SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.69 issue1The realities people live by: A critical reflection on the value of Wolfgang Iser's concept of repertoire for reading the story of Susanna in the SeptuagintThe Reformed tradition as public theology author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.69 n.1 Pretoria Jan. 2013

 

ORIGINAL RESEARCH

 

'n Lied moet klink om gehoor te word ... : Faktore wat die resepsie van kerkliedere kan beïnvloed

 

A hymn must be sung to be heard ... : Aspects that could influence the reception of hymns and psalms

 

 

Elsabé Kloppers

Department of Philosophy, Practical and Systematic Theology, University of South Africa, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The most recent official hymnal in Afrikaans, Liedboek van die Kerk, was taken into use in 2001. Some hymns and psalms were immediately sung with enthusiasm whereas others remained unused, which is true especially for many of the metrical psalms. The most prominent reason for not singing some hymns or psalms is that they are unknown - text as well as tune. It is, however, often assumed that the reason why hymns and psalms are unknown is primarily because their tunes would be too difficult to sing. The role of the text and other aspects are not taken into account sufficiently. In this article, these one-sided views regarding the tunes are challenged, and it is argued that there could be many other reasons why hymns and psalms are not used.


 

 

Inleiding

Die Liedboek van die Kerk (2001) is deur kommissies bestaande uit lede van die verskillende Afrikaanse kerke saamgestel. Bepaalde teologiese, literêre en musikologiese kriteria is gestel om liedere van hoogstaande standaard daar te stel. 'n Lied moet egter gebruik word om betekenis te kry - dit moet klink om gehoor te word (Franz 2003; Arnold 2012:2). As liedere nie konkreet gebruik word nie, kan dit gewoon museumstukke in 'n kas bly: 'n pronkstuk vir die samestellers en mooi vir vertoon, maar ongebruik. Of dalk selfs onbruikbaar? Die Liedboek word al bykans 12 jaar deur gemeentes in die verskillende Afrikaanssprekende kerke gebruik. Dit is dus 'n goeie tyd om bestekopname te doen en te probeer bepaal waarom sekere liedere inklank gevind het en waarom sekere liedere nié gesing word nie.

 

Die kontekstualiteit van die verstaansproses

Ontwikkelings in die hermeneutiek, veral sedert Gadamer ([I960] 1975) en die resepsie-teorieë van Jauss (1969) en Iser (1966), het 'n deurslaggewende rol gespeel om mense daarvan bewus te maak dat alle verstaan bepaal word binne en deur die konteks van die leser/hoorder/vertolker/deelnemer. Hierdie beginsels geld net soveel vir geskrewe tekste en gesproke voordragte as vir musiek, kunswerke en ander vorme van uitdrukking. Die konteks waarbinne liedere neerslag moet vind, moet dus in ag geneem word.

Enige persoon wat iets probeer verstaan, het reeds 'n bepaalde voorverstaan, met vooroordele, vorige kennis en vorige ervarings wat gevorm word deur historiese, sosiologiese, psigologiese en ander lewensfaktore. Hierdie vorige ervarings vorm die hoorder se verstaanshorison waarbinne alle interpretasie of verstaan plaasvind. Mense wat 'n preek hoor, luister daarna teen 'n bepaalde agtergrond en mense wat aan die sang in die erediens deelneem, hoor dit teen die agtergrond van ander liedere wat hulle ken of voorheen gehoor het. 'n Lied word dus nie bloot aan die sangers 'gegee' nie. Wanneer deelnemers 'n bepaalde agtergrond het waarteen dit wat gesing word, ingepas kan word, interpreteer hulle dit en gee betekenis daaraan.

Betekenis bestaan dus nie in sigself nie. Die konteks waarbinne die sang plaasvind, byvoorbeeld dié van die individuele gelowige, as deel van die gemeenskap van gelowiges binne die erediens (van 'n bepaalde gemeente, van 'n bepaalde kerk, van 'n bepaalde taalgroep, van 'n bepaalde bevolkingsgroep, van 'n bepaalde gemeenskap in 'n bepaalde land), werk mee aan die verstaan van die lied en help die deelnemer om aan die lied betekenis te gee. Hierdie verstaan vind eers plaas wanneer die deelnemers ook iets van hulle bepaalde situasie in die wêreld van die lied hoor of wanneer hulle hul eie wêreld of agtergrond daarin herken. Wanneer beelde of klanke in 'n lied met die voorverstaan en huidige konteks van die deelnemer bots, kan dit die verstaan van 'n lied belemmer of kan iemand negatief teenoor 'n lied reageer. Dit beteken dus dat die 'objektiewe' kriteria wat deur kommissies gestel word, sowel as die lied self, relatiewe waarde het - relatief tot wie dit sing en relatief tot die konteks waarbinne gesing word.

 

'n Kanonieke en apokriewe liedrepertorium

In die werk aan kerkliedere word die onderskeid tussen 'kerkvolk' en 'vakkundiges' dikwels sterk beklemtoon. Vir die een is die 'kerkvolk' die onopgeleide, ongevormde en onkundige persoon, wat deur inligting en opleiding gevorm en opgevoed moet word. Vir die ander is die 'kerkvolk' die 'gesonde basis' wat self moet bepaal watter maatstawwe moet geld. Kommissies vir liedboeke bestaan meestal uit vakkundiges wat graag die beste vir die 'kerkvolk' wil gee, maar wat dit dikwels moeilik vind om die spanning tussen dit wat die singende volk as 'behoefte' beleef en die 'ware behoefte' wat op grond van ' hoër norme' en 'van buite-af' geïdentifiseer word, met mekaar te versoen (Marti 1994:93-96).

Klusen (1965 en 1989) het tussen 'n 'apokriewe' en 'gekanoniseerde' liedrepertorium onderskei. Sy onderskeiding berus daarop dat groepe in interne en eksterne sisteme verdeel word. Ten opsigte van die kerklied is die primêre of interne sisteem die enkel lidmaat of groepe in die gemeentes. Die sekondêre of eksterne sisteem is die kerk(e) of sinodale strukture en hulle kommissies. Teenoor die interne sisteem staan die eksterne sisteem wat grootliks outoritêr op die groep inwerk. Die interne sisteme word deur die eksterne sisteme beïnvloed, maar kan ook deur stilswyende weiering die dinamiek van die eksterne groep kragteloos maak. Uit hierdie verdeling ontstaan 'n 'kanonieke' en 'apokriewe' liedrepertorium: 'Kanoniek' is dit wat deur die eksterne sisteem gesanksioneer word. 'Apokrief' is dié liedrepertorium wat nié amptelik erken word nie, maar wat wel in gemeentes of groepe funksioneer. Tot die apokriewe liedrepertorium behoort ook dié liedere wat amptelik erken word, maar wat nie werklik gesing word nie, dus 'apokrief van bo-af' - die museumstukke in die vertoonvenster.

