SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.67 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.67 n.2 Pretoria Jan. 2011

 

'n Waardering vir die positiewe! Waarderende betrokkenheid as 'n gemeentelike- en pastorale lens

 

 

Kobus Schoeman; Jan Albert van den Berg

Department of Practical Theology, University of the Free State, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

An appreciation for the positive! Appreciative engagement as congregational process and congregational- and pastoral lens
The traditional approach of only solving what is wrong is challenged by newer perspectives emphasising the meaning of an appreciation for the positive. The possible meaning of this alternative perspective for the development of a relevant positive practical theology was explored in investigating the possible meaning of the methodology of appreciative inquiry. The benefit of this model, for congregational studies and pastoral ministry amongst others, was investigated, described and illustrated with a case study. After a critical evaluation of the methodology of appreciative inquiry, suggestions for the development of a relevant positive practical theology, incorporating an appreciation for the positive in an appreciative engagement were mapped.


 

 

Inleiding

Die lewe is dinamies en aan konstante verandering onderworpe. As uitdrukking van dié dinamika, bevestig Astley (2002:21) dat 'Life is about change'. Omstandighede verander en vra om aanpassing. Individue en gemeentes ontsnap ook nie aan die algemene lewensproses van verandering nie. In baie gevalle is die dominante vraag: Wat het nie gewerk nie, aangesien dit dan in die verlede baie beter gegaan het? Daar word verlang na die spreekwoordelike vleispotte van Egipte omdat die huidige stand van sake as 'n woestyn-tyd vol swaarkry ervaar word. Dié veranderende omstandighede lei tot 'n negatiewe klimaat waarin die daaglikse diskoers dus meesal op die negatiewe fokus.

'n Enkele generiese voorbeeld hiervan kan gekonstrueer word in terme van 'n denkbeeldige gemeentelike verhaal: Die lidmate in 'n gemeente raak onrustig, want die jongmense van die gemeente word nie bereik en betrek in die gemeentelike bediening nie. Die vraag is: waarom verdwyn hulle? Die gemeentelike leierskap soek daarom na moontlike oplossings om dit reg te stel. Deur verskillende moontlike probleme wat geïdentifiseer word (wat kan strek van die persoon en bedieningstyl van die predikant tot verouderde kategese materiaal), is die veronderstelling dat as dié foute reggemaak word, dit weer beter sal gaan met die jeugbediening in die gemeente.

In navolging van heersende praktyk waarin 'many forms of organizational development assume that the job of leaders is to find the problems and fix them' (Branson 2004:21, kyk ook Brenner 2009:125), word gevra na die probleem en hoe dit opgelos kan word. Die klem val op dit wat verkeerd is en gevolglik word die probleme ondersoek. Probleme en foute domineer derhalwe die gemeentelike gesprek en die soeke na goeie oplossings vir die 'foute' wat daar is met die klem op die vraag oor wat die swakpunt of leemtes in die betrokke gemeente is. In die metafoor van 'n vaatjie wat lek, vra metodes soos onder meer die Natural Church Developent (NCD)-model na die 'fout' in die gemeente, ten einde die vaatjie weer op te vul. 'Organizanational diagnosis helps to understand an organization systematically so that adequate interventions can be developed as problem solutions' (Schalk 1999:6). In dié aanslag, waarin daar gestreef word na die korrigering van dit wat oënskynlik verkeerd is, word daar ongelukkig dikwels nie net 'n bepaalde milieu vir die ontwikkeling van destruktiewe konflik geskep nie, maar word individue wat betrokke is by die bepaalde prosesse ook in hulle persoon gekwets.

In dié artikel gaan daar egter van die veronderstelling uit dat die soeke na verandering altyd 'n uitdaging bied. Die belangrike vraag is daarom na die hantering daarna. In die hantering van verandering wys Browning (1991:281) tereg daarop dat die voordeel van krisis(se) is dat dit 'n bepaalde bydrae lewer in' ... destabilizes older, inadequate structures of practical reasoning exposing their inadequacies'. Dalk is die tyd ryp om juis nóú, vanuit 'n ander hoek, na nuwe antwoorde en strategieë te soek en in dié proses nie net 'n bydrae te bied tot 'n bepaalde positiewe gemeentelike ontwikkeling nie, maar ook verrykende pastorale perspektiewe aan die persone betrokke te bied. Die doel van die artikel is om waarderende en positiewe aspekte in dié verband te ontgin.

 

'n Relevante positiewe Praktiese Teologie?

Skulp instellings of 'zombie'-kategorieë?

Internasionaal-erkende praktiese teoloë wys op die gevaar van uitgediende denkraamwerke en instellings. Osmer (2008) verwys na sogenaamde 'shell institutions' as:

From the outside, 'shell institutions' look the same as they have in the past. But internally they are no longer capable of carrying out the work that they need to perform... The 'shell' remains, but the internal organization is not up to the challenges of a new context.

(Osmer 2008:235)

Reader (2008) verwys in aansluiting by die kontemporêre sosioloog Ulrich Beck, na sogenaamde 'zombie'-kategorieë:

... as a way of pointing to the continued employment of concepts that no longer do justice to the world we experience and yet which are difficult to abandon because of tradition and also because they are not yet totally redundant ... Zombie categories are the 'living dead', the tried and familiar frameworks of interpretation that have served us well for many years and continue to haunt our thoughts and analysis, even though they are embedded in a world that is passing away before our eyes.

