SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.67 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.67 n.3 Pretoria Jan. 2011

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Histories-vergelykende ekklesiologie - Oppad na 'n omvattende Praktiese Ekklesiologie

 

Historical-comparative ecclesiology - Towards a comprehensive Practical Ecclesiology

 

 

Wim A. Dreyer

Reformed Theological College, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

Practical Ecclesiology is a theological discipline, which opens up the possibility of a multi-disciplinary approach to ecclesiology. One aspect of such a multi-disciplinary Practical Ecclesiology is a historical-comparative approach. In this contribution an historical-comparative ecclesiology is developed under the headings of institutional, transformational and non-institutional ecclesiology. Practical Ecclesiology is normally practised from an empirical, strategic and hermeneutical perspective. This article argues that a historical perspective is essential to Practical Ecclesiology as it deepens our understanding of how the church evolved, transformed and adapted over centuries. This opens up important points of discussion in context of the 21st century.


 

 

Inleidende opmerkings

Probleemstelling

In hierdie artikel word van die standpunt uitgegaan dat 'n histories-vergelykende ekklesiologie nie net in teologiese dissiplines soos Kerkgeskiedenis en Sistematiese Teologie tuishoort nie, maar ook as onderafdeling van Praktiese Ekklesiologie behoort te funksioneer.

Histories-vergelykende ekklesiologie word selde in verband gebring met Praktiese Ekklesiologie. Normaalweg word Praktiese Ekklesiologie vanuit 'n empiriese, strategiese en hermeneutiese perspektief benader (vergelyk in hierdie verband Heitink 2007:25). In só 'n benadering word erns gemaak met insigte vanuit Praktiese Teologie, Eksegese, Sistematiese Teologie, Missiologie en ander teologiese dissiplines.

Na my mening kan Praktiese Ekklesiologie verryk en versterk word wanneer 'n historiese perspektief by die empiriese, hermeneutiese en strategiese perspektiewe gevoeg word. In só 'n benadering word erns gemaak met insigte vanuit Kerkgeskiedenis, Kerkreg en Dogmengeskiedenis. Dit is van besondere belang vir Praktiese Ekklesiologie om kennis te neem van die wyse waarop kerkbegrip en kerkwees in die geskiedenis - en in verskillende kerklike tradisies - konkreet gestalte gevind het.

Hierdie bydrae moet dus verstaan word as 'n eksperiment in histories-vergelykende ekklesiologie, met die doel om voorlopige kontoere te trek waarvolgens dit as onderafdeling van Praktiese Ekklesiologie kan funksioneer.

Terminologie

Ter wille van duidelikheid in argumentasie moet die begrippe ekklesiologie, kerkbegrip en kerkwees by voorbaat omskryf word:

  • Ekklesiologie is 'n teologiese dissipline binne die breë raamwerk van teologie as wetenskap. Ekklesiologie is teologies-kritiese nadenke oor die wese en roeping van die kerk binne 'n bepaalde konteks en historiese omstandighede. Dit kan vanuit verskillende perspektiewe benader word, waarvan 'n histories-vergelykende ekklesiologie een is.
  • Kerkbegrip verwys na 'n geformuleerde leerstuk oor die wese van die kerk, soos dit in 'n bepaalde geloofsgemeenskap (gewoonlik in belydenisskrifte en kerkordes) verwoord word. Dit dui verder op 'n bepaalde selfverstaan en identiteit van 'n bepaalde geloofsgemeenskap.
  • Kerkwees verwys na die konkrete gestalte wat die kerk as geloofsgemeenskap binne 'n bepaalde historiese konteks aanneem en hoe die kerk in die praktyk die evangelie van Jesus Christus uitdra. Kerkwees verwys na 'n geloofsgemeenskap se lewe, coram Deo.

Daar word van die standpunt uitgegaan dat insigte vanuit die ekklesiologie bepalend inwerk op kerkbegrip. Kerkbegrip is weer bepalend vir kerkwees. Ekklesiologie, kerkbegrip en kerkwees funksioneer interaktief en interafhanklik.

Die noodsaak van 'n omvattende en multi-dissiplinêre ekklesiologie

Kerkwees in die 21ste eeu staan in die teken van krisis en verleentheid. Heitink (2007) formuleer dit soos volg:

Het gaat niet goed met de kerk. Als in onze tijd niet een ingrijpende heroriëntatie plaatsvindt, is het met de kerk als instituut in ons land menslijkerwijs gesproken binnen enkele generaties voorbij.

(Heitink 2007:Voorwoord)

En verder:

Ook zelf beoordeel ik de huidige toestand van die kerk als ernstig. Het gaat hier om wellicht de zwaarste crisis in de geschiedenis van die kerk in West-Europa sinds sy ontstaan.

(Heitink 2007:21)

Ook McGrath (2001) meen dat ekklesiologie die kerk help in die die proses van aanpassing en hervorming:

The area of Christian theology which deals with the doctrine of the church is usually referred to as 'ecclesiology' (Greek: 'ecclesia', 'church'), and is of major importance to anyone proposing to engage in pastoral ministry of any kind. Ecclesiological questions break into ministry at point after point. What sort of body is the church? Ecclesiology is that area of theology which seeks to give theoretical justification to an institution which has undergone development and change down the centuries, set against an altering social and political context. To study Christian understanding of the church is to gain insights into the way in which institutions adapt in order to survive.

