SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.69 issue1Confessional Lutheran commitment in the International Lutheran Council - A conservative contribution of Lutheranism to the Ecumenical AgeThe search for oneself: Introductory notes on ethics and anthropology author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.69 n.1 Pretoria Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

C.H. Dodd se verstaansraamwerk vir die Johannes-evangelie: 'n Evaluasie

 

C.H. Dodd's framework for understanding the Gospel according to John: An evaluation

 

 

Jan G. van der WattI, II

ISource Texts of Judaism and Christianity, Radboud University, the Netherlands
IIResearch Institute for Theology and Religion, University of South Africa, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

During the previous century Dodd was one of the most significant and influential interpreters of the Gospel of John. His views on the symbolic nature of the Gospel formed the basis of his hermeneutical program for understanding the Gospel. He understood the Johannine symbols in the light of what he regarded as the relevant background material. Theologically he interprets the symbols within a Platonic-like structure, arguing that the symbols in John function as hermeneutical bridges between the background material and the theological formation of the Gospel of John. In subsequent literary studies this approach was and still is questioned.


 

 

Inleiding

Charles Harold Dodd, een van die invloedrykste interpreteerders van die Evangelie van Johannes in die vorige eeu, het 'n merkwaardige sensitiwiteit gehad vir die verskillende tipes literatuur wat in hierdie Evangelie gebruik word, veral wat die simboliek betref. Dit is veral in sy twee groot werke oor Johannes, naamlik The interpretation of the Fourth Gospel ([1953] 1968) en Historical tradition in the Fourth Gospel (1979), waar hy sy besondere benadering tot die interpretasie en verstaan van die Johannes-evangelie omvangryk uiteensit. Culpepper (1983:185) verwys dan ook na Dodd se bydrae as 'the most seminal earlier work' as dit by die simboliese aard van die Johannes-evangelie kom. Dodd [1953] 1968:134) het in sy boek The interpretation of the Fourth Gospel, wat onlangs herdruk is, veral aan die gebruik van simboliek, wat hy 'an obvious characteristic of this gospel' noem, aandag gegee. Daarin wy hy 'n hele hoofstuk aan simboliek ([1953] 1968:133-143).1

Soos blyk uit die datums van sy twee bogenoemde boeke is dit sowat 'n halwe eeu gelede dat Dodd sy invloedryke werke oor Johannes geskryf het. In hierdie artikel, wat ek aan prof. J. Loader opdra, gaan teruggekyk word na Dodd se bydrae tot die verstaan van die simboliek en gaan dit in die lig van ontwikkelings en nuwe insigte na Dodd beoordeel word.

 

Hoe kry simbole hulle betekenis volgens Dodd?

Hoe funksioneer simboliek in die Johannes-evangelie volgens Dodd? Dodd ([1953] 1968:133-134) gaan uit van die veronderstelling dat die terminologie en denke van die Johannes-evangelie sterk in verskeie denkrigtings van sy tyd (die Umwelt) ingebed is. Hierdie denkrigtings sluit literatuur in uit die vroeë Christendom, die Rabbynse Judaïsme, Filo, Hermetica en natuurlik die Ou Testament (soos bespreek in Deel I van Dodd ([1953] 1968:3-130). As kind van sy tyd2 argumenteer hy dat Johannes3 sy woorde en hulle betekenisse uit sy Umwelt oorgeneem het. Hy het simboliek as die brug tussen die Umwelt en die Johannese teologie gebruik. Dit was die 'method adopted by the evangelist in presenting his teaching' ([1953] 1968:133). Deur die gebruik van simbole het die outeur van Johannes die agtergrondmateriaal uit die Umwelt met sy eie perspektiewe en idees verweef om sodoende sy teologie te vorm. Om dus die betekenis van die woorde of begrippe in Johannes te bepaal, moet die betekenisse uit die agtergrond vasgestel en op die ekwivalente begrippe in die Evangelie toegepas word.

Hoe sien die interpretasie van simbole by Dodd daar uit (kyk na [1953] 1968:134-137)? Hy identifiseer wat 'n voor die handliggende simbool in Johannes is (bv. herder, wynstok, brood, water) sonder om enige ander kriteria te gebruik wat hom met die identifikasie sou kon help. Dan soek hy in hierdie agtergrondmateriaal (bv. die Ou Testament, Hermetica, Filo) na ekwivalente simbole wat hy in terme van hulle funksionaliteit en semantiek beskryf. Hierdie beskrywing dien dan as 'the rich background of associations' ([1953] 1968:137) waarteen die Johannese begrip semanties beskryf en verryk moet word. In sy bespreking en illustrasie van hierdie proses laat Dodd hom nie eintlik uit oor hoe die 'semantiese beskrywing en verryking' presies moet verloop nie, behalwe vir een of twee voorbeelde wat later bespreek sal word.

Die veronderstelling van hierdie prosedure is dat daar 'n liniêre beïnvloedingsproses vanuit die agtergrondmateriaal uit die Umwelt op die Johannese materiaal is. Op hierdie manier word die Johannese materiaal as't ware in die agtergrondmateriaal geabsorbeer, wat dan die primêre vertaansraamwerk daarvan vorm. Dodd ([1953] 1968:137) meen dat die simbole in Johannes, soos brood of water, 'retire behind the realities for which they stand, and derive their significance from a background of thought in which they had already served as symbols for religious conceptions ...' en 'the symbol is absorbed into the reality it signifies' ([1953] 1968:140).

Dodd ([1953] 1968:138) noem dat die konsep 'water' 'n ou algemeen-gebruikte godsdienstige simbool verteenwoordig wat wyd in Johannes se Umwelt gebruik is. Hy lys die volgende gebruike wat as agtergrondmateriaal vir Johannes kan dien. Water is:

  •  'n natuurlike simbool van reiniging (vgl. Joh 9:7 en 13:5-10)
  •  die prototipe van 'n meer primitiewe skepping ('lower creation') (vgl. Hermetica)
  •  die Tora, Wysheid of Heilige Gees (vgl. die Joodse denkraamwerk)
  •  'n simbool van lewe (vgl. die Ou Testament, Filo)
  •  die water 'onder die hemelruim' en 'bo die hemelruim' (vgl. gnostiese Justinus)
  •  water (en brood) is in vroeg-Christelike sakramente gebruik, wat as motivering vir Johannes gedien het om ook hierdie simbole te gebruik.

Hierdie agtergrondmateriaal bied dan vir Dodd die semantiese basis vir die verstaan van die term 'water' in die Johannes-evangelie. Hy sê: 'it is the rich accumulation of symbolical meaning about the figure that gives its main significance to the water-symbol in the gospel' (Dodd [1953] 1968:138). Weereens beskryf hy nie hoe al hierdie gebruike van water in die agtergrondmateriaal spesifiek die Johannese gebruik van die term 'verryk' of hoe daar te werk gegaan moet word om by die verryking uit te kom nie. Die veronderstelling blyk te wees dat water in die Evangelie geïnterpreteer moet word as afkomstig van en dus verwant aan al die bogenoemde gebruike van die betrokke term in die agtergrondmateriaal. Dodd ([1953] 1968:135) gebruik dieselfde prosedure om die terme verbonde aan die 'herder-skaap allegorie' in Johannes 10 of die 'wingerdstok-lote simboliek' in Johannes 15 te interpreteer, behalwe dat hy hiervoor hoofsaaklik op die Ou Testament en die apokaliptiese literatuur as agtergrondmateriaal fokus.

Met die toenemende belangstelling in die semantiek van die Nuwe Testament in die laaste deel van die vorige eeu, ook in ons eie land onder leiding van prof. Jannie Louw en sy studente, is hierdie benadering van Dodd natuurlik wyd bevraagteken. Hierdie prosedure is problematies en lei tot 'ongeldige totaliteitsoordrag' ('illegitimate totality transfer' -'n term wat sedert Barr 1961:218 as tegniese term in Nuwe-Testamentiese navorsing gebruik word). Hiermee word bedoel dat alle beskikbare kennis of betekenismoontlikhede van 'n betrokke woord op die gebruik van díe bepaalde woord in 'n bepaalde teks van toepassing gemaak word asof die betekenis van die woord in die konteks die totaliteit van die gebruiksmoontlikhede sou omvat. Literêre studie, met Barr (1961) aan die voorpunt, het begin wegbeweeg van hierdie benadering wat veronderstel dat 'n woord gelees en verstaan kan word vanuit die totaliteit van sy 'agtergrondinligting' (kyk bv. Louw 1982, Silva 1983 en Black 1988 as voorbeelde van eerste eksponente; latere publikasies sluit in Porter & Carson 1999). Dodd se sterk klem op die agtergrondmateriaal vir die interpretasie van woorde en konsepte gee natuurlik daartoe aanleiding dat die ko-teks waarin die woord gebruik word nie na behore waardeer of semanties benut word nie - nie sintagmaties nie en ook nie paradigmaties nie. Verskuiwings in die nadenke oor die semantiek kort na die Dodd-geslag het betekenis meer aan ko-tekstuele en kontekstuele gebruik verbind en die fokus meer op 'n kombinasie van woordpotensiaal (leksikografiese betekenis) en assosiatiewe kontekstuele toepassing (aktuele gebruik) in die vasstel van die betekenis van 'n woord laat val. Dit beteken nie dat die agtergrondinligting van 'n woord nie meer van waarde is of vir die verstaan van antieke tekste nie onbelangrik geword het nie. Inteendeel, een van die groot onwikkelings in die Nuwe-Testamentiese wetenskap vandag is juis die effektiewe en vinnige elektroniese toegang tot die breë korpus antieke Griekse tekste (vgl. byvoorbeeld die Thesaurus Linguae Graecae of Yale se Perseus-projek). Daarmee is 'n akkurate oorsig oor die gebruik van 'n Griekse woord moontlik, wat die bepaling van die semantiese potensiaal van die woord soveel akkurater en makliker toeganklik maak. Hierdie agtergrondmateriaal word binne die betekenispotensiaal van 'n betrokke woord deeglik verreken, maar nie as enigste kriterium vir die vasstel van die betekenis van 'n woord nie.

'n Verfyning van die proses van die toepassing van agtergrondmateriaal op spesifieke tekste het ook op 'n ander vlak plaasgevind. Vrae of 'n teks direk of indirek verwys na of afhanklik is van ander agtegrondtekste en of daar aanspelinge op sulke agtergrondtekste is, word vandag met baie meer omsigtigheid hanteer. 'n Voorbeeld: As daar bepaal moet word of Paulus na die Ou Testament verwys, veronderstel dit 'n hele klomp kriteria wat in die bepaling van die afhanklikheid van die betrokke teks van die Ou Testament ter sprake behoort te kom (kyk na Hays 1998:205-225; vgl. ook Halton 2009:58 vir hoe moeilik dit is om verwysings in antieke dokumente te bepaal). Daar kan nie sonder meer en ongemotiveerd gesê word dat een teks van 'n ander afhanklik is nie. Kriteria wat 'n rol speel, is byvoorbeeld:

  •  die beskikbaarheid van die agtergronddokument waarvan die betrokke teks afhanklik sou wees
  •  die herhaalde gebruik van die agtergronddokument in die teks
  •  die duidelikheid van die 'eggo' van die agtergronddokument in die teks
  •  die duidelikheid van die tematiese koherensie tussen die twee tekste
  •  die waarskynlikheid van historiese verwantskap
  •  die interpretasiegeskiedenis.

Die toepassing van hierdie soort kriteria help die wetenskaplike om 'n versigtige aanname te maak of daar by Paulus moontlik 'n verwysing na die Ou Testament kan wees of nie. Die soort kriteria maak die aanname van intertekstuele verwantskappe en invloede tussen tekste meer kontroleerbaar en bewysbaar. Soortgelyke sensitiwiteit is nie by Dodd aanwesig nie.

'n Verdere probleem met die Dodd se benadering is dat hy veronderstel dat daar iewers 'n groep lesers van die Evangelie sou gewees het wat die totaliteit van die agtergrondmateriaal geken het (die Ou Testament, die Rabbynse Judaïsme, Filo, die Hermetica, die vroeg-Christelike tradisies) en die woorde van Johannes dan spesifiek teen díe agtergrond sou verstaan het, of dat die skrywer ten minste veronderstel het dat hulle dit sou kon doen. Volgens kognitiewe taalteorieë het lesers wel die vermoë om die materiaal wat hulle lees, te integreer of binne 'n bepaalde verband te verstaan, maar om te poneer dat die Johannese lesers altyd die totaliteit van die veronderstelde agtergrondmateriaal as verstaanraamwerk sou gebruik het, moet eers nog bewys word.