(Reader 2008:1)

In die bestaan en funksionering van instellings en denkwyses wat gedateer geraak het, is dit duidelik dat bepaalde spanningsvlakke bestaan tussen, onder meer, die tradisie en die huidige ervaring wat uit die behoeftes en verwagting van individue spruit en dikwels nie met mekaar verband hou nie (Browning 1991:281-282). Juis spruitend vanuit dié rasionaal, behoort uitgediende antwoorde en strategieë uitgedop te word en na 'n tydige en relevante praktiese teologie gesoek word. Dat die ontwikkeling van só 'n relevante praktiese teologie 'n gewaagde onderneming is (Cilliers 2009:634), word beklemtoon aangesien '... hope for an alternative future brings us into contradiction with the existing present and puts us against the people who cling to it' (Moltmann 2008:103).

 

'n Relevante praktiese teologie

'n Relevante praktiese teologie veronderstel 'n '... type (publieke) praktische teologie, dat de nadruk legt op de geleefde religie in al haar verschijningsvormen ... met het oog op onderling verstaan en beter samenleven'(Ganzevoort 2006:151). In die soeke na alternatiewe vir sogenaamde 'shell' of 'zombie' kategorieë en die skep van 'transforming practices' (Graham 1996), wys Osmer (2008) op die kontoere van relevansie as dat:

... (Practical) theology must face up to the challenges of a postmodern context characterized by a high degree of pluralism, fragmentation, and scepticism. It is a context of uncertainty in which it is no longer possible for theology to build on a consensus of values in society. Nor can theology take for granted the authority of traditional sources and norms of the church. It must find new ways of developing truth claims and values that will be persuasive to a sceptical postmodern world.

(Osmer 2008:154)

In die beskrywing van die 'geleefde religie' (Ganzevoort 2006:151), word uitdagings metodologies aangespreek deur nuwe ontwikkelinge waarin klem geplaas word op die diskoers binne 'n interdissiplinêre domein van studie (Immink 2005:266; Osmer 2008:163; Müller 2009:1-22). In aansluiting by 'a post-foundational practical theology' soos beskryf deur Müller (2005:72-88), en in navolging van die werk van Wentzel J. van Huyssteen, word na 'n 'post-foundationalist'-posisie met die klem op '... plausible forms of interdisciplinary dialogue' (Demasure & Müller 2006:418) beklemtoon.Hierin is dié dialoog opsoek na vars artikulasie en nuwe ruimtes.

Tereg vestig Bass & Dykstra (2008) dan die aandag daarop dat:

... practical theology requires stereoscopic attention to both the specific moves of personal and communal living and the all-encompassing horizon of faith. It is undertaken in hope for the well-being of persons, communities of faith, and all creation

(Bass & Dykstra 2008:13)

Dit is juis binne hierdié stereoskopiese siening van die werklikheid dat die fokus nie net val op die patologiese nie, maar ook op positiewe aksente in lewe.

 

'n Relevante en positiewe praktiese teologie

In die kartering van koördinate van 'n relevante en positiewe praktiese teologie word die lengtegrade en breedtegrade van die beskrywing gevind in onder meer die gebiede van pastoralestudies en gemeentestudies. Hierin word rééds 'n nuwe aksent gekaart met die oog op die verklaring van 'n nuwe raamwerk van verstaan. Aanvanklik het die sogenaamde ensiklopediese verstaan van die teologie en wat geskoei is op die modernistiese spesialisasie aangemoedig wat selfs fragmentasie tot gevolg gehad het (Osmer 2006:327). Binne dié verstaan, was daar min ruimte dat byvoorbeeld die pastoraat verryk kon word met perspektiewe vanuit die veld van gemeentestudies. In die erkenning van die betekenis van die hermeneutics of lived religion ... (Ganzevoort 2009:1) en met die oog op die koestering van die voorgestelde interdissiplinêre gesprek, word daarom juis voorgestel dat die ruimte gevind word in die intieme verhouding en gesprek tussen gemeentestudies en die pastoraat.

Vervolgens gaan enersyds gefokus word op onderskeidelik beklemtoninge vanuit die pastoraat én gemeentestudies en andersyds op watter wyse dié verhouding vanuit die interdissiplinêre gesprek versterk kan word deur, onder meer, perspektiewe vanuit die positiewe sielkunde.

Binne dié gebied van die pastoraat, is dit belangrik om kennis te neem dat navorsing daarop wys dat psigoterapie en biologiese psigiatrie ongeveer 'n 65% sukses-syfer het (Seligman 2006:231). Veronderstel daarmee saam dat die fokus dikwels val op die minimaliserings tegniek naamlik '...

to dispense drugs or psychological interventions which make people less anxious, less angry, or less depressed' (Seligman 2006:231) en dit is duidelik dat die koste van die tradisionele sielkunde bereken word in 'n relatiewe negatiewe siening van die menslike natuur met 'n sterk fokus op patologie.

Vir die verstaan van wat die betekenis van pastoraat is, word aangesluit by die omskrywing van Louw (1999):

Pastoraat is daardie benadering wat hierdie lewensvraagstukke sinvol vanuit die Christelike geloofsperspektief wil aanspreek. Pastoraat wil aan mense hulp verleen en hoop bied vanuit die oortuiging dat God se trou die inhoud van die geloof is en dat God sy beloftes aangaande die heil van die mens in Christus se kruis en opstanding vervul het (die eskatologiese perspektief) asook die oortuiging dat lewe voltrek word in die teenwoordigheid van God. Pastoraat wil God se wil in terme van die vraag na die sin van die lewe, en omgekeerd, vertolk sodat mense met vreugde en hoop kan leef.

