SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.69 issue1The calling of the churchSome aspects of Adolf von Harnack's criticism on Orthodox tradition author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.69 n.1 Pretoria Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die Hervormde Kerk en apartheid

 

The Reformed Church and apartheid

 

 

Wim A. Dreyer

Department of Church History and Church Polity, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

This contribution examines the changing attitude of the Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) towards apartheid, specifically since the Second World War. The NHKA's views started with a theological justification of apartheid and the complete identification of the church with Afrikaner nationalism, moving to a position of critical solidarity and eventually the rejection of apartheid and its own theological justification of apartheid in 2010.


 

 

Inleiding

Die rol wat kerke in die teologiese begronding van apartheid gespeel het, is al breedvoerig beskryf. Daar is egter relatief min aandag aan die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA)1 se teologiese begronding van apartheid gegee. Slegs enkele artikels het op 'n kritiese wyse hieraan aandag gegee (vgl. Wolff 2006; Venter 1999). In hierdie bydrae word aangetoon hoe die NHKA na die Tweede Wêreldoorlog apartheid in die praktyk bevorder en teologies begrond het en hoe daar 'n verandering in denke plaasgevind het totdat die 69ste Algemene Kerkvergadering (AKV) die teologiese begronding van apartheid verwerp het.

Die 69ste AKV het in 2010 die teologiese begronding van apartheid as 'strydig met die evangelie' verklaar. Dit het met die stigting van die Bond van Onafhanklike Hervormde Kerke aan die begin van 2013 tot kerkskeuring gelei.

Tydens die 69ste AKV het 247 (58.8%) van die afgevaardigdes ten gunste van die volgende voorstel gestem:

Besluit 54

Die 69e AKV maak in die lig van die 68e AKV se besluit dat dit verkeerd was om 'n bepaalde regeringsbeleid goed te praat, onomwonde die uitspraak dat Apartheid nie teologies geregverdig kan word nie. Die kerk verwerp sy goedkeuring van Apartheid omdat dit:

  • in stryd is met die evangelie van Jesus Christus
  • gebaseer is op die idee van onderlinge onversoenlikheid
  • onreg sanksioneer
  • die beeld van God in mense aantas
  • die vergadering beklemtoon die Bybels-teologiese aard van die uitspraak. (NHKA 2010:109)

In hierdie bydrae word aangetoon dat Besluit 54 histories gesproke 'n waterskeiding in die NHKA se teologiese nadenke en amptelike standpunte oor apartheid verteenwoordig. Daar sal ook aangetoon word dat Besluit 54 deel was van 'n denkskuif waarvan die eerste tekens reeds in A. van Selms en A.S. Geyser se kritiek teen die kerk se standpunt ten opsigte van apartheid te bespeur was, kritiek wat deur 'n volgende geslag teoloë soos J.A. Loader, J. Buitendag en A.G. van Aarde voortgesit is.

Besluit 54 van die 69ste AKV stel onomwonde dat die wyse waarop die kerk apartheid teologies begrond en goedgekeur het, strydig is met die evangelie en dat dit onreg gesanksioneer het. Die woordjie 'dit' verwys dus in die eerste plek na die handelinge van die kerk wat strydig was met die evangelie en nie na apartheid as sodanig nie.

Omdat Beskrywingspunt 54 pertinent oor teologiese uitsprake van die kerk handel en daar by talle lidmate en ampsdraers van die NHKA steeds die persepsie bestaan dat die NHKA nooit apartheid teologies regverdig en begrond het nie, noem en bespreek hierdie bydrae kortliks sommige van die belangrikste uitsprake van die NHKA oor apartheid. Die belangrike vraag wat beantwoord moet word, is die volgende: Wat het die kerk inderdaad op grond van bepaalde teologiese insigte oor apartheid gesê?

 

Uitsprake van die NHKA oor apartheid

Vervolgens word die amptelike dokumente van die NHKA, waarin die teologiese begronding en goedkeuring van apartheid verwoord word chronologies aan die orde gestel.

Die Kerkwet van 1951

In 1951 het die AKV 'n Kerkwet aanvaar (NHKA 1951) waarvan Artikel III bepaal dat:

Artikel III

Die Kerk, bewus van die gevare wat vermenging van blank en nie-blank vir altwee groepe inhou, wil geen gelykstelling in sy midde toelaat nie, maar beoog die stigting van eie volkskerke onder die verskillende volksgroepe, in die oortuiging dat aldus die bevel van die Here - 'Maak dissipels van alle nasies' Matteus 28:19, die beste tot sy reg sal kom en dat die eenheid in Christus deur so 'n werkverdeling nie geskaad sal word nie. Tot die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika behoort daarom net blanke persone.

Die term 'geen gelykstelling' in Artikel III is opvallend. Reeds in 1939 het die redakteur van Die Hervormer in 'n redaksionele artikel geskryf dat die 'Hervormde Kerk op voetspoor van die Voortrekkers konsekwent volgehou het met sy beswaar teen gelykstelling'. Hy bepleit die voortsetting van die beleid van 'geen gelykstelling' op staatkundige en kerklike terrein (Dreyer 1939). 'Geen gelykstelling' is op kerklike terrein in Artikel III verskans.

Histories gesproke is die term 'geen gelykstelling' die begrip wat 'Apartheid' vooraf gegaan het. Die begrip 'Apartheid' is weer deur die begrip 'afsonderlike ontwikkeling' gevolg.