Daar kan 'van bo af' met die beste stel kriteria en ideale gewerk word, maar die aanvaarding van liedere kom 'van onder af'. Die ideaal is om dié twee pole so na as moontlik in 'n sinvolle spanningsverhouding met mekaar te bring en te laat oorvleuel. 'Opvoeding' het inderdaad 'n plek, maar die geskiedenis het aangetoon dat dit 'n beperkte plek het (Marti 1994:97-101). Die ' opvoedingspogings' het dikwels juis weerstand veroorsaak wat die saak benadeel het. So toon Marti byvoorbeeld dat die Geneefse Psalter van die begin-af en deur die geskiedenis heen met sterk outoritêre beginsels 'van bo-af' deurgevoer is en nie oor honderde jare so gewild was as wat in sommige kringe beweer word nie. Die weerstand teen hierdie pogings tot 'opvoeding' het daartoe bygedra dat die Geneefse Psalms bykans volledig uit die Duits-Switserse gesangboeke verdwyn het en eers weer so laat as 1952 teruggekeer het - boonop in sterk gereduseerde vorm (Marti 2012:72).

 

Faktore wat daartoe bydra dat liedere nie gesing word nie

Opname in 'n liedboek beteken nié dat liedere noodwendig gesing of gebruik word nie. Baie liedere word met groot moeite geskep en opgeneem, maar nie gesing nie. Mense meen gou dat liedere nie gesing word nie omdat die melodieë 'onsingbaar' sou wees. In 1990 vind byvoorbeeld 'n ondersoek onder leiding van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) plaas na die sing van die psalms in drie van die Afrikaanse Kerke (NG, Hervormd en Gereformeerd). In vraelyste is onder meer aandag gegee aan sake soos die frekwensie waarmee sekere psalms in die erediens gesing word, die redes waarom sekere psalms nié gesing word nie en die redes waarom sekere psalms geliefd is. Die resultate van die ondersoek word eur Vos en Miiller (1990) opgeneem en bespreek. Hulle som die redes waarom sekere psalms selde indien ooit gesing word so op:

... die belangrikste rede [is] verreweg die feit dat die melodie onbekend was. 'n Tweede rede wat prominent was, is die feit dat die betrokke melodie as problematies ervaar word. Slegs in enkele gevalle word die psalm nie gesing nie vanweë sy [sic] woorde. (Vos & Muller 1990:94, [my kursivering])

Vos en Muller (1990:91) kom tot die gevolgtrekking dat daar 'aansienlik meer psalmmelodieë is wat nooit gesing word nie, as wat daar is wat gereeld gesing word' (my ursivering). 'n Fundamentele probleem kan in hierdie gevolgtrekking aangetoon word: Melodieë word hanteer asof dit los van die tekste gesing word. Die gevolgtrekking moes eerder lui dat daar 'aansienlik meer Psalms is wat nooit gesing word nie, as wat daar is wat gereeld gesing word', verwysend dus na die lied (psalm) as geheel, as eenheid tussen teks en musiek. 'n Denksprong word egter gemaak ten einde die fokus op die melodieë te plaas asof die tekste eintlik geen rol speel nie. Daar word dan by die praktykteorie uitgekom dat melodieë 'van so 'n aard en omvang [moet] wees dat dit nie soos tans met talle melodieë die geval is, net deur ingewydes verstaan en waardeer kan word nie' (Vos & Muller 1990:96, [my kursivering]). Hier word tot die gevolgtrekking gekom dat die 'te hoë vlak' oftewel 'onsingbaarheid' van die melodieë die eintlike probleem sou wees, sonder om in ag te neem dat daar 'n verskeidenheid ander faktore, of faktore wat medebepalend is, kan wees.

Dit kom voor asof die vraagstelling van die oorspronklike ondersoek as sodanig reeds gekleur was en dat die respondente deur die vrae gelei is om bepaalde antwoorde oor die melodieë te gee in plaas van oor die lied as geheel. As 'n lied of psalm nog nooit gesing is nie en 'n respondent 'n psalm dus hoegenaamd nié ken nie, hoe kan bepaal word of die melodie vir die persoon onsingbaar sou wees? Hoe kan 'n respondent sonder meer die werklike rede bepaal waarom 'n psalm nie gesing word nie? Vanweë die musiek? Of dalk eerder die teks of die teologie in 'n teks? Of dalk 'n verskeidenheid ander faktore? Wanneer 'n lidmaat sonder musiek- of teologieopleiding 'n keuse gebied word, sal onbekendheid makliker toegeskryf word aan die sogenaamde 'onsingbaarheid' van die melodie as aan enigevan die ander redes. Respondente moes ook uitsprake maak oor verskeie psalms wat hulle nog nooit gelees of gesing of selfs raakgesien het nie. Daar is met dié ondersoek nie in ag geneem dat daar velerlei ander redes kon wees waarvan die respondente (predikante en die 'kerkvolk') waarskynlik self nie bewus was nie. Die gevolgtrekking van die studie is dan ook te simplisties, naamlik dat melodieê onbekend is primêr omdat 'die musikologiese standaarde te hoog is', soos Vos en Müller aandui (Vos & Müller 1990:96; verdere bespreking in Kloppers 1997:260-265).

Die gebruik of onbruik van liedere is 'n veel komplekser saak waar nie net die musikale aspek ter sprake kom nie, maar waar ook (bewuste en veral onbewuste) psigologiese, antropologiese, sosiologiese, teologiese, liturgiese, spirituele en ander faktore 'n rol speel. Aspekte soos die vlak van kennis, teologiese en musikale vorming, die vermoê tot verstaan, smaak en persoonlikheid speel ook 'n belangrike rol en verskil van situasie tot situasie. Die sogenaamde 'onsingbaarheid' van melodieê kry meestal die skuld vir liedere wat nie gebruik word nie. Vervolgens word egter op ander faktore gewys wat die gebruik van liedere negatief kan be'invloed. Die oplettende leser sal merk hoe beperk die faktore rakende die musiek in vergelyking met die ander faktore is.

