SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.67 issue3Public theology and the translation imperative: a Ricoeurian perspectiveWhat is Reformational theology?: thoughts on a petition of protest author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.67 no.3 Pretoria  2011

     

    ORIGINAL RESEARCH

     

    Homoseksualiteit: Die standpunte van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in 2007

     

    Homosexuality: The viewpoints of the Dutch Reformed Church (DRC) and the Netherdutch Reformed Church of Africa (NRCA) in 2007

     

     

    Pieter J. Strauss

    Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

    Correspondence to

     

     


    ABSTRACT

    These two churches, through their broadest assembly namely the General Synod and the General Church Assembly respectively, show remarkable similarities in their approach to Scripture on the matter of homosexuality, the position of gay people in church life and the time frame in which they took decisions on these matters. The point of departure for both is marriage as something only for one husband and one wife. This is explicitly complemented by the NRCA with a limitation of sexual intercourse to marriage, which rules out the possibility of homosexuality. In the DRC the same principle is tradition, thus basicly coming to the same conclusion as the NCRA. The reason for these similarities is not that the two assemblies openly copied each other, but the fact that they both are reformed churches in Southern Africa serving, mainly, Afrikaners. Perhaps these similarities supply another reason for the present increase in cooperation between the two churches.


     

     

    Inleiding en probleemstelling

    Ek neem graag deel aan hierdie huldigingsbundel vir professor Theuns Dreyer - nie as vakgenoot nie, maar as sielsgenoot in kerklike sake. Theuns was die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering (AKV) en die kommissie van hierdie vergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) voordat hy in 2010 uitgetree het. In min of meer dieselfde tyd was ek sy eweknie in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK). Saam was ons by vrugbare gesprekke betrokke vir nouer eenheid tussen die twee kerke.

    Beide die Algemene Sinode van die NGK (AS-NGK) van 2007 en die Algemene Kerkvergadering van die NHKA (AKV-NHK) van dieselfde jaar het standpunt oor die kerk en homoseksualiteit ingeneem (NGK 2007a:110; NHK 2007b:46-48).

    Hierdie standpunte vertoon op die oog af merkwaardige ooreenkomste ten opsigte van tydsberekening en inhoud. Ooreenkomste wat in belangrikheid toeneem as dit in gedagte gehou word dat dié twee kerke in 2011 op die punt staan - die AKV-NHK van 2010 het dit reeds aanvaar en die AS-NGK van 2011 sal waarskynlik volg - om 'n bilaterale ooreenkoms goed te keur dat predikante oor en weer beroepbaar is en dat lidmaatsbewyse en attestate oor en weer erken word (NHK 2010:361-365).

    Wat die tyd betref, het die standpunte van beide kerkvergaderings op 'n aantal jare van studie en navorsing gevolg. Die besluit van die AS-NGK 2007 gaan terug na 'n opdrag wat die AS-NGK 2002 gegee het en deur die AS-NGK 2004 herhaal is (NGK 2002:264; NGK 2004:348). In vergelyking hiermee gaan die besluit van die AKV-NHK 2007 terug na 'n opdrag wat deur die AKV-NHK 2001 gegee en deur die AKV-NHK 2004 herhaal is (NHK 2007b:45).

    Dat die mees omvangryke of breedste vergadering van beide kerkverbande (Strauss 2010:53vv) op hierdie stadium 'n besluit oor homoseksualiteit geneem het, hang saam met die omgewing of Umwelt waarin beide hulle bevind.

    Dit wil voorkom asof die aktualiteit van die tema in die geledere van die Afrikaanse gereformeerde kerke rondom die jaar 2000 toegeneem het. Nie net publiseer individuele teoloë studies wat die tradisionele afwysing van 'n homoseksuele oriëntasie en praktyk in Joods-Christelike kringe weerspreek nie1, maar sommige sinodes (streeksinodes) in die NGK onderneem opnuut studies oor die saak2. Dit wil dus voorkom asof die besluit van AS-NGK 1986 wat homoseksualiteit 'in die lig van die Skrif' as 'n 'afwykende vorm van seksualiteit' beskryf het (NGK 1986:672), nie sondermeer kon bly staan nie. Dit is 'n bekende feit dat die Algemene Sinode ten opsigte van algemene standpunte oor aktuele sake steeds namens die hele NGK praat (NGK 1982:11; NGK 2007b:19).

    Beide kerke sou in 2007 in hulle breedste vergadering nuwe besluite oor homoseksualiteit neem. Besluite wat nuwe insigte, maar ook die tradisionele houding weerspieël. Dit is op hierdie veranderde houding al dan nie asook die ooreenkomste tussen die standpunte van die NGK en die NHKA waarop hierdie artikel fokus.

    Die benadering is meerendeel kerkhistories-eties. Die artikel poog om die tendense aan te toon wat in beide standpunte van 2007 voorkom en die etiese 'lyne' bloot te lê wat hierin as deel van die, nou, kerkgeskiedenis gevolg is. Daar word gepoog om die standpunte uit te wys en nie die meriete of geldigheid daarvan te beoordeel nie: om die bedoeling van beide vergaderings bloot te lê en binne die konteks of tyd met mekaar te vergelyk. Dit gaan dus hoofsaaklik om 'n perspektief op die besluite wat geneem is en die beweegredes daarvoor en nie 'n kritiese evaluering daarvan nie. Die formulerings kan natuurlik nie plaasvind sonder om iets van die benadering van die een wat formuleer, te verklap nie.

     

    Die Bybel en homoseksualiteit: Die AKV-NHK 2007

    Dit spreek haas vanself dat die Bybel en homoseksualiteit vir beide die NGK en die NHKA as verklaarde gereformeerde kerke belangrik is. Dit blyk nie alleen uit die aanvaarde belydenisskrifte en die Sola Scriptura-standpunt soos deur hierdie twee kerke gedeel nie, maar ook uit hulle kerkordelike benaderings (Van Wyk 1991:23vv; NGK 2007b:1) en die studiestukke wat die standpunte van beide kerke se breedste vergadering vooraf gaan. Uit hierdie studiestukke blyk dit duidelik - selfs by standpunte wat 'n nuwe rigting inslaan - dat Bybelse gegewens wat moontlik verband hou met homoseksualiteit, eenvoudig verreken móét word. Met verwysing na die tradisionele afwysing van homoseksualiteit - die oriëntasie en praktyk - deur Christelike kerke en 'n wysiging in hierdie houding, wys Konig op die beslissende rol van die Bybel in die saak: 'Die hele saak het eenvoudig gelyk: in die Bybel het dit duidelik gestaan dat homoseksuele nie die koninkryk sal beërf nie (I Kor 6:9).' Volgens Konig (2005:85) was die saak op die oog af hiermee beslis. Sedertdien het die vraag egter ontstaan of die Bybel op hierdie punt regtig so verstaan moet word. Konig impliseer dat veranderinge en groei in hermeneutiese insigte kerklike gevolgtrekkings uit die Bybel ten opsigte van homoseksualiteit gewysig het, terwyl Botha (2005:9) dit aan ander faktore toeskryf: 'Inklusiwiteit, oormatige akkommodering en 'n oorbeklemtoning van diversiteit het die teologie vanuit 'n permissiewe liberaal-sekulêre kultuur binnegedring.'

