SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.68 issue1Analytic concepts in middle FoucaultReligion and power: Theoretical perspectives in connection with the New Testament author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.68 no.1 Pretoria  2012

     

    ORIGINAL RESEARCH

     

    Die vertaling van [eksousia] in Johannes 1:12

     

    The translation of [eksousia] in John 1:12

     

     

    D. Francois Tolmie

    Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

     

     


    ABSTRACT

    A survey of Bible translations in Afrikaans, Dutch, English, German and French indicates that the term [eksousia] in John 1:12 is translated in different ways by translators. In Afrikaans the options available to translators are 'gesag' ('authority'), 'mag' ('might'), 'krag' ('power'), 'reg' ('right') and 'voorreg' ('privilege'). In this article, the translation into Afrikaans of the term in John 1:12 is considered. The article begins with an overview of choices made by previous translators in this regard, as well as an overview of how the term is interpreted in dictionaries and by commentators. This is followed by an investigation of the other occurrences of the term in the Fourth Gospel, and suggestions as to the way it should be interpreted in each case. The use of the term in John 1:12 is then considered. It is proposed that the best translation of the term in Afrikaans is 'mag' ('might').


     

     

    Inleiding

    In die Johannesevangelie word [eksousia] die eerste keer in Johannes 1:12 gebruik: , ... [Hulle wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy eksousia gegee om kinders van God te word]. Uit die manier waarop [eksousia] in verskillende vertalings weergegee word, is dit duidelik dat daar nie eenstemmigheid onder vertalers bestaan oor hoe dit vertaal moet word nie:1

    Ou Afrikaanse Vertaling (1933/1953) 'mag'
    Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) 'reg'
    Nuwe Lewende Vertaling (2006) 'reg'
    Boodskap (2002) 'alles vir hulle gedoen wat nodig was'
    Afrikaanse Bybel vir Dowes (2007) 'gesê hulle mag'
    Statenvertaling (1637 editie) 'macht'
    Statenvertaling (1977 editie) 'macht'
    Lutherse Vertaling (1750/1933/1994) 'macht'
    Leidse Vertaling (1912/1994) 'mach'
    Statenvertaling (Jongbloed-editie) 'macht'
    NBG-vertaling (1951) 'macht'
    Willibrordvertaling (herziene editie 1995) 'vermogen'
    Groot Nieuws Bijbel (herziene editie 1996) ' recht'
    De Nieuwe Bijbelvertaling (2004/2007) 'voorrecht'
    King James Version (1611/1769) 'power'
    American Standard Version (1901) 'right'
    New International Version (1984) (US) 'right'
    New International Version (1995) (BR) 'right'
    New American Standard Bible (1977) 'right'
    New American Standard Bible (1955) 'right'
    Revised Standard Version (1952) 'power'
    New Revised Standard Version (1989) 'power'
    New King James Version (1982) 'right'
    The Webster Bible (1833) 'power'
    The Douay-Rheims American Edition (1899) 'power'
    Revised Webster Update (1995) 'power'
    The Darby Bible (1884/1890) 'right'
    The Bible In Basic English (1949/64) 'right'
    Young's Literal Translation (1862/1898) 'authority'
    English Standard Version (2001) 'right'
    The New American Bible (1970) 'power'
    New Living Translation (1996) 'right'
    The New Jerusalem Bible (1985) 'right'
    Revidierte Lutherbibel (1984) 'Macht'
    Revidierte Elberfelder (1933) 'Recht'
    Einheitsübersetzung (1980) 'Macht'
    Unrevidierte Elberfelder (1905) 'Recht'
    Luther Bibel (1912) 'Macht'
    German Schlachter Version (1951) 'Vollmacht'
    French Louis Segond (1910) 'pouvoir'
    French Bible Jerusalem (1956) 'pouvoir'
    French Traduction Oecuménique de la Bible (1988) 'pouvoir'
    French Bible en Français courant (1997) 'droit'
    French Version Darby (1885) 'droit'
    Nouvelle Edition Geneve (1979) 'pouvoir'

    Uit bogenoemde blyk dit dat vertalers gewoonlik een van vyf vertaalekwivalente gebruik wanneer hulle [eksousia] vertaal, te wete mag; gesag;2 reg; krag of vermoë en (in een geval) voorreg. Dié verskillende vertaalekwivalente oorvleuel in 'n meerdere of mindere mate, maar dit is tog moontlik om 'n fokusverskil by elkeen aan te dui. Die volgende inskrywings in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal3 illustreer dit:

    • Mag: Vermoë om groot invloed uit te oefen, jou wil af te dwing of baie te bewerkstellig/Vermoë, veral van God, om bomenslike dade te verrig of invloed uit te oefen/Beheer of dwingende invloed/Bep. bevoegdheid, reg of vryheid/Fisieke of fisiese krag of geweld en ook bep. verskyningsvorm daarvan.

    • Gesag: Mag, wettige reg om te beveel, om gehoorsaamheid af te dwing of finaal te besluit/Persoon, liggaam of instelling wat die mag of wettige reg het om te regeer, wette te maak, sake te reël of te beheer; owerheid, regering/Oortuigende krag; outoriteit; geestelike oorwig berustende op besondere of deskundige kennis, ervaring, studie, aansien, algemene agting/Dwingende of dringende mag oor die wil om te gehoorsaam.

    • Reg: Wetlike bevoegdheid, vryheid, voorreg of morele regverdiging waarop aanspraak gemaak kan word.

    • Krag: (Iem., iets se) gesamentlike, totale liggaamlike en (of) geestelike vermoëns waardeur iets onderneem, verrig, vermag kan word; sulke vermoëns waarop teruggeval, gesteun kan word/Enige fisiese werking of invloed in die heelal of natuur, of ook die nabootsing van so 'n werking of invloed, wat 'n beweging, versnelling, verandering, vervorming of spanning [kan] teweegbring.

