SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue3Hoofstuk 5: Politieke spanning en ekumeniese druk 1954-1960Hoofstuk 7: Evaluering en selfinterptetasie 1971-1980 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.66 n.3 Pretoria Jan. 2010

http://dx.doi.org/104102/hts.v66i3.936 

HOOFSTUK

 

Hoofstuk 6: Ekumeniese isolasie en interne stryd 1961–1970

 

 


Die stryd om die beperking van lidmaatskap van die Nederduitsch Hervormde Kerk tot blanke persone (Artikel III) lewer die agtergrond van gebeure. Die Geyser-saak en daarna die Pont-saak neem die sentrale plek in. Die sesde leerstoel kry beslag en die toetrede van S.P.J.J. van Rensburg en J.P. Oberholzer tot die Fakulteit lei tot die derde geslag in die Departemente Ou Testamentiese Wetenskap en Nuwe Testamentiese Wetenskap.


 

 

 

1961

24 Januarie 1961

Die Kuratorium handel oor die vroeë sluiting van lesings aan die Fakulteit. Die vergadering het kennis geneem van 'n skrywe van die voorsitter van die professore se vergadering aan die voorsitter van die Kuratorium waarin hy inligting gee oor die lesingrooster, tentamens en eksamen. Kennis is ook geneem van afskrifte van briewe van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aan Geyser en Van Selms oor hulle bydraes in die boek Vertraagde Aksie:

Die Kommissie wil u aandag daarop vestig dat die inhoud van die stuk beroering in die kerk en gemeentes veroorsaak, en wil u aandag daarop vestig dat u as ampsdraer van die kerk ook mede-verantwoordelik is vir handhawing van die orde en vrede in die kerk en die gemeentes. U word dus versoek om in dié opsig uiters versigtig op te tree.

In die bespreking op die Kuratorium-vergadering het Geyser gesê dat daar aangeneem moet word dat daar twee standpunte bestaan ten opsigte van Artikel III, en dat daar 'n verbod op hom rus wat hom verbied om onder andere op publieke vergaderings sy standpunt te stel. Hy het verneem dat professor Pont en dominee Oosthuizen 'n openbare vergadering op Brits toegespreek het en dat Pont daar 'n persoonlike aanval op hom en andere gedoen het, waarvolgens Pont hom (Geyser) met kommunisme vereenselwig het en selfs lasterlike dinge gesê het. Pont het geantwoord dat die bewerings nie korrek is nie en dat hy alleen professor Geyser siteer het ten einde sy verskil met Geyser se artikel in Vertraagde Aksie aan te dui. Geyser het sy tevredenheid te kenne gegee met die verduideliking.

14 Februarie 1961

Die Fakulteit besluit om die eksaminering van die proefskrif van dominee P.G. Geertsema af te handel ten spyte daarvan dat die verslag van professor Bavinck nie ontvang is nie.

09 Maart 1961

Die 53ste Algemene Kerkvergadering kom byeen. Dominee A.J.G. Oosthuizen is herkies as voorsitter, dominee T.F.J. Dreyer as skriba, dominee J.G.M. Dreyer as vise-voorsitter en dominee A.J. Nolte as vise-skriba. As predikantelede is dominees P.M. Smith en C.L. van den Berg verkies. Die voorsitter het in sy openingsrede getrou gebly aan sy teologiese standpunt oor die aard en taak van die kerk, dit het gelei: 'Die koninkryk van God is nie spys en drank nie, nie stemreg, grondbesit of menseregte nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.'

Voor die vergadering het 'n beskrywingspunt van professor A.S. Geyser gedien: 'Die HE Algemene Kerkvergadering benoem 'n kommissie van eksegete om Artikel III en Artikel 7 van hoofstuk IV van die Kerkwet aan die Heilige Skrif te toets.' Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het meegedeel dat hy wel 'n kommissie van eksegete benoem het en dat die verslag in die agenda opgeneem is. Hierdie beskrywingspunt het vyf dae in beslag geneem. Geyser het die bespreking ingelei met die vraag of die verslag oor Artikel III bedoel is as antwoord op sy versoek, want die lede van die betrokke kommissie is na sy oordeel nie eksegete nie.

Van die 30 sprekers wie se argumente genotuleer is, het net doktor J.A.A.A. Stoop, dominee M.J. Redelinghuys, professor A. van Selms en dominee C.J. Labuschagne die beskrywingspunt gesteun. Ook die standpunte wat gestel is in Vertraagde Aksie htt onder skoot gekom tydens die vergadering. Daar was ook talle afgevaardigdes wat na die vergadering gekom het met opdragte van hulle gemeentes

om hulle stem te verhef teen persone – ampsdraers in die kerk – wat in woord, geskrif en op ander wyses agiteer teen Artikel III asook ander bepalings in die kerkwet en besluite van die kerk in hierdie verband. Hierdie afgevaardigers het nie spreekgeleentheid gekry nie, en die voorsitter het gereël dat hulle sal opstaan om op so 'n wyse hulle opdrag uit te voer, 225 broeders het opgestaan.

Die volgende besluit is uiteindelik geneem:

a. Om te verklaar (i) die kerk aanvaar heelhartig sy primêre apostoliese taak om die Evangelie aan alle volke en tale en nasies te verkondig, (ii) In die aanvaarding van sy apostoliese taak beskou die kerk dit as sy verantwoordelikheid om sorg te dra dat die verkondiging van die Evangelie ongehinderd sal voortgaan en nie gestrem of verydel sal word deur 'n optrede wat geen rekening hou met die situasie in ons land en in Afrika nie, (iii) Uit geslagtelange ervaring met die kleursituasie in Afrika weet die kerk dat die vermenging van blank en nie-blank, veral op die terrein van die kerk, onberekenbare skade doen aan die verkondiging van die Evangelie van Gods Koninkryk, (iv) Die kerk is daarvan oortuig dat as hy ter wille van die teenswoordige wêreldmening hom van sy beproefde weg sal afwend, die uitvoering van sy apostoliese taak ten opsigte van alle bevolkingsgroepe geskaad sal word, (v) Daarom verklaar die kerk met groot nadruk dat art III van die Kerkwet nooit bedoel was om 'n formulering of uitdrukking te wees van 'n leerstuk oor die rasse nie en dit tans ook nie wil wees nie, maar dat die kerk glo dat hy deur 'n werkverdeling van hierdie aard sy apostolaat die beste kan uitvoer.
b. Professor doktor A.S. Geyser, professor A. van Selms en diegene wat dieselfde standpunt huldig, onderwerp hulle aan art III van die Kerkwet en die uitsprake van die vergadering. Verder, dat gesien die feit dat uit die geslagtelange ervaring van die kerk met die kleursituasie in Afrika, die kerk besef dat die vermenging van blank en nie-blank, veral op die terrein van die kerk, onberekenbare skade doen aan die verkondiging van die Evangelie van Gods Koninkryk, dat alle ampsdraers, lidmate en liggame van die kerk nie die beleid van die kerk in hierdie verband sal teenstaan nie behalwe wanneer dit gekied by wyse van gesprek op die Algemene Kerkvergadering, Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, Ringsvergadering en die Predikantevergadering.

Daar was 'n alternatiewe voorstel wat wou hê dat professore Geyser en Van Selms en diegene wat dieselfde standpunt huldig, hulle onvoorwaardelik moet onderwerp aan Artikel III, en indien hulle nie hulle weg daartoe oopsien nie, 7 dae bedenkingstyd kry, en indien hulle dan nog volhard, word hulle versoek om uit hulle onderskeie ampte te bedank. Die voorstel is nie aanvaar nie, en 55 lede wat daarvoor gestem het, het hulle teenstemme laat aanteken.

Daar is ook nog 'n publieke verklaring uitgereik wat soos volg bewoord was:

(i) Die kerk glo dat alle mense, ongeag enige verskil van ras, kleur of geslag, van nature dood is in die sonde en doemwaardig voor God is.
(ii) Die kerk glo dat die ewige God en Vader van ons Here Jesus Christus sy reddende genade in Jesus Christus geopenbaar het sodat elkeen wat in sy Seun Jesus Christus glo, of hy Jood of Griek, barbaar of Skith, slaaf of vryman, man of vrou, of uit watter volk of groep ookal is, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal beërwe. Daarom aanvaar die kerk heelhartig sy primêre apostoliese taak om die Evangelie van die koninkryk aan alle volke en tale en nasies te verkondig.
(iii) Om sy apostoliese taak volgens 'n verstandige werkwyse uit te voer, hou die kerk rekening met die volkeresamestelling in ons land en in Afrika, en onderneem die kerk om hom verder met toewyding aan hierdie taak te wy.
(iv) Daarom bevind hierdie Algemene Kerkvergadering dat Artikel III van die Kerkwet, wat 'n reglement is om die uitvoering van die apostoliese taak ordelik te laat verloop – na insae in die rapport van die studiekommissie daarvoor benoem, en na aanhoring van die argumente ten gunste van beskrywingspunt 32 - nie in stryd is met wat die Heilige Skrif en die Belydenisskrifte oor die eenheid van die kerk en die gemeenskap van die heiliges leer nie, en ten beste rekening hou met die besondere situasie in ons land.
(v) Die vergadering bevestig daarom weer sowel die goeie reg as die noodsaak van handhawing van Artikel III van die Kerkwet; en dra daarom aan elkeen van sy ampsdraers en lidmate op om langs die weg deur die kerk daarvoor bepaal, voortdurend besig te wees met die bestudering en ondersoek van die ganse inhoud van die Bybel en die betekenis daarvan vir die hele lewe van die kerk in hierdie land.

Die vergadering het kennis geneem van die volgende verklaring van professor Van Selms:

Net so min as ek in die verlede die kerk van die kansel besopreek het, sal ek dit in die toekoms doen. Net so min as ek in die verlede die kerkwet van die kateder bespreek het, sal ek dit in die toekoms doen. Soos in die verlede Skrif en Belydenis die rigsnoer van my mondelinge en skriftelike uitings was, sal Skrif en Belydenis dit ook in die toekoms wees.

Professor Geyser het die volgende verklaring voorgelê:

Hy versoek die lede van hierdie vergadering dat hulle onderneem met mekaar en teenoor mekaar: (i) om hulle te onthou van alles wat selfs die skyn van agitasie mag verwek, (ii) om nie vanaf die kansel, die kateder. in onderhoud met en geskrif in die koerant-pers enigiets te sê wat die indruk mag verwek dat dit gemik is teen die kerk en sy beleid nie, (iii) ons te onthou van bywoning van byeenkomste wat die karakter dra van geheime byeenkomste. [Daar is soms na ekumeniese studiekringe verwys as geheime byeenkomste, maar met hierdie formulering wou Geyser duidelik ook die Afrikaanse Broederbond betrek].

Toe ouderling D.P.J. van Schalkwyk versoek het dat Geyser sy verklaring in die eerste persoon sal stel, het Geyser die verklaring teruggetrek. Hierdie Algemene Kerkvergadering het ook die rapport van die 'kommissie van eksegete wat deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering benoem is om Artikel III van die kerkwet en sy aanverwante bepalings aan die Heilge Skrif te toets' aanvaar, 'met uitsondering van die laaste paragraaf en die aanbevelings.' Die aanbevelings het bestaan uit twee moontlike herformulerings van die artikel. Daar is besluit om wel die moontlike vervanging van die woord 'gelykstelling' in die artikel met 'vermenging' goed te keur vir opname in die Agenda van die volgende Algemene Kerkvergadering.

Professor Van Selms het in die Nederlandse tydskrif Kerk en Theologie se 12de jaargang, nommer 3, Julie 1961 in 'n artikel De Nederduits Hervormde Kerk van Afrika en de kleurscheidslyn die Nederlandse teologies-kerklike wêreld ingelig oor die verloop van sake en sy eie aandeel en beskouing. Hy was van mening dat die vergadering Artikel III in feite tot belydenis verhef het ten spyte van die uitdruklike versekering van die teendeel, en die onderskeid tussen belydenis en kerkreg uit die oog verloor het, en deur hierdie besluit in stryd gekom het met Artikel XXXII van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Hierdie artikel het ongetwyfeld bygedra tot wat 'n onoorbrugbare kloof sou word tussen die Nederlandse Hervormde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk. Oor Geyser skryf van Selms in hierdie artikel:

Professor Geyser is afkomstig uit een bekende Afrikaanse familie, die altyd en niet ten onrechte als geesdriftige Afrikanernasionalisten bekend stond. Het was zijn studie van de gegevens, welke het Nieuwe Testament over de kerk biedt, die hem tenslotte, om zo te zeggen in weerwil van zijn natuurlijke zelf, er toe brachten om met ontsteltenis te konstateren dat onze kerkelijke praktijk de toets van het Woord van God niet doorstaan kan. Zijn studies voerden hem naar Europa, naar Geneve en tot de oecumenische theologie. [...] Toen Geyser zijn door zorgvuldige exegetische studien, die ook in de buitenland aandacht trokke, gevormde overtuiging tot uitdrukking bracht op theologenvergaderingen, begon de storm op te komen. De Hervormde Kerk speurde onraad: hier was een van zijn eigen theologen, ten nauwste betrokken bij de opleiding van de dienaren des Woords, die durfde verkaren dat een van de artikelen van de kerkwet in strijd met dit Woord was. De gemeenten begonnen te vrezen voor de invloed, die zulk een hoogleraar op de jonge studenten kon hebben.

Oor die ontstaan van die memorandum van die kerk vir die Cottesloe-byeenkoms skryf Van Selms dat die referente op die Predikantevergadering deur die bestuur gekies is, uit die groep wat seker die gevolgde beleid sou ondersteun.

Hoewel bij de diskussies professor Geyser, ikzelf en de kleine groep van predikanten die voor onze argumenten toegankelijk was, op allerlei manieren betoogden dat de geboden referaten op onjuiste exegese van de Heilige Schrift en op een onrealistische beschouwing van het toegepaste apartheidsbeleid berustten, werden de referaten nochtans door de Algemene Kommissie als grondslag voor haar memorandum aanvaard.

Oor die ontstaan van en die reaksie op die boek Vertraagde Aksie skryf Van Selms dat die insigte van Geyser geleidelik ook by teoloë van die ander twee Afrikaanse kerke ingang gevind het en dat daar kontakte tot stand gekom het selfs met Engelssprekende teoloë. Ekumeniese studiekringe is opgerig en dit was hierdie byeenkomste wat aanleiding gegee het dat hulle geheime byeenkomste gehou het. Vertraagde Aksie het uit hierdie byeenkomste voortgekom, en het sensasie verwek. Oor sy eie bydrae skryf hy dat hy niks nuuts te sê gehad het nie maar wel probeer het om dit op 'n ander manier te sê.

Vandaar wellicht de raillerende toon, die sommige lezers geboeid, anderen diep geërgerd heeft. Welke hartstochten zo iets hier te lande oproepen kan, valt op te maken uit de brochure die dominee C.L. van den Berg in januari van dit jaar liet verschijnen: 'Onvertraagde voortgang, Ope brief aan professor doktor A. van Selms.' [...] Nederlandse lezers, die dit geschrift in handen mochten krijgen, zullen verbaasd zijn om te horen, dat zo iets by een kerkelijke uitgeverij en nadat een kerkbestuur het gelezen had, het licht kon zien.

