SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.68 issue2Youth culture, media and sexuality: what could faith communities contribute?Educating young people through Christian youth worship: reclaiming space for learning in liturgical contexts author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.68 no.2 Pretoria  2012

     

    ORIGINAL RESEARCH

     

    'n Begronde bedieningsmodel vir die diakonia van die gemeente

     

    A founded model for the ministry of the congregation's diakonia

     

     

    Gert Breed

    Department of Practical Theology, North-West University, South Africa

    Correspondence to

     

     


    ABSTRACT

    This article describes a founded model for ministry in the Reformed Church of Randburg (RCR) and the process that was followed to develop this model. The article is the last of four articles. Each of these articles describes a phase of this process, which leads to the developed model. Osmer's model for research in Practical Theology was followed in the research. The article describes the research conducted according to the final phase (pragmatic) of Osmer's model. The question of how practical ministry in an urban congregation such as the RCR should look like is addressed by the suggestion of a model for the ministry. This model is founded on the research results described in the previous three articles. In this article, the research question of what a founded model for ministry may look like and what the developing process entails is being answered. At first, various angles of approach to the research on ministry in congregations, is described. To accomplish this, recent literature was examined. Secondly, the points of departure in the research are stated. Thirdly, the process that the congregation followed to develop the model is described. In the fourth place, the results of the previous research on which the model is based, are summed up. Lastly, the most important aspects of the model for ministry in the congregation are described.


     

     

    Inleiding

    Daar word plaaslik sowel as internasionaal heelwat geskryf oor die noodsaak van aanpassing en vernuwing in die bediening van gemeentes. Die navorsing word vanuit 'n verskeidenheid invalshoeke gedoen.

    Die belangrikheid daarvan om Bybelse beginsels in ag te neem wanneer verandering aangepak word, word beklemtoon (Renkema-Hoffman 2007; O'Kennedy 2003a, 2003b; Smit 1997; Du Plooy 1994). Ander navorsers spits hulle toe op die oorgang van programgedrewe kerke na selgroepe (Pearse & Smith 2007).

    Dit is duidelik vanuit resente navorsing dat postmodernisme 'n groot invloed op mense se houding teenoor die bediening in gemeentes uitoefen en dat dit besinning oor nuwe strukture in die gemeente-bediening noodsaaklik maak (Scharmer 2006:9; Niemandt 2007; Ströh & Jaatinen 2001:148-165; Anderson 2004; Carson 2000).

    Die 'emerging/emergent church movement' glo, met verskeie variasies, dat die eklesiologie ten volle herontwerp moet word om by die postmoderne mens aan te pas (Bolger 2007; Anderson 2006; Kimball 2003; Sanguin 2008.). Daar is verskeie navorsers wat 'n korrektief op hierdie siening bied (Carson 2000, 2005; Chester & Timmis 2008; Gilley 2005; Oakland 2007).

    Wanneer daar oor verandering in die bedieningstrukture van kerke besin word, kom leierskap noodwendig ook onder die vergrootglas (Brady & Woodward 2009; Labuschagne & Nel 2010; Grobler & Van der Walt 2008; Lingenfelter 2005; Armour & Browning 2000) en daarmee saam die toerusting van lidmate vir hulle dienswerk (Matsobane 2010; Mothoagae & Prior 2010; Dreyer 2006; Louw 1985).

    Die erediens vorm by baie gemeentes die kern van die pogings tot vernuwing, en ook hierdie tendens word in die huidige navorsing ondersoek (Smit 2010). Die gemeente se roeping om 'n verskil te maak in die samelewing en vereistes wat dit aan die bedieningsmodel stel, word deur sommige navorsers ontgin (Ungerer & Nel 2011; Vorster 2010; Schutte 2003; Borden 2003; Braaten 2008). Ander navorsers ondersoek die totale bestuur van die kerk (Mellody & Theron 2006; Dale 1997a, 1997b; Buitendag 2003; Chester & Timmis 2008; Van den Berg 1998).

    Strommen en Hardel (2000) gebruik 'n wye verskeidenheid empiriese navorsingsresultate om 'n nuwe model vir jeug en gesinsbediening te ontwerp (vgl. ook Penner 2003; Mueller 2006; Robbins 2004). Basson (2010) stel 'n model voor waardeur nuwe gelowiges in die gemeente geassimileer kan word.

    Hierdie artikel wil nie met bogenoemde navorsers in gesprek tree nie, maar wil tog in die lig van hierdie gesprek oor die bediening en bedieningstruktuur van gemeentes 'n eie bydrae probeer lewer op die spoor van die navorsingsmodel van Osmer (2008) op die terrein van Praktiese Teologie. Osmer (2008) beskryf navorsing in Praktiese Teologiese aan die hand van vier verskillende take. Die eerste taak noem hy die 'descriptive-empirical task' waarin dit gaan om die versameling van informasie. Die informasie wat so verkry word moet die navorser in staat stel om die patrone en dinamika van spesifieke episodes, situasies of kontekste te onderskei en te beskryf. Volgens Osmer en Schweitzer (2003:2) kan hierdie taak verwoord word met die vraag: 'What is going on?' In hierdie artikel word 'n gemeente-bedieningsmodel beskryf. As eerste stap in die navorsing om by hierdie model uit te kom, is 'n empiriese ondersoek in die Gereformeerde Kerk Randburg (GKR) uitgevoer, waarvan die resultate deur Breed en De Kock (op die pers) beskryf is. Hierdie inligting dien as onderbou vir die bedieningsmodel.

    Die vraag waarom 'n bepaalde situasie bestaan 'interpretative task' is volgens Osmer die tweede taak vir die navorser. Dit stel die navorser in staat om verskillende teorieë en patrone te begryp en toe te pas (Osmer 2008:6). Vir die samestelling van die bedieningsmodel is hierdie inligting deels uit die empiriese studie (Breed & De Kock op die pers) asook uit die bestudering van bogenoemde literatuur oor gemeentebediening verkry.

    Die derde taak vir die navorser wat Osmer (2008) voorstel is die 'normative task'. In hierdie stap word gevra: 'What forms ought religious praxis take in this particular social context?' Die antwoord op hierdie vraag, met die oog op die ontwikkeling van 'n bedieningsmodel, is gesoek in die bestudering van die Efesiërs 4-bedieningsmodel van Kruger (2005:2 e.v.), die bestudering van die nuutste navorsing oor die betekenis van die diakon-woordgroep, asook die bestudering van die wese en inhoud van die ouderling en die diaken se werk. Die resultate van hierdie ondersoek is beskryf in twee artikels (Breed & Breed 2010; Breed op die pers).

    Die vierde taak is volgens Osmer die 'pragmatic task'. Hiervolgens moet strategieë en handelinge ontwerp word om die praksis te verander volgens die gestelde doelwitte. Die vraag wat hier gevra word is: 'How might we respond in ways that are faithful and effective?' (Osmer 2008:10).

    Hierdie artikel fokus op die beantwoording van laasgenoemde vraag op grond van die voorafgaande navorsing (Breed & Breed 2010; Breed & De Kock op die pers; Breed op die pers). Die navorsingsvraag kan só geformuleer word: 'Hoe lyk 'n begronde gemeente-bedieningsmodel en wat is die proses om daartoe te kom?'

    Om navorsingsresultate vrugbaar te maak in die bediening van gemeentes is dit noodsaaklik dat dit kulmineer in 'n prakties uitvoerbare bedieningstruktuur of gemeente-bedieningsmodel. Hiermee word die doelwit van praktiese teologiese navorsing tot verbetering en vernuwing van die geloof en die geloofsdade van mense nagestreef (Pieterse, Greyling & Janse van Rensburg 2004:89). Hierin bestaan 'n leemte in die navorsingsliteratuur. In al die literatuur wat nagegaan is, kon geen uitgewerkte bedieningsmodel opgespoor word nie.1 Hierdie artikel wil 'n voorbeeld beskryf van 'n bedieningsmodel wat gegrond is op Skrifbeginsels en wat ook die tersaaklike resultate van die navorsing soos hierbo genoem, in ag neem. Hierdie artikel saam met die voorafgaande drie artikels (Breed & Breed 2010; Breed & De Kock op die pers; Breed op die pers) beskryf die pad wat 'n gemeente kan volg om tot 'n begronde bedieningsmodel vir die dienswerk (diakonia) van die gemeente te kom.