    Konig impliseer dus dat daar tans verskille in Christelike kerke is oor die hermeneutiek of die uitleg en verstaan van die Bybel oor homoseksualiteit. Verskille wat dan ook na vore kom in die studiestukke voor die AS-NGK 2007 én die AKV-NHK 2007. Laasgenoemde sou die studies wat voor AKV-NHK 2004 gedien het, veronderstel. Daarby was die werk van individuele teoloë uit beide kerke waarskynlik deel van die agtergrond. Hierop word aanstons teruggekom.

    Die AKV-NHK 2007 het 'n studiestuk met twee uiteenlopende stelle aanbevelings - in 'n meerderheids-en 'n minderheidsverslag - oor die kerk se houding oor homoseksualiteit voor hom gehad. Hulle gevolgtrekkings oor wat die Bybel vir vandag oor die saak sê, verskil nie veel nie, hoewel hulle nie dieselfde aanbevelings daaruit haal nie.

    Die meerderheidsverslag voer aan dat die tradisionele standpunt wat homoseksualiteit afwys, nie besef dat 'huweliksvorme (ook in die Bybel) en die verstaan van seksualiteit saam met kulture verander nie'. Volgens die verslag verwys die gedeeltes in die Nuwe Testament wat homoseksuele gedrag afwys, na pederastie, prostitusie, heteroseksuele perversiteit of 'n kombinasie van die drie. Liefdevolle seksuele verhoudings (gestempel deur liefde en trou? PJS) tussen mense van dieselfde geslag kom nie in die Bybel voor nie. In die Ou en Nuwe Testament is die homoseksuele gedrag wat afgewys word, aldus die verslag, 'n saak wat voorkom binne die raamwerk van kultuurbepaalde afwykende gedrag. In eersgenoemde hang dit saam met die reinheidsetiek van Oud-Israel en in laasgenoemde met heidense rituele en afgodery (NHK 2007a:5-6)3.

    Volgens die meerderheid is 'n homoseksuele oriëntasie -soos heteroseksualiteit - nie 'n keuse nie. Homoseksualiteit is eenvoudig 'n manier waarop 'n minderheid van die wêreldbevolking hulle liefde en seksualiteit 'natuurlik' uitdruk. Dit raak ongeveer 10% van alle mense. Die tradisionele afwysing van hierdie soort seksualiteit in die Joods-Christelike tradisie, spruit uit 'sosiale konstrukte wat teologies gelegitimeer word'. Sulke kultuurbepaalde normatiewe insigte veroorsaak konflik (NHK 2007a:6-8).

    Wat opval, is dat die meerderheidsverslag oordeel dat die Bybel op hierdie punt geen konstante vir die houding van die Christelike kerk oor homoseksualiteit lewer nie. Kultuurbepaalde sosiale konstrukte - dit wat hulle meen om in die Bybel aan te tref - is immers veranderlik. Dit doen vreemd aan, omdat die blote herkenning van 'n verskynsel as 'n huwelik of 'n huweliksvorm (beide is gepositiveerde kultuurverskynsels) 'n konstante kern of 'n kerndefinisie van die huwelik veronderstel. 'n Konstante waaraan nuwe kultuurvorme as huweliksvorme uitgeken kan word. Immers, om 'n verskynsel as 'n addisonele kultuurbepaalde huweliksvorm uit te wys, veronderstel 'n kern van die huwelik as maatstaf waaraan nuwe verskynsels as huweliksvorme herken word.

    Vanuit 'n Christelike mensbeskouing word die seksuele kant van 'n mens - soos sy of haar ander liggaamlike funksies -vanuit sy of haar geestelike hart (Spr 4:23) as die kern van sy of haar persoonlikheid gehoorsaam of ongehoorsaam aan God se norme vir alles, dit is normatief of antinormatief, ingespan (Kock 1975:14-30, 198-200). Gehoorsaamheid impliseer 'n normatiewe struktuur vir seksuele aktiwiteit in God se norme vir die lewe. Om huwelike moontlik te maak, moes God die moontlikhede daarvoor in die skepping gelê het. Daarom dat 'n ontwikkelde Christelike etiek praat van 'n wet- of normsy en 'n subjek- of kultuursy van elke lewensvorm. Om te beweer dat lewensvorme soos die huwelik net kultuurbepaald is, is ooglopend 'n verskraling.

    In die vergadering se voorgestelde roetekaart vir besluitneming, herhaal die meerderheid van die betrokke komitee die oordeel dat die Bybel negatiewe kultuurbepaalde uitsprake oor homoseksuele gedrag bevat. Die Skrif wil egter nie die kultuur normatief maak nie. Volgens die Bybel leef alle gelowiges uit die Evangelieboodskap en deur die Gees van God word dit vir hulle moontlik om hulle hele lewe (ook die seksuele) in diens van God te stel. Dit is opvallend dat enige skriftuurlike norme of konstantes - selfs die blote gedagte daaraan - in die verslag ontbreek. Tussen die Evangelieboodskap en die Gees van God waaruit die gelowiges moet leef en die lewenspraktyk is daar geen norm of roetekaart nie. Sou 'n relativerende post-modernisme hier ook sy kloue ingeslaan het?

    Ter versterking van sy standpunt oordeel die meerderheidsverslag dat dit modernisties is om te dink dat manwees en vrouwees sekere konstante wesenskenmerke bevat. Terselfdertyd word dit as die wins van die post-modernisme beskou dat daar geen objektiewe waarhede sonder voorveranderstellings bestaan nie (NHK 2007a:7). Die verslag impliseer dat die keuse slegs tussen modernisme en post-modernisme as twee mensgesentreerde rigtings lê, terwyl die Bybel sonder enige modernisme sekere konstantes soos die tien gebooie (verbondswet) van God deurgee én impliseer dat die mens uit sy geestelike hart - Spreuke 4:23 - as voorveronderstelling leef. Hoewel die Skrif nie 'n wetenskaplike of filosofiese handboek is nie, klop hierdie stellings met 'n Christelike wetenskapsleer (Kock 1975:1430). Voorveronderstellings word in die meerderheidsverslag egter sonder enige verduideliking alleen op die brood van die humanistiese post-modernisme gesmeer.

