SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.69 issue1The creativity in the world and the reality of God. The theology of Gordon Kaufman in relation to Wilhelm Herrmann and Rudolf BultmannThe Reformed Church and apartheid author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050

Herv. teol. stud. vol.69 n.1 Cape Town Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die roeping van die kerk

 

The calling of the church

 

 

Jaco Beyers

Department of Science of Religion and Missiology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

The question as to the calling of the church is not a practical but a theological issue. The church can easily keep itself busy with activities that seem important. However, are these activities really the motivation behind God's call to the church? This article investigates the calling of the church as perceived from various relationships: church and world, church and culture and church and church. Church and world addresses the age-old argument that the church is in the world but not of the world. The church does have an obligation in the world towards politics and ecology. Another factor addressed in the article is the way in which the church copes with the secularised society. Regarding culture, the premise is that the church has no obligation towards culture. Culture merely becomes a means to an end for the church. The church wants to exist in a 'free culture', as Barth suggests. When discussing the calling of the church, an ecclesiology of some sorts is in fact presented. This is reflected in the paragraph on church and church. The church is always seen in relationship with God's intention with the community He assembles. This might be the true calling of the church: to be a community that calls others to community.


 

 

Inleiding

In 1945 verskyn 'n boek van Hendrik Kraemer met die titel: De roeping der kerk: Ten aanzien van de wêreld en van het Nederlandse volk. Die boek verskyn kort na die einde van die Tweede Wêreldoorlog, 'n tyd van terreur en ellende vir die ganse Europa. Ook die kerk ly tydens hierdie tyd. Kraemer bepleit dat die kerk juis toe uit die as van die oorlog moet opstaan en opnuut haar roeping moet uitleef. Die Nederlandse Hervormde kerk van 1945 staar verskeie probleme in die gesig: Die volk rou oor die afsterwe van talle familielede en vriende en lidmate gaan onder armoede, ellende en werkloosheid gebuk. Die kerk is leierloos en koersloos. Die kerk is lamgelê (Kraemer 1945:18). Hierdie lamheid kom egter deur die kerk se eie toedoen. Die lamheid en oneffektiwiteit van die kerk kom as gevolg van die 'wêreldsheid' van die kerk en as gevolg van die kerk se onvermoë en onwilligheid om selfondersoek te doen (Kraemer 1945:19).

Dit is vir Kraemer duidelik dat die kerk nie meer dieselfde kan wees as tydens die vooroorlogse tyd nie. Die samelewing staan ontnugter oor die voorsienigheid van God en die wreedheid waartoe Christene tydens die oorlog in staat was. Dié wat nog in Nederland probeer kerk wees, word deur verskillende teologiese aksente uitmekaar geskeur: Die 'vrysinniges en regsinniges' (soos Kraemer [1945:55] dit noem) is haaks met mekaar. Daar is 'n onwilligheid om na mekaar te luister. Is dit die einde van die kerk? Wat staan die kerk in sulke omstandighede te doen? Kraemer probeer antwoorde op hierdie vrae bied.

Die oplossing lê vir Kraemer daarin dat die kerk deeglik moet besef dat die vernuwing van die kerk, dit wat dringend nodig is, Godswerk is en nie mensewerk nie (Kraemer 1945:6). God kan die pas afgelope oorlog gebruik om die kerk tot vernuwing te roep (Kramer 1945:43). Die kerk kan nie in die twintigste eeu bestaan en optree asof dit die wêreld van die sewentiende eeu bedien nie. Die kerk moet vernuwe en by die nood van die tyd aanpas. Hierdie besef dring die kerk tot bekering (Kramer 1945:5) of 'self-kerstening' (Kramer 1945:36). Bekering sal die kerk tot die besef bring dat die primêre roeping van die kerk is om met die Woord van God besig te wees. Die sekondêre roeping van die kerk is om aan die toestand van die wêreld aandag te gee (Kraemer 1945:10). Die kerk se agenda word nie deur die tydsgees of die wêreld bepaal nie. Die kerk se roeping kom van elders. Kraemer beklemtoon dat die kerk die 'burgerlikheid' moet afskud (Kramer 1945:14) en die evangelie suiwer moet verkondig (Kramer 1945:31). Sodra die primêre en sekondêre roeping van die kerk vermeng of verwar word, stuur die kerk op 'n ramp af.

Kraemer (1945:107) beklemtoon dat gehoorsaamheid op die roepstem van Christus volg. Die kerk is geroep om in gehoorsaamheid aan Christus te lewe. Die kerk moet die instrument ten dienste van die evangelie word. Die taak wat die kerk het, is die herontdekking van Christus en die apostoliese verkondiging van die Bybelse waarheid (Kraemer 1945:55). Dit vra, wat Kraemer noem, 'n 'radikale ontburgerliking' (Kramer 1945:60). Dit vra dat die kerk alles doen om Christus wil, nie ter wille van die self, die kerk of die volk nie (Kramer 1945:61). Hierdie 'radikale ontburgerliking' begin by die predikante en die opleiding van predikante, sê Kraemer (1945:60). Wat nodig is van predikante is (1) 'n streng selfdissipline, (2) solidariteit in die werk van God en (3) 'n streng geloofsetiek. Dit vra dat die kerk op die primêre van kerkwees bly fokus: op Christus en nie op sekondêre (wêreldse) sake en belange fokus nie. Die essensie van kerk wees is tog die gebondenheid aan Christus (Kraemer 1945:68).

Die kerk is geroep om hierdie boodskap met die wêreld te deel. Die kerk roep die wêreld tot bekering en barmhartigheid (Kraemer 1945:106), maar die kerk moet dit eers self doen. Die kerk is geroep om gehoorsaam aan Christus te lewe: (1) gehoorsaam aan die eis tot bekering en (2) gehoorsaam aan die eis tot ekumene (Kraemer 1945:106). Die apostolaat en ekumene is vir Kraemer onskeibaar. Die apostoliese karakter van die kerk is interkerklik (Kraemer 1945:114). As kerke aan die verkondiging van die evangelie saamwerk, is dit 'n getuienis aan die wêreld dat die kerk nie 'self-eer-soekend' is nie (Kraemer 1945:114). Die kerk moet bly getuig dat Christus God se enigste afdoende antwoord op die eintlike vrae van die mens en die wêreld is (1945:114).

Kraemer (1945:159) bepleit die vernuwing van die kerk, gebaseer op die gehoorsaamheid aan God (theologia oboedientiae) (Hand 5:32). Die kerk getuig in die wêreld op grond daarvan dat die kerk die Heilige Gees gehoorsaam volg. Hoe behoort die kerk vandag in hierdie tyd en op hierdie plek oor die roeping van die kerk te dink?

 

Roeping

Kraemer is nie die enigste stem oor wat die roeping van die kerk behels nie. Oor die kerk se roeping, het die kerk oor die eeue al self verskeie interpretasies gegee.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) bespreek in Artikels 27-31 die kerk. Die taak, opdrag en roeping van die kerk word deur die NGB saamgevat in die oproep dat lede van die kerk mekaar moet dien volgens die gawes wat God gee. Die klem val eerder daarop dat mense die roepstem van God sal volg om in geloof in Christus by die kerk aan te sluit. Die kerk roep die wêreld dus tot 'n geloofsverhouding met God.

Die Heidelbergse Kategismus hanteer die kerk as tema onder 'Sondag 21' (vraag en antwoord 54-55). Hier word die klem op die gehoorsame aanwend van gawes tot 'nut en saligheid' van die ander lede van die kerk geplaas. Onder 'Sondag 31' (vraag en antwoord 83-84) word verwys na die kerk wat die draer van die sleutels van die koninkryk van die hemel is, waar die sleutels na die verkondiging en die tug verwys. Die verkondiging wat op bevel van Christus geskied, moet bestaan uit die oproep om die vergifnis van sonde deur Christus aan te neem.