    Ten eerste word die uitgangspunte waarop hierdie bedieningsmodel gebou is, gestel. Daarna word die pad beskryf wat gestap is om by hierdie bedieningsmodel uit te kom en ten slotte word die bedieningsmodel beskryf. 2

     

    Uitgangspunte

    Vanweë die wye verskeidenheid uitgangspunte wat in bogenoemde literatuur ter sprake kom, en die feit dat 'n bedieningsmodel wesenlik beïnvloed word deur die uitgangspunte van diegene wat dit ontwikkel (vgl. Schwarz 1999; Van Gelder 2000), is dit nodig om die uitgangspunte onderliggend aan hierdie model te stel (De Wet & Pieterse 2010:488). 'n Gemeente wat so 'n bedieningsmodel wil ontwikkel, moet hulleself vooraf verantwoord oor hulle uitgangspunte (De Wet & Pieterse 2010:493).

    Die volgende dien as uitgangspunte vir hierdie bedieningsmodel:

    • Inligting wat uit empiriese navorsing binne die gemeente verkry is, kan nooit op sigself bepalend wees vir die samestelling van 'n bedieningsmodel nie. Die beginsels vanuit die Woord is die bepalende faktor. Inligting wat uit die empiriese navorsing verkry is, kan egter as aanduiding dien van waar beginsels oortree word, of nuwe denke stimuleer oor die praktiese toepassing van Bybelse beginsels.

    • Strukturele verandering is nie gelyk aan effektiewer bediening of hartsverandering by lidmate nie. Daarom dien hierdie struktuur slegs as 'n beskrywing van die kanale waardeur die bediening effektiewer kan vloei. Die struktuur skep die ruimte waarin die gelowiges hulle gawes tot opbou van die liggaam kan gebruik. Wanneer die gemeente hulle gawes gebruik, vra dit om struktuur en is die struktuur gegrond op die beginsels uit die Woord. Gawes sonder struktuur eindig in wanorde. Struktuur sonder die dinamika van die gawes van die Gees eindig in dooie formalisme (Schwarz 1999:174, 214, 215)

    • Die besondere dienste (ampte) word geroep tot diens (diakonia) aan die gelowiges tot eer van God en is gerig op die versorging van lidmate asook die aktivering van die dienswerk (diakonia) van alle gelowiges tot opbou van die liggaam van Christus. Die besondere diens bestaan nie as doel op sigself nie en die gawes van die gemeente funksioneer ook nie sonder die toerusting en toesig van die besondere dienste nie (Schwarz 1999:175).

    • Die doel van 'n bedieningsmodel is nie 'n suksevolle gemeente nie, maar die groei van elke lidmaat en die hele gemeente tot volwassenheid in die geloof, gemeenskap en diensbaarheid. So word Christus die Hoof van die Kerk verheerlik en sy konikryk uitgebrei (Ef 4).

    • Wanneer die omstandighede en behoeftes van lidmate in ag geneem word, dui dit nie op 'n antroposentriese uitgangspunt (Cilliers 2009:5; Douma 2000:49) nie. In opdrag van die Koning van die kerk moet die skape van die kudde versorg word en toegerus word met net die beste (Eseg 34; Joh 10; Hand 20:28), maar elkeen word ook met die gesag van die Koning vermaan om deel te hê aan die opbou van die liggaam al sou dit ook van hulle lyding verg (Van Gelder 2000:67).

    • 'n Gemeente-bedieningsmodel moet 'n balans bemiddel tussen kwalitatiewe en kwantitatiewe groei, tussen die opbou van die gemeentelede en die uitreik na die wêreld. Die een kan nie sonder die ander tot wasdom kom nie (Rima 2002:16; Batson 1999; Engle & McIntosh 2004).

     

    Ontwikkeling van 'n bedieningsmodel

    Historiese verloop

    Hierdie artikel beskryf 'n bedieningsmodel wat in die Gereformeerde Kerk Randburg (GKR) ontwikkel is oor 'n tydperk van ongeveer nege jaar. Die basis-teoretiese navorsing asook die empiriese navorsing wat vir die samestelling van die bedieningsmodel uitgevoer is, is reeds in drie artikels beskryf: Breed en Breed (2010), Breed en De Kock (op die pers) en Breed (op die pers). Die historiese aanloop tot die ontwikkeling van die bedieningsmodel asook die resultate van die navorsing daarvoor, word nou kortliks beskryf. Detail-inligting is in genoemde artikels verkrygbaar.

    Die Gereformeerde Kerk Randburg, 'n stadsgemeente, het in Januarie 2011 bestaan uit 1830 lidmate waarvan 440 dooplidmate was. Ongeveer 300 lidmate van die gemeente woon in Diepsloot, 'n plakkerskamp binne die grense van GKR. Ds. Kwena Semenya, een van die gemeente se predikante, sien veral om na hierdie lidmate se besondere bedieningsbehoeftes.

    'n Belangrike stap in die ontwikkeling van die bedieningsmodel het in Januarie 2009 plaasgevind toe 'n empiriese ondersoek binne die gemeente gedoen is met die oog daarop om inligting in te samel op grond waarvan die bedieningsmodel ontwikkel kon word:3

    Voor die empiriese ondersoek gedoen is, het die gemeente reeds vir ongeveer drie jaar 'n bepaalde bedieningsmodel gevolg wat daarop gemik was om die gemeente toe te rus vir sy dienswerk, om onderlinge liefde in die gemeente te bevorder en uit te reik na buite. Die bedieningsmodel het in die gemeente as 'mekaar-bediening' of 'lidmate-kerk' bekend gestaan. Die model is gegrond op Efesiërs 4 (vgl. Kruger 2005) asook op die verskillende tekste in die Bybel waar gelowiges aangespoor word om 'mekaar' te bedien (vgl. Versteeg 1980). Die empiriese ondersoek het ten doel gehad om hierdie model te verfyn of te verander in die lig van die data wat uit die ondersoek verkry sou word. (Breed & De Kock op die pers)

    Die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het ook in Januarie 2009 plaasgevind. Gedurende hierdie Sinode is 'n studie oor die vrou se dienswerk in die kerk ter tafel gebring. Die Sinode het op grond van 'n Skrifstudie bevind dat mans en vrouens in die kerk voluit lidmate van die kerk is en dat een nie minder as die ander is nie, maar op gelyke vlak in diens van die Here staan. Die Sinode besluit egter ook dat, volgens die lig wat hulle het, vroue nie in die besondere diens van ouderling en predikant mag dien nie. Die taak van die ouderling is op hierdie Sinode ook in diepte bespreek en in 'n studie beskryf.

    Die Gereformeerde Kerk Randburg het haarself verbind om die onderlinge ooreenkoms van die kerke te handhaaf en nie buite sinodebesluite op te tree nie. Die vraagstuk waarmee die gemeente besig was om te worstel, naamlik hoe elke lidmaat se gawes voluit benut kan word en hoe elke lidmaat ten beste bedien kan word, is deur hierdie besluit van die Sinode nog meer akuut gemaak. Daar was lidmate wat met die besluit van die Sinode saamgestem het en ander lidmate wat hewig daarvan verskil het.

    Die vraag wat by die gemeente geleef het, was: 'Gesien in die lig van die sinode-besluit, hoe moet die bediening in 'n gemeente dan lyk sodat alle lidmate, ook vroue, hulle gawes voluit kan gebruik?'