Musikale faktor: 'n Melodie is onbekend

Die eerste en belangrikste rede waarom mense 'n lied nie sing nie, is omdat 'n bepaalde melodie onbekend is. Onbekendheid beteken meestal 'n gebrek aan blootstelling aan 'n lied (teks en melodie) en dat mense dit gewoon nog nie gehoor het nie. Die volgende kan aangedui word as moontlike redes1 waarom 'n verskeidenheid melodieê onbekend is:

  • Predikante met 'n gebrekkige kennis van musiek in die liturgie hou dikwels eerder by die liedere wat hulle ken.
  • Predikante wat min moeite met die liturgie en kerklied doen, hou by die geykte repertorium en laat sing graag net hul eie (beperkte) keuse van liedere.
  • Onopgeleide orreliste wat sukkel met die aanleer van nuwe liedere beperk 'n predikant ten opsigte van die verskeidenheid aan liedere wat vir die erediens gekies kan word.2
  • 'n Onvaardige orrelis begelei soms 'n lied so swak dat dit by lidmate weerstand teen 'n lied as sodanig wek - lidmate is dan nie entoesiasties om 'n nuwe lied aan te leer nie.
  • Sommige orreliste doen nie moeite om nuwe liedere te vind, aan te leer en ook hulle predikante daaraan bloot te stel nie.
  • Sommige musiekgroepe is nie vaardig genoeg om liedere sinvol te begelei nie en skep verwarring.
  • Sommige musiekgroepe bied liedere in 'n idioom aan wat dit vir lidmate moeilik maak om nuwe of vreemde melodieê aan te leer.
  • Wanneer lidmate nie gereeld in die kerk kom nie, loop hulle die gereelde samesang wat melodieê laat inslag vind, mis. Wanneer 'n lied dan onbekend is, gee hulle die melodie die skuld en meen maklik dat dit 'onsingbaar' is.
  • Lidmate 'reis' ook meer rond tussen kerke en gemeentes as tevore en is nie noodwendig elke Sondag in dieselfde kerk nie. Die gemeente bestaan dus soms uit 'n groot aantal 'besoekers' wat sangoefening en die aanleer van nuwe liedere bemoelik.
  • Vanweê elektroniese projektering is daar al minder liedboeke in die huise van lidmate. Lidmate kan dus nie 'n lied by die huis 'nakyk' of 'nasing' nie.
  • Gesinne en groepe sing al minder saam en daar is al minder geleentheid vir melodieê om inslag te vind.3

Musikale faktor: 'n Melodie is te moeilik

Soms is daar melodieê in 'n 'vreemde' toonaard, met vreemde spronge, onreêlmatige ritmes, 'n omvang wat te wyd is, te min sinvolle herhalings of te veel herhalings in motiewe sodat die unieke nie gememoriseer kan word nie. Selfs ooreenkomste tussen melodieê kan memorisering bemoeilik (Marti 2012:67) en dit vir lidmate moeilik maak om 'n melodie aan te leer. Volgens streng musikologiese beginsels kan 'n melodie 'n 'goeie' of 'sterk' melodie wees, maar dit pas dalk nie goed by 'n spesifieke groep deelnemers se verstaanshorison in nie en word dan as 'moeilik' beskryf. Waar daar genoeg blootstelling aan 'n melodie is, is dit gewoonlik nie moeilik om 'n sterk melodie te bemeester nie. Soms is 'n melodie egter moeilik vanweê onlogiese melodievoering, ongemotiveerde spronge, twyfelagtige ritmiese patrone en sinlose sinkope - aspekte wat gewoonlik ook tot 'n swak woord-toon verhouding bydra. Op grond van verskeie musikologiese en himnologiese oorwegings sou so 'n melodie dus as 'swak' beskryf on word. In 'n poging om 'kontemporêr' te wees, word liedere met swak melodieê soms op gemeentes afgedwing. Weerstand daarteen word dan ook te maklik as ' weerstand teen vernuwing' afgemaak.4

Antropologiese, sosiologiese en psigologiese faktor: 'n Melodie val nie in mense se smaak nie

Soms val 'n melodie nie in mense se smaak nie - dit spreek mense nie aan nie vanweê assosiasie, persoonlike voorkeure, voorverstaan, hulle verwysingsraamwerk en vooroordele. Soms wil mense 'n lied om hierdie redes nie aanleer nie - soms egter ook as gevolg van die wyse waarop 'n lied op hulle afgedwing word. Marti se waarskuwing teen opvoedingspogings kom dus hier ook ter sprake. Dit is belangrik om uit te wys dat dit 'n psigologiese faktor en nié 'n musikale faktor nie.

Die klank van sommige melodieê druis miskien in teen dit wat in die algemene omgang in omloop is, of teen dit wat op 'n bepaalde stadium in omloop is. Die geskiedenis en agtergrond van 'n groep speel ook hier 'n rol. Geneefse melodieê word byoorbeeld meer algemeen in die Nederlandse Protestantse Kerke as in die Afrikaanse Kerke gesing. Afrikaanssprekende lidmate se blootstelling aan Geneefse melodieê was oor die jare heen veel minder as dié van hulle Nederlandse geloofsgenote. Weerstand teen baie van die Geneefse melodieê het al vroeg onder Afrikaanssprekendes geblyk. In die eerste Psalmboek in Afrikaans (Die Berymde Psalms 1937) is sommige psalms al van sogenaamde 'nuwe wysies' voorsien. Nog voor die omdigtings van die psalms in Afrikaans is trouens al verskeie psalms op die sogenaamde Liederwysies en ander melodieê gesing. Die himniese geskiedenis van die Afrikaner het dus anders verloop, wat tot gevolg het dat ook die huidige resepsiekonteks verskil en dat verskeie Geneefse melodieê dus nie gesing word nie - veral waar alternatiewe melodieê bestaan. Melodieê vir Engelse hymns en Duitse gesange het in die geskiedenis van die Afrikaanse kerklied deurgaans veel gouer inslag gevind. Dit is faktore wat ook verreken moes word by die teruggryp en die insluiting van meer onbekende Geneefse melodieê in die liedboeke van 1978 en 2001.

By die daarstel van 'n nuwe liedboek moet ook versigtig met materiaal omgegaan word wat besonder geliefd is en diep inslag gevind het - selfs al is dit 'apokrief' of dalk ' kanoniek van onder-af'. Indien die smaak vir sekere melodieê met die daarstel van die Afrikaanse Psalm- en Gesangboek (1978) erken is (al is dit musikologies as minderwaardig beskou), kon dié melodieê veel versigter hanteer gewees het. Die afwesigheid van enkele melodieê, veral die liederwysies vir Psalms 38 en 130 en die melodieê van PK de Villiers vir Psalm 18 en 147, het weerstand ten opsigte van die totale resepsie van die Afrikaanse Psalm- en Gesangboek (1978) gewek. Die vraag moet gevra word of dit sinvol was om hierdie weerstand ter wille van musikologiese (en historistiese) ideale rakende die Geneefse melodieê op te wek? Vanweê die aandrang van lidmate 'van onder af' én die besluite van sinodes (waar die besluite nié deur die 'ekspertokrasie' geneem word nie) is hierdie melodieê opgeneem in die Liedboek van die Kerk - en is ook weer deur die singende 'kerkvolk' opgeraap.

'n Verdere rede vir 'n voorkeur vir sekere liedere ten koste van ander is 'n gemeente se spiritualiteit. Eén gemeente sal miskien net psalms sing en soms selfs net op Geneefse melodieê, terwyl 'n ander gemeente bykans net liedere sing wat in die 1960's en 1970's geskryf is. Soms val liedere gedurende 'n bepaalde tyd nie in mense se smaak nie, maar kom op 'n ander stadium weer 'in smaak', soos met Gregorianiek wat sedert die negentigerjare weer op die voorgrond getree het.

Met die oog op sodanige veranderinge in smaak, moet sekere liedere steeds in liedboeke opgeneem en behou word - selfs wanneer sekere liedere in 'n bepaalde tyd dalk minder of nié gesing word nie. Dieselfde geld vir liedere waar sterk historiese of ekumeniese verbande bestaan: 'Es sollten auch Lieder im Gesangbuch stehen, die im Gemeindealltag keine große Rolle mehr spielen, aber für das Verständnis der evangelischen Musikgeschichte hoch relevant sind und insofern eine Bildungskanon darstellen' (Dremel 2012:61). Liedboeke vorm só ook 'n maatstaf of kanon oor die tyd heen (Marti 2012:72). Die Liedboek van die Kerk vorm 'n liedkanon waarin daar ook gesange en liedere opgeneem is met die oog op die historiese oorspronge wat behou en ekumeniese bande wat uitgebou moet word. Sodanige liedkanon word inderdaad oor die tyd heen deur die 'eksterne sisteme' van kundiges in stand gehou - deur himnoloê met grondige kennis wat te midde van die eie konteks, ook oor kerk- en landsgrense heen in kritiese gesprek met mekaar verkeer en wat deur hierdie geestesvorming bewustelik die nodige aanpassings in denke maak.

Teologiese faktor: 'n Gebrekkige bewussyn vir die kerkjaar

'n Gebrekkige bewussyn vir die kerkjaar dra daartoe by dat sekere liedere ongebruik en onbekend bly. Aan die begin van die werk aan 'n nuwe Afrikaanse liedboek is byvoorbeeld gevra dat in die Ringsverslae van die Nederduitsch Hervormde Kerk aangedui moes word watter liedere in die Psalm- en Gesangboek (1978) nié gesing word nie en wat dus maar weggelaat kon word. Baie lyste het ingekom met die liedere vir die Lydenstyd - soms selfs met die opmerking daarby: Skrap asseblief - word nie gesing nie! Hierdie lyste was nie net 'n aanduiding van 'n gebrekkige bewussyn vir die Lydenstyd nie, maar ook 'n gebrekkige bewussyn vir die kerkjaar as geheel.

In vele gemeentes in die Afrikaanse Reformatoriese Kerke is die kerkjaar tot 'n paar jaar gelede nie gelééf nie. Die sogenaamde hooffeeste is gevier, maar as losstaande entiteite: Kersfees, Goeie Vrydag, Hemelvaart, Pinkster, meestal dus sonder 'n bewussyn vir Advent - die verwagting oppad na Kersfees - of Epifanie, waar dit gaan oor die uitwerking van die Kersgebeure op die wêreld. Ondanks die sogenaamde Lydensondae, was daar 'n gebrekkige bewussyn vir die volle omvang van die Lydenstyd. Die afwisseling wat die verskeidenheid liedere vir die onderskeie tye in die Kerkjaar bied, is gevolglik nie benut nie en dieselfde paar liedere is oor en oor gesing. Dit het tot frustrasie rondom geyktheid rakende die lied en die erediens as geheel bygedra.

Met die tweede rubriek vir die gesange, Die Liturgiese jaar, het die Liedboek 'n wesenlike bydrae tot 'n bewussyn vir die kerkjaar gelewer. Waar hierdie bewussyn in die afgelope 12 jaar versterk is, is gemeentes se repertorium verruim, het liedere meer effektief begin funksioneer, het sinvoller afwisseling deur die jaar begin plaasvind en het frustrasies met die erediens as geheel in dié gemeentes verminder. Sulke gemeentes ervaar ook dikwels goeie erediensbywoning. Dikwels getuig lidmate self daarvan dat eredienste meer sinvol ervaar word, omdat hulle besef waarom sekere liedere op sekere tye gesing word. 5

'n Uitleef van die kerkjaar voorkom dat die kerklied en die erediens geyk raak (vgl. Kloppers 2010). 'n Verskeidenheid liedere vir die verskillende tye in die jaar bied die geleentheid om die kerkjaar elke jaar nuut in te klee. Daar is ongelukkig steeds gemeentes waar daar geen bewussyn vir die kerkjaar is nie en waar byvoorbeeld geen liedere uit die Advent- of Lydensrubriek gesing word nie.6 Dit dui nie net op 'n gebrekkige kennis van die Kerkjaar nie, maar dui waarskynlik ook op 'n eensydige teologie waar slegs vreugde en lof dikwels beklemtoon word, terwyl die vernaamste rede vir ons vreugde en lof geignoreer word: die lyding, sterwe en opstanding van Jesus Christus. Die volheid van die Evangelie gaan immers nie net oor Christus se opstanding nie, maar ook oor sy lyding en óns skuld daaraan. Die Lydenstyd help ons om óns lyding in die lig van Christus se lyding te verstaan. So word Kersfees ook voorafgegaan deur 'n ingetoe tyd wat dui op 'n donker wêreld wat op die koms van Christus én sy weerkoms wag. Tog word Kersliedere vryelik in Advent gesing. Opstandingsliedere word ook dikwels midde-in die Lydenstyd gesing - dít terwyl gelowiges oor die wêreld nog besig is om Christus se lydenspad met Hom na te loop. Kerssangdienste vind ook vry algemeen in November plaas - midde-in die Eskatologietyd waar op die Eindtyd gefokus word.

'n Gebrekkige bewussyn vir die Kerkjaar veroorsaak dus dat sekere liedere in die Liedboek gewoon nie gesing word, en daarom nie inslag kan vind nie. Vir liedere om sinvol gebruik te word, is dit noodsaaklik dat liturge, orreliste, eredienskomitees én lidmate 'n skerp bewussyn vir die kerkjaar moet hê. Toerusting en bewusmaking is steeds nodig. Hiermee word dus ook 'n pleidooi gelewer vir 'n groter bewussyn vir die struktuur en tye van die kerkjaar met die oog op die effektiewe funksionering van die kerklied binne die erediens. Deur die kerkjaar te lééf kan die lied sterker meewerk om die erediens se vieringskarakter te versterk, die Woord te verkondig, die belydenis te dra, jongelinge en nuwelinge in die geloof in te lei, mense te vertroos, heling te bewerk, koinonia te bewerkstellig, missionaal na buite te verkondig en die erediens se ekumeniese karakter te versterk. Dit kan meewerk om die volheid van die Evangelie uit te dra:

The adequacy of how we sing and pray, and are shaped by Word and sacrament, requires living with the whole reality of what God has done, in Creation and redemption, and the whole promise of the reign of God in the whole Creation. (Saliers 1993:93, [my kursivering])

Liturgies-teologiese faktor: 'n Duidelike plek of funksie in die erediens ontbreek

Naas 'n plek en funksie in die kerkjaar, het liedere 'n plek en funksie in die erediens - as draers van toetrede, lofprysing, gebede, skuldbelydenis, geloofsbelydenis, en so meer. In beginsel kan elke handeling in die erediens deur die lied gedra word (Reich 1997). Hierdie funksies word duidelik in die Liedboek van die Kerk aangetoon in die rubriek Die Erediens. Met hierdie rubriek is ook 'n bydrae gelewer om liedere ten opsigte van hulle funksie te ontsluit, die gebruiksfrekwensie van sommige liedere te verhoog en afwisseling te bewerk.

Waar 'n duidelike liturgiese funksie by 'n lied egter ontbreek, word die konkrete gebruik van 'n lied beïnvloed. So is die psalms byvoorbeeld nié liturgies ontsluit of volgens die Kerkjaar ingedeel nie, maar net in volgorde van Psalm 1-150 geplaas. Waar 'n liturg uit Die Erediens-rubriek met die eerste oogopslag kan sien waar sekere liedere min of meer inpas, staan elke psalm op sigself en moet elke minder bekende psalm eers volledig deurgelees word om te bepaal waar dit liturgies sal inpas. Waar baie van die psalms lank is - één selfs tot 27 strofes - sal predikante meestal die korter pad kies en 'n 'ou bekende' psalm laat sing eerder as om telkens deur soveel strofes te werk!

Oor jare heen is predikante tydens hulle opleiding dikwels aangeraai om met 'n psalm as lofsang te begin (soos ekself nog ervaar het) - vir geen ander rede as dat dit 'tog maar die tradisie is' nie. Dit is 'n gebruik in kerke met 'n Calvinistiese inslag wat heel moontlik oorgelewer is om aan te toon dat die gemeente wat teenwoordig is, getrou is aan die 'Gereformeerde oriëntering' (vgl. John Bell in Kloppers 2012:165). Daar kan egter geen duidelike liturgiese of teologiese motivering daarvoor aangedui word nie - hoe lofwaardig ookal as eerbetoon teenoor die psalms as sodanig. Die probleem met sodanige gebruik van die psalms is dat dit juis geyktheid in die erediens bewerk, omdat sekere psalms oor en oor gesing word. Dit veroorsaak dat psalms nié ontsluit word vir 'n spesifieke funksie in die erediens nie en dat nuwe of ander liedere wat beter by die res van die erediens sou inpas, nié aan die beurt kom nie.

In omdigtings in die verlede, sowel as met die nuwe omdigting van die psalms in Afrikaans, was die uitgangspunt dat die Ou Testamentiese teks volledig van begin tot einde in strofiese vorm weergegee moes word. Tematiese eenhede is nie in ag geneem nie. Wat dit nog moeliker maak om die psalms liturgies te ontsluit, is die feit dat baie psalms se tematiek gemeng is. Lof, klag, wraak, belydenis, gebed wissel mekaar af - dikwels vermeng in één psalm of soms selfs binne strofes. Dit veroorsaak dat baie psalms nie op 'n duidelike plek in die erediens kan funksioneer nie. So getuig predikante en orreliste dikwels dat daar maar strofes wat lof bevat uitgesoek word, dat enkele strofes as skuldbelydenis of klag funksioneer en dat 'n groot aantal psalms bykans volledig geïgnoreer word (vgl. Van Rooy 2011). 'n Eensydige wyse van omdigting het ongetwyfeld daartoe bygedra dat die verantwoordelike gebruik van die psalms in die erediens negatief beïnvloed word.

Liturgies-teologiese faktor: Die liturgiese moontlikhede van 'n lied is onbekend

'n Lied bly dikwels onbekend vanweë onbruik, soos wanneer 'n liturg nie weet waar om 'n lied in die erediens te gebruik of hoe 'n lied in die erediens moet funksioneer nie. Van die nuwe liedere en liedvorme in die Liedboek het tot dusver onbekend gebly omdat sommige predikante nie toegerus is met betrekking tot die liturgiese moontlikhede van nuwe liedere en vorme, soos response, kanons en ander kort vorme nie.

Fisiologiese/fisiese en psigiese faktore: Liedere te lank om as eenheid te funksioneer

Die lengte van liedere beinvloed ook die konkrete gebruik van liedere. Die ideaal wat deur die Gesangkommissie gestel is, is dat elke lied sover moontlik 'n tematiese eenheid moet vorm en dat dit as 'n eenheid gesing moet kan word. In dié verband toon Watson (1998:14), himnoloog en professor in Engels aan die Universiteit van Durham, dat daar in 'n lied so 'n mate van ontwikkeling in denke moet wees en dat die wedersydse afhanklikheid van strofes só waarneembaar moet wees dat 'n gedagte of strofe in die sing daarvan nie weggelaat kan word sonder om die eenheid skade te berokken nie. Hiervolgens behoort liedere dus hoogstens vier, vyf of ses strofes hê, afhangend van die lengte van elke strofe. 'n Fisieke aspek rakende die konkrete sing, die uitvoering en praktiese funksionering van 'n lied, kom hier ook ter sprake: Daar is 'n punt waar 'n mens psigies en fisies voel dat 'n lied tot 'n einde moet kom. Die lengte van 'n reeds bestaande melodie behoort dus ook die lengte van 'n teks te bepaal. As 'n bestaande melodie reeds taamlik lank is (met tien versreêls of meer, én dalk uit lang versreêls van tien lettergrepe of meer bestaan) behoort die aantal strofes wat fisies en psigologies aanvaarbaar sou wees vir 'n teks om as 'n eenheid te funksioneer, in ag geneem te word. Dit is wesenlike faktore wat die resepsie van 'n lied kan be'nvloed.

By die psalmomdigting is hierdie beginsels nie verreken nie. Dit het meegebring dat baie psalms so lank is dat dit nooit as geheel gesing word nie - of dikwels as geheel gei'gnoreer word. Psalm 78 kan as één voorbeeld dien. Elke strofe het ses versreêls en elke versreêl het tien lettergrepe - 'n besonder lang metriese struktuur oor 19 strofes! Dit kan onmoontlik as 'n eenheid funksioneer. Hoogstens vier of vyf strofes met hierdie struktuur kan werklik sinvol uitgevoer word. Brink en Polman (1998:503) wys daarop dat die teks wat oorspronklik by dié melodie gebruik is, agt strofes gehad het, maar dat daar in baie liedboeke nou strofes weggelaat word 'primarily as a gesture of goodwill to congregations who would find it difficult to sing all eight stanzas in this very long meter!'

Dit is uiteindelik onvermydelik dat baie psalms, ondanks al die idealistiese pogings om in die omdigting die eenheid te behou, in die sing daarvan aan 'n proses van fragmentering onderwerp word deurdat net bepaalde strofes gesing word - of nog erger: dat 'n psalm of lied as geheel gei'gnoreer word. Van bo-af is daar dus die dwang om die tekste in die geheel weer te gee, terwyl die praktyk wys dat dit nie werklik só as lied in die geheel gebruik kan word nie.

Antropologies en sosiologiese faktor: Die wêreldbeeld of beelde in 'n teks druis in teen die wêreldbeeld van die huidige gebruiker

'n Uitgangspunt by die psalmomdigting was dat die Ou Testamentiese teks as geheel en as't ware ongeinterpreteer weergegee moes word. Al die beelde in die psalm moes net so behou word. Die hermeneutiese breuk tussen die verstaanshorison van die Ou Testamentiese teks en die leefwêreld van dié van die huidige gelowige is dus nie oorbrug nie, soos wat wel in 'n preek gedoen word nie. Dat lidmate baie beelde in die psalms vreemd vind, is beslis 'n faktor wat die gebruik daarvan strem. Daar is reeds voorheen daarop gewys dat die beelde in Psalm 133 van olie wat van 'n baard tot by die soom afstroom nie iets is waaroor lidmate graag sing nie - al staan die beelde in die Bybel (Kloppers 2000). So weier mense ook om te sing: 'Laat hul dan net 'n slymspoor nalaat soos slakke - doodgeborenes wat sonder lig en lewe is' (Ps 58:3). Die leser kan die moeite doen en hierdie psalm soos dit in die Liedboek opgeneem is in die geheel probeer sing - as voorbeeld waar aangetoon kan word dat baie van die probleme vir liturgiese funksionering in die tekste lê en juis nié in die musiek nie, en dat dit dus eerder die rede is waarom dit nié gesing word nie. Dit was inderdaad reeds ook by baie van die Totius-omdigtings die geval, maar is nié in Vos en Müller se studie verreken nie.

Tekstuele faktore of 'n wanverhouding tussen musiek en teks

Tekstuele faktore soos lang versreêls en omdigtings wat gewoon op strukture vir bestaande Geneefse melodieê gemaak is, al is dit van 'n ander melodie voorsien, veroorsaak ook probleme. Psalm 78 is hierbo reeds bespreek as voorbeeld van 'n lied wat te lank is om as geheel te funksioneer. Daar is egter nog 'n probleem rakende hierdie lied. Die melodie, Yorkshire, is uit die Engelse liedwêreld en het 'n sterk lof- of vreugdekarakter: 'YORKSHIRE has some marvelous ascending phrases. The second line repeats in the final line with a happy rhythmic change' (Brink & Polman 1998:504). Dit is oorspronklik vir die Kersfeeslied Christians, Awake (John Byrom 1692-1763) geskryf. Daarteenoor is die teks van Psalm 78 in die geheel 'n vertelling van die uittogverhaal en die verdere geskiedenis van Israel deur die volk se ontrou heen! Enkele aanhalings uit die teks sou hier as voorbeeld kon dien, maar die geheel is sprekend van hoe onmoontlik dit is om hierdie teks op hierdie melodie te sing, terwyl daar geen ooreenkoms tussen die aard van die melodie en die aard van die teks is nie.

'n Verdere vraag sou wees: Waar vind mens wel 'n melodie waarop hierdie hele verhaal volledig gesing kan word? Maar nog belangriker: Wil gelowiges in die erediens vandag werklik hierdie hele stuk geskiedenis net so sing? Was daar ooit in die verlede 'n egte behoefte daaraan? Marti (2012, 1994) se diepgaande navorsing dui op die teendeel. Was dit dus nodig dat daar met 'n nuwe omdigting so sterk aan 'n eensydige tradisie vasgehou moes word? Dit is vrae uit die resepsiekonteks wat nie beantwoord is toe die psalmomdigting tot stand gekom het nie.

 

Resepsie van psalmomdigting: Wisselwerking tussen eksterne en interne sisteem

Verskeie teologiese, musikologiese, taalkundige en literêre kriteria is deur die twee kommissies vir die nuwe Liedboek gestel. Ondanks pogings tot gesprek om daardeur verskeidenheid te weeg te bring en psalmliedere daar te stel wat op 'n wyer vlak gebruik kon word7, is die eietydse resepsie-kritiek ten opsigte van die psalmomdigting grootliks gei'gnoreer. Alhoewel daar onder meer gepleit is vir korter, tematiese eenhede wat as eenheid gesing kan word, soos om uit één psalm 'n verskeidenheid omdigtings in 'n verskeidenheid vorme daar te stel, is ander, breêr moontlikhede nie oorweeg nie (vgl. in hierdie verband Vos 2000 se standpunte en Kloppers 2002 se repliek). Die hele proses was 'n voorbeeld van dit waarvan Klusen en Marti praat wanneer hulle verwys na die 'eksterne strukture van heerskappy' wat druk op die interne sisteem uitoefen.

Uit die praktyk het dit reeds geblyk dat die probleme wat voorsien is inderdaad die konkrete gebruik van die psalms negatief bei'nvloed het (kyk weer na voetnoot 5 ierbo). Nie veel méér van die psalms het uiteindelik inslag gevind as nuwe omdigtings van die ongeveer dertig psalms (of eerder strofes uit hierdie psalms) wat reeds by die Totiusomdigting gewild was nie (soos aangedui deur Van Rooy 20118). In die meeste gemeentes van die Gereformeerde Kerke kry die Totius-tekste blykbaar nog voorrang (volgens Van Rooy 2011). So het dit reeds geblyk dat die interne groep (lidmate en predikante) die dinamiek van die eksterne groep (die Psalmkommissie, met die aandrang op 150 psalms in een vorm) deur stilswyende weiering in 'n groot mate kragteloos gemaak het. Dit het veroorsaak dat 'n groot aantal van die psalms vertoonstukke in die kas is - gekanoniseer deur 'n kommissie en sinodale strukture, maar gei'gnoreer deur die resepsiekonteks.