Op grond van die twee dokumente wil dit blyk asof daar nie duidelike sprake van die roeping van die kerk is nie, maar dat daar eerder aan die kerk as roeping gedink moet word. Die kerk word voorgehou as die versamelplek van almal wat die vergifnis van sonde deur Christus aanvaar. Die kerk het nie 'n ander roeping as om 'n ruimte te skep en te bied vir elkeen wat die vergifnis van sonde aanvaar nie. As daar van 'n roeping van die kerk sprake is, is die roeping om by die kerk aan te sluit. Die kerk rig die appèl tot die wêreld om by die kerk aan te sluit.

Die Wêreldraad van Kerke (WRK) (kyk World Council of Churches [WCC]) se Faith and Order komitee het 'n dokument saamgestel waarin die aard en roeping van die kerk uitgespel word. Die taak van die kerk is om uitvoering te gee aan God se plan om enersyds die ganse skepping onder die heerskappy van Christus te versamel en andersyds die ganse mensdom en die skepping in gemeenskap te verenig (WCC Faith and Order par. 34). Die kerk is die instrument waarmee God hierdie eenheid wil bewerk. Oor die roeping van die kerk stel die WRK die volgende siening: 'The Church is called to manifest God's mercifulness to humanity, and to restore humanity's natural purpose - to praise and glorify God' (WCC Faith and Order par. 34). Die kerk is die instrument waarmee God dit wil bewerk waarvan die kerk 'n teken is, naamlik die redding van die ganse wêreld (WCC Faith and Order par. 43):

As instrument of God's plan the Church is the community of people called by God and sent as Christ's disciples to proclaim the Good News in word and deed, that the world may believe (cf. Lk 24:46-49). (WCC Faith and Order par. 46)

God voorsien aan die kerk die middele om in gehoorsaamheid sy opdrag uit te voer en aan sy roeping getrou te bly. God gee geloof, die doop en nagmaal as genademiddele om gemeenskap te skep en te onderhou. Hierdie middele versterk gelowiges om die koninkryk te bly verkondig (WCC Faith and Order par. 67). Die nagmaal word 'n uitdrukking van die gemeenskap wat daar tussen God en die mens deur Christus bestaan en dien verder as simbool van die onderlinge gemeenskap tussen gelowiges. Vergelyk in hierdie verband Pelzel en Walters (2001) se indeling van die essensie van kerkwees as gemeenskap en sending. Die samekoms (gemeenskap rondom die tafel) en die uitmekaargaan van gelowiges (sending) omarm die ekklesiologie.

Die wyer Protestantse gemeenskap verstaan die roeping van die kerk al meer as 'n tweeledige aksie, naamlik verkondiging en diens aan die wêreld (WCC Faith and Order par. 71, 112). Nie net die evangelie moet verkondig word nie, maar ook mense in nood moet bedien, mense in verdrukking ondersteun en armes en siekes versorg word (WCC Faith and Order par. 111). Die kerk se primêre taak (WCC Faith and Order par. 110) is nie net die suiwer getuienis oor die vergifnis van sonde deur Christus nie, maar ook 'n dienslewering om die wêreld 'n beter plek te maak (sover dit versoening, heling en harmonie betref). Die geloof van die kerk moet in 'active response to the challenges of every age and place' uitgeleef word: ' The Gospel speaks to personal and social situations, including situations of injustice, of violation of human dignity and of the degradation of creation' (WCC Faith and Order par. 73).

In die lig van Kraemer se verstaan van die roeping van die kerk wil dit tog lyk of die kerk die taak het om die wêreld van die eintlike vrae en antwoorde van die lewe bewus te maak (Kraemer 1945:114).

Wat kan ons dan vandag oor die kerk se roeping sê? Ek wil graag drie lyne aansny, dalk eerder drie sirkels, konsentries gerangskik, sirkels juis omdat die een die ander nie uitsluit nie, soos wat drie parallelle lyne sou suggereer. Die drie sirkels is die verband Kerk en wêreld, Kerk en kultuur en Kerk en kerk.

 

Kerk en wêreld

Die verhouding tussen religie en wêreld word hoofsaaklik in bipolêre terme beskryf. Eliade ([1958] 1996:1, 30) beskryf in navolging van Durkheim se verdeling die teenwoordigheid van godsdiens in die wêreld in terme van die kategorieë 'heilig' en 'profaan'. Alle godsdienste (die Christendom ingesluit) het die kenmerk dat dit die wêreld in twee omvattende domeine verdeel: heilig en profaan (Durkheim [1912] 2008:36). Die teenwoordigheid van die heilige in die profane wêreld vind uitdrukking in die beskrywing van die hiërofanie (Eliade 1957:14). Die afgrensing tussen die heilige en profane is in godsdienswetenskaplike terme net nog 'n perspektief op die stelling dat die kerk in die wêreld is maar nie van die wêreld nie.

Die kerk as deel van die ruimte waarbinne die Heilige ervaar en beleef word, staan in kontras met dit wat profaan is. Die duale verhouding waarin kerk en wêreld gesien word, kan met verskeie begrippe uitgedruk word (Tabel 1).

 

 

Die dualiteit kom in verskeie evangelietekste voor (vgl. Matt 6:23-32), maar word ook met die skep van opponerende eksistensiële terme 'ou en nuwe mens' deur Paulus verwoord (vgl. Ef 4:22-24; Ef 5:8; Kol 3:5-17). Die dualiteit word verder uitgedruk in die skep van twee wêrelde: dié wat aan Christus behoort, die kerk, behoort nie aan hierdie wêreld nie, maar is in der waarheid vreemdelinge in die wêreld (vgl. 1 Pet 1:17). Augustinus het op hierdie dualiteit voortborduur in sy Die Stad van God waar die kontras tussen dit wat van God kom en dit wat aards is, skerp belig word. Dit het uitgemond in die Reformatore se twee ryke (die ryk van God en die ryk van die wêreld). Dit is alles maniere om iets te verklaar van die bipolêre natuur van die kerk: in die wêreld, maar nie van die wêreld nie.

Die kerk word dus as konkurrent van die wêreld voorgestel. Die kerk en die wêreld deel nie dieselfde oorsprong, natuur, belange en eindbestemming nie. Dit wat heilig is, word afgegrens van die profane (Eliade [1958] 1996:1; Durkheim [1912] 2008:36). Die dilemma was egter nog altyd dat die kerk binne die wêreld bestaan. Die kerk kan nie sonder die wêreld nie. Die kerk bestaan midde in die wêreld, ontstaan uit die wêreld en is uitgelewer aan die wêreld. Die gevolg is dat die dubbele natuur van die kerk altyd aangedui moet word: die kerk as enersyds religie of kultuurverskynsel en die kerk as andersyds die liggaam van Christus (Van der Merwe 1996:683). Dit is maar net nog 'n manier om te sê dat die kerk in die wêreld maar nie van die wêreld is nie.

Die wêreld waarin die kerk vandag bestaan, lyk egter anders as wat die wêreld tydens die Bybelse en vroeë Christelike jaartelling gelyk het. Hoe die wêreld oor 10, 20 of selfs 100 jaar van nou af gaan lyk, gaan waarskynlik ook anders wees as vandag. Die wêreld waarbinne die kerk telkens moet bestaan, stel uitdagings aan die kerk. Die wêreld waarbinne die kerk vandag bestaan, word beskryf as 'n gesekulariseerde, multikulturele, pluralistiese gemeenskap.

