SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue3Hoofstuk 9: Rasionalisasie en Optimalisering 1988-1997 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.66 no.3 Pretoria  2010

    http://dx.doi.org/104102/hts.v66i3.110 

    HOOFSTUK

     

    Hoofstuk 10: Terug by een ekumeniese fakulteit 1998–2009

     

     


    Na versigtige onderhandeling en migrasie word die twee fakulteits afdelings opgehef en beweeg dit na 'n veelkerklike struktuur.


     

     

     

    1998

    26 Januarie 1998

    Die Dosentevergadering neem kennis dat (1) 'n aansoek van professor T.F.J. Dreyer om siektepensioen te ontvang deur die verskeringsmaatskappy afgekeur is, (2) dosentevoogde is benoem, en (3) die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering spreek sy dank uit teenoor die dosente in 'n skrywe:

    Dit is nie moontlik om naastenby op te noem wat deur die dosente gedoen is nie. Elke dosent is wel deeglik bewus wat hy verrig het in belang van die opleiding van die Kerk se studente en in belang van die Kerk. Wat gedoen is, is deeglik gedoen. Die Kerk is trots op die gehalte van sy teologiese opleiding en op sy dosente.

    Die Gesamentlike Onderrigkomitee ontwerp 'n profiel van die kandidaat wat deur die nuwe BA(Teol) kursus as eindproduk beoog word en dit sluit in akademies/intellektuele vorming, beroepsvorming en persoonlike vorming.

    04 Februarie 1998

    Die buitengewone vergadering van die Kuratorium besluit na deurtastende bespreking dat (1) twee poste van die Sentrum vir Teologiese Navorsing en Toerusting (STNT) teen Junie 1998 uitgefaseer moet word, (2) twee poste in Ou en Nuwe Testamentiese Wetenskap teen Desember 1998 uitgefaseer moet word, en (2) die betrokke dosente wie se poste uitgefaseer word weer beroepbaar moet word.

    Verder is 'n bespreking gevoer oor die moontlikheid van 'n eie opleiding. Die Administrateur het na 'n voorlopige studie tot die bevinding gekom het dat met ses dosente volgens die huidige koste, dit ongeveer R1.3 miljoen jaarliks sal verg.

    As lede van die dagbestuur is verkies, doktore H.J. Botes, W.A. Dreyer en J.P. Labuschagne saam met die voorsitter. Doktor W.A. Dreyer is benoem as voorsitter van die Evalueringskomitee.

    16 Februarie 1998

    Die Dekanekomitee bespreek die volgende sake: voorraadopname, proses van herstrukturering, implementeringstempo, institusionele strukture, graadstrukture, akademiese programme, bestuurstrukture, proporsionaliteit, wedersyse bestaande belange, kerklike betrokkenheid, betrokkenheid by ander kerke, samewerkingsooreenkomste, werkstyle, roosters, finansiële beleid, navorsingsuitsette, navorsingsverlof, tussentydse samewerking, telematiese onderrig, opleiding aan ander godienste, plek en rol van Bybelkunde en die plek en rol van Godienswetenskap.

    17 Maart 1998

    Die Fakulteit verwelkom dominee E. Mahlangu, dosent in Bybelkunde. Die lidmate B.B. Duma, T. Leema, C.D. Lubisi en M.B. Maloma word toegelaat tot die studie vir BA(Hons). 'n Diploma kursus in Teologie is aanvaar vir voorlegging aan die Senaat en Raad.

    19 Maart 1998

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van 'n skrywe van die Raad vir Kerk en Teologie met daarby ingesluit:

    • 'n Kommentaar op die dosenteverklaring soos dit verskyn het in Die Hervormer van 01 Junie 1996, deur H.G. van der Westhuizen.
    • 'n Stuk oor moontlike teologiese strominge in die Kerk met betrekking tot die verhouding Kerk-Kultuur, deur J.H. Breytenbach.
    • 'n Memorandum oor Kerkbeskouing deur H.G. van der Westhuizen waarby ingesluit was 'n artikel van A.G. van Aarde oor die menslikheid van die kerk en die verskeidenheid in die Kerk.
    • 'n Notule van die vergadering van die Raad op 29 Oktober 1997.

    Die Kommissie het na bespreking die betrokke studiemateriaal en 'n skrywe van ouderling C.C. Viljoen, waarin hy beswaar maak oor die aanbieding van professor Pelser by 'n Voortgesette Teologiese Toerusting (VTT) kursus, na die Kuratorium verwys vir 'n gesprek met die dosente.

    23 Maart 1998

    Die Dekanekomitee bespreek 'n grondmodel vir implimenteering binne die Fakulteit. 'n Dokument wat oor herstrukturering handel word na die twee dekane verwys vir finalisering,

    24 Maart 1998

    Die Kuratorium het sy vorige besluit gewysig soos geneem op 04 Februarie 1998, waarop die datums van uitfasering van die relevante poste as verval aangekondig is. Op hierdie vergadering het die dosent van die Hervormde Teologiese Opleiding (HTO), doktor I.W.C. van Wyk sitting geneem as adviserende lid soos die nuwe Kerkorde bepaal. Doktor J.P. Labuschagne ontvang opdrag vanuit die Kuratorium om oor 'n fondsinsamelingsprojek met die Moderamen gesprek te voer.

    Die H.C.M. Fourie-Erepenning word toegeken aan doktor D.J.C. van Wyk, doktor A.J.G. Dreyer en professor S.J. Botha.

    19 Mei 1998

    Die Dekanekomitee aanvaar as agenda: vasstelling van sake waaroor ooreenstemming bereik is, evaluering van die gesprek met die viserektor op 02 April 1998, personeelsamestelling, graadstrukture, bepaling van verhouding met kerke, aanstellingsprosedures, inspraak in kurrikulum, identifisering van akademiese programme, interimsamewerking en Gesamentlike Onderrigkomitee.

    09 Junie 1998

    Die Dekanekomitee verkry, (1) konsensus oor die basiese struktuur van die nuwe fakulteit, (2) versoek die dekane om gesaghebbende definisies van bepaalde terme te kry en (3) versoek elke afdeling om 'n voorlegging te maak oor programme, onderrig-aktwiteite ensovoorts - wat nodig is om predikante op te lei.

    29 Junie 1998

    Die Dekanekomitee bespreek 'n memorandum van 'n taakgroep van Afdeling A oor 'n grondplan vir teologiese opleiding in die Nederduitsch Hervormde Kerk.

    28 Julie 1998

    Die Dekanekomitee aanvaar die gedagte van 'n Kollege en benoem die twee dekane wat saam met C.J.A. Vos en T.F.J. Dreyer 'n ontwerpverslag aan Topbestuur moet voordra.

    30 Julie 1998

    Die Fakulteit neem kennis van die Diploma in Teologie soos voorgelê aan die Departement Onderwys en Kultuur. Die in Christus Jesus het en wat ons in werklikheid is en weet, reaksies kom van: Dit is gearriveerdheid, dit is selfgenoegsaamheid. Maar dit is nie. Dit is die boodskasp van die Hebreërbrief. Waaroor, die kerk 'wat aangewend kan word vir opleiding van predikante' uit die boedel van mevrou G.G. Johnson (gebore Williams).

    Kennis word geneem dat in die week 02–07 Augustus 1999 'n internasionale Nuwe Testamentiese kongres in die Fakulteit gehou word. Die lesings vir daardie week is opgeskort.

    Indringende bespreking word gevoer oor die verslag van die taakgroep wat 'n grondplan moes ontwerp vir die bekostiging en infasering van 'n teologiese opleiding met net ses dosente. Dit het ingesluit die (1) vervroegde aftrede van professore J.H. Koekemoer, S.J. Botha en G.M.M. Pelser, (2) opheffing van die poste van professore Beukes en Steenkamp, en (3) die verskuiwing van departementshoofde sodat P.J. van der Merwe programbestuurder Godsdienswetenskap, A.P.B. Breytenbach programbestuurder in Ou Testamentiese Wetenskap, T.F.J. Dreyer hoof van die Teologiese Kollege en A.G. van Aarde programbestuurder in Navorsingsbestuur sal word. Die posisie van L.C. Bezuidenhout het oorgestaan met die oog op onderhandelinge oor Bybelkunde.

    Kennis word geneem dat die proefskrif van G.J. Malan op 04 Augustus 1998 en die proefskrifte van Y. Dreyer en J.M. Strydom op 01 Oktober 1998 verdedig sal word.

    31 Julie 1998

    Die Verwysingsbybel wat die resultaat was van 'n projek wat gestrek het van 27 Januarie 1992 tot 04 Desember 1996, word bekendgestel in Kaapstad. Die Redaksionele Komitee het bestaan uit J.P. Oberholzer, voorsitter, P.A. Verhoef, ondervoorsitter, J.P. Louw, H.C. van Zyl en J.J.J. van Rensburg. Medewerkers betrokke van die Hervormde kant was A.P.B. Breytenbach (Lev, Hos), J.P. Oberholzer (Num, Eseg), J.H. Breyetenbach (2 Kron), J.A. Loader (Est, Spr), L.C. Bezuidenhout (Job), F.J. Boshoff (Ob), P.M. Venter (Miga), A.A. da Silva (Nah), G.M.M. Pelser (2 Kor), P. van Staden (Fil).

    Die werk bevat (1) die teks van die 1983-vertaling, (2) voetnote met kruisverwysings en aantekeninge, (3) 'n woordelys, (4) 'n lys van plekname, (5) 'n kernkonkordansie, en (6) 'n stel kaarte. Eksemplare is onder andere oorhandig aan die Hoofsekretaris, dominee G. Kritzinger, en aan drie vorige hoofsekretarisse, naamlik dominees Gerit van der Merwe, Sep Boshoff en Donald Tolmie.

    05 Augustus 1998

    Die Dekanekomitee bespreek 'n voorlegging oor die herstrukturering van die Fakulteit Teologie wat moet dien by ontmoeting met die Hoofbestuur. Na terugvoering oor die ontmoeting met die Hoofbestuur is herstrukturering weer bespreek op 17 Augustus 1999.

    20 Augustus 1998

    Die Dosentevergadering besluit om die rooster so te verander dat seminare en evaluasies op Maandae, blokonderrig op Dinsdae en Woensdae, praktiese vorming op Woensdae en die Bybelvakke op Vrydag aangebied word. Daar is ook besluit om die blokonderrig so in te rig dat die dosente wat vroeg moet aftree, hulle studieverlof en opgehoopte verlof kan neem. Die vergadering het ook 'n verdere verslag oor die herstrukturering van die Fakulteit ontvang en bespreek.

    25 Augustus 1998

    Die Kuratorium neem kennis van voorstelle oor die herstrukturering en rasionalisasie van die Fakulteit wat deur die Dosentevergadering voorgelê is na samesprekings by die Universiteit. Daar is besluit dat 'n samevattende dokument opgestel moet word met die oog op die beraad oor teologiese opleiding op 28 Augustus 1998.

    28 Augustus 1998

    'n Beraad oor die teologiese opleiding in die kerksentrum van Villieria, bespreek 'n samevattende verslag oor (1) die herstrukturering van die Fakulteit Teologie Afdeling A, (2) die beplanning van 'n Kollege vir HTO, (3) memorandums oor fondsinsameling, (4) ander bedieningsmoontlikhede vir predikante, en (5) hersiening en aanbieding van Kital-kursusse.

    14 September 1998

    Die Dekanekomitee bespreek die reaksies van die kerke op die herstrukureringsplan, aanstellingsprosedures, graadstrukture en besluit om die Diploma in Teologie te implementeer vanaf 2000.

    17–18 September 1998

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het kennis geneem van 'n verslag van die voorsitter van die Kuratorium, doktor P.J. de Beer, oor die stukke van die Raad vir Kerk en Teologie en die skrywe van ouderling C.C. Viljoen wat na die Kuratorium verwys is. Die Kommissie het besluit om die antwoord van die Kuratorium te aanvaar en het die saak as afgehandel beskou. Die Kommissie het verder kennis geneem van die notule van die beraad oor teologiese opleiding op 28 Augustus 1998. Hulle het besluit dat die voorgelegde dokument deur die Kuratorium gefinaliseer moet word vir voorlegging aan die Algemene Kerkvergadering en dat die twee poste by STNT op 31 Desember 1998 uitgefaseer moet word.

    04 Oktober 1998

    Die 65ste Algemene Kerkvergadering het sitting geneem in die Aula van die Universiteit van Pretoria. Die uittredende voorsitter, doktor D.J.C. van Wyk, het die openingsrede uitgespreek aan die hand van Hebreёrs 6. Hy het onder andere gesê:

    Eg in die gees van ons tyd sal daar waarskynlik op die sterk klanke hierbo, naamlik oor ons welversekerde, veilige geloofsbesit wat ons in Christus Jesus het en wat ons in werklikheid is en weet, reaksies kom van: Dit is gearriveerdheid, dit is selfgenoegsaamheid. Maar dit is nie. Dit is die boodskasp van die Hebreërbrief. Waaroor, buitendien, sou die Hervomde Kerk van alle kerke op aarde, eintlik selfgenoegsaam en gearriveerd kon wees? Ons sterk apostolaatsbewussyn, ons ywer in sending en evangelisasie? Of sou dit miskien kon wees oor ons ywerige kerkbesoek? Of sou ons dalk selfvoldaan kon wees oor ons groot erns met die heiligmaking, 'n Christelike lewenswandel, ons onderlinge eenheid en liefde? Nee, liewe broers en susters, oor al die dinge staan ons kaal en rooi van skaamte voor God. Ons onwilligheid en verskoningsoekery vir bykans 'n eeu lank om nie kragdadig met hierdie geheim van God se liefde na nasies, heidene, die hele wêreld toe te gaan nie; nou al waarskynlik baie meer as die helfte van die kerk se lidmate wat selde en selfs nooit die Woord hoor en sakramente gebruik nie; slordige lewenswandel, liefdeloosheid, groepvorming na alle kante toe, 'n voortdurende geskinder en verspreiding van valshede wat die lewe van die kerk ontsier; brutale uitdaging van kerklike besluite en kerklike orde waaraan predikante lustig deelneem, selfs die voortou neem... Ons staan in die verskriklikste verwonding voor God. Maar nogtans, deur die geloof in Jesus Christus het ons alles, is ons tot alles in staat, weet ons ons is veilig en geborge en behoue.
    In hierdie dialektiese spanning en paradokse van die geloof het die Hervormde Kerk oor die afgelope eeu en verder terug , sy kerkwees beleef en sy teologie beoefen. Ons ken die krag daarvan. En ons wil op geen wyse daarvan vervreem word nie. Daarom protesteer ons teen enige en elke poging, openlik en verbloem, om die kerk en die teologie af te trek in allerlei flirtasies en eksperimente met goedkoop en oppervlakkige charismatiese uitinge en belewinge wat nie Bybelse vernuwing tot gevolg het nie , maar bloot gerig is op die bevrediging van menslike emosies en begeertes...
    Maar ons protesteer ewe sterk teen alle verskynsels wat as ortodoksisties herkenbaar raak en waar ons alleen-deur-Christus-verdiende kosbare geloofsbesit tot menslike oormoed en selfvoldaanheid lei; of waar die kerk en die teologie voor die politieke karretjies ingespan word soos dit onder andere blyk uit sommiges se knaende onrus oor 'n nuwe Bybelvertaling; of die houding van alles-bly-soos-dit-is met 'n prinsipiële verset teen alle vernuwing; of waar daar so burgerlik met voorkeur gepraat word van ons kerk ipv die Kerk van die Here. Die gevaar van selfvoldaanheid en burgerlike godsiens is inderdaad nie altyd denkbeeldig nie.
    Maar ons protesteer net so sterk teen alle vorms van liberalisme, rasionalisme, modernisme; waar willose, kritieklose saamloop met politieke ideologieë van die dag , baie keer net omdat dit die rigting van die meerderheid is, net so veelvuldig voorkom as by ortodokses, maar dalk net meer skynheilig en geraffineerd met die houding van: Ons siening, dit is teologie, julle s'n is politiek; of waar die kerk en teologie slaaf en gevangene van die wetenskap en heersende filosofie word; waar die wetenskaplike teologie beoefening 'n doel in homself raak, vervreem van die kerk en nie meer primêr in die diens van die kerk, die verkondiging van die kerk en opleiding van predikante staan nie; of waar kritiese teologie beoefening so ver gevoer word dat studente verwar, en die kerk se kosbare geloofsbesit gerelativeer word, en dit in tye waarin massale geloofsafvalligheid opnuut dreig en waarin ons mense alle geloofsversekerdheid nodig het om staande te bly en die oorgange na nuwe pradigmas van bestaan, lewe en kerkwees, te verwerk.

    Die H.C.M. Fourie Erepenning is oorhandig aan professor S.J. Botha, doktor A.J.G. Dreyer en doktor D.J.C. van Wyk. Die voorsitter van die Kuratorium, doktor P.J. de Beer, het van professor Botha gesê:

    Prof Schalk Botha het hom as akademikus, dosent en kerkhistoriese navorser in die besonder onderskei deur sy deeglikheid en sorgvuldigheid... Dit is verder van besondere waarde dat prof Botha in sy studie, navorsing en publikasie die uitgangspunt vashou dat die Kerk 'n geloofsgemeenskap is wat die Here van die Kerk vir Homself vergader het. Daarom was sy aandag nie net gevestig op die historiese sy van ons kerkgeskiedenis nie, maar ook op die dogmenhistoriese implikasies in die mensopvattings en lewensbeskouing van spesifiek die Afrikanervolk in wie se midde ons Kerk bestaan.

    Hy het van doktor A.J.G. Dreyer die volgende gesê:

    Sy bediening as predikant was altyd op die voorposte van die kerk waar Hervormde lidmate oor uitgestrekte gebiede yl versprei was... Hy sal altyd daarvoor onthou word dat hy die predikant was wat die gemeentes van die Hervormde Kerk in Natal en veral in die Wes-Kaap gevestig het. Dit is egter veral op die terreine van sending en evangelisasie waar dr Dreyer se insette in Kaapstad van onskatbare waarde is. Hy het die inisiatief geneem om die moontlikheid van sendingwerk onder die Kleurlinge te ondersoek en te inisieer. Deur sy toedoen is daar ook met sending in Khayelitsha begin. Dr Dreyer het ook betrokke geraak by hawesending... Uit hierdie werk het die Christelike Seemansorganisasie waarvan hy die afgelope 15 jaar as voorsitter dien, gegroei.

    Hy het oor doktor Van Wyk gesê dat hy die erepenning ontvang vir sy 'bydrae tot die uitbouing en bestendiging van die Bybels-Reformatoriese geloof en teologie', en dan veral met sy 'ontwikkeling van die kerklike joernalistiek' en sy 'leierskap in die Kerk' oor etlike dekades.

    Gedurende sy tyd as redakteur (van Die Hervormer, vanaf 1977 tot 1992) skryf hy self die meeste hoofartikels en versorg gereeld verskeie ander artikels... Dit lei daartoe dat sy lewensbeskoulike, teologiese en kerklike denke meer bekend geword het as die van enige ander persoon in die Hervormde Kerk. Sy behoudende benadering gee rigting in 'n tyd van storm en drang....Met sy styl van eerlikheid, openhartigheid, lojaliteit en geloofsvertroue in die Heer van die Kerk het hy... veel gedoen om koers en rigting aan te dui, en die vrede en samehorigheid in die Kerk te bewaar.... Dr Van Wyk het hom ook as 'n goeie akademikus onderskei... Hy openbaar verder 'n buitengewone belangstelling en kundigheid in die kerkmusiek.

    Groeteboodskappe is oorgebring deur verteenwoordigers van die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, en die Presbiteriaanse Kerk van Suider-Afrika.

    Met konstituering is die vergadering saamgestel uit 311 predikante en 266 ouderlinge met stemreg. Professor T.F.J. Dreyer is as voorsitter en doktor J.M.G. Storm as skriba verkies, professor A.P.B. Breytenbach as vise-voorsitter en dominee A.P.J. Beukes as vise-skriba. As predikantelede van die Kommissie is verkies dominee J.P.J. Wagenaar en dominee P.A. Geyser.

    Die vergadering het sy werksaamhede begin met 'n bespreking oor die Belydenisskrifte en het besluit (1) standpunte wat van die belydenis afwyk, gehanteer sal word soos voorgeskryf in die Kerkorde, en (2) dat geen afwykende en dubbelsinnige interpretasie van hierdie belydenis as standpunt toelaatbaar is in die verkondiging in die Kerk nie.

    Ook die Fakulteit Teologie het vroeg aan die orde gekom. Die vergadering het kennis geneem van die verslae van die Kuratorium en die Dosentevergaderig waaruit die volgende aanhalings vir hulleself spreek:

    Daar is besluit om die karakter en identiteit van die Fakulteit as 'n dinamies toekomsgerigte instansie, sistematies uit te bou sodat by 'n openbare rolvervulling uitgekom kan word en in kerklike vorming wetenskaplike uitnemendheid nagestreef kan word.
    Die veranderings wat die afgelope aantal jare in Suid-Afrika plaasgevind het, het die Nederduitsch Hervormde Kerk nie onaangeroer gelaat nie. Die harde werklikheid is dat daar op feitlik elke vlak van die Kerk se lewe nuut gedink en beplan moet word. Hierdie nuwe denke en beplanning waartoe omstandighede in die land ons dwing, het die woorde van ons Heer dat ons nie van die wêreld is nie maar dat ons tog in die wêreld is, weer duidelik in ons gemoed ingeprent. Die vergaderings van die Kerk wat verantwoordelik is vir en gemoeid is met teologiese opleiding, het die afgelope aantal jare gedink en beplan vir die situasie waarin ons verkeer. .. In hierdie beplanning is uitgangspunte wat vir die Kerk ononderhandelbaar is, geïdentifiseer. Daarby is die saak van beweeglikheid, naamlik dat die Kerk steeds moet kan kies hoe teologiese opleiding moet geskied indien omstandighede verder versleg of dalk verbeter, deur die beplanners as 'n beginselsaak aanvaar... Uitgangspunte wat vir die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ononderhandelbaar is:

    • Teologiese opleiding van predikante aan 'n universiteit is noodsaaklik vir al die wesenlike funksies van die Kerk.
    • Die opleiding moet, om reggeaarde dienaars van die Woord te lewer, so ver as moontlik onder kerklike beheer staan.
    • Aspekte van die opleiding wat die etos van die Kerk raak, moet onder die volle beheer van die Kerk staan.
    • In die opleiding moet 'n hoë akademiese standaard gehandhaaf word wat gerugsteun word deur navorsing in die teologiese wetenskap en wat wêreldwyd erkenning geniet.
    • Naas die algemene vormende onderrig aan 'n universiteit moet toegespitste opleiding en afronding voornemende predikante toerus vir hulle dienswerk.

    Vaste gegewenhede:

    • Die Kerk kan in die huidige omstandighede nie meer die hoë koste van sy teologiese opleiding bekostig nie.
    • Die staat is nie meer bereid om uiniversiteitsoplelding wat 'n bepaalde geloofsgroep of kerk bedien, te subsidieer nie.
    • Die teologiese opleiding van die Kerk kan dus nie meer in sy huidige vorm voortbestaan nie.
    • Die Universiteit van Pretoria het hom sterk uitgespreek vir die behoud van die Fakulteit Teologie.
    • Die Fakulteit Teologie moet egter omskep word in 'n fakulteit van die Universiteit wat nie onder beheer van die Kerk staan nie.
    • Verteenwoordigers van die Dosentevergadering het onder leiding van die dekaan en met die medewete van die Kuratorium, die afgelope jaar samesprekings gevoer met lede van die Rektoraat en met verteenwoordigers van Afdeling B. Uit hierdie samesprekings het die volgende belangrike sake na vore gekom:

    o Die universiteitsowerhede het hulle bereid verklaar om die kerklike belangegroepe wat gehelp het om:

    • teologiese opleiding die afgelope dekades in stand te hou, geleentheid te gee om vanaf 01 Januaire 2000 oor 'n tydperk van vyf jaar te migreer na 'n enkele universiteitsfakulteit.
    • ooreenkomste te sluit met rolspelers wat verkies om self bepaalde aspekte van hulle opleiding in geakkrediteerde kolleges aan te bied
    • tot 31 Desember 2004 nie druk uit te oefen op die twee deelnemende kerke om 'n groter finansiële bydrae te maak tot teologiese opleiding as waartoe daar kontraktueeel ooreengekom word op 01 Januarie 2000 nie

    • nie dosente wat op 31 Desember 2004 aan die Fakulteit Teologie verbonde is, voortydig uit diens te stel nie.
    • die herrangskikking van 'n vaste aantal poste deur die kuratoria van die deelnemende kerke gedurende die migrasietydperk toe te laat.

    o Hierdie toegewings is egter onderworpe aan die volgende voorwaardes:

    • Die verteenwoordigers van die huidige twee afdelings van die Fakulteit Teologie moet tot 'n vergelyk kom oor die struktuur van die Fakulteit vanaf 01 Januarie 2000 tot 31 Desember 2004.
    • Die twee afdelings moet bewys lewer dat hulle ernstig is met die herstrukturering en rasionalisering van die Fakulteit.
    • Vanweë huidige studentegetalle kan die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika met slegs ses poste toetree tot die nuwe Fakulteit Teologie op 01 Januarie 2000.
    • Alhoewel die twee deelnemende kerke tot 31 Desember 2004 nog betekenisvolle inspraak sal hê in die Fakulteit, moet nuwe prsosedure vir aanstellings reeds vanaf 01 Januarie 2000 geld by die Fakulteit.

    o Teen die agtergrond van die voorafgaande inligting is dit in belang van die Kerk om die volgende stappe te neem:

    • Die Kerk tree op 01 Januarie 2000 met ses poste toe tot die nuwe bedeling van teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria.
    • Op 01 Januarie 2000 vestig die Kerk sy eie Teologiese Kollege wat in 'n geakkrediteerde verhouding met die Universiteit van Pretoria staan, maar wat volledig deur die Kerk beheer, bestuur en bekostig word. Hierdie Teologiese Kollege word aanvanklik bedryf met een voltydse hoof en 'n sekretariële diens. Die dienste van deeltydse dosente wat ook by die Fakulteit kan klasgee, word in die vestigingstyd ingekoop. Die Kuratorium kan besluit om later meer voltydse aanstellings te maak, of die personeel en programme van die Kollege aan te pas soos wat dit tot die Kerk se beste voordeel is. Dosente wat by die Fakulteit aangestel is, kan vanselfsprekend gebruik word om doseerwerk by die Kollege te behartig. Hervormde Teologiese Studies word ook uit die Kollege beheer en bedryf.
    • Die poste by STNT word uitgefaseer teen 31 Desember 1998...

    • Vervroegde aftrede van professore wat pensioenbare leeftyd bereik het, word oorweeg met die oog op die verkleining van Afdeling A tot ses poste teen 31 Desember 1999.

    Die vergadering het besluit:

    • Die vestiging van 'n enkele teologiese fakulteit onder beheer van die Universiteit van Pretoria word in beginsel aanvaar.
    • Die opheffing van die STNT word aanvaar.

    • Die Kuratorium kry opdrag om in oorleg met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering:

    o Die gunstigste moontlike posisie vir die Kerk se teologiese opleiding by die Universiteit van Pretoria te beding.
    o Voorkeur te verleen aan die vestiging en inbedryfstelling van die Kerk se eie Teologiese Kollege op 01 Januarie 2000.

    • Poste by die Fakulteit Teologie vanaf 01 Januarie 2000 tot 31 Desember 2004 só te herrangskik dat al ses tradisionele vakdissiplines teen die jaar 2004 verteenwoordig sal wees en dit tot die beste voordeel van die Kerk sal wees.
    • Die rasionalisering van die Fakulteit Teologie (Afdeling A) só te bestuur dat dit met die minste ontwrigting en verlies van die huidige dosente verloop.

    • Die uitdiensstelling van teologiese dosente en ander pedikante met besondere opdrag word omskryf en gereël analoog aan die uitdiensstelling van gemeentepredikante.

    Kennis is geneem van die studentestatistiek waarvolgens daar in 1998, 34 BA studente en 23 BD studente ingeskryf was. Oor die jare 1995–1997 is 41 kandidate vir toelating tot die studie geëvalueer, waarvan 38 met beurslenings en een sonder 'n beurslening toegelaat is, terwyl twee nie aanvaar is nie. Daar was twaalf voltydse en 17 deeltydse dosente en twee sekretaresses aan die Fakulteit verbonde. Daar was 69 studente met nagraadse studie besig.