(McGrath 2001:476)

Sonder om die saak hier verder te beredeneer, word van die standpunt uitgegaan dat dit dringend noodsaaklik geword het om op 'n meer omvattende, geïntegreerde, multidissiplinêre en ekumeniese wyse met ekklesiologie om te gaan, ten behoewe van die opleiding van teologiese studente wat midde in die kerklike krisis en verleentheid as predikante gaan dien. 'n Omvattende gesprek oor ekklesiologie is van belang vir die kerk in die algemeen. Hierin kan 'n teologiese dissipline soos Praktiese Ekklesiologie met al sy onderafdelings (waarvan histories-vergelykende ekklesiologie een is) 'n waardevolle bydrae lewer.

Histories-vergelykende ekklesiologie

Wanneer 'n mens met ekklesiologie besig raak, stuit jy by voorbaat teen die diversiteit in terminologie, benaderings, modelle en verskillende interpretasies van Skriftuurlike gegewens. Brueggemann (1991) benut die term 'modelle van kerkwees' om hierdie diversiteit aan te toon:

There is no one single or normative model of church life. It is dangerous and distorting for the church to opt for an absolutist model that it insists upon in every circumstance. Moreover, we are more prone to engage in such reductionism if we do not keep alive a conversation concerning competing and conflicting models. Or, to put it positively, models of the church must not be dictated by cultural reality, but they must be voiced and practiced in ways that take careful account of the particular time and circumstance into which God's people are called. Every model of the church must be critically contextual. Posing the question about models in this way at this time requires us to think about 'Christ and culture'; to think about the place where God has put us and what is an appropriate modelling for our time and circumstance.

(Brueggemann 1991:129)

Brueggemann beklemtoon dat een model van kerkwees nie bo 'n ander verabsoluteer mag word nie. Ekklesiologiese reduksionisme lei tot stagnasie, institusionalisme en die onvermoë om by nuwe omstandighede aan te pas. Dit is uiters gevaarlik vir die kerk, omdat dit tot verval en agteruitgang lei. Dit maak 'n 'voortdurende hervorming van die kerk' onmoontlik. Die gevolgtrekking is dat 'n sinvolle gesprek oor kerkwees in die 21ste eeu daarby baat wanneer verskillende modelle van kerkwees in hulle historiese konteks met mekaar vergelyk word.

Die diversiteit in terminologie en benaderings kan ook met ander voorbeelde aangedui word.

Koffeman (2009:50-51) gebruik die term 'gestaltes van kerkwees' (universele kerk, lokale kerk, partikuliere kerk en ordes). Hy sluit hierin by Dombois en Picht aan.

Dekker (2003:166-175) gebruik die term 'vorme van kerkwees'. Hy onderskei tussen territoriale, mentale, funksionele en kategoriale vorme van kerkwees.

Heitink (2007:161-167) onderskei op sy beurt tussen 'tipes van kerkwees'. Hy identifiseer die eerste kerktipe as 'n publieke kerk, wat as volkskerke of staatskerke funksioneer. Publieke kerke wil soveel as moontlik mense van 'n bepaalde samelewing omvat. In die kerktipe staan die ampsdraer, verkondiging en sakramente sentraal. As voorbeeld van hierdie kerktipe identifiseer hy die Nederlands Hervormde Kerk, waarby ons die naam van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika kan voeg. As tweede tipe identifiseer hy die vrye kerk, wat bestaan uit mense wat vrywillig daarby aansluit en as selfstandige kerkgenootskap of denominasie funksioneer. Derdens identifiseer hy 'n charismaties-mistieke kerktipe wat die klem plaas op bekering en wedergeboorte.

Newbigin (1953:24-25) identifiseer 'drie kerklike strominge'. Die eerste stroming word gekenmerk deur die suiwer verkondiging van die evangelie en bediening van sakramente (Protestantse kerke); die tweede stroming deur die sakramentele verstaan van die histories-sigbare kerk (Rooms-Katolieke Kerk); en die derde stroming deur die ervaring van die Heilige Gees (kerke in die Pinksterbeweging).

Hirsch onderskei tussen drie 'modelle van kerkwees', te wete 'apostolic', 'christendom' en 'emerging-missional' (vgl. Hirsch 2006:64).

Die Rooms-Katolieke teoloog, A. Dulles, tipeer histories-vergelykende ekklesiologie as 'n 'systematic reflection on the points of similarity and difference in the ecclesiologies of different denominations' (Dulles 1974:7). Hy vergelyk verskillende modelle van kerkwees, gegrond op die amptelike dokumente van kerke asook geskrifte van teoloë vanuit bepaalde kerke.

Kärkkäinen (2002) volg in sy Introduction to Ecclesiology die werkswyse om sewe kerklike tradisies aan die orde te stel (Ortodoks, Rooms-Katoliek, Luthers, Gereformeerd, Pinkster en Vrye Kerk tradisies, met die Ekumeniese Beweging as sewende identifiseerbare tradisie). Hy vervolg deur sewe teoloë, wat as verteenwoordigend van die tradisies beskou kan word, te bespreek. Hy noem sy werkswyse 'a comparative ecclesiology'. Kärkkäinen (2002:15) wys verder daarop dat die werkswyse veral in die ekumeniese wêreld gewild geword het en 'it is a natural way to begin a survey of ecclesiologies (and) to introduce major theological and confessional traditions that have emerged during church history'.

In 'n poging om tot groter insig en begrip te kom, word in hierdie bydrae verkies om 'n ander metode te volg. Verskillende kerklike tradisies word ondersoek aan die hand van 'n dominante denksisteem. Die dominante denksisteem is te vind in die begrip 'institusionalisme' of 'institusionalisering van die kerk'. Verskillende kerklike tradisies word bespreek aan die hand van hulle benadering ten opsigte van die 'kerk as instituut'. Die ruimte ontbreek om die saak van institusionalisme as onderskeidende kriterium te motiveer. Dit is reeds voorheen volledig gemotiveer (vgl. Dreyer 2011:47-74).