Oor die besprekings op die Algemene Kerkvergadering skryf Van Selms:

Het is begrijpelijk dat sommigen in de hitte van een mondelinge debat hun zelfbeheersing verliezen; dat was waarschijlijk ook wel de geval met de oud-hoogleraar in de theologie, die verklaarde, dat Geyser de onbekwaamste exegeet was die hij ooit tegengekomen was, en dat ik voor mijn eerste theologische examen gezakt zou zijn, als ik daarbij de dingen gezegd had, die ik nu beweerde. Het laatste is trouwens geen mondelinge uitspraak, maar door de betrokke oud-hoogleraar in het officiële orgaan van de Hervormde Kerk geschreven.

Daarmee verwys Van Selms na twee aflewerings van 'n artikel ''n Onaangename Plig' in Die Hervormer van Januarie en Februarie 1961, van die hand van professor S.P. Engelbrecht. Hy verwyt albei dat hulle die Reformatoriese onderskeiding tussen die sigbare en onsigbare kerk ophef en daardeur op 'n Roomse weg beland het. Die presiese woorde oor Van Selms en 'n eksamen is daar: 'hy begaan sulke dogmenhistoriese flaters wat voldoende sou wees om 'n eerstejaars teologiese student in sy eksamen te laat sak. [Die apologetiese toon van die artikel van Van Selms wek die indruk dat hy besonder begerig was om in die Nederlandse wêreld groter aanvaarding te vind, iets wat sy persoonlike en akademiese styl nie so maklik gemaak het nie. By al sy hoë kwaliteite was sy ego steeds belangrik, en was hy totaal anders as die gemiddelde Nederlandse akademikus soos wat byvoorbeeld Gemser was.] Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het op 19 September 1961 saam met lede van die Kuratorium 'n gesprek met Van Selms gevoer oor die stuk. Die besonderhede van die gesprek is nie genotuleer nie. Tydens die sitting van hierdie Algemene Kerkvergadering het die nuus gekom dat die Eerste Minister, doktor H.F. Verwoerd, Suid-Afrika aan die Statebond onttrek het. Die vergadering het toestemming gegee dat die volgende verklaring wat die voorsitter opgestel het in opdrag van die vergadering, uitgesaai word:

Namens die Nederduitsch Hervormde Kerk en in opdrag van die Algemene Kerkvergadering tans in sitting te Pretoria wil ek aan die volk van Suid-Afrika sê dat ons al meermale in die verlede op 'n kruispad gekom het waar ons moes kies. Ons dank God in ootmoedigheid dat Hy elke keer manne gegee het met die wysheid, geloof en moed om die eerbare weg te kies.Ook nou het ons volk by monde van die Eerste Minister gekies. Ons aanvaar sy keuse in dankbaarheid omdat ons glo dat ons volk 'n roeping het. Ons glo dat God die gebed van Jan van Riebeeck by sy landing aan die Kaap verhoor het. Ons glo dat God andermaal sy genade aan ons betoon het toe hy die gelofte van ons vaders by Danskraal beantwoord het met die oorwinning by Bloedrivier. Ons glo dat ons volk daar sy mandaat ontvang het om voort te gaan op die weg wat sal verseker dat die deurbraak van die lig van die Evangelie en die beskawing wat by Bloedrivier begin het, nie vernietig sal word nie. As geroepenes van God om die lig van die Evangelie en van die beskawing tot heil van alle mense in ons land te dra, mag of kan ons nie toegee aan magte wat ons hiervan wil afdwing nie. Met die blye geloofsversekering gaan ons die toekoms met kalmte en vasberadenheid tegemoet. In Hom is ons vertroue en aan Hom bring ons die dank en die eer. [Die paradigma gebed van Jan van Riebeeck/ gelofte/ Bloedrivier wat aan die volk 'n roeping gee, was die geldige in wye Afrikanerkringe en sou in die toekoms tot ernstige trauma lei.]

Die Algemene Kerkvergadering het kennis geneem dat doktorsgrade in die Teologie verwerf is deur F.J. van Zyl, P.J.T. Koekemoer, P.S. Dreyer en S.P.J.J. van Rensburg. P.S. Dreyer het reeds in 1951 'n eerste doktorsgraad in die Wysbegeerte verwerf met 'n proefskrif Die Antropologie van Ludwig Feuerbach onder promotorskap van professor C.K. Oberholzer.

Professor H.P. Wolmarans het na sy uittrede einde 1959 'n beroep aanvaar na die gemeente Johannesburg-Suid, en nadat 'n ooreenkoms met die Nederduitse Gereformeerde Kerk bereik is oor opleiding aan die Stofberg Teologiese Skool en doktore J.I. de Wet en B.J. van der Merwe 'n benoeming van die hand gewys het, het professor Wolmarans die benoeming as dosent aanvaar en hom op Turfloop gevestig van 01 Februarie 1961 af.

Professor S.P. Engelbrecht is verkies as ouderlinglid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Dominee J.G.M. Dreyer en W.J. Roos is afgevaardig om die groete van die vergadering aan professor Greyvenstein oor te dra met sy verjaarsdag.

Artikel 2 en 4 van hoofstuk VI van die Kerkwet is gewysig. 'n Beskrywingspunt is aanvaar wat Grieks III nie meer verpligtend maak in die teologiese kursus nie. Die vergadering het kennis geneem van die skenking van studiebeurse uit Potchefstroom en die Ring van Zeerust, en van die Van der Hoff Teologiese Beursfonds wat deur die opbrengs van die Van der Hoff-HSV konserttoere in stand gehou word. Dit is goedgekeur dat beurslenings verhoog word van R120 tot R200 per jaar.

Die vergadering het wysigings goedgekeur van die bepalings oor die toelating as kandidaat tot die heilige diens, en oor die professore en ander dosente in die teologie. Daar is besluit dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in samesitting met die Kuratorium met meerderheid van stemme 'n vakopdrag aan 'n kerklike hoogleraar of dosent kan wysig en/of terugneem, in oorleg met die Universiteit. Op die Kuratorium is verkies dominee S. Vermooten, Doktor S.P.J.J. van Rensburg, dominees J.P. van den Berg, L.M. le Roux, J.P. Oberholzer, J.I. de Wet en doktor A.P. Grove.

Die vergadering het kennis geneem dat professore E.S. Mulder, A.S. Geyser en A. van Selms benoem is op die Kommissie vir die Hersiening van die Afrikaanse Bybelvertaling. Hierdie vergadering het ook 'n nuwe kategese-leerboek goedgekeur, by name Die Belydenis van Die Hervormers van die hand van professor A. van Selms.

Professor S.P. Engelbrecht het tydens hierdie vergadering sy argief en museumstukke aan die kerk geskenk, en die vergadering het dit aanvaar. Die aanvaarding is opnuut bevestig in die Kommissie se vergadering op 26 Augustus 1963.

25 April 1961

Die Fakulteit keur die inskrywings van dominees J.J. Booyse en J.A. Swanepoel vir DD goed.

23 Mei 1961

Die Fakulteit keur J.I. de Wet se proefskrif goed en ook die inskrywing van dominee J.H. Koekemoer vir DD.

20 Junie 1961

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vergader en neem onder andere kennis van skrywes van die Presbiteriaanse Alliansie en die Kerk van Ierland wat oordeel dat Artikel III in direkte stryd met die Skrif is, en keur die antwoord van die voorsitter goed.

26 Julie 1961

Die Kuratorium verkies doktor S.P.J.J. van Rensburg as voorsitter en dominees S. Vermooten as onder-voorsitter. Die vergadering het kennis geneem van die besluite van die Algemene Kerkvergadering, beurse toegeken, en dominees J.I. de Wet gelukgewens met die aanvaarding van sy doktorale proefskrif. Die jaarverslag van die Fakulteit oor die tydperk 1960–1961 meld dat 21 studente vir BD en 12 vir DD ingeskryf was.

19 September 1961

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verneem van die voorsitter dat hy van verskillende studente skrywes ontvang het waaruit blyk dat hulle ernstige besware teen professor Geyser het. Die dekaan het ook aan hom te kenne gegee dat daar byna onuithoudbare spanning en ontevredenheid in die Fakulteit heers in verband met professor Geyser. Die skriba het bygevoeg dat hy ook van verskillende gemeentes besware ontvang het oor die optrede en houding van professor Geyser. Die dekaan en drie sesdejaar studente het ter vergadering gekom en vrae beantwoord, en die dekaan het gewys op die spanning en ontevredenheid in die Fakulteit. Na bespreking het die vergadering die gevoel uitgespreek dat dit nie langer wenslik is dat Geyser aanbly as professor nie en besluit dat die kontrak met die Universiteit ondersoek word en dat regsadvies daaroor ingewin word. Die regsadvies is tydens die vergadering verkry, en die Kommissie het besluit om Geyser se diens te beëindig met ses maande kennisgewing vanaf 01 Oktober 1961. Die vergadering het egter ook gevoel om eers 'n gesprek met hom te voer en hom mee te deel dat dit wil voorkom asof daar geen vertroue meer in die kerk teenoor hom as professor is nie as gevolg van sy optrede oor 'n lang periode en oor sy verhouding met studente en professore in die Fakulteit, en dat die vraag by die Kommissie opgekom het of dit nie vir hom 'n eerbare weg sal wees om sy bedanking in te dien nie, en dat die Kommissie hom sewe dae tyd gee om hieroor te dink en te handel. Geyser het die versoek aangehoor maar geen kommentaar gelewer nie.

20 September 1961

In 'n samesitting tussen die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die Kuratorium word besluit dat die leeropdrag Praktiese Teologie van professor Geyser teruggeneem word en is aan die Kuratorium opgedra om die nodige in dié verband te doen. Geyser het op die Kuratoriumvergadering van 02 Februarie 1962 beswaar gemaak teen die besluit en verklaar dat hy al sy regte in dié verband voorbehou.

26 September 1961

Die Fakulteit neem kennis dat meneer Nico Prinsloo van die distrik Bronkhorstspruit 'n bedrag geskenk het met die versoek dat dit belê word en dat die opbrengs elke derde jaar toegeken word as 'n prys vir die beste student in die vak Ou Testamentiese Wetenskap. Die Fakulteit het besluit om professor S.P. Engelbrecht aan te beveel vir die toekenning van die eregraad DD.

03 Oktober 1961

Die Kuratorium moes handel oor 'n klagskrif van drie studente, dieselfde as dié wat op 19 September 'n onderhoud met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gehad het, teen professor A.S. Geyser oor dwaalleer en volharding in verset deur woord teen die wet, bepalings en besluite van die kerk. Die klaers was die sesdejaarstudente W.C.M. de Beer, E. Engelbrecht en H.G. van der Westhuizen.

Professor Van Selms het gevra dat die vergadering eers moet vasstel of die klaers die dekaan geraadpleeg het, omdat die dekaan dan geprejudiseer sal wees en nie die vergadering behoort by te woon nie. Die vergadering het besluit dat die beswaar nie geld nie omdat die professore nie stemreg het nie. Professor Geyser het die volgende verklaring van vier studente ingehandig:

Ons die ondergetekendes verklaar dat professor A.S. Geyser met die begin van hierdie jaar vir die klas gevra het of hulle genoeë daarmee sal neem dat hy die ekumeniese beweging behandel in die praktiese teologie. Dit was onmiddellik na afloop van die Algemene Kerkvergadering. Niemand het beswaar aangeteken nie. In die eksegeseklas het professor Geyser herhaalde kere daarop gewys dat ons 'n kritiese sin moet hê. Ons het saam gestudeer en indien daar meningsverskille was, het ons dit op vreedsame wyse opgelos en waar ons as studente miskien reg was het professor Geyser volkome daarmee ingestem, byvoorbeeld ten aansien van Fil 1:20. Professor Geyser het nog nooit dominerend te werk gegaan nie en slegs gesê dat ons tog weet wat sy standpunt in die kerk is en dat ons nie met hom hoef saam te stem nie.

Die verklaring is onderteken deur C. Jongeleen (vierdejaar), G.M. Booy (vyfdejaar), A.T. Kemp (vierdejaar) en J.H. Viljoen (sesdejaar).

Geyser het verklaar dat '(a) Ek ontken skuld op altwee klagtes, (b) Ek bely dat Jesus Christus die Seun van God is en dat Hy eenswesens met die Vader is.' Hy het voorts sy diktaat en die aantekeninge van vier studente met die klagstaat vergelyk en aangetoon dat daar talle verskille is. Daarna het hy die klagte punt vir punt behandel en uitvoerig sy beskouing oor die betekenis van die woord morphe in Filippense 2 weergegee.

Die standpunt van lede van die Kuratorium was dat hulle taak net is om vas te stel of die klag formeel in orde is. Geyser het verdere toeligting gegee. Daarna het dominee J.I. de Wet met sekondant J.P. Oberholzer voorgestel: 'Nadat die Kuratorium in ooreenstemming met die kerkwet die klagstaat behandel het, besluit die Kuratorium om dit deur te stuur na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering.'

Professor Van Selms het voorgestel:

Aangesien die klagstaat vol is van onnoukeurighede, misverstande, logiese foute en sake wat uit hulle verband geruk is, mis dit elke grond en stuur die vergadering dit nie deur na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering nie.

Die voorstel deur De Wet is met algemene stemme aangeneem.

24 Oktober 1961

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem sitting en besluit om die klag in behandeling te neem. Geyser het gevra dat 'n bandopname van die verhoor gemaak word, 'n snelskrif tikster aan hom toegestaan word, buitelandse waarnemers en predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en Engelse kerke toegelaat word om die verhoor by te woon, en dat die verhoor daagliks nie langer as vyf ure sal duur nie. Die Kommissie het besluit dat net lede van die Hervormde Kerk die verhoor mag die klaers opgetree en die name van mede-studente voorgelê wat ingestaan het vir bepaalde paragrawe in die klag. Daarna het hy die motivering van die klag behandel. Geyser het aan die woord gekom op 25 Oktober met ondervraging van die aanklaers.

Die verhoor het uiteindelik 38 sittings van die Kommissie geverg. Die transkripsie van die verloop beslaan sowat 2672 folio bladsye. Uitvoerige pre-advies namens die Vergadering van Professore is deur professor B.J. Engelbrecht voorgelê. Professor S.P. Engelbrecht het hom op 21 Maart 1962 aan die saak onttrek. Hy het geskryf dat die saak sy gesondheid baie benadeel het en dat hy fisies en psigies aan die einde van sy kragte gekom het. Die spanning wat hy ervaar, word verhoog deur die aanhoudende aantygings van Geyser dat hy bevooroordeeld is. Sy onttrekking sal die Kommissie van daardie aantygings vrywaar. Die Kommissie het op 24 en 26 April oor die verskillende onderafdelings van die klag afsonderlik besluit.Wat die gedeelte betref oor volharding in verset was die bevinding dat dit nie afdoende bewys is nie en dat die aangeklaagde die voordeel van die twyfel moet geniet. Wat die gedeelte oor dwaalleer betref, is bevind dat die klag in verband met die Christologie gestaaf is (10 stemme teenoor 2), dié oor die ekklesiologie nie gestaaf is nie (9 stemme teenoor 3), en ook nie die klag oor die Pneumatologie nie (met algemene stemme). Die besluit was dat die aangeklaagde in terme van Artikel 10, hoofstuk 15 van die Kerkwet afgesit word as predikant van die kerk en dat die Universiteit van Pretoria kennis gegee word dat die subsidie vir die leerstoel Nuwe Testament vanaf datum 08 Mei 1962 teruggetrek word. Dominee C.L. van die Berg is versoek om 'n samevattende beredenering op te stel.