    Die vergadering het hom ook uitgespreek ten gunste van 'n besondere poging tot fondsinsameling vir teologiese opleiding. Daaruit is later die nuwe Teologiese Opleidingsfonds gebore. Lede van die Kuratorium is verkies, naamlik doktore: P.J. de Beer, D.J.C. van Wyk, W.A. Dreyer, H.J. Botes, J.H. Breytenbach, J.C. van der Merwe en Y. Dreyer

    13 Oktober 1998

    Die Dosentevergadering neem met waardering kennis van die volgende skrywe van die BD III klas:

    Aan ons geagte dosente: Dit is die werk van akademici om hulle met moeilike dinge besig te hou – gewoonlik om uit nuuskierigheid te krap waar dit nie jeuk nie. Maar vir ons teologie fakulteit is dinge nou anders. As ons sê dat daar dinge is wat jeuk en wat gekrap moet word, dan is dit 'n manier om te sê dat ons as studente ook besef dat daar iets onder die oppervlakte is wat nie goed gaan nie. En soos 'n kindjie voor sy siek moeder, voel ons onseker en ook magteloos, omdat hier dinge op die spel is wat ons nie heeltemal verstaan nie en waaraan ons ook nie kan help krap nie. Hierdie brief is 'n manier hoe ons probeer om vir julle te onderskraag. Nou is dit nie belangrik wat ons mening oor enigeen van julle se klasse is nie, dit is nie nou belangrik om te onthou van wie ons baie keer verskil het nie, dit is nie ter sprake vir wie elkeen van ons afsonderlik beskou as die voorbeeld wat nagevolg moet word nie, want vir al hierdie dinge is die omstandighede waarin die fakulteit gedompel is in elk geval blind. Watter geheue het die kragte wat die veranderinge afdwing van die ure se ongesiende arbeid? Maar ons sien iets daarvan. Ons sien dosente wat elke dag weer vriendelik groet. Ons sien mense wat moeite doen. Ons sien persone saam met wie ons as mede-gelowiges kan leef. Ons raai watter laat nagte harde werk, frustrasie, kommer, onsekerheid, teleurstelling, daar dikwels en veral nou agter dit alles sit. En ons weet nie wat die volgende jaar of dalk maande gaan meebring nie. As ons besef dat 'n professor in teologie ook met sy hande in sy hare kan sit, dan sê ons dit met die grootste deernis. Die brief wil nie 'n goedkoop trosie opdis nie. Ons wil hiermee vir julle aanmoedig om, hoe raaiselagtig dinge ookal lyk, te midde daarvan te bly klou aan die Hoop vir Wie ons leef en met die oog op Hom soos Ester sê: Miskien is dit met die oog op 'n tyd soos hierdie ... Van julle susters en broers AJ Hattingh, LH Kruger, I Zybrands, J Klopper, J Havenga, Ernst Wolff, Johnny Young.

    Die sekretaris van die Dosentevergadering, professor P.J. van der Merwe, het die waardering van die dosente soos volg oorgedra:

    Ja, dit is waar, die Fakulteit is besig om deur moelike en selfs traumatiese tye te beweeg. Dit is byvoorbeeld nie aangenaam om kollegas wat vanweë hulle ouderdom nie maklik weer 'n beroep of 'n dergelike aanstelling sal kry nie, uit te faseer nie. Ons treur ook oor die Fakulteit wat was en wat nou so goed as verby is. Aan die ander kant glo ons tog dat die derde fase in die geskiedenis van die Fakulteit Teologie sy eie positiewe ontwikkeling gaan hê. Ons besef dat dit besondere uitdagings aan ons gaan stel, maar as ons dit gesamentlik met 'n gelowige en biddende gesindheid aanpak en almal hulle bes doen om sukses te verseker, is ons oortuig dat die toekoms straks beter as die verlede gaan wees. Intussen gaan dit en is dit trouens besig om groot opofferings van ons te vra. Daarom die waardering vir julle brief.

    16 November 1998

    Die Dekanekomitee ontvang rapport oor die kerklike besluite en bespreek die posisie van programbestuurders.

    25 November 1998

    Die Kuratorium vergader. Doktor P.J. de Beer is tydens die Algemene Kerkvergadering gekies as voorsitter van die Kuratorium en doktor A.J.G. Dreyer as vise-voorsitter. Die dagbestuurslede word verkies, dit is doktore H.J. Botes, J.H. Breytenbach en Y. Dreyer. Die vergadering het doktor Yolanda Dreyer gelukgewens met haar doktorsgraad. Sy was dus nie net die eerste teologiese vrouestudent van die Fakulteit nie maar ook die eerste vrou wat daar gepromoveer het. Die vergadering het besluit om die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering te versoek om doktor J.P. Labuschagne in beheer te plaas van die fondsinsamelingsprojek vir die Teologiese Opleidingsfonds. Die reglement vir die fonds het bepaal:

    Die Teologiese Opleidingsfonds van die Nederduitsch Hervormde Kerk stel sigself ten doel om 'n fonds daar te stel ter ondersteuning van 'n teologiese opleiding wat getrou sal wees aan die teologiese etos van die Hervormde Kerk. Die oogmerk van die fonds is om uiteindelik voldoende kapitale reserwes op te bou sodat die renteopbrengs van die fonds voldoende sal wees om genoemde doelstelling te bereik.

    Verder het die Kuratorium besluit om die Dosentevergadering te versoek om die ondersoek na 'n eie inrigting vir teologiese opleiding verder te voer en om die wenslikheid van telematiese onderrig te ondersoek en het toestemming verleen dat professor A.P.B. Breytenbach as konsultant mag optree vir die vertaling van die Bybel in isiNdebele.

    27 November 1998

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vergader. By die legitimasieplegtigheid is kennis geneem dat Ernst Wolff die toekennings as beste student ontvang het oor die drie jaar studie wat bestaan het uit die bestudering van die Ou Testament, Nuwe Testament, Godsdiens- en Sendingwetenskap, Kerkgeskiedenis en hy het ook die beste BD skripsie. Jonanda Kloppers het met hom die toekenning vir Nuwe Testament gedeel en ook die toekenning ontvang as beste student in Praktiese Teologie.

    04 Desember 1998

    Die Kuratorium besluit in 'n buitengewone vergadering om met professor M.J. du P. Beukes te onderhandel oor 'n veranderde opdrag vir 1999 en neem kennis dat professor L.J.S. Steenkamp met die Universiteit onderhandel oor siekte-emeritaat. Dit is ook goedgekeur dat tydens professor Koekemoer se studieverlof sy lesings waargeneem sal word deur dominee A. Groenewald, professor I.W.C. van Wyk, doktor J. Otto, dominee M. Robbertze, doktor J. Buitendag en doktor A. Botma. Kennis is geneem dat (1) in die Departement Kerkgeskiedenis doktore H.J. Botes, W.A. Dreyer, J.P. Labuschagne en professor A.D. Pont, (2) in die Departement Godsdiens- en Sendingwetenskap doktor D.J.C. van Wyk en professor L.J.S. Steenkamp, en (3) in die Departement Ou Testamentiese Wetenskap professore W.C. van Wyk en A.A. da Silva as hulpdosente in 1999 sal dien. Met die oog op kurrikulering in 1999 is besluit dat 'n tweedaagse beraad gereël moet word op 19–20 Januarie 1999 oor die ontwerp van 'n profiel van 'n predikant en kurrikulering. Professor T.F.J. Dreyer het opdrag ontvang om vroeg in 1999 te begin met die voorbereidende werk vir die vestiging van 'n eie kollege.

     

    1999

    Die publikasie 20ste eeu Hervormde Teologie verskyn met D.J.C. van Wyk as redakteur, en T.F.J. Dreyer, A.P.B. Breytenbach en J.M.G. Storm as lede van die Redaksie. Daarin is opgeneem 37 artikels van teoloë van die Kerk, afgesluit met 'n oordenking van J.A. Loader. Die redakteur wys in 'n voorwoord op die wye en interessante verskeidenheid aksente, nuanses en perspektiewe:

    Die Redaksie meen dis eg en eie aan wat ons juis in ons teologie wil wees: oop en ontvanklik daarvoor om aanhoudend vanuit die Woord in die rede geval te word, gekorrigeer te word, opnuut te luister, alles weer oor en nuut te probeer sê, nuut te bely.

    25 Januarie 1999

    Die Dosentevergadering neem kennis dat dominee P.A. Geyser sy proefskrif suksesvol verdedig het op 14 Januarie 1999 en dat Paula Eksteen Bybelkunde Honneurs met lof geslaag het. Professor S.J. Botha sal van 05 Januarie tot 31 Oktober, J.H. Koekemoer van 01 Februarie tot 30 Augustus en G.M.M. Pelser van 05 Januarie tot 30 Augustus op verlof sal wees. Professor Beukes se pos het opgehou om te bestaan, maar hy sal as eksterne dosent voorgaan om sekere onderrigfunksies te verrig. Hy word op Sondag 31 Januarie bevestig as deelsorgpredikant van Villieria. Professor Steenkamp doen aansoek om medies-ongeskiktheidspensioen en is intussen op siekteverlof.

    04 Februarie 1999

    Die Dekanekomitee kry 'n verslag oor die konsultasies met kerklike liggame en bespreek 'n tydskedule vir werksaamhede, graadstruktuur, profiel van die kandidaat, modulering, werkverdeling in departemente en programme, die rooster, navorsing, personeelsake, funksionering van die kollege, die fakulteitsraad, die ekumeniese adviesraad, kerklike dosenterade, aanstellingsprosedures, komitees, dekanaat, departemente, departementshoofde, programbestuurders, sekretariële en administratiewe personeel, integrasie van fakulteitstrukture, verrykingsprogramme, Bybelkunde, finansies, fisiese fasiliteite, studentewerwing en samewerkingsooreenkomste. Daar is besluit dat, (1) die aangeleentheid van dosentevoorsiening na die onderskeie dosentevergaderings verwys word vir deurvoering na die verskillende departemente, (2) dat afsonderlike departemente vakgewys moet ontmoet en modules saamstel, (3) dat Ou Testamentiese Wetenskap en Nuwe Testamentiese Wetenskap moontlike samesmelting moet bespreek, en (4) dat departemente moet beplan vir die voorgestelde graadstrukture.

    12 Februarie 1999

    In 'n buitengewone vergadering van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering te Hammanskraal is besluit om professor. F.J. van Zyl by herdenking van sy sestigste ampsjubileum te nooi om saam met die Kommissie te eet op 10 Junie 1999. 'n Werkwyse van die Rasionalisasiekommissie is goedgekeur en vier persone is benoem om die onderhandelinge in dié verband te hanteer.

    24 Februarie 1999

    Die Dosentevergadering bespreek voorstelle oor die herstrukturering van fakulteite aan die Universiteit, prestasiebestuur, die posisie van Bybelkunde in die beoogde nuwe fakulteit Teologie, en besluit om 'n uitgawe van Hervormde Teologiese Studies te wy aan professore Beukes en Steenkamp.

    11 Maart 1999

    Die Dekanekomitee aanvaar die vierjarige BTh-struktuur en bespreek die MTh wat oor twee jaar versprei word, Gemeentepraktyk wat daarna uitloop op 'n diploma en 'n Gevorderde diploma in Teologie na BTh of MTh. Die Komitee het verder vergader op 22 April, 03 Mei, 17 Mei , 26 Mei, 03 Junie, 14 Junie, 23 Julie en aandag is gegee aan die talle sake waaroor rigting gevind moes word.

    16 Maart 1999

    Die Dosentevergadering neem kennis van 'n skenking van R1300 aan die 'Nederduitsch Hervormde Kerkbeursfonds' deur D.J. du Toit van Wingate Park. Die vergadering het voorstelle aan die Kuratorium geformuleer oor tydige optrede ten opsigte van die postestruktuur en dit het ook gehandel oor die plek van Gemeentepraktyk in die MTh kursus. Die voogdekomitee is hersaamgestel en doktor P.A. Geyser is aangewys om die BD oriëntering te organiseer.

    18 Maart 1999

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering handel oor die voorgenome stigting van 'n Kollege en besluit dat professor. T.F.J. Dreyer voortgaan met die voorbereidings. Daar is goedgekeur dat doktor J.A. van Biljon spesialistehulp in die Fakulteit mag verleen.

    23 Maart 1999

    Die Kuratorium neem kennis van 'n verslag oor die beraad op 19–20 Januarie 1999, opgestel deur professor. P.J. van der Merwe. Daarin is ook die ontwerp van die profiel van 'n predikant met kognitiewe, vaardigheids- en affektiewe aspekte opgeneem. Ander bylaes by die agenda was:

    • 'n Dekaansverslag oor die jaar 1998.
    • 'n Ooreenkoms tussen die twee fakulteitsafdelings oor die herstrukturering van die Fakulteit Teologie.
    • 'n Grondplan vir teologiese opleiding in die Nederduitsch Hervormde Kerk.
    • 'n Ontwerp van Teologiese Opleiding aan die Universiteit van Pretoria in die nuwe bedeling met 'n addendum oor Herstrukturering en rasionalisering ensovoorts.

    Die Herstrukturering soos ooreengekom op die Dekanekomitee, het onder andere bepaal dat (1) die Fakulteit sal funksioneer as 'n veelkerklike fakulteit, (2) dat 'n kerk op eie koste 'n Kollege kan vestig, (3) dat die postestruktuur sal wees ses vir die Nederduitsch Hervormde Kerk, 11 vir die Nederduits Gereformeerde Kerk en voorlopig een vir 'n ander denominasie. Om die doelwit van ses poste vir die Nederduitsch Hervormde Kerk te bereik, is die volgende maatreëls getref: (1) die aftreedatum van professor J.H. Koekemoer, S.J. Botha en G.M.M. Pelser word vervroeg tot 31 Desember 1999, (2) die poste van professor M.J. du P. Beukes en L.J.S. Steenkamp word einde 1998 uitgefaseer [Beukes het emeritaat aanvaar en Steenkamp het siekte-emeritaat ontvang], en (3) professor T.F.J. Dreyer word oorgeplaas na die Kollege vir HTO.

    Die hergestruktureerde Fakulteit word op 01 Januarie 2000 soos volg saamgestel:

    • Ou Testamentiese Wetenskap: A.P.B. Breytenbach - hoof, P.M. Venter, J.H. le Roux, L.C. Bezuidenhout, D. Human.
    • Nuwe Testamentiese Wetenskap: J.G. van der Watt - hoof, S.J. Joubert, A.G. van Aarde, P.A. Geyser, E. Mahlangu.
    • Dogmatiek en Christelike Etiek: C.J. Wethmar - hoof, D.E. de Villiers en een vakant.
    • Godsdiens- en Sendingwetenskap: P.J. van der Merwe - hoof, J.J. Kritzinger, P.G.J. Meiring.
    • Praktiese Teologie: C.J.A. Vos - hoof, J.C. Muller en een vakant.
    • Kerkgeskiedenis: J.W. Hofmeyer - hoof.
    • Kollege vir HTO: T.F.J. Dreyer - hoof.
    • Bestuurder Verrykingsprogramme: P.G.J. Meiring.
    • Bestuurder Navorsingsontwikkeling en –programme: A.G. van Aarde.
    • Bestuurder Telematiese onderrig: J.H. le Roux.

    Die graadbevoegdheid van die Fakulteit is vasgestel op 'n (1) vierjarige BTh-graad, of 'n driejarige BA(Teol) graad, (2) 'n eenjarige BA Hons graad, (3) 'n tweejarige MTh of 'n BD graad, (4) MDiv, (5) MA (Teol), en (6) PhD of DD graad. Wat die onderrig betref, is bepaal dat dit bestaan uit programme, studie-eenhede en modules. Die Nederduitsch Hervormde Kerk verkies 'n vierjarige BTh gevolg deur 'n tweejarige MTh.

    30 Maart 1999

    Die Fakulteit Teologie Afdeling A keur die voorgestelde BTh-kursus goed. Die volgende onderwerpe vir die DD-proefskrif is goedgekeur: J.M. Strydom, An evaluation of John Dominic Crossan's construct of the historical Jesus: the Baptist as test case; P.A. Geyser, Die hermeneutiese uitgangspunte in die 'nuwe historiese' benadering tot Jesus-studies, en vir die M-verhandeling: M. Meyer, 'n Prakties-teologiese ondersoek na motiveringsprinsipes in die opbou van 'n gemeente, en K.D. Papp, Die lewe en werk van ds Kalman Papp II, stamvader van die familie Papp in Suid-Afrika.

    25 Mei 1999

    Die Dosentevergadering besluit om die fakulteitsmedalje toe te ken aan professor F.J. van Zyl en A.D. Pont. Die vergadering keur 'n konsep-ooreenkoms met die School of Divinity, St Mary's College, University of St Andrews in Skotland goed en besluit dat dit op 'n spesiale funksie onderteken sal word. Kennis is geneem van die vordering in die Dekanekomitee oor die infasering van nuwe kursusse en die uitfasering van bestaande kursusse. Indringende bespreking is gevoer met doktor Zenda Ofir oor die bestuur van navorsing.

    09 Junie 1999

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die Kuratorium vergader saam. Daar is kennis geneem van die nuutste verwikkelinge rondom die teologiese opleiding, die voorgestelde notariële ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria, die personeelbeleid van die Universiteit, die voorgestelde reglement vir die Hervormde Teologiese Kollege, en die samewerkingsooreenkoms tussen die Kerk en die Universiteit met betrekking tot die Kollege. Die volgende besluite is bekragtig:

    1. Die Notariële ooreenkoms word in besginsel aanvaar.
    2. Redaksionele wysigings soos voorgestel, word aangebring en voorgestelde wysigings word verder met die Universiteit onderhandel.
    3. Die dagbestuur van die Kuratorium en die Moderamen finaliseer die ooreenkoms en handel dit af.
    4. Die volgende dosente word in die ses poste wat aan die Kerk toegeken is, gehandhaaf:

    • Ou Testament: A.P.B. Breytenbach, P.M. Venter, L.C. Bezuidenhout.
    • Nuwe Testament: A.G. van Aarde en P.A. Geyser.
    • Godsdiens- en Sendingwetenskap: P.J. van der Merwe.
    • Die kerklike vakke Dogmatiek en Christelike Etiek, Praktiese Teologie en Kerkgeskiedenis en Kerkreg is vakant en sal gevul word soos wat dosente in die ander departemente uittree...

    5. Die Administrateur onderhandel en finaliseer so gou moontlik in oorleg met die Universiteit van Pretoria die vervroegde aftredes van professore J.H. Koekemoer, G.M.M. Pelser en S.J. Botha.

    6. Die dienste van Koekemoer, Pelser en Botha word teruggekoop by wyse van kontrakaanstellings...ensovoorts.

    Die voorstel van die Dekanekomitee oor die beleid rondom Hervormde Teologiese Studies is goedgekeur waarvolgens die Hervormde Teologiese Studies administratief onder beheer van die Kollege sal staan. Die reglement vir die HTK en die samewerkingsooreenkoms is in beginsel goedgekeur.

    15 Julie 1999

    Dit blyk dat die reglement vir die fakulteitsmedalje bepaal dat net een persoon die medalje op 'n slag kan ontvang. Die Dosentevergadering besluit om professor Van Zyl te nomineer.

    28 Julie 1999

    Die Kuratorium se dagbestuur het die ooreenkoms met die Universiteit goedgekeur na enkele wysigings en besluit dat die finale konsep op 30 Julie 1999 deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering goedgekeur sal word.

    29 Julie 1999

    Die Fakulteit Afdeling A keur die leerplanwysigings vir Bybelkunde vir implementering vanaf 2000 goed, asook die MTh vir voorlegging aan die Senaat en die Raad. Daar is kennis geneem dat die Fakulteitsmedalje toegeken sal word aan professor F.J. van Zyl. Die Dosentevergadering neem kennis dat die ondertekening van die ooreenkoms met St. Andrews gereël is vir 03 Augustus in die rektor se onthaalkamer.

    30 Julie 1999

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gee toestemming dat die ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria onderteken word. Die ooreenkoms het onder andere bepaal:

    • Die bestaande twee fakulteitsafdelings word opgehef en saamgevoeg in een universiteitsfakulteit met veelkerklike betrokkenheid. Die kerntaak van die fakuklteit is die beoefening van die teologiese wetenskap en die opleiding van ampdsraers vir kerke.
    • Onderrig aan die fakulteit word sodanig gestruktureer dat dit binne die Nasionale kwalifikasieraamwerk beantwoord aan die beleid oor tersiêre onderrig en word programgewys georganiseer.
    • Formele akademiese programme van die fakulteit sal saamgestel word uit gemeenskaplike en kerkspesifieke komponente met die oog daarop om die opleiding van ampsdraers van alle kerklike vennote moontlik te maak, met dien verstande dat kerkspesifieke komponente deur die Fakulteitsraad en Senaat goedgekeur moet word en met dien verstande verder dat die partye daarna sal streef om die grootste moontlike deel van die program uit gemeenskaplike komponente saam te stel.
    • Nie-formele onderwysprogramme van die fakulteit, waarby kerkeie programme ingesluit is, word saamgestel en aangebied in ooreenstemming met die toepaslike reëls en reglemente van die Universiteit.
    • Die belange van kerklike vennote word in die fakulteit deur die Kuratorium (of soortgelyke liggaam) van elke vennoot behartig.
    • Die partye kom ooreen dat 'n Ekumeniese Adviesraad ingestel sal word waarop alle kerklike vennote sitting sal hê ..
    • Die dosente van elke kerklike vennoot vorm 'n Dosenteraad wat in oorleg met die fakulteitsraad die kerkspesifieke program van daardie kerk behartig...
    • Die Fakulteitsraad word in ooreenstemming met die tersaaklike reglement van die Universiteit saamgestel op so 'n wyse dat die posteverdeling tussen die bestaande kerklike vennote gehandhaaf word met dien verstande dat fakulteitsraadslede vanuit ander kerklike vennote ook addisioneel benoem kan word.
    • Die Fakulteitsraad kies 'n dekaan en adjunk-dekaan op so 'n wyse dat wanneer die dekaan uit die geledere van een van die bestaande kerklike vennote kom, die adjunk-dekaan uit die geledere van 'n ander bestaande kerklike vennoot gekies sal word.
    • Met die oog op die implementering van die herstruktureringsprogram word 6 poste aan die Kerk toegeken vir die duur van hierdie ooreeenkoms.
    • Die partye kom ooreen dat ten opsigte van die poste in par 5.1 en vir die duur van hierdie ooreenkoms, die Universiteit 70% van die koste en die Kerk 30% daarvan sal finansier...
    • Die Universiteit onderneem om bo en behalwe die befondsing
    • in par 6.1.hierbo, 'n bedrag gelykstaande aan 30% van die uitgawes verbonde aan die gemelde poste, jaarliks aan die fakulteit beskikbaar te stel...
    • Kerkeie programme is die uitsluitlke verantwoordelikheid van die Kerk.
    • Die partye kom ooreen dat die Kerk op eie koste 'n Kollege vir teologiese opleiding vestig, wat na onderhandeling gedeeltelik of volledig gebruik kan maak van die infrastruktuur van die Universiteit.
    • Hierdie ooreenkoms tree in werking op 01 Januarie 2000 en duur... tot 31 Desember 2004.

    12 Augustus 1999

    Die laaste Dosentevergadering volgens die uitgaande struktuur word gehou. Teenwoordig is A.P.B. Breytenbach, T.F.J. Dreyer, P.A. Geyser, A.G. van Aarde, P.J. van der Merwe en P.M. Venter. Professor. L.C. Bezuidenhout is in sy afwesigheid bedank vir die belangrike rol wat hy gespeel het om die ooreenkoms met St. Andrews te fasiliteer. Die wens is uitgespreek dat die fondse wat nog onder die naam van die STNT gehou word, oorgeplaas word na die HTK.

    17 Augustus 1999

    Die ooreenkoms tussen die Kerk en die Universiteit word onderteken. Die dagbestuur van die Kuratorium en die lede van die Moderamen was teenwoordig. Die voorsitter van die Kuratorium, doktor P.J. de Beer, het namens die Kerk die woord gevoer.

    Die nuwe Fakulteit Teologie word gekonstitueer op 'n buitengewone vergadering in die Raadsaal in die Administrasiegebou. Teenwoordig was die rektor, professor Johan van Zyl, wat as voorsitter opgetree het, die waarnemende registrateur, doktor D.D. Marais, die volgende volle lede van die Fakulteit: L.C. Bezuidenhout, A.P.B. Breytenbach, D.E. de Villiers, P.A. Geyser, J.W. Hofmeyer, D.J. Human, S.J. Joubert, E. Mahlangu, P.G.J. Meiring, J.H. le Roux, J.C. Muller, A.G. van Aarde, P.J. van der Merwe, J.G. van der Watt, P.M. Venter, C.J.A. Vos en C.J. Wethmar, die studenteverteenwoordigers mejuffrou P. Eksteen en meneer J. Kok en die sekretaresse mejuffrou T.H. Otto. Die voorsitter het die Fakulteit gekonstitueer in die lig van die ooreenkomste tussen die Universiteit en die twee bestaande kerklike vennote. Daar is aanbeveel is dat C.J.A. Vos as dekaan en A.P.B. Breytenbach as adjunk-dekaan aangestel moet word. Daar is ook kennis geneem dat die Aanstellingsadvieskomitee moet bestaan uit die dekaan en adjunk-dekaan, twee Fakulteitsraadslede van die betrokke deelnemende kerk, twee Kuratoriumlede van die betrokke deelnemende kerk, die departementshoof van die dissipline waar die vakature bestaan of sy verteen woordiger en 'n vakkundige persoon. Dit is besluit om aan te beveel dat die graad MPhil in Toegepaste Teologie ingestel word.

    24 Augustus 1999

    Die Kuratorium neem kennis dat die samewerkingsooreenkoms tussen die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Universiteit van Pretoria op 17 Augustus onderteken is. Daar is kennis ook geneem dat professor A.P.B. Breytenbach as adjuk-dekaan verkies is. Professor A.G. van Aarde het navorsingsverlof ontvang van 01 September 1999 tot 31 Augustus 2000 en is gelukgewens met die verwerwing van die graad PhD in antieke tale. Die vergadering het die maksimumbedrag vir boekaankope verhoog tot R13 200 per student vir ses studiejare.

    30 Augustus 1999

    Die Dekanekomitee het vergader en weer op 20 September en 04 Oktober, waar aandag gegee is aan 'n verskeidenheid organisatoriese sake, onder andere die werkverdeling tussen die Fakulteitsraad, Algemene Dosenteraad en kerklike dosenterade. Daar is van die eerste byeenkoms op 19 September 1997, in totaal, 31 vergaderings gehou. Die sekretariaat is grotendeels deur professor P.J. van der Merwe behartig. Dit was 'n veeleisende tyd vir alle betrokkenes, veral as in gedagte gehou word dat die gewone akademiese werksaamhede onverpoosd voortgegaan het.

    16–17 September 1999

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het kennis geneem dat die ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria afgehandel en onderteken is op 17 Augustus 1999. Daar is ook besluit om goed te keur dat die Fakulteitsmedalje toegeken word en dat die totale koste (ingesluit die geldelike toekenning) nie R5000 moet oorskry nie en verhaal moet word uit die Teologiese Opleidingsfonds. Kennis is geneem van 'n skrywe van professor L.C. Bezuidenhout waarin hy sy bedanking as dosent aankondig en meedeel dat hy in 'n gemeente van die Kerk van Skotland sal begin werk.

    21 September 1999

    Die Fakulteitsraad neem in 'n buitengewone vergadering kennis van die regulasies soos vervat in die ontwerp-jaarboek 2000 en keur die stigting van die Sentrum vir Teologie en Samelewing goed.

    05 Oktober 1999

    Die Kuratorium het in 'n buitengewone byeenkoms bespreking gevoer oor die aanstellingsprosedures en besluit dat hy op geen wyse sy seggenskap oor enige aanstellings van Hervormde lidmate opsê nie en aanbeveel dat professor T.F.J. Dreyer se dienste ingekoop word om in die Fakulteit Praktiese Teologie te doseer. Die Kuratorium het die reg voorbehou om te besluit by wie studente van die Kerk lesings ontvang en het die samewerkingsooreenkoms ten opsigte van die Kollege goedgekeur vir ondertekening deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Die Kommissie is versoek om na ondertekening van die ooreenkoms vir professor T.F.J. Dreyer aan te stel as hoof van die Kollege. Hulle het ook goedgekeur dat doktore M.J. du P. Beukes, Y. Dreyer, C. van der Merwe, J.A. van Biljon en dominee J. Coetzee aangewend kan word in die Fakulteit en die Kollege.