    Die minderheidsverslag verwys na gedeeltes in die Bybel wat 'algemeen in die debat oor homoseksualiteit gebruik word' (Gen 1:27-8, 2:18-25, 19:1-29; Lev 18:22, 20:13; Rom 1:18-32; 1 Kor 6:9; 1 Tim 1:10) en kom tot die slotsom dat hierdie tekste verskillend deur teoloë in die NHKA en regdeur die wêreld verstaan word. Daar is dus geen eenstemmigheid oor die relevansie hiervan vir homoseksuele verhoudings van liefde en trou nie. Dit skep ruimte - volgens die minderheid - vir die argument dat die Bybel nie spesifieke uitsprake oor vaste homoseksuele verbintenisse waarin daar liefde en trou is, gee nie. Dit impliseer egter ook dat die Bybel niks bevat wat sulke verhoudinge goed- of afkeur nie. Hierdie kritiese punt word bydraend vir die aanbevelings van die minderheid (NHK 2007b:8).

    Vanuit die gedeeltes in Genesis soos hierbo na verwys, kom die minderheid saam met die AKV-NHK 2004 tot die slotsom dat die huwelik 'n lewensverbintenis tussen 'n man en 'n vrou is (vgl. ook Botha (2005:122).4 Dit is die enigste wyse waarop 'n man en 'n vrou in gehoorsaamheid aan die Woord van God kan saamlewe en die enigste plek waar seksualiteit tussen man en vrou 'beoefen behoort te word' (NHK 2007b:10). Verder maak die minderheid die gevolgtrekking dat religie en kultuur ten nouste met mekaar verweef is en nie teenoor mekaar staan nie. Hulle verskil ook van die meerderheid oor die persentasie van die wêreldbevolking met 'n homoseksuele oriëntasie: hulle reken dit op 1% - 3%. Daarby glo hulle dat dit genees kan word, hoewel daar nie op 'n '100% suksessyfer staatgemaak kan word nie' (NHK 2007b:17). By implikasie ontken hulle dus die nie-keuse argument by 'n homoseksuele oriëntasie.

    Hoewel die minderheidsverslag die belangrikheid van die Bybel in die debat erken, kom dit tot die gevolgtrekking dat die Bybel niks rigtinggewend oor homoseksualiteit bevat nie. Daarom werk dit vanuit sy eie Bybelse verstaan van die huwelik en seksualiteit om by sy houding oor homoseksualiteit uit te kom. Hierop word by die aanbevelings en besluite van die 68ste AKV-NHK teruggekom.

     

    Besluite: Die AKV-NHK 2007

    Op grond van sy verslag beveel die meerderheidsverslag by die AKV-NHK 2007 aan dat alle gedoopte en belydende lidmate lede van die liggaam van Christus as die kerk is. Soos ander lidmate is mense wat tot seksuele minderheidsgroepe behoort, ook welkom in die Christelike geloofsgemeenskap. In die lig van die Woord van God verseker die kerk hulle van die liefde van God en van medegelowiges.

    Teen hierdie agtergrond en op grond van sy studie van die Skrif én van die verskynsel homoseksualiteit self, beveel die meerderheidsverslag by die AKV-NHK 2007 aan dat dit besluit op voortgesette navorsing oor betekenisvolle homoseksuele verhoudings.

    'In die huidige kerklike praktyk word daar slegs voorsiening gemaak vir heteroseksuele verbintenisse. Die kerk word versoek tot voortgesette navorsing oor betekenisvolle verhoudingsmoontlikhede vir álle mense' (NHK 2007b:45-46).

    Wat die meerderheidsverslag as deel van 'n veranderlike kultuurbepaalde opset beskou, is skynbaar die tradisie dat net 'n man en 'n vrou 'n lewensverbintenis aangaan, maar nie die norme van liefde en trou wat vir so 'n verbintenis geld nie. Hierdie norme moet gehandhaaf word, maar kan volgens die verslag ook op ander seksuele verbintenisse van toepassing gemaak word. Die argument dat die huwelik en seksualiteit kultuurbepaalde verskynsels is, word dus nie na alles wat daarmee saamhang, deurgetrek nie. By implikasie - dit word nie uitdruklik gesê nie - moet die etiese eis van liefde en trou vir die huwelik en vir seksualiteit as bo-kultureel beskou word. Die kritiese vraag wat hierdie gevolgtrekking uit die meerderheidsverslag oproep is: is so 'n gevolgtrekking dan modernisties of, moontlik alternatiewelik, skriftuurlik? En as dit geldig is, waarom?

    Die minderheidverslag sou op die ou end die uitkoms van die debat bepaal.

    Soos die meerderheidsverslag wil die minderheidsverslag homoseksuele persone in 'n kerk verwelkom wat alles in sy vermoë moet doen om homofobie, gay-haat en enige ander vorm van neerhalende optrede teenoor homoseksuele persone teen te werk. In sy hantering van die 'omvattende seksuele verskynsel' moet die kerk egter die 'heteroseksuele huwelik koester en beskerm as die enigste huweliksvorm ... deur God ... ingestel'. Dit is volgens die Bybel, aldus die minderheidsverslag, die enigste ruimte waarin seksuele aktiwiteite, familiebou en gesinsgroei kan plaasvind. Homoseksueel-georiënteerde persone wat selibaat lewe kan tot die kerklike ampte toegelaat word. Vir die pastorale versorging van persone met so 'n seksuele oriëntasie moet riglyne opgestel word (NHK 2007b:46-47).

    Die minderheidsverslag beveel dus aan dat die skriftuurlike huwelik net vir een man en een vrou is en dat seksuele aktiwiteite net binne hierdie ruimte kan plaasvind. Homoseksuele verbintenisse en aktiwiteite word afgewys. Die gebrek in dié aanbevelings is waarskynlik dat die kern - die heteroseksuele huwelik waarbinne seksuele aktiwiteite alléén kan of mag plaasvind - as skriftuurlik aangedui word sonder om dit hermeneuties-eksegeties uitvoerig te beredeneer. Die minderheidsverslag voer eenvoudig aan dat die voortplantingsdoel van die huwelik soos in Genesis 1:27 en 28 aangedui, 'n argument is teen enige buite-huwelikse of homoseksuele seks. Die teenargument word egter in dieselfde paragraaf gevoed met die implisiete erkenning dat seks in die huwelik nie net 'n voortplantingsdoel het nie (NHK 2007b:19).