    • Voorreg: Reg bo ander toegeken; guns; privilege; bevoordeling, begunstiging: Sy het die voorreg gehad om die president te ontmoet.

    Vir die doeleindes van hierdie artikel moet 'n mens poog om tussen die vyf vertaalekwivalente te onderskei. In die geval van die eerste vier ('mag', 'gesag', 'reg' en 'krag') is dit baie moeilik aangesien daar 'n groot mate van oorvleueling is. Uit bogenoemde inskrywings blyk dit egter dat 'mag' 'n omvattender begrip is en sommige van die fasette van 'gesag', 'reg' en 'krag' insluit. Verder kan die onderskeid tussen elk van die vier begrippe myns insiens soos volg aangedui word:

    'mag' dui breedweg die vermoë aan om groot invloed uit te oefen; 'gesag' kan van 'mag' onderskei word deur twee aspekte, naamlik 'n groter klem op die uitoefening van beheer en 'n ietwat sterker juridiese moment; 'reg' word van 'mag' en 'gesag' onderskei deur 'n sterk juridiese moment met 'n fokus op dit wat aan 'n mens toegeken word of waarop 'n mens kan aanspraak maak; en in die geval van 'krag' is die juridiese moment afwesig en is daar 'n groter klem op die potensiaal om iets te doen.

    Terug na [eksousia]. Uit Griekse leksika is dit duidelik dat dit inderdaad op verskillende maniere in die Nuwe Testament gebruik word. BDAG het byvoorbeeld ses verskillende tersaaklike inskrywings:4

    1.a state of control over someth, freedom of choice, right

    2. potential or resource to command, control, or govern, capability, might, power

    3. the right to control or command, authority, absolute power, warrant

    4. power exercised by rulers or others in high position by virtue of their office, ruling power, official power

    5. bearer or ruling authority, human authorities, officials, government

    6. the sphere in which power is exercised, domain.

    Louw en Nida (1988) plaas [eksousia] in vier verskillende semantiese domeine:

    • Domein 37 ('Control, Rule'), waar dit in twee van die subdomeine voorkom, naamlik eerstens in die subdomein wat verduidelik word as 'Control, Restrain'5 met die inskrywing 'a state of control over someone or something - "control"', en tweedens in die subdomein wat beskryf word as 'Exercise authority'. In laasgenoemde geval is daar drie6 inskrywings vir [eksousia], naamlik 'authority to rule', 'jurisdiction' en 'ruler'.

    • Domein 76 ('Power, Force'), waar [eksousia] een maal voorkom en waar dit soos volg verduidelik word: 'the power to do something, with or without an added implication of authority - "power"'.

    • Domein 12 ('Supernatural Beings and Powers'), waar dit in die subdomein 'Supernatural Powers' geplaas word en een maal voorkom en waar dit verduidelik word as 'a supernatural power having some particular role in controlling the destiny and activities of human beings - "power, authority, lordship, ruler, wicked force"'.

    • Domein 30 ('Think'), waar dit in die laaste van sewe subdomeine geplaas word ('To distinguish, to evaluate, to judge'). Die beskrywing by [eksousia] lui soos volg: 'the right to judge on the basis of having the potential to evaluate - "right, freedom of choice, freedom of action, power to evaluate"'. Bogenoemde bevestig dat [eksousia] op meer as een manier in die Nuwe Testament7 gebruik word en dat die keuse wat vertalers in Johannes 1:12 moet maak allesbehalwe 'n maklike keuse is. Die meningsverskil oor die interpretasie van (eksousia) blyk ook duidelik uit die manier waarop dit in kommentare hanteer word. In sommige gevalle maak kommentatore bloot 'n keuse vir 'n bepaalde interpretasie sonder verdere motivering. Om enkeles te noem: Becker (1979:65) - 'Ermächtigung'; Haenchen (1980:127) - 'Vollmacht'; Van Tilborg (1988:16) - 'mogelijkheid een kind van God te worden'; Carson (1991:126) - 'right'; Talbert (1992:67) - 'power'; Moloney (1998:44) - 'power' en Lincoln (2005:103) - 'authority.'8

    Wanneer 'n motivering wel gegee word, loop die menings duidelik uiteen soos hieronder verduidelik.

    Dodd (1968:271) vertaal [eksousia] as 'right' of 'authority' en wys die vertaling 'power' in die Authorised Version as 'n totaal verkeerde vertaling af omdat dit volgens hom ten onregte die indruk skep dat die betekenis van [eksousia] met δúναµις [mag] saamval. In sy interpretasie van [eksousia] gee hy 'n sterk juridiese interpretasie daaraan. Hy verduidelik dit byvoorbeeld as 'n 'competent legislative or juridicial pronouncement' (Dodd 1968:271) wat in hierdie geval deur 'n gesaghebbende woord van God plaasvind: God gee aan mense die gesag ('authorizes them') om op die status van kindskap aanspraak te maak.

    Bultmann (1978:36) interpreteer [eksousia] as 'Vollmacht'. Sy uitgangspunt is dat die Evangelis 'n kultiese gemeenskapslied as grondslag vir die Proloog gebruik het en dat hy dit verder met sy eie kommentaar uitgebrei het. In die geval van vers 12 argumenteer hy dat dié bron bloot [gee] gehad het ('n weerspieëling van die Aramese [gee] wat die betekenis van 'Erlaubnis geben' of 'Vollmacht erteilen' het), maar dat die Evangelis dit nodig gevind het om [eksousia] ter verduideliking by te voeg. Hy is verder van mening dat [eksousia] deurgaans in die Johannesevangelie gebruik word op wat hy die tipiese Griekse manier noem, naamlik in die sin van 'Recht' of 'Vollmacht'. Bultmann grens ook spesifiek die Johannese gebruik van [eksousia] af van wat hy beskou as die tipies Gnostiese gebruik van die begrip, waar die klem tot 'n groter mate op die konsep 'krag' fokus en baie naby aan die begrip [krag] kom.

    Schnackenburg (1979a:237) vertaal [eksousia] met 'Macht' en verduidelik dit as 'reale Befähigung zur Gotteskindschaft': Vanuit hulleself kan mense nie kindskap van God verkry nie; dit is die Logos wat sowel die moontlikheid as die totstandkoming daarvan deur sy goddelike mag ontsluit. Hy stem saam met Bultmann dat [gee] normaalweg in die Johannesevangelie voldoende is om hierdie gedagte uit te druk, soos byvoorbeeld in die geval van Johannes 3:27 en 5:26.

    Barrett (1978:163) maak drie kort (en verwarrende!) stellings oor [eksousia] in Johannes 1:12. Hy begin met die opmerking dat die begrip gewoonlik 'akkuraat' in die Johannesevangelie gebruik word. Wat met 'akkuraat' bedoel word, is egter nie duidelik nie; waarskynlik verwys hy daarmee na iets soortgelyks as die opmerking wat deur Bultmann gemaak is, naamlik dat die begrip op 'n tipiese Griekse manier gebruik word. Verder beteken die begrip volgens hom 'authority' en 'right'. Of hy daarmee bedoel dat die twee begrippe mekaar volledig oorvleuel en of daar op twee verskillende momente gefokus word, is nie duidelik nie. Laastens sluit hy af met 'n opmerking dat [krag] nooit in die Johannesevangelie voorkom nie. Dit is egter onduidelik wat hy daarmee bedoel. Probeer hy daarmee sê dat [eksousia] hier min of meer as sinoniem vir [krag] funksioneer of beteken [eksousia] iets anders en wil hy net daarmee sê dat die begrip 'krag' nie in die Evangelie voorkom nie?

    Brown (1984a:10-11) vertaal [Hy het eksousia gegee] met 'he empowered',9 maar noem ook dat dit letterlik 'gave authority or right' beteken. Hy wys ook daarop dat Dodd 'power' as 'n totaal verkeerde vertaling tipeer, maar betoog dat dit eweneens verkeerd is om [eksousia] te verstaan as 'n semi-juridiese stelling waarvolgens aan mense 'n reg gegee word wat hulle kan uitoefen.

    Thyen (2005:87) vertaal [eksousia] ook as 'Vollmacht', maar interpreteer dit op 'n ander manier. Hy wys spesifiek vertaalekwivalente soos 'Befähigung' of 'Möglichkeit' af (téén Schnackenburg?) en verkies om dit in 'n juridiese sin te interpreteer, naamlik as 'n verwysing na 'n geldige regshandeling waardeur deelgenootskaplike vryheid moontlik word.

    Laastens, nie 'n verwysing na 'n kommentaar nie, maar na 'n vertalershandleiding: Die outeurs van die Translator's Handbook on the Gospel of John, Newman en Nida (1980:19), gebruik 'right' as vertaalekwivalent en wys daarop dat [eksousia] die betekenismoontlikheid van 'gesag' of 'reg' het, maar nie 'krag' nie. Wanneer hulle praktiese raad aan vertalers gee hoe om [eksousia] te vertaal, noem hulle 'n hele paar moontlikhede waarvan sommige nie heeltemal reg laat geskied aan hulle keuse vir 'reg' nie: 'He made it possible for them to become God's children', 'Now he said, "You can become God's children''', 'So he caused them to become God's children' of 'He gave them the place of being God's children'.

    Teen bogenoemde agtergrond kan die vraag dus tereg gevra word: Wat is die beste manier om [eksousia] in Johannes 1:12 te vertaal? Die res van hierdie artikel poog om 'n antwoord op hierdie vraag te gee.

    Die beste plek om te begin is waarskynlik om te kyk hoe [eksousia] in die res van die Johannesevangelie gebruik word. Afgesien van Johannes 1:12, kom dit in nog vier ander kontekste in die Evangelie voor, naamlik in Johannes 5:27, 10:18 (twee keer), 17:2 en 19:10-11 (twee keer).

    In Johannes 5:27 word [eksousia] gebruik in die monoloog wat volg ná die genesing van die man by die Bad van Betesda, spesifiek ná Johannes 5:18 waar gemeld word dat die ['Jode'] Jesus wou doodmaak omdat Hy die Sabbat ontheilig het en God sy Vader genoem het en Hom dus so met God gelyk gestel het. In dit wat volg, word die noue verhouding tussen Vader en Seun beklemtoon, onder andere dat die Seun net doen wat Hy die Vader sien doen, dat die Vader Hom liefhet en dat Hy beide die dooies opwek en aan hulle lewe gee. Johannes 5:27 lui soos volg: [en Hy het aan Hom eksousia gegee om te oordeel omdat Hy die Seun van die mens is]. Ten opsigte van die wyse waarop [eksousia] hier gebruik word, moet drie sake uitgelig word. Eerstens is dit duidelik dat God as die bron van [eksousia] gesien word en dat dit deur Hom aan Jesus meegedeel is [ - gee - word hiervoor gebruik]. Tweedens gaan dit hier spesifiek oor die [eksousia] om te oordeel. Derdens is die noue relasie tussen [eksousia] en [lewe] binne hierdie konteks opvallend, deurdat in die voorafgaande vers gesê word dat die Vader in Homself [lewe] het en dat Hy aan die Seun 'gegee' het om [lewe] in Homself te hê. Verder word [lewe] weer gebruik in die verse wat direk op vers 27 volg, wanneer gesê word dat dié wat in die grafte is en sy stem hoor, uit die grafte sal kom, onderskeidelik tot die opstanding tot die lewe ( tot opstanding van die lewe) en tot die dood. Wanneer 'n vertaalekwivalent vir [eksousia] in 5:27 gekies moet word, is daar drie aanspraakmakers, naamlik 'mag', 'gesag' en 'reg'. Met die eerste oogopslag is 'n mens se aanvoeling dat 'reg' in hierdie geval die beste keuse is aangesien [eksousia] gespesifiseer word as [om te oordeel], dit wil sê sterk juridies ingeklee word. Daarteenoor is dit egter ook duidelik dat die manier waarop [om te oordeel] gebruik word nie net op die juridiese fokus nie en gevolglik meer behels as wat normaalweg in Afrikaans onder 'reg' verstaan word. Dit is veral die gedagte van die gee van lewe wat prominent is. Metzner (2003:22) sê tereg: 'Die Gerichtsvollmacht des Sohnes ist also auf die Vermittlung von Leben bezogen, weil im johanneischen Kerygma der Heilswille Gottes eine Prävalenz vor seinem Richten hat (vgl. 3:16-17; 12:47).' Hoewel [eksousia] in hierdie geval dus 'n sterk juridiese komponent het, behels dit meer as dit. Gevolglik lyk dit na 'n beter keuse om een van die ander twee begrippe as vertaalekwivalent te kies, dit wil sê óf 'mag' óf 'gesag'. Van dié twee gee ek voorkeur aan 'gesag' omdat dit 'n sterker juridiese komponent as 'mag' het.

