SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue3Hoofstuk 7: Evaluering en selfinterptetasie 1971-1980Hoofstuk 9: Rasionalisasie en Optimalisering 1988-1997 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.66 no.3 Pretoria  2010

    http://dx.doi.org/104102/hts.v66i3.935 

    HOOFSTUK

     

    Hoofstuk 8: Groei, vooruitskouing, terugskouing 1981–1987

     

     


    Uitbreiding van die personeel deur die toevoeging van mede-professore, vestiging van die Departement Bybelkunde, verskyning van die Nuwe Bybelvertaling waarin die Fakulteit 'n belangrike bydrae gemaak het, Kerk en Wêreld 2000. Die Witfontein fees.


     

     

     

    1981

    17 Februarie 1981

    Die Fakulteit ken die Nico Prinslooprys toe aan C.F. van Heerden, bekragtig die proefskrif uitslag van G.C. Velthuysen en die doktorale eksamenuitslae van N.H. Buitenweg en T.F.J. Dreyer (Magaliesburg). Toestemming is verleen dat T.F. Joubert en P.B. Viljoen vir BA Hons in Semitiese Tale inskryf en M.J. Riekert en G.M.J. van Wyk vir BA Hons in Wysbegeerte. Die volgende onderwerpe vir proefsksrifte is goedgekeur: G.N. Bloem (gewysig) 'n Beoordeling met die oog op 'n waardebepaling van die geskiedenis van die prediking vir die homiletiek en P.M. Venter Spreukgoed-wysheid: lewe as kernstruktuur van die poëtiese komposisies in Spreuke 1–9.

    06 Maart 1981

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verneem dat professor P.W. Hoek en meneer K.E. Bruinette telefonies laat weet het dat hulle sal saamwerk aan die projek Kerk en Wêreld, dat professor Oosthuizen vanweë oorsese verpligtinge nie kan saamwerk nie maar drie studiestukke tot beskikking gestel het, en dat professore G.C. Olivier en J.H. de Loor hulle samewerking beloof het, en dat professor Daan Botha van mening is dat hy nie tyd sal vind nie maar wel miskien 'n paar persoonlike menings sal kan gee.

    Die Kommissie het in dieselfde vergadering ook kennis geneem van die Dekaansverslag waaruit dit geblyk het daar 46 BD studente is en 41 DD studente.

    13 Maart 1981

    Die Kuratorium betuig sy deelneming met die afsterwe van die eggenote van professor C.H. Rautenbach. Hierdie vergadering het onder andere aanbeveel dat boeke vir 'n maksimum van R500 vir BA op rekening gekoop mag word en R2500 vir BD. Die Kuratoriumsaamtrek van teologiese studente het plaasgevind op 01 Augustus 1981 in die kerkgebou van Philadelphia. Dit het individuele en kleingroep Bybelstudie omvat en 'n paneelbespreking onder leiding van dominee P.A. Geyser, doktor D.J.C. van Wyk en doktor A.J.G. Dreyer.

    16 Maart 1981

    J.P. Oberholzer gaan op spesiale verlof tot 23 April 1981.

    18 Maart 1981

    Die Senaat verneem van die afsterwe van professor H.P. Wolmarans op 28 Desember 1980 en spreek sy meegevoel uit met mevrou Wolmarans en familie.

    28 April 1981

    Die Fakulteit verwelkom J.P. Oberholzer wat pas teruggekeer het van 'n oorsese studiereis, nomineer vir professore B.J. Engelbrecht, J.P. Oberholzer en J.I. de Wet vir die dekaanskap, en keur goed dat E.G. Fourie inskryf vir MA Latyn, L. Greyling vir BA Hons in Bybelkunde, W.R.T. Hindley vir MA in Wysbegeerte en J.J. van der Westhuizen vir BA Hons in Semitiese tale saam met BD. Uit die jaarverslag blyk dat gedurende 1980 doktor A.P.B. Breytenbach aangestel is as medeprofessor in Ou Testamentiese Wetenskap, en dominee A.G. van Aarde as senior lektor in Bybelkunde. Daar was 58 BD studente en 40 DD studente.

    12 Junie 1981

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van die drie studiestukke van professor A.J.G. Oosthuizen en die bydrae van doktor K.E. Bruinette vir Kerk en Wêreld 2000.

    21 Julie 1981

    Die Fakulteit wens doktor J.J. Engelbrecht geluk met die verwerwing van die DTh graad by Unisa in Mei 1981. J.P. Oberholzer, G.M.M. Pelser en P.J. van der Merwe is genomineer as plaasvervangende dekaan. Die doktorale eksamenuitslae van R.M. Naude en I.W.C. van Wyk is bekragtig, Gelyktydige inskrywing is goedgekeur vir W.A. Dreyer vir BA Hons in Wysbegeerte en M.J. Riekert vir BA Hons in Grieks en Hebreeus. Die onderwerpe vir proefskrifte is soos volg goedgekeur: P.M. Venter (gewysig) Spreuke, wysheid en lewe in Spreuke 1–9 en T.F.J. Dreyer Vrymesselary as groep in, naas en teenoor die kerk.

    17 Augustus 1981

    Die praeses van Van der Hoff woon op uitnodiging die vergadering van die Kuratorium by en vertrek weer na tee. Die vergadering het kennis geneem dat student L. Greyling in 'n ernstige motorongeluk was en vyf maande lank bewusteloos was. 'n Ruiker en 'n brief van waardering is aan sy eggenote gestuur wat hom bygestaan het en tans tuis verpleeg. Hierdie vergadering het kennis geneem van 'n memorandum van professor P.J. van der Merwe oor die kursus in gemeentelike praktyk wat deur Kital aangebied word en het besluit om die saak op 'n buitengewone vergadering te bespreek.

    07 September 1981

    Die Dosentevergadering bespreek die versoek van die Oosrandse Broederkring oor Kerkreg en Evangelistiek, 'n versoek van die Raad vir Kerkmusiek oor die aanbieding van 'n proefkursus in Kerkmusiek en 'n versoek van die Werkgroep Gemeenteopbou oor toerusting in Jeugwerk. Oor die BA studie aan ander universiteite is na uitvoerige bespreking besluit om 'n komitee te benoem met professor G.M.M. Pelser as sameroeper, en professore W.C. van Wyk en A.P.B. Breytenbach as lede, om by BD studente navraag te doen of hulle aanpassingsprobleme ondervind teen die agtergrond van die interfakultêre Wysbegeerte wat aan die P.U. vir C.H.O. en U.O.V.S. aangebied word, die aanbieding van Bybelkunde aan daardie universiteite en die kwaliteit van die opleiding in Grieks en Hebreeus.

    Wat die opleiding in die Fakulteit betref, het die Dosentevergadering kennis geneem van 'n versoek van die Predikantevergadering van 1980 oor die daarstel van 'n lewensvatbare kurrikulum waarin daar voorsiening is vir oorhoofse beplanning en skakeling tussen departemente met die oog op doelwitformulering oor wat in die opleiding bereik wil word. Aan die hand van sulke duidelike uitgespelde doelwitte sal ook aandag gegee word aan metodes/didaktiese vormgewing en 'n verantwoordbare stelsel van evaluering/eksaminering. Verder is kennis geneem van 'n memorandum van die Hervormde Teologiese Vereninging oor die uitbreiding van die personeel van die Fakulteit, en is die memorandum van professor P.J. van der Merwe ook weer ter hand geneem. Departementshoofde is versoek om 'n oorsig te gee van die sillabus, kommentaar te lewer oor die vrae wat geopper is, en aanduiding te gee van leemtes en behoeftes. 'n Kommissie bestaande uit professor P.J. van der Merwe, doktor J.H. Koekemoer en doktor T.F.J. Dreyer is benoem om 'n studie te maak van die aard van die opleiding en die doelwitte wat gestel moet word.

    Kennis is geneem van 'n klag van die Rektor dat lede van die Fakulteit nie gereeld die gradeplegtighede en akademiese wydingsdienste bywoon nie. Kennis is ook geneem dat die Uitvoerende Komitee van die Senaat opdrag gegee het dat gebruik gemaak moet word van kernaantekeninge by lesings en dat die diktaat-metode uitgeskakel moet word.

    Na aanleiding van 'n skrywe van student P.J. van Zyl is bespreking gevoer oor die swak bywoning van lesings deur studente en is besluit dat die voorsitter en J.P. Oberholzer 'n 'behartenswaardige gesprek' sal voer met studente wat onbevredigend lesings bygewoon het.

    14 September 1981

    Besluit is dat die Kuratorium tergeleënertyd sy besluit van 01 Februarie 1979 in heroorweging sal neem, naamlik dat enige verdere opleiding van predikante nie tot die terrein van die teologiese opleiding behoort nie. Kennis is ook geneem dat professor A.D. Pont met studieverlof sal wees van 01 April 1982 tot 31 Desember 1982.

    15 September 1981

    Die vakkeuse van J.H. Breytenbach vir DD word goedgekeur.

    2627 November 1981

    Die Kommissie neem kennis van skrywes van professore P.J. en R.D. Coertze waarin hulle meedeel dat hulle nie hulle weg oopsien om aan die projek Kerk en Wêreld deel te neem nie.

    30 November 1981

    Die Raad besluit om die eregraad DLitt toe te ken aan professor A. van Selms op die Herfspromosieplegtigheid op 23 April 1982. In sy Curriculum Vitae word onder andere vermeld dat hy in 1959 lid geword het van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in 1959 offisier in die Orde van Oranje-Nassau en in 1975 erelid van die Society for Old Testament Study, en dat hy in 1976 die Stalsprys vir Teologie ontvang het en in 1977 'n eredoktoraat van die Universiteit van Suid-Afrika.

     

    1982

    16 Februarie 1982

    Die Fakulteit wens professor A.D. Pont geluk met 25 jaar ononderbroke diens aan die Universiteit. Die Nico Prinslooprys word toegeken aan W.J.C. Kriel. Die doktorale eksamenuitslae van J.H. Breytenbach en J. Buitendag word bekragtig. Dit word goedgekeur dat I. Benade gelyktydig met die BD studie inskryf vir BA Hons in Bybelkunde, E. Dannhauser en G.J. Malan vir BA Hons in Grieks, T. McDonald en J.D. Steinman vir BA Hons in Wysbegeerte. Die volgende onderwerpe vir proefskrifte word goedgekeur: A.G. van Aarde (gewysig) God met ons. Dié teologiese perspektief van die Matteusevangelie, J.A. Beukes (gewysig) Hedendaagse evangelisasie en J.H. Breytenbach Die koningskap van Jehu.

    19 Februarie 1982

    Die 25-jarige ampsjubileum van professor A.D. Pont as hoogleraar is gevier by wyse an 'n ete in die restaurant Hof van Holland en die oorhandiging van 'n feesbundel, naamlik Die kerk in die wêreld, 'n bundel opstelle aangebied aan professor A.D. Pont by sy 25-jarige ampsjubileum onder redaksie van J.P. Oberholzer, wat in 'n voorwoord skryf:

    Begaaf met helder insig, buitengewone werkvermoë en hartstogtelike liefde vir kerk en volk, het hy op 'n wye terrein binne en buite die kerk sy spoor gelaat. [...] Die bundel word hom aangebied deur kollegas binne en buite die kerk en deur oudstudente wat onder sy leiding ontwikkel het tot selfstandige wetenskaplikes, met die bede dat hy sal voorgaan met die diens aan kerk en teologie onder die seën van die Heer van die kerk.

    17 Maart 1982

    Die Kuratorium neem kennis van die verskyning van professor Pont se boek Die Historiese Agtergronde van die Kerklike Reg. Besluit is om aan te beveel dat doktor J.J. Engelbrecht bevorder word tot mede-professor. Professor Pont het sy waardering betuig vir die funksie ter viering van sy 25ste ampsjubileum. Gevalle is behandel van B.W. Oosthuizen en J.D. Gericke wat die BD graad by Unisa wil behaal, en van H.B. van Rooyen wat by Afdeling B ingeskryf het.

    31 Maart 1982

    Die Senaat wens professor A.D. Pont geluk met die bereiking van 25 jaar voltydse diens.

    01 April 1982

    Professor Pont gaan op studieverlof tot 31 Desember 1982.

    27 April 1982

    Die Fakulteit keur die vakkeuse van H.P.F. Kern vir DD goed. Daar was 72 BD studente en 37 DD studente.

    04 Junie 1982

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit om te voldoen aan die versoek van die Kuratorium om doktor J.J. Engelbrecht by die Universiteit aan te beveel vir benoeming as mede-professor. Engelbrecht het tydens studieverlof 'n tydperk deurgebring aan die Universiteit van Heidelberg waar hy kennis gemaak het met doktore G. Bornkamm en K.G. Kuhn, en het in 1980 gepromoveer by die Universiteit van Suid-Afrika met 'n proefskrif Die Christologie van die Boek Openbaring. Die promotor was professor F.J. Botha.

    27 Julie 1982

    Die Fakulteit keur die vakkeuse van P.J. van Zyl vir DD goed.

