SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.66 no.3 Pretoria  2010

http://dx.doi.org/104102/hts.v66i3.921 

HOOFSTUK

 

Hoofstuk 7: Evaluering en selfinterptetasie 1971–1980

 

 


Personeelwisseling bring nuwe rolspelers. Terugskouing lei na evaluering van teologiese rigting. Politieke hoogspanning gaan nie by kerk en fakulteit verby nie. Die ontstaan van die Kerklike Instituut vir Toerusting van Ampsdraers en Lidmate bring 'n waardevolle toevoeging.


 

 

 

1971

28 Januarie 1971

Die Kuratorium neem kennis van 'n uitvoerige voorlegging van professor B.J. Engelbrecht oor die voorgestelde wysiging van opleidingsvereistes waarin dit nie aanbeveel word nie. Die Kuratorium het sy instemming daarmee betuig maar het besluit dat die komitee wat daarvoor benoem is, voortgaan om sy opdrag uit te voer. Oor merietebeurse is besluit dat dit alleen beskikbaar sal wees vir BA studente.

Die Kuratorium het verder kennis geneem dat die siekteverlof van professor Van Rensburg opgebruik is en dat die Universiteit dit tog wel verleng het vir die eerste semester van 1971. Na 'n samespreking met die Moderamen, die voorsitter van die Kuratorium en die Administrateur is gereël dat die waarnemende hoof van die departement, professor B.J. Engelbrecht, vir doktorale werk sal instaan met die hulp van doktor A.J.G. Dreyer, dat professor B.J. Engelbrecht die lesings in eksegese vir die BD studente sal behartig, professor F.J. van Zyl die lesings in Teologie en professor J.I. de Wet die lesings in Inleiding en Kanongeskiedenis.

23 Februarie 1971

Die Fakulteit verwelkom J.P. Oberholzer as lid en verkies J.I. de Wet as sekretaris, besluit om die Nico Prinslooprys aan P.M. Venter toe te ken, bekragtig die uitslae van die doktorale eksamens van M.J. du P. Beukes, A.P.B. Breytenbach, T.F.J. Dreyer, J.A. Loader, P.J. van der Merwe D.J.C. van Wyk en D.J. Smith.

24 Maart 1971

Die Senaat verwelkom J.P. Oberholzer wat die eerste keer die vergadering bywoon.

27 April 1971

Die Kuratorium neem kennis van 'n voorlopige verslag van die studiekomitee oor die wysiging van opleidingsvereistes, en verwelkom vir professor S.P.J.J. van Rensburg terug na sy siekte. Kennis is ook geneem van die afsterwe van dominee S.P. Viljoen en dat doktor P.J.T. Koekemoer as sy sekundus nou op die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering sitting moet neem. Doktor L.M. le Roux is in Koekemoer se plek verkies as voorsitter van die Kuratorium. Die Fakulteit keur die onderwerp van D.J. Smith se proefskrif goed, naamlik Die dogmatiese implikasies van die begrip hemel

17 Junie 1971

Die Raad, in aansluiting by die Senaat op 26 Mei 1971, boekstaaf sy dank en waardering aan professor A. van Selms wat na 'n dienstydperk van 33 jaar die aftree-ouderdom bereik het. Hy is op 01 Oktober 1947 bevorder tot professor in en hoof van die Departement Semitiese Tale.

Prof van Selms se verdienste lê daarin dat hy die departement Semitiese Tale en die vakwetenskap Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria op 'n vlak van internasionale bekendheid geplaas het. Hy het onder andere Akkadies, Hebreeus, Nieu-Hebreeus, al twaalf dialekte van Aramees, Ugarities. Fenisies, Punies, Arabies, Egipties en Hetities gedoseer en ook nog Vergelykende Semitiese Filologie... Onder sy vakgenote was hy altyd bekend vir sy noukeurige en tegelykertyd oorspronklike wetenskapsbeoefening.

20 Junie 1971

Die Fakulteit verwelkom professor S.P.J.J. van Rensburg terug na sy siekteverlof, neem kennis dat die Ou Letteregebou vanaf 03 Augustus 1971 as historiese monument verklaar is, en versoek dat 'n naambord aangebring word wat aandui dat die lesingkamers onder andere gebruik is vir Teologie. Vrystelling van die doktorale eksamen is verleen aan M.W. Pretorius op grond van sy doktorale eksamen in Utrecht, afgelê met lof in 1966. Die lesingrooster vir 1972 is soos volg vasgestel:

  • Nuwe Testament Teologie I-III Maandag 08:15–09:45
  • Christelike Etiek I Maandag 09:55–12:15
  • Nuwe Testament Inleiding II Maandag 09:55–11:25, I Maandag 12:25–01:05, Dinsdag 10:45–11:25
  • Godsdiensfilosofie III Maandag 09:55–10:35, II Maandag 11:35-12:15
  • Ou Testament Eksegese III Maandag 11:35–01:05, II Woensdag 09:55–10:35, 11:345–12:15, I Vrydag 09:55–11:25
  • Nuwe Testament Eksegese I-III Dinsdag 08:15–09:45
  • Dogmatiek I-III Dinsdag 09:55–10:35, 11:35–01:05
  • Algemene Kerkgeskiedenis I Woensdag 08:15–09:45, III Donderdag 09:05–10:35
  • Praktiese Teologie II-III Woensdag 08:15–09:45, III Donderdag 08:15–08:55, II Donderdag 09:05-09:45, I 09:55–10:35. I Vrydg 08:35–09:45
  • Ou Testament Kanongeskiedenis I-III Woensdag 10:45–11:25
  • Ou Testament Inleiding I Woensdag 11:35–01:05
  • Kerkreg II-III Woensdag 12:25–01:05, III Vrydag 10:45–11:25, II 11:35–12:15
  • Kerkgeskiedenis I-II Donderdag 07:30–08:55
  • Sendingwetenskap II Donderdag 09:55–10:35, III 12:25–01:05
  • Godsdienswetenskap I-II Donderdag 10:45–11:25
  • Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis III Donderdag 10:45–11:25, I 11:35–12:15, II 12:25–01:05, II-III Vrydag 09:55–10:35
  • Ou Testamentiese Argeologie I Vrydag 11:35–12:15

31 Augustus 1971

Die Kuratorium handel oor 'n versoek om so gou moontlik 'n opvolger vir professor Van Rensburg te benoem wat aftree-ouderdom bereik het en op 30 Junie 1972 moet uittree. Die Kuratorium het besluit dat hy nie gereed is om op hierdie tydstip 'n aanbeveling te maak nie. 'n Komitee bestaande uit die Dekaan van die Fakulteit Teologie, die voorsitter van die Kuratorium en die professor in Praktiese Teologie is benoem om aansoeke van studente wat wil werk, te hanteer. Professor C.H. Rautenbach het aanbeveel dat afgesien word van die vereiste van Grieks III of Hebreeus III.

01 September 1971

Die Senaat verwelkom professor W.C. van Wyk wat vanaf 01 Julie 1971 vir professor Van Selms opgevolg het as hoof van die Departement Semitiese Tale.

08 September 1971

Weens die oorlye van dominee S.P. Viljoen, vise-voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, kies die Kommissie vir J.P. Oberholzer as vise-voorsitter en doktor C.J. Mans as vise-skriba.

21 September 1971

Die Fakulteit keur die volgende onderwerpe vir proefskrifte goed: M.J. du P. Beukes Kategese as opdrag aan die kerk. G.M.M. Pelser Die Carmen Christi, Fil 2:6-11. 'n Eksegeties-christologiese ondersoek. Volgens die jaarverslag was daar in 1971, 27 studente vir BD en 27 vir DD ingeskryf. Die dekaan merk in die verslag op:

Waar daar in die eerste ongeveer veertig jaar van die bestaan van hierdie afdeling slegs een promovendus in die Teologie was, het daar in die afgelope aantal jare minstens vytien doktore afgestudeeer.

 

1972

22 Februarie 1972

Die Fakulteit verwelkom professor A.D. Pont terug na sy studieverlof. Die Nico Prinslooprys word toegeken aan L.J.S. Steenkamp. Die uitslag van die doktorale proefskrif van G.M.M. Pelser word bekragtig. Die onderwerp vir die proefskrif van P.J. van der Merwe word goedgekeur, naamlik Godsienstige bewussyn by die mens. Die inskrywing vir DD van H.C. Coetzee, J.P. Labuschagne, F.H. van der Merwe en G.C. van Staden word goedgekeur. Die doktorale eksamenuitslag van G.J. Erasmus word bekragtig. Die onderwerp van die proefskrif van J.J. Steenkamp word goedgekeur, naamlik 'n Histories-analitiese oorsig van die Ekumeniese Beweging mbt Suidelike Afrika en die RSA in die besonder gedurende die periode 19601972.

07 Maart 1972

Die Kuratorium verwelkom dominee C.J.S. van Niekerk as lid nadat hy deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering benoem is in die plek van doktor P.J.T. Koekemoer. Hierdie vergadering het vir dominee G.J.J. Roos as voorsitter verkies. Die Vergadering van Professore het 'n verslag aan die Kuratorium voorgelê oor die vulling van die vakature in Nuwe-Testamentiese Wetenskap. Die name en gegewens van twee kandidate is deurgestuur, naamlik doktor A.J.G. Dreyer wat in 1962 aan die Ryksuniversiteit van Utrecht gepromoveer het met 'n proefskrif An Examination of the Possible Relation between Luke's Infancy Narratives and the Qumran Hodayot,onder leiding van professor W.C. van Unnik, en dominee G.M.M. Pelser wat binnekort sou promoveer met 'n proefskrif Die Carmen Christi Fil 2:6–11, 'n eksegeties-christologiese ondersoek onder leiding van professor B.J. Engelbrecht. Die Vergadering van Professore het met 4 stemme teen 3 besluit om A.J.G. Dreyer aan te beveel. Die Kuratorium het eweneens vir Dreyer aanbeveel vir benoeming.

08 Maart 1972

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem met waardering kennis dat die Universiteit van Pretoria besluit het dat Bybelkunde I, II en III vir 1972 binnemuurs aangebied sal word, dat deeltydse dosente aangestel sal word op aanbeveling van die dekaan en adjunkdekaan en besoldig sal word deur die Universiteit.

Daar is ook kennis geneem dat professor S.P.J.J. van Rensburg se geneeshere nie wil hê dat hy verder klas gee nie, en dat die vroeëre reëling voortgesit word, naamlik dat professor B.J. Engelbrecht Nuwe Testanmentiese Eksegese sal doseer en dat professore De Wet en Van Zyl professor Van Rensburg se aantekeninge sal hanteer.

Die Kommissie het nie die benoeming van doktor A.J.G. Dreyer bekragtig nie en die skriba het op 10 Maart 1972 aan die Kuratorium geskryf:

a. Uit die Bylaes – Vergadering van Professore – is dit duidelik dat veral twee persone oorweeg is en uit die gegewens daarin verstrek en verder toegelig, is die Kommissie nie oortuig dat net op grond daarvan 'n deurslaggewende besluit ten gunste van een van die persone deur hom geneem kan word nie.
b. Daarom is ander gegewens ook in berekening gebring. Op grond daarvan is die Kommissie nie oortuig dat die gesindheid teenoor en / of die hantering van besluite van meerdere vergaderinge deur die aanbevole kandidaat in alle opsigte (is wat hy) by die professore in die teologiese opleiding sal wil vind nie.

22 Maart 1972

Die Kuratorium neem die volgende besluite:

  • Die Kuratorium herbevestig sy aanbeveling soos in sy skrywe van 08 Maart uiteengesit; trouens as gevolg van verdere gegewens in verband met die akademiese bevoegdheid van die kandidaat, voel die Kuratorium nog sterker oor die benoeming.
  • Die Kuratorium beskou die benoeming in dieselfde lig as die beroeping van 'n predikant en is op die oomblik nie bewus van 'n toereikende rede wat in die weg van die benoemde in dié verband staan nie.

'n Gesamentlike vergadering van die Kuratorium en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering soos bepaal in die Kerkwet artikel 63 (a) (i). het daarna plaasgevind. Die voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het meegedeel dat die skrywe van die Kommissie nie verstaan moet word as sensuur op doktor Dreyer nie. Professor C.H. Rautenbach het die mening uitgespreek dat dit beter sou wees om die skrywe te rojeer en het gevra dat die Kommissie dit moet oorweeg.

Na breedvoerige bespreking is met 12 stemme teen 10 besluit dat doktor G.M.M. Pelser benoem word. Sy benoeming het sterk reaksie uitgelok van sommige persone, onder andere van dominee J.J. Engelbrecht jnr wat 'n sterk bewoorde skrywe aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gerig het. Dominee J.G.M. Dreyer en nog iemand het spesiaal na Kaapstad gereis om by doktor H. Muller te verneem of hy as kanselier van die Universiteit van Pretoria nie iets aan die saak kan doen nie. Van die gemeente Potchefstroom is 'n skrywe ontvang, gedateer 01 Julie 1972 wat meld dat na aanleiding van 'n verslag oor die afgelope Ringsvergadering, die voorsitter van die kerkraad het dat:

I. Die kandidaat met die beste akademiese prestasies verbygegaan is.
II. Professor van Unnik van Utrecht wat albei se proefskrifte onder oë gehad het, as sy mening uitgespreek het dat daar geen vergelyking tussen die twee proefskrifte bestaan nie en dat dié van doktor Dreyer die beste is.
III. Dat bykomende sake die kromstok was om die beste kandidaat te slaan en verby te gaan, nl 'n skerp brief van kritiek deur hom in opdrag van die Ring van Kaapland geskrywe aan die Algemene Kommissie. Die kerkraad het daarna besluit om sy diepe teleurstelling uit te spreek oor die onregverdige optrede van die Kommissie.

Ook die gemeente Potchefstroom-Suid (predikant dominee J.H. Naude) het 'n skrywe ingestuur en sy besorgdheid uitgespreek oor hierdie 'stap agteruit'. Die Kommissie het op albei hierdie skrywes geantwoord dat hy nie met die hele inhoud kan saamstem nie omdat hulle blykbaar nie alle inligting voor hande gehad het nie.

24 Maart 1972

Die skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het soos volg aan die Kuratorium geskryf:

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het besluit om te bevestig wat in die gesamentlike vergadering onomwonde gesê is, as daar moontlik afgelei word uit sy skrywe van 10 Maart 1972 dat dit enige vorm van sensuur bevat teen die aanbevole kandidaat, dit nie die bedoeling is of was nie.

Verder word bevestig dat punt (b) van genoemde skrywe so verstaan moet word dat daar ander oorwegings ook in berekening gebring is by die behandeling benewens akademiese kwalifikasies sonder dat (b) 'n uitvloeisel uit (a) is.

20 April 1972

Die DD-inskrywing van J.H. van Heerden word aanvaar. Die Fakulteit beveel aan dat G.M.M. Pelser aangestel word as professor in en hoof van die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap.

15 Mei 1972

'n Gesamentlike komitee van die Raad en Senaat besluit in verband met Bybelkunde dat as tussentydse reëling die status quo vir 1973 gehandhaaf word naamlik dat Bybelkunde I, II en III slegs binnemuurs aangebied word en dat die aanstelling van deeltydse dosente wat die kursusse in Bybelkunde doseer, vir 1973 deur die Universiteit op aanbeveling van die dekaan en adjunk-dekaan van die Fakulteit Teologie gemaak word en dat 'n salarisuitgawe van verskuldig is. Op 10 Maart 1972 skryf u aan die Kuratorium ten opsigte van my persoon 'dat die Kommissie nie oortuig is dat 96

24 Mei 1972

Die Senaat boekstaaf dank en waardering teenoor professor S.P.J.J. van Rensburg wat op 30 Junie 1972 aftree nadat hy vanaf 01 Februarie 1963 die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap in Afdeling A behartig het.

08 Julie 1972

Die Fakulteit verwelkom professor G.M.M. Pelser wat vanaf 01 Julie diens aanvaar het en nomineer professore F.J. van Zyl en B.J. Engelbrecht vir die dekaanskap. Die doktorale eksamenuitslae van E. Engelbrecht en die proefskrif van J.H. Koekemeoer word bekragtig.

Die volgende onderwerpe vir proefskrifte word goedgekeur: T.F.J. Dreyer 'n Eksegetiese fundering van die reformatoriese prediking, S.J. Prins Pastorale kommunikasie, C.J. Viljoen Die Godsbegrip by Paul Tillich en sy invloed op die nuwere teologie, A.J. Zwarts Evaluasie en Stroombearbeiding in plaas van Gemeentebearbeding.

01 Augustus 1972

Die Kuratorium neem kennis van die skrywe van die Kommissie en het na lang bespreking soos volg geantwoord:

Die Kuratorium vir die Teologiese Opleiding het kennis geneem van u skrywe van 24/3/72 en besluit om daarop soos volg te antwoord:

• Dat die Kuratorium nie oortuig is deur bewerings van lede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering omtrent die ongeskikte gesindheid van dr AJG Dreyer vir benoeming nie en betreur die wyse waarop sommige op hierdie gronde teen dr Dreyer gediskrimineer het.
• Die Kuratorium aanvaar met gelatenheid die benoeming en sê sy steun toe aan die kerklik benoemde.
• Die Kuratorium vertrou dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in die toekoms op 'n meer verantwoordbare wyse sal optree in dergelike aangeleenthede.
• Die Kuratorium versoek dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering ernstige aandag aan hierdie skrywe sal gee.

Dominee C.L. van den Berg het sy teenstem teen hierdie besluit laat aanteken.

30 Augustus 1972

Die Senaat verwelkom professor G.M.M. Pelser wat vanaf 01 Julie 1972 vir professor S.P.J.J. van Rensburg opgevolg het. Die Senaat benoem professore B.J. Engelbrecht en A.P. Grove as verteenwoordigers van die Senaat op die Raad.

06 September 1972

Die Kuratorium neem kennis dat profesore B.J. Engelbrecht en A.P. Grove verkies is as verteenwoordigers van die Senaat op die Raad van die Universiteit van Pretoria. Die vergadering het ook vir student R.J. Coertze gelukgewens met sy verkiesing as voorsitter van die VSR. Omdat hy egter nie Latyn geslaag het en met die volgende studiejaar kon aangaan nie, het hy uiteindelik nie die voorsitterstoel ingeneem nie. Die Kuratorium het verder besluit op 'n wysiging van die opleidingsvereistes. Die BA studie sou dan die volgende vakke behels:

• Eerste jaar: Grieks I, Hebreeus I, Latyn I of Ib, Wysbegeerte I, Bybelkunde I
• Tweede Jaar: Grieks II, Hebreeus II, Wysbegeerte II, Bybelkunde II
• Derde Jaar: Twee van Grieks III, Hebreeus III, Wysbegeerte III, Bybelkunde III

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die vakkeuse aanvaar, maar met dien verstande dat een van die derdejaarsvakke Grieks III of Hebreeus III sal wees.

