SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.68 issue1Pro Pent: A project for the study of the Pentateuch in South AfricaThe theological paraphrasing of history: The Exodus tradition in the Wisdom of Solomon author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050

Herv. teol. stud. vol.68 n.1 Cape Town Jan. 2012

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Klaagliedere by Qumran: 'n Tweede redaksie?

 

Lamentations at Qumran: A second edition?

 

 

Herrie F. van Rooy

School for Biblical Studies and Ancient Languages, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The four Qumran manuscripts of Lamentations presented the Hebrew text of the book from a period of about one hundred years before the standardisation of the Hebrew consonantal text. These manuscripts were studied to answer the question whether they, or one or more of them, presented a different edition of the Hebrew text than the one preserved in the Masoretic Text. The current consensus is that the Masoretic Text was well preserved and that the ancient versions, the Septuagint, Targum, Peshitta and Vulgate, were translated from Hebrew texts close to the Masoretic tradition. The four manuscripts were firstly described in this article. They all dated from the last part of the first century BCE. They were then studied in detail with regard to the variants they contain, their agreement with the Masoretic Text and the ancient versions. Only a few parts of 3QLam and 5QLamb had been preserved. These sections agreed mostly with the Masoretic Text, but no definite conclusions could be made on account of their bad state of preservation. 4QLamª agreed frequently with the Masoretic Text where one or more of the versions disagreed from it. 4QLam did not agree often with the Masoretic Text when it differed from the ancient versions, but frequently went its own way. These manuscripts contained a number of variants pointing to a different edition of the book. The most important variants occurred in Lamentations 1:7, 13, 14 and 16. The different order of verses 16 and 17 against the Masoretic Text was also important in this regard. This manuscript pointed to a different textual tradition than the one occurring in the Masoretic Text.


 

 

Inleiding

Die ontdekking van die Dooie Seerolle het 'n omwenteling gebring in die bestudering van die teks van die Ou Testament (vgl. bv. Cross 2006 vir 'n bondige bespreking hiervan, met aandag aan die verskillende tekstipes wat daar gevind word). Hierdie stelling oor die omwenteling weens Qumran geniet algemene aanvaarding tot so 'n mate dat dit nie beredeneer hoef te word nie. Die manuskripte van Qumran en die omgewing daarvan het nuwe lig gewerp op die ingewikkelde oorleweringsproses van die Ou Testament en het die grens tussen die totstandkoming van die teks van die Ou Testament en die oorlewering van die teks laat vervaag. Die tradisionele onderskeid tussen historiese kritiek ('hoër kritiek') en tekskritiek kan in die geval van baie van die boeke van die Ou Testament nie meer gehandhaaf word nie. In die geval van 'n boek soos Jeremia is dit duidelik dat daar twee uitgawes van die boek was, wat elkeen sy eie redaksiegeskiedenis en tekstuele oorlewering gehad het. Dit geld ook van ander boeke (vgl. Cross 2006:72-73). Klaagliedere is egter een van die boeke wat in hierdie verband nog nie veel aandag ontvang het nie. Hierdie artikel poog om die teks van Klaagliedere in die beskikbare manuskripte van Qumran te beoordeel om die vraag te beantwoord of hierdie boek ook meer as een redaksie gehad het. Die huidige konsensus is dat dit nie die geval is nie (vgl. Berlin 2004:36). Die boek het egter nog nie veel aandag gekry in die diskussie van die materiaal van Qumran nie. Die materiaal van Qumran word bespreek in die uitgawes wat die tekste van Klaagliedere bevat, in 'n enkele publikasie van Cross (1983) en in die onlangse kommentaar van Salters (2010). In die artikel sal eerstens aandag gegee word aan die teks van Klaagliedere in die Masoretiese Teks en in die ou vertalings. Daarna sal die tekste van Qumran beskryf word, waarop 'n bespreking van belangrike variante vir die doel van hierdie artikel aan die orde kom. Hier word onderskei tussen variante wat die lesing van die Masoretiese Teks ondersteun en variante wat van die Masoretiese Teks verskil.

 

Klaagliedere in die Masoretiese Teks en die ou vertalings

'n Konsensus bestaan oor die Hebreeuse teks van Klaagliedere, sowel as die vier belangrikste ou vertalings, die Septuagint, Targum, Pesjitta en Vulgaat. Gevolglik is daar weinig onlangse navorsing in die verband. Gedurende die afgelope twee dekades het twee belangrike werke verskyn wat 'n oorsig bied oor die navorsing oor Klaagliedere, naamlik die publikasies van Westermann (1990) en Miller (2002). Hulle gee geen aanduiding van belangrike werk oor die teks en ou vertalings van Klaagliedere gedurende die afgelope dertig of meer jare nie. Westermann verwys byvoorbeeld na die belangrike publikasies van Albrektson (1963) en Gottlieb (1978). Hy bespreek die werk van Albrektson baie kortliks (1990:39-40), maar gee geen aandag aan Albrektson se bydrae oor die teks en ou vertalings van Klaagliedere nie. Hy bespreek ook nie die werk van Gottlieb afsonderlik nie en het slegs enkele verwysings na hom in sy bespreking van die vyf liedere in die boek. Westermann beskou dus nie die teks van Klaagliedere problematies genoeg om daaraan veel aandag te gee nie.

Miller (2002) verwys alleen maar na die werk van Albrektson (1963) wat die teks en ou vertalings van Klaagliedere betref, maar gee geen aandag aan die saak van die teks van Klaagliedere nie. Dieselfde geld drie onlangse kommentare oor Klaagliedere. Renkema (1998) gee nie afsonderlik aan die saak aandag nie, alhoewel hy wel tekskritiese sake hanteer as deel van sy kommentaar op afsonderlike verse. House (2004:281-283) het 'n kort bespreking van die teks van die boek, met sy jongste bibliografiese verwysing na 'n werk van P.S. Alexander oor die Targum uit 1986. House (2004:281) oordeel dat die vier vertalings vertaal is uit 'n Hebreeuse teks na aan die Masoretiese tradisie. Hy verwys ook na Albrektson se siening dat die Griekse en Siriese vertalings betroubare vertalings van die Hebreeus is (House 2004:281-282). Hy verwys kortliks na die werk van Gottlieb (1978; House 2004:282). Wat die Aramese vertalings betref, verwys House (2004:282-283) na die standpunte van Levine en Alexander. Hy verwys glad nie na die Vulgaat nie. In die lig van die bespreking hierbo is dit verstaanbaar dat Dobbs-Alsop (2008:23-24) oordeel dat die teskritiek van Klaagliedere meer aandag verdien as wat dit in die onlangse verlede ontvang het.

Salters (2010) het 'n meer volledige bespreking van die teks en vertalings van Klaagliedere, maar bied nie eintlik enige nuwe navorsing nie. Die Hebreeuse teks van Klaagliedere is in 'n goeie toestand oorgelewer (Salters 2010:22). Wat vir die doel van hierdie bespreking belangrik is, is dat hy aandag gee aan die manuskripte van Qumran (Salters 2010:23-24). Hy wys daarop dat daar in enkele gevalle beter lesings in die Qumranmanuskripte is as in die Masoretiese Teks. Daar is ook enkele gevalle waar die Qumranlesings ooreenstem met die Septuagint en die Pesjitta teen die Masoretiese Teks. Wat die vertalings betref, oordeel hy dat die variante in die Septuagint nie 'n ander Hebreeuse teks as die Masoretiese Teks veronderstel nie (Salters 2010:24). Ook die Pesjitta gaan terug na 'n Hebreeuse teks in die Masoretiese tradisie. Dit is 'n letterlike vertaling. Die vertaler het egter gepoog om goeie Siries te gebruik, met die gevolg dat die vertaling in sommige gevalle vryer is. Dit verminder die bruikbaarheid van die Pesjitta vir die herstel van die Hebreeuse teks. Die vertaling is ook nie van die Septuagint afhanklik nie (Salters 2010:24-25). Sy bespreking van die Targum berus grootliks op die werk van Alexander en Van der Heide (Salters 2010:25). In aansluiting by hulle onderskei hy tussen die Yemenitiese en Westerse tradisies. Beide neig tot parafrase en meer so in Klaagliedere 1 en 2 as in die res van die boek. Hy bespreek die Vulgaat nie in detail nie, maar beskou dit as 'n stylvolle vertaling wat gewoonlik met die Masoretiese Teks ooreenstem, alhoewel die interpretasie van die Vulgaat soms op 'n ander vokalisasie van die Hebreeus berus (Salters 2010:26).

Die bespreking hierbo dui op die konsensus wat bestaan oor die Hebreeuse teks van Klaagliedere, sowel as oor die ou vertalings. Die belangrikste werk in hierdie verband, is die werk van Albrektson, Alexander en Van der Heide. Omdat hulle nie die gegewens van die manuskripte van Qumran (kon) gebruik het nie, is hulle werk nie van soveel belang vir die vraag waaroor hierdie artikel handel nie. Wat wel duidelik is, is dat die vier ou vertalings almal 'n Hebreeuse teks vertaal het wat baie na is aan die Masoretiese Teks. Die Septuagint, Pesjitta en Vulgate is redelik letterlike vertalings, terwyl die Targum deels letterlik vertaal is en deels neig tot parafrase.

Vir die bespreking hieronder is die volgende tekste gebruik:

  • Masoretiese Teks: BHS (Elliger & Rudolph 1977) en BHQ (Schenker et al. 2004)
  • Septuagint: Ziegler (1957)
  • Pesjitta: Albrektson (1963)
  • Targum: Van der Heide (1981) en Alexander (2007)
  • Vulgaat: Biblia Sacra (1972).

Klaagliedere by Qumran

Daar is fragmente van vier verskillende manuskripte van Klaagliedere beskikbaar, naamlik 3QLam (3Q 3), 4QLam, 5QLamª en 5QLamb. 3QLam (Baillet 1962:95) en 5QLamª (5Q 6) en 5QLamb (5Q 7; Milik 1962:174-178) is gepubliseer in die reeks 'Discoveries in the Judaean Desert of Jordan III' en 4QLam (Cross 2000:229-237) in volume XVI van dieselfde reeks. 3QLam is geskryf in die Herodiaanse styl (Baillet 1962:95). 5QLamª is geskryf in 'n sierskrif van die eerste eeu v.C. (Milik 1962:175). Milik dateer 5QLamb in dieselfde periode (1962:177). 4QLam is geskryf in 'n 'vulgar semi-formal' Herodiaanse skrif van tussen 30 v.C. en 1 n.C. (Cross 2000:229). Dit beteken dat al hierdie manuskripte waarskynlik dateer uit die einde van die eerste eeu v.C., 'n eeu voor die standaardisering van die konsonantiese teks en effens later as die vertaling van die Septuagint. Daar is verder nog een ander manuskrip wat vir die studie van Klaagliedere van belang is, naamlik 4Q501, wat ook bekend staan as 4QApocryphalLamentations B, gepubliseer deur Baillet (1982:79-80). Die manuskrip word onder meer deur Kotzé (2009:201-206) en Berlin (2003:12-15) bespreek. 'n Vertaling word gebied deur García Marttínez en Tigchelaar (2003:992-994). Die teks bevat enkele woorde wat in Klaagliedere 5:1, 2 en 10 voorkom, maar is nie van belang vir hierdie bespreking nie. Daar is geen lesings van tekskritiese belang vir Klaagliedere in hierdie manuskrip nie.

3QLam bevat dele van Klaagliedere 1:10-12 en 3:53-62. Die dele hier ter sprake is min, aangesien die manuskrip baie fragmentaries behoue gebly het, met slegs enkele woorde of dele van woorde per reël (vgl. Bailett 1962:95). Die gedeeltes wat behoue gebly het, stem grotendeels ooreen met die Masoretiese teks. Verder is dit opmerklik dat elke vers van

Klaagliedere 1 en elke groep van drie verse in Klaagliedere 3 op een reël geskryf is, wat dus die akrostiese patroon volg. Verder is dit ook opmerklik dat die Tetragrammaton in 1:11 in die Oud-Hebreeuse skrif geskryf is. Volgens die rekonstruksie van die teks deur Baillet is dit opmerklik dat die Tetragrammaton in 1:11 na die twee werkwoorde volg, en nie na die eerste soos in die Masoretiese Teks nie. Die Masoretiese Teks het הטיבהו הוהי האר [Kyk, Here, en sien raak], terwyl die rekonstruksie הוהי הטיבהו האר [Kyk en sien raak, Here] het. As die rekonstruksie reg is, is dit 'n unieke variant. Hierdie manuskrip stem dus basies met die Masoretiese Teks ooreen en is dus nie van belang vir die bespreking van 'n moontlike tweede redaksie van Klaagliedere nie.

5QLamª en 5QLamb bevat fragmente van Klaagliedere 4:5-5:17. Milik (1962:175) stel dat die verhouding van 5QLamª tot die Hebreeuse en Griekse tekste nie duidelik is nie. Hy gee 'n volledige bespreking van die ortografiese variante, soos die dubbel Waw wanneer die Waw 'n leesmoeder is (vgl. Klaagliedere 4:6 in hierdie manuskrip). Hierdie soort variante is nie van belang vir die huidige bespreking nie. Die verskillende primêre publikasies bevat 'n volledige bespreking van skryffoute en ortografiese verskille wat nie van belang is vir die vraag na 'n tweede tradisie van Klaagliedere by Qumran nie. Milik (1962:175) bespreek ook die substantiewe variante van die manuskripte wat hy gepubliseer het, kortliks. Hierdie variante sal in die volgende afdeling aandag geniet.

5QLamb bevat dele van Klaagliedere 4:17-20. Die enigste variant is in vers 17, waar hierdie manuskrip se lesing (דוע הנ[terselfdertyd] die Ketib van die Masoretiese teks ooreenstem, terwyl die Septuagint, Vulgaat en Pesjitta die Qere ondersteun.

Vir die doel van hierdie bespreking is 4QLam die belangrikste manuskrip. Cross het die manuskrip in 'n bydrae van 1983 (Cross 1983) bespreek en weer in die amptelike publikasie van die manuskrip (Cross 2000). Wat die beoordeling van 4QLam betref, stem die twee publikasies grotendeels ooreen. Die bespreking van 2000 is baie volledig, met onder meer 'n volledige aanduiding (Cross 2000:230) van al die ortografiese variante wat vir die doel van hierdie bespreking nie van belang is nie. Die vier fragmente bevat dele van Klaagliedere 1:1-18 en 2:5. Van fragment 1 het net enkele letters in die middel van die reëls behoue gebly, sodat daarvan nie veel afgelei kan word nie (vgl. Cross 2000:231). Cross (2000:229) wys daarop dat die manuskrip baie foute bevat, wat toegeskryf kan word aan die sorgeloosheidvan die skrywer. 'n Voorbeeld hiervan is die verkeerde woordverdeling in 1:7, waar 'n Waw, wat die uitgang van die derde persoon meervoud van 'n werkwoord aandui, na die volgende woord verskuif word as die koppelwoord 'en' (Cross 2000:232). Daar is ook 'n lang weglating van 'n deel van die teks in 1:11 (vgl. Cross 2000:234-235). Daar is heelwat lesings wat Cross oordeel beter is as die lesing van die Masoretiese teks, of wat met lesings van die Septuagint en Pesjitta ooreenstem. Tog oordeel hy dat hierdie manuskrip 'n tradisie verteenwoordig na aan die tradisie van die Masoretiese teks, soos ook die

Septuagint, Targum en Vulgaat (Cross 2000:230). Dit is hierdie laaste stelling wat in hierdie artikel verder ondersoek gaan word.

 

Lesings van die Qumranmanuskripte wat lesings van die Masoretiese Teks ondersteun

Soos bo aangedui ondersteun die lesings van 3QLam die Masoretiese teks, met een unieke variant wat nie vir hierdie studie van belang is nie.

5QLamb het net een lesing van belang wat opsigself belangrik is. Dit raak die Ketib-Qere-lesing in 4:17, waar die Masoretiese Teks הנֻידֵוֹע [terselfdertyd] lees. Die Ketib lees die suffiks drie vroulik enkelvoud en die Qere een meervoud, wat deur die ou vertalings gevolg word. Hierdie manuskrip het die lesing van die Ketib. Die variant dui dus aan dat die Qere sterk ondersteuning het van die ou vertalings nie, maar dat hierdie fragment van Qumran die Ketib ondersteun.

5QLamª het meer variante as die vorige twee fragmente, maar in die meerderheid van die gevalle stem die lesings van hierdie manuskrip met die Masoretiese Teks ooreen. So stem die woordorde van hierdie manuskrip in 4:12 (רצ הנֻידֵוֹע[teenstaander en vyand] met die Masoretiese Teks ooreen teenoor die Pesjitta en Septuagint wat die twee woorde in die vertaling omruil. In 4:13 is dit ook die geval dat hierdie manuskrip met die lesing van die Masoretiese Teks ooreenstem (םיקידִּצַ םדּ [die bloed van regverdiges]). Die lesing van die Septuagint lees hier 'onskuldige' of 'regverdige bloed' (αίµα δίκαιον), en nie 'die bloed van regverdiges' nie. In 4:16 en 17 volg die akrostiese patroon nie die Hebreeuse alfabet in die Masoretiese Teks nie, met die Pe-reël voor die Ajin-reël. Hierdie volgorde word ook deur 5QLamª gevolg. Verdere voorbeelde waar 5QLamª met die Masoretiese Teks ooreenstem teen ander getuies kom voor in 4:21 (twee keer), 4:22 en 5:1. In 5:1 het 5QLamª die Qere-lesing, teenoor die defektiewe lesing van die Masoretiese Teks (טָיבִּהַ [kyk tog]). Kotzé (2009:181) meen dat die Qumranlesing dalk deur 'n oorskrywer aangebring is om 'n moontlike ortografiese onreëlmatige lesing te korrigeer. In 5:7 het die manuskrip egter waarskynlik die lesing van die Ketib.

In sommige gevalle gebeur dit dat die vertalings die Hebreeus anders geïnterpreteer het as die Masoretiese vokalisasie. In sulke gevalle kan die tekste van Qumran normaalweg nie help nie. In Klaagliedere 4:15 het die Masorete 'n werkwoord as 'n perfektum gevokaliseer (וּארְ [hulle het geroep]), terwyl die Septuagint dit as 'n imperatief gelees [Roep!] het. Beide is moontlik en 5QLamª se lesing van die ooreenstemmende konsonante kan nie uitsluitsel gee nie.

In 5:10 kom daar in die Masoretiese Teks die interessante verskynsel voor dat die naamwoord aan die begin van die vers in die enkelvoud is (וּנרֵוֹע [ons vel]), maar die werkwoord waarvan die woord die onderwerp is, is in die meervoud (וּרמָכְנִ [word warm]). Die Pesjitta het die probleem opgelos deur die naamwoord in die meervoud te vertaal, terwyl die Septuagint en die Vulgaat die werkwoord in die enkelvoud het. Alhoewel die Nun van die naamwoord in 5QLamª nie leesbaar is nie, is dit wel duidelik dat die manuskrip oorspronklik die naamwoord in die enkelvoud en die werkwoord in die meervoud gehad het. Daar is egter 'n Jod bokant die reël ingevoeg om die naamwoord na die meervoud te verander. Die oorspronklike lesing stem dus met die Masoretiese Teks ooreen, terwyl die wysiging die probleem probeer oplos soos die Pesjitta dit gedoen het (tensy die Pesjitta natuurlik 'n Hebreeuse teks vertaal het wat die naamwoord in die meervoud gehad het). Kotzé (2009:195) wys daarop dat die betrokke woord gewoonlik 'n vroulike meervoudsvorm het. Die poging om die naamwoord en werkwoord in ooreenstemming te bring, is dus duidelik sekondêr.

4QLam is die mees omvattende van al die manuskripte van Qumran, en ook die belangrikste vir die doel van hierdie bespreking. Soos bo aangedui, bevat die manuskrip heelwat foute en ortografiese variante wat vir die doel van hierdie bespreking nie van belang is nie. Hier sal veral gelet word op substantiewe variante wat met die Masoretiese Teks ooreenstem en in die volgende afdeling op die variante wat van die Masoretiese Teks verskil.

In 1:6 stem 4QLam ooreen met die Qere ( תבמ[uit die dogter]) van die Masoretiese Teks teenoor die Ketib se בתַּ ןמִ [uit die dogter]. Kotzé (2009:57-58) het 'n lang bespreking van hierdie variant en die oorsprong van hierdie soort variante en die Ketib en Qere-variante in die Masoretiese Teks. Alhoewel dit op sigself 'n belangrike saak is, moet 'n mens versigtig wees om nie te veel hiervan te wil aflei vir die verhouding tussen verskillende Hebreeuse teksgetuies nie, aangesien dit die tipe variant is wat maklik in die oorlewering van die teks kan ontstaan. Dit is dikwels moeilik, en selfs onmoontlik, om vas te stel wat die 'oorspronklike' lesing sou kon wees. In 1:14 stem 4QLam met die Masoretiese Teks saam met die lesing 'sy hand', teenoor die 'my hand' van die Septuagint. In vergelyking met die ander manuskripte van Qumran is daar weinig plekke waar 4QLam met die Masoretiese Teks ooreenstem waar daar variante in die ou vertalings voorkom.

Variante wat van die lesing van die Masoretiese Teks verskil

Daar kom enkele gevalle voor waar die lesing van 5QLamª van die Masoretiese Teks verskil. In 4:14 het die Masoretiese Teks אבְּ [sonder], terwyl 5QLamª net לב [nie] het, 'n lesing wat volgens BHQ die sintaksis makliker maak ('nie' teenoor 'sonder dat'). Salters (2010:315, 317-318) verkies die Masoretiese Teks, maar bespreek nie hierdie variant in besonderhede nie. Kotzé (2009:162) meen dat die lesing van 4QLamª 'n doelbewuste verandering is om 'n sintaktiese probleem op te los. Ook in 4:14 het die Masoretiese Teks [hulle raak aan]. 5QLamª is gebroke op hierdie plek, maar lees וּגְּיִ voor die beskadigde gedeelte. Weens die toestand van die manuskrip is dit moeilik om te bepaal wat die presiese lesing was. Kotzé (2009:162-163) bespreek 'n aantal moontlike oplossings, maar oordeel ook dat lesing moeilik bepaalbaar is.

In 4:15 lees die Masoretiese Teks אמֵטָ וּרוּ [Draai weg. Onrein!]. Die sintaksis is effens moeilik, met die enkelvoudige vorm van die byvoeglike naamwoord. 5QLamª lees egter ואמט ורוס [draai weg, wees onrein]. Die tweede woord is dan ook 'n werkwoord, Qal of Pu'al, met die betekenis van 'wees onrein'. Die Septuagint, Pesjitta en Vulgaat het moontlik die meervoud van die byvoeglike naamwoord vertaal. Dit is moontlik dat sowel hulle vertalings as 5QLamª probeer het om die enkelvoudige byvoeglike naamwoord te vermy. Ook Salters (2010:318-319) beskou die lesing van 5QLamª as sekondêr.

In 5:1 lees 5QLamª die laaste woord in die vers as 'n meervoud, saam met enkele Griekse manuskripte [ons smaad]. In 5:3 het 5QLamª 'n unieke lesing. Die Masoretiese Teks het ׃תוֹנֽמָלְאַכְּ וּניתמֹּאִ[ons moeders het soos weduwees geword]. 5QLamª het egter תונמלאו תונב אל וניתמא [ons moeders het dogterloos en weduwees geword]. Hierdie unieke lesing is waarskynlik 'n uitbreiding deur die kopieerder (vgl. ook Kotzé 2009:186-190).

Bo is verwys na die variant ten opsigte van 4:14 waar die Masoretiese Teks אבְּ [sonder] het, terwyl 5QLamª net [nie] het. In 4QLam kom 'n verwante variant voor. Die Masoretiese Teks lees in 1:6 ook hier אבְּ [sonder], terwyl 4QLam 'לב [sonder] het. Cross (2000) bespreek nie hierdie variant nie. In sy vroeëre publikasie (1983:139) wil hy egter die Masoretiese Teks verander op grond van die lesing van 4QLam. In die Masoretiese Teks kom wel voor in 1:4, in die verbinding לִבְּמִ.

Een van die belangrikste variante in die manuskripte van Klaagliedere by Qumran kom aan die begin van 1:7 in 4QLam voor. Die Masoretiese Teks lees ִלַשָׁוּריְ הרָכְ ז t [Jerusalem het onthou]. 4QLam het ΠΊΓΡΠΎΟΤ [Onhou, Here]. Die Masoretiese Teks het die werkwoord gelees as 'n Qal-perfektum drie vroulik enkelvoud terwyl 4QLam dit gelees het as 'n emfatiese imperatief, met die Waw-leesmoeder wat die interpretasie duidelik maak. Oor hierdie stel variante bestaan daar verskillende standpunte. Cross (1983:140 en 2000:232) beskou die lesing van 4QLam as verkieslik, terwyl Salters (2010:54) die lesing van die Masoretiese Teks verkies. Cross oordeel dat die lesing van die Masoretiese Teks verband hou met die interpretasie van die werkwoord en dat die lesing Jerusalem vooruitgryp na die Jerusalem in vers 8. Salters meen weer dat die oorskrywer van 4QLam dalk 'n teks voor hom gehad het wat 'n Jod gebruik het as afkorting vir Jerusalem, wat dan deur die oorskrywer verkeerdelik gelees is as 'n afkorting vir Jahweh. Omdat die res van die vers tekskrities onseker is, is dit uiteraard moeilik om 'n finale keuse te maak. 'n Keuse is egter onnodig as 'n mens hierdie stel variante sien as verteenwoordigend van twee verskillende tradisies in die oorlewering van die boek. Kotzé (2009:69) meen dat die twee stelle variante hier dui op die kreatiewe aktiwiteite van die oorskrywers van die twee teksgetuies. Juis hierdie argumente pleit ook vir verskillende tradisies in die oorlewering van Klaagliedere in die Hebreeus.

Wat die res van 1:7 betref, het die Masoretiese Teks vier reëls wat afwyk van die normale patroon van drie reëls per vers. Salters (2010:54-55) gee 'n goeie oorsig oor verskillende standpunte hieroor, en wil self die vier reëls behou. Cross (1983:140-141 en 2000:232-233) wil egter, in aansluiting by die lesing van 4QLam, 'n vers van drie reëls lees. Hy meen dat sowel die Masoretiese Teks as 4QLam korrupsies bevat en rekonstrueer dan 'n oorspronklike teks in die plek van die eerste twee reëls van die Masoretiese Teks:

םדק ימימ רשא הידורמ הוהי הרכז [Onthou, Here, haar moeilikhede wat van die ou dae is].

Die lesing van Cross (1983:140-141 en 2000:232-233) word gevolg deur onder meer Biblia Hebraica Quinta (Schenker et al. 2004J. Hier is dit dus die geval dat die lesing van die vers as geheel in Qumran en die Masoretiese Teks twee tradisies verteenwoordig, elk met sy eie probleme.

In 4QLam word in 1:7 pleks van םיצָ [die teenstanders], הירצ [haar teenstanders] gelees. Die lesing kom ook in die Septuagint en Pesjitta voor. Cross (2000:233) verkies die lesing van die Masoretiese Teks. Salters (2010:5) meen wel dat die lesing van 4QLam daarop sou kon dui dat die Pesjitta en Septuagint se bronteks wel die suffiks gehad het. Hy ondersteun wel Cross se voorkeur. Tog kan die lesing van die twee vertalings weer dui op 'n ander tradisie wat die betrokke woord betref.

Aan die einde van 1:7 lees die Masoretiese Teks הָתּבַּשְׁבַּשְׁבַּשְׁבַּשְׁמִ [haar vernietiging]. 4QLam het הירבשמ [haar ruïnes]. Die lesing word deur die Pesjitta ondersteun. Salters (2010:54) verkies die lesing van die Masoretiese Teks. Biblia Hebraica Quinta beskou die lesing van 4QLam as 'n grafiese fout met die verwarring van letters. Cross (2000:233) beskou weer die lesing van die Masoretiese Teks as 'n grafiese fout met die verwarring van 'n Resj-Jod met 'n Taw. Die feit dat die Pesjitta die lesing van 4QLam ondersteun, dui weer op verskillende tradisies.

In 1:8 lees die Masoretiese Teks הדָינִלְ. Die woord הינִ [onreinheid] is 'n hapax legomenon. 4QLam het דונל [om die hoof te skud - as teken van spot]. In hierdie geval word die lesing van 4QLam gevolg deur die Septuagint, Vulgaat en Targum. Hulle vertaling kon wel 'n vertaling van die hapax volgens die konteks wees, maar dit sou weer op 'n alternatiewe tradisie kon dui. Cross (2000:233) meen dat die lesing van 4QLam meer oorspronklik is en dat die lesing van die Masoretiese Teks die gevolg kan wees van 'n verwarring tussen Jod en Waw en dittografie van die lidwoord aan die begin van die volgende woord.

Sonder om al die voorbeelde in detail te bespreek, is daar nog 'n aantal voorbeelde wat op verskillende tradisies kan dui. Al die voorbeelde word in besonderhede deur Cross (2000:235-237) bespreek. 'n Voorbeeld kom voor in 1:11, waar die Masoretiese Teks םהידֵּדֵּומַחֲמַ [hulle skatte] lees, 'n lesing waar die Ketib van דמֹחְמַ kom en die Qere van דמֹחְמַ Die twee woorde is wel sinonieme, maar die stam van die Ketib kom net hier voor. 4QLam ondersteun die Qere, maar het die suffiks drie vroulik enkelvoud, soos ook die Septuagint. In 1:12 lees die Masoretiese Teks הה, terwyl 4QLam ינריגוה het ('Hy het laat ly' teenoor 'Hy het my bang gemaak'). Die werkwoord van 4QLam kom elders in die Ou Testament in die Qal voor, maar die Hifil pas hier goed in hierdie verband. Die byvoeging van die voorwerpsuffiks word ondersteun deur die Septuagint, Pesjitta en Targum. In dieselfde vers het die Masoretiese Teks 'op die dag van die toorn van sy gesig', terwyl 4QLam die minder gebruiklike 'die dag van sy toorn' het.