Die beredenering en bevinding van die Kommissie soos goedgekeur op 08 Mei 1962 beslaan 18 folio bladsye. Aan die einde van die stuk verskyn die volgende paragraaf:

As daar verder gelet word op die aanmatigende en verkleinerende uitlatings wat deur die aangeklaagde tydens sy verhoor gemaak is teen die Kerk, die Kommissie en hulle wie se getuienis nie in sy guns was nie, en die uitdagende houding wat hy tot die einde van die verhoor volgehou het, kan die Kommissie geen versagtende omstandighede vind nie.

 

1962

20 Februarie 1962

Die Fakulteit keur goed dat dominee C.J. Labuschagne die DD graad met lof ontvang met sy proefskrif Die onvergelyklikheid van Jhwh in die Ou Testament.

01 Mei 1962

Die Fakulteit neem kennis en keur goed dat 'n sesde leerstoel in Afdeling B ingestel word. Na aanleiding van 'n skrywe van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die Fakulteit versoek dat 'n sesde leerstoel ook by Afdeling A ingestel maar nie dadelik gevul word nie. Die nodige regulasiewysigings is aangebring.

08 Mei1962

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering keur 'n herderlike skrywe goed oor die standpunt van die kerk ten opsigte van die verhouding Skrif en Belydenis en die vryheid van die eksegeet.

20 Junie 1962

Die Kommissie het 'n konsepverklaring goedgekeur waarin die redes verstrek word vir die uittrede van die Nederduitsch Hervormde Kerk uit die Wêreldraad van Kerke. Daarin word onder andere die volgende verklaar:

[D]at die Wêreldraad van Kerke na ons mening teen wil en dank die naprater van die V.V.O. geword het. Net soos die V.V.O. Suid-Afrika se rasse-beleid as skyf gebruik om deur aanvalle daarop die guns van die Afrikastate te verwerf, en in die spel voortdurend met twee mate meet, so doen ook die Wêreldraad van Kerke. As die V.V.O. as gevolg van onluste by Sharpeville en Langa, waar 'n aantal oproermakers deur die polisie geskiet is, in byna histeriese verontwaardiging teen Suid-Afrika losbars, ontsien die Wêreldraad van Kerke geen moeite of koste om van sy leidende figure na Suid-Afrika te stuur om hier saam met sy ledekerke oor die gebeure te beraadslaag en die rassebeleid en optrede van die owerheid te veroordeel nie. [...] Wat Suid-Afrika en ook ons kerk betref, stuur die houding en eise sowel van die V.V.O. as die Wereldraad van Kerke af op selfmoord vir die blankes en chaos en ellende vir die Bantoes en veral die Kleurlinge en Indiërs in Suid-Afrika. Nog belangriker is die verydeling van die kerstening van die heidene.

31 Julie 1962

Op 'n spesiale vergadering het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering kennis geneem van 'n skrywe van Geyser se prokureurs waarin kennis gegee word dat indien die uitspraak nie binne drie weke teruggetrek word nie, geregtelike stappe teen die kerk geneem sal word. Die Kommissie het besluit om nie aan die versoek te voldoen nie en het sy voorsitter en skriba gemagtig om alle dokumente te onderteken en namens die Kommissie op te tree, en dat die firma Peens, Smit en Oelofse opdrag gegee word om die saak van die kerk te behartig. As advokate is benoem Tienie de Kock as senior, A.S. Botha as junior en R.K.R. Zeiss as tweede junior.

Professore E.S. Mulder, B.J. Engelbrecht en doktor S.P.J.J. van Rensburg is versoek om ter inligting van die prokureurs en advokate 'n uiteensetting te gee van die taak van 'n eksegeet. 'n Beroep is op gemeentes gedoen om die koste in verband met die saak te help dek. Professore Mulder en Pont en S.P. Engelbrecht en doktor S.P.J.J. van Rensburg wat tydens die Geyser-verhoor in 'n slegte lig gestel is, sou geleentheid ontvang om hulle in die vergadering van die Kommissie te verweer.

31 Julie 1962

Die Fakulteit aanvaar dominee L.A. Nel se inskrywing vir DD en bekragtig die bedanking van professor A.S. Geyser met ingang 01 Oktober 1962 wat regstreeks by die Raad ingedien is en aanvaar is. Kennis is geneem van 'n brief van Geyser aan die dekaan gedateer 25 Junie 1962 dat die BD studente nie sy lesings bygewoon het nie en versuim het om voorbereiding vir die lesings te doen, en van 'n volgende brief, gedateer 31 Julie, dat op enkele uitsonderings na, die studente nie vir die halfjaarlikse eksamens voorberei het nie en gevolglik swak halfjaarpunte gekry het. Hy het die predikaatopgawes direk by die administrasie ingedien.Volgens die jaarverslag van die Fakulteit het in 1962, 16 studente BD studie gedoen en was 9 met DD besig.

01 Augustus 1962

Die Kuratorium behandel die volgende bedanking van professor A. van Selms, wat gerig was aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering:

Na bestudering van die bevinding en uitspraak met betrekking tot die klag teen professor doktor A.S. Geyser en van die verklarings van u voorsitter in die pers, het dit vir my duidelik geword dat die eksegetiese arbeid in die Teologiese Fakulteit Afdeling A. van die Universiteit van Pretoria volgens die mening van u kommissie nie slegs aan sy voorwerp, die Heilige Skrif, onderwerp is nie, maar ook aan kerklike besluite en u interpretasie daarvan. My gewete verbied my om my deur mense te laat voorskryf wat die goddelike Woord sê. Daarom kan ek 'n taak wat ek vanaf 1938 uit liefde en met liefde waargeneem het, nie langer vervul nie en sien ek my genoodsaak om met ingang van 30 Junie 1962 vir die posisie as lektor in genoemde fakulteit te bedank.

Die Kuratorium het besluit om aan te beveel dat die lektoraat afgeskaf word en dat die hoof van die Departement Ou Testamentiese Wetenskap die vak Argeologie sal doseer. Die Kuratorium het ook kennis gekry dat Geyser bedank het as professor en uit diens sal tree op 30 September 1962. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die Kuratorium gemagtig om 'n professor in Nuwe Testamentiese Wetenskap te benoem en opdrag gegee dat die benoeming gemaak moet word in dieselfde tyd as wanneer die Kommissie in September vergader.

Die Kuratorium het besluit om die reël te handhaaf dat alle teologiese studente in Voortrekkertehuis sal inwoon, dat studente wat motors aanskaf tydens hulle studietyd, nie vir beurse in aanmerking sal kom nie en dat dit onwenslik is dat studente trou voordat hulle klaar is met die studie.

Die vak Bybelkunde is in 1958 aan die Universiteit ingestel op versoek van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Nederduitse Hervormde Kerk. In die eerste jare is die onderrig waargeneem deur professor E.P. Groenewald en J.P. Oberholzer. Later is professor Groenewald vervang met dominee Murray Janson. In 1959 is Oberholzer met sy vertrek na Rustenburg vervang met dominee C.J. Labuschagne. Dominee Dirk Viljoen het van Nededuitse Gereformeerde kant die werk gedoen. Die rektor het op 12 Februarie 1962 die aandag gevestig daarop dat die belanghebbende instansies die wens uitgespreek het dat professore in die Teologie die vak moet doseer. Dosering deur dosente in die Fakulteit sou ook in orde wees. Die Kuratorium het op 01 Augustus 1962 besluit om doktor J.I. de Wet aan te stel as tydelik/deeltydse lektor en dat hy behulpsaam sal wees met die dosering van Praktiese Teologie en Bybelkunde.

12 September 1962

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die reëling goedgekeur met die duidelike verstandhouding dat dit nie impliseer dat die leerstoel Praktiese Teologie gevul word of dat dit die begin is van vulling van die leerstoel nie, en dat doktor De Wet se taak tot so min moontlik lesings in Praktiese Teologie beperk sal word. In 'n onderhoud met die Moderamen op 01 November 1962 is briewe van doktor C.J. Labuschagne met hom bespreek oor sy beswaar dat hy oor die radio moes verneem dat 'n ander dosent in Bybelkunde benoem is. Die voorsitter het verduidelik dat die Kommissie dit betreur dat daar versuim is om hom van die besluit te verwittig en dit ook betreur dat hy na die vyandige pers, die Sunday Times, gegaan het met insinuasies dat die kerk kwaadwillig teen hom opgetree het.

13 September 1962

Die Kuratorium besluit om doktor S.P.J.J. van Rensburg te benoem as professor in Nuwe Testamentiese Wetenskap met ingang 01 Februarie 1963 en benoem hom as tydelik-deeltydse lektor vir die tydperk 01 Oktober 1962 tot 31 Januarie 1963.

Sarel Petrus Johannes Janse van Rensburg is gebore op 19 April 1907 en groei op in die distrik Makwassie. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Wolmaransstad in 1926 en voltooi die BA-graad aan die Transvaalse Universiteitskollege in 1929, BD in 1932. In sy studentetyd verwerf hy bekendheid as atleet (vandaar sy bynaam Atleet) en speel hy provinsiale rugby as vleuel en soms ook as losvoorspeler. Weens die depressie was daar nie 'n beroep beskikbaar nie. Nadat hy as proponent tydelik in Makwassie gewerk het, is hy op 05 Augustus 1933 georden as predikant van die gemeente Eendracht. Daarna dien hy in die gemeentes Randpoort, Potchefstroom, Potchefstroom-Noord en Pretoria. Hy promoveer in 1958 met lof met die proefskrif Hagios in die Nieu-Testamentiese Voorstelling met professor A.S. Geyser as promotor. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die benoeming bekragtig op dieselfde dag.

25 September 1962

Die Fakulteit neem kennis dat die Lutherse Kerk versoek het dat die instelling van 'n Afdeling C. nie voortgaan nie. Die Fakulteit het aanbeveel dat doktor S.P.J.J. van Rensburg van 01 Oktober tot 31 Januarie tot assessorlid van die Fakulteit benoem word, en het die voorstel goedgekeur dat hy van 01 Februarie 1963 as professor en hoof van die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap benoem word. Die Fakulteit het verder aanbeveel dat doktor J.I. de Wet vanaf 01 Februarie 1963 benoem word as tydelik-deeltydse dosent in die Departement Praktiese Teologie en as assessorlid, dat hy verantwoordelik sal wees vir die dosering van Bybelkunde I en II terwyl professor E.S. Mulder Bybelkunde III sal behartig. Die rektor, professor C.H. Rautenbach, was teenwoordig, en A.S. Geyser het vir die laaste keer die vergadering bygewoon.

04 Desember 1962

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering betuig staande sy meegevoel teenoor mevrou Gemser met die afsterwe van professor Gemser op 15 November 1962 in Nederland. 'n Gewysigde kontrak met die Universiteit is bespreek en na die Pretoriase lede verwys om na te gaan en goed te keur.

Gemser is na sy dood gehuldig op verskillende wyses. Sy leermeester, die hoog bejaarde professor F.M.Th. de Liagre Böhl, het in Hervormde Teologiese Studies Jaargang 19, Oktober 1963 'n 'In Memoriam' geskryf, en Th.C. Vriezen het in Nederlandsche Theologische Tijdschrift onder andere geskryf:

Professor Gemser zal bij allen die het voorrecht hebben gehad hem te kennen in herinnering blijven om zijn wijsheid, die zich openbaarde in zijn vriendelikheid, zijn rust, zijn oprechtheid en eenvoud van hart en vooral zijn speelse humor, die misschien weleens spottend, maar nooit bijtend kon zijn.

In 1968 is versamelde opstelle van Gemser by E.J. Brill in Leiden gepubliseer onder die titel Adhuc Loquitur onder redaksie van A. van Selms en A.S. van der Woude, met 'n biografiese skets deur Van Selms.

 

1963

01 Februarie 1963

Die Kuratorium vergader. In die plek van doktor S.P.J.J. van Rensburg en doktor J.I. de Wet is deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering as lede benoem dominees C.J. Mans en W.M. Wolmarans. J.P. Oberholzer is as voorsitter verkies.

Die vergadering het kennis geneem dat die dosering van Praktiese Teologie soos volg sou geskied:

  • Homiletiek, Kategetiek, Sielsorg: J.I. de Wet
  • Praktiese Preekoefening: E.S. Mulder, S.P.J.J. van Rensburg, J.I. de Wet
  • Liturgiek: B.J. Engelbrecht
  • Pastorale Sielkunde: F.J. van Zyl
  • Kerkregtelike Praktyk: A.D. Pont.

19 Februarie 1963

Die Fakulteit staan verlof toe aan professor E.S. Mulder van 01 Julie tot 31 Desember, keur die inskrywing van dominee J.A. de Beer vir DD goed, besluit dat J.P. Oberholzer die doktorale eksamen met lof slaag en keur die onderwerp van sy proefskrif goed, en bekragtig die uitslag van die proefskrif van dominee L.M. le Roux oor Kerklike Jeugwerk. In hierdie vergadering was professor S.P.J.J. van Rensburg en doktor J.I. de Wet die eerste maal teenwoordig.

19 Maart 1963

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering betuig sy instemming met aanbevelings van professore B.J. Engelbrecht en A.D. Pont oor die handoplegging.

30 April 1963

Die Fakulteit keur die inskrywing van dominees W.C. van Wyk en E. Engelbrecht vir DD goed.

29 Mei 1963

Die Kuratorium neem kennis dat professor E.S. Mulder ses maande langverlof neem en dat die doseer- en eksamenpligte in Ou-Testamentiese Wetenskap deur J.P. Oberholzer behartig sal word, die dekaanskap deur professor B.J. Engelbrecht en die hoofskap van die departement deur professor S.P.J.J. van Rensburg. Die Kuratorium en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het dit so goedgekeur.

30 Julie 1963

Die Fakulteit nomineer eenparig vir professor E.S. Mulder as dekaan. Volgens die jaarverslag van die Fakulteit was 15 studente ingeskryf vir BD en 12 vir DD. Nuwe inskrywings vir DD was D.J. Booysen, H.G. van der Westhuizen en C.J. Mans.