19 September 1972

Volgens die jaarverslag van die Fakulteit was daar 29 Studente ingeskryf vir BD en 31 vir DD. J.P. Oberholzer het naas sy ander werksaamhede ook Bybelkunde gedoseer.

21 September 1972

Doktor A.J.G. Dreyer skryf onder andere aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering:

Tydens die aanstelling van 'n professor in die Nuwe Testament is daar deur u Kommissie sekere dinge gesê wat my persoonlik in die gedrang gebring het. Aangesien ... my ampswerk deur u opmerkings in die gedrang gebring is, voel ek dat u 'n verduideliking aan my verskuldig is. Op 10 Maart 1972 skryf u aan die Kuratorium ten opsigte van my persoon 'dat die Kommissie nie oortuig is dat die gesindheid teenoor en/of hantering van besluite van meerdere vergaderinge deur die aanbevole kandidaat in alle opsigte is wat hy graag by professore in die teologiese opleiding sal wil vind nie.' Graag verneem ek van watter besluite hier ter sake is en ook wanneer dit sou gebeur het. ... As daar dan iets sou wees wat my diskwalifiseer vir 'n professoraat, dan sou dit ook geld ten opsigte van my ampswerk. Teenoor myself, my kerkraad en gemeente is u 'n verduideliking verskuldig ... Deur u optrede het u my persoon voor die hele kerk in verdenking gebring. Ek kan nie anders as om hieruit af te lei dat u vooroordeel in hierdie saak die deurslag gegee het nie en dat u 'n bedenklike middel moes aangryp om die aanbeveling van die Kuratorium op die wyse tot niet te maak nie.

05 Oktober 1972

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die Kuratorium uitgenooi tot 'n gesprek. Die gesprek is uitvoerig genotuleer en beslaan twaalf folio-bladsye. Die bewoording van die skrywe van die Kommissie aan die Kuratorium was steeds die haakplek. Dit het geblyk dat daar allerlei wilde bewerings gemaak is rondom die proefskrif van Pelser en die optrede van bepaalde persone wat in 'n komplot teen Dreyer betrokke was. B.J. Engelbrecht wat deur die Fakulteit as promotor vir die proefskrif aangewys is, het inligting gegee oor die hele verloop van die werk van Pelser aan die proefskrif. Die punt toekenning deur die lede van die Fakulteit het gewissel van 65% tot 80% en daar is uiteindelik besluit op 70%. Professor Van Unnik van Utrecht het as eksterne eksaminator 60% aan die proefskrif toegeken en volgens professor J.I. de Wet 'n besliste voorkeur vir Dreyer uitgespreek.

Die gesprek het nie daarin geslaag om ooreenstemming te bewerk nie. Die voorsitter, dominee A.J. Nolte, het die aangeleentheid soos volg opgesom, en almal was tevrede met sy opsomming:

I. Dit is duidelik dat daar baie praatjies is. Die Kommissie kan egter nie die mense oproep en daaroor praat nie. Almal is miskien aan hierdie storiemakery skuldig. Elkeen het dus die verantwoordelikheid om reg te maak. Dit moet egter oorgelaat word aan elkeen se gewete dat hy moet doen wat hy kan om dinge reg te stel.
II. Ons kan nou vir mekaar sê dat ons mekaar se goeie bedoelinge aanvaar. Daar was nie by enige iemand enige kwaadwillige bedoelings nie.
III. Dit blyk dat dit seker so is dat naas ander mense wie se eer aangetas is , dr Dreyer s'n in die besonder geraak is. Daar is hier in die vergadering gesê dat daar waardering is vir dr Dreyer se houding ná die aanstelling. Daarom sal die Kommissie die gesprek met hom voer, en vir sover doenlik is, verduidelik dat die Kommissie geen kwade bedoelings teen hom koester nie. Hy spreek die mening uit dat dit ook goed sal wees om dit vir dr Dreyer skriftelik te sê, maar dan eers nadat die gesprek tussen die Kommissie en dr Dreyer plaasgevind het.
IV. Ten opsigte van die ander broeders wat in die verloop van hierdie kwessie belaster is, meen hy dat dit die roeping is van almal om die praatjies die nek in te slaan.

Die mening uitgespreek deur prof van Unnik.Nadat die Algemene Kerkvergadering kennis geneem het van die kommentaar van die Kommissie, is die beskrywingspunt nie hierdie kwessie belaster is, meen hy dat dit die roeping is van almal om die praatjies die nek in te slaan.

29 November 1972

Doktor A.J.G. Dreyer voer op uitnodiging van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering 'n gesprek met die Kommissie. Ook hierdie gesprek is volledig genotuleer. Weer het dit gegaan om die woorde 'gesindheid' en 'hantering van besluite van meerdere vergaderinge.' Die verduideliking wat gegee is, het hom nie tevrede gestel nie, en na sy vertrek het die Kommissie besluit dat die Moderamen die saak moet hanteer vir rapport aan die Algemene Kerkvergadering.

Gerhardus Marthinus Maritz Pelser, 'n direkte afstammeling van die Voortrekkerleiers Gert Maritz en Andries Hendrik Potgieter, is gebore op 28 Julie 1936 op die plaas Rooipoort, Bronkhorstspruit. Sy ouers was Abraham Johannes Pelser em Magdalena Petronella Maritz. Hy gaan skool in die plaaskole Trichardtspos en Toitkraal, en matrikuleer aan die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal. Hy behaal die BA-graad met lof in 1956, die BD graad in 1959. In hierdie jaar is hy ook voorsitter van die VSR en ontvang hy die VSR Eremedalje en die Abe Baileystudiebeurs, en is hy lid van die Universiteit van Pretoria se eerste rugbyspan. Hy is georden op 23 April 1960 in die gemeente Randfontein en bedien daarna die gemeentes Pretoria-Wes, Voortrekkerhoogte as kapelaan en Philadelphia as studentepredikant. Hy het diens aanvaar in die leerstoel Nuwe Testamentiese Wetenskap op 01 Julie 1972.

Die gesondheidstoestand van professor Van Rensburg was van so 'n aard dat daar nie vir hom 'n afskeidsfunksie gereël kon word nie. Later is die Kuratorium meegedeel dat die funksie wel gehou word maar net 'n beperkte familie-aangeleentheid sou wees.

 

1973

27 Februarie 1973

Die Fakulteit ken die Nico Prinslooprys toe aan B.J. van Wyk. Die uitslag van die doktorale eksamen van A.J. Conradie word bekragtig.

24 April 1973

Die Fakulteit keur die onderwerp van die proefskrif van J.P. Labuschagne goed, naamlik Die teologie van die rewolusie – 'n Dogmenhistoriese ondersoek, en stel R. Sauerzapf vry van die doktorale eksamen op grond van 'n colloquium doctum voor professore B.J. Engelbrecht en A.D. Pont en op voorwaarde dat hy voor die voorlegging van sy proefskrif 'n bevredigende tentamen aflê. Professor F.J. van Zyl is benoem as waarnemende dekaan tydens die vakansieverlof van professor B.J. Engelbrecht 01 Julie–31 Desember 1973.

25 April 1973

Die 57ste Algemene Kerkvergadering neem sitting. Dominee A.J. Nolte was om gesondheidsredes nie weer verkiesbaar nie, en na 'n herstemming tussen Professore F.J. van Zyl en J.P. Oberholzer, is J.P. Oberholzer verkies as voorsitter. Dominee P.M. Smith is verkies as skriba, professor F.J. van Zyl as vise-voorsitter, en doktor C.J. Mans as vise-skriba. As predikantelede van die Kommissie is professor B.J. Engelbrecht en doktor P.J.T. Koekemoer verkies.

Volgens die sensusgegewens van die kerk was daar 183 572 belydende lidmate en 180 diensdoende predikante benewens die ses hoogleraars in die Teologie.

'n Beskrywingspunt van die Ring van Potchefstroom van die volgende inhoud het gedien:

Dat die huidige Algemene Kommissie aan die volgende Algemene Kerkvergadering verduidelik op welke gronde die nuwe professor in Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria aangewys is, veral in ag nemende die volgende:

• Die akademiese prestasies van die twee kandidate.

• Die feit dat dit die eerste keer is wat die Algemene Kommissie die aanbeveling van die Kuratorium verby gegaan het.

• Die mening uitgespreek deur prof van Unnik.

Nadat die Algemene Kerkvergadering kennis geneem het van die kommentaar van die Kommissie, is die beskrywingspunt nie aanvaar nie. Daarop het die voorsitter 'n verklaring gemaak:

Die Voorsitter stel dat in die korrespondensie tussen die Kommissie en die Kuratorium 'n sinsnede voorgekom het wat (sonder dat die Kommissie dit bedoel het) aanstoot gegee het en aanleiding gegee het tot 'n gesprek met die Kuratorium en eventueeel met dr Dreyer. Die Kommissie het teenoor dr Dreyer onderneem om by 'n geleentheid die saak tussen hom en dr Dreyer in die openbaar in die reine te bring. Die Kommissie het besluit dat hierdie vergadering die beste geleentheid daartoe is. Hierme reik die Kommissie die volgende verklaring uit, welke verklaring ná samespreking en volle ooreenstemming met dr Dreyer, die hele saak nou afhandel. Die Kommissie vertrou dat, in belang van alle betrokkenes, dit nie nodig sal wees om die hele aangeleentheid in hierdie vergadering te bespreek nie. Dit is die begeerte van die Kommissie dat die vergadering die volgende verklaring van sy kant sal aanvaar ter afhandeling van die aangeleentheid.
Die Kommissie verklaar dat in sy korrespondensie met die Kuratorium woorde gebruik is wat anders opgeneem is as wat die Kommissie daarmee bedoel het. Dit is aan die Kuratorium verduidelik en ook aan dr AJG Dreyer. Die Kommissie is jammer dat woorde gebruik is wat vir misverstand vatbaar was. Met betrekking tot dr AJG Dreyer verklaar die Kommissie dat volgens sy wete daar geen beswaar teen die leer, lewe of werk van dr Dreyer is wat in die weg staan van sy gewaardeerde werk in die Kerk net soos voorheen nie. Dit is die begeerte van die Kommissie dat die hele vergadering sal aanvaar dat daar van die kant van die Kommissie geen rede bestaan waarom die verhouding met dr Dreyer in die toekoms (nie) net so sal wees as wat dit die geval met enige ander predikant van die Kerk is nie.
...Dit spyt die Kommissie dat hierdie woorde gebruik is. Die Kommissie gee hiermee te kenne dat dit nie sy bedoeling was om daarmee enige smet op dr Dreyer te lê nie. Wat die Kommissie betref, sal die aangeleentheid eers ten einde wees wanneer dr AJG Dreyer verklaar dat hy daarmee tevrede is.
Die Kommissie verklaar dat die opmerking in sy skrywe aan die Kuratorium dat die 'gesindheid teenoor en/of hantering van besluite van meerdere vergaderinge' deur dr Dreyer nie deur die Kommissie bedoel is as 'n klag in terme van die Kerkwet nie en dat hulle in wedersydse vetroue hierdie verklaring aanvaar.

Die Algemene Kerkvergadering het met dankbaarheid kennis geneem hiervan. Daarop het die voorsitter gesê hy aanvaar:

dat die vergadering deur die verwerping van die beskrywingspunt sy volle vertroue in die vorige Kommissie en almal wat by die saak betrokke was, te kenne gegee het. Die vorige Kommissie het homself nie beskou as beskuldigde nie. Daar is seerplekke aan albei kante. Hierdie saak het seker een van die treurigste stukkies geskiedenis in die Kerk tot gevolg gehad. Hy vertrou dat hy so-iets nie weer sal belewe nie. Hy spreek 'n ernstige woord van vermaning uit teenoor die broeders wat in hierdie aangeleentheid uiters onverantwoordelik opgetree het. Hy vertrou dit is nou ook die einde van die skindery en onderlinge fluisteringe. Hy sê dat dit ook op die weg van die Kerk lê om prof Pelser van harte geluk te wens met sy aanstelling en hom te verseker van die Kerk se volle vertroue en ondersteuning.

Die Algemene Kerkvergadering het sy volle instemming daarmee betuig. Na aanleiding van die voorstelle van die Kuratorium en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor die opleidingsvereistes het die vergadering die probleem verwys na die Predikantevergadering vir 'n konsep voorstel wat voorgelê sal word aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering wat finaal daaroor sal besluit.

As lede van die Kuratorium is verkies doktor L.M. le Roux, professor C.H. Rautenbach, dominees C.L. van den Berg, C.J.S. van Niekerk, G.J.J. Roos, doktor J.L. van Staden en doktor A.J.G. Dreyer. Oor die sitting van dosente op die Kuratorium is besluit om artikel 63.1(a) (i) uit te brei met die volgende: 'Die professore en ander dosente in die teologie het sitting in die vergadering met adviserende stem.' Die vergadering het ook weer eens besluit dat predikante en kerkrade hulle voortdurend sal beywer om studente voor te lig en aan te spoor om hulle as predikante te bekwaam.

Na aanleiding van die Kuratoriumverslag is besluit:

...dat jong lidmate van die Kerk wat hulle aanmeld vir die BA voorstudie by voorkeur aan die Universiteit van Pretoria hulle voorstudie moet aanpak en voltooi, (maar) ook aan ander universiteite kan studeer mits sodanige kursusse aan die betrokke universiteite voldoen aan alle vereistes vir toelating tot die BD studie van die Teologiese Fakulteit, Afdeling A, dat alle bogenoemde studente as studente van die Kerk erken word en dat hulle in aanmerking kom vir die Kuratoriumleningsbeurse, dat aan die Raad vir Regsadvies opdrag gegee word om artikels 59 en 63.1.(c) in die lig van bogenoemde beginselbesluite redaksioneel by te werk.

Na bespreking van 'n paar beskrywingspunte oor fondse vir teologiese studie is besluit om by Ringe aan te beveel om die metode wat die Ring van Krugersdorp toepas, te probeer navolg, naamlik dat elke gemeente jaarliks R100 of meer sal bewillig vir die teologiese opleiding, dat sodanige hulp aan studente nie terugbetaalbaar sal wees nie en dat van dié fondse ook beskikbaar sal wees vir nagraadse teologiese studie. Die leningsbeurse van die Kuratorium het op dié stadium R310 per jaar bedra. Die bedrag wat begroot is vir teologiese opleiding was R33 500, daar is verder besluit dat teologiese studente 'n eenjarige kursus in die kerklied en sy geskiedenis by dosente van die Konservatorium vir Kerkmusiek moet volg en dat die Kuratorium ondersoek moet doen na die instelling van so 'n kursus. Oor die predikantetoga het die vergadering kennis geneem van die volgende aanbeveling van die Predikantevergadering aan sy lede:

Die akademiese toga van die inrigting waar die betrokke predikant sy graad verwerf het, in swart met 'n strook ferweel langs die voorpante af. [Die 'in swart' is spesifiek bygevoeg omdat een of twee broeders met doktorsgrade hulle rooi doktorale togas wou dra].
Hierdie Algemene Kerkvergadering het ook 'n konsep herderlike skrywe oor volkereverhoudinge behandel, opgestel deur prof FJ van Zyl in samewerking met JP Oberholzer en dr CJ Mans. Die vergadering het die hoofgedagtes aanvaar en dit verwys na die Kommissie 'om dit vormgewend te verwerk, finaal te versorg en te publiseer'.

Die volgende aanhalings gee 'n beeld van die kerklike denke en standpunte van daardie tyd:

Elke lidmaat van die kerk weet dat ons kerk 'n gefundeerde standpunt oor volkereverhoudings op maatskaplike en kerklike gebied het, en dat dit nou reeds 'n driekwart eeu lank geformuleer in die Kerkwet van die Nederduitsch Hervormde Kerk gevind word. ...In verskillende bewoordinge kry ons hierdie grondsaak in al die wette terug totdat die huidige formulering in artikel III sy beslag gekry het ..:
Die kerk, bewus van die gevare wat vermenging van blank en nie-blank vir altwee groepe inhou, wil geen vermenging in sy midde toelaat nie, maar beoog die vormimg van eie volkskerke onder die verskillende volksgroepe in die oortuiging dat aldus die bevel van die Here – 'Maak dissipels van al die nasies' – die beste tot sy reg sal kom en dat die eenheid van Christus deur so 'n werkverdeling nie geskaad sal word nie.
...Die kerk spreek hom skerp en ondubbelsinnig uit teen elke vorm van integrasie, kerklik, maatskaplik en biologies ...Dit is sy oortuiging dat apartheid of afsonderlike ontwikkeling op die basiese beginsel rus dat dit die reg van elke mens is om tot die volste moontlike maat te ontwikkel. Dis die enigste regverdige, eerlike en christelike beleid en geensins 'n beleid van onregverdige diskriminasie en onderdrukking nie. ...Ons het hier (in art III) te doen met 'n uitspraak wat gegrond is in die skrifgefundeerde geloof van die kerk wat 'n vanselfsprekende deel van ons Afrikaanse lewensorde geword het. ...Die kerk wil dit weereens beklemtoon dat dit vir hom in die onderhawige saak nie slegs om 'n tussentydse reëling gaan nie, maar om 'n blywende en onveranderlike beginsel wat skriftuurlik gefundeer is. Agter artikel III staan die erkenning en belydenis dat God die Maker van nasies is en dat Hy die geskiedenis van volke beskik. ...So was die ontstaan van die Afrikanervolk aan die suidpunt van Afrika nie toeval of die gril van 'n noodlot nie, maar die wil van God. ...Die Hervormde Kerk het homself nooit anders geken en hy kan ook nooit Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika anders wees as in sy verbondenheid met hierdie volk wat hy glo deur God self hier en soos hy is in aansyn geroep is nie. ...Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika is daardie verskyningsvorm van die kerk van Jesus Christus waarin slegs mense gevind word wat in Afrikaans bely dat Christus die Here is, wat in Afrikaans die lof van die Here sing, in Afrikaans bid, en luister na die verkondiging van die evangelie in Afrikaans. Die Hervormde Kerk is 'n kerk wat net Afrikaans praat omdat hy die gestalte van die apostel is wat vir die Jode 'n Jood en vir die Afrikaner 'n Afrikaner geword het. ...Niemand sal die kerk wat so nou verbonde is aan hierdie volk kan verkwalik of van onskriftuurlikheid beskuldig as hy die eiendomlike wat God aan die volk, uiterlik en innerlik, gegee het, wil bewaar, beskerm en bestendig nie... Waar die kerk uitgesproke integrasie op politiek-maatskaplike gebied verwerp en onuitgesproke kies vir afsonderlike ontwikkeling, daar stel hy teenoor die verwerping van kerklike integrasie baie duidelik en uitgesproke sy beleid van afsonderlike kerke vir afsonderlike volksgroepe.

Die herderlike skrywe is nagesien en in gedrukte vorm versprei. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het op 14 September 1973 verneem dat dit verskyn het en op 29 November 1973 dat 50 000 eksemplare versprei is. [Dit is vandag moeilik om woorde te vind om die gevoelens weer te gee by die herlees van hierdie herderlike skrywe. Dit is destyds deur die oorgroot meerderheid van ampsdraers en lidmate verwelkom en aangeprys, en dit was inderdaad 'n getroue weergawe van die gedagtes van die oorgroot meerderheid van Hervormers. Juis daarom is dit 'n traumatiese ervaring om weer daarvan kennis te neem. Vandag moet 'n mens immers ernstige vraagtekens stel agter nie alleen bepaalde uitdrukkings nie maar agter die totale selfinterpretasie wat daarin te voorskyn tree en waarvoor op Bybelse sanksie aanspraak gemaak word.].

28 Mei 1973

Die Senaat wens J.P. Oberholzer geluk met die verkiesing as voorsitter van die Algemene Kerkvergadering.

17 Julie 1973

Die Fakulteit bekragtig die uitslae van die proefskrifte van D.J.C. van Wyk en C.J. Viljoen, en bekragtig die wysiging van die onderwerp van die proefskrif van M.W. Pretorius na Lewe uit die dode, 'n godsdiensfilosofiese studie.

22 Augustus 1973

Die Senaat benoem professor B.J. Engelbrecht op die Komitee vir Dissipline (Studentesake).

23 Augustus 1973

Die Kuratorium verkies doktor L.M. le Roux as voorsitter en dominee G.J.J. Roos as vise-voorsitter. Kennis is geneem van die besluite van die Algemene Kerkvergadering. Professor B.J. Engelbrecht sou gedurende die tweede semester van 1973 met langverlof wees en sy lesings sou waargeneem word deur doktor C.J. Mans. Vanweë die siekte van doktor Mans is die lesings uiteindelik waargeneem deur doktor P.J.T. Koekemoer en doktor J.H. Koekemoer. Aanbeveel is dat dominee S.J. Botha 'n beurs ontvang vir navorsing in Nederland in verband met sy proefskrif.

17 September 1973

Die Raad neem kennis dat dominee A.J. Nolte om gesondheidsredes as lid van die Raad bedank het. 'n Buitengewone vergadering van die Kuratorium word gehou om 'n dosent in Bybelkunde (Ou Testament) aan te beveel. Op advies van die Vergadering van Professore is dominee A.P.B. Breytenbach vir benoeming aanbeveel.

Andries Petrus Bernardus Breytenbach is gebore in Bethal op 08 Junie 1944. Sy ouers was Andries Petrus Bernardus Breytenbach en Johanna Elizabeth Gouws. Hy gaan skool in die H.M. Swart Laerskool en die Hoogenhout Hoërskool op Bethal en matrikuleer in 1962 in die eersteklas met twee onderskeidings. Hy behaal aan die Universiteit van Pretoria agtereenvolgens BA met Hebreeus en Grieks as hoofvakke met lof in 1965, BD met lof in 1968, BA Hon in Semitiese Tale met lof in 1969 en slaag die DD eksamen in 1970 met lof. As student het hy die Dux eremedalje ontvang. Hy word georden op 18 Januarie 1969 en bedien die gemeente Elandspoort tot Junie 1971. In 1968 was hy tydelik-voltydse dosent, in 1969–1971 tydelik-deeltydse dosent en vanaf Julie 1971 permanent voltydse lektor in Semitiese Tale en vanaf begin 1971 ook deeltydse dosent in Bybelkunde.

18 September 1973

Die inskrywing van P.A. Geyser vir DD word deur die Fakulteit aanvaar. Die aanstelling van A.P.B. Breytenbach as senior lektor in Bybelkunde word aanbeveel.

14 Desember 1973

C.J. van der Merwe van Nylstroom skryf 'n brief aan Die Hervormer. Die redakteur het die brief nie geplaas nie en dit deurgestuur na die Kommissie: Van der Merwe, haal aan uit die regterlike uitsprake oor professor A.D. Pont en skryf dan:

'n Uiters ernstige toestand veral waar dit gaan oor 'n professor van jou kerk. Tog 'n baie duidelike oortreding van die negende gebod in die openbaar en wêreldwyd gepubliseer. Wat nog erger is, is dat nóg prof Pont nóg die kerk in die openbaar iets aan die toestand gedoen het. Tot vandag toe was daar geen ware berou of berisping in die openbaar getoon nie, inteendeel prof Pont gaan ewe rustig voort om predikante van die kerk op te lei so asof niks gebeur het nie. Daarbenewens gaan hy met sy politike bedrywighede voort tot die mate dat hy in die hoofbestuur van 'n politieke party dien en dat daar van hom gesê word dat hy lid is van die juigkommando van die politieke party. Wat sê die predikante van my kerk oor hierdie toedrag van sake?

 

1974

19 Februarie 1974

Dominee A.P.B. Breytenbach word deur die Fakulteit verwelkom. Die Nico Prinslooprys word toegeken aan P.B. Boshoff. Die uitslag van die doktorale proefskrifte van M.J. du P. Beukes en D.J. Smith word bekragtig. S.G.A. Golden se aansoek om vrystelling van die doktorale eksamen op grond van 'n doktorale eksamen in Utrecht in 1972, word goedgekeur. Die volgende onderwerpe of wysigings van onderwerpe vir proefskrifte word goedgekeur: S.G.A. Golden Dialogiese Prediking M.W. Pretorius Die Evangelie van lyding, die christologiese swaartepunt by Kierkegaard, R. Sauerzapf Die Substanzveränderung des ökumenischen Rates der Kirchen – dargestellt an hand der letzten Weltkonferenzen, P.J. van der Merwe Die godsdienste by Vaticanum II. G. van R. Els se aansoek om gelyktydig met BD in te skryf vir BA Hons in Semitiese Tale word goedgekeur.

08 Maart 1974

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit in verband met die skrywe van C.J. van der Merwe:

Wat die kwessie van die hofsaak betref, moet aan br van der Merwe berig word dat die hofsaak afgehandel is, ook wat die kerk betref. Wat prof Pont se lidmaatskap van die hoofbestuur van 'n politieke party betref, word besluit: a. Die Moderamen sal met prof Pont 'n gesprek voer, b. Die Kommissie sal 'n stuk laat voorberei vir die Algemene Kerkvergadering op grond waarvan die Algemene Kerkvergadering dan kan besluit oor die deelname van die predikant aan die werksaamhede van 'n politieke party, c. 'n Stuk sal uitgestuur word aan die predikante en kerkraadslede in hierdie verband, d. Die Moderamen sal aandag aan hierdie sake gee en ook name voorlê van persone wat die stuk onder b. genoem kan voorberei.

Broeder C.J. van der Merwe het soos volg reageer op die antwoord wat die skriba op sy skrywe gegee het:

Op die beskikbare feite is dit sonder twyfel duidelik dat prof Pont lelik gesondig het en, erger nog, dat hy geen ware berou getoon het nie. ..Daar het nog niks van prof Pont se kant gekom wat aantoon dat hy van hierdie gesindheid verander het nie. Geen woord in Die Hervormer nie en geen apologie aan sy belasterde teenstanders nie. Inteendeel hy gaan met groot ywer voort om deel te neem aan 'n soort van politiek waarvan onverdraagsaamheid 'n groot element is. Verder op die beskikbare feite is dit my droewige plig om vir u te sê dat die kerk inderdaad medeskuldig is. ... Waarom het die Algemene Kommissie nie opgetree toe prof Pont met die saak voortgegaan het nie. Dit was mos 'n tuggeval uit die teksboek? Dink net hoeveel ellende en skade sou die kerk en prof Pont gespaar gewees het. ... Wat moes gebeur het is dat die kerk en Pont in broederlike gesprek moes getree het wat moes uitgeloop het op 'n openbare verklaring van skuld en berou. ...[Dit is uit hierdie skrywe duidelik dat br Van der Merwe soos talle ander nie kennis geeem het van die verslag van die Ringskommissie aan Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor die opsig-gesprek met Pont, sy verklaring en die besluit van die Kommissie daarna wat in die Kerk bekendgestel is nie.]

25 Maart 1974

Die Van der Hoff Teologiese Vereniging vier sy vyftigste bestaanjaar. Professor E. Hamman, rektor van die Universiteit van Pretoria, het die vereniging bedank vir die positiewe en behoudende invloed wat hy onder die studente uitgeoefen het. Volgens Hoofstad 26 Maart 1974 het die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering hulde gebring aan die Universiteit van Pretoria wat deur al die jare 'n tuiste vir die Hervormde Kerk gebied het. 'n Erediens is die aand van 24 Maart gelei deur die dekaan, professor B.J. Engelbrecht, en op 26 Maart het die halfeeufees-dinee plaasgevind, waar dominee P.W. Venter as eerste abactis die tafelgebed gedoen het, en professor C.H. Rautenbach as eerste praeses die gasspreker was. Student P.B. Boshoff, die huidige praeses, het die verwelkoming en bedankings gedoen. In Die Hervormer van Maart 1974 is heelwat ruimte afgestaan aan die herdenking.

In sy gereelde rubriek Kroniek het doktor A.J.G. Dreyer geskryf 'Van der Hoff – na vyftig jaar', J.P. Oberholzer 'Kerk en Van der Hoff', B.J. Engelbrecht 'Die fakulteit en Van der Hoff, Christelik-Nasionaal as toonaard van die Teologiese Vereniging Van der Hoff en van die Opleiding van ons Kerk', en J.C. van der Merwe, abactis van die vereniging, 'Van der Hoff self oor sy vyftig jaar.' As waardering van die teologiese eie-aard van die opleiding is die artikel van B.J. Engelbrecht van besondere waarde. Hy skryf onder andere:

As ek nou oor die jare terugkyk, sou ek uit ondervinding sê dat die perspektief Bybels-reformatories was. Altyd is getrag om noukeurig na die Woord van God te luister. Die toonaard van veral die opvoeding was myns insiens duidelik Christelik-Nasionaal en dit is ook weerspieël in die 'gees' van Van der Hoff.

Nadat hy dan 'n uitvoerige beskrywing gegee het van die betekenis en omvang van die woord Christelik-Nasionaal, sluit hy af met die volgende:

In hierdie ruimte moet onder andere geleer word dat die Christelike geloof nie 'n primitiewe vorm van wetenskap is waarin die mens glo omdat jy nog nie seker weet nie. Hier moet geleer word dat die Christelike geloof 'n eie karakter het en dat die geloof en God nie kleiner krimp namate ons meer weet nie. Veeleer moet ingesien word dat die Christelike geloof ons wetenskaps-beoefening moet deurgloei en sin moet gee aan die lewe van die moderne wetenskaplike mens. Dit moet duidelik word dat die mens nie wesenlik goed is nie en nie alles kan vermag nie, dat die mens 'n skepsel is met baie beperkinge en daarby ook nog 'n sondaar. Daarom is alles wat die mens doen, (ook sy wetenskap) beperk en onvolmaak en kan die mens nooit die hemelryk hier op aarde stig en opbou nie. Daarom word daar besef dat alleen God aan ons 'arbeid in die Heer' sin en waarde kan gee. In hierdie sin glo ons in die toekoms van 'n volk wat God ken en dien, maar glo ons veral aan die ewige toekoms van die godsvolk, die toekoms wat nie deur teleurgestelde mense uitgedink is nie, maar wat aan die einde van die dae as 'n groot realiteit van God self sal kom... Ek dink dat Van der Hoff en die Fakulteit God dankbaar moet wees vir hierdie mooi tradisie. Mag Hy, die Gewer van alle goeie gawes ook wat die toekoms betref, gee dat ons nie net hierdie lewens- en wêreldbeskouing sal besit nie, maar ook sal uitleef en uitbou tot sy eer alleen.

'n Gedenkalbum is deur die vereniging gepubliseer. Naas groeteboodskappe van die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering en die dekaan verskyn daarin 'n beskrywing van die geskiedenis van die vereniging uit die pen van A.D. Pont, en 'n oorsig en waardering van die teologiese inhoude van die eerste fakulteit uit die pen van C.H. Rautenbach, wat in 1924 verkies is as die eerste praeses van Van der Hoff, 'n lys van praesesse, die teks van die Van der Hofflied, gedig deur dominee G.E. Alers, 'n lied getitel 'Van der Hoff se Kerk' van dominee J.J. Kuhn, 'n oordenking van finalejaarstudent L.J. Meyer, en 'n boodskap van die praeses, P.B. Boshoff. Daar is foto's van groepe en ook foto's van die predikante en professore wat lede van die vereniging was. Die artikel van Rautenbach, getitel 'Vyftig jaar byderwetse Bybelwetenskap' bly steeds 'n teologie-historiese besonder belangrike bydrae. Hy skryf ter inleiding:

In bygaande boodskap word: I die voortgesette verdenking van liberalisme teen Kerk en predikantsopleiding aangesny; II die progressiewe ontplooing van die onderliggende patroon van die Pretoriase teologiese onderwysinstelling aangeroer, en III Nederlandse teologiese samehange aangestip.

Oor die eerste saak, die verdenking van liberalisme, verwys hy na enkele uitsprake veral van die kant van persone in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, en skryf dan:

Hieruit blyk genoegsaam dat Van der Hoff van verlede en hede – en dit is al die vakteoloë, predikante en teologiese studente van die Kerk – vir selfbegrip, selfkritiek en waaragtigheid, en vir saam kerk wees in ons vaderland, hierdie aangeleentheid weer moet deurdink.

Nadat hy die ontwikkeling van die teologiese opleiding in Pretoria histories geskets het, kom hy dan wat II betref, tot die volgende konklusie:

Die kerke het deur dié ontwikkeling 'n posisie, soos dit vir die Afrikaner lewensopvatlik en volgens sy diepste lewensoortuiging wat in geloof gegrondves aanneemlik is, oor 'n tydperk van die vyftig jaar (1917–1968) aan die Universiteit van Pretoria verkry. Daardeur is die belewing van kerk en universiteit verryk. Daar het niks van 'n stelsel oorgebly waarmee liberalisme regstreeks legitiem geassosieer kan word nie.

Wat die Nederlands-teologiese samehange betref, het Rautenbach eers uitvoerig ingegaan op die rol van die begrippe eties en konfessioneel in die Nederlandse kerklike wêreld en daarna die vraag gestel: Was of is een of meer van die Pretoriase grondleggers eksponente of pleitbesorgers van 'n tipe etiese teologie wat vreemd is aan die Afrikaanse wêreld van kerk en teologie, insonderheid die Hervormde? Hoedanig is hulle onderrig verwerk deur die studente van die Hervormde opleiding te Pretoria, het daar etiese vakteoloë en predikante tevoorskyn getree?

Sy antwoorde op hierdie vrae gee die volgende beeld:

In die geval van SP Engelbrecht is die antwoord aan die hand van die groot aantal en aard van sy publikasies die maklikste... Hy laat hom onomwonde en sterk uit teen die Kuyperiaanswe Neo-calvinisme, die Konfessionalisme en dies meer en spreek waardering uit vir JH Gunning jnr, 'n teoloog wie se diepsinnigheid, vroomheid en opregtheid wye erkenning geniet het. Maar sy siening oor kerk wees en kerkregering, oor die kerstening van staat, gemeenskap, openbare onderwys ens is die ene verwerking van Hoedemaker se insigte, aangepas by Suid-Afrika, ... Engelbrecht het deur sy onderrig in die kerk- en dogmageskiedenis en die kerkreg insluitende die ampsleer, groot invloed gehad op die kerkbegrip, staatsbeskouing, maatskappy-opvatting en openbare onderwys siening van sy studente en sy kerk... HP Wolmarans as eerste alumnus van die Fakulteit wat hoogleraar geword het, het gepromoveer onder die eminente etiese teoloog WJ Aalders van Groningen maar het later veral aangesluit by die vooraanstaande konfessionele teoloog Th L Haitema, wat 'n eksponent van Hoedemaker en Barth was. In dié opsig het Wolmarans die siening van Engelbrecht met sy eie aksent versterk en geskraag. Die hoofstroming in die Pretoriase onderrig wat die kerkwerk beïnvloed het, was dus in die lyn van Hoedemaker.

Oor B. Gemser se teologie haal Rautenbach, Van Selms aan:

He stood in the great Dutch tradition which combined Erasmus' humanism with Calvin's theology. The ethical aspect of religion in him never disappeared behind a front of intellectual dogmatism. His piety expressed itself especially in humility and charity. His was more the attitude of Thomas a Kempis 'what could it profit you to dispute the deepest things concerning the Trinity if you lack the humility without which you displease the Trinity.' The church to which he belonged in the Transvaal pleased him because in those days it allowed a certain liberty towards dogmatics and politics. Above all he saw it as his task to guard and strenghten a true Biblical spirit both in theology and eclesiastical life.

Rautenbach skryf dan verder:

Skaars twee jaar na sy aankoms in SA het Gemser se alma mater hom uitgenooi om die opvolger van Böhl te word. Daarna het uitnodigings van ander ryksuniversiteite gevolg. Maar hy het hier gebly tot sy uittree-leeftyd onder landelike Calvinisties-geïnspireerde mense met 'n gematigde sig op leer en lewe. Sy teologiese vakmanskap het drie Afrikaanse universiteite ten goede gekom en sy eggelowigheid het diep spore nagelaat in ons land waar hy 32 jaar lank onderrig en verkondig het. Hy sou 'n renons gehad het in 'n etiket wat van hom 'n strakbelynde rigtingsteoloog sou wou maak. Ons volstaan met Van Selms se tipering.

Oor J.H.J.A. Greyvenstein wat baie min gepubliseer het, haal Rautenbach aan wat in 1960 in Ad Destinatum geskryf is:

Oor die lang jare van sy dienstyd as hoogleraar het prof Greyvenstein deur sy persoon en karakter, die persoonlik-lewende en waarlik eties-religieuse van sy onderwys, op die geestelike vorming van sy studente groot invloed uitgeoefen.
[Rautenbach ken die outeurskap toe aan S.P. Engelbrecht, maar dit word nie so vermeld in Ad Destinatum nie.]

Rautenbach skryf verder: 'Sy Bybel- en belydenisskrifbenadering was gematigd ortodoks, reggelowig, eggelowig, sonder konfessionaliteit.' Rautenbach het dit gerade geag om sy artikel af te sluit met 'n waarskuwing wat nie verbygegaan kan word nie

Daar is in Van der Hoff met sy halfeeufees 'n wekroep om in sy huidige wêreldbelewing en vraagstukke antwoorde te soek in die verlengde aanpassing van die riglyn uit die Bybel oor Augustinus oor Calvyn en die vroeë reformatore, verder deurgetrek oor Hoedemaker-Gunning-Bavinck tot vandag. Sit die eietydse kerkvader Karl Barth by, want Chantepie en Gunning het voortydig 'n sintese van Barth en Schleiermacher berei. Maar daar is ook 'n vermaning tot versigtigheid om nie deur die nawerking van die traumatiese ervaring met leeraangeleenthede rondom 1960 'n verkeerde soort Skrifberoep en Belydenisgeskrif-beroep (Fundamentalisties en Konfessionalisties) te bevorder nie, asof die Bybel, Calvyn en die reformatore en die Belydenisgeskrifte 'n bloudruk bevat vir die hantering van elke vraag en situasie.

16 April 1974

Die Fakulteit keur 'n handleiding, opgestel deur professor A.D. Pont, goed wat die vereistes stel vir 'n studie, skripsie of geskrewe werkstuk wat by die Fakulteit ingedien word. Die inskrywing van J.P. Naude vir DD word aanvaar. Uit die jaarverslag blyk dat Bybelkunde behartig is in die verslagjaar deur doktor J.H. Koekemoer, dominees J.A. Loader en A.P.B. Breytenbach. Die lesings in Dogmatiek en Christelike Etiek is tydens professor Engelbrecht se verlof behartig deur doktore C.J. Mans en J.H. Koekemoer. Daar was 37 BD en 28 DD studente ingeskryf.

11 Mei 1974

Professor E.S. Mulder is oorlede. Die begrafnisdiens in die kerkgebou van Pretoria is gelei deur professor B.J. Engelbrecht. J.P. Oberholzer het namens die Kerk die woord gevoer, professor E.M. Hamman namens die Universiteit, en professor E.P. Groenewald namens die Kommissie van Bybelvertalers. Die ter aarde bestelling is waargeneem deur dominee J.P.J. Wagenaar. Professor B.J. Engelbrecht het in Die Hervormer van Julie 1974 'n waardering oor Mulder geskryf en onder andere hierdie woorde gebruik:

Prof Mulder se jare van omgaan met die Skrif, gepaard met sy aanleg en beskawing, het van hom 'n wyse man, 'n oudste gemaak soos die Ou Testament sê. Sy goeie insig en raad, sy gebalanseerde oordeel het nie net in sy gemeentelike werk geblyk nie, maar ook op 'n hele aantal hoë betuursvlakke van die kerk.

A.P.B. Breytenbach het in 1992 onder andere die volgende oor Mulder geskryf:

Mulder se bydrae tot die teologiese ontwikkeling in die Nederduitsch Hervormde Kerk gedurende die vyftiger- en sestigerjare moet nie onderskat word nie. Sy invloed het ver buite die grense van die Fakulteit gestrek. Sy onkreukbare karakter, sy opregtheid en die erns waarmee hy die Woord verkondig het, het by kerkmense vertroue gewek... Sy solidariteit met die kerk (al was dit soms 'n kritiese solidariteit) het die vertroue in hom versterk. Tydens die Geysersaak en al die onverkwiklikhede wat dit meegebring het, was dit veral die figuur van Mulder (sonder dat hy dit waarskynlik ooit bedink of bedoel het) wat die moontlike wantroue by kerklike ampsdraers in wetenskaplike eksegese getemper het. Mulder se integriteit het die potensiële trugolf teen 'n histories-kritiese benadering in die eksegese help stuit.

17 Mei 1974

Die Kuratorium hoor 'n verslag aan van professor J.I. de Wet nadat hy oor die moontlike instelling van 'n kursus in die kerklied met die voorsitter van die Raad vir Kerkmusiek 'n gesprek gevoer het. Die Kuratorium besluit om nie die instelling van die kursus aan te beveel nie omdat dit 'n musikale ontwikkeling veronderstel wat die teologiese studente nie het nie en ook nie ingepas kan word in die oorlaaide studieprogram van die studente nie. Professor De Wet het studieverlof ontvang vir die eerste semester van 1975, en sy lesings is waargeneem deur professor D.J. Booysen en doktor M.J. du P. Beukes.

29 Mei 1974

Die Senaat neem kennis van die afsterwe van professor E.S. Mulder en van 'n oorsig oor sy lewensloop. 'Ons bring in dankbaarheid hulde aan die nagedagtenis van 'n geliefde en beminde oudkollega en vriend. In dankbaarheid dink ons aan sy toegewyde arbeid, lojaliteit, vriendelikheid en spontane humorsin.'

17 Junie 1974

Die Raad verwelkom meneer J.C. Oelofse as verteenwoordiger van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die Raad aanvaar staande 'n mosie van roubeklag met die afsterwe van professor E.S. Mulder.

30 Julie 1974

Die Fakulteit besluit op voorstel van professor Pont:

Dat, nadat die lede van die eksamenkommissie 'n proefskrif beoordeel het, die kandidaat 'n geleentheid gegee word om tydens die vergadering van die eksamenkommissie 'n gesprek met die eksamenkommissie te voer oor die proefskrif. Die finale goedkeuring van die proefskrif deur die eksamenkommissie vind ná hierdie bespreking plaas.

Die doktorale eksamenuitslae van P.A. Geyser, F.H. van der Merwe en G.C. Velthuysen is bekragtig. Die volgende onderwerpe vir proefskrifte is goedgekeur: G.C. Velthuysen Die dogmatiese probleme in die kompleks Geskiedenis-Voorsienigheid, A.J. Conradie Gebed en gebedsverhoring in die Bybel

28 Augustus 1974

Die Senaat neem kennis van die dood van professor S.P.J.J. van Rensburg op 26 Augustus 1974. 'Sy doseerwerk is verrig met 'n noukeurige deeglikheid waarin hy besonder hoë eise aan homself gestel het... Ons huldig sy toegewyde akademiese arbeid.'

30 Augustus 1974

Die begrafnisdiens vir professor S.P.J.J. van Rensburg in die kerkgebou van Pretoria op 30 Augustus 197 is gelei deur doktor L.M. le Roux. Professor F.J. van Zyl het namens die kerk die woord gevoer en professor B.J. Engelbrecht namens die Universiteit. Die ter aarde bestelling is waargeneem deur dominee F.J.H. Buitendag. Professor Van Rensburg is voor sy oorlye 'n tyd lank in Ons Tuis versorg.

13 September 1974

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van die afsterwe van die vorige voorsitter dominee A.J. Nolte en van professor S.P.J.J. van Rensburg. Dominee Nolte is oorlede op 30 Julie 1974. Hy was toe slegs 63 jaar oud, en het ernstig gely aan emfiseem. Sy begrafnisdiens op 01 Augustus 1974 in die kerkgebou van Rustenburg is waargeneem deur J.P. Oberholzer en die ter aarde bestelling deur dominee P.M. Smith.

Die voorsitter doen verslag oor 'n gesprek tussen die Moderamen en professor Pont:

Dit is aan prof Pont gestel dat hy onder alle omstandighede so moet optree dat hy homself en ook nie die kerk skade aandoen nie. Prof Pont het gestel dat dit nog altyd sy oogmerk was sedert sy gesprek met ds AJ Nolte en die skriba, naamlik dat hy nooit enige werwingswerk sal doen of politieke toesprake sal hou nie en altyd so sal optree dat sy optrede geen ergernis verwek nie. Die voorsitter stel verder dat dit aan prof Pont gestel is dat hy sy lidmaatskap van die hoofbestuur van die betrokke party miskien weer in heroorweging moet neem.

24 September 1974

Die Fakulteit aanvaar die huishoudelike reëls vir die colloquium doctum by die beoordeling van DD proefskrifte. Die inskrywing van A.J. Willemse vir DD word aanvaar. Studieverlof word toegestaan aan professor J.I. de Wet 01 Januarie-30 Junie 1975.

25 Oktober 1974

Doktor C.J. Mans is skielik oorlede na 'n hartaanval. Hy was 45 jaar oud. Professor B.J. Engelbrecht is as vise-skriba in sy plek verkies. Professor A.D. Pont het as sekundus van doktor Mans sitting op die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering geneem.

07 November 1974

Professor Pont het aansoek gedoen vir die instelling van 'n kursus in die Geskiedenis van die Ekumeniese Beweging. Die Kuratorium het besluit om dit so aan te beveel en die aanstelling van dominee J.J. Steenkamp op 'n tydelike basis daarvoor goedgekeur. Hierdie vergadering het ook 'n komitee benoem bestaande uit die voorsitter, die dekaan, die professor in Praktiese Teologie en die studentepredikant om nuwe studente tydens oriëntering te ontmoet, en het verder besluit dat daar jaarliks 'n kamp gereël moet word waarby al die studente, ook dié wat aan ander universiteite studeer, betrek sal word.

Die vergadering het kennis geneem dat professor W.C. van Wyk benoem is as halftydse Bybelvertaler in die plek van professor Mulder en nie meer vier lesings per week kan waarneem in Ou Testamentiese Wetenskap nie. Die Kuratorium het goedgekeur dat dominee A.P.B. Breytenbach en professor Van Wyk elk een lesing per week sal waarneem en dat professor Oberholzer vier (lees sewe) lesings per week sal behartig.

 

1975

18 Februarie 1975

Die Fakulteit ken die Nico Prinslooprys toe aan J.H. Breytenbach. Die vak-keuse van J.M.G. Storm vir DD word goedgekeur. Gewysigde leerplanne vir Bybelkunde is aanvaar. Die Vergadering van Professore besluit dat J.P. Oberholzer, G.M.M. Pelser en F.J. van Zyl voordragte moet hou by die opknappingskursus vir predikante op 08 April 1975.

Die vergadering bespreek die aangeleentheid van 'buitewerk' deur dosente van die Universiteit en versoek dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering daaroor 'n gesprek met die rektor moet hou. Uitstaande bydraes vir 'n Handboek oor die Ensiklopedie van die Teologie is dringend aangevra.

21 Februarie 1975

Die Kuratorium neem kennis van die komiteeverslag oor onderhoude met voornemende studente op 11 Februarie 1975 en dat die Jeugkampterrein bespreek is vir 21–23 Maart. Aanbeveel is dat die beursleningsbedrag verhoog word na R451.40. Die voorsitter van die proponents-eksamenkommissie, professor P.S. Dreyer, het gerapporteer dat daar waardering is vir die uitstaande werk wat deur die Fakulteit gedoen word, maar daar is bevind dat die studente gebrekkige kennis het oor praktiese sake en dat daar by sommige spraak-probleme is. Die Kuratorium het daarop die professor in Praktiese Teologie versoek om met behulp van die SAUK spraaktoetse af te neem en na bevind van sake te handel. 'n Komitee is benoem om die moontlikheid te ondersoek van opleiding in praktiese sake.

13 Maart 1975

Die 57ste Algemene Kerkvergadering kom vir 'n buitengewone sitting byeen om te handel oor die hersiening van die Gesange.

14 Maart 1975

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van 'n skrywe van professor C.H. Rautenbach wat 'n hele voorgeskiedenis gehad het. Dié geskiedenis het begin met 'n artikel van A.D. Pont getitel 'Diskriminasie en Rassisme' in Die Hervormer van November 1974. Daarin het Pont die Jeugkongres wat op 02-03 Augustus vergader het, gekritiseer oor die bewoording van 'n verklaring wat gelui het: 'Ons verwerp álle rassisme en rassediskriminasie maar ook die metodes van die Wereldraad van Kerke vir die bestryding van rassisme.' Hy het geskryf dat uit die verklaring die afleiding gemaak kan word dat die Jeugkongres die begrippe net so verstaan soos die Wêreldraad van Kerke wat normaalweg in die kommunisties-liberalistiese propaganda-idioom praat. Hy het hom beroep op die herderlike skrywe van 1973 waar verklaar word dat sonder 'n duidelike verklaring van die teendeel, 'n besluit teen rassisme geïnterpreteer moet word as 'n besluit ten gunste van integrasie.

Dit is duidelik dat die Jeugkongres nie behoorlik kennis geneem het van die Herderlike Skrywe nie en daarom in hierdie verleentheid-slagyster getrap het. Is dit nie juis een van die probleme van ons tyd dat ons vergaan vanweë 'n gebrek aan kennis nie?

Daarop het prof Rautenbach gereageer in 'n artikel 'Semantiese Vitterigheid' in Die Hervormer van Februarie 1975, waarin hy onder andere skryf: 'Behalwe sy kritiek op die woordkeuse.. bepleit professor Pont meer as halfpad die bruikbaarheid van die term diskriminasie om ons aanvaarde kerklike en staatlike volke-verhoudngsbeleid te kenskets.' Rautenbach verwys dan na die brosjure Gelyke Geleenthede, die oplossing van die Rassevraagstuk – die eerlike weg [geskryf deur A.D. Pont] wat in 1963 deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gepubliseer is in antwoord op 'n stuk van die Nederlandse Hervormde Kerk, en waarin telkens verwys word na 'die euwel van rassedikriminasie'. Rautenbach skryf dan verder:

Die professor het aanspraak op 'n eie mening.. Maar sý eenspaaierigheid en eenkennigheid mag nie die maatstaf vir die taal- en denkpatrone van 'n kerk met openbare verantwoordelikheid en kommunikasie-behoefte, veral na buite, wees nie. Het die tyd nie aangebreek nie dat die Algemene Kommissie uitsluitsel gee en die beswaarde professor tot orde roep ter wille van die goeie naam van die kerk na buite?

Hierdie skrywe van Rautenbach is aangegryp deur die pers en uiteindelik het hy die voorsitter van die Kommissie kwalik geneem vir sý kommentaar in die pers. Dit het begin met 'n berig in Rapport op 9 Februarie 1975, onder die opskrif Vat Pont nou vas, sê oud-rektor aan hul kerk. In Hoofstad van 10 Februarie is die berig oor Rautenbach se skrywe begin met die volgende woorde:

In Hervormde Kerkkringe word druk bespiegel oor die toekoms van prof AD Pont .. Party kerkleiers meen dat prof Pont hierdie keer te ver gegaan het en dat dit sy einde in die kerk gaan beteken. Dit is bekend dat prof Pont baie simpatie met die HNP het en gereelde bydraes vir sy amptelike lyfblad, Die Afrikaner, lewer.

Die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering word ook aan die einde van die berig aangehaal, naamlik:

Dat daar behoorlike kerklike prosedure in die Hervormde Kerk is indien 'n persoon 'n klag teen 'n ander het. Hy het daarop gewys dat die eerste opsighoudende liggaam die Ringsvergadering is wat die hele aangeleentheid in behandeling kan neem.

Die koerante het behoorlik ingeklim met berigte. Die opskrifte was:

Dr Pont se kollegas kwaad vir hom – Vaderland 11 Februarie,
Pont nie besorg oor klag – Hoofstad 11 Februarie,
Pont steur hom nie aan aanval – Oggendblad 11 Februarie,
Pont se rekenskap nodig – Rautenbach Oggendblad 12 Februarie

Alles het daartoe gelei dat die voorsitter in opdrag van die Moderamen 'n lang soektog deur die kerklike geskrifte moes onderneem om vas te stel hoe die kerk in die verlede die term diskriminasie gebruik het. Dit is gedoen en daar is gevind dat die kerk die woord nooit anders as in ongunstige sin gebruik het nie. Hy het sy verslag oor die ondersoek soos volg afgesluit:

Op grond hiervan kom dit my voor dat die Kommissie dus wel van prof Pont 'n nadere verklaring van sy uitsprake moet vra, ten einde vas te stel of hy in hierdie opsig met die beleid van die kerk saamstem of nie. Die Kommissie sal egter tegelykertyd ook aandag moet skenk aan die wyse waarop prof Rautenbach sy beswaar onder die aandag van die Kommissie gebring het... In hierdie opsig sal die Kommissie nie anders kan as om aan te dring daarop dat dergelike besware in die toekoms onder die aandag van die betrokke opsighoudende vergaderings gebring word, op die wyse wat die kerk daarvoor neergelê het. Die dissipline en die goeie orde vereis dit...

Die Moderamen het opdrag gekry om ondertussen gesprekke te voer met Pont en Rautenbach en aan die volgende vergadering inligting te verskaf. Pont het volgens berigte in Beeld, Die Transvaler en Oggendblad van 24 Februarie 1975 'n kongres van die Vereniging van Afrikaanse Rhodesiërs toegespreek oor die vyand in ons midde. Hy het die blanke Rhodesiërs verseker van die steun van elke Afrikaner van die Kaap tot aan die Zambesi. Daarop het Beeld in 'n hoofartikel op 25 Februarie 1975 soos volg gereageer.

As Rhodesië se Afrikaners deurmekaar raak met ver-regse Afrikaners soos prof Adriaan Pont van Pretoria, is dit seker hulle saak. ...Prof Pont as woordvoerer van die ganse Afrikanerdom? ...Ons hoop nie die Rhodesiërs steur hulle aan prof Pont nie, wat instorm in delikate situasies waar hy nie behoort te wees nie.

08 April 1975

Die gewysigde titel van die proefskrif van R. Sauerzapf is aanvaar, naamlik Die Säkularisierung der Genfer ökumene en die uitslag van J.J. Steenkamp se doktorale eksamen is bekragtig. Die vak-keuse van J.A. Beukes, S.P. Pretorius, L.M.P. Swanepoel en P.M. Venter vir DD is goedgekeur. Die regulasiewysiging oor die toelatingsvereistes vir BD is aanvaar soos aanbeveel deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Volgens die jaarverslag was daar in 1974, 42 BD en 27 DD studente ingeskryf.

06 Junie 1975

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van die dood van dominee T.F.J. Dreyer snr op 10 Mei 1975 na 'n lang siekbed. Dominee Dreyer was skriba van die Algemene Kerkvergadering van 1937 tot 1964. Die Kommissie het die huldigingswoord van sy voorsitter by die begrafnis onderskryf. Hy het onder andere gesê:

Vrugbare arbeid is ook die woorde wat in gedagte kom as 'n mens nadink oor die lewe van ds Theuns Dreyer: 42 jaar van aktiewe bediening in slegs drie gemeentes gevolg deur 9 jaar van diens buite sowel as binne die predikamp; 30 jaar lank lid van die Moderamen, waarvan 27 as skriba, daarnaas aktiewe betrokkenheid by feitlik elke aspek van kerklike werk, verteenwoordiger van die kerk op meer as een liggaam, wye belangstelling en betrokkenheid in kulturele en politieke sake. Dit was 'n lewe met hoë standaarde en inherente waardigheid en netheid; 'n lewe waarin liefde vir kerk en volk oorheersend was, waarin die roeping tot die diens van die Woord steeds die laaste woord gehad het.

22 Julie 1975

Professor J.I. de Wet word verwelkom ná sy studieverlof. Professore Van Zyl en Engelbrecht is genomineer vir die dekaanskap. Die uitslag van R. Sauerzapf se proefskrif is bekragtig. Die vak-keuse van B.J. Erasmus vir DD is goedgekeur.

08 September 1975

Die Kuratorium handel oor die benoeming van 'n lektor in Bybelkunde (Nuwe Testament). Die Vergadering van Professore het die name van doktor A.J.G. Dreyer, dominee J.J. Engelbrecht jnr, dominee N.H. Buitenweg en dominee P.A. Geyser voorgelê en het eenparig vir doktor Dreyer aanbeveel as eerste keuse. Omdat dit 'n junior pos is, het die Kuratorium by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aanbeveel dat die persoon wat die pos gaan vul, finansieel nie swakker daaraan toe sal wees as 'n predikant nie en dat die kerk daarom die salaris van so 'n persoon sal aanvul. Doktor Dreyer het nie die benoeming aanvaar nie, en dominee J.J. Engelbrecht jnr is benoem en het die benoeming aanvaar.

Johannes Jacobus Engelbrecht is gebore op 27 Oktober 1933. Hy was die oudste kind van dominee J.J. Engelbrecht wat die teologiese studie in 1933 voltooi het maar as gevolg van die depressie en moeilike ekonomiese omstandighede van destyds eers in 1937 georden is. Engelbrecht jnr het die BA, BD studie in 1957 voltooi, BD met lof, en is georden op 22 Februarie 1958. Hy bedien die gemeentes Primrose-Oos, Bloemfontein en Zuurfontein, lê die doktorale eksamen in Nuwe Testamentiese Wetenskap af en bly woonagtig in Kempton Park ná sy benoeming as lektor.

Hierdie vergadering het ook die versoek van professor A.D. Pont behandel dat dominee J.J. Steenkamp weer in 1976 lesings oor die Geskiedenis van die Ekumeniese Beweging sal gee. Die Kuratorium het besluit om eers advies in te win by die Vergadering van Professore oor die vraag of die kursus nie beter tuishoort by Sendinggeskiedenis nie, en wat die houding van die Universiteit is oor 'n tweede leerkrag in 'n department.

16 September 1975

Die Fakulteit dra dit aan die dekaan op om te handel oor die vulling van die addisionele lektoraat in Bybelkunde sodra 'n aanbeveling van die kerk ontvang is.

 

1976

17 Februarie 1976

Die Fakulteit verwelkom dominee J.J. Engelbrecht wat sitting neem as assessorlid. Die Nico Prinslooprys word toegeken aan G. van R. Els. Die doktorale eksamenuitslag van J.P. Labuschagne word bekragtig. L.C. Bezuidenhout word toegelaat om saam met BD in te skryf vir BA Hons Semitiese Tale. Die onderwerp van A.P.B. Breytenbach se proefskrif word goedgekeur, naamlik Staat en volk in die profesieë van Hosea, en die vak-keuses van R.M. Naude en T.H.J. van Nieuwenhuizen vir DD word goedgekeur. M.W. Pretorius het vrystelling van die doktorale eksamen ontvang met die oog op inskrywing vir 'n tweede doktorsgraad.

05 Maart 1976

Die Kuratorium besluit dat die lesings oor die geskiedenis van die ekumeniese beweging alleen vir 3de jaar studente aangebied word en neem kennis dat dit deel uitmaak van die bestaande kursus in Kerkgeskiedenis. Besluit is om die H.C.M. Fourie-Erepenning toe te ken aan dominee J.G.M. Dreyer.

Nadat kennis geneem is dat die BA-graad by die Universiteit van Pretoria in die toekoms 10 kursusse sal omvat en nie meer 11 nie, is besluit om aan te beveel dat die kursusse sal bestaan uit Grieks I, Hebreeus I, Bybelkunde I, Latyn I of Ib, Grieks II, Hebreeus II, Wysbegeerte II of Bybelkunde II, en in die derde jaar enige twee van genoemde kursusse met dien verstande dat een van die twee Grieks III of Hebreeus III sal wees.

Kennis is geneem dat die studentekamp geslaagd was. Professor en mevrou Oberholzer is bedank vir hulle optrede as kampouers en die Voortrekkerspan wat die etes en verversings voorsien het, vir hulle werk.

13 April 1976

Die Fakulteit keur die volgende onderwerp vir die proefskrif van J.J.P. Muller goed. Ampte en vergaderings: 'n Ondersoek na die oorspronge en funksie van die ampte en vergaderings in die presbiteriaal-sinodale kerkregering en 'n vergelyking daarvan met die Kerkwet van die Nederduitsch Hervormde Kerk van 1976. Die jaarverslag meld dat daar in 1975, 40 BD en 29 DD studente ingeskryf was, en een geleentheidstudent.

18 Mei 1976

Die 58ste Algemene Kerkvergadering neem sitting. J.P. Oberholzer is as voorsitter, P.M. Smith as skriba, F.J. van Zyl as vise-voorsitter en B.J. Engelbrecht as vise-skriba verkies. Doktor P.J.T. Koekemoer en dominee C.L. van den Berg is verkies as predikantlede van die Kommissie.

Die H.C.M. Fourie-Erepenning is op 21 Mei aan dominee J.G.M. Dreyer oorhandig. Dominee Dreyer het saam met sy broer, dominee T.F.J. Dreyer, en sy neef, dominee A.J.G. Oosthuizen, 'n belangrike en leidende rol gespeel in die geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van sy ordening af op 03 Mei 1924 tot op datum. Die voorsitter van die Kuratorium, doktor L.M. le Roux, het vermeld dat dominee Dreyer 'n toegewyde student gebly het wat 'n rykdom aan artikels, brosjures en boeke gelewer het en sinds 1937 onafgebroke redakteur van Die Hervormer was.

Ons wil hom die Hoedemaker van die Nederduitsch Hervormde Kerk noem vanweë sy suiwer reformatoriese beskouing. Hy het sy blik na die toekoms gerig met 'n diep verbintenis in die verlede. Met woord en daad gee hy homself steeds in onbaatsugtigheid vir die beskerming van die waardevolle uit die verlede van kerk en volk.

Hierdie vergadering het verdere besluite geneem oor die deelname van ampsdraers aan die partypolitiek. Aanleiding daartoe was besware oor die optrede van ampsdraers, veral oor Pont. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het 'n memorandum deur dominee C.L. van den Berg laat opstel vir voorlegging en besluit deur die Algemene Kerkvergadering. Die opskrifte van die paragrawe in die memorandum dui aan wat alles in die memorandum behandel is:

A. Kerk en politiek

I. God se politiek.
II. Aardse politiek.
III. Kerk en aardse politiek.
IV. Ons kerk en die Suid-Afrikaanse politiek in die verlede.
V. Ons kerk en die Suid-Afrikaanse politiek vandag.

B. Ampsdraers en die politiek

I. Die teorie.
II. Die praktyk.

Die aanbevelings by die memorandum is vooraf in die Nuusbrief van Januarie 1976 bekendgestel en is in al sy onderdele deur die Algemene Kerkvergadering aanvaar. Dit was soos volg:

I. Die vergadering beklemtoon dat die kerk hom nie kan onttrek aan die verantwoordelikheid om op gebied van die landspolitiek openlike en duidelike getuienis te lewer nie. Hierdie getuienis moet gegee word op die wyse wat vir die kerk gebode is, naamlik vanuit die Woord van God. Die kerk is 'n volgeling van geen politieke persoon of party nie, en 'n aanhanger van geen politieke program of beleid nie. Hy mag sy vrymoedigheid om sonder aansien des persoons teenoor alle mense te getuig, nooit pysgee nie.
II. Waar lidmate en ampsdraers van die kerk deur lidmaatskap of andersins aan politieke partye verbonde is, eis die kerk van hulle dat hulle getuienis en optrede daar so sal wees dat eerbaarheid en waarheid, reg en liefde bevorder word en dit vir alle mense duidelik sal wees dat hierdie lidmate en ampsdraers van die kerk in gehoorsaamheid aan die Woord van God lewe. Terwyl die kerk aan sy lidmate en ampsdraers die volste vryheid wil gun en bowendien hulle verantwoordelikheid wil benadruk om betrokke te wees in die landspolitiek, ag hierdie vergadering dit noodsaaklik dat die volgende reëlings gemaak moet word ten opsigte van dienaars van die Woord:

• Geen dienaar van die Woord sal op welke wyse ookal deelneem aan die organisasie van 'n politieke party of die werwing van lede vir 'n party of die werwing van stemme vir enige kandidaat van 'n party nie.
• Geen dienaar van die Woord sal homself beskikbaar stel as kandidaat vir verkiesing tot lid van 'n plaaslike bestuur, provinsiale raad of parlement nie.
• Geen dienaar van die Woord sal sitting neem op 'n partybestuur of toelaat dat sy naam gebruik word vir reklame ten gunste van 'n bepaalde party nie.

III. Die vergadering maak hierdie reëling onder die bewustheid van sy verantwoordelikheid om toe te sien:

• Dat die amp van dienaar van die Woord ongeskonde sal bly.
• Dat die amp en status van die dienaar van die Woord nie misbruik sal word vir ander doeleindes as waarvoor dit ingestel is nie.
• Dat die dienswerk van die dienaar van die Woord sowel in die pastoraat as in die hoogleraarsamp vry sal wees van enige belemmering.
• Dat dienaars van die Woord al hulle tyd en krag sal wy aan die diens van die evangelie.

Professor P.S. Dreyer, ouderlinglid van die Kommissie, het sy teenstem teen die besluit laat aanteken met die volgende motivering: 'Die besluit is te radikaal en sal ons kerk in die toekoms skade aanrig hoewel ons oortuig voel dat predikante wat ons kerk se naam in gedrang bring, getugtig behoort te word.' Die volgende persone het hulle met sy teenstem vereenselwig: Dominees L.M.P. Swanepoel, E.J. Smit, P.J. van der Merwe, F.H. van der Merwe, J.M.G. Storm, J.J. Steenkamp, G.C. van Staden, J.J.H. Engelbrecht, E.P. Vosloo, N.H. Buitenweg, J.H. Breytenbach, C.J. Botha, S.P. Pretorius, A.J. van Staden, J.P. Snyman, G.J. van Staden jnr, C.J.J. van Rensburg, J.H. Brandt, P.J. Cilliers, F.J. Boshoff, professor G.M.M. Pelser, en ouderlinge F.G.J. Snyman, S.A. van Emmenis en M.H.J. van der Merwe. Dominee J.P.B. Viljoen, ouderling T. Botha en dominee J.A.A. Schroeder het ook hulle teenstemme laat aanteken. [Dit val op dat A.D. Pont, wat lid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering was en in 'n skrywe aan predikante gemoedere gaande probeer maak het om die besluit te probeer verhoed, nie hier 'n teenstem laat aanteken het nie.]

Die Moderamen het die volgende reëling gemaak as uitleg van die besluit, en dit is deur die vergadering bekragtig.

Persone wat tans lede is van partybesture en/of plaaslike besture word toegelaat om die termyn waarvoor hulle verkies is, uit te dien. Indien daar in sommige gevalle geen vaste termyn van sitting op dergelike besture is nie, sal predikante oorleg pleeg met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor die beëindiging van hulle dienstyd op die betrokke besture. Vir 'n besluit oor dié gevalle sal die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oorleg pleeg met die betrokke ringskommissies.

Ook hierteen was daar teenstemme, naamlik van professore A.D. Pont en G.M.M. Pelser en dominee H.R. Visser:

Ons wens ons teenstem aan te teken teen die besluit dat die besluit van die vergadering insake dienaars van die Woord en die partypoltiek nie onmiddellik van krag is nie. Dit laat die weg oop vir willekeur. [Professor Pont het nog staande die vergadering skriftelik bedank as lid van die hoofbestuur van die HNP].

Pont se eie visie het hy soos volg weergegee:

Na die hofsaak het ek in 1969 die leiding gevolg van dr Albert Hertzog, mnre Jaap en Willie Marais en Louis Stoffberg, en meegewerk aan die stigting van die Herstigte Nasionale Party... Ek het egter by die Herstigte Nasionale Party gestaan omdat dit vir my om 'n beginsel gegaan het, naamlik dat die Verwoerd-Herstigte Nasionale Partybeleid, histories gesproke, in die lyn gelê het wat ons Kerk steeds gevolg het, onder andere met ons volkskerklike sendingbenadering wat so anders is as die Engelse en ook die NG-benadering wat almal in die sendende kerk wil opneem. In dié tyd het dit my opgeval hoe die predikante hulle laat saamsleep het deur die Afrikaanse koerante en radio en Vorster se argumente. My politieke keuse het, indien moontlik, my in die Kerk en op die kerklike vergaderings nog meer omstrede gemaak... My 'omstredenheid' het meegebring dat die Algemene Kerkvergadering in 1976 besluit het dat dienaars van die Woord glad nie aan die partypolitiek mag deelneem nie. Ek is nou nog oortuig daarvan dat dié besluit uitsluitlik geneem is omdat ek kort vantevore as 'n amptelike HNP kandidaat vir die Stadsraad van Pretoria gestaan het. Daarby was ek op daardie stadium een van die twee onder-voorsitters van die party. Die feit dat ek in 1973 uit die Broederbond geskors is het seker ook daartoe bygedra dat ek vir baie predikante-kollegas 'n verleentheid geword het .. Na die Algemene Kerkvergadering het dit nog stiller in die Kerk rondom my geword ... 'n Klein groepie jonger predikante het hulle in daardie tyd om my geskaar en saam met Albert Herbst en 'n paar ander manne aan my vriendskap en geselskap verleen. Op die ou end was dit nogal 'n interessante waterskeiding wat rondom my persoon plaasgevind het in die sewentigerjare. Een ding het daardie tyd my geleer en dit is dat alleen getoetste vriendskap die moeite werd is. [Vir die kerk se hoogleraar in Kerkgeskiedenis is hierdie uitsprake verbasingwekkend. Hy moes darem sekerlik op hoogte gewees het van die standpunt van die kerk oor die deelname van dienaars van die Woord aan die partypolitiek wat oor jare telkens bevestig is. Bowendien was hy lid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en op hoogte van die memorandum en die voorstelle daarby. Hy het hom nie dáár daarteen verset nie, nie die standpunte daarin weerspreek nie, ook nie op die Algemene Kerkvergadering waar die besluite geneem is nie. Hy het vir homself voorregte toegeëien wat duidelik in stryd was met die kerk se standpunt. Sy aanspraak dat die HNP beleid in lyn lê met dié van die kerk, is bowendien hoogs aanvegbaar. Wat ook opval, is sy houding van 'ek is reg, almal wat nie met my saamstem en saamdoen nie, is verkeerd, hulle laat hulle saamsleep deur die koerante, en hulle kan nie meer my vriende wees nie.' In werklikheid was dit sy 'gewese' vriende in die opsighoudende liggame wat hom steeds uit deernis met sagte handskoene gehanteer het. Die 'klein groepie jong predikante' wat hulle om hom geskaar het, was die begin van wat bekend sou word as die H.C.M. Fourie-fonds. Hulle het naamlik besluit om elkeen by te dra tot die delging van Pont se skuld aan Geyser en Naude wat uit die lastersaak voortgekom het, en hulle het die naam van die fonds gekies om daarmee vir hulleself die geestelike erfenis van doktor H.C.M. Fourie toe te eien. Met verloop van tyd sou hulle 'n eie blad oprig met die naam Leer- en Lewenskwessies om daarmee ook die Goddefroy-erfenis in hulle dampkring te betrek, en het hulle ontwikkel tot 'n afsonderlike groep met besondere teologiese aksente wat eie 'kerkdae' en Hervormingsbyeenkomste gehou het in navolging van die Bekennende Gemeinschaft in die Evangeliese Kerk van Duitsland, en meesal 'n opposisie gevorm het in amptelike vergaderinge van die Kerk.]

Wat die Opleiding betref het die vergadering kennis geneem van die kontrakwysiging met die Universiteit van Pretoria na aanleiding van die goedkeuring van een senior lektoraat vir elke department. Die wysiging het bepaal:

a. dat elke kerk 'n bydrae gelyk aan 30% van die bedrag van die maksimumkerf van die salarisskaal van toepassing op senior lektore in die onderskeie afdelings, wanneer sodanige poste ingestel sou word, maak; die bydrae sal telkens aangepas word wanneer salarisskale hetsien word;
b. dat 'n verdere klousule tot die ooreenkoms met albei kerke toegevoeg word; ten effekte dat die Raad van die Universiteit wat die 30 % bydrae van die kerke ten opsigte van professore en senior lektore betref, mag besluit dat hierdie persentasie wat die kerke bydra, na ooreenkoms met die kerke, mag verminder;
c. dat elke kerk ten volle verantwoordelik vir die besoldiging van dosente anders as professore en senior lektore in die onderskeie afdelings sal wees; en
d. dat die Universiteit se bydrae ten opsigte van senior lektore tot een senior lektor per department beperk sal wees.

Die volgende beskrywingspunt van die Raad vir Voortgesette Kategese is aanvaar:

dat vanweë die wye omvang van elke teologiese wetenskap en die betrokkenheid van ons professore by die werk van die kerk in die algemeen, dit noodsaaklik geag moet word dat voorlopig deeltydse hulpe aan elke teologiese professor oorweeg moet word.

Die vergadering het professor B.J. Engelbrecht gelukgewens met sy komende viering van 25 jaar diens in 1977, en het aan die hand gegee dat onder andere 'n huldigingsbundel uitgegee sal word 'waarin professor Engelbrecht self aan die woord kom met die talle teologiese referate wat deur die jare uit sy pen gekom het. 'Dit is gedoen in die bundel Teologie in die Kerk wat in 1978 by HAUM verskyn het. Daarin is opgeneem 'n 22 tal artikels uit sy pen, waarvan drie nie tevore gepubliseer is nie. In die voorwoord skryf J.P. Oberholzer:

Soos uit die inhoud sal blyk, beoefen Engelbrecht sy vak ten dienste van die Kerk. Die erfenis van die kerkhervorming het deur sy werk 'n nuwe aktualiteit in die Nederduitsch Hervormde Kerk gekry, en sy aandeel in die vormgewing van 'n Suid-Afrikaanse Bybels-Reformatoriese teologie is geen geringe nie.