    Aan die einde van die debat keur die AKV-NHK 2007 die aanbevelings van die minderheidsverslag goed met geringe wysigings. Die hooflyne word onveranderd gelaat. 'n Beskrywingspunt van die Ring van Potchefstroom wat die minderheidsverslag steun, word ook met wysigings aanvaar (NHK 2007b:47-48).

    Die AKV-NHK 2007 het hom dus amptelik teen homoseksualiteit uitgespreek sonder uitvoerige hermeneuties-eksegetiese verwysings na die Bybel oor die saak. Die meer omvangryke studie wat vir AKV-NHK 2004 oor homoseksualiteit gedoen is, het skynbaar as gedeeltelike agtergrond vir die studie voor AKV-NHK 2007 gedien (NHK 2004:394-421). Geyser (2002:1674) se slotsom dat sy 'eksegetiese kantaantekeninge' nie die 'vooroordele' vir of teen homoseksualiteit 'wil of kan substansieer' nie en Van Eck (2007:509) se mening dat Jesus in Markus 10 en Matteus 19 antwoord op 'n bepaalde vraag van 'n Fariseër teen 'n bepaalde agtergrond en nie algemeen-geldende uitsprake vir die huwelik maak nie, het waarskynlik ook meegespeel in die gebruik van die Bybel deur AKV-NHK5.

    Die AS-NGK 2007 sou in vele opsigte dieselfde weg opgaan.

     

    Die Bybel en homoseksualiteit: Bylaag 1 voor die AS-NGK 2007

    Soos die AKV-NHK 2007 sou die AS-NGK 2007 ook met twee teenoorstaande verslae oor die kerk en homoseksualiteit gekonfronteer word. Die taakspan wat die saak moes ondersoek en 'n verslag met aanbevelings aan die Algemene Sinode moes voorlê, was uiteindelik min of meer gelykop verdeel oor die aangeleentheid - 'n verdeling wat by die vertolking van Skrifgegewens tot by of in die meeste aanbevelings deurgeloop het. Daarom sou die taakspan ook eindig met 'n sameroeper en twee mede-voorsitters: een van elke kant (vgl. NGK 2007a:140-230).

    Die groep wat van mening is dat homoseksuele verhoudinge van liefde en trou kerklik aanvaarbaar moet wees, het Bylaag 1 gelewer6. Die groep wat meen dat 'n homoseksuele oriëntasie of gedrag deur die Bybel afgewys word, het Bylaag 2 gelewer. In sy Skrifhantering vertoon Bylaag 1 sekere ooreenkomste met die meerderheidsverslag voor die AKV-NHK 2007, terwyl veral die aanbevelings van Bylaag 2 sekere ooreenkomste met die van die minderheidsverslag voor die AKV vertoon.

    In beide gevalle sou die vertolking van Skrifgegewens oor die saak 'n belangrike deel van die verslag uitmaak. Bylaag 1 beskryf die Bybel as die 'basisdokument vir ons geloof en lewe' (NGK 2007a:146), terwyl Bylaag 2 daarvan praat as die 'hoogste gesag vir leer en lewe' (NGK 2007a:164). Dat beide groepe in die taakspan redelik uitvoerig probeer wees, word weerspieël in die lengte van hulle verslae. Bylaag 1 beslaan 18 bladsye en Bylaag 2 'n volle 67 (NGK 2007a:145-231).

    Hiernaas is daar ter inleiding 'n korterige gesamentlike verslag van vyf bladsye wat sluit met vier uitgebreide gesamentlike aanbevelings plus twee stelle uiteenlopende aanbevelings wat die twee teenoorstaande rigtings of standpunte in die taakspan verteenwoordig (NGK 2007a:140-144). In hierdie kerkhistoriese artikel met sy beperkte lengte waarin die fokus nie op 'n eksegetiese beoordeling van die taakspan se gebruik van Bybelstekste val nie, maar op die (histories-etiese) lyne agter standpunte, word daar net opsommend na beide verslae se Skrifhantering verwys.

    Bylaag 1 gee 'n redelike detailbespreking van Bybelstekste wat volgens die groep 'oor die algemeen' in die Bybelse beoordeling van homoseksualiteit ter sprake kom, naamlik Genesis 1:27-28, Genesis 2:18-25, Genesis 19:1-19, Levitikus 18:22 en 20:13, Romeine 1: 8-23, I Korintiërs 6:9 en I Timoteus 1:10. Sy slotsom is dat dit teologies onhoudbaar is om hierdie tekste toe te pas op iemand wat as toegewyde Gay-Christen tot die besef gekom het dat hy of sy oor 'n 'alternatiewe seksuele identiteit en oriëntasie' beskik. Gay-Christene besluit nie doelbewus om teen Romeine 1:21 in, God 'nie as God te eer en te dank nie'. Hierdie tekste hanteer nie die gevalle van persone van dieselfde geslag wat as gelowiges in 'n verhouding van liefde en trou met mekaar verkeer nie.

    Oor die algemeen oordeel Bylaag 1 dat hierdie tekste homoseksuele gedrag binne sekere kontekste afkeur en dat dit nie vir die afkeuring van alle homoseksuele gedrag as sodanig gebruik kan word nie.

    Ten opsigte van die twee Levitikustekste meen Bylaag 1 dat dit nie homoseksualiteit as sodanig behandel nie, maar bepaalde homoseksuele dade - dade wat binne 'n afwykende kultus as konteks plaasvind. Die kultiese aard van die verbod in hierdie twee gedeeltes word deur die konteks waarin dit voorkom, naamlik die Heiligheidsboek van Levitikus 17-26 wat reinigheidsreëlings tref, aangedui. Dit gaan hier nie om etiese uitsprake nie, maar reëlings om die kultus van Israel te reinig. Verder gaan dit, aldus Bylaag 1, om die reëling van seksuele verhoudings sodat dit nie in die uitgebreide familie aanstoot gee nie.

    Bylaag 1 oordeel ook dat die tekste in die Nuwe Testament waarna hierbo verwys word, om redes wat spruit uit ander kontekste as homoseksuele verhoudings van liefde en trou, negatief teenoor spesifieke homoseksuele dade reageer. Sulke nie-aanvaarbare redes is wellus wat ook in heteroseksuele verhoudinge verbode is en die histories-bepaalde kodes van die destydse Joodse samelewing.