    19 Augustus 1982

    Die Kuratorium behandel 'n skrywe van die Dosentevergadering wat versoek het dat in al die departemente mede-professore aangestel word. As motivering is aangevoer dat die kurrikulumondersoek waarmee die dosente besig is, waarskynlik sal meebring dat die aantal lesings per departement sal verdubbel, en dat praktykgerigte opleiding meer aandag moet ontvang. Gedurende 1981 was daar 72 studente ingeskryf vir die BD studie en was 37 predikante besig met doktorale studie. Die Kuratorium het besluit dat die versoek deurgestuur word na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vir simpatieke oorweging, dat die Dosentevergadering 'n prioriteitsorde sal voorlê vir die aanstelling van die mede-professore en dat J.P. Oberholzer 'n projeksie van moontlike toekomstige standplase moet opstel. Die Dosentevergadering het verslag gedoen oor die ontstaan en vordering van die kurrikulum ondersoek. Kennis is geneem dat die jaarlikse saamtrek van studente op 07 Augustus 1982 baie goed afgeloop het.

    14 September 1982

    Die Fakulteit bekragtig die doktorale eksamenuitslae van L.C. Bezuidenhout en W.J. Bezuidenhout.

    17 September 1982

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering bespreek 'n samevatting van en kommentaar op die memoranda vir Kerk en Wêreld 2000 van professore Hoek, A.J.G. Oosthuizen, doktore De Loor en Bruinette, opgestel deur doktor G.C. Velthuysen. Die Kommissie besluit dat die Moderamen 'n verdere werkwyse moet uitwerk en stel as doelstellings dat informasie aan lidmate gegee en 'n strategie uitgewerk word. Die Moderamen het al die lede van die Kommissie en 'n paneel van tien genooide persone opgeroep vir 'n gesprek op 29 November 1982. Die genooide persone was G.C. Velthuysen, J.C. de Lange, D.J.C. van Wyk, A.P.J. Beukes, J.P.J. Wagenaar, A.D. Pont, J.P. Naude, R.M. Naude, L.J.J. Nell en C.J.A. Simpson.

    26 November 1982

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit om professor P.W. Hoek geluk te wens met sy verkiesing op 20 September 1982 as voorsitter van die Raad van die Universiteit van Pretoria.

     

    1983

    11 Februarie 1983

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van die gesprek oor Kerk en Wêreld 2000 en van die versoek aan 'n aantal broeders om verdere memoranda oor spesifieke sake te lewer. Kennis is ook geneem dat die Universiteit vanaf 01 Januarie 1983 volle aanspeeklikheid aanvaar vir die mede-professoraat van J.J. Engelbrecht.

    15 Februarie 1983

    Die Dosentevergadering stel 'n prioriteitsorde op vir die benoeming van mede-professere en besluit om nie 'n versoek van die Van der Hoffbestuur te steun wat vra dat studente preekvergunning sal kry na hulle proefpreke nie. Kennis is geneem dat elke fakulteit 'n toekenning ontvang vir onthaalkoste van besoekers van buite. Die vergadering het ook kennis gemaak met die Departement Onderrig-ontwikkeling van die Universiteit en het besluit dat lede 'n kort kursus daarin sal bywoon.

    19 Februarie 1983

    Die Dosentevergadering behandel 'n eerste verslag van die kurrikulumkomitee en keur die riglyne goed.

    24 Februarie 1983

    Die Kuratorium neem kennis dat die prioriteitsorde vir aanstelling van mede-professore soos volg gereël is: Nuwe Testamentiese Wetenskap, Dogmatiek, Praktiese Teologie en/of Godsdiens- en Sendingwetenskap. Die projeksie van J.P. Oberholzer oor standplase het laat blyk dat teen einde 1985 die voorsiening van predikante die aanvraag reeds met twee kan oorskry. Op voorstel van professor J.I. de Wet is besluit om by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aan te beveel dat met die Universiteit onderhandel word oor 'n hersiening van die kerk se bydrae vir die Opleiding.

    Besluit is om die H.C.M. Fourie Erepenning aan J.P. Oberholzer toe te ken 'beide ten opsigte van sy akademiese en kerklike werk en in besonder ten opsigte van sy bydrae met Bybelvertaling.'

    Kennis is geneem van professor Pont se verslag oor sy bywoning van die Internasionale Kongres vir Calvynnavorsing in Genève op 06–09 September 1982.

    Maart 1983

    Tukkiewerf berig dat die Fakulteit Afdeling A geopen is met 'n voordrag deur professor A.P.B. Breytenbach oor probleme rondom die verkondiging uit die boek Jona.

    08 Maart 1983

    Die Fakulteit ken die Nico Prinslooprys toe aan E.J. Vledder, bekragtig die doktorale eksamenuitslae van J.A. van Biljon en J. Coetzee, asook die proefskrif uitslae van S.G.A. Golden en A.G. van Aarde.

    01 April 1983

    J.P. Oberholzer gaan op studieverlof tot 30 Junie 1983.

    27 April 1983

    Professor J.I. de Wet is skielik oorlede. Hy het die vorige aand nog huisbesoek gedoen in die gemeente Delarey. Professor F.J. van Zyl het in Die Hervormer van Junie 1983 'n kort huldeblyk geskryf. Hy het daarop gewys dat De Wet baanbrekerswerk verrig het as die eerste besetter van die leerstoel Praktiese Teologie en as vader van die gedagte van suiwer studentegemeentes. Doktor E.C.B. Kotze het in die Almanak van 1984 geskryf: 'Hy was Bybelse teoloog in die eg-reformatoriese tradisie. In sy kritiese denkarbeid was die Skrif die maatstaf en het die Bybelse veronderstellings en doelwitte altyd vooropgestaan.' Sy opvolger, professor T.F.J. Dreyer, het in 1992 in 'n terugblik oor die department Praktiese Teologie geskryf:

    Gesien in sy eietydse konteks het De Wet daarin geslaag om die Praktiese Teologie te vestig as 'n selfstandige teologiese dissipline met sy eie studie-objek en metode. Die teoretiese onderbou wat hy vir die vak verskaf het, het dit daarvan gevrywaar dat dit nie opgegaan het in die skoling van studente in allerlei tegnieke en vaardighede nie, maar dat dit die kerklike praktyk teologies-krities begrond en beoordeel het.

    De Wet se promotor, professor B.J. Engelbrecht, het in Hervormde Teologiese Studies Jaargang 40, aflewering 1, 'n oorsig van De Wet se lewe en werk geskryf.

    27 April 1983

    Die Senaat wens J.P. Oberholzer geluk met die toekenning van die H.C.M. Fourie Erepenning en neem kennis van die dood van professor J.I. de Wet

    03 Mei 1983

    Die 60ste Algemene Kerkvergadering begin. 'n Mosie van roubeklag is aanvaar met die afsterwe van dominees W.M. Wolmarans, C.J. van Schalkwyk, W.J. Bezuidenhout, A.D. Botha, N.M.J.S. Heyneke, J.S. Marais, en professore H.P. Wolmarans en J.I. de Wet. [De Wet se begrafnis het pas die vorige dag, op 02 Mei 1983, plaasgevind. Die begrafnisdiens in die kerkgebou van Pretoria-Oos is gelei deur dominee T.F. Dreyer, en die ter aardebestelling is waargeneem deur doktor S.J. Prins.]

    J.P. Oberholzer is as voorsitter verkies. P.M. Smith, F.J. van Zyl en B.J. Engelbrecht het versoek dat hulle nie weer verkies word nie, en J.C. de Lange is as skriba verkies, C.L. van den Berg as vise-voorsitter en G.C. Velthuysen as vise-skriba. As predikantlede van die Kommissie is P.J.T. Koekemoer en A.D. Pont verkies.

    Dominee J.G.M. Dreyer het namens die vergadering 'n woord van groot dank en waardering uitgespreek

    teenoor die uitgetrede Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vir die sterk leiding gedurende die afgelope jare. Hy dank die feit dat die Nederduitsch Hervormde Kerk in teenstelling met talle ander kerke, 'n tydperk van rus en vrede gehad het, juis aan hierdie leiding.

    Die openingsrede het iets weerspieël van die geladenheid van die Suid-Afrikaanse situasie.

    Polities, militêr, ekonomies bedreig, maatskaplik in 'n toestand van ontworteling, moreel sonder duidelike norme, godsdienstig in 'n toenemende ongebalanseerdheid en neurose, vertoon die Suid-Afrikaanse toneel 'n beeld van toenemende ontreddering en swakheid. [...] Die evangelie beloof aan geen mens politieke mag nie, dit gee geen mens aanspraak op die besittings van ander nie. [...] Die evangelie sê vir ons dat as ons met God versoen is, ons ruimte wíl maak vir ander, aan hulle wil gee wat ons vir onsself gun [...] daar is werk om te doen: die werk van die kerk – die bediening van die versoening, wat niks anders is as die verkondiging dat Jesus Christus Heer en Verlosser is. [...] Die Heer van die kerk wat self alles gee, sê vir ons: Gee julle vir hulle [...].

    Een van die eerste besluite van hierdie Algemene Kerkvergadering het 'n einde gebring aan talle besware en besprekings wat telkens die saak van 'ampsdrag' na vore gebring het. Besluit is dat ouderlinge en diakens by 'n donker pak enige das kan dra en dat die dra van 'n bef en strikkie al dan nie oorgelaat word aan die diskresie van die draers.

    Die vergadering het aan die Kommissie opdrag gegee om die nodige reëlings te tref om die voortbestaan van die kerk na die mislukte kerkvereniging van 1885 te vier.

    Kennis is geneem van die ontbinding van vyf gemeentes in Zimbabwe weens die voortgaande verhuising van lidmate uit daardie gebied.

    Die vooruitsig was uiteindelik daar dat 'n voldoende aantal predikante vir gemeentelike bearbeiding beskikbaar sal wees en daar is aanbeveel dat gemeentes met 'n belydende lidmatetal bo 500 'n tweede standplaas skep indien moontlik.

    Die H.C.M. Fourie Erepenning is toegeken aan J.P. Oberholzer. Die voorsitter van die Kuratorium, dominee G.J.J. Roos, het gesê dit word gedoen op grond van die belangrike aandeel wat Oberholzer in die vertaling van die Bybel het.

    Die vergadering het in beginsel goedgekeur dat daar vyf poste vir mede-professore in die Fakulteit ingestel word en die instelling daarvan oorgelaat aan die Kommissie in samewerking met die Raad van Finansies.

    As lede van die Kuratorium is verkies doktore D.J.C. van Wyk, A.J.G. Dreyer, J.H. Koekemoer, T.F.J. Dreyer, dominees G.J.J. Roos, W.C.M. de Beer en professor H.G. van der Westhuizen.

    09 Mei 1983

    Die Kuratorium verkies doktor D.J.C. van Wyk as voorsitter en dominee G.J.J. Roos as vise-voorsitter. Reëlings is gemaak vir die voortgang van die lesings in die Departement Praktiese Teologie na die dood van professor J.I. de Wet. Doktore T.F.J. Dreyer en M.J. du P. Beukes is versoek om intussen waar te neem en die Dosentevergadering is versoek om 'n aanbeveling te maak vir 'n benoeming.

    16 Mei 1983

    Die Raad benoem professor W.C. van Wyk as permanent-voltydse dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte vanaf 01 Julie 1983.

    24 Mei 1983

    Die Fakulteit aanvaar 'n mosie van roubeklag met die afsterwe van professor J.I. de Wet. Die doktorale eksamenuitslae van J.C. van der Merwe en H.T. van Deventer word goedgekeur. Daar word besluit dat professor J.I. de Wet posthuum as promotor van die proefskrif van J.A. Beukes erken word en dat die mede-promotor, professor P.J. van der Merwe, sake sal finaliseer. Die volgende onderwerpe vir proefskrifte is goedgekeur: J.A. Beukes (gewysig): Hedendaagse evangelisasie. 'n Evangelisasiemetode met die oog op die kerk se werk in 'n digbevolkte gemeenskap, R.M. Naude Die etiek van die ekumene, toegespits op die South African Council of Churches, J.P. Naude 'n Kritiese evaluering van 'n aantal eskatologiese modelle van die twintigste eeu. Die jaarverslag meld dat daar 67 BD studente en 36 DD studente is. Die verslag meld ook dat die Fakulteit tans goed gevestig is in die Teologiegebou.

    07 Junie 1983

    Die Dosentevergadering beveel aan dat doktor T.F.J. Dreyer aangestel word in die leerstoel Praktiese Teologie in die plek van wyle professor J.I. de Wet, en versoek dat gepoog word om die aanstelling te laat geld vanaf 01 Oktober 1983. Die vergadering bespreek verder die verslag van die Kurrikulumkomitee en keur die oorkoepelende doelstellings goed met enkele wysigings.

