toepaslike en effektiewe onderrigprogramme aan te bied.
  •  Gemeentes behoort die negatiewe effek van die hedendaagse verbruikerskultuur te verstaan om gesinne te midde van hierdie werklikheid te kan ondersteun.
  •  Hierdie verantwoordelikheid is 'n ekumeniese roeping en 'n taak wat uitdagings bied om oor die grense van geloofstradisies saam te werk.

Hierdie insigte kan verwerk word om 'n teologiese onderbou aan gesinsbediening te bied omdat gesinsbediening:

  •  God se werk is
  •  tussen kerk en koninkryk onderskei en die verband besef
  •  vernuwingswerk is
  •  kommunikasie van die evangelie is
  •  diens aan God en die mens is
  • n missionaal-teologiese aangeleentheid is
  • n vennootskap tussen die bediening van gemeentes en gesinne is
  • n intergeneratiewe bediening is
  •  die gesin as 'n belangrike geloofsruimte beskou
  •  die gemeente as geloofsfamilie opbou
  •  gesinsverhoudings versterk
  •  die spirituele verhouding met God bevorder
  •  klem op geloofsonderrig lê
  •  missionaal van aard is
  •  nie deur kultuurverskille verhinder word nie
  •  konstruktief tot die welsyn van die postmoderne plurale samelewing bydra.

Gesinsbediening gaan om meer as die gemeente en die gesin. Daar is 'n interaktiewe verhouding tussen vier invloedryke kragte aan die werk, naamlik gesin, gemeente, gemeenskap en kultuur (Strommen & Hardel 2000:18). Hoewel die fokus in hierdie artikel op die verhouding tussen gesin en gemeente geval het, kan die ander twee invloedryke kragte nie geïgnoreer word nie (vgl. Browning 2007:226-235; Heitink 2007:20, 351-354; Niemandt 2007:21-23; Roberto 2010:11-12; Smith & Denton 2005; Thatcher 1999:117-118).

 

Samevatting

Die bydrae van hierdie artikel kan as volg saamgevat word:

Gesinsbediening as intergeneratiewe bediening

Intergeneratiewe bediening wil steeds genoegsaam tussen die onderskeie ouderdoms- en belangegroepe onderskeid tref, maar die eenheid van die gemeente en die integrasie van verskillende geslagte in die gemeente is van primêre belang (Garland 1999:394-395).

Gesinsbediening en geloofsruimte

Die biologiese gesin is nie die primêre fokus van die kerk nie, die geloofsgemeenskap as geloofsfamilie vorm die primêre fokus. Dit beteken nie dat biologiese verwantskappe nie meer 'n rol in gesinsbediening speel nie, maar eerder dat gesinsbediening 'n inklusiewe aangeleentheid is wat alle ander gesinsvorme behoort in te sluit.

Ouers as rolspelers

Die primêre versorgers van kinders, wat hul biologiese ouers of ander volwassenes kan wees, is die belangrikste reisgenote op hulle geloofsreis. Gemeentes behoort gesinne daarom in die nakom van hierdie verantwoordelikheid te ondersteun (Strommen & Hardel 2000:15). Spesifieke gesinsbedieningspraktyke kan geloofsgroei in jongmense bevorder deur geleenthede te voorsien om oor geloof te praat, saam te bid en mekaar en ander te dien.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig in die skryf van hierdie artikel kon beïnvloed nie.

Outeursbydrae

Hierdie artikel is 'n verwerkte weergawe van aspekte van die PhD-verhandeling van J.M.v.S. (Universiteit van Pretoria), met Y.D. (Universiteit van Pretoria) as promotor.

 

Literatuurverwysings

Anderson, D.W., 2011, Vibrant faith in the congregation, Vibrant Faith Publishing, Vancouver.         [ Links ]

Anderson, D.W., 2009, From the great omission to vibrant faith, Vibrant Faith Publishing, Vancouver.         [ Links ]

Anderson, H., Browning, D.S, Evison, I.S. & Stewart van Leeuwen, M., 1998, The family handbook, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Augustine, A., 1997, 'On the good of marriage', in A. Roberts & J. Donaldson (eds.), Nicene and post-Nicene fathers, first series, vol. 3, pp. 397-413, Logos Research Systems, Oak Harbor, WA.         [ Links ]

Aquinas, T., [1265-1274] 1947, Summa Theologica (Kindle Edition), viewed on 13 January 2013 from http://www.amazon.com/dp/B002CQU5WS        [ Links ]

Browning, D.S., 2003, Marriage and modernization: How globalization threatens marriage and what to do about it, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Browning, D.S., 2007, Equalilty and the family. A fundamental, practical theologyof children, mothers, and fathers in modern societies, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Browning, D.S., Miller-McLemore, B.J., Couture, P.D. & Lyon, K.B., [1997] 2000, From culture wars to common ground: Religion and the American family debate, Westminister John Knox, Louisville, KY.         [ Links ]

Buitendag, J., 2002, 'Postliberale teologie as teologiese raamwerk vir die kerk se korporatiewe identiteit/Postliberal theology as theological reference for the church's corporate identity', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 58(1), 1-25. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v58i1.551        [ Links ]