Botha (1986:51) het aangetoon hoe wyd die begrip 'geen gelykstelling' in die negentiende eeu benut is. Die eerste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuidelike-Afrika het in 1824 in Kaapstad sitting geneem. Reeds by die vergadering van die AKV in 1829 het van die afgevaardigdes daarteen beswaar aangeteken dat blanke en nie-blanke lidmate die Nagmaal gesamentlik moes vier. Hierna word 'nie-gelykstelling' 'n deurlopende punt van bespreking in kerklike tydskrifte, kerklike vergaderings en algemene gesprekke. Teen 1857 besluit die Kaapse Sinode dat aparte eredienste en Nagmaalsbediening vanweë die swakheid van sommige toegelaat word. Dit sou ook lei tot die vestiging van 'n selfstandige kerk waarin die nie-blanke lidmate van die Kaapse kerk opgeneem is (vgl. Botha 1986:5665). Hierteen het ds. P. Huet van Pietermaritzburg, wat onder die Voortrekkers in Natal gewerk het, sterk beswaar gemaak in 'n boek met die titel Eene kudde en een Herder. Dit het hom die gramskap van baie op die hals gehaal soos blyk uit 'n resensie wat die redakteur van die tydskrif Elpis oor Huet se boek geskryf het (Elpis Deel IV 1860:117-182).

In die Zuid-Afrikaansche Republiek het die term 'geen gelykstelling' deur Artikel 9 van die ZAR Grondwet van 1857/1858 amptelike status gekry. Dit het bepaal dat daar geen gelykstelling tussen blanke 'ingezetenen' [burgers] en mense van kleur sal wees nie. In September 1861 het die Kommissie van die AKV die Volksraad gevra om Artikels 8, 9, 11, 20, 21, 22 en 23 van die Grondwet gevra. Op 02 Augustus 1862 het 'n afvaardiging van die Kommissie van die AKV bymekaargekom en verklaar dat 'geen gelykstelling' beteken dat mense van kleur nie dieselfde regte as blankes in kerk en staat het nie (vgl. notules van die Algemene Kommissie, NHKA 1862:97).

Die term 'geen gelykstelling' was tot ongeveer 1930 algemeen in gebruik, waarna dit stelselmatig met die term 'Apartheid' vervang is (Botha 1986:13). Giliomee bevestig die datering deur daarop te wys dat die term 'Apartheid' in 1929 die eerste keer in dokumente verskyn (Giliomee 2004:405). Na 'n konferensie oor die sendingwerk van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat op Kroonstad is die referate gepubliseer. Daarin verwoord ds. J.C. du Plessis die NG Kerk se sendingbeleid as 'n beleid en gees van 'Apartheid, wat ons gedragslyn nog altyd gekenmerk het'. Met apartheid het Du Plessis bedoel dat die heidene met behoud van hulle rasse-identiteit geëvangeliseer moet word.

Dit is dus opvallend dat 'n negentiende-eeuse politieke begrip, wat inhoudelik daarop neergekom het dat nie-blanke persone geen voorregte in kerk of staat geniet het nie, in 1951 deur die AKV gebruik is om die lidmaatskap van die NHKA tot blanke persone te beperk.

Die Rapport oor Artikel III (1961; vgl. teks in Van Wyk 1978:225) wat aan die Kommissie van die AKV voorgelê is, het ook nader op die betekenis van die term 'geen gelykstelling' ingegaan. Dit word gedoen deur te definieer wat 'gelykstelling' sou wees: Dit is daardie toestand waarin Blank en Nie-blank op gelyke voet, sosiaal en andersins sonder beperkinge, met mekaar verkeer (vgl. teks in Van Wyk 1978:225).2 Die kerk wys sosiale interaksie (insluitend kerklike interaksie), waar blanke en nie-blanke persone op gelyke vlak ontmoet, ten sterkste af.

Tegelykertyd beveel die Rapport aan dat die term gelykstelling met die term vermenging vervang moet word, omdat eersgenoemde die indruk van meerderwaardigheid skep, terwyl die beleid eintlik gelyke en afsonderlike geleenthede vir almal in gedagte het.

Alhoewel Artikel III van die 1951 Kerkwet nie die term 'Apartheid' benut om lidmaatskap van die kerk tot blankes te beperk nie, word die ouer term 'geen gelykstelling', wat dieselfde draagwydte het, wel gebruik.

Memorandum to the Central Committee of the WCC (1957)

Na 'n bespreking van Artikel III en eksegetiese gegewens vanuit die Ou- en Nuwe Testament, kom die Kommissie van die AKV in 1957 tot die gevolgtrekking dat (1) alle mense sondaars is; (2) alle mense as sondaars voor God gelyk is; (3) gemengde eredienste onwenslik is; en (4) die NHKA op grond van praktiese ondervinding weet dat kerklike skeiding die beste werkbare praktyk is. Die insigte is verwoord in 'n memorandum wat aan die Wêreldraad van Kerke (WRK) beskikbaar gestel is (vgl. teks in Van Wyk 1978:194-195).