 

Samevatting

Daar word dikwels te simplisties aanvaar dat sogenaamde 'onsingbare' melodieê die eintlike of die enigste oorsaak sou wees waarom liedere nie gesing word nie. In hierdie artikel is probeer om die probleem vanuit verskillende hoeke te beskou en 'n breêr perspektief op die saak te gee. Daar is aangetoon dat 'n groot verskeidenheid faktore 'n rol in die aanvaarding of ignorering van liedere kan speel. Dit hang af van die resepsiekonteks. Teologiese, literêre, musikologiese en himnologiese kriteria geld nie op sigself nie. Met die oog op die resepsiekonteks, moet daar noodwendig toegewings na verskillende kante gemaak word. Dit beteken egter nié dat alle kriteria afgewater mag word of dat swak produkte selfs 'amptelik' en 'van bo-af' gesanksioneer mag word, gewoon omdat werksame kommissies reeds te veel toegee óf dalk self nie oor genoegsame kundigheid in hulle midde beskik nie. Die wyse waarop kommissies benoem word, het ek reeds voorheen bevraagteken, spesifiek ook met verwysing na die feit dat Loader, 'n gerekende akademikus en boonop toepaslike vakspesialis, nooit op die Psalmkommissie benoem was nie (Kloppers 2007, voetnoot 21).

In die onlangse verlede het ek kritiek gelewer op nuwe 'skeppings' met die opmerking dat ek 'nie opgewonde is' oor wat ek sien nie, veral gesien teen die agtergrond van wat internasionaal op die terrein van die kerklied aan die gebeur is. Beskuldigings van elitisme is gemaak en dat ek eensydig die kriteria vanuit die internasionale himnologie op ons plaaslike situasie sou wou aanlê. Dat kriteria nie eensydig vir alle tye en op alle plekke geld nie, is juis wat ek in hierdie artikel bereneer - daarvoor is my oog oop. Die Himnologie as kritiese wetenskap het egter steeds 'n belangrike taak: om ruimte te bied vir kundiges om óór kerk- en landsgrense krities met mekaar en met voorgangers oor die eeue in gesprek te tree. Marti stel dit skerp: 'Diese als "Expertenmeinung" zu verunglimpfen, ist zwar opulistische Mode, greift aber zu kurz' (Marti 2012:73, [my beklemtoning]). Teen alle verdagmaking en beskuldigings van elitisme in moet mense vanuit die Himnologie steeds toegerus word, op dieselfde wyse as wat op ander terreine gebeur. So moet 'n Bybelwetenskaplike byvoorbeeld ook onvermoeid werk om kennis te ontsluit en mense toe te rus om op 'n verantwoordelike en verantwoordbare wyse met die Bybelse geskrifte om te gaan. Daarvan was en is Loader 'n voorbeeld. Wat Loader se loopbaan en lewe getoon het, is dat 'n probleem nie opgelos word deur iemand te ignoreer nie en dat marginalisering nie beteken dat iemand se stem stilgemaak word nie. Hy het deel geword van die 'internasionale stem' en so nog 'n groter rol gespeel.

Wat dus nie uit die oog verloor mag word nie, is dat die eksterne sisteem van kundiges steeds 'n wesenlike rol het om te speel. Soos met eksegetiese en vele ander vakkundige beginsels, moet himnologiese kriteria steeds aangelê en grense gestel word - soos Marti hierbo aantoon. Die volheid van die Evangelie mag nie ly onder eensydighede na enige kant nie. Die werk aan die kerklied is inderdaad nie maklik nie. Moeite én kennis is nodig - gepaard met die skeppende en inspirerende krag van die Heilige Gees. Die een nooit sonder die ander nie. Net só kan ons eerlik sing: Te Deum laudamus.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat sy geen finansiêle of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig kon bei'nvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Arnold, J., 2011, Mit Lust singen und sagen: Musik und ihre Bedeutung am Sonntag und im Alltag, Jahresgabe 2011, Evangelische Sammlung in Württemberg e.V., Bad Urach.         [ Links ]

Brink, E. & Polman, B. (eds.), 1998, Psalter Hymnal handbook, CRC Publications, Grand Rapids.         [ Links ]

Bubmann, P., 2012, 'Singen im Protestantismus heute und morgen - Problemanzeigen und Chancen', in P. Bubmann & K. Klek (Hg.), Davon ich singen und sagen will: Die Evangelischen und ihre Lieder, bl. 215-224, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.         [ Links ]

Die Berymde Psalms, 1937, S.A. Bybelvereniging, Kaapstad. (In gebruik by die drie Hollandse (Afrikaanse) kerke in Suid-Afrika, te wete die Gefedereerde Nederduits- Gereformeerde, die Gereformeerde en die Nederduits-Hervormde Kerke, en die bundeltjie 'Enige gesange'.         [ Links ])

Dremel, E., 2012, 'Sammeln und Sichten - Gesangbücher als Liedkanon', in P. Bubmann & K. Klek (Hg.), Davon ich singen und sagen will: Die Evangelischen und ihre Lieder, bl. 46-62, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.         [ Links ]

Franz, A., 2003, 'Vorwort', in R. Hartmann (Hg.), Wer singt, betet doppelt: Liedpredigten und Betrachtungen zum 'Geistlichen Wunderhorn', LIT, Münster.         [ Links ]

Gadamer, H-G., [1960] 1975, Wahrheit und Methode: Grundzüge einer philosophischen Hermeneutik, 4. Auflage. Mohr, Tübingen.         [ Links ]

Iser, W., 1966, Immanente Ästhetik, Kaiser, München.         [ Links ]

Jauss, H-R., 1969, Literaturgeschichte als Provokation der Literaturwissenschaft, 2. Auflage, Universitätsverlag, Konstanz.         [ Links ]

Kloppers, E., 1994, 'Riglyne vir sinvolle vernuwing van liturgiese musiek', Referaat, Predikantevergadering Ned Herv Kerk, Universiteit van Pretoria, September1994.         [ Links ]

Kloppers, E., 1997, Liturgiese musiek as kommunikatiewe handeling in 'n postmoderne era, DTh-proefskrif, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

Kloppers, E., 2000, ''n Nuwe Psalmomdigting in Afrikaans: Uitgangspunte, beleid, probleme', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 56(1), 192-204.http://dx.doi.org/10.4102/hts.v56i1.1707        [ Links ]

Kloppers, E., 2002, ''n Perspektief op die nuwe Psalmomdigting - reaksie op 'n reaksie', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 58(1), 235-249.http://dx.doi.org/10.4102/hts.v58i1.549        [ Links ]

Kloppers, E., 2007, 'The hymnic identities of the Afrikaner', in E. Akrofi, M. Smit & S-M. Thorsen (eds.), Music and identity: Transformation and negotiation, pp. 181-198, Sun Press, Stellenbosch.         [ Links ]

Kloppers, E., 2010, 'Tyd as gawe - God se tyd: Die polsslag van die kerkjaar', Acta Theologica 30(2), 50-66.         [ Links ]