Die begrip 'benadering' ontleen ek aan Beukes (2008:73) wat verwys na 'a Hervormd approach'. Die begrip 'benadering' dui op 'n oorkoepelende en dominante denksisteem (paradigma) wat bepalend inwerk op die makro-, meso-en mikrovlak van kerkwees en bedieningspraktyk. Dit is nie denominasioneel bepaald nie, maar manifesteer in verskillende kerklike tradisies en denominasies.

Die verskillende benaderings tot kerkwees word in 'n spesifieke volgorde geplaas. Die onderskeidende kriterium wat aangewend word om die volgorde te bepaal, is die waardering van die kerk as instituut. Daar kan, vanuit 'n histories-vergelykende perspektief, drie benaderings tot kerkwees onderskei word.

Institusionele benadering tot kerkwees

Ek plaas die eerste benadering tot kerkwees onder die opskrif institusioneel.

Die benadering heg groot waarde aan die uiterlike, institusionele vorm van die kerk. Dit word verder gekenmerk deur die instandhouding, bewaring en versterking van bestaande institusionele strukture asook die beskerming van ou, gevestigde rituele en praktyke. 'n Institusionele benadering heg ook baie waarde aan tradisie, geskiedenis en mag.

Dit is 'n benadering tot kerkwees wat regoor die wêreld groot invloed uitoefen, omdat meeste kerke die neiging openbaar om bestaande strukture te versterk en uit te bou (Niemandt 2007:37-38).

As eerste voorbeeld van 'n institusionele benadering tot kerkwees dien die standpunte wat tydens en na Vaticanum I (1869-1871) deur die Rooms-Katolieke Kerk geformuleer is.

Vaticanum I het op grond van enkele tekste in die Bybel (bv. 1 Kor 12; Ef 4; Matt 18) geoordeel dat Jesus nie net die stigter van die kerk is nie, maar dat Hy ook 'n hiërargie met 'n enkelvoudige regeerder (die pous) ingestel het. Daarvolgens is Jesus Christus ook die grondlegger van die kerklike reg en dissipline. Dit impliseer dat die kerk as instituut reeds by Christus begin het (Concilium Vaticanum 1870, sessio IV. Const. Dogm. I De Ecclesia Christi, Mirbt 606. Sien teks in Denzinger 1957:501-502). Vaticanum I het die RKK hiërargies en institusioneel begrond, veral ten opsigte van die onfeilbaarheid van die pous (Kärkkäinen 2002:26).

Hierdie gedagte is bevestig met die pouslike ensiklieke van 1897 (Divinum illud munus) en van 1943 (Mystici Corporis). Daarin het Pous Leo XIII verklaar dat Christus die Hoof en die Heilige Gees die Siel van die kerk is (Kärkkäinen 2002:27). Die ensikliek verabsoluteer die kerklike strukture deur te wys op die Goddelike oorsprong daarvan.

Hierdie opvatting is voortgesit in Mystici Corporis (vgl. teks in Denzinger 1957:679; Bakhuizen van den Brink 1979:30). Daarin verklaar Pous Pius XII dat die Rooms-Katolieke Kerk (as instituut) en die Kerk van Christus as histories identies beskou moet word. Talle teoloë het die oordrewe institusionalisme van die RKK, soos dit in die begin van die 20ste eeu na vore kom, gekritiseer (Congar 1997:154).

Met Vaticanum II het 'n belangrike verskuiwing in die RKK se verstaan van die kerk gekom (vgl. die volledige teks van Vaticanum II in Flannery 1980). Ten spyte van al die positiewe aspekte van Lumen Gentium, was Vaticanum II tog van oortuiging dat die kerk deur Christus se handelinge tot stand gekom het en dat die RKK die sigbare manifestasie daarvan is (Flannery 1980:353). Christus, as Hoof van die kerk, het sy magte aan die apostels en die biskoppe gedelegeer en hulle verantwoordelik gestel vir die kerk. In hoofstuk 3 (Flannery 1980:369e.v.) word die hiërargiese struktuur van die kerk beklemtoon en die onderskeid tussen die amp en die leek gehandhaaf, wat 'n tipiese institusionele benadering tot kerkwees verteenwoordig.

Hierdie institusionele benadering tot kerkwees is ook sigbaar in die Ortodokse Kerk. Dié kerk is nog altyd beskou as die beskermer en bewaarder van die oorspronklike en suiwer leer (orthos doxa), soos deur die apostels aan ons oorgelewer. Die kerk beskou haarself as 'ortodoks', tot so 'n mate dat dit die Ortodokse Kerk se naam en onderskeidende identiteit geword het. Die tradisie en leer van die kerk word as onveranderlik beskou (Latourette 1964:567).

Wat kerkbegrip betref, beroep die Ortodokse Kerk haarself op die vroeë kerkvaders (Kärkkäinen 2002:17). Die Ortodokse benadering tot die kerk en die teologiese nadenke kan die beste beskryf word met die woord paradosis - wat vertaal word met 'dit wat oorgelewer word'. Oorlewering vind plaas deur die Skrif, besluite van die konsilies, die kerkvaders en die liturgie. Die Ortodokse Kerk beskou haarself as die erfgenaam van 'n ryk tradisie wat onveranderd en suiwer na volgende geslagte deurgegee moet word (Frank 1990:98).

Die institusionele benadering tot kerkwees in Ortodokse kringe reflekteer in die opvatting dat die strukture en instellings van die kerk onder leiding van die Heilige Gees tot stand gekom het (en dus onveranderlik is). Deel hiervan is die hiërargiese struktuur en die opvatting dat die biskop deur God aangestel is en God verteenwoordig (Kärkkäinen 2002:22). Die instituut word ook verstaan as 'n teken van - en noodsaaklik vir - die eenheid van die kerk.