    10 Junie 1983

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vergader. Professor A.D. Pont is versoek om 'n voorlegging te maak oor die herdenking van die voortbestaan van die kerk ná 1885. Ná die voorlegging het die Kommissie besluit dat die fees moet plaasvind op 13 Februarie 1986 en dat dit die vorm moet aanneem van 'n dankdiens. Origens is besluite geneem oor 'n klein monument, 'n gedenkplaat in die portaal van die Dirk van der Hoff gebou, die benaming van 'n leerstoel in Kerkgeskiedenis, 'n gedenkblad, 'n heruitgawe van M.J. Goddefroy se De Kerkkwestie, niet een leer maar een levenskwestie, en 'n aantal historiese artikels. As feeskomitee is benoem professor A.D. Pont, professor S.J. Botha, dominee C.L. van den Berg, professor P.G. Nel en die Administrateur. As redaksie van die Gedenkalbum is benoem professor A.D. Pont, S.J. Botha, dominee J.M.G. Storm en die Administrateur. As redaksiekomitee vir argiefpublikasies is benoem die Argiefraad en professor G.W.D. Duvenage.

    15 Augustus 1983

    Die Kuratorium besluit om doktor T.F.J. Dreyer te benoem as hoogleraar in Praktiese Teologie.

    Theunis Frederik Jacobus Dreyer is gebore te Potchefstroom op 08 Desember 1946 as jongste kind van Thomas Frederik Dreyer en Barbara de Villebois Evans. Sy vier ouer broers was ook predikante, en sy suster is getroud met 'n predikant. Die tweeling J.G.M. en T.F.J. Dreyer was sy ooms. Hy gaan skool in die M.L. Fick Laerskool en die Hoërskool Gimnasium in Potchefstroom en matrikuleer in 1963, voltooi die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria in 1966, BD met lof in 1969 en die doktorale eksamen met lof in 1970. Op 20 Junie 1970 is hy georden in Newlands en bedien daarna die gemeentes Krugersdorp-Noord, Noordrand, Voortrekkerhoogte en Hartebeespoort. Hy is getroud met Martha Magdalena van der Merwe, dogter van dominee W.P. van der Merwe. Hy promoveer in 1974 aan die Ryksuniversiteit in Utrecht met 'n proefskrif J.J. van Oosterzee as homileet onder leiding van professor H. Jonker. Vanaf 1977 was hy tydelik-deeltydse dosent in Praktiese Teologie met Poimeniek as opdrag. Hy dien op verskillende kerklike organe, waaronder die Kuratorium en die Raad vir Prediking en Erediens. Teen die tyd van sy aanstelling was hy 'n erkende en gevestigde vakspesialis.

    17 Augustus 1983

    Die Senaat vermeld met leedwese die heengaan van professor J.I. de Wet en benoem professor W.C. van Wyk as verteenwoordiger op die Gemeenskaplike Matrikulasieraad.

    28 Augustus 1983

    Die Goue Jubileumfees van die Bybel in Afrikaans is in Bloemfontein gevier by wyse van 'n erediens in die Callie Human Sentrum, gelei deur J.P. Oberholzer, met 'n spreekkoor van studente van die Bloemfonteinse Onderwyserskollege en 'n massakoor van laerskoollleerlinge. By dié geleentheid is ook aangekondig dat die Nuwe Afrikaanse Vertaling nog in dieselfde jaar sal verskyn, vyftig jaar ná die verskyning van die eerste volledige vertaling in 1933.

    30 Augustus 1983

    Die Dosentevergdering besluit om doktor A.G. van Aarde aan te beveel vir die pos mede-professor in Nuwe Testamentiese Wetenskap, en gee die volgende gronde vir die aanbeveling:

    I. Die vergadering wil doktor van Aarde aanbeveel van weë sy duidelike akademiese bevoegdhede en prestasies. Ook wat sy navorsing betref, is dit duidelik dat hy daarvoor uitnemend toegerus is.
    II. Wat die verdere aangeleenthede betref, is die vergadering oortuig dat dr van Aarde goed toegerus is en ook ervaring het om deeglik lesings te gee, 'n positiewe invloed op die vorming van die aanstaande predikante van die kerk uit te oefen.
    III. Die vergadering is van oortuiging dat dr van Aarde se gesindheid ten opsigte van die kerk nog altyd positief en lojaal was.
    IV. Vir die vakature wat sou ontstaan in Bybelkunde is doktor P.M. Venter aanbeveel omdat hy reeds duidelik blyke gegee het van sy akademiese bekwaamheid en vermoë en hy 'n aanwins sal wees ten opsigte van die ander oorwegings wat gestel is.

    20 September 1983

    Die Kuratorium verneem van die dekaaan, professor B.J. Engelbrecht, dat die ingebruikneming van die Nuwe Teologiegebou, en die Luther- en Bybelfees in die Musaion op 31 Augustus 1983 'n groot sukses was. Die program het soos volg verloop: 09:00 Paneelbespreking deur studente oor Luther se bydrae tot die teologie, 10:00 Oorhandiging van die Teologiegebou deur die rektor, professor D.M. Joubert, aan die dekane van die twee Fakulteitsafdelings, professore J.A. Heyns en B.J. Engelbrecht, Besigtiging van die gebou en uitstalling, 11:00 Orreluitvoering van Luthermusiek deur Wim Viljoen, Samesang van twee Lutherliedere en drie Geneefse psalms onder leiding van doktor D.J.C. van Wyk, 11:30 Herdenking van die ingebruikneming van die Afrikaanse Bybelvertaling vyfig jaar gelede deur professore J.P. Oberholzer en A.H. van Zyl.

    Professor W.C. van Wyk het gerapporteer oor 'n tweedaagse uitstappie van die vyfdejaarstudente na Die Bron onder leiding van dominee R.J. Coertze. Die vergadering het eenparig besluit op die benoeming van doktor T.F.J. Dreyer as professor in Praktiese Teologie, doktor A.G. van Aarde as mede-professor in Nuwe Testamentiese Wetenskap en professor P.M. Venter in die vakature in Bybelkunde wat so ontstaan het.

    Andries Gideon van Aarde is gebore in Pretoria op 25 April 1951 as tweede jongste seun van J.C. van Aarde en M.C. Barnard. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Wonderboom in 1968. Hy voltooi die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria met Grieks en Semitiese Tale as hoofvakke in 1971 en BD in 1974. Hy word georden in die Gemeente Roodepoort op 11 Januarie 1975 en word in 1976 studentepredikant in Fonteinedal. In 1977 behaal hy 'n gekombineerde honneursgraad in Grieks en Semitiese Tale en in 1978 die MA graad met lof in Semitiese Tale. Gedurende 1979–1980 was hy tydelik-deeltydse dosent in Grieks en in 1979 hulpdosent in Nuwe Testamentiese Wetenskap. In 1980 word hy benoem as voltydse senior lektor in Ou Testamentiese Wetenskap met opdrag Bybelkunde. In 1983 promoveer hy onder leiding van professor G.M.M. Pelser en professor W.S. Vorster met die proefskrif God met ons: Dié Teologiese Perspektief van die Matteus-Evangelie.

     

    Pieter Michiel Venter is gebore te Middelburg, Transvaal op 14 Februarie 1947 as seun van Pieter Michiel Venter en Gertruida Jacoba Snyman. Hy gaan skool in die Middelburgse Laer- en Hoërskool en matrikuleer aan die Hoërskool Wolmaransstad in die eersteklas in 1964. In 1967 behaal hy die BA-graad aan die Universiteit van Pretoria met hoofvakke Afrikaans en Hebreeus, in 1969 BA Hons in Semitiese Tale en in 1971 BD met lof. Hy ontvang in hierdie jaar die Nico Prinslooprys vir Ou Testamentiese Studie. Hy tree in die huwelik met Izelle Engelbrecht, dogter van professor B.J. Engelbrecht. Hy is georden op 28 Januarie 1972 en bedien agtereenvolgens die gemeentes Sasolburg-Suid, Witbank-Suid, Durban, Roodepoort en Zwartkop. In 1981 promoveer hy met 'n proefskrif Spreuke, Wysheid en Lewe in Spreuke 1–9 onder leiding van professore J.P. Oberholzer en W.C. van Wyk. Hy word in 1978 tydelik-deeltydse dosent in die Departement Ou Testamentiese Wetenskap en in 1980 dosent in die Hervormde Teologiese Opleiding aan die Universiteit van die Noorde.

    27 September 1983

    Die Fakulteit bekragtig die doktorale eksamenuitslae van J.A. Beukes, T.F.J. Dreyer, J.P. Naude en R.M. Naude en keur die proefskrifonderwerp van J.A. van Biljon goed, naamlik Die siekepastoraat as kerklike bediening.

    24–25 November 1983

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering benoem doktor E.C.B. Kotze as lid van die Kuratorium in die plek van doktor T.F.J. Dreyer.

    02 Desember 1983

    Die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel is feestelik bekendgestel in Bybelhuis in Kaapstad. Tevore is die Blye Boodskap in 1975 en Die Nuwe Testament en Psalms in 1979 gepubliseer. Die staatspresident, meneer Marais Viljoen, het die eerste genommerde eksemplaar ontvang. Die eindredaksie het met afsluiting van die projek bestaan uit professor E.P. Groenewald, voorsitter, J.P. Oberholzer, vise-voorsitter, A.H. van Zyl, sekretaris, P.A. Verhoef, J.L. Helberg en W. Kempen, taaladviseur. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het op 11 Mei 1984 waardering betuig aan die lede van die Eindredaksie en die medevertalers vanweë die Nederduitsch Hervormde Kerk, professore G.M.M. Pelser, W.C. van Wyk en A.P.B. Breytenbach, by wyse van 'n dinee in die Toulouse Restaurant en die oorhandiging van oorkondes.

     

    1984

    08 Februarie 1984

    Die Dosentevergadering spreek hom uit ten gunste van Bybelkunde as selfstandige departement, besluit om die versoek van professor T.F.J. Dreyer oor die aanbieding van lesings in Sielkunde in die Departement Praktiese Teologie by die Kuratorium aan te beveel, keur goed dat vanaf 1985 die lesingrooster voorsiening sal maak vir middaglesings, dat 'n gesamentlike jaarprogram beskikbaar gestel sal word, trek alle voorskrifte oor studiebelading terug en besluit om die aandag van die Kuratorium te vestig daarop dat vanweë die aanpassing van die salarisse van Bybelkunde dosente tot die vlak van die predikantstraktement, die teologiese departementshoofde tans minder verdien as die Bybelkunde dosente.

    Maart 1984

    Tukkiewerf publiseer 'n tien bladsye artikel oor die Fakulteit Teologie, met inleidende paragrawe oor Wat is teologie? en daarna die verskillende departemente van elke afdeling met vermelding van werksaamhede en dosente. By Afdeling A verskyn foto's van professore G. McMillan, A.C. Paterson en A.D.W. Wolmarans, en ook 'n foto van dosente en studente in 1927.

    13 Maart 1984

    Die Fakulteit verwelkom professor A.G. van Aarde as mede-professor in Nuwe Testamentiese Wetenskap, professor T.F.J. Dreyer as hoof van Praktiese Teologie en professor P.M. Venter as mede-professor in Ou Testamentiese Wetenskap. Professore B.J. Engelbrecht, J.P. Oberholzer, A.D. Pont en G.M.M. Pelser word in volgorde genomineer vir die dekaanskap. Die doktorale eksamenuitslae van E. Engelbrecht en P.J. van Staden word bekragtig. Proefskrifonderwerpe word soos volg goedgekeur: L.C. Bezuidenhout Die aard en funksie van logiese strukture in die boek Job, J. Coetzee (gewysig) Krisispastoraat met die oog op geloofsgroei en diakonale ondersteuning, A.A. da Silva Die hantering van geskiedenistradisies en – motrewe in die oordeels- en heilsprediking van Jeremia, G.J.C. Schoeman Die lewe en werk van dominee C.W. du Toit, J.M.G. Storm (gewysig) Die Voortrekkerkerk—'n Histories-kerkregtelike studie van die Nederduitsch Hervormde Kerk 1836-1853, J.A. van Biljon Die siekepastoraat as kerklike bediening in hospitaal-konteks, J.C. van der Merwe Die verhouding kennis, geloof en kategese, H.T. van Deventer Die Nederduitsch Hervormde Kerk se betrokkenheid by onderwys en opvoeding in die R.S.A, P.J. van Staden Die vertellersperspektief van die Johannesevangelie, I.W.C. van Wyk Die neuere Diskussion über die Theodizeefrage,. Ihre Bedeutung und Relevanz für die Theologie und Kirchenpolitik, Eine wissenschafts-theoretische Untersuchung. Die vakkeuses van W.A. Dreyer en P. van Staden vir DD is ook goedgekeur.

    01 April 1984

    Professor B.J. Engelbrecht gaan op studieverlof tot 30 Junie 1984.