(Louw 1999:2 [Outeur se beklemtoning])

Dit is hieruit duidelik dat die betekenis van interdissiplinêre domeine van studie, onder meer, gesoek moet word in die oorvleuelende koördinate van die pastoraat se soeke na groei en heil (Louw 2009:6) en die positiewe sielkunde, onder meer. Van die uitkoms van die pastoraat '... sodat mense met vreugde en hoop kan leef ...' tot 'Applied positive psychology is the application of positive psychology research to the facilitation of optimal functioning' (Linley & Joseph 2004:4) word nuwe ruimtes van aksie gekarteer.

Dié gegewe eggo ook binne die gebied van gemeentestudies as verreken word dat binne die konteks van die Nederduits Gereformeerde (NG) Kerk ongeveer die helfte van die gemeentes besig is met 'n stryd om oorlewing (Kyk byvoorbeeld die Kerkspieël ondersoeke). Daar sou met 'n redelike mate van sekerheid gesê kon word dat 'n groot deel van die gesprek en energie dus ook binne gemeente-verband gaan oor wat gedoen moet word om kop bo water te hou. Die fokus val dus primêr op dit wat herstel moet word, ten einde as gemeente te kan bly voortbestaan. Die klem val op strategiese beplanning, met die soeke na swakpunte en sterkpunte.

In 'n verdere verkenning, asook illustrasie van wat die onlangse beklemtoning van die positiewe teenoor bogenoemde behels, word 'n deursnit in die ontwikkelende wetenskapsveld van positiewe sielkunde gemaak. Gedurende die afgelope twee dekades ontwikkel 'n klem op positiewe sielkunde met die klem op '... an interest in the more desirable aspects of behaviour - what used to be called "virtues" - as opposed to the recently more prevalent focus on pathology' (Csikszentmihalyi 2006:3). Die positiewe sielkunde as dissipline rus op drie pilare:

• die eerste pilaar word gevorm deur die positiewe subjektiewe ervaring van die verlede, hede en toekoms

• die tweede pilaar is die ondersoek na individuele en positiewe eienskappe soos uitgedruk word in, onder meer, deugdes en sterktes

• die derde pilaar word bevestig in die ondersoek na positiewe instellings en gemeenskappe.

In die verdiskontering van die betekenis van dié aksente word daar vanuit 'n interdissiplinêre prakties teologiese gesprek moeite gemaak om vanuit die hermeneutiek van die 'geleefde religie' tot verstaan te kom hoe mense en groepe in their concrete situations, communicates affirmation, preserves the cohesion of selves and identities, and builds on strengths' (Browning 1991:284). Dié soeke sluit nou aan by die ontwikkeling vanuit die positiewe sielkunde wat, teenoor die tradisionele sielkundige benadering, die ontwikkeling van sogenaamde sterktes in die persoonlikheid koester ten einde developing interventions that train people how to be functional in the presence of their dominant dysphorias'

(Seligman 2006:232).

Om die bewegings-verhouding praktyk-teorie-praktyk, ('The idea that practical thinking moves from practice to theory to practice, not from theory to practice ...' Browning 1991:41), verder te omskryf, kan onder meer gevra word na die betekenis van bogenoemde perspektiewe vir die ontwikkeling van 'n betekenisvolle metodologie. Ten einde 'n roetebepaling binne hierdie nuwe ruimte te vind is bepaalde metodologiese keuses daarom noodsaaklik.

 

'n Vraag na 'n relevante en positiewe metodologie

Die regte vraag?

Die verhaal word vertel van 'n Nobel-pryswenner in fisika wat eenmaal gevra is aan wie hy sy sukses sou toeskryf. Hy het, sonder enige huiwering, geantwoord dat dit sy moeder was. Sy antwoord was 'n verrassing, aangesien sy ouers Oos-Europese immigrante sonder enige formele opleiding was wat hom nie veel kon leer nie. Hy het egter voort gegaan om te verduidelik dat sy moeder tydens sy skooljare met sy terugkoms by die huis gereeld aan hom gevra het of hy 'n goeie vraag gevra het (Sher 2009:70).

In die stel van vrae word uitdrukking gegee aan 'n bepaalde teologiese posisie-inname wat posisioneer vanuit questions about present practices, the symbols and legitimations of these practices, and challenges to these practices' (Browning 1991:223). In die stel van hierdié tipe vrae het Miiller, Human en Van Deventer (2001:76-96) alreeds betekenisvol aangedui hoe die formulering daarvan as deel van 'n narratiewe navorsings-metodologie 'n bepaalde karakter vertoon wat die vertel van verhale aanmoedig en versterk.

'n Positiewe antwoord?

Reader (2008:1) wys daarop dat die vind van alternatiewe vir uitgediende denkraamwerke en instellings '... requires changes of discourse and changes of perception'. Daar is reeds aangetoon hoe dié soeke na 'n nuwe wyse van ver-beeld-ing, asook ver-woord-ing, onder meer vergestalt word in die ontwikkeling van die positiewe sielkunde. In die deurbreking van die sogenaamde en aangeduide 65%-grens, speel 'n oriëntasie van 'Correcting the grammar of faith' (Astley 2002:153), 'n beduidende rol as onder meer ruimte gelaat word vir die waarde van die transendente- of spirituele karakter van die alledaagse lewe (Valiant 2008:7).