    07 Oktober 1999

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het in 'n buitengewone sitting kommer uitgespreek oor die groot werklas van professor T.F.J. Dreyer en versoek dat aandag gegee word aan groter besoldiging vir hom. Die samewerkingsooreenkoms is goedgekeur en die Kuratorium is versoek om die beheerraad van die HTK daar te stel.

    11 Oktober 1999

    Die Raad neem kennis dat professor C.J.A. Vos as dekaan en professor A.P.B. Breytenbach as adjunk-dekaan van die Fakulteit Teologie aangestel is.

    12 Oktober 1999

    Die Hervormde Dosentevergadering hou sy eerste vergadering. Teenwoordig was J.H. Koekemoer, A.P.B. Breytenbach, T.F.J. Dreyer, G.M.M. Pelser, P.J. van der Merwe, P.A. Geyser, P.M. Venter en L.C. Bezuidenhout. Afskeid is geneem van professor L.C. Bezuidenhout wat reeds einde November na Skotland verhuis. Kennis is geneem dat die Kuratorium vir professor L.C. Bezuidenhout wat reeds einde November na Skotland verhuis. Kennis is geneem dat die Kuratorium vir professor Beukes versoek het om die oriënteringskamp en –kursus te reel vir studente wat in 2000 die oorgangshonneurs gaan volg. Die gedagte is aanvaar dat die nuweling teologiese studente inskakel by die eerstejaarskamp van die gemeente Philadelphia. Kennis is geneem dat die kongres van die Societas Novi Testamenti Studiorum baie goed verloop het. Kennis is verder geneem van die komitees wat deur die Fakulteitsvergadering van 21 September benoem is, van die reëlings oor kantoorbesetting en fondse en van 'n daglange beplanningsvergadering op 04 November.

    04 November 1999

    Die Hervormde Dosentevergadering keur die beplanning goed vir (1) die opening van die Hervormde Teologiese Kollege op 01 Februarie 2000, (2) die samestelling en eerste byeenkoms van die Toesighoudende Raad, (3) die beplanning vir Praktykvorming, en (4) die reëlings oor die aanbied van lesings in Praktiese Teologie deur professor Dreyer. Dit is besluit om 'n werkswinkel te reel vir die beplanning van die VTT in 2000 en om die voogdestelsel vir studentebegeleiding voort te sit. 'n Dosentevoog vir elke jaargroep is aangewys en kennis is geneem dat G.M.M. Pelser as huisvader van Van der Hoff aangewys is. Daar is besluit om die Fakulteitsmedalje te verander in 'n Kollegemedalje en om Akademiese pryse in hersiening te neem. Kennis is geneem dat die Fakulteit soos 'n skool bestuur sal word met die volgende bestuursliggame: Dekanaat, Dagbestuur (Dekanaat, navorsingsbestuurder en programbestuurder), Bestuurskomitee (Dekanaat, departementshoofde), Fakulteitsraad, Algemene Dosenteraad, Kerklike dosenterade. Professor Van der Merwe is as programbestuurder verkies deur die Bestuurskomitee.

    24 November 1999

    Die Kuratorium keur die samewerkingsooreenkoms ten opsigte van die Kollege goed en onderbreek sy verrigtinge vir die ondertekening daarvan deur professor T.F.J. Dreyer namens die Kerk en professor C.R. de Beer namens die Universiteit. Die ooreenkoms bevat onder andere die volgende bepalings:

    Aangesien die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika besluit het om met ingang 1 Jan 2000 'n Kollege, bekend as die Hervormde Teologiese Kollege, te stig wat deels vir die akademiese opleiding van teologiese studente van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika verantwoordelik sal wees, en aangesien die Kerk begerig is dat die studente van die te stigte Kollege onderrig van 'n hoë standaard en kwaliteit sal ontvang en dit bereik kan word deur samewerking met die Universiteit, en aangesien die Kerk oortuig is dat die akademiese standaarde van die Universiteit noodsaaklik is vir die bevordering van die studies en ontwikkeling van die teologiese studente soos deur die Kerk in vooruitsig gestel, en aangesien die Minister van Onderwys riglyne waarbinne sodanige samewerking tussen Universiteite en inrigtings geskied, neergelê het en albei partye wens dat die wyse, metodes en terme waarvolgens die samewerking geskied, op skrif gestel sal word, en aangesien die Universiteit sy verantwoorelikheid ingevolge genoemde riglyne vir leiding in verband met akademiese standaarde wil nakom deur die goedkeuring van onderrigmetodes, kurrikula en sillabusse en deur die moderering van eksamenvraestelle, nou derhalwe kom die partye soos volg ooreen:

    1. Woordomskrywings ...
    2. Algemene bepalings

    2.1 Die Kollege is 'n administratiewe en akademiese eenheid, afsonderlik van die Universiteit, wat deur die Kerk beheer, bestuur en gefinansier word. Behoudens die bepalings van paragraaf 3 oefen die Kerk die beheer, bestuur en finansiering van die Kollege uit deur die Beheerraad Die Hoof of sy verteenwoordiger neem op uitnodiging sitting op die Fakulteitsraad Teologie

    3. Akademiese standaarde

    3.1 Die Toesighoudende Raad word saamgestel uit die hoof van die Kollege, die Dekaan of sy verteenwoordiger, die voorsitter van die Kuratorium vir Teologiese Opleiding van die Kerk en een lid van die Fakulteitsraad van die Fakulteit Teologie. Die Toesighoudende Raad kies uit eie geledere 'n voorsitter vir 'n termyn van een jaar.
    3.2 Die Toesighoudende Raad monitor besluite, verslae en voorskrifte wat op studente of kursusse in terme van hierdie ooreenkoms van toepassing mag wees
    3.3 Die Toesighoudende Raad oefen beheer uit oor die akkreditering van dosente, die samestelling van die leergange en leerplanne sowel as die wyse van onderrig en eksaminering van die kursusse wat deur die Kollege aangebied word. Kursusse wat deur die Universiteit aangbied word, val buite die jurisdiksie van die Toesighoudende Raad.
    3.4 Die lede van die Toesighoudende Raad wat die Universiteit verteenwoordig, doen jaarliks aan die Universiteit verslag oor die akademiese standaard van die kursusse deur die Kollege aangebied, met die oog op die voortsetting van hierdie samewerkingsooreenkoms
    3.5 Die Toesighoudende Raad vergader minstens een keer per jaar vir bespreking van die akkreditering van dosente sowel as die akademiese standaarde van die kursusse wat deur die Kollege, vir akademiese programme van die Universiteit, in samwerking met die Kollege, aangebied word.
    3.6 Die kworum vir die vergadering van die Toesighoudende Raad is die helfte plus een en die gemelde Raad neem besluite met 'n gewone meerderheid van stemme van teenwoordige lede. By 'n staking van stemme het die Voorsitter 'n beslissende stem.

    4. Grade, Diplomas en Sertifikate
    5. Personeel
    6. Fasiliteite

    6.3 Die partye bevestig dat die inhoud van die biblioteek soos tans gehuisves in die Van Selms Leeskamer, die eiendom van die Kollege is.
    6.4 Die vaktydskrif Hervormde Teologiese Studies ... val onder beheer van die Kollege...
    6.5 Die partye bevestig dat die Kollege die finansiële voordeel sal toeval wat verkry word uit die publikasie van die navorsingsuitsette van die personeel van die Kollege in Finansies

    7. Inwerkingtreding en duur van ooreenkoms

    7.1 Hierdie ooreeenkoms tree in werking op 1 Jan 2000 en duur, onderhewig aan die bepalings in klousule 10, onbepaald voort totdat dit deur enige party hiertoe beëindig word met een akademise jaar skrifteklike voorafkennisgewing aan die ander party

    8. Beëindiging en kontrakbreukMediasie
    9. Wysiging
    10. Toegewings
    11. Kennisgewings en domicilia

    Die vergadering het verder die Reglement vir die HTK goedgekeur vir voorlegging aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Daar is ook kennis geneem van die bedanking van professor L.C. Bezuidenhout en hy is bedank vir die jare van getroue dienswerk wat hy in die Kerk verrig het.

    25–26 November 1999

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het twee wysigings aan die samewerkingsooreenkoms aanvaar en daar is kennis geneem dat dit afgehandel is. Professor Dreyer is sterkte toegewens met sy taak as Hoof van die Kollege. Daar is besluit dat die seketaris en die voorsitter die reglement vir die Kollege moet finaliseer.

    01 Desember 1999

    Professor P.S. Dreyer is oorlede. Die begrafnisdiens op 06 Desember in Pretoria-Oos is gelei deur doktor H.T. van Deventer en die teraardebestelling is waargeneem deur dominee P.M. Smith. Die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, professor T.F.J. Dreyer, het namens die Kerk die woord gevoer. Die Hervormer van 15 Januarie 2000 is byna in geheel aan die nagedagtenis van P.S. Dreyer gewy. Onder die hoof 'So onthou ons prof Piet Dreyer' is daar ''n rots van 'n man' deur M.W. Pretorius, 'Piet as student- so onthou ek hom' deur Thomas Dreyer, 'Kollega en vriend' deur A.D. Pont en 'Hy het sy studente geleer om te lees' deur Gafie van Wyk. Onder 'Historiese Kalender' het Riek van Rensburg geskryf oor Professor P.S. Dreyer. Verder is daar 'P.S. Dreyer – 'n lewenskets', anoniem, en 'P.S. Dreyer die filosoof' deur A.J. Antonites. In die Almanak 2001 het die redakteur, doktor J.M.G. Storm, 'n kort huldeblyk geskryf.

     

    2000

    Januarie 2000

    Die verenigde Fakulteit Teologie het volgens die Jaarboek die volgende personeel:

    • Dekaan professor C.J.A. Vos BA DD(Pret), Adjunkdekaan professor A.P.B. Breytenbach BA(Hons) DD(Pret).
    • Departement Dogmatiek en Christelike Etiek: C.J. Wethmar BA (Hons)Fil MA(Grieks) BTh Lis Teol (Stell) - hoof, D.E. de Villiers MA BTh Lis Teol (Stell) ThD (Amsterdam).
    • Departement Godsdiens- en Sendingwetenskap: P.J. van der Merwe BA(Hons) DD (Pret) DTO Hoof, J.J. Kritzinger BSc DD (Pret), P.G.J. Meiring BA Drs Theol (Vrije Univ, Amsterdam) DD (Pret).
    • Departement Kerkgeskiedenis en Kerkreg: J.W. Hofmeyer BA (hons) BD (Pret) ThD (Kampen) - hoof.
    • Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap: J.G. van der Watt BA(UPE) DLitt DD (Pret) Nagr Dipl Teol - hoof, S.J. Joubert BA DD(Pret), A.G. van Aarde MA DD(Pret), P.A. Geyser BA(Hons) DD (Pret), E. Mahlangu MA (Unisa).
    • Departement Ou Testamentiese Wetenskap: A.P.B. Breytenbach - hoof, D.J. Human MA (RAU) DD(Pret) J.H. le Roux MA (Pret) DD DTh (Unisa) , P.M. Venter BA(Hons) DD (Pret).
    • Departement Praktiese Teologie: J.C. Muller BA DD (Pret) - hoof (waarnemend).
    • Instituut vir Sendingwetenskapike Navorsing: J.J. Kritzinger - direkteur.
    • Sentrum vir Beroepsetiek: D.E. de Villiers - direkteur.
    • Navorsing: A.G. van Aarde - Bestuurder.
    • Telematiese Onderrig: J.H. le Roux - bestuurder.
    • Bybelkunde-program: D.J. Human - bestuurder.
    • Verrykingsprogramme: P.G.J. Meiring - bestuurder.
    • Eie-kerklike programme
    • Hervormde Teologiese Kollege: T.F.J. Dreyer BA, BD (Pret), DTheol(Utrecht) – hoof.
    • Sentrum vir Voortgesette Teologiese Opleiding: P.G.J. Meiring - direkteur.

    22 Februarie 2000

    Die Hervormde Dosentevergadering kom byeen. Teenwoordig was professor A.P.B. Breytenbach (voorsitter), S.J. Botha, T.F.J. Dreyer, J.H. Koekemoer, G.M.M. Pelser, P.J. van der Merwe en P.M. Venter. Professor A.G. van Aarde was met langverlof in die buiteland en professor P.A. Geyser was siek. Kennis is geneem dat P.A. Geyser as medeprofessor in Nuwe Testamentiese Wetenskap aangestel is vanaf 01 Januarie 2000. Die aanpassing van studente by die nuwe stelsel is bespreek. Kennis is geneem van die notule van die Toesighoudende Raad van die HTK wat gekonstitueer het op 07 Februarie, saamgestel uit die dekaan, die voorsitter van die Kuratorium, 'n lid van die Fakulteitsraad en die hoof van die Kollege. Professor Breytenbach is ook daar as voorsitter gekies en die name van die deeltydse dosente M.J. du P. Beukes, Y. Dreyer en J.C. van der Merwe is voorgedra vir akkreditering. Kennis is geneem dat die Kollege in 2000 net kerkspesifieke modules sal doseer, dat die gedifferensieerde MDiv 600 vanaf 2002 aangebied sal word en dat Praktykvorming ook vanuit die kollege aangebied sal word. 'n Diploma in Kerklike Bediening is in vooruitsig gestel. Die Dosentevergadering het verder 'n konsepreglement vir toekenning van die Kollegemedalje, wat die Fakulteitsmedalje vervang, goedgekeur, besluit dat die Akademiese pryse net toegeken sal word vir prestasie bo 75% en dat die gepaste geleentheid daarvoor die legitimasieplegtigheid sal wees en dat die oriënteringskamp verskuif moet word na die begin van die tweede jaar. 'n Voorlopige lys van tydelik en deeltydse dosente is saamgestel, wat bestaan uit A.J. Groenewald vir Dogmatiek en Christelike Etiek, E. Wolff vir Godsdiensfilosofie in BTh, J.P. Labuschagne en W.A. Dreyer in Kerkgeskiedenis en E. van Eck en G.C.J. Nel in Nuwe Testamentiese Wetenskap vir BTh, Hons en BD.

    14 Maart 2000

    Op sy eerste gewone vergadering onder die nuwe bedeling het die Fakulteit kennis geneem van 'n samewerkingsooreenkoms met die International College of Bible and Missions, die dagbestuur is opdrag gegee om samesprekings met verteenwoordigers van HTO te hou om samewerkingsmoontlikhede te verken. Reglemente is goedgekeur vir die Onderrig- en Programmekomitee en die Navorsingseenheid vir die bestudering van die Ou Testament en verwante literatuur, leergangwysigings vir BTh, nuwe modules vir Bybel- en Godsdienskunde en vir die graadprogram BA(Teol) is goedgekeur. Professor D.J. Human, J.H. le Roux, P.G.J. Meiring en A.G. van Aarde is as volle lede van die Senaat benoem en biskop M. Dandala as honorêre professor. Verder is regulasies vir nagraadse diplomas in Pastorale Traumagebeleiding en Pastorale Terapie goedgekeur. Die naamsverandering van Bybelkunde na Bybel- en Godsdienskunde is formeel goedgekeur vir voorlegging aan die Senaat en Raad.

    16–17 Maart 2000

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het emeritaat verleen aan professor W.C. van Wyk.

    20 Maart 2000

    Die Kuratorium neem kennis van die werksaamhede en beplanning van die HTK. Dit het ingesluit vier preekwerkwinkels, 'n Teologiese forumgesprek oor Homoseksualiteit, 'n Kollegedag met die tema 'Die Hervormde Kerk oor 20 jaar', twee VTT aanbiedings oor Geskiedenis en geloof, twee modules oor Gemeentebou, 'n oriënteringskursus vir die vierdejaars, 182 periodes in Praktykvorming. Verder is kennis geneem dat professor Dreyer 96 lesings in die Departement Praktiese Teologie sal waarneem en dat hy verantwoordelik is vir die begeleiding van 5 MATeol studente en 2 PhD studente. Die notule van die eerste vergadering van die Toesighoudende Raad van die HTK is aan die Kuratorium voorgelê. Die lede is die dekaan, professor C.J.A. Vos, die voorsitter van die Kuratorium, doktor P.J. de Beer, 'n lid van die Fakulteitsraad, professor A.P.B. Breytenbach en die Hoof van die Kollege, professor T.F.J. Dreyer. Professor Breytenbach is as voorsitter verkies. Deeltydse dosente aan die Kollege is professor M.J. du P. Beukes, doktor J.C. van der Merwe en doktor Y. Dreyer. Die Administrateur het gerapporteer dat professor Dreyer as hoof van die Kollege op die posvlak van 'n dekaan vergoed sal word. Die Kuratorium het ook kennis geneem van 'n skrywe van professor F.J. van Zyl na aanleiding van die toekenning van die Fakulteitsmedalje aan hom.

    Kennis is verder geneem van die lys van tydelik-deeltydse dosente: A.J. Groenewald in Dogmatiek en Christelike Etiek, E. Wolff in Godsdiensfilosofie, J.P. Labuschagne en W.A. Dreyer in Kerkgeskiedenis, E. van Eck en G.C.J. Nel in Nuwe Testamentiese Wetenskap; T.F.J. Dreyer, Y. Dreyer, J.C. van der Merwe en M.J. du P. Beukes in Praktiese Teologie. Die Teologiese Opleidingsfonds het volgens 'n verslag van doktor J.P. Labuschagne 'n netto inkomste vir die maande Augustus–Desember 1999 van R98 616.74 gehad. Uit die verslag van die waarnemende dekaan in 1999 die volgende:

    Die onderhandelings oor nuwe strukture vir die Fakulteit Teologie was besonder moeilik. Wedersydse wantroue tussen die verteenwoordigers van Afdeling A en B moes oorwin word. Die vrese van die twee deelnemende kerke moes tegelyk besweer word en daar moes voldoen word aan die eise om vernuwing wat deur die universiteitsbestuur gestel is met betrekking tot nuwe fakulteitstrukture en sake soos uitkomsgebaseerde onderrig, kwaliteitsversekering en prestasiebestuur. Die Fakulteit Teologie het eers in 1999 die eerste treë gegee vir die aanpassing by die nuwe politieke, ekonomiese en sosiale paradigma waartoe Suid-Afrika in 1994 reeds oorgegaan het. Dit moes gedoen word met die behoud van die goeie gesindheid van die kuratoria van die twee deelnemende kerke. Die begrip wat Hoofbestuur, en veral prof C.R. de Beer geopenbaar het, het baie bygedra om dit wat vyf jaar gelede byna ondenkbaar was, moontlik te maak. Die geslaagde onderhandelings oor die HTK het in die geledere van die Nederduitsch Hervormde Kerk ook gemoedsrus gebring. ...Die lede van die Fakulteit het verskillende vakkongresse bygewoon. Die belangrikste hiervan was die kongres van die Studiorom Novi Testamenti Societas, 'n internasionale kongres wat by die Universiteit van Pretoria aangebied is en wat Nuwe Testamentici van oor die hele wêreld getrek het. .. Dieselfde geld vir 'n gesamentlike kongres van die OTWSA en die Nederlandse Oud Testamentiese Werkgeselschap. .. Internasionale skakeling is verder uitgebrei met 'n uitnodiging aan prof AG van Aarde om vanaf Sept tot Des 1999 doseer- en navorsingswerk te doen by die Hebrew University in Israel. Hy en dr PA Geyser het ook die Jesus Seminar in Sonoma Valley, San Francisco bygewoon.

    16 Mei 2000

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat vier godsdiensoefeninge vir die res van die jaar beplan word op Dinsdae om 18:00. Kennis is ook geneem van die aanbod van 'n diversiteits aanstelling in die Fakulteit en van die beplanning om 'n bundel van Old Testament Essays aan professor W.C. van Wyk te wy met sy aftrede en die redakteur van Hervormde Teologiese Studies is versoek om 'n gedenkbundel vir professor Van Wyk te oorweeg.

    30 Mei 2000

    Die Kuratorium wens doktor Y. Dreyer geluk met 'n tweede proefskrif en professor Van Aarde met 'n verdere doktorsgraad. Professor T.F.J. Dreyer het onder die aandag gebring dat klasgelde drasties gestyg het van R7000 na R12 000 per jaar. Uit 'n verslag van professor A.P.B. Breytenbach het geblyk dat die oorskakeling in die Fakulteit na 'n modulestelsel en programaanbieding erge probleme opgelewer het. As professor P.J. van der Merwe 'nie besondere aandag gegee het aan die inwerkingstelling van die nuwe onderrigstelsel nie, sou die toestand waarskynlik chaoties gewees het.' Verder is gemeld dat die afname in studentetal kommerwekkend is, uit 38 eerstejaarstudente is net vyf van die Hervormde Kerk. Die evalueringskomitee het gerapporteer dat tien nuwelinge toegelaat is as studente van die kerk en dat al tien beurse moet ontvang.

    Die Kuratorium het ook kennis geneem van die diversiteitsaanstelling van doktor Y. Dreyer in die Departement Praktiese Teologie. Dit het geskied in terme van die statutêre raamwerk wat deur die Employment Equity Act van 1998 daargestel is. Die Universiteit het versoek dat die aanstelling vanaf Januarie 2005 deel van die Kerk se dosentetal sal word.

    Yolanda Dreyer is die dogter van Thomas Frederik Dreyer en Elizabeth Catharina Kellermann en is gebore op 01 Desember 1956. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad in 1974. Sy skryf in by die Universiteit van Pretoria in 1975 as eerste vroulike student van die Nederduitsch Hervormde Kerk en voltooi die studie in 1980. Sy word georden op 18 Januarie 1981 en bedien die studentegemeente Fonteinedal en, saam met haar man, dominee Kalman Papp jnr, Nelspruit. Hierdie huwelik het in egskeiding geëindig en gevolglike ontheffing uit die amp gelei. Sy behaal die MTh graad in Pastoraat aan die Princeton Theological Seminary in 1990. Na hertoelating tot die bediening in 1994 bedien sy die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg. Sy promoveer aan die Universiteit van Pretoria in Praktiese Teologie in 1998 en ontvang ook die PhD in Nuwe Testamentiese Wetenskap in 2000. Sy was 'n vryskut-aanbieder van godsdiensprogramme by die SAUK en MNet in die jare 1984–2002. Teen die tyd van haar aanstelling het sy reeds sowat tien artikels in Hervormde Teologiese Studies gepubliseer. Sy het ná haar aanstelling haar verbintenis met die Nederlandssprekende Gemeente behou.

    Die Kuratorium het verder ook besluit dat die aanstellingsprosedure vir die benoeming van 'n professor in Dogmatiek en Christelike Etiek begin moet word.

    Junie 2000

    Hervormde Teologiese Studies jaargang 56 aflewering 2–3 is opgedra aan professor J.H. Koekemoer. In 'n Inleidende Woord skryf P.J. van der Merwe oor professor J.H. Koekemoer as kerkman en akademikus en gee hy naas 'n deeglike oorsig van Koekemoer se loopbaan tegelyk 'n baie waardevolle weergawe van die ontwikkelinge wat gelei het tot die verenigde Fakulteit Teologie, waarin Koekemoer as dekaan 'n leidende rol gespreel het. Die ander artikels in die bundel is van kollegas in die Fakulteit en Kerk en in ander teologiese fakulteite

    08 Junie 2000

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het kennis geneem van 'n beklaging teen doktor Y. Dreyer na aanleiding van 'n standpunt wat sy uitgespreek het in Beeld van 03 April 2000. Daar is besluit om haar en die Ringskommissie van Noord-Kaapland op te roep vir 'n gesprek.

    21 Augustus 2000

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor A.A. da Silva oorlede is. Besluit is om doktor J. Buitendag aan te beveel as professor in Dogmatiek en Christelike Etiek en om die Kollegemedalje toe te ken aan professor A.D. Pont.

    22 Augustus 2000

    Die Kuratorium het in beginsel goedgekeur dat 'n prys ingestel word vir die beste proefskrif. Die vergadering het ook per geslote stembrief 'n kandidaat aangewys vir die vakante pos in Dogmatiek en Christelike Etiek. Professor S.J. Botha is op kontrakbasis vir 2001 aangestel in Kerkgeskiedenis.

    24 Augustus 2000

    Die Fakulteit keur die volgende onderwerpe vir DD proefskrifte goed: C.J. Beukes - 'n Postmoderne redekritiek vir kerk en teologie, Y. Dreyer - Institutionalisation of authority and titles used for Jesus, J. Nel - Die effek van 'n miskraam op die sisteem van 'n huisgesin 'n pastorale strategie, D.J.C. vanWyk - Die relevansie van historiese Jesus-navorsing vir kerk en teologie: 'n Hermeneutiese vraagstelling. Kennis is geneem van die lys kwalifikasies wat in die Fakulteit aangebied word en by SAKO ingehandig is: Dip Theol, BA(Theol), BA(Theol) (sems), BTh, Ba(Hons)(Theol), MPhil(Applied Theology), Postgr Dipl PTC, Postgr Dipl Past Ther, Postgr Dipl Theol, BD, MA(Theol), MDiv, MTh, PhD en DD. Die instelling van die Desmond Tutu-Leerstoel as 'n gesamentlike onderneming van die Fakulteit Teologie, die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Leadership Network for Southern Africa is in beginsel goedgekeur.

    25 Augustus 2000

    Op 'n buitengewone vergadering het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit om kennis te neem van die diversiteitsaanstelling van doktor Y. Dreyer in die Departement Praktiese Teologie en om ter wille van goeie verhoudinge twee van die Kerk se verteenwoordigers op die Aanstellingskeurkomitee te laat dien. Die benoeming van doktor J. Buitendag as professor in Dogmatiek en Christelike Etiek is met algemene stemme goedgekeur. Daar is besluit om 'n werkwinkel op 03 November 2000 te hou vir beplanning met die oog op die situasie van die Fakulteit in 2004.

    Johan Buitendag is gebore op 20 November 1953. Sy ouers was Roelof Adriaan Buitendag en Ivy Becker. Hy matrikuleer in die eersteklas aan die Hoërskool Menlo Park, Pretoria, voltooi die BA BD Studie aan die Universiteit van Pretoria in 1977 en word georden as dienspligkapelaan op 27 November 1977. Daarna bedien hy die gemeentes Parkrand en Randburg. In 1984 bring hy 'n tyd deur aan die Universiteit van Erlangen vir studie onder professor F. Mildenberger. In 1985 promoveer hy onder leiding van professor B.J. Engelbrecht met die proefskrif Skepping en Ekologie, 'n ondersoek na die teologiese verstaan van die werklikheid. Vanaf 1985 tot met sy voltydse aanstelling dien hy as deeltydse dosent in die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek. In 1989 word hy aangestel as hoof van godsdiensprogramme by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie. In 1994 keer hy terug na die bediening en bedien die gemeente Stellenbosch.Terwyl hy daar is, verwerf hy ook die graad MCom in 1995.

    14–15 September 2000

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het kennis geneem dat die volgende persone hulle proefskrifte suksesvol verdedig het en hulle grade ontvang het op die Lentedagpromosiepelgtigheid van die Universiteit van Pretoria.

    • C.J. Beukes - n Postmoderne redekritiek vir kerk en teologie, promotor A.G. van Aarde.
    • D.J.C. van Wyk jnr - Die relevansie van die historiese Jesus navorsing vir kerk en teologie: 'n Hermeneutiese vraagstelling, promotor A.G. van Aarde.
    • Y. Dreyer - Institutionalization of authority and titles used for Jesuas, promotor A.G. van Aarde.
    • A.G. van Aarde - Historization of Myth: The metaphor 'Jesus- Child of God' and its Hellenistic-Semitic and Graeco-Roman background, promotor H.F. Stander.

    Die Kommissie het kennis geneem dat die gesprek tussen die Ringskommissie van Noord-Kaapland en doktor Y. Dreyer plaasgevind het en dat die saak afgehandel is.

    03 November 2000

    Die Kuratorium en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vergader saam. Aandag is onder andere gegee aan 'n netelige situasie wat ontstaan het as gevolg van uitlatings van dosente in die media, meer spesifiek professor A.G. van Aarde. Besluit is dat die Kommissie moet voortgaan met sy gesprek met Van Aarde en dat die Kuratorium ook sy opsigtaak moet voortsit.

    24 November 2000

    'n Buitengewone vergadering van die Fakulteit neem kennis van die konsep ooreenkoms tussen die Universiteit en die HTO en van die versoek om formulering van regulasies vir assessering. Doktor Y. Dreyer het vir die eerste keer sitting geneem op die Fakulteitsraad as volle lid.

    29 November 2000

    Die Hervormde Dosentevergadering besluit dat die dosente- en studentevoogde soos volg sal dien: J. Buitendag en S. Hoffman vir BTh I, T.F.J. Dreyer en Mariaan Basson vir BTh II, P.M. Venter en Paula Eksteen vir BTh III, Y. Dreyer en C. Viljoen vir BTh IV, P.A. Geyser en J. Dippenaar vir MDiv I, P.J. van der Merwe en J. Dippenaar vir BD III.

    Toe die Kuratorium vergader, is kennis geneem dat daar nagelaat is om vir professor J.H. Koekemoer 'n afskeidsfunksie te reël en daar is verskoning daarvoor aangebied.

    Kennis is geneem van 'n verslag van professor P.J. van der Merwe oor klagtes van studente wat voortspruit uit die veranderde situasie aan die Fakulteit. Daar is besluit dat die aanstellingsperiode van professor G.M.M. Pelser verleng moet word tot 31 Januarie 2001. Daarna sal hy dan as buitengewone dosent sonder vergoeding optree. Die vergadering het verder kennis geneem van 'n verslag van doktor W.A. Dreyer oor 'n besoek aan die Wêreldraad van Kerke in Geneve. Die vergadering het hom positief uitgespreek oor die stigting van 'n Instituut vir Kerkgeskiedenis. Die voorsitter het opdrag ontvang om te antwoord op 'n skrywe van die Ring van Middelburg waarin kommer uitgespreek word oor bepaalde uitlatings van professore in die media. Doktor J.P. Labuschagne is bedank vir sy werk aan die Teologiese Opleidingsfonds wat Afrika Onafhanklike kerke deur die opleiding van leraars en profete. 15–16 Maart 2001evaluering van teologiese studente is goedgekeur. Daar is ook kennis geneem dat die A.D. Pontprys, die Greyvensteinprys, die B. Gemserprys en die W.P. Brouwerprys toegeken is aan G.P.J. Stoltz, en die P.J. Mullerprys, die J.I. deWetprys en die Kuratoriumprys (nuwe benaming van die Dekaansprys) aan T.F. Dreyer.

     

    2001

    06 Februarie 2001

    Die Hervormde Dosentevergadering verwelkom professor J. Buitendag as lid en neem kennis van die afsterwe van doktor A.J.G. Dreyer. Die adjunk-dekaan, professor A.P.B. Breytenbach, oorhandig 'n goue oorlosie aan professor G.M.M. Pelser namens die Universiteit vir 25 jaar getroue diens.

    01 Maart 2001

    Professor J. Buitendag en M.J. Masango word verwelkom as lede van die Fakulteitsraad. Kennis is geneem dat professor G.M.M. Pelser die langdienstoekenning ontvang het op 'n private geleentheid. Die DD proefskrif-onderwerpe is soos volg goedgekeur: G.S. de Bruin, Die antieke ruimtevaarder-teorie – 'n godsdienswetenskaplike studie en J. Ludeke, Die opbou van

    15–16 Maart 2001

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering behandel 'n skrywe van die Ouderlingvergadering van Volksrust (predikant P. Buitendag) waarin beswaar aangeteken word oor uitlatings van professor A.G. van Aarde, P.A. Geyser en Y. Dreyer. Dit is besluit om die antwoord wat reeds op dergelike skrywes gegee is, ook aan hulle te stuur. Kennis is geneem dat professor S.J. Botha emeritaat aanvaar op Sondag 13 Mei 2001. 'n Gesprek met professor A.G. van Aarde oor sy besluit om sy huwelik te beëindig, is gevoer en hy is van sy ampspligte onthef vir die tydperk 16 Maart–30 Junie 2001.

    19 Maart 2001

    Die Kuratorium verwelkom professor Y. Dreyer en J. Buitendag as dosente en adviserende lede. Kennis is geneem dat die volgende departementshoofde of verteenwoordigers van departemente as adviserende lede sitting sal neem op die Kuratorium: J. Buitendag, verteenwoordiger Dogmatiek en Christelike Etiek, P.J. van der Merwe, hoof Godsdiens- en Sendingwetenskap, S.J. Botha verteenwoordiger Kerkgeskiedenis en Kerkreg, A.G. van Aarde verteenwoordiger Nuwe Testamentiese Wetenskap, A.P.B. Breytenbach Hoof Ou Testamentiese Wetenskap, Y. Dreyer verteenwoordiger Praktiese Teologie, I.W.C. van Wyk hoof HTO, en T.F.J. Dreyer hoof HTK. Die vergadering moes reëlings tref vir die situasie wat ontstaan het as gevolg van professor van Aarde se egskeiding, as gevolg waarvan hy deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering onthef is vir die tydperk 16 Maart–30 Junie 2001. Kennis is geneem dat dominee W.P. Prinsloo deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering benoem is op die Kuratorium.

    13 Mei 2001

    Professor S.J. Botha ontvang emeritaat by geleentheid van 'n erediens in Grootvlei deur hom gelei. Hervormde Teologiese Studies jaargang 57 aflewering 3–4 is aan hom opgedra. Die huldigingswoord en cur vit is deur A.P.B. Breytenbach en 'n waardering is deur S.P. Pretorius gelewer. Breytenbach skryf onder andere:

    Schalk Botha is 'n persoon wat op 'n stil en netjiese manier sy werk gedoen het. Hy is 'n uitmuntende kollega en laat by 'n mens die blywende ervaring van betroubaarheid en toewyding. Hy stel in alles die kerk se belange eerste en beskou homself as 'n dienaar van Christus.

    Pretorius gee 'n volledige en deeglike oorsig van die lewe en werk van S.J. Botha en sluit af met 'n waardering, waaruit die volgende aangehaal word:

    Die beeld van professor Schalk Botha by elkeen wat hom ken, is die van 'n nederige, beskeie, opregte en liefdevolle mens... Die Hervormde Kerk is dankbaar vir so 'n deeglike en bekwame persoon wat in die voetspore van uitmuntende voorgangers kon volg.

    Naas die bydraes van kollegas in die Fakulteit en Kerk, verskyn in die huldigingsbundel bydraes van vakgenote soos G. Bos, A.D. Pont, J.W. Hofmeyer, P. Strauss, Kobus Labuschagne, W.A. Dreyer, H.J. Botes en C. Pretorius.

    15 Mei 2001

    Die Hervormde Dosentevergadering finaliseer die kurrikulum vir MDiv II; wys T.F.J. Dreyer aan as oorhoofse bestuurder en koördineerder van die program en wys die bestuurders aan van die onderskeie modules A.G. van Aarde vir TEO 871, J. Buitendag vir TEO II en T.F.J. Dreyer vir TEO III.

    29 Mei 2001

    Die Kuratorium het kennis geneem van die buitengewone druk wat studente beleef en het besluit dat 'n volle dag gebruik moet word om met hulle gesprek te voer. 'n Onderhandelingspan is aangewys om saam met verteenwoordigers van die Nederduits Gereformeerde Kerk en die Universiteit te beplan vir die nuwe samewerkingsooreenkoms wat in 2005 in werking moet tree. Die Adjunk-dekaan het gerapporteer dat in die jaar 2000 as hulpdosente gedien het E. van Eck, W.A. Dreyer, J.P. Labuschagne, T.J.F. Dreyer, J.C. van der Merwe, M.J. du P. Beukes, Y. Dreyer en A.J. Groenewald. Toestemming is verleen dat doktor E. van Eck in die derde kwartaal lesings sal waarneem in die plek van professor Van Aarde.

    Kennis is geneem van 'n verslag van professor T.F.J. Dreyer oor die opleiding van predikante in die lig van die dalende lidmatetal. Daarin stel hy onder andere:

    Die kerk leef uit die geloof dat God self sy kerk in stand hou en dikwels teen alle verwagtings in wonders kan laat plaasvind. Die hoop bestaan dat die Hervormde Kerk kan losbreek uit sy na-binne-gerigtheid en vanuit die missio Dei in beweging sal kom na die wêreld. Dit kan alle projeksies van moontlike scenarios as dwaasheid bewys. Daarop hoop ons en daarvoor bid ons! Dit sou egter ook dwaas wees om nie oor die korttermyn rekening te hou met statistieke en projeksies nie. Om studente te probeer werf ter wille van die teologiese fakulteit en om deur die aanbod van beurslenings (10 per jaar) verwagtings by studente te skep, is onverantwoordelik. Gegrond in die hoop van ons geloof, en met inagneming van realiteite kan ons myns insiens nie meer as 4 studente per jaar by wyse van beurslenings as studente van die Kerk keur nie. Dit is reeds 'n geloofsuitspraak!

    Kennis is geneem dat vanaf 2002 finalejaar studente 'n verdere drie maande praktiese opleiding moet deurloop en dit is besluit dat ondersoek gedoen moet word na bykomende finansiële hulp vir die betrokke studente. Op aanbeveling van die Evalueringskomitee is besluit om agt studente as studente van die Kerk te erken, met beurslenings.

    23 Julie 2001

    Die Fakulteit neem kennis dat die onderwerpe vir DD proefskrifte van G.J. Volschenk Exegetical-methodological presuppositions of the study of the economy in the world of Matthew: Applied to land, land tenancy and the jubilee en G.C. Lindeque Die boek Josua gelees teen 'n eksiliese agtergrond goedgekeur is.

    24 Julie 2001

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor J. Buitendag pas terug is na bywoning van 'n kongres oor sistematiese teologie in Princeton en professor Y. Dreyer 'n kongres oor Homiletiek in Hydepark, Nederland gaan bywoon, asook dat professor van Aarde besoek sal aflê in Amerika en Europa, professor Geyser in Amerika, professor Breytenbach en Venter op 'n Ou Testamentiese Kongres in Europa referate sal lewer en dat professor Y. Dreyer lesings gaan gee in Utrecht. Besluit is dat met die oog op internasionalisering die naam van Hervormde Teologiese Studies verander word na HTS Teologiese Studies/ Theological Studies.

    28 Augustus 2001

    Die Kuratorium neem kennis van die gesprek met die studente en besluit dat die NH Dosenteraad die saak rondom die behoefte van die studente vir meer Christologie moet ondersoek. 'n Beskrywingspunt na die Algemene Kerkvergadering is goedgekeur vir begroting vir 'n pos in Kerkgeskiedenis in die HTK. Besluit is om die H.C.M. Fourie Erepenning toe te ken aan professor J.H. Koekemoer. Professor Breytenbach het beswaar gemaak teen 'n redaksionele artikel in Die Hervormer van 15 Augustus 2001, waarin verwys is na die probleme wat studente ondervind en gesê word:

    In sigself is akademiese uitnemendheid en hardwerkendheid iets wat ons baie positief beoordeel. Maar as dit naderhand ten koste van die vreugde is, ten koste van die mens wat daarmee besig is? Dan word dit akademiese breingimnastiek... Dan word dit sleurwerk ...

    Doktor P.J. de Beer en H.J. Botes is benoem as die Kuratorium se verteenwoordigers op die Beheerraad van die HTK en die Kosmos Instituut.

    20 September 2001

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het goedgekeur dat professor G.M.M. Pelser emeritaat aanvaar vanaf 20 September 2001. Dit is aan hom oorhandig tydens die middag-ete op dieselfde dag. Hervormde Teologiese Studies jaargang 57, Aflewering 1–2 is aan hom opgedra. Die huldigingswoord en cur vit is deur die adjunkdekaan, professor A.P.B. Breytenbach gelewer, wat onder andere skryf:

    Gert Pelser sal deur sy kollegas onthou word as 'n lojale, hardwerkende persoon. Hy was 'n perfeksionis in alle opsigte, en alle opdragte wat aan hom gegee is, het hy nougeset uitgevoer. Hy was onder sy kollegas bekend daarvoor dat hy kritiese vrae kon vra, dat hy inderdaad, soos dit 'n goeie wetenskaplike betaam, meer vrae as antwoorde gehad het.

    Onder die titel ''n Oop en vry teologiese debat met werklike diepgang' voer A.G. van Aarde gesprek met Pelser oor uitsprake wat hy deur die jare gemaak het oor 'n groot verskeidenheid van onderwerpe en sy huidige standpunte oor dieselfde onderwerpe. Daarin kom 'n duidelike beeld van Pelser se teologie en wêreldbeskouing na vore. Ander artikels in die bundel is naas dié van kollegas in die Fakulteit en Kerk, van die hand van 'n beduidende aantal vakgenote in Suid-Afrika en die buiteland, asook van leerlinge.

    30 September 2001

    Die 66ste Algemene Kerkvergadering kom byeen in die Aula van die Universiteit van Pretoria. Die uittredende voorsitter, professor T.F.J. Dreyer, het die openingsrede uitgepreek na aanleiding van Sagaria 7:1–14; 8:18–19. Weer kon afgelei word watter spanninge daar in die Kerk bestaan:

    Maar voordat ons praat en stem – onthou, ons is in die eerste plek hier omdat ons glo dat God ons geroep het. Daarom het ons profetiese verantwoordelikheid om die woord van God te laat spreek – al is dit teen ons eie 'liberale' of 'konserwatiewe' opvattings. Daarom moet ons dieper kyk as bloot na uiterlike godsdienstige gebruike en tradisies. Ons moet elkeen pynlik eerlik vra na ons motiewe. Wat skuil agter ons mooiklinkende teologiese argumente? Wat is my persoonlike motiewe en die dryfveer ager my standpunte? Is dit dalk my eie politieke siening? Wil ek miskien graag bekend staan as 'n behoudende teoloog , of wil ek hê dat mense my moet beskou as 'n verligte post-moderne denker? In watter mate is my houding 'n reaksie op groepsdruk? Word my denke gekleur deur my verlange na 'n ou bedeling in Suid-Afrika , of word ek meegesleur deur die gewaande politieke optimisme van 'n nuwe Suid-Afrika? Gebruik ek selektief teksverse uit die Bybel om Goddelike sanksie aan my argumente te verleen, of gebruik ek dalk krities-wetenskaplike argumente om die aanspraak van God se Woord te omseil? Die Woord van God vra van ons elkeen eerlike, persoonlike selfondersoek... Mag ons by die waarheid bly en mag daar vrede onder ons wees.

    Groeteboodskappe is oorgedra deur dominee B.A. Zuba van die HKSA, dominee J.C. Carstens van die Nederduits Gereformeerde Kerk, professor D.G. Breed van die Gereformeerde Kerke, doktor Z.P. le Roux van die Verenigde Presbiteriaanse Kerk.

    Die H.C.M. Fourie erepenning is oorhandig aan professor J.H. Koekemoer deur die voorsitter van die Kuratorium, doktor P.J. de Beer:

    Dit dien vermeld te word dat een van die belangrikste bydraes wat prof Koekemoer vir die bestendiging van die Bybels-reformatoriese teologie gemaak het, juis hierdie hernieude waardering en verstaan van die kerklike konfessies is. Hy sien die teoloog se verhouding met die konfessies as 'n normatiewe binding gepaardgaande met 'n hermeneutiese verantwoordelikheid... Prof Koekemoer word in 1978 as eerste direkteur van Kital aangestel en in 1984 bevorder tot senior direkteur. Sy effektiewe organisasie- en bestuursvermoë plaas hierdie instituut uit die staanspoor op 'n stewige basies... Sy doseer-verbintenis met die Universiteit van Pretoria gaan terug na 1978 toe hy as tydelik-deeltydse dosent aangestel is. Hierdie taak verrig hy ononderbroke vir die volgende elf jaar totdat hy in 1989 as hoogleraar aangestel word. Die vertroue wat hy by mede-dosente ingeboesem het, blyk daaruit dat hy reeds in 1992 as dekaan.. aangewys is... In die samespreking met die toe nog toekomstige vennote het prof Koekemoer respek met sy realisme en regverdigheid, asook met sy lojaliteit teenoor sowel die Nederduitsch Hervormde Kerk as die Universiteit van Pretoria afgedwing. Deur sy vergesig en ook bemiddeling kom die Hervormde Teologiese Kollege eventueel tot stand.

    Volgens die registrasie was daar 329 predikante en 275 ouderlinge met stemreg teenwoordig. Professor T.F.J. Dreyer is as voorsitter en doktor J.M.G. Storm as skriba verkies. Na 'n herstemming tussen professor P.A. Geyser, dominee A.P.J. Beukes en doktor J.J. Steenkamp en 'n tweede herstemmimg tussen professor P.A. Geyser en dominee A.P.J. Beukes is dominee Beukes as vise-voorsitter verkies. Na 'n herstemming tussen professor J. Buitendag, doktore W.A. Dreyer, J.J. Steenkamp, J.C. van der Merwe en dominee S. Hoffman en 'n tweede herstemming tussen professor J. Buitendag en doktor W.A. Dreyer is doktor Dreyer as vise-skriba verkies. Na 'n herstemming tussen professor J. Buitendag, doktore J.C. van der Merwe, D.J.C. van Wyk jnr, J.J. Steenkamp en dominee S. Hoffman is as predikantelede van die Kommissie verkies professor J. Buitendag en doktor J.C. van der Merwe.

    Na aanleiding van 'n beskrywingspunt van die Ring van Zeerust is besluit:

    Teen die agtergrond van vorige besluite van die Kerk dat die Algemene Kerkvergadering in die laaste instansie die belydenis interpreteer, dra die vergadering dit aan die Kommissie op om studiewerk te doen en te laat doen en aan die 67ste Algemene Kerkvergadering 'n voorlegging te maak oor 'n eietydse interpretasie van die kernsake van die Kerk se belydenis, soos onder andere die maagdelike verwekking van Jesus, die opstanding, die Godheid van Jesus en dies meer. Sodanige voorlegging hou rekening met die historiese ontstaan en ontwikkeling van die kernsake van die belydenis, met resente ontwikkeling op die onderskeie terreine van die teologie, dui moontlike duldbare nuanseverskille aan ten opsigte van 'n eietydse interpretasie van die kernsake van die Kerk se belydenis, dui fasette van onduldbare interpretasie van die belydenis aan. Tot tyd en wyl die Algemene Kerkvergadering die belydenis sodanig geïnterpreteer het, geld die belydenis van die Kerk onverkort. Die Algemene Kerkvergadering bevestig dat God in sy almag tot enige iets in staat is, en bevestig daarmee die waarheid in die Bybel oor God soos onder andere verwoord in die Apostolicum.

    Die verslag van die Kuratorium het laat blyk dat daar in 1999, 34 BA studente en 21 BD studente van die Kerk was en dat twee die MDiv studie en een die DD studie voltooi het. In 'n inleidende opmerking word gestel:

    Die jare 1998 en 1999 sal in die geskiedenis van die Fakulteit Teologie (Afd A) bekend staan as 'n tydperk van onderhandeling met die oog op 'n totaal nuwe bedeling. Dit was in vele opsigte traumaties om die dwang tot rasionalisering van binne die Kerk en die aandrang op aanpassings by 'n nuwe bedeling in die land, só te hanteer dat die waardes wat die Kerk graag gevestig sien in sy teologiese opleiding nie verlore sou gaan nie. Dit was veral traumaties om die voortydige aflegging van lojale dosente tot uitvoer te bring.

    Wat navorsing betref, meld die verslag dat in die jaar 1998 daar 29 geakkrediteerde tydskrifartikels deur voltydse dosente gelewer is, in 1999 ook 29, en in 2000 was daar 49, 'n besondere prestasie waaraan professor A.G. van Aarde die grootste aandeel gehad het:

    Die onderhandelinge met die oog op 'n geamalgameerde fakulteit Teologie is hoofsaaklik gevoer deur die dekanekomitee wat saamgestel was uit 'n gelyke getal dosente van die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Ned Geref Kerk. Die belangrikste resultaat wat vir die Nederduitsch Hervormde Kerk bereik is met die oog op die migrasietydperk (2000 tot 2004) en wat in 'n ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria vasgelê is, is dat die Nederduitsch Hervormde Kerk 6 dosenteposte sou hê in die nuwe fakulteit, nieteenstaande die feit dat die Kerk volgens studentegetalle slegs op 4 aanspraak kon maak. Die Kerk sou 30% van die koste van 6 poste bekostig en die Universiteit sou nie verdere finansiële druk plaas op die Kerk in geval van moontlike tekorte nie.

    Oor die nuwe Fakulteit Teologie lui die verslag:

    Op die eerste werksdag van 2000 het die nuut saamgestelde Fakulteit Teologie amptelik begin funksioneer. Dit was in vele opsigte 'n dramatiese verandering ná meer as 80 jaar waarin die Kuratorium van die Nederduitsch Hervormde Kerk 'n beduidende seggenskap gehad het oor die aard en inhoud van die opleiding van sy teologiese studente aan die Universiteit van Pretoria. Die nuwe bedeling wat deur verskillende faktore meegebring is, het werklik 'n nuwe denkparadigma gevra en talle nuwe eise gestel.

    Die strukture wat deur die samesmelting tot stand gekom het, is 'n Fakulteitsraad bestaande uit 6 lede van die Nederduitsch Hervormde Kerk en 11 lede van die Nederduits Gereformeerde Kerk, 'n Algemene Dosenteraad, 'n Hervormde Dosenteraad en 'n Ekumeniese Adviesraad wat bestaan uit verteenwoordigers van die kerklike kuratoria wat ooreenkomste met die Universiteit gesluit het.

    Daar is 'n hele aantal staande komitees in die lewe geroep, naamlik 'n Dagbestuur (dekaan, adjunkdekaan en professor P.J. van der Merwe), Bestuurskomitee (dekaan, adjunkdekaan, departementshoode en programbestuurders), Onderrig- en Programkomitee, Telematiese Onderrigkomitee, Akademiese tafelgesprekke, Navorsingskomitee, Verrykingsprogrammekomitee, Bemarkingskomitee, Ekumeniese skakeling, Samewerkingsooreenkomste, Internasionalisering, Aanstellingskeurkomitee, Rekenaarkomitee, Programkoördinering, Nagraadse komitee. Promosiekommissies uit al die doserende personeellede behartig die verdediging van doktorale proefskrifte. Sentrums in die nuwe fakulteit is die Sentrum vir Beroepsetiek, die Instituut vir Sendingwetenskaplike Navorsing en die Sentrum vir Teologie en Gemeenskap.

    Die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) wat vanaf 1 Jan 2000 in bedryf is, hanteer kerkeie en kerkspesifieke sake in belang van die Nederduitsch Hervormde Kerk aan die Fakulteit. Die finale studiejaar van die Hervormde studente (MDiv 2) word byvoorbeeld volledig vanuit die HTK aangebied. Die Ned Geref Dosentevergadering en SEVTO hanteer kerkeie en kerkspesifieke sake in belang van die NG Kerk.

    Nadat professor L.C. Bezuidenhout hom in Skotland gaan vestig het, was slegs vyf van die kerk se poste beset en is die dienste van professore S.J. Botha, J.H. Koekemoer en G.M.M. Pelser bekom om hulp te verleen. As sesde voltydse dosent is doktor J. Buitendag benoem.

    Kommer is in die verslag uitgespreek oor studentegetalle, want in 2000 het slegs vyf nuwelinge aangemeld. Die verslag eindig met 'n vermelding van die byna bomenslike eise wat aan dosente gestel is ten opsigte van die nuwe fakulteit en die nuwe paradigma van die Universiteit. Daarby kan gevoeg word die hele tydperk van onderhandeling en voorbereiding.

    Na aanleiding van 'n beskrywingspunt van die Ring van Bloemfontein is besluit:

    Die Kuratorium en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering ondersoek die moontlikheid en wenslikheid om die opleiding van sy dienaars van die Woord ná 2005 selfstandig en onafhanklik te bedryf, met akkreditasie aan 'n universiteit.

    Daarnaas is besluit:

    Die huidige reëling in verband met teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria word gekontinueeer. Die Hervormde Teologiese Kollege as opleidingsinstansie van die Kerk word uitgebrei en versterk.

    Die Dosentevergadering het versoek dat die besluit van die vorige vergadering oor die eweredige verspreiding van poste herroep word en dat die Kuratorium opdrag kry om die saak so te bestuur dat die belange van die teologiese opleiding ten beste gedien word. Dit is aanvaar en daar is verder besluit:

    In ag genome die situasie wat mag ontstaan op pad na 2004 en daarna, word dit aan die Kuratorium in oorleg met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering opgedra om soos en wanneer nodig, die Kollege stelselmatig uit te bou.
    Die uitbouing word aanvanklik (vanaf 2002) op 'n deeltydse basis gedoen, by wyse van kontrakaanstellings deur persone te benoem, of later indien wenslik, 'n voltydse aanstelling te maak. Die persoon of persone moet aan die vogende profiel voldoen:
    Die dosering van Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis en Kerkreg (Toegespits op die kerkregtelike praktyk binne die Hervormde Kerk) 120 lesings per jaar...
    Die fasilitering, ontwerp en aanbieding van programme met die oog op die verryking van gemeentelike bediening – bereken teen 60 lesings per jaar...
    Die daarstel van toerustingskursusse vir ampsdraers en lidmate (in samwerking met kerklike rade) en die opleiding van aanbieders – bereken teen 60 lesings per jaar...
    Die koördinering en inisiëring van die studiewerk van rade in die vorm van navorsingsprojekte...
    Die Algemene Kerkvergadering begroot in beginsel R100 000 of ongeveer R1 per lidmaat vir die HTK.

    Die vergadering het verder besluit om 'n instituut vir Hervormde Kerkgeskiedenis verbonde aan die HTK te vestig in samewerking met SENTIK en om telematiese onderrig vir teologiese opleiding te ondersoek.

    'n Afsonderlike verslag van die hoof van die HTK, professor T.F.J. Dreyer, is behandel:

    Met die oprigting van die HTK is as doelwitte uiteengesit dat die teologiese etos van die Hervormde Kerk binne 'n veelkerklike teologiese opleiding behoue sal bly, die Kollege aan die Universiteit van Pretoria akkreditering sou verkry om sodoende te waarborg dat, indien die situasie aan die Fakulteit in der mate sou verander dat die Kerk 'n groter deel van die opleiding selfstandig wil hanteer, sodanige opleiding die nodige akademiese erkenning sou geniet, die praktykvorming van teologiese studente met die oog op die bediening in die Hervormde Kerk voortaan onder die Kollege sou ressorteer, sekere funksies van die vroeëre STNT soos die jaarlikse voortgesette toerusting van predikante, die kursus in gemeentebou en toerustingskursusse vir ampsdraers en lidmate, vanuit die Kollege hanteer moes word die Kollege met die reël van aktualiteitsdae 'n teologiese forum moes bied vir debat en teologiese refleksie, die dosente van die Kollege verantwoordelik sal wees vir die aanbieding van kerkspesifieke lesings binne die Departement Praktiese Teologie asook vir die kursusse wat nog volgens die ou stelsel moet uitfaseer die Kollege verantwoordelik sou wees vir die kurrikulering van die gedifferensieerde MDiv 600 kursus vir Hervormde studente...
    'n Diploma in kerklike bediening gekurrikuleer moet word wat as voorvereiste sou geld vir toelating to die Proponentseksamen, wetenskaplike navorsing en publikasies vanuit die Kollege beplan en georganiseer moet word, die studente-voogstelsel vanuit die Kollege georganiseer moes word, 'n oriënteringskursus vir 4de jaar studente aangebied moet word 'n 'retreat' vir predikante beplan en aangebied moet word, die Hervormde Teologiese Studies voortaan onder die Kollege sal funksioneer en verder uitgebou word tot 'n wetenskaplike tydskrif van internasionale gehalte.

    Professor Dreyer is bedank vir sy uitmuntende leiding met die vestiging van die HTK, en dosente wat behulpsaam was met onderrig in die Kollege is bedank vir die wyse waarop die Kerk se studente onderrig word. Ordinansie 2.1.1 Opleiding en vorming van dienaars van die Woord is gewysig om voorsiening te maak vir die bestaan en funksie van die HTK.

    'n Verslag van die redakteur van Hervormde Teologiese Studies, professor A.G. van Aarde, is behandel en hy en die sekretaresse is bedank vir uitmuntende werk. Dit het geblyk dat vir die akademiese jaar 2001 die Universiteit van Pretoria 'n subsidie-Van Aarde weer getroud is en hulle gelukgewens. Professor A.P.B. Breytenbach is gelukgewens met die uitnodiging om aan die Universiteit van Utrecht lesings te gee. Lede is versoek om R526 470 vir navorsing kon aanwend.

    Doktor J.P. Labuschagne het gerapporteer oor die Teologiese op die hoogte te kom van die Regulasies en Leerplanne van die Vol. 66 No. 3 Page 16 of 31179in 2000, R205 049 ontvang is.