Hierdie Algemene Kerkvergadering het ook die volgende historiese besluit geneem:

Die vergadering gee opdrag aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering om 'n studie te maak vir verslag en aanbeveling by die volgende Algemene Kerkvergadering oor die eventuele toelating van vroulike lidmate van die kerk wat aan die akademiese kwalifikasies voldoen, tot sommige of alle kategorieë van die amp van dienaar van die Woord.

Die vergadering het kennis geneem dat die beurslening verhoog is en het gevra dat ondersoek ingestel word om dit in 'n suiwer beurs vir BD studente te omskep.Die Kuratorium is versoek om merietebeurse vir teologiese studente op 'n ander basis as tans te oorweeg.

Wat die verpligte kursusse vir die BA-graad betref, het die vergadering die voorstel van sy Kommissie aanvaar, naamlik Grieks I, Hebreeus I, Wysbegeerte I, Latyn I of Ib, Bybelkunde I, Grieks II, Hebreeus II, Wysbegeerte II of Bybelkunde II, en in die derde jaar enige van die genoemde tweedejaarskursusse met dien verstande dat een van die twee óf Grieks III óf Hebreeus III moet wees.

As lede van die Kuratorium is verkies doktor L.M. le Roux, professor C.H. Rautenbach, dominee C.J.S. van Niekerk, G.J.J. Roos, doktore J.L. van Staden, A.J.G. Dreyer en D.J.C. van Wyk. Die begroting vir die Teologiese Opleiding is vasgestel op R48 062.

27 Julie 1976

Die vak-keuses van J.D. Maloney, J.S. en R.M. Naude, en J.A. van Biljon vir DD is deur die Fakulteit goedgekeur.

10 Augustus 1976

Die Kuratorium verkies doktor L.M. le Roux as voorsitter en dominee G.J.J. Roos as vise-voorsitter. Kennis is geneem van die besluite van die Algemene Kerkvergadering.

01 September 1976

Die Senaat wens J.P. Oberholzer, F.J. van Zyl en B.J. Engelbrecht geluk met hulle verkiesing op die Moderamen en A.D. Pont en J.I. de Wet met hulle verkiesing as sekunduslede.

21 September 1976

Die Fakulteit wens by monde van professor A.D. Pont die dekaan, professor B.J. Engelbrecht, geluk met die 25 jaar diens aan die Universiteit.

22 November 1976

Die Raad besluit om die eregraad DD toe te ken aan dominee J.G.M. Dreyer.

25–26 November 1976

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering keur 'n konsepverklaring goed met betrekking tot die situasie in die land. Dit is gepubliseer in Die Hervormer se Nuusbrief van 01 Januarie 1977 onder die opskrif 'Getuienis.' Die volgende aanhalings gee 'n idee van die inhoud:

Die Nederduitsch Hervormde Kerk ag 'n beleid wat gelyke en afsonderlike geleenthede vir elke volk en volksgroep in Suid-Afrika bied, steeds die beste in die Suid-Afrikaanse situasie...Dit bly ons oortuiging dat so 'n beleid uitvoerbaar is, en dat dit die beste kan voldoen aan die eise van die liefde wat gegrond is op
Gods liefde in Christus. Ons is verder daarvan oortuig dat onreg, vernederende maatreëls en krenkende optrede nie inherent is aan so 'n beleid nie...
Ons dring derhalwe by die regering daarop aan dat hy voortgaan om die beleid waarvoor hy 'n mandaat van die volk ontvang h
et, in sy volle konsekwensies uit te voer ... dat maatreëls wat vernederend van aard is, afgeskaf word en krenkende optrede op elke vlak van die samelewing met krag teengegaan word ...
Ons dring by die Afrikanervolk, die volk waarbinne die Nederduitsch Hervormde Kerk in die eerste plek leef en werk, daarop aan dat hy sy erfenis, wat met groot stryd en taaie volharding vir hom bewaar is, kosbaar sal ag... dat hy, wat self soveel miskenning en leed ervaar het in sy strewe na vryheid en selfbeskikking, en dit nog steeds ervaar, op geen wyse deelagtig sal wees daaraan dat ander volke in ons land in hulle weg na selfvervulling belemmer sal word nie ... dat hy al sy instellings, van die gesin af tot by die omvattendste, sal inspan om by sy jeug in te skerp dat ons gang alleen 'n hoopvolle toekoms kan inhou as ons aan ander gun wat ons vir onsself opeis en bereid is om die hoogste Christelike waardes te laat geld in ons verhouding tot ander en ons stryd om ons eie lewe. ...
Ons roep gemeentes en lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk op om die regering met alle krag te ondersteun vir sover hy die beleid wat deur die kerk voorgestaan word, ten uitvoering wil bring, ...om in die lewe van die kerk en die lewe van elke lidmaat van die kerk dit duidelik te stel dat daar geen ruimte is vir enige optrede wat 'n medemens leed berokken nie; die kerk aanvaar die gelykheid van alle mense voor God en kan hom nooit vereenselwig daarmee dat een volk meerderwaardig is bo 'n ander nie.

Die redakteur van Die Hervormer het professore C.H. Rautenbach en J.A. Loader om kommentaar gevra oor die verklaring. Rautenbach se reaksie was positief. Loader aan die ander kant het die geleentheid gebruik om kommentaar te lewer op die Herderlike Skrywe van 1973 en het die Skrifgebruik daarin en in die Hervormde Kerk oor die algemeen veroordeel. Daarby het hy dan die retoriese vraag gestel of so 'n hantering van die Bybel nie die uiting van 'n eensydige teologiese verstarring is nie.

Die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering en sy eggenote het van 18 Desember 1976 tot 06 Januarie 1977 in opdrag van die Kommissie 'n besoek gebring aan Nederland en Wes-Berlyn. Hy het onderhoude gevoer met die Moderamen van die Nederlandse Hervormde Kerk, die bestuur van die Gereformeerde Bond, die dosente aan die Akademie van die Christelik Gereformeerde Kerk in Apeldoorn, en het dominee G.J. Gijmink, doktor C.A. Tukker, meneer W.A. Veenhoven, mevrou Van Ruler, en professore Van Itterson, Hulst en Jonker ontmoet. In Berlyn het hulle tuisgegaan by professor en mevrou Winterhager en het hy onderhoude gevoer met IDEA (die inligtingsdiens van die Duits-Evangeliese Allianse) en met die koerant Die Welt. Hy moes ook 'n byeenkoms van pastore en studente toespreek oor 'Suid-Afrika ná Soweto' waar 'n persoon alles probeer ontwrig het deur te bly skree: 'Hulle het kinders geskiet!'; verwysende na 'n foto wat ná die Soweto-opstand wêreldwyd versprei is. In Die Hervormer van Maart 1977 verskyn 'n weergawe van die onderhoud met IDEA, en in die April-uitgawe verskyn 'n artikel van Oberholzer getitel 'Ons Verhouding met die Nederlandse Hervormde Kerk.'

 

1977

09 Februarie 1977

Die Kuratorium spreek by die behandeling van vorderingsverslae sy kommer uit oor die hoë druipsyfer en besluit om studente aan te raai om in die eerste jaar vier in plaas van vyf vakke te neem, en dat die voorsitter van die Vergadering van Professore 'sal trag om billiker eise wat Grieks en Hebreeus (veral dieptestudie) betref te probeer reël.' Reëlings van die jaarlikse Kuratoriumkamp is opgedra aan die voorsitter en J.P. Oberholzer. Van dominee S.G.A. Golden wat in Nederland is vir verdere studie, is 'n versoek ontvang om 'n studiebeurs. Dit is vir afhandeling verwys na die Administrateur en J.P. Oberholzer.

15 Februarie 1977

Die aansoeke van I.W. Ferreira, S.F.C. Ras, J.L.J. Smit en P.L. Steenkamp om vir BA Hons in te skryf word deur die Fakulteit goedgekeur.

16 Maart 1977

Die Senaat wens professor B.J. Engelbrecht geluk met 25 jaar voltydse diens en die rektor oorhandig aan hom 'n goue horlosie as blyk van waardering.

19 April 1977

Nadat vir 'n lang tyd die Fakulteitsraad in kamer 17 van die Ou Letteregebou bymekaargekom het, vergader dit vir die eerste keer in kamer 7, Dosentekantore I. Die jaarverslag meld dat daar in 1976, 40 studente ingeskryf was vir BD en 35 vir DD.

25 Mei 1977

Die Senaat kontinueer professor B.J. Engelbrecht as lid van die Komitee vir Dissipline (Studente), en besluit om die eregraad DPhil toe te ken aan doktor H. Muller.

26 Julie 1977

Die Fakulteit bekragtig die doktorale eksamenuitslag van P.B. Boshoff.

12 Augustus 1977

Die Kuratorium neem kennis van 'n memorandum van J.I. de Wet oor die belading van die professore en verwys dit na die Vergadering van Professore vir konkrete aanbevelings. Daar is verder besluit om nie die suggestie van die Algemene Kerkvergadering om die beurslening in 'n suiwer beurs te omskep vir BD studente, te implementeer nie. Die besluit is soos volg gemotiveer:

I. Die Kuratorium het kennis geneem van die toenemende neiging by teologiese studente om te trou en allerlei ander verpligtinge aan te gaan voordat hulle studies voltooi is.
II. Die Kuratorium is van oordeel dat hierdie neiging eerder ontmoedig as gestimuleer moet word.
III. Om die beurslening te omskep in 'n suiwer beurs sal heelwaarskynlik juis 'n verdere stimulering van hierdie neiging wees.
IV. Dit is waar dat teologiese studente wat vandag hulle studies voltooi, meer skuld het as wat in die verlede die geval was, as gevolg van stygende studiegelde. Dit is egter ook waar dat met goeie reg beweer kan word dat die traktemente van predikante in ten minste dieselfde mate verhoog is.
V. Sowel die bedrag as die voorwaardes van terugbetaling van die leningsgedeelte is van so 'n aard dat dit nie in die verlede of in die toekoms 'n swaar las op predikante gelaai het of sal laai nie.

VI. Die Kuratorium is verder van mening dat dit nie 'n gesonde toedrag van sake sal afgee as die kerk se studente gewoond word daaraan om te veel te maklik te ontvang nie.
VII. Daar is verder kennis geneem dat studente in die BD jare nie altyd bevredigende werk lewer nie.

Die Kuratorium het besluit op die instelling van 'n prestasiebeurs vir persone wat Matriek in die eersteklas en met onderskeidings geslaag het. 'n Bestaande reëling dat studente boeke koop by HAUM-boekhandel en die Raad van Finansies die rekening betaal en die studente dit terugbetaal nadat hulle afgestudeer het, is uitgebrei om studente wat aan universiteite studeer waar HAUM nie teenwoordig is nie, hulle boeke by ander boekhandels kan koop tot 'n maksimum van R150 per jaar. Weens praktiese oorwegings is besluit om nie vir 1977 'n kamp vir teologiese studente aan te bied nie. Die Kuratorium het kennis geneem van 'n studie van die posisie met predikantstandplase deur J.P. Oberholzer. Daarin is bereken dat in 1982 daar 'n tekort van 50 predikante sal wees en dat dit nodig sal wees dat van 1882, tot 1988, daar 113 toetredes van predikante nodig sal wees. 'n Jaarlikse inskrywing van 40 nuwe studente sou in 1988, 'n totaal van ongeveer 116 proponente lewer. Hierdie berekenings is gebaseer op die groeikoers van belydende lede van die kerk wat vir die volgende twaalf jaar aanvaar is as 2,4%. Daarvolgens sou die kerk dan in 1982, 139 500 en in 1988, 160 800 belydende lidmate hê. Terugskouend blyk dit dat die aanvaarding van 'n groeikoers van 2,4% heeltemal van die merk af was. In 1982 was daar volgens die opgawes 127 346 belydende lidmate en in 1988, 131 466. Die demografiese geskiedenis van die Afrikaner was besig om vinnig rem aan te draai en sou uiteindelik in trurat kom. Belangrik in hierdie studie was die volgende: 'Van die studente wat inskryf, voltooi slegs ongeveer 24% die studie binne ses jaar, terwyl 'n verder 12% binne sewe jaar, 6% binne ag jaar, 3% binne nege jaar en 'n verdere 6% na meer as 9 jaar afstudeer. Slegs 51,6% van die ingeskrewe studente voltooi die studie (met die syfers van 1941–1970 as basis.)' Oor die tydperk 1917–1970 het 517 studente ingeskryf en 272 die studie voltooi (net meer as 50%).

20 Augustus 1977

Professor S.P. Engelbrecht is oorlede, tien jaar ná sy aftrede as argivaris van die kerk, 'n pos wat hy vanaf sy emeritaat as hoogleraar in 1957 beklee het. Hy is in sy laaste jare versorg in Ons Tuis. Die begrafnisdiens in die kerkgebou van Pretoria op 25 Augustus 1977 is waargeneem deur doktor L.M. le Roux.

J.P. Oberholzer het namens die kerk die woord gevoer en B.J. Engelbrecht namens die Universiteit. Die gestalte en lewe van Engelbrecht is in die kerklike tydskrifte telkens in herinnering geroep. Onder die opskrif 'Prof SP Engelbrecht – 'n woord van waardering' skryf A.D. Pont in Die Hervormer Oktober 1977 oor die lewe en werk van Engelbrecht en noem hy hom een van die groot figure uit ons kerklike lewe. In November 1977 skryf dominee Joh Dreyer oor die heengaan van 'ons groot Kerkhistorikus'. In Die Hervormer Mei 1984 skryf Pont onder die opskrif 'Twee lê hegte grondslag: Ds Jac van Belkum en prof SP Engelbrecht' oor hulle bydrae tot die vestiging en voortgang van Die Hervormer, in Maart 1989 'Prof dr SP Engelbrecht – so het ek hom geken.' S.J. Botha skryf in Oktober 1991 onder die opskrif 'Onvergeetlike kerkhistorikus herdenk' oor die beplande jaarkongres van die Kerkhistoriese Genootskap wat die lewe en werk van Engelbrecht sal herdenk met in gedagte sy geboorte honderd jaar gelede, en op 01 November 1991 verskyn 'n foto van 'n kranslegging by sy graf deur sy kleinseun, dominee Jan Kramer, in teenwoordigheid van die Kramer-gesin. Riek van Rensburg het in April 1996 geskryf oor 'Prof SP Engelbrecht se nalatenskap aan die kerk.'

07 September 1977

Die Senaat neem kennis van die afsterwe van professor S.P. Engelbrecht.

20 September 1977

Die Fakulteit bekragtig die doktorale eksamenuitslag van E.C.B. Kotze.

25 Oktober 1977

Die Kuratorium handel oor die aanbeveling van die Vergadering van Professore en 'n verslag van die Dekaan oor die aanstelling van hulpdosente in die Fakulteit. Die Dekaan het onder andere ook verslag gedoen oor die belading van J.P. Oberholzer wat 'n byna voltydse program met die Bybelvertaling het naas sy werk as professor en as voorsitter van die Algemene Kerkvergadering. Die Kuratorium het daarop die volgende aanstellings van hulpdosente aanbeveel:

  • Ou Testamentiese Wetenskap: P.M. Venter vanaf die tweede semester 1978 (nadat hy die doktorale eksamen voltooi het).
  • Nuwe Testamentiese Wetenskap (vanaf die eerste semester 1978): P.A. Geyser.
  • Kerkgeskiedenis: S.J. Botha.
  • Dogmatiek: P.J.T. Koekemoer en J.H. Koekemoer.
  • Godsdiens en Sendingwetenskap: H.G. van der Westhuizen, C.J. Viljoen, D.J.C. van Wyk en P.J. van der Merwe.
  • Praktiese Teologie: M.J. du P. Beukes en T.F.J. Dreyer.

24 November 1977

'n Afskeidgeselligheid vir professor F.J. van Zyl wat op 31 Desember uittree, en vir mevrou Van Zyl het plaasgevind by wyse van 'n dinee in die Monument Restaurant. 'n Gedenkuitgawe van die Hervormde Teologiese Studies (Jaargang 34, afdeling 4) is aan hom oorhandig. In Die Hervormer van Januarie 1979 is herinneringe aan hom gepubliseer van 'n oud-lidmaat, M.J. Labuschagne van Standerton, sy opvolger, professor P.J. van der Merwe, 'n ou studentemaat, dominee G.J.J. Roos, en sy vier dogters Annette Willemse, Rianda da Silva, Estelle Rossum en Marleen Jooste.

Van Zyl het direk na sy uittrede as professor 'n beroep aanvaar na die gemeente Potchefstroom-Noord, en daar gewerk tot by die verpligte aftree-ouderdom vir predikante, wat destyds nog 70 jaar was. Daarna het hy hom gevestig in Magaliespark, Pretoria en ook nog die gemeente Weltevrede in Johannesburg 'n paar jaar lank bedien. Hy was 'n geliefde figuur in die kerk en het skerp van verstand gebly. Hy is oorlede op 01 Junie 2008 toe hy 95 jaar oud was. Hoeveel waardering daar van die kant van die Fakulteit vir Van Zyl bly bestaan het, blyk daaruit dat die Hervormde Teologiese Studies ook by die herdenking van sy 50 jarige ampsbediening op 28 Mei 1989 'n feesbundel aan hom opgedra het (Jaargang 45, afdeling 2). Daarin word drie artikels van oudstudente aan hom gewy, naamlik P.J. van der Merwe, 'Prof dr Frans van Zyl as mens, kerkman en godsdiensfilosoof', P.A. Geyser 'Prof dr FJ van Zyl se Skrifbeskouing' en D.J.C. van Wyk 'Prof dr FJ van Zyl as sendingteoloog.' In die Feesbundel van Hervormde Teologiese Studies in 1992 by die herdenking van die 75-jarige bestaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria, het P.J. van der Merwe en D.J.C. van Wyk 'n bydrae gelewer oor van Zyl. as teoloog en godsdiensfilosoof en as sendingteoloog. Op 24 Oktober 1999 het hy die eerste fakulteitsmedalje ontvang 'omdat hy in die kerk teologie so bedryf dat die kerk voortdurend vir homself rekenskap kan gee van die verkondiging waarmee hy besig is.'