    'n Studie waarmee een van die predikante in die gemeente oor die besondere diens van diaken, Handelinge 6 en die diakon-woordgroep4 besig was (soos beskryf in Breed & Breed 2010; Breed op die pers), het duidelike rigtingwysers na 'n nuwe bedieningsmodel gebied.

    'n Werkgroep in die gemeente het opdrag ontvang om vanuit die vertrekpunt van die Efesiërs 4- bedieningsmodel (vgl. Kruger 2005) en die resultate van die empiriese ondersoek (Breed & De Kock op die pers), asook die studie oor die besondere diens van diaken en die diakon-woordgroep (Breed op die pers), te werk aan 'n nuwe bedieningsmodel vir die gemeente.

    Intussen is die gemeente ten volle op hoogte gehou van die proses en is hulle insette en deelname voortdurend gevra. Die gemeente is uitgenooi na kerkraadsvergaderings en het inligtingstukke ontvang waarin besluite en die Skrifgronde waarop dit geneem is, aan hulle deurgegee is. Verskeie geleenthede is gereël waar lidmate die sinodebesluite kon bespreek, asook die rigting waarin die kerkraad dink met dieoog op 'n nuwe bedieningsmodel.

    Die werkgroep het op 11 Junie 2009 finaal teruggerapporteer en die kerkraad het besluit om die nuwe bedieningsmodel te implementeer.

    Die resultate van die empiriese ondersoek asook die tersaaklike bevindings van die studie na die besondere diens van diaken en die diakon-woordgroep sal nou kortliks weergegee word. Vir verdere besonderhede word u verwys na Breed en Breed (2010), Breed en De Kock (op die pers) en Breed (op die pers).

    Resultate van die empiriese ondersoek

    Die volgende resultate van genoemde empiriese ondersoek (Breed & De Kock op die pers) het 'n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die bedieningsmodel.

    Bereidheid

    Die ondersoek het getoon dat 'n groot hoeveelheid lidmate reeds oortuig was van die Bybelse beginsel dat lidmate mekaar en ander moet dien met hulle gawes. Lidmate het aangedui dat hulle gereed is om te dien, maar dat die huidige struktuur bepaalde struikelblokke in hulle pad lê wat veroorsaak dat hulle nog nie tot aksie oorgegaan het nie.

    Beskikbaarheid

    Werkende lidmate (meestal professionele mense) het aangedui dat tyd 'n kosbare kommoditeit in hulle lewe is. Die verskillende lewensfases waarin lidmate hulle bevind, het ook 'n bepalende invloed op die hoeveelheid tyd wat hulle beskikbaar het asook wanneer gedurende die dag of in die week hulle beskikbaar is. Jongmense is byvoorbeeld laat weeksaande en oor naweke geredelik beskikbaar, terwyl gesinne met kinders vroegaand, maar verkieslik slegs Vrydagaande beskikbaar is vir funksies, vergaderings of dienswerk. Lidmate het ook aangedui dat hulle liewer nie betrokke wil raak by dienswerk in die gemeente indien dit gaan beteken dat hulle te min tyd gaan hê om hierdie dienswerk deeglik te doen nie.

    Op grond hiervan is die riglyn vir die bedieningsmodel bepaal dat die taak wat aan iemand opgedra word sy tyd en omstandigheid in ag moet neem. Die vorige praktyk om iemand te roep om diaken of ouderling te wees en dan aan almal 'n taak van dieselfde omvang te gee, mag nie deel wees van die bedieningsmodel nie. Indien iemand byvoorbeeld een uur per week op 'n Donderdag beskikbaar het, moet sy taak sover moontlik hierby aangepas word.

    Roeping

    Lidmate het in die ondersoek aangedui dat hulle persoonlik genader wil word vir 'n bepaalde taak, en dat die taak moet inpas by hulle gawes en belangstelling. Hulle wil, indien enigsins moontlik, daar werk waar hulle voel dat hulle 'n besondere bydrae kan lewer. Daar is natuurlik uitsonderings, wanneer daar 'n besondere nood is en iemand het die gawes om die werk te doen, al is dit nie sy of haar voorkeur nie. Alle roepings tot 'n besondere taak vind egter in oorleg met die geroepene plaas.

    Lidmate is nie altyd seker of daar nie ander lidmate is wat die werk beter as hulle kan doen nie, en is daarom dikwels huiwerig om hulleself aan te bied vir 'n bepaalde werk. Dit is daarom vir hulle belangrik om deeglik ingelig te word oor die aard van die taak waarvoor hulle geroep word en die rede waarom juis hulle geroep word.

    Die praktyk om iemand te roep tot 'n taak voordat daar met hom of haar gesprek gevoer is, mag nie deel wees van die bedieningsmodel nie. Indien moontlik, moet leiers vir 'n bepaalde taak gekies word vanuit die geledere van die groep wat reeds vir 'n tyd betrokke is by die taak. Leiers in die gemeente moet eerder vanuit bewese gawes, toewyding en belangstelling, self uit 'n groep na vore tree en nie uit die bloute op 'n kerkraadsvergadering geroep word nie.

    Toerusting

    Uit die empiriese ondersoek het dit duidelik geword dat, alhoewel baie lidmate vertroue het in hulle vermoë om hulleself vir 'n bepaalde taak te bekwaam, hulle deeglike toerusting wil ontvang vir die taak waarvoor hulle geroep word. Dit het verder duidelik geword dat toerusting nie slegs teoreties mag wees nie, maar ook praktiese inoefening of opleiding moet insluit om werklik vrymoedigheid by lidmate te bewerkstellig. Deeglike opleiding van lidmate moet 'n onlosmaaklike deel vorm van 'n bedieningsmodel.

    Sosiale betrokkenheid

    Betrokkenheid by die dienswerk in die gemeente en vriendskappe binne die gemeente is nou aan mekaar verbind. 'n Bedieningsmodel moet die geleentheid skep dat lidmate ook op sosiale vlak by mekaar betrokke kan raak. Alle dele van die dienswerk moet ook gerig wees op die versterking van die onderlinge liefde.

    Diakonia

    Die studie wat gedoen is oor die werk van die diaken en die diakon-woordgroep het 'n bepalende rol gespeel in die samestelling van die bedieningsmodel. Die resultate van die studie word weereens kernagtig weergegee. Details van die resultate kan gevind word in die artikels van Breed en Breed (2010) en Breed (op die pers).

    Nuutste navorsing oor die Diakon-woordgroep

    Die baanbrekerswerk van Collins (1990) oor die diakon-woordgroep het die vertrekpunt gevorm vir die studie met die oog op die ontwerp van 'n bedieningsmodel. Collins se resultate het onder andere in die nuutste uitgawe van A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature (Arndt, Danker & Bauer 2000) neerslag gevind. Die kern van Collins se bevindings is dat die diakon-woordgroep nie primêr 'nederige dienswerk' of 'tafelbediening deur 'n kelner' aandui, soos voorheen algemeen aanvaar is nie. Deur 'n intensiewe studie van al die tekste in die Nuwe Testament waarin die diakon-woordgroep voorkom, asook 'n studie van buite-Bybelse literatuur toon hy aan dat hierdie woordgroep die betekenis dra van 'gestuurde', 'verteenwoordiger' of 'tussenganger'. 'n Diakonos is iemand wat 'n spesifieke opdrag ontvang het en oor hierdie diakonia (dienswerk) van hom moet verslag doen aan die sender of opdraggewer. In die Nuwe Testament is die sender of opdraggewer gewoonlik 'n gemeente en/of God.

    Louw en Nida (1988:461) sluit hierby aan met hulle verklaring van diakonia as 'the role or position of serving-ministry, task'. Hulle (1988:460) haal Handelinge 13:36 aan waar gesê word dat Dawid God se doel gedien het in die tyd waarin hy geleef het. Dawid se diens (diakonia) was dus in opdrag van God, volgens God se wil. Diakoneo kan ook volgens Louw en Nida (1988:541) beteken: 'to serve God in some special way.'