    30 April 1984

    Professor A. van Selms is oorlede op 30 April 1984. Die Hervormde Teologiese Studies, Jaargang 41, aflewering 4, Mei 1985 was gewy aan hom en het artikels bevat van sy nagraadse studente L.C. Bezuidenhout, A.P.B. Breytenbach, A.A. da Silva, J.A. Loader, J.P. Oberholzer, G.M.M. Pelser, A.G. van Aarde , W.C. van Wyk en P.M. Venter. Voorin het W.C. van Wyk 'n huldiging geskryf, waaruit die volgende aangehaal word:

    Die uitmuntende kwaliteit van professor van Selms se akademiese werk oor ruim vyf dekades is weerspieël in sy doseerwerk, sy publikasiedrif en die groot rol wat hy as medestigter van en getroue medewerker in die Ou Testamentiese Werkgemeenskap van S.A. gespeel het. Hy het rigting gegee aan die studie van die Ou Testament en die Semitiese Tale in SA. Sy lesings was altyd opwindend en prikkelend. Professor van Selms se oudstudente beset leerstoele in die Teologie en Semitiese Tale aan baie SA universiteite. Hy was altyd 'n aangename kollega wat 'n mens verras het met sy fenomenale geheue vir aanhalings uit antieke tekste in Grieks, Latyn en die Semitiese Tale. Terselfdertyd is 'n mens getref deur sprankelende oorspronklikheid en diepte van insig in sy vak, wat hy altyd in wye wetenskaplike verband gesien het. [...] Verskillende vererings het professor van Selms te beurt geval. Hy was volle lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en korrespondent van die Nederlandse Koninklike Akademie van Wetenskappe. In 1959 is hy benoem tot Offisier in die Orde van Oranje-Nassau. Hy is in 1975 benoem tot erelid van die British Society of Old Testament Study. In 1976 is die Stalsprys vir Teologie deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Die Universiteit van SA het in 1977 hom met 'n eredoktoraat in die Teologie vereer. Dit was besonder gepas dat die Universiteit van Pretoria in 1982 Professor van Selms met die toekenning van die DLitt graad vereer het. [Die Hervormde Teologiese Studies, Jaargang 41, aflewering 4, Mei 1985. 'n Lys van die publikasies van Van Selms is opgeneem na die huldigingswoord.]

    02 Mei 1984

    Die Senaat betuig staande sy meegevoel met die naasbestaandes van professor A. van Selms.

    08 Mei 1984

    Die Dosentevergadering gee opdrag dat 'n nuwe lesingrooster opgestel word wat voorsiening maak vir middaglesings, seminare en klaspreeksessies, en besluit dat Kital sy kursus in beplanning vir BD III studente moet aanbied en dat die Departement Praktiese Teologie in oorleg met die voorsitter van die Raad vir Kerkmusiek 'n praktiese reëling moet tref om die studente meer vertroud met kerkmusiek en kerksang te maak.

    22 Mei 1984

    Die Fakulteit ken die Nico Prinslooprys toe aan E. van Eck. As plaasvervangende dekaan word in volgorde genomineer J.P. Oberholzer, A.D. Pont en G.M.M. Pelser. As proefskrifonderwerpe word goedgekeur: M.H. McDonald Die betekenis van antropologie vir die kerklike verkondiging, F.H. van der Merwe Die rol van die Christelike Etiek in die Afrikaner volkswording. Daar was 66 BD studente en 33 DD studente ingeskryf.

    17 Julie 1984

    Die Dosentevergadering tref reëlings om duplisering van onderwerpe vir BD skripsies uit te skakel, neem kennis dat professor W.H. Neuser in Augustus as gasdosent in die Departement Kerkgeskiedenis sal optree, dat die Predikantevergadering 'n kerkwapen van leer wil oorhandig en dat die N.H.S.V. aangebied het om 'n sitkamer-teekamer vir Fakulteitslede in te rig. Die vergadering besluit dat professor G.M.M. Pelser die Fakulteitsopening in Februarie 1985 sal waarneem en dat professor A.P.B. Breyetenbach die Akademiese Wydingsdiens sal lei.

    15 Augustus 1984

    Die Senaat wens J.P. Oberholzer, W.C. van Wyk, G.M.M. Pelser en A.P.B. Breytenbach saam met A.H. van Zyl geluk met die ontvangs van goue pennings en oorkondes van die Nederduitsch Hervormde Kerk vir hulle werk aan die Bybelvertaling, en vir J.P. Oberholzer en A.H. van Zyl met die ontvangs van oorkondes van die FAK en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir hulle aandeel aan die Bybelvertaling.

    20 September 1984

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aanvaar 'n mosie van roubeklag met die dood van professor A.S. Geyser. Die Kommissie het verder besluit dat die memorandum Kerk en Wêreld 2000 in sy finale gedrukte vorm en so wyd as moontlik in die kerk versprei moet word en dat die konsep-strategie opgeneem word in die Agenda van die Algemene Kerkvergadering.

    Die publikasie Kerk en Wêreld 2000 het verskyn in 1985, slegs nege jaar voor die radikale verandering in die politieke toneel wat met die verkiesing van 1994 sy beslag gekry het. Die publikasie was 'n poging om die oë van ampsdraers en lidmate van die kerk oop te maak vir werklikhede wat tot dan toe te gemaklik verbygesien is.

    22 September 1984

    Die Fakulteit ken die S.P. Engelbrecht Erepenning in goud toe aan J.M.G. Storm en in brons aan D.W. van der Watt. As proefskrif onderwerpe is goedgekeur: J. Buitendag Skepping en Ekologie, 'n sistematiese ondersoek na die teologiese verstaan van die werklikheid, E. Engelbrecht Geregtigheid en sending in die Matteusevangelie, R. Gramsch Der Synkretismus der Genfer ökumenische Beweging seit den Vorkonferenzen der Vollversammlung von Neu-Delhi 1961.

    08 Oktober 1984

    Die Dosentevergadering bespreek riglyne vir 'n evaluasieprogram vir teologiese studente, die verslag van die Kurrikulumkomitee, die voorstelle oor 'n oriënteringskursus vir BD studente en voorstelle oor 'n seminaarstelsel en benoem professore Breyetenbach en Van Aarde as bykomende lede van die Kurrikulumkomitee. Professor Dreyer sal as voorsitter van die komitee optree tydens professor van der Merwe se langverlof in 1985.

    13 November 1984

    Doktor H. Muller kondig aan dat hy uittree as kanselier van die Universiteit van Pretoria na 20 jaar.

     

    1985

    05 Maart 1985

    'n Gesamentlike vergadering van die twee afdelings van die Fakulteit Teologie besluit: dat 'n departement Bybelkunde gestig word binne die Fakulteit Teologie, wat primêr aldaar gesetel sal wees , maar dat die Departement Bybelkunde ook 'n departement binne die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte sal wees. Bybelkunde VE krediete word binne die Fakulteit Teologie bereken.

    01 April 1985

    Professor P.J. van der Merwe gaan op studieverlof tot 30 September 1985.

    02 April 1985

    J.P. Oberholzer hou die rede by die gradeplegtigheid van die fakulteite Teologie en Regte op. Sy toespraak is opgeneem in Hervormde Teologiese Studies, Jaargang 42/1 Maart 1986 onder die opskrif Die Universiteit en die goeie lewensorde.

    21 April 1985

    Professor G.M.M. Pelser vier sy 25 jarige ampsjubileum as predikant by wyse van 'n erediens in die kerkgebou van Philadelphia en 'n program daarna wat deur die gemeente gereël is en waar gelukwense uitgespreek is deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering en die dekane van die fakulteite Lettere en Wysbegeerte en Teologie (Afdeling A).

    21 Mei 1985

    Die jaarverslag meld dat J.P. Oberholzer na voltooiing van die Bybelvertalingsprojek weer voltyds in sy departement besig is. Volgens die jaarverslag was daar in Afdeling A 75 BD studente en 26 DD studente ingeskryf.

    04 Junie 1985

    Die Dosentevergadering beveel aan dat mede-professore benoem word in Praktiese Teologie en Dogmatiek, keur goed dat die Oriënteringskursus vir BD studente op 11–13 Februarie 1986 gehou word, bespreek die moontlikheid van 'n koppeling met Kital, gee opdrag dat 'n kursus vir voortgesette onderrig in 1986 gereël word en besluit oor die verspreiding van skripsies tussen die dosente.

    14 Junie 1985

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van 'n studiestuk Suid-Afrika 2000: Kommentaar oor 'n waarskynlike scenario vir Suid-Afrika teen die jaar 2000 deur P.H. Spies van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit van Stellenbosch en verwys dit na J.P. Oberholzer en G.C. Velthuysen om in ag te neem by afronding van die projek Kerk en Wêreld.

    10 Julie 1985

    Doktor H. Muller is oorlede.

    30 Oktober 1985

    Die Senaat neem afskeid van professor P.S. Dreyer wat op 31 Desember 1985 aftree.

    18 November 1985

    Die Raad wens professor B.J. Engelbrecht geluk met die ontvangs van 'n silwermedalje van die Suid-Afrika Hengelaarsunie vir sy navorsing en publikasies oor varswaterhengelvisse.

    25 November 1985

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van 'n verslag van dominee J. Buitendag oor sy studie in Erlangen onder leiding van professor F. Mildenberger.

     

    1986

    14–16 Februarie 1986

    Die Witfontein fees word gevier, Vrydagaand 14 Maart in die Dirk van der Hoffsaal met 'n program getitel Stryd, roeping en voortbestaan, wat bestaan het uit historiese vertelling deur professor S.J. Botha oor die gebeure 100 jaar gelede, voorlesings deur professor P.G. Nel, vertellings deur doktor D.J.C. van Wyk en student Fanie Hoffman, praeses van die Van Der Hoff Teologiese Vereniging, samesang en 'n orreluitvoering deur Susan Engelbrecht; Saterdag op die terrein waar oorspronklik die sinkkerk van die Konsulentsgemeente van Pretoria gestaan het, die plaas Witfontein wat nog in besit was van nasate van die Witfonteinse Prinsloos, met program: Opening deur die predikant van Bronkhorstspruit dominee C.J.J. van Rensburg, rede deur professor A.D. Pont, onthulling van gedenkplaat en monument deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, klipstapel en oorhandiging van dankoffers vir die Fonds vir Gemeente-opbou, kranslegging by die grafte van ouderling M.J. Prinsloo en kommandant Salomon Prinsloo en Sondag 'n erediens in die kerkgebou van Bronkhorstspruit gelei deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering.

    25 Februarie 1986

    Die Dosentevergadering besluit oor die aanlê van 'n register van BD skipsies en oor die bewaring van die skripsies in die Kerkargief en die Studente leeskamer, neem kennis dat twee navorsingsassistente vir Nuwe Testamentiese Wetenskap en een vir Kerkgeskiedenis goedgekeur is, en besluit dat 'n plaatjie aangebring moet word op die kateder wat in 1938 deur die Predikantevergadering aan die Fakulteit geskenk is en wat tans in die Intersaal staan.

    18 Maart 1986

    Die Fakulteit ken die Nico Prinslooprys toe aan W.C. van Wyk junior. Vrystelling van die doktorale eksamen is verleen aan G.J.J. Labuschagne op grond van 'n doktorale eksamen aan die Universiteit van die Noorde. Die jaarverslag meld dat 62 studente vir BD en 34 vir DD ingeskryf is.

    21 Maart 1986

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering kry verslag van professor A.D. Pont oor die Witfontein fees. Die verrigtinge is bygewoon deur bykans 2500 persone. Die verkoop van aandenkings het egter nie aan die verwagtings voldoen nie. Nege tiendes van die silwerpennings en van die bronspennings was nog nie verkoop nie en daar was ook nog van die porseleinware oor. Die Administrateur het verslag gedoen van die insameling vir die Fonds vir Gemeenteopbou. Daar was tot dusver R226 000 ingesamel.

    Die Kommissie het ook die reglement goedgekeur vir die Sentrum vir Voortgesette Teologiese Toerusting (SVTT) wat gesetel word in die Fakulteit Teologie (Afdeling A) aan die Universiteit van Pretoria, asook die nuwe kontrak met die Universiteit na sekere wysigings.

    06 Mei 1986

    Die Dosentevergadering bespreek 'n skrywe van die Kuratorium oor 'n direkteur vir S.V.T.T. en neem kennis van die verspreiding van BD skripsies tussen die departemente en dosente.

    12 Mei 1986

    Die 61ste Algemene Kerkvergadering neem sitting. 'n Mosie van roubeklag is aanvaar met die afsterwe van professore A.S. Geyser en A. van Selms, dominees J.H. van Staden, A.J. Willemse, G.H.J. Marsman en doktor P.G. Geertsema. 'n Mosie van dank is aanvaar 'met die feit dat professor doktor J.P. Oberholzer in goeie gesondheid en lewenskrag na sy siektetoestand teenwoordig is om die leiding van die vergadering te neem.' [Dit verwys na 'n hartprobleem wat gediagnoseer is in 1979 en gevolg is deur 'n hartomleidingsoperasie in die J.G. Strydom Hospitaal in Johannesburg op 04 September 1985.]

