SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.67 issue3Hoofstuk 10: Terug by een ekumeniese fakulteit 1998-2009 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.67 n.3 Pretoria Jan. 2011

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Aktuele Bybelinterpretasie in Suid-Afrika - 'n kort oorsig en toepassing

 

The current debate on Biblical interpretation - a short review and application

 

 

Wouter C. van Wyk (jr)

Reformed Theological College, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

The article offers a review of important aspects of Biblical interpretation discussed in four recent books published in Afrikaans by prominent theologians Dirkie Smit, Gerrie Snyman, Gert Malan and Klaus Nürnberger. In the light of challenges to the traditional dogmas of the church and new ethical questions posed by a changing world, factors giving rise to conflict over Biblical interpretation are discussed. A number of untenable approaches to modern day Biblical interpretation are outlined, followed by a discussion of aspects of Biblical interpretation that have become more and more important. These insights are then applied to the current debate on Biblical interpretation within the Netherdutch Reformed Church of Africa. The article is concluded with a plea for continued concerted efforts to search for valid Biblical interpretation.


 

 

Inleiding

Aktuele belangstelling in die interpretasie van die Bybel

Afgesien van artikels en briewe in koerante en tydskrifte het daar die afgelope vyf jaar 'n aantal belangrike boeke oor die lees en interpretasie van die Bybel in Afrikaans verskyn. Twee van hierdie boeke oor Bybelinterpretasie is deur sistematiese teoloë geskryf (Dirkie Smit 2006; Klaus Nürnberger 2009), een deur 'n Ou Testamentikus (Gerrie Snyman 2007), en een deur 'n Nuwe Testamentikus (Gert Malan 2008). Dit bevestig enersyds dat die Bybel steeds vir die Afrikaanse gemeenskap van groot belang is, maar andersyds reflekteer dit ook dat die interpretasie van die Bybel in die huidige tydsgewrig hoogs omstrede is.

Die omstredenheid van Bybelinterpretasie hang aan die een kant saam met klassieke leerstellings van die kerk wat in sommige kringe bevraagteken of radikaal nuut geïnterpreteer word (bv. die maagdelike geboorte en Goddelike natuur van Jesus Christus, en die belydenis oor die opstanding), en aan die ander kant met veranderende waardestelsels in die gemeenskap wat nuwe etiese vrae aan die kerk stel (oor sake soos politieke beleid, geregtigheid, geweld, die huwelik en homoseksualiteit). In die aangesig van hierdie nuwe vraagstukke gee kerke, teoloë en ander denkleiers uiteenlopende antwoorde.

'n Duidelike voorbeeld hiervan is te vinde binne die konteks van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA). In 2004, op die 67ste Algemene Kerkvergadering (AKV), is 'n memorandum oor Skrifbeskouing aanvaar (volledig opgeneem in Malan 2008:88-93).

Desondanks het 'n besluit van die 69ste AKV (2010) oor die eertydse regeringsbeleid van apartheid weer eens die probleem van Bybelinterpretasie binne hierdie kerk op die spits gedryf.

So kom die sleutelvrae tans weer skerp na vore: Wat gee aanleiding tot konflik oor die interpretasie van die Bybel? Watter wesenlike probleme lê opgesluit in tradisionele maniere om die Bybel te lees? En watter faktore moet (beter) verreken word om die Bybel vandag verantwoordelik te lees? Nadat hierdie vrae aan die hand van die betrokke boeke bespreek is, word die relevansie en problematiek van die bespreking vir die aktuele gesprek binne die NHKA kortliks aangestip.

 

Redes vir konflik met betrekking tot die interpretasie van die Bybel

Smit bied 'n historiese oorsig oor die maniere waarop die Bybel van die tyd van die vroeë kerk tot vandag gelees is, en wys hoe gelowiges deur die eeue die Bybel telkens op dieselfde wyse gelees het as wat hulle tydgenote ander gesaghebbende of klassieke dokumente gelees het. 'Keer op keer gebeur dit gevolglik dat groot skuiwe in die kultuur en gepaardgaande skuiwe in hoe mense dokumente lees en verstaan ook neerslag sou vind in die kerk se lees en uitleg van die Bybel. Meermale lei dié soort skuiwe gevolglik tot hernieude konflikte oor die lees van die Bybel in die geledere van die kerk en die gelowiges' (Smit 2006:21).

Hy verduidelik verder (kyk Smit 2006:66-88) dat dit deur die eeue telkens om vyf konflikte in verband met die lees van die Bybel gegaan het: '(1) die stryd tussen verduidelik en verstaan; (2) die stryd oor wie eintlik die reg het om die Bybel te lees; (3) die stryd oor wat lees regtig is en hoe mense lees en behoort te lees; (4), die stryd oor wat dit beteken om met verantwoordelikheid te lees, en (5) die stryd oor wat die Bybel eintlik is, wat die ware aard is van hierdie teks wat gelees word' (Smit 2006:66).

Die eerste konflik is die stryd tussen verduidelik en verstaan. Met verduidelik verwys Smit na verskillende eksegetiese metodes. Daar het dit deur die eeue gehandel oor die keuse tussen alternatiewe metodes van lees, of oor die kombinasie van verskillende metodes in een omvattende eksegetiese raamwerk. Verstaan, daarteenoor, behels veel meer as die toepassing van 'n aantal stappe of metodes; dit is intuïtief, subjektief, en dit laat die leser boonop nie onveranderd nie.