    Die Ring van Makwassie het die volgende beskrywingspunt ingestuur en die vergadering het dit aanvaar:

    Die ringsvergadering spreek sy diepe kommer uit oor afwykende tendense wat van tyd tot tyd vanuit die teologiese opleiding verneem word. Die vergadering wil die Kerk oproep om dringend erns te maak met die missie en visie van die Teologiese Opleidingsfonds, sodat die fonds te alle tye verskans kan word

    Kennis is geneem van die ander werksaamhede van die Kuratorium, onder andere dat sinds die vorige Algemene Kerkvergadering 41 nuwelinge tot die studie toegelaat is met beurslenings en dat een nie as student aanvaar is nie.

    Die vergadering het hierdie deel van sy werksaamhede afgesluit met besondere dank aan die dosente wat gebuk gaan onder 'n groot werklas en die afgelope drie jaar groot onsekerheid gehad het en baie moes opoffer rondom die samesmelting van die twee teologiese fakulteite. Wat predikante betref, het die vergadering kennis geneem van die toelating of hertoelating van 33 persone, die emeritering van 18, die dood van 11 en die ontheffing van 26.

    As lede van die Kuratorium is verkies doktor H.J. Botes, dominee J. Coetzee, doktor P.J. de Beer, dominee A.C. Kuyper, doktor E. van Eck, doktor D.J.C. van Wyk snr en doktor D.J.C. van Wyk jnr. Op 'n konstitueringsvergadering is verkies as voorsitter doktor P.J. de Beer, as visevoorssitter doktor E. van Eck en as lede van die Dagbestuur doktor H.J. Botes en dominee. A.C. Kuyper.

    28 November 2001

    Die Kuratorium verwelkom Professor Y. Dreyer terug na haar besoek aan Nederland. Die volgende wysiging van die reglement vir toekenning van die H.C.M. Fourie Erepenning is goedgekeur:

    Die penning word aan die ontvanger toegeken as bekroning van:
    gepubliseerde werk wat berus op selfstandige navorsing, studie en eie insig, en waardeur 'n positiewe bydrae gelewer is tot die bestendiging en uitbouing van die Bybels-Reformatoriese Teologie en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.

    Wat betref samewerking met die Kosmos Instituut is besluit dat dit liewer moet geskied deur middel van 'n Skakelliggaam. Die Kuratorium se betrokkenheid by die samewerking word beperk tot die terrein van die opsig oor die opleiding van studente van die kerk. Kennis is geneem van die Diploma in Kerklike Bediening en van die eerste twee uitruilstudente wat in 2002 in Wenen sal studeer, naamlik Thinus van Staden en Heinrich Botha. Kennis is ook geneem van die volgende toekennings: H.P. Wolmaransprys aan C. Viljoen, A.D. Pontprys, Greyvensteinprys B. Gemserprys, J.I. de Wetprys, en W.P. Brouwerprys aan M. Basson, P.J. Mullerprys aan S. Hoffman, en Kuratoriumprys aan P. Eksteen. Die name van twaalf predikante is aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering voorgelê vir benoeming van die Proponentseksamenkommissie.

    29 November 2001

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis dat professor A.G. van Aarde nie sy benoeming as lid van die Studiekomitee oor Belydenisaangeleenthede en die Raad vir Ekumene aanvaar nie en besluit om met hom daaroor 'n gesprek te voer. Tydens die legitimasieplegtigheid is verneem dat studente Basson, Eksteen en Hoffman die BD graad met lof ontvang het.

     

    2002

    19 Februarie 2002

    Die Hervormde Dosentevergadering keur die volgende dosentevoogde goed: P.J. van der Merwe BTh I, J. Buitendag BTh II, T.F.J. Dreyer BTh III, P.M. Venter BTh IV, Y. Dreyer MDiv I, P.A. Geyser MDiv II. Besluit is dat godsdiensoefening maandeliks sal plaasvind van 12:15 tot 12:35. Kennis is geneem dat die Van Selms Leeskamer na kamer 1–34 sal verskuif, wat ook sal dien as seminaarkamer vir HTK, en ook die fotogalery wat in 1–38 was, sal huisves. Dit is besluit dat sake met duidelik kerklike karakter in die toekoms deur die Dosentevergadering van die HTK gehanteer moet word.

    28 Februarie 2002

    Die Fakulteit neem kennis dat die volgende onderwerpe vir die DD proefskrif goegekeur is: D.N. Reinstorf, Metaphorical Stories in Luke's narrative world: A challenge to a conventional worldview, en C. Pretorius, dominee Jac van Belkum: Nestor van die Nederduitsch Hervormde Kerk – 'n Teologies-historiese studie en vir MA (Teol), K.D. Papp met Die historiese agtergronde van die Hongaars-Afrikaans predikante-familie Papp. Die reglement vir die Sentrum vir Teologie en Gemeenskap is goedgekeur.

    21 Mei 2002

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor I.W.C. van Wyk van HTO Swede besoek het van 15–24 Maart waarin hy 'n openbare lesing gehou het aan die Universiteit van Karlskrona, 'n seminaar gelei het aan die Universiteit van Lund en waardevolle kontakte opgebou het.

    28 Mei 2002

    Die Kuratorium het kennis geneem dat professor en mevrou Van Aarde weer getroud is en hulle gelukgewens. Professor A.P.B. Breytenbach is gelukgewens met die uitnodiging om aan die Universiteit van Utrecht lesings te gee. Lede is versoek om op die hoogte te kom van die Regulasies en Leerplanne van die Universiteit van Pretoria vir 2002 wat tot hulle beskikking gestel is. Op aanbeveling van die Evaluasiekomitee is sewe nuwelinge as studente van die Kerk erken.

    06–07 Junie 2002

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het kennis geneem van 'n memorandum van professor P.A. Geyser oor die Skrifbeskouing van die Kerk en het besluit om dit te finaliseer en beskikbaar te stel in die Kerk. Na aanleiding van 'n artikel in Beeld van 17 April 2002 deur professor J.L.P. Wolmarans, dosent aan die RAU en predikant van die Kerk, het die Kommissie 'n verklaring opgestel wat deur professor T.F.J. Dreyer goedgekeur is vir publikasie in Die Hervormer. Dit het verskyn in die uitgawe van 15 Julie 2002. Daarin word gestel:

    Die Hervormde Kerk staan onverkort by die leer soos wat dit in die belydeniskrifte tot uiting kom: Ons bely dat Jesus Christus tegelyk God en mens is. Die wetenskap kan met historiese navorsing iets oor Jesus van Nasaret as mens sê. Hierdie navorsingsresultate het 'n groot bydrae gelewer in ons verstaan van die mens: Jesus van Nasaret – méér as dit sal hulle nooit kan sê nie. Die wetenskap kan slegs iets navors wat met menslike wetenskaplike metodes waargeneem kan word. Hier lê die grens van die wetenskap. Jesus Christus is tegelyk ook God! Dat Hy God is, oorskry die grense van menslike denke en wetenskap, dit kan nie nagevors of bewys word nie. Ons bely dit in die geloof omdat ons in die ontmoeting met God deur sy Woord en Gees deur die Waarheid oorweldig word. Die Waarheid (Jesus Christus) wat ons bely, is groter as ons. Die wetenskap, menslike denke, selfs belydenisformules, kan die Waarheid nie begrens of finaal onder woorde bring nie...Ons besef egter tegelykertyd dat die spreekwyse van die belydenisskrifte tiperend is van die tyd waarin hulle ontstaan het... Ons tyd vra na 'n eietydse vertolking van die inhoude van die belydenisskrifte. Dit moet egter nie die indruk skep dat ons afstand doen van die geloofsinhude wat in die belydenisskrifte verwoord word nie, of dat daar nou ruiimte is vir 'n ongebonde leervryheid nie... Die Kerk kan met reg van sy teoloë verwag om die resultate van wetenskaplike navorsing so te verwerk en te vertolk dat dit mense help om hulle geloof in God met groter oorgawe te bely. Die teologie moet nie misbruik word om mense te verwar nie... Die Kerk kan met reg die verwagting koester dat sy predikante en dosente met hulle teologiese navorsing die verkondiging van Jesus Christus die Here moet dien...

    Die Kommissie het verder besluit dat die dosente gereeld genooi sal word vir gesprekke.

    06 Augustus 2002

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor P.M. Venter pas 'n kongres in Leuven bygewoon het, professor van Aarde het reeds na Europa vertrek het vir 'n kongres en professor Y. Dreyer binnekort na Skandinawië vertrek vir 'n kongres. Dit is besluit om aan te beveel dat professor S.J. Botha, doktore J.P. Labuschagne, W.A. Dreyer en C.J. Beukes die onderrig in Kerkgeskiedenis en Kerkreg sal hanteer in 2003.

    27 Augustus 2002

    Die Kuratorium het vir professor S.J. Botha gevra om 'n werkswinkel te reël oor die moontlikheid van 'n Instituut vir Kerkgeskiedenis. Op professor Botha se aanbeveling is aanvaar dat studente in hulle derdejaar met Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis kan begin en dit dan weer in die vyfde jaar kan voortsit. Kennis is geneem dat professore Breytenbach en Van der Merwe met navorsingsverlof in die vierde kwartaal sal wees.

    November 2002

    Hervormde Teologiese Studies jaargang 58 aflewering 4 is 'n huldigingsbundel vir professore W.C. van Wyk, A.A. da Silva en L.C. Bezuidenhout. L.C. Bezuidenhout was by sy vertrek na Skotland professor in en hoof van die Departement Bybelkunde.

    Wouter Cornelis van Wyk is gebore op 23 Februarie 1937 in Germiston en word groot in Alberton. Hy matrikuleer in 1954 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Germiston met vier onderskeidings. Hy behaal die graad BA in 1958, BD in 1962, MA in 1964 en DD in 1967, almal met lof. Op 01 Januarie 1961 word hy aangestel as junior lektor in Semitiese Tale , in 1965 bevorder tot lektor en in 1968 tot senior lektor. Op 01 Julie 1971 word hy professor in en hoof van die Departement Semitiese Tale. In dieselfde jaar word hy dosent in Argeologie in die Departement Ou Testamentiese Wetenskap. Tydens die proses van die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling was hy betrokke as vertaler van die Koningsboeke en Jeremia en as medevertaler van die Psalms en het hy ook hulp verleen met lesings in Ou Testamentiese Wetenskap. Hy het met verloop van tyd talle wetenskaplike artikels en populêr-wetenskaplike artikels geskryf en was onder andere 'n tyd lank redakteur van Old Testament Essays. Van sy nagraadse studente het etlikes dosente aan Suid-Afrikaanse universiteite geword. Nadat hy as waarnemende dekaan en as plaasvervangende dekaan gedien het, word hy op 01 Julie 1983 permanent-voltydse dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, waar hy op 30 April 2000 afgetree het. Hy is op 28 Junie 1970 georden en het as deeltydse predikant van Pretoria-Oos gedien tot met sy kerklike emeritaat.

     

    Andrew Anthony da Silva is gebore op 27 Julie 1943 in Krugersdorp en matrikuleer in 1960 aan die Hoërskool Monument. Hy behaal die graad BA in 1963 met lof in Grieks, BD in 1966 met lof, BA Hons in 1973 met lof en promoveer in 1987 met die proefskrif Die funksie van die skeppingstradisie in die boek Jeremia. In 1994 behaal hy ook nog die graad MA in Semitiese Tale met lof nadat hy 'n tyd lank navorsing gedoen het aan die Universiteit van Edinburgh. In 1998 skryf hy ook in vir die graad MDiv in Praktiese Teologie, wat posthuum aan hom toegeken word in 2000. Hy is georden op 28 Januarie 1967 en bedien agtereenvolgens die gemeentes Johannesburg en Pretoria-Wes. Nadat hy in 1976 as tydelik-deeltydse dosent in Semitiese tale gewerk het, word hy vanaf 01 Januarie 1977 aangestel as voltydse lektor en verlaat hy die voltydse kerklike bediening, maar bedien nog deeltyds die gemeentes: Polisiekollege, Wonderboom, Hartebeeshoek, Witfontein en Pretoria-Wes. Op 01 Julie 1980 is hy bevorder tot Senior Lektor, en op 01 Januarie 1993 tot mede-professor. Hy tree ook op as deeltydse dosent in die Departement Ou Testamentiese Wetenskap en aan die HTO. In Desember 1995 tot Februarie 1996 was hy gasdosent aan die Evangelisch-Theologische Fakulteit in Leuven. Da Silva het talle wetenskaplike en populêr-wetenskaplike publikasies gelewer. Hy is oorlede op 15 Junie 2000.

    28–29 November 2002

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit om professor J.L.P. Wolmrans uit te nooi vir 'n gesprek na aanleiding van sy artikel in Beeld en die korrespondensie daarna. Hy het daarop reageer met 'n aantal voorwaardes, waarop die Kommissie op 13 Maart 2003 besluit het om hom op te roep vir 'n gesprek onder die opsig. Hy het steeds negatief reageer. Uiteindelik is 'n klag teen hom geformuleer, waarop hy reageer met die bedanking as lid van die Kerk.

     

    2003

    18 Februarie 2003

    Die Hervormde Dosentevergadering benoem professor P.M. Venter as sekretaris in die plek van professor P.J. van der Merwe wat oor baie jare die sekretariaat behartig het. Kennis is geneem dat professor P.A. Geyser op navorsingsverlof sal wees in die tweede kwartaal van 2003.

    27 Februarie 2003

    Die Fakulteit neem kennis dat professor P.M. Venter gedurende die eerste semester met studieverlof is.

    13 Maart 2003

    By die legitimasie plegtigheid is aangekondig dat Werner Mans al die pryse ontvang het behalwe twee, wat aan Marike Oosthuizen toegeken is. Die Kuratorium het op 27 Mei 2003 kennis geneem dat die Evalueringkomitee agt nuwelinge aanbeveel vir studie en het dit goedgekeur.

    16 Julie 2003

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor A.G. van Aarde genooi is om lesings te gee aan die Protestantse afdeling van die Universiteit van Kairo.

    29 Julie 2003

    Die Fakulteit neem kennis dat professor A.P.B. Breytenbach met studieverlof is van 01 Julie 2003 tot 15 Januarie 2004 en dat die volgende onderwerpe vir proefskrifte goedgekeur is: B.J. van Wyk, Die kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in hedendaagse verband, en D.J.C. van Wyk, doktor A.J.G. Oosthuizen se rol en invloed in die Nederduitsch Hervormde Kerk 1948-1964 – 'n kritiese beoordeling.

    18–19 September 2003

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit om professor P.A. Geyser, wat op 60-jarige ouderdom emeritaat moes aanvaar by die Universiteit van Pretoria, op kontrakbasis aan te stel in die HTK vir die ontwikkeling en aanbieding van kursusse vir die periode 01 Januarie–31 Desember 2004.

    27 November 2003

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aanvaar 'n Reglement vir die Kerkhistoriese Werkgroep, neem kennis van die verdeling van werkopdragte en wens vir doktor W.A. Dreyer geluk met sy verkiesing as voorsitter van die Werkgroep.

    Desember 2003

    In Konteks verskyn kort huldigingsartikels oor professor B.J. Engelbrecht wat sy 80ste verjaarsdag op 01 Augustus gevier het, geskryf deur professor J.H. Koekemoer en oor professor F.J. van Zyl wat sy 90ste verjaarsdag gevier het op 06 Mei, geskryf deur professor P.J. van der Merwe.

     

    2004

    16 Februarie 2004

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor P.A. Geyser afgetree het op 31 Januarie, dat professor A.P.B. Breytenbach met vervroegde pensoen aftree op 31 Maart en dat professor Y. Dreyer bevorder is tot 'n vol professor.

    04 Maart 2004

    Die waarnemende voorsitter van die Raad, professor Esme du Plessis, is teenwoordig in die vergadering van die Fakulteitsraad en oorhandig die langdienstoekenning aan professor P.J. van der Merwe.

    25 Maart 2004

    Tydens die legitimasiepligtigheid is aangekondig dat die W.P. Brouwerprys, die A.D. Pontprys, die P.J. Mullerprys, die H.P. Wolmaransprys en die B. Gemserprys almal toegeken is aan P.R. Schoeman, die Greyvensteinprys aan H.J. Boshoff, die J.I. de Wetprys aan Anneke Viljoen en die Kuratoriumprys aan J.H. Botha. H.J. Boshoff, P.R. Schoeman, J.M. van Staden en A. Viljoen het die MDiv graad met lof ontvang.

    31 Maart 2004

    Professor A.P.B. Breytenbach tree af.

    Junie 2004

    Hervormde Teologiese Studies jaargang 60 aflewering 1-2 is opgedra aan professor P.A. Geyser. Die huldigingswoord is deur die hoof van die HTK, professor T.F.J. Dreyer. Hy skryf onder andere:

    Piet Geyser beskik oor 'n skerp intellek, 'n besondere insig om groter teologiese verbande raak te sien en ten dienste van die kerk onder woorde te bring. Hy het die aanvoeling om so fyn te formuleer dat moeilike teologiese konsepte ook vir lidmate toeganklik is. Dit is waarskynlik die rede waarom hy uiters geslaagd en gewild was met die aanbieding van lesings, kursusse en seminare... Sy empatiese betrokkenheid by ander, gekombineer met sy fyn teologiese insig en egte geloof het van hom 'n gewaardeerde raadgewer en pastor gemaak

    Die huldigingswoord word gevolg deur 'n bondige cur vit en 'n opgawe van akademiese lesings en publikasies. Onder die titel Om nie te dink bo wat in die Skrif geskrywe staan nie – konsistensie en ontwikkeling in die teologie van Piet Geyser het A.G. van Aarde by wyse van gesprek met Geyser die kontoere van sy teologie beskryf. Ander bydraes in die bundel is van kollegas en vakgenote in die Kerk, die Fakulteit en ander fakulteite in Suid-Afrika en oorsee.

    10–11 Junie 2004

    Die Kommissie het in teenwoordigheid van die lede van die Kuratorium die finale memorandum van ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria goedgekeur. Dit is onderteken op 24 Junie 2004 deur professor T.F.J. Dreyer en die rektor, professor C.W.I. Pistorius. Die ooreenkoms strek tot 31 Desember 2009. Die belangrikste verskille met die vorige ooreenkoms is:

    • Die kerntaak van die fakulteit is die beoefening van die teologiese wetenskap en die opleiding van persone met die oog op kerklike bediening. Die konteks waarin die fakulteit sy kerntaak uitvoer, is die samewerking tussen die Universiteit en verskillende kerke. Hierdie kerke handhaaf onderling 'n multilaterale gespreksverhouding.
    • Die fakulteit bestaan uit die volgende departemente waarbinne programme in Bybel – en Godsdienskunde aangebied word. ...
    • Die fakulteit bedryf 'n interdissiplinêre program in Bybel – en Godsdienskunde.
    • Die Universiteit kan die strukturering van die Departemente binne die Fakulteit Teologie, sowel as die samestelling van die akademiese programme wat deur die fakulteit aangebied word, na oorleg met die kerklike vennoot in terme van sy eie beleid en prosedures wysig.
    • ... Kerkeie programme van die Kerk word gereël deur die Hervormde Teologiese Kollege.
    • Die Kerklike Dosenteraad kan, na oorleg met die Algemene Dsoeenteraad, aanbevelings aan die Fakulteitssraad maak ten aansien van teologiese opleiding en studente-aangeleenthede.
    • Die Fakulteitsraad word in ooreenstemming met die tersaaklike reglement van die Universiteit saamgestel op so 'n wyse dat die posteverdeling in hierdie ooreenkoms en in dié tussen die Universiteit en die NG Kerk van Transvaal ooreengekom, weerspieël word, met dien verstande dat fakulteitsraadslede vanuit ander kerklike vennote addisioneel benoem kan word.
    • Die Fakulteitsraad maak die nodige aanbevelings ten aansien van die aanstelling van die dekaan en adjunk-dekaan .. met dien verstande dat die dekaan en adjunk-dekaan uit die geledere van verskillende kerklike vennote kom.
    • 'n Ekumeniese Adviesraad word saamgestel uit verteenwoordigers van al die kerklike vennote. Die funksies en bevoegdhede van die Ekumeniese Adviesraad word per reglement deur die fakulteitsraad bepaal. Die kerntaak van die Ekumeniese Adviesraad is on die fakulteit te adviseer oor aangeleenthede wat verband hou met die akademiese profiel van studente en die verhouding tussen algemeen kerklike en kerkspesifieke opleiding
    • Vyf poste word aan die Kerk as bydraende kerklike vennoot toegeken vir die duur van hierdie ooreenkoms ...
    • Permanent- voltydse aanstellings in poste wat nie aan kerklike vennote toegeken is nie, geskied nadat die dekaan oorleg gepleeg het met die verteenwoordigers van die kerklike vennote,
    • Kontrakaanstellings ten aansien van gemeenskaplike en kerkspesifieke programme vind jaarliks plaas ...
    • Die Kerk kan, in oorleg met die dekaan en die kerklike Dosenteraad, personeel geakkrediteer deur die fakulteitsraad en verbonde aan die HTK aanwend om goedgekeurde kerkspesifieke kursusse aan te bied, met dien verstande dat die aanstelling van personeel waar van toepassing op die diensstaat van die Universiteit moet plaasvind. Die Universiteit erken die bydrae wat die Hervormde Teologiese Studies tot die finansiering van die fakulteit op die terrein van navorsing maak.
    • Hierdie ooreenkoms tree in werking op 01 Januarie 2005 en duur... tot 31 Des 2009.

    19 Julie 2004

    Kennis word deur die Fakulteit geneem dat die proefskrifonderwerp van A.J. Groenewald goedgekeur is, naamlik Nietzsche's impulse towards the development as a concept of God that transcends modern atheism and theism: a philopsophical theological study.

    26 September 2004

    Die 67ste Algemene Kerkvergadering kom byeen in die Aula van die Universiteit van Pretoria. Die uittredende voorsitter, professor T.F.J. Dreyer, het die openingsrede uitgespreek na aanleiding van Handelinge 7:48. Sy rede gee insig in die gesprek, of eerder stryd, in die Kerk rondom die belydenis:

    Wanneer 'n credo 'n vaste, geykte betekenis los van tyd en kultuur geword het, begin dit die gesag van 'n dogma verkry. 'n Dogmatiese leerstuk veronderstel die oordrag van 'n tydlose waarheid wat jou dwing tot kognitiewe instemming. Dogma verteenwoordig 'n distansiëring van die oorspronklike individuele belydenis. Wanneer belydenis 'n dogma geword het, 'n leerstuk, 'n sisteem, 'n skema waarbinne God moet inpas, word die teregwysing van ons teks relevant: 'God, die Allerhoogste, woon nie in mensgemaakte konstruksies nie.'
    Die Bybel as die Woord van God kom na ons toe onder die leiding van die Heilige Gees, in die vorm van die belydenis van gelowiges. Hierdie fundamentele belydenis van mense word aan ons meegedeel in metaforiese, of analogiese taal, in 'n poging om die Onsê-bare te sê. Die gemeenskap van gelowiges, of die kerk, kan nie anders as om oor hulle geloof te praat en dit te bely in terme van die geykte woorde, beelde en formules, wat deur medegelowiges gedeel word nie – dit word 'n geloofsbelydenis van die kerk!
    Die veronderstelling is egter dat wanneer ons hierdie belydenis saam met die kerk van alle eeue uitspreek, dit vir ons telkens weer'n individuele belydenis word in die besef dat dit hoogstens 'n poging kan wees om iets van my geloof onder woorde te bring. Dit is nie 'n dogma waarmee jy verstandelik instem omdat dit 'n tydlose waarheid is nie, maar 'n belydenis wat iets verwoord van jou fundamentele ervaring van God se teenwoordigheid in jou lewe. ..
    Die Hervormde Kerk het daarom, tereg, altyd na haarself verwys as 'n belydende kerk en nie 'n belydeniskerk nie. Dit gaan nie vir die Kerk om die proklamering van tydlose waarhede nie, maar om mense te bring tot 'n eksistensiële belydenis van hulle geloof in die allerhoogste God wat nie in mensgemaakte strukture vasgevang kan word nie. As ons belydenisse tydlose, dogmatiese waarhede was, is dit mos nie nodig om ons teologiese studente aan 'n universiteit op te lei nie... Die Hervormde Kerk se standpunt was nog altyd dat predikante aan 'n universiteit akademies geskool moet word. Langs die moeisame weg van eksegese, die kennis van die brontale, die kritiese omgaan met historiese tekste en kontekste, moet die prediker in geloof en deur die gebed om verligting deur die Heilioge Gees, hermeneuties poog om God se Woord vir vandag opnuut te hoor en te vertolk, want God die Allerhoogste kan nie in mensgemaakte strukture vasgevang word nie...
    As ek bely dat 'ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde ..' dan maak ek nie daarmee 'n finale, wetenskaplike, tydlose uitspraak oor God en die presiese verloop van die skepping in ses dae nie. Te midde van wetenskaplike bevindings dat die hemel waarskynlik 12 miljard jaar oud is en met 'n groot knal ontstaan het, bely ek daarmee, saam met ander skeppingsverhale in Genesis, dat agter dit alles daar die Allerhoogste God is wat dit alles moontlik gemaak het.
    As ek bely dat ek glo in Jesus Christus: 'wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria,' dan is dit nie 'n wetenskaplike stelling gebaseer op fisiologiese en mediese navorsing van konsepsie en geboorte nie. Dit is 'n geloofsbelydenis saam met die kerk van alle eeue, dat die ewige en almagtige God op 'n wonderbaarlike manier, wat my verstand te bowe gaan, 'n mens geword het en onder ons kom woon het. ..
    As ek bely dat ek glo dat Hy: 'op die derde dag weer opgestaan het uit die dode', dan gee ek nie daarmee verslag van 'n mediese deurbraak nie, maar dit is 'n geloofsbelydenis dat Jesus Christus lewe, omdat Hy, die Onverganklike, nie aan die verganklikheid onderworpe is nie.
    As ek bely dat ek glo: '.. in die vergewing van sondes', dan is dit nie 'n juridiese vonnis wat my wil oortuig dat daar voldoende betaling en vergelding was vir sonde nie, maar 'n belydenis dat God se liefde so onbeskryflik groot is dat Hy my onvoorwaardelik vergewe, asof daar nooit enige iets was wat ons verhouding geskend het nie.
    As ek bely dat ek glo in: 'die opstanding van die vlees en die ewige lewe', dan bely ek dat my lewe nie deur die kategorieë van tyd en ruimte begrens is nie, maar dat Jesus Christus ook vir my die begrensing van die verganklikheid deur die onverganklikheid deurbreek het.

    Groete is oorgebring namens die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika, die Nederduits Gereformeerde Kerk, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en die Reformed Churches of Australia. Daar was by die opening ook verteenwoordigers van die Prairie Reformed Church in Kanada, die Afrikaanse Protestantse Kerk en die Presbiteriaanse Kerk in Suid-Afrika.

    Die H.C.M. Fourie Erepenning is deur die vise-voorsitter van die Kuratorium, doktor E. van Eck, oorhandig aan professor A.P.B. Breytenbach en doktor P.J. de Beer. Oor professor Breytenbach lui die oorkonde onder andere: 'In sy persoon en arbeid is die Reformatoriese Teologie en die Nederduitsch Hervormde Kerk op heel besondere wyse verryk.' Sy akademiese loopbaan, sy aandeel in Bybelvertaling en in die totstandkoming van die Liedboek van die Kerk en sy kerklike diens is in besonder genoem. Oor doktor De Beer: 'Dr Paul Jacobus de Beer het die Kerk en die Heer van die Kerk met passie, harde werk en integriteit gedien.' In besonder is vermeld sy diens in gemeentes, as eerste redakteur van Konteks en hoof van die Tydskrifafdeling, later SENTIK, as voorsitter of sekretaris of lid van verskillende kerklike liggame, as onderhandelaar namens die Kerk met die oorgang na die nuwe bedeling by die Universiteit van Pretoria en met die publikasie van die Liedboek.

    Na 'n herstemming tussen professor J. Buitendag en doktor J.C. van der Merwe is doktor Buitendag as voorsitter verkies, na 'n herstemming tussen doktor W.A. Dreyer en doktor J.C. van der Merwe is doktor Dreyer as skriba verkies. Doktor J.C. van der Merwe is as vise-voorsitter en na 'n herstemming tussen doktore H.J. Botes, J.H Breytenbach, E. van Eck, N.J.S. Steenkamp en E.G. Fourie is doktor van Eck as vise-skriba verkies. As predikantlede van die Kommissie is na herstemming tussen di E.G. Fourie, A.C. Kuyper, R.J. Coertze en doktor H.J. Botes verkies dominees A.C. Kuyper en R.J. Coertze.