Kerk en sekularisasie

Newbigin (1989:1) dui daarop dat pluralisme verwys na 'n veelheid kulture, godsdienste en lewenswyses. Pluraliteit word voorgehou as iets wat aanvaar, omhels en gekoester moet word. In der waarheid is pluralisme en sekularisasie 'n toutologie. Pluralisme word gesien as 'n kenmerk van die gesekulariseerde samelewing (Newbigin 1989:1): Die Christendom is nie meer die enigste maatstaf vir norme nie. Die samelewing besit nie meer net een aanvaarde geloofsisteem of norm vir aanvaarbare optrede nie. Die Bybel is nie meer die enigste boek waarop die samelewing konsensus bou nie (Theissen 2007:76). Die Bybel kompeteer met ander tradisies. Die pluraliteit bied ook die geleentheid dat keuses gemaak kan word oor waarin 'n mens glo. Dekker (2012:62) praat van die 'ietsisme' wat die geloofstelsel van die moderne Europa kenmerk. Mense kies 'iets' waarin hulle glo.

Hierdie beskrywing van die samelewing moet nie met moedeloosheid bejeën word nie. Theissen (2007:76) wys daarop dat die samelewings van die wêreld vir baie lank in die wêreldgeskiedenis geen ander keuse gehad het as om die Christendom te onderskryf nie. Nou ontstaan 'n situasie waar daar vir die samelewing keuses tussen godsdienslose gebied word, nie-Christelike asook 'n verskeidenheid Christelike interpretasies van die sin van die lewe (Theissen 2007:76). Dit is vir die Christendom, en daarmee die kerk, 'n geleentheid om nou weer die motivering te verwoord waarom 'n keuse vir die Christendom gemaak behoort te word. Hierin vind die kerk 'n roeping om opnuut in dialoog met die pluraliteit van die samelewing te tree.

Die wêreld waarin die kerk sigself tans bevind, word deur vele as 'n gesekulariseerde wêreld beskryf. Hoe sien die roeping van die kerk binne so 'n wêreld daar uit?

'n Definisie van sekularisasie

Gauchet (1997:ix) wys daarop dat sekularisasie tradisioneel gedefinieer is as die afname van godsdienstige oortuigings en aktiwiteite in die moderne wêreld wanneer die aantal besoekers en deelnemers aan die aktiwiteite van die kerk afneem. Die proses word beskou as die resultaat van langdurige modernisasie en industrialisasie waardeur die wêreld wetenskaplik verklaar word. Vergelyk in hierdie verband Max Weber (1978:506) se grondteorie oor die 'onttowering van die wêreld'. Sekularisasie kan egter ook verwys na die wegkwyn van godsdiens uit die openbare oog wanneer openbare instellings nie meer 'n religieuse karakter dra nie, maar as neutraal bestempel word. Taylor (2007:3) voeg 'n derde interpretasie van sekularisasie by. Sekularisasie beskryf 'n samelewing waar die keuse vir godsdienstigheid net nog 'n legitieme keuse naas ander keuses word. 'n Samelewing wat gekenmerk word deur die bestaan van vele geloofstradisies waar die individu sonder dwang kan kies om een (of meer! of geen) tradisie aan te hang, word as 'n sekulêre samelewing beskryf. Die samelewing wat Taylor beskryf, word dus nie deur 'n afname in die teenwoordigheid van godsdiens gekenmerk nie (vgl. Gauchet se eerste en tweede definisies van sekularisasie).

Norris en Inglehart (2011:255 van 9557) se omvattende verslag dui inteendeel op 'n wêreldwye toename in godsdienstigheid. Die vorm wat godsdiens in die samelewing aanneem, het inderdaad verander, maar godsdiens is nie deur die konkurrent, sekularisasie, 'verslaan' nie. Die teendeel is dat die huidige samelewing deur die teenwoordigheid van 'n verskeidenheid godsdienste en groeiende godsdienstigheid gekenmerk word. Vergelyk dit opnuut met Newbigin (1989:1) se beskrywing van die plurale samelewing.

Die teenwoordigheid en skynbare groei van godsdiens in die samelewing lei Molendijk, Beaumont en Jedan (2010) en ander (vgl. Habermas 2008; MacGrath 2007) daartoe om die einde van sekularisasie te proklameer met spekulasie oor 'n post-sekulêre era. Norris en Inglehart (2011:255 van 9557) waarsku egter teen 'n oor-optimisme. Godsdiens groei inderdaad binne sekere samelewings (veral arm gemeenskappe waar 'n gevoel van onsekerheid oor voedselsekerheid bestaan), maar godsdiens is inderdaad beïnvloed deur modernisasie wat tot sekularisasie gelei het (Norris & Inglehart 2011:270 van 9557).

Krüger, Lubbe en Steyn (2009) beskryf die sogenaamde post-sekulêre wêreld in terme van drie moontlike reaksies op sekularisasie. Eerstens, reageer 'n groot deel van die gemeenskap met ateïsme op die proses van modernisasie (2009:291). Die aanhang van geen godsdiens is vir baie 'n keuse.Tweedens, 'n gedeelte van die samelewing reageer deur op 'n fundamentalistiese wyse (2009:295) terug te gryp na die verlede, na hoe dinge was voor modernisering 'n effek op godsdiens gehad het. Hierdie teruggryp kan wees na hoe dinge tydens die moderne era was, dit wil sê 'n tyd toe elke geloofsvraag 'n antwoord gehad het en elke krisis een moontlike verklaring gehad het. Hierdie teruggryp is 'n soeke na sekuriteit. Dit kan ook natuurlik as 'n teruggryp na 'n pre-moderne era wees waar 'n bykans kinderlike aanvaarding van enige irrasionele (onwetenskaplike) verklaring van geloofsvrae geld. Derdens, sommige mense in die samelewing reageer met 'n soeke na 'n alternatiewe spiritualiteit (2009:301). Hierdie outonome godsdiens bestaan uit 'n samestelling van subjektiewe seleksies van geloofselemente. Daar is geen oorkoepelende maatstaf waaraan die waarheid en geldigheid van die keuse vir elemente getoets word nie. Elke individu is outeur van hulle eie godsdiens. Dit is drie moontlike vorme wat die post-sekulêre wêreld kan aanneem. Binne hierdie wêreld bestaan die kerk.

As dit dan aanvaar word dat 'n 'gesekulariseerde wêreld' verwys na 'n plurale samelewing waar uiteenlopende keuses gemaak word oor hoe betekenis in die wêreld toegeken word, hoe kan die kerk as behorende tot die domein van die godsdiens of die sakrale dan nog die roeping van die kerk midde in die wêreld uitleef? Moet die kerk die reg van die individu respekteer om selfstandig vir een of meer of geen godsdienstige oriëntasie te kies? Mag die kerk emosies en skuldgevoelens manipuleer om mense tot 'n keuse vir godsdienstigheid om te haal? Mag die kerk sigself beywer om as instelling in die samelewing vanaf 'n magsbasis die mens geen ander keuse te bied as om vir die Christendom te kies nie? Mag die kerk op grond van kultuurtradisie die appèl tot die mens rig dat dit gepas is dat die mens binne 'n bepaalde kultuur 'n bepaalde geloofskeuse maak? Of bly dit die taak van die kerk om bloot uit gehoorsaamheid aan God te bly verkondig, te bly getuig, te bly uitnooi tot deelname aan die geloofsgemeenskap met God deur Christus en die keuse daartoe aan die individu oor te laat?

Om getrou aan die roeping van die kerk te wees, het die kerk geen ander keuse as om deur voortdurende getuienis in die wêreld die appèl tot geloof in Jesus Christus aan die mens te bly rig nie.