06 Augustus 1963

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het dominee C.J.S. van Niekerk benoem as lid van die Kuratorium in die plek van dominee S. Vermooten wat weens siekte bedank het. Dominee Vermooten was met twee kort onderbrekings lid van die Kuratorium van 1931 tot 1963. Die Kuratorium het sy waardering uitgespreek vir die onvermoeide ywer wat hy as lid van die Kuratorium en by tye as voorsitter of ondervoorsitter aan die dag gelê het.

Die verskynsel dat sommige studente die BA studie aan ander universiteite voltooi het, het begin by D.F. Erasmus wat in 1953 begin het met die BD studie aan die Universiteit van Pretoria nadat hy die BA op Potchefstroom voltooi het. Die Kuratorium het besluit dat hy nie die bevoegdheid het om 'n voornemende student toe te laat as student van die kerk wanneer so 'n student elders studeer nie, maar dat niks so 'n student verhinder om vir die BA elders te studeer en met die behaalde resultate aansoek te doen om toelating tot die BD studie as student van die kerk nie, maar dat die Kuratorium dit hoogs wenslik ag en verkies dat alle voornemende teologiese studente van die begin af aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Op dieselfde vergadering het die Kuratorium sy voorsitter en dominee W.M. Wolmarans benoem om die betrokke hoofstukke in die Kerkwet na te gaan met die oog op moontlike wysigings deur die komende Algemene Kerkvergadering. Die vergadering het ook besluit dat hy jaarliks 'n rapport oor die akademiese en kerklike werksaamhede van die professore wil ontvang.

26 Augustus 1963

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vergader. Daar het gedien 'n memorandum van advokaat M.R. de Kock waaruit geblyk het dat die hofsaak tussen die kerk en professor Geyser geskik is nadat hy in die hof bely het dat hy die Belydenisskrifte van die kerk en in besonder die Athanasianum saam met die kerk bely en onderskryf. Dit het 'n nuwe situasie geskep wat gelei het tot 'n broederlike gesprek tussen die partye. Uiteindelik is 'n skriftelike stuk opgestel waarin die resultaat van die voorlopige onderhandelings beliggaam was. Hierdie stuk is aan advokaat De Kock voorgelê, en hy het ten sterkste aanbeveel dat die hofsaak uit die wêreld gemaak moet word deur aanvaarding van die stuk omdat

[Ek] oortuig was dat die kerk op die grondslag van daardie dokument met groot eer uit die wêreldlike stryd sou tree sonder dat enige van die beginsels waarvoor die kerk staan daardeur prysgegee sou word.

Verder het De Kock geskryf:

Ek wil dit beklemtoon dat die vergelyk waartoe die partye geraak het voortgevloei het uit 'n opregte drang van die kant van die kerk om op 'n Christelike wyse 'n oplossing in die saak te vind en dat daar derhalwe nie sprake kan wees daarvan dat die een of die ander kant die handdoek ingegooi het nie. Wat my betref was dit deurgaans eenvoudig 'n kwessie van die wenslikheid om die kerk uit die wêreldhof te hou en om in belang van die kerk 'n vergelyk te bewerkstellig op die enigste grondslag wat by die kerk van krag is, naamlik om in 'n gees van Christelike broederlikheid 'n versoening te bereik.

Die notule van die Kommissievergadering vermeld dat die Kommissie met dank kennis geneem het van die memorandum van advokaat De Kock. Die skriftelike stuk van ooreenkoms vorm nie deel van die agenda van die Kommissie nie. Daar is wel genotuleer dat die voorsitter op 'n vraag geantwoord het dat

[D]ie hofooreenkoms waarin verklaar word dat professor Geyser steeds predikant van die kerk is ook insluit dat professor Geyser nou, terwyl hy oorgegaan het na 'n ander lewensstaat, sy status behou kragtens 'n vergunning van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in terme van Artikel 10 van die Kerkwet

en dat die vergadering daarmee saamgestem het. Verder in die notule rapporteer die Administrateur dat tot datum van gemeentes R28 270 ontvang is as bydrae vir die koste van die saak, veel minder as die R60 000 wat dit moes wees op grond van die gevraagde 80 sent per lidmaat. Die koste waarvoor die kerk aanspreeklik was, het die koste van professor Geyser ingesluit, en het R88 195 beloop. Daar is besluit om gemeentes wat niks bygedra het nie, aan te spreek om binne twee maande die saak af te handel. Intussen het die Raad van Finansies besluit om die verbandstruktuur van die Dirk van der Hoff- en Generaal Pretorius geboue in hersiening te neem deur die sluiting van nuwe lenings teen kleiner rentekoerse sodat so oor 'n aantal jare die koste van professor Geyser betaal kan word.

Die betrokke hofooreenkoms is gepubliseer in 'n byvoegsel by Die Hervormer van Junie 1963. Dit lees soos volg:

Na aanleiding van professor Geyser se getuienis in die hof in verband met die belydenis het 'n broederlike gesprek tussen die partye plaasgevind. Daaruit het geblyk dat daar tydens die kerklike verhoor onduidelikheid geheers het oor die vraag of professor Geyser die geheel van al die Belydenisskrifte saam met die kerk bely. Daardie misverstand is nou uit die weg geruim en gevolglik is dit met diepe vreugde dat die twee partye nou soos volg verklaar: Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verklaar dat hy nou duidelik verstaan dat dit nooit professor Geyser se bedoeling was dat sy uitleg van Fil 2:6–11 'n finale uitspraak oor die verhouding van die Seun tot die Vader moes wees nie. Die Kommissie verklaar dat dit 'n bona fide en opnopsetlike misverstand was. Professor Geyser verklaar dat hy aanvaar dat dit 'n bona fide en onopsetlike misverstand was. Professor Geyser herbevestig sy herhaalde verklarings dat hy ook die Athanasianum as synde in volledige ooreenstemming met die Heilige Skrif altyd onderskryf het en nog onderskryf.

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aanvaar hierdie versekering en verklaar soos volg:

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering stel sy bevinding en uitspraak van 08 Mei 1962 tersyde en verklaar dat professor Geyser steeds predikant van die kerk is. In 'n gees uitsluitlik van christelike broederlikheid bied die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aan om alle regskoste deur die Algemene Kommissie en professor Geyser aangegaan te betaal. Professor Geyser aanvaar hierdie aanbod van die betaling van sy regskoste deur die kerk, net soos die kerk dit aanbied, as 'n daad van broederlikheid van die kant van die kerk, met dank. Beide partye gee die eer aan God vir die beëindiging van die verontrusting van die afgelope jare.

Aan die teks van die ooreenkoms het die Kommissie in die Byvoegsel tot Die Hervormer. Die volgende twee paragrawe laat voorafgaan:

1. Die ongewenste publisiteit wat die Geysersaak sedert die beëindiging van die hofsaak in die pers geniet het, insluitende die jongste persberigte in die verband, het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering laat besluit om nie voort te gaan met die publikasie in Die Hervormer van die verklaring wat oorspronklik opgestel is vir die inligting van lidmate nie, omdat die Kommissie in belang van die kerk nie die verdere geleentheid wil bied aan instansies wat die kerk nie goedgesind is om voortdurend sodanige publisiteit aan die saak te verleen nie.

2. Die Kommissie wil egter aan alle lidmate die absolute versekering gee dat die basis waarop die partye mekaar in die saak gevind het in geen opsig afbreuk doen aan die beginsels waarvoor die kerk staan nie. Daar is geen sprake dat die een of die ander kant die saak gewen of verloor het nie en die Kommissie wil dit beklemtoon dat die onderneming deur die kerk om alle regskoste van die hofsaak te betaal uitsluitend berus op die grondslag vermeld in die gesamentlike verklaring wat namens albei partye aan die hof voorgelees is. [Ook uit terugskouing vanuit die dokumentasie is dit duidelik dat lidmate en waarnemers ten spyte van uitdruklike bewerings tot die teendeel nie anders kon aflei as dat Geyser sy saak gewen het nie. Die bewoording 'onduidelikheid' en 'misverstand' en 'nou duidelik verstaan' kan immers so verstaan word dat die Kommissie in daardie ellelange verhoor met onduidelikheid gelaat is maar tog tot 'n skuldigbevinding gekom het. Die aanbod om Geyser se regskoste te betaal, was na daardie erkenning en tersydestelling van die Kommissie se uitspraak sekerlik vanselfsprekend. Soos later sal blyk, was hier baie opheldering nodig, en het Geyser sake anders geïnterpreteer as die lede van die Kommissie en ook as die bemiddelaars.]

Hierdie vergadering van 26 Augustus 1963 het ook met professor Van Selms 'n onderhoud gehad oor sy bedanking as dosent. Na wisseling van menings oor en weer het die Kommissie die mening uitgespreek dat professor Van Selms deur sy bedanking vir die doeleindes van die kerkwet tot 'n ander lewenstaat oorgegaan het en dat sy status as predikant dus verval het.

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het op 29 Oktober 1963 ook besluit om ondersoek te laat doen na die Afrikaner Broederbond. Professor B.J. Engelbrecht het opdrag daartoe ontvang. Hy het egter versoek om vrygestel te word van die opdrag, en die Kommissie het op 03 Desember 1963 die opdrag aan ouderling J.C. Oelofse gegee.

Met dank is kennis geneem van 'n antwoord onder die titel Gelyke Geleenthede van die hand van professor A.D. Pont op die skrywe Het Rassenvraagstuk van die Nederlandse Hervormde Kerk.

Twee rapporte oor die keuring van teologiese studente, van die hand van professor P.S. Dreyer en dominee J.P. Oberholzer, is deur die Kommissie verwys na die Kuratorium vir 'n oorwoë verslag aan die komende Algemene Kerkvergadering met voorstelle oor wetswysigings.

 

1964

06 Februarie 1964

Die Kuratorium behandel gegewens oor die studietydperk, staking van studie en prestasie van BA studente in vergelyking met hulle matriekuitslae. Oor die tydperk 1917–1958 het die Fakulteit 159 predikante gelewer. Hiervan het 87 predikante die studie in ses jaar voltooi, 38 predikante in sewe jaar, terwyl 32 predikante ag tot 11 jaar geneem het, en 2 predikante onderskeidelik 15 en 16 jaar.

In die betrokke tydperk het 132 studente die studie gestaak nadat hulle 'n totaal van 311 studiejare gebruik het, dit wil sê 2.36 studiejare per persoon wat die studie gestaak het. Die vergelyking met matriekprestasie het laat blyk dat persone wat 'n derde taal en Wiskunde vir Matriek gehad het, die beste presteer het, selfs wanneer hulle vir Matriek minder as 50% behaal het.

Die vergadering het besluit dat 'n vasgestelde minimum-simbool in Matriek nie as vereiste vir toelating gestel sal word nie en dat die Raad van Finansies versoek word om vir elke student R1400 vir die volle studietyd beskikbaar te stel sodat die studente wat in Matriek 'n gemiddeld van 45% – 49% behaal, die BA studie oor vier jaar kan sprei, en dat 'n student wat die BA, BD in ses jaar voltooi, die oorblywende R200 tot sy beskikking sal kry as hy voltydse doktorale studie wil doen.

Hierdie vergadering het aandag gegee daaraan dat die Fakulteit in April 1967, 50 jaar oud sal wees, en het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering versoek om die volgende Algemene Kerkvergadering te reël vir April 1967 en dat voorsiening gemaak word vir 'n feestelike herdenking 'veral in die lig van die groot rol wat die Opleiding speel in die opbou en uitbreiding van die kerk.'

26 April 1964

Die 54ste Algemene Kerkvergadering neem sitting. Dominee A.J.G. Oosthuizen is herkies as voorsitter. Dominee T.F.J. Dreyer het na 30 jaar verkies om nie weer beskikbaar te wees vir die skribaat nie, en dominee P.M. Smith is as skriba verkies. Dominee A.J. Nolte is as vise-voorsitter en J.P. Oberholzer as vise-skriba verkies. Die vergadering het kennis geneem dat dominees L.M. le Roux, J.I. de Wet en A.J.G. Dreyer doktorsgrade verwerf het. Kennis is ook geneem van die Kommissie se mededelings oor professor A. van Selms, dat hy in terme van die besluit van die Algemene Kerkvergadering van 1961 sy status as predikant verloor het, en professor A.S. Geyser, dat met die verklaring dat hy steeds die status van predikant het, aan hom behoud van status toegeken is. Dit is egter in terme van die besluit van 1961 'n vergunning wat van tyd tot tyd hersien kan word.

Die vergadering het ingestem om met die oog op die halfeeufees van die Fakulteit in April 1967 te vergader. Kennis is geneem van die nuwe kontrak met die Universiteit en die reëling oor die dosering van Praktiese Teologie. As lede van die Kuratorium is verkies doktor L.M. le Roux, dominees S.P. Viljoen, P.J.T. Koekemoer, G.J.J. Roos en C.J. Mans, professor A.P. Grove en doktor J.L. van Staden. Die vergadering het gehandel oor verslae van professor A.D. Pont insake die Volkskongres oor Kommunisme wat in Pretoria gehou is van 31 Maart tot 02 April, van ouderling J.C. Oelofse oor die Afrikaanse Broederbond en van professor F.J. van Zyl oor die Vrymessselary.

Die Kommissie het breedvoerig verslag gedoen van die tugverhoor van professor A.S. Geyser, die hofsaak en die ooreenkoms met Geyser. Belangrik is die volgende:

U Kommissie wil dit baie duidelik stel dat hy nie tydens die verhoor onder enige misverstand verkeer het nie. U Kommissie het alle gegewens wat tot sy beskikking was na 'n verhoor van maande op rekord gehad en met daardie gegewens, waarvan u Kommissie 'n deeglike studie gemaak het, kon u Kommissie tot geen ander gevolgtrekking kom as waartoe hy gekom het nie. U kan die rekord nagaan om uself hiervan te vergewis. Die onsekerheid en misverstand het eers na vore gekom nadat professor Geyser in die hof onder eed verklaar het dat hy die Athanasianum in sy geheel saam met die kerk en net soos die kerk bely en verder sy versekering omtrent Filippense 2 gegee het.
Die regter het 'n spesiale beroep op die pers gedoen om die dokument woordeliks te publiseer en hulle daarvan te weerhou om deur kommentaar die saak verder te vertroebel. Ongelukkig het sommige koerante en verskillende persone hulle nie aan die versoek van die regter gesteur nie. Reeds op dieselfde dag het die publieke beriggewing die saak so aangekondig dat almal wat dit gehoor het, nie anders kon as om aan te neem dat die kerk die saak verloor het nie. Ook 'n deel van die pers het op dieselfde dag die aangeleentheid so berig dat dieselfde indruk geskep is. 'n Deel van die Engelse pers het vir weke voortgegaan om soveel propaganda teen die kerk te maak as wat hulle kon. U Kommissie was toe van oordeel dat 'n volledige verklaring in Die Hervormer geplaas moes word om die kerk korrek in te lig. So 'n verklaring is ook opgestel en as 'n byvoegsel tot Die Hervormer gedruk. Voor dit egter versprei kon word, het die advokaat van professor Geyser ons meegedeel dat 'n interdik by die hof aangevra sou word teen die verspreiding daarvan. Ons regsasdviseurs het u Kommissie adviseer dat wanneer so 'n interdik aangevra word, die hof dit gewoonlik toestaan en 'n datum bepaal. [...] Dit sou beteken dat die hele saak weer opnuut sou begin. Hulle het ons hierteen geadviseer en sterk aanbeveel om alleen 'n versekering te publiseer dat alles in orde is en dat aan u vergadering volledig verslag gedoen sal word. U Kommissie het die advies aanvaar. U Kommissie het besluit om die geskryf van die Engelse koerante te ignoreer.