    Hierdie Algemene Kerkvergadering het die dokument oor die Skrifbeskouing van die Kerk, voorgelê deur die Kommissie, met enkele wysigings in sy geheel aanvaar as 'n riglyn. Die volgende uittreksels kan 'n idee gee van die inhoud daarvan:

    Die Bybel as grond en norm van ons geloof
    Die Bybel het uit die lewendige verkondiging van God se Woord ontstaan. Die Bybel is die vernaamste middel waardeur die verkondiging van geslag tot geslag oorgelewer word. .Die Bybel het uit die verkondiging van die kerk ontstaan en die geskrewe Woord gee weer aanleiding tot voortgaande verkondiging.
    Die kerk aanvaar die Bybel as die bron en die norm vir die kerklike verkondiging en daarom is dit ook die belangrikste teks van die teologie. Die Bybel moet in ons tyd nie net met die beste metode waaroor die taalwetenskap beskik, geanaliseer word nie, maar dit moet ook teologies deur die kerk geïnterpreteer word. Trouens, die Bybel moet op so 'n wyse verstaan word dat God self aan die woord kom. Dit gaan vir die kerk oor die verstaan van die Woord asook oor die verstaan van die mens en die werklikheid waarin hy/sy leef.
    Die Bybel is deur God geïnspireer
    Dat die Bybel deur 'n groeiproses ontstaan het, neem niks weg van die gesag van die Woord nie. Inteendeel, dit bevestig op 'n vreemde manier hoe God in menselewens ingegryp het, hoe Hy met mense besig was en mense gevorm het om oor Hom te getuig. En die wonder is dat daardie getuienis uit 'n vergange wêreld vandag nog met mense praat en deur die Gees hulle in 'n verhouding met God bring!..In God se Woord gaan dit nie om die verkondiging van algemene waarhede, ewige sedewette of wêreldbeskouings nie, maar om 'n appél aan die mens om in waarheid en vryheid verantwoording te doen oor sy/haar eie menswees (2Kor 5:20). Die mens word as persoon deur God se Woord uitgedaag om sy/haar ou sondige bestaan ten gunste van 'n nuwe lewe in Christus prys te gee. Die nuwe wat deur die geloof opdaag, is méér as net 'n nuwe selfverstaan van die mens. Dit is die nuwe bedeling wat God self laat aanbreek...
    Die Bybel as God se Woord
    Ons kan op geen manier aantoon dat die Bybel God se Woord is nie. Wie egter die verkondiging van die evangelie hoor en dit glo, bely dat dit die Woord van God is (1Tess 2:14). Ons het geen ander kriterium as die aanspraak van God se Woord op ons aan die hand waarvan ons kan toets of die Woord wel God se Woord is nie. Ons glo dus nie die boodskap van verlossing net omdat dit in die Bybel opgeteken staan nie, maar omdat ons die lewende God se stem in die Bybel hoor. Ons bely dus dat ons God se Woord deur die Bybel verneem. Die gesag van die Woord is in die blye boodskap van die Bybel gegrond.
    Die verskeidenheid in die Bybel
    Die Bybel, of die verskillende boeke van die Bybel, het nie 'uit die hemel geval' nie, of dit is ook nie op 'n bonatuurlike manier aan mense gedikteer wat dit maar net so woordeliks neergeskryf het nie. Elke boek in die Bybel het 'n unieke ontstaansgeskiedenis. Die boodskap van God is in baie gevalle eers mondelings oorgelewer en dit het meestal deur verskillende faaes gegaan waarin dit telkens oorvertel is. Omdat die proses waarin die Woord oorgelewer is, hand aan hand met die Aktuele verkondiging van die Woord verloop het, is daarop uitgebrei of selfs dele daarvan weggelaat. Sodoende is dit telkens weer vir die volgende geslag en onder die nuwe omstandighede aktueel vertolk. Later is die verkondiging gedeeltelik of in groter dele op skrif gestel en hierdie skriftelike oorlewering is ook telkens tydens die opskrifstelling hervertolk en teologies geïnterpreteer tot by 'n laaste fase toe die boeke redaksioneel versorg is. Die verskillende boeke van die Bybel is vir 'n baie lang tyd met die hand oorgeskryf. Alhoewel ons in geen enkele geval die heel oorspronklike teks meer het nie, het werklik baie van hierdie afskrifte vir ons behoue gebly. Later het versamelings van Bybelboeke ontstaan. Oor 'n lang tyd het die Bybel gegroei tot die boek wat ons vandag het.
    Die Bybel is 'n biblioteek van wyd uiteenlopende boeke uit verskillende tye en kontekste. Nietemin is die Bybel – met sy vesrkillende soorte literatuur en waar elke boek boonop 'n besondere boodskap het – prinsipieel die Woord van God en daarom 'n baie kragtige boek. Ons hoef nie botsende uitsprake in die Bybel te probeer wegredeneer of met rasionele spronge met mekaar te probeer versoen nie. Ons wil aanvaar dat die Bybel, as 'n verskeidenheid van boeke, die wyse is waarop God kies om te kommunikeer met mense onder bepaalde omstandighede, met hulle besondere wêreldbeeld, hulle eie verstaan van geskiedenis en die werklikheid. Die Bybel is dus God se Woorde en kom in mensewoorde na ons toe...
    Die eenheid van die Bybel
    Die Bybel bestaan uit 'n diversiteit van boeke. Gevolglik vind ons ook 'n verskeidenheid van teologieë in die Bybel. Daar word egter 'n eenheid in die Bybel te midde van die verskeidenheid veronderstel. Ons sou die veronderstelde eenheid die Woord kon noem. Woorde in die meervoud wat dus Woord in die enkelvoud word. Die reddende handeling van God loop soos 'n goue draad deur die hele Bybel. Die eenheid van die Bybel is daarom ten diepste in die eenheid van die reddende God self gegrond. Die eenheid van die Bybel kan deur die kerk bely word, net soos wat die kerk ook die eenheid van God en die eenheid van die kerk bely. Met verwysing na die kerklike verkondiging sou ons kon sê: Dit is nie losstaande tekste wat verkondig moet word wanneer die evangelie verkondig word nie. God se Woord moet eerder verkondig word, en dié Woord is een.
    Die eenheid van die evangelie staan in diens van die kerklike verkondiging van die Woord van God en die sendingwerk van die kerk.Vanuit die eenheid van die Bybel kan ons selfs kritiese opmerkings oor sekere uitsprake in die Bybel maak. Sake wat in die Bybel ter sprake kom, maar in kontras staan met die sentrale boodskappe van die Bybel, kan tog nie vir die gelowiges dieselfde gewig dra as die wesentlike boodskap van die Bybel nie. Ons laat ons immers in die uitleg van die Bybel ook deur die evangelie self lei. Die Bybel het vir ons dus die gestalte van God wat deur sy Seun Jesus Christus tot spreke kom. Hier setel die sinvolle eenheid van die Bybel.

    Die waarheid van die Woord
    HHoewel die Bybel oor die grense van plek en tyd 'n boodskap vir alle mense het en die waarheid van die Bybel nooit uitgedien raak nie, kan dit nie altyd reglynig op ons eie situasie toegepas word nie. Daar is 'n verskil in kontekste toe en nou en 'n kloof van eeue se geskiedenis wat in ag geneem moet word. Dit vra van ons vertolking en uitleg om die boodskap van tóé ook vir ons tyd te verstaan en toe te pas en om die groot gaping in tyd tussen ons en die Bybelskrywers sinvol te oorbrug. Ons verkondig dus vandag nie die Bybel se wêreldbeeld of verstaan van die geskiedenis, aardrykskunde, sterrebeelde of natuurstudie nie. Die Bybel is nie bedoel om op enige van daardie gebiede 'n gesaghebbende handboek te wees nie. Ons hoef nie byvoorbeeld die verskillende skeppingsverhale met insigte uit die wetenskap te probeer versoen nie. Veral hoef ons nie ons geloofsekerheid in die historiese feitelikhede te probeer vind nie. Die Bybelse boodskap is veranker in God se konkrete handeling in die geskiedenis van Israel, Jesus en die kerk. Die Bybel is daarom nie bloot dokumentasie van geskiedenis nie. Die Bybel is verkondiging en daarom is die Bybel self ook eerder 'n vertolking- en daarom boodskap van wat gebeur het en nie blote beriggewing van wat gebeur het nie. Ons moet nie ons heil soek in historiese feite agter die boodskap nie, want die heil word in die boodskap self gevind. Die waarheid van die Woord het nie met die feitlike korrektheid, akkurate beriggewing, of teenspraakloosheid van die Bybel te make nie, maar met die feit dat die Woord ons voor 'n beslissende keuse oor die sin en betekenis van ons eie lewe plaas...
    Slot

    Daar lê nie 'n gevaar in 'n kritiese worsteling met die Bybel nie, maar daar skuil wel 'n groot gevaar enersyds in ons wegkruip agter 'n paar groot uitsprake oor die Bybel sonder dat die Bybel in ons lewens enige rol speel en andersyds in 'n skromelike verwaarlosing van ons omgang met die Bybel.
    Die Bybel moet altyd 'n kritiese funksie in die kerk en onder die gelowiges vervul. Die kerk moet haarself gedurig aan die Woord meet. Net so moet elke gelowige homself/haarself ook voortdurend deur die Woord laat aanspreek...
    Die Bybel het nie alleen oor 'n lang tyd in diverse kontekste ontstaan nie, maar dit word ook al oor 'n lang tyd onder uiteenlopende omstandighede gelees. Die kerk en die teologiese gemeenskap is die vertolkingsgemeenskappe wat in die eerste plek verantwoordelik is vir die interpretasie ( (en in die geval van die kerk ook die verkondiging) van die Woord. Ons eie Kerk behoort daarom altyd ernstig te besin oor kritiese vrae wat deur sowel die kerklike tradisie, die wêreldwye kerklike gemeenskap, as die teologie by ons wakker gemaak word oor ons eie verstaan van die Bybel. Geen kerk kan te selfversekerd wees dat sy die waarheid van God se Woord finaal verstaan nie. Ons moet altyd bereid wees om opnuut na die Woord te luister en dit te gehoorsaam.

    Die verslag van die adjunk-dekaan van die Fakulteit Teologie, professor A.P.B. Breytenbach, het vermeld: 'In die algemeen kan vermeld word dat die nuwe bedeling bepaalde groeipyne meegebring het, maar dat dit oorkom is en dat dit goed gaan met die Fakulteit.' Die dosentekorps van die kant van die Hervormde Kerk het bestaan uit: A.P.B. Breytenbach, P.M. Venter (Ou Testamentiese Wetenskap), J. Buitendag (Dogmatiek en Christelike Etiek), Y. Dreyer (Praktiese Teologie), A.G. van Aarde (Nuwe Testamentiese Wetenskap), P.A. Geyser (Bybelkunde) en P.J. van der Merwe (Godsdiens- en Sendingwetenskap). Daar was in 2003, 24 Hervormde studente besig met BTh, en 20 met MDiv. Hulle het maar 'n klein deel uitgemaak van die totale studentetal van die Fakulteit, wat in 2003 sowat 202 voorgraadse en 527 nagraadse studente gehad het. Die Uniting Presbyterian Church het 'n derde vennoot in die Fakulteit geword en daar was ooreenkomste met 'n aantal Kolleges wie se sillabusse deur die Fakulteit gemodereer word. In 2004 sou ook die Evangelical Presbyterian Church in South Africa toetree. 'n Hele aantal modules word ook in Engels aangebied en dit het meegebring dat die doseerlas op dosente baie swaar geword het. Die finale studiejaar van die Hervormde studente word volledig deur die HTK behartig. Dit is van besondere belang dat die ooreenkomste met teologiese fakulteite en departemente in Europa, Amerika en selfs Rusland. Een van die ooreenkomste is dié met die Protestantse Fakulteit in Wenen, Oostenryk, waar professor J.A. Loader dosent is. 'Dit bied aan studente van die Kerk geleentheid om teen minimale koste vir 'n kort tydperk in Europa te studeer as deel van hulle kursus aan die Universiteit van Pretoria.'

    Vir die tydperk 2005–2009 is 'n nuwe ooreenkoms met die Universiteit gesluit. Daarvolgens sal die Hervormde Kerk vyf professore en die Nederduits Gereformeerde Kerk tien kan hê. Nuwe aanstellings geskied volgens universiteitsregulasies en 'n prosedure is aanvaar wat bepaal dat 'n betrokke kerk die meerderheidstem in die Fakulteitsraad sal hê in geval van 'n vakature in sy geledere. Die HTK se plek en funksie is erken. Die Kollege se dosente word deur die Fakulteitsraad goedgekeur en deur die Universiteit geakkrediteer. Die substansiële bydrae wat die Hervormde Teologiese Studies tot die Fakulteit maak, is erken. Die 30% bydrae wat elke kerk tot die salarisse van sy dosente maak, word gehandhaaf.

    Daar was steeds teenstand teen die gedagte van 'n gesamentlike teologiese opleiding. Beskrywingspunte is behandel van die Ring van Noord-Kaapland en die Ring van Port Elizabeth wat aangedring het op eie opleiding. Die Algemene Kerkvergadering het albei verwerp maar tog aan die Kommissie opdrag gegee om die ondersoek na 'n eie opleidingsinstansie voort te sit.

    Die vergadering het ook kennis geneem van die verslag van die hoof van die Hervormde Teologiese Kollege. Ter inleiding is die oorwegings vir die vestiging van die Kollege uiteengesit:

    • Naas die algemeen-kerklike modules binne die teologiese kurrikulum moes daar ruimte wees vir kerkspesifieke modules wat vanuit die Kollege deur geakkrediteerde dosente aangebied kan word.
    • Die Kollege moet buite-kurrikulêre programme ontwikkel wat vanaf die vierde studiejaar aangebied word, bestaande uit kerkeie modules, afgestem op die bedieningspraktyk van die Hervormde Kerk.
    • Die genoemde kerkeie praktykvorming moet uitloop op die verkryging van 'n Diploma in Kerklike Bediening wat, naas die vereiste akademiese kwalifikasies, ook as voorwaarde sal geld vir toelating tot die proponentseksamen.
    • Die Kollege moet deur middel van die kerkspesifieke en kerkeie modules asook deur 'n dosentevoogstelsel probeer toesien dat die kerklike etos van die Hervormde Kerk en 'n gesonde spiritualiteit onder die studente bevorder sal word.
    • Die Kollege moet deur die aanbieding van jaarlikse toerustingskursusse sorg vir die voortgesette teologiese toerusting van predikante.
    • Toerustingskursusse vir ampsdraers en lidmate , wat in die verlede deur Kital geïnisieer was, moes deur die Kollege geaktiveer word.
    • Die vestiging van 'n geakkrediteerde Kollege moes aan die Kerk die moontlikheid bied om, indien kerklike teologiese opleiding aan 'n universiteit problematies sou word, via die Kollege tot 'n groter mate self studente te kan oplei...

    Kerkspesifieke modules
    Bepaalde modules in Dogmatiek, Kerkgeskiedenis en Kerkreg is geïdentifiseer as kerkspesifiek. Modules in Kerkgeskiedenis is later bygevoeg as keusemodules wat vir Hervormde studente verpligtend is... Wat Praktiese Teologie betref, word die aspekte van die opleiding wat kerkeie aksente verlang, in die program vir die Diploma in Kerklke Bediening geïnkorporeer. Vanaf die begin van 2004 is daar ten opsigte van Kerkgeskiedenis 'n Werkgroep vir Kerkgeskiedenis gevorm wat die belange van Kerkgeskiedenis in die opleiding, asook navorsing moet behartig...Gedurende 2002 is die MDiv 2009 wat gedifferensieerd as 'n kerkspesifieke program vanuit die Kollege aangebied word, volledig geïmplementeer. Kerklike dosente aan die Fakulteit asook geakkrediteerde dosente van die Kollege, bied die onderskeie modules aan... Die program bestaan uit vier modules waarvan die skripsies een module uitmaak. Die ander drie modules word interdissiplinêr aangebied en fokus op die integrering en internalisering van teologiese kennis...'
    Diploma in kerklike bediening
    Die finalejaargroepe van 2002 en 2003 was die eerste groepe wat, naas die praktykvorming tydens die laaste drie studiejare, vir drie maande praktiese werk in gemeentes van die Kerk gedoen het... Daar is veral gefokus op selfinsig, roepingsverstaan, spiritualiteit en persoonlike groei... Dit is die oortuiging dat studente aan die Kerk gelewer is wat beter toegerus en gemotiveer is...
    Studentebegeleiding en vorming
    Die begeleiding van studente vind op formele en informele vlakke plaas. Formeel is daar die voogstelsel waar die kerklike dosente aan die onderskeie jaargroepe as voogde toegewys is. Gereelde kontaksessies is op die rooster van die praktykvorming geskeduleer... Die jaarlikse oriënteringskursus is nou verskuif na studente aan die begin van die tweede jaar. Godsdiensoefeninge wat deur Hervormde dosente gelei word, word maandeliks tydens die eerste drie kwartale gehou... Gedurende die vierde kwartaal woon studente die klaspreke en besprekings van die vyfdejaarstudente op 'n weeklikse basis by. Op informele vlak vind talle gesprekke tussen studente en dosente plaas.'

    Kursusse
    Die VTT kursus word jaarliks vir predikante in Junie en November aangebied. In 2001 was die tema Kerklike leierskap en –bestuur. In 2002 was dit Die Hervormde Kerk – relevant vandag en hoop vir môre. In 2003 was dit Die storie van die Hervormde Kerk – 'n narratiewe strategie...
    'Mettergaan word die prentjie oor ander kursusse duideliker. Daar is twee fasette wat uitkristalliseer. Die een faset is toerustingskursusse vir predikante en gemeentes wat fokus op bedieningsverryking en gemeentebou. Hierdie faset word aangebied in samewerking met Kosmos Instituut...Die ander faset sentreer rondom die werk van die onderskeie rade van die Kerk.

    Uit die verslag oor Hervormde Teologiese Studies het geblyk dat Hervormde dosente oor die tydperk 2001–2003, 120 artikels in Hervormde Teologiese Studies gepubliseer het en dat die blad 'n ruim bedrag verdien het:

    Samevattend beteken dit dat die Nederduitsch Hervormde Kerk met die Hervormde Teologiese Studies-begroting 'n bedrag beskikbaar stel wat gelykstaande is aan 'n driekwart pos. Wanneer die vyf poste se kerklike bydrae verreken word, verteenwoordig dit 'n een en 'n halwe pos, en beteken dit dat in totaal die Nederduitsch Hervormde Kerk indirek maar vir knap meer as twee poste betaal, terwyl die Kerk vyf kry!

    Oor nasionale en internasionale erkenning lui die verslag:

    Ekserpte van navorsingsartikels word in nege internasionale bibliografiese indekstydskrifte in Kanada, die VSA, Duitsland, Italië en België gepubliseer. SABINET hanteer Hervormde Teologiese Studies se elektroniese verspreiding in SA en die buiteland.

    Uit die verslag oor die Teologiese Opleidingsfonds het geblyk dat Kennis is geneem dat doktor W.A. Dreyer nie voortgaan met die lesings nie. Kennis is ook geneem van die toekennings aan studente. Carusta van der Merwe het toestemming ontvang om dat in 2003 daar beurslenings aan studente gemaak is ten bedrae van R347 165 en bykomende finansiële hulp ten bedrae van R33 450 Oor die tydperk 2001–2004 is 23 studente toegelaat met beurslenings.

    'n Reglement vir die toekenning van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se erepenning vir besondere dienslewering is goedgekeur.

    Wat die predikantestatistiek betref, het die vergadering kennis geneem dat die getal standplase met volle versorging afgeneem het met 21, dié met deelversorging met 44, terwyl predikante in deeltydse standplase toegeneem het met 50. Vyf predikante is oorlede en 17 is onthef. As lede van die Kuratorium is verkies dominee G. van R. Els, L. Geel, doktore G.C. Lindeque, J. Otto, D.J.C van Wyk jnr, meneer B.D. Bierman en professor A.J.G. Oosthuizen.

    Oktober 2004

    Huldigingsbundels van Hervormde Teologiese Studies word oorhandig aan professore A.P.B. Breytenbach en P.A. Geyser. Jaargang 60, aflewering 3, Junie 2004 is opgedra aan Breytenbach. Die huldigingswoord is geskryf deur Johan Buitendag. Hy skryf onder andere:

    Andries is 'n uiters veelsydige persoon. Die twee kenmerke van hom wat 'n mens dadelik opval, is sy intellek en sy vertelvaardigheid. Hierdie kombinasie het gevolglik ook 'n besonder suksesvolle dosent van hom gemaak... Die laaste aantal jare het hy hom graag deur die teologie van Dietrich Bonnhoeffer laat bedien en het laasgenoemde se gedagte van kruisdissipelskap Andries diep aangegryp.

    Daarop volg 'n cur vit wat 'n insig gee in Breytenbach se indrukwekkende loopbaan as ampsdraer in die Kerk en as akademikus. Die artikels is van die hand van kollegas in die Fakulteit en in ander fakulteite aan die Universiteit van Pretoria en ander universiteite. Opmerklik is die bydrae van die digteres en letterkundige Lina Spies met opskrif 'Die Bybel in geding: teks versus dogma'.

    08 November 2004

    Professor P.M. Venter lewer sy intreerede as hoof van die Departement Ou Testamentiese Wetenskap.

    17 November 2004

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor A.G. van Aarde afwesig is omdat hy in Egipte as gasdosent optree en dat professor P.M. Venter sy intreerede as departemenshoof op 08 November, gehou het.

    22 November 2004

    Die Kuratorium verkies doktor D.J.C. van Wyk jnr as voorsitter, doktor J. Otto as vise-voorsitter en doktor G.C. Lindeque en dominee G. van R. Els as lede van die Dagbestuur. 'n Evalueringskomitee is verkies en 12 predikante is aanbeveel vir die Proponentseksamenkommissie. Op versoek van die dekaan van die Fakulteit, professor C.J.A. Vos, is R20 000 bewillig vir die stigting van 'n webwerf vir die Fakulteit. Die bedrag van R102 000 wat deur die Algemene Kerkvergadering begroot is vir Kerkgeskiedenis en Kerkreg is toegewys aan vergoeding van die dosente, C. Pretorius en W.A. Dreyer, materiaalkoste en die gemeente Horison vir die dienste van doktor W.A. Dreyer. Daar was twee uitruilstudente in Wenen, naamlik Petri van Rooyen en Louis Venter. Die aansoek van Tanya van Wyk om ook na Wenen toe te gaan, is goedgekeur. Student Zarina Lotz het toestemming ontvang om haar BTh studies deur middel van afstandsonderrig te voltooi.

    26 November 2004

    Die Fakulteitsraad beveel professor J. Buitendag aan as adjunk-dekaan.

     

    2005

    03–04 Maart 2005

    Tydens die legitimasieplegtigheid is die B. Gemserprys oorhandig aan M.M. van der Berg, die Kuratoriumprys aan P. de K. Fürstenberg en al die ander pryse behalwe die Greyvensteinprys wat nie toegeken is nie, aan Anette Dreyer. Van der Berg en Dreyer het die MDiv graad met lof geslaag. Op 15 Maart 2005 het die Kuratorium vir professor P.M. Vanter en doktor J. Otto gelukgewens met die voltooiing van die Argus-fietswedren. Professor van Aarde is verbetering in gesondheid toegewens. Kennis is geneem dat die webwerf van die Fakulteit in werking is http://www.teo.co.za en dat telematiese onderrig voortgang kan hê. 'n Reglement vir Kerkgeskiedenis en Kerkreg is goedgekeur. Kennis is geneem dat doktor W.A. Dreyer nie voortgaan met die lesings nie. Kennis is ook geneem van die toekennings aan studente. Carusta van der Merwe het toestemming ontvang om in Wenen te studeer.

    10 Maart 2005

    Die Fakulteit neem kennis dat die volgende onderwerpe vir poefskrifte goedgekeur is: I.-C. Shin Matthew's inclusive community. A narratological and social scientific reading en, P.J.W. Schutte se Jesus – a Kerugma to live by. A postmodern understanding of myth, resurrection and canon. Kennis is verder geneem dat die HTO se naam verander is na Afrika Instituut vir Missiologie (AIM) en van die reglement vir die Instituut.

    12 April 2005

    Die Hervormde Dosentevergadering aanvaar 'n Reglement van Orde vir die Werkgroep Kerkgeskiedenis en Kerkreg en ook die herstrukturering van die Werkgroep.

    17 Mei 2005

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor Van Aarde afwesig is met siekteverlof en dat hy op 18 Mei 'n operasie ondergaan. Doktor J.P. Labuschagne het inligting gegee oor die doel en groei van die Teologiese Opleidingsfonds. Professor T.F.J. Dreyer is bedank vir die inisiatief en reëling van die dosenteberaad op die Harlow Wildplaas naby Roedtan op 28–30 April. Kennis is geneem dat doktore D.J.C. van Wyk jnr en E. van Eck lesings in Nuwe Testamentiese Wetenskap sal waarneem tydens professor van Aarde se siekteverlof. 'n Reglement vir die HTK Fonds wat die VTT fonds vervang, is goedgekeur.

    24 Mei 2005

    Die Kuratorium neem kennis dat professor Van Aarde steeds in die hospitaal is. Hy was op siekteverlof tot 18 Julie 2005. Sy lesings is waargeneem deur doktore D.J.C. van Wyk jnr en E. van Eck. Die gewysigde reglement vir Kerkgeskiedenis en Kerkreg is aanvaar. Kennis is geneem van die verslag oor die werkswinkel van die Kuratorium en dosente vir strategiese beplanning op die Harlow Wildplaas by Roedtan. 'n Reglement vir die Teologiese Opleidingsfonds is goedgekeur en kennis is geneem van die jaarverslag van die fonds, wat reeds R1 611 151 op belegging gehad het. Die Evaluasiekomitee se aanbeveling oor die aanvaarding van 11 nuwe studente is aanvaar. Onder hulle was kleinseuns van professore P.S. Dreyer en W.C. van Wyk. Student Maryke Pretorius (Potgieter) is toegelaat om MTh op deeltydse basis aan die Universiteit van Pretoria vanuit Londen te doen. Kennis is geneem van 'n berig in Rapport wat refleksie werp op die opleiding, en vertroue in die dosente is uitgespreek.

    03 Augustus 2005

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor A.G. van Aarde steeds ernstig siek is en dat hy aansoek gedoen het om medies ongeskik verklaar te word. Hy het ook onlangs sy derde proefskrif oor die kindheidsevangelie van Tomas suksesvol verdedig.

    23 Augustus 2005

    Die Kuratorium neem kennis dat dit nie goed gaan met professor Van Aarde nie.