Kerk en politiek

Vanuit die bespreking oor die kerk midde in die gesekulariseerde wêreld het dit duidelik geword dat instellings in die samelewing tans nie meer die kenmerk van godsdienstigheid vertoon nie (vgl. Gauchet 1997:ix; Taylor 2007:2). Hoe leef die kerk die roeping uit binne 'n wêreld waar politieke instellings neutraal en selfs vyandig teenoor godsdiens staan?

Krüger et al. (2009:310) identifiseer verskeie politieke bestelle waarbinne godsdiens kan funksioneer:

  • teokratiese model: die grense van die staat en een godsdiens val saam
  • onderdrukkende model: die staat onderdruk, marginaliseer en elimineer of ban godsdiens uit die openbare lewe
  • skeidingsmodel: die staat skei die godsdiens en die openbare lewe as twee sfere
  • samewerkingsmodel: godsdiens en die openbare lewe is twee aparte sfere; daar is ruimte vir dialoog en interaksie tussen die twee sfere sonder wedersydse dominering of beïnvloeding.

Elk van hierdie politieke bestelle stel nuwe uitdagings aan die voortbestaan van godsdiens. Die vroeë Christendom het onder keiser Konstantyn die voordeel van 'n teokrasie beleef toe kerk en staat se grense ooreengestem het. Die Christendom het in die hede nie meer die voordele en voorregte wat met hierdie bestel geassosieer word nie. Ongeag wat die staatsbestel se gesindheid teenoor die kerk mag wees, hetsy onderdrukking, skeiding of samewerking, die kerk sal eers self op teologiese gronde moet uitmaak wat die verhouding is waarbinne kerk en evangelie met wêreldse leiers staan.

Barth (1960:25) identifiseer twee lyne waarlangs Christene oor die verhouding staat en kerk dink. Aan die een kant is daar die positiewe verstaan van die staat as orgaan wat orde in die samelewing handhaaf. Dit is gegrond op die natuurlike wetmatigheid van die mens se natuur. Die mens wil in orde en beskaafdheid bestaan. Die skep van die staat is deel van die mens se behoefte om georden te bestaan. Aan die ander kant ervaar Christene die bestaan van die owerheid as noodsaaklike instrument om mense teen hulle eie sondige geaardheid te beskerm. Hierdie lyn het 'n meer kritiese perspektief op die staat.

Volgens Barth (1960:26) bestaan daar drie basiese ordes van bestaan:

  1. ie skeppingsorde verwys na die natuurlike wyse waarop God die mens geskape het en hoe God bedoel het die mens moet lewe. Die mens in gemeenskap met ander behoort tot hierdie orde.
  2. Die versorgingsorde vereis dat mense beskerm word teen hulle eie sondige begeerte om self die middelpunt van alles te wees. Die staat behoort tot hierdie orde en het 'n bepaalde beskermingsfunksie.
  3. Die verlossingsorde verwys na die verlossing van die mens deur God se verlossingswerk in Christus. Die kerk is die vergestalting van hierdie orde.

Die staat het dus 'n beperkte ruimte waarbinne dit funksioneer. Die staat moet verstaan dat dit slegs binne 'n sekulêre ruimte bestaan sonder om mee te doen aan aktiwiteite wat tot die verlossingsorde behoort (Barth 1960:27). Die staat wat hierdie gesindheid openbaar is 'n owerheid wat respek en voorbidding waardig is.

Die NGB (Artikel 36) volg hierdie tweede lyn van denke, wat Barth aandui, oor die verhouding tussen staat en kerk. Artikel 36 stel duidelik dat die kerk se roeping ten opsigte van politiek voorbidding vir die staat is. Barth (1939:56) dui aan dat die kerk die onregverdige owerheid moet verseker dat die kerk voorbidding doen. Die voorbidding is vir die herstel van 'n regverdige owerheid (Barth 1939:68). Die kerk bid in sulke omstandighede ook vir die herstel en behoud van die kerk (Barth 1939:74).

Die teologiese begronding is dat alle gesag van God kom. Elke aardse regering moet besef dat dit aan die gesag van God ondergeskik is. Die kerk lewer getuienis aan die regering oor hulle verantwoordelikheid om met geregtigheid te regeer. Die NGB het juis ontstaan binne 'n konteks waar die verhouding tussen staat en kerk ter sprake was. Toe die vervolgde Calviniste hulle tot die regeerder van die tyd, koning Fillips II van Spanje, gewend het, het die pleidooi dat die vervolging gestaak moet word met 'n geloofsbelydenis begin. Gesprek met die owerheid het vir die vroeë Protestante getuienis oor God beteken. Barth (1939:74) beaam hierdie houding van die kerk wanneer hy stel dat die kerk se verhouding teenoor die staat slegs die van getuienis en belydenis is. Die kerk funksioneer dus uitsluitlik binne die verlossingsorde en laat dit aan die staat oor om binne die sekulêre ruimte hulle verantwoordelikheid om te regeer, na te kom.

Die kerk getuig as alternatiewe gemeenskap verder teenoor die samelewing van God se roepstem om op grond van 'n nuwe lewe in Christus, nuut en anders te lewe. Die kerk het daarin 'n roeping om as geloofsgemeenskap eksemplaries gehoorsaam aan die wil van God te leef. Wright (2010:88-90) dui aan hoe die etiese gedrag van dié wat in gemeenskap met God leef, 'n missionêre karakter dra. Die kerk wys hierin hoe God verwag dat mense in die wêreld se gedagtes en gedrag anders moet lyk. Die kerk is die 'sout vir die aarde', 'die lig vir die wêreld' (Matt 5:13-16) en 'die suurdeeg' (Matt 13:33) wat die gemeenskap deursuur. Ratzinger (2001) herinner gelowiges daaraan dat die ekklesiologie 'n oproep tot heiligheid insluit. Hierdie 'heiligheid' behels dat die kerk saam met God lewe en erken dat God op aarde saam met die kerk lewe. Die kerk is die woonplek van God, dus 'n heilige plek. Die kerk moet hierdie heiligheid as eienskap demonstreer.

Die aardse regeerders word opgeroep om met geregtigheid oor mense te regeer. Die kerk (lees hier Christendom) sou binne die huidige plurale samelewing goed doen om saam met ander godsdiensgemeenskappe te soek na etiese waardes waarvolgens die plurale gemeenskap verkies om regeer te word (WCC Faith and Order par. 114). As die plurale gemeenskap beteken dat mense keuses maak oor wat hulle glo en watter waardes hulle volg, kan die kerk saam met ander godsdienste kies vir waardes wat die verhoudinge in die gemeenskap sal verryk.

Niebuhr se indeling van die moontlikhede van die verhouding tussen evangelie en kultuur dien as hulpmiddel vir die verstaan van die verhouding kerk en politiek. Niebuhr (1951) verwoord vier moontlike kategorieë waarin die verhouding tussen kerk en kultuur kan val, naamlik, (1) Christus 'in' kultuur (Niebuhr 1951:83) - hierdie standpunt stel die Christelike godsdiens aan 'n bepaalde kultuur, politieke of kulturele stelsel of beskawing gelyk; (2) Christus 'teenoor' kultuur (Niebuhr 1951:45) - dit verwys na 'n afwys van alle verganklike instellings en 'n inname van 'n wêreld-ontseggende houding; (3) Christus 'verhewe bo' kultuur (Niebuhr 1951:116) - dit dui op 'n verstaan van 'n duale werklikheid waarbinne die mens funksioneer, enersyds die private, spirituele werklikheid en andersyds die openbare ruimte wat nie noodwendig godsdienstig ingestel is nie en (4) Christus as 'Transformeerder' van kultuur (Niebuhr 1951:190) - dit is die verstaan dat die Christelike tradisie vanuit bestaande strukture funksioneer om verandering teweeg te bring.