Die tweede konflik handel oor wie die reg het om die Bybel te lees. Behoort die Bybel aan die geloofsgemeenskap, en indien wel, aan watter geloofsgemeenskap? Wie interpreteer die Bybel namens 'n bepaalde geloofsgemeenskap? Is akademiese lesers die beste gekwalifiseerd om die Bybel te lees? Watter reg het private lesers en kerklidmate om die Bybel self te lees en interpreteer? Of het enige van 'n groot verskeidenheid organisasies in die burgerlike samelewing en openbare lewe eerder die reg om die Bybel te lees? Aangesien die spesifieke konteks en sosiale omgewing (die gemeenskap van interpretasie) duidelik 'n groot rol speel in die interpretasie van die teks, ontstaan die vraag wie se interpretasie dan bepalend is.

Die derde konflik handel oor hoe mense lees en behoort te lees. Oor die jare het dit duidelik geword dat alle feite gekleur word deur die teorie waarbinne dit pas. Selfs in die natuurwetenskappe is vertrekpunte en paradigmas bepalend vir die interpretasie van die feite. Juis daarom dwing die onbetwisbare rol van die leser by die interpretasie van die Bybel 'n mens om telkens weer te vra of 'n spesifieke lesing nog laat reg geskied aan die teks.

Die vierde konflik is die stryd oor wat dit beteken om verantwoordelik te lees. Om die Bybel te lees is vir baie mense belangrik. Dit maak vir mense saak omdat hulle glo dat God self deur die Bybel met hulle praat. Om die Bybel te lees is egter nie bloot 'n private handeling nie; dit is inderwaarheid ook 'n sosiale of politieke handeling omdat dit gevolge het vir die lewe van mense en vir die welsyn van die gemeenskap. Daarom is dit ineens belangrik dat die lees van die Bybel altyd met etiese verantwoording gedoen word.

Die vyfde konflik gaan oor wat die ware aard van die Bybel inderdaad is. Vir sommige is die Bybel bloot nog 'n versameling klassieke literatuur uit 'n spesifieke kultuur, vir ander is die Bybel die lewensbeskoulike besit van 'n bepaalde morele tradisie, vir ander 'n godsdienstige boek, en vir nog ander 'n onfeilbare gesaghebbende kanon. Die aannames oor die aard van die Bybel waarmee lesers na die Bybel toe kom, bepaal dus tot op groot hoogte die manier waarop hulle die Bybel lees.

Wanneer lesers uiteenlopende standpunte inneem met betrekking tot hierdie vyf sentrale vraagstukke, is konflik oor die interpretasie van die Bybel onafwendbaar.

 

Onhoudbare maniere van Bybellees

Uit die boeke onder bespreking blyk duidelik dat 'n aantal benaderings tot die interpretasie van die Bybel net eenvoudig nie langer houdbaar is nie: die afwesigheid van 'n historiese bewussyn, die interpretasie van die Bybel vanuit 'n dwangbuis van kerklike belydenisse, interpretasies wat die hedendaagse wêreldbeeld negeer, rasionalistiese grensoorskrydings, beperking van interpretasie tot die wêreld van die teks, en onsensitiwiteit vir die effek van Bybelinterpretasie op ander mense.

Afwesigheid van 'n historiese bewussyn

Smit (2006:9) wys daarop dat die Bybel nie altyd (in sy huidige vorm) bestaan het nie, en ook maar net die laaste 500 jaar beskikbaar was vir gewone mense. Snyman (2007:179) herinner ons daaraan dat die Christendom voor die Bybel ontstaan het. Toe Jesus met sy openbare optrede begin het, toe die apostels na Pinkster begin het om te getuig dat Jesus die Christus is, was die Jode se Bybel nog nie eers afgesluit nie. Net so wys Paulus reeds die lesers van sy Galasiërsbrief daarop dat God se verbond met Abraham die wet van Moses voorafgaan.

Geloof gaan die Bybelse teks vooraf. Ons geloof kan dus nie van 'n teks afhanklik wees nie; inteendeel, die teks is die uitvloeisel van gelowiges se belydenis dat God in hulle lewens ingetree het. Hierdie basiese vertrekpunt is van groot belang vir die status en gesag van die Bybelse teks in die geloofsgemeenskap. Dit dien onder meer as waarskuwing om nie die draagwydte van 'n teks te oorspan nie.

Daarmee saam moet enige interpretasie van die Bybelse teks vandag deeglik erns maak met die faktore wat tot die ontstaan en oorlewering van Bybelse tradisies en tekste aanleiding gegee het. Nürnberger (2009) benadruk deurgaans dat die Woord van God ontstaan het as God se reddende antwoord op menslike nood:

Die boodskap word ook altyd in terme van die wêreldbeeld van 'n besondere tyd verwoord. God het in sy genade die menslike geskiedenis binnegetree, die mense opgesoek waar Hy hulle kry - in hulle beperkte insig, hulle sondige aard en hulle moeilike omstandighede - en hulle 'n entjie verder gelei in die rigting van sy visie van omvattende welsyn of heil.

(Nürnberger 2009:248)

Juis dít verklaar waarom ou tradisies in die Bybel telkemale by veranderde omstandighede aangepas is om rekening te hou met veranderende wêreldbeskouings en konkrete probleme. Nürnberger (2009) bespreek verskeie voorbeelde hiervan, waaronder die Bybelse sienings oor 'n messiaanse koning, oor priesterskap en offerandes, en oor die verhouding tussen man en vrou. Snyman (2007) verwys na die uiteenlopende perspektiewe wat Samuel of Konings en Kronieke op die koningsgeskiedenisse van Israel en Juda bied.

