SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.67 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.67 n.2 Pretoria Jan. 2011

 

'n Multidissiplinêre benadering tot Praktiese Ekklesiologie

 

 

Wim A. Dreyer

Reformed Theological College, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

A multi-disciplinary approach to Practical Ecclesiology
In this contribution the author proposes a multi-disciplinary approach to ecclesiology. Ecclesiology receives some attention in all theological disciplines; however, the various methods and approaches of the different disciplines leads to divergent results. This diversity in ecclesiology could be very positive if a multi-disciplinary approach could be developed. Contributions by theologians of the Netherdutch Reformed Church of Africa (NRCA) are used as an example of divergent approaches to ecclesiology. The conclusion is reached that Practical Ecclesiology could serve as a theological discipline where different ecclesiologies could be integrated to the benefit of theological training and the church in general.


 

 

Inleiding

Die afgelope dekades word 'n lewendige en aktuele gesprek oor die kerk gevoer. Wetenskaplike publikasies op die terrein van ekklesiologie is in oorvloed beskikbaar (vgl. Kärkkäinen 2003:7). Ook in die wêreldwye ekumeniese gesprek staan kerkbegrip en kerkwees sentraal. Daar word selfs verwys na die 'absolute centrality of ecclesiology' (Faith & Order 2005:1).

In die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) het die gesprek oor kerkwees veral na die Tweede Wêreldoorlog momentum gekry. Talle wetenskaplike en populêre artikels wat op een of ander wyse met die kerk te doen het, is deur Hervormde teoloë gepubliseer. Verskeie skripsies en proefskrifte, met die kerk as tema, het verskyn. Onderwerpe soos ekumene, kerkeenheid, volkskerk, lidmaatskap van die kerk, kerkorde, die amp, bedieningspraktyk, identiteit en roeping van die kerk, die verhouding tussen kerk en owerheid, rassisme en vele meer is vanuit verskillende teologiese dissiplines behandel.

Die Hervormde debat oor kerkwees toon 'n groot mate van fragmentasie. Diversiteit en uiteenlopende standpunte is vanselfsprekend, maar het toenemend tot konflik gelei. Die konflik is deels te wyte aan vooraf-ingenome standpunte en deels aan verskillende metodes, beginsels en doelstellings waarop verskillende teologiese dissiplines berus.

In hierdie bydrae word van die standpunt uitgegaan dat, (1) alle teologiese dissiplines 'n belangrike bydrae tot ons verstaan van kerkwees maak, (2) dat daar 'n behoefte bestaan om die verskillende perspektiewe en benaderings te integreer en (3) dat hierdie integrasie in 'n vakgebied soos Praktiese Ekklesiologie moontlik is.

 

Voorbeelde van uiteenlopende benaderings tot ekklesiologie

Vervolgens word enkele voorbeelde aangehaal van hoe Hervormde teoloë die afgelope twee dekades vanuit verskillende teologiese dissiplines oor die kerk nagedink en geskryf het. Ter wille van die omvang van die onderwerp word slegs enkele voorbeelde aangebied om die waarde en noodsaak van 'n multidissiplinêre benadering aan te toon.

Ou-Testamentiese Wetenskap

J.P. Oberholzer het tydens die 1995 Predikantevergadering die gedagte uitgespreek dat die belangstelling in ekklesiologie dui op 'n skuldbelydenis, 'n erkenning dat die kerk met baie dinge besig was sonder om werklik na die Here te luister (Oberholzer 1995:852).

Oberholzer het met hierdie toespraak 'n wending in kerkbegrip en kerkwees bepleit. Dit spreek van ongeduld met 'n uitgediende model van kerkwees. 'n Hunkering na 'n meer prinsipiële en eietydse besinning oor kerkwees, wat kan lei tot transformasie en vereenvoudigde vorme van kerkwees, word sigbaar en hoorbaar.

Hy meen dat dit opvallend is dat daar skielik so baie oor die kerk gepraat word (Oberholzer 1995:851). Hy wys daarop dat die NHKA in die verlede veral op sy geskiedenis en identiteit gefokus het, maar verblydend genoeg word nou ook die wesensvrae aan die orde gestel. Hy wys ook daarop dat historiese argumente aangewend is om die identiteit van die NHKA as volkskerk te bestendig en te verdedig. Oberholzer kritiseer die politieke en ideologiese verlamming van die kerk, wat lei tot 'n onvermoë om in gehoorsaamheid aan God en sy Woord, kerk te wees (Oberholzer 1995:852). Hy pleit vir 'n gehoorsame luister na die Woord en gee dan 'n oorsig van die verskillende Bybelse metafore wat iets van kerkwees verwoord (Oberholzer 1995:854).

Hierdie kritiese woord van Oberholzer word nog skerper wanneer hy in 1999 skryf:

Die wisseling van die eeu (... en die millennium) ... konfronteer (ons) met die mislukking van so byna alles waarmee die kerk hom besig gehou het. Die groei van die kerk het negatief geword, ekonomies worstel hy om te bestaan, sy teologiese voorraad is in baie opsigte onbruikbaar, sy politieke erfenis in skerwe ...

(Oberholzer 1999:449)

Hy wys verder daarop dat die geskiedenis van 'n kerk, waar mense van die kerk hulle eiendom maak, noodwendig 'n geskiedenis van mislukking is.

A.P.B. Breytenbach analiseer die Deuteronomistiese geskiedenis en toon aan dat die verbond as teologiese oriëntasiepunt vir 'n Hervormde kerkbegrip dien (Breytenbach 1995:704). Hy beklemtoon in sy gevolgtrekking dat die geloofsgemeenskap alleen in verbondenheid met die lewende God kan bestaan (Breytenbach 1995:709). Die verbondenheid berus op die genade en liefde van God. God se liefde gee nie net hoop vir die toekoms nie, maar rig 'n voortdurende appél tot elke gelowige om in gehoorsaamheid en diensbaarheid aan God te leef. Dit word veral sigbaar in die gemeente se optrede teenoor swak en weerlose mense.

Ten slotte wys hy daarop dat omdat daar net een God is, daar wesenlik net een geloofsgemeenskap is. Hierdie wesenlike eenheid moet ten spyte van alle politieke en kulturele verskille gehandhaaf word.

P.J. Venter het in 'n memorandum (Venter 2010:3) tot die gevolgtrekking gekom dat 'n konstante metafoor vir kerkwees nie iets anders as die deelname aan die Jesus-saak kan wees nie.

Die diverse interpretasies van hierdie grondmetafoor laat egter die vraag ontstaan oor watter interpretasie aanvaarbaar sou wees. Dit is duidelik dat alle interpretasies van die Jesus-saak nie aanvaarbaar kan wees nie, anders is relativisme die kerk se voorland. Dit laat vervolgens die vraag ontstaan na die kriterium waarmee moontlike afwykings van die historiese Jesus gemeet kan word en waarbinne verskeidenheid geduld kan word.