    Breed (op die pers) lei die volgende af uit die nuutste navorsing oor die diakon-woordgroep:

    'Diakonia beskryf 'n ryke verskeidenheid van bedieninge van die gemeente.

    • Die diakonia-woordgroep kan dui op iemand wat geroep en gestuur/afgesonder word vir 'n bepaalde taak.

    • Die woord diakonos word in die Nuwe Testament soms as 'n tegniese term gebruik om bepaalde leiers in die kerk aan te dui.

    • Die apostels en ouderlinge se diakonia word duidelik onderskei van ander fasette van die gemeente se diakonia.

    • In die Nuwe Testament word verskeie leiers genoem wat in 'n bepaalde faset van die diakonia leiding geneem het.'

    Hy (Breed op die pers) lei die volgende leierstruktuur vir 'n gemeente uit die resultate van hierdie navorsing af:

    • 'Die ouderlinge en die predikant se spesialiteitsterrein van die diakonia word afgebaken.

    • Die res van die diakonia van die gemeente staan onder leiding van diakens.

    • Elke diaken word geroep en bevestig volgens sy of haar gawes vir 'n besondere taak of take.

    • Die diakens het 'n leidinggewende en toerustende rol om die gemeente by te staan in die uitvoering van hulle diakonia.

    • Wanneer daar in die gemeente 'n besondere behoefte, roeping of probleem ontstaan, kan die gemeente lidmate wat geskik is vir die taak roep en afsonder om daardie besondere diakonia te verrig of om daarin leiding te neem. Die persoon dien dan as diaken totdat die taak afgehandel is.'

    Riglyne uit Handelinge 6 vir die diakonia van die gemeente

    Breed en Breed (2010) toon deur hulle ontleding van Handelinge 6, asook deur verwysing na verskeie ander navorsers, dat daar nie met sekerheid afgelei kan word of Handelinge 6 die instelling van die besondere diens (amp) van diaken beskryf nie. Die wese en die inhoud van die diaken se dienswerk kan ook nie uit Handelinge 6 afgelei word nie. Die diaken se werk is dus nie primêr die versorging van dié wat in nood verkeer of die bevordering van koinonia in die gemeente nie.

    Wat wel uit Handelinge 6 afgelei kan word (Breed op die pers) is die volgende:

    • 'Die woord diakonia beskryf die totale bediening van die gemeente.

    • Bediening van lidmate (diakonia) is 'n baie hoë prioriteit binne die gemeente. Wanneer lidmate se probleme doeltreffend aandag kry (versorging na binne), skep dit die omgewing waarbinne die Woord na buite uitgedra kan word (uitreik).

    • Die dienswerk (diakonia) van leiers in die gemeente kan verdeel word wanneer dit te veel raak.

    • Spesialisasie in die dienswerk (diakonia) is nodig by die verdeling daarvan.

    • Leiers behoort 'n fokusgebied in hulle bediening (diakonia) te hê en mag nie toelaat dat hulle primêre roeping agterweë bly omdat hulle aan te veel dinge probeer aandag gee nie.>

    • Die gemeente kan betrokke wees by die verkiesing van leiers vir 'n besondere taak.

    • 'n Konkrete noodsituasie kan daartoe aanleiding gee dat leiers gekies moet word om daardie besondere probleem te takel. Die roeping en verkiesing van leiers is deel van 'n aktuele en dinamiese groeiproses binne die gemeente.'

    Die taak van die ouderling en die predikant

    Uit die voorafgaande was dit duidelik dat die indeling van die diakonia in die gemeente voorgestel kan word soos in Figuur 1.

     

     

    Dit was belangrik vir die ontwikkeling van die bedieningsmodel om die dienswerk van die ouderling te omlyn vanuit die Nuwe Testament. In 'n rapport wat dien op die Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika 2009 word die taak van die ouderling in 'n bibliologiese studie (Van Rensburg 2009:443-452) soos volg afgebaken.

    Ouderlinge word in die Nuwe Testament met twee woorde beskryf, naamlik 'episkopos' en 'presbuteros'. Episkopos dui op die taak van die ouderling om leiding te neem en toesig te hou binne die kerk. Presbuteros dui op die verantwoordelikheid en bevoegdheid van die ouderling om leiding te gee in godsdiens-etiese sake. Die take waarvoor die ouderling volmag ontvang is die volgende:

    • Die kudde oppas (Hand 20:28); as herders sorg vir die kudde van God (Hand 20:28; 1 Pet 5:2); en 'n voorbeeld vir die kudde wees (1 Pet 5:3).

    • Waaksaam wees (Hand 20:31).

    • Die gelowiges toerus vir hulle diens, naamlik vir die opbou van die liggaam van Christus (Ef 4:12).

    • Onderrig (1 Tim 3:2).

    • Met die gesonde leer opvoeding gee (Tit 1:9).

    • Teësprekers weerlê (Tit 1:9).

    • Leiding gee (1 Tim 5:17).

    • Sommiges preek en gee onderrig (1 Tim 5:17).

    • Bid vir siekes en salf hulle met olie (Jak 5:14).

    • 'n Ander beeld as dié van herder-kudde word ook gebruik: 'n opsiener is bestuurder oor die huishouding van God (Tit 1:7); dit impliseer dat God die kurios (huisbaas) is, die episkopos bestuur die huishouding met 'n mandaat van die huisbaas. Hiertoe kry die episkopos die bevoegdheid, die volmag. Hy het nie self die gesag nie, maar bedien die gesag van Christus deur te lei en te bind.

    • Daar word in die Nuwe Testament onderskei tussen die episkopoi en die diakonoi (Filem 1:1).

    • Die ouderlinge het saam met die apostels besluitnemingsbevoegdheid gehad, en hierdie besluit(e) het gesag (Hand 15:2-16:4).

     

    'n Bedieningsmodel

    Hierdie model beskryf nie eksplisiet die bediening van die gemeente na buite (uitreik) nie, maar fokus op die bedieningstruktuur binne die gemeente. Hierdie bedieningstruktuur is ook daarop gemik om die lidmate toe te rus om na buite uit te reik, soos duidelik word uit verskeie diensgroepe wat bestaan. Die gemeente het wel besondere uitreik-aksies - hulle het byvoorbeeld 'n predikant beroep en na Londen gestuur, en uit hierdie bediening is reeds twee gemeentes in Londen geplant.

    Die bestaande bediening in die Gereformeerde Kerk Randburg is opnuut ontleed. Uit hierdie ontleding het dit duidelik geword dat daar twee onderskeibare maar nie skeibare bene in die bediening bestaan, naamlik die wyksbediening en die diensgroepbediening.

    Wyksbediening

    Vorige bedieningspatroon

    Die wyksbediening in die GKR het voorheen hoofsaaklik bestaan uit wyke waarin 'n ouderling die lidmate verkieslik vier keer per jaar moes besoek en dan op 'n vergadering daaroor verslag doen. Die meeste diakens het net by die wyksbediening betrokke geraak wanneer daar finansiële nood ontstaan het.

    Die bediening kan soos voorgestel word soos in Figuur 2.