Barth se siening van kultuur is moeilik om vas te pen. Palma (1983:6) waag dit om te stel dat Barth se standpunt waarskynlik 'n posisie tussen die 'Christus teenoor kultuur' en 'Christus as Transformeerder van kultuur' is. Die uiteinde is dat Barth volgens Palma (1983:7) 'n unieke (sui generis) posisie verteenwoordig.

Die kerk het met die loop van tyd onder verskeie bedelings verskeie en selfs variasies van die genoemde moontlike reaksies ingeneem. Die gevaar is dat die kerk en kultuur, of in hierdie geval die politiek, in een noemer opgaan. Of, om barthiaanse terme (1960:26) te gebruik, die gevaar is dat die verlossingsorde en versorgingsorde oorvleuel. Die kerk se primêre roeping is die verkondiging van Christus en om mense tot gemeenskap met God en medemens op te roep. Die kerk kan hoogstens 'n profetiese stem wees wat bly getuig oor God se genade wanneer dit by die verhouding kerk en politiek kom. Vergelyk in hierdie verband die WRK se oproep (WCC Faith and Order par. 15, bl. 30) dat die kerk die profetiese taak opneem om te bly getuig oor God se geregtigheid wat in die samelewing moet geskied.

Kerk en ekologie

Die oproep tot gemeenskap is nie net beperk tot gemeenskap met God deur Christus nie. Die gemeenskap omsluit ook nie net die onderlinge band tussen mense nie. Die verhouding tussen God en die ganse skepping is 'n sentrale tema regdeur die Bybel. Die ganse skepping word dus in gemeenskap met God gestel (vgl. WCC Faith and Order par. 25, bl. 8). Wright (2010:48-62) dui aan hoe God met die saligheid van die ganse skepping gemoeid is. Die lot van die mens is ten nouste aan die lot van die skepping verbonde (Wright 2010:54). God se verlossing sluit die skepping in (Wright 2010:55). Die mens geroep tot gemeenskap met God moet ook bewus wees van die oproep tot gemeenskap met die natuur. Daarbinne vind die kerk die roeping om, bewus van die plek van die mens wat in gemeenskap met God leef, die onderlinge gemeenskap tussen mens en natuur te respekteer en te handhaaf.

 

Kerk en kultuur

Daar was verskeie pogings om kultuur te definieer. Geertz (1973:4-5) dui op die belangrike moontlikhede van definisies wat Kluckhohn identifiseer:

  • Kultuur is die totale manier van lewe van 'n bepaalde groep mense.
  • Kultuur is dit wat die individu van die groep waaraan hy behoort, erf.
  • Kultuur is 'n manier van dink, voel en glo.
  • Kultuur is die abstraksie onderliggend aan gedragspatrone.
  • Kultuur kan die teorie wees wat gebruik word om gedragspatrone by 'n groep te verduidelik.
  • Kultuur is die kollektiewe kennis van 'n groep.
  • Kultuur is die gestandaardiseerde reaksie van 'n groep op herhalende krisisse.
  • Kultuur is aangeleerde gedrag.
  • Kultuur is die tegnieke om verhoudinge met ander mense en die natuur te bestuur en te handhaaf.

Die veelheid moontlike definisies maak dat die keuse vir 'n definisie meer sê oor die een wat 'n keuse maak as oor die saak self.

Geertz (1973:5) volg die lyn van Max Weber en interpreteer kultuur as die spinnerakdrade deur die mens self gespin wat die web vorm waarbinne die mens bestaan. Hierdie web verteenwoordig dit wat sin en betekenis aan die menslike bestaan gee. 'n Analise van kultuur is dus die identifisering van dit wat vir die mens sin en betekenis gee. Kultuur is die raamwerk waarbinne die mens betekenis ervaar.

Kultuur is gerig op die individu maar funksioneer binne 'n sosiale bestel. Dit is mensgemaak. Berger (1967:6) verduidelik die proses waar die mens voortdurend 'n eie wêreld skep. Die mens word in 'n natuurlike staat gebore. Alles wat daarna volg, is die resultaat van menslike aktiwiteit. Van geboorte af leer die mens vaardighede en gewoontes aan. Sommige vaardighede en gewoontes word deur die samelewing, waarbinne die mens gebore word, aan die individu oorgedra. Ander vaardighede en gewoontes word biologies deur middel van gene aan die individu oorgedra. Alles wat tot die natuurlike toestand van die mens se wêreld toegevoeg word, is kultuur (Berger 1967:6). Godsdiens is deel van die wêreld wat die mens konstrueer.

Berger (1967) verduidelik hoe die mens aan die konstruksie van die wêreld deelneem. 'n Deel van die wêreld-konstruksie is die skep van godsdiens. Godsdiens is 'n mensgemaakte produk wat die heelal as heilige kosmos projekteer. Die gevolg is die hoogste vorm van werklikheidskonstruksie, dit wat Berger (1967) 'n 'sacred canopy' noem. Vir Berger is die alledaagse, populêre hantering van die werklikheid belangriker as die verklarings wat die spesialiste (teoloë) oor die werklikheid gee. Die gevolg is dat die toekoms van godsdiens nie meer in die hande van teoloë is nie, maar in die hande van gewone godsdienstige mense. Dit het tot die gevolg dat elke individu 'n kundige in godsdiens word (Van der Merwe 1996:679). Elke verklaring van die werklikheid kry dus 'n legitieme plek binne die samelewing. Vergelyk Krüger et al. (2009:300) se opmerking oor die alternatiewe spiritualiteite. Die 'sacred canopy' het veelkleurig geraak, vir dié wat hulle nog daarmee bemoei.

In die praktyk is die gevolg dat sentimentaliteit ten opsigte van kerklike affiliasie en aanhang van die geïnstitusionaliseerde teologie by die deur uit is. Elke individu kan self 'n legitieme konstruksie skep. Dié met ooreenkomste vind aansluiting by mekaar.

Die bipolêre verstaan van sakraal en profaan (vgl. Durkheim en Eliade) het ook op die verstaan van kerk en kultuur betrekking. Die kerk behoort tot die domein van die sakrale en tog vind dit in terme van die profane uitdrukking. Die kerk het 'n sakrale oorsprong, maar is gegrond in die profane. Dit hou implikasies in vir die kerk se verhouding tot kultuur.

Die kerk is nie 'n kultuurverskynsel nie. Die kerk kan in kulturele gewaad geklee wees, maar kultuur is nie die bodem van waaruit die kerk ontstaan nie. Die kerk word gegrond in die heilswerk van Jesus Christus wat alle kulture te bowe gaan (vgl. Niebuhr 1951:116). Die kerk het geen roeping ten opsigte van kultuur nie. Sekulêre belange kan nooit die primêre belang van die kerk word nie (vgl. Kraemer 1945:10). Ratzinger (2001) praat van die 'verhorisontalisering' van die kerk indien die gesprek oor die kerk deel word van 'n ander diskoers as oor God. As dit wat tydelik en verganklik is tot die sekulêre behoort, dan is die kerk nie met kultuur opgeskeep nie. Die kerk se roeping is die sakrale, die ewige, die heilige.

Die kerk kan egter ook nie sonder kultuur nie. Vergelyk Palma (1983:3) se bespreking van Barth se siening van die ambivalente verband tussen kerk en kultuur. Volgens Barth is kultuur die skakel wat maak dat die kerk in gesprek met die owerheid en kultuur kan tree (Bentley 2007:1651; Palma 1983:3). Die staat en kerk vind 'n kontakpunt in die lewe van die samelewing. Die kontakpunt is dus kultuur. As kultuur die kontakpunt tussen staat en kerk is, is die veronderstelling dat kultuur op Christus gefokus sal wees (Bentley 2007:1652; Palma 1983:3). Volgens Barth is kultuur 'n opdrag (vgl. Palma 1983:10) uit die Woord van God dat die mens die ideale toestand van eenheid tussen siel en liggaam moet nastreef (Barth 1962:337). Die mens is 'n sondaar wat verlossing benodig. Hierdie verlossing is slegs in Christus te vind.