Daar is twee moontlike kriteria naamlik, (1) die historiese Jesus en sy visie, en (2) die kanon met sy verskillende interpretasies van die Jesus-saak.

Ten opsigte van eersgenoemde is die probleem tweeledig van aard. In die eerste plek kan die Jesus van die geskiedenis net deur middel van rekonstruksie vasgestel word. Tweedens is dit nie die Jesus van die geskiedenis wat deur die kerk gekanoniseer is nie, maar wel diverse interpretasies van die historiese Jesus en sy visie, dit wil sê die 'verkondigde Christus'.

Daarom val die keuse op die tweede moontlikheid, naamlik die kanon met die diverse interpretasies van die Jesus van die geskiedenis en sy visie. Interpretasies wat saaklik verskil met dié binne die kanon sou nie aanvaarbaar wees nie. Die eenheid en verskeidenheid lê dus tegelyk in die kanon.

Nuwe-Testamentiese Wetenskap

G.M.M. Pelser toon aan dat daar verskeie benaderings tot kerkwees in die Nuwe Testament onderskeibaar is. Daarom kan daar nie van die kerk in die Nuwe Testament gepraat word nie, omdat daar nie 'n enkelvoudige kerkbegrip in die Nuwe Testament te vind is nie. Pelser het 'n omvattende ondersoek gedoen na die verskeidenheid in kerkbegrip wat in die Nuwe Testament aangetref word. Sy eksegese van die verskillende boeke van die Nuwe Testament toon duidelik die diversiteit in kerkbegrip en kan soos volg opgesom word (vgl. die volledige teks in Pelser 1995:647-673):

• Matteus: Dissipelskap word sigbaar in 'navolging'. Navolging word sigbaar in die persoonlike verbintenis met Jesus wat tot uitdrukking kom in die vermoë om by Jesus te leer en sy woorde verder uit te dra. Die dissipels staan onder die verpligting om die norme wat Jesus gestel het uit te leef en deur diensbaarheid die koninkryk van God te laat sigbaar word.

• Markus: Die kerk bestaan uit mense wat te midde van vervolging bereid is om met die volle prysgawe van eie belange, volgelinge van Jesus te word en bereid is om dit wat Jesus aan ons geleer het in die wêreld uit te leef.

• Lukas: Die kerk is die Godsvolk op weg deur die geskiedenis, vanaf Jerusalem (Jode) na Rome (die wêreld). Hierdie Godsvolk is deur die Heilige Gees vervul en word deur die Gees op sy pad gelei. Die kerk is 'n eskatologiese gemeenskap.

• Johannes: Johannes plaas die fokus op die individuele gelowige wat in en deur Jesus Christus in verhouding met God leef. Waar Johannes wel kollektiewe beelde gebruik (soos die wingerdstok), is dit duidelik dat die verbondenheid met Christus en die inwoning van die Heilige Gees die voorwaarde is om deel te wees van die gemeenskap van gelowiges. Hy praat verder van Christene as mekaar se vriende, as broers, as dienaars en as dissipels van die Here Jesus. Die kerk bestaan uit dissipels van Jesus, wat by die Parakleet en by mekaar leer.

• Paulus: Die kerk is 'n saamwees van mense wat deur die Gees toegerus word vir hulle dienswerk. Die werking van die Gees hang ten nouste saam met gelowiges se in-Christus-wees. Die kerk is God se volk.

• Hebreërs: Die kerk leef in solidariteit met Jesus. Hierdie solidariteit tussen mense en Jesus is te vind in die menswording van Jesus. Dit wat Jesus as Hoëpriester gedoen het, bring hoop en bring die geloofsgemeenskap in beweging. Die kerk is in beweging en op pad na die toekoms waarin die heil van God beleef en ervaar sal word. Die kerk is soos Israel op reis deur die woestyn, op pad na 'n nuwe vaderland.

• Jakobus: Armoede het 'n belangrike rol gespeel en die geloofsgemeenskap moet omsien na mense in nood.

• Kolossense: Die kerk is die liggaam van Christus, waardeur die heerskappy van Christus sigbaar word. Die kerk is 'n gemeenskap wat 'na bo' gerig is vanweë die nuwe lewe in Christus. In Kolossense word 'n sterk identifikasie van die kerk met die koninkryk van God gevind.

• Efesiërs: Die kerk is die sfeer waarin die heil in Christus realiseer. Dit is die ruimte waar versoening tussen God en mens moontlik is en tegelyk uitmond in versoening tussen mens en mens. Dit is 'n inklusiewe (Jood en nie-Jood) huishouding van God die Vader, die liggaam van Christus wat as 'n eenheid na die Hoof toe groei en 'n tempel wat opgebou word tot eer van God. Dit is in Efesiërs waar die universele kerk na vore tree, die kerk wat een (4:4), heilig (5:26-27), algemeen (1:22-23) en apostolies is. Die kerk het reeds 'n kosmiese karakter aangeneem. Die kerk was, en is, en sal altyd wees. Die kerk is egter nie net 'n idealistiese en hemelse grootheid nie, maar moet gestalte vind in die manier waarop gelowiges optree (byvoorbeeld in die huwelik) en in hulle getuienis teenoor die wêreld.

• Pastorale briewe: Die kerk word verstaan as God se huisgesin wat ordelik funksioneer en bestuur word deur die gesinshoofde. Ampsdraers tree na vore as Geesvervulde draers van die waarheid. Die amp tree so sterk na vore dat die algemene gawes wat deur die Gees aan gelowiges geskenk word, op die agtergrond staan. Dit is ook opmerklik dat die eskatologiese spanning en die verwagting van die wederkoms op die agtergrond staan. In die lig van die uitgestelde parousie word die menslike organisasie van die kerk al hoe belangriker. Die fokus verskuif ook van apostolaat na die pastoraat. Die kerk moet homself versorg en in stand hou en verskans teen die gevare van die wêreld. In die Pastorale briewe het die kerk reeds sy karakter as gebeure verloor en staties begin raak.

• 1 Petrus: Die Christene is vervolg, het hulle besittings verloor en is uit hulle gemeenskappe verdryf. Gesinne is in die proses verwoes. Daarom word die kerk as die huisgesin van God uiters belangrik, want dit is waar die gelowiges geborgenheid kan vind. Die kerk word verstaan as 'n gemeenskap van uitgeworpenes, maar tegelykertyd 'n gemeenskap wat deur God uitverkies is (ingenooi is) en nuut gebore is in die huisgesin van God. Ook die breër verband is belangrik en daarom word die gelowiges ook die nuwe volk van God, die uitverkore priesterdom.