    22-23 September 2005

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering keur die aansoek van professor A.G. van Aarde om emeritaat op grond van mediese ongeskiktheid goed. Die Kuratorium het opdrag ontvang om die onderhandelinge oor die vulling van die vakature so gou moontlik te begin. Professor van Aarde het op 30 September 2005 uit diens getree. Daarmee het 'n skitterende akademiese loopbaan wat gestrek het oor 22 jaar tot 'n einde gekom. In Die Hervormer van 15 November 2005 het die redakteur 'n oorsig gegee oor van Aarde se prestasies en lewenshouding. Hy skryf onder andere:

    Prof Van Aarde is 'n student en akademikus in murg en been. Hy het sewe grade waarvan drie doktorsgrade is. Hy het menige kursusse in die Bybelwetenskappe, veral die Nuwe Testamentiese Wetenskap maar ook in die Ou Testament en op die terrein van die taalwetenskap, by die Universiteit van Pretoria, wyer in Suid-Afrika en aan oorsese universiteite geskryf en gedoseer. Hy het minstens 13 keer formeel aan buitelandse universiteite klasgegee. Hy is lid van sewe nasionale en internasionale akademiese liggame, waar hy tussen 1984 en 2005 41 internasionale konferensies en kongresse bygewoon en 19 referate gelewer het. Hy het 95 wetenskaplike navorsingsartikels in geakkrediteerde tyskrifte gepubliseer (van 'n verder 44 was hy medeskrywer saam met van sy studente.) Hy het 22 hoofstukke in internasionale boeke geskryf en was skrywer, redakteur of mederedakteur van 14 boeke wat onder sy naam verskyn het. Daarby het hy ongeveer 70 populêre artikels geskryf. Hy tree as promotor vir 15 studente se doktorsgrade op en vir drie as medepromotor ('n verder 10 studente is steeds besig met M- of D-grade onder sy leiding.) Prof Van Aarde se briljantheid as akademikus en sy enorme werksvermoë dwing nie net in Suid-Afrika nie, maar ook internasionaal agting af... Prof Van Aarde wou nooit net akademikus wees nie, altyd ook kerkman. Naas die tydperk wat hy voltyds in gemeentes gewerk het, is hy sedert 1980 toe hy die akademie voltyds betree het, steeds permanent in gemeentes betrokke, soms as pastorale hulp, soms as hulpprediker, en veral by Bybelstudieprogramme... Maar prof Van Aarde was nie net akademikus en kerkman nie. Hy het nooit met die akademie en kerksake omgegaan sonder dat sy diepe spiritualiteit jou opgeval het nie. Hierdeur het hy dit vir sy studente moontlik gemaak om, ten spyte van soms kontroversiële standpunte wat hy gehandhaaf het (hoewel hy dit nooit op sy studente afgedwing het nie) met hom saam te dink oor diepe geloofsbeginsels... Vanweë sy sterk persoonlikheid en as navorser en akademikus by uitnemdheid, het prof Van Aarde ongetwyfeld met gevestigde kerklike oortuigings gebots, en veral vanweë die spesifieke terreine waarop hy gewerk het, ook met beskouings oor die Skrif en die kerklike belydenis. Die tyd het egter uitgewys dat, hoewel hy met integriteit en eerlikheid sy standpunte gestel het, hy steeds solidêr met die kerk en die kerklike belydenis kon bly. Dit het egter nie verhoed dat agterdog jeens hom en sy teologie en die gevolglike isolasie waarin hy hom by tye bevind het, veral in die tyd toe daar spanning tussen hom en die kerklike leiding en botsings met kollegas was, hom seergemaak en ontstel het nie... Prof Van Aarde het met besondere vaardighede en toewyding die akademie, die kerk en die Here gedien. Die invloed wat hy op mense se lewens in die lewe van die kerk en die teologie gehad het, sal moeilik oorskat kan word.

    13 Oktober 2005

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor A.G. van Aarde emeritaat aanvaar het op 30 September 2005. Hy sal voortgaan met die redaksie van die Hervormde Teologiese Studies en sy kantoor behou.

    Professor J.J. Engelbrecht is oorlede op 09 Oktober 2005. Die roudiens in die kerkgebou van Zuurfontein op 13 Oktober is gelei deur J.P. Oberholzer. Professor J. Buitendag, voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, het namens die Kerk die woord gevoer. In Die Hervormer van 15 Desember 2005 het professor G.M.M. Pelser Engelbrecht se lewe en werk in oënskou geneem en onder andere geskryf:

    Ek kan my min dienaars van die Woord herinner wat hulle werk in die gemeente met soveel erns en oorgawe gedoen het as hy... Wat my altyd opgeval het wanneer ek hom hoor preek het, is nie alleen die goeie voorbereiding en aanbieding daarvan nie, maar ook die oortuiging waarmee hy die evangelie verkondig het... Wat sy loopbaan as dosent in Bybelkunde aan die Universiteit van Pretoria betref, het ek die voorreg gehad om etlike jare saam met hom in die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap te werk. Ek kyk met aangename herinneringe terug op daardie jare... Hy het inderdaad die hoogste premie geplaas op die eer van God en sy diens aan God deur die teologie... As 'n mens sou wou weet hoe die persoon en lewe van 'n Christen daar moet uitsien, hoef jy nie verder as hierdie mens te gesoek het nie.

    20 Oktober 2005

    Die Hervormde Dosentevergadering beveel aan dat professor P.A. Geyser in die eerste kwartaal van 2006 lesings in Nuwe Testamentiese Wetenskap sal waarneem.

    01 Desember 2005

    Die Kuratorium het kennis geneem dat professor A.J.G. Oosthuizen besig is om te herstel van 'n hartaanval en dat professor Van Aarde geëmeriteer het. Professor J. Buitendag was verskeie kere oorsee vir besoeke aan Nederland en Engeland. 'n Opgedateerde verslag van professor T.F.J. Dreyer oor 'n projeksie tot 2010 het steeds gelui dat nie meer as vier studente per jaar met beurslenings toegelaat behoort te word nie... Kennis is geneem dat professor van Aarde die openingsrede van die HTK sal lewer op 31 Januarie 2006.

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het op 02 Desember 2005 in 'n buitengewone byeenkoms goedgekeur dat doktor E. van Eck aanbeveel word vir die vakante pos in Nuwe Testamentiese Wetenskap. Professor P.A. Geyser het die lesings in Nuwe Testamentiese Wetenskap waargeneem totdat Van Eck op 01 Julie 2006 in die pos kon begin.

    Ernest van Eck is gebore te Merriespruit, OVS op 13 Mei 1960. Sy ouers was Gerrit van Eck en Cecilia Jacomina Putter. Hy gaan skool in die laerskole Merriespruit, Rustenburg-Noord en Thabazimbi en matrikuleer aan die Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi in 1978 met vyf onderskeidings. Hy behaal die BA graad met lof in 1981 aan die Universiteit van Stellenbosch, BA Hon in Grieks aan die Universiteit van Pretoria in 1984 en BD met lof in 1985. Hy is georden as dienspligkapelaan op 25 April 1985. Gedurende 1982–1983 was hy navorsingsassistent in die Departement Bybelkunde, in 1984 in die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap, en van 1985–1996 deeltydse dosent in Nuwe Testamentiese Wetenskap. Hy bedien die gemeentes Wapadrant en Marikana in deeltydse hoedanigheid en daarna die gemeentes Fonteinedal en Oos-Moot. Hy gaan voort met gevorderde studie en behaal die MDiv in 1989 en die MA Grieks in 1990, albei met lof. Hy het doktorale studie gedoen aan die Graduate Theological Union in Berkeley, California en sy proefskrif voltooi onder leiding van professore Herman Waetjen en Andries van Aarde, en ontvang die DD graad aan die Universiteit van Pretoria in 1993. Vanaf 1997 is hy tydelik-deeltydse dosent in Nuwe Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria, die HTO en later die HTK. Vanaf 2000 is hy ook redakteur van die webblad van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Hy word in 2004 verkies as vise-skriba van die Algemene Kerkvergadering.Teen die tyd van sy aanstelling as mede-professor het hy reeds talle wetenskaplike artikels gepubliseer.

     

    2006

    14 Maart 2006

    Die Kuratorium het vergader. Die jaarverslag van die HTK het 'n uiteensetting gegee van die Diploma in Kerklike Bediening. Die programdoel is soos volg geformuleer:

    Die verwagte uitkoms is dat die studente na afloop van die program
    • in staat sal wees om die teologiese kennis wat hulle in die BTh en MDiv grade verwerf het, te kan toepas en integreer binne die bedieningspraktyk van die Hervormde Kerk
    • 'n pastorale identiteit en spiritualiteit binne die etos van die Hervormde Kerk sal internaliseer
    • oor basiese vaardighede sal beskik om die versskillende fasette van die bediening op 'n professionele wyse te hanteer
    • die vermoë tot persoonlike introspeksie en groei sal integreer.

    Die verskillende modules is genoem tesame met die doelstelling van elke module en die dosent. Vir DKB 300 was dit: Gesinsbediening (M.J. du P. Beukes), Diakonale organe van bystand (Doktor J. Engelbrecht), Chemiese afhanklikheid (Meneer I. Dreyer), Bybelkennis en Vaardigheid Ou Testament (G.C. Lindeque) en Klaspreke (Professor T.F.J. en mevrou M. Dreyer). Vir DKB400: Bedieningspraktyk (T.F.J. Dreyer), Bybelkennis en Vaardigheid Nuwe Testament (E. van Eck), Teks na Preek (T.F.J. Dreyer), Belydenisgeskrifte (J. Buitendag), Huisbesoek (M.J. du P. Beukes), Bejaardesorg (W.J. Coetzer), Jeugbediening (T. Moller), Klaspreke (Professor T.F.J. en mevrou M. Dreyer). Vir DKB500: Preekstrategie (T.F.J. Dreyer), Spiritualiteitsvorming (P.A. Geyser), Preekvoorbereiding (Professor T.F.J. en mevrou M. Dreyer), Liturgiese Praktyk (E. Kloppers), Pastorale Bearbeiding (J. Coetzee), Siekepastoraat (J. Coetzee), Kerklied in die erediens (E. Kloppers), Klaspreke (T.F.J. Dreyer). DKB 600: Kerklied in praktyk (B.D. Bierman), Sendingpraktyk (P.J. van der Merwe), Missionaat (J.C. van der Merwe), Visuele verkondiging (W.C. Kloppers), Kerkreg (B.J. van Wyk), Gemeentebou en kerkbestuur (J.C. van der Merwe) Klaspreke (T.F.J. Dreyer).

    Daarby kom vier modules vir addisionele Praktykvorming (Psigiatriese pastoraat, Bejaardesorg, Sterwensbegeleiding en Rousmart, HIV of Vigs begeleiding). Dan volg drie maande praktiese werk in gemeentes en 'n afrondingskursus in intra- en interpersoonlike vaardighede (P.J. Botha), pastorale intervensie (J.C. van der Merwe), samestelling en bevoegdheid van die amptelike vergaderings (W.A. Dreyer), diakonaat (W.J. Coetzer), NHSV (M. Fourie) en Finansiële Bestuur (Administrateur).

    Die jaarverslae van die Hervormde Teologiese Studies, die Fakulteit en die Teologiese Opleidingsfonds is behandel. Die Kuratorium het positief kennis geneem van 'n verslag van die Werkgroep Kerkgeskiedenis en Kerkreg waarin aanbeveel word dat daar 'n permanent-deeltydse dosent aangestel word.

    07–09 April 2006

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het 'n colloquium oor strategiese beplanning gelei op Hammanskraal. Sowat 120 lidmate en ampsdraers was daarby betrokke. Die finale dokument is deur die Kommissie goedgekeur in sy vergadering van 09–10 Junie 2005 en die rade van die Kerk is versoek om teen November 2005 doelwitte voor te lê vir realistiese uitkomste vir die res van die termyn. In Die Hervormer van 01 Junie 2006 verskyn die gesamentlike verklaring van voorneme, 'n kort berig oor 'n onderhoud met die voorsitter, professor J. Buitendag, kommentaar van deelnemers en 'n redaksionele kommentaar.

    Professor Buitendag het onder andere die volgende inligting verskaf:

    Ten einde die nuwe denke oor die kerk en die roeping en identiteit van die kerk te fasiliteer en te stimuleer, is die afgevaardigdes in sewe kleingroepe ingedeel wat die volgende onderwerpe in diepte bespreek het: roeping, kerk, wêreld, ander kerke, die HKSA, belydenis en teologie...Van die sake wat uit die besprekings na vore gekom het, en wat in die verklaring van voorneme prominent is, is dat gekyk moet word na maniere waarop die NHKA en die HKSA nader aan mekaar kan beweeg; dat die Hervormde Kerk meer aktief ekumenies moet uitreik na ander kerke; dat die diversiteit van kerke, gemeentes en individue binne die totale kerk van Christus nie 'n bedreiging is nie maar ook nie toegelaat mag word om die evangeliese eis van eenheid te laat ontspoor nie; en dat die kerk daadwerklik betrokke moet wees daarby om die maatskaplike nood van mense binne en buite die kerk te help verlig.

    Die redakteur, doktor D.J.C. van Wyk jnr, sluit sy kommentaar met die volgende woorde af:

    As daar een ding is wat die colloquium hopelik in die kerk wakker gemaak het, is dit entoesiasme. Die tyd vir saam praat is reeds hier. Dit sal nie help om negatief of agterdogtig te wees nie. Dit sal wel help om die moeilike kwessies van kerkwees wat op die tafel gekom het in die oë te kyk en die uitdaging te aanvaar om dit te hanteer. Die tyd gaan al ons krag en energie vra om kerk te wees. Dat aanpassing ten opsigte van die tradisionele modelle van kerkwees nodig is, is duidelik. Dat ons identiteit as Hervormde Kerk met ons eiesoortige spiritualiteit ononderhandelbaar is, is net so duidelik. Die groot uitdaging gaan wees dat almal in die kerk, ongeag die onderlinge geskille, saam op die pad bly.

    Dit sou gou blyk dat die Kerk as geheel en veral bepaalde groeperinge in die kerk, byvoorbaat enige sprake van vernuwing met agterdog en wantroue bejeën. Dit is verhoog deur die besoek van 'n afvaardiging van die Wêreldbond van Hervormde Kerke van 05–08 Junie 2006 en die beriggewing daaroor in die dagpers. Die verdagmaking van die colloquium en die verklaring van voorneme is onder andere geloods deur 'n lang skrywe van die jong predikant P.R. Schoeman in Die Hervormer van 01 Julie 2006 en voortgesit deur die publikasie van 'n verklaring van die H.C.M. Fourie Stigting in Die Hervormer van 01 Augustus 2006, wat afsluit met hierdie woorde:

    Die nasionale colloquium... se grondslag en modus operandi is strydig met ons Bybels-Reformatoriese Teologie en ons kerkordelike bestel. Die uitkomste van die colloquium, soos in die Gesamentlike Verklaring van Voorneme vervat, is vir ons in geheel onaanvaarbaar. [Nota: Bybels-Reformatories in hierdie idioom is blykbaar gelyk aan die selfbegrip van die H.C.M. Fourie Stigting. Uittreksel uit die verklaring van die H.C.M. Fourie Stigting in Die Hervormer]

    In Die Hervormer van 01 November 2006 lewer doktor J.M.G. Storm op versoek van die redakteur kommentaar op die Colloquium se stelling dat die Hervormde Kerk 'n belydende kerk en nie 'n belydeniskerk is nie.

    01 Augustus 2006

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat doktor E. van Eck met ingang 01 Julie aangestel is as mede-professor in Nuwe Testamentiese Wetenskap en dat professor P.A. Geyser intussen die klasse waargeneem het. Professor P.M. Venter het 'n langdienstoekenning ontvang.

    22 Augustus 2006

    Die Kuratorium het vir professor Van Eck as adviserende lid verwelkom en vir doktor J. Otto gelukgewens met sy opname in die galery van sportsterre van die Universiteit van Pretoria.

    21 November 2006

    Die Kuratorium het kennis geneem dat doktor Adriaan Neele van die gemeente Eben Haezer deeltydse dosent in die Departement Kerkgeskiedenis is. Kennis is verder geneem van die voorgestelde Cules Boshoff Erepenning, in gestel ter gedagtenis van proponent H.J. Boshoff wat in 'n vliegongeluk oorlede is pas nadat hy 'n beroep na Bronkhorstspruit aanvaar het. Die reglement vermeld dat die toekenning bestaan uit 'n gegraveerde penning, 'n oorkonde en R1000 kontant, en wat toegeken word aan 'n finalejaar student wat op akademiese gebied uitnemend presteer het, hom as leier in die studentelewe onderskei het en binne Van der Hoff Teologiese Huis aktief was Kennis is geneem dat by die legitimasieplegtigheid op 06 Maart 2008 toekennings gemaak is van die Kuratoriumprys (gedeel), die B. Gemserprys, die W.P. Brouwerprys, die P.J. Mullerprysa, die J.I. de Wetprys, die H.P. Wolmaransprys en die Greyvensteinprys aan Tanya van Wyk, die Kuratoriumprys (gedeel) en die Cules Boshoff Erepenning aan Larry van der Walt. Voorbereiding is gedoen vir die werkwinkel oor die toekoms van die Fakulteit op 29 Mei 2008.

     

    2007

    07 Maart 2007

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het kennis geneem dat doktor G.C. Velthuysen oorlede is en dat professor J. Buitendag 'n groot rugoperasie moet ondergaan. Die Kommissie het verlof verleen aan student H. Breytenbach om voltyds verder te studeer in die buiteland. Tydens die legitimasieplegtigheid het doktor F.J. Boshoff die Cules Boshoffprys ter herinnering aan sy seun proponent H.J. Boshoff bekendgestel. Daar is bekend gemaak dat Mari du Plessis-Manders al die pryse ontvang behalwe die A.D. Pont- en Cules Boshoffpryse waarvoor nie toekennings gemaak is nie. Studente M.S. Venter en W. Dykema het in Wenen elk twee semestermodules afgehandel. 'n Rentevrye lening van R10 000 is toegestaan aan D. Labuschagne vir studie in Wenen.

    13 Maart 2007

    Die Kuratorium het kennis geneem dat professor P.M. Venter 'n operasie ondergaan het en dat hy aan sy veertiende Argus-fietswedren deelgeneem het. Die vergadering het bekragtig dat 'n student via 'n Diploma in Teologie uiteindelik 'n MDiv graad kan behaal. Kennis is geneem van die verslae van die Fakulteit, HTK, Hervormde Teologiese Studies, die Kuratorium en Teologiese Opleidingsfonds aan die komende Algemene Kerkvergadering. Besluit is dat aan elke dosent R10 000 per jaar beskikbaar gestel word vir die begeleiding van opkomende akademici van die Kerk.

    29 Mei 2007

    Die Kuratorium neem kennis dat die herkurrikulering van die profiel van die teologiese student saam met die Kuratorium van die Nederduitse Gereformeerde Kerk afgehandel is. Vir Kerkgeskiedenis en Kerkreg is besluit dat 'n termynpos tot 2009 onderhandel word en dat R120 000 aan die pos gekoppel word. Die benoeming van doktor J.P. Labuschagne vir die pos is aanvaar. Bedoeling was dat die pos uitgebou sou word en dat die Kerk eventueeel sou instaan vir die volle koste van die pos. Studente kon dus met nagraadse studie in Kerkgeskiedenis en Kerkreg begin onder leiding van 'n Hervormde dosent. Op aanbeveling van die Evaluasiekomitee is vir 2007 vyf studente en vir 2008 vier studente as studente van die Kerk erken met beurslenings. Student Aart van der Elst wat ingeskryf is vir die DipTeol is ook erken, en 'n rentevrye lening is aan hom toegeken.

    06–07 Junie 2007

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het besluit om die Erepenning vir besondere dienslewering toe te ken aan dominee C.L. Badenhorst.

    28 Augustus 2007

    Die Kuratorium het kennis geneem dat die gesondheidstoestand van professor Van Aarde steeds nie stabiel is nie, en dat student E. le Roux verkies is as lid van die Studenteraad en benoem is vir 'n Rhodesbeurs.

    05–06 September 2007

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het besluit om die benoeming van doktor Labuschagne as dosent in Kerkgeskiedenis goed te keur en ook om sy aansoek om opheffing van sy emeritaat goed te keur.

    Jacobus Petrus Labuschagne is gebore op 04 Januarie 1945 in Johannesburg. Sy ouers was Petrus Jacob Labuschagne en Clara Dina Magdalena Swart. Hy besoek die Laerskool Gustav Preller in Discovery en matrikuleer in 1962 aan die Florida Hoërskool. Hy het die BA, BD studie voltooi in 1968, is georden op 18 Januarie 1969 en bedien agtereenvolgens die gemeentes Kroonstad, Leeudoringstad en Alberton-Wes. In 1979 ontvang hy die graad BA Hon in Wysbegeerte met lof. In die jare 1980–1986 is hy sekretaris in kerkverband by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Hy sluit sy loopbaan by die Bybelgenootskap af as streeksekretaris in die Johannesburg-streek, en na 'n tydperk van verdere studie aanvaar hy in 1987 'n beroep na Rustenburg. In 1988 promoveer hy met die proefskrif Die historiese konteks van 20ste eeuse samelewingsteologieë onder leiding van professor A.D. Pont. Vanaf 1989 is hy tydelik-deeltydse dosent in die Departement Kerkgeskiedenis en Kerkreg. In 1997 word hy benoem as lid van die Kuratorium en in 1998 kry hy opdrag om die Teologiese Opelidingsfonds te vestig en uit te bou. Hy aanvaar vervroegde emeritaat en vestig hom in Garsfontein, Pretoria. Sy aanstelling was 'n kontrakaanstelling as tydelik-deeltydse Senior Lektor vir die tydperk 15 September 2007 tot 31 Desember 2009.

    23 September 2007

    Die 68ste Algemene Kerkvergadering het sitting geneem. Die uittredende voorsitter, professor J. Buitendag, het die openingsrede gehou na aanleiding van 2 Korintieërs 10:3–4, 17–18. As tema het hy aangekondig: 'Oor maskers, identiteit en die roeping van die kerk'. Hy het afgesluit:

    Die Hervormde Kerk staan in hierdie tyd voor 'n uitdaging soos waarskynlik nog nooit tevore in ons geskiedenis nie. In haas al ons debatte die afgelope paar jaar en in soveel beskrywingspunte gaan dit ten diepste eintlik maar om die een saak, te wete ons verstaan van kerkwees. Die Hervormde Kerk se ekklesiologie is duidelik in die brandpunt.

    • Ons kan die 'eenheid' van die kerk nie verstaan asof dit net agter ons is, afgehandel en onsigbaar is nie. Eenheid is nie staties nie. Dit gebeur. En so word dit sigbaar. Meer as dit. Dit móét ook gbeur. Dit is 'n gegewe, maar tegelyk ook 'n eis.
    • Ons kan die 'heiligheid' van die kerk nie verstaan asof dit die kerk afsonder en isoleer nie. Die heiligheid van die kerk laat ons stry teen die sonde en verdeeldheid van hierdie wêreld, laat ons bekering verkondig en laat ons uitstrek na wat voor is. Ons aanvaar die roeping om alleen die heiligheid van Gód te laat blyk en bid dat die gemarginaliseerdes van die samelewing in die kerk kan tuiskom...
    • Ons kan die 'algemeenheid' van die kerk nie verstaan asof dit niks met die eenheid van die kerk te doen het nie. Die algemeenheid van die kerk voorkom selfgenoegsaamheid, oorstyg wêreldse grense en bind die plaaslike kerk aan die kerk van alle eeue. Dit maak die plaaslike kerk sensitief teenoor ander kerke van ander plekke en ander tye.
    • Ons kan die 'apostolisiteit' van die kerk nie anders verstaan asof dit maar net 'n sydelingse saak is wat die kerk verrig nie. Die sending van die kerk setel in die wese van God self en soos die Vader die Seun gestuur het, so het die Seun sy dissipels gestuur en word ons ook vandag in die wêreld gestuur... Omdat die kerk op die verkondiging van profete en apostels gebou is, moet ons hierdie taak voortsit deur die evangelie publiek te maak en kerke te laat ontluik...
    Christus is die gesig van God. En die opdrag van die kerk is nou om 'hierdie gesig' aan die wêreld te wys ...
    Soos wat 'n masker die aangesig van God kan verberg, kan dit natuurlik ook die werklike gesig van my medemens wegsteek.... Wanneer ons van aangesig tot aangesig met 'n ander verkeer... verdwyn ons selfheheptheid en agterdog en in die gesig van die ander sien ons die spore van die transendente. Dit is hier waar ons roeping lê.

    Die H.C.M. Fourie Erepenning is oorhandig aan proffesore T.F.J. Dreyer en A.G. van Aarde. Die voorsitter van die Kuratorium, doktor D.J.C. van Wyk jnr, het verwys na professor Dreyer se akademiese loopbaan as hoogleraar in die Praktiese Teologie en hoof van die HTK, sy groot invloed op die vorming van predikante en sy leierskap in die Kerk.

    Wat professor Van Aarde betref, het doktor Van Wyk verwys na professor Van Aarde se skitterende akademiese loopbaan as student, dosent en navorser, sy internasionale bekendheid, sy uitbouing van die Hervormde Teologiese Studies tot een van die beste internasionale vaktydskrifte, sy diens en kritiese solidariteit met die Kerk.

    Groeteboodskappe is oorgedra deur verteenwoordigers van die Maranatha Reformed Church of Christ (voorheen die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika), die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, en die Nederduitse Gereformeerde Kerk, dominee G. van Schie van die Christian Reformed Churches in Australia, en doktor A. Boesak van die WARC.

    'n Mosie van roubeklag is aanvaar met die afsterwe van 13 predikante sinds die vorige vergadering. Gelukwense is uitgespreek teenoor professor J. Buitendag wat benoem is as adjunk-dekaan van die Fakulteit Teologie en as lid van die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, doktor J.P. Labuschagne wat benoem is as deeltydse lektor in Kerkgeskiedenis en professor E. van Eck wat benoem is as mede-professor in Nuwe Testamentiese Wetenskap.

    Akademiese prestasie van predikante is vermeld, wo 11 MA Teologie, 7 MTh, 1 MA Diakonologie, 1 MA Lettere en Wysbegeerte, 4 PhD, 2 DD, 1 DMus, 1 DTheol, 1 DLitt Grieks, en 1 MBA.

    Na 'n herstemming tussen professor T.F.J. Dreyer en doktor J.M.G. Storm is professor Dreyer as voorsitter verkies. Na 'n herstemming tussen doktor J.M.G. Storm, professor E. van Eck en dominee N.J.S. Steenekamp, en 'n tweede herstemming tuusen Storm en Van Eck, is doktor J.M.G. Storm as skriba verkies. Na 'n herstemming tussen dominee A.P.J. Beukes, professor E. van Eck en doktor D.J.C. van Wyk jnr, en 'n tweede herstemming tussen Beukes en Van Wyk, is doktor D.J.C. van Wyk as visevoorsitter verkies. As vise-skriba is professor E. van Eck verkies. Dominees A.P.J. Beukes en A.C. Kuyper is as predikantlede van die Kommissie verkies.

    Na lang en heftige bespreking oor ekumeniese aangeleenthede is besluit om deelname aan die werksaamhede van die Tussenkerklike Raad en die Konvent van Reformatoriese Kerke voort te sit, waarnemerstatus by die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke op te neem, wye en omvattende studie te doen oor die standpunte wat die Kerk in die verlede oor ekumene en lidmaatskap van ekumeniese organisasies ingeneem het en dit nuut te evalueer, voort te gaan met die gesprek met die WARC, gemeentes aangemoedig om in vennootskap met gemeentes van die MRCC missionêr uit te reik na die wêreld, en die Kommissie opdrag gegee om met die proses van gestruktureerde samewerking met die MRCC voor te gaan. Teen die laasgenoemde het doktor J.J. Steenkamp en dominee S. Visser hulle teenstem laat aanteken.

    Wat die belydenis betref, is onder andere besluit dat die studie en gesprek oor die belydenis van Jesus se opstanding voortgesit word, 'n eietydse vertaling van die Belydenisskrifte voortgesit word saam met die TKR, die studie oor die descensus in die Apostolicum en Athanasianum voortgesit word, en 'n Komitee vir Kerk en Teologie tot stand gebring word. 'n Hersiene Diensboek is aanvaar. Wisselformuliere vir Nagmaal, Doop, Bevestiging van ouderlinge en diakens, Huwelik en Aflegging van belydenis van geloof is aanvaar.

    Na aanleiding van 'n beskrywingspunt van die Ring van Swellendam oor die werksaamhede van die H.C.M. Fourie-stigting, is besluit:

    In die Kerk word steeds ruimte geskep vir verskillende standpunte. Daar is egter nie binne die Kerk ruimte vir modaliteite nie.
    Die vergadering neem kennis van die kommer van lede van die HCM Fourie Stigting. Die Stigting word versoek om ook kennis te neem van die kommer van die vergadering oor die werksaamhede van die Stigting.
    Aangesien die Kerk lankal reeds afskeid geneem het van rasmatigheid, kan geen rasseskeiding gepropageer word deur ampsdraers en lidmate van die Kerk, waarby die Kerk betrek word nie.
    Die HCM Fourie Stigting word dringend versoek om te ontbind.

    Die vergadering het na inligting oor moontlike scenarios oor teologiese opleiding besluit om die status quo te handhaaf, naamlik opleiding aan die Universiteit van Pretoria met die HTK wat spesifieke sake hanteer. Verslae van die Fakulteit, HTK en Hervormde Teologiese Studies en die Teologiese Opleidingsfonds is behandel en daar is kennis geneem dat dit voorspoedig gaan. 'n Begroting van R2 967 077 vir Teologiese Opleiding is aanvaar.

    As lede van die Kuratorium is verkies doktore J. Otto, G.C. Lindeque, B.J. van Wyk, dominees L. Geel, W.J.J. Kok, proffesore A.P.B. Breytenbach en P.A. Geyser. Tydens die vergadering is as voorsitter doktor J. Otto, as vise-voorsitter doktor G.C. Lindeque en as dagbestuurslede dominee L. Geel en doktor B.J. van Wyk verkies.

    Op 27 September 2007 is tydens die aandsitting van die Algemene Kerkvergadering die Toekenning vir Besondere Diens gemaak aan dominee C.L. Badenhorst vir sy verdienstelike werk ten opsigte van die Raad van Finansies, die Pensioenraad en die Sakebedrywe.