Ten opsigte van apartheid stel die Kommissie die volgende standpunt aan die Wêreldraad van Kerke:

The native policy of the Union is based on the fact that the white people of South Africa has the same right as England or Holland or India, to decide what the future of the country shall be, and who shall be admitted to full citizenship. If we therefore decide that the areas belonging to us shall be white man's country, we have the same right to do so, as any other country has. The same principle applies to the areas belonging to the Bantus. (vgl. teks in Van Wyk 1978:190)

Verder wys die Kommissie die WRK daarop dat die Wit mense die Swart mense nog altyd goed versorg het, dat mense uit ander Afrikalande graag na Suid-Afrika verhuis en dat die rassebeleid van Suid-Afrika daarom nie veroordeel kan word nie.

Ten opsigte van gemengde huwelike is die standpunt van die Kommissie dat daar nie Skriftuurlike gegewens daarvoor of daarteen is nie, maar dat 'n huwelik oor die kleurgrens na die mening van die kerk nie gewens is nie.

Memorandum on five matters for discussion at the Cottesloe Conference (1960)

Tydens die Cottesloe Beraad, wat onder leiding van die Wêreldraad van Kerke plaasgevind het en oor apartheid gehandel het, het die NHKA 'n dokument voorgelê waarin die Kommissie van die AKV 'n oorsig oor die geskiedenis van Suid-Afrika gee. Die volgende standpunte word gestel:

... it is the conviction of the vast majority of the people of South Africa that the speediest and only just solution lies in the development towards separate attainment of full nationhood for the existing units - the only way of ensuring a permanent pattern of co-existence in which law and order will not be disrupted ... At the same time this direction ensures the right and freedom of the white people to preserve their Western culture ... This policy requires the firm ending of the process of integration ... It is inevitable that in doing this, individuals and even groups, may suffer temporary hardships. (vgl. Van Wyk 1978:197)

Verder wys die Kommissie daarop dat die kerk se 'insistence on separate development' gesien moet word as deel van die kerk se profetiese roeping om teenoor die owerheid te getuig. In die uitgebreide memorandum word apartheid onomwonde tot enigste werkbare politieke stelsel vir Suid-Afrika verklaar, 'n stelsel wat die kerk heelhartig ondersteun en wil bevorder.

Na afloop van die Cottesloe Beraad en die besluite wat daar geneem is, het die NHKA op 14 April 1960 'n amptelike verklaring in die pers uitgereik wat soos volg lui:

Ons bely en getuig

Dat ons glo uit die diepste oortuiging van ons siel dat aparte ontwikkeling die enigste, Christelik gefundeerde, regverdige beleid is, vir ons land met sy bevolkingsamestelling;

Dat enige ander beleid soos die van vermenging, veelrassige state, ensovoorts 'n gevaar inhou ... vir on-Christelike selfhandhawing ...

Dat dit 'n Christenkerk betaam om aan die Bantoe openlik en eerlik te sê dat ons hom nie in ons kerk wil opneem nie, omdat dit onregverdig, onbroederlik en onverantwoordelik is om van hom te verwag dat hy 'n namaaksel van ons Blanke moet word. Ons gun hom wat ons vir onsself opeis, naamlik dat hy God sal dien in 'n eie selfstandige kerk waar hy deur sy eie leraars bedien kan word en in ooreenstemming met sy eie volksaard en in sy eie taal God kan verheerlik ... (vgl. teks in Van Wyk 1978:210)

Na afloop van die Cottesloe Beraad was daar verskeie kerke wat met die NHKA in korrespondensie getree het. Die Kommissie het geantwoord met skrywes aan die Free Church Federal Council in England (1960), 'n openbare persverklaring (1961) en 'n brief aan die Algemene Kommissie van die Presbyterian Churches of Victoria (vgl. teks in Van Wyk 1978:211-218).

Opvallend van hierdie briefwisseling is die feit dat die Kommissie van die AKV sonder huiwering en voluit op die politieke terrein beweeg het en met mag en mening apartheid as politieke stelsel verdedig het. Die volgende stellings word (onder andere) gemaak:

The South African policy of Apartheid is not based on racial discrimination, but exactly the opposite. Its basic principle is that every man, whether he be White or Black, has the right to develop to the full ...

The Union of South Africa consists of two distinct territories ... We claim that the White area never at any time belonged to the Bantu ... We claim our country for ourselves. We did not rob it from anybody, but occupied it when it was an empty waste ... It is no easy matter for a small people of 3 000 000 to lead 9 000 000 primitive people to their destiny ... We see it as our duty placed upon us by God ... (vgl. Teks in Van Wyk 1978:211)

Rapport aan die AKV insake Artikel III (1961)

Na die Cottesloe Beraad het die NHKA 'n studiekommissie aangewys wat 'n Rapport oor Artikel III moes opstel (vgl. teks in Van Wyk 1978:218 e.v.). Die Rapport begin deur daarop te wys dat die beleid van die kerk om lidmaatskap tot blankes te beperk sy oorsprong in die praktyk van rasseskeiding in Suid-Afrika en die Heilige Skrif het. Daarmee het die NHKA nogmaals die beleid van apartheid teologies begrond.

Die Rapport kom tot die gevolgtrekking dat Artikel III op 'n 'histories-gegroeide situasie berus en is as sodanig 'n erfenis van die verlede'. Die argument is duidelik: Die gebruike van die verlede word gebruik om die praktyke van die hede te legitimeer.