Barth se Christologie beklemtoon dat Christus die voorbeeld van lewe binne 'n 'vrye kultuur' geword het. Vrye kultuur word gegrond in God se vryheid om Hom in Jesus Christus aan die mensdom te openbaar (Palma 1983:31). 'Vrye' verwys na die ideale kwaliteit van kultuur. Jesus Christus het nie geïsoleerd van kultuur gelewe nie. Hy was vry om binne sy kultuur die openbaring van God te wees sonder vrees dat kultuur die evangelie boodskap sou verhinder of beïnvloed (Bentley 2007:1652). Volgens Bentley (2007:1652) is dit juis die kerk se doel om te groei na 'n vrye kultuur, om die evangelie uit te leef en te verkondig binne 'n kultuur sonder vrees dat die kultuur die evangelie sal verhinder of beïnvloed.

Barth se teologie oor kultuur geld natuurlik binne 'n homogene kultuurkonteks. Binne 'n konteks van heterogene kulture is die vraag altyd: Wie se kultuur word die neutrale terrein vir gesprek met die owerheid? Die probleem word op die spits gedryf indien die kerk as volkskerk, dit wil sê die kerk onderskryf een spesifieke kultuur, met die owerheid in gesprek tree. Waarom sal die owerheid na die stem van een kultuur luister? Wanneer die volkskerk praat, moet die owerheid die kultuur se stem of die kerk se stem hoor?

Wanneer dit by die kerk se rol van kultuur kom, gee Van der Merwe rigting aan die gesprek. Die kerk kan nie sonder kultuur bestaan nie (Van der Merwe 1996:691). Die roeping van die kerk binne enige kultuur behels 'n apostoliese en profetiese taak (1996:691). Maar Van der Merwe verdiskonteer nie die eis van Niebuhr dat die evangelie die kultuur transendeer en moet transformeer nie.

Die punt bly egter dat die kerk geen kultuurtaak het nie. Die evangelie rig nêrens 'n appèl tot die handhawing en uitbou van kultuur nie. Kultuur is nietemin noodsaaklik en belangrik. Die kerk kan nie sonder kultuur in die wêreld bestaan nie. Kultuur is slegs die medium wat die kerk benut om die evangelie met die wêreld te deel. Dit is juis die kern: Kultuur is vir die kerk 'n sekondêre saak. Kultuur bly 'n middel tot 'n doel en kan nooit die doel op sigself word nie. God openbaar Homself in kultuurgewaad: Christus wat mens word. Tog word kultuur nie geheilig nie. Kultuur kan nie die primêre belang van die kerk wees nie. Christus is dit wat van belang is.

Die aard van kultuur is dat dit mense se handewerk is, dus aards, profaan en verwyderd van die sakrale (vgl. die definisies van Berger 1967, Geertz 1973 en Whutnow 1984). Die ideaal is dat die kerk binne 'n vrye kultuur bestaan (vgl. Barth 1962:334-354). Die kerk behoort ongehinderd 'n uitdrukking binne 'n kultuur te wees van die geloofsgemeenskap wat aan God behoort sonder dat die kultuur die evangelieboodskap verhinder of beïnvloed. Die evangelie is sakraal en vind in die profane vorm van die geloofsgemeenskap gestalte. Die grense van kerk en kultuur kan dus nie ooreenstem nie. Beide het 'n andersoortige oorsprong: kultuur as mensewerk, kerk as gemeenskap met God en mekaar. Die kerk ontkiem in die sakrale, maar bot binne die kultuur.

 

Kerk en kerk

Enige gesprek oor die roeping van die kerk is in der waarheid 'n poging tot 'n teologie oor die kerk, 'n ekklesiologie. 'n Gesprek oor die kerk kan egter nie net dit bly nie, naamlik 'n gesprek oor die kerk nie. 'n Gesprek oor die kerk geskied binne die dimensie van God. Ratzinger (2001) stel dit in sy evaluering van die Roomse ekklesiologie soos uitgespel in die Constitution on the Church, Lumen Gentium, as resultaat van die besinning oor die kerk tydens Vatikaan II, baie duidelik dat enige ekklesiologie binne die diskoers oor God moet plaasvind. Gesprek oor die kerk is onmoontlik sonder gesprek oor God. Dit maan enige kerk om versigtig te wees met die besinning oor die wese en roeping van die kerk. Die gesprek kan nie net op die operasionele aktiwiteite en bedrywe en administrasie van die kerk gefokus wees nie. Die wese en roeping van die kerk is ten nouste aan gesprek oor en met God verbonde. Die ekklesiologie begin by God, nie by die kerk nie. Die kerk se roeping is nie 'n gesprek oor die kerk nie, maar 'n gesprek oor die opdrag wat God sy kerk gee. Daarom begin 'n vraag na die roeping van die kerk met bekering tot die Woord van God (vgl. Kraemer 1945:5).

Die ware spanning is dus nie kerk en wêreld, sakraal en sekulêr nie, maar transendensie en immanensie. Wat verder duidelik is, is dat hierdie vraagstuk nie net een antwoord kan hê nie. Dit is nie 'n vraag oor watter een, die een of die ander, nie. In die spanning tussen kerk en wêreld moet die parameters vir die dialektiek tussen immanensie en transendensie uitgespel word.

Die gesprek oor die verhouding immanensie en transendensie hou egter gevare in:

  1. Die vergeesteliking van die kerk verwys na 'n tendens waar die transendensie ten koste van die immanensie oorbeklemtoon word. Die kerk word gesien as suiwer geestelik, heilig, sakraal, verhewe (vgl. die Roomse ekklesiologie waar die kerk as gawe van God slegs as rein en heilig, sonder vlek of blaam of sonde, beskou word). Daarmee word die kettings wat die kerk aan die aarde (immanensie) bind, geknip. Dit lei tot 'n wêreld-ontsegging soos wat die klooster en monnikkedom van die Middeleeue ten doel gehad het, 'n kerk los en verwyderd van die aardse besmetting, invloede, nood en behoefte.
  2. Die verwêreldliking van die kerk verwys weer na die oorbeklemtoning van die immanensie ten koste van die transendensie. Die kerk gaan op in die kultuur, die ekonomie of moraliteit. Die kerk word aardsgebonde waar die belange van die mens en die kerk oorbeklemtoon word. 'n Vae bewussyn van die transendensie word dan nog in die kollektiewe geheue van die kerk bewaar as oorsprong en konstituering van die kerk. Die huidige aktiwiteite van die kerk is gerig op die aardse nood en behoefte, die hier en nou. In die opsig dra die kerk self by tot die sekularisering van die kerk indien die domein van tyd weer as betekenisveld vir die term sekularisering gebruik word. Dit wat tydelik en verganklik is, word weer die hoofbelang van die kerk.

Die kerk se bydra tot sekularisering is egter nie 'n nuwe gedagte nie. Max Weber het reeds tydens die vroeë negentiende eeu aangedui hoe die Protestantisme tot die vestiging van die kapitalisme bygedra het. Gauchet (1997:4) betoog dat die Christendom by uitstek die godsdiens is wat tot die 'departing of religion' lei. Die Christendom skep 'n outonome mens wat nie meer vir godsdiens nut het nie (Gauchet 1997:15). Die Christendom se teologie lei tot sekularisering. Verder skei die Christendom se monoteïsme dit wat daarbo is radikaal van dit wat benede is, of anders gestel, die skei die transendente en immanente tot op 'n punt waar die transendente oorbodig word (Gauchet 1997:16). Christus as inkarnasie van God word sodoende uit die sfeer van die transendente weggeruk en só binne die immanente gevestig dat die aardsheid van Christus, die met-ons-wees, oorbeklemtoon word. Die gevolg is dat die transendente aard van Christus verlore gaan. God as transendente gaan op in die immanente. Op die wyse raak godsdiens nie meer die gerigtheid op die transendente nie, maar 'n aktiwiteit geanker in die immanente.