• Openbaring: Die kerk is onderworpe aan baie gebreke. Die kerk is egter in sy gebrokenheid steeds getuie van die koningsheerskappy van Christus. Christus heers oor die geskiedenis en oor die kosmos. Die kerk sal triomfeer en sal by God wees in die hemelse Jerusalem.

A. van Aarde het daarop gewys dat Jesus nie die kerk as instituut, met sy geboue, strukture, kanonieke Bybel, belydenisskrifte, teologiese opleiding, kerkordes, ampte en vergaderings, gestig het nie (Van Aarde 1995:626-629).

Teksgedeeltes soos Johannes 21:15-17 waar Jesus Petrus opdrag gee om sy skape te laat wei, en Matteus 16:17-19 waar Petrus verneem dat hy die rots sou wees waarop die kerk gebou sal word, dui nie daarop dat Jesus 'die kerk' gestig het nie. Van Aarde, in aansluiting by Conzelmann en Lindemann (1980), meen dat hierdie teksgedeeltes nie histories na Jesus teruggevoer kan word nie (Van Aarde 1995:631). Die kerk, in sy sigbare gestalte, is dus nie 'gestig' nie.

Daar bestaan tegelykertyd 'n diskontinuïteit en kontinuïteit tussen Jesus, die vroeë Jesus-beweging en die kerk (Van Aarde 1995:632-633). Hoewel die ontstaan van die kerk nie na 'n 'stigtingsgebeure' teruggevoer kan word nie, moet die kerk se ontstaan as 'n proses of beweging verstaan word.

Die vroeë volgelinge van Jesus is aangegryp deur sy alternatiewe wysheid wat verwoord is in kernagtige spreuke en die metaforiese verstaan van die koninkryk van God as 'n nie-hiërargiese, denkbeeldige huishouding waarin al die lede van die huishouding op 'n gelyke wyse toegang tot die Vader het (Van Aarde 1995:629).

Die huishouding van God as metafoor vir die kerk was in die vroeë kerk van besondere belang, en het sy oorsprong in Jesus se eie verstaan van God as Vader (Van Aarde 1995:634).

Van Aarde toon verder aan wat die vereistes is (aan die hand van 'n sosiologiese ondersoek) vir 'n beweging om te verander in 'n faksie, dan 'n sekte en uiteindelik 'n kerk. Hierdie voorwaardes is gunstige omstandighede, nuwe visie, verwagting op sukses en ruimte vir verandering. Wanneer die voorwaardes bestaan, gaan 'n groep deur 'n vormingsfase; deur 'n stormagtige periode van grensoorskreiding; samehorigheid op grond van bepaalde beginsels kom tot stand, en dit lei tot aksie.

In die hele proses is daar altyd die moontlikheid van ontbinding (vgl. Van Aarde 1995:633-638). Ontbinding word 'n werklike moontlikheid wanneer 'n beweging stol in strukture (institusionaliseer).

E. van Eck toon aan dat vroeëre Hervormde Nuwe-Testamentici soos J.H.J.A. Greyvensteyn en A.S. Geyser, vanuit hulle eksegetiese studies, nie die 'vanselfsprekende' presbiteriaal-sinodale en volkskerklike kerkbegrip ondersteun het nie (Van Eck 1995:825-850).

J.H.J.A. Greyvensteyn was dosent in Nuwe Testament van 1917 tot 1945 aan die Universiteit van Pretoria. Van Eck doen 'n analise van Greyvensteyn se oordenkings en artikels, en kom tot die gevolgtrekking dat Greyvensteyn die geestelike aard van die kerk beklemtoon het, waar geestelike waardes en die liefde vir God en alle mense die deurslag gee.

Greyvensteyn skryf onder andere in 1943, 'klassevooroordeel en persoonlike en nasionale meerwaardigheidsinbeelding was nog altyd die groot struikelblokke in die weg van die liefde en algemene humaniteit' (aangehaal in Van Eck 1995:828).

Greyvensteyn het gewaarsku teen 'n noue relasie tussen kerk en volk. Daarteenoor het hy die standpunt gestel dat die gemeente van Christus uit alle geslagte en volke bestaan, dat die kerk 'n geestelike gemeenskap is wat bou op die fundamentele eenheid van die menslike geslag. Die kerk het ook geen belang by staatkundige heerskappy of politieke mag nie en moet ook nie daarna streef nie (Van Eck 1995:829).

A.S. Geyser het baie skerp teen enige vorm van eksklusivisme en volkskerklike denke te velde getrek. Hy het sterk gestaan op die punt dat die kerk in die Nuwe Testament 'n universele gerigtheid toon wat in teenstelling met die Joodse partikularisme staan (Van Eck 1995:830). Op grond van sy verstaan van die Antiogeense teologie wat in Lukas en Handelinge reflekteer, het Geyser beklemtoon dat die kerk alle nasionale en geografiese grense moet oorstyg.

Verder het Geyser konsekwent geredeneer dat die kerk ook sigbaar een moet wees. Sigbare eenheid is 'n opdrag van die Here. Sigbare eenheid gaan nie in die eerste plek om een kerklike organisasie nie, maar om onbelemmerde en vrye gemeenskap in die geloof tussen lidmate en gelowiges van verskillende rasse en volke.

Hierdie eenheid berus ten diepste op die eenheid wat daar in Christus is. Christus is die hoof van die liggaam wat organies een is met die lede van die liggaam. Die lede van die liggaam funksioneer ook in 'n organiese eenheid met mekaar en met Christus.

Kerkbegrip en ampsbegrip hang ten nouste saam. In 'n memorandum (Van Eck 2006:2) aan die komitee wat studiewerk oor die NHKA se ampsbegrip doen, kom Van Eck tot die gevolgtrekking dat die 'ampte' waarna in die Nuwe Testament verwys word, eerder as 'funksies' verstaan moet word.

Die vroeë geloofsgemeenskappe het bestaan in terme van óf bepaalde huisgemeentes, óf 'n aantal huishoudings wat saam 'n geloofsgemeenskap gevorm het as fiktiewe huishouding na analogie van 'n gewone huishouding. Hierdie fiktiewe huishouding(s) was uitdrukking van die feit dat die familiale die dominante sosiale instelling van die tyd was.

Aan die hoof van so 'n huisgemeente sou dus niemand anders as die familiehoof (pater familias) gestaan het nie. In die geval van die ouderling byvoorbeeld, het die pater familias homself (gesien teen die agtergrond van 'n samelewing waar eer en skande of skaamte 'n dominante sosiale aangeleentheid was) in die 'amp' van die ouderling ingepresteer. 'Ampte' in vandag se sin van die woord, was hierdie posisies egter nie. Die Nuwe Testament 'ampsbeskouing' sou dus, indien dit enigsins moontlik is in terme van bogenoemde diversiteit, hoogstens beskryf kon word as 'n funksionele ampsbeskouing. Hiermee word bedoel dat die eise van die dag, dit wat nodig was, aanleiding gegee het tot die totstandkoming van sekere 'ampte'.