    In die openingsrede na aanleiding van 1 Petrus 2:1–17 is onder andere gesê:

    Dit is tog 'n vanselfsprekende saak dat ons deur ons voorbeeldige lewe diegene wat ons beswadder van 'n antwoord sal voorsien. Dat ons beswadder word, dit is waar. Daar word van ons kwaad gepraat asof ons misdadigers is. Die boodskap wat ons ontvang het, sê daar is net een antwoord daarop, en dit is 'n voorbeeldige lewe. Ons het die barbarisme op sy wreedste sien terugkeer in ons land. Ons verkeer in 'n rewolusionêre oorlog waarin die menslikheid en die waarheid nie ontsien word nie. Die kerk beantwoord nie barbarisme met barbarisme, terrorisme met terrorisme nie. Hoeveel haat daar ook mag wees, ons kan nie daarin deel nie. Daar is tye in die lewe van die kerk wanneer hy baie hard en baie duidelik nee moet sê. En miskien is hierdie so 'n tyd waarin die Nederduitsch Hervormde Kerk in ooreenstemming met sy identiteit en sy opdrag duidelik nee wil sê. Nee aan elkeen wat meen dat vaderlandsliefde, verbondenheid aan die eie volk en 'n nasionale ideaal 'n kompromis met die kwaad billik. Maar terselfdertyd nee aan elkeen wat uit teenoorgestelde beweegredes die kerk en sy boodskap in beslag wil neem vir goddeloosheid en geweld.

    Die H.C.M. Fourie Erepenning is in hierdie vergadering toegeken aan nie minder nie as vier persone. Die voorsitter van die Kuratorium, doktor D.J.C. van Wyk, het van professor P.S. Dreyer gesê:

    Soos uit sy publikasies blyk, het hy 'n imponerende bydrae gelewer tot die uitbouing van die Bybels-Reformatoriese Teologie in ons land, en die praktiese arbeid op soveel terreine in die kerk bevestig dit.

    Van professor B.J. Engelbrecht:

    As toonaangewende vertolker van die gedagtes van die groot Reformatore en as praktiese dogmatikus met fyn insig en oorspronklikheid, het hy 'n besondere bydrae gelewer tot die gestalte van die teologie binne en buite die Nederduitsch Hervormde Kerk.

    Van meneer A.B. van N. Herbst:

    As daar na meneer Herbst se dienswerk vanaf 1946 gekyk word, is dit miskien die maklikste om hom te tipeer as 'n dader van die Woord; 'n man wat in die kerk die stoflike, finansiële en organisatoriese strukture geskep en in stand gehou het ter wille van die kerk [...]. Hy het deur sy leiding, sy hele lewe en werk, op sonderlinge wyse bygedra tot die groei en vooruitgang van die Nederduitsch Hervormde Kerk asook die bestendiging en uitbouing van die standpunt en houding van die kerk.

    Van professor A.D. Pont:

    Professor Pont het oor die hele tydperk van sy akademiese loopbaan volgehou met publikasies van hoogstaande gehalte. [...] Met kritiese insig en vakkundige bedrewenheid het hy 'n positiewe bydrae gelewer tot die bestendiging en uitbouing van die Bybels-reformatoriese teologie [...]. Die loopbaan van professor Pont word gekenmerk deur lewendige en aktiewe betrokkenheid op kulturele en soms ook op politieke gebied, wat hom 'n wyle 'n omstrede figuur gemaak het. Sy besondere piëteit teenoor kerk en volk het daardeur aan diepte gewen.

    Die Kommissie het gerapporteer oor die Witfontein fees, die restourasie van die Goddefroy-grafte in die Ou Begraafplaas, Pretoria, en die aanbring van 'n gedenkplaat in die foyer van die Dirk van der Hoff gebou. 'n Kranslegging by die Goddefroy-grafte het op 13 Mei 1986 plaasgevind. Die gedenkplaat in die foyer is op dieselfde dag onthul deur die voorsitter, en gedenkpennings en eksemplare van die Gedenkalbum is oorhandig aan die persone wat besondere diens gelewer het voor en tydens die fees.

    'n Nuutgetekende kerkwapen is ontvang en aan die skriba oorhandig vir veilige bewaring. Besluit is ook dat die saal in die Dirk van der Hoffgebou voortaan bekend sal staan as die Goddefroysaal. [Die Gedenkalbum 1886–1986 van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in Woord en Beeld, gedruk deur N.H.W. Pers en uitgegee deur die feeskomitee, is 'n pragwerk, ryklik versier met foto's en met teks oor die verlede en die hede van die kerk. In die voorwoord het die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering onder andere geskryf: 'n Album soos hierdie is in sekere sin 'n selfbekendstelling. Die opstellers, wat lede en ampsdraers van die kerk is, gee in die album hulle gedagtes weer oor wie die Nederduitsch Hervormde Kerk is en waar hy vandaan kom. ...Die interpretasie van die gang en voorkoms van die kerk is saak van kritiese solidariteit, van geloof-in-gehoorsaamheid.]

    [Deel I, die historiese oorsig deur A.D. Pont, S.J. Botha en J.M.G. Storm geskied onder die volgende hoofde: Die grondslae van ons kerk in Europa, Die vestiging en groei van kerk en volk in Suid-Afrika, Die Groot Trek en die vestigingsgeskiedenis van ons kerk, Die poging tot kerkvereniging, Die Konsulentsgemeente van Pretoria verenig nie, dominee M.J. Goddefroy kom na Transvaal, Die heropbou van ons Kerk na die nislukking van die vereniging, Uiteindelik 'n eie teologiese opleiding, Kerklike groei op verskillende vlakke, Verskillende momente uit die voortgang en groei van die Kerk gedurende die laaste vyftig jaar.

    Deel II deur meneer A.B. van N. Herbst staan onder die opskrifte Die Herdenkingsfees op Witfontein 15 Februarie 1986, Die Algemene Kerkvergadering en Die Ringsvergadering, en word gevolg deur foto's van die kerkgeboue en kerkrade van al die gemeentes.]

    J.P. Oberholzer is verkies as voorsitter, J.C. de Lange as skriba, D.J.C. van Wyk as vise-voorsitter (dominee C.L. van den Berg het versoek om nie weer verkies te word nie) en G.C. Velthuysen as vise-skriba. As predikantlede van die Kommissie is verkies professore A.D. Pont en T.F.J. Dreyer. Die vergadering het besluit dat die skriba voltyds moet dien en dat die Kommissie die pos moet omskryf. Uit statistiek van lidmategetalle oor die jare 1965–1985 het dit geblyk dat die kerk hom ernstig moet bekommer oor dalende getalle. Die draaipunt was 1983. Die 130 981 belydende lidmate in 1985 is bedien deur 261 predikante in gemeentes. Daarnaas was daar 18 predikante met besondere opdrag, 16 teologiese dosente, 26 dienspligkapelane, 9 deeltydse predikante en 6 predikante met studieverlof. Die vergadering het kennis geneem van die predikanteposisie en van die mededeling dat dit onwaarskynlik lyk dat voldoende standplase beskikbaar sal kom om aan al die studente wat vanaf 1987 afstudeer, standplase te voorsien. Daar is besluit om die versoek te herhaal dat gemeentes met meer as 700 belydende lidmate tweede standplase vorm en dat minder gebruik gemaak moet word van pastorale hulp of deeltydse dienswerk. Hierdie vergadering het indringend debat gevoer oor art III van die Kerkwet. Die publikasie Artikel III van die Kerkwet: 'n Verantwoording voorberei onder leiding van doktor D.J.C. van Wyk, het gedien as studiemateriaal. Bespreking het plaasgevind agter geslote deure van die middag van 13 Mei tot die middag van 14 Mei. Besluit is om die artikel onveranderd te laat en die hele aangeleentheid vir verdere studie na die Kommissie te verwys met die oog op onder andere 'n herformulering van die motivering aan die einde van die artikel. Teenstemme teen hierdie besluit is soos volg aangeteken:

    Professor P.J. van der Merwe: Artikel III ondergrawe Artikel I en vertoon 'n innerlike tweespalt.

    Ouderling T.P. Venter (Potchefstroom-Studente):

    Die behoud van die woord 'blanke' in art III van die Kerkwet is vir my onaanvaarbaar omdat dit op geen wyse Bybels gefundeer kan wees nie. Dit versinnebeeld 'n burgerlike godsdiens en weerspieël 'n geïnstitusialiseerde rassisme wat Christelik onhoudbaar is. Die Nederduitsch Hervormde Kerk gaan deur die handhawing van dié artikel voort om beslag te gee aan 'n politieke orde wat Christelik op wankelende bene staan.

    Doktor M.W. Pretorius, professor J.A. Loader, dominee W.J. Bezuidenhout, dominee L.C. Bezuidenhout, doktor A.J.G. Dreyer, dominee J.L.P. Wolmarans, doktor J.M. Lensink, dominee A.J.J. Zwarts, dominee G.M.J. van Wyk, ouderling P.A. Vorster, dominee P. Grobler, dominee G. van R Els, doktor J. Buitendag, dominee H.P. van den Berg, dominee C.H. du Plessis, dominee E. Verhage, ouderling G.J. Swanepoel, ouderling A.D. de Jong, dominee J.H. Vorster, diaken L. Moolman:

    Ons versoek ernstig en nederig dat ons teenstem aangeteken word teen die besluit om art III van die Kerkwet onveranderd te handhaaf.
    Motivering:

    1. Die woorde 'blanke persone' funksioneer as 'n simbool. Daarmee word 'n ideologiese begrip in die kerk van Jesus Christus ingedra – na ons mening onbybels.
    2. Die artikel beperk lidmaatskap tot blankes en is dus inderdaad eksklusief, wat geensins Bybels geregverdig kan word nie.
    3. Die motivering in art III vermeng die kategorieë 'ras' en 'volk' op 'n onregverdigbare wyse.
    4. Die behoud van art III in sy huidige vorm bring die wese van die kerk na ons mening in gedrang.
    5. Ons teken ons teenstem in solidariteit met en liefde vir die kerk aan.

    Dominee J.L. van der Westhuizen: 'Teologies (Bybels) is die onderskrywing vir die bestaan van art III vir my onaaanvaarbaar.'

    Die vergadering het kennis geneem van die instelling van 'n mede-professoraat in Nuwe Testamentiese Wetenskap en het begroot vir die instelling van so 'n pos in Dogmatiek en Christelike Etiek.

    Kennis is geneem van die verslag van die Kuratorium wat gemeld het dat in 1985 daar 149 studente met die studie besig was, waarvan 17 dames was. Die nuwe Afrikaanse Bybelvertaling is voltooi en J.P. Oberholzer is nou weer voltyds besig met doseer-en navorsingswerk in sy departement. Professor W.C. van Wyk gee steeds een lesing per week in die departement in Bybelse Argeologie. Kennis is ook geneem van die Dekaansverslag wat onder andere gemeld het:

    Die relatief hoë aantal publikasies per dosent toon aan dat daar goeie aandag aan hierdie aspek bestee word. Elkeen van die dosente het goeie kontak met die kerk. Hulle preek gereeld op uitnodiging in talle gemeentes en dien op 'n hele aantal kerklike besture en kommissies. Talle adviese is vir die kerk uitgebring, 'n hele aantal toesprake is voor kerklike en openbare instansies gehou terwyl die openbare kommunikasiemedia (radio, televisie en koerante) ruim van die kennis van die fakulteitslede gebruik gemaak het. Meeste lede behoort aan landswye vakkundige verenigings, terwyl 'n paar ook op die bestuursvlak van openbare liggame diens lewer. Die Fakulteit is op die oomblik baie goed gehuisves in die gerestoureerde Nuwe Letteregebou wat tans die Teologiegebou heet.

    Tesame met die aanvaarding van die dekaansverslag is ook besluit:

    Hoë waardering word uitgespreek vir die Dekaan wat nou in sy laaste dienstermyn is. Sy hoë intellek, akademiese bekwaamheid, sy bydrae as dekaan en sy rol in die topbestuur van die Universiteit van Pretoria word spesifiek genoem.

    As lede van die Kuratorium is verkies professore S.J. Botha, H.G. van der Westhuizen, doktore E.C.B. Kotze, J.P. Naude, J.H. Koekemoer, A.J.G. Dreyer en dominee W.C.M de Beer.

    Hierdie Algemene Kerkvergadering het ook die strategie aanvaar wat deur die Kommissie voorgelê is na aanleiding van die projek Kerk en Wêreld 2000. Die strategie het gestaan onder die hoofde Bevordering van die teologiese arbeid, Bevordering van die ekumeniese verband, Die vryheid en verantwoordelikheid van die kerk op staatkundig politieke gebied, Die verantwoordelikheid van die kerk op sosiaal etiese gebied, sowel as Die kerklike bediening.

    Die enigste teenstem teen die aanvaarding van die strategie was van dominee L.C. Bezuidenhout, teen die paragraaf

    Die Algemene Kerkvergadering en sy kommissie handhaaf in sy getuienis die oortuiging van die kerk dat afsonderlike en gelyke geleenthede vir alle volke en bevolkingsgroepe moet bestaan om hulle daartoe in staat te stel om hulle eie aard en vermoë tot volle rypheid te bring.

    Sy motivering was:

    In hierdie punt spreek die kerk hom uit ten gunste van die politieke stelsel van afsonderlike ontwikkeling. Dit skaad die Kerk se verkondiging in die sin dat die Evangelie gekoppel word aan 'n politieke stelsel. Die geloofwaardigheid van die kerk se boodskap kom in die gedrang.