'n Teks kan dus nie los van die omstandighede wat tot sy ontstaan, oorlewering en wysiging aanleiding gegee het, gelees word nie.

'n Mens kan die Bybel slegs reg lees as jy insien dat God se Woord die mens se geskiedenis ingegaan het, dat dit dus self 'n menslike geskiedenis het. Tradisies het iewers in besondere omstandighede ontstaan en dan deur die geskiedenis voortbeweeg. Oorgelewerde verhale oor God se reddingsaksies is telkens weer op nuwe omstandighede toegepas en daardeur aangepas en verander.

(Nürnberger 2009:84)

Ook die skriftelike oorlewering van Bybelse tekste spreek teen 'n benadering wat die skriftelike teks van die Bybel wil verabsoluteer. Snyman (2007:169-171) wys daarop dat die ontdekking van Bybelmanuskripte by die Dooie See die idee van 'n enkele oerteks van die Bybel die nekslag toegedien het, en gewys het dat verskillende weergawes van dieselfde Bybelmanuskripte naas mekaar bestaan het. Uit die vergelyking van verskillende manuskripte en vertalings blyk dat die tekste telkens binne 'n bepaalde geloofsgemeenskap neergeskryf is op 'n manier wat binne daardie konteks sin gemaak het. Die verhaal, en die tradisie in verskillende vorme, was dus belangriker as die presiese teks van 'n Bybelboek.

Interpretasie van die Bybel vanuit 'n dwangbuis van kerklike belydenisse

Natuurlik is kerklike belydenisse belangrike dokumente waarmee die kerk teenoor die wêreld kon getuig van haar geloof. Die ekumeniese belydenisse en die Reformatoriese belydenisskrifte is terselfdertyd die neerslag van belangrike teologiese beslissings wat die kerk op sleuteloomblikke in haar bestaan gemaak het.

Die kerklike belydenisse is egter ook, soos die Bybel, historiese dokumente wat die produk was van 'n spesifieke konteks. Die Reformatoriese belydenisskrifte is sestiendeeeuse dokumente wat noodwendig gelees moet word teen die agtergrond van die stryd met die Rooms-Katolieke Kerk (NGB en Heidelbergse Kategismus) en die Remonstrante (Dordt). Die belydenisskrifte maak verder gebruik van uitlegmetodes van hulle tyd wat kan verskil van dié van ons tyd, terwyl die kerklike debat in ons tyd nuwe vrae stel wat nie in die belydenisskrifte aangeroer word nie (vgl. Malan 2008:38-39). Volgens Snyman (2007):

Soos die Bybelskrywers nie alles kon ken of weet nie, so het die reformatore in hulle belydenisskrifte ook nie al die wysheid in pag gehad nie. Hulle was ook kinders van hulle tyd.

(Snyman 2007:172)

Net soos die Bybel 'n historiese dokument is, is die belydenisse dit ook. Net soos die Bybel nie gelees kan word sonder om die voorgeskiedenis, ontstaansgeskiedenis en nawerkingsgeskiedenis (Wirkungsgeschichte) van die teks in ag te neem nie, net so kan die kerk se belydenisse ook nie gelees word sonder om hulle eie voorgeskiedenis, ontstaansgeskiedenis en nawerking in ag te neem nie. Terwyl die belydenisskrifte dus vir die kerk 'n belangrike rigsnoer vir die interpretasie van die Bybel behoort te wees, kan dit nooit 'n dwangbuis word nie. Die belydenisskrifte kan nooit a-histories en bloot op die klank af gelees en geïnterpreteer word nie, en nog minder op so 'n manier aangewend word dat dit 'n sestiende-eeuse interpretasie van die Bybel vir tyd en ewigheid probeer kanoniseer.

Interpretasies wat die hedendaagse wêreldbeeld negeer

Ons wêreldbeeld verskil hemelsbreed van dié van die Bybel. Sedert Galileo en Copernicus weet ons dat ons aarde deel is van 'n sonnestelsel wat om die son draai. Ons weet dat daar sekere vaste natuurwette is wat ons werklikheid bepaal. Ons interpreteer gebeure in terme van oorsaak en gevolg, en nie as bo-natuurlike invloede wat op ons wêreld inwerk nie. Ons benader siektes en geestestoestande heeltemal anders as mense in Bybelse tye (vgl. Malan 2008:36-39). Ons diagnoseer en behandel siektes en geestestoestande heeltemal anders as mense in daardie tye, en ons interpreteer dit nie meer as die gevolg van sonde, of as straf of vervloeking nie.

Indien gelowiges dus vandag nog wil vasklou aan 'n voor-wetenskaplike wêreldbeeld van die Bybel, lei dit tot onhoudbare konfrontasies met ons hedendaagse wêreldbeeld. Dan word 'n Bybelse skeppingsverhaal (gewoonlik slegs Genesis 1) teenoor die evolusieteorie gestel as verklaring vir die ontstaan van die wêreld. Dan word die verkeerde vrae aan Bybelse tekste gestel - vrae wat geen geldige antwoord kan hê nie omdat dit nie die herkoms of aard van die teks in ag neem nie. Nürnberger (2009:90-94) wys op 'n aantal sulke vrae wat dikwels gestel word wanneer die verskillende wêreldbeelde verontagsaam word: Hoe kon Jona drie dae in die buik van die vis oorleef? Hoe kon Noag al die diere in die ark huisves, en vir almal kosgee sonder dat die roofdiere die ander opvreet? Waar het Kain 'n vrou gekry? Wanneer gaan die gebeure waarvan 'n mens in Openbaring lees, plaasvind?