Buitendag, J., 2007, 'Marriage in the theology of Martin Luther - worldly yet sacred: A option between secularism and clericalism', HTS Theological Studies/Theological Studies 63(2), 445-461.         [ Links ]

Dean, K., 2010, Almost Christian. What the faith of our teenagers is telling the American church, University Press, Oxford.         [ Links ]

Dreyer, Y., 2008, '"De-centre-ing" sexual difference in public and ecclesial discourses on marriage', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 64(2), 715-738. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v64i2.41        [ Links ]

Garland, D.R., 1999, Family ministry. A comprehensive guide, InterVarsity Press, Downers Grove, IL.         [ Links ]

Gottman, J.M., 2001, The relationship cure, Three Rivers Press, New York, NY. PMid:11584791        [ Links ]

Guerra, A.J., 2002, Family matters: The role of Christianity in the formation of the Western family, Paragon House, Minnesota, MN.         [ Links ]

Heitink, G., 2007, Een kerk met karakter: Tijd voor heroriëntatie, Uitgeverij Kok, Kampen. PMid:17973879        [ Links ]

Immink, F.G., 2007, 'Tussen secularisering en religiositeit: de dynamic van protestantse theologiebeoefening', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 63(3), 853-861. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v63i3.243        [ Links ]

Johnson, S.M., 2003, 'Introduction to attachment: A therapist's guide to primary relationships and their renewal' in S.M. Johnson & V.E. Whiffen (eds.), Attachment processes in couple and family therapy, pp. 3-17, The Guilford Press, New York, NY.         [ Links ]

Laquet, W., 2005, 'A theory of relationality', in H. Hendrix, H. LaKelly Hunt, M.T. Hannah & W. Luquet (eds.), Imago relationship Therapy pp. 1-10, Jossey-Bass, San Francisco, CA.         [ Links ]

Luther, M., 1999, Luther's works, vols. 1-54, ed. J.J. Pelikan, H.C. Oswald & H.T. Lehmann, Concordia, St Louis, MO.         [ Links ]

Lyon, K.B. & Smith, A. (Jnr) (eds.), 1998, Tending the flock. Congregations and Family Ministry, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Malan, F.S., 2005, 'Vaderskap in die Pauliniese korpus - volgens 1 Korintiërs', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 61(1/2), 253-271. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v61i1/2.443        [ Links ]

Malina, B., 2001, The New Testament world. Insights from cultural anthropology, 3rd edn., Westminster John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Miller-McLemore, B, 2004, 'A feminist Christian theologian looks (askance) at headship', in D. Blankenhorn, D.S. Browning & M.S. van Leeuwen (eds.), Does Christianity teach male headship?, pp. 49-62, William B. Eerdmans Publishing Company, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Niemandt, N., 2007, Nuwe drome vir nuwe werklikhede: Geloofsgemeenskappe in pas met n postmoderne wêreld, Lux Verbi BM, Wellington.         [ Links ]

Osiek, C. & Balch, D.L., 1997, Families in the New Testament world, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Peck, M.S., 1978, The road less traveled, Arrow Books, London.         [ Links ]

Post, S.G., 1998, 'Family', in H. Anderson, D.S. Browning, I.S. Evison & M. Stewert-VanLeeuwen (eds.), The family handbook, pp. 21-23, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Rainey, D., 2001, Ministering to twenty-first century families, Thomas Nelson Publishers, Nashville, TN.         [ Links ]

Roberto, J., 2010, Faith formation 2020: Designing the future of faith formation, LifelongFaith Associates, Vibrant Faith Publishing, Vancouver.         [ Links ]

Ruether, R.R., 2001, Christianity and the making of the modern family, SCM Press, London.         [ Links ]

Sell, C.M., 1995, Family ministry, 2nd edn., Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Smith, C. & Denton, M.L., 2005, Soul searching: The religious and spiritual lives of American teenagers, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Sternberg, R.J., 1995, In search of the human mind, Harcourt Brace College Publishers, Orlando, FL.         [ Links ]

Strommen, M.P. & Hardel, R.A., 2000, Passing on the faith: A radical new model for youth and family ministry, Saint Mary's Press, Winona, MN. PMid:10994835        [ Links ]

Thatcher, A., 1999, Marriage after modernity: Christian marriage in postmodern times, New York University Press, New York, NY.         [ Links ]

Wall, J., Needham, T., Browning, D.S. & James, S., 1999, 'The ethics of relationality: The moral views of therapists engaged in marital and family therapy', Family Relations 48(2), 139-149, viewed 24 January 2013, from http://www.jstor.org/discover/10.2307/585077?uid=2129&uid=2&uid=70&uid=4&sid=21101574921003        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Thinus van Staden
Private Bag X20, Hatfield 0028, Pretoria, South Africa
Email: wysmydieson@gmail.com

Received: 13 Aug. 2013
Accepted: 21 Aug. 2013
Published: 01 Nov. 2013

 

 

Note: This article represents a reworked version of aspects from the PhD dissertation (University of Pretoria) with Prof. Dr Yolanda Dreyer as supervisor.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons