SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.67 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.67 n.3 Pretoria Jan. 2011

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die pendule subjektiwiteit-objektiwiteit in die teologie van Theuns Dreyer - 'n dialoog

 

The pendulum between subjectivity and objectivity in the theology of Theuns Dreyer - a dialogue

 

 

Andries G. van AardeI; Theuns F.J. DreyerII

IDepartment of New Testament Studies, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa
IIReformed Theological College, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

This article reflects a conversation between Andries G. van Aarde and Theuns F.J. Dreyer. Dreyer was professor of Practical Theology in the period 1983 to 1999, and director of the Reformed Theological College at the Faculty of Theology, University of Pretoria from January 2000 until his retirement in January 2012. The article aims to demonstrate the shifts in Practical Theology and how these changes influenced Dreyer and, on the other hand, how Dreyer himself was the campaigner of the progress in teaching and training of ministers of the Netherdutch Reformed Church of Africa during the past three decades.


 

 

Inleiding

In 2010 het Mattia Riccardi (2010:331-351) 'n opstel oor Friedrich Nietzsche en Immanuel Kant geskryf wat my gehelp het om te probeer verstaan waar Theuns Dreyer in die kaleidoskoop van Hervormde teologie in Suid-Afrika inpas. Dreyer is nie net een van Suid-Afrka se bekende praktiese teoloë nie; hy is in besonder 'n ekklesioloog. Hy is die voorbeeld daarvan om 'kerklike teoloog' in eietydse Suid-Afrika te wees. Deur in dialoog met Dreyer self te gaan sal ek met hierdie artikel probeer naspeur in watter mate my waarneming korrek is.

Na drie dekades waartydens ons as kollegas en vriende bykans daagliks met mekaar in kontak was, weet ek vandag verseker dat ons albei se teologiese oortuigings in verskeie opsigte ontwikkel het. Ek weet ook dat daar 'n diep basis van ooreenkoms tussen my en Theuns Dreyer se geloofsoortuiging is. Daarom dat ek in hierdie huldigingsbundel in 'n ander bydrae oor Rudolf Bultmann geskryf het. In daardie artikel het ek die volgende geskryf:

Die genadedaad van God word in die woord wat nóú verkondig word, ervaar. En die geloof van die hoorder is niks anders nie as die antwoord op dié appèllerende woord. Die oproep van God geskied deur middel van 'n historiese gebeure, in die mens Jesus wat aan ons verkondig word as die Christus en die Kurios. Hierdie Gods-ontmoeting-in-die-mens-Jesus noem Bultmann die mitologiese res, dit is naamlik dat God extra nos [van buite] die mens (pro nobis [tot ons]) wend. Hierdie genadedaad geskied in en deur hiérdie historiese mens, Jesus van Nasaret. Bultmann hou dus vas aan die extra nos van God se interaksie met die mens. Die kerugmatiese toespreke kan egter slegs eksistensieel gehoor word. Dit is nie objektiverend van aard nie, en daarom behoort gelowiges versigtig te wees om nie aan hulle geloofslewe sekuriteit te verleen deur lewende, dinamiese geloof te laat stol in die glo van geykte proposisionele dogmas nie. Die kerugma behoort in geloof en in gehoorsaamheid aangeneem te word, of dan as jy sou verkies om agnosties of ateïsties te wees, verwerp te word.

(Van Aarde 2011a:p. 3 van 7)

Hierdie geloofsoortuiging is eksistensieel ook my eie. Is ek reg dat dit ook Theuns Dreyer s'n is? En is ek verder reg dat dit juis die toenemende verinnerliking van hierdie geloofsoortuiging was en is wat die teologiese diskoers en lewe van Theuns Dreyer in die afgelope tydspan van drie dekades kenmerk?

Om terug te keer na Riccardi se insig oor die verskil tussen Kant en Nietzsche. Ons kinderlik gelowige vashou aan 'n 'res' is na Kant terug te voer. Dreyer verwys dikwels hierna in Paul Ricoeur se terme as ons 'tweede naïwiteit'. So 'n staanplek van gelowig wees veronderstel egter nie om onkrities te wees nie - 'n disposisie wat Ricoeur ([1979] 1995:219) as 'n 'valse naïwiteit' beskryf. Gelowig wees is nie 'n posisie van vermeende sekerheid nie, net so min as wat 'n 'tweede naïwiteit' ooit werklik ten volle verkry kan word (vgl. White 1991:16). Wat dit veronderstel, is dat ons te midde van al ons baie en min teologiese kennis onverkort bly glo dat God ons lewe beheers; immanent diep in ons woon; en die persoonlike singewing hiervan blyk onder meer daaruit, dat ons te midde van al ons baie of min teologiese kennis, dit bly herhaal dat God tog ook tegelyk buite ons beheer is; en dat ons in geheel - kop en hart - beperk is om 'reg' te doen, te bely en te preek. Hierdie 'tegelyk' het Nietzsche (1888, KSA 13.303) as gevolg van agnostiek widersinnig, dit wil sê 'innerlik-teensprekend' genoem, maar let wel, nie unsinnig nie.

Aan die einde van my dialoog met Dreyer kom ek terug na Kant en Nietzsche - en bevestig al dan nie my waarneming dat die spanning tussen 'objektiewe' en 'subjektiewe' geloofskennis die goue draad in Dreyer se teologie vorm. Hierdie pendule tussen 'objektief' en 'subjektief' vorm die hart van wat as 'n hermeneutiese benadering tot teologiebeoefening beskryf kan word. Dreyer (1992a:439) verwys hierna as 'n 'pardigma-verskuiwing' en sien dit as die bydrae wat hy in die periode ná die 'De Wet-era' (1968-1983) in die Hervormde Kerk begin lewer het. Professor J.I. de Wet word as die 'vader van die Praktiese Teologie in die Hervormde Kerk' gesien (Dreyer 1992a:428).

'n Persoonlike gesprek oor die teologie van Theuns Dreyer in die huidige periode van die kerk in Suid-Afrika, en in die besonder die kerk waarop hy soveel invloed vanaf 1974 tot 2011 uitgeoefen het, is meer as van gewone akademiese belang. Uit sy publikasies is 'n aantal teologiese kwessies geïdentifiseer. Die volgende sake kry aandag: outobiografiese kantaantekeninge; appliserende teologie; vernuwende denke; die kwantumsprong en vrae waarvoor daar nie weggedeins mag word nie.

 

Outobiografiese kantaantekeninge

Agtergrond

My dialoog begin met Dreyer se doktorale proefskrif in 1974 oor die negentiende-eeuse Nederlandse teoloog Johannes Jacobus van Oosterzee (1817-1882) en sy eerste boek publikasie oor die pastoraat wat in 1981 verskyn het. Sy DTheol-graad verkry hy aan die Rijksuniversiteit van Utrecht (Nederland) onder promotorskap van prof. dr. H. Jonker. Dreyer het in 1983 professor by die Universiteit van Pretoria geword na die skielike dood van ons beide se leermeester in Praktiese Teologie, professor J.I. de Wet. De Wet (1974) se laaste publikasie in HTS Teologiese Studies het gehandel oor sy verstaan van die taak van teologie - in die besonder Praktiese Teologie - 'n omskrywing wat gebaseer is op 'n bydrae in die boek van die Duitse teoloog Gert Otto ([1970] 1975), Praktisch theologische Handbuch. De Wet het dit sterk afgewys as 'n 'herlewing van 'n ou definisie' omdat die sosiale dimensie van 'kerkwees in die wêreld' (vgl. Dreyer 1981:1-2) buitengewoon sterk beklemtoon word. Dreyer (1992a:431) beskryf sy voorganger De Wet se 'basisteorie vir die Praktiese Teologie' as die beskouing 'dat die Skrif as objektiewe selfopenbaring van God die bron en norm is'. Volgens De Wet (1974:5) het Otto hierdie bron en norm vervang met 'die algemene godsdiensgeskiedenis as bron' - 'n uitspraak wat myns insiens wel vanuit 'n Protestantse perspektief verstaanbaar is, maar moontlik nie reg laat geskied aan Otto se Rooms-Katolieke oriëntasie en wat hy binne sý kerklike en teologiese tradisie as 'goddelike gesag' sou reken nie.

Gert Otto was sonder twyfel die voorloper om die 'kritiese teorie' van die Frankfurtse neo-Marxistiese hermeneutiese skool in die Praktiese Teologie aan te wend. Dreyer self - 'gesien vanuit die kerklike praxis' - verwys na hierdie paradigmaskuif as 'n wins. Volgens hom is dit goed dat 'die studieveld van die Praktiese Teologie in terme van kommunikatiewe geloofshandelinge beskryf word' (Dreyer 1995:796).1 Dreyer wys daarop dat '[m]et hierdie benadering ... afskeid geneem [is] van die diakonologiese benadering of amptelike vakke wat die gemeentelike funksionering laat opgaan in die funksionering van die ampte' (Dreyer 1995:796). Otto was professor in Praktiese Teologie in Mainz (Duitsland) tot in 1992. Onlangs, in 2007, in 'n reeks bydraes in die vaktydskrif Praktische Theologie (42/1.5) is daar weer oor Otto se baanbrekerswerk nagedink. Die praktiese teoloog van Berlyn, Wilhelm Gräb (2007:6), meen dat dit juis Otto se inisiatiewe was wat aan Praktiese Teologie 'n akademies-ensiklopediese selfstandigheid onafhanklik van Dogmatiek verleen het. Otto se oortuigings is reeds in die sestiger-sewentiger jare in Theologica Practica gepubliseer, byvoorbeeld 'Praktische Theologie als kritischer Theorie religios vermittelter Praxis: Thesen zum Verstandnis einer Formel' (Otto 1974:105-115). Hierbenewens was dit Otto wat die deur oopgemaak het vir die Praktiese Teologie om nie net as 'Wort-Gottes-Theologie' gereken te word nie en dat die 'verkondigingsparadigma' meer as een 'handelingsvelde' het (Otto 1988). Otto (1997) praat van 'die Praxis der Praktischen Theologie [als] die gelebte Religion der Menschen'. Gräb (2007:8) wys daarop dat dit 'n 'Hermeneutik der Kultur der Gegenwart' insluit en hy verwys instemmend hierna as die 'Entkirchlichung der Praktische Theologie' (Gräb 2007:9). As ek Gräb reg verstaan, beteken so 'n 'Öffnung zur Welt' nie 'n afstanddoening van die kerk nie, maar dat al die handelingsvelde, soos prediking, pastoraat en godsdiensonderrig, in die 'Spannungsfeld von Religion und Gesellschaft' staan (Gräb 2007:8). Dit het nie net te doen met die opleiding van predikante as sodanig nie (vgl. Dingemans 1996:82), maar ook om 'n 'Beitrag des christlichen Glaubens zu einer Ethik der Humanitat' (Gräb 2007:9).

Dreyer begin sy besinning oor die pastoraat (teologie) in sy 1981-werk met De Wet se insigte oor Otto. Hierdie kritiese spanning ten opsigte van 'n 'sosiale evangelie' word ook in Dreyer se 1974-proefskrif by implikasie aangetref wanneer hy met sy nadenke oor Van Oosterzee eindig met 'n waardering vir laasgenoemde se beklemtoning van aktualiteit,2 terwyl Dreyer (1974:143) teen 'krampagtige aktualisme' maan. In 1986 skryf Dreyer dat so 'n 'liberale social gospel-visie' dikwels lei tot 'n 'burgerlike godsdiens of 'n geënkultureerde Christendom waarin die kerk slegs sy seën uitspreek oor bestaande sosio-politieke sisteme' (Dreyer 1986:466-467).

Van Oosterzee het, aanvanklik as gevolg van kritiese druk, van 'n Schleiermachiaanse 'subjektiewe' teologie na 'n meer 'objektiewe' beweeg (Dreyer 1974:26-29). Van Oosterzee (1866:37) beskryf sy latere posisie as 'modern-supranaturalistisch' en selfs 'evangelisch-hervormd'. In vandag se denkkategorieë kan die Godbeskouing van die 'supranaturalisme' as 'teïsme' beskryf word omdat dit op 'n foundational wyse kennis van en nadenke oor God in terme van 'n driedimensionele wêreldbeeld as epistemologiese vertrekpunt neem. Indien so 'n teïsme vandag nie krities in die lig van die Kantiaanse revolusie bejeën word nie, kan die epistemologie grondliggend aan supranaturalisme as fundamentalisme beskryf word. Hoewel Van Oosterzee as 'supranaturalis' groot word (Dreyer 1974:31), beskryf hy homself aan die begin van sy akademiese loopbaan as anti-supranaturalisties. Hy verduur kritiek van kollegas met 'n liberaal-teologiese oriëntasie en beweeg terug nader aan die supranaturalisme. Die internalisering van die moderne teologiese kritiek kan egter nie nou meer agtergelaat word nie. Daarom die selfbeskrywing as 'modern-supranaturalis' en 'evangelisch-hervormd' (Dreyer 1974:32). Die vraag is of die omgekeerde by Theuns Dreyer gebeur het.

 

Vrae en antwoorde

Waarom het u spesifiek by professor Jonker in Nederland studeer?

T.F.J. Dreyer: Tydens my teologiese studies het ek kennis gemaak met die boek Actuele prediking van professor Jonker. Ek het hier vars aksente gehoor wat in ons teologiese opleiding nie na vore gekom het nie. So byvoorbeeld praat hy van aktuele prediking as 'n 'polair gebeuren. Onder polariteit verstaan wij dus dat de prediker bij zijn arbeid staat in het spanningsveld van het levende Woord Gods en de wereld' (Jonker s.a.:29). Op daardie stadium het ek reeds my doktorale eksamen onder professor De Wet afgelê en het begin werk aan 'n proefskrif. Op sy aanbeveling sou ek navorsing doen oor die tema: 'n Bybelse fundering van die Reformatoriese prediking. Dit het vir my gevoel na saagsels saag en die onderwerp was nie vir my 'n uitdaging nie. Intussen het die volgende boek van professor Jonker (1973) met die titel: En toch preken, die lig gesien. In die boek bespreek hy die uitdagings waarvoor die prediking te staan gekom het in 'n veranderende samelewing. Die boek het my belangstelling geprikkel en my laat besluit om met hom te korrespondeer oor die moontlikheid van verdere studie onder sy leiding.

Watter aspekte van die teologie van Van Oosterzee het u aangetrek en waar kom u interesse in Van Oosterzee vandaan?

T.F.J. Dreyer: Ek het reeds in my doktorale studies kennis gemaak met Van Oosterzee se handboeke oor die Praktiese Teologie. Dit was egter professor Jonker wat my gemotiveer het om oor Van Oosterzee as prediker en homileet navorsing te doen. In sy Homiletiek het hy sy uitgangspunte oor die prediking in teorie en praktyk uiteengesit. Hy was tegelyk ook seker die mees populêre prediker in Nederland gedurende die tweede helfte van die 19de eeu.3 Oral waar hy op uitnodiging gepreek het, het hy vol kerke getrek. Daar word byvoorbeeld in bronne beweer dat mense soms die Saterdagaand al buite die kerk oornag het om 'n sitplek vir die erediens van die Sondag te verseker. My proefskrif het uiteindelik gehandel oor die vraag in watter mate sy homiletiese uitgangspunte in die praktyk van sy prediking neerslag gevind het.

Wat van professor De Wet se teologie het u beïndruk, en wat nie?

T.F.J. Dreyer: 'n Mens moet professor De Wet se teologie binne konteks beoordeel. Hy het die eerste leerstoel in Praktiese Teologie in die NHKA beklee. Daar was op daardie stadium in teologiese kringe nie veel begrip en waardering vir die vak nie. Op kerklike vergaderings is selfs die opmerking gemaak dat 'n ervare dominee aan die studente praktiese wenke moet gee. Die wetenskaplike staanplek van die vak Praktiese Teologie is bevraagteken. Professor De Wet moes dus fokus op die wetenskaplike en teologiese gehalte van die vak. Hy het gepoog om op 'n deduktiewe wyse vanuit die Bybel en teologie die verskillende verkondigingsgestaltes (soos hy dit genoem het) prinsipieel te begrond. Die positiewe in sy benadering is dat die teologiese gehalte van die Praktiese Teologie nie in gedrang kom nie. Dit het my ook gehelp om in later jare in my teologie altyd die teologiese gehalte van die vak in die oog te hou. Hy het hom skerp afgegrens teen enige poging om die praxis te laat meespreek in die daarstel van prakties-teologiese teorieë. Ek dink dat dit daartoe gelei het dat hy eintlik nie aandag gegee het aan die eise van die tyd en die invloed daarvan op die kerklike praxis nie.

Hoe het De Wet, Jonker en Van Oosterzee u teologie verryk?

T.F.J. Dreyer: De Wet het my geleer om erns te maak met die teologiese gehalte van die vak. In die daarstelling van praktykteorieë wat gegenereer word deur die interaksie tussen teologiese teorieë en praxis, moet 'n praktiese teoloog wat teologie beoefen met die oog op die kerk, altyd terugvra na ons bron, die Bybel. Jonker het my bewus gemaak van die belangrike rol van hermeneutiek in teologiese nadenke. Die eerste seminaar wat ek van hom bygewoon het, het gehandel oor hermeneutiek. Ek onthou nog die stelling wat hy dikwels gemaak het, naamlik dat die agteruitgang van die kerke in Europa in die eerste plek 'n hermeneutiese probleem is. As filosoof en teoloog van formaat kan 'n mens in al sy geskrifte aanvoel hoe hy worstel met die uitdaging om die boodskap van die Bybel hermeneuties te vertolk in die huidige situasie. In die nalees van Van Oosterzee se teologie en sy magdom gepubliseerde preke, het hy my eerstens weer die belangrikheid van die prediking laat besef. Binne die Reformatoriese tradisie is die prediking en erediens die hartklop van die kerk. Hy het my opnuut geïnspireer tot 'n passie vir die prediking. Elke preek is 'n kreatiewe hermeneutiese kunswerk wat die rykdom van die evangelie na inhoud en vorm so moet oordra dat die hoorders van vandag eksistensieel daardeur aangegryp word.

Wat is volgens u die implikasies dat Praktiese Teologie nie net met die funksionering van die ampte - gesien vanuit die Protestantse kerk se tradisionele 'arbeidsvelde' van prediking, kategese en pastoraat - te doen het nie?

T.F.J. Dreyer: Die ou benadering in die Praktiese Teologie dat dit die teologiese dissipline is waarin aandag aan die sogenaamde 'amptelike vakke' gegee word, het daartoe gelei dat daar gefokus word op die werk van die ampte en dat die lidmate eintlik nie aan die bod gekom het nie. Hierdie benadering het berus op 'n bepaalde dogmatiese ekklesiologie. Die oorbeklemtoning van die herder-kudde model en die belang van die ampte het die rol van die lidmate in die kerk verskraal. Die opkoms van 'n prakties-teologiese ekklesiologie wat die kerk vanuit die kerk se funksies probeer verstaan het, het juis die rol en plek van lidmate beklemtoon. Die kerk vind gestalte in die geloofshandelinge van die kerk, waarby elke lidmaat betrokke is.

U was die eerste hoof van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) wat in 2000 by die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria gestig is. Ons twee was deel van die historiese onderhandelinge wat tot die transformasie van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria as 'n veelkerklike opleidingsinstelling in Januarie 2000 gelei het. Die totstandkoming van die HTK het op u inisiatief tydens die onderhandelingsproses moontlik geword. Wat was u ideaal met die HTK en het u ideaal in die afgelope dekade verwesenlik?

T.F.J. Dreyer: In 'n veelkerklike fakulteit kan dit gebeur dat 'n kerk se teologiese etos en identiteit verdwyn. Die daarstelling van die Hervormde Teologiese Kollege was juis daarop gemik om studente vertroud te maak met die eie teologiese etos, identiteit en bedieningspraktyk van die Hervormde Kerk. Die antwoord op die vraag of die ideaal verwesenlik is, sal bepaal word deur jou verstaan van die etos van die kerk. As 'etos' vir jou slegs betrekking het op die handhawing van uiterlike gebruike en tradisies, sal daar seker baie wees wat sê dat die ideaal nie verwesenlik is nie. As 'etos' egter verstaan word as 'n manier van teologiebeoefening wat ook neerslag vind in gebruike en tradisies, kan ek hoogstens sê dat daar in die HTK gepoog is om studente te begelei om vanuit ons teologiese tradisie oor ons kerklike bedieningspraktyk te reflekteer. Ek het studente probeer inspireer om trots te wees op ons wyse van teologiebeoefening omdat dit jou die vrymoedigheid gee om nie terug te deins vir die kritiese vrae van ons tyd nie. Ek dink die Hervormde teologie en etos is soepel, ruim en kragtig genoeg om vandag nog in mense se lewens 'n verskil te maak en hoop te gee. Of ek daarin geslaag het, sal net die tyd ons leer.

 

Appliserende teologie

Agtergrond

In die homiletiek van Professor Theuns Dreyer word daar nie, soos as't ware in 'n resep, eers aan die uitleg van Bybeltekste aandag gegee en dan daarna aan die praktiese toepassing daarvan in die lewe nie. Vir hom is gelowig wees 'n lewe wat met die gees van die Skrif volgemaak is. Wanneer hy spesifiek oor die begrippe 'spiritualiteit' en 'etos' nadink, beskryf hy so leefwyse as 'die luister na die Woord van die Skrif' (Dreyer 1998:297). Meditasie is vir hom 'die nadenke oor die Skrif, luister na die Skrif, oopgaan vir die Skrif, nabid van die Skrif' (Dreyer 1998:297). Reeds in sy doktorale proefskrif spreek hy die oortuiging uit dat 'explicatio in die appliserende geheel van die preek' tereg kom (Dreyer 1974:45). Vyftien jaar later huldig hy steeds dieselfde opinie en verwoord hy twee uitwasse wat beide 'vir die lewe van die kerk 'n doodloopstraat' is (Dreyer 1989):

in sommige gevalle het die prediking verword tot 'n siellose eksegetiese parafrase van 'n teks; by ander, het dit daartoe gelei dat die eksegetiese voorarbeid en teologiese deurdenking nagelaat word en die prediking laat verval in oppervlakkige moralisme en teologiese bloedarmoede.

(Dreyer 1989:368)

In sy proefskrif toon hy waardering daarvoor dat Van Ooserzee 'waardering [het] vir die applicatio met insigte van die hele Bybel' (Dreyer 1974:69). Dreyer (1974:70) verwys hierna as 'om die datief van die prediking ten uitvoer te bring'. Die 'gesag van die prediking' lê nie in die gesag van die herhaling van 'n historiese teks nie, maar slegs daar waar dit in die hermeneutiese gebeure, deur die werk van die Heilige Gees, die lewende Woord van God word wat my hier en nou aanspreek' (Dreyer 1988:324).

Hoewel hy na die 'binding aan die belydenisskrifte' as 'die grense vir die prediking' en selfs as die 'kanon in die kanon' beskryf, is Dreyer van oordeel 'dat die belydenisskrifte hermeneuties vertolk moet word in 'n nuwe situasie' (Dreyer 1988:325). So byvoorbeeld, sal die 'gesag van 'n kategismuspreek 'getoets moet word 'langs die hermeneutiese weg van die uitleg' (Dreyer 1992b:753). Dreyer (1987a:130) het die sterk oortuiging dat die 'explicatio-applicatio dualisme oorwin moet word' en toon aan dat dit die kern van Karl Barth se verstaan van 'teologiese eksegese' is (Dreyer 1987a:134). Dit is daarom 'n teenstrydigheid dat in die bespreking van Dreyer se 'openingspreek' van die 69ste Algemene Kerkvergadering van die NHKA (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika) in 2010, professor H.G. van der Westhuizen dit jammer vind dat Dreyer nie sy applicatio van sy explicatio geskei het nie en dat die explicatio van die teks dus minder aan die woord gekom het.

Vrae en antwoorde

Professor Dreyer, u is vir baie jare betrokke by die praktykvorming van teologiese studente met die oog op hulle voornemende predikantswerk. U is bekend daarvoor dat u in 'preekonderrig' van die studente verwag om in hulle preke te onderskei tussen 'n 'indikatiewe' en 'n 'imperatiewe' deel. Laasgenoemde is, soos ons vroeër daarop gewys het, reeds in u doktorale proefskrif as die 'datief' van die preek beskryf (Dreyer 1974:70). Hoewel die eksegetiese arbeid moontlik op 'n enkele teks of perikoop in die Bybel kan fokus, word die toepassing van die eksegese gevoed met insigte van die Bybel as geheel sowel as vanuit die lewenskonteks waarin die homileet haar of hom bevind. Hierdie konteks sluit die konfessionele tradisie van die eksegeet in. U is bekend daarvoor dat u in u 'appliserende teologie' hierdie wye hoek vanuit Bybelse teologie en konfessionele tradisie op die 'datief van die prediking' wil gooi, al is die 'indikatiewe' deel sterk op alleen 'n enkele teksgedeelte gefokus. Hierbenewens beskou u die 'Heilige Gees as "Inspirator" en "Illumminator" van die Woord' (Dreyer 1989:365). Wil u asseblief kortliks uitbrei op:

  • die didaktiese rede vir en wat die onderskeid in die preekvorm behels tussen 'indikatief' en 'imperatief'
  • die pneumatologiese karakter van die prediking
  • die uitwas van beide moralisme en 'prediking as eksegese'
  • die binding aan kerklike belydenis as hermeneutiese gebeure
  • prediking as nie die enigste gestalte van verkondiging nie.

T.F.J. Dreyer: In my besigwees met die opleiding van studente het ek agtergekom dat dit vir studente moeilik is om die brug te slaan tussen eksegese en prediking. Dit het een van die twee uitwasse wat u genoem het, tot gevolg: 'n blote eksegetiese ekskursie van die teks, of andersyds, 'n oppervlakkige moralistiese sedelessie wat die eksegese van die teks verwaarloos. Eksegese het ten doel om op 'n verantwoordelike wyse die Skrifteks uit te lê om te bepaal en te verstaan wat daar werklik geskryf staan. Prediking het meer as die blote verstaan van die teks in die oog. Die vraag vir die prediking is: wat wil dit wat daar geskryf staan met my laat gebeur? Dit gaan oor die intensie, of die bedoeling van die teks vir die hoorder. Om die studente te help om hierdie brug van eksegese na prediking te bou, het ek teruggeval op die bekende heilsimperatief en heilsindikatief wat ons dikwels by Paulus en Luther hoor. Die kerugma het altyd die onderliggende teologiese struktuur van indikatief en imperatief. Die indikatief dui op die dade en handelinge van God, terwyl die imperatief klem wil lê op die reaksie wat die heilshandelinge van God in die lewe van gelowiges tot gevolg het. Deel van jou homiletiese meditasie, of gelowigteologiese nadenke oor die teks, is om op grond van die indikatiewe jou te probeer inleef in wat die imperatiewe, of reaksie is wat die teks by die oorspronklike lesers of hoorders in hulle konteks, en by jou in 'n nuwe konteks, wil ontlok. Ek het hierdie kerugmatiese struktuur in verband probeer bring met die insigte van die nuwere hermeneutiek wat beklemtoon dat die gebeure van die oorspronklike teks weer kan gebeur as daar 'n horisonversmelting plaasvind. Hierdie woordgebeure is, anders as in die filosofiese hermeneutiek, nie slegs geleë in die inherente potensiaal van die teks nie, maar is teologies gesien, slegs moontlik indien die Gees van God hierdie gebeure inisieer. Prediking is daarom altyd 'n pneumatiese woordgebeure waarin die prediker in afwagting en met gebed hierdie Woordgebeure van God afsmeek. So gesien is die imperatief van die teks dan die intensie van die teks wat op grond van die heilsdade van God, via die Woordgebeure, die hoorder in beweging bring om die bedoeling van die indikatief te laat realiseer. Die imperatief is altyd gebaseer op en die gevolg van die indikatief en nie andersom nie. Wanneer die imperatief los van die indikatief gepreek word, of nog erger, as die imperatief wat mense moet doen, die voorwaarde word vir God se indikatiewe heilshandelinge, verword die prediking tot moralisme en wettisisme.

Hoewel dit moeilik is om jou los te maak van jou subjektiewe voorverstaan, wat ook deels gevorm word deur die kerk se belydenistradisie, moet 'n mens probeer om altyd met 'n hermeneutiese suspisie jou eie bril eers af te haal en onbevange te probeer luister na wat die teks wil sê. Die belydenisskrifte van die kerk is nie die bron van die prediking nie, maar wel die grense vir die prediking. Soos wat ons die boodskap van die Bybel hermeneuties vertolk, geld dit ook van die belydenisskrifte. Binne die Reformatoriese tradisie is die Bybel die norma normans en die belydenisskrifte die norma normata. Omdat prediking nie 'n vryskut onderneming is nie, maar plaasvind by grasie van jou legitimasie in 'n bepaalde kerk, sal jou prediking binne die grense van die belydenis moet plaasvind. Dit beteken tegelyk dat teoloë voortdurend die belydenisskrifte moet toets langs die weg van die hermeneutiese proses van eksegese en vertolking van die Bybel vir vandag. Gesien vanuit 'n prakties-teologiese ekklesiologie is prediking nie die enigste gestalte van die verkondiging nie. Die verkondiging, of uitdra van die evangelie, vind nie net in die erediens deur die dominee plaas nie. Om te verkondig, te getuig, die Woord uit te dra en uit te leef, is die verantwoordelikheid van elke gelowige. Die prediking in die erediens behoort die gemeente toe te rus om dit met verantwoordelikheid en oortuiging te doen.

 

Tradisievas én vernuwend

Agtergrond

Theuns Dreyer is tradisievas wat kulturele sake betref, maar hy is dinamies beweeglik in denke. Talle voorbeelde hiervan kan in sy publikasies aangedui word. Hy dien nie net in die kerkleiding van die NHKA vir baie jare nie -ook as voorsitter (moderator) van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering - maar ons het reeds gesien dat hy sy prakties-teologiese denke nie op die funksionering van die ampte fikseer nie. In sy teologiese ensiklopediese denke, asook in sy prakties-teologiese teorievorming, vervul ander sosiale en menswetenskappe 'n belangrike interdissiplinêre en multidissiplinêre rol. Hy voer in die kurrikulum modules in soos gemeentebou, jeugbediening, gesinsverryking, huwelikspastoraat en rousmart (Dreyer 1992a:439).

Ten opsigte van die NHKA word daar dikwels na die 'hervormde teologiese etos' verwys as 'Bybels-Reformatories' (kyk o.a. Oberholzer 1993:880). Ter erkenning van die bevordering van Bybels-Reformatoriese teologie ontvang beide die outeur (A.G. van Aarde) en die jubilaris (T.F.J. Dreyer) gesamentlik die HCM Fourie Erepenning van die NHKA se Kuratorium vir Teologiese Opleiding tydens die opening van die 68ste Algemene Kerkvergadering in 2007. Theuns Dreyer se beoefening van teologie verteenwoordig inderdaad die beliggaming van die Bybels-Reformatoriese etos. Die uitvoering van die kernsaak van hervormende kerk-wees binne die raamwerk van so 'n etos, te wete ecclesia reformata semper reformanda, is volgens Johan Buitendag (2008:124-138) 'n 'ongemaklike eis'. Die eis is dialekties van aard: dinamiese, aanpassende vorentoe gaan én tradisiegebondenheid. In HTS se '50 Goue Jubileum', skryf Ferdinand Deist (1994):

Dit is juis hierdie afwysing [van Kuyper se siening dat die belydenis die akkoord van kerklike gemeenskap is] deur prominente Hervormde teoloë van Skrifuitleg binne die raamwerk van 'n kerklike akkoord (oftewel belydenisskrifte) wat (op voerspoor van die sola Scriptura beginsel) in die Hervormde kerk bekend gestaan het as die 'Reformatoriese' benadering. Dit is hierdie benadering wat skerp afgegrens is van die sogenaamde neo-Calvinistiese opvatting oor wat die rol van die belydenisskrifte in Skrifuitleg moet wees en wat van vroeg af daartoe aanleiding gegee het dat Gereformeerdes die Hervormde Kerk se benadering tot Skrifuitleg vir 'liberaal' aangesien het. (Deist 1994:55)

Ook Theuns Dreyer laat die 'objektiewe' norm van Woord van God nooit los nie. Tog praat hy eerder van 'kerklike bediening' as van die 'funksionering van ampte' (Dreyer 1987b:528) en hy is ten gunste van 'ontwikkeling ten opsigte van organisasie en struktuur ... wat die beginsel van aanpassing in elke situasie verdiskonteer' (Dreyer 1987b:529). Hoewel 'die Bybel die uitgangspunt van die prediking' is, moet die 'Woord [wat] in een historiese situasie ontstaan [het] ... in 'n ander verstaansituasie verstaanbaar gemaak word' (Dreyer 1994:586). Omdat 'klank slegs 'n graadonderskeid tussen die gesproke en gesonge woord is' (Dreyer 1994:603), behoort koorsang as pneumatiese Woorden klankgebeure' (Dreyer 1994:606) waardeer te word. Twee jaar na die eerste demokratiese verkiesing in die Republiek van Suid-Afrika, vra Dreyer (1996:182) met die oog op die 'nuwe Suid-Afrika', saam met sy kollega aan die Universiteit van Pretoria, Julian Müller (1994:31-33) vir 'n 'hermeneutiek van dialoog' wat 'sin en hoop ontsluit vir die private sowel as die sosiale lewe': 'Dit moet 'n hermeneutiek van identifikasie wees wat die vrae van die geloofsgemeenskap na 'n nuwe identiteit in 'n nuwe gemeenskap artikuleer en presiseer' (Dreyer 1996:182). Hiervoor 'kan die kerk nie ... terugdeins nie' (Dreyer 1996:183). Dit blyk dat Dreyer 'n merkwaardige ooreenkoms in denke vertoon met een van sy voorgangers as sinodale voorsitter van die NHKA, naamlik J.P. Oberholzer. In 1993, wanneer Oberholzer dit het oor die 'teologiese eieaardigheid' van die NHKA', wys hy op die vooropstaan van die sola Scriptura-beginsel (Oberholzer 1993:880), en juis daarom:

Kritiese vrae wat met verloop van tyd deur my gestel is, in geskrif en mondeling, gaan oor lidmate en ampsdraers wat die gesag van die kerk en teologie agter hulle eie politieke opvattings wil inspan, die gevaar dat die kerk uit reaksie sy nugterheid mag verloor, die politisering van Artikel III of die beskouing dat hy enigsins 'n fundamentele funksie in die kerk vervul, wangebruik en misbruik van die Bybel, die gebrek aan 'n diakonale verantwoordelikheid wyer as die kerk self, die onvermoë van die kerk om uitspattige lewe by sy lidmate teen te werk, die afkeer daarvan om goeie menseverhoudinge deur die prediking en pastoraat te bevorder, die gevaar van volksteologie en apartheidsteologie, die voorhou van die volkskerkgedagte asof die wese van die kerk daarin geleë is, ensovoorts. Ek staan by hierdie kritiese vrae en ek is oortuig dat hulle voortkom uit kennis van en solidariteit met die Nederduitsch Hervormde Kerk vanaf die tyd van die Groot Trek tot vandag toe. Ek wil beweer dat dit Hervormd is om sulke vrae te stel en dat die Skrif ons telkens wegroep van alle selfingenomenheid, alle sisteemdenke, alle oorbeklemtoning van die belydenisskrifte, alle ongedissiplineerde lewenspraktyke.

(Oberholzer 1993:884)

Vrae en antwoorde

Professor Dreyer, u lewe en publikasies getuig van u inherente oortuiging dat veranderende kontekste aanpassing in teologie en praktyk verg. Hierdie vraag is daarom miskien onbillik, omdat u juis dié Hervormde teoloog is wat onbeskaam getuig dat u in denke ontwikkel het. Huldig u steeds dieselfde standpunt wat u tien jaar tevore gehad het, naamlik dat 'pastoraat' en 'evangelisasie' van mekaar geskei moet word omdat 'mense binne en buite die kerk . vir die doel van evangelisasie [nie] gelykgeskakel as objek' mag word nie (Dreyer 1984:75)?

Teen die agtergrond dat u vanjaar, die laaste jaar wat u as hoof van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) vir die Voortgesette Teologiese Toerusting (VTT) van predikante verantwoordelik is, die tema 'missionale bediening' het, wat is u siening oor volkskerklike sending en missionale bediening?

Wat is u houding oor die eietydse 'ontluikende Christen-wees' (emerging Christianity) beweging, en oor die plek van 'soekers' in kerklike bediening, en oor die diakonale verantwoordelikheid van die kerk teenoor gemarginaliseerdes verder as die grense van die kerk self?

Wat is die 'storie' wat lidmate oor die kerk vertel waarna u in u artikel 'Statistieke vertel 'n storie' (Dreyer 2003:1045-1062) verwys?

T.F.J. Dreyer: Toe ek in 1983 aangestel is in die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit van Pretoria, was Evangelistiek een van die vakke wat ek moes doseer. Op daardie stadium het kerke plaaslik en internasionaal nog gewerk met die onderskeid tussen buitekerklike, of kerklos lidmate, en heidensending. Die eerste kategorie was dan mense wat 'n formele binding met die kerk gehad het, maar kerklos of buite-kerklik geraak het. Hulle was die 'objek' van evangelisasie. Die heidenwêreld was die terrein van die sending. Gelukkig het hierdie skerp onderskeid vervaag met die nuwe benadering van die kerk as missio Dei. Ek het destyds die onderskeid tussen pastoraat en evangelisasie gemaak omdat baie lidmate vanweë die druk van die samelewing formeel hulle lidmaatskap van die kerk behou het, hoewel hulle nie meer aktiewe lidmate van die kerk was nie. In die pastoraat is die veronderstelling dat dit gaan om die versorging van mense wat belydende gelowiges is. Indien mense wat buitekerklik is ook inhoudelik op dieselfde wyse pastoraal versorg word, versterk dit die valse gerustheid dat hulle belydende gelowiges is. Ek was van mening dat die pastorale gesprek in sulke gevalle inhoudelik sal verskil. Gesien vanuit die missio Dei, verskuif die klem van die 'objek' van die pastoraat na die kerk en elke gelowige as die gestuurdes van God. Die uitleef van die missio Dei vra nie na die 'objek' nie, maar is die sigbaarmaking van die liefde van God vir alle mense. Só gesien vra dit van gelowiges om ander mense met deernis te behandel, ongeag wie of wat hulle is. Deernis skep juis die ruimte dat 'n mens begrip sal hê vir ander se emosies en ervarings. Juis daarom sal jy mense wat in die kerk seergekry het, of 'soekers' is, met begrip hanteer sodat hulle weer iets van die liefde van God by jou kan ervaar. Ek dink dat dit die bedoeling van missionale bediening moet wees en natuurlik vra dit 'n verandering in denke oor kerkwees. Kerkwees en die gemeenskap van gelowiges vind gestalte binne die sosiale en kulturele ruimtes van taal en kultuur. Die vraag oor lidmaatskap van 'n kerk word dus nie deur die kerk op 'n eksklusiewe wyse bepaal op grond van wie jy is nie, maar die gelowige het die keuse of jy jou met die taal, etos en spiritualiteit van 'n bepaalde kerk kan identifiseer. Volkskerklike sending het in die verlede gelei tot eksklusiwiteit in plaas van inklusiwiteit. Missionale bediening maak in beginsel eksklusiwiteit onmoontlik.

Statistieke van lidmaatgetalle in die kerk vertel 'n eie storie. Die hoofstroomkerke verloor lidmate, so ook die Hervormde Kerk. Mense verlaat die kerk omdat hulle seergekry het of teleurgesteld is in die kerklike strukture en bediening. Dit beteken nie in alle gevalle dat mense hulle rug op God gekeer het nie, maar wel op die kerk. Die verskynsel van 'emerging Christianity', hou hiermee verband. Mense leef hulle geloof uit buite die institusionele kerke. Dit vra van die kerk diepgaande teologiese nadenke oor ons kerkbegrip.

 

Die kwantumsprong

Agtergrond

Dreyer se 'kerklike teologie' het 'n besondere invloed op die NHKA gehad. Die NHKA het in sinodale besluite onder leiding - soms bewustelik en soms onbewustelik as maar deel van die momentum van die lewe - van 'n meer konserwatiewe lewensuitkyk by veranderende sosiale omstandighede in Suid-Afrika en elders in die wêreld begin aanpas. Hierdie 'aanpassing' gebeur nie sonder weerstand nie. Aan die einde van 'n beslissende periode kerklike leierskap (2007-2010) maak Dreyer mondeling tydens die NHKA se 69ste Algemene Kerkvergadering die uitspraak dat die toekoms sal leer of die NHKA op apartheid as sosio-politieke ideologie gebou is of op die eise van die evangelie van Jesus Christus. Met instemming beskou Dreyer die NHKA se besluit om 'onomwonde' te verklaar dat apartheid nie Bybels-teologies' regverdig kan word nie (kyk Van Aarde 2011b) as 'n 'kwantumsprong'. Binne 'n jaar is 'n 'akte van doleansie' deur 'n groep beswaarde lidmate van die NHKA uitgereik en is bogenoemde uitspraak van Dreyer as motivering daartoe gesien. Hoewel Dreyer nie meer voorsitter van die NHKA se Kommissie van die Algemene Kerkvergadering is nie, is hy wel in 2011 gevra om amptelik teologiese advies in memorandum te gee wat tydens 'n 'werkswinkelbosberaad' bespreek is. Dreyer het sy standpunt gehandhaaf. Die spanning het egter nie afgeneem nie en 'n buitengewone Algemene Kerkvergadering is vir Oktober 2011 belê.

Hoewel hierdie dialoog op skrif gestel is voor dié tyd sal die dialoog nie reg laat geskied aan Dreyer se teologiese bydrae as hierdie sosio-politieke en kerklik-teologiese verwikkeling nie ook in ag geneem word nie. Die voorafgaande 'akte van doleansie' in Nederland het tydens die lewe van Van Oosterzee met die sogenoemde 'konfessionele rigting' begin, maar is eers na sy dood (1882) in 1886 voltrek. Hierna het Dreyer (1974:29) in sy proefskrif verwys, maar dit nie bespreek nie. Hy wys wel daarop dat dit konfessionalisme in Nederland was wat tot die doleansie in 1886 gelei het en dat hierdie teologiegeskiedenis gekenmerk word deur 'misverstand en begripsverwarring' (Dreyer 1974:29).

Daar is 'n merkwaardige ooreenkoms wat vandag in die Hervormde Kerk in Suid-Afrika plaasvind met wat in die Hervormde Kerk in Nederland in die 19de eeu gebeur het. Theuns Dreyer se teologie getuig, net soos dié van Van Oosterzee (kyk Dreyer 1974:22), op 'n soort kompromis tussen 'geloof en verstand'. Soos Van Oosterzee (kyk Dreyer 1974:15) is Dreyer 'n 'ireniese' figuur. Hy word in die krisis van die begin van doleansie in sy eie kerk in 2007 as sinodale voorsitter herkies, nadat hy gemeen het dat sy formele leierskap van die NHKA in 2004 tot 'n einde gekom het. Dit is duidelik dat sy persoonlikheid én sy teologie vir die meerderheid in die NHKA aanneemlik is. Johann Beukes (2008:95) verwys na Theuns Dreyer as 'simbool' wat die etos van die Hervormde Kerk verteenwoordig. In 1998 en in 1999 het Dreyer in twee navorsingsartikels spesifiek aandag gegee aan die kenmerke van Hervormde spiritualiteit (Dreyer 1998; 1999). In sy artikel 'Voices carry: An archaeology of the Hervormd approach', op versoek geskryf vir HTS Teologiese Studies by geleentheid van die herdenking van die honderdjarige verjaarsdag van die Universiteit van Pretoria, skryf Beukes (2008) die volgende oor Dreyer:

TFJ (Theuns) Dreyer, Moderator of the NHKA from 1998-2004, is a dialectical theologian, specializing in practical theology, who displayed in his career an astute ability to keep even the intellectualized version of dialectical theology very close to the heart and mind of the NHKA. His own analysis of the Hervormd disposition and theological temperament ([etos], Dreyer 1998, 1999) consistently relies on the strained dynamics of dialectical thought - yet consistently falls back on the ethical notion of 'an encounter with the living God'. Dreyer's interpretation is exemplary of the Hervormd gravitation towards ethical epistemology, even in dialectical decorum.

(Beukes 2008:95, n. 18)

Hierdie dialoog eindig met Dreyer se leidendgewende openingsredes, in sy hoedanigheid as moderator, by die Algemene Kerkvergaderings van die NHKA wat albei gepubliseer is. Die titels van hierdie twee homiletiese diskoerse is veelseggend, te wete 'God, die Allerhoogste, woon nie in mensgemaakte konstruksies nie' (Dreyer 2004) en 'Wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees' (Dreyer 2011). Theuns Dreyer is 'n profetiese leier wat in tradisie geanker is maar ver vooruit kan kyk. In 2003 het hy in 'n artikel spesifiek sy visie vir die NHKA op pad na 2010 uitgespel en in 2009 skryf hy 'n belangrike artikel waarin hy die Nederlandse teoloog

Gerben Heitink (2007) se boek Een kerk met karakter. Tijd voor heroriëntatie bespreek met die oog op 'moontlike insigte ... wat in besonder die NHKA in die huidige krisis tot hulp kan wees' (Dreyer 2009:p. 2 van 5).

Vrae en antwoorde

  • Stem u saam met Johann Beukes se beskrywing van u staanplek in die Hervormde teologiese diskoers?
  • Teen die agtergrond van Van Oosterzee se term 'evangelisch-Hervormd' om homself te beskryf, wat is kortliks u beskrywing van 'Hervormde spiritualiteit'?
  • Wat het u in gedagte gehad toe u na die 'NHKA se huidige krisis' verwys het?
  • Tydens die 69ste Algemene Kerkvergadering van die NHKA in 2010 het u as uittredende moderator daarop gewys dat NHKA 'n kwantumsprong geneem het. Dit is 'n 'groot woord', as't ware. Wat het u hiermee bedoel?

T.F.J. Dreyer: Ek dink Johann Beukes gee aan my krediet wat ek nie verdien nie, maar in sy tipering van my teologie, verwoord hy wel wat ek graag sou wou wees. Van Oosterzee as 'ireniese teoloog' het op my lewe 'n bepaalde stempel afgedruk. Tydens die woelinge in die Hervormde Kerk in Nederland van sy tyd, wou Van Oosterzee hom nooit verbind tot 'n bepaalde groepering nie. Sy leuse wat ook op sy grafsteen gegraveer is, was: mihi nomen Christianus est, mihi cognomen reformatus est [Christen is my naam; hervormer is my bynaam]. Dit het my altyd laat besef dat jou keuses primêr bepaal moet word deur die feit dat jy 'n Christen is en nie deur die feit dat jy 'n Hervormer is nie. Natuurlik is ek trots en dankbaar dat ek 'n Hervormer is en juis in hierdie Kerk met al haar foute en gebreke 'n geestelike tuiste het. Ek sou my moeilik in 'n ander spiritualiteit kon tuis voel.

Ek dink dat 'n Hervormde spiritualiteit gegrond is in die drieslag van die Reformasie: sola Scriptura, sola gratia en sola fidei. Vir my beteken dit dat die Skrif ons oerbron is waarna ons altyd sal terugvra. Hierdie 'terugvra' kan nooit finaal stol in geykte proposisies nie. Dit plaas jou altyd in die ongemaklike posisie om weer en weer hermeneuties met die Bybel in ons situasie om te gaan. Dit maak jou nederig en beskeie in jou uitsprake oor God. Dit skep, binne bepaalde kontoere, die ruimte en begrip vir verskillende teologiese aksente en nuanses. Dit bevry jou van enige sweem van verdienstelikheid in jou geloofslewe. Dit laat jou telkens in verwondering oor die genade en liefde van God. Dit kom tot uiting in 'n liturgie in die erediens en die lewe van elke dag wat gekenmerk word deur eerbied en ontsag vir God, 'n gewydheid, gedissiplineerdheid en 'n lewe wat gekoester word in die teenwoordigheid van God.

Die Hervormde Kerk se krisis is dat die tyd en omstandighede waarin ons onsself bevind, ons dwing tot nuwe denke en aanpassings. Ons Hervormde spiritualiteit skep die ruimte daarvoor, maar het ons die moed? Die 69ste Algemene Kerkvergadering het tog aangetoon dat dit besig is om te gebeur. Die besluit oor apartheid was in my oë inderdaad 'n kwantumsprong. Vir iemand wat in die Hervormde Kerk gebore en getoë is, wat vir veertig jaar in die bediening naby die hartklop van die Kerk geleef en gewerk het, was dit eintlik ondenkbaar dat die Kerk met sy nou verbondenheid (soms verstrengeldheid) met die Afrikaner se geskiedenis, kultuur en politiek, die besluit sou neem. Dit was inderdaad 'n kwantumsprong.

 

Vrae waarvoor nie weggedeins kan word nie

Agtergrond

In 2006 het Theuns Dreyer 'n belangrike artikel geskryf oor die 'akkommodering en bestuur van diversiteit in gemeenteverband' (Dreyer 2006:1291-1308). Sy aanname is dat diversiteit 'n gegewe is wat nie negatief waardeer hoef te word nie, dat postmoderniteit nie slegs 'n idee is nie maar wyd manifesteer, dat voorkeure met persoonlikheidstipes gepaardgaan, en dat eenheid nie die teenpool van diversiteit is nie. In 2008 skryf Dreyer 'n artikel oor die moraliteit, huwelik en seksualiteit (Dreyer 2008:483-495). Hy wys daarop dat huweliksvorme in die eerste plek nie 'n instelling van God is nie en dat dit veranderend is en tog is seksuele intimiteit nie slegs 'n kultureel-sosiale aangeleentheid nie (Dreyer 2008:494). 'n Dekade vroeër het hy reeds die term 'volwasse vennootskaphuwelik' gebruik (Dreyer 1997:1264). Nog bykans twee dekades verder terug skryf Dreyer in sy boek Poimeniek:

Elke mens is uniek ... Die probleem word verder bemoeilik deur die feit dat die kerk met gevarieerdheid van "mensetipes" en verskillende situasies te doen het, wat wissel van 'n feitlik gesekulariseerde stadsmens tot 'n uiters konserwatiewe plattelandse mens.

(Dreyer 1981:48)

In sy belangrike openingsredes van die NHKA se Algemene Kerkvergaderings in 2004 en 2010 sê hy onderskeidelik dat Bybelse en konfessionele spreke nie 'finale, wetenskaplike tydlose spreke oor God maak' nie, dat dit nie gebaseer is op 'wetenskaplike ... fisiologiese en mediese navorsing' nie (Dreyer 2004:671) en dat ons dikwels terugdeins:

voor die verantwoordelikheid om in ons konteks, met ons eietydse vrae en uitdagings, opnuut te interpreteer. Dit is baie makliker om terug te gryp na die gemaksone van geykte interpretasies, want dan hoef ons nie die ongemaklike vrae te hanteer nie.

(Dreyer 2011:p. 4 van 4)

Dan stel hy in die vorm van vrae 'n aantal sake waaroor die NHKA 'opnuut, in ons konteks, die Bybel sal moet interpreteer en vertolk'. Volgens Theuns Dreyer (2011) is dit in:

die lig van hierdie opdrag om in elke nuwe situasie weer te interpreteer en te vertolk ... te verstane waarom ons kerk [die NHKA] nog altyd ten gunste van teologiese opleiding aan 'n universiteit was.

(Dreyer 2011:p. 4 van 4)

Vrae en antwoorde

My vraag ten slotte aan professor Dreyer is: hoe sal u self op dié vrae wat u persoonlik geformuleer het, wil antwoord?

  • Die Bybel en die belydenisskrifte sê die kerk is een, maar hoe gaan die vergadering daardie eenheid in ons hedendaagse situasie interpreteer?
  • Wat is die implikasie van die eenheid van die kerk vir ons deelname aan ekumeniese liggame?
  • Die Bybel sê die kerk is daardie mense wat op grond van die kruisiging en opstanding van Jesus Christus deur God se Gees tot die geloof geroep is om deel van God se kerk te wees. Hoe gee ons egter vandag gestalte daaraan?
  • Die Bybel sê intimiteit is 'n gawe van God wat ons in die verhouding tussen man en vrou moet koester, maar hoe gee ons gestalte daaraan in 'n samelewing waar egskeiding en saamwoon aan die orde van die dag is?
  • Die Bybel sê alle mense is gelyk voor God, en dat ons nie teenoor ander mag diskrimineer nie. Watter gewig moet dít dra in ons besluite oor homoseksuele mense en ons apartheidsverlede?
  • Die Bybel sê ons is God se gestuurdes in die wêreld om mense dissipels van Jesus Christus te maak. Tog krimp die kerk. Wat is fout? Hoekom sukkel ons dan so om reg te kry dat mense saam met ons dissipels van Jesus word?

T.F.J. Dreyer: Die retoriese vrae wat ek gevra het, is nie vrae waarop ek al die antwoorde het nie, maar juis vrae wat ons moet stimuleer om met groot erns en verantwoordelikheid daaroor na te dink en deur ons teologiese diskoers mekaar in ons soeke te help. In my navorsing oor diversiteit, persoonlikheidsvoorkeure en denksisteme het ek tot die besef gekom dat mense nie werklik van mekaar verskil oor prinsipiële en fundamentele sake nie. Die verskille kom na vore as daar gevra word na die toepassing en konsekwensies van daardie uitgangspunte. Die probleem is dat ons dikwels in ons debattering die vraag oor die toepassing (wat eintlik op die periferie lê) verhef tot 'n beginselsaak. In die retoriese vrae het ek telkens eers probeer om die uitgangspunt, waaroor ek dink ons almal saamstem, te stel en dan te vra wat die implikasies daarvan is. So byvoorbeeld sal almal waarskynlik saamstem dat die kerk een is, dit is 'n gegewe, maar die verskille kom na die oppervlak as daar gevra word na hoe ons aan die eenheid uitdrukking gee. Die standpunt van die Hervormde Kerk was nog altyd dat strukturele eenwording nie voorop staan nie, maar dat die sigbare uitlewing van die eenheid primêr is. Dit kom na vore op grondvlak van die gemeentelike lewe deur spontane gespreksvoering, interaksie en gesamentlike projekte. Op sinodale vlak moet dit gestalte kry in die deelname aan ekumeniese liggame. Eenheid wil juis erkenning gee aan diversiteit en daarom beteken ekumeniese deelname nie die opheffing van diversiteit en eie identiteit nie.

Ons aanvaar dat die vorm van die huwelik soos ons dit in ons westerse samelewing ken, deur God ingestel is. Wat ons in die Bybel vind, is egter nie 'n voorgeskrewe uiterlike vorm van die huwelik nie, maar duidelike uitsprake oor die vereistes van 'n intieme verhouding tussen man en vrou. Hoe ongemaklik die vraag ook al is, sal die kerk weer opnuut moet besin oor die mees effektiewe uiterlike vorm van die huwelik in ons tyd. Daarmee saam kan die kerk nie langer swyg oor die verhoudings van homoseksuele mense nie. Op grond van die waardes van die Evangelie kan ons nie teen homoseksuele mense diskrimineer nie, maar tegelyk kan ons nie anders as om die ideaal van die heteroseksuele huwelik uit te bou nie.

Ons is God se gestuurdes in die wêreld, maar sukkel om dit reg te kry. Miskien het ons toegelaat dat ons konvensies, gebruike, voorkeure en strukture vir ons belangriker geword het as ons roeping - dalk selfs 'n belemmering. 'Wat moet ons doen?' Dit was die vraag van die mense aan Petrus na die uitstorting van die Heilige Gees. Sy antwoord was kort en kragtig: 'Bekeer julle'.

 

Mihi nomen Christianus est, mihi cognomen Reformatus est [Christen is my naam; Hervormer is my bynaam]

Daar is 'n merkwaardige konsistensie in die teologiebeskouing en -beoefening van Theuns Dreyer in 'n periode van 30 tot 40 jaar. Hy het ontwikkel en op sekere punte was dit selfs radikaal. In hierdie dialoog het hy hier en daar eksplisiet en implisiet aangedui waar dié ontwikkeling eksistensieel van aard was - uiteraard ingebed in veranderende en gevarieerde lewenskontekste. Meesal het sy dinamiese vorentoe gaan verband gehou met die gegewene van die veranderinge van sosiale konteks. Waar die verandering dié van hartsoortuiging is, behoort die besonderhede nog duideliker en meer eksplisiet uitgespel te word. Hoe ook al sy, op grond van hierdie dialoog is dit duidelik dat wat professor Van Oosterzee op die vooraand van 'n doleansie in die Nederlandse Hervormde Kerk in die 19de eeu oor homself gesê het, ook vir professor Dreyer geld noudat 'n doleansie in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika dreig om plaas te vind: 'Christen is my naam; hervormer is my bynaam.' Theuns Dreyer se teologie kan as dialekties bewegende tussen die pole objektiwiteit en subjektiwiteit beskryf word. Die pendule vermy twee uiterstes, byvoorbeeld in sy beskouing oor die prediking word die pole metodistiese moralisme en kognitief oorheersde wetenskaplike rasionaliteit nie in sy teologie aangetref nie. Dreyer se epistemologie maak nie voorsiening daarvoor dat daar wetenskaplike beheer oor God uitgeoefen word nie. Dreyer argumenteer nie positivisties op deduktiewe wyse nie. Hy ontwyk ook nie die realiteite van gegewe paradigmas en sosio-politieke kontekste nie. In kontinuum met filosowe soos Immanuel Kant, Max Weber en Júrgen Habermas, verteenwoordig Dreyer se teologie 'outentieke subjektiwiteit', wat in die woorde van David Ingram (1991:67) nie geskei kan word van 'everyday cognitive and practical exigencies' nie. Metafories gesproke is 'kop', 'hande' en 'hart' in onlosmaaklike relasie met mekaar.

Val daar nie iets op die grond met so 'n bewustelike pendule-beweging tussen objektiwiteit en subjektiwiteit nie? Is Nietzsche (1888, KSA 13.303) nie reg dat daar hiér 'n innerlike teenstrydigheid teenwoordig is nie? Het Kant ([1787] 1993:147-159) dan nie gesê dat daar nie iets soos 'n 'onbevlekte persepsie' is nie. Niks is an-sich kenbaar nie! Alles is kenbaar en weetbaar en ervaarbaar deur die bril van die subjek - ook die objektiefste pool, naamlik God se Woord en ook God self. Hieroor kan geen 'suiwer' objektiewe uitspraak gemaak word nie, ook nie oor God en die geloof in God nie.

Dit bly egter wel vir die teoloë wat hulle in die raamwerk van 'n Kantiaanse 'negatiewe oop-dialektiek' bevind, 'n uitdagende opgaaf om bedag te wees vir menslik subjektiewe mistifisering van vermeende Goddelike sanksie ter ondersteuning van menslike voorkeure. In sy 2004-boek oor sy refleksie op die Apostolicum as belydenisskrif, getiteld Questions offaith: A sceptical affirmation of Christianity, bring die godsdienssosioloog Peter Berger (2004) se 'tweede naïwiteit' hom in sý 'geloofshandeling' uit by die paradoksale, maar tog dialektiese 'skepsis' en 'affirmation':

My argument is sceptical in that it does not presuppose faith, does not feel bound by any of the traditional authorities in matters of faith - be it an infallible church, an inerrant scripture, or an irresistible personal experience, and takes seriously the historical contingencies that shape all religious traditions. Nevertheless, my argument eventuates in an affirmation of Christian faith, however heterodox.

(Berger 2004:vii-viii)

Om Dreyer hier in dieselfde asem as Berger te noem is om waarskynlik te ver te gaan. Maar om Nietzscheaans te beweer dat die dialektiek subjektiwiteit-objektiwiteit noodwendig in 'n teenstrydige relativisme (dit wil sê unsinnig - vgl. Kerkhoff 1972:352) moet eindig, is ook nie waar nie. Nietzsche se uitspraak 'Das Ding-an-sich ist widersinnig' (vgl. Kerkhoff 1972:352; Riccardi 2010:331-351) is alleen geldig as ons in ons geloofshandeling nie die trialektiek sola Scriptura, sola gratia én sola fide herken en erken nie.4 Geloof as vaste vertroue en sekere wete laat ons by wyse van ompad by Nietzsche se kritiek verby kom. Geloof se bron is deur-en-deur extra nos én deur-en-deur op dialektiese wyse pro nobis. Geloof is die lewe coram Deo. Ja, Bultmann ([1941] 1948:15-17) is reg - en Nietzsche se agnostiek maak nie hiervoor ruimte nie: God is onafhanklik van die mens die bron en adres van ons geloofshandelinge - in Bultmann se terme, die 'mitologiese res'.

Wat Friedrich Nietzsche van Immanuel Kant verwag het, en wat Rudolf Bultmann én Theuns Dreyer én Andries van Aarde nie kan doen nie, is om God te 'ontmitologiseer'. Ja, soos ons in hierdie dialoog met Theuns Dreyer gesien het, kan ons met 'n hermeneutiek van suspisie in ontmoeting gaan met die bron wat 'objektief' die sterkste as Ding-an-sich aan ons opdring, naamlik die Bybel. Dit geld ook dit wat vir Theuns Dreyer as die Protestant die tweede sterkste as Ding-an-sich 'objektief' aan hóm as 'subjek' opdring, naamlik die Reformatoriese belydenisskrifte. Bedag op die relativerende krag van postmoderne denke tot op 'n punt dat geloof Nietzcheaans as widersinnig verklaar kan word, behoort ons te erken dat in vandag se teologiese diskoers dit die postmoderne en postteïstiese en postsekulêre diskoers is wat ons in die swaaiende pendule tussen subjektiwiteit en objektiwiteit in balans hou. Ad solam Dei gloriam - uit erkentlikheid aan die teologiese bydrae van Theuns Dreyer!

 

Erkenning

Die dialoog wat in hierdie navorsingsartikel neerslag vind is gevoer en geskryf uit erkentlikheid vir gewaardeerde kollega en vriend, prof. dr T.F.J. Dreyer, by geleentheid van sy aanvaarding van emeritaat aan die Universiteit van Pretoria op 31 Januarie 2012.

 

Literatuurverwysings

Berger, P.L., 2004, Questions of faith: A sceptical affirmation of Christianity, Blackwell, Malden, MA.         [ Links ]

Beukes, J., 2008, 'Voices carry: An archaeology of the Hervormd approach', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 64(3), 74-109.         [ Links ]

Buitendag, J., 2008, 'Ecclesia reformata simper reformanda - die ongemaklike eis', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 64(1), 123-138.         [ Links ]

Bultmann, R., [1941] 1948, 'Neues Testament und Mythologie', in Offenbarung und Heilsgeschehen: Beiträge zur evangelischen Theologie, VII/2, Kaiser Verlag, München; reprinted in H.W. Bartsch (Hrsg.), 1948, Kerygma und Mythos: Ein theologisches Gespräche, TF 1, Reich und Heidrich, Hamburg-Bergstedt.         [ Links ]

Deist, F.E., 1994, 'Moet teologiese opleiding kerklik-konfessioneel wees?', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 50(1&2), 52-67.         [ Links ]

De Wet, J.I., 1974, 'Die herlewing van 'n ou definisie van Praktiese Teologie', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 34(3), 1-31.         [ Links ]