    [eksousia] word vervolgens in die gedeelte oor die Goeie Herder aangetref, en wel in die afsluitende gedeelte in Johannes 10:17-18:

    [Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe gee, sodat Ek dit weer kan opneem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek gee dit uit Myself. Ek het eksousia om dit te gee, en Ek het eksousia om dit weer op te neem; hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.]

    Drie momente is belangrik. Eerstens word die begrip weer binne 'n konteks gebruik waarin die besondere verhouding tussen Vader en Seun beklemtoon word. In vers 17 word gesê dat die Vader Jesus liefhet omdat Hy sy lewe gee sodat Hy dit weer kan opneem. Enkele verse vroeër is die wedersydse 'ken' tussen Vader en Seun ook vermeld (v. 15). Anders as in die geval van Johannes 5:27 word daar egter nie eksplisiet gesê dat Jesus se [eksousia] van God af kom nie. Dat Jesus in opdrag van die Vader optree (Joh 5:18: gebod) stel dit wel op 'n implisiete manier. Die tweede moment wat belangrik is, is die manier waarop [eksousia] (en daarmee saam - uit Myself) as't ware in jukstaposisie met [gebod] geplaas word. Enersyds word beklemtoon dat Jesus uit eie vrye wil optree; niemand neem sy lewe van Hom weg nie, Hy doen dit uit Homself.10 Hy het [eksousia] om sy lewe af te lê en dit weer op te neem. Andersyds word ook gesê dat Hy in opdrag van die Vader optree ( - gebod). Hierdie twee op die oog af botsende stellings is 'n pragtige illustrasie van die Johannese teologie oor hierdie saak: Vader en Seun is een en die Seun oefen sy eie wil uit in volledige eenheid met die wil van die Vader.11 Derdens is dit ook opvallend dat [eksousia] weer met die begrippe 'lewe' en 'dood' geassosieer word. In vers 17 en 18 gaan dit spesifiek oor Jesus se eie dood en lewe, maar uit die konteks is dit ook duidelik dat dit oor meer as sy eie lewe en dood gaan. Enkele verse vroeër is die gee van sy lewe as 'n handeling 'vir' die skape beskryf ( - vir; vv. 11, 15).

    Wat vertaalekwivalente vir [eksousia] in Johannes 10:17-18 betref, sou 'n mens 'n saak vir 'mag', 'gesag', 'reg' of selfs 'krag' kon uitmaak. Daar is eksegete wat in hierdie geval 'n 'sagter' vertaling van [eksousia] verkies. Beide Brown (1984b:387) en Barrett (1978:377) argumenteer byvoorbeeld dat die uitdrukking hier niks meer as 'ek kan' beteken nie. Schnackenburg (1979b:379) wys egter tereg daarop dat die gebruik van [eksousia] in hierdie geval die gebruik van dié uitdrukking in die LXX weerspieël, waar dit verwys na die gesag wat God het, soos byvoorbeeld in die Wysheid van Salomo 16:13 (gesag oor lewe en dood). Dit is dus 'n verkeerde keuse om [eksousia] as 'reg' of 'krag' te vertaal. 'Mag' of 'gesag' is beter keuses. Van dié twee gee ek voorkeur aan 'gesag' omdat dit 'n ietwat sterker klem laat val op die uitoefening van beheer as 'mag'.

    Die gebruik van [eksousia] in Johannes 17:1b-2 kom grootliks met die gebruik daarvan in 5:27 ooreen:

    [Verheerlik u Seun sodat die Seun U kan verheerlik, soos U aan Hom eksousia oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan elkeen wat U aan Hom gegee het, ewige lewe kan gee.]

    Die konteks waarbinne [eksousia] hier gebruik word, is weer eens die noue verhouding tussen Vader en Seun, in hierdie geval verwoord in terme van 'n wedersydse verheerliking van Vader en Seun. Verder is dit in hierdie geval ook duidelik dat die Vader die bron van die [eksousia] is en dat dit deur Hom aan die Seun meegedeel word ( - gee - word weer gebruik). In Johannes 5:27 word nie eksplisiet gesê oor wie die Seun [eksousia] het nie, maar uit 5:29 kan wel afgelei word dat dit oor alle mense gaan. In Johannes 17:2 word wel eksplisiet gesê dat die [eksousia] van die Seun oor 'alle vlees'12 is. Laastens word [eksousia]), soos in die geval van Johannes 5:27, ook sterk aan die gee van 'lewe' gekoppel, in hierdie geval beskryf as 'ewige lewe'. Soos in die geval van Johannes 5:27, is die beste vertaalekwivalent vir [eksousia]) in Johannes 17:2 in Afrikaans ook 'gesag'.