    Volgens Bylaag 1 bestaan daar vandag redelike eenstemmigheid onder kenners dat die oorgrootte meerderheid van homoseksuele persone nie hulle seksuele oriëntasie blywend kan verander nie. Waar dit wel gebeur, is dit mense wat op die kontinuum vir seksualiteit iewers tussen homo- en heteroseksualiteit verkeer. So 'n oriëntasie word deur faktore buite die beheer van die betrokke persoon bepaal. Op een plek beweer die bylaag dat tussen 6% en 10% van die bevolking homoseksueel is. Op 'n ander plek verwys dit na die Amerikaner Alfred Kinsey se verslag wat in die 1940's verskyn het en dit aan 4% onder die mans en 1.3% onder die vroue toeskryf (NGK 2007a:145-156).

    In sy motivering toon Bylaag 1 dus sekere oreenkomste met die meerderheidsverslag wat voor die AKV-NHK 2007 dien: in sy vertolking van moontlike relevante gedeeltes in die Bybel; in die sogenaamde nie-geneesbaarheid van mense met 'n homoseksuele oriëntasie (eersgenoemde praat van die 'nie-keuse' by so 'n oriëntasie); en oor die persentasie van die 'bevolking' wat so georiënteer is. Soos die meerderheidsverslag voor die AKV-NHK 2007, ondersoek Bylaag 1 nie die vraag waarom homoseksualiteit as 'n verskynsel juis daarom óók in genoemde kontekste afgekeur is nie. Die vraag wat nie gevra word nie, is: Is homoseksuele gedrag as moontlik antinormatiewe gedrag, losgedink van die konteks, nie juis daarom aanvaarbaar in 'n onrein kultus nie?

    Bylaag 2 kyk anders na dieselfde tekste.

     

    Die Bybel en homoseksualiteit: Bylaag 2 voor die AS-NGK 2007

    Bylaag 2 meen dat die kwessie van homoseksualiteit deur die wêreld op die agenda van die kerk geplaas is. Sedert die Gereformeerde Kerke in Nederland homoseksuele verhoudings van liefde en trou by die Generale Sinode van Delft in 1979 goedgekeur het, is dit op die agenda van baie kerke. Die lang verloop van die studie tot by die AS-NGK 2007 en die verskille in die NGK oor die saak, noodsaak dit dat daar nou 'n besluit geneem moet word.

    Volgens Bylaag 2 is daar nog ander sake wat krities met die kwessie van die kerk en homoseksualiteit verweef is.

    Die manier waarop sommige voorstanders van blywende homoseksuele verhoudings die Bybel gebruik, bring die gesag van die Skrif - meer spesifiek sy gesag in etiese kwessies - in gedrang Heyns (1989:407) praat gemaklik van die 'dogmaties-etiese dimensie van die Skrifopenbaring' (Sy antropologiese (nie soseer etiese) studie uit 1974 is ook bekend. Bekend is ook sy antropologiese (nie soseer etiese) studie uit 1974 oor die mens - Bybelse en buite-Bybelse beskouinge. Die post-modernisme met sy 'open space'-idee waarin almal reg of 'OK' is, relativeer weer die uitsprake van die Skrif met betrekking tot etiese kwessies. Dan word die etiket van fundamentalisme om die nek van teenstanders van homoseksualiteit gehang bloot omdat hulle in die Skrif definitiewe uitsprake oor die saak vind en dit nie relativeer nie (NGK 2007a:171-176).

    Bylaag 2 verstaan dit so dat Genesis 1-3 die heteroseksuele man-vrouverhouding as die deur-Godgewilde model aan ons voorhou. Hierdie gedeelte gee geen aanduiding dat homoseksuele verhoudings as 'n alternatief beskou word nie. Dit is ook nie sonder meer aanvaarbaar dat die homoseksuele dade waarvan die Levitikustekste praat, slegs na die kultiese gebruike van heidene verwys nie. Niks in Levitikus 18:22 en 20:13 of die konteks daarvan, dui daarop dat dit hier om die kultiese praktyke van die Kanaäniete gaan nie. Dit is eenvoudig 'n seksuele taboe (Gispen 1950:72 dui aan dat dit hier om beide gaan). As seksuele wangedrag het hierdie homoseksuele wel die potensiaal gehad om konflik in families te veroorsaak en die heteroseksuele aard van die huwelik soos wat dit deur die Skrif gehandhaaf word, te ondergrawe.

    Selfs die vrywillige seksuele verkeer tussen mans word in die Levitikustekste veroordeel. Homoseksuele verhoudings van liefde en trou kan nie vanuit die Ou Testament regverdig word nie. Inteendeel, die gedeeltes waarna verwys word, hanteer dit waarskynlik nie (NGK 2007a:176-184).

    Jesus het in die reël nie die Joodse wette oor seksualiteit opgehef nie, maar dit soms selfs strenger toegepas. Wanneer Hy sosiale en godsdienstige randfigure in sy groep opneem, het hy hulle versoek om hulle onskriftuurlike gedrag te verander. Dit is ook nie korrek om die homoseksuele praktyke waarvan die Bybel praat, bloot as pederastie te beskryf nie. Paulus se gebruik in Romeine 1 van die begrip natuurlike omgang waarin hy homoseksuele praktyke afwys, is 'n aanduiding van hoe God man en vrou geskep het7. Paulus bou sy argument op Genesis 1:27. Die eerste lesers van die Bybel het in elke geval Bybelse uitsprake teen homoseksualiteit gelees teen die agtergrond dat die heteroseksuele huwelik die norm was (NGK 2007a:185-203).

    Ten spyte van hierdie afwysende uitsprake teen homoseksualiteit, gun Bylaag 2 gay broers en susters in Christus . menswaardigheid en regte. Bylaag 2 glo egter dat die Bybelse skopus vir alle seksuele verhoudinge (die huwelik ingesluit) die heteroseksuele verhouding is. 'Selfs seksualiteit dra die letsels van ons gebrokenheid' en daar is 'n saak daarvoor uit te maak dat 'homoseksualiteit die gevolg is van die gebrokenheid waarbinne alle mense leef' (NGK 2007a:203-209).

    Bylaag 2 is uitgesproke in sommige van sy uitsprake teen homoseksualiteit. Dit draai geen doekies om nie, betrek die syns insiens relevante argumente by die saak en gebruik daarvoor 67 bladsye. Dit betwis ook die persentasie homoseksueles onder die bevolking soos deur Bylaag 1 aangedui. Dit wys op opnames wat die persentasie mans op ongeveer 2% en die vroue op minder as 1% stel. Hierin is dit nader aan die minderheidsverslag voor die AKV-NHK 2007.