Van Eck (2006:4) noem ter illustrasie die 'amp' van die apostel. Omdat daar die behoefte was aan betroubare garante van die inhoud, werk, lewe en implikasie van die lewe van Jesus, het die 'amp' van die apostel, na vore getree. Met die evolusionistiese totstandkoming en latere 'finalisering' van die Nuwe Testament, het hierdie 'amp', omdat dit sy funksie verloor het, stelselmatig op die agtergrond geskuif. Iets hiervan word byvoorbeeld reeds in 1 Petrus 4:10-11 gesien: Die feit dat al die bedieninge wat in 1 Korintiërs 12:8-10 en Romeine 12:6-8 voorkom, nie in 1 Petrus genoem word nie, kan daarop dui dat al die bedieninge deur Paulus genoem, nie meer bestaan het nie, juis omdat dit nie meer funksioneel nodig was vir die voortgang en verkondiging van die evangelie nie.

Sistematiese Teologie

G.C. Velthuysen was een van die eerste Hervormde teoloë wat met 'n sogenaamde 'eksperimentele ekklesiologie' vorendag gekom het (Velthuysen 1988:489). Nadat Velthuysen 'n dogmenhistoriese oorsig gegee het van ekklesiologie sedert Tertullianus, Augustinus en die Reformasie, wend hy hom tot belangrike teoloë van die 20ste eeu.

In aansluiting by H. Ott en H-J. Kraus grond Velthuysen sy kerkbegrip in die Christologie. Die kerk kan alleen verstaan word in verhouding met Christus. Daar bestaan 'n onbreekbare en wesenlike eenheid tussen die kerk en Christus.

Hy sluit ook by K. Barth aan wat na die gemeente verwys as die aards-historiese bestaanswyse van Christus (Barth 1953:738). Dit beteken egter nie dat Barth die kerk verstaan as Christus prolongatus nie, want op 'n tipiese dialektiese wyse onderskei hy tegelykertyd baie skerp tussen die kerk en Christus. Dit gaan dus vir Barth nie om 'n wesensidentifikasie nie, maar om 'n identifikasie tussen die Eienaar en dit wat aan Hom behoort. Hierdie identifikasie is nie minder radikaal as 'n wesensidentifikasie nie, maar funksioneer wel op 'n ander vlak.

Velthuysen sluit ook by die ekklesiologie van D. Bonhoeffer aan. Bonhoeffer het van die gemeente gepraat as Christus existierend als Gemeinde (Velthuysen 1988:501). Die gemeente is dus a priori 'n openbaringsgestalte. Die kerk is Christus op aarde. Om kerk te wees, beteken om een met Christus te wees, om in Christus te wees. Bonhoeffer temper egter sy uitsprake deur die kwalifikasie dat Christus die Hoof en die Heer van die kerk is.

Velthuysen kom tot die gevolgtrekking dat die kerk nie die geïnkarneerde Christus prolongatus is nie, maar dat die kerk ook nooit sonder Christus is nie (Velthuysen 1988:502). Die eenheid tussen Christus en die kerk is 'n werklikheid wat in die geloof ervaar en beleef word.

Velthuysen sluit af deur te waarsku teen verstarring en gearriveerdheid. Die kerk moet altyd rekening hou met die reformatoriese slagspreuk: 'Ecclesia reformata, semper reformanda' (Velthuysen 1988:512).

J.H. Koekemoer wys daarop dat die bestaan van 'n kerklike instituut en kerklike organisasie bepaalde vrae ten opsigte van kerklike bediening oproep. Hierdie vrae sal net beantwoord kan word aan die hand van die kerk se selfverstaan (vgl. Koekemoer 1995:595-603).

Met dit as vertrekpunt, definieer Koekemoer die kerk as creatura verbi, as 'n geloofsgemeenskap waar die Woord verkondig, gehoor, verstaan en geglo word. Dit impliseer dat die kerk nie as instituut verstaan kan word wat in bepaalde strukture stol nie, maar as dinamiese gebeure wat telkens weer kerk word.

Aansluitend by die Barmer Theologische Erklärung, H. Ott en E. Brunner, verstaan Koekemoer die kerk as gebeure, wat handelend in die bediening van die Woord en Sakrament en onder leiding van die Heilige Gees, kerk word. Die kerk as gebeure kan nooit in selftevrede isolasie verval nie; kan nooit rustig arriveer nie.

Hy verwys ook instemmend na E. Brunner se opvatting dat die kerk nooit iets anders as coetus electorum, corpus Christi en communio sanctorum kan wees nie (Koekemoer 1995:596). In hierdie drie kenmerke is die waarborg teen 'n vernietigende institusionalisme te vind.

Brunner het daarop gewys dat die kerk in 'n lewelose instituut verander wanneer wette en bepalings in die kerk die deurslag gee en dat 'n juridiese en outoritêre struktuur vreemd is aan dit wat die kerk behoort te wees. Die gevolg is verstarring en doodsheid. Dit alles gebeur wanneer die empiriese kerk losgemaak word van die kerk as gebeure (Brunner 1960:43-5).

In terme van die kerk as corpus Christi, verwys Koekemoer instemmend na D. Bonhoeffer wat die kerk verstaan as Christus eksisterend as gemeente (vgl. Koekemoer 1995:598). Dit is die wyse waarop Christus in die wêreld teenwoordig is. Die kerk is egter nie Christus prolongatus nie, want op 'n dialektiese wyse is Christus ook Hoof en Heer van die kerk en staan Hy selfs teenoor die kerk. Wat bedoel word, is dat die lewende Christus in die lewende kerk teenwoordig is. As die kerk hierdie bewussyn van die werklike teenwoordigheid van Christus verloor, is dit verby met die kerk.

K. Barth (1953:738) het dieselfde gedagte verwoord met sy onderskeid tussen Christus as Hoof van die kerk (verwysend na seiner himmlischen Existenzform) en die gemeente as die liggaam van Christus (verwysend na sy irdisch-geschichtliche Existenzform).

J. Buitendag het sedert 2000 in sy voordragte en doseerwerk besondere aandag aan ekklesiologie gegee. Sy kerkbegrip toon invloede van Berkhof, Dingemans, Küng, Moltmann, Minnear en Zizioulas asook gedagtes soos verwoord deur Faith and Order (Faith & Order 1998, 2005) en die Kerkorde van die Protestantse Kerk Nederland.