    Die voordele van hierdie bedieningsmetodiek is dat 'n getroue ouderling minstens vier keer per jaar by lidmate uitkom en die Woord aan hulle bring in hulle situasie, hulle gaandeweg goed leer ken en hulle vertroue wen. Sodoende kan hy hulle herderlik versorg in tye van nood. Die nadele is dat lidmate nie met mekaar kontak het nie en ook nie begelei word om mekaar te bedien nie. Lidmate kan maklik verval in 'n toeskouer-mentaliteit waarin húlle bedien word en nie self hoef betrokke te raak nie. Die ouderling dra die volle las van die bediening en dit raak soms vir hom net te veel. Dit veroorsaak dikwels, veral in die stad met sy besige lewe, dat die ouderling na 'n ruk ontslag vra en 'n nuwe ouderling weer van vooraf die verhouding met lidmate moet opbou. Wanneer 'n ouderling nie sy werk deeglik doen nie en tog verslag doen dat hy almal besoek het, bestaan daar nie tydige kontrole dat elke lidmaat wel bedien word nie. Elke ouderling het ook nie die gawe om mense pastoraal te bedien nie. In die GKR is daar 85 wyke. Die groot hoeveelheid wyke maak kontrole oor die deeglikheid van bedieningswerk in die wyke moeilik. Daar moet voordurend toegesien word dat alle wyke ouderlinge het. Dit gee maklik daartoe aanleiding dat lidmate wat nie noodwendig die gawes het nie, as ouderlinge bevestig word.

    Wyksbediening volgens die nuwe model

    Bedieningspan: Op grond van die beginsel dat dit die ouderlinge se werk is om te regeer en toe te sien dat die kudde versorg word en dat lidmate geroep is om mekaar te versorg, is in die nuwe bedieningsmodel besluit om die bediening binne 'n wyk onder leiding van 'n bedieningspan te laat plaasvind. Die bedieningspan bestaan uit 'n wyksleier en helpers. Die wyksleier is 'n diaken (diakonos) wat die gawes het van omgee en organisasie. In die oorgangsfase van die ou na die nuwe model het baie ouderlinge ontslag ontvang en is as diakens (wyksleiers) bevestig. Die helpers is lidmate wat betrokke is en reeds die warmte en die liefde van die gemeente ervaar het en ook die gawe het om ander daarmee te bedien. Die ouderling hou toesig oor die bediening en is daar om die bedieningspan te begelei, toe te rus en by te staan in die herderlike versorging van lidmate. Die bediening kan soos volg voorgestel word soos in Figuur 3.

    Die bedieningspan is verantwoordelik vir die bediening van elke lidmaat individueel, maar ook om die lidmate te begelei in hoe om mekaar te bedien. Die bedieningspan kan die lidmate onder mekaar verdeel sodat elkeen een of twee besoekpunte bedien. Die bedieningspan kan egter ook twee-twee na lidmate gaan om byvoorbeeld saam by lidmate Bybelstudie te hou. Hulle kan ook reël dat twee gesinne mekaar besoek of dat twee gesinne of lidmate na 'n derde gaan. Hulle kan soms 'n groepsbesoek reël vir almal in die wyk of net sosiaal saamkuier. Al die lede van die bedieningspan hoef nie besoeke af te lê nie, elkeen doen die diakonia waarvoor hy of sy gawes ontvang het. Sommige helpers kan dus die administrasie doen, herinnerings aan verjaardae uitstuur, reël vir kos wanneer daar by 'n gesin 'n krisis is, of watter take ook al mag nodig word.

    Die bedieningspan besluit biddend oor die bediening wat elke lidmaat nodig het. Wanneer die ouderling of predikant se bediening nodig is, reël hulle daarvoor. Wanneer in-diepte-berading nodig is, kry hulle iemand wat dit kan doen. Die fokus is op intensiewe en kwaliteit bediening aan individue en groepe.

    Verskillende wyke se bedieningspanne kan saamwerk om groter byeenkomste te hou waar lidmate mekaar beter kan leer ken. Die bedieningspan se taak is om te verseker dat elke lidmaat met die liefde van Christus versorg word, maar ook dat elke lidmaat begelei word om te groei in hulle geloof en uitgedaag word om deel te neem aan die bediening (diakonia) in die wyksbediening of in die diensgroepbediening.

    In die GKR was daar 'n hele aantal bestaande Bybelstudiegroepe. Hierdie groepe het in die nuwe bedieningsmodel voortbestaan, maar die meeste het ook wyke geword waarin die lidmate mekaar onderling bedien. Hierdie groepe is elkeen genader om uit hulle geledere 'n wyksbestuur saam te stel. Soveel van die lidmate as wat bereid was, het op die wyksbestuur gedien. Hulle is gevra of hulle bereid sou wees om ook ander lidmate buite die Bybelstudiegroep te bedien. Die Bybelstudiegroep wat reeds die onderlinge liefde en versorging beleef, word op hierdie manier begelei om ook uit te reik na ander en hulle te bedien met die liefde van Christus.

    Hierdie deel van die bedieningsmodel is gegrond op die volgende beginsels:

    • Die diakonia in die gemeente kan verdeel word en leiers kan aangewys word om die deel van die diakonia waar te neem wat te veel is vir die ouderlinge (Hand 6).

    • Benewens die ouderling (leer en regeer) was daar ook diakonoi wat leiding geneem het in die bediening (Fil 1:1; 2 Tim 3).

    • Niemand moet soveel werk in die gemeente hê dat hy of sy nie sy of haar primêre taak deeglik kan doen nie. Spesialisasie verhoed dat 'n sekere deel van die diakonia afgeskeep word (Hand 6:1-7).

    • Lidmate het elkeen 'n funksie binne die gemeente en moet toegerus word om hulle deel van die diakonia te verrig (Ef 4).

    • Lidmate moet mekaar dien en versorg (1 Pet 4:10).

    • Ouderlinge is daarvoor verantwoordelik dat die kudde opgepas en versorg word. Hulle moet ook seker maak dat die nodige toerusting gegee word (Hand 20:28).

    Ouderling: Die wyke in GKR is in blokke opgedeel. Elke blok bestaan uit wyke waarin mense van 'n bepaalde lewensfase gegroepeer is. In die A-wyke is al die afgetrede mense, B-wyke is mense wie se kinders uit die skool is, C-wyke is mense wat skoolgaande kinders het, G-wyke se kinders is voorskools en D-wyke is jong getroude paartjies sonder kinders. Ongetroude jongmense is in die E-wyke. Die blokke bestaan uit 8 tot 20 wyke.

    'n Ouderling ontvang twee of meer wyke in 'n bepaalde blok waarin hy moet toesig hou dat die bediening wel plaasvind. Daar kan dus twee of meer ouderlinge in 'n blok wees.

    Die (blok)ouderling woon vergaderings by van bedieningspanne om hulle met raad en toerusting by te staan. Die ouderling besoek lidmate op 'n gereelde basis en ook op versoek van die bedieningspan. Wanneer 'n lidmaat 'n krisis of trauma beleef, word 'n lid van die bedieningspan die taak opgelê om daardie lidmaat by te staan en te sorg dat, waar nodig, die predikant, ouderling of ander lidmate betrek word in die bediening.

    Wanneer 'n lidmaat in sonde volhard, word so 'n lidmaat deur die bedieningspan op allerlei wyses bedien met Christus se liefde. In hierdie proses word die ouderling en predikant betrek in die bediening. Hierdie lidmaat ontvang nie (soos voorheen dikwels gebeur het) net vier keer per jaar besoek van die ouderling waarop hy telkens ernstiger vermaan word en later afgehou word van die nagmaal nie. Die wyksbedieningspan kan dit byvoorbeeld aan een lidmaat opdra om hierdie persoon of gesin gereeld te besoek, uit te nooi na byeenkomste en eredienste, en om werklik 'n band met hom/haar/hulle te probeer vestig en te probeer uitvind of daar 'n onderliggende oorsaak is vir hy/sy/hulle volharding in sonde. Die ouderling bly op hoogte van die bediening en doen verslag aan die kerkraad oor hierdie bediening en die vordering, al dan nie. Die kerkraad besluit oor die bediening van die tug aan lidmate.