Die lesing van הנָּדּרְיִּוַ in die Masoretiese Teks van 1:13 is 'n ou probleem. BHS het reeds voorgestel dat die werkwoord eerder as 'n Hifil van 'n stam דרי [om te laat neerdaal] gelees moet word. Die lesing van 'n Hifil word ondersteun deur 4QLam, met ינדירויו [Hy het my laat neerdaal]. Die ander voorwerpsuffiks (eerste persoon enkelvoud teenoor derde persoon vroulik enkelvoud) is wel 'n probleem. Sowel Cross (2000:235 en 1983:145) as Salters (2010:75-77) verkies 'n lesing met die Hifil en die derde persoon vroulike suffiks (Hy het dit - dit is die vuur - in my bene laat neerdaal). In hierdie geval bewaar 4Qlam 'n beter lesing, terwyl die Masoretiese Teks moontlik korrupsie ondergaan het. Die Pesjitta ondersteun die lesing van 4QLam, terwyl die Septuagint die voorkeurlesing van Cross en Salters ondersteun. Ook hier verteenwoordig 4Qlam 'n ander tradisie.

In 1:14 het die Masoretiese Teks 'n hapax legomenon (קַשְׂנִ [Dit is gebind]). 4QLam het הרשקנ. Sommige wil soos BHS, die Sin vernader na 'n Sjin. Cross (2000:237) en Salters (2010) wil רשקנ lees. Hierdie teks is 'n goeie voorbeeld van verskillende lesings wat verband hou met 'n onbekende woord en verskillende vokalisasies in die interpretasie van 'n teks. Die Masoretiese Teks lees קַשְׂנִ יעַשָׁפְּ לעֹ). Dit kan vertaal word as 'My sondes is saamgebind tot 'n juk' (Klaagl 1:14, NAV). Die eerste probleem is natuurlik die hapax legomenon aan die begin van die vers. Die vertaling van die NAV stem ooreen met die voorstel van by Albrektson (1963:73-74) wat die werkwoord verbind met die plasing van 'n juk op 'n dier. Die Septuagint vertaal dit met 'Έγρηγορήθη έτι τά άσεβήµατά µου [Hy het wag gehou oor my sonde]. Hierdie vertaling impliseer twee verskille met die Masoretiese Teks. Eerstens is die werkwoord met 'n Sjin gelees, nie 'n Sin nie. Dit is natuurlik ook 'n hapax, ten minste wat die passiewe vorm van die werkwoord betref ('Wag word oor my sonde gehou'). Die tweede verskil is om dan nie die naamwoord vir 'juk' te lees nie, maar die voorsetsel לעַ [oor]. 4QLam lees הרשקנ, 'n lesing wat as korrup beskou word deur BHQ. Salters (2010:78-79) oordeel dat hierdie lesing die weg na 'n oplossing aandui, naamlik dat die lesing van die Masoretiese Teks veroorsaak is deur metatesis en die verwarring van 'n Resj en 'n Dalet. Die lesing van die Septuagint kom van dieselfde teks as die konsonantiese teks van die Masoretiese Teks, maar met 'n ander interpretasie. Die lesings van die Vulgaat en Pesjitta het ook dieselfde werkwoord as die Septuagint gelees. Die Targum het waarskynlik 'n werkwoord met 'n He as slotkonsonant gelees, soos gestel deur Albrektson (1963:73) en Alexander (2007:120). Al die verskillende voorstelle verdien oorweging, maar 'n finale antwoord is nie moontlik nie. Miskien is 4QLam nader aan die oorspronklike lesing, terwyl die Masoretiese Teks se lesing berus op die verwarring van 'n Sin en 'n Sjin en die verwarring van 'n Dalet met 'n Resj. Die keuse ten opsigte van hierdie variante bepaal ook of die volgende woord as 'juk' of die voorsetsel 'oor' gelees moet word.

In 1:14 lees 4QLam die Tetragrammaton [OAV: HERE] teenoor die Masoretiese Teks se דֹאֲ [Here]. Cross (2000:236) oordeel dat die vervanging van die Tetragrammaton makliker verklaarbaar is, as andersom. Dieselfde gebeur in 1:14. In 1:17 en 18 is die situasie egter die omgekeerde, met die Tetragrammaton in die Masoretiese Teks. Die feit dat 4QLam nie die Tetragrammaton het nie, bevraagteken Cross se stelling. Dit twee tekste het bloot verskillende tradisies oor die gebruik van die twee Godsname op verskillende plekke in die teks.

'n Opmerklike saak in 4QLam is die volgorde in 1:16 en 17. In die Masoretiese Teks volg in vers 17 die Pe-reël op die Ajin-reël. Dit is natuurlik die volgorde wat 'n mens sou verwag. In Klaagliedere 2, 3 en 4 is die volgorde egter Pe-Ajin. Hierdie volgorde kom in 4QLam ook in hoofstuk 1 voor. Die oorsaak hiervan is al dikwels bespreek (vgl. Cross 2000:236-237 en Salters 2010:83-84). Alhoewel die saak nog geen bevredigende oplossing gekry het nie, is die verskil in die twee tradisies ooglopend.

In 1:17 lees die Masoretiese Teks דֹאֲ [Die Here het vir Jakob besluit dat sy bure sy vyande geword het]. Die lesing word deur al die ou vertalings ondersteun. Daarteenoor het 4QLam דֹאֲ [Die Here hou wag oor Jakob, sy bure het sy vyande geword]. Cross (2000:237) en BHQ verkies die lesing van 4QLam, terwyl Salters (2010:88) die lesing van die Masoretiese Teks wil behou. Berlin (2004:47) oordeel dat die lesing van 4QLam hoogstens 'n marginale verbetering is.