    [eksousia] word die laaste keer in die Johannesevangelie in Johannes 19:10-11 gebruik as Jesus nie op Pilatus se vraag antwoord nie en hy (vererg?) vra: [Weet jy nie dat ek eksousia het om jou vry te laat en eksousia het om jou te kruisig nie?]. Hierop volg Jesus se antwoord: [Jy het nie eksousia oor My nie as dit vir jou van Bo beskik was nie]. Hierdie gebruik van [eksousia] verskil van die vorige drie gevalle wat bespreek is deurdat dit nou vir die eerste keer oor die [eksousia] van iemand anders as Jesus handel. Dit gaan oor Pilatus se gewaande gesag (in hierdie geval is 'gesag' ook die beste vertaalekwivalent13 ) wat hy, soos Beasley-Murray (1987:336) dit stel, dink hy het - omdat hy op gesag van die magtigste man en volk in die wêreld optree. Die tipe gesag waaroor dit gaan, is gesag om vry te laat of te kruisig, dit wil sê gesag oor (fisiese) lewe en dood. Anders as in die vorige gevalle is daar (ten minste vanuit Pilatus se perspektief) dus geen soteriologiese konnotasie aan [eksousia] nie. Wat 'n mens egter wel moet raaksien, is dat Jesus se stelling in Johannes 10:17 op ironiese wyse in Pilatus se aanspraak dat hy gesag oor Jesus se fisieke lot het, resoneer: Niemand neem Jesus se lewe van Hom weg nie; Hy het die gesag om dit af te lê en weer op te neem. Pilatus se aanspraak dat hy gesag oor Jesus het, is dus leeg.14 Jesus se antwoord bevestig dit ook dat Pilatus geen gesag oor Jesus sou gehad het as dit nie van 'bo' - van God - beskik15 was nie.

    Om saam te vat, kan aangedui word dat hierdie ondersoek van die gebruik van [eksousia] in die Johannesevangelie die volgende aan die lig gebring het: In die meerderheid van die gevalle waar [eksousia] gebruik word, word dit soteriologies ingeklee. Dit gaan dus oor leweskeppende gesag. Dié gesag kom van God en Christus speel 'n sentrale rol daarin. Hy is die Een deur wie die gesag bemiddel word en wat dit met 'n soteriologiese effek uitoefen.

    Teen hierdie agtergrond kan nou aandag gegee word aan die gebruik van [eksousia] in Johannes 1:12. Die twee aspekte wat sopas uitgelig is, is ook in hierdie geval kernmomente. Eerstens speel Christus in Johannes 1:12 ook 'n sentrale rol in die [eksousia]. Hy is die Een wat dit 'gegee' het. In hierdie geval word nie eksplisiet gesê dat die [eksousia] van God kom nie, maar God se aandeel kom op verskeie ander maniere ter sprake, byvoorbeeld dat die [eksousia] gegee word sodat mense God se kinders word, dat hulle16 deur Hom verwek17 is (v. 13) en, in breër verband, die klem wat geplaas word op die noue relasie tussen die Woord en die Seun en God in die Proloog (bv. vv. 2, 18). Tweedens is dit ook duidelik dat die gee van die [eksousia] leweskeppend is, want deur die gee van die [eksousia] word mense 'kinders van God'. Die metafoor 'kinders van God' funksioneer binne 'n groter raamwerk van familie-metafore waarbinne die konsep 'lewe' 'n sentrale rol speel.18 Die belangrike rol wat 'lewe' in hierdie konteks speel, word verder bevestig deur die gebruik van die begrip 'verwek deur God' wat in die volgende vers voorkom en wat as verdere uitbreiding op 'hulle wat Hom aangeneem het' ook met 'lewe' geassosieer kan word.19

    Wanneer die gebruik van [eksousia] in Johannes 1:12 met die gebruik daarvan in die res van die Evangelie vergelyk word, is daar egter ook twee verskille. Eerstens is Johannes 1:12 die enigste geval waar gesê word dat [eksousia] aan gelowiges gegee word. Met die uitsondering van Johannes 19:10-11 waar die [eksousia] wat Pilatus het (en wat nie soteriologies ingeklee word nie), ter sprake kom, is Jesus in al die gevalle die Een wat die [eksousia] ontvang het. Tweedens is Johannes 1:12 die enigste geval waar [eksousia] nie oor iets of iemand anders uitgeoefen word nie.20 In Johannes 5:27 handel dit oor die Seun se gesag om mense te oordeel; in 10:18 oor sy gesag oor sy eie lewe; in hoofstuk 17:2 oor sy gesag oor alle vlees en in 19:10-11 oor Pilatus se gesag oor Jesus.

    Om saam te vat: Met die oog op die evaluering van die verskillende vertaalopsies, kan 'n mens dus sê dat dit in Johannes 1:12, teologies gesproke, handel oor die Woord se leweskeppende [eksousia] wat aan mense meegedeel word wat positief op Hom reageer en dat die effek van [eksousia] is dat hulle kinders van God word.21

    Watter een van die vyf vertaalekwivalente laat die beste hieraan reg geskied: mag, gesag, reg, krag of vermoë of voorreg? Van dié vyf opsies is 'voorreg' ooglopend 'n verkeerde keuse. Hoewel dit volgens die Johannesevangelie uiteraard 'n voorreg is om 'n kind van God te wees, is dit nie die moment wat voorop staan in die gebruik van [eksousia] nie.22 Indien die klem op hierdie aspek sou val, sou 'n mens in plaas van [eksousia] eerder 'n woord soos [genade] verwag het.23

    Om tussen die ander vertaalekwivalente te kies, is moeiliker. In al die ander gevalle waar [eksousia] in die Johannesevangelie gebruik is, het ek aangevoer dat 'gesag' die beste vertaalekwivalent is. In hierdie geval sal dit egter nie 'n goeie keuse wees nie aangesien reeds aangedui is dat [eksousia] hier, anders as in die ander gevalle in die Johannesevangelie, nie beheer oor iets of iemand anders impliseer nie. Soos blyk uit die inskrywing in die WAT wat aan die begin van hierdie artikel gegee is, is die uitoefening van beheer een van die definiërende momente in 'gesag'.