Die Rapport oor Artikel III kom tot die slotsom dat Artikel III gehandhaaf moet word omdat dit op 'n bepaalde interpretasie van die Skrif gegrond is (Gaan dan na al die nasies en maak hulle my dissipels Mt 28), asook op die kerk se standpunt dat:

  • rassevermenging gevaarlik is
  • nie-gelykstelling in die kerk wenslik is, op grond van drie eeue se ervaring in Afrika
  • almal gelyke geleenthede in aparte kerke moet ontvang
  • sodanige werkverdeling skaad nie die eenheid van die kerk nie
  • die NHKA die historiese en Godgegewe verantwoordelikheid het om die Westerse waardes en kultuur te beskerm.

Gelyke Geleenthede: Antwoord aan die Nederlands Hervormde Kerk (1963)

In die loop van 1963 het die Nederlands Hervormde Kerk 'n herderlike skrywe met die titel Het Rassenvraagstuk versprei. Daarop het die Kommissie van die AKV die Nederlandse kerk met omvattende dokument met die titel Gelyke Geleenthede geantwoord (vgl. teks in Van Wyk 1978:242-257).

In Het Rassenvraagstuk maak die Nederlandse Hervormde Kerk die stelling dat 'een kerk, tot welke niet-blanken geen toegang hebben, heeft op dit punt opgehouden christelijke kerk, gemeente van Jezus Christus te zijn (vgl. teks in Van Wyk 1978:245).

Die reaksie van die Kommissie was dat die Nederlands Hervormde Kerk deur vals persberigte mislei word en nie werklik die situasie in Suid-Afrika verstaan nie. Daar word uitgebreid gereageer op die invloed van die sosialisme in Europa en die vreemde teologiese tendense wat daar waarneembaar is. Die implikasie van hierdie logika is dat die Europese kritiek teen apartheid die resultaat van 'n sosialistiese ideologie en 'n vreemde teologie is.

Die Kommissie van die AKV sluit af deur instemming met die woorde van staatspresident C.R. Swart te betuig: 'Geregtigheid aan elkeen, en vooruitgang binne elke rasgroep se eie kring tot op die hoogste lewenspeil, bly die doelwit van al my Regering se handel en wandel' (vgl. teks in Van Wyk 1978:254). Hiermee het die NHKA hom volmondig by die politieke leiers van die dag geskaar en selfs die president se intreerede tydens Republiekwording (1961) as motivering vir standpunte benut.

Verder stel die Kommissie dit duidelik dat 'dit in hierdie owerheidsbeleid fundamenteel gaan om die uitvoering van die gebod van Jesus Christus in Matteus 22:39: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself"' (vgl. teks in Van Wyk 1978:254). Duideliker kon die kerk sy goedkeuring van apartheid nie stel nie: Apartheid is gehoorsaamheid aan die Christelike liefdesgebod.

Die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Afrikaner Broederbond (1964)

In hierdie tyd was daar toenemend kritiek op die rol wat die Afrikaner Broederbond in die kerk gespeel het. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het op 18 Desember 1963 aan een van sy lede, ouderling J.C. Oelofse ('n prokureur), opdrag gegee om 'n ondersoek na Die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Afrikaner Broederbond te doen (Oelofse 1964). Die resultate van die ondersoek is in pamfletvorm versprei en het op 23 April 1964 by die AKV gedien. Oudl. Oelofse (1964) kom na oorweging van alle beskikbare getuienis tot die gevolgtrekking dat die Afrikaner Broederbond:

... nie 'n ander Teologie of Leer verkondig of verstaan of impliseer as wat ons in Gods Woord vind en deur ons Kerk bely word nie

... nie in die verlede of in die hede enige pogings aangewend het of nog aanwend om standpunte en menings wat strydig is met die van die Kerk, aan die Kerk deur opdragte aan sy lede aan die Kerk op te dring nie, en dat die Afrikaner Broederbond nie 'n wurggreep op die kerk probeer toepas nie. (bl. 62)

In terme van die Broederbond se Grondwet mag slegs Afrikaanssprekende, blanke mans van 25 jaar en ouer aan die organisasie behoort. Tydens die inlywing van nuwe lede moes hulle 'n belofte aflê:

om te leef in die vaste geloof dat die lotgevalle van nasies deur 'n Almagtige, Goddelike hand bestier word en dat u steeds sal vashou aan die Christelike-historiese tradisie wat die erfdeel van ons Afrikanernasie is, soos gefundeer op die twee tafels van die Heilige Wet van God. (Oelofse 1964:28)

Oelofse verwys na 'n buitengewone omsendbrief van die Afrikaner Broederbond (gedateer 01 Augustus 1962) waarin apartheid verdedig word en die dreigende aanslae teen die afsonderlike voortbestaan van 'n selfstandige Afrikanernasie, wat vanaf sy ontstaan die vervulling van 'n eie roeping op Christelik-nasionale grondslag in sy eie vaderland nagestreef het, beskryf word.

Talle lidmate en predikante van die NHKA was lede van die Broederbond. Oelofse kom tot die gevolgtrekking dat die Broederbond geensins kerklike besluite beïnvloed nie, 'omdat die ideale van die Broederbond grootliks ooreenstem met die Kerkwet van die NHKA en besluite van die AKV.' Hy vra die vraag: 'Hoe kan ons Kerk oor die saak beïnvloed word as die Kerkwet en die Algemene Kerkvergadering reeds vantevore duidelik dieselfde standpunt gehuldig het?' (Oelofse 1964:50).