Sulke vrae bemoeilik gelowigwees vir baie mense, en weerhou gelowiges daarvan om die boodskap van God se skeppingsmag en reddingsdade met oortuiging uit te dra. Maar meer nog: dit maak ons geloof in die God wat die ganse werklikheid geskep het en steeds onderhou, ongeloofwaardig. By die interpretasie van die Bybel moet die onderskeid tussen die uiteenlopende taalvorms en wêreldbeskouings van die antieke tekste en van ons wêreld dus deeglik verreken word.

Rasionalistiese grensoorskrydings

Aan die ander kant lei rasionalistiese grensoorskrydings eweneens tot onhoudbare interpretasies. Smit (2006:146) kritiseer daarom vooronderstellings wat werk met 'n geslote wêreldbeeld waarin Goddelike handelinge (bv. die opstanding) by voorbaat as prinsipieel onmoontlik verklaar word en dan direk daarna juis om hierdie rede as histories onmoontlik verklaar word. Hy verwerp tereg ook enige historistiese voorkeur vir wat 'werklik gebeur' het omdat dit die verdere verloop van sake en die interpretasie van die gebeure by verstek as irrelevant, sekondêr of van minder belang ag.

Net so wys Nürnberger (2009:281-285) daarop dat die wetenskappe nie uitsprake kan maak oor die Oorsprong en Doel van alle dinge nie, omdat hulle beweegruimte beperk word tot wat hulle kan waarneem en wat hulle van waarneming kan aflei. Die tegnologiese maatstaf van doeltreffendheid is eweneens onvanpas vir die Bybel, aangesien die verskeidenheid in die Bybel juis nie 'n leemte is nie, maar eerder verklaar hoe die Bybel oor die eeue heen vir mense relevant gebly het.

Beperking van interpretasie tot die wêreld van die teks

'n Interpretasie van die Bybel wat nie die nood van die hedendaagse wêreld aanspreek nie, is irrelevant. Snyman (2007) verduidelik hoe dit die tersaaklikheid van die Bybelse verhale vir latere gemeenskappe inperk en wesenlik in die gedrang bring:

Al wat van belang is, is die storiewêreld en hoe dit direk op die leser van toepassing is. Die storiewêreld en die historiese wêreld vloei ineen. Daar word nie na betekenis buite die teks gesoek nie. Die teks word op gesigswaarde aanvaar. Die taal van die teks en die gebruike en norme wat in die teks voorkom, word die taal, gebruike en norme van die leser. Die Bybel is die enigste legitieme en gesaghebbende basis vir enige gesprek oor geloof en godsdiens.

(Snyman 2007:181)

Nürnberger (2009) formuleer dit selfs skerper:

Ons moet die getuienis oor God se mag en sy liefde juis toepas op die huidig ervaarbare werklikheid en die vertolking daarvan. Doen ons dit nie, lyk dit vir die moderne mens of ons getuienis na kindersprokies of 'n skynwerklikheid verwys wat net in ons kop bestaan.

(Nürnberger 2009:282)

'n Interpretasie van die Bybel wat nie die hermeneutiese sprong na die hede maak nie, verskraal boonop die Bybelse boodskap. Volgens Nürnberger het Christene dikwels 'n heel beperkte idee van verlossing wat slegs oor ons geestelike lewe en ons toekoms in die hiernamaals gaan. Hoewel versoening met God grondliggend is, getuig die Bybel juis daarvan dat God se redding nie beperk is tot vergifnis van sonde en vryspraak in die laaste oordeel nie. Nee, die Bybel beskryf male sonder tal hoe God op die konkrete noodkrete van sy mense hier op aarde reageer en uitkoms bring.

Vir Nürnberger (2009:84) is die sentrale boodskap van die Bybel die boodskap van 'God se skeppende en reddende liefde wat op God se visie van omvattende welsyn gerig is'. God se liefde en redding maak mense vry van die wêreld en verantwoordelik vir die wêreld. So word gelowiges betrek by God se wêreldwye skeppende en verlossende projek (vgl. Nürnberger 2009:289-290).

Onsensitiwiteit vir die effek van Bybelinterpretasie op ander mense

Smit (2006:195-196) wys op die noue band wat veral in die Reformatoriese en spesifiek Calvinistiese teologie gelê word tussen die gesaghebbende Woord en die alledaagse Christelike lewe, moraal en etiek. Prominente temas in

Calvyn se Institusie is byvoorbeeld die tema dat ons nie aan onsself behoort nie, selfverloëning, die belang van navolging van Christus, die beeld van God wat in mense herstel moet word, en die gedagtes van die afsterf van die ou mens en die opstaan van die nuwe mens.

Hoewel hy erken dat juis die toepassing van hierdie Bybelse beginsels op die lewe van die kerk en gelowiges groot gevaar inhou om die kerk te verdeel en te verskeur, is dit wesenlik deel van die gereformeerde tradisie dat die evangelieboodskap in gelowiges, gemeentes, die kerk - en selfs in die openbare lewe - beliggaam moet word (Smit 2006:215-218).