    Wanneer 'n mens 'krag' as vertaalekwivalent oorweeg, is dit belangrik om in gedagte te hou dat dié woord verwys na die 'vermoë om iets te doen'. Indien 'n mens [eksousia] in Johannes 1:12 só sou vertaal, sou dit beteken dat die Woord aan mense krag gee en dat hulle dié krag gebruik om kinders van God te word. Met hierdie vertaling word daar dus 'n redelike sterk aktiewe rol aan die mens toegeskryf - iets wat op sigself nie verkeerd is nie - maar die vraag is of daar binne hierdie konteks nie groter klem op die passiwiteit van die mens in die proses van kindword val nie. Die 'verwek-deur'-metafoor24 wat in die volgende vers gebruik word, beklemtoon juis die mens se passiewe rol: om verwek te word, is nie iets waaraan 'n mens aktief meedoen nie; dit is iets wat met jou gebeur. Indien 'n mens [eksousia] binne hierdie konteks interpreteer, is 'krag gee' dus nie 'n goeie keuse nie omdat die passiewe moment nie sterk genoeg beklemtoon word nie. Dieselfde geld vir 'reg', die ander vertaalekwivalent wat soms gebruik word. Soos wat uit die inskrywing in die WAT gesien kan word, het 'reg' nie net 'n sterk juridiese moment nie, maar gaan dit oor 'n bevoegdheid waarop aanspraak gemaak kan word. Indien [eksousia] op hierdie manier in Johannes 1:12 vertaal word, sou die betekenis wees dat die Woord aan mense die reg gee om kinders van God te word en dat hulle dan hierdie reg kan uitoefen en/of daarop kan aanspraak maak. Weer eens is die gedagte nie noodwendig verkeerd nie, maar binne hierdie konteks kan 'n mens dieselfde beswaar opper as wat in die geval van 'krag' as vertaalopsie geopper is, naamlik dat dit 'n té aktiewe rol aan die mens toeken.

    Dit laat 'n mens met 'mag' as die enigste vertaalekwivalent wat oorbly. Soos aan die begin van hierdie artikel aangedui is, is 'mag' die mees omvattende van die begrippe wat as vertaalekwivalent gebruik word en oorvleuel dit met 'krag', 'reg' en 'gesag'. Dit dek egter 'n wyer veld en sal in hierdie geval met vrug gebruik kan word in die sin van die tweede inskrywing wat oor dié begrip in die WAT gemaak word: 'Vermoë, veral van God, om bomenslike dade te verrig of invloed uit te oefen.' Indien 'n mens dus 'n vertaling moet maak wat so na as moontlik aan die brontaal bly, kan Johannes 1:12 soos volg vertaal word: 'Maar aan dié wat Hom aangeneem het, het Hy mag gegee om kinders van God te word ...' Vertalers wat 'n mandaat het om vryer te vertaal, kan dit soos volg vertaal: 'Maar aan dié wat Hom aangeneem het, het Hy sy mag meegedeel en hulle het kinders van God geword ...' of 'Maar aan dié wat Hom aangeneem het, het Hy sy mag meegedeel sodat hulle kinders van God kon word.'

     

    Erkennings

    Mededingende belange

    Die outeur erken graag die finansiële ondersteuning van die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika.

     

    Literatuurverwysings

    Amiet, P., 1971, 'Exousia im Neuen Testament', Internationale Kirchliche Zeitschrift 61, 233-242.         [ Links ]

    Barrett, C.K., 1978, The Gospel according to St John: An introduction with commentary and notes on the Greek text, SPCK, London.         [ Links ]

    Bauer, W., Arndt, W.F., Gingrich, F.W. & Danker, F.W., 2000, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, University of Chicago Press, Chicago, IL/London. (BDAG.         [ Links ])

    Beasley-Murray, G.R., 1987, John, Word Books, Waco, TX. (World Biblical Commentary 36.         [ Links ])

    Becker, J., 1979, Das Evangelium nach Johannes: Kapittel 1-10, Echter Verlag, Gütersloh. (ÖTBK 4/1.         [ Links ])

    Brown, R.E., 1984a, The Gospel according to John: Volume 1 (i-xii). Introduction, translation and notes, Geoffrey Chapman, London. (AB.         [ Links ])

    Brown, R.E., 1984b, The Gospel according to John: Volume 2 (xiii-xxi), Geoffrey Chapman, London. (AB.         [ Links ])

    Bultmann, R., 1978, Das Evangelium des Johannes, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen. (KEK 19.         [ Links ])

    Carson, D.A., 1991, The Gospel according to John, Inter-Varsity Press, Leicester.         [ Links ]

    Dodd, C.H., 1968, The interpretation of the Fourth Gospel, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

    Foerster, W., 1957, ' [eksousia]', Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament 2, 557-571.         [ Links ]

    Foerster, W., 1973, ' [eksousia]', Theological Dictionary of the New Testament 2, 562-574.         [ Links ]

    Gniesmer, D.F., 2000, In den Prozeβ verwickelt. Erzähltextanalytische und texpragmatische Erwägungen zur Erzählung vom Prozeβ Jesu vor Pilatus (Joh 18,28-19,16a.b), Peter Lang, Frankfurt am Main/Berlin/Bern/Bruxelles/New York, NY/Wien. (EHS.T 23/688.         [ Links ])