Die logika is duidelik: Die NHKA en die Afrikaner Broederbond deel dieselfde ideale en beginsels ten opsigte van die Christelike geloof en die handhawing van die Afrikanervolk se politieke selfstandigheid. Daar kan dus geen sprake van onregmatige beïnvloeding wees nie.

 

Herderlike Skrywe van die Algemene Kerkvergadering (1973)

As gevolg van internasionale kritiek teen apartheid en die Afrikaanse kerke se standpunt daaroor het die Algemene Kerkvergadering van 1973 dit nodig gevind om 'n Herderlike Skrywe na al die gemeentes te stuur. In die uitgebreide Herderlike Skrywe word 'n paar stellings gemaak wat aandag verdien (vgl. teks in Van Wyk 1978:258-272):

  • Die kerk het 'n gefundeerde standpunt oor volkereverhoudings op maatskaplike gebied. Hierdie standpunt word bondig in Artikel III van die Kerkwet saamgevat. Dit is dus opvallend dat die Herderlike Skrywe Artikel III nie net as kerklike reëling verstaan het nie, maar ook as 'n samevatting van volkereverhoudings in Suid-Afrika.
  • In die ontleding van Artikel III spreek die kerk sigself ondubbelsinnig uit 'teen elke vorm van integrasie (kerklik, maatskaplik en biologies), as hy dit pertinent stel dat hy geen vermenging in sy midde toelaat nie.' Hierdie formulering laat geen twyfel dat daar 'n direkte verband tussen Artikel III (wat lidmaatskap tot blankes beperk) en apartheid bestaan nie. Die enigste afleiding waartoe 'n mens kan kom, is dat die kerk met Artikel III apartheid in die Kerkwet gelegitimeer en verskans het. Dit gaan in Artikel III 'om die behoud van die identiteit van die (Afrikaner) volk soos God hom gemaak het.'
  • In Artikel III het die kerk sigself teen integrasie op politiek-maatskaplike gebied uitgespreek en kies per implikasie daarmee vir afsonderlike ontwikkeling.

Met die enkele aanhalings uit die Herderlike Skrywe van 1973 is dit baie duidelik dat Artikel III nie net as praktiese maatreël ten opsigte van lidmaatskap verstaan is nie, maar as deel van die groter stelsel van gedwonge rasseskeiding, bekend as apartheid. In die Herderlike Skrywe stel die AKV dit onomwonde dat die NHKA alle vorme van integrasie in kerk en staat teenstaan.

Apartheid word beskryf as die enigste eerlike en Christelike beleid wat die oorheersing van een groep deur 'n ander sal voorkom. Apartheid word aangebied as 'n beleid wat met die algemene Skriftuurlike beginsels ooreenstem, soos byvoorbeeld dat God verskillende volke geskep het, dat die bestaan van die Afrikanervolk deel is van God se voorsienigheid, dat segregasie mense teen oorheersing en uitbuiting beskerm en dat Artikel III die sending bevorder deur die verkondiging ook op ander mense te rig.

Verder word aangetoon dat strukturele eenheid tussen gelowiges nie nodig is nie, alleen maar die eenheid in geloof. Die bestaan van verskillende volkskerke word beskou as 'n praktiese saak wat op die natuurlike verskille in taal en kultuur gebou is.

Dit is baie duidelik dat die Herderlike Skrywe van 1973 'n teologiese begronding vir apartheid aanbied en daarmee apartheid ook goedkeur. Dit word veral duidelik in die frase 'die kerk wil dit beklemtoon dat dit vir hom in die onderhawige saak nie slegs om 'n tussentydse reëling gaan nie, maar om 'n blywende en onveranderlike beginsel wat Skriftuurlik fundeer is'(vgl. teks in Van Wyk 1978:261).

Besluite van die AKV oor afsonderlike ontwikkeling (1976)

Die gedagtes van die Herderlike Skrywe van 1973 is herhaal in besluite wat die AKV in 1976 geneem het. Die standpunte het egter 'n baie direkter en konkreter inhoud verkry (vgl. teks in Van Wyk 1978:272-273) deurdat die owerheid formeel versoek is om voort te gaan om afsonderlike ontwikkeling op alle terreine te verwesenlik, die vestiging van etniese woongebiede te bevorder en die hervestiging van nie-blankes te versnel.

Die AKV het die owerheid verseker van 'sy ondubbelsinnige steun ... met die bewerkstelliging van 'n gelukkige toekoms vir alle mense in ons vaderland'. Die AKV het met hierdie uitspraak morele en godsdienstige regverdiging vir gedwonge verskuiwings verskaf (wat dikwels met geweld gepaard gegaan het).

Die AKV het ook gemaan dat daar versigtig omgegaan word met:

enige kontak, assosiasie en Christelike toenadering tussen lede van verskillende rassegroepe, tot bewaring van die afstand waarsonder eerbiediging van mekaar se eiesoortigheid en gesamentlike aanvaarding van Christelike verantwoordelikheid vir die toekoms van alle mense onmoontlik is. (vgl. teks in Van Wyk 1978:273-274)

Getuienis van die Kommissie van die AKV (1977)

Die Kommissie van die AKV het dit in 1977 goedgedink om 'n omvattende Getuienis te lewer (vgl. teks in Van Wyk 1978:274-279). Ter inleiding word die bekende standpunt bevestig dat 'die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ag 'n beleid wat gelyke en afsonderlike geleenthede vir elke volk en volksgroep in Suid-Afrika bied, steeds die beste in die Suid-Afrikaanse situasie'.