Die handhawing van bestaande strukture, tradisies en gebruike is ook kenmerkend van die Protestantisme. Talle reformatoriese kerke, veral dié wat histories gesproke as volkskerke, landskerke of staatskerke ontstaan het, het bepaalde tradisies en gebruike wat die afgelope vyf eeue onveranderd gebly het.

In die Suid-Afrikaanse konteks het Johan Buitendag, dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria en voormalige voorsitter van die Algemene Kerkvergadering (AKV) van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

(NHKA), tydens die opening van die 68ste AKV (2007) gewys op die spanning tussen die ongemaklike eis van ecclesia reformata, semper reformanda en die versugting van baie lidmate 'om te bly wat ons nog altyd was' (Buitendag 2008:125).

Theuns Dreyer, hoof van die Hervormde Teologiese Kollege, en ook voormalige voorsitter van die Algemene Kerkvergadering van die NHKA, kom op grond van empiriese navorsing tot die gevolgtrekking dat lidmate van die NHKA nie die kerk se identiteit, teologiese etos, spiritualiteit en liturgie wil verander nie omdat dit aan hulle 'n bepaalde geborgenheid en tuiste bied (Dreyer 2003:1060).

Hierdie institusionele benadering tot kerkwees is vir baie lidmate en ampsdraers van die NHKA die vanselfsprekende manier om enige kerklike krisis te hanteer.

Transformerende benadering tot kerkwees

Die tweede benadering tot kerkwees plaas ek onder die opskrif transformerend.

Waar 'n institusionele benadering tot kerkwees op die instandhouding en bewaring van bestaande strukture fokus, word in 'n transformerende benadering op die vernuwing van strukture gefokus met die oog op herstel, opbou of rekonstruksie van die kerk. In hierdie benadering tot kerkwees word die kerk as 'n gegewene aanvaar en gerespekteer, maar met die duidelike besef dat die kerk voortdurend moet transformeer.

Soos in die geval van 'n institusionele benadering tot kerkwees, is 'n transformerende benadering tot kerkwees regdeur die geskiedenis van die kerk onderskeibaar. Dit word kortliks aangestip.

Aan die einde van die derde eeu en begin van die vierde eeu tree die Christelike askese en monastieke ordes na vore. Dit was in reaksie op die verslapping van dissipline in die kerk. Aanvanklik het dit naas die erkende kerk gefunksioneer, maar later binne die kerklike strukture en het by tye 'n belangrike bydrae tot die voortgang van die kerk gelewer. Dit was hoofsaaklik lidmate wat daaraan deelgeneem het en nie die ampsdraers van die kerk nie. Dit het veral op die herstel van egte toewyding, geloof en gehoorsaamheid gefokus (Latourette 1964:221e.v.).

Gedurende die Middeleeue was daar dikwels hervormings-bewegings. Een van die bekende hervormingsbewegings was die hervorming wat in die 10de eeu in die kloosters te Cluny aan die gang gekom het. Teen die 12de eeu het meer as tweeduisend kloosters in die gebied gestreef na groter dissipline, vroomheid en diensbaarheid aan kerk en gemeenskap. Dit was ook die impuls vir die meer omvattende hervormingsbeweging in die Rooms-Katolieke Kerk wat in die 11de eeu onder leiding van pous Gregorius VII (afkomstig van Cluny) plaasgevind het (De Bruin 1965:58-59).

Die monastieke ordes het sedert die 14de eeu begin verval, wat weer tot verdere pogings tot transformasie gelei het en die vestiging van nuwe ordes. Teen 1414, met die Konsilie van Konstanz, was daar deur die hele Europa aandrang op hervorming van die Rooms-Katolieke Kerk wat op daardie stadium drie pouse gehad het. Die hervormingsbeweging het tot niks gekom nie, omdat die Konsilie erg verdeeld was (Latourette 1964:630).

Teen hierdie agtergrond moet die optrede en werk van vroeë kerkhervormers verstaan word, soos Johannes Hus wat tydens die Konsilie van Konstanz veroordeel is. Die aandrang op transformasie van die kerk is ook sigbaar in die denke van die Italiaanse en Engelse mistici, John Wycliffe, die Gebroeders des Gemeenen Levens, Wessel Gansvoort, Thomas à Kempis, die Boheemse Gebroeders, Girolamo Savonarola en vele ander. Die tydperk van 1350 tot 1500 word gekenmerk deur 'n konstante stryd tussen diegene wat die kerk wou transformeer en diegene wat die bestaande instituut en tradisies onverkort wou handhaaf (Latourette 1964:675). Hierdie vroeë pogings tot transformasie is gekenmerk deur die klem wat op die Skrif en prediking geplaas is, asook 'n toegewyde geloofslewe in navolging van Christus.

'n Klassieke voorbeeld van 'n transformerende benadering tot kerkwees is die Kerkhervorming in die 16de eeu. Luther, Zwingli en Calvyn se aanvanklike bedoeling was nie om 'n nuwe kerk te stig nie, maar eerder die bestaande kerk volgens Skriftuurlike beginsels te transformeer (Latourette 1964:701; Kärkkäinen 2002:50). Dit was eers nadat die Regensburg Colloquium (1541) misluk het, dat die reformatore besef het dat die breuk met Rome finaal was. 'n Transformerende benadering tot kerkwees word ook sigbaar in die spreuk ecclesia reformata, semper reformanda.

Die hervormingsbeweging van die 16de eeu het egter spoedig in vaste strukture gestol, veral onder invloed van die gereformeerde ortodoksie, die noue verbintenis tussen kerk en staat (volkskerk/staatskerk/landskerke) en die voortsetting van die corpus christianum.