In 1:16 is 'n belangrike voorbeeld van hoe geleerdes geneig is om variante in isolasie te lees, sonder om die volledige konteks in gedagte te hou. Geleerdes verskil byvoorbeeld oor die hantering van die נִיעֵ נִיעֵ [my oog, my oog]. Sommige wil die herhaling behou en ander wil die tweede voorkoms van die woord uitlaat. Hierdie gedeelte is 'n voorbeeld van hoe moeilik dit is om tot 'n bevinding te kom wanneer al die getuies in ag geneem word. Die belangrikste getuies is hier uiteraard die Masoretiese Teks en 4QLam. Hierdie twee getuies verskil, nie net wat die herhaling betref nie, maar ook wat die hele reël betref waarin die herhaling voorkom. In die bespreking van hierdie geval word nie genoeg aandag gegee aan die reël as geheel nie, maar word daar op die detail gefokus. Salters (2010:84-85) bied 'n goeie oorsig oor die verskillende hanterings van hierdie geval. Die twee reëls in die Masoretiese Teks en 4QLam is soos volg:

MT: םיִמּ֔ הדָרְיׂ֣ י֨נִיעֵ ׀י֚נִיעֵ ה×TMÖ¼֗כִוֹב ינִאֲ ׀הלֶּא־לעַ [Dit is daarom dat ek so huil, dat die trane uit my oë stroom] (NAV)

4QLam: יתעמד הדרי יניע וכב הלא לע [Dit is waarom my oë huil en my trane vloei]

Die wyse waarop die reël tekskrities gehanteer word, word goed deur BHQ geïllustreer. Dit verwys na twee pare woorde (הכִוֹב ינאֲ, נִיעֵ ׀נִיעֵ [my oog, my oog, ek, huil]) en 'n ander woord op sy eie (םיִ [water]), maar hanteer nie die reël as geheel in die apparaat nie. In sy tekskritiese kommentaar verwys BHQ na die ander sintaktiese opset van 4QLam, maar dit bespreek nie die belang van die sintaktiese konstruksie vir die reël as geheel nie. In die Masoretiese Teks word die tweede werkwoord as 'n deelwoord gehanteer, in ooreenstemming met die eerste werkwoord. In 4QLam kan beide werkwoorde perfektums wees, die eerste een duidelik so en die tweede by implikasie. Die tweede werkwoord het in die twee weergawes ook verskillende onderwerpe, naamlik 'oë' in die Masoretiese Teks en 'trane' in 4QLam. Cross se twee besprekings van die gedeelte (1983:149 en 2000:237) is ook verwarrend. In die ouer publikasie stel hy in sy bespreking een rekonstruksie van die reël voor met 'n alternatief ('וכב יניע הלא לע by // 131 וכב יניע [Hieroor huil my oë // my oë huil]), en hy behou die herhaling van 'oë'. Hy gee egter nie genoeg aandag aan die weglating van die herhaling in 4QLam nie, asook aan die variant 'trane' vir 'oë'. In sy publikasie van 2000 gee hy wel aandag aan laasgenoemde variant, maar noem nie in sy bespreking die weglating van die herhaling nie. Salters (2010:83-85) verkies die behoud van die Masoretiese Teks, maar gee ook nie aandag aan die verskillende sintaktiese konstruksies nie. In hierdie geval is dit duidelik dat die Masoretiese Teks en 4QLam twee verskillende tradisies verteenwoordig, sodat dit eintlik nie sinvol is om die lesing van 4QLam te gebruik om voorstelle vir die verandering of verbetering van die Masoretiese Teks te maak nie.

 

Konklusies

Daar bestaan 'n konsensus daaroor dat die Hebreeuse teks van Klaagliedere relatief goed oorgelewer is en dat die ou vertalings vertaal is van Hebreeuse tekste naby aan die Masoretiese Teks. Wat die manuskripte van Qumran betref, het daar so min van 3QLam en 5QLamb oorgebly sodat daarvan nie veel afleidings gemaak kan word nie. Die enigste belangrike saak in 5QLamb is in 4:17, waar die manuskrip 'n lesing het wat met die Ketib van die Masoretiese Teks ooreenstem, terwyl die ou vertalings eerder die Qere volg.

4QLamª stem dikwels met die Masoretiese Teks ooreen waar een of meer van die ou vertalings van die Masoretiese Teks verskil. Wat ook opmerklik is, is dat die manuskrip in 5:1 'n lesing het wat met die Qere saamstem, terwyl dit in 5:7 met die Ketib saamstem. Dit toon aan dat Qere-lesings dikwels wel in ou manuskripte voorgekom het, en dus teruggaan na variante waarmee die Masorete te doen gekry het. Die korreksie wat in 5QLamª bo die lyn aangebring is by 5:10 en wat met die Pesjitta ooreenstem, lê waarskynlik op dieselfde vlak. Soos wat by enige manuskrip kan voorkom, het 5QLamª 'n unieke lesing by 5:3, waarvan egter nie te veel afgelei kan word nie.

Anders as by 5QLamª gebeur dit relatief min dat 4QLam met die Masoretiese Teks ooreenstem waar een of meer van die ou vertalings van die Masoretiese Teks verskil. Dit gebeur meer gereeld dat 4QLam 'n eie lesing het wat van die Masoretiese Teks en die ou vertalings verskil. 4QLam het egter 'n hele aantal lesings wat op 'n ander tradisie as die Masoretiese Teks dui. Die volgende variante is die belangrikste in hierdie verband:

  • In 1:7 lees 4QLam 'Onthou, Here', teenoor 'Jerusalem het onthou' van die Masoretiese Teks.
  • In 1:13 het 4QLam die werkwoord (ינדירויו [Hy het my laat neerdaal]) in die Hifil, teenoor die הנָּדּרְיִּוַ [Hy het haar vertrap] van die Masoretiese Teks.
  • Die variant in 1:14, wat bo volledig bespreek is, waar die Masoretiese Teks se lesing waarskynlik berus op die verwarring van 'n Sin en 'n Sjin en die verwarring van 'n Dalet met 'n Resj.
  • Die alternatiewe wat in beide voorkom tussen die twee Godsname wat gebruik word.
  • Die volgorde van 1:16 en 17.
  • Die herhaling van 'oog' en verwante variante in 1:16.