In dié proses word daar onder meer gesoek na 'n moontlike prakties teologiese vergestalting van 'Moving away from a disease and dysfunction model to a new look at the world ... met as gevolg '... a focus on positive attributes of people and organizations means looking at organizational behavior in a new light' (Nelson & Cooper 2007:3). Die moontlike betekenis van die inhoud van 'n 'geleefde religie' is dus sentraal, met die klem op die ontwikkeling van 'n relevante spiritualiteit as uitdrukking van dié positiewe oriëntasie (Valiant 2008:7).

As uitdrukking hiervan en vir die doel van hierdié navorsing, word daar gekies vir die metodologie van waarderende ondersoek (Appreciative Inquiry). Onderliggend hieraan is 'n sosiaal-konstruksionistiese aanpak met die klem op positiewe aksente (Orem, Binkert & Clancy 2007:40). Die metodologie van 'Appreciative Inquiry' huisves nie net 'n sosiaal-konstruksionistiese aanpak nie, maar bewerk ook 'n aksent op die positiewe deur:

.... concentrates on exploring ideas that people have about what is valuable in what they do and then tries to work out ways in which this can be built on - the emphasis is firmly on appreciating the activities and responses of people, rather than concentrating on their problems.

(Reed 2007:2)

 

Die metodologie van 'appreciative inquiry'

'n Geskiedenis van vrae vra

Die metodologie van waarderende ondersoek spruit uit die werk van David Cooperrider wat in 1986, besig met sy doktorale studie, bygedra het tot 'n nuwe korpus kennis aan die hand van die vrae wat hy gebruik om in gesprek te tree met respondente. '... Cooperrider found that asking questions about their work that invited them to describe and discuss the aspects they valued seemed to encourage people to talk in an unrestricted way' (Reed 2007:22). Hy het begin deur vanuit 'n positiewe en waarderende hoek na 'n betrokke saak te kyk. Met die klem op die soeke na die positiewe, verteenwoordig dié vraag na wat wel werk en wat waarde toevoeg tot 'n bepaalde organisasie, die gesigspunt van die navorsing. In navraag oor dit wat positief is en as sterktes ervaar word, word positiewe verandering gefasiliteer. Cooperrider, Whitney en Stavros (2003) som dit as volg op:

Inviting people to participate in dialogues and share stories about their past and present achievements, assets, unexplored potentials, innovations, strengths, elevated thoughts, opportunities, benchmarks; high-point moments, lived values, traditions, core and distinctive competencies, expression of wisdom, insights into the deeper corporate spirit and soul, and visions of valued and possible futures can identify 'a positive change core'. From this, AI links the energy of the positive core directly to any change agenda. This links creates energy and excitement and a desire to move toward a shared dream.

(Cooper, Whitney & Stavros 2003:3)

'n Regte tongval?

Waarderende ondersoek veronderstel dat:

Every organization has something that works right - things that give life when it is most alive, effective, successful, and connected in healthy ways to its stakeholders and communities. AI (Appreciative Inquiry) begins by identifying what is positive and connecting to it in ways that heighten energy and vision for change

(Cooperrider & Whitney & Stavros 2003:xvii)

In dié soeke na 'n ander vertrekpunt én in die verklanking van 'n alternatiewe tongval, is die beginpunt van waarderende ondersoek die artikulering van 'n positiewe kern. 'The concept of the Positive Core is central to the Appreciative Inquiry model. The Positive core of an organization is described as that which gives life to the organisation' (Retief 2009:24). Die verskil tussen 'n benadering wat die klem op die oplos van probleme laat val teenoor waarderende ondersoek kan maklik met tabel 1 van Niemandt (2007:70) geïllustreer word.

Onderliggend aan die metodologie word die volgende Veronderstellings (Branson 2004:24-28) gehuldig:

•  In every organisation, some things work well:

Waarderende ondersoek aanvaar dat selfs binne uitdagende en moeilike omstandighede, daar binne organisasies verhale en praktyke is wat hoopvol kan wees met die oog op die toekoms.

•  What we focus on becomes our reality: Die aspekte wat binne 'n organisasie aandag kry is ook dit wat in meeste gevalle die organisasie definieer.

•  Asking questions influences the group: Geen navorsing is neutraal of sonder gevolge nie; vrae en navorsing beïnvloed 'n  organisasie.

•  People have more confidence in the journey to the future when they carry forward parts of the past: Die onbekende skep vrees, maar vertroue word opgebou as die vrae verbind kan word met die beste verhale van die organisasie.

•  If we carry parts of the past into the future, they should be what are best about the past: Gedragspatrone wat oor tyd gevorm is, kan die kerndoelwitte en waardes ondermyn as dit nie die beste na die toekoms toe neem nie.

•  It is important to value differences: Nie almal is altyd eenstemmig oor wat die 'beste' is nie, daarom is verskille ook belangrik. Verandering is 'n gesamentlike proses en nie 'n nul-som wat veronderstel dat jou wins my verlies is, nie.

•  The language we use creates our reality: Die taal wat gebruik word skep 'n sosiale omgewing en 'n organisasie kultuur. Woorde bring gemoedstemmings, geheues, persepsies, gedagtes en visies as werklik na vore.

•  Organisations are heliotropic: 'Heliotropies' is 'n botaniese term wat daarop wys dat plante hulleself ten opsigte van die son oriënteer. Soortgelyk draai organisasies na die bron wat energie gee, wat positief of negatief kan wees.