 

1978

02 Februarie 1978

Die Kuratorium neem kennis dat klas- en losiesgelde verhoog is en dat die Raad van Finansies besluit het om die beurslening te verhoog na R650 per jaar. Vorderingsverslae en nuwe aansoeke is behandel en beurslenings goedgekeur.

14 Februarie 1978

Die Fakulteit ken die Nico Prinslooprys toe aan L.C. Bezuidenhout, neem kennis dat hy 'n aanstelling ontvang het in die Departement Semitiese Tale en laat hom toe om gelyktydig met BD III in te skryf vir MA. Die aansoek van D.P. Goosen om saam met BD I, van J.L.J. Smit om saam met BD III, en I.W.C. van Wyk om saam met BD II in te skryf vir BA Hons in Wysbegeerte, word toegestaan. Die aansoek van P. van Staden om saam met BD III en van P.F. Viljoen om saam met BD II vir BA Hons in Semitiese Tale in te skryf, word toegestaan. Die onderwerp van die doktorale profskrif van E.C.B. Kotze is goedgekeur, naamlik Die amps-etiese implikasies van die Praktiese teologie.

22 Maart 1978

Die Senaat wens professor P.S. Dreyer geluk met 25 jaar voltydse diens en die rektor oorhandig aan hom 'n goue horlosie. Die Senaat betuig sy meegevoel met professor A.D. Pont met die heengaan van albei sy ouers.

09 Mei 1978

Die Fakulteit neem kennis dat die vise-rektor waardering uitgespreek het vir die ywer van fakulteitslede vir en hulle waardevolle bydrae tot navorsing. Die doktorale eksamenuitslag van P.M. Venter is bekragtig en die vak-keuse van L.A. Pretorius vir DD is goedgekeur. Die jaarverslag meld dat 34 studente ingeskryf was vir BD en 35 vir DD.

25 Julie 1978

Die Fakulteit nomineer professore J.I. de Wet, B.J. Engelbrecht en J.P. Oberholzer vir die dekaanskap. Die uitslag van die doktorale proefskrif van A.J. Conradie word bekragtig. Die vak-keuse van J.H. Breytenbach vir DD word goedgekeur.

03 Augustus 1978

Die Kuratorium handel oor 'n opvolger vir professor F.J. van Zyl. Die Vergadering van Professore het besluit om professor P.S. Dreyer as eerste kandidaat en doktor P.J. van der Merwe as tweede kandidaat aan te beveel. Die Kuratorium het eenstemmig besluit dat die aanbeveling nie aanvaar word nie en dat die tweede kandidaat benoem word.

Pieter Johannes van der Merwe was die oudste seun van Pieter Johannes van der Merwe en Magdalena Susanna Smith. Sy pa was 'n Waterbergse van der Merwe wat ná Matriek die grade BSc en MSc na-uurs aan die TUK behaal het en afgetree het as hoofskeikundige van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens. Sy ma was afkomstig uit Vosburg in die Karoo en het ná Matriek na Pretoria verhuis waar sy 'n sekretariële kursus deurloop het. Pieter Johannes jnr groei dus op in 'n huis waarin akademiese waardes vanselfsprekend is. Hy gaan skool in die Generaal Jacques Pienaar Laerskool en die Hoërskool Langenhoven, en matrikuleer in 1962 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Daarna behaal hy die BA-graad in 1965, BD in 1968 en BA Hons in Klassieke Tale in 1969. Reeds in sy studietyd word hy aangestel as hulpdosent in Latyn. Hy is georden op 21 Junie 1970 en het die gemeentes Premiermyn en Witfontein bedien in deeltydse hoedanigheid. In 1971 word hy senior lektor in die Departement Kerkgeskiedenis, Godsdiens- en Sendingwetenskap in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy promoveer in 1978 onder leiding van professor F.J. van Zyl met 'n proefskrif Die godsdienste by Vaticanum II.

Die vergadering het ook kennis geneem van die verslag oor die Kuratoriumkamp wat aangebied is saam met die Van der Hoffkamp en het besluit dat professor G.M.M. Pelser die volgende kamp moet organiseer.

Na 'n mededeling dat die Bybelgenootskap gevra het vir 'n voltydse vertaler, is besluit dat die benoeming van bykomende hulp in professor Oberholzer se departement goedgekeur word en dat hy self daaroor moet onderhandel.

Kennis is geneem dat professor Pont vanaf middel September tot die derde week van Oktober in die buiteland sal wees met studieverlof.

20 September 1978

Die Kuratorium moes handel oor die egskeiding van 'n teologiese student. Na rapport van die Kerkraad van Philadelphia en die voorsitter van die Vergadering van Professore is bevind dat die vergadering voorasnog die student nie ongeskik bevind vir die evangeliebediening nie en dat hy as student van die kerk gehandhaaf word.

Jaargang 42, aflewering 3 van Hervormde Teologiese Studies was 'n feesbundel ter ere van professor P.S. Dreyer by geleentheid van die herdenking van sy 25 jarige dosentskap in Wysbegeerte. A.J. Antonites het die huldigingsartikel geskryf met opskrif 'PS Dreyer: Bakens op die pad van die wetenskap.' Daarin gee hy 'n oorsig oor die lewensloop van Dreyer, sy kerklike betrokkenheid, sy akademiese loopbaan en sy bydrae tot wetenskaplike denke. Die feesbundel is op 28 September 1978 oorhandig by geleentheid van 'n ete in die restaurant Hof van Holland. [Hoofstad het op 06 Maart 1975 'n artikel geplaas oor professor P.S. Dreyer in 'n tweede aflewering oor denkers van Pretoria].

Daarin word ook 'n oorsig oor sy lewensloop gegee: gebore 23 November op Pietersburg, nege jaar oud voordat hy begin skoolgaan, op Pofadder, Kenhardt en Stellenbosch, slaag matriek op 16, voltooi teologiese studie in 1943, help as proponent in Pretoria, gee lesings in Wysbegeerte, sit MA studie voort, aanvaar beroep na Witbank in 1945, vertrek einde 1947 na Groningen, word in 1959 predikant in Potchefstroom-Noord, promoveer in filosofie in 1951, in teologie in 1958, word in 1952 lektor in Wysbegeerte aan Universiteit van Pretoria, en volg C.K. Oberholzer op as hoof van die departement.]

25 September 1978

Die Raad kontinueer professor B.J. Engelbrecht as lid van die Boukomitee en van die Finansies- en Eiendomskomitee.

26 September 1978

Die Fakulteit neem amptelik afskeid van professor F.J. van Zyl en gee toestemming dat dominee A.P.B. Breytenbach die benoeming as kapelaan van die Universiteit van Pretoria Kommando aanvaar.

05 Oktober 1978

Die Kuratorium neem kennis van die voorgenome stigting van 'n Hervormde Teologiese Vereniging (HTV).

22 Oktober 1978

Die nuwe Afrikaanse Psalm- en Gesangeboek is amptelik in ontvangs geneem by wyse van 'n erediens in die Nederduits Gereformeerde Kerk Universitas, Bloemfontein, en 'n oorhandigingsfunksie daarna by geleentheid waarvan leergebonde eksemplare oorhandig is aan die moderator van die Algemene Sinode van die Nederduits Gereformeerde Kerk, die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk, en 'n verteenwoordiger van die Gereformeerde Kerk.

01 November 1978

Die Senaat neem afskeid van professor F.J. van Zyl.

23–24 November 1978

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering keur goed dat dominee A.G. van Aarde lesings van drie sessies per week in die Departement Grieks mag gee. Dieselfde vergadering het goedgekeur dat Van Aarde ook in die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap as hulpdosent sal dien.

 

1979

01 Februarie 1979

Die Kuratorium verwelkom professor P.J. van der Merwe. Besluit is om nie die H.C.M. Fourie-Erepenning in 1979 toe te ken nie. Wat praktiese opleiding betref, is bevind dat die Kuratorium tevrede is dat enige verdere opleiding nie op die terrein van die teologiese opleiding hoort nie, en is aan die hand gedoen dat predikante in die eerste jaar van bediening saamgetrek word vir leiding of voorligting oor praktiese sake. Kennis is geneem dat W.C. van Wyk 30 lesings per jaar en A.P.B. Breytenbach en J.A. Loader elk 60 lesings per jaar in Ou Testamentiese Wetenskap sal waarneem. Kennis is geneem van 'n verslag van A.D. Pont oor sy bywoning van die Internasionale Kongres vir Calvynnavorsing in Amsterdam, Nederland. Vorderingsverslae en 31 nuwe aansoeke is behandel en beurslenings toegeken.

20 Februarie 1979

Professor P.J. van der Merwe word verwelkom in die Fakulteit. Professor D.M. Joubert, vise-rektor, woon die vergadering as gas by. Die Nico Prinslooprys word toegeken aan S.F.C. Ras. Die doktorale eksamenuitslae van G.N. Bloem en J.A. Beukes word bekragtig. Die onderwerpe van die volgende kandidate se doktorale proefskrifte word goedgekeur: G.N. Bloem Die prediking as die verbandlegging tussen die Bybelteks en die hedendaagase situasie, P.B. Boshoff Sinkretisme in die Ekumene van die Twintigste Eeu, J.A. Beukes Evangelisasie. Die vak-keuses van E. Verhage, L.C. Bezuidenhout en W.J. Bezuidenhout vir DD word goedgekeur. Die aansoek van R. Gramsch om op grond van 'n MTh in Berlyn vrygestel te word van die doktorale eksamen word goedgekeur.

24 April 1979

Die Fakulteit neem kennis van die voorneme om die personeel en lesings van die Fakulteit te verskuif na Letteregebou II en versoek dat dit in heroorweging geneem word. Die aansoeke van W.C. Kloppers om vir BA Hons in Hebreeus en van S.F.C. Ras om vir MA Semitiese tale in te skryf saam met die BD studie word goedgekeur. Die versoek van A.J. Zwarts om vrystelling van die doktorale eksamen op grond van sy doktorale eksamen in Utrecht in 1961 word toegestaan. Die vak-keuses van L.A.D. Pienaar en W.P. Prinsloo vir DD word goedgekeur. Volgens die jaarverslag was 33 studente vir BD en 31 vir DD ingeskryf.

Die Vergadering van Professore besluit om aan te beveel dat die benaming van die vergadering in die toekoms sal wees. Die Dosentevergadering van die Teologiese Opleiding van die Kerk, dat alle permanent-voltydse dosente vanweë die kerk lede sal wees en dat tydelik-deeltydse dosente op uitnodiging met adviserende stem sitting kan neem. Aanbeveel is dat Bepaling 81 herskryf moet word in dié opsig dat die pre-advies van die Dosentevergadering ingewin moet word ten opsigte van alle sake wat die leer en belydenis van die Kerk raak en dat ten opsigte van alle sake wat die liturgie raak, die pre-advies van die Raad vir Belydenis- en Liturgiese Geskrifte ingewin moet word.

Die Dosentevergadering het verder besluit dat die minimum-vereiste ten opsigte van Latyn verlaag kan word na Voorbereidende Latyn of Matrieklatyn.

15 Mei 1979

Die 59ste Algemene Kerkvergadering kom byeen. J.P. Oberholzer is as voorsitter verkies, P.M. Smith as skriba, F.J. van Zyl as vise-voorsitter en B.J. Engelbrecht as vise-skriba. As predikantlede van die Kommissie is C.L. van den Berg en P.J.T. Koekemoer verkies. Die kerk het volgens opgawe 124 310 belydende lede gehad en 252 diensdoende dienaars van die Woord.

Die openingsrede na aanleiding van Titus 1:11–14 het verwys na die krisispunt in die bestaan van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

Dit is noodsaklik dat teenoor die strominge van die tyd die suiwere leer gestel word, maar dit is nie die enigste noodsaaklikheid nie. .... Die kerk is egter nie net boeteprediker wat ander oproep tot bekering en die straf van God afroep op almal wat in hulle verset teen die waarheid volhard nie. Die kerk hoor ook die boeteprediking en word tot bekering opgeroep. ... Daar is vanselfsprekende dinge in die lewe en die werk van die kerk. Een daarvan is dat 'n mens in die kerk te doen het met mense wat nie onverskillig staan teenoor 'n vroom en heilige lewe nie. En tog ervaar 'n mens telkens met skok dat selfs ampsdraers van die kerk 'n losbandigheid openbaar wat net by heidene tuis kan wees, dat geldgierigheid en gemaksug as normale verskynsels aanvaar word, dat woorde en dade 'n besoedeling van die gees openbaar.
Nog 'n vanselfsprekendheid in die lewe en werk van die kerk is menseverhoudinge wat voldoen aan die eise van die Christelike deug. En tog vind 'n mens ampsdraers en lidmate wat onmiddellik negatief reageer sodra daar van beter menseverhoudinge binne die delikate Suid-Afrikaanse situasie sprake is. Sommige verwag selfs dat die kerk in sy amptelike uitsprake hierdie onderwerp gladnie moet aanroer nie, of nog erger, moet aansluit by hulle eie onversoenlikheid en minagting van mense.
Dit is ook vanselfsprekend dat die kerk een liggaam is, en dat as die een lid ly, die ander saam met hom ly. Tog vind ons binne die Hervormde Kerk self 'n onbarmhartigheid en selfsug wat die onderlinge hulpverlening en die diakonaat belemmer. Party gemeentes verheug hulle in luukse kerkgeboue, sale, pastorieë en groot geldbeleggings terwyl ander selfs nie in die basiese behoeftes kan voorsien nie. Offergawes word vrylik aangewend om meer luukshede aan te skaf, terwyl die diakonaat binne eie kerkverband skade ly en dié in die wyer verband van die Christelike kerk in die land en in ander lande geen aandag kry nie.
Dit is vanselfspekend dat die kerk nie net ter wille van homself daar is nie maar ter wille van die diens van die evangelie. Die apostolaat bly dié taak wat aan die kerk sy bestaan gee. En tog is daar selfs kerkrade, amptelike vergaderinge van die kerk, wat met allerlei besware, selfs politieke besware, die min wat van hulle gevra word, weier. Daar is sommige wat meen dat die kerk sy apostoliese opdrag vervul deur die benoeming van 'n paar rade en die beroep van 'n predikant of twee vir evangelisasie, terwyl gerieflik vergeet word dat die apostolaat taak van die kerk as geheel is ...
Jesus Christus wat gekom het en wat kom, het Hom vir ons gegee om ons te verlos van ongeregtigheid en vir Homself 'n volk as eiendom te reinig, ywerig in goeie werke. ...Hierdie reiniging wat deur die Heer van die kerk gedoen is, hierdie bevryding uit ongeregtigheid, is daar in die kerk van Jesus Christus, en tog is dit ook nie daar nie. Dit is daar in die geloof, dit is nie daar nie in die pynlike werklikheid van die gebroke, sukkelende bestaan van elke dag. Die kerk gryp vas aan die salige hoop, hy bid met groot heimwee om die voleinding en vervulling. Maar in sy verwagting bly hy die vegtende kerk wat nie vrede het of vrede maak met die ongeregtigheid nie. Hy ken die berou en hy lewe van die vergewing.Ook al is die goeie werke min en onvolkome, die ywer is daar.
Dit is hierdie ywer wat sigbaar moet wees. In ons gesprek rondom die waarheid van die evangelie met ander kerke, met ekumeniese bewegings, met die strominge van ons tyd, is die een groot vereiste
'n skoon gewete wat betref hierdie ywer. In ons getuienis teenoor owerheid en volk is dit die eis van die Woord van God self: Hoe sigbaar is dit in ons samelewing, ons wetgewing, ons bestuur van die staat, ons beweging na die toekoms van afsonderlike en gelyke geleenthede vir almal toe, dat hier mense besig is wat die ywer vir goeie werke het? ... Dit is die wil van God dat ons deur goed te doen, die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring.

Die werksaamhede van die vergadering het begin met die behandeling van sake onder die hoof Apostolaat van die Kerk. Die Raad vir die Arbeid onder Buitekerklikes het na aanleiding van die probleem van anderstalige buitekerklikes met wie ons kerk in aanraking kom, besluit dat eredienste in Engels net 'n oorgangsfase moet wees.'Ons moet nie 'n Engelse Hervormde Kerk daarstel nie.' Daarteenoor het die Algemene Kerkvergadering besluit: 'Die kerk aanvaar sy apostoliese opdrag ten volle en sal gebruik maak van alle oop deure wat hom gebied word.'

Die vergadering het ook besluit om sy steun te gee aan die Christelike Seemans Welsyns Organisasie (CSWO). Die vergadering het kennis geneem van die stigting van Die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika en het besluit:

a. Die vergadering aanvaar die aanbevelings oor funksionele kontak van die Raad en Werkgroep Ekumene en laat dit aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering om voort tegaan op die reeds ingeslane weg van funksionele kontak opbou met die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika.
b. Die vergadering nooi die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika uit om groete namens sy kerk aan hierdie vergadering oor te bring. Teenstemme teen die laasgenoemde besluit is aangeteken deur dominees J.A.A.A. Schroeder, J.H. Brandt en E.J. Smit en ouderling J.J. Bezuidenhout van Glencoe.

Nadat in opdrag van die vorige Algemene Kerkvergadering 'n studie gedoen is oor die vraag of hoogleraars verkiesbaar behoort te wees op die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, het hierdie vergadering sy instemming betuig met die stelling dat kerkregtelik daar teen die teenwoordigheid van die professore op die Kommissie geen beswaar in te bring is nie en dat dit nie wenslik is om van die professoraat 'n aparte amp te maak nie.

Hierdie vergadering het ook die besluit geneem wat die weg van vroue na die amp van dienaar van die Woord oopgemaak het. Dit het gebeur na studie en bespreking wat etlike jare geduur het. Die vergadering het met 'n groot meerderheid die beginsel aanvaar dat vroue tot die amp toegelaat word, het dit aan die Kommissie oorgelaat om binne die raamwerk van die Wet en Bepalings die praktiese besware te hanteer en riglyne vas te lê vir die uitvoering van die besluit, en om opdrag aan bevoegde persone te gee om aan die kerklike publiek te verduidelik waarom bepaalde Skrifgedeeltes nie deurslaggewende argumente teen die toelating van vroue tot die amp van dienaar van die Woord is nie. Teenstemme teen die besluit is aangeteken deur dominees C.J.J. van Rensburg en F.G.J. Loots. Teen hierdie tyd was daar reeds drie vrouestudente met die studie besig. Yolanda Dreyer, kleindogter van dominee T.F.J. Dreyer snr, het in 1975 met die BA studie begin, Kotie van der Westhuizen (later McDonald) in 1977 en Elsie Wolmarans (later Pretorius) in 1978.