    Die ouderling met die predikant hou voor nagmaal 'n gesamentlike vergadering met verteenwoordigers van bedieningspanne van die wyke waaroor hy toesig hou. Ouderlinge in dieselfde blok hou normaalweg saam vergadering met verteenwoordigers van bedieningspanne. Op hierdie vergadering rapporteer die wyksleier of 'n helper oor die bediening wat aan elke lidmaat gegee is. Die vergadering gee onderling aan mekaar raad oor die bediening. By bepaalde probleme kan dit wees dat een ouderling weet van 'n lidmaat uit sy wyke wat besonder toegerus is om te help met 'n probleem in 'n ander wyk.

    Voor nagmaal rapporteer die ouderlinge op die kerkraadsvergadering oor die bediening wat in hulle wyke plaasvind. Die kerkraad neem beginselbesluite oor die volle diakonia van die gemeente, besluit oor die vordering van tugstappe in die bediening van lidmate en hanteer alle aanbevelings wat vanuit die blokvergaderings kom. Die ouderling gee terugvoer aan die blokvergadering oor die besluite wat op die kerkraadsvergadering geneem is.

    Die ouderlinge verrig dus hulle herderlike werk deur sorg te dra dat die bedieningspanne effektief funksioneer en deur self lidmate op 'n gereelde basis te besoek, asook om op versoek van bedieningspanne besondere versorging te doen by lidmate waar dit nodig is. Die ouderlinge verrig hulle toesig- en regeertaak deur hulle betrokkenheid by die bedieningspanne, terugrapportering in blokke en die kerkraadsvergadering.

    Hierdie deel van die bedieningsmodel is gegrond op die volgende beginsels:

    • Die ouderlinge is geroep as bestuurders van die huishouding van God (Tit 1:7).

    • Die ouderlinge neem as bestuurders die beginselbesluite oor die diakonia in die gemeente (Hand 15).

    • Die ouderlinge is herders en moet die kudde self versorg maar ook toesien dat daar nie dwaalleer en goddelose mense in die gemeente kom nie. Hulle moet vermaan en bestraf waar nodig (Hand 20).

    • Die ouderlinge, predikante ingesluit, hoef nie al die herderlike werk self te doen nie, maar moet seker maak dat dit deeglik gedoen word (Hand 6:1-7).

    Toerusting: Deeglike toerusting van die leiers asook van lidmate is 'n belangrike prioriteit vir die GKR. Sowel in die ou as die nuwe bedieningsmodel is en word daar voortdurende toerusting gegee aan leiers wat dit weer aan lidmate oordra:

    Toerusting met die oog op Bybelstudie tydens huisbesoek: Vier keer per jaar word die wyksbedieningspanne almal saam toegerus om in die wyk huisbesoek te doen en met die gemeente 'n Skrifgedeelte of 'n tema vanuit verskeie Skrifgedeeltes in diepte te bespreek. Die doel van die huisbesoek is toerusting met die oog op geloofsgroei, vertroosting, bemoediging of vermaning, volgens elke lidmaat of gesin se behoefte. Aktuele sake word soms aangespreek. 'n Verteenwoordiger uit 'n bedieningspan kan die toerustingsgeleentheid bywoon, waarna die bedieningspan dit saam kan doen en saam kan bid en beplan vir die individuele huisbesoek wat gedoen gaan word. Hierdie vier huisbesoeke per jaar is dan buiten die besoeke wat lidmate van mekaar en die bedieningspan ontvang.

    Toerusting met die oog op die pastorale versorging van lidmate: As deel van die toerusting van bedieningspanne en ander lidmate om hulle diakonia te kan verrig word 'n jaarlikse pastorale beradingskursus in die gemeente aangebied. Hierdie kursus strek oor agt weke en sluit toeretiese toerusting asook praktiese inoefening in. Alle ouderlinge en lede van bedieningspanne word aangemoedig om hierdie kursus by te woon. Lidmate wat nie deel is van 'n bedieningspan nie en wat die kursus neem, kan na hul opleiding deel word van 'n bedieningspan, of van die beradingsdiensgroep (vgl. 'bereidheid' bl. 4), of kan die opleiding gebruik na hulle goeddunke. Lidmate wat die kursus voltooi het, word aangemoedig om verdere en indien moontlik geakkrediteerde kursusse te volg en te spesialiseer in velde soos traumaberading, huweliksberading, berading aan depressielyers, en so meer.

    'n Verdere gespesialiseerde kursus word in samewerking met ander gemeentes in Johannesburg aangebied. Hierdie kursus fokus op verslawing en, in die besonder, seksuele verslawing. Lidmate met probleme in hierdie verband woon die 28-weke kursus by. Van die lidmate wat die pastorale kursus voltooi het, dien in hierdie tyd as mentors vir hierdie lidmate of persone van buite wat die kursus bywoon. Lidmate met 'n verslawing kan buiten die kursus, verdere berading ontvang deur opgeleide pastorale beraders. Lidmate wat die jaarlikse pastorale kursus voltooi het en in hierdie rigting wil spesialiseer, woon ook hierdie kursus by en kan dan as mentors of beraders optree.

    Lidmate wat verslawing oorwin het, word genooi om die pastorale kursus te volg en betrokke te raak by die wyksbediening of by die beradingsdiensgroep.

    Bedieningspanne kan lidmate verwys na die kursusse en die beradingsdiensgroep om hulle te help groei in 'n oorwinningslewe.

    Die wyksbediening kan voorgestel word soos in Figuur 4.

    Hierdie deel van die bedieningsmodel is gegrond op die volgende beginsels:

    • Die leiers in die gemeente is as gawes aan die gemeente gegee om die ander gelowiges toe te rus vir hulle dienswerk. Wanneer elke lidmaat sy of haar funksie vervul, bou die liggaam homself in liefde op (Ef 4).

    • Lidmate ontvang die take waarvoor hulle geroepe voel, oor die gawes beskik en die tyd het (Hand 6:1-7).

    Diensgroepbediening

    Verskeie diensgroepe het voor die implementering van die nuwe struktuur in die GKR gefunksioneer. Hierdie diensgroepe het individueel volgens 'n rooster direk aan die kerkraad verslag gedoen. Daar was geen ouderlinge direk betrokke by die diensgroepe nie, behalwe as hulle lede van die diensgroep was. Toesig deur die ouderlinge het dus hoofsaaklik plaasgevind deur middel van die verslae by die kerkraadsvergadering.

    Volgens die nuwe bedieningsmodel kom diensgroepe in verskeie bedieningsrade bymekaar onder leiding van 'n ouderling. Diensgroepe waarvan die bedienings verwant is, is saam gegroepeer in bedieningsrade. In die bedieningsrade doen die diensgroepsameroepers (diakens) verslag oor die werksaamhede van die diensgroep. Die raadslede ondersteun mekaar, gee aan mekaar raad en bemoedig mekaar. Die omgee-bedieningsraad bestaan byvoorbeeld uit die beradingsdiensgroep, die diensgroep wat siekes besoek, die diensgroep wat mense wat in finansiële nood verkeer help en die diensgroep wat nuwe intrekkers ontvang. Die sameroepers van die diensgroepe word as diakens bevestig omdat hulle leiding neem binne 'n bepaalde faset van die diakonia van die gemeente. Die ouderlinge wat toesig hou en lei en toerus by die bedieningsrade, doen op die kerkraadsvergadering verslag oor die bediening in die diensgroepe onder hulle sorg.

    Beginsels waarop hierdie deel van die bedieningsmodel gegrond is:

    • Volgens 1 Korintiërs 12 is differensiasie 'n wesenlike deel van die funksionering van die liggaam van Christus. Die verskillende lede van die liggaam vervul elkeen 'n unieke funksie, maar is ook onlosmaaklik op mekaar aangewese vir optimale funksionering.

    • Leiers word verkieslik vanuit die lede van 'n diensgroep verkies. Die leiers ontvang sowel teoretiese as praktiese opleiding en groei tot volwassenheid om die taak te verrig (Ef 4).