 

αληθινός as basis vir 'n Plato-agtige filosofiese interpretasieraamwerk

Die merkwaardigste voorbeeld van Dodd se hantering van die agtergrondmateriaal is wanneer hy die byvoeg-like naamwoord άληθινός (waar/eg/betroubaar) bespreek (nie op sigself 'n simbool nie, maar 'n woord wat saam met simbole gebruik word). Hy veronderstel dat die woord άληθινός, hoewel dit ook in sy Hebreeuse betekenis van 'betroubaarheid' in Johannes gebruik word, 'suffered a shift of meaning in passing into Greek' (Dodd [1953] 1968:139) om 'eg' te beteken teenoor dit wat fiktief of 'n kopie is. Dit beteken dus dat die frase τόν άρτον ... τόν άληθινόν ('egte brood' -Joh 6:32), byvoorbeeld sou verwys na 'that spiritual or eternal reality which is symbolized by bread' ([1953] 1968:139), naamlik die 'ware brood', brood soos brood regtig is. Hy verduidelik dit met behulp van 'n verwysing na die bekende 'son-grot' allegorie van Plato waar die skaduwee teen die muur van die grot net 'n afbeelding van 'the ultimate reality' verteenwoordig ([1953] 1968:139 - kyk na Plato, Rep. 506D-517A). Dodd beweer dan dat simbole in Johannes in die lig van hierdie 'Platonic doctrine of ideas' ([1953] 1968:139) geïnterpreteer moet word. Hy beklemtoon egter dat hy nie daarmee wil voorgee dat daar 'n direkte verband tussen die Platoniese 'doctrine of ideas' en Johannes is nie, asof Johannes dit direk uit die Platoniese filosofiese denke sou oorgeneem het nie.

Hy sê:

there is ample evidence that in thoughtful religious circles at the time, and circles with which Johannine thought has demonstrable affinities, that doctrine had entered into the texture of thought. (Dodd [1953] 1968:139)

Op hierdie wyse het dit ook deel van die Johannese denkwêreld geword en dus behoort die Johannese teologie in hierdie lig verstaan te word.

Dodd ([1953] 1968:140) interpreteer ook ander Johannese simbole binne die raamwerk van hierdie 'Plato-agtige' filosofiese raamwerk, soos duidelik word uit die volgende aanhalings: 'Truevine' is dit wat 'n wingerdstok 'n wingerdstok maak, 'at once its inner essence, and the transcendental real existence which abides while all concrete vines grow and decay'. Brood of wyn en dies mees is nie 'mere illustrations or analogies' nie (Dodd [1953] 1968:140). Dodd ([1953] 1968) sê verder:

a vine ... bodies forth the eternal Idea of Vine ... Describe the eternal vine, therefore, the ή άµπελος ή άληθινή, and you are describing every vine, in every respect which constitutes its vine-ness. What makes a shepherd a shepherd? The fact that he realizes in himself the eternal idea of shepherdhood, which is manifested in Christ. (bl. 140)

Die laaste frase, naamlik, 'which is manifested in Christ' dui aan hoe die ware en outentieke 'wingerd-wees' of 'herderwees' aan Jesus verbind behoort te word: Hy is die ware manifestasie daarvan. Gebaseer op dié filosofiese sisteem verteenwoordig Jesus dus elke keer die egte of outentieke, of dit nou brood, wingerdstok of herder is. Op die wyse word Jesus dus self 'n simbool van alles wat eg is. In hom is die ware brood of ware wynstok verteenwoordig.

Dodd ([1953] 1968:134) is verder van mening dat indien daar in die gespreksgedeeltes nie direkte aanduidings vir 'n simboliese interpretasie van die betrokke gedeelte is nie, 'the reader is intended to seek a similar symbolical interpretation'. Dit veronderstel 'n filosofiese onderbou sonder om die kontekstuele en ko-tekstuele beperkings van die teks self ernstig te neem.

Dodd se voorstel, dat die 'Plato-agtige' filosofiese sisteem as interpretasieraamwerk vir die Johannese simbole en teologie gebruik moet word, lei tot meer vrae as antwoorde.4 Soos reeds genoem, verstaan Dodd άληθινός in Johannes in die Griekse sin van 'eg', wat hom dan daartoe lei om die simbole soos brood of wingerdstok in die lig van die 'Plato-agtige' filosofiese sisteem as die 'egte' brood of die 'egte' wingerdstok te verstaan. Die koppeling tussen die filosofiese sisteem en die Johannese denke probeer hy nie uitgebreid motiveer nie, behalwe om te beweer dat die tipe denkraamwerk wel in sy tyd bekend aan Johannes was (kyk veral na Dodd [1953] 1968:65 en verder). Die meriete van Dodd se argumente in hierdie verband gaan nie hier verder bespreek word nie (vgl. bv. Hirsch-Luipold 2006 vir verdere bespreking hieroor). Natuurlik sou 'n mens nie wou ontken dat Platoniese idees wel in daardie tyd in sirkulasie was nie, maar daar kan nie sondermeer aanvaar word dat Johannes die essensie van sy teologiese nadenke en struktuur op hierdie idees gebaseer het nie. Na my mening is meer bewyse daarvoor nodig as wat Dodd bied.