Deur die loop van die 20ste eeu het 'n transformerende benadering tot kerkwees ook in dokumente van die internasionale ekumeniese bewegings sigbaar geword, bv. Nature and Purpose of the Church (Faith & Order 1998) en die opvolg dokument Nature and Mission of the Church (Faith & Order 2005).

'n Transformerende benadering tot kerkwees het ook sigbaar geword in die wêreldwye opkoms van 'n vak soos Gemeentebou. Malan Nel, een van die leidinggewende figure op die terrein van Gemeentebou in Suid-Afrika, meen dat vernuwing in die kerk noodsaaklik is. Vernuwing is God se werk en God se wil (Nel 1994:15). Hy kwalifiseer vernuwing as vernuwing wat berus op die Woord van God, op die onderskeiding van die gemeente se identiteit in Christus en hulle roeping in die wêreld. In kort: Die gemeente moet transformeer om te word wat dit reeds in Christus is ... Die kloof tussen die kerk as gedefinieerde subjek en empiriese subjek moet vernou word (Nel 1994:13).

In Praktiese Ekklesiologie is 'n transformerende benadering tot kerkwees ook van belang. Heitink (2007:331) bepleit in sy Praktiese Ekklesiologie die transformasie en vernuwing van die kerk. Met transformasie bedoel hy 'een radicaal veranderingsproses'. Dit gaan om 'n gedaanteverwisseling, om 'n 'metamorphosis' (2 Kor 3:18).

Vir Heitink (2007:25) gaan dit om meer as Gemeentebou; dit gaan eerder om ekklesiologie as kerkopbou. Wat Heitink duidelik insien, is dat dit ten diepste om ons verstaan van kerkwees gaan. Programme, empiriese ondersoeke, veranderingsbestuur, sisteem-analise en leierskapsontwikkeling sal nie die verval van die kerk stuit as daar nie vernuwend oor kerkwees gedink word nie. Enige proses van transformerende kerkopbou moet by 'n grondige ekklesiologie begin.

Vanuit hierdie histories-vergelykende oorsig word dit duidelik dat teoloë wat 'n transformerende benadering tot kerkwees handhaaf, twee sake in gemeen het: (1) die kerk is belangrik en moet opgebou word en (2) dit is noodsaaklik dat die kerk voortdurend transformeer, vernuwe, hervorm en verander.

Nie-institusionele benadering tot kerkwees

'n Derde benadering tot kerkwees plaas ek onder die opskrif nie-institusioneel.

Hierdie benadering tot kerkwees se uitstaande kenmerk is 'n negatiewe beoordeling van tradisionele, institusionele vorme van kerkwees. Daar word teruggegryp na Jesus en die vroegste, primitiewe Christelike kerk as die outentieke vorm van kerkwees. As gevolg van hierdie benadering word daagliks nuwe Christelike geloofsgemeenskappe gevestig wat op 'n informele wyse versamel en funksioneer.

Hirsch (2006:64) onderskei tussen drie 'modes' (of modelle) van kerkwees, te wete 'apostolic', 'christendom' en 'emerging-missional'. Die laaste twee is wat ek beskryf as institusioneel en post-institusioneel. Sy tipering van 'n 'emerging-missional mode' is 'n goeie samevatting van 'n post-institusionele benadering tot kerkwees. Dit kan met mekaar vergelyk word soos uiteengesit in Tabel 1.

Hirsch (2006:65) legitimeer sy nie-institusionele benadering tot kerkwees deur aan te toon dat dit grootliks ooreenstem met kerkwees in die tyd van die Nuwe Testament. Daarmee ontken hy nie die legitimiteit van bestaande kerke nie, maar beklemtoon dat 'n institusionele benadering tot kerkwees gedateer, oneffektief en 'outmoded' is. Hy wil dus nie anti-institusioneel wees nie, maar beskou sy benadering as 'n 'holy rebellion'.

Daarteenoor is Viola en Barna (2008) radikaal afwysend ten opsigte van 'n institusionele benadering tot kerkwees. Viola se benadering word duidelik wanneer hy skryf:

Not long after I left the institutional church to begin gathering with Christians in an organic way, I sought to understand how the Christian church ended up in its present state.

(Viola & Barna 2008:xiii)

So we would argue that on theological grounds, historical grounds, and pragmatic grounds, the New Testament vision of church represents the dream of God ... the beloved community that He intends to create and re-create in every chapter of the human story.

(Viola & Barna 2008:xix)

Viola en Barna (2008) gaan dan verder om 'organic church' te tipeer as:

A church that is born out of spiritual life instead of constructed by human institutions and held together by religious programmes. Organic churches are characterized by Spirit-led, open-participatory meetings and non-hierarchical leadership.

(Viola & Barna 2008: xix)

Viola en Barna se standpunt ten opsigte van 'n institusionele vorm van kerkwees word finaal duidelik wanneer hulle skryf: 'We are also making an outrageous proposal: that the church in its contemporary, institutional form has neither a biblical nor historical right to function as it does' (Viola & Barna 2008:xx). Hulle toon aan hoe kerke se gebruike en tradisies ten opsigte van kerkgeboue, kleredrag, eredienste, prediking, offergawes en ampte van die Nuwe Testament verskil.