Snyman wys uit hoe die interpretasie van die Bybel dikwels 'n wapen geword het wat mense seergemaak het, omdat daar eenvoudig nie genoeg sensitiwiteit was vir die impak wat die interpretasie van die Bybel op ander mense het nie. Uitgaande van die siening dat die Bybel die objektiewe openbaring van God is en dat die subjektiewe posisie van die leser nie verreken (mag) word nie, was dit moontlik om geweld teen ander mense met Bybeltekste te legitimeer, om apartheid teologies te regverdig, om vroue uit kerklike ampte te hou, en homoseksuele persone as randfigure uit die kerk te stoot (Snyman 2007:67-81). Daarom bepleit hy 'n etiek van lees wat ''n balans skep en handhaaf tussen die teks, die lesers en diegene wat deur die lees beïnvloed gaan word' (Snyman 2007:127).

Die Bybel kan dus nie langer gelees word sonder om die Wirkungsgeschichte, die effek van die interpretasie, te verreken nie. Geen teksuitleg en geen teologiese konstruk wat God se heilsbedoeling met mense weerspreek, kan gehandhaaf word nie. Snyman wys op die gevare van onsensitiewe interpretasies van tekste soos Psalm 137:9 en die boeke Esra en Ester. En Nürnberger (2009) gaan selfs verder:

Kan ons as toegewyde gelowiges waag om standpunt in te neem teen 'n houding wat ons baie uitdruklik en herhaaldelik in die Bybel kry? Ja, ons kan en ons moet! As verantwoordelike 'seuns en dogters' van God moet ons juis nie verouderde wette aanvaar en toepas nie, maar God se liefde volg en ons verstand gebruik. Só gee ons uitdrukking aan God se skeppende gesag en sy reddende liefde in veranderde situasies.

(Nürnberger 2009:255)

 

Belangrike aspekte van verantwoordelike Bybelinterpretasie

Die histories-kritiese benadering tot die uitleg van die Bybel het tot na die middel van die twintigste eeu sterk gefokus op die geskiedenis van die teks, die outeur, redakteurs en hulle onderskeie gemeenskappe (die sg. diakroniese benadering). Daarna het die fokus eers op die teks self geval (strukturalistiese of sinkroniese benaderings), totdat dit duidelik geword het watter bydrae die lesers maak tot die interpretasie van die teks (lesersgeörienteerde benaderings).

Al vier die bespreekte boeke wy heelwat aandag aan die beginsels onderliggend aan verantwoordelike verstaan van die Bybel. Daar heers konsensus oor die belangrikheid van al drie aspekte: die historiese en sosio-kulturele konteks van die Bybel, die teks self, en die rol van die lesers.

Smit illustreer die omvattende vraagstelling wat aan die orde kom by die interpretasie aan die hand van 'n hipotetiese voorbeeld van 'n stukkie koerantberig wat iewers opgetel word. Hy verduidelik dat die lesers van enige teks eerstens grammatiese vrae vra wat verband hou met die taal en die betekenis van uitdrukkings.

Daarmee saam vra hulle historiese vrae om te verstaan waaroor dit gaan: lesers probeer bepaal waar die stukkie papier vandaan kom, en wat die bedoelings van die skrywer, die oorspronklike spreker en getuies van die gebeure, en die redakteurs van die teks sou wees. Waar inligting oor die betrokkene individue dalk nie beskikbaar is nie, word ondersoeke wat meer inligting kan gee oor die tipe spreker, gehoor, skrywer of gemeenskap belangrik. Uiteindelik sou dit vir die lesers ook baie belangrik wees om literêre vrae te vra en te verstaan watter soort literatuur (genre) dit is (bv. koerant, nuusberig, strokiesprent, of advertensie).

Dan word dit ook belangrik om te verstaan watter plek hierdie teks moontlik in die gemeenskap of tradisie inneem, en ook watter waarde bepaalde groepe in ons eie situasie aan die teks heg (die gemeenskap van uitleggers). In hierdie proses begin lesers ook kritiese vrae vra na die waardes en belange wat die teks dien, en die waardes en belange van diegene wat die teks oorgelewer en vertolk het ('n hermeneutiek van suspisie of ideologiese lees).

Dit is veral Snyman (2007) wat daarop aandring dat die subjektiewe rol van die leser eksplisiet op die tafel geplaas moet word. Hy ontken dat 'n Bybelleser 'n Bybelse teks neutraal kan benader of sy of haar posisie uitsluitlik vanuit die Bybel kan laat bepaal:

... vóór die teks enigsins gebruik kan word, is daar reeds 'n perspektief waarmee die teks benader word. Dit is daardie perspektief wat op die tafel gesit moet word en deel van die gesprek moet wees. Dit is iets wat nie in die Bybel is nie, maar 'n norm wat buite geld, ingelees word en dan uitgehaal word asof dit in die Bybel staan.

(Snyman 2007:52)

Daarom streef hy na:

'n Bybellees wat subjektiwiteit ernstig neem: die subjektiwiteit aan die kant van die huidige lesers, die subjektiwiteit wat in die skrywers gesetel het en die subjektiwiteit wat by die eerste lesers teenwoordig was.

(Snyman 2007:53)

Deur die subjektiwiteit van die leser op die tafel te plaas, wil Snyman aan die leser 'n betekenisvolle rol in die leesproses gee. Nou kry die leser die verantwoordelikheid om reg aan die teks te laat geskied, en ook verantwoordelikheid teenoor diegene wat moontlik die merke van 'n bepaalde Bybellees sou moes dra.