    Die vergadering het as Engelse vertaling van die naam van die Kerk aanvaar: Netherdutch Reformed Church in Africa.

    08–09 November 2007

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van dokumentasie oor 'n lastereis van professor A.D. Pont teen professor A.G. van Aarde.

     

    2008

    16 Januarie 2008

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verwys 'n beswaar van ouderling A.J.P. Burger teen professor Y. Dreyer in verband met 'n skrywe van haar in Beeld 26 November 2007 oor die Algemene Kerkvergadering se hantering van die gay vraagstuk, na die Ouderlingvergadering van die Nederlandssprekende Gemeente.

    03 Februarie 2008

    Die Afrikaanse Bybel vir Dowes word bekendgestel in die kerkgebou van die Nederduitse Gereformeerde gemeente Worcester De la Bat op die terrein van die Skool vir Dowes in Worcester, in 'n erediens waarin dominee S.W. Viljoen die verwelkoming en Skriflesing gedoen het en J.P. Oberholzer die prediking. Die Uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap, dominee Gerrtit Kritzinger het eksemplare oorhandig aan die vertalers en aan verteenwoordigers van gemeentes vir dowes. Die vertaling is afgehandel van 17 Januarie 1997 tot 08 September 2005. Vertalers was J.P. Oberholzer Ou Testament, met adviseur doktor C. van der Merwe van Stellenbosch, Nuwe Testament proffesore H.J.B. Combrink van Stellenbosch, H.C. van Zyl en F. Tolmie van Bloemfontein. Die dowetaalkundiges was doktor R. Hough, predikant van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente De la Bat vir Dowes in Bellville en mejuffrou Elmine Roux, wat haar hele loopbaan as onderwyseres in Afrikaans aan die Skool vir Dowes op Worcester deurgebring het. Die advies van dowe persone is ook telkens ingewin.

    08 Februarie 2008

    Die Universiteit van Pretoria vier sy eeufees met 'n akademiese prosessie, groeteboodskappe, musiek en 'n onthaal. Hervormde Teologiese Studies Jaargang 64 aflewering 1 is 'n feesbundel wat die honderdjarige bestaan van die Universiteit vier. Dit is opgedra aan die vise-rektor gemoeid met Teologie, professor C.R. de Beer. Die huldigingsvoorwoord is geskryf deur die Adjunk-dekaan, professor J. Buitendag, en die gelukwense van die Kerk deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, professor T.F.J. Dreyer. Geleentheidsartikels is ''n Oorsig oor die geskiedenis en beplanning van die tydskrifte Hervormde Teologiese Studies en Verbum et Ecclesia' deur proffesore A.G. van Aarde en D.J. Human, 'The contribution of the Netherdutch Reformed Church of Africa (NHKA) to theological training at the TUC', deur professor P.J. van der Merwe, 'Early Presbyterian influences at the University of Pretoria' deur professor G.A. Duncan, en 'Voices carry: An archaeology of the Hervormd approach' deur doktor Johan Beukes. Die laasgenoemde artikel gee 'n indringende ontleding van die teologiese benaderings en aksente in die Nederduitsch Hervormde Kerk.

    26 Februarie 2008

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat A.G. van Aarde aangestel is as honorêre professor in die Fakulteit Teologie en dat hy die Pieter van Drimmelenprys van die Suid-Afrikaanse Akademie sal ontvang. Kennis is ook geneem dat die foto's van vroeëre dosente verklein is en aangebring is in die Van Selms Leeskamer. Besluit is dat die feesbundel van Hervormde Teologiese Studies aan professor C.R. de Beer opgedra en op 09 Junie 2008 aan hom oorhandig sal word.

    06–07 Maart 2008

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het sekunduslede vir die Kuratorium benoem op voorstel van die Kuratorium. Benoem is professor A.G. van Aarde, dominees S. Hoffman snr, J.F. van der Merwe, G. van R Els, ouderling B. Bierman, doktore G.M.J. van Wyk, H.J. Botes en C.J. Beukes. By die legitimasieplegtigheid is kennis geneem dat die Kuratoriumprys toegeken is aan proponent C.P. van der Walt en al die ander pryse aan Tanya van Wyk. Hulle het ook altwee die MDiv graad met lof ontvang.

    Die Kommissie het as onderhandelingspan met die Universiteit benoem professor T.F.J. Dreyer, doktor D.J.C. van Wyk jnr, doktor J. Otto, professore J. Buitendag en E. van Eck.

    Die Kommissie het ook kennis geneem dat dominee P.J. van der Merwe 'n lastereis teen doktor J.C. van der Merwe wil instel en het besluit:

    Die Kommissie neem met leedwese en hartseer kennis dat predikante van die Kerk lasteraksies teen kollegas beoog deur hulle tot die gereg te wend om uitsluitsel te bereik en in die proses die kerklike weë te ignorer.

    11 Maart 2008

    Die Kuratorium het kennis geneem dat professor A.G. van Aarde aangestel is as honorêre professor en hy is uitgenooi om vergaderings by te woon. Besluit is om doktor Paul de Beer te versoek om die geskiedenis van die Kuratorium, wat in 2009 honderd jaar sal bestaan, te boekstaaf. Kennis is geneem van die studieresultate van Zelda Kotze en Dirk Labuschagne in Wenen, en dat Elritia le Roux en Lisa-Mari Swanepoel gekeur is om na Wenen te gaan. Kennis is geneem dat by die legitimasieplegtigheid op 06 Maart 2008 toekennings gemaak is van die Kuratoriumprys (gedeel), die B. Gemserprys, die W.P. Brouwerprys, die P.J. Mullerprysa, die J.I. de Wetprys, die H.P. Wolmaransprys en die Greyvensteinprys aan Tanya van Wyk, die Kuratoriumprys (gedeel) en die Cules Boshoff Erepenning aan Larry van der Walt. Voorbereiding is gedoen vir die werkwinkel oor die toekoms van die Fakulteit op 29 Mei 2008.

    26 Maart 2008

    As deel van sy eeufeesviering vereer die Universiteit van Pretoria, 100 van die grootste presteerders op akademiese gebied wat aan die Universiteit van Pretoria verbonde was. Onder hulle is professore B. Gemser, A. van Selms en J.A. Loader. 'Afgesien van oorspronklike navorsing en publikasies van elke kandidaat, is ook gelet op die persoon se wetenskaplike impak en internasionale aansien.' Die Hervormer van Mei 2008 berig: 'Die Kerk is trots op professor Loader en sy twee voorgangers – Aldrie Hebraici en Ou-Testamentici en boonop verteenwoordigers van die sogenaamde Etiese Teologie ...' Op dieselfde bladsy berig Die Hervormer dat professor A.G. van Aarde dié Pieter van Drimmelenmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sal ontvang en word daarby vermeld dat hy reeds by vyf geleenthede deur die Universiteit as uitnemende presteerder bekroon is.

    20 Mei 2008

    Die Kuratorium het kennis geneem dat professor P.J. van der Merwe behandeling ontvang het vir sy hartare. Doktor B.J. van Wyk is benoem as sekretaris van die Teologiese Opleidingsfonds Uit jaarverslag van die Fonds blyk dat meer as R3 miljoen beskikbaar is. Op aanbeveling van die Evaluasiekomitee is 16 matrikulante en nege BTh-graad studente gekeur met beurslenings.

    05–06 Junie 2008

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit dat hy die saak tussen A.D. Pont en A.G. van Aarde as afgehandel beskou en versoek professor T.F.J. Dreyer en doktor J.M.G. Storm om op dieselfde wyse as bemiddelaars op te tree in die saak tussen dominee P.J. van der Merwe en doktor J.C. van der Merwe.

    15 Julie 2008

    Die Dosentevergadering neem kennis van aantygings van doktor J.H. Breytenbach in 'n memorandum oor Skrifinterpretasie en in die motivering van 'n beskrywingspunt van die NHSV Premiermyn vir die NHSV kongres. Hy besluit om teenoor die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering sy misnoeë hieroor uit te spreek. Die vergadering het ook aandag gegee aan dokumente wat na hom verwys is en hy het sy bereidwilligheid verklaar om met doktor D.J.C. van Wyk snr in gesprek te tree oor 'sake waaroor daar onrus in die kerk bestaan.'

    19 Augustus 2008

    Die Kuratorium het kennis geneem dat J.P. Oberholzer aangewys is as projekleier in verband met die eeufees van die Kuratorium (nadat doktor Paul de Beer nie die opdrag wou aanvaar nie). Dit is besluit dat dit verkieslik 'n gedenkalbum sal wees, dat die dagbestuur die saak verder sal bestuur en dat die span uitgebrei en kundiges betrek sal word. Na aanleiding van die verslag van die Evalueringskomitee se werkwinkel op 30 Julie 2008 is onder andere besluit dat aandag gegee moet word aan die verskynsel van agressie by studente. Verslag is steeds ontvang van die kerklike meelewing van teologiese studente en van voogdosente

    29–31 Augustus 2008

    Die 75ste bestaansjaar van die Bybel in Afrikaans is in Bloemfontein gevier by wyse van 'n simposium oor Bybelvertaling, 'n feesdinee en 'n erediens die Sondag gelei deur die uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, dominee Gerrit Kritzinger. Twee lede van die Eindredaksie van die 1983-vertaling, J.L. Helberg en J.P. Oberholzer, was teenwoordig.

    11–12 September 2008

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit na aanleiding van die skrywe van die Dosentevergadering:

    Die Kommissie sal so ver moontlik poog om verdagmaking teen die teologiese fakulteit teen te werk. Die saak is onder meer reeds deur die voorsitter met die NHSV opgeneem. Die aangeleentheid word by die beplande opedag as agendapunt opgeneem vir bespreking. Die Dosentevergadering word versoek om die saak na die Fakulteitsraad te verwys vir bespreking.

    Wat betref die skrywe van doktor D.J.C. van Wyk snr het die Kommissie versoek dat die Dosentevergadering met hom daaroor in gesprek tree.

    Die Kommissie het verder besluit om die Redaksie van Hervormde Teologiese Studies geluk te wens met die akkreditasie van die tydskrif as 'n ISI (International Scientific Index) publikasie.

    06 Oktober 2008

    Die Hervormde Dosentevergadering neem kennis dat professor J. Buitendag aangestel is as hoof van die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek.

    18 November 2008

    Die Kuratorium het professor L. van den Brom verwelkom, professor in Dogmatiek en Christelike Etiek in Utrecht. Professor J. Buitendag is gelukgewens met sy aanstelling as departementshoof en doktor G.C. Lindeque met sy aanstelling as redakteur van Die Hervormer. Kennis is geneem van die verslag oor die HTK vir die tydperk 01 Maart 2007 tot 31 September 2008 en van enkele veranderings in personeel en die inhoud. Uit die verslag van Hervormde Teologiese Studies het geblyk dat van 2007 af die tydskrif deur International Scientific Information geakkrediteer is en dat gevolglik alle artikels wat van 2007 af gepubliseer word, geabstraheer en geïndekseer word deur Thomson Reuters. Kontrakte is gesluit vir die elektroniese beskikbaarstelling van 'n erediens wat deur hom gelei is, in Pretoria-Oos. Die akte is oorhandig deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, professor T.F.J. Dreyer. Professor Geyser het na sewejarige diens produksiekoste en instandhouding van die infrastruktuur. Die vergadering het kennis geneem dat vanaf 2009 Hervormde Teologiese Studies elektronies aanlyn sal verskyn.

     

    2009

    01 Februarie 2009

    Professor P.A. Geyser ontvang kerklike emeritaat by geleentheid van 'n erediens wat deur hom gelei is, in Pretoria-Oos. Die akte is oorhandig deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, professor T.F.J. Dreyer. Professor Geyser het na sewejarige diens in die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap ook nog vyf jaar lank gedien in die Departement Bybel- en Godsdienskunde. Hy het sy herdersloopbaan afgesluit met twee jaar deeltydse bediening in Pretoria-Oos en het daarna die gemeente bly versorg totdat 'n opvolger vir doktor Hennie van Deventer, wat emeritaat aanvaar het, bevestig is.

    Maart 2009

    Konteks dra 'n bylaag oor 'Die Kuratorium 1909–2009 eenhonderd jaar' met boodskappe van die voorsitters van die Algemene Kerkvergadering en die Kuratorium, artikels oor 'Die Kuratorium', 'Die debat in 1909', 'Van Kweekskool tot Fakulteit', 'Die voorkeur: Universiteit of kweekskool', asook foto's.

    02 Maart 2009

    In dieselfde jaar waarin die honderdjarige bestaan van die Kuratorium herdenk word, het die tydskrif van die Fakulteit, Hervormde Teologiese Studies, nou HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 'n aanlyn tydskrif geword (sien http://www.hts.org.za). Hierdie tydskrif het, hoofsaaklik deur die bestuur en dryfkrag van professor A.G. van Aarde, gevestig geraak as 'n wêreldbekende en gerekende teologiese tydskrif met 'n aansienlike getal buitelandse medewerkers. Dit was egter die fakulteitslede, voltyds sowel as deeltyds, wat die meeste gedoen het om gereelde verskyning moontlik te maak, van hierdie fakulteitslede het artikels gelewer lank voordat hulle tot die Fakulteit toegetree het.

    Fakulteitslede en hul bydraes tot die tydskrif word as volg opgesom:

    11 jaargange: Y. Dreyer (30 bydraes), M.J. du P. Beukes (22 bydraes), D.J.C. van Wyk (19 bydraes), J.A. Loader (18 bydraes), H.G. van der Westhuizen (18 bydraes), E. van Eck (18 bydraes), P.S. Dreyer (17 bydraes), P.J.T. Koekemoer (16 bydraes), J.J. Engelbrecht (14 bydraes), P.A. Geyser (13 bydraes), L.C. Bezuidenhout (11 bydraes), G.C. Velthuysen (11 bydraes)
    16 jaargange: Van Selms (26 bydraes), A.S. Geyser (19 bydraes), E.S. Mulder (9 bydraes)
    17 jaargange: S.P. Engelbrecht (33 bydraes), Gemser (26 bydraes), J.I. de Wet (17 bydraes)
    21 jaargange: A.P.B. Breytenbach (22 bydraes)
    23 jaargange: J. Buitendag (19 bydraes)
    25 jaargange: P.J. van der Merwe (17 bydraes), S.P.J.J. van Rensburg (7 bydraes), T.F.J. Dreyer (25 bydraes)
    31 jaargange: A.G. van Aarde (78 bydraes)
    34 jaargange: J.H. Koekemoer (23 bydraes)
    38 jaargange: J.P. Oberholzer (38 bydraes)
    40 jaargange: S.J. Botha (31 bydraes)
    41 jaargange: B.J. Engelbrecht (34 bydraes)
    47 jaargange: A.D. Pont (75 bydraes)
    54 jaargange: F.J. van Zyl (25 bydraes)

    Nog bydraes het gekom van Greyvenstein (3 bydraes), Rautenbach (3 bydraes), en H.P. Wolmarans (4 bydraes). Elk van hierdie bydraes het gehelp om die tydskrif in stand te hou.

    Wat die verskillende departemente betref, was die bydrae van die kant van Ou Testamentiese Wetenskap die grootste, naamlik 193, gevolg deur Kerkgeskiedenis 171, Nuwe Testamentiese Wetenskap 170, Dogmatiek en Christelike Etiek 116, Praktiese Teologie 103 en Godsdiens- en Sendingwetenskap 78.

    Deur die jare het nuwe onderwerpe bygekom en uitdrukkings soos Eksistensieteologie, Swart Teologie, Nuwe Teologie, Postliberale teologie, Postmodernisme, Publieke teologie, Dekonstruksie, Ekologie, Aktante, Belangeruimte, Intertekstualiteit, Narratief-kritiese eksegese, Oraliteit, Sosiaal-wetenskaplike kritiese eksegese, Sosiaal-retoriese interpretasie, Vertelde ruimte en koddige samestellings soos Andogogie, Heteronormatiwiteit, Homofobie en Sarkofobie het hulle verskyning gemaak. Onder die mees behandelde temas in die tydskrif is Prediking, Hermeneutiek en Kanon. Van besondere waarde is die biografiese materiaal wat van die eerste aflewering af plek gekry het en 'n waardevolle naslaanbron geword het.

    Die Hervormde Dosentevergadering het op 02 Maart 2009 vir professor Y. Dreyer aangewys as assosiaat-redakteur, vir professor G. Duncan op die kernredaksie benoem en vier internasionale akademici as redaksielede benoem.

    05 Mei 2009

    'n Oop gesprek, gereël deur die Raad vir Pastoraat en Presbiteraat en die HTK, vind plaas in die kerkgebou van Montana. Doktor D.J.C. van Wyk snr het 'n inleiding gelewer oor skuldbelydenis ten opsigte van apartheid, professor P.A. Geyser oor kerkeenheid en die verhouding met die MRCC en J.P. Oberholzer oor die volkskerk-gedagte. Die Suid-Afrikaanse koerant, Beeld het 'n berig gehad oor die toesprake van Van Wyk en Geyser, maar dié van Oberholzer 'verswyg'. [Afgesien hiervan, was die dag vir skrywer hiervan 'n groot teleurstelling wat betref die kleingroepbespreking oor volkskerk. Dit was pynlik om 'n ouderling te hoor verwys na die bepaling in Deuteronomiun 23:2 soos dit voorkom in die 1933–1953 vertaling, en 'n ander ouderling na Matteus 15:24 as regverdiging van die volkskerkgedagte, en dan ook nog 'n jong predikant wat aangevoer het dat in Handelinge 2:5–11 na talle verskillende volke verwys word. Dit het geïllustreer dat misbruik van die Bybel steeds 'n skrikwekkende werklikheid is en bowendien dat die volkskerk in bepaalde kerklike kringe bloot maar 'n vervanging van art III is, verstaan as 'n uitsluit-artikel]

    08 Julie 2009

    Die nuutste ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria word geteken deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, professor T.F.J. Dreyer en die viserektor van die Universiteit, professor C.R. de Beer. Die 'migrasietydperk' was verby en hierdie ooreenkoms vertoon dan ook aanmerklike verskille met die voriges. Die belangrikste daarvan is die volgende:

    Die kerntaak van die Fakulteit is die beoefening van die teologiese wetenskap.
    Die konteks waarin die Fakulteit sy kerntaak uitvoer, is die strategiese plan van die Universiteit en die samewerkingsraamwerk geskep deur hierdie ooreenkoms en dié met ander kerklike vennote.
    Die Fakulteit is veelkerklik...
    Die Fakulteit bedryf tans 'n interdissiplinêre program in Godsdiensstudies (Bybel- en Godsdienskunde)...
    Kerkeie programme, waarby voortgesette kerklike opleiding ingesluit is, vorm nie deel van die formele akadmiese program van die Fakulteit nie. Die Kerk onderhandel 'n ooreenkoms met die Universiteit om 'n institusionele struktuur aan die Universiteit te vestig, wat op eie koste die kerkeie program behartig. Dit kan ook dien ter ondersteuning en aanvulling van die progamme van die Fakulteit.
    Die Dekaan en die Adjunkdekaan(e) van die Fakulteit word ingevolge die toepaslike reglement van die Universiteit van Pretoria aangewys, met dien verstande dat lidmaatskap en legitimasie van 'n kerklike vennoot nie as vereiste vir die aanstelling gestel word nie en met dien verstande verder dat vermelde ampsdraers van verskillende kerklike groeperinge moet wees.
    Die hoof van die HTK of sy/haar verteenwoordiger, het sitting op die Algemene Dosenteraad.
    Die rol van die Ekumeniese Adviesraad is om die kerklike vennote, vanuit die onderskeie kerklike perspektiewe en met inagneming van die verwagtinge van die kerklike vennote ten aansien van predikantsopleiding, inspraak te gee in die samestelling en inhoud van formele opleidingsprogramme van die Fakulteit die ekumeniese gesprek tussen kerklike vennote onderling asook met ander rolspelers te fasiliteer ten einde wesenlike inhoud te gee aan die veelkerkliheid en toeganklikheid van die Fakulteit.

    Die werkswyse en funksionering van die Ekumeniese Adviesraad word deur die Adviesraad self bepaal ...
    Vyf poste word aan die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ingevolge hierdie ooreenkoms toegeken... met dien verstand dat die partye op grond van 'n wesenlike verandering van die studenteprofiel en/of hulpbronvoorsiening op 'n wysiging van die aantal toegekende poste kan ooreenkom.
    Die persoon wat deur die Kerk aangestel word as hoof van die HTK moet volgens die betrokke reglement van die Universiteit aanstelbaar wees op minstens die vlak van senior lektor. Buitengewone of honorêre aanstelling van die hoof van die HTK kan op versoek van die NHKA en met die ondersteuning van die Fakulteitskeurkomitee deur die Dekaan of Senior Aanstellingskomitee van die Universiteit, na gelang van die geval, gemaak word ingevolge die toepaslike reglement en aanstellingskriteria van die Universiteit.
    Die Universiteit kan geakkrediteerde personeel verbonde aan die kerkeie opleidingsinstansie aanstel om goedgekeurde kursusse in die akademiese program aan te bied, met dien verstande dat die aanstelling van sodanige peosneel slegs geskied met die goekeuring van die NHKA...
    Die partye kom ooreen dat ten opsigte van die poste (aan die Kerk toegeken) vir die duur van hierdie ooeenkoms, die Universiteit 70% en die Kerk 30% van die uitgawes daaraan verbonde sal finansier...
    Partye kom ooreen dat die voorbestaan van die vakwetenskaplike tydskrifte Hervormde Teologiese Studies en Verbum et Ecclesia in wedersydse belang is en die voortbestaan daarvan afhanklik is van die voortgesette finansiële ondersteuning van die Universiteit.
    Hierdie ooreenkoms tree in werking op 1 Januarie 2010 en kan beëindig word deur enige van die partye met drie jaar kennisgewing, met inagneming van bestaande dosente se diensooreenkomste met die Universiteit.

    09 September 2009

    Tydens die Predikantevergadering oorhandig doktor D.J.C. van Wyk jnr namens die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering 'n oorkonde aan J.P. Oberholzer waarin veral sy werk aan Bybelvertaling beklemtoon word. Tydens 'n middag-ete saam met die Kommissie die volgende dag het professor A.P.B. Breytenbach 'n oorsig gegee van Oberholzer se lewe en werk en het die Kommissie aan hom 'n geskenk oorhandig.

    11 September 2009

    Professor P.J. van der Merwe ontvang kerklike emeritaat by 'n aansit geleentheid (middag-ete) saam met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Die akte is op sy versoek aan hom oorhandig deur J.P. Oberholzer, wat 'n oorsig gegee het van sy diens in die Fakulteit en Kerk. Met sy toetrede as opvolger van professor F.J. van Zyl, het Van der Merwe na sy 7 jaar diens in die Fakulteit Teologie van UNISA kennis en vaardighede saamgebring wat die opleiding ten goede gekom het. Boonop het hy die Diploma in Tersiêre Onderwys verwerf en hom voluit op hoogte gebring van die terrein van voorgraadse en nagraadse onderrig. Hy het die leiding geneem met kurrikulumontwerp en die oorgang vanaf diktaatlesings na kernaantekeninge en studieleiding. As sekretaris van die Dosentevergadering van 1987 af het hy die ordelike en goeie voortgang van die werk in die Fakulteit begelei. Hy was 'n bedrewe akademikus en 'n kenner van sy vak, maar sy ingebore nederigheid het hy nooit verloor nie. Na 'n lewe as vrygesel staan hy nou op troue en wens die Kerk hom en sy aanstaande vrou geluk en seën toe.

    Oktober 2009

    In Konteks verskyn in die rubriek, In gesprek, 'n artikel 'Die essensie van professor Bart Oberholzer' deur Louise Geyser, asook 'Die vertaling van die Bybel vir Dowes' waarin opgeneem is 'n weergawe van professor F. Tolmie oor Oberholzer se aandeel aan die vertaling.

    05 November 2009

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering benoem doktor Jaco Beyers vir 'n permanent-voltydse aanstelling in Godsdiens- en Sendingwetenskap in die plek van professor P.J. van der Merwe. Doktor Beyers het om finansiële redes nie die pos aanvaar nie. Doktor W.A. Dreyer word benoem vir die deeltydse termynpos in Kerkgeskiedenis in die plek van doktor J.P. Labuschagne.

    Willem Akkerhuys Dreyer is gebore op 09 Oktober 1958 as jongste kind van professor Petrus Secundus Dreyer en Maria Levina Akkerhuys. Hy gaan skool in die Laerskool Pretoria-Oos en Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria en matrikuleer in 1976 met onderskeiding in Engels. Hy voltooi die BA-studie in 1979, tree in die huwelik met Gertruida Johanna Jacobs in 1980, voltooi BA Hons in Wysbegeerte in 1981 en BD in 1982. Hy het erekleure vir akademie en sport verwerf en hom besonderlik onderskei in die skermkuns. Hy ontvang 'n eretoekenning van die Internasionale Olimpiese Komitee ('For a remarkable contribution to the development of sport and olympism and the promotion of friendship and solidarity amongst peoples'), Hy word georden op 24 April 1983 waarna hy die gemeentes Magaliesmoot, Vliegepoort, Balfour en Horison bedien. Hy promoveer in 1995 met die proefskrif Kerk, Volk en Owerheid - 'n Hervormde Perspektief onder leiding van professor A.D. Pont, en ontvang die S.P. Engelbrecht Erepenning in 1996. Van 1995 tot 2001 is hy lid van die Kuratorium, waar hy van 1998 af as voorsitter van die Evaluasiekomitee gedien het. In November 1999 bring hy 'n besoek aan die Wereldraad van Kerke in Geneve. In die jare 1996–2001 is hy redakteur van Die Hervormer, en in 2001–2005 voorsitter van die werkgroep Kerkgeskiedenis. Van 1995 tot 2005 is hy deeltydse dosent in Kerkgeskiedenis, van 2001 af in die HTK en van 2005 af in die AIM. Hy neem in 2000 deel aan die Internasionale Kongres vir Geskiedenis in Oslo, die Werkwinkel van die Kerkhistoriese Instituut van Zurich, en die Kerkhistoriese Instituut van Geneve. In 2005 word hy benoem in die voltydse pos Sekretaris vir Apostolaat. In 2007 besoek hy ook die werkwinkel Kerk in Actie, en die werkwinkel Kraemer Sendinginstituut in Utrecht. Hy was vise-skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van 2001 tot 2003 en skriba van 2004 tot 2007. Teen die tyd van sy benoeming was hy 'n leidende en gerespekteerde dienaar van die Woord en akademikus met talle publikasies onder sy naam.

    06 November 2009

    Die Fakulteit neem afskeid van professor P.J. van der Merwe by 'n aansit geleentheid (middag-ete) in die ou Klubsaal, waar die adjunk-dekaan en dekaan die woord aanvoer. Die geleentheid is deur fakulteitslede, die professor se verloofde en 'n paar persoonlike gaste bygewoon waar 'n geskenk aan professor Van der Merwe oorhandig is.

    Desember 2009

    Volgens die opgawes van die kantoor van die skriba van die Algemene Kerkvergadering vir die Almaaak 2010 was daar 343 predikante en 7 dosente werksaam. Van hulle was 203 in volsorg standplase, 28 in deelsorg standplase en 51 in deeltydse bediening. Ses was in benoemde poste, ses in standplase met besondere opdrag, vyf in administratiewe poste, twee besig met verdere studie en twee met preekvergunning. Tien was in die buiteland met behoud van ampsvoorreg. In vergelyking met hulle manlikke kollegas was die 61 vroulike predikante in 'n minder gunstige posisie. Nege was in volsorg standplase, elf in deelsorg, 19 in deeltydse en twee in benoemde poste. Dertien was beroepafwagtend. Een was 'n predikant met besondere opdrag en vier was in die buiteland.

    Sinds die begin (1916–2009) van Teologiese opleiding, was daar 1208 inskrywings en 696 wat die studie suksesvol voltooi het, 'n iets meer as 57%. 'n Sorgwekkende verskynsel is die verlies aan 1208 inskrywings en 696 wat die studie suksesvol voltooi het, 'n iets meer as 57%. 'n Sorgwekkende verskynsel is die verlies aan predikante nadat hulle vir korter of langer duur in die bediening is, tot op hede het 117 predikante die bediening verlaat, waarvan die redes strek van (1) ontheffing, (2) verandering van lewenstaat en (3) oorgang na 'n ander kerk.

     

     

    DOI: 104102/hts.v66i3.110