Die Algemene Kerkvergadering het met die oog op die behandeling van die sake en dokumente in hierdie verband die volgende besluit geneem:

Dat aan professor Geyser op sy versoek een uur toegestaan word om die vergadering toe te spreek, dat daarna een uur aan die afgetrede Kommissie van die Algemene Kerkvergadering toegestaan word om te antwoord, dat daarna geleentheid aan lede van die vergadering gegee word om vrae te stel ter beantwoording deur die afgetrede Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, dat daarna geleentheid gegee word vir indiening van voorstelle sonder bespreking, waarop die besluite van die vergadering volg.

Professor Geyser het die vergadering toegespreek vanaf 16:30 tot 17:40. Die volgende oggend het die vergadering op versoek van die Moderamen besluit om aan al die persone teen wie Geyser aantygings gemaak het in sy toespraak, geleentheid te gee om die vergadering behoorlik in te lig en dat afgesien word van die tydsbeperking. Dominee A.J.G. Oosthuizen, professor P.S. Dreyer en dominee C.L. van den Berg het daarna die vergadering toegespreek. Op Maandag 04 Mei het professor Geyser direk na die opening koerantberigte gerepudieer as sou hy die vergadering Vrydag onder 'n spervuur van tussenwerpsels toegespreek het. Daarna het hy gevra dat hy geleentheid vir repliek kry nadat die lede van die Kommissie gepraat het. Die voorsitter het daarop gewys dat die vergadering nie besig is met 'n verhoor of appèl nie, maar met die bespreking van die verslag van die Kommissie. Die vergadering het besluit om by sy reëling te bly. Geyser het daarop gesê dat hy geen sin daarin sien om in die vergadering te bly nie en het die vergadering verlaat.

Dominee P.M. Smith, meneer A.B. van N. Herbst en professor B.J. Engelbrecht het daarna die vergadering toegespreek. In die middagsitting het dominee J.G.M. Dreyer, ouderling C.H. Buitendag, dominee T.F.J. Dreyer, professor E.S. Mulder, professor A.D. Pont en dominee H.G. van die Westhuizen ook nog die woord gevoer. Die toesprake van al die deelnemers is in 'n geredigeerde weergawe opgeneem by die Notule van die Algemene Kerkvergadering as Bylae 4. Daaruit kan 'n mens probeer opmaak wat die verloop van sake was. Geyser het betoog dat hy nie kettery gepleeg het nie en dit telkens duidelik gestel het dat hy die belydenisse van die kerk onderskryf, die klag van die drie studente teen hom was die sluitsteen van 'n sistematiese proses om van hom ontslae te raak sedert die verskyning van Vertraagde Aksie en die Cottesloe-konferensie, dit is beplan deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in samewerking met sy kollegas Mulder en Pont en die drie studente-klaers. Die bepaling waarop die Algemene Kerkvergadering in 1961 besluit het oor afsetting van 'n professor op grond van dwaalleer en volharding in verset teen 'n wet, bepaling of besluit van die kerk, is daargestel om die gronde te verskaf vir die klag wat ses maande later teen hom ingebring is. Die Kommissie het besluit op drie metodes om van hom ontslae te raak: Die Universiteit sou gevra word om hom te ontslaan, die kerk sal hom vra om te bedank, en die ketterklag is in reserwe gehou as die eerste nie slaag nie. Hy het tydens sy verhoor voor die Kommissie minstens 23 keer sonder voorbehoud verklaar dat hy die belydenisse van die kerk onderskryf (hy het die bladsye van die transkrip genoem waarop dit voorkom). Tog het die Kommissie in die hofooreenkoms en in sy verslag aan hierdie vergadering verklaar dat hulle dit nie tevore geweet het nie. Sy getuies het in die hof vooroordeel by professor S.P. Engelbrecht, dominee C.L. van die Berg en professor P.S. Dreyer gesubstansieer, en as die skikking nie aangevra is nie, sou hulle ook vooroordeel by dominees Oosthuizen, T.F.J. Dreyer en J.G.M. Dreyer, en ouderling Lotz en Buitendag bewys het. Hulle sou kwade trou en sameswering tussen klaers en regters bewys het. Toe die kerk se advokaat verdaging van die hof gevra het vir 'n broederlike gesprek, wat in gewone taal beteken geleentheid om vir 'n skikking te onderhandel, het hy, Geyser, vir dominee Oosthuizen en die advokaat vir 'n halfuur ontmoet. Daar is besluit op 'n vooraf gesprek tussen Geyser en verteenwoordigers van die kerk wat hy sou aanwys. Hy het dominee P.M. Smith en ouderling Frans Ras aangewys omdat hulle soos hy in die stukke gesien het, saam met ouderling J.H.H. Janson sy onskuld verdedig het. Die gesprek het plaasgevind op die 10de Mei, twee dae na die verdaging van die hof, in die kantoor van die Administrateur. Professor B.J. Engelbrecht was ook teenwoordig. Die skikkingsakte was egter die uitsluitlike resultaat van 'n gesprek wat op Saterdag 13 Mei begin het tussen meneer Herbst en professor B.J. Engelbrecht aan die een kant en professor Van Selms en Geyser aan die ander kant. Daar was geen probleem rondom sy eise dat die Kommissie sy uitspraak en bevinding ter syde stel en sy regskoste betaal nie. Die probleem was om mooi woorde te vind. Hy het uiteindelik maar toegegee dat daar kon staan '[I]n 'n gees van uitsluitlike broederlikheid bied die Kommissie aan om alle regskoste deur homself en professor Geyser aangegaan te betaal.' Hy het ook maar laat deurgaan dat in die aanhef van 'n bona fide misverstand gepraat word, hy het die sinsnede toegelaat om tot 'n end te kom en die Kommissie kans te gee om te skik. Die Kommissie self het heel aan die einde eers weer bygekom om die skikking te beklink.

Dominee A.J.G. Oosthuizen het daarna 'n oorsig gegee van die verloop van sake en ontken dat daar 'n komplot teen Geyser was. Hy het verwys na 'n besoek van die dekaan, professor E.S. Mulder, wat aan hom drie briewe van studente oorhandig het en ook gemeld het dat daar spanning tussen die professore is. Hy het 'n week later aan die Kommissie gerapporteer dat hy die briewe gekry het en uit die briewe kon aflei dat daar besware teen professor Geyser gemaak word, maar dat die briewe vir hom nie so duidelik leesbaar was nie. Die Kommissie het daarop besluit om die studente te roep en te hoor wat hulle besware is. Daarna het die Kommissie die saak bespreek en tot die slotsom gekom dat daar net rus en orde in die kerk sal kom as professor Geyser instem om te bedank as professor. Die Kommissie het ook oorweeg om, as Geyser nie instem en bedank nie, 'n ander weg te volg, naamlik om die Universiteit kennis te gee dat die kerk die subsidie vir die professoraat staak. So 'n brief is inderdaad aan die rektor oorhandig, maar met Oosthuizen se versoek dat die rektor nie moet reageer nie totdat Oosthuizen kans gehad het om met die volgende Kommissievergadering die saak weer te laat bespreek. Voordat dit kon gebeur, het die formele klag van die studente ingekom en was die Kommissie verplig om die saak te verhoor. Geyser het nie gebruik gemaak van die reg om in hoër beroep na die Algemene Kerkvergadering te kom nie, hy het direk na die hof gegaan. Dit het wel drie pogings in die hof gekos om hom die Athanasianum woordeliks te laat bely, maar uiteindelik het hy dit gedoen. Die senior advokaat van die kerk het toe vir dominee Oosthuizen gesê daar is nou geleentheid vir 'n broederlike geprek en het so aanbeveel. Die woord skikking was nooit ter sprake nie en so 'n gedagte het nie by die Kommissie bestaan nie. Geyser se voorstelling dat die Kommissie tydens die onderhandelings nie geweet het wat aangaan nie, is verkeerd. Hyself was voortdurend op die terrein, en meeste van die tyd was die hele Kommissie daar. Toe die onderhandelinge finaliteit bereik het, het hy die Kommissie versoek om die Moderamen te bemagtig om saam met hom die beslissing te neem. Nadat die resultaat van die broederlike gesprek aanvaar is en deur Geyser onderteken is, het die Kommissie vir Geyser en sy senior advokaat gevra om by te kom en is dit afgesluit met 'n gebed deur die vise-voorsitter, dominee Nolte. Dit was toe naby middernag.

Oosthuizen het afgesluit met die uitspreek van sy geskoktheid oor Geyser se verklaring dat hy die bona fides en goeie trou van die Kommissie maar net aanvaar het om die saak agter die rug te kry. Professor P.S. Dreyer het, blykbaar volgens afspraak, hom bepaal by een punt, naamlik die belydenis wat Geyser sou uitgespreek het tydens die kerklike verhoor. Geyser het wel die 12 Artikels bely, maar hy het die 12 Artikels in die klas gebruik om die ondergeskiktheid van Christus aan te toon. Verder het hy nooit tydens die kerklike verhoor onomwonde en duidelik die belydenis van die kerk onderskryf nie, daar was altyd 'n voorbehoud, en daarom het daar onduidelikheid bestaan. Sy belydenis in die hof het 'n nuwe situasie laat ontstaan.

Dominee C.L. van den Berg het verwys na die eksegese van Filippense 2:6 wat deur Geyser aangebied is, die pre-advies van die professore en die verklaring van die senior advokaat van die kerk dat die belydenis van Geyser in die hof tot die beste van sy kennis die eerste geleentheid was waarop Geyser onomwonde en ongekwalifiseerd die Athanasianum bely het. In 14 van die 23 kere waarna Geyser verwys het, was hy besig om te antwoord op vrae. Dit was nie belydenisse nie en hy het dit nie uit sy eie uitgespreek nie.

Dominee P.M. Smith het eerstens verduidelik dat die klag ingehou het dat Geyser 'n status-subordinasie en 'n natuur-subordinasie geleer het, en dat hyself laat aanteken het dat die klag oor natuur-subordinasie nie voldoende gestaaf is om die aangeklaagde skuldig te bevind nie. Geyser het egter by herhaling in die verhoor bevestig dat hy 'n status-subordinasie geleer het. Hy het probeer verduidelik dat dit nie wese insluit nie, maar status en wese kan nie geskei word nie. Die slotsom was dat dit iets is wat in stryd is met die kerkleer en nie aan studente van die kerk geleer kan word nie. Hy was oortuig dat Geyser gedwaal het, maar in die hof het Geyser verklaar dat hy saam met die kerk en soos die kerk glo. Die woorde 'onopsetlike misverstand' het ingehou dat Geyser sy klagte teen die kerk laat vaar. Hy wou bewys dat die kerk mala fide gehandel het en arbitrer besluit het. Hy het egter aanvaar dat daar 'n misverstand was en daarby 'n onopsetlike misverstand. Daarmee het sy klagte verval. Die kerk sou dus ook kon praat van wen, maar die kerk het anders gehandel. Die kerk was tevrede om Geyser se belydenis onder eed te aanvaar en sy bevinding in hersiening te neem. Die kerk het ook Geyser se aanvaarding dat die kerk bona fide en onopsetlik gehandel het, aanvaar. Hy het Geyser se begeerte om sy status terug te kry, erken en het daarom verklaar dat hy steeds predikant van die Kerk is.

Wat betref die eerste onderhandeling het dominee Smith gesê dat hy nou vir die eerste keer verneem het dat Geyser aangewys het met wie hy wil praat, en dat professor B.J. Engelbrecht nie by was nie. Oor die koste was sy standpunt dat hulle nie moet toelaat dat koste die struikelblok sal wees om 'n finale ooreenkoms te bereik nie. Die Saterdagmiddag is die gesprek oor die koste voortgesit in die kantoor van die Administrateur. Behalwe die regsverteenwoordigers van die kerk was teenwoordig hyself, professor B. Engelbrecht, dominee C.L. van die Berg en sporadies die Administrateur. Hulle het op advies van die kerk se senior advokaat 'n gesprek gehad met Geyser se senior advokaat, meneer Kotze, wat hulle meegedeel het dat die Geyserfonds 'n trustfonds is wat alleen bedoel is om die saak enduit te veg. Verder was daar waarborge wat ook net beskikbaar was as Geyser verloor en hy verplig word om te betaal. Daar was dus geen fondse beskikbaar as die saak halfpad ophou nie. Daarna is hy, dominee Smith, huis toe en het hy eers weer bygekom toe die Kommissie as geheel die ooreenkoms goedgekeur het.

Dominee Smith het ook verwys na gebeure ná die versoening. Regter Ludorf het na uitreiking van die ooreenkoms as bevel van die hof gesê:

dat daar grootmoedigheid skuil agter hierdie besluit en hoewel 'n mens soms bedenkinge het oor 'n besluit, is daar nooit berou as die besluit in grootmoedigheid gedoen word nie. Ek vertrou dat die pers die verklaring duidelik sal stel, of glad nie, maar nie skeef nie, omdat die saak 'n stadium bereik het waar dit slegs deels verhoor was. Daar is die eergevoel van manne op die spel en die ander kant was nog nie aangehoor nie. Afleidings kan gevolglik gedoen wees, maar die verklaring soos ek dit geneem het, behoort deur alle regdenkende persone aanvaar te word en ek hoop dat enige beroering, moontlike skeuring of tweedrag wat daar in hierdie kerk mag gedreig het, nou finaal geëindig is.

Dominee Smith het ook aanhalings gemaak uit koerantberigte direk na die hofsaak en aangetoon hoedat Geyser hom geleidelik vereenselwig het met wat die pers sê. Hy het op 15 Mei volgens Die Burger gesê '[S]over dit die kerk betref, is dit 'n saak van vorentoe kyk,' volgens die Rand Daily Mail op 18 Mei '[T]he settlement announced in the open court before Justice Ludorf was reached with my approval.' Op 09 Junie berig die Sunday Times egter:

He felt rather that it was time for a reformation within the Hervormde Kerk, only the full exposition of the relevant facts could bring this about. Professor Geyser is quoted as saying he had intended to do this in court, but the church capitulated.

Daarteenoor staan 'n gesamentlike verklaring van professor Van Selms en meneer A.B. van N. Herbst:

Ons betreur alle uitlatings van watter kant ook wat die goeie trou van een van die voormalige partye en die opregtheid van die resultaat van die broederlike gesprek wat as dokument in die ope hof voorgelees is, in twyfel trek of verdag maak en ons keur dit af dat in hierdie verband van wen of verloor gepraat word.