Dit word verder omlyn met die woorde: 'Ons is verder daarvan oortuig dat onreg, vernederende maatreëls en krenkende optrede nie inherent aan so 'n beleid is nie' (vgl. teks in Van Wyk 1978:275). Die Kommissie meen dat waar daar wel onreg gepleeg word en krenkend opgetree word, dit met die 'regte gesindheid' uit die weg geruim kan word.

Uit hierdie formulering blyk dit dat die kerk wel besef het dat daar probleme met die implementering van apartheid was, maar dat dit oorkom kan word as almal net die regte gesindheid sou openbaar. Hierdie polities-naïewe standpunt het nie die erns van byvoorbeeld die destydse pas afgelope Soweto-opstande verreken nie. Die Getuienis het voortgegaan om (byvoorbeeld) teenoor die:

  • owerheid te getuig dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling in sy volle konsekwensie toegepas moet word
  • burgers van Suid-Afrika te getuig dat hulle verantwoordelikheid vir die bevordering van gesonde volkereverhoudings moet aanvaar
  • Afrikanervolk te getuig dat hy sy identiteit as volk met alles in sy vermoë sal verdedig, ingeslote die strewe na vryheid en selfbeskikking
  • kerk in Suid-Afrika dat hulle hul sal losmaak van ekumeniese liggame wat hulle as forums vir kritiek teen Suid-Afrika laat gebruik
  • gemeentes en lidmate van die NHKA dat daar voortdurend vir die Christelike owerheid van Suid-Afrika gebid moet word.

Die Getuienis sluit af deur gesamentlike eredienste en aanbidding af te wys en die handhawing van die Wet op Gemengde Huwelike en die Ontugwet te bepleit.

Studiekommissie (1978/1979)

As gevolg van volgehoue druk oor Artikel III en die NHKA se volkskerkdenke het die Kommissie van die AKV in 1978 'n studiekommissie aangewys wat die saak moes ondersoek. Die kommissie het studiestukke van 15 predikante en professore ontvang. Die studiestukke is verwerk in verslag wat saam met die bylaes bykans 300 bladsye beslaan (vgl. NKHA 1979:297-565).

In die gedeelte oor afsonderlike ontwikkeling (bl. 313) beredeneer die studiekommissie die standpunt dat daar nie meer soos in die verlede uitgegaan kan word van God se skeppingsorde en 'n ewig, onveranderlike beginsel ingegee deur die Skrif nie. Afsonderlike ontwikkeling moet eerder as 'n praktiese politieke oplossing vir die land se probleme beskou word.

In hierdie verslag wat in 1979 voor die AKV gedien het, is daar vir die eerste keer 'n nuwe benadering op te merk, naamlik dat apartheid en afsonderlike kerke as 'n praktiese reëling gesien word in pleks van 'n politieke stelsel wat op Skriftuurlike beginsels berus.

Kerk en Wêreld 2000 (1985)

In 1985 het 'n belangrike dokument, Kerk en Wêreld 2000, verskyn. Dit was die resultaat van twee jaar se navorsing deur verskillende teoloë. Die studiestukke wat as die basis van die dokument dien, is redaksioneel deur G.C. Velthuysen versorg en verwerk (Velthuysen 1985).

In Kerk en Wêreld 2000 blyk die NHKA se voortgesette ondersteuning van apartheid duidelik. Daar word onder andere die volgende stelling gemaak:

'n Politieke beleid wat voorsiening maak vir gelyke en afsonderlike geleenthede skep die moontlikheid dat afsonderlike volke nie in die demografiese pot weggekook sal word nie. Die NHKA kan gevolglik moeilik, gesien sy begrip van homself as volkskerk, anders as om so 'n beleid in beginsel te steun nie. Hy sal sekerlik ook nie anders kan as om op te staan en by die voorstanders van afsonderlikheid getel te word nie. Die kerk oordeel dat, volgens die teleologiese norm wat hy gebruik, sy keuse ten gunste van afsonderlikheid nie in stryd met die etiese eis van die Skrif is nie ... (Velthuysen 1985:66-67)

Uit hierdie aanhaling uit Kerk en Wêreld 2000 word die begrip 'volkskerk' direk aan afsonderlike ontwikkeling verbind. Die standpunt is: Omdat die NHKA 'n volkskerk is, kan hy nie anders as om apartheid te ondersteun nie.

Daar word ook die etiese uitspraak gemaak dat afsonderlikheid (1) nie strydig is met die etiese eise van die Skrif nie en (2) in lyn is met 'n teleologiese norm, dit wil sê dat dit 'n goeie saak bedoel en in die oog het. Tog word die ondersteuning aan apartheid gekwalifiseer. Die kerk moet hom distansieer van misstande soos:

  • ongelykheid en viktimisasie in wetstoepassing
  • gedwonge verskuiwing van mense uit gevestigde woongebiede
  • die uitbuiting van mense met die oog op woekerwins
  • wetlike belemmerings ten opsigte van normale huweliksverhoudings
  • ongevoelige toepassing van klein-apartheid.