 

 

•  Outcomes should be useful: Om vrae te vrae het emosionele voordele, maar AI veronderstel meer, 'n werklikheid word gekonstrueer. Dit beteken dat interpretasie en visionering die kerk tot implementering behoort te lei. Die gevolg is werkbare planne, veranderde strukture en vernuwende praktyke.

•  All steps are collaborative: AI is nie net 'n proses van stories vertel wat kundiges help om nuwe planne vir almal te maak nie. Elke fase in die proses vra 'n breë deelname van almal; onderhoude, interpretasie, visie en verandering waarby almal betrokke is.

Dié veronderstellings word weer op hulle beurt gedra deur die volgende Beginsels soos deur Reed (2007:26-27) beskryf:

•  The constructivist principle: Veronderstel sosiaal konstruksionisme as belangrike onderbou, van die benadering.

•  The principle of simultaneity: Duidend daarop dat 'Inquiry' en 'Change' gelyktydig plaas vind as deel van die proses.

•  The poetic principle: Veronderstel outeurskap van die eie verhaal of gemeente se verhaal.

•  The anticipatory principle: Hoe mense oor die toekoms dink, bepaal hoe hulle na die toekoms beweeg.

•  The positive principle: Dit word veronderstel dat die stel van positief genuanseerde vrae, deelnemers vir 'n langer tydperk en op 'n dieper vlak by die proses betrokke sal hou.

Domein van praxis

Twee moontlike prosesse word geïdentifiseer as deel van die waarderende ondersoek-metodologie. Dit is egter belangrik om te verstaan dat dit sirkulêre prosesse veronderstel, wat vorentoe en agtertoe beweeg. Tereg wys Reed (2007) daarop dat:

It is not a linear process that starts and then stops when it is completed. It is a process that never ends as the steps are repeated and organizations continue to learn and revisit the phases in the process.

(Reed 2007:32)

Waarderende ondersoek werk, in die lig van bogenoemde met die volgende moontlike Prosesse (Branson 2004:55-63):

•  Initiate: Begin deur die positiewe te kies en daarop te fokus. Die keuse word gemaak om waardering te betoon vir dit wat gewerk het en wat tans werk.

•  Inquire: Navraag word gedoen na stories en verhale wat die positiewe uitlig.

•  Identify: Identifiseer temas wat herhalende in die stories na vore kom. Dit is 'n proses van heroriëntasie om te identifiseer wat gewerk het en dit dan uit te lig. Dit bepaal die metodologie van proses en inrigting van die gesprekke wat gevoer word.

•  Images: 'n Kollektiewe beeld of beelde word geskep van dit wat moontlik is. Hieruit spruit hoe die voorkeur toekoms lyk.

•  Innovative: Soek na innoverende maniere om die toekoms te help realiseer. Dit is skeppende en kreatiewe werk.

Die proses staan as die Vier 'I' model bekend, maar kan ook ook as 'n 4-D proses beskryf wat sou bestaan uit die bewegings van: 'discover, dream, design and destiny'.

Formulering van vrae

Die wyse van die formulering van vrae blyk baie belangrik te wees in die metodologie van waarderende ondersoek. In dié formulering van die vrae word eerstens 'n persoonlik narratiewe aksent veronderstel met 'n sterk toekoms gerigtheid in die tweede plek. Dit is juis in dié persoonlike aksent waarmee vrae op 'n narratiewe wyse ingelig word dat bepaalde nuwe vistas vir die fasilitering van 'n waarderende houding binne die oorvleuelende gebiede van die wetenskapsvelde van gemeentestudie en die pastoraat gevind word. Reed (2007) formuleer die metodologie in die ontwikkeling van vraag-stelling as volg:

...crafting AI questions, which include thinking about questions as having two parts: Part A: The question must evoke a real personal experience and narrative story that help the participant to identify and draw on their best learning from te past. Part B: This part of the question allows the interviewer to go beyond the past to envision the best possibilities of the future.

(Reed 2007:35-36)

Die formulering van vrae (én natuurlik ook antwoorde!) binne dié metodologiese aanpak, bied dan die ruimte waarin nie net die gemeente nie, maar ook die individu(e) betrokke raak en dikwels tot die ontdekking kom van onontginde moontlikhede en potensiaal.

'n Gevallestudie: 'n NG gemeente

Waarderende ondersoek is, binne die veld van gemeentestudies, nog 'n relatief nuwe metodologie. Retief (2009) het só 'n ondersoek binne 'n NG gemeente onderneem. Die doel van sy ondersoek was om navraag te doen oor lidmate se houding in die verandering van die gemeente se strategiese fokus. Vir die doel van die artikel is dit slegs van belang om na enkele bevindinge van Retief se ondersoek te verwys (vir 'n meer volledige bespreking kan na die volledige verslag verwys word). Hier is dit van belang om die waarde en bydrae van waarderende ondersoek in die verband te evalueer. Retief (2009) maak die volgende bevinding:

The data analysed suggests that Appreciative Inquiry has huge potential in the church environment. The mere act of discussing the Positive Core of the congregation and using this to view the community today has lead to remarkable insights and a deepening of commitment to values and beliefs.