Hoewel verskeie aspekte van Dodd se benadering problematies is, wil ek net twee noem. Die eerste raak sy aanname dat die woord άληθινός in die Griekse sin 'eg' verstaan moet word, wat dan alle woorde wat daarmee saam gebruik word, binne 'n 'Plato-agtige' filosofiese interpretatiewe raamwerk plaas. Resente semantiese analises van die 'konsep waarheid' in Johannes het aan die lig gebring dat Johannes die term άληθινός in 'n baie breër en meer genuanseerde sin gebruik as wat Dodd bereid was om toe te gee (kyk na Ibuki 1972; Van der Watt 2009). Waarheid in die Johannes-evangelie word primêr aan die Skeppergod verbind wat beteken dat dit in terme van God gedefinieer behoort te word. Dit kan dien as verwysing na wat in terme van die openbaring van Jesus waar en outentiek maar ook betroubaar is, na die goddelike (ewige) sfeer waarin gelowiges hulleself bevind, of na die kwaliteit van optrede van die kinders van God, ensovoorts (Van der Watt 2009; Schnackenburg 1980:236-237). Die skerp onderskeid tussen die Griekse en Hebreeuse gebruike, waarop Dodd sy argument bou en wat in die vorige eeu populêr was, moet baie versigtig gebruik word as die by die Johannese benutting daarvan kom, veral omdat die onderskeid gewoon nie altyd geldig is nie (Van der Watt 2009:317-333; vgl. Mburu 2010). Dit plaas 'n vraagteken oor Dodd se argument, want die toepassing van die woord kan nie beperk word tot die 'Griekse gebruik' daarvan nie. Na my mening verteenwoordig die Griekse gebruik, soos wat Dodd dit veronderstel, nie die primêre gebruik in die Evangelie van Johannes nie. Die basis van die probleem is daarin geleë dat Dodd nie die Johannese ko-tekste waarin die woord άληθινός gebruik genoegsaam in ag neem nie, maar die betekenis van die woorde en begrippe vanuit die agtergrondmateriaal probeer verstaan. So word die 'Plato-agtige' idees op die Johannese teologiese denke geprojekteer.

 

Dodd in die lig van resente ontwikkelings in metafoorteorieë

Dodd se benadering om simbole (wat hy ook per geleentheid metafore noem) deur middel van die agtergrondmateriaal te interpreteer, word ook sterk deur resente metafoornavorsing bevraagteken. Sedert Dodd is wesenlike vordering in die teoretisering oor die aard en funksie van metafore gemaak, veral op die gebied van 'kognitiewe metafoorteorieë' (kyk na Lakoff & Johnson 1980; Lakoff [1993] 1998) asook op die gebied van benaderings wat op die literêre verwantskap en vervlegting van metafore klem lê (kyk na Grabe 1984, 1985; Van der Watt 2000; Busse 2002). Hierdie artikel fokus nie op die ontwikkeling van metafoorteorieë oor die afgelope aantal jare nie, wat besprekings oor besonderhede in dié verband uitsluit. Tog is dit nodig om aan 'n paar hoofgedagtes aandag te gee.

Hoewel Paul Ricoeur (1976 as voorbeeld) se refleksie oor simbole en metafore steeds 'n invloed het, het daar sedertdien onder leiding van kognitiewe taalkundiges soos Lakoff en Johnson (1980; vgl. Lakoff 1998; Kövecses 2012:4) 'n wesenlike paradigmaskuif in die teoretisering oor metafore gekom. Literêre teoretici soos Gräbe (1984, 1985; kyk na Van der Watt 2000 oor Johannese metafore5) het onafhanklik van kognitiewe insigte tot soortgelyke gevolgtrekkings gekom.

Dit is 'n vraag of die ontwikkelings op die terrein van metafoorteorie die interpretasie van Johannes sedert Dodd verryk het. Kognitiewe metafoorteorie gaan uit van die veronderstelling dat metafore nie in linguistiese uitsprake in die teks te vinde is nie, maar eerder verstaan moet word in terme van 'n konseptuele domein wat in terme van 'n ander konseptuele domein verstaan moet word (waar 'n konseptuele domein verstaan moet word as 'any coherent organization of experience' - Kövecses 2012:4, gebaseer op Lakoff en Johnson 1980). As daar, byvoorbeeld, gesê word, 'Daardie kind het 'n goeie begin in die lewe gemaak maar is nou by 'n kruispad', word die konseptuele domein van die lewe (teikendomein) verstaan in verhouding tot die konseptuele domein van 'n reis (brondomein = alles wat ons uit ondervinding weet van 'n reis - onder andere oor die begin of kruispaaie). Met ander woorde, as daar gesê word, 'Jesus is die wynstok en die dissipels is die lote', is die brondomein (die domein wat die interpretatiewe materiaal vir die interpretatiewe proses verskaf) die domein van wynbou. Die teikendomein (wat verryk word deur die brondomein) is Jesus en sy dissipels. In terme van kognitiewe metaforiek word gesê dat die teikendomein volgens of aan die hand van die brondomein gekarteer (mapped) word. Fasette van 'n wynstok word op Jesus 'toegepas' (= gekarteer) in soverre daar ooreenstemming bestaan. Op die basis van domeine word verwante materiaal saamgegroepeer en geïnterpreteer, byvoorbeeld alle woorde wat in Hoofstuk 15 aan wynboerdery herinner, word saam gelees.

Die elemente wat so op mekaar toegepas kan word, met ander woorde, in interrelasie tot mekaar gelees kan word, moet egter eers bepaal en beskryf word. Met ander woorde, die inhoud van die domein moet bepaal word. Byvoorbeeld, as dit om wynbou gaan, moet die inligting wat met wynbou verband hou as inhoud van die domein weergegee word. Na aanleiding van hierdie inhoud van die brondomein vind kartering op die teikendomein plaas - die teikendomein word beskryf in terme van die karakteristieke van die brondomein. Anders gesê: Wie Jesus is en wat Hy doen (as teikendomein) word gestruktureer volgens die brondomein van die wingerdstok (Joh 15) of die herder (Joh 10). Die uitdaging is om te weet wat om by so 'n beskrywing van die konseptuele brondomein (bv. wingerdbou of skaapboerdery) in te sluit. Immers, 'wingerdboerdery' in verskillende situasies en tye is sosiaal en kultureel bepaald. Daarom is die skep van konseptuele domeine wat op antieke tekste toegepas moet word nie so eenvoudig nie. Eintlik moet 'n 'databasis' oor wat wingerdboerdery in die antieke tyd alles behels het, saamgestel word. Die aard van hierdie databasis sal uiteindelik die kartering, en dus wat oor Jesus gesê word, bepaal. Net dit wat as deel van die brondomein bekend is, en slegs dit, sal in die kartering 'n rol kan speel.