Die kerk kan tot hierdie vorm van sekularisasie bydra wanneer dit in aardse/immanente/sekulêre belange geanker raak: byvoorbeeld die vashou aan aardse eiendom en gestaltes (kultuur), aardse magstrukture en morele dade aan mense (barmhartigheid). Wanneer die kerk hierin opgaan, raak dit on-onderskeibaar van wêreldse instellings. Die kerk se roeping is juis om 'n alternatief vir die immanente te wees.

Wanneer gevra word wat die roeping van die kerk dan is, is dit duidelik uit die insigte van die NGB, die Heidelbergse Kategismus, Kraemer (1945) en Ratzinger (2001) dat die roeping van die kerk gemeenskap is. Die kerk het nie 'n roeping nie, maar is die roeping. Die kerk word die gemeenskapstigtende faktor in die wêreld. Vergelyk in hierdie verband Barth se voorkeur van die term geloofsgemeenskap bo die begrip kerk (Barth 1961:205). Vir Barth gaan die Koninkryk van God oor gemeenskap en volgens Barth is die kerk die gemeenskap wat deur God uitverkies is om die doel van die koninkryk te verwesenlik. Barth se argument is daarop gebaseer dat die begrip 'kerk' te veel herinner aan die institusionele aard van die kerk, dit wat mensewerk, aards, sekulêr sou wees.

Christene wat deel is van 'n spesifieke denominasie en eis dat hulle God se ware geloofsgemeenskap is, is nie kerk nie, maar 'n Christelike sekte (Bentley 2010:8). Barth se verstaan van kerk strek wyer as denominasionele grense. Die kerk is 'n gemeenskap met die primêre roeping om te getuig. Om uitvoering aan hierdie roeping te gee, moet die kerk in verhouding met verskeie groepe staan. Die gemeenskap waarna Barth verwys, het ook implikasies vir die wyer ekumeniese band wat denominasies behoort te handhaaf.

Barth (1939) definieer die kerk soos volg:

... a people consisting of those who have found in Jesus Christ their own comfort and hope of the whole world, and therefore have discovered their service in bearing witness before the world. (bl. 5)

Die kerk word gekonstitueer deur Christus, maar word ook getuienis van Christus. Die kerk bring diegene byeen wat hulleself voor God as sondaars ontdek, wat verlossing buite hulleself in Jesus Christus soek en vind. Die kerk word die versamelplek van dié wat deur die Heilige Gees aan die geloof gebind word.

Die kerk mag nooit die 'sacrosante grootheid' (vgl. Kraemer 1945:53) word wat die mens op soek na mag daarvan wil maak nie. In die nadenke oor die kerk gaan dit nie oor die kerk nie, maar oor die onderlinge gemeenskap met God wat deur die Heilige Gees met Jesus Christus bewerk is en die onderlinge band tussen dié wat in geloof rondom Hom verenig. Die kerk word nie geroep om noodwendig iets te doen nie, maar om iets te wees: die gemeenskap van gelowiges wat hulle band met God beleef en daaraan uitdrukking gee en dit met die ganse wêreld wil deel. Dan sou ons hoogstens kon sê dat die roeping van die kerk is om die ongelowige uit te nooi om deel te word van die geloofsgemeenskap wat binne die kerk te vinde is. Bosch (1991:150) interpreteer Paulus se sendingteologie as 'n uitnodigende oproep aan die heidendom om deel te word van die geloofsgemeenskap wat met verlange na die wederkoms van Jesus Christus uitsien. Die missionêre is dus deel van die essensie van kerkwees.

Missionale ekklesiologie

'Missionale ekklesiologie' verwoord 'n manier van dink oor die roeping van die kerk. Niemandt (2012:1) dui die historiese ontwikkeling van die konsep 'missionale ekklesiologie' aan. Die term is sedert 1998 in omloop en is veral sedert die Edinburgh World Mission Conference in 2010 prominent. Soos die term aandui, word kerkwees deur die bril van die verkondiging verstaan. Die skool wat die verstaan voorstaan, stel dit duidelik dat 'missiology precedes ecclesiology' (Niemandt 2012:3). Die rede vir die prominensie wat hulle aan die missiologie verleen, is: 'Missiology must precede ecclesiology because if ecclesiology precedes missiology, mission becomes just a subject of the church' (Niemandt 2012:3).

Die problematiek is om die verhouding tussen kerk en sending reg te verwoord. Wat is die sending sonder die kerk en wat is die kerk sonder die sending? Hierop stel Hauerwas (2010:62) onomwonde: 'The church is mission.' Die sending en kerkwees is dus onlosmaaklik deel van mekaar.

Die sending kan tog net in die kruis van Christus gefundeer wees. Die gevolg is dat die groep mense wat in gemeenskap met God en mekaar byeenkom, kerk word: 'Christology determines missiology, and missiology determines ecclesiology' (Hirsch 2006:142). Christus konstitueer die kerk, die versamelgemeenskap van dié wat die boodskap van vergifnis deur Christus aangeneem het. Christus stimuleer die kerk om voort te gaan met die verkondiging van hierdie saligmakende boodskap. Die kerk begin en eindig dus by Christus (Hirsch 2006:142). 'n Kerk wat so bestaan, is 'n missionale kerk wat die roeping van die kerk verstaan in terme van die voortdurende verkondigingstaak wat die kerk het.

Die verkondiging van die kerk kan nie in die besorgdheid oor krimpende getalle gefundeer wees nie. Andersom gestel, die verkondiging het nie primêr die uitbreiding van die kerk ten doel nie. Die verkondiging is ook nie in die besorgdheid oor die heil van mense gesetel nie. Dit is ook nie gefokus op die herstel van sosiale geregtigheid in die wêreld nie. Die tradisionele doel van die sending soos in die sestiende eeu deur Voetius verwoord, bly steeds vandag die maatstaf vir waarom die kerk sending doen: die soeke na die eer van God, die bekering van sondaars en die tot stand bring van die kerk (vgl. Bosch 1991:257). Die kerk se verkondiging gaan uit van God se heilswerk in Christus en lei terug na God.

Missionale ekklesiologie beklemtoon dat die kerk se gehoorsaam volg op die roepstem van God om deel van God se plan (missio Dei) met die wêreld te wees. Die kerk se deelwees van God se plan is om in gemeenskap, eksistensieel binne die plaaslike gemeenskap, kerk te wees soos wat God van die kerk verwag (vgl. Hirsch 2006:217; Niemandt 2012:7). Missionale ekklesiologie bied aan die kerk die uitdaging om op 'n alternatiewe wyse oor kerkwees te dink en daag die kerk tot 'n alternatiewe hermeneutiese lees van die Bybel en konteks uit (Niemandt 2012:8).

Missionale ekklesiologie kan slegs eerlik bedryf word indien dit op Christus gefokus bly. Ook hierdie gesprek oor die kerk kan nie buite die diskoers oor God plaasvind nie.

 

Slot

Natuurlik kan die kerk se wese nie tot een element gereduseer word nie. So simplisties is die kerk nie. Maar in die lig van hoe die roeping van die kerk hier verduidelik is, sal ons moet toegee, die missionaat is 'n belangrike element van kerkwees. Die missionaat is nie die enigste essensie van die kerk nie.