Meneer A.B. van N. Herbst, die Administrateur van die kerk, het 'n volledige oorsig gegee oor die ontstaan van die versoeningsdokument. Hy het op Maandag 13 Mei die Kommissie meegedeel dat hy 'n bepaalde siening het en toestemming gevra om met Geyser te onderhandel. Hy het die toestemming gekry en het die hulp van professor Van Selms as vriend van Geyser ingeroep. Nadat hulle saamgestem het dat die verskil tussen wat in die kerk bely word en wat in die klaskamer geleer word, tot onrus kan lei, het Van Selms 'n eerste konsep neergeskryf van 'n moontlike ooreenkoms. As reëls vir die gesprek het hulle vasgestel dat daar nie sprake sal wees van wen of verloor nie, geen eise gestel en aan geen eise toegegee sal word nie, en dat die gesprek op twee vlakke gevoer sal word, eers oor die teologiese verskille en daarna oor die koste. Hulle het met Geyser in verbinding gekom en afgespreek dat hulle Dinsdag 14 Mei sou ontmoet by die hof (die Ou Sinanoge in Paul Krugerstraat). Geyser was vriendelik en het ingestem dat voortgegaan word. Daarna het die voorsitter van die Kommissie en die senior advokate van albei partye bygekom en die plan van bespreking is aan hulle voorgelê. Hulle het ingestem, en die voorsitter het eers die Kommissie gaan raadpleeg. Hy het teruggekom met die toestemming dat die onderhandeling kan voortgaan. Die advokate het toe die kamer verlaat en Herbst het vir die Kommissie gaan vra om professor B.J. Engelbrecht te vra om by te sit en te kontroleer dat wat Herbst sê in ooreenstemming is met die gangbare begrip in die kerk. Hulle het toe begin met die opstel van die dokument in die allerbeste gees. Nadat die teologiese aspek afgehandel is, het die koste ter sprake gekom. Geyser het verklaar dat die trustfonds sowel as die waarborge wat gegee is, net bedoel was om die saak enduit te voer en nie beskikbaar was in die geval van versoening nie. Daar was heftige verskil oor die bewoording van die aanbod van die kerk maar uiteindelik het Geyser dit aanvaar soos dit in die dokument voorkom.

Professor B.J. Engelbrecht het verduidelik waarom dit noodsaaklik was dat daar drie ekumeniese simbole ontstaan het. Geyser het telkens wanneer hy bely het, ook nog iets daarby gesê:

Die Kommissie het gesien dat hy sê hy bely, maar die Kommissie het in hulle hart gevoel ja, kyk, as hy bely met dié woorde en hy gaan naderhand daardie woorde so uitlê dat dit wat hy eintlik bely deur sy uitleg weerspreek word, dan kan ons nie anders as hom skuldig te vind aan daardie klag wat voor ons is dat hy 'n verkeerde leer voordra nie. Die Kommissie het ná die kerklike verhoor en toe hy sy uitspraak gegee het, nie vir een oomblik getwyfel dat professor Geyser skuldig is aan dwaalleer nie. Die onduidelikheid waarvan hierdie resultaat van die broederlike gesprek melding maak, het nie geheers tydens die kerklike verhoor nie. Dáár was die dinge vir die Kommissie duidelik en daarom het hulle hom dan ook skuldig gevind. Maar, broeders, nou het in die hof 'n nuwe omstandigheid ontstaan... Wat ek duidelik aan die vergadering wil stel, is dat wat genoem word die drie en twintig plekke van belydenis gedurende die kerklike verhoor nooit belydenisse was nie. Al wat daar gebeur het, is dat professor Geyser drie en twintig keer woorde gesê het en die woorde uitgelê het soos hy dit graag wou uitlê. By die hof staan professor Geyser onder eed en daar in die hof sê hy nou voor God, voor die wêreld, nie daardie dinge wat hy gesê het in die verhoor nie, maar sê hy: 'Ek glo saam met die kerk, soos die kerk dit glo, dat Jesus Christus nie ondergeskik is aan die Vader nie.' Dis toe die eerste keer dat daar werklik 'n belydenis na vore kom toe sê die kerk: Wanneer die man nou so praat, praat hy anders as wat hy die drie en twintig keer gepraat het. En nou moet ons hierdie man wat so bely, werklik nie hier in die hof laat voortgaan dat hy en ons voor die wêreld tot 'n bespotting gemaak word nie.

Die onduidelikheid het dus by terugskouing geblyk. Nadat dominees J.G.M. Dreyer, T.F.J. Dreyer, ouderling C.H. Buitendag, professore E.S. Mulder, A.D. Pont en dominee H.G. van die Westhuizen ook nog die woord gevoer het, en dominee P.M. Smith 'n brief van professor S.P. Engelbrecht voorgelees het, het die vergadering bevestigend geantwoord op 'n vraag van die Kommissie of iemand wat dwaalleringe huldig, nie noodsaaklikerwyse onder tug geplaas moet word nie, en die volgende besluite geneem:

(a) neem met dank en waardering kennis van die hantering van die Geyser-saak en die broederlike ooreenkoms wat getref is,
(b) neem met diepe teleurstelling kennis van professor Geyser se gesindheid nadat die kerk hom so broederlik in die versoening tegemoetgekom het.

Die vergadering het onder andere ook sy dank betuig aan professor A. van Selms en meneer A.B. van N. Herbst vir hulle bemiddeling. [Dit is inderdaad opmerklik dat dit die Administrateur van die kerk was wat die inisiatief geneem het en met die samewerking van professor Van Selms 'n uitweg uit die dooiepunt kon bewerk.]

Die koste van die tugverhoor en die regsaak het nog geruime tyd op die agenda van die Raad van Finansies verskyn, tot op 12 November 1965 het R45 210 ingekom van gemeentes en was daar nog R23 095 verskuldig. Op 30 April 1966 was daar nog R19 548 veskuldig, en op 31 Desember 1966 het die verskuldigde bedrag gestaan op R7 501. Die Algemene Kerkvergadering van 1967 het die Raad van Finansies opgedra om voort te gaan met die insameling, en die gemeentes wat nie hulle verpligtinge nagekom het nie, is ernstig vermaan.

05 Augustus 1964

Die Kuratorium vergader. Doktor L.M. le Roux is as voorsitter en dominee P.J.T. Koekemoer as vise-voorsitter verkies. Beurslenings is toegeken en kennis is geneem dat professor B.J. Engelbrecht gedurende 1965 op langverlof sal wees en dat sy lesings in Dogmatiek en Ensiklopedie deur doktor J.I. de Wet en in Christelike Etiek deur doktor P.J.T. Koekemoer waargeneem sal word.

08 September 1964

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van 'n berig in die Rand Daily Mail dat professor A.S. Geyser, nou hoof van die Department of Divinity aan die Universiteit van die Witwatersrand, verkies is as hoof van die Christelike Instituut van Suidelike Afrika.

13 November 1964

Doktor H. Muller word verkies as kanselier van die Universiteit van Pretoria.

24–25 November 1964

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van die ernstige operasie wat professor E.S. Mulder ondergaan het. Die vergadering het emeritaat verleen aan dominee A.J.G. Oosthuizen met ingang 01 Desember 1964. Uit die dankbetuigings by die geleentheid die volgende aanhalings:

A.J. Nolte: 'Hy het met liefde in die kerk geleef, hy het die denke en gees van die kerk vertolk.'
Op 'n buitengewone vergadering van die Kommissie word kennis geneem van 'n berig in die Nederlandse Postdie kerk was dat Hy in die persoon van dominee Oosthuizen en mev ons mense gegee het wat in kerk en volk kon lei en dien.'
B.J. Engelbrecht: 'Waardering wil betuig vir die teologiese rigting wat onder leiding van dominee Oosthuizen die rigting van die kerk geword het. Van verskillende kante is dominee Oosthuizen al as model-teolooog gesien wat in die teologie 'n rigting aangedui het wat beslissend is vir die toekoms van Suid-Afrika.'
wat vermeld dat Vol. 66 No. 3 Page 12 of 2184beslissing gemaak tussen twee rigtings wat nie alleen van belang was vir die teologie in die kerk self nie, maar vir land, volk en die hele wêreld. Die dinamiese aandeel van dominee Oosthuizen in hierdie beslissing vorm een van sy grootste bydraes tot die gang van die kerk wat hy lief gehad en gedien het.'

25 November 1964

'n Afskeidsete is vir dominee en mevrou Oosthuizen aangebied in die Constantiaklub. Die Eerste Minister, doktor H.F. Verwoerd, en dominee A.J. Nolte het die woord gevoer. Teenwoordig as eregaste naas doktor en mevrou Verwoerd was ook die Administrateur van Transvaal, meneer F.H. Odendaal en mevrou Odendaal, die voorsitter van die Afrikaner Broederbond en van die SAUK Raad, doktor P.J. Meyer en mevrou Meyer, die rektor van die Universiteit van Pretoria, professor C.H. Rautenbach en mevrou Rautenbach, die burgemeester van Pretoria, doktor P.J. van der Walt en mevrou van der Walt, en verteenwoordigers van die Nederduitse Gereformeerde en Gereformeerde Kerke met hulle gades. Volgens Die Transvaler van 26 November 1964 het doktor Verwoerd gesê dominee Oosthuizen is 'n waardevolle kerkleier wat baie vir die volkslewe beteken. Volgens Die Vaderland van dieselfde datum het dominee Oosthuizen in sy dankwoord onder andere gesê:

Daar was 'n stadium toe die volk sy vyande op 'n afstand kon uitken, maar vandag bestaan die gevaar dat die vyand feitlik onherkenbaar in die midde is, want ook hy kom met 'n Voortrekkerbaard en in Voortrekkerdrag.

In Die Hervormer van Desember 1964 beskryf dominee J.G.M. Dreyer vir dominee Oosthuizen as,

leier van groot formaat, 'n man van onkreukbare trou met 'n duidelike visie, 'n vaste koers wat hy deur dik en dun gevolg het. Soos 'n Moses het hy die Onsienlike gesien en het hy verkies om liewer saam met sy kerk en volk sleg behandel te word as om 'n tyd lank die genot van die lofuitings van die wêreldpers te hê.

 

1965

Professor S.P. Engelbrecht publiseer die Album vir die Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.

09 Februarie 1965

Die Kuratorium neem kennis van die swak resultate van eerstejaar studente veral in die taalvakke. 'n Komitee is aangewys om daaroor te rapporteer en 'n aantal studente is opgeroep om voor die Kuratorium te verskyn, terwyl sewe studente nie meer as studente van die kerk erken is nie. Hierdie vergadering het ook kennis geneem dat dominee S.P. Viljoen lid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering geword het en dat sy lidmaatskap van die Kuratorium verval soos die Kerkwet bepaal.

09–10 Maart 1965

Toe die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering vergader, het die vise-voorsitter, dominee A.J. Nolte, die voorsitterstoel ingeneem ná die emeritaat van dominee Oosthuizen. Dominee S.P. Viljoen het as sekundus van dominee Oosthuizen sitting geneem as lid van die Kommissie. Die vergadering het die Raad van Regsadvies om advies gevra oor die vulling van die vakature vir vise-voorsitter. Die Raad het op grond van presedente bevind dat die sekundus van die voorsitter moet optree as vise-voorsitter tot die volgende Algemene Kerkvergadering . Die Kommissie het toe aanvaar dat dominee S.P. Viljoen as vise-voorsitter sal dien.

20 Mei 1965

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering moes byeenkom in 'n buitengewone vergadering om aandag te gee aan 'n skrywe van die prokureurs van professor A.S. Geyser en dominee C.F.B. Naude wat soos volg gelui het:

Volgens ons opdrag word sedert Januarie uiters lasterlike aanvalle op 'mede-teoloë' gedoen wat deur enige leser van die blad met selfs 'n geringe kennis van kerksake en die openbare lewe oor die afgelope paar jare, duidelik en ondubbelsinnig herken word as ons kliënte. Die talle herhaalde aantygings van kommunisme, verraad van God en hulle kerke, verraaiers van hulle land en volk, heulery met die beplanners van gewapende geweld ens... is kras en het hulle diep getref. Ons het dan ook inderdaad opdrag om iedereen van u namens iedereen van ons kliënte aan te spreek vir betaling van R20 000. Ons kliënte sal van hierdie voorneme afsien slegs indien daar prominent in Die Hervormer op dieselfde blad waar die rubriek Kroniek verskyn, 'n goedgekeurde apologie aan hulle gepubliseer word waarin onvoorwaardelik elke bewering en insinuasie van voormelde aard en wat behoorlik gespesifiseer word, teruggetrek word en verskoning aangebied word vir enige leed wat hulle aangedoen is.

Die Kommissie het, nadat ouderling J.C. Oelofse sy voorlopige indrukke weergegee het, besluit dat die apologie nie aangeteken kan word nie, professor A.D. Pont vir die doeleindes van hierdie eis en enige saak wat daaruit voortvloei, beskou word as 'n funksionaris van die kerk, en die firma Peens, Smit en Oelofse aangestel as prokureurs van die kerk. Omdat die N.H.S.V. Kongres aan die gang was en daar 'n aantal predikante byderhand was, is hulle ingeroep en op hoogte gestel van die situasie.

Aan Geyser is op 24 Mei 1965 die teleurstelling van die Kommissie oorgedra dat hy nie die weg gevolg het wat voorgeskryf word in die Kerkwet en Matteus 18:15vv en 1 Korinteers 6:1vv nie. Sy reaksie was soos volg:

Ek is bewus van Mt 18:15vv. By twee geleenthede waarop ek in die verlede voor die Algemene Kommissie as aangeklaagde gestaan het, het ek dit self opgehaal, maar die Kommissie het dit nie laat geld nie. Nogtans het ek in die huidige geval uit my weg gegaan om dit onder die aandag van professor A.D. Pont te bring dat hy, deur lasterlike onwaarhede te skryf, sondig. Sy artikels in Die Hervormer het net skerper en lasterliker geword. Verder, my versoek aan u om 'n apologie vir die lasterlike onwaarhede wat u deur Die Hervormer oor my en dominee Naude versprei het, skyn my steeds in ooreenstemming met die opdrag van Mt 18:15vv te wees.

03 Junie 1965

Op 'n buitengewone vergadering van die Kommissie word kennis geneem van 'n berig in die Nederlandse Post wat vermeld dat professor A.S. Geyser as feesredenaar sal optree by die herdenking van die stigting van die Presbiteriaanse gemeente wat onder leiding van C. Jongeleen van die Nederduitsch Hervormde Gemeente Kaapstad weggeskeur het. Die Kommissie het besluit om by Geyser bevestiging vir die berig te kry omdat hy steeds predikant van die kerk is en dus nie behoort op te tree in 'n gemeente wat van die kerk weggeskeur het nie. Hy het die navraag beantwoord deur te vra wat die oogmerk van die Kommissie met die navraag is. Die Nederlandse Post het in Junie 1965 'n berig gehad dat hy wel opgetree as feesredenaar by die geleentheid.