Sy nadenke oor kerkwees reflekteer nie net in wetenskaplike artikels wat in die Hervormde Teologiese Studies (Buitendag 2008) verskyn het nie, maar word ook verwoord in die dokumente wat hy as voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV) vir die Nasionale Colloquium voorberei het. Die Colloquium het van 27-29 April 2006 onder leiding van die Kommissie van die AKV te Hammanskraal plaasgevind. Die tema van die Colloquium was 'Identiteit en relevansie van die NHKA in die 21e eeu'.

In sy openingsrede tydens die Colloquium stel Buitendag (2006) die eis om kerklike vernuwing helder en duidelik, deur onder andere te verwys na die werk van P. Ward, Liquid Church, wat in 2002 verskyn het:

Die kerk moet soos water wees - vloeiend en beweeglik, sê Pete Ward onlangs in 'n publikasie waarvan na my mening deeglik kennis geneem moet word. Hy oordeel ons moet wegbeweeg van 'n 'soliede' kerk as bloot die bymekaarkom van uitverkorenes op 'n spesifieke plek en tyd. Kerk is eerder 'n vloeibare kommunikatiewe netwerk van verhoudinge. Dit is dinamies en veranderlik. Dit is 'n 'likiede' kerk. Die Hollandse vertaling van genoemde boek noem dit sommer gewoon die 'waterkerk'. Lidmaatskap word ook eerder bepaal deur toegewyde deelname en Geesvervulde betrokkenheid...

(Buitendag 2006:8)

In die dokument 'Identiteit en relevansie van die NHKA in die 21e eeu' (NHKA 2006) verwoord hy kerkwees soos volg:

Vir enige kerk is die kwessie van identiteit en relevansie in die wêreld van groot belang. Wat daarmee bedoel word is dat die kerk weliswaar 'n bepaalde identiteit hét, maar dat dit altyd ook bra ongemaklik is - die gelowige stap die tweede myl, draai die ander wang, seën waar ander vervloek ... (Matt 5:38-42). Dit is die geval omdat ons in die wêreld, maar nie van die wêreld is nie. Ons is hemelse sowel as gewoon wêreldse burgers, ja[,] burgers van twee ryke. Daarom is lidmate van die kerk 'eenders' as ander mense, maar tegelyk ook radikaal 'anders'. Paulus het immers al gepraat van Christus wat vir party 'n aanstoot is en vir ander weer onsin (1 Kor 1:23). Hierdie andersheid is daar omdat die waardes van die Koninkryk van God absolute prioriteit bo enige ander wêreldse waardes, kultureel of polities, in die kerk het. Dit maak van die kerk 'n eskatologiese gemeenskap ...

Die grond en sin van ons bestaan is alleen Christus. Die NHKA wil altyd kerk van die Woord wees. Ons bely in gehoorsaamheid aan die Skrif as die enigste bron en norm van die kerklike verkondiging en diens, ons geloof in die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Die NHKA sien homself pertinent, ooreenkomstig sy belydenis, as 'n gestalte van die een, heilige, apostoliese en katolieke (algemene) kerk ...

(NHKA 2006, Kommissie van die AKV Memorandum)

Hierdie dokument wat Buitendag opgestel het, is deur die Kommissie van die AKV as amptelike dokument aanvaar en by die Nasionale Colloquium as besprekingsdokument aangebied. Dit is ook versprei as Herderlike Skrywe aan gemeentes van die NHKA.

Die Nasionale Colloquium van 2006 was 'n doelbewuste poging van die Kommissie van die AKV om nogmaals die gesprek oor kerkwees op 'n konstruktiewe wyse te stimuleer en te bevorder.

Godsdiens- en Sendingwetenskap

L.J.S. Steenkamp, Direkteur van die destydse Sentrum vir Teologiese Navorsing en Toerusting, het in 1995 'n belangrike en rigtinggewende artikel gepubliseer (Steenkamp 1995:604622). Na 'n historiese en teologiese oorsig, maak hy die stelling dat dit van uiterste belang is dat 'n nuwe paradigma vir kerkwees in die 21ste eeu ontwikkel moet word. Die paradigma van die Christendom is verby. Hy pleit dat die kerk weer erns sal maak met die apostoliese paradigma van die eerste eeue van die kerk se bestaan.

Steenkamp pleit daarvoor dat in enige besinning oor die toekoms van die kerk, erns gemaak moet word met die wesenlike van kerkwees. Hy wys daarop dat kerkwees om eenvoud in onderlinge sorg, liefde en 'n gerigtheid op God gaan (Steenkamp 1995:618).

Hy ontgin Bybelse metafore soos die kerk as die lede van God se huisgesin, 'n gebou waarvan Christus die hoeksteen is, 'n uitverkore volk, die liggaam van Christus en vele ander, en wys daarop dat die kerk op weg na die 21ste eeu nood het aan bekering en transformasie (Steenkamp 1995:619).

Steenkamp vind die kern van 'n nuwe paradigma vir die 21ste eeu in die kerk se apostolêre gerigtheid op die wêreld, die liefdevolle sorg aan medegelowiges en toewyding in die geloof (Steenkamp 1995:620).

Steenkamp waarsku teen verstarring, selfvoldaanheid en gearriveerdheid in ons kerkwees. Die kerk sal moet besef dat hy altyd op weg is. In die besinning oor die kerk se wese en roeping is die vraag telkens: Hoe kan die kerk voor God verskyn? Hoe kan die kerk coram Deo leef? Dit is alleen in Christus moontlik. Die kerk moet word wat dit reeds in Christus is. Die ware identiteit van die kerk is in Christus te vind.

Kerkgeskiedenis en Kerkreg

In die teologiese begronding en uitbou van 'n Calvinistiese en presbiteriaal-sinodale kerkbegrip in die NHKA, het A.D. Pont 'n groot aandeel gehad. Pont was van 1957 tot 1992 hoogleraar in Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Dit was veral sy baanbrekerswerk op die terrein van die Kerkreg en sy kennis van Calvyn se teologie wat onthou sal word. Sy twee bande Historiese Agtergronde van ons Kerklike Reg (Pont 1981, 1991), waarin hy die belangrikste kerkordes in die Calvinistiese, Nederlandse en Suid-Afrikaanse geskiedenis bespreek het, het veel gedoen om in die NHKA 'n baie sterk presbiteriaal-sinodale kerkbegrip te vestig. Dit is duidelik merkbaar in die Kerkorde wat in 1997 deur die AKV aanvaar is (NHKA 1997).

Pont het aangetoon dat die reformatoriese kerkbegrip nie op 'n geslote sisteem berus nie (Pont 1995:771). Die feit dat die reformatore die verband tussen die 'kerk van die geloof' en die 'kerk in sy sigbare vorm' behou het, het daartoe gelei dat die kerkordes aan die belydenis verbind is.

Pont beklemtoon dat die kerkbegrip van Calvyn rigtinggewend vir die NHKA was en is. Die NHKA se verstaan van kerkwees kan nie anders as Calvinisties wees nie (Pont 1995:772).