(Retief 2009:59)

Die ondersoek het bevind dat daar waardering is vir die gemeente as 'n suksesvolle organisasie en 'n openheid en gewilligheid vir die gemeente om, as deel van die gemeente se primêre doel, 'n rol in die gemeenskap te speel (Retief 2009:67). Waarderende ondersoek help verder in die bestuur en hantering van verandering in die gemeente en gemeenskap en is instrumenteel in die ontwikkeling van 'n fokus op positiewe houdings. Retief (2009) bevestig dit as volg:

The research has shown that members indeed were prone to feelings of loss, uncertainty and even fear of change. However, through the Appreciative Inquiry process of discovering the Positive Core and discussing this Positive Core, these negative feelings were replaced with positive attitudes towards the proposed change. Members were thinking in terms of possibilities, of having an impact in the community, and of being a positive and healthy presence in society.

(Retief 2009:71)

Die Waarderende ondersoek-proses is méér as net 'n metode om 'objektiewe' inligting en data te bekom. Dit speel ook 'n belangrike rol in die bestuur en hantering van verandering.

Retief (2009:78) maak na aanleiding van sy studie die volgende aanbevelings:

• Daar is 'n besliste behoefte dat lidmate bewus is van die positiewe kern van 'n gemeente. Deur die positiewe ervarings van die verlede te deel, word lidmate en die volgende geslag vir die toekoms gemotiveer.

• Die leierskap van 'n gemeente behoort op die positiewe kern te fokus. Deur te sorg dat die gees, tradisies en verhoudings binne die gemeente deur die positiewe kern gedra word, kan die leierskap sorg dat die gemeente relevant bly.

• Die leierskap van die gemeente behoort te sorg dat die gesprek oor verandering op die vlak van doel, geleenthede en die rol van die kerk gevoer word. Die gesprek oor verandering word te veel gevoer op die vlak van persoonlike voorkeure.

• Die leierskap van die gemeente sal goed doen as daar gereelde gesprekke binne fokusgroepe gevoer word oor die positiewe kern. Die gemeente behoort dan gereed te bly vir verandering omdat daar 'n verbintenis aan die doel en waardes van die gemeente bly.

• Die enkele gevallestudie, as 'n voorbeeld, bevestig minstens die waarde van en bydrae wat 'n proses van waarderende ondersoek en betrokkenheid binne 'n gemeente kan speel. Die gevallestudie bied 'n motivering om die betrokke metodologie binne die veld van gemeentestudies verder te neem.

 

Enkele waarderende opmerkings

Om te begin, kan daar eers by 'n paar kritiese opmerkings oor Waarderende ondersoek stilgestaan word:

• Dit wat positief is, is nie noodwendig reg nie. 'n Kritiese en profetiese ingesteldheid kan nie verloor word nie. 'n Gemeente het 'n bepaalde missionêre roeping wat in die oog gehou moet word.

• Waarderende ondersoek behoort binne 'n breër teologiese proses van geestelike en gemeentelike onderskeiding plaas te vind.

• In terme van een van die sentrale temas wat Osmer (2008:4) aan bod stel as deel van vier kern take in 'n proses van prakties teologiese interpretasie, word gevra oor wat veronderstel is om te gebeur. Dit verwys na die normatiewe taak binne die praktiese teologie. Teologiese konsepte word gebruik om etiese norme as riglyn daar te stel en te leer wat 'n goeie praktyk of optrede sal wees. Dit behoort te help om Waarderende ondersoek binne 'n breër teologiese raamwerk te plaas.

• Die gevaar bestaan dat net by die positiewe stil gestaan word; wat word gemaak van die probleme binne 'n bepaalde situasie of organisasie? Moore (2008:217) bied die volgende: 'We know we can't ignore problems. We believe that we just need to approach them from the other side'. Die kompleksiteit van 'n saak moet dus nie uit die oog verloor word nie.

• In 'n kritiese evaluering van Waarderende ondersoek wys Grant en Humphries (2006) daarop dat kritiese teorie kan help om die proses te verryk. Die kritiese rol van kennis en mag kan die verstaan en bevordering van verandering bevorder en kan as volg verduidelik word:

The combination of appreciative inquiry and critical theory approaches into Critical Appreciative Processes (CAPs) of research explicitly focusing researchers and participants on emancipatory ideals will provide a fruitful contribution to action research processes intended to enhance human flourishing.

(Grant and Humphries 2006:415)

• Vanuit 'n narratiewe verstaan van die werklikheid en gekonstrueer aan die hand van 'n sosiaal konstruksionistiese epistemologie, veronderstel 'Ondersoek' 'n liniêre aanpak met 'n sterk aksent op die verdeling tussen objek en subjek. In aansluiting by Müller (1996:15) sal die woord 'betrokkenheid', 'n narratiewe verstaan van die metodologie beter dien en gevolglik word die keuse uitgeoefen om eerder te verwys na 'Waarderende betrokkenheid'.

Die volgende kan as waardering vir die 'Waarderende betrokkenheid'-proses uitgespreek word:

• Die vorm van ondersoek verander beide die toon en die aard van die gesprek. Dit laat energie loskom wat nie só maklik met 'n probleemoplossende benadering plaasvind nie. 'n Gesprek vanuit 'n waarderende betrokkenheid benadering gaan oor '... the probing for meaning, purpose, and achievement is gentle' (Brenner 2009:123).