Dit is duidelik dat daar by die NHKA toenemend die besef gegroei het dat die implementering van apartheid dikwels met onreg en geweld gepaard gegaan het.

Kerk en politiek: Herderlike Skrywe aan lidmate van die NHKA (1990)

'n Duidelike verskuiwing in denke vind ons in die Herderlike Skrywe met die titel Kerk en Politiek (NHKA 1990) wat die Kommissie van die AKV in 1990 na die gemeentes gestuur het. In die dokument word die kerk se beskouing van die staat, menseregte, die onderwys, kommunisme, die teologie van bevryding, die ekonomie en kerkbegrip bespreek. In vergelyking met die Herderlike Skrywe van 1973 verteenwoordig dit 'n fundamentele skuif, nie soseer deur wat daar geskryf staan nie, maar deur wat weggelaat is - in die dokument is daar geen uiteensetting of verdediging van apartheid of Artikel III nie. Veel eerder word die sending aan ander volke as die gelowiges se belangrikste roeping beklemtoon. In dieselfde hoofstuk word enige vorm van rassisme, asook enige rassistiese maatreëls wat die waardigheid van mense aantas, verwerp.

Waar daar wel oor die handhawing van die eie identiteit gepraat word, word die lidmate gemaan om dit op so 'n wyse te doen dat dit nie die waardigheid van ander mense aantas nie. Die gedagte van Kerk en Wêreld 2000 word weer herhaal: Die NHKA wil 'n kritiese afstand van die Afrikanervolk handhaaf, maar wil tegelykertyd solidêr met die volk leef. Dit is duidelik dat die onkritiese aaneenskakeling van kerk en volk toenemend problematies geword het. In die twee dokumente sou 'n mens die NHKA se verhouding met die Afrikanervolk as profeties en krities-solidêr kon definieer.

Skuldbelydenis oor apartheid (2001)

Dit is ook nodig om te verwys na die 66ste AKV van 2001, waar die saak van 'n skuldbelydenis oor apartheid op die tafel verskyn het. Drie memoranda is aangebied, en sonder bespreking is die dokument van dr. D.J.C. van Wyk (snr.), as 'n kompromis, aanvaar. In die skuldbelydenis oor apartheid stel die AKV:

... dat die kerk kennis neem van die misdade wat onder die Apartheidsbeleid gepleeg is, selfs deur lidmate van die kerk. Daarvoor bely die kerk sy skuld voor God en word die lidmate opgeroep tot 'n skuldbelydenis teenoor God en medemens. (NHKA 2001:171-174)

Die opvallende van hierdie skuldbelydenis is dat apartheid as stelsel nie veroordeel word nie, slegs die dade wat mense onder apartheid gepleeg het. Die indruk is dus dat apartheid as politieke stelsel soos ander politieke stelsels as neutraal beskou word. Die toepassing daarvan kan egter rassisties of sondig wees.

Die skuldbelydenis verwoord ook nie iets van die NHKA se teologiese begronding en goedkeuring van apartheid nie. Dit fokus op die individuele misdade wat mense gepleeg het. Die fokus is dus op die individu, nie op die kerk nie en ook nie op die politieke bestel nie.

Identiteit en relevansie van die NHKA in die een en twintigste eeu (2006)

Die Kommissie van die AKV het in 2006 'n memorandum getiteld Identiteit en Relevansie van die NHKA aan die begin van die 21e eeu in Suid-Afrika opgestel (NHKA 2006). Hierdie memorandum is deur die kerk versprei en het by 'n Nasionale Colloquium as besprekingsdokument gedien. Tydens die Colloquium het afgevaardigdes 'n verklaring geformuleer wat onder andere stel:

Wat ons uniek in die wêreld maak, is dat ons identiteit bepaal word deur die waardes van God se Koninkryk en nie dié van die wêreld nie. Hoewel 'n andersoortige gemeenskap, kry gelowiges gestalte in die konteks van eie tradisie, kultuur en taal. Hierdie roeping moet ons teenoor alle mense uitleef en die term 'volkskerk' kan ons hierin beperk. God se betrokkenheid by mense is só ryk dat dit nie volledig in een vorm uitgedruk kan word nie. Gelowiges van Christus is veelkleurig, soos weerspieël word deur die verskeidenheid wat aangetref word onder kerke, gemeentes en gelowiges. Wisselende skakerings van spiritualiteit, ervarings van God en liturgiese vorme word daarom gerespekteer binne die kontoere van kerklike tradisie, en is verrykend. Ons sien pluriformiteit en diversiteit nie as 'n bedreiging nie en oordeel nie dat almal uit een mond hoef te praat nie. Anders as verskeidenheid, is die eenheid van gelowiges egter wel die evangeliese eis. Eie voorkeure mag nie tot konflik of onenigheid lei nie, maar moet saamklink soos 'n simfonie tot eer van God.

Opvallend word die identiteit van die kerk in die dokument aan die waardes van die koninkryk verbind en nie aan die wêreld nie. Waar die identiteit van die NHKA in die verlede as volkskerk vir die Afrikaner gedefinieer is, word die koninkryk van God sentraal gestel. Dit staan dus afwysend teenoor die organiese verbinding tussen kerk, volk en owerheid soos dit in die verlede verwoord is en in die kerk se teologiese begronding en goedkeuring van apartheid tot uitdrukking gekom het.