    Haenchen, E., 1980, Das Johannesevangelium: Ein Kommentar aus den nachgelassenen Manuskripten herausgegeben von Ulrich Busse mit einem Vorwort von James M. Robinson, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

    Kysar, R., 1986, John, Augsburg Publishing House, Minneapolis, MN. (Augsburg Commentary on the New Testament.         [ Links ])

    Lincoln, A.T., 2005, The Gospel according to St John, Hendrickson/Continuum, London/ New York, NY. (BNTC.         [ Links ])

    Lindars, B., 1981, The Gospel of John, Eerdmans, Grand Rapids, MI. (New Century Bible Commentary.         [ Links ])

    Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains: Introduction and domains, vol. 1, United Bible Societies, New York, NY.         [ Links ]

    Menken, M.J.J., 2009, '"Born of God" or "Begotten by God"? A translation problem in the Johannine Writings', Novum Testamentum 51, 352-368. http://dx.doi. org/10.1163/156853609X435429         [ Links ]

    Metzner, R., 2003, 'Vollmacht im Johannesevangelium', Novum Testamentum 45, 22-44. http://dx.doi.org/10.1163/156853603762390862         [ Links ]

    Moloney, F.J., 1998, The Gospel of John, Liturgical Press, Collegeville, PA. (Sacra Pagina 4.         [ Links ])

    Newman, B.M. & Nida, E.A., 1980, A translator's handbook on the Gospel of John, United Bible Societies, London/New York, NY/Stuttgart.         [ Links ]

    Odendal, F.F. & Gouws, R.H., 2005, HAT: Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal, Pearson Education, Kaapstad.         [ Links ]

    Rusam, D., 1993, Die Gemeinschaft der Kinder Gottes: Das Motiv der Gotteskindschaft und die Gemeinden der johanneischen Briefe, W. Kohlhammer, Stuttgart/Berlin/ Köln. (BWANT 13.         [ Links ])

    Schnackenburg, R., 1979a, Das Johannesevangelium: I. Teil. Einleitung und Kommentar zu Kap. 1-4, Herder, Freiburg/Basel/Wien. (HThK IV/1.         [ Links ])

    Schnackenburg, R., 1979b, Das Johannesevangelium: II. Teil. Kommentar zu Kap. 5-12, Herder, Freiburg/Basel/Wien. (HThK IV/2.         [ Links ])

    Scholtissek, K., 1992, Die Vollmacht Jesu: Traditions- und redaktionsgeschichtliche Analysen zu einem Leitmotiv markanischer Christologie, Aschendorff, Münster. (NTA NF 25.         [ Links ])

    Talbert, C.H., 1992, Reading John: A literary and theological commentary on the Fourth Gospel and the Johannine Epistles, Crossroad, New York, NY.         [ Links ]

    Thyen, H., 2005, Das Johannesevangelium, Mohr-Siebeck, Tübingen. (HNT 6.         [ Links ])

    Van der Watt, J.G., 2000, Family of the King: Dynamics of metaphor in the Gospel according to John, Brill, Leiden. (BIS 47.         [ Links ])

    Van Houwelingen, R., 2006, 'Nieuw, herzien of naardens? Een drietal recente bijbelvertalingen met elkaar vergeleken op de proloog van het Johannesevangelie', in J. van Dorp & T. Drieënhuizen (reds.), Heilige tekst in onze taal: Bijbelvertalen voor gereformeerd Nederland, pp. 45-60, NBG, Heerenveen.         [ Links ]

    Van Tilborg, S., 1988, Johannes: Belichting van het bijbelboek, Katholieke Bijbelstichting/Vlaamse Bijbelstichting Leuven/Uitgeverij Tabor, Boxtel/Leuven/Brugge.         [ Links ]

    Vellanickal, M., 1977, The divine sonship of Christians in the Johannine writings, Biblical Institute Press, Rome. (AnBib 72.         [ Links ])

    Von Campenhausen, H., 1948, 'Zum Verständnis von Joh 19,11', TheologischeLiteraturzeitung 73, 387-392.         [ Links ]

    Westcott, B.F., 1971, The Gospel according to St. John: The Authorized Version with introduction and notes, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

    Zahn, T., 1986, Das Evangelium des Johannes, R. Brockhaus, Wupperthal.         [ Links ]

     

     

    Correspondence to:
    Francois Tolmie
    PO Box 339, Bloemfontein 9300
    South Africa
    Email: tolmief@ufs.ac.za

    Received: 02 Apr. 2011
    Accepted: 24 May 2011
    Published: 27 Jan. 2012

     

     