Dingemans, G.J., 1996, 'Practical Theology in the academy: A contemporary overview', The Journal of Religion 76(1), 82-96.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1974, J.J van Oosterzee as homileet (1817-1882), Drukkerij Elinwijk B.V, Utrecht.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1981, Poimeniek: 'n Pastorale oriëntasie, HAUM, Pretoria/Kaapstad.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1984, 'Die noodsaaklike onderskeiding tussen pastoraat en evangelisasie ten opsigte van die probleem van kerklosheid en kerkloosheid', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 40(1), 73-81.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1986, 'Politieke en sosiale vraagstukke in die prediking', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 42(3), 464-484.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1987a, 'Die homiletiek van Karl Barth', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 43(1&2), 121-137. (Verwerk in Engels in 2007 as 'Karl Barth as a homilist', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 63(4), 1473-1491).         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1987b, ''n Prakties-teologiese evaluering van moontlike bedieningstrukture in die Nederduitsche Hervormde kerk toegespits op die rol van die predikant', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 43(3), 522-555.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1988, 'Die "kanon" in die kanon as probleem vir die prediking', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 44(2), 314-328.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1989, 'Poging tot 'n herdefinisie van die prediking binne die raamwerk van die Reformatoriese teologie', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 45(2), 350-369.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1992a, 'Die Departement Praktiese Teologie (Afd A): Die "De Wet-era" en daarna', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 48(1&2), 427-441.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1992b, 'Kategismusprediking in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 43(3&4), 743-758.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1994, 'Liturgiese koorsang as wyse van kerklike verkondiging: 'n Prinsipiële besinning vanuit hermeneuties-homiletiese perspektief', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 50(3), 583-609.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1995, 'Implikasies van die kommunikatiewe handelingsteorie vir 'n prakties-teologiese perspektief op die ekklesiologie', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 51(3), 792-805.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1996, 'Praktiese kerkwees in die nuwe Suid-Afrika', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 52(1), 179-189.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1997, 'Die verhouding prediking-belydenis in 'n post-moderne konteks: 'n "Huwelik" of "saamwoon"?', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 53(4), 1250-1265.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1998, 'Spiritualiteit, identiteit en die etos van die Nederduitsch Hervormde Kerk', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 54, 289-314.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1999, 'Hervormde etos en die roep om spiritualiteit', in D.J.C. van Wyk (red.), 20ste Eeu Hervormde Teologie, pp. 255-269, Sentik, Pretoria.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 2003, 'Statistieke vertel 'n storie: 'n Visie vir die Hervormde Kerk op pad na 2010', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 59(4), 1045-1062.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 2004, 'God, die Allerhoogste, woon nie in mensgemaakte konstruksies nie', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 60(3), 665-672.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 2006, 'Die akkommodering en bestuur van diversiteit in gemeenteverband', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 62(4), 1291-1309.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 2008, 'Die kerk, die huwelik en seks - 'n morele krisis?', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 64(1), 483-495.         [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 2009, ''n Kerk met karakter: Die perspektief van Gerben Heitink', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #315, 5 pages. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v65i.315        [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 2011, '"Wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees" (Matt 16:19)', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(1), Art. #914, 4 pages. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v67i1.914        [ Links ]

Gráb, W., 2007, 'Gert Otto und der Weg der Praktischen Theologie zur Religion in der Gesellschaft', Praktische Theologie 42(1.5), 6-13.         [ Links ]

Habermas, J., [1970] [1981] 1986, 'Towards a theory of communicative competence', in D.E. Klemm (ed.), Hermeneutical Inquiry, vol. 2, pp. 221-223, AAR Studies in Religion 43/44, Scholars Press, Atlanta, GA.         [ Links ]

Heitink, G., 2007, Een kerk met karakter: Tijd voor heroriëntatie, Kok, Kampen.         [ Links ]

Ingram, D., 1991, 'Habermas on aesthetics and rationality: Completing the project of Enlightenment', New German Critique 53, 670103.         [ Links ]

Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde 1901-2000, Handelingen en mededeelingen van de Maatschappij der Nederlandsche Letterkunde te Leiden, over het jaar 1928-1929, E.J. Brill, Leiden geraadpleegd 31 augustus 2011, op dbnl.nl/tekst/jaa003192901_01/Jaa003192901_01_0023.php        [ Links ]

Jonker, H., met medewerking van J.J. Buskes, J. van Dijk, B. van Ginkel en P. Lugtigheid, [1963] sino ano, Actuele prediking, 2de druk z.j, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Jonker, H., 1973, En toch preken, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Kant, I., [1787] 1993, Kritik der reinen Vernunft, Philipp Reclamjun, Stuttgart.         [ Links ]

Kerkhoff, M., 1972, 'Nietzches Kantkritik und ihre Voraussetzungen', in L.W. Beck (ed.), Proceedings of the third international Kant Congress, pp. 346-355, Synthese Historical Library, D. Reidel Publishing House, Dordrecht.         [ Links ]

Kettenbelt, C., 1994, 'The triad of emotion, action and reflection: A sign-pragmatic approach to aesthetic communication', Ars Semeiotica 17(1/2), 123-139.         [ Links ]

Müller, J.C., 1994, 'Pastoral care in post-apartheid South Africa', Praktiese Teologie in Suid-Afrika 6(2), 184-192.         [ Links ]

Nietzsche, F., 1888, 'Nachlaβ', in Samtliche Werke: Kritische Studienausgabe, hrsg. von G. Colli und M. Montinari [KSA], 14[122], 13.303, De Gruyter, Berlin.         [ Links ]

Oberholzer, J.P., 1993, 'Die teologiese eie-aardigheid van die Nederduitsch Hervormde Kerk: Vrae en nuanses', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 49(4), 870-886.         [ Links ]

Otto, G., 1974, 'Praktische Theologie als kritischer Theorie religios vermittelter Praxis: Thesen zum Verständnis einer Formel', Theologia Practica 9, 105-115.         [ Links ]

Otto, G., 1975, Praktisch theologische Handbuch, 2 Bd., vollständig überarbeitete und ergänzte Auflage, Furche-Verlag, Hamburg.         [ Links ]

Otto, G., 1988, Handlungsfelder der praktischen Theologie, Kaiser Verlag, München.         [ Links ]

Otto, G., 1997, Gelebte Religion: Im Brennpunkt praktischen-theologische Denkens und Handelns, hrsg. von A. Grozinger und J. Lott, Hermeneutica. Bd. 6: Practica, CMZ Verlag, Rheinbach.         [ Links ]

Riccardi, M., 2010, 'Nietzsche's critique of Kant's thing in itself', Nietzsche-Studien 39, 333-351.         [ Links ]

Ricoeur, P., [1979] 1995, 'Naming God', in Figuring the sacred: Religion, narrative and imagination, pp. 217-235, ed. M.I. Wallace, Fortress Press, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Van Aarde, A.G., 2011a, 'Rudolf Bultmann: Sy mees invloedryke bydrae in die 20ste eeu: "Urchristentum", "Jesus", "Johannes"-kommentaar?', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3), Art. #1076, 7 pages. http://dx.doi.org/10.4102/mhts.v67i3.1076.         [ Links ]

Van Aarde, A.G., 2011b, 'Memorandum', in NHKA 2011, Agenda vir die buitengewone sitting van die Algemene Kerkvergadering, 04-05 Oktober 2011, Bylae F1, pp. 43, 166-176, NHKA, Pretoria.         [ Links ]

Van Oosterzee, J.J., 1866, 'Welke theologie is in staat de stormen van deze tijd te verduren?', toespraak bij de hervatting der academische werksaamheden in September 1866, Universiteit van Utrecht, Amsterdam.         [ Links ]

Welsch, W., 1998, 'Rationality and reason', in D.R. Gordon & J. Niznik (eds.), Criticism and defense of rationality in contemporary philosophy, pp. 17-34, Value Inquiry Book Series, Rodopi B.V., Amsterdam-Atlanta, GA.         [ Links ]

White, E., 1991, 'Between suspicion and hope: Paul Ricoeur's vital hermeneutic', Literature and Theology 5(3), 311-321. http://dx.doi.org/10.1093/litthe/5.3.311        [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Andries van Aarde
Faculty of Theology, University of Pretoria, Lynnwood Road
Hatfield 0183, Pretoria, South Africa
email: andries.vanaarde@up.ac.za

Received: 31 Aug. 2011
Accepted: 05 Sept.2011
Published: 04 Nov. 2011

 

 

© 2011. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.
1.By implikasie verwysende na Jürgen Habermas ([1970] [1981] 1986:221-223) se taalhandelingsteorie.
2.Oftewel 'aktuele prediking' - moontlik 'n invloed van Dreyer se promotor, prof. dr H. Jonker (sine ano).
3.In die Jaarboek van de Maatschappijder Nederlandse Letterkunde word die volgende inskrywing oor Van Oosterzee gevind: 'De meest algemeen-populaire figuur in de Utrechtsche Faculteit was ongetwijfeld J.J. van Oosterzee. Duizenden en nog eens duizenden hebben zich in onze Hervormde kerken verdrongen, om van de welsprekendheid van dezen "redenaar bij de gratie Gods" getuige te zijn. Als Hoogleeraar onderwees Van Oosterzee de leerstellige Godgeleerheid, de theologie van het Nieuwe Testament, en de Practische Theologie. In zijn dogmatische overtuiging was hij geen leerling van Voetius of Calvijn. Evenmin was hij een geestverwant van Donker Curtius of van de Groningers. Het beste zou men hem een Nederlandschen vertegenwoordiger van de theologie der "Vermittlung" hebben kunnen noemen. Vooral op homiletisch gebied heeft hij zijn studenten gevormd' (Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde 1901-2000).
4.Ten opsigte van die affektiewe en estetiese dimensie in Kant se epistemologie, kyk onder andere Kettenbelt (1994:123-139) en Welsch (1998:17-34). Welsch (1998:18) stel die 'legacy' van Kant, Weber en Habermas soos volg: 'I think in particular of a tripartion of a cognitive, moral-practical, and aesthetic rationality.'