Calvyn het die ware kerk gevind waar die Woord suiwer gepreek word, die sakramente reg bedien word, en die dissipline toegepas word. Hierdie kerkbegrip is via die reformatoriese belydenisskrifte in die NHKA gevestig en moet, volgens Pont, onverkort as basis van ons kerkwees dien.

Vanuit hierdie kerkbegrip kom 'n bepaalde bedienings-praktyk voort wat sterk fokus op, (1) die ampte in die kerk, en (2) die erediens (met prediking en sakramentsbediening as die hart daarvan).

Hierdie kerkbegrip, ampsbegrip en pastorale bedienings-praktyk word in die Kerkorde verskans. Dit manifesteer konkreet in die predikant wat preek, die ouderling wat opsig uitoefen en die diaken wat verantwoordelik is vir die barmhartigheidsdiens.

Twee van Pont se studente, S.J. Botha en B.J. van Wyk, het sy gedagterigting verder uitgebou. Beide het as dosente aan die Fakulteit Teologie en by geleentheid as voorsitter van die Raad vir Regsadvies gedien. Beide was ook betrokke by die opstel van die 1997 Kerkorde.

As voorbeeld hiervan dien die publikasie van B.J. van Wyk met die titel Die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip (Van Wyk 1991) waarin hy die kerkbegrip in die NHKA histories en kerkregtelik ondersoek en interpreteer.

Van Wyk aanvaar vanselfsprekend dat die NHKA op 'n presbiteriaal-sinodale grondslag berus. Daar is geen verwysing na enige resente ekklesiologie nie, hoewel hy breedvoerig die verband tussen ekklesiologie, kerkbegrip en kerkorde aantoon (Van Wyk 1991:1-7).

Van Wyk beklemtoon deurlopend dat die kerk nie in die eerste plek as instituut of in strukture manifesteer nie, maar as lewende organisme wat onder die heerskappy van Jesus Christus leef. Die basis hiervan vind hy in Calvyn se verstaan van die verbond (Van Wyk 1991:11).

Hoewel Van Wyk in sy publikasie poog om weg te bly van kerklike institusionalisme, ontkom 'n mens nie aan die indruk dat 'n sigbare, goed geordende, gestruktureerde kerk belangrik is nie. Die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip lei bykans noodwendig tot 'n beklemtoning van orde, dissipline, tug en vaste strukture gegrond op die Woord. Institusionalisering van die kerk is, en bly dus, 'n wesenlike element van 'n kerk wat bou op die fondament van 'n Calvinistiese kerkbegrip.

Hierdie vanselfsprekendheid van die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip in die NHKA is ook te vind by S.J. Botha (Botha 1995:753-754). Botha was voorsitter van die komitee wat die 1997 Kerkorde moes opstel. Ook hy, soos Van Wyk, beklemtoon die verband tussen ekklesiologie, kerkbegrip en kerkorde.

Wanneer hy bepaalde vertrekpunte uitspel vir die opstel van 'n nuwe kerkorde, beklemtoon hy die kerkbegrip van Calvyn en kies hy om die Geneefse Kerkorde van 1541 te behandel en as vertrekpunt te neem (Botha 1995:762).

Dit is dus duidelik dat in voorbereiding vir die opstel van die 1997 Kerkorde, die kerkbegrip van Calvyn en die klassieke presbiteriaal-sinodale kerkbegrip deurslaggewend was. Die struktuur van die 1997 Kerkorde, met die fokus op verkondiging en kerkregering deur middel van die ampte en vergaderings van die ampte, is volledig presbiteriaal-sinodaal bepaald.

Na my mening reflekteer die Kerkorde van die NHKA 'n kerkbegrip wat bou op 'n presbiteriaal-sinodale kerkbegrip; 'n kerkbegrip soos verwoord in die Belydenisskrifte met die klem op die notae ecclesiae asook 'n volkskerklike kerkbegrip.

Praktiese Teologie

Die afgelope dekades het dit in die Praktiese Teologie 'n redelik algemene gebruik geword om die herder-kudde metafoor te vervang met die liggaam-van-Christus metafoor. Die herder-kudde bedieningspraktyk se ekklesiologiese onderbou is (vanselfsprekend) in die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip te vind. Hierdie denkskuif beteken dat wegbeweeg word van 'n 'amptelike' bedieningspraktyk, na 'n bedieningspraktyk waar die gawes van lidmate benut word. Hierdie nuwe benadering het sedert die tagtigerjare heelwat navolging in die NHKA gevind, veral in 'n poging om nuwe bedieningstrukture in die kerk te vestig. Hierin het P.A. Geyser, J.C. van der Merwe, J. Coetzee en andere 'n groot rol gespeel.

Dit was veral H.J.C. Pieterse wat hierdie gedagtes in sy Prakties-teologiese Ekklesiologie ontwikkel het. Hy het doelbewus die liggaam van Christus gekies as vertrekpunt vir sy ekklesiologie en verstaan van kerkwees (Pieterse 1990:61). Hy stel dit soos volg: 'Ons kies vir 'n basisteorie vir die gemeente volgens die liggaam-van-Christus-tipe gemeente waarin al drie die wesenlike funksies op 'n gebalanseerde wyse geïntegreer is.' Hy meen dat dit ook die mees geskikte model is ten opsigte van kommunikasie in die gemeente, omdat dit simmetriese kommunikasie in die gemeente bevorder (Pieterse 1993:160).

T.F.J. Dreyer het hierteen bepaalde kritiek uitgespreek en daarop gewys dat indien een Bybelse metafoor tot model verhef word, dit noodwendig daartoe lei dat ander Bybelse metafore op die agtergrond geskuif word. Dit lei tot 'n eensydige beklemtoning van sekere fasette van kerkwees en 'n verskraling in kerkbegrip (Dreyer 1995:799). Hy wys daarop dat die herder-kudde model steeds 'n waardevolle bydrae tot kerkwees maak.

Dreyer wys daarop dat 'n metafoor 'n poging is om na analogie van die bekende iets oor die onbekende te sê. Dit spreek dus vanself dat 'n analogie nie die onbekende volledig verklaar of verduidelik nie. Elke metafoor beklemtoon 'n faset van die onbekende (Dreyer 1995:800). Dit is dus noodsaaklik dat verskillende Bybelse metafore benut word om te kom tot 'n meer omvattende kerkbegrip en kerklike praxis.

Onder leiding van T.F.J. Dreyer, J.C. van der Merwe en J. Coetzee is 'n Basiskursus vir Bedieningspraktyk ontwikkel (NHKA 2002). Die kursus, wat gemeentes van die NHKA steeds benut in die beplanning van hulle bediening, gaan van die standpunt uit dat die heil van God in Christus nie op 'n ander manier in die wêreld grondvat as deur die verkondiging van die Woord nie. Die verkondiging of oordrag van die heilsgebeure in Christus het geloof en geloofsgemeenskap tot gevolg.