Dieselfde idee van tematiese vervlegting van vergelykbare konsepte vorm ook deel van die literêre benaderings tot metafore, veral in die meer klassieke teorieë soos dié van Black (1976; vgl. ook Gräbe 1984, 1985; Geeraerts 1986). Elders is daarop gewys (Van der Watt 2000:394-433) dat Johannes beelde ontwikkel deur verwante woorde en begrippe te gebruik, soos byvoorbeeld, wynstok, lote, snoei en vrugte. Hierdie woorde dui gesamentlik daarop dat dit hier om wingerdboerdery gaan. Hierdie verwante woorde wat gesamentlik 'n beeld vorm, byna soos 'n mosaïek (vgl. Zimmermann 2004:407-424), stem ooreen met wat in kognitiewe teorieë domeine genoem word. Culpepper (1983:185) argumenteer dat die saamgroepeer van individuele metafore 'n sinvolle manier is om metafore in Johannes te interpreteer. Kysar (1996:36-38) gebruik die term 'metaphorical ecosystem' hiervoor.

Hoe konstrueer die interpreteerder 'n 'konseptuele domein' of wat in meer klassieke teorieë 'n 'sisteem van gemeenskaplikhede' (system of commonplaces) genoem word? (kyk na Black 1988:41; vgl. Geeraerts 1986:144 vir die verskillende maniere waarop dit gedoen kan word). Hier kom Dodd se beskrywing van die agtergrondmateriaal ter sprake. Dit help ons om insig te kry in wat moontlik deel van Johannes se konseptuele domein van wingerd- of skaapboerdery en so meer kon gewees het. Die vermoeë om Dodd se beperkte databasis verder met behulp van moderne elektroniese hulpmiddels soos die TLG of ander databasisse (byvoorbeeld Yale se Perseusprojek) te kan uitbrei, help ons om te verstaan wat die antieke mense kognitief met wingerdboerdery geassosieer het. Daar kan met reg beweer word dat Dodd op sy eie manier gedoen het wat kognitiewe teorieë voorstel 'n mens met die vorming van kognitiewe domeine en die interpretasie van simbole behoort te doen.

Dit is jammer dat daar nie by Dodd verdere teoretiese refleksie oor die aanwending van die agtergrondmateriaal in die verstaan van die simbole van Johannes te vinde is nie. Dit is egter juis hier waar teorieë wat ná hom gevolg het, verder beweeg het. Elders word daarna verwys dat die interaksie tussen die 'merker' (signifier) en dit wat 'gemerk' word (signified), oftewel die karteringsproses, in Johannes op 'analogie' gebaseer is (Van der Watt 2000:111-160). Die twee 'domeine', die een van Jesus en die een van die wingerdstok, is verwant aan mekaar op grond van dit wat analoog6 tussen hulle is, asook wat in die spesifieke konteks pas. Analogie veronderstel dat daar sowel 'n punt van ooreenkoms as punte van verskil tussen die twee 'domeine' bestaan. In sekere opsigte sal daar ooreenkomste wees tussen die 'merker' en dit wat 'gemerk' is, terwyl hulle in ander opsigte glad nie verwant sal wees nie. Soos Schneiders (1991) dit stel, metafore:

exist in and even as linguistic tension involving a simultaneous affirmation and negation of the likeness between the two terms of a metaphor. The metaphor contains an 'is' and an 'is not' held in irresolvable tension. (bl. 29)

Byvoorbeeld, in die metaforiese uitdrukking 'die Vader "snoei" die dissipels (soos lote)' lê die ooreenkoms in die idee van reiniging. Die verskil lê in die onderskeid tussen die reinigingsproses van plante en van mense (vgl. Van der Watt 2000:17).

 

Betekenis en vorm

Dodd ([1953] 1968:135) maak 'n teoreties belangrike opmerking as hy oor Johannes 10 die volgende sê: 'The pastoral imagery is only a fluctuating series of symbols for various aspects of the work of Christ' (kursief myne), en 'Christ is the real subject of all the statements made, and shepherd and gate are cryptograms'. Implisiet in hierdie opmerkings is die erkenning dat elemente van die beeldspraak (bv. herder en wingerdstok) opsigself nie dominant is nie; dit dien eerder om die boodskap oor en van Jesus op 'n effektiewe manier duideliker te maak. Die boodskap het prioriteit bo die vorm van uitdrukking (elemente van die beeldspraak). Dit laat die outeur toe om verskillende aspekte van dieselfde simbool of selfs verskillende simbole te gebruik om aan sy boodskap uitdrukking te gee. Hy voel homself dus nie ingeperk deur die struktuur of inherente karakter van die simbool nie, maar laat hom lei deur die boodskap wat daardie simbole moet oordra (so kan Jesus byvoorbeeld tegelyk die deur vir die skape wees maar ook die skape lei - Joh 10:7-10; so Van der Watt 2000; Lee 2002 het verkeerdelik hierdie insig probeer weerspreek). Dodd het hierdie insig gedeel. Hy wys tereg daarop dat selfs Johannes se gebruik van spesifieke woorde die prioriteit van die boodskap bo die vorm onderstreep. Hy sê byvoorbeeld dat woorde of frases soos καθαίρει of καθαροί, [rein of skoon] µείνατε έν έµοί, κάγώ έν ύµΐν [bly in my, soos Ek in julle] in Johannes 15 nie begrippe is wat normaalweg vir die beskrywing van wingerdboerdery gebruik is in die sin waarin Johannes dit gebruik nie. Hy argumenteer dat Johannes hierdie ongewone woorde doelbewus gebruik juis om die klem op Jesus se boodskap te laat val (Dodd [1953] 1968):

The language indeed changes to and fro between the literal and the metaphorical in a way which would be bewildering, if the reader were not conscious all through that all the statements made really refer to Christ and His disciples... (bl. 136)

 

Is die narratiewe volgens Dodd ook simbolies?

Dit bring ons by die volgende vraag: wat van die verhalende of narratiewe gedeeltes in die Johannes-evangelie? Dodd ([1953] 1968:133-134) beskou die Johannes-evangelie tereg as 'n verhaal wat as raamwerk vir 'n reeks redevoerings dien. Hy ([1953] 1968:134) argumenteer dat die redevoerings deurgaans simbolies verstaan moet word. '[T]he reader is intended to seek a similar symbolical interpretation' waar daar nie direk geïnsinueer word dat dit om simboliek in die redevoering gaan nie. Wat van die narratiewe in die Evangelie? Volgens Dodd moet verhale ewe-eens simbolies geïnterpreteer word. Hy wys daarop dat 'the contiguous discourses are so related to the narratives as to indicate that these are to be understood symbolically' ([1953] 1968:134).