    Die beradingsdiensgroep

    Vanweë die beperkte omvang van die artikel kan nie elke diensgroep bespreek word nie. Omdat die beradingsdiensgroep so 'n belangrike rol speel in die bedieningsmodel word hierdie diensgroep nou as voorbeeld bespreek.

    Lidmate wat een van die beradingskursusse van die gemeente en/of ander geakkrediteerde beradingskususse gevolg het, kan deel word van die wyksbediening- of van die beradingsdiensgroep. Lede van die beradingsdiensgroep verklaar hulle bereid om die bedieningspanne in die wyke by te staan. Indien daar byvoorbeeld iemand is wat haar lewensmaat verloor deur dood of egskeiding, kan 'n lid van die beradingsdiensgroep hierdie persoon in haar pyn bystaan. Sommige lede van die beradingsdiensgroep spesialiseer in 'n bepaalde rigting en kan ook 'n groep vorm wat die gemeente hierin bedien.

    Die opgeleide lede van die beradingsdiensgroep is tydens kursusse ook behulpsaam met die praktiese opleiding van lidmate.

    Sommige lede van die beradingsdiensgroep verklaar hulle bereid om ook berading te gee aan mense wat nie lidmate van die gemeente is nie. Psigiaters en sielkundiges uit die gemeente word genader om as mentors vir hierdie beraders op te tree. Hierdie psigiaters en sielkundiges verklaar hulle bereid om 'n aantal ure per maand of per week af te staan om die beraders te begelei en raad te gee, of om mense met ernstiger probleme vir 'n aantal sessies gratis te spreek.5

    Die struktuur van die gemeentebediening

    Die struktuur van die gemeentebediening kan soos voorgestel word soos in Figuur 5.

     

    Slot

    Dit is vir elke gemeente noodsaaklik om 'n bedieningsmodel te hê sodat die gawes van elke lidmaat optimaal kan funksioneer, elke lidmaat ten beste versorg kan word en die lidmate en die gemeente kan groei na volwassenheid in Christus (Ef 4). Hierdie artikel, saam met die vorige drie artikels, het die pad na so 'n bedieningsmodel beskryf. Daar is probeer om hierdie pad op die beginsels in God se Woord te begrond sodat ander gemeentes vanuit hierdie navorsing hulle eie unieke pad kan oopkap.

     

    Erkennings

    Mededingende belange

    Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

     

    Literatuurverwysings

    Anderson, D.A., 2004, Multicultural ministry, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Anderson, R.S., 2006, An emergent theology for emerging churches, Inter Varsity Press, Downers Grove, IL.         [ Links ]

    Armour, M.C. & Browning, D., 2000, Systems sensitive leadership: Empowering diversity without Polarizing the Church, College Press, Joplin, MI.         [ Links ]

    Arndt, W., Danker, F.W. & Bauer, W., 2000, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature: Based on Walter Bauer's Griechisches-Deutsches Wörterbuch zu den Schriften des Neuen Testaments und der übrigen urchristlichen Literatur, 3rd rev. edn., University of Chicago Press, Chicago.        [ Links ]

    Basson, E.F., 2010, 'Die assimilasie van lidmate in die plaaslike geloofsgemeenskap', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(2),1-6.        [ Links ]

    Batson, H.K., 1999, Common-sense church growth, Smyth & Helwys, Georgia.        [ Links ]

    Bolger, R., 2007, 'Following Jesus into culture: Emerging church as social movement', in D. Pagitt & T. Jones (eds.), An emergent manifesto of hope, pp. 131-139, Baker, Grand Rapids, MI.        [ Links ]

    Borden, P.D., 2003, Hit the bull's-eye: How denominations can aim the congregation at the mission field, Abingdon, Nashville, TN.         [ Links ]

    Braaten, C.E., 2008, That all may believe: A theology of the gospel and the mission of the church, WmB. Eerdmans, Grand Rapids, MI.        [ Links ]

    Brady, C. & Woodward, O., 2009, Launching a leadership revolution: Mastering the five levels of influence, Grand Central, New York.        [ Links ]

    Breed, G., (op die pers), 'Nuut gedink oor die wese en inhoud van die dienswerk van die diaken', HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 68(1).        [ Links ]

    Breed, G. & Breed, D.G., 2010, 'Besinning oor die diakonale dienswerk na aanleiding van Handelinge 6:1-7', In die Skriflig 44(3/4),627-653.        [ Links ]

    Breed, G. & De Kock, J., (op die pers), 'Op pad na 'n volwasse gemeente - 'n empiriese ondersoek met die oog op die ontwikkeling van 'n bedieningsmodel', In die Skriflig 45.        [ Links ]

    Buitendag, J., 2003, 'Die kerk se korporatiewe identiteit', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 59(2),353-365.        [ Links ]

    Carson, D.A., 2000, Telling the truth: Evangelizing postmodernism, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Carson, D.A., 2005, Becoming conversant with the Emerging Church, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Chester, T. & Timmis, S., 2008, Total church: A radical reshaping around gospel and community, Crossway Books, Wheaton, IL.        [ Links ]

    Cilliers, J.H., 2009, 'Skrifbeskouing en oorredingsretoriek: Perspektiewe op performatiewe prediking', Acta Theologica (1), 1-16.        [ Links ]

    Collins, J.N. 1990, Diakonia: Re-interpreting the ancient sources, Oxford University Press, Oxford.        [ Links ]

    Dale, R.D., 1997a, 'Managing christian churches and not-for-profit organisations', in B.P. Powers (ed.), Church administration handbook, pp. 3-20, B&H Publishing Group, Nashville.        [ Links ]

    Dale, R.D., 1997b, 'Working with people', in B.P. Powers (ed.), Church administration handbook, pp. 73-92, B&H Publishing Group, Nashville.        [ Links ]

    De Wet, F.W. & Pieterse, H.J.C., 2010, 'Die noodsaak van die verrekening van metateoretiese vertrekpunte in prakties-teologiese wetenskapsbeoefening', In die Skriflig 45(2),483-502.        [ Links ]

    Douma, J., 2000, Veni creators Spiritus: De meditatie en het preekproces, Kok, Kampen.        [ Links ]

    Dreyer, T.F.J., 2006, 'Die akkommodering en bestuur van diversiteit in gemeenteverband', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 62(4),1-6.        [ Links ]

    Du Plooy, J.L., 1994, 'Die betekenis van gemeente-opbou vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika', ThD proefskrif, Departement of Theology, PU vir CHO, Potchefstroom.        [ Links ]

    Engle, P.E. & Mcintosh, G.L. (eds.), 2004, Evaluating the Church growth Movement: 5 Views, Zondervan, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Gilley, G., 2005, This little church went to market: Is the modern church reaching out or selling out?, Evangelical Press, New York.         [ Links ]

    Grobler, A.B. & Van der Walt, A.L., 2008, 'An assessment of the management skills required of ministers in the Reformed Churches of South Africa', In die Skriflig 42(4),735-754.        [ Links ]

    Kimball, D., 2003, The emerging church: Vintage Christianity for new generations, Zondervan, Grand Rapids, MI.        [ Links ]

    Kruger, S.F., 2005, 'Toerusting as wordingsproses: perspektiewe uit die Efesiërbrief', In die Skriflig 39(3),527-553.        [ Links ]

    Labuschagne, F. & Nel, M., 2010, 'Kerkleierskap as bemiddeling van 'n onmoontlike werklikheid: 'n Prakties teologiese ondersoek na die rol van leierskap in die transformasie van gemeentes', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(2),1-6.        [ Links ]

    Lingenfelter, S., 2005, 'The DNA of the church: Anthropological reflections on the missionary structure of the church', Swedish Missiological Themes 93(3),433-447.        [ Links ]

    Louw, L.K., 1985, 'Ministering a congregation: A modern service model for the edification of the Parish', DTh Dissertation, Departement of Practical Theology, University of South Africa.        [ Links ]

    Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English Lexicon of the New Testament: Based on Semantic Domain, 2 vols., United Bible Societies, New York.        [ Links ]

    Matsobane, J.M., 2010, 'A triad of pastoral leadership for congregational health and well-being: Leader, manager and servant in a shared and equipping ministry', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(2),1-6.        [ Links ]

    Mellody, M.R.M. & Theron J.P.J., 2006, 'Faithful servants in the house of the Lord: Critical reflections on congregational management as stewardship', Practical Theology in South Africa 21(3),105-121.        [ Links ]

    Mohapi, M.P., 2008, 'Towards an appropriate model of the local church in the Vaal Triangle', PhD thesis, School of Basic Sciences, North-West University.        [ Links ]

    Mothoagae, I.D. & Prior, LA., 2010, 'A new Leadership for a New Ecclesiology', Acta Theologica 30(1),84-100.        [ Links ]

    Mueller, W., 2006, Engaging the soul of youth culture: Bridging teen worldviews and Christian truth, IVP Books, Downers Grove, Il.        [ Links ]

    Niemandt, N., 2007, Nuwe drome vir nuwe werklikhede: Geloofsgemeenskappe in pas met 'n postmoderne wêreld, ABC-Boekdrukkers, Epping.        [ Links ]

    Oakland, R., 2007, Faith undone: The emerging church, a new reformation or an end-time deception?, Lighthouse Trails, Montana.        [ Links ]

    O'Kennedy, D.F., 2003a, 'Wat sê die Bybel oor vernuwing en transformasie in die gemeente? (Deel 1: Ou Testament)', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 44 (1/2),132-146.        [ Links ]

    O'Kennedy, D.F., 2003b, 'Wat sê die Bybel oor vernuwing en transformasie in die gemeente? (Deel 2: Nuwe Testament) ', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 44(3/4),433-451.        [ Links ]

    Osmer, R.R., 2008, Practical theology - An introduction, Eerdmans, Grand Rapids.        [ Links ]

    Osmer, R.R. & Schweitzer, F.L., 2003, Developing a public faith: New directions in practical Theology, Chalice Press, St Louis.        [ Links ]

    Pagitt, D. & Jones, T (eds.), 2007, An emergent manifesto of hope, Baker, Grand Rapids, MI.        [ Links ]

    Pearse, N.J. & Smith, D.K.O., 2007, 'An explanation of organisational inertia in cell-church transitions', Practical Theology in South Africa 22(2),158-177.        [ Links ]

    Penner, M., 2003, Youth Worker's guide to parent ministry: A practical plan for defusing conflict and gaining allies, Zondervan, Grand Rapids, MI.        [ Links ]

    Pieterse, H.J.C., Greyling, S. & Janse van Rensburg, H., 2004, 'Die implikasies van Ricoeur se handelingsteorie vir die homiletiek', Praktiese Teologie in Suid-Afrika 19(1),89-115.        [ Links ]

    Powers, B.P. (ed.), 1997, Church administration handbook, B&H Publishing Group, Nashville.        [ Links ]

    Renkema-Hoffman, M., 2007, Naar een nieuwekerkenraad: Een onderzoek naar die principiële uitgangspunten van een gereformeerde ambsstructuur in die 21e eeuw, Apeldoorn,Theologische Universiteit Apeldoorn. (Apeldoornse studies no. 48.)        [ Links ]

    Rima, S.D., 2002, Rethinking the successful church: Finding serenity in God's sovereignty, Baker, Grand Rapids, MI.        [ Links ]

    Robbins, D., 2004, This way to youth ministry: An introduction to the adventure, Zondervan, Grand Rappids, MI.        [ Links ]

    Sanguin, B., 2008, The Emerging Church: A model for change and a map for renewal, BC Woodlake Publishing, Kelowna.        [ Links ]

    Scharmer, C.O., 2006, Theory U: Leading from the future as it emerges: The social technology of presencing, Berret Koehler publishers, San Francisco.        [ Links ]

    Schutte, P.J.W., 2003, 'Missionêre diakonaat: 'n Uitdaging vir die kerk', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 59(1),247-264.        [ Links ]

    Schwarz, C., 1999, Paradigm shift in the church: How natural church development can transform theological thinking, Church Smart Resources, St Charles, IL.        [ Links ]

    Smit, G.H., 1997, 'Ekklesiologie en gemeentebou - 'n prakties-teologiese studie', DDiv proefskrif, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria.        [ Links ]

    Smit, G.H., 2010, 'Aanbidding en prediking in missionale gemeentes - homileties-liturgiese beskouinge van missionêre gemeentebediening', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(1),1-6.        [ Links ]

    Ströh, U. & Jaatinen, M., 2001, 'Change management and complexity', Journal of Communication Management 6(2),148-165.        [ Links ]

    Strommen, M.P. & Hardel, E.A., 2000, Passing on the faith: A Radical new model for youth and family Ministry, Saint Mary's Press, Winona.         [ Links ]

    Ungerer, A.G. & Nel, M., 2011, 'Die verband tussen gemeentebouprosesse en missionale gemeente-ontwikkeling', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 67(2),1-11.        [ Links ]

    Van den Berg, A.A., 1998, 'Die plek en funksie van bestuur in die kerk', MCom.verhandeling, Departement Ondernemingsbestuur, PU vir CHO.        [ Links ]

    Van Gelder, C., 2000, The essence of the Church, Baker Books, Grand Rapids.        [ Links ]

    Van Rensburg, J.J., 2009, 'Bibliologiese studie oor die ouderling in die NT-kerk. Studierapport', GKSA, in, Handelinge van die vyftigste Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die tiende sinode middellande in die eerste algemene Sinode te Potchefstroom op 05 Januarie en volgende dae, 2009, pp. 431-452, V&R Drukkers, Potchefstroom.        [ Links ]

    Versteeg, J.P., 1980, Oog voor elkaar: Het gebruik van het woord 'elkaar' in het Nieuwe Testament met betrekking tot de onderlinge verhoudingen binnen de gemeente, Kampen, Kok.        [ Links ]

    Vorster, J.M., 2010, ''n Ekklesiologiese model vir die bediening van versoening in 'n sosio-politieke konteks', In die Skriflig 44(2),429-454.        [ Links ]

     

     

    Correspondence to:
    Gert Breed
    PO Box 19515, Noordbrug
    2522, South Africa
    Email: gert.breed@nwu.ac.za

    Received: 09 June 2011
    Accepted: 17 Oct. 2011
    Published: 15 Feb. 2012

     

     

    Note: This article is published in the section Practical Theology of the Society for Practical Theology in South Africa.
    1. Mohapi (2008) bespreek wel verskillende tipes modelle (2008:103-108) en beskryf 'n model (Pastoral Family Model) (2008:235-237). Hy gee ook belangrike aspekte van die toepassing van die model weer (2008:244-247), maar hy behandel dit slegs oorsigtelik en kom nie by 'n uitgewerkte bedieningsmodel uit nie.
    2. Vanweë die beperkte omvang van hierdie artikel kon nie alle fasette van die be-deningsmodel beskryf word nie. Die toerusting en gerigtheid op byvoorbeeld uitreik word nie in detail weergegee nie.
    3. Breed en De Kock (op die pers) beskryf die bedieningsmodel, gegrond op Efesiërs 4 wat toe in die gemeente gevolg is. Hulle verskaf ook die resultate van die empiriese ondersoek en trek riglyne op grond waarvan die model ontwikkel is.
    4. Wanneer verder in hierdie artikel na die diakon-woordgroep verwys word, word daarmee die begrippe diakonia, diakoneo, diakonos bedoel (vgl. Louw & Nida 1988:59).
    5. Die gemeente is tans besig om 'n beradingsentrum te vestig waarmee beoog word om na die gemeenskap uit te reik deur gratis berading aan lede van die publiek te verskaf.