Hirsch (2006:65) meen dat die 'missional' en 'emerging' benadering tot kerkwees veral die laaste tien jaar na vore getree het. In die kerkgeskiedenis is 'n nie-institusionele benadering tot kerkwees egter nie onbekend nie. Verskeie voorbeelde daarvan kan genoem word, soos byvoorbeeld die Anabaptiste Beweging in die 16de eeu; die Morawiese Beweging (Graaf von Zinzendorf) en Evangeliese Beweging (John Wesley) in die 18de eeu; die Mukyokai Beweging in Japan (o.l.v. Kanzo Uchimura) in die 19de eeu asook die Shepherding Beweging in die 20ste eeu (vgl. Kärkkäinen 2002:163e.v.).

In onlangse literatuur (Hirsch 2006; Viola & Barna 2008; Niemandt 2007; Ward 2002; De Groot 2007) word verskillende byvoeglike naamwoorde gebruik om 'n nie-institusionele benadering tot kerkwees te beskryf. Die vier bekendste van die begrippe is die volgende:

  • Organiese kerkwees ('Organic church')
  • Ontluikende kerkwees ('Emerging church')
  • Vloeibare kerkwees ('Liquid church')
  • Missionale kerkwees ('Missional church')

Organies word ontleen aan die biologiese wetenskappe. 'n Organisme is 'n lewende eenheid wat asemhaal en voortplant. Dit is deel van 'n ekosisteem, kan evolusionêr ontwikkel en voortdurend aanpas by nuwe omstandighede.

Die term 'organisme' is veral deur Abraham Kuyper (18371920) bepleit (Trimp 1990:188e.v.). Hy het tussen die kerk as 'organisme' en 'instituut' onderskei. Die gedagte word in sy Dictaten Dogmatiek: Locus De Ecclesia (Kuyper 1910) herhaal.

Kuyper verstaan die term 'organisme' as 'n lewende eenheid wat groei vanuit 'n 'inwendige lewenskiem' (Trimp 1990:189). Samehangende terminologie wat Kuyper benut, is woorde soos groei, ontwikkeling, vryheid, lewensbeginsel, veelheid van vorme, skeiding van kerk en staat, onsigbare kerk, liggaam van Christus.

Dit berus op Kuyper se oortuiging dat God die mensheid as 'n lewende organisme geskep het en dat die kerk, as nuwe en geredde mensheid, die voortsetting van die lewende organisme is. Hierdie lewende organisme word sigbaar in die wêreld deur die lewe en optrede van gelowige, wedergebore mense.

Met verwysing na Efesiërs 4, Romeine 12 en 1 Korintiërs 12 bespreek Kuyper die kerk as lewende organisme en wys hy daarop dat die geskiedenis aantoon dat wanneer die kerk nie meer as organisme funksioneer nie, dit verval en toenemend as instituut funksioneer (Kuyper 1910:26-27). Die waardevolle insig wat Kuyper bied, is dat hoe meer die kerk as instituut funksioneer, hoe minder beleef die kerk (lidmate) die organiese eenheid met Christus. Daarmee verloor die kerk sy lewenskragtigheid.

Kuyper het ook die selfstandigheid en belangrikheid van die plaaslike gemeente beklemtoon. Hierin volg hy nie net die gedagtes van die reformatore, dat die kerk sigbaar word waar die volk van God rondom die Woord en sakrament vergader nie, maar ook Schleiermacher (1768-1834) wat groot waarde geheg het aan die vrye kerk, gebaseer op die algemene priesterskap van die gelowige. Daarmee het Schleiermacher die aandag van die instituut na die gelowige individu verskuif (Heitink 2007:35).

Ontluikend verwys na plante wat uit sade voortkom, ontluik, groei en weer sade versprei sodat nuwe plante kan ontluik. Nelus Niemandt het die gedagte van 'emergent churches' of ontluikende kerke gedefinieer as 'n beweging wat gevoed word vanuit verskillende kerklike tradisies, wat innoverend en nuut kyk na kerkwees (Niemandt 2007:55). Dit neem organies gestalte aan en groei tot iets nuuts. Niemandt beskou ontluikende kerkwees as 'n prototipe vir kerkwees in die 21ste eeu. Aan die hand van Eddie Gibbs en Ryan Bolger van die Fuller Theological Seminary se analise, identifiseer hy nege geloofspraktyke wat tiperend van ontluikende kerkwees is (Niemandt 2007:61e.v.):

  • Identifiseer met die lewe van Jesus Christus en die koninkryk van God
  • Transformeer die sekulêre lewe
  • Beklemtoon kerklike gemeenskap
  • Openheid teenoor vreemdelinge
  • Diensbaarheid sonder bymotiewe
  • Deelname deur gemeentelede
  • Kreatiwiteit
  • Leierskap deur netwerke
  • Antieke geloofswaarhede in 'n byderwetse kleed

Vloeibaar het te doen met water (riviere) wat vloei en beweeg, wat lewe bring en nie stagneer nie. 'Liquid church' is deel van 'n groter verskynsel wat Bauman 'liquid modernity' noem (Bauman 2000; Ward 2002:16; De Groot 2007:240e.v.).

Die huidige fase van modernisering word gekenmerk deur 'n vloeibare samelewing waarin vaste vorme en strukture stelselmatig verdwyn. In vloeibare moderniteit is netwerke belangrik (De Groot 2007:256).

Soliede moderniteit het 'n soliede kerk (institusionele kerk) tot gevolg gehad (Ward 2002:17e.v.). Soliede kerk word gekenmerk deur vaste strukture en eenvormigheid in terme van die erediens en bediening. Groot gemeentes is belangrik. Vergaderings, komitees en programme is van groot belang. Die kerk neem 'n historiese karakter aan. Dit bied herberg aan mense, waar hulle veilig kan wees en versorg kan word.

Vloeibare moderniteit (volgens Ward) verg 'n vloeibare kerk. Hy definieer dit soos volg:

If we are to envisage a liquid church, then movement and change must be a part of its basic characteristic. We need to let go of a static model of church that is based primarily on congregation and buildings. In its place we need to develop a notion of Christian community, worship, mission and organization that is more flexible and responsive to change. The idea of flow is central in this shift in emphasis.