Vanuit 'n Nuwe Testamentiese perspektief moet die geloofsgemeenskap wat ons 'kerk' noem, verstaan word as gebeure: Die kerk tree na vore waar die mens deur die Woord en Gees van God aangespreek, gegryp en in 'n persoonlike gemeenskap met God en ander gelowiges gebring word. In die gebeure van elke erediens as ontmoetingsgebeure tussen God en mens, word die kerk as't ware telkens en opnuut kerk.

Hierdie formulering berus op 'n kerkbegrip soos verwoord in die reformatoriese notae ecclesiae, te wete die suiwer verkondiging van die Woord en die bediening van die sakramente.

Die kerk behoort nie net aan God nie, maar is ook in diens van God. Die gemeente is daarom 'n geloofsgemeenskap met 'n besondere opdrag, 'n uitverkore volk en 'n koninklike priesterdom wat geroep is om die verlossingsdade van die Here te verkondig (1 Pet 2:9; Matt 28:18-20). Die kern van ons opdrag as gemeente is dat ons in diens van Jesus Christus gestel is om die evangelie verder te voer in die wêreld, dit wil sê gelowiges en kerk is ingeskakel in die missio Dei. Die sending van die kerk is nie maar 'n aktiwiteit van die kerk of die liefhebbery van sommige gelowiges nie maar die wesenlike van die kerk. Die Basiskursus vat dit soos volg saam:

Die doel van die ontmoetingsgebeure tussen God en mens deur die Woord en Gees, is om die mens te bring tot 'n lewe voor God (coram Deo) en 'n lewe in diens van God (missio Dei). Dit gaan dus ten diepste om spiritualiteit: d.i. die besef en die belewing van God se teenwoordigheid in jou lewe en jou toewyding aan God deur 'n lewe van diens aan God en mense.

(NHKA 2002:12)

Opvallend genoeg het Dreyer die afgelope tyd sy kerkbegrip baie skerper omlyn en 'n meer kritiese houding ingeneem (Dreyer 2009:427-431). In aansluiting by G. Heitink se ekklesiologiese matriks soos verwoord in sy Praktiese Ekklesiologie (vgl. Heitink 2007), kom hy tot die gevolgtrekking dat die NHKA as instituut in baie opsigte gestagneer het. Die meeste gemeentes se siening van kerkwees, op grond van 'n bepaalde kerkbegrip, is van so 'n aard dat dit enige beweging strem.

Dreyer meen dat die gemeentes van die NHKA 'n proses van radikale transformasie op al agt vlakke van Heitink se matriks moet inisieer. Dit is egter 'n langsame proses en die kerk kan nie langer kosbare tyd deur haar vingers laat glip nie. Dit beteken dat lidmate, buite die strukture van die kerk, mense op die markplein moet ontmoet. Die doel moet nie in die eerste plek wees om mense na die kerk te bring nie, maar om die geloof in Jesus Christus sigbaar en voelbaar te maak.

Die kerk moet daar gaan soek na dun plekke in mense se lewens, waar die skeiding tussen die sigbare werklikheid en die sakrale teenwoordigheid van God deur sy Gees vervaag en mense God se teenwoordigheid ervaar. Die kerk moet afstand doen van meesternarratiewe en onbevange luister na die klein verhale van mense. Saam met hulle moet die kerk weer begin luister na die verhale oor God en probeer ontdek hoe die groot Verhaal van God ons klein verhale omvorm en nuwe sin aan ons lewe gee.

Dreyer pleit vir 'n 'tweestroombenadering' ten opsigte van die kerklike praktyk. Dit mag wees dat die lyne van hierdie tweestroom-bediening in die toekoms kan konvergeer. Dit kan slegs gebeur indien die Kerk deur die proses van radikale transformasie weer vir mense buite die kerk 'n plek kan word waar hulle die teenwoordigheid van God kan beleef.

 

Gevolgtrekkings

Uit bogenoemde oorsig van enkele Hervormde teoloë se standpunte word die diversiteit in benadering, metode en resultate op die terrein van ekklesiologie baie duidelik. Dit is ooglopend en vanselfsprekend hoe elke teologiese dissipline bydra tot die verryking en verdieping van ons kerkbegrip en kerklike praktyk.

Daar kan egter nie met 'n gefragmenteerde benadering volstaan word nie. 'n Multidissiplinêre benadering tot ekklesiologie is na my mening om die volgende redes noodsaaklik:

• Die krisis en verleentheid wat die kerk in die algemeen, en die NHKA in besonder ervaar (vgl. in die verband Dreyer 2011:5-8), vereis omvattende en kritiese nadenke oor kerkwees en kerklike bedieningspraktyke.

• Dit kan lei tot groter duidelikheid ten opsigte van broodnodige transformasie, hervorming van kerklike strukture en vernuwing in bedieningspraktyk. Dit bewaar die kerk van stagnasie en skep die vermoë om met kundigheid nuwe bedieningspraktyke te vestig.

• 'n Multidissiplinêre benadering sal die opleiding van teologiese studente ten goede kom, veral deur integrasie en verpraktisering van diverse benaderings tot kerkwees en kerkbegrip.

• Dit kan daartoe bydra dat die NHKA met groter doelgerigtheid en oortuiging die toekoms tegemoet kan gaan. Fragmentasie en gebrek aan 'n duidelike visie bemoeilik die werk van predikante en strem die kerk. Daarteenoor kan integrasie van kennis bydra tot 'n meer omvattende en verdiepte verstaan en belewenis van kerkwees.

• Laastens is 'n multidissiplinêre benadering noodsaaklik vir die opstel van 'n nuwe Kerkorde, waartoe die Algemene Kerkvergadering reeds opdrag gegee het. Indien daar met slegs 'n 'vanselfsprekende' presbiteriaal-sinodale kerkbegrip volstaan word, sal 'n nuwe kerkorde nie bydra tot 'n toepaslike en konteks-relevante bedieningspraktyk nie.

'n Multidissiplinêre benadering tot ekklesiologie kan sonder moeite in 'n teologiese dissipline soos Praktiese Ekklesiologie tuiskom. Praktiese Ekklesiologie kan vanuit vier perspektiewe gestalte gee aan 'n multidissiplinêre benadering (Heitink 2007:25; Dreyer 2011:21):

• 'n Histories-vergelykende perspektief en benadering waarin verskillende kerklike tradisies ekklesiologies, histories en kerkregtelik met mekaar vergelyk word.

• 'n Empiriese perspektief waarin die insigte vanuit die Praktiese Teologie 'n belangrike inset lewer.