• Die benadering skep ruimte vir wye en positiewe gesprek. Dit plaas gelyktydig 'n verskeidenheid van verhale op die tafel en verhoed dat daar te maklik vasgeval word in empiriese positivisme. In 'n ondersoek in drie Afrika lande bevind Micheal (2005) die volgende:

There were three clear benefits to using AI that emerged as trends throughout the 60 appreciative interviews that I conducted with local NGO directors as a part of this study. Interviewees:

• were eager to tell their stories;

• offered dynamic and unrehearsed information; and

• spoke more openly, with less defensiveness or fear of reprisal.

(Michael 2005:226)

• Verandering behoort makliker hanteer te word. Die klem val op wat binne die huidige konteks energie en lewe gee (kyk die bevindinge van Retief 2009 in die verband).

• Eienaarskap lê nie net by die navorser nie, maar die 'deelnemers' word deel van 'n span en betrek by dit wat gebeur (Moore 2008:216; Micheal 2005:229). Dit word meer 'n proses van betrokkenheid as 'n ondersoek van 'buite' af.

• Die fasilitering van 'n proses van Waarderende betrokkenheid soos beskryf, skep binne die praktiese teologie die geleentheid vir die onderskeie spesialiteitsvelde van gemeentestudies en die pastoraat onderskeidelik, om in samewerking 'n bydrae te lewer tot 'n méér geïntegreerde werkswyse binne die vakgebied. Dit is juis in dié werkswyse dat aansluiting gevind word by die soeke na 'n evolusionêre proses van wetenskapsbeoefening ter uitdrukking van die sensitiwiteit vir 'n sistemiese verstaan.

 

'n Nuwe manier van kyk, luister ... en praat

Osmer (2008) pleit by vakgenote om die identifisering en erkenning van bepaalde gedeelde gebiede:

Across the great variety of perspectives in a particular field, what do its current members share? Where are the points of convergence in their work, even as they diverge sharply in other ways

(Osmer 2008:241)

Die erkenning van die belangrikheid van die wetenskap van hermeneutiek blyk so 'n gedeelde domein te wees binne die wetenskapsveld van praktiese teologie. Dit spreek die soeke na die omskrywing van die verhouding tussen teologie en praktiese aksie aan en behoort tot die kern van praktiese teologie (Browning 1991:x). Juis hierin vergestalt die proses van Waarderende betrokkenheid 'n nuwe ywer om die dialoog as uitdrukking van, onder meer, die verband tussen die velde van gemeentestudies en die pastoraat onderskeidelik, duideliker te artikuleer. Ten einde die reis na die nuwe horison(-ne) te betreë, is daar egter 'n bepaalde verbeelding nodig. Dit is Dykstra (2008) wat daarop wys dat:

Imagination is what makes human life meaningful and engagement with the world possible. No human being can really thrive without it. Imagination is the foundation of human perception of understanding and interpretation, and of whatever deep probings we may make into the significance, meaning and mystery of human life and reality.

(Dykstra 2008:48)

Dit is juis dié verbeelding na die waardering vir die positiewe wat gereflekteer word in die metodologie van Waarderende betrokkenheid en wat soos altyd bevestig dat 'practical theology always reflects the angle of vision from which it is done' (Browning 1991:250).

 

Literatuurverwysings

Astley, J., 2004, Ordinary Theology: Looking, Listening and Learning in Theology. Explorations in Practical, Pastoral and Empirical Theology, Ashgate Publishing Limited, Hampshire.        [ Links ]

Bass, D.C. & Dykstra, C., 2008, For life abundant: Practical Theology, Theological education and Christian Ministry, Wm. B. Eerdmans Publishing Co., Grand Rapids.        [ Links ]

Branson M.L., 2004, Memories, hopes and conversations: Appreciative Inquiry and Congregational change, The Alban Institute, Herndon.        [ Links ]

Brenner R.R., 2009, 'Nons, Nunyas, Appreciative Inquiry, and the Aged', Journal of Religion Spirituality & Aging 21(1-2), 119-130. http://dx.doi.org/10.1080/15528030802265403        [ Links ]

Browning, D.S., 1991, A Fundamental Practical Theology: Descriptive and strategic proposals, Fortress Press, Minneapolis.        [ Links ]

Cilliers, J., 2009, '"Fides quarens societatem": Praktiese teologie op soek na sosiale vergestalting', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 49(4), 624-638.        [ Links ]

Cooperrider, D.L. & Whitney, D. & Stavros, J.M., 2003, Appreciative Inquiry Handbook: The First in a Series of AI Workbooks for Leaders of Change, Berrett-Koehler Publishers Inc., San Francisco.        [ Links ]

Csikszentmihalyi, M., 2006, 'Introduction', in H. Csikszentmihalyi & I. Selega Csikszentmihalyi (eds.), A Life worth living. Contributions toward Positive Psychology, pp. 3-14, Oxford University Press, Oxford.        [ Links ]

Demasure, K. & Múller, J., 2006, 'Perspectives in Support of the Narrative Turn in Pastoral Care', Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif 47(3-4), 410-419.        [ Links ]

Dykstra, C., 2008, 'Pastoral and Ecclesial Imagination', in D.C. Bass & C. Dykstra (eds.), For life abundant. Practical Theology, Theological education and Christian Ministry, pp. 41-61, Wm. B. Eerdmans Publishing Co., Grand Rapids.        [ Links ]

Ganzevoort, R.R., 2006, De hand van God en andere verhalen. Over veelkleurige vroomheid en botsende beelden, Uitegeverij Meinema, Zoetermeer.        [ Links ]