Deurdat Dodd ([1953] 1968:140) 'n 'Plato-agtige' filosofiese raamwerk vir die interpretasie van Johannese materiaal voorstel, is dit vir hom moontlik om die narratiewe binne die simboliese interpretasiesisteem in te trek, want die filosofiese sisteem is op dit wat 'eg' is en die afbeelding daarvan gebaseer. Hy argumenteer dat Jesus nie alleen as herder of wingerdstok in geskepte (invented) simbole funksioneer nie, maar dat sy konkrete aksies in die narratiewe ook simbolies van aard is, soos blyk uit die narratiewe van die genesing van die blinde man wat sy oë met water moes gaan was:

The healing of the blind by Christ is the cleansing of the soul from error, and its illumination with the light of life; for the water in which he washes is called Siloam, i.e. άπεσταλµένος, and the One Sent is Christ... There is the same intrinsic unity of symbol and thing symbolized. (bl. 140)

Die narratiewe moet dus as simbole hanteer word net soos die redevoerings simbolies van aard is. Soos Jesus simbolies agter die simbool van die herder verskuil lê, so lê hy en sy boodskap ook simbolies agter die verhale van die genesing van die blinde man of die vermeerdering van die brode verskuil (Dodd [1953] 1968:135). Hy merk op dat 'in a world in which everything derives its reality from the eternal Idea' ([1953] 1968:140) verteenwoordig sekere gebeure die ewige idees op meer ideale wyse as andere. 'Such are the events of the life of Jesus' ([1953] 1968:140). Die simboliese aard van Jesus as die ewige en ware Idee word dus in sowel die redevoerings as die narratiewe weergegee.

Dodd substansieer sy standpunt dat die narratiewe simbolies gelees behoort te word verder deur daarop te wys dat sommige narratiewe in die Johannese teks as σηµεία [tekens] beskryf word, wat 'n simboliese lees veronderstel. Dodd ([1953] 1968:142) beargumenteer die moontlike referensies van die woord σηµείον [teken] en kom tot die konklusie dat die woord in Johannes in die sin van 'simbool' gebruik word. Van die Johannese narratiewe word σηµεία genoem, wat beteken dat hulle simbolies verstaan moet word. Jesus se aksies soos die vermeerdering van die brood en vis (Joh 6) of die genesing van die blinde man (Joh 9) moet dus simbolies geïnterpreteer word. Dodd ([1953] 1968:142) sê by voorbeeld, 'the first intention of the feeding of the multitude' is om die ewige waarheid te simboliseer dat Jesus lewe aan mense gee:

yet in the development of the argument we discover that Christ's work ... is accomplished, in reality and actuality, by the historical act of His death and resurrection. In that sense, every σηµείον in the narrative points forward to the great climax. (bl. 142)

Dit open die hele Evangelie ongeag die genre vir simboliese interpretasie:

Such are the events of the life of Jesus ... The feeding of the multitude with loaves is the nurturing of the soul with life eternal, for Christ who gives the bread is the Bread of Life. There is the same intrinsic unity of symbol and thing symbolized. (Dodd [1953] 1698:140)

Hy gaan verder deur te beklemtoon dat nie alleen die aksies van Jesus wat σηµεία genoem word, simbolies verstaan moet word nie:

We can hardly doubt that the evangelist considered such acts as the cleansing or the Temple and the washing of the disciples' feet as σηµεία. In both these cases he suggests a symbolical interpretation. (Dodd [1953] 1968:142)

Daarom kan Dodd ([1953] 1968) tot die volgende slotsom kom:

To a writer with the philosophical presuppositions of the evangelist there is no reason why a narrative should not be at the same time factually true and symbolic of a deeper truth, since things and events in this world derive what reality they possess from the eternal Ideas they embody. Thus the very nature of the symbolism employed by the evangelist reflects his fundamental Weltanschauung. He writes in terms of a world in which phenomena - things and events - are a living and moving image of the eternal, and not a veil of illusion to hide it, a world in which the Word is made flesh. (bl. 142-143)

Volgens Dodd moet die redevoeringe, narratiewe, ja, die hele Evangelie simbolies geïnterpreteer word, wat die lees van die Johannes-evangelie 'n konstante proses van referensie maak - daar moet voordurend gevra word waarna die woorde of narratiewe refereer sodat die simboliese - en dus ware - betekenis van die woord of narratief na vore gebring kan word. Selfs Jesus as karakter in die narratief word simbolies hanteer as die simbool van dit wat werklik waar of eg is, of dit nou die herder of die wingerdstok is - Hy verteenwoordig die ware, egte, ewige Idee. Op hierdie wyse word die simboliese aard van Johannes in en deur die 'Plato-agtige' filosofiese raamwerk hermeneuties ondersteun.

 

Simboliek en historisiteit

Dodd maak dus 'n besliste hermeneutiese keuse: Hy lees die Johannes-evangelie simbolies. Hy onderskei tog tussen geskepte simbole en historiese gebeure as simbole. Hoewel hy Johannes simbolies lees, ontken hy dus nie die historisiteit van die gebeure of dat Johannes soos die sinoptiese evangelies in vroeg-Christelike tradisies gewortel is nie. Via sy 'Plato-agtige' benadering tot die teks kan sonder spanning aan die historiese gebeure ook simboliese kwaliteite toegeskryf word. Dit is dus nie vir hom 'n geval van 'of-of' nie, maar 'en-en'. Daarmee herinner Dodd dat die Evangelie nie as historiese verhandeling geskryf is nie, maar dat dit gebeure is wat binne 'n teologiese raamwerk weergegee word (Joh 20:30-31) en dat dit so gelees moet word. Hy herinner ons dat as ons die Johannes-evangelie lees ons voortdurend gekonfronteer word met sy basiese Weltanschauung waarin dinge en gebeure 'a living and moving imagery of the eternal (form), and not a veil of illusion to hide it, a world in which the Word is made flesh' ([1953] 1968:143). Deur simboliek verkry die leser toegang tot die wêreld van Johannes.