• 'n Hermeneutiese perspektief waarin die eksegese van spesifieke Bybelse tekste insigte vanuit die Sistematiese Teologie verreken.

• 'n Strategiese perspektief wat erns maak met 'n kerklike praxis gegrond op die missio Dei.

Hierbo is slegs na Hervormde teoloë se bydrae tot die ekklesiologie verwys. Vanselfsprekend moet teoloë uit ander kerke en tradisies ook aan die woord gestel word sodat die eie, partikuliere diskoers deel word van die groter en algemene diskoers.

'n Multidissiplinêre, ekumeniese, praktykgerigte, geïntegreerde en omvattende ekklesiologie is van groot belang vir kerkwees in die 21de eeu. Daarin kan Praktiese Ekklesiologie 'n besondere bydrae lewer. Hierdie bydrae is 'n voorlopige poging om die kontoere te trek waarbinne Praktiese Ekklesiologie multidissiplinêr gestruktureer kan word.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel.

 

Literatuurverwysings

Barth, K., 1953, Kirchliche Dogmatik IV/1, EVZ, Zürich. Berkhof, H., 1985, Christelijke Geloof, Callenbach, Nijkerk.        [ Links ]

Botha, S.J., 1995, 'Kerkbegrip en kerkorde', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3), 753-770.        [ Links ]

Breytenbach, A.P.B., 1995, 'Nadenke oor kerkbegrip: Enkele perspektiewe op grond van die Deuteronomistiese geskiedenis', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3), 702-711.        [ Links ]

Brunner, E., 1960, Die Christliche Lehre von der Kirche vom Glauben und von der Vollendung, Zwingli-Verlag, Zürich.        [ Links ]

Buitendag, J., 2006, 'Openingsrede, Nasionale Colloquium 27 April 2006', ongepubliseerde dokument, Kerkargief, Pretoria.        [ Links ]

Buitendag, J., 2008, 'Ecclesia reformata semper reformanda - die ongemaklike eis', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 64(1), 122-138.        [ Links ]

Conzelmann, H. & Lindemann, A., 1980, Arbeitsbuch zum Neuen Testament, 5. Auflage, JCB Mohr, Tübingen.        [ Links ]

Dingemans, G.D.J., 2005, De stem van de roepende: Pneumateologie, 4de druk, Kok, Kampen.        [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 1995, 'Implikasies van die kommukatiewe handelingsteorie vir 'n prakties-teologiese perspektief op die ekklesiologie', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 51(3), 792-805.        [ Links ]

Dreyer, T.F.J., 2009, 'Kerk met karakter: Die perspektief van Gerben Heitink', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), 427-431.        [ Links ]

Dreyer, W.A., 2011, 'Praktiese Ekklesiologie en Bedieningspraktyk met verwysing na die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika', PhD proefskrif, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria.        [ Links ]

Faith & Order, 1998, The nature and purpose of the church, WCC, Geneva.        [ Links ]

Faith & Order, 2005, The nature and mission of the church, WCC, Geneva.        [ Links ]

Heitink, G., 2007, Een kerk met karakter - Tijd voor heroriëntatie, Uitgeverij Kok, Kampen.        [ Links ]

Kárkkáinen, V.M., 2003, An introduction to ecclesiology: Ecumenical, historical and global perspectives, InterVarsity Press, Downers Grove, IL.        [ Links ]

Koekemoer, J.H., 1995, 'Die kerk as gebeure', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3), 595-603.        [ Links ]

NHKA, 1997, Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, NHKA Kerkargief, Pretoria.        [ Links ]

NHKA, 2002, Kommissie van die AKV, 'Basispakket vir Gemeentelike Bediening', ongepubliseerde toerustingsmateriaal vir gebruik in die NHKA, NHKA Kerkargief, Pretoria.        [ Links ]

NHKA 2006, 'Kommissie van die AKV, Identiteit en relevansie van die kerk in die 21e eeu', Memorandum opgestel deur die Kommissie vir bespreking tydens die Nasionale Colloquium, 2006, NHKA Kerkargief, Pretoria.        [ Links ]

Oberholzer, J.P., 1995, 'Die kerk', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3), 851-857.        [ Links ]

Oberholzer, J.P., 1999, 'Terug op die pad', in D.J.C. van Wyk (red.), 20ste Eeu Hervormde Teologie, pp. 449-462, SENTIK, Pretoria.        [ Links ]

Pelser, G.M.M., 1995, 'Die kerk in die Nuwe Testament', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 51(3), 645-676.        [ Links ]

Pieterse, H.J.C., 1990, 'Praktiese Teologie is 'n kommunikatiewe teologiese handelingswetenskap', in L.M. Heyns & H.J.C. Pieterse (reds.), Eerste treë in die Praktiese Teologie, pp. 49-60, Gnosis, Pretoria.        [ Links ]

Pont, A.D., 1981, Historiese agtergronde van ons kerklike reg, deel 1, HAUM, Pretoria.        [ Links ]

Pont, A.D., 1991, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg, deel 2, Kital, Pretoria.        [ Links ]

Pont, A.D., 1995, 'Die reformatoriese kerkbegrip: Enkele groot lyne op grond van Calvyn se uiteensetting', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3), 771791.        [ Links ]

Pont, A.D., Steenkamp J.J. en Breytenbach J.H., 1995, ''n Eietydse getuienis op Hervormingsdag', ongepubliseerde dokument.        [ Links ]

Steenkamp, L.J.S., 1995, 'Die kerk onderweg na die 21e eeu: 'n Kritiese besinning oor kerkwees in 'n veranderende konteks in Suid-Afrika', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3), 604-622.        [ Links ]

Van Aarde, A.G., 1995, 'Die historiese Jesus, die Jesus-beweging en die vorming van die kerk', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3), 623-644.        [ Links ]

Van Eck, E., 1995, 'J.H.JA. Greyvensteyn en A.S. Geyser se teologiese denke oor die volkskerkgedagte', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 51(3), 825-850.        [ Links ]

Van Eck, E., 2006, 'Die amp in die Nuwe Testament', ongepubliseerde memorandum aan die Komitee: Ampsbeskouing.        [ Links ]

Van Wyk, B.J., 1991, Die presbiteriaal-sinodale kerkbegrip, Kital, Pretoria.        [ Links ]

Velthuysen, G.C., 1988, 'Die wese van die kerk: 'n Teologiese antwoord op 'n filosofiese vraag', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 44(2), 489-513.        [ Links ]

Ward, P., 2002, Liquid Church, Paternoster Press, Carlisle.        [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Wim Dreyer
Postal address: 19 Elephant Street, Monument Park
Pretoria 0001, South Africa
Email: wim.dreyer@up.ac.za

Received: 20 May 2011
Accepted: 02 Aug. 2011
Published: 07 Nov. 2011

 

 

© 2011. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.