 

Gevolgtrekking

Uit bogenoemde oorsig van enkele belangrike dokumente is dit duidelik dat die persepsie wat bestaan dat die NHKA apartheid nie teologies begrond het nie, heeltemal foutief is. Die NHKA het apartheid na die Tweede Wêreldoorlog by monde van die Algemene Kerkvergadering en die Kommissie van die AKV teologies begrond en daardeur 'n morele en etiese regverdiging daaraan verleen. Dit is verwoord in besluite van amptelike vergaderings, in Artikel III van die Kerkwet van 1951, in amptelike skrywes aan kerke in die buiteland en in Herderlike Skrywes wat aan die lidmate van die kerk gerig is.

By nagaan van die dokumentasie lyk dit of daar sedert 1990 'n bepaalde wending in die NHKA se denke oor apartheid manifesteer, totdat apartheid in 2010 afgewys is. Die twee dekades (1990-2010) was tye van ingrypende verandering op politieke en maatskaplike terrein. Dit was ook 'n tyd waarin die kerk met sy eie verlede geworstel het en waarin bepaalde denkskuiwe in die kerk plaasgevind het.

Die kritiese vraag wat aan die NHKA gestel moet word, is waarom die kerk net op 'n teoretiese vlak oor apartheid besin het en nie met die moord, ontvoerings, gewelddadige optrede, maatskaplike verwoesting, die verlies aan basiese regte en gedwonge verskuiwings erns gemaak het nie? Die misdade wat gepleeg is, was juis die sake wat die kerke in die buiteland se aandag getrek het en die rede waarom hulle nie kon verstaan hoe veral Afrikaanssprekende kerke in Suid-Afrika apartheid teologies kon regverdig en goedkeur nie. Dit is juis hierdie misdade wat tot skerp kritiek gelei het. Dit is waarom die World Alliance of Reformed Churches in 1982 tydens die Ottawa Konsultasie 'n status confessionis teen die kerk se teologiese regverdiging van apartheid uitgereik het.

Teen hierdie agtergrond is die besluit van die 69ste Algemene Kerkvergadering (NHKA 2010) krities belangrik. Dit het 'n debat wat vir langer as 60 jaar in die kerk aan die gang was tot 'n bepaalde eindpunt gevoer.

Die feit dat dit ook met die stigting van die Bond van Onafhanklike Hervormde Kerke aan die begin van 2013 tot kerkskeuring gelei het, sal deur volgende geslagte beter beoordeel kan word.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Botha, A.J., 1986, Die evolusie van 'n volksteologie, Universiteit van Wes-Kaapland, Kaapstad.         [ Links ]

Elpis Deel IV, 1860, 'Eene kudde en één Herder - Verhandeling over de toebrenging der Heidenen tot de Christelijke Kerkgemeenschap, door P. Huet', in Boekbeschouwing, in Elpis Algemeen Tijdschrift voor Zuid-Afrika, bl. 117-182, Van de Sandt de Villiers & Co, Kaapstad.         [ Links ]

Dreyer, J., 1939, 'Gelykstelling,' Die Hervormer, Februarie.         [ Links ]

Giliomee, H., 2004, Die Afrikaners: 'n Biografie, Tafelberg Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), 1862, Handelinge van die Kommissie van die AKV, Kerkargief, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), 1951, Kerkwet en bepalings, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), 1979, Handelinge van die Kommissie van die AKV, Kerkargief, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), 1990, Kerk en politiek: Handelinge van die Kommissie van die AKV, Kerkargief, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), 2001, Notule van die 66e Algemene Kerkvergadering, Kerkargief, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), 2006, Handelinge van die Kommissie van die AKV, Kerkargief, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), 2010, Besluitebundel van die 69e Algemene Kerkvergadering, Kerkargief, Pretoria.         [ Links ]

Oelofse, J.C., 1964, Die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Afrikaner Broederbond, NHW Pers, Krugersdorp.         [ Links ]

Van Wyk, D.J.C. (red.), 1978, Stemme uit die verlede, Vol. 1: Volkereverhoudings in Suid-Afrika, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

Velthuysen, G.C., 1985, Kerk en Wêreld 2000, Kital, Pretoria.         [ Links ]

Venter, P.M., 1999, ''n Kerklik-akademiese portret van B.J. van der Merwe (19261968): Deel Twee - Predikant en dosent', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 55(4), 1039-1076. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v55i4.1666        [ Links ]

Wolff, E., 2006, 'Anatomie van 'n teologiese ideologie: Die Hervormde Kerk se steun aan die Apartheid ideologie', Historia 51(1), 141-162.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Wim Dreyer
17 Elephant Street, Monument Park, Pretoria 0181, South Africa
Email: wim.dreyer@up.ac.za

Received: 16 Feb. 2013
Accepted: 12 Apr. 2013
Published: 12 June 2013

 

 

1. Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), ook bekend as die Hervormde Kerk of in Engels Netherdutch Reformed Church of Africa, is een van die gereformeerde en Calvinistiese kerke binne die Afrikaans-sprekende gemeenskap in Suid-Afrika.
2. Van Wyk (1978) het die primêre bronne (notules, studiestukke, artikels en korrespondensie) versamel en uitgegee. Vir verwysingsdoeleindes word sy uitgawe hier benut.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License