    Twee mosies is ook aanvaar, die een oor die teenwoordigheid van anderskleuriges by eredienste. Die strategie se bewoording was:

    Kerkrade sien toe dat die besluit van die Algemene Kerkvergadering 1979 so uitgevoer word dat geen krenking van mense plaasvind nie. Die kern van die besluit soos dit ten opsigte van begafnisdienste geformuleer is, is: Waar nie-blanke persone wel opdaag by 'n begrafnis met of sonder vooraf kennis van die predikant of kerkraad, en soms selfs sonder vooraf kennis van die familie, behoort die Christelike wellewendheid te geld, en sal dit in die meeste gevalle waarskynlik die verstandigste wees om so min moontlik besondere aandag daaraan te gee. Waar die bedoelings opreg is, sal dit nie tot enige aansprake of bywoning ook van ander eredienste lei nie, en waar daar bybedoelings is, is negering dikwels die beste verweer. Bo alles is die vraag wat die kerk in elke geval moet stel: Kan ek my voor God verantwoord vir my optrede? Die konsekwensie hiervan is dat niemand van 'n erediens weggewys sal word nie.

    Die mosie, wat sonder bespreking aanvaar is, het hierdie aangeleentheid na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verwys met die versoek dat die saak in die lig van die besluite van die Algemene Kerkvergadering van 1979 indringend bespreek sal word en dat aan die gemeentes leiding gegee sal word.

    Die tweede mosie wat aanvaar is, was 'n versoek dat in ag geneem word dat die ekologiese krisis ewe aktueel is en vir die kerk van groot belang.

    Die vergadering het verder ook sy gelukwensinge uitgespreek teenoor die Bybelvertalers en Bybelgenootskap met die daarstelling van die Nuwe Afrikaans Bybelvertaling, en die voorsitter het sy eie, die ander medewerkers aan die vertaling en die kerk as geheel se dank uitgespreek teenoor die Bybelgenootskap vir die ondersteuning rondom die vertaalprojek en die hoë kwaliteit van werk wat hulle deurlopend lewer.

    Die 61ste Algemene Kerkvergadering het verder ook in die verslag oor die Tussenkerklike Kommissie die formulering oor die Bybel as Woord van God waaroor die drie kerke ooreenstem, aanvaar.

    [Die Nederduitsch Hervormde Kerk Afvaardiging het sy verdere standpunt soos volg geformuleer: Ons verwerp pogings om Christus in elke Ou Testamentiese teks in te lees of dit simplisties in 'n belofte-vervulling skema in te forseer.]

    21 Mei 1986

    Die Senaat erken die 25 jarige voltyse diens van professor W.C. van Wyk en wens professore P.S. Dreyer, B.J. Engelbrecht en A.D. Pont geluk met die ontvangs van die H.C.M. Fourie erepenning. Die Senaat benoem professor W.C. van Wyk as verteenwoordiger op die Gemeenkaplike Matrikulasieraad vir die termyn tot 01 April 1987.

    28 Mei 1986

    Die Kuratorium verkies professor S.J. Botha as voorsitter en doktor E.C.B. Kotze as vise-voorsitter. Saam met hulle is professor H.G. van der Westhuizen en dominee W.C.M. de Beer as lede van die Dagbestuur aangewys. Naas die Dagbestuur het met verloop van tyd ook 'n aantal komitees gedien, naamlik die Beurskomitee, die Evaluerings/Begeleidingkomtee, en die Beurskomitee vir nagraadse studie. Die Kuratoriumdag is bepaal vir 02 Augustus 1986.

    19 Junie 1986

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering keur 'n Herderlike Skrywe goed vir versending aan gemeentes. Oor Artikel III van die Kerkwet is daar onder andere geskryf:

    Terwyl die kerk steeds die oortuiging het dat hy sy opdrag om die evangelie aan alle mense te verkondig, die beste kan uitvoer deur hierdie reëling, wil hy aan die ander kant waak teen enige gedagte dat hy uit oorweging van ras of kleur aan so 'n artikel gebind is. Hierdie artikel bly 'n praktiese maatreël wat so verstaan moet word: 'n werkverdeling waardeur 'n reëling gemaak word wat na die insig van die kerk in hierdie stadium die mees geskikte middel is ter uitvoering van die taak van die kerk binne die besondere omstandighede waarin die kerk in Suid-Afrika leef. Ons besef maar alte goed dat Artikel III 'n buitengewone maatreël is wat nie 'n vanselfspekende plek in kerklike ordes het nie. Daarom was dit eintlik vanselfsprekend dat die Algemene Kerkvergadering die hele aangeleentheid vir verdere studie sou verwys. [...] Met sy besluit oor Artikel III het die Algemene Kerkvergadering nie gekies vir of teen die standpunt of beleid van enige bepaalde politike party nie. [...]Ons verwag van lidmate van die kerk dieselfde nougesetheid. Niemand kan hierdie artikel en sy bedoeling reg verstaan as hy dit vanuit 'n politieke oogpunt wil begryp nie. Dit is 'n artikel waarin die kerk die moeisame weg volg om 'n eie mening te vorm oor die omstandighede in die menslike samelewing waarin hy hom bevind en waarin hy die pad van gehoorsaamheid aan sy roeping probeer volg. Niemand moet in hierdie artikel meer lees as wat sy bedoeling is nie, en as enigiemand twyfel oor die bedoeling, verwys ons hom graag na die bestaan van die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika, 'n kerk met wie ons graag in die nouste betrekkinge wil staan en wat kragtens sy samestelling en aard juis uitdrukking is van wat die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika bedoel met die vorming van volkskerke onder die verskillende volksgroepe. [...] Ten slotte wil ons by herhaling daarop wys dat Artikel III lidmaatskap reël en dat hierdie arikel nie gebruik moet word as argument teen die bywoning by geleentheid van eredienste deur ander persone nie. Die Algemene Kerkvergadering het dit in die verlede reeds duidelik gestel dat daar bepaalde oorwegings is wat die bywoning van eredienste reël en dat kerkrade die Christelike wellewendheid en die verantwoordbaarheid voor God hierin die deurslag moet laat gee.

    Die Herderlike Skrywe verwys daarná na die besluite van die Algemene Kerkvergadering oor die taak van die kerk teenoor die owerheid en sê dan verder:

    In die laaste verband word onder andere daarop gewys dat kerk en volk in die geskiedenis steeds op een of ander wyse nou verbonde was en dat die kerk die huidige situsie in die lig daarvan sal beoordeel, maar dat aan die ander kant die spanning tussen kerk en volk en veral tussen die toekoms van die kerk en die toekoms van die volk nie opgehef word nie. Die volk is organiese veranderende lewensverband en daarby sonder ewigheidswaarde. Hoe sterk die kerk ook kulturele gestalte aanneem, gaan hy nie daarmee op in volk en kultuur nie. Hy behou die ruimte vir die toetrede van lede van ander volke en vir die gebruik van meer tale om sy aposteltaak uit te voer. Juis daarin dat hy universele kerk bly, kan hy ook volkskerk wees. Sy denke oor die toekoms bly die kerklike denke en sy gang deur die geskiedenis bly dié van 'n pelgrim na die hiernamaals. Die kerk weet dat sy heil nie geleë is in die gang van 'n volk deur die geskiedenis nie en nie saamhang met die voorspoed en die teenspoed op die volk se pad nie. Dit beteken nie dat hy die volksverband van sy lede geringskat of dat hy vaderlandsliefde as 'n ondeug beskou nie. Juis deur die geloofsband voorop te stel en die vaderland as 'n gawe van God te sien wat in dankbaarheid ontgin moet word, gee die kerk aan die volksverband kwaliteit. Sy verantwoordelikheid aan sy Heer lê hom die vryheid as dure taak op en gee hom die vrymoedigheid om in die kultuurgestalte wat hy aangeneem het, in die taal waarin hy getoë is, apostel vir alle mense te wees.

    Ten slotte bring die Skrywe ook die volgende voorskrifte uit die strategie van Kerk en Wêreld 2000 onder die aandag van gemeentes:

    Die Algemene Kerkvergadering en sy Kommissie handhaaf in sy getuienis die oortuiging van die kerk dat afsonderlike en gelyke geleenthede vir alle volke en bevolkingsgroepe moet bestaan om hulle daartoe in geleentheid te stel om hulle eie aard en vermoë tot volle rypheid te bring.
    Opsighoudende vergaderings sien nougeset toe dat dienaars van die Woord die besluite van die kerk ten opsigte van deelname aan partypolitieke handelinge gehooraaam en dat partypolitiek uit die prediking, vergaderings en ander kerklike arbeid geweer word. Dienaars van die Woord stel in die prediking die eise van die Christelike lewe onverminderd en duidelik.
    Naas die klem op die heiliging van die eie en gemeenskapslewe word besondere aandag gegee aan die hoë eise van die evangelie ten opsigte van tussenmenslike verhoudings.

    Daar was reaksie op die herderlike skrywe van die kant van die Ring van Krugersdorp, wat gemeld het dat hulle van mening is dat dit te lank en ingewikkeld is.

    24 Junie 1986

    Die Dosentevergadering beveel aan dat doktor G.C. Velthuysen aangestel word as mede-professor in Dogmatiek en Christelike Etiek en doktor J.H. Koekemoer as direkteur van die S.V.T.T.

    29 Julie 1986

    Die Fakulteit keur die vakkeuse van M.A. Bothma, W.W. Papp, F.J. Boshoff, J.H. Prinsloo en P.J.E. Botha vir DD goed, en as proefskrifonderwerpe vir W.J. Bezuidenhout Die teologiese en lewensbeskoulike agtergronde van Artikel III in die Kerkwet van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, en G.J.J. Labuschagne Wondergenesings. 'n Pastoraal-psigologiese studie oor hedendaagse gloofsgenesingspraktyke

    03 September 1986

    Die Kuratorium benoem doktor G.C. Velthuysen as mede-professor in Dogmatiek en Christelike Etiek en doktor J.H. Koekemoer as mede-professor in dieselfde departement en as direkteur van S.V.T.T. Die voorsitter het verslag gedoen van die Kuratoriumdag wat as tema gehad het: 'Teologiese student op pad na die jaar 2000.' Kennis is geneem van 'n voorlegging van J.P. Oberholzer oor predikantstandplase waaruit geblyk het dat teen 1988 daar ongeveer 14 predikante surplus sal wees. Dit is verwys na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vir behandeling deur die nuwe Komitee vir Bedieningstrukture. Kennis is ook geneem dat die Universiteit van Pretoria 'n bedrag geld toegewys het aan die Departement Praktiese Teologie vir addisionele dosente-hulp. Die vorderingsverslae vir die eerste semester van 1986 is behandel en beurse toegeken.

    10 September 1986

    Die Senaat wens J.P. Oberholzer geluk met sy verkiesing as voorsitter van die Raad van Technikon Pretoria.

    23 September 1986

    Die Dosentevergadering aanvaar in beginsel die instelling van 'n MDiv graad vir implementering in 1988.

    26 September 1986

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het ook uitvoering gegee aan die opdrag van die Algemene Kerkvergadering om voorligting te gee oor die bywoning van eredienste deur anderskleuriges. Die volgende skrywe is aan kerkrade gerig na goedkeuring deur die Kommissie:

    Die Kommissie wil by herhaling en nadruklik daarop wys dat Artikel III van die Kerkwet lidmaatskap reël. Hierdie artikel wat lidmaatskap reël wat deur die Algemene Kerkvergadering onveranderd gehandhaaf is, moet nie gebruik word as 'n argument teen die bywoning by geleentheid van eredienste deur ander persone nie.
    Die teenwoordigheid van nie-blanke persone in kerkgeboue by besondere geleenthede is in die Hervormde kerk nie 'n nuwe saak nie. Dit is duidelik gestel in die Algemene Kerkvergadering van 1979 en deur daardie vergadering bevestig. Die gedragslyn wat daar neergelê is, is duidelik en vir geen misverstand vatbaar nie. Dit kom daarop neer dat kerkrade aan lidmate bekend maak dat die volgende prosedure gevolg moet word: Indien dit die wens van lidmate van die kerk is dat nie-blanke werkers of kollegas 'n begrafnis- of huweliksdiens sal bywoon, gee die betrokke lidmate die kerkraad kennis van die wens op dieselfde tyd wanneer die reëlings vir die geleentheid getref word. Die kerkraad sorg dat daar 'n prosedure is waarvolgens aan die saak uitvoering gegee kan word op 'n ordelike en netjiese wyse. Die hele gemeente word op die hoogte gebring van watter prosedure die kerkraad vasgestel het en aan wie die kerkraad die verantwoordelikheid opgedra het om versoeke in dié verband te hanteer. Dit beteken dat geen kerkraad 'n besluit in sy notuleboek sal hê waarin hy so iets gewoonweg verbied nie; hy sal alleen 'n besluit hê wat die prosedure reël. Oor die beginsel van die saak het die Algemene Kerkvergadering immers klaar besluit. Dieselfde Algemene Kerkvergadering het ook gehandel oor die gevalle waar nie-blanke persone opdaag by 'n geleentheid sonder dat die predikant of kerkraad en soms selfs die familie dit vooraf geweet het. Hieroor het die vergadering besluit: 'sal dit in die meeste gevalle waarskynlik die verstandigste wees om so min moontlik besondere aandag daaraan te gee. Waar die bedoeling opreg is, sal dit nie tot enige aansprake op bywoning ook van ander eredienste lei nie, en waar daar bybedoelings is, is negering dikwels die beste verweer. Bo alles is die vraag wat die kerk in elke geval moet stel: Kan ek my voor God verantwoord vir my optrede? Ook hierdie deel van die besluit behoort vir enige kerkraad duidelik te wees. Die konsekwensie daarvan is dat geen persoon wat by 'n begrafnis-of huwelikdiens opdaag, toegang tot die kerkgebou geweier sal word omdat hy anderskleurig is nie. Die Kommissie doen 'n beroep op kerkrade en ampsdraers om alles in hulle vermoë te doen om sake so te laat verloop dat geen mens deur die kerk of 'n verteenwoordiger van die kerk gekrenk sal word nie en dat die onderlinge vrede bevorder sal word.

    Oor hierdie skrywe het die Kommissie sterk reaksie ontvang. Die kerkraad van Ottosdal (predikant C.J.S. van Niekerk) het onder andere geskryf:

    Wat ons gemeente betref, is daar reeds deur die gemeente besluit dat geen anderskleuriges in ons kerk toegelaat sal word nie. Ons as kerkraad volstaan by die besluit en ons hoop dat dit die saak, sover as Ottosdal-gemeente aangaan, finaal afhandel.

    Suid-Oos Witbank (predikante M.M. Seymore en J.B. Schutte):

    Die kerkraad is van oordeel dat hy nie anderskleuriges by sy eredienste–spesiaal, uitsonderlik of gewoon–wil toelaat nie. Juis wil die kerkraad met hierdie reëling van hom orde, vrede en rus in die gemeente bewerkstellig–deur orde, vrede en rus ten opsigte van hierdie saak sal hy hom voor God verantwoord. Die kerkraad kan tog nie toelaat dat sy eie gelowige lidmate deur negering van die kom en gaan van anderskleuriges gekrenk en uitmekaargejaag word nie. So sal die Koninkryk van God nooit gedien word nie.

    Ebenhaezer (predikant L.M.P. Swanepoel):

    Die Kerkraad het met ontsteltenis kennis geneem van die nuusberig oor die radio rakende die teenwoordigheid van nie-blanke persone in kerkgeboue by besondere geleenthede. Die nuusberig het by talle lidmate verwarring geskep omdat dit by implikasie die indruk geskep het dat daar 'n dramatiese koersverandering in die Hervormde Kerk ten opsigte van standpunt en beleid rondom bogenoemde aangeleentheid ingetree het.

    Leeudoringstad (predikant J.J. Steenkamp):

    Kan die gemeente of kerkraad besluit oor die toelating vir besondere eredienste, gesien in die lig dat hierdie gemeente 'n gemeentebesluit het wat toelating verbied? Wat is die geldigheid van 'n besluit wat slegs herroepbaar is sonder 'n teenstem?

    Ermelo (predikant J.H. Brandt):

    Hierdie kerkraad het 'n besluit op 24 Oktober 1979 geneem dat geen anderskleurige 'n erediens mag bywoon nie. Word die kerkraad nou gedwing deur hierdie skrywe van u om die besluit te herroep? Verder wil ons graag verneem wat die bedoeling van die skrywe is. Wil die skrywe bywoning deur anderskleuriges by besondere geleenthede aanmoedig of is die bedoeling om dit te ontmoedig.

    Makwassie (predikant G.P. Visser):

    Ons kan nie insien dat dit verantwoordbaar sou wees om die bestaande orde in ons gemeente bewustelik te versteur en die deure vir die evangelie onder ons eie lidmate toe te maak nie. Uit eie plaaslike ervaring kan ons dit vir u as 'n feit stel dat navolging van u aanbevelings ook onherstelbare negatiewe gevolge sou hê en lidmate van die kerk sou vervreem. Derhalwe die eenparige gevoel van ons gemeente dat bywoning van anderskleuriges in die opset waarin ons mededraers van die Evangelie moet wees, die Koninkryk nie tot voordeel sou strek nie. Dit is vir ons ontstellend dat u uitdruklik impliseer dat weiering van 'n anderskleurige by 'n buitengewone erediens, na u mening, sonder meer nie verantwoordbaar voor God sou wees nie. Ons aanvaar dat so 'n stelling moontlik gebore kan wees uit die feit dat u vanweë u posisies nie so direk met die praktiese omstandighede te doen het as ons nie.

    Ringsraad vir Predikante, Ring van Klerksdorp (Die predikante in hierdie ring was F.G.J. Loots, E.J. van der Westhuizen, R.D.J. van Wyk, L.J. Steyn, A. Barnard, W.H. Swart, C.J. Smit, J.P.J. Fourie, E.P. Vosloo, P.J. van Zyl, en J.F. Wilson):

    'n Belangrike oorweging wat nie uit die oog verloor mag word nie, is die feit dat met sekerheid gesê kan word dat die oorgrote meerderheid van die Hervormde lidmate nie geneë is om hulle kerkgebou en geriewe vir almal oop te stel nie. Die Ringsraad stem daarmee saam dat Artikel III lidmaatskap reël. Die gevaar is egter dat die skynbaar toevallige saamwees by die besondere geleentheid reeds die implikasie inhou van sosiale vermenging en dit aanmoedig. Ons oordeel dat dit in stryd is met die gees van Artikel III soos uiteengesit in die Herderlike Skrywe van 1973 waarin die kerk hom onder andere 'skerp en ondubbelsinnig' uitspreek teen 'elke vorm van integrasie, kerklik, maatskaplik,en biologies.' Die vraag 'Kan ek my voor God verantwoord vir my optrede?' skep vir die Ringsraad probleme. Met hierdie vraagstelling kan die saak na uiterstes gedryf word, selfs wat sosiale vermenging in die praktyk betref tussen mense van verskillende rassegroepe.

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het besluit:

    Die onderskeie ringskommissies ontvang opdrag om tydens visitasies by Ottosdal, Leeudoringstad en Suidoos-Witbank hierdie saak grondig te behandel. Die Ringskommissie van Klerksdorp moet ook met die Ringsraad vir Predikante in die verband in gesprek tree. Nadat terugvoering van die kommissies ontvang is, sal die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit op verdere optrede.

    By die inligtingsvergadering op 27 November 1986 het die Kommissie die ringskommissies meegedeel dat die brief as advies beskou moet word en dat dit niks meer wil wees nie as uitvoering van 'n opdrag van die Algemene Kerkvergadering. Daar was later ook gesprekke met die kommissies van die Ringe van Bronkhorstspruit en Klerksdorp. Daarin het die Moderamen die kommissies daarop gewys dat geen kerkraad vry is om verkeerde besluite te neem nie en dat ringskommissies hulle opsigtaak na behore moet uitvoer.

    26 September 1986

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering bekragtig die benoeming van doktor J.H. Koekemoer as direkteur van die S.V.T.T, en van doktor G.C. Velthuysen as mede-professor in Dogmatiek en Christelike Etiek.

    Johannes Hendrik Koekemoer is gebore op 27 Augustus 1935 te Losberg. Sy ouers was Johannes Hendrik Koekemoer en Johanna Alida van der Walt. Hy besoek die laerskool Generaal Pienaar Skoolplaas en matrikuleer aan die Hoër Volkskool Potchefstroom in 1953, voltooi die BA, BD studie in 1959, word georden op 23 Januarie 1960 en bedien agtereenvolgens die gemeentes Turffontein, Bethal, Zuurfontein en Pretoria-Suid. Hy word in 1978 aangestel as direkteur van Kital en word in 1984 bevorder tot senior direkteur. In hierdie tyd tree hy op as pastorale hulp in Philadelphia en Boksburg. Hy promoveer in 1972 met die proefskrif Die Christologie van die Nuwe Teologie – 'n interpretasieprobleem onder leiding van professor B.J. Engelbrecht. In dieselfde jaar neem hy tydens die verlof van professor B.J. Engelbrecht die lesings in Dogmatiek waar, in 1973 is hy tydelik-deeltydse dosent in Bybelkunde, en van 1978 af tydelik-deeltydse dosent in Dogmatiek en Ensiklopedie van die Teologie. Hy woon in die jare 1979–1984 'n hele aantal ekumeniese konferensies namens die Kerk by. Teen die tyd van sy aanstelling as professor het hy reeds talle publikasies gelewer.

     

    Gerrit Cornelius Velthuysen is gebore op 27 November 1942 en groei op in Pretoria-Noord. Sy ouers was Carl Andries Velthuysen en Isabella Jacomina Combrinck. Hy gaan skool in Danie Malan Laerskool en Hoërskool Pretoria-Noord en matrikuleer in 1960 in die eersteklas. Aan die Universiteit van Pretoria voltooi hy die BA-graad met lof in drie hoofvakke, Grieks, Hebreeus en Wysbegeerte, BA Hons in Wysbegeerte met lof, en BD met lof in 1966. Hy is getroud met Lettie Driessen op 15 November 1965. Hy word georden op 28 Januarie 1967 en bedien agtereenvolgens die gemeentes Witbank Suid, Potchefstroom-Studente, Wonderboompoort, Duncanville en Swartkop. In 1981 promoveer hy onder leiding van professor B.J. Engelbrecht met die proefskrif Parabel van God en Paradigma van Menslikheid; Die Christologiese ontwerp van Edward Schillebeeckxs. Hy was outeur van etlike wetenskaplike en populêre artikels en boeke, eindredakteur van Kerk en Wêreld 2000, en het bygedra tot die rubriek 'Die kerk vandag' in Die Transvaler.

    Die Kommissie het doktor P.J. de Beer benoem as lid van die Kuratorium in die plek van doktor J.H. Koekemoer.

     

    1987

    17 Februarie 1987

    Die Dosentevergadering neem kennis van die beplanning van S.V.T.T. vir 1987, naamlik kursuspakette in die pastoraat vir predikante en in Bybelgebruik vir lidmate. Die Departement Ou Testamentiese Wetenskap is versoek om 'n handleiding vir nagraadse studente waaraan tans gewerk word, uit te brei vir algemene gebruik in die Fakulteit.

    18 Februarie 1987

    Die Kuratorium verwelkom vir doktor P.J. de Beer as nuwe lid en ook vir professore J.H. Koekemoer en G.C. Velthuysen. Kennis is geneem van 'n verslag van professor G.M.M. Pelser en A.G. van Aarde oor hulle bywoning van 'n kongres in die V.S.A, en dat J.P. Oberholzer studieverlof neem van Maart tot September 1987. In beginsel is besluit om toekenning van beurse te beperk tot 'n bepaalde getal studente. Riglyne vir dissiplinêre maatreëls is aanvaar. Vorderingsverslae vir die tweede semester van 1986 is behandel en beurse toegeken.

    17 Maart 1987

    Die Fakulteit verwelkom professore J.H. Koekemoer en G.C. Velthuysen. Waardering word uitgespreek teenoor professor B.J. Engelbrecht vir 17 jaar diens as dekaan. Die Nico Prinslooprys is toegeken aan P.J.W. Schutte. Die instelling van 'n MDiv graad word goedgekeur. Besluit is om te hou by die Harvard-sisteem van verwysing. As dekaan is in volgorde genomineer J.P. Oberholzer, G.M.M. Pelser en P.J. van der Merwe. Die volgende proefskrifonderwerpe is goedgekeur: E. Engelbrecht The pattern of religion in the Black Theology of James Cone, H.J. Botes Dominee L.E. Brandt – sy lewe en werk, L.C. Bezuidenhout (gewysig) Struktuur en strekking van die boek Job, E.H. Dannhauser Die evaluasie van verskillende onderrigmetodes en kommunikasietegnieke vir die oordra van die Bybelse boodskap met die oog op 'n sinvolle kerklike praktyk, M.A. Bothma Die Kerk : Pluraliteit in die eenheid.

    26–27 Maart 1987

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem onder andere kennis van die volgende verslag oor die Hervormde Teologiese Studies:

    Onder leiding van die redakteur professor A.G. van Aarde en met die steun van die hele redaksie is die Hervormde Teologiese Studies tans in proses van uitbouing tot 'n teologiese tydskrif van werklik hoogstaande gehalte en formaat. Daarvan getuig die groeiende getal intekenare, asook die aanbieding van artikels van buite Hervormde kring.

    Die Kommissie het ook kennis geneem van 'n uitvoerige verslag van proffessore G.M.M. Pelser en A.G. van Aarde na hulle bywoning van die 49ste Algemene Vergadering van die Catholic Biblical Association of America op 06–09 Augustus 1986 by Georgetown Universiteit, Washington D.C. en van die 41ste Algemene Vergadering van die Studiorum Novi Testamenti Societas op 11–15 Augustus by Emory Universiteit, Atlanta, Georgia.