Benewens hierdie beduidende variante kom daar ander variante voor wat kleiner van omvang is, maar wat ook op 'n aparte tradisie dui. Hiervan is daar voorbeelde in 1:7, 8 en 17. Die omvang van die variante in 4QLam dui op 'n ander tradisie wat die teks van Klaagliedere betref. Dit moet in gedagte gehou word dat hierdie variante voorkom in 'n manuskrip wat 'n eeu ouer is as die gestandaardiseerde konsonantiese teks wat ten grondslag van die Masoretiese tradisie lê. Dit dui ten minste daarop dat die teks van Klaagliedere nog nie in alle opsigte vasgelê was in die periode wat deur die manuskripte van Klaagliedere verteenwoordig word nie. Sommige van die manuskripte sluit nou aan by die Masoretiese tradisie, maar 4QLam dui op 'n moontlike tweede tradisie wat naas die tradisie in die Masoretiese Teks en die ander Qumran-manuskripte van Klaagliedere bestaan het.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Albrektson, B., 1963, Studies in the Text and Theology of the Book of Lamentations with a Critical Edition of the Peshitta Text, CWK Gleerup, Lund. (Studia Theologica Lundensia 21).         [ Links ]

Alexander, P.S., 2007, The Targum of Lamentations, Liturgical Press, Collegeville, MN. (The Aramaic Bible 17B).         [ Links ]

Baillet, M., 1962, 'Textes des Grottes 2Q, 3Q, 6Q, 7Q á 10Q', in M. Baillet, J.T. Milik & R. de Vaux (eds.), Les 'Petites Grottes' de Qumran, Discoveries in the Judaean Desert of Jordan III, pp. 45-164, Clarendon, Oxford.         [ Links ]

Baillet, M., 1982, 501. 'Lamentation', in M. Baillet (ed.), Qumran Grotte III (4Q482-4Q520), Discoveries in the Judaean Desert of Jordan VII, pp. 79-80, Clarendon, Oxford.         [ Links ]

Biblia Sacra luxta Latinam Vulgatam Versionem, 1972, Typis Polyglottis Vaticanis, Rome.         [ Links ]

Berlin, A., 2003, 'Qumran Laments and the Study of Lament Literature', in E.G. Chazon (ed.), Liturgical Perspectives: Prayer and Poetry in Light of the Dead Sea Scrolls. Proceedings of the Fifth International Symposium of the Orion Center for the Study of the Dead Sea Scrolls and Associated Literature, 19-23 January, 2000, Studies on the Texts of the Desert of Judah XLVIII, pp. 1-17, Brill, Leiden/Boston.         [ Links ]

Berlin, A., 2004, Lamentations: A Commentary, Westminster John Knox Press, Louisville. (OTL).         [ Links ]

Cross, F.M., 1983, 'Studies in the Structure of Hebrew Verse', in C.L. Meyers & M. O'Connor (eds.) The Word of the Lord shall go forth, pp. 129-155, Eisenbrauns, Winona Lake.         [ Links ]

Cross, F.M., 2000, 'Lamentations', in E. Uhlrich et al. (eds.), Qumran Cave 4 XI, Discoveries in the Judaean Desert XVI, pp. 229-237, Clarendon, Oxford.         [ Links ]

Cross, F.M., 2006, 'The Biblical Scrolls from Qumran and the Canonical Text', in J.H. Charlesworth (ed.), The Bible and the Dead Sea Scrolls. Volume One: Scripture and the Scrolls, pp. 67-75, Baylor University Press, Waco.         [ Links ]

Dobbs-Allsop, F.W., 2008, 'Lamentations from Sundry Angles: A Retrospective', in N.C. Lee & C. Mandolfo (eds.), Lamentations in Ancient and Contemporary Cultural Contexts, pp. 13-25, Society of Biblical Literature, Atlanta.         [ Links ]

Elliger, K. & Rudolph, W., 1977, Biblia Hebraica Stuttgartensia, Deutsche Bibelstiftung, Stuttgart.         [ Links ]

Garcia Martinez, F. & Tigchelaar, E.J.C., 1998, The Dead Sea Scrolls Study Edition: Volume 2 (4Q274-11Q31), Brill, Leiden/Boston/Köln.         [ Links ]

Gottlieb, H., 1978, A Study of the Text of Lamentations, Acta Jutlandica, Aarhus. (Acta Jutlandica XLVIII. Theology Series 12).         [ Links ]

House, P.R., 2004, 'Lamentations', in D. Garret & P.R. House (eds.), Song of Songs. Lamentations, pp. 267-479, Nelson, Nashville. (Word Biblical Commentary 23B).         [ Links ]

Kotzé, G.R., 2009, 'A Text-Critical Analysis of the Lamentations Manuscripts from Qumran (3QLam, 4Glam, 5QLamª and 5QLamb). Establishing the content of an Old Testament book according to its textual witnesses among the Dead Sea scrolls', D.Th. dissertation, University of Stellenbosch.         [ Links ]

Miller, C.W., 2002, 'The Book of Lamentations in Recent Research', Currents in Biblical Research, 1(1), 9-29. http://dx.doi.org/10.1177/1476993X0200100102        [ Links ]

Milik, J.T., 1962, 'Textes de la Grotte 5Q', in M. Baillet, J.T. Milik & R. de Vaux (eds.), Les Petites Grottes' de Qumran, Discoveries in the Judaean Desert of Jordan III, pp. 167-197, Clarendon, Oxford.         [ Links ]

Renkema, J., 1998, Lamentations, Leuven, Peeters. (Historical Commentary on the Old Testament).         [ Links ]

Salters, R.B., 2010, Lamentations, Clark, London/New York. (International Critical Commentar).         [ Links ]

Schenker, A., Goldman, Y.A.P., Van der Kooij, A., Norton, G.J., Pisano, S., De Waard, J. & Weis, R.D., 2004, Biblia Hebraica Quinta 18. Megilloth, Deutsche Bibelgeselschaft, Stuttgart.         [ Links ]

Van der Heide, A., 1981, The Yemenite Tradition of the Targum of Lamentations, Brill, Leiden. (Studia Post-Biblica 32).         [ Links ]

Westermann, C., 1990, Die Klagelieder: Forschungsgeshichte und Auslegung, Neukirchener Verlag, Neukirchen.         [ Links ]

Ziegler, J., 1957, leremias. Baruch. Threni. Epistula leremiae, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen. (Septuaginta. Vetus Testamentum Graecum).         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Herrie van Rooy
Email: herrie.vanrooy@nwu.ac.za
Postal address: North-West University, Potchefstroom Campus, Potchefstroom 2520, South Africa

Received: 21 May 2012
Accepted: 15 Aug. 2012
Published: 10 Oct. 2012

 

 

Note: This article explores the possibility that the manuscripts of Lamentations from Qumran contain evidence of a second edition of the book. This proposal counters the present consensus in this regard, with special emphasis on variants in 4QLam.
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License