(Ward 2002:41)

Ward (2002:41-43) voorsien dat 'n vloeibare benadering tot kerkwees op die konsep van netwerke sal berus. Netwerke kan beskryf word as 'n vervlegting van sosiale eenhede wat op verskillende plekke aan mekaar vasknoop. Kommunikasie is fundamenteel belangrik vir netwerke.

Ook die kerk kan beskou word as 'n netwerk. Daarom is daar talle teoloë wat die standpunt inneem dat die kerk moet loskom van gemeentelike strukture. Christene moet volgens die opvatting in netwerke en groepe versamel wat losweg verbind is, diakonaal en missionaal in die wêreld diensbaar word en insidenteel saamkom vir lering, gebed en viering (De Groot 2007:257).

Missionaal fokus op die roeping van die kerk om die evangelie uit te dra. In hierdie benadering word die apostolaat nie as 'n funksie van die kerk gesien nie, maar word die kerk gesien as wesenlik missionaal en die produk van die missio Dei.

Die term 'missional' is onder andere deur Alan Hirsch ontwikkel (vgl. Frost & Hirsch 2003:17). Hy beskou missionale kerkwees as die hoop vir kerkwees in 'n post-christelike era. Die kern van missionale kerkwees is te vind in die inkarnasie van die kerk (Frost & Hirsch 2003:33). Die kerk moet as liggaam van Christus in die wêreld gestalte aanneem. Die kerk moet die beeld van Christus vertoon.

Talle teoloë het na die Tweede Wêreldoorlog beklemtoon dat die kerk wesenlik missionaal is. Die apostolaat is nie net een van die take wat 'n kerk of gemeente verrig nie, maar is self die resultaat van die missio Dei. Dit was veral Vaticanum II en die Ekumeniese Beweging, asook teoloë soos Karl Barth, Lesslie Newbigin en David Bosch (Bosch 1991; Kärkkäinen 2002:151) wat die perspektief geopen het. Sending is nie 'n taak wat die kerk uitvoer nie; die kerk is in sy wese missionaal.

Missionale kerkwees berus op 'n missionale ekklesiologie. Een van die beste definisies van missionale ekklesiologie, is deur Paul Hooker (2008) geformuleer:

Missional ecclesiology demands more of the church than deciding which community service projects to undertake or setting congregational priorities for the coming year. Missional ecclesiology is a way of understanding the church. It begins with the Missio Dei - God's own 'self-sending' in Christ by the Spirit to redeem and transform creation. In a missional ecclesiology, the Church is not a building or an institution but a community of witness, called into being and equipped by God, and sent into the world to testify to and participate in Christ's work. The Church does not have missions; instead, the mission of God creates the Church. The Church serves God's call to mission through its work in three broadly defined categories: the proclamation of the Word of God, the administration of the sacraments of Baptism and the Lord's Supper, and the nurture of the covenant community of disciples. It undertakes this mission without regard for its own agenda or survival.

(Hooker 2008:1-2)

 

Gevolgtrekking

Die kerk het deur die eeue verskillende gestaltes aangeneem. Wanneer hierdie gestaltes van kerkwees in hulle konteks bestudeer word, krities vergelyk word en veral kennis geneem word van bepaalde aanpassings en transformasie, dra dit by tot ons vermoë om in die 21ste eeu gestalte te gee aan toepaslike en relevante vorme van kerkwees. Die beroemde sistematiese teoloog, Hans Küng (1976), het dit soos volg geformuleer:

Every age has its own image of the Church, arising out of a particular historical situation; in every age a particular view of the Church is expressed by the Church in practice, and given conceptual form, post hoc or ante hoc, by theologians of the age . the constant factor in the history of the Church and of its understanding of itself is only revealed in change; its identity exists only in constantly changing historical 'forms'. If we want to discover this original and permanent 'essence', given that it is something dynamic rather than something static and rigid, we must look at the constantly changing historical 'forms' of the Church.

(Küng 1976:4)

Teen dié agtergrond meen ek dat 'n histories-vergelykende ekklesiologie en historiese perspektief van groot waarde vir Praktiese ekklesiologie kan wees. Uiteraard kan 'n histories-vergelykende ekklesiologie op verskillende maniere en vanuit verskillende invalshoeke benader word. 'n Histories-vergelykende ekklesiologie is immers nie 'n kliniese oefening waarin die kerk geobjektiveer word nie.

In hierdie bydrae is die metode van Kärkkäinen nie gevolg nie, naamlik om verskillende kerklike tradisies met mekaar te vergelyk. Daar is gepoog om aan die hand van Dulles en Kúng se metode te kyk na punte van verskil en ooreenstemming. In so 'n metode kan die waarde van verskillende benaderings tot kerkwees en kerkbegrip erken word en kan die eie partikuliere benadering na waarde beoordeel word.