    Jaargang 43, aflewering 01–02, Maart/Junie 1987 van Hervormde Teologiese Studies is gewy aan professor C.H. Rautenbach ter herdenking van sy vyf en tagtigste geboortedag op 6 Maart. In 'n inleidende woord skryf B.J. Engelbrecht:

    Kerkman, universiteitsman, opvoedkundige, wysgeer, kultuurman en administrateur, op al hierdie gebiede het hy diep spore getrap en is hy op nasionale vlak as 'n deskundige erken. [...] Met hierdie uitgawe wil ons ons bewondering vir, asook ons waardering en dankbaarheid teenoor 'n groot seun van SA, afkomstig uit Wes-Transvaal, tot konkrete uitdrukking bring.

    Dominee H.T. van Deventer gee 'n oorsig oor die lewensloop en denke van Rautenbach in 'n artikel getitel Casper Hendrik Rautenbach: 'Singewing aan dink al hoe meer in verband met doen.' By die artikel is 'n onvolledige lys van geskrifte van Rautenbach. Die Raad van die Universiteit van Pretoria het reeds op 21 April 1966 besluit om die geskrifte van Rautenbach te versamel en uit tegee. Die opdrag daartoe is gegee aan professor P.S. Dreyer. Die werk het uiteindelik in 1975 by H.A.U.M. verskyn met titel Professor doktor C.H. Rautenbach Versamelde Geskrifte. In 'n Woord Vooraf skryf Rautenbach self onder andere:

    Die skrywer was aanvanklik vir byna 25 jaar (2 Augustus 1923 tot 9 April 1948 om 12:35 nm) hoogleraar (eers lektor, daarna professor). Deur onderlinge reëling was die Etiek plus die Logika saam met die Metodologie en Kennisleer, sy hooftaak. Vir tien jaar (1938–1948) was daaraan as leeropdrag in die fakultiet Opvoedkunde toegevoeg: die Opvoedkundige Etiek of Etiese Opvoedingsleer (wetensvakke van die sedelike opvoeding met geïmpliseerde Lewensleer). Vanaf 1939 was hy vir 'n jaar of ses in 'n teologiese fakulteitsafdeling dosent in die Christelike Etiek of beter Christelike Lewensleer. Periodiek (1924–1949 en 1940–1941) het onderrig in die Sielkunde bygekom en in die jare 1943–1949 is Didaktiek van Godsdiensonderrig vir onderwyssstudente behartig. Daar was elders newegeskikte werkies by onderwysopleiding asmede eksaminering.

    Rautenbach was rektor van die Universiteit van Pretoria van 09 April 1948 tot 30 Junie 1970. Die geskrifte wat opgeneem is in Versamelde Geskrifte strek tot 1973. Hy het na sy aftrede as rektor teruggekeer tot aktiewe belangstelling in en deelname aan kerklike sake. Op die Algemene Kerkvergadering het hy in debatte steeds belangrike bydraes gelewer. In 'n kort huldeblyk na sy dood op 17 Augustus 1988 skryf J.P. Oberholzer in Die Hervormer van Oktober 1988 onder andere:

    Die derde tydperk [van sy ampslewe] het begin met sy aftrede as rektor toe hy met nuwe belangstelling vir die kerk beskikbaar geword het. Hy het hom opgeskerp in die teologie en praktyk van die kerk en 'n dinamiese rol gespeel in die paar sittings van die Algemene Kerkvergadering wat hy nog kon bywoon. As lid van die Kuratorium 1974–1986 en die Raad vir Opvoeding en Onderwys 1970–1986 lewer hy weer groot bydraes tot die kerklike denke. Sy onafhanklike denke het hom begelei en hy het sy gedugtheid behou, maar sy solidariteit met kerk en volk het voorop bly staan. Vir my en vir ander was die persoonlike gesprekke met hom en die aanhoor en aanskoue van sy deelname in debatte 'n deelname in ryke geestesgoed.

    By sy begrafnis het J.P. Oberholzer ook 'n oorsig gegee van Rautenbach se kerklike betrokkenheid voordat hy rektor geword het. Hy was 'n stigterslid van die Nederduitsch Hervormde Sendinggenootskap, lid van die Kuratorium vir Teologiese Opleiding 1928–1934, lid van die Kommissie vir die Proponentseksamen 1928–1934, sekunduslid van die Moderamen 1930–1934, lid van die Kommissie vir die Jeug 1934–1937, lid van die Kommissie vir Armblankes en Diakonale Armversorging 1934–1940, lid van die Finansiële Kommissie 1937–948, lid van die Kommissie vir Opvoeding en Onderwys 1938–1948, (en weer 1951–1954), lid van die Kuratorium vir die Predikante Pensioen Weduwee en Wese Fonds 1940–1948.

    01 April 1987

    J.P. Oberholzer gaan op studieverlof tot 30 September 1987.

    05 Mei 1987

    Samespekings vind plaas tussen die voorsitter en lede van die Proponentseksamenkommissie aan die een kant en die Dosentevergadering aan die ander kant. As probleme rondom die proefpreke word genoem swak taalgebruik, yl teologiese inhoud, gebrek aan Christusverkondiging, en moralisme in die toepassing. Die Dosentevergadering het 'n komitee benoem om op die saak in te gaan en oplossings aan te dui. Die vergadering het ook die Kurrikulumkomitee uitgebrei om al die departemente daarby te betrek, en professore A.D. Pont en J.H. Koekemoer bygevoeg.

    26 Junie 1987

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van 'n artikel van die hand van dominee J.H. Breytenbach getitel 'Kerk en Wêreld 2000 – 'n kritiese blik.' In dié artikel word sterk uitsprake gemaak en terme soos neo-Marxisme, skeeftrekking van die kerk se belydenis, taal wat vreemd is aan die kerk, liberale denke, uiters eensydige blik op die toekoms, 'n stuk kibernetiek, humanisme, ens gebruik. Die slotparagraaf lui:

    Uit hierdie boek spreek nie die stem van die kerk wat verbondsmatig dink, wat volkskerk wil wees, wat prys stel op die grense wat God getrek het nie. Hier spreek die stem van die humanisme wat mensgerig dink, mensgerig normeer en alle grense wegrasionaliseer. Indien die kerk die vertrekpunte, aannames, projeksies en toekomsblik van Kerk en Wêreld net so met huid-en-haar sluk, sluk hy die pil wat die sekerste kans het om hom stil te maak. Ten slotte net 'n vraag: Is dit blote toeval dat Kerk en Wêreld 2000 in ons kerk, Kerk en Samelewing in die NG Kerk en die sogenaamde Werksdokument in die Broederbond almal so binne bestek van 'n enkele jaar op die tafel verskyn? Is dit net 'n sameloop van omstandighede dat die meerderheid lede van die Algemene Kommissie wat Kerk en Wêreld van stapel laat loop het en die meeste lede wat Kerk en Samelewing geproduseer het óók lede van die Broederbond is? Of lê hier 'n goed beplande poging agter die hele saak om die Afrikanervolk finaal te kondisioneer vir oorgawe? [Die naïewe beskouing oor die politiek wat agter hierdie hele artikel waargeneem kan word, word deur die skrywer self geformuleer wanneer hy skryf:

    Die ware feite lê egter anders: Indien die wil en die moed tot optrede daar is, kan die witman hom in Suid-Afrika met die hulp van God téén al die 'feite' in handhaaf. Daar is geen rede waarom hy moet kapituleer in groter gelykheid, gemeenskaplikheid en vennootskaplikheid nie – behalwe as hy die eise wat aan hom gestel word nie tegemoet tree met durf, 'n sterk wil, sy gesonde verstand en veral geloof nie.

    Ontkenning en wegpraat van die feite en werklikhede wat teen daardie tyd onmiskenbaar daar was, spreek nie van gesonde verstand nie. Bowendien het die kerk steeds van afsonderlike en gelyke geleenthede gepraat, en was dit tyd dat ook gekyk sal word na die gelyke geleenthede. Al die 'durf' in die wêreld sou daar nie aan kon verander nie, en die 'geloof' is dan niks anders nie as die oortuiging dat God jou bepaalde politieke standpunt steun. Die verwysing na die Broederbond sou van hierdie tyd af telkens te voorskyn kom in kerklike besprekings. Daar was nie bereidheid om te aanvaar dat mede-Hervormers ernstig en eerlik probeer dink het oor die egtheid van die kerklike houding binne die delikate Suid-Afrikaanse situasie nie, daar moes 'n sinistere en verborge krag daaragter gesoek word, en dit is gevind in die Afrikaner Broederbond.

    Die Kommissie het in sy vergadering van 25 September 1987 kennis geneem dat die Moderamen 'n gesprek gevoer het met dominee Breytenbach en dat hy verskoning aangebied het vir die insinuasies wat hy gemaak het.

    29 Junie 1987

    Die Raad neem afskeid van professor B.J. Engelbrecht wat 15 jaar lank verteenwoordiger van die Senaat was.

    Professor Engelbrecht het nie alleen sy akademiese kundighede tot voordeel van die Universiteit aangewend nie maar ook sy kundigheid op sportgebied. Hy het onder meer verseker dat die visse in die dam op die proefplaas nie oorbevolk raak nie. Sy liefde vir hierdie sportsoort was so aansteeklik dat selfs sy motor by geleentheid nie die versoeking kon weerstaan om in die water in te duik nie. Teenoor professor Engelbrecht word 'n woord van opregte dank en waardering uitgespreek vir sy besondere bydrae tot die funksionering van die Raad en die bevordering van Universiteitsake.

    28 Julie 1987

    Die Fakulteit neem kennis dat dit die laaste vergadering is waarop professor B.J. Engelbrecht as dekaan optree en bedank hom vir sy leiding. Professor P.M. Venter word terugverwelkom nadat hy aan opgrawings in Israel deelgeneem het. Die S.P. Engelbrecht Erepenning in goud word toegeken aan S.P. Pretorius, in brons aan L.J. Strauss. Vak-keuses van H.F. la Grange, L.J.J. Nell, M.J. Riekert, D.M. van Zyl, J.M. Strijdom, E. Vledder, W.C. van Wyk, J. Cronje, D. Klopper, J.S. Naude, Y. Dreyer-Papp, en H.P. van den Berg vir DD is goedgekeur. Proefskrifonderwerpe is soos volg goedgekeur: I.W.C. van Wyk (gewysig) Das Theodizeeproblem als Orientierungspunkt der kirchenpolitischen und theologischen Streitfragen, N.H. Buitenweg Nuwe Testamentiese perspektiewe op die wese van die Koinonia en die aktualisering daarvan in die gemeente, A.A. da Silva Die funksie van die skeppingstradisie in die boek Jeremia, J. Coetzee 'n Praktykteorie vir krisispastoraat as faset van besondere pastorale sorg. Hierdie vergadering het ook die reglement vir die Intertale Kommunikasiesentrum in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte en die reglement van die Sentrum vir Voortgesette Teologiese Toerusting in die Fakulteit Teologie Afdeling A goedgekeur.

    26 Augustus 1987

    Die Kuratorium neem kennis dat professor B.J. Engelbrecht aftree aan die einde van 1988 en dat J.P. Oberholzer as dekaan in sy plek aangestel is. Professor Engelbrecht sal op verlof wees gedurende 1988 en daarom is hierdie die laaste vergadering van die Kuratorium wat hy sal bywoon. Die vergadering het 'n verslag behandel oor die evaluering van 29 voornemende teologiese studente, en het besluit dat hulle toegelaat word en beurse sal ontvang, maar dat die toelating van dertien van hulle voorwaardelik is en dat hulle met verloop van tyd steeds geëvalueer sal word. Die vergadering het verder die mening uitgespreek dat die Oriënteringskursus vir BD I studente die geskikte tyd is om hulle Bybelkennis te toets en dat 'n kandidaat wat nie slaag nie, jaarliks weer getoets sal word totdat hy slaag. Studie- en navorsingsverlof vir professor G.M.M. Pelser is goedgekeur. Vorderingsverslae vir die eerste semester van 1987 is behandel en beurse toegeken. Besluit is om die moontlikheid van 'n kursus in Afrikaans te ondersoek vanweë die swak taalvermoë wat tydens proefpreke tevoorskyn kom.

    22 September 1987

    Professor A.D. Pont bedank as sekretaris van die Dosentevergadering nadat hy dertig jaar lank in dié hoedanigheid gedien het. Hy word vir sy dienste bedank en professor P.J. van der Merwe word as sekretaris gekies.

    23 September 1987

    Die Dagbestuur van die Kuratorium besluit dat professor W.S. Vorster van Unisa genooi mag word om as gasdosent in die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap op te tree tydens die verlof van professor Pelser.

    By geleentheid van die sestigste verjaarsdag van A.D. Pont op 21 September 1987 en J.P. Oberholzer op 03 Oktober 1987 het Hervormde Teologiese Studies Jaargang 43, Aflewering 4, November 1987 vier artikels van nagraadse studente van elkeen gepubliseer. In 'n redaksionele artikel word die oorkondes aangehaal wat gedien het toe die H.C.M. Fourie Erepenning aan elkeen toegeken is.

    09 November 1987

    Professor W.C. van Wyk word benoem as Senaatsverteenwoordiger op die Raad.

     

     

    DOI: 104102/hts.v66i3.935