    © 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.
    1. Nederlandse vertalings is by die volgende webwerf bekom: http://www.biblija.net/, en besigtig op 16 Augustus 2010. Engelse, Duitse en Franse vertalings is geneem uit BibleWorks 7.
    2. My vertaling van die Engelse woord 'authority'.
    3. Elektroniese weergawe, http://www.wat.co.za, besigtig op 30 Augustus 2010. Slegs die dele van die inskrywings wat vir hierdie artikel tersaaklik is, word weergegee. Die WAT is nog nie volledig nie en tans is daar geen inskrywing vir V nie. In die geval van 'voorreg' is die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) gevolglik geraadpleeg (Odendal & Gouws 2005).
    4. BDAG noem 'n sewende moontlikheid, maar dit handel spesifiek ook 1 Korintiërs 11:10 en word dus nie hierbo gelys nie.
    5. Volgens Louw en Nida (1988:472) val die fokus in hierdie subdomein op die beheer van iemand anders en nie op selfbeheer nie.
    6. Daar is 'n vierde inskrywing ('symbol of authority'), maar dit verwys slegs na 1 Korintiërs 11:10 en word dus nie hier genoem nie.
    7. Wat die LXX betref: Volgens Scholtissek (1992:54-55) word [eksousia] 68 keer en [eksousiadzein] 18 keer in die LXX gebruik, meestal in die latere geskrifte soos byvoorbeeld Sirag, 1-2 Makkabeërs en Daniël. Wanneer dit in die sin van 'erteilte Macht, Vollmacht, Recht, Verfügunsgewalt, Erlaubnis' en 'Wahl- und Entscheidungsfreiheit' (p. 55) gebruik word, stem dit volgens hom ooreen met die algemeen Griekse gebruik daarvan. Dit word egter ook in die LXX gebruik om te verwys na die mag en soewereiniteit van God en die mag wat deur God aan iemand gegee word. Volgens Scholtissek kom hierdie aspek nie in die algemeen Griekse gebruik voor nie.
    8. Foerster (1957:566) gebruik 'Ermächtigung' as vertaling. In die Engelse weergawe word 'enablement' gebruik (Foerster 1973:569).
    9. In die voorwoord tot sy kommentaar meld Brown (1984a:vi) dat sy bedoeling met die vertaling is om die eenvoudige alledaagse Grieks van die Evangelie in gewone hedendaagse Amerikaanse Engels te vertaal.
    10. Dit word moontlik polemies bedoel. Kyk byvoorbeeld Lindars (1981:364) en Kysar (1986:163).
    11. Lincoln (2005:299) vat dit netjies saam: 'The giving of his life is a sovereign decision that embodies the divine purpose.'
    12. 'n Semitiese uitdrukking wat na 'alle mense' verwys. Kyk byvoorbeeld Westcott (1971:239) en Zahn (1986:605). Bultmann (1978:377) wys tereg daarop dat Jesus [eksousia] het oor meer as net dié wat die ewige lewe kry. Dié wat die Vader nie aan Hom gegee het nie, word ook deur die openbaring in Christus geraak in die sin dat hulle daardeur veroordeel word.
    13. Let op dat die element van 'beheer oor' in hierdie geval eksplisiet aangedui word deur [oor My].
    14. Na regte het Jesus dus gesag oor Pilatus. Kyk Gniesmer (2000:322-324) vir 'n goeie bespreking van die ironiese rolwisseling in hierdie toneel tussen Pilatus en Jesus as regter en aangeklaagde.
    15. My vertaling van . Let op dat die woord 'dit' in die sinnetjie 'dit is deur God beskik' nie na 'gesag' verwys nie, dit wil sê dit gaan nie oor die gesagwat van bo af gegee is nie. 'Dit' is onbepaald aangesien [beskik] onsydig is. Soos Thyen (2005:727) tereg opmerk, maak dié feit dit onwaarskynlik dat hier 'n uitspraak oor staatsgesag in die algemeen gemaak word, soos wat Bultmann dit aanvanklik geïnterpreteer het (Kyk hieroor Von Campenhausen 1948:387-392). Dit gaan oor hierdie spesifieke geval waar Jesus voor Pilatus staan en dit so deur God beskik is dat Pilatus as regter moes optree.
    16. [hulle... - manlik - wat verwek is] in plaas van ... [hulle... - onsydig] moet as constructio ad sensum verstaan word. Kyk Thyen (2005:88). Daar is eksegete wat voorkeur aan die lesing [Hy wat ... verwek is] gee. Kyk byvoorbeeld Vellanickal (1977:113-116) vir 'n goeie beredenering van hierdie opsie. Die feit dat geen Griekse manuskrip egter hierdie lesing ondersteun nie, maak die teks wat in Nestle-Aland gegee word, 'n beter keuse.
    17. In Johannes 1:13 kies vertalers gewoonlik die vertaalekwivalent 'gebore uit God'. Sommige eksegete verkies ook om dit so te interpreteer. Kyk byvoorbeeld Rusam (1993:111-112). Dit is egter meer waarskynlik dat die metafoor gebruik word om 'n manlike rol aan te dui, met ander woorde 'verwek deur God'. Kyk Menken (2009:352-368) vir 'n goeie motivering van hierdie standpunt.
    18. Die netwerk van familie-metafore in die Johannesevangelie is volledig deur Van der Watt (2000) beredeneer. Vir die sentrale rol wat 'kindskap' binne hierdie netwerk speel, kyk byvoorbeeld die figuur op bladsy 411.
    19. Kyk in hierdie verband Van der Watt (2000:186): 'Being born leads to life. Life and birth not only belong to the same field of imagery, but are also conceptually linked in the Gospel.' Hierdie stelling is uiteraard ook waar as 'n mens die vertaling 'verwek deur God' in plaas van 'geboorte uit God' verkies.
    20. Kyk ook Metzner (2003:35) oor die beperkte aard van die [eksousia] wat aan die gelowiges gegee word.
    21. Amiet (1971:241) is dus verkeerd as hy [eksousia] in Johannes 1:12 interpreteer as 'n verwysing na die gesag wat 'hoorders' ten opsigte van ampsdraers kan uitoefen.
    22. Van Houwelingen (2006:52) vind 'voorreg' van De Nieuwe Bijbelvertaling 'n goeie keuse. Dat dit juis hierdie moment is wat deur die begrip ejxousiva [eksousia] oorgedra word, word egter myns insiens nie oortuigend aangetoon nie.
    23. Kyk byvoorbeeld Galasiërs 2:9 en Efesiërs 3:8 waar tereg in die Nuwe Afrikaanse Vertaling (1983) as 'voorreg' vertaal word.
    24. Kyk die bespreking by voetnoot 17. Indien 'n mens 'gebore uit' as vertaalekwivalent verkies, is daar geen wesenlike verskil nie. Om gebore te word, is ook 'n passiewe handeling.