Kennis is ook geneem van die oprigting van die Kerklike Instituut vir Toerusting van Ampsdraers en Lidmate (Kital) met die taak om ampsdraers en lidmate toe te rus met betrekking tot die Bybel, die leer van die kerk en die dienswerk van die gelowiges en met doktor J.H. Koekemoer as voltydse direkteur. Wat die Teologiese Opleiding betref, het die vergadering kennis geneem van die uittrede van professor F.J. van Zyl op 31 Desember 1978 en is sy opvolger, professor P.J. van der Merwe, verwelkom. Kennis is geneem van die benoeming van hulpdosente in deeltydse hoedanigheid vanaf 01 Januarie 1978. Die Fakulteit het in 1978 soos volg gelyk:

  • Ou Testamentiese Wetenskap: J.P. Oberholzer, hoogleraar, W.C. van Wyk lektor, A.P.B. Breytenbach lektor Bybelkunde, P.M. Venter hulpdosent (vanaf 2de semester).
  • Nuwe Testamentiese Wetenskap: G.M.M. Pelser hoogleraar, J.J. Engelbrecht lektor Bybelkunde, P.A. Geyser hulpdosent.
  • Kerkgeskiedenis: A.D. Pont hoogleraar, S.J. Botha hulpdosent.
  • Dogmatiek: B.J. Engelbrecht hoogleraar, P.J.T. Koekemoer en J.H. Koekemoer hulpdosente.
  • Godsdiens en Sendingwetenskap: F.J. van Zyl hoogleraar, H.G. van der Westhuizen, C.J. Viljoen, D.J.C. van Wyk en P.J. van der Merwe hulpdosente.
  • Praktiese Teologie: J.I. de Wet hoogleraar, M.J. du P. Beukes en T.F.J. Dreyer hulpdosente.

[In 1979 het die prentjie verander deur die benoeming van H.G. van der Westhuizen en P.J.T. Koekemoer vir die opleiding van predikante van die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika aan die Universiteit van die Noorde en die uittrede van professor Van Zyl.]

Die BA kursus is deur hierdie vergadering soos volg vasgestel: Grieks I, Hebreeus I, Wysbegeerte I, Bybelkunde I, Latyn I of Ib, of 'n moderne taal of Sielkunde of Volkekunde terwyl voorbereidende Latyn of Matriek-Latyn genoegsaam sal wees; Grieks II, Hebreeus II en enigeen van die ander vakke op tweedejaarsvlak; Grieks III of Hebreeus III en enigeen van die ander vakke op derdejaarsvlak.

As lede van die Kuratorium is verkies professor C.H. Rautenbach, doktore A.J.G. Dreyer, L.M. le Roux, J.L. van Staden en D.J.C. van Wyk, en dominee G.J.J. Roos.

30 Mei 1979

Die Senaat wens B.J. Engelbrecht en J.P. Oberholzer geluk met hulle verkiesing op die Moderamen.

24 Julie 1979

Die proefskrifuitslae van S.J. Botha en P.B. Boshoff is deur die Fakulteitsraad bekragtig. Na aanleiding van die besluit van die Algemene Kerkvergadering is die toelatingsvereistes vir BD soos volg geamendeer: I Grieks I, Hebreeus I, Bybelkunde I en een van Latyn IA of IB, 'n moderne taal, Sielkunde I, Volkekunde I, II Grieks II, Hebreeus II en een van die ander vakke wat in die eerstejaar geneem is, III Grieks III of Hebreeus III en een van die vakke wat in die tweede jaar geneem is. Die Dosentevergadering.stel lede voor vir die Studiekommissie in verband met Kategese uit 'n groslys opgestel deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en stel voor dat die Studiekommissie die reg van koöptering sal hê.

31 Julie 1979

Die Kuratorium verkies dominee G.J.J. Roos as voorsitter en doktor D.J.C. van Wyk as vise-voorsitter. Besluit is dat die Vergadering van Professore voortaan bekend sal staan as die Dosentevergadering. Kennis is geneem dat dominee A.G. van Aarde as hulpdosent in Nuwe Testamentiese Wetenskap benoem is. Kennis is verder geneem dat professor J.I. de Wet siekteverlof ontvang het en dat sy lesings waargeneem word deur doktor T.F.J. Dreyer en doktor M.J. du P. Beukes.

25 September 1979

Die vak-keuse van A.G. van Aarde vir DD word deur die Fakulteitsraad goedgekeur. Die volgende onderwerpe vir proefskrifte word goedgekeur: A.G. van Aarde Die Christologie in die Matteusteologie, A.P.B. Breytenbach (gewysig) Die verband tussen en die ontwikkeling in die profetiese uitsprake in die boek Hosea, S.G.A. Golden (gewysig) Dialogiese en kommunikatiewe prediking, G.C. Velthuysen (gewysig) Parabel van God en paradigma van menslikheid. 'n Kritiese waardering van die christologiese ontwerp van Edward Schillebeeckx. Die Dosentevergadering handel oor 'n skrywe van die Kuratorium oor Evangelistiek en Kerkreg na aanleiding van 'n voorlegging van die Oosrandse Broederkring en besluit om meer besonderhede van die Broederkring te vra. 'n Versoek van professor P.J. van der Merwe dat bespreking gevoer word oor toetse en eksamens, staan oor vir die volgende vergadering.

31 Oktober 1979

Die Senaat wens professore P.S. Dreyer en J.I. de Wet spoedige herstel toe.

29 November 1979

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit om goed te keur dat dominee A.G. van Aarde ook in 1980 drie lesings per week in die Departement Grieks mag gee. Die Kommissie het bekragtig dat die hulpdosente ook in 1980 sal dien.

 

1980

01 Februarie 1980

Die Kuratorium besluit om die reëlings van die Kuratoriumkamp goed te keur. Doktor T.F.J. Dreyer het opdrag ontvang om die program af te handel, en eggenotes en verloofdes van studente moes sover moontlik betrek word. Vorderingsverslae is behandel en beurslenings toegeken. Kennis is geneem dat die hulpdosente wat in 1979 gedien het, ook in 1980 sal dien, behalwe dat dominee A.A. da Silva in die Departement Ou Testamentiese Wetenskap in die plek van dominee P.M. Venter sal dien en dominee J.M.G. Storm in Kerkgeskiedenis in die plek van doktor S.J. Botha. Verder is besluit dat 'n mede-professor in die Departement Ou Testamentiese Wetenskap aangestel word. In die 20ste jaargang van Skakelblad verskyn 'n berig en foto in verband met die professorale intreerede van professor P.J. van der Merwe oor 'Die Godsdiens as probleem vir die Godsdienswetenskap en die Teologie'. In dieselfde blad verskyn ook 'n kort oorsig oor die Fakulteit Teologie Afdeling A as een van die oudste fakulteite van die Universiteit. Daarby is 'n foto van die personeel van die Fakulteit saam met die finalejaar studente.

19 Februarie 1980

Die Fakulteit neem kennis dat die S.P. Engelbrecht Erepenning aan professor H.G. van der Westhuizen toegeken word. Die Nico Prinslooprys word toegeken aan Y. Dreyer. Die Fakulteit het nou ook met instemming kennis geneem van die verskuiwing na die Nuwe Letteregebou [miskien eerder met gelatenheid!]. Die doktorale eksamenuitslae van S.P. Pretorius en J.M.G. Storm is goedgekeur, en so ook die proefskrifuitslag van A.P.B. Breytenbach. Student E.G. Fourie is toegelaat om saam met BD in te skryf vir BA Hons in Latyn, S.P. Nolte vir BA Hons in Grieks, P.J. van Zyl vir BA Hons in Kriminologie en H.J. Wentzel vir MA in Wysbegeerte. Die onderwerp van die proefskrif van J.M.G. Storm is goedgekeur, naamlik Die wordingsgeskiedenis van die kerk in die Oorvaalse. Die vak-keuse van C.J.A. Simpson vir DD is goedgekeur.

19 Maart 1980

Die Senaat verwelkom professore P.S. Dreyer en J.I. de Wet na hulle siekteverlof

20 Maart 1980

Die Dosentevergadering besluit met meerderheid van stemme dat dominee A.P.B. Breytenbach, wat in April 1908 formeel sal promoveer, aanbeveel word as mede-professor in Ou Testamentiese Wetenskap. Die vergadering behandel 'n uitvoerige memorandum van professor P.J. van der Merwe en neem die volgende besluite:

Lengte van Jaarkursusse: Die werkopgawes per departement sal ongeveer 800 bladsye (Voorgeskrewe werke en lesingaantekeninge) wees vir BD I en BD II en ongeveer 700 bladsye vir BD III. Elk dosent sal 'n bydrae lewer om studente te motiveer om hard te werk. Meer aandag sal gegee word aan eksaminering en toetsing aangesien die hoë slaagsyfer moontlik 'n sekere slapheid ten opsigte van die studie-opdrag meebring.
Onderrigvorme: 'n Komitee, bestaande uit prof PJ van der Merwe, drr PA Geyser en JH Koekemoer sal ondersoek instel na die vraag hoe die beskikbare lesingtyd die beste benut kan word.
Aktualiteitslesings: Die beginsel is aanvaar dat drie aktualiteitslesings per jaar deur dosente gegee sal word.
Aanpassing van kursusse en leerplanne: Elke dosent sal 'n inleiding op sy vak of vakke skryf, waaruit dr JH Koekemoer 'n handboek vir die vak Ensiklopedie sal saamstel.
Interdissiplinêre Samewerking: Die studieterrein en werkopgawes van elke departement sal aan die begin van die kursusjaar aan alle dosente beskikbaar gestel word.
Toetsing en eksaminering: Mondelingse sowel as skriftelike toetse sal afgeneem word. Proff PJ van der Merwe en AD Pont sal 'n rooster opstel vir toetse wat op Saterdagoggende afgeneem sal word.
Belading vir die DD studie: Die eksamendeel van DD word op twee jaar gestel en die belading ten opsigte van die hoofvak ongeveer 4 000 bladsye, en ten opsigte van elke byvak ongeveer 2 000 bladsye. Die periode tussen die eerste tentamen en die einde van die eksamen word verleng na ses maande in plaas van die huidige drie maande.
Eksaminering van proefskrifte: Ekaminatore van 'n proefskrif word beperk tot die promotor en mede-promotor (indien enige) en twee eksterne eksaminatore van wie minstens een van buite die Fakulteitsafdeling moet wees

01 April 1980

Professor G.M.M. Pelser gaan op studieverlof tot 30 September 1980.

22 April 1980

Die Fakulteit bekragtig die doktorale eksamenuitslae van A.G. van Aarde en J.P. Naude, keur die vak-keuse van J. Coetzee vir DD goed, en die onderwerp van die proefskrif van S.P. Pretorius, naamlik Die Kerkvereniging van 1885 – sy aanloop en mislukking. Daar was 47 studente ingeskryf vir BD en 41 vir DD.

13 Junie 1980

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering bekragtig die benoeming van A.P.B. Breytenbach as mede-professor in die Departement Ou Testamentiese Wetenskap. [Breytenbach het in November 1979 gepromoveer met die proefskrif Die verband tussen en die ontwikkeling in die profetiese uitsprake in die boek Hosea, met J.P. Oberholzer as promotor en W.C. van Wyk as mede-promotor]. Die vergadering het ouderling J.C. Oelofse herbenoem as verteenwoordiger van die kerk op die Raad van die Universiteit van Pretoria. Besluit is verder om in 'n omsendskrywe aan kerkrade die versoek bekend te stel dat op Sondag, 05 Oktober aandag gegee word aan die 50ste herdenking van die bestaan van die Universiteit van Pretoria.

22 Julie 1980

Die Fakulteit keur 'n gewysigde reglement vir die S.P. Engelbrecht Erepenning goed, bekragtig die doktorale eksamenuitslae van A.A. da Silva en die uitslag van die proefskrif van E.C.B. Kotze, keur die gewysigde onderwerp van J.J. Steenkamp se proefskrif goed, naamlik Die Wereldraad van Kerke se bemoeienis met die rassevraagstuk in Suid-Afrika. 'n Histories-analitiese oorsig van die periode 1950-1972, en keur die vak-keuse van J.J. Viljoen vir DD goed.

10 Oktober 1980

Die halfeeufees van die Universiteit van Pretoria word herdenk deur 'n feesuitgawe van Skakelblad waarin die werksaamede van al die fakulteite weerspieël word. Die positiewe bydrae van die Fakulteit Teologie Afdeling A tot die totstandkoming van die departemente Grieks, Hebreeus en Latyn en ook tot die stigting van die Departemente Wysbegeerte en Bybelkunde word vermeld. Verder word 'n oorsig gegee van die geskiedenis van die Fakulteit en die prestasies van sy dosente. Die berig word vergesel van 'n groepfoto van die voltydse dosente.

27–28 November 1980

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van 'n verslag van die Kuratorium wat gemeld het dat daar 101 studente besig is met die BA studie en 57 met die BD studie, en dat die jaarlikse saamtrek van teologiese studente by Hartebeespoort gehou is en dat dit goed verloop het. Die onderwerpe wat behandel is, was Die teologiese student en die kerk, Christelike Wetenskap, Finansies en pensioene. Die Kommissie het op versoek van die Beheerraad van Kital besluit dat die kursus in die eerste bedieningsjaar gehou word en nie in dienspligtyd nie. Kennis is ook geneem van 'n skrywe van die Kuratorium wat aan die hand gegee het dat 'n gesprek gevoer word tussen die Moderamen, die Beheerraad van Kital en die Kuratorium omdat teologiese opleiding ter sprake is by die kursus in gemeentelike praktyk.

In dieselfde vergadering het die Kommissie 'n konsepskrywe aan 'n aantal lidmate van die kerk en 'n program getitel Kerk en Wêreld 2000 goedgekeur. Die volgende skrywe is toe deur die skriba uitgestuur aan professore P.J. Coertze, R.D. Coertze, G.C. Olivier, A.P. Zevenbergen, P.W. Hoek, P. Swart, A.J.G. Oosthuizen, D. Botha , doktor J. de Loor, meneer H.J. Bruinette en meneer J.J. Vermooten:

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering versoek vriendelik of u hom behulpsaam wil wees met 'n ondersoek na die werklikhede en moontlikhede van die huidige sosio-ekonomiese situasie in ons land en die te voorsiene ontwikkeling in die volgende twee dekades.
U is bewus daarvan dat die kerk in toenemende mate onder druk geplaas word om leiding te gee en betrokke te raak in die aktuele sake van die land en dat die Nederduitsch Hervormde Kerk hom in die verlede steeds duidelik uitgespreek het ten gunste van 'n beleid van afsonderlike en gelyke geleenthede vir alle bevolkingsgroepe in die land.
Ons is daarvan oortuig dat u as lidmaat van die kerk en as vakkundige op u besondere terrein ons tot groot hulp kan wees in die opklaring van sake en die aanwysing van besondere knelpunte wat deur die kerk in ag geneem moet word.
Die meegaande vraelys is 'n aanduiding van wat ons meen aandag behoort te ontvang, maar u is vry om die kring wyer of nouer te trek. Graag verneem ons of u bereid is om hierin mee te werk en of u dit moontlik sal vind om ons sê teen Maart 1981 u bydrae te laat toekom.
Projek Kerk en wêreld 2000
1. Die getalleverhouding tussen die onderskeie volksgroepe en die konsekwensies daarvan vir sover dit voorsien kan word.

1.1 Wat is u projeksie vir die bevolkingsgetalle teen die jaar 2000?
1.2 Wat kan u ogv die projeksie voorsien ten opsigte van

1.2.1 bevolkingsverspreiding,
1.2.2 ekonomiese eise (arbeid, behuising, voedsel- voorsiening ens)
1.2.3 opleiding (teenoor moontlike werkvoorsiening),
1.2.4 kulturele verandering (akkulturasie agv ver- meerde kontaksituasies ens)
1.2.5 enige ander aspek

2. Die huidige tendense in ekonomiese en politieke beleid en die konsekwensies daarvan

2.1 Wat sien u as onvermydelike ontwikkelings afgesien van watter beleid gevolg word?
2.2 In hoeverre is beheerde ontwikkeling ten dienste van duidelik geformuleerde beleid te voorsien?
2.3 Verdiskonteer asb die botsende beleidstendense en verwagtings van die onderskeie volksgroepe.

3. Die bestaande konflik en die konflikpotensiaal

3.1 Hoe sien u die huidige en verwagte situasie van die RSA binne die internasionale konteks?
3.2 Hoe sien u dit binnelands (toename van terreur, veral stedelik, bedreigingspsigose, reaksie en voeding van ekstremisme aan weerskante ens?
3.3 Wat is u mening oor die rol van die kerk in so 'n konteks van verskerpte konflik, leiding aan lidmate ten opsigte van menseverhoudings, getuienis teenoor owerheid en volk, betrokkenheid al dan nie by verandering van strukture, ens?

29 Desember 1980

Professor H.P. Wolmarans is oorlede in die ouderdom van 86 jaar. Die begrafnisrede in die kerkgebou van Pretoria is gehou deur die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, J.P. Oberholzer, op 02 Januarie 1981, en die vise-voorsitter, F.J. van Zyl, het 'n huldigingswoord namens die kerk uitgespreek. Professor B.J. Engelbrecht het namens die Universiteit van Pretoria en die Fakulteit Teologie die woord gevoer. Sy rede is opgeneem in Die Hervormer van Februarie 1981. In die 1982 Almanak het 'n broerskind van professor Wolmarans, dominee J.N. Wolmarans 'n 'Fragmentariese Skets' geskryf oor sy oom wat 'n uitstekende insig bied in die veelsydigheid en unieke persoonlikheid van H.P. Wolmarans. Sy opvolger, professor F.J. van Zyl, het in die feesbundel van Hervormde Teologiese Studies in 1992 geskryf oor 'Die lewe en werk van H.P. Wolmarans, hoogleraar 1935–1959' en hom die 'rysige, sierlike en eiesoortige seder van die Nederduitsch Hervormde Kerk' genoem.

Sy kalme, bedaarde en verstandige optrede, sy nugtere, gesonde en suiwer teologiese insig en oordeel, sy ernstige, eerlike, nederige en blymoedige lewenshouding het by almal wat met hom te doen gekry het, agting afgedwing.

Oor die akademiese optrede van Wolmarans het Van Zyl geskryf dat sy aanstelling 'n nuwe era in die teologiese fakulteit ingelui het 'in die sin dat daar van toe af 'n nuwe klank verneem is, naamlik dié van die Dialektiese Teologie.'

 

 

DOI: 104102/hts.v66i3.921