Wanneer dan oor die roeping van die kerk besin word en die konklusie is dat die kerk nie 'n roeping het nie, maar die roeping is, wat kan oor die kerk se rol in die politiek, die kerk se rol ten opsigte van kultuur en barmhartigheid gesê word? As die kerk die roeping het om gemeenskap tussen God en mens en mens en mens te stig, dan het die kerk 'n rol ten opsigte van byvoorbeeld sosiale geregtigheid. Waar daar onreg is, moet die kerk gemeenskap (lees vrede en harmonie) skep. Hierdie taak word egter nooit die kerk se primêre taak nie. Waar materiële nood in die wêreld is, wil die kerk gemeenskap stig deur enige medemens in nood vanuit die barmhartigheid ten dienste te wees. Steeds word dit nie die primêre taak van die kerk nie. Die hoofsaak bly dat die kerk die wêreld roep tot gemeenskap met God deur Christus, en vanuit hierdie gemeenskap kom 'n onderlinge gemeenskap tussen mense en met die natuur tot stand.

Ten opsigte van kultuur is dit duidelik dat die kerk nie 'n primêre of selfs 'n sekondêre verantwoordelikheid daarvoor dra nie. Om kultuur te beskerm en te handhaaf is nie die kerk se roeping nie. Maar om die kultuur waarbinne die kerk bestaan ten dienste van die verkondiging te benut, dit kan wel. Die dilemma is dat die tradisionele verstaan van volkskerk, kerk onder die volk (en daarmee kerk binne kultuur), maklik as kerk van die volk verstaan word, wat sou neerkom op kultuur as die oorsprongsbasis van die kerk. Die konsep volkskerk dra 'n eksklusiwiteit wat maak dat die kerk as gemeenskap met gemeenskappe wyer as die volk, in gedrang kom. Verder het 'n volkskerk die potensiaal om die kerk te verhinder om die evangelieboodskap ten volle uit te leef en uit te dra.

Kultuur plaas beperkinge op die roeping van die kerk. Binne die perspektief van die koninkryk van God word 'n volkskerk 'n beperkende en inperkende begrip. Kultuur mag en kan nie die kerk inperk nie. Die evangelie transendeer alle kulture (Niebuhr 1951:116). Die kerk moet in 'n vrye kultuur (vgl. Barth) bestaan waar die kultuur nie die kerk verhinder of beïnvloed om die evangelie te verkondig nie.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Barth, K., 1939, The church and the political problem of our day, Charles Scribner's Sons, New York.         [ Links ]

Barth, K., 1960, Community, state and church: Three Essays, Anchor Books, New York.         [ Links ]

Barth, K., 1961, Kirchlicke Dogmatik II/2, T&T Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Barth, K., 1962, Theology and church, Harper and Row, New York.         [ Links ]

Bentley, W., 2007, 'Karl Barth's definition of church in politics and culture: Growth points for the church in South Africa', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 63(4), 1643-1661. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v63i4.263        [ Links ]

Bentley, W., 2010, The notion of mission in Karl Barth's ecclesiology, Cambridge Scholars Publishing, Newcastle upon Tyre.         [ Links ]

Berger, P.L., 1967, The sacred canopy: Elements of a sociological theory of religion, Anchor Books, New York.         [ Links ]

Bosch, D.J., 1991, Transforming mission: Paradigm shifts in theology of mission, Orbis books, New York.         [ Links ]

Dekker, W., 2012, Marginaal en missionair: Kleine theologie voor een krimpende kerk, Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer.         [ Links ]

Durkheim, E., [1912] 2008, The elementary forms of religious life, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Eliade, M., [1958] 1996, Patterns in comparative religion, University of Nebraska Press, Lincoln.         [ Links ]

Eliade, M., 1957, The sacred and the profane: The nature of religion, Harcourt Brace & Company, San Diego.         [ Links ]

Gauchet, M., 1997, The disenchantment of the world: A political history of religion, Princeton University Press, Princeton.         [ Links ]

Geertz, C., 1973, The interpretations of cultures, Basic Books, New York.         [ Links ]

Habermas, J., 2008, 'Notes on a post-secular society', in New Perspective Quarterly 25(4), 17-29. http://dx.doi.org/10.1111/j.1540-5842.2008.01017.x        [ Links ]

Hauerwas, S., 2010, 'Beyond the boundaries: The church is mission', in V. Mortenson & A.O. Nielsen (eds.), Walk humbly with the Lord: Church and mission engaging plurality, pp. 53-69, William B. Eerdmans Publishing Co, Grand Rapids.         [ Links ]

Hirsch, A., 2006, The forgotton ways: Reactivating the missional church, Brazos Press, Grand Rapids.         [ Links ]

Kraemer, H., 1945, De roeping der kerk: Ten aanzien van de wêreld en van het Nederlandsche volk, DA Daamen's Uitgeversmaatschappij, 's-Gravenhage.         [ Links ]

Krüger, J.S., Lubbe, G.J.A. & Steyn, H.C., 2009, The human search for meaning: A multireligious introduction to the religions of humankind, Van Schaik Publishers, Pretoria.         [ Links ]

MacGrath, A., 2007, The twilight of atheism: The rise and fall of disbelief in the modern world, Doubleday Publishing, Garden City.         [ Links ]

Molendijk, A.L., Beaumont, J. & Jedan, C. (eds.), Exploring the postsecular: The religious, the political and the urban, Brill, Leiden.         [ Links ]

Newbigin, L., 1989, The Gospel in a pluralist society, William B. Eerdmans Publishing Co, Grand Rapids.         [ Links ]

Niebuhr, H.R., 1951, Christ and culture, Harper & Row Publishers, New York.         [ Links ]

Niemandt, C.J.P., 2012, 'Trends in missional ecclesiology', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 68(1), 1-9. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v68i1.1198        [ Links ]

Norris, P. & Inglehart, R., 2011, Sacred and secular: Religion and politics worldwide, 2nd edn., Cambridge University Press, New York. (Kindle).         [ Links ]

Palma, R.J., 1983, Karl Barth's theology of culture, Pickwick Publications, Pennsylvania.         [ Links ]

Pelzel, M. & Walters, T.P., 2001, Ecclesiology: The church as communion and mission, Loyola Press, Chicago.         [ Links ]

Ratzinger, J., 2001, 'The ecclesiology of the constitution on the church, "Vatican II, Lumen Gentium"', in EWTN, viewed 10 January 2013, from http://www.ewtn.com/library/curia/cdfeccl.htm        [ Links ]

Taylor, C., 2007, A secular age, Harvard University Press, Cambridge.         [ Links ]

Theissen, G., 2007, The Bible and contemporary culture, Fortress Press, Minneapolis.         [ Links ]

Van der Merwe, P.J., 1996, 'Kerk en kultuur - 'n Godsdiens-teologiese perspektief', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 52(4), 671-692. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v52i4.1551        [ Links ]

Weber, M., 1978, Economy and society: An outline of interpretive sociology, University of California Press, Berkeley.         [ Links ]

Whutnow, R., Hunter, J.D., Bergesen, A.J. & Kurzweil, E., 1984, Cultural analysis: The work of Peter L Berger, Mary Douglas, Michel Foucault and Jürgen Habermas, Routledge & Kegan Paul, Boston.         [ Links ]

World Council of Churches (WCC), n.d., Faith and Order Commission, viewed 09 January 2013, from http://www.oikoumene.org/en/resources/documents/wcc-commissions/faith-and-order-commission        [ Links ]

Wright, C.J.H., 2010, The mission of God's people: A biblical theology of the church's mission, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Jaco Beyers
PO Box 14125, Lyttleton 0140, South Africa
Email: jaco.beyers@up.ac.za

Received: 21 Feb. 2013
Accepted: 24 Apr. 2013
Published: 12 June 2013

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License