    Wat die rigting van sy standpunte betref, sluit Bylaag 2 ook in sommige opsigte aan by die minderheidsverslag wat voor die AKV-NHK 2007 gedien het: dit neem die heteroseksuele verhouding en huwelik as maatstaf en vertrekpunt, ontken dat die Bybel aanwysings gee vir homoseksuele verhoudinge van liefde en trou en glo dat 'n homoseksuele oriëntasie geneesbaar is. By laasgenoemde word wel gesê dat dit 'vir sommige mense moontlik sou wees' (NGK 2007a:169). Op hierdie punt toon die meerderheidsverslag meer sekerheid met die stelling dat die behandeling van homoseksueles nie 100% suksesvol is nie. Boonop stem Bylaag 2 ook met die minderheidsverslag saam dat die Bybelse skopus vir alle seksuele verhoudinge die heteroseksuele verhouding is. Laasgenoemde beperk seksuele verkeer egter uitdruklik tot die huwelik.

    Soos die AKV-NHK 2007 sou die AS-NGK 2007 met twee stelle aanbevelings voor hom vergader om oor die saak te besluit. Twee stelle wat bevestig dat lidmate in beide kerke oor die saak verskil (NGK 2007a:171).

     

    Aanbevelings voor AS-NGK 2007

    Die hele Taakspan wat aan AS-NGK 2007 verslag moes lewer, maak 'n aantal belangrike gesamentlike aanbevelings. Hierdie aanbevelings spruit uit die sake waaroor daar konsensus in die taakspan was. Dit raak nie die eintlike vraag aan naamlik of daar vorme van homoseksuele verhoudings is wat kerklik aanvaarbaar kan wees, nie.

    In die aanbevelings word gesê dat die Skrif die uitgangspunt is en dat daar daaroor nie verskille is nie. Alle mense is na die beeld van God geskep en die verlossing van alle mense loop deur Christus. Vanuit hierdie hoek is almal menswaardig. Dit beteken dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in die liefde van God en op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar kan word. Hoewel die Taakspan oor die huwelik verskil, stem hulle ten minste saam dat dit 'n belangrike instelling van God is. Beide groepe in die taakspan oordeel dat homoseksuele sowel as heteroseksuele promiskuïteit as destruktiewe gedrag afgekeur moet word. Daarby moet die kerk pastorale sorg aan mense verskaf wat 'op een of ander wyse die werklikheid van homoseksualiteit beleef' (NGK 2007a:142-143).

    Die res van die aanbevelings loop egter uiteen (NGK 2007a:143-144).

    Bylaag 1 vra eerstens dat die AS-NGK 2007 van 'n aantal sake kennis neem.

    Hieronder sê dit dat daar 'in byna' elke gemeente reeds gay-lidmate is wat goed inskakel en dat die gemeentes goed vaar in die dag-tot-dag hantering van mense met verskillende seksuele oriëntasies. Boonop beweeg die NGK tans verantwoordelik en gebalanseerd weg van 'n van-bo-na-onder benadering. Gemeentes het prosesse aan die gang waarin kerkrade en lidmate verantwoordelik optree.

    In die lig hiervan beveel Bylaag 1 aan dat AS-NGK 2007 nie nou 'n meerderheidsbesluit oor die saak afdwing nie. In plaas daarvan moet dit kies vir 'n verantwoordelike bestuur van diversiteit in die kerk. Die AS-NGK moet dit aan die diskresie van kerkrade oorlaat om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer. Die AS-NGK 2007 moet nié oor die kwessie van homoseksualiteit besluit nie.

    Hierteenoor staan die aanbevelings van Bylaag 2.

    Bylaag 2 herhaal dat 'n besluit oor die saak nie langer uitgestel kan word nie. Die AS-NGK 2007 moet diegene met 'n homoseksuele oriëntasie wat in die verlede deur die kerk seergemaak en verontreg is, om verskoning vra omdat die liefde van God nie in die kerk se optrede sigbaar was nie. Permanente homoseksuele verhoudinge en gedrag stry egter met die konsekwente Skrifgetuienis teen die saak. 'n Vorige besluit moet ook bevestig word dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou volgens die Skrif as 'n huwelik beskou kan word (hierdie formulering klink soos 'n refrein deur in die besluite van AS-NGK 2002 en AS-NGK 2004;

    Strauss 2010:31). Homoseksuele persone wat dit selibaat beoefen, moet tot die ampte toegelaat word. Homoseksuele lidmate en hulle families moet met deernis en liefde in die gemeentes versorg word. Die gesprek met lidmate wat anders as hierdie aanbevelings oor die saak voel, http://openx.aosis.co.za/www/delivery/ck.php?oaparams=2_bannerid=43__zoneid=23 __OXLCA=1__cb=5cf5888173__oadest=http%3A%2F%2Fwww.ituta.net moet met deernis en gesprek gevoer word.

    Met hierdie uiteenlopende aanbevelings oor die saak, het die oplossing vir AS-NGK 2007 moeisaam en ver gelyk. Die saak het egter 'n wending geneem toe 'n voorstel aanvaar is dat die moderators van die 10 sinodes plus 'n voormalige dosent in die Christelike etiek onder leiding van 'n gespreksleier nog ter vergadering 'n voorstel formuleer. Hoewel moeilik denkbaar, moes hulle middelgrond tussen die aanbevelings voor die vergadering soek (NGK 2007b:107). Die aanbevelings van hierdie ad hoc-kommissie sou uiteindelik 'n 8-puntbesluit van AS-NGK 2007 word.

    Vir AS-NGK 2007 moet die Skrif as uitgangspunt betenisvol in die konteks van die NG Kerk geïnterpreteer word. Die sinode onderskryf ook die gesamentlike aanbeveling oor die liefde van God, menswaardigheid en kerklidmaatskap. Die refrein van 2002 en 2004 oor die huwelik word herhaal. Volgens AS-NGK 2007 se verstaan van die Bybel kan slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as 'n huwelik beskou word Heteroseksuele en homoseksuele promiskuïteit word - soos in 2004 - ten sterkste veroordeel. Homoseksuele huwelike en verbintenisse kan ook nie as 'n alternatief vir die huwelik beskou word nie. Homoseksuele gelegitimeerdes wat 'n selibate lewenstyl beoefen, kan tot die predikantsamp toegelaat word. Laastens erken die sinode die diskresie van kerkrade om verskille oor die saak in die gemeentes met Christelike liefde te hanteer (NGK 2007b:110).

    Op die oog af het die sinode sommige van die gesamentlike aanbevelings in die verslag van die Taakspan aanvaar, maar by die verskille sterker teen die aanbevelings van Bylaag 2 aangeleun. 'n Verwarde reaksie met verskillende interpretasies het egter in die 24 uur wat op die besluit gevolg het, onder kerklui en in die media voorgekom.