Aan die ander kant is hierdie benadering van Dodd nie sonder probleme nie. Is die verwagting dat elke fynste besonderheid in Johannes simbolies geïnterpreteer moet word, byvoorbeeld, Aenon in 3:23 of die 153 visse in 21:11, hoewel dit nie kontekstueel duidelik is dat dit simbolies verstaan moet word nie? As daar geen aanduiding in die teks self is van hoe die besonderhede verstaan moet word nie, watter simboliese interpretasie moet dan daaraan geheg word? Verder moet genoem word dat Dodd in sy besprekings net selektiewe voorbeelde - natuurlik die mees voor die handliggende - gebruik. Hy behandel nie voorbeelde wat nie sy interpretatiewe model pas nie en dit maak dit moeilik om te antisipeer wat Dodd in bogenoemde gevalle sou wou doen. 'n Vraag bly: Wat is Dodd se bedoeling presies - dat letterlik alles simbolies geïnterpreteer moet word of dat daar tog selektief te werk gegaan mag word en sekere aspekte van die Evangelie nie simbolies geïnterpreteer hoef te word nie? Moet daar steeds gesoek word na die simboliese betekenis van Aenon hoewel daar geen ooglopende simboliese kwaliteite aan verbonde is nie, of mag daar eenvoudig 'n ander rede aan verbind word, byvoorbeeld dat dit bloot narratiewe informasie wil deurgee? Op grond van sy 'Platoagtige' interpretasieraamwerk lyk dit tog of Dodd sou voel dat sy simboliese agenda so ver moontlik deurgevoer behoort te word. Dit lei natuurlik tot die gevaar van oorinterpretasie.

'n Verdere probleem is dat Dodd as gevolg van sy 'Plato-agtige' hermeneutiese benadering sy hele interpretasie van Johannes daardeur laat kleur en so eintlik 'die stem van Johannes self' stilmaak. Die benadering is 'n goeie voorbeeld van die gevaar om 'n eksterne filosofiese benadering as interpretasiesleutel vir 'n teks te gebruik. Die gevaar is daar om idees in die teks in te lees wat nie noodwendig so bedoel is nie. Die klem het in die laaste dekades van die vorige eeu en die eerste dekade van hierdie eeu (wat op die periode van die 'Dodd-generasie' volg), meer geval op die voordele daarvan om die interpretasieproses by die teks self te laat begin. Dit lei dan tot 'n multidimensionele en interaktiewe eksegetiese proses waarin al die fasette van die teks, onder andere ook die simboliese, filosofiese of historiese fasette, in dinamiese interaksie verreken word.

 

Konklusie

By wyse van konklusie kan tereg gesê word, in die woorde van Culpepper, dat Dodd se werk die 'most seminal earlier work' oor simboliek in die Johannes-evangelie is. Dodd het fyn insig getoon, soos uitgewys in die bespreking hierbo. Tog was Dodd 'n kind van sy tyd in die manier waarop hy simbole hanteer het, deurdat hy op die 'agtergrondmateriaal' as interpretasieraamwerk vir die Johannese simbole klem gelê het. Deur opnuut sy werk te lees, raak 'n mens weereens bewus van die aansienlike ontwikkeling en groei in die literêre verstaan van die Johannes-evangelie oor die afgelope halfeeu. Natuurlik word Dodd se tekortkominge deur hierdie nuwe insigte en benaderings uitgewys, maar daar moet erken word dat die Johannese navorsing sonder die bydraes wat Dodd gemaak het en die uitdagings wat hy gestel het vandag veel armer sou gewees het.

 

Erkenning

Mededingende belang

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Barr, J., 1961, The semantics of biblical language, Wipf & Stock, Eugene.         [ Links ]

Black, D.A., 1988, Linguistics for students of New Testament Greek, Baker, Grand Rapids.         [ Links ]

Black, M., 1976, Models and metaphors, Cornell University Press, Ithaca.         [ Links ]

Busse, U., 2002, Das Johannesevangelium: Bildlichkeit, Diskurs und Ritual. Mit einer Bibliographie über den Zeitraum 1986-1998, Peeters, Leuven.         [ Links ]

Coloe, M., 2001, God dwells with us: Temple symbolism in the Fourth Gospel, Liturgical Press, Collegeville.         [ Links ]

Culpepper, R.A., 1983, Anatomy of the Fourth Gospel: A study in literary design, Fortress, Philadelphia. PMCid:370365        [ Links ]

Dodd, C.H., [1953] 1968, The interpretation of the Fourth Gospel, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Dodd, C.H., 1979, Historical tradition in the Fourth Gospel, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Geeraerts, D., 1986, Woordbetekenis: Een overzicht van de lexicale semantiek, Peeters, Leuven. PMid:3564332        [ Links ]

Gräbe, I., 1984, Aspekte van poëtiese taalgebruik: Teoretiese verkenning en toepassing, Universiteit van Potchefstroom, Potchefstroom.         [ Links ]

Gräbe, I., 1985, Metaphor and interpretation, Van Schaik, Pretoria.         [ Links ]

Halton, C., 2009, 'Allusions to the stream of tradition in Neo-Assyrian oracles', Ancient Near Eastern Studies 46, 50-61. http://dx.doi.org/10.2143/ANES.46.0.2040709        [ Links ]

Hays, R.B., 1998, '"Who has believed our message?" Paul's reading of Isaiah', Society of Biblical Literature Seminar Papers 1998, Scholars Press, Atlanta.         [ Links ]

Hirsch-Luipold, R., 2006, 'Klartext in Bildern. αληθινός κτλ., παρρησία, σηµεΐον als Signal für eine bildhafte Darstellungsform im Johannesevangelium', in J. Frey, J.G. van der Watt & R. Zimmermann (eds.), Imagery in the Gospel of John: Terms, forms, themes, and theology of Johannine figurative language, pp. 61-102, Mohr Siebeck, Tübingen.