09 Augustus 1965

Die Kuratorium neem kennis dat dominee A.J.G. Oosthuizen in die plek van dominee S.P. Viljoen benoem is as lid van die Kuratorium, nadat hy emeritaat aanvaar en as voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering uitgetree het. Hierdie vergadering het ook die besluit van die Algemene Kerkvergadering dat Argiefkunde vir die sesdejaar teologiese studente gedoseer moet word, behandel en 'n rapport daaroor van die Professorevergadering behandel, en by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aanbeveel dat hierdie opleiding deur die professor in Kerkgeskiedenis hanteer sal word. Na aanleiding van 'n skrywe van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor die predikantetekort het die Kuratorium 'n komitee benoem om die aangeleentheid met die Kommissie te bespreek en ook ernstig aanbeveel dat Grieks III of Hebreeus III as verpligte hoofvak ingestel word.

07–08 September 1965

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van 'n onderhoud wat professor Geyser en dominee Naude gehad het met dominee J.G.M. Dreyer. Hulle het hom probeer beweeg om 'n verklaring in Die Hervormer te publiseer waarvan die bewoording aan hulle eise voldoen. In die onderhoud het hulle verwys na die skrywe van Pont in die Kroniek, blykbaar dié van Januarie 1965, in verband met die sogenaamde Kitwe-vergadering van die Wereldraad van Kerke, en uitgewys dat naas hulle twee net drie ander persone uit die Afrikaanse kerke daar teenwoordig was, en dit gevolglik maklik sal wees om aan te toon dat die uitlatings van Pont na hulle verwys. Die Moderamen het na aanleiding van dominee Dreyer se verslag 'n skrywe aan Geyser en Naude gerig waarin onder andere die volgende voorkom:

dat u albei uself op die betrokke vergadering gedistansieer het van besluite wat met geweld ens teen Suid-Afrika te doen het. In die lig van die mededelings van dominee Dreyer is die Moderamen bereid om aan te beveel om u die geleentheid te bied om die bogenoemde feite in Die Hervormer onder die aandag van lesers te bring. By ontvangs van die verklaring is die Moderamen bereid om verder aan te beveel dat 'n verklaring van ons kant gelyktydig gepubliseer word ten einde op 'n broederlike vlak die aangeleentheid af te handel.

Die Kommissie het hierdie skrywe van die Moderamen goedgekeur. Geyser en Naude het daarop soos volg geantwoord op 07 September 1965:

Ons het nie met u onderhandel nie en begryp nie waarom u nou aan ons skryf nie. Blykbaar verkeer u onder misverstand oor die sin van ons gesprek met dominee Joh Dreyer. Ons het daarmee 'n laaste poging aangewend om 'n proses teen hom as redakteur van Die Hervormer te vermy oor die lasterlike artikels van professor A.D. Pont in daardie blad. Ons eis dat die redakteur van Die Hervormer in hierdie blad apologie sal aanteken vir al die laster van professor Pont teen ons daarin gepubliseer, en dit wel in 'n bewoording wat vir ons aanneemlik is.

[Die Kitwe-vergadering was die Mindolo Consultation on Christian Practice and Desirable Action in Social Change and Race Relations in Souhern Africa, 25 Mei–2 Junie 1964, saamgeroep deur die Department on Church and Society van die Wereldraad van Kerke in samewerking met die Mindolo Ecumenical Foundation en die South African Institute of Race Relations. Daar was 60 deelnemers wat as individue deelgeneem het. Hulle name verskyn nie in die gepubliseerde stukke nie.]

18 November 1965

Dominee A.J. Nolte neem sitting op die Raad van die Universiteit as verteenwoordiger van die Kerk van 10 Oktober 1965 tot 09 Oktober 1968

29 November 1965

Die advokate J. Trengove en A.S. Botha deel die Kommissie mee dat hulle van mening is dat meeste van die dinge wat Pont in die Kroniek geskryf het, waar en in openbare belang is, maar

[T]en opsigte van drie artikels, dié van Januarie, Maart en April 1965, bestaan daar egter nou die oortuiging by die regsverteenwoordigers sowel as by professor Pont dat bepaalde stellings op foutiewe inligting berus en dus nie as waar bewys kan word nie. Daar is vir die kerk twee [lees drie] weë oop, naamlik (1) Om die saak in geheel te bestry, wat nie aanbeveel word nie, (2) om die fout wat gemaak is, te erken en 'n bedrag as skadevergoeding aan te bied, en die balans van die saak te bestry, (3) Om 'n skikking te verkry en apologie aan te teken.

Die Kommissie het besluit om die tweede weg te volg.

Die besonderhede oor die wyse waarop dit gedoen word en die grootte van die aanbieding word gelaat in die hande van die regsverteenwoordigers en die gevolmagtigdes van die kerk, en die voorsitter, skriba en administrateur.

 

1966

07 Februarie 1966

Die Kuratorium neem kennis dat doktor J.L. van Staden bedank het as lid omdat hy weens sy werk nie in staat is om vergaderings by te woon nie. Die Kuratorium het besluit om die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering te versoek om nou oor te gaan tot die vulling van die leerstoel Praktiese Teologie.

08 Maart 1966

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van die pleitstukke wat in hulle 'finale' vorm anders was as waarop besluit was. Daar is ook kennis geneem van twee studiestukke wat deur J.P. Oberholzer vir die regsverteenwoordigers opgestel is, naamlik Die Wereldraad van Kerke en die Kommunisme en Die Wêreldraad van Kerke en Suid-Afrika.

Pont het met die Kroniek begin in die Januarie 1964 uitgawe van Die Hervormer. In die inleidende paragraaf het hy geskryf:

In hierdie Kroniek, wat vervolgens gereeld aangebied sal word, sal daar getrag word om nie alleen teologiese insigte en rigtings wat aktueel is, te vermeld nie, maar sal daar ook, vir sover nodig, kommentaar daarop gelewer word. Dat die redaksie van Die Hervormer vir die menings wat hier uitgespreek word, geen verantwoordelikheid dra nie, spreek natuurlik vanself. [Hierdie vrywaring van die redaksie was, soos later gesien sal word, juridies nie genoeg nie.]

Reeds in die tweede aflewering van die Kroniek, Februarie 1964, verskyn die term 'mede-teoloë' in verbinding met uitdrukkings soos links georiënteerde, integrasie-teologie, verwerping, vervlakking en verwatering van die Bybels-reformatoriese teologie, interressante stukkie swendelary, ens. Hoogs belangrik vir 'n beeld van die teologie van Pont self is wat hy beskryf as 'n verdere binding wat die Afrikanervolk het, naas sy geloof in God soos geopenbaar in die Heilige Skrif en in die Belydenisskrifte van die Kerk, Hierdie verdere binding is dan 'ons volksgeloftes' – dié van 1838 en van 1880.

Die eerste is die beroemde gelofte van 1838 waar dit gegaan het om die behoud van die Christelike geloof en die Christelike beskawing hier in die binnelande van Afrika. En Bloedrivier was die antwoord. Die tweede is die beroemde gelofte van 1880 te Paardekraal waar dit gegaan het om die behoud van die Afrikanervolk as 'n eie, selfstandige volk hier in Afrika. En Amajuba was die antwoord. En alleen as ons daardie twee geloftes, wat ná die Heilige Skrif en die Belydenisskrifte van die Kerk die geestelike fondament van ons volksbestaan en voortbestaan hier in Afrika is, 'ten volle' in ons teologiese denke verdiskonteer, sal ons vir ons volk en ons tyd verantwoordelike teoloë kan wees. Laat my toe om dit te stel: elke mede-teoloog wat ook lid van die Afrikanervolk is, en dit betuig die Afrikaanssprekende mede-teoloë graag, is ook deur hierdie gelofte gebind, 'onherroeplik verbind' 'om het erfpand der vaderen ongeschonden aan onze kinderen over te leveren.'
En as die mede-teoloë hierop nie antwoord nie, laat dit dan staan as 'n aanklag teen hulle dat hulle gelofteverbrekers is.'

[K. Papp senior sou later aantoon dat daar nooit 'n Paardekraal-gelofte was nie. maar dat die betrokke 'gelofte' 'n onderlinge ooreenkoms was wat deur Transvaalse burgers aangegaan is by Wonderfontein in 1879, twee jaar voor die Paardekraalbyeenkoms. Die Paardekraal Feeskommissie het die bewoording van 1946 af in hulle program opgeneem. Hervormde Teologiese Studies 51/1 Maart 1995.]

Dit was veral die aflewerings van die Kroniek wat oor die sogenaamde Mindolo-byeenkoms gehandel het, wat gelei het tot die eise van Geyser en Naude. In die Januarie 1965-aflewering verskyn onder andere die volgende:

[...] het die Wereldraad en die mede-teoloë geswig en toe maar lustig saamgehelp en planne beraam hoe SA met militêre geweld vir die swartman verower kan word. Die mede-teoloë sal liewers landverraad pleeg, hulle sal liewer saam met die Wêreldraad en die barbarisme van Afrika oorlogsplanne téén hulle eie land smee. Daarom is dit noodsaaklik dat ons hierdie mede-teoloë, hierdie tipe van mens sal herken en weerstaan; dat ons hulle sal aansê dat hulle hulleself aan die Duiwel self verkoop het en dat hulle alhoewel hulle nog 'n mate van aansien by die liberaliste en kommuniste het, hulle in werklikheid verraaiers is: verraaiers van God en hulle Kerke, verraaiers van hulle land en hulle volk.

10 Augustus 1966

Die Kuratorium verwelkom vir doktor S.J.L. Gouws as nuwe lid nadat hy deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering benoem is in die plek van doktor J.L. van Staden. Die Kuratorium het 'n eerste rapport behandel van die Vergadering van Professore oor aksentverskuiwing in die opleiding waarvolgens in die eerste jaar meer aandag aan die Bybelse vakke gegee sou word en die klem met die loop van die studie sou verskuif sodat in die derde BD jaar die klem meer op die sistematiese vakke en Praktiese Teologie sou val. Dit sou dan ook lei tot die beëindiging van die praktyk van sikliese lesings, 'n praktyk wat van vroeg af gevolg is en wat beteken het dat studente in die eerste, tweede en derde studiejaar saam lesings gevolg het en 'n vak oor 'n tydperk van drie jaar afgehandel is.

06 September 1966

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis van die inhoud van 'n memorandum van die advokate J.J. Trengove en A.S. Botha. Daarin stel hulle onder andere die volgende oor die aflewerings van die Kroniek in Januarie, Maart en April 1965 wat al drie verwys na die Mindolo-byeenkoms.

1. Die eisers sal wel kan bewys, aan die hand van die uitlatings in die artikels self en van die omringende omstandighede, dat professor Pont se opmerkings na hulle verwys.

2. Die artikels bevat lasterlike opmerkings aangaande die eisers, van 'n ernstige aard en omvang.

3. Op die beskikbare inligting sal dit nie moontlik wees om die lasterlike opmerkings te regverdig deur te bewys dat dit waar en juis was nie, en geen bykomende inligting kan op hierdie stadium redelikerwys verwag word nie.

4. Daar bestaan 'n wesentlike gevaar dat die Hof sal bevind dat professor Pont ten opsigte van sekere bewerings in dié artikels op 'n onversigtige, ongeoorloofde en miskien selfs onverantwoordelike manier, die eer van die Eisers aangetas het.

5. Daar bestaan 'n wesentlike gevaar dat die Hof uit die voorgaande die gevolgtrekking sal maak dat dit wel professor Pont se oogmerk was om die eisers (of een van hulle) te belaster.

6. Daar bestaan derhalwe 'n wesentlike gevaar – wat vir ons so werklik is dat ons dit ongelukkig as 'n waarskynlikheid moet beskryf – dat die Hof uiteindelik aan die Eisers (of een van hulle) 'n substansiële bedrag van skadevergoeding en die koste van die saak sal toeken.

Die advokate het verskillende moontlikhede van verdere optrede genoem, en die Kommissie het besluit dat dit oorweeg en opgevolg moet word, en het verkies dat 'n verhoor liewer vermy moet word indien moontlik.

Die Kommissie het kennis geneem van 'n skrywe van die argivaris, doktor H.M. Rex, waarin hy meld dat professor Greyvenstein op 17 Maart 1967 90 jaar oud sal wees en aanbeveel dat op gepaste wyse hulde gebring word aan hom deur 'n huldigingsuitgawe van die Hervormde Teologiese Studies en 'n besondere geleentheid op die eersvolgende Algemene Kerkvergadering. Die Kommissie het besluit om die Redaksie van Hervormde Teologiese Studies te versoek om 'n uitgawe aan professor Greyvenstein op te dra, en om op die Algemene Kerkvergadering geleentheid te skep vir 'n huldigingswoord aan alle emeriti.

13 September 1966

Die Moderamen, in die bysyn van die Pretoriase lede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, neem kennis van die mening van professor Pont,

dat hy van oortuiging is dat die hofsaak enduit gevoer moet word omdat daar beginsels op die spel is waarvan hy nie met 'n goeie gewete kan afsien nie. Hy het die indruk dat die advokate die situasie nie reg begryp nie en die saak op 'n ander wyse voer as wat hy dit sou wou sien. Daarom verkies hy dat die opdrag aan die advokate beëindig sal word en dat sy hande losgemaak word om regsverteenwoordigers te kies wat die ideologiese stryd sal voer op 'n wyse wat met sy opvattinge ooreenstem. Hy druk sy diepe spyt uit dat hy die kerk nou in 'n moeilike posisie moet plaas.

Die Moderamen en ander teenwoordige lede van die Kommissie het daarop besluit:

1. Die vergadering neem kennis van professor Pont se mededeling en versoek die prokureurs van die Kerk om dienooreenkomstig kennis te neem.

2. Die vergadering versoek sy aangewese regsverteenwoordigers om in te gaan op die posisie van dominee J.G.M. Dreyer in die lig van die veranderde situasie en advies uit te bring.

3. Die vergadering gee aan professor Pont die versekering dat hy in die lig van 'n vorige besluit om professor Pont as funksionaris van die kerk te beskou vir die doeleindes van die hofsaak, dit eventueel aan die Kerk ter oorweging sal gee om professor Pont in die koste van die saak tegemoet te kom. Die Raad van Finansies word versoek om die koste van die saak tot op datum te dra.

4. Met die oog op die tussentydse koste aan die voorbereiding en voer van professor Pont se saak word by die Raad van Finansies aanbeveel dat professor Pont deur middel van 'n lening tegemoet gekom word. [Hiervan het die Raad van Finansies op 20 September kennis geneem.]

22 September 1966

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verneem op 'n buitengewone byeenkoms van advokaat Trengove dat die eisers gewillig is om die eis teen dominee J.G.M. Dreyer as redakteur van Die Hervormer terug te trek sonder dat 'n eis om koste ingestel word, op voorwaarde dat dominee Dreyer 'n verklaring publiseer in Die Hervormer, Die Vaderland en Dagbreek en Sondagnuus. Die konsepverklaring is deur die Kommissie goedgekeur.