Hy lewer nie daarmee die teks uit aan die willekeur of ideologie van die leser nie. Inteendeel, hy waarsku juis:

'Wanneer daar nie 'n sensitiwiteit bestaan vir die verskil in kontekste tussen 'n Bybelteks en 'n leser nie, word God en ideologie een' (Snyman 2007:183). Deur dus aan te dring dat die leser se gesitueerdheid eksplisiet deel word van die interpretasie van die teks, wil hy verseker dat die verstaan van die Bybel binne 'n verantwoorde raamwerk geskied.

So kan die leser selfkritiek toepas en terselfdertyd sy of haar interpretasie vir evaluering deur die interpreterende gemeenskap oopstel. En die plek van die interpreterende gemeenskap is uiters belangrik as 'n toetssteen vir die individuele interpretasie. Soos Smit (2006) veelseggend waarsku:

Sodra sommige hulle eie kontekstuele interpretasies van die evangelie sou verhef tot die enigste, tot die korrekte, tot die ware en normatiewe siening van die evangelie, kom die katolisiteit onvermydelik in gedrang.

(Smit 2006:108)

Hieruit blyk die nuwe fokus in aktuele Bybelinterpretasie: 'n groeiende sensitiwiteit vir die gesitueerdheid van die leser, en 'n nuwe waardering vir die rol van die interpreterende gemeenskap. Verantwoordelike Bybelinterpretasie moet vandag die belange van die individuele leser op die tafel plaas om die skyn van tydlose objektiewe interpretasie te ontmasker. Daarmee saam moet die individuele leser sy of haar interpretasie onderwerp aan die kritiese evaluering van die interpreterende gemeenskap. Geen enkele leser of interpretasie kan meer daarop aanspraak maak om die laaste woord oor die interpretasie van die Bybelse teks te spreek nie.

 

Die interpretasie van die Bybel in die NHKA

Bybelinterpretasie is 'n sentrale aktiwiteit in enige kerk. In elke kerk word die Bybel deur individue gelees, deur kerkleiers uitgelê en toegepas, en deur kerkvergaderings gesaghebbend geïnterpreteer. So vorm elke kerkgenootskap 'n interpreterende gemeenskap. En terwyl hierdie interpreterende gemeenskap telkens in sekere opsigte uniek is, is die interpreterende gemeenskap van 'n spesifieke kerkgenootskap natuurlik self net een so 'n gemeenskap te midde van verskeie interpreterende gemeenskappe waarbinne die Bybel gelees, geïnterpreteer en toegepas word.

Die NHKA is ook so 'n interpreterende gemeenskap - 'n gemeenskap waarbinne duisende lidmate die Bybel daagliks lees, waarbinne veral predikante en teoloë die Bybel uitlê en toepas, en waar die Algemene Kerkvergadering kragtens die kerkorde besluite neem oor die leer en belydenis van die Kerk, en dus so die Bybel gesaghebbend interpreteer (NHKA 2010b:53).

Dit is interessant dat 'n besluit oor 'n vorige politieke bedeling tydens die NHKA se 69ste AKV in September/ Oktober 2010 tot 'n hewige debat oor Bybelinterpretasie in die Kerk aanleiding gegee het, en dit bevestig Smit (2006:21) se stelling dat skuiwe in kultuur dikwels tot konflik oor die interpretasie van die Bybel lei.

Die besluit oor Beskrywingspunt 54 maak:

onomwonde die uitspraak dat apartheid nie teologies geregverdig kan word nie.

Die Kerk verwerp sy goedkeuring van apartheid omdat dit:

  • in stryd is met die evangelie van Jesus Christus
  • gebaseer is op die idee van onderlinge onversoenlikheid
  • onreg sanksioneer
  • die beeld van God in mense aantas

Die vergadering beklemtoon die Bybels-teologiese aard van hierdie verklaring.

(NHKA 2010a:108-109)

Hierdie besluit gee aanleiding tot 'n beswaarskrif wat gedurende November 2010 by die Kommissie van die AKV ingedien is, en waarin die interpretasie van die Bybel en die belydenisskrifte op die spits gedryf word. Die beswaarskrif gaan van die staanspoor van die aanname uit dat dit in hierdie besluit oor 'n kerklike leerbeslissing gaan (NHKA 2011:11). Met verwysing na Romeine 10:9 stel die beswaarskrif dat die evangelie van Jesus Christus te doen het met die sondaarmens se verlossing van sonde en dood, en dat die AKV se besluit getuig van 'n 'oormatige klem op die horisontale' en 'n 'oppervlakkige bevrydingsteologie' (NHKA 2011:15). Die beswaarskrif kritiseer veral die laaste motivering van die besluit deur aan te voer dat die Bybel (Gen 1:26-27 en Gen 9:6) nie van die beeld van God in mense praat nie, maar slegs sê dat die mens na die beeld van God geskep is:

Besluit 54 verstaan die beeld van God as iets wat in mense is wat aantasbaar is deur 'n politieke beleid (apartheid). Dit is iets anders as wat die Heilige Skrif en die Belydenisse verstaan.

(NHKA 2011:17)

Hierbenewens noem die beswaarskrif Skrifbeskouing en teologie uitdruklik as sake wat die outeurs daarvan tot kommer stem en wat ernstige aandag in die Kerk verdien (NHKA 2011:19).