Ibuki, Y., 1972, Die Wahrheit im Johannesevangelium, Hanstein, Bonn.         [ Links ]

Jones, L.P., The symbol of water in the Gospel according to John, Sheffield Academic Press, Sheffield.         [ Links ]

Koester, C., 2003, Symbolism in the Fourth Gospel: Meaning, mystery, community, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Kövecses, Z., 2012, Metaphor: A practical introduction, Oxford University Press, Oxford. PMid:22481811        [ Links ]

Kysar, R., 1996, 'The making of metaphor: Another reading of John 3:1-15', in F.F. Segovia (ed.), 'What is John?' Readers and readings of the Fourth Gospel, pp. 21-42, Scholars Press, Atlanta.         [ Links ]

Lakoff, G., [1993] 1998, 'The contemporary theory of metaphor', in A. Ortony (ed.), Metaphor and thought, 2 edn., pp. 202-251, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Lakoff, G. & Johnson, M., 1980, Metaphors we live by, University of Chicago Press, Chicago. PMid:11661871        [ Links ]

Lausberg, H., 1990, Handbuch der literarischen Rhetorik: Eine Grundlegung der Literaturwissenschaft, Steiner, Stuttgart.         [ Links ]

Lee, D., 1994, The symbolic narratives of the Fourth Gospel: The interplay of form and meaning, , Sheffield Academic Press, Sheffield. (JSOT suppl. 95).         [ Links ]

Lee, D., 2002, Flesh and glory: Symbolism, gender and theology in the Gospel of John, Crossroad Publishing, New York.         [ Links ]

Louw, J.P., 1982, Semantics of New Testament Greek, Scholars, Atlanta.         [ Links ]

Mburu, E.W., 2010, Qumran and the origins of Johannine language and symbolism, T&T Clark, London.         [ Links ]

Ng, W-J., 2001, Water symbolism in John: An eschatological interpretation, Lang, New York.         [ Links ]

Peyre, H., 1980, What is symbolism?, University of Alabama Press, Tuscaloosa.         [ Links ]

Porter, S.E. & Carson, D.A., 1999, Linguistics and the New Testament: Critical junctures, Sheffield Academic Press, Sheffield.         [ Links ]

Ricoeur, P., 1976, Interpretation theory: Discourse and the surplus of meaning, Texas University Press, Fort Worth.         [ Links ]

Schnackenburg, R., 1980, The Gospel according to St. John, vol. 2, Burns and Oats, London.         [ Links ]

Schneiders, S.M., 1991, The revelatory text: Interpreting the New Testament as sacred literature, Liturgical Press, San Francisco.         [ Links ]

Schwankl, O., 1995, Licht und Finsternis: Ein metaphorisches Paradigma in den johanneischen Schriften, Herder, Freiburg et ali.         [ Links ]

Silva, M., 1983, Biblical words and their meaning: An introduction to lexical semantics, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

Van der Watt, J., 2000, Family of the King: Dynamics of metaphor in the Gospel according to John, Brill, Leiden. PMid:11028222        [ Links ]

Van der Watt, J., 2009, 'The good and the truth in John', in E. Poplutz (ed.), Studien zu Matthäus und Johannes/Études sur Matthieu et Jean, Festschrift für Jean Zumstein, pp. 317-333, Theologischer Verlag Zürich, Zürich.         [ Links ]

Zimmermann, R., 2004, Christologie der Bilder im Johannesevangelium: Die Christopetik des vierten Evangeliums unter besonderer Berücksichtigung von Joh 10, Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Zimmermann, R., 2006, 'Imagery in John: Opening up paths into the tangled thicket of John's figurative world', in J. Frey, J.G. van der Watt & R. Zimmermann (eds.), Imagery in the Gospel of John: Terms, forms, themes, and theology of Johannine figurative language, pp. 1-43, Mohr Siebeck,Tübingen. PMCid:1334190        [ Links ]

 

 

Correspondence:
Jan van der Watt
Paterserf 7
6584GA Molenhoek, the Netherlands
Email: janvanderwatt@kpnmail.nl

Received: 05 Oct. 2012
Accepted: 24 Jan. 2013
Published: 26 Aug. 2013
Republished: 30 Sept. 2013

 

 

Note: This article was republished with the correct second affiliation of the author.
1. Die probleem van terminologie moet hier genoem word. Peyre (1980:1) merk op dat die woord 'simboliek' maklik tot verwarring kan lei. Dodd ontkom ook nie daaraan nie en gebruik verskillende terme soos simboliek, metafoor, beeldspraak, allegorie, figuurlike take, ensovoorts as tipe sinonieme, wat dit natuurlik nie is nie. Culpepper (1983:188-189; kyk ook na Van der Watt 2000:1vv.) vra vir die duideliker definiëring van hierdie terme, aangesien elkeen van die terme 'n ander faset van die taalhandeling in die oog het. Omdat dit 'n gesprek op sy eie is, word daar nie hier verder daarop ingegaan nie.
2. Dodd het in die vorige eeu in die tyd van die totstandkoming van die 'Kittel-woordeboeke' (Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament) geskryf. Die veronderstelling was dat die begrippe in die Nuwe-Testamentiese dokumente hul betekenis vind in die semantiek van soortgelyke begrippe in die dokumente uit die Umwelt.
3. Die woord 'Johannes' word bloot gebruik om na die skrywer van die Evangelie en soms die evangelie self te verwys sonder om daarmee enige werklike aanname te maak oor wie die skrywer(s) werklik was.
4. Die impak van die gebruik van so 'n filosofiese sisteem kry 'n mens ook in Dodd se verstaan van Jesus se verandering van water in wyn. Simbolies is die water die 'lower order of life' wat in die 'wyn van die ewige lewe' verander word ([1953] 1968:311-312). Maar in 3:5 word dit geassosieer met pneu 'ma as 'source of the higher life' ([1953] 1968:312). Verder sê hy dat die Tora in Rabbynse literatuur geassosieer word met 'water wat jou dors les'. Dit sou beteken dat die Tora as water tot die 'lower order of life' behoort ([1953] 1968:312). In werklikheid word die wyn in hoofstuk 2 nie simbolies met ewige lewe in die Evangelie geassosieer nie. Na my mening word sy vertolking nie kontekstueel ondersteun nie.
5. Vir 'n oorsig oor die verstaan van simboliek in Johannes tot en met die tagtigerjare, vergelyk Culpepper (1983:185-190). Vergelyk verder, byvoorbeeld, Koester ([1995] 2003), Schwankl (1995), Kysar (1996), Jones (1997), Busse (2002), Lee (1994, 2002), Ng (2001), Coloe (2001), Zimmermann (2004, 2006) en Mburu (2010).
6. Lausberg (1990:284-285) noem dat analogie in antieke literatuur bekend was. Dit was bekend as 'proportionellen Tausch: 'Zwischen der metaphorischen Bezeichnung und dem so Bezeichneten muβ also eine similitudo bestehen ... Da die similitudo keine Grenzen kennt, stehen auch der Metapher alle Möglichkeiten offen: Cic. De Or. 3, 40, 161'.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License