Ganzevoort, R.R., 2009, Forks in the road when tracing the sacred. Practical theology as hermeneutics of lived religion, Presidential address to the 9th conference of the International Academy of Practical Theology, Chicago 2009, viewed 24 April 2010, from http://www.ruardganzevoort.nl        [ Links ]

Graham, E.L., 1996, Transforming Practice: Pastoral Theology in an Age of Uncertainty, Mowbray, New York.        [ Links ]

Grant, S. & Humphries M., 2006, 'Critical evaluation of appreciative inquiry. Bridging an apparent paradox', Action Research 4(4), 401-418. http://dx.doi.org/10.1177/1476750306070103        [ Links ]

Immink, F.G., 2003, Faith: A Practical Theological Reconstruction, Wm. B. Eeerdemans Publsihing Co., Cambridge.        [ Links ]

Linley, P.A. & Joseph, S., 2004, 'Applied Positive Psychology: A New Perspective for Professional Practice', in P.A. Linley & S. Joseph (eds.), Positive Psychology in Practice, pp. 3-12, John Wiley & Sons Inc., New Jersey.        [ Links ]

Louw, D.J., 1999, Pastoraat as vertolking en ontmoeting, Lux Verbi Bm, Wellington.        [ Links ]

Louw, D., 2009, 'Care to the Human "Soul" in Contemporary Theological Theory Formation. From "Kerygmatics" to "Fortigenetics" in Philosophical Counselling', unpublished article delivered at the annual Society for Practical Theology in South Africa, Stellenbosch University, Stellenbosch, 22-26 June.        [ Links ]

Michael, S., 2005, 'The promise of Appreciative Inquiry as an interview tool for field research', Development in Practice 15(2) 2, 222-230. http://dx.doi.org/10.1080/09614520500042094        [ Links ]

Moltmann, J., 2008, A broad place: An autobiography, transl. M. Kohl, Fortress Press, Minneapolis.        [ Links ]

Moore, M., 2008, Appreciative inquiry: The why? The what? The how?', Practice Development in Health Care 7(4), 214-220. http://dx.doi.org/10.1002/pdh.270        [ Links ]

Müller, J,. Van Deventer, W., Human, L., 2001, 'Fiction writing as metaphor for research: A Narrative approach', Practical Theology in South Africa 16(2), 76-96.        [ Links ]

Müller, J., 1996, Om tot Verhaal te kom, RGN Uitgewers, Pretoria.        [ Links ]

Müller, J., 2005, 'A Postfoundationalist HIV-positive Practical Theology', Praktiese Teologie in Suid-Afrika 20(2), 72-88.        [ Links ]

Müller, J., 2009, 'Transversal Rationality as a practical way of doing interdisciplinary work, with HIV and Aids as a case study', unpublished article delivered at the annual Society for Practical Theology in South Africa, Stellenbosch University, Stellenbosch, 22-26 June.        [ Links ]

Nelson, D.L. & Cooper, C.L., 2007, 'Positive Organizational Behavior: An Inclusive View', in D.L. Nelson & C.L. Cooper (eds.), Positive Organizational Behavior, pp. 3-8, SAGE Publications, London.        [ Links ]

Niemandt N., 2007, Nuwe drome vir nuwe werklikhede, Wes-Kaap, Lux Verbi.BM.        [ Links ]

Orem, S.L. & Binkert, J. & Clancy, A.L., 2007, Appreciative Coaching: A Positive Process for Change, Jossey-Bass, San Francisco.        [ Links ]

Osmer, R.R., 2006, 'Toward a transversal model for interdisciplinary thinking in practical theology', in F.L. Shults (eds.), The evolution of rationality. Interdisciplinary essays in honor of J. Wentzel van Huyssteen, pp. 327-345, Wm. B. Eerdmans Publishing Co., Grand Rapids.        [ Links ]

Osmer, R., 2008, Practical Theology: An Introduction, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids.        [ Links ]

Reader, J., 2008, Reconstructing Practical Theology: The Impact of Globalization, Ashgate, Hampshire.        [ Links ]

Reed, J., 2007, Appreciative Inquiry. Research for change, SAGE Publications, London.        [ Links ]

Retief F.J., 2009, 'The contribution of Appreciative Inquiry on the attitudes of church members towards a change in strategic focus', unpublished MBA essay, Management College of Southern Africa, Durban.        [ Links ]

Schalk C.A., 1999, Organizational Diagnosis of Churches. The Statistical Development of the "Natural Church Development" Survey and its Relation to Organizational Psychology, Institute for Natural Church Development, Randhart.        [ Links ]

Seligman, M.E.P., 2006, 'Afterword. Breaking the 65 Percent Barrier', in H. Csikszentmihalyi & I.S. Csikszentmihalyi (eds.), A Life worth living. Contributions toward Positive Psychology, pp. 230-236, Oxford University Press, Oxford.        [ Links ]

Sher, R., 2009, 'Be prepared... and then prepare to let it all go', in H. Dolny (ed.), Team Coaching. Artists at Work. South African coaches share their theory and practice, pp. 70-77, Penguin, Johannesburg.        [ Links ]

Valiant, G.E., 2008, Spiritual Evolution: How we are wired for faith, hope and love, Broadway Books, Portland.        [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Jan Albert van den Berg

Postal address: Department of Practical Theology, Faculty of Theology, University of the Free State, PO Box 339, Bloemfontein 9300, South Africa
email: vdbergja@ufs.ac.za

Received: 07 June 2010
Accepted: 27 Sept. 2010
Published: 07 Mar. 2011

 

 

© 2011. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.