Kloppers, E., 2012, 'People of God?: Singing the Psalms as a reflection of identity - Perspectives from South Africa and Scotland', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 53(3/4), 159-167.         [ Links ]

Klusen, E., 1965, 'Das apokryphe Volkslied', Jahrbuch für Volksliedforschung 10, 85-102. http://dx.doi.org/10.2307/846519        [ Links ]

Klusen, E., 1989, Singen: Materialien zu einer Theorie, Bosse, Regensburg. Liedboek van die Kerk, 2001, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Loader, J.A., 1979, 'Waarom sing ons in die Kerk?', in J.A. Loader (red.), 'n Nuwe lied vir die Here, bl. 160-177, HAUM, Pretoria.         [ Links ]

Marti, A., 2012, 'Der Genfer Psalter - Kanonisierung als Grundprinzip kirchlichen Singens', in P. Bubmann & K. Klek (Hg.), Davon ich singen und sagen will: Die Evangelischen und ihre Lieder, bl. 63-74, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.         [ Links ]

Marti, A., 1994, 'Verordnet aus dem Volk? Kirchengesang zwischen Herrschaftsinstrument und Mittel der Emanzipation', Internationale Arbeitsgemeinschaft für Hymnologie-Bulletin 22, 93-110.         [ Links ]

Patrick, M., 1949, Four centuries of Scottish psalmody, Oxford University Press, London.         [ Links ]

Psalm- en Gesangboek, 1978, NG Kerk Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Reich, C., 1997, Klingendes Wort, Calwer, Stuttgart.         [ Links ]

Saliers, D., 1994, Worship as theology: Foretaste of glory divine, Abingdon, Nashville, TN.         [ Links ]

Van Rooy, J.H.,, 2011, 'Die sing van psalms in die erediens: Twintig jaar later', Verbum et Ecclesia 32(1), Art. #555, 9 bladsye. http://dx.doi.org/10.4102/ve.v32i1.555        [ Links ]

Vos, C., 2000, ''n Perspektief op die nuwe Psalmomdigting', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 56(2/3), 357-376. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v56i2&3.1736

Vos, C.J.A. & Müller, J.C., 1990, 'Die sing van psalms in die erediens: Kommunikatiewe handelingsteoretiese perspektief', Praktiese Teologie in Suid-Afrika 6(1), 86-98.         [ Links ]

Watson, J.R., 1998, 'Alphas and omegas of hymn writing', Internationale Arbeitsgemeinschaft für Hymnologie-Bulletin 26, 5-17.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Elsabe Kloppers
PO Box 101108
Moreleta Plaza 0167, South Africa
Email: kloppec@unisa.ac.za

Received: 29 Oct. 2012
Accepted: 03 Mar. 2013
Published: 17 Apr. 2013

 

 

1. Sedert die ontstaan van die Suid-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging (SAKOV) word van hierdie sake in die vereniging se tydskrif, Vir die Musiekleier, bespreek en as Probleme aangedui. Hierdie aspekte kom ook voortdurend ter sprake tydens toerustingskursusse vir predikante, orreliste en lidmate waarby ek geruime tyd reeds vanuit die Instituut vir Kerkmusiek in Suid-Afrika (IKSA) betrokke is.
2.'n Situasie verwant hieraan blyk uit die verhaal van die bekende Skotse himnoloog, Millar Patrick (Patrick 1949:131-132), wat vertel het van die voorsanger (precentor) wat iewers in die sewentiende eeu die gemeente moes voorgaan in die kerklied en wat by die deur van die kerk die volgende aan 'n besoekende predikant gesê het: '/can only sing twa tunes, sir, so ye maunna gi'e oot three psalms.' Letterlik vertaal: 'Ek kan net twee wysies sing, meneer, so jy moenie ooit drie psalms opgee nie.'
3. Bubman (2012:215-217) beskryf hoedat die situasie in Duitsland sedert sy kindertyd verander het - hoe kinders hulle in 'n motor met selfone, ipods en playstations besig hou, in plaas daarvan dat gesinne saam sing soos vroeér. In huise, sowel as in die breér gemeenskap, word selde saam gesing. Daar is geen twyfel dat hierdie veranderde luisterpatrone en sosiale tendense ook in Suid-Afrika, as deel van die dieselfde wêrelddorp, waargeneem kan word nie.
4.Naas die ervarings van gemeentelede wat liedere moeilik vind en dalk spontaan aanvoel dat 'n melodie 'swak' is, is dit ook so dat die skeppers van sodanige melodieé dikwels enige bewys dat 'n melodie swak is, afmaak as elitisties en 'van bo-af' - dikwels omdat hulle nie die musiekteoretiese opleiding en onderbou het om die kritiek te verstaan en die probleme aan te spreek nie. 'n Sekere mate van kennis van beginsels is tog ononderhandelbaar en mens sou kon vra: Probeer 'n 'leek' ooit gedigte of tekste in 'n ander taal skryf sonder 'n grondige kennis van daardie taal?
5.As hoof van IKSA, waardeur ek verantwoordelik is vir toerusting op die terrein van die kerklied en die liturgie, en as dosent in Himnologie aan verskeie universiteite, ontvang ek op 'n wye vlak terugvoer uit gemeentes, ook oor kerkgrense heen.
6.Teologiestudente getuig gereeld van hierdie leemte - selfs al het hulle as aktiewe lidmate in die kerk grootgeword, hoor die meeste steeds eers in hul vierde of vyfde jaar van Advent en Epifanie.
7. Kyk onder meer na Kloppers (1994, 1997:217-271, 2000, 2002) in aansluiting by die standpunte van gesaghebbende internasionale himnoloé, liturgiewetenskaplikes en Bybelwetenskaplikes, soos onder meer Loader, in Loader (1979). Verdere stemme het gekom van die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk in 2000. Vroeér reeds skryf Patrick (1949:230): ' There is no point in continuing to print, for mere custom's sake, so much which everyone knows will never be sung...'
8. In hierdie ondersoek word verskeie van dieselfde eensydige aannames gemaak as dié van Vos en Müller en tot soortgelyke eensydige gevolgtrekkings ten opsigte van die melodieé gekom, sonder dat dit noodwendig uit die spesifieke vraagstelling afgelei kan word of sonder dat ander faktore wat 'n rol kan speel genoegsaam in die vraagstelling verreken is, óf omdat die vraagstelling juis daartoe aanleiding gegee het. Albei ondersoeke is egter van waarde daarin dat 'n goeie aanduiding gegee word van watter psalms rondom 1990 gewild was en nou steeds gewild is. Daar is inderdaad groot ooreenkomste tussen hierdie lyste, asook verdere ooreenstemming tussen hierdie psalms en dié wat in die negentigs in die Ringsverslae van die Hervormde Kerk as geliefd aangedui is.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License