    In opvolg tot hierdie reaksie het die voorsitter van AS-NGK 2007, professor Piet Strauss, met die instemming van die Moderamen, die besluit die volgende oggend ter vergadering geïnterpreteer. Die bespreking wat op sy verduideliking gevolg het, het getoon die die besluit van die Sinode en die publieke reaksie daarop, die vergadering intens besig gehou (NGK 2007b:129).

    Volgens Strauss beteken die laaste punt van die 8-puntbesluit van die vergadering, naamlik dat kerkrade verskille oor die saak in die gemeentes met Christelike liefde moet hanteer, nié dat hulle nie aan die eerste 7 punte gebonde is nie. Al 8 punte is 'n besluit van die Algemene Sinode wat die hele kerkverband en dus alle kerkrade bind. Die kern van die besluit is dat die huwelik net vir een man en een vrou is en dat homoseksuele verbintenisse of huwelike buite hierdie uitgangspunt, nie bestaansreg het nie (NGK 2007b:128).

    Hoewel nie in alle opsigte duidelik nie, gaan die Algemene Sinode hiermee dieselfde weg op as die AKV-NHKA. Soos by laasgenoemde vorm die oortuiging dat die huwelik (net) vir een man en een vrou is, die vertrekpunt. Die tradisie waarin die NGK staan, beteken verder dat seks buite die huwelik verkeerd is. Op hierdie punt was die AKV-NHK 2007 egter meer eksplisiet.

    Wat AS-NGK 2007 betref, het die 'geen-seks-buite- die-huwelik'-tradisie wat in die NGK voorkom, die implikasie dat alle vorme van homoseksualiteit met die 8-puntbesluit afgekeur word. Terwyl die Sinode hom nie oor 'n homoseksuele oriëntasie uitlaat nie, dui die besluit dat slegs homoseksuele gelegitimeerdes wat die selibaat beoefen, tot die predikantsamp toegelaat word, daarop dat homoseksuele gedrag afgekeur word. As sulke gedrag by predikante onaanvaarbaar is, moet dit ook by alle lidmate wees. Wat opval, is dat die Sinode hiermee aantoon dat die kerk in hierdie situasie net op grond van dit wat sigbaar is, kan optree. Dit gaan dus gaan om die vrugte van die boom en nie die boom self nie. As 'n homoseksuele oriëntasie sondig of verkeerd is en voordat 'n daad daaruit voortvloei, tugwaardig is, moet alle lidmate getug word. Almal het nou wel nie 'n homoseksuele oriëntasie nie, maar sit tog met 'n algemene sondige natuur of oriëntasie.

    Met hierdie besluit wat tekens van 'n kompromisbesluit vertoon, het die NGK die saak voorlopig hanteer en daarvan afgestap. Die verstaan of interpretasie van die besluit sou egter geeste sedertdien besig hou. Die openbare reaksie van erkende homoseksuele persone so laat nog as 2010 op die 8-puntbesluit, bevestig dat hulle die implikasies ook verstaan soos hier uiteengesit (Strauss 2010:31).

    Wat duidelik is, is dat die NGK en die NHKA hiermee ooreenkomste vertoon in hulle houding oor homoseksualiteit. Wat by beide die Algemene Sinode en die Algemene Kerkvergadering van 2007 merkbaar is, is hulle spaarsamige gebruik van duidelik verantwoorde Skrifgegewens vir 'n standpuntinname. Die wyse waarop die Algemene Kerkvergadering Genesis 1 teen buitehuwelikse seks gebruik en die feit dat die Algemene Sinode by sy stelling dat die huwelik slegs vir een man en een vrou is, volstaan met die sinsnede dat dit volgens sy verstaan van die Bybel is, is aangetoon. Beide vergaderings skep die indruk dat hulle bewus is van die Sola Scriptura-beginsel vir die kerklike lewe, maar geheelindrukke of geponeerde Skriflyne in plaas van aantoonbare Skrifgegewens, gee die deurslag.

    In beide gevalle wil dit voorkom asof die oortuiging dat die Bybel die hoogste gesag vir leer en lewe is, gehandhaaf word of, ten minste, onuitgesproke geld. Beide gaan egter nie uitvoerig eksegeties met die Skrif oor die tema van homoseksualisme om nie. Dit laat ons met twee moontlikhede: óf 'n etiese beroep op die Skrif kan net geheelindrukke oplewer óf die twee kerke beleef 'n innerlike verdeeldheid of skaakmatposisie oor wat die Skrif op hierdie punt as rigtinggewend aanbied.

    Oor die standpunt dat die huwelik net vir een man en een vrou is, stem die twee kerke saam. Beide verkies om die predikantsamp - die NHKA trek dit deur na alle besondere kerklike ampte - net vir homoseksuele persone wat die selibaat beoefen, oop te maak.

     

    Slot

    Deur middel van hulle breedste vergadering in kerkverband, die AS-NGK en AKV-NHK wat beide in 2007 gehou is, toon die NGK en die NHKA ooreenkomste in tydsberekening en inhoud in hulle uitsprake oor homoseksualisme. Ooreenkomste wat nie spruit uit 'n bewustelike vergelyking van die studiestukke wat beide se standpuntinname vooraf gaan nie, maar uit die feit dat beide reformatoriese of gereformeerde kerke is en hulle op hierdie stadium op Suider-Afrikaanse bodem bevind.

    Hoewel nie in alle opsigte identies nie, is daar raakvlakke tussen die twee kerke ten opsigte van Skrifgebruik, hulle hantering van en houding oor homoseksualiteit en die tydsberekening waarbinne standpunte ingeneem word. Selfs die twee kampe oor homoseksualiteit op die twee kerkvergaderings vertoon ooreenkomste. Uit die hoek van hulle hantering van homoseksualiteit vestig dit andermaal die aandag op die geestelike eenheid wat daar tussen die twee kerke bestaan.