Op sy beurt het die beswaarskrif weer aanleiding gegee tot 'n hele aantal memoranda deur teoloë van die NHKA waarin juis die Bybeluitleg van die beswaarskrif grondig gekritiseer word (kyk veral Loader 2011; Van Staden 2011; Van Wyk 2011). Die debat binne die NHKA is dus 'n baie goeie voorbeeld van die manier waarop veranderende waardestelsels in die gemeenskap (met die oorgang van een politieke bedeling na 'n volgende) opnuut etiese vrae aan die kerk stel, en hoe dit binne die kerk tot konflik oor die beginsels van Bybelinterpretasie aanleiding gee.

Om tot 'n mate koers te gee aan die voortgaande debat binne die NHKA kan die beginsels wat uit die voorafgaande bespreking van resente Afrikaanse boeke oor Bybelinterpretasie na vore getree het, nou op 'n aantal aspekte van die gesprek betrek word.

Eerstens moet daar in hierdie debat oor Bybelinterpretasie gewaak word teen die afwesigheid van 'n historiese bewussyn. Strydig met die teologiese tradisie van die NHKA is daar vele aanduidings in die beswaarskrif dat sowel die Bybel as die belydenisskrifte gelees word sonder inagneming van hulle wordingsgeskiedenis, die gestalte wat hierdie tekste binne baie spesifieke omstandighede aangeneem het, en die nawerking van die tekste binne die Bybel self, in die belydenisskrifte en in die teologiese tradisie. Dit lei tot sinnelose stellings wat met kategoriese stelligheid en skynbaar tydlose geldigheid gemaak word, soos Buitendag (2011:182) byvoorbeeld uitwys met betrekking tot die vraag of die mens met die sondeval totaal of net gedeeltelik verdorwe geword het.

Aansluitend hierby moet gewaarsku word teen die interpretasie van die Bybel vanuit 'n dwangbuis van kerklike belydenisse. Dit is presies wat gebeur as aanhalings uit die belydenisskrifte sonder inagneming van hierdie tekste se eie ontstaansgeskiedenis of konteks gebruik word om die interpretasie van Bybelse tekste by voorbaat in te perk. Die gevaar is groot dat die belydenisskrifte (self ook tekste) dan as wapen gebruik word om mense seer te maak eerder as instrument om die Bybelse teks en dié se nawerking beter te verstaan (vgl. Snyman 2007:78-79 vir 'n verduideliking van die begrippe).

Die gesprek oor Bybelinterpretasie het uitgewys dat die rol van die leser nie meer geïgnoreer kan word nie. Eers as die leser bewus is van sy eie subjektiwiteit, kan hy laat reg geskied aan die teks (objek) wat voor hom lê (Smit 2006:133). Eers as die subjektiwiteit en sosiale ligging van die leser eerlik op die tafel geplaas word, kan daar na behore tussen God en ideologie (en dus groepsbelange) onderskei word (vgl. Snyman 2007:53-58). In die huidige debat binne die NHKA oor Besluit 54 van die 69ste AKV gebeur dit nog nie. Daarom word skynbaar objektiewe teologiese proposisies gebruik om die ideologiese belange van groepe te probeer regverdig. So verwyt die beswaarskrif die Kerk dat die besluit gebaseer is op 'die ideologie van ekumenisme' terwyl dit self desperaat poog om die skyn voor te hou dat dit in die beswaar oor 'n leerverandering in die Kerk gaan (en dus oor 'n nuwe manier waarop die Bybel en belydenisskrifte geïnterpreteer word), en nie oor die ideologie of beleid van apartheid nie (NHKA 2011:11-20).

Die aandrang dat die effek van die interpretasie op ander mense deeglik verdiskonteer moet word, hang direk hiermee saam. Dit is dalk ironies dat die fokus van Bybelinterpretasie nou eers skerp op hierdie saak val terwyl dit in wese is wat Jesus reeds volgens Markus 7:1-11 vra. Van Aarde (2011:168, 172) benadruk daarom tereg dat enige beleid of handeling wat aan andere onreg doen, nie aan die eis van die evangelie van Jesus Christus om aan mense liefde te betoon en met hulle gemeenskap te beoefen, voldoen nie. Besluit 54 van die 69ste AKV - in teenstelling tot vorige besluite en amptelike dokumente van die Kerk - maak wel erns met die effek wat kerklike uitsprake op mense het.

Die laaste belangrike aspek van aktuele Bybelinterpretasie wat ook vir die gesprek in die NHKA van wesenlike belang is, is die rol van die gemeenskap van interpreteerders. Die kerk, as 'n gemeenskap van interpreteerders, is by uitstek die ruimte waarbinne gelowiges met mekaar oor die interpretasie van die Bybel moet praat. Dit geld vir elke kerkgenootskap op sigself (en dus vir die NHKA ook), maar ook vir die kerk in die wydste sin van die woord.

Wanneer 'n individu of 'n klein groepie die Bybel in isolasie interpreteer, is die risiko groot dat die rol en sosiale ligging van die individu of groepie die interpretasie by voorbaat mag verwring. Dieselfde geld vir 'n kerkgenootskap. Die NHKA se teologiebeoefening het dalk juis te lank in isolasie plaasgevind sonder dat die stem van die res van die Christelike kerk (in die ekumene) toegelaat is om 'n kritiese korrektief aan te bied. Van Wyk (2011) rig in hierdie verband die volgende waarskuwing:

Bybeluitleg kan nooit beteken dat ideologiese posisies bloot bevestig en verdedig word in die waan dat daar oor alle waarheid beskik word nie. Die moontlikheid bestaan altyd dat ek/ons ook verkeerd kan wees. Bybeluitleg kan net as voortdurende dialoog bedryf word. Saam moet daar weer en weer na die Woord geluister word. Weer en weer moet ons eie standpunte aan die evangelie getoets word. Ons verstaan van ons eie tradisie(s) moet ook voortdurend aan die relevante oorlewerings (primêre bronne) getoets word.