Ten slotte kan gestel word dat 'n histories-vergelykende ekklesiologie van waarde is vir Praktiese Ekklesiologie, vir teologiese opleiding in die algemeen en vir die debat oor kerkwees in die 21ste eeu. Daarsonder is dit baie moeilik om toepaslike vorme van kerkwees en bedieningspraktyk te ontwikkel.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Bakhuizen van den Brink, J.N., 1979, Handboek der Kerkgeschiedenis Deel I, De Tille BV, Leeuwarden.         [ Links ]

Bauman, Z., 2000, Liquid modernity, Polity, Cambridge.         [ Links ]

Beukes, J., 2008, 'Voices carry: An archaeology of the Hervormd approach', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 64(1), 73-109.         [ Links ]

Bosch, D.J., 1991, Transforming Mission, 22nd edn., Orbis Books, New York, NY.         [ Links ]

Brueggemann, W., 1991, 'Rethinking Church Models Through Scripture', Theology Today 48(2) 128-138, viewed 26 October 2010, from http://dx.doi.org/10.1177/004057369104800202        [ Links ]

Buitendag, J., 2008, 'Ecclesia reformata semper reformanda - die ongemaklike eis', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 64(1), 122-138.         [ Links ]

Congar, Y., 1997, I believe in the Holy Spirit, Crossroad Herder, New York, NY.         [ Links ]

De Bruin, G.C., 1965, Handboek der kerkgeschiedenis, Deel II, Bert Bakker/Daamen D.V., Den Haag.         [ Links ]

De Groot, K., 2007, 'Fluïde vormen van kerk-zijn', in R. Brouwer et al. (reds.), Levend Lichaam: Dynamiek van christelijke geloofsgemeenschappen in Nederlan, pp. 240-279, Uitgeverij Kok, Kampen.         [ Links ]

Dekker, G., 2003, 'Achter het organisatieprincipe schuilt een kerkvisie', Praktische Theologie 0(2), 166-175.         [ Links ]

Denzinger, H. & Rahner, K., 1957, Enchiridion Symbolorum Editionem 31, Herder, Barcinone-Friburgi-Romae.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 2003, 'Statistieke vertel 'n storie - 'n Visie vir die Hervormde Kerk op pad na 2010', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 59(4), 1045-1062.         [ Links ]

Dreyer, W.A., 2011, 'Praktiese Ekklesiologie en bedieningspraktyk met verwysing na die Ned. Hervormde Kerk van Afrika', ongepubliseerde PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Dulles, A., 1974, Models of the Church, Doubleday, Garden City, NY.         [ Links ]

Faith & Order, 1998, The nature and purpose of the church, WCC, Geneva.         [ Links ]

Faith & Order, 2005, The nature and mission of the church, WCC, Geneva.         [ Links ]

Flannery, A., 1980, Vatican Council II: The Concillar and Post Concillar Documents, Liturgical Press, Collegeville, PA.         [ Links ]

Frank, G.C., 1991, 'The Eastern Christian tradition', in G.J. Pillay & J.W. Hofmeyr (ed.), Perspectives on Church History, pp. 96-108, De Jager-HAUM Publishers, Pretoria.         [ Links ]

Frost, M. & Hirsch, A., 2003, The shaping of things to come: Innovation and mission for the 21st century Church, Hendrickson, Peabody MA.         [ Links ]

Heitink, G., 2007, Een kerk met karakter - Tijd voor heroriëntatie, Uitgeverij Kok, Kampen.         [ Links ]

Hirsch, A., 2006, The forgotten ways: Reactivating the missionalchurch, Brazos, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Hooker, P., 2008, Missional Ecclesiology, viewed 15 February 2011, from http://www. negapby.org/missionalecc.pdf.         [ Links ]

Kärkkäinen, V.M., 2003, An introduction to ecclesiology: Ecumenical, historical and global perspectives, InterVarsity Press, Downers Grove, IL.         [ Links ]

Koffeman, L.J., 2009, Het goed recht van de kerk: Een theologische inleiding op het kerkrecht, Uitgeverij Kok, Kampen.         [ Links ]

Küng, H., 1976, The Church, 6th edn., transl. R. & R. Ockenden, Search Press, London.         [ Links ]

Kuyper, A., 1910, Dictaten Dogmatiek, Kok, Kampen.         [ Links ]

Latourette, K.S., 1964, A History of Christianity, Eyre and Spottiswoode Ltd., London.         [ Links ]

McGrath, A.E., 2001, Christian theology - An introduction, Blackwell Publishing, Malden, MA.         [ Links ]

Nel, M., 1994, Gemeentebou, Orion Uitgewers, Johannesburg.         [ Links ]

Newbigin, L., 1953, The household of God: Lectures on the nature of the Church, SCM Press, London.         [ Links ]

NHKA, 2006, Kommissie van die AKV, Identiteit en relevansie van die kerk in die 21ste eeu, Memorandum opgestel deur die Kommissie vir bespreking tydens die Nasionale Colloquium, 2006, NHKA Kerkargief, Pretoria.         [ Links ]

Niemandt, N., 2007, Nuwe drome in nuwe werklikhede: Geloofsgemeenskappe in pas met 'n postmoderne wêreld, Lux Verbi BM., Wellington.         [ Links ]

Trimp, C., 1990, 'De kerk bij A. Kuyper en K. Schilder', in W. van't Spijker et al. (reds.), De Kerk: Wezen, weg en werk van die kerk naar reformatorisch opvatting, Uitgeverij De Groot Goudriaan, Kampen.         [ Links ]

Viola, F. & Barna, G., 2008, Pagan Christianity? Exploring the roots of our church practises, House Publishers Inc., Tyndale.         [ Links ]

Ward, P., 2002, Liquid Church, Paternoster Press, Carlisle.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Wim Dreyer
19 Elephant Street, Monument Park
Pretoria 0001, South Africa
Email: wim.dreyer@up.ac.za

Received: 10 May 2011
Accepted: 01 Aug. 2011
Published: 04 Nov. 2011

 

 

© 2011. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.
Note: Address delivered at the opening of the Reformed Theological College (University of Pretoria) on 16 February 2011. The article is also submitted to conform to the requirements of the degree PhD (Practical Theology) completed under the supervision of Prof. T. F.J. Dreyer in 2011. Hereby, I also pay tribute and express thanks to him at the time of his superranuation.