     

    Erkenning

    Mededingende belange

    Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

     

    Literatuurverwysings

    Anthonissen, C. & Oberholzer, P., 2001, Gelowig en gay?, Lux Verbi, Wellington. Botha, P.H., 2005, Die Sinode en homoseks, Khanya Press, Kranskop.         [ Links ]

    Dreyer, Y., 2006, 'Heteronormatiwiteit, homofobie en homoseksualiteit - 'n roetekaart vir 'n inklusiewe kerk', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 62(2), 445-471.         [ Links ]

    Geyser, P.A., 2002, 'Bybelse getuienis oor homoseksualiteit - met ander oë gesien', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 58(4), 1655-1677.         [ Links ]

    Gispen, W.H., 1950, Het Boek Leviticus, Kok, Kampen.         [ Links ]

    Heyns, J.A., 1974, Die mens - Bybelse en buite-Bybelse Mensbeskouinge, Sacum, Bloemfontein.         [ Links ]

    Heyns, J.A., 1989, Teologiese Etiek2/2, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

    Jonker, W.D., 1967, Die brief aan die Romeine, NG Kerk-Uitgewers, Pretoria.         [ Links ]

    Kock, P. de B., 1975, Christelike Wysbegeerte Inleiding, Sacum, Bloemfontein.         [ Links ]

    Kónig, A., 2005, Wat is reg? Weet iemand dalk?, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

    Kosnik, A., Carroll, W., Cunningham, A., Modras, R. & Schulte, J., 1977, Human sexuality: New directions in Catholic Thought, Search Press, London.         [ Links ]

    Lekkerkerker, A.F.N., 1971, De brief van Paulus aan de Romeinen I, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ] Ned Geref Kerk (NGK), 1982, 1986, 2002, 2004, 2007b, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.         [ Links ]

    Ned Geref Kerk (NGK), 2007a, Agenda van die Algemene Sinode, s.n., s.l.         [ Links ]

    NG Kerk Wes- en Suid-Kaapland, 1999, Pastoraat aan die homoseksuele presoon, s.n., s.l.         [ Links ]

    NG Kerk Suid-Transvaal, sa, Herbesinning oor die kerk se standpunt met die oog op 'n effektiewe pastorale uitreik na homoseksuele persone, s.n., s.l.         [ Links ]

    NG Kerk Oos-Transvaal, 2001, Enkele riglyne waarvolgens met persone met 'n homoseksuele oriëntasie in verhouding getree kan word, s.n., s.l.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK), 2004, Agenda van die 67e Algemene Kerkvergadering, s.n., s.l.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK), 2007a, Agenda van die 68e Algemene Kerkvergadering, s.n., s.l.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK), 2007b, Besluitebundel van die 68e Algemene Kerkvergadering, s.n., s.l.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK), 2010, Agenda van die 69e Algemene Kerkvergadering, s.n., s.l.         [ Links ]

    Ridderbos, H., 1959, Aan de Romeinen, Kok, Kampen.         [ Links ]

    Strauss, P.J., 2010, 'Die NG Kerk en die Wet op Burgerlike Verbintenisse', Woord en Daad 413, 30-32.         [ Links ]

    Van Eck, E., 2007, 'Die huwelik in die eerste eeuse Meditirreense wêreld: Vroue in die man se wêreld (I, II en III)', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 63(1&2), 81, 103, 481.         [ Links ]

    Van Zyl, H.C., 2002, 'Die Nuwe Testament en seksualiteit', Acta Theologica 22(2), 234-261.         [ Links ]

    Van Wyk, B.J., 1991, Die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip, Kital, Pretoria.         [ Links ]

     

     

    Correspondence to:
    Piet Strauss
    PO Box 339, Bloemfontein 9300, South Africa
    Email: straussp@ufs.ac.za

    Received: 27 July 2011
    Accepted: 23 Aug. 2011
    Published: 04 Nov. 2011

     

     

    © 2011. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.
    1. Vergelyk Kosnik et al. (1977:188) oor die tradisionele Joods-Christelike afwysing van homoseksualiteit; kyk ook Kónig (2005:85); vir 'vernuwende' teoloë kyk Anthonissen & Oberholzer (2001), Geyser (2002), en Dreyer (2006); oor die verstaan van die huwelik in die Bybel, kyk Van Eck (2007a, 2007b, 2007c). Kyk ook Van Zyl (2002) wat die meer tradisionele standpunt toegedaan is.
    2. Vergelyk Verslag van die Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake van die Sinode van die NG Kerk Wes- en Suid-Kaapland, 1999, Pastoraat aan die homoseksuele person, s.n., s.l.; Studieprojek vir die Sinode van NG Kerk Suid-Transvaal sa, Herbesinning oor die kerk se standpunt met die oog op 'n effektiewe pastorale uitreik na homoseksuele persone, s.n., s.l; Sinode van NG Kerk Oos-Transvaal, 2001, Enkele riglyne waarvolgens met persone met 'n homoseksuele oriëntasie in verhouding getree kan word, s.n., s.l.
    3. 'n Soortgelyke argument word deur Kosnik et al. (1977:189) gebruik. Hulle betoog dat die verbod op homoseksuele parktyke in Levitikus kulties en nie eties nie, gemotiveer is. Met verwysing na Levitikus 18:20 sê hulle: 'Leviticus deals almost exclusively with cultic and ritual matters.' Volgens dieselfde skrywers word 'n verbod op homoseksuele gedrag in Rigters gemotiveer deur die feit dat dit die gevolg van verkragting was (1977:191). Hierteenoor beweer Botha (2005:150) dat die verbod op homoseksuele gedrag in Levitikus 18 en 20 in die konteks van verbode seksuele dade voorkom wat vandag nog verbode is, naamlik bloedskande, ontug en kinderoffers.
    4. Volgens ook Botha (2005:122). Antonissen en Oberholzer (2001:125-126) betwis ’n Genesis-begronding teen homoseksuele gedrag wat voortplanting sien as iets wat
    alleen tussen ’n man en ’n vrou kan gebeur, insluit met die argument dat voortplanting
    nie die enigste doel van seksuele gedrag is nie. Volgens ook Kosnik et al.
    (1977:199) wat die beskouing van voortplanting as die eintlike doel van seksuele
    gedrag aan ’n dwaling van die Stoïsyne toeskryf.
    5. Vergelyk voetnoot 1.
    6. Bylaag 2 verwys hierna as 'permanente' homoseksuele verhoudinge wat by die Gereformeerde Kerke in Nederland se Generale Sinode van Delft in 1979 goedgekeur is. Bylaag 1 praat egter van homoseksuele verhoudings van liefde en trou waarmee Delft woordeliks nagepraat word (NGK 2007a:145, 173). Die begrippe 'liefde en trou' sinspeel op die aanvaarde Christelike norme vir romantiese verhoudinge tussen 'n man en 'n vrou. Bylaag 1 wil liefde en trou egter óók as norme vir aanvaarbare homoseksuele verhoudinge gebruik.
    7. Jonker (1967:39), Ridderbos (1959:47) en Lekkerkerker (1971:76) oordeel onderskeidelik dat dit hier gaan om ''n vervanging van die natuurlike liefde deur die teen-natuurlike', 'n 'omkering van de door God gestelde orde' of 'n 'illustrasie van wanorde in de schepping'. Dié skrywers oordeel dus dat Paulus in sy hantering van die saak heenwys na die skeppingsorde (die natuur) as 'n norm. 'n Norm wat verband hou met die skepping soos verhaal in Genesis 1-3.