(Van Wyk 2011:241)

 

Samevatting: 'n Pleidooi vir 'n gesamentlike soeke na geldige interpretasie

Die voorafgaande bespreking wys onteenseglik dat die interpretasie van aktuele vrae in die lig van die Bybel nie maklik is nie. Inteendeel. Soos Smit (2006) tereg stel:

Die Skrif spreek nie namens homself nie, maar word deur gelowiges en kerke gelees en uitgelê. In dié proses is dit belangrik om nie alte gou ander te verdink of daarvan te beskuldig dat hulle ongehoorsaam is aan die Bybel nie. Dis dalk eers as ons erken dat die ander óók die Bybel ernstig wil neem en wil gehoorsaam, maar die Bybelse boodskap dalk ánders hoor as ons, dat ons ook eerlik na mekáár kan begin luister, juis in die hoop om die Bybel self beter te hoor en te verstaan.

(Smit 2006:225)

Daarom durf die kerk nooit van hierdie moeilike taak wegskram nie. Ons moet die Bybel lees en wéér lees. Ons moet die Bybel oordink in al ons kerklike aktiwiteite, maar ook in ons alledaagse lewe. En ons moet dit sáám doen -as gelowiges wat in vele opsigte van mekaar verskil, maar saamgebind word deur ons gemeenskaplike band met dié God wat deur hierdie Bybel aan die woord kom. En dit moet ons juis doen in oomblikke van beslissing, want sulke oomblikke is by uitstek:

... oomblikke wanneer gevra word na die reëls van verantwoordelike uitleg van die Skrifte, na ware teologiese hermeneutiek, na die lees van die Bybel volgens die reël van die geloof, aldus die vroeë kerk, wat die reël van die liefde en die reël van die hoop op die drie-enige God insluit. Dis oomblikke wanneer die kerk sáám bid om die verligting en leiding van die Heilige Gees van die Vader en die Seun.

(Smit 2006:230)

 

Erkenning

Opgedra aan prof. dr T.F.J. Dreyer.

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Buitendag, J., 2011, 'Die beeld van God in die mens vanuit 'n sistematies-teologiese perspektief', in NHKA 2011, Agenda vir die buitengewone sitting van die Algemene Kerkvergadering, 04-05 Oktober 2011, Bylae F2, pp. 177-187, NHKA, Pretoria.         [ Links ]

Loader, J.A., 2011, 'Die beeld van God in die mens', in NHKA 2011, Agenda vir die buitengewone sitting van die Algemene Kerkvergadering, 04-05 Oktober 2011, Bylae F3, pp. 188-190, NHKA, Pretoria.         [ Links ]

Malan, G.J., 2008, Om die Bybel (beter) te verstaan, SENTIK (NHKA), Pretoria.         [ Links ]

NHKA 2010a, Besluitebundel van die 69ste Algemene Kerkvergadering, NHKA, Pretoria.         [ Links ]

NHKA 2010b, Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika: Gewysig volgens die besluite van die 69ste Algemene Kerkvergadering, NHKA, Pretoria.         [ Links ]

NHKA 2011, Agenda vir die buitengewone sitting van die Algemene Kerkvergadering van die NHKA, NHKA, Pretoria.         [ Links ]

Nürnberger, K., 2009, Die Bybel: Verantwoordelik lees is krities lees, Lux Verbi.BM, Wellington.         [ Links ]

Smit, D., 2006, Neem, lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan, Lux Verbi.BM, Wellington.         [ Links ]

Snyman, G.F., 2007, Om die Bybel anders te lees: 'n Etiek van Bybellees, Griffel, Pretoria.         [ Links ]

Van Aarde, A.G., 2011, 'Memorandum', in NHKA 2011, Agenda vir die buitengewone sitting van die Algemene Kerkvergadering, 04-05 Oktober 2011, Bylae F1, pp. 166-176, NHKA, Pretoria.         [ Links ]

Van Staden, P., 2011, 'Advies oor Beswaarskrif teen Besluit 54', in NHKA 2011, Agenda vir die buitengewone sitting van die Algemene Kerkvergadering, 04-05 Oktober 2011, Bylae F6, pp. 223-239, NHKA, Pretoria.         [ Links ]

Van Wyk, G.M.J., 2011, 'Imago Dei. Memorandum oor punt 5 van die beswaarskrif rakende die vraagstuk of apartheid die beeld van God in mense aantas al dan nie', in NHKA 2011, Agenda vir die buitengewone sitting van die Algemene Kerkvergadering, 04-05 Oktober 2011, Bylae F7, pp. 140-251, NHKA, Pretoria.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Wouter van Wyk
SENTIK, Netherdutch Reformed Church of Africa,
PO Box 2368,
Pretoria 0001, South Africa
Email: wouter@nhk.co.za

Received: 05 Aug. 2011
Accepted: 03 Sept. 2011
Published: 04 Nov. 2011

 

 

© 2011. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License