Uit die verkaring is die volgende aanhaling van belang:

Ek, as redakteur van Die Hervormer maak nou bekend dat, na sorgvuldige oorweging van al die materiaal tot my beskikking ek my onvoorwaardelik distansieer van iedere lasterlike bewering soos hierbo vermeld, wat ingelees kan word in al die artikels, vir sover sodanige lasterlike bewerings moontlik kan slaan op die here Geyser en Naude. Ek besef dat die here Geyser en Naude diep getref is deur hierdie en dergelike aantygings en spreek my innige en opregte spyt uit teenoor hulle daarvoor.

Daarmee was die kerk amptelik nie meer betrokke by die eis teen Pont nie, en die regsverteenwoordigers van die kerk is bedank vir hulle dienste. Die koste van die regsverteenwoordigers word in die state van die Raad van Finansies vir 1966 aangegee as R13 232.44.

 

1967

15 Februarie 1967

Die saak teen Pont neem 'n aanvang in die hooggeregshof in Johannesburg voor regter W.G. Trollip. Senior advokaat G.A. Coetzee het in opdrag van die prokureurs Bowmann, Gilfillan en Blacklock vir die eisers opgetree. Hy is bygestaan deur advokaat J.C. Kriegler. Vir Pont het opgetree advokaat C.P. Beyers, bygestaan deur advokaat J.D.M. Swart, in opdrag van die firma Couzyn, Hertzog en Horak. Getuies vir Geyser en Naude was meneer F.J. van Wyk, doktor C.J. Labuschagne, meneer G.F.J. van Rensburg, dominee M.J. Redelinghuys en meneer J.D. Mynhardt. Pont self het met sy getuienis begin op 01 Maart, en dit het voortgeduur tot 09 Maart. Sy kruisverhoor deur die senior advokaat vir die eisers het op 10 Maart begin en het voortgeduur tot 31 Maart. Hy was 23 dae in die getuiebank. Die advokaat vir die eisers het op 10 April begin met beredenering van die saak en het daarmee voortgegaan tot 14 April. Die advokate vir Pont het daarna repliek gelewer. In sy betoog het advokaat Beyers volgens die Pretoria News van 21 April 1967 gesê dat Pont se artikels oor die Mindoloberaad 'n ernstige vorm van laster bevat, maar hy wil beklemtoon dat Pont sterk gevoel het oor sy kerk en sy volk. Die saak is afgesluit op 21 April, op die 39ste dag nadat dit begin het.

22 Februarie 1967

Op 'n ete in die Constantiaklub is hulde gebring aan professor H.P. Wolmarans nadat hy in Desember 1966 uitgetree het as dosent aan die Stoffberg Teologiese Skool en is daar ook waardering betuig aan ander emeriti. Die werk van professor en mevrou J.H.J.A. Greyvenstein, professor en mevrou S.P. Engelbrecht, professor en mevrou H.P. Wolmarans, dominee en mevrou S.J. Strydom, dominee en mevrou D.F. Erasmus, dominee en mevrou P.J.J. Venter en dominee en mevrou T.F.J. Dreyer is in dankbare herinnering geroep.

25 April 04 Mei 1967

Die 55ste Algemene Kerkvergadering vind plaas. Dominee A.J. Nolte is verkies as voorsitter, dominee P.M. Smith as skriba, dominee S.P. Viljoen as vise-voorsitter en J.P. Oberholzer as vise-skriba. As predikantlede is dominee J.G.M. Dreyer en doktor P.W. Venter verkies.

Die vergadering het kennis geneem dat die lidmatetal oor die tien jaar 1956–1966 toegeneem het met meer as 20 000 en dat die predikantetal oor dieselfde tydperk toegeneem het van 108 tot 135. Dit het meegebring dat die gemiddelde getal belydende lidmate per predikant op 735 te staan gekom het. Die vergadering het 'n dringende beroep op jongmanne gedoen om arbeiders in die wingerd van die Here te word, en het hulle verseker dat gebrek aan finansiële middele geen belemmering vir hulle studie hoef te vorm nie.

Kennis is geneem dat C.J. Labuschagne, J.P. Oberholzer en W.C. van Wyk doktorsgrade in Ou Testamentiese Wetenskap behaal het, D.J. Booysen in Praktiese Teologie en S.J. Prins in Pastorale Sielkunde. Die Universiteit van Pretoria het 'n ere-doktorsgraad in Teologie aan dominee A.J.G. Oosthuizen toegeken. Die versoek van die Kuratorium dat Grieks III of Hebreeus III 'n verpligte vak sal wees, is toegestaan, en toestemming is verleen dat 'n sesde leerstoel ingestel word vir Praktiese Teologie.

Tydens die middagsitting op 01 Mei het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 'n Erepenning vir Kultuurhistoriese prestasie aan professor S.P. Engelbrecht oorhandig. Die voorsitter van die Akademie, professor P.J. Nienaber, het in sy inleidende toespraak onder andere die volgende gesê:

Ons is bly dat op hierdie wyse die bande tussen die Akademie en die Hervormde Kerk ook weer versterk kan word. By nadenke is daar nogal goeie rede waarom die Akademie en die Kerk mekaar behoort te verstaan. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika is uitgesproke volkskerk – kerk van die Heer Jesus Christus vir die volk, die Afrikanervolk! Die SA Akademie is eweneens gebore uit die volk vir die volk.
Ons is dankbaar dat die Hervormde Kerk hom dwarsdeur die geskiedenis openlik en ondubbelsinnig vereenselwig het met die doel en strewe van die Afrikanervolk, maar tog as behoudende faktor die lig van die Evangelie steeds aan die volk voorgehou het as die hoogste goed, as die enigste norm vir leer en lewe. Die Akademie het dus in sy strewe om die taal, die letterkunde, die kultuur, die wetenskap van die Afrikaner te handhaaf en te bevorder, 'n sterk bondgenoot in u kerk.
Die Akademie beywer hom ook vir die bekendstelling van ons eie geskiedenis – dié geskiedenis wat juis deur 'n predikant en hoogleraar van u kerk so voortreflik bestudeer is. Professor Engelbrecht is tot vandag toe volle Akademielid. Dit is miskien nie alom bekend nie dat die Akademiekantoor aanvanklik in Professor Engelbrecht se huis gesetel was. Die dryfveer agter sy onvermoeide ywer om die geskiedenis van die Voortrekkers te bestudeer en om allerlei unieke kultuurhistoriese stukke uit daardie tydperk te versamel en te bewaar, was sy liefde vir die Hervormde Kerk, die Kerk van die Voortrekkers. Die S.P. Engelbrecht–museum in hierdie Dirk van der Hoffgebou is die grootste kultuur- en kerkhistoriese museum en argief van sy soort in die Republiek. Die kosbare inhoud daarvan is feitlik eiehandig deur professor Engelbrecht versamel oor 'n tydperk van meer as 'n halfeeu.

Professor A.D. Pont het op versoek van professor Nienaber die huldigingswoord voorgelees. Daaruit enkele aanhalings:

Professor Engelbrecht se besondere bydrae op die kultuurhistoriese vlak lê, behalwe sy gepubliseerde werk en versamelings, wyd versprei. Hier kan onder andere melding gemaak word van sy aandeel in die Afrikaanswording van die Universiteit van Pretoria en van sy aktiwiteite as raadslid en sekretaris van die SA Akademie in die dertigerjare. Dit verdien ook vermelding dat hy hom steeds beywer het vir die kontak en verbondenheid met die stamland Nederland wat in baie opsigte die voedingsbodem en noodsaaklike agtergrond vir die Afrikaans kultuur-uitbouing was. Daarom het professor Engelbrecht ook 'n leidende rol gespeel met die vestiging van die Nederlandse Kultuurhistoriese Instituut aan die Universiteit van Pretoria, wat vandag so 'n belangrike komponent is van die Departement Afrikaans-Nederlandse Kultuurgeskiedenis. 'n Leeftyd van diens in belang van die Kerk, die Universiteit en die volk – 'n dienswerk wat gelewer is op die terrein van die kultuur en die geskiedenis van die Afrikaner – word deur die toekenning van hierdie penning bekroon.

Die 50-jarige bestaan van die Fakulteit is gedenk deur 'n erediens in die Aula van die Universiteit van Pretoria op Woensdagaand 03 Mei, gelei deur die dekaan, professor E.S. Mulder. 'n Gedenkpenning in silwer is te koop aangebied. Goue gedenkpennings is oorhandig aan professore S.P. Engelbrecht, H.P. Wolmarans, E.S. Mulder, C.H. Rautenbach en dominee P.J.J. Venter. Professor Greyvenstein kon weens siekte nie teenwoordig wees nie. Die voorsitter het aan hom 'n gedenkpenning oorhandig met 'n besoek die middag. Verder het die voorsitter, die huidige lede van die fakulteit, die akademiese registrateur van die Universiteit en die sekretaris van die Kuratorium ook gedenkpennings ontvang.

Die rektor, professor C.H. Rautenbach, het in sy rede die volgende belangrike uitsprake gemaak:

Ten spyte van teenoorgestelde menings het die Teologie op belydenisgrondslag 'n plek in 'n moderne universiteit, soos dit reeds eeue die geval is in Protestantse lande. Aan hierdie universiteit is van die begin af Nederlands, en later Afrikaans, as voertaal van die Teologiese Fakulteit gehandhaaf, Die Fakulteit het 'n belangrike rol gespeel in die Afrikaanswording van die Universiteit en speel nog steeds 'n betekenisvolle rol. Die Teologie is daar ter wille van die Kerk, en waar die Fakulteit hier te midde van ander fakulteite sy plek het, sal hy steeds die uitdaging van die denke van die tyd tegemoet moet tree om antwoord te gee aan die neiging van die mens om homself met beelde wat met die waarheid stry, te mislei.

Namens die Van der Hoff Teologiese Vereniging het J.P. Naude en P.A. Geyser die vergadering besoek op Donderdag 04 Mei en eksemplare van die Gedenkalbum wat deur die vereniging gepubliseer is, oorhandig aan die voorsitter, die dekaan, die voorsitter van die Kuratorium, en die skrywers van die historiese oorsig, J.P. Oberholzer en S.J. Botha.

As lede van die Kuratorium is verkies doktor L.M. le Roux, dominee G.J.J. Roos, doktor P.J.T. Koekemoer, dominee C.J. Mans, doktor A.J.G. Oosthuizen, doktor A.P. Grove en doktor S.J.L. Gouws. Die begroting vir die Teologiese Opleiding wat deur die vergadering aanvaar is, was R24 510. Die vergadering het ook nog die volgende besluit geneem oor die Adriaan Pont Verdedigingsfonds: 'Die vergadering gee aan die Raad van Finansies opdrag om, indien dit mettertyd nodig sou blyk, die behoeftes van die fonds in behandeling te neem en na bevind van sake te handel.' Die bestaan van hierdie fonds word nie in die agenda van die vergadering vermeld nie. In Dagbreek-Sondagnuus 15 Januarie 1967 is berig dat die Afrikaner-verdedigingsfonds gestig is wat in die toekoms gebruik sal word om vir hofsake teen vooraanstaande Afrikaners te betaal. en dat Pont die eerste persoon sal wees wat uit die fonds gehelp sal word. Die trustees van die fonds was doktor J.D. Vorster, aktuarius van die Kaapse sinode van die Nederduits Gereformeerde Kerk en voorsitter van die Raad van Trustees, professor P.F.D. Weiss, direkteur van die Afrika Instituut, professor P.S. Dreyer, dominee H.F.V. Kruger van die Gereformeerde Kerk, dominee A.J. Nolte, dominee P.M. Smith, meneer Jaap Marais L.V, meneer M.A. Bezuidenhout, meneer G.H. Beetge, sekretaris van die Nasionale Raad vir die Bestryding van Kommunisme, en meneer A.B. van N. Herbst. Volgens Die Beeld van Sondag 28 Maart 1967 was professor P.F.D. Weiss op daardie stadium die voorsitter van die trustees, en was die fonds in die wandel bekend as die Pont-fonds. In dieselfde berig word vermeld dat ag Amerikaanse kerke 'n bedrag van R42 350 bygedra het vir Geyser en Naude se saak en dat nog R19 600 deur kerke in Brittanje, Nederland en Duitsland belowe is. Volgens Dagbreek op 11 Februarie 1968 het die sekretaris-penningmeester van die Adriaan Pont Verdedigingsfonds, meneer A.B. van N. Herbst, gesê dat die fonds as 'n verdedigingsfonds vir professor Pont gestig is. Skadevergoeding en ander mense se hofkoste is nie ter sake nie.

13 Junie 1967

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis dat die saak met koste teen professor Pont uitgewys is en dat hy 'n bedrag van R10 000 elk aan professor Geyser en meneer Naude as skadevergoeding moet betaal. Die kommissie het na bespreking die volgende verklaring uitgereik:

1. Dit spreek vanself dat die Kerk na deeglike bestudering van die uitspraak kragtens die bepalings wat in die Kerkwet oor die opsig vervat is, met die betrokkenes sal handel. (ii) Omdat die Kerk en die volk steeds hoë waardering het vir die behoud van die konserwatiewe christelik-nasionale waardes vir ons Kerk en volk, vestig ons die aandag op die Adriaan Pont Verdedigingsfonds waarvan die doeleindes bekend is en doen ons met groot vrymoedigheid 'n beroep op ons gemeentelede en op die hele volk om hierdie fonds heelhartig en daadwerklik te ondersteun.

Die inhoud van die regterlike uitspraak, wat gelewer is op 09 Junie. was blykbaar nie self tot beskikking van die Kommissie nie. [Die argivaris kon ook nie 'n afskrif van die uitspraak in die Kerkargief opspoor nie]. Eers mettertyd sou blyk dat die Kerk in 'n ernstige dilemma geplaas is. Nie alleen is volledig bewaarheid wat advokate Trengove en Botha voorsien het nie, maar bowendien het die regter verklaar dat Pont 'n onbevredigende getuie was en onder eed leuens vertel het deur te verwys na 'n boek ter stawing van sy getuienis, terwyl die boek op daardie stadium nog nie besklikbaar was nie. Die toekenning van skadevergoeding vir die laster wat Pont gepleeg het, was die hoogste bedrag wat tot dan vir 'n lastereis toegestaan is. Die regter het die toewysing daarvan soos volg op die verskillende aflewerings van die Kroniek gegrond: September 1964: R500, Oktober 1964: R200, November 1964: R200, Desember 1964: R300, Januarie 1965: R4 000, Februarie 1964: R700, Maart 1965: R4000, April 1965: R1000, Junie 1965: R100. Tesame met sy eie en die eisers se hofkoste sou Pont ongeveer R120 000 moes betaal, met 6% rente jaarliks.

Dominee A.J. Nolte, voorsitter van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, het volgens Die Transvaler van 10 Junie gesê:

Hoewel ons aanvaar dat die bewoordinge van professor Pont in die betrokke artikels nie die regte was nie, bly die kerk oortuig daarvan dat professor Pont met al die artikels net die beste belang van die kerk en volk wou dien. Op grond daarvan het ons die vrymoedigheid om van alle kante steun vir professor Pont te vra.

Hierdie uitspraak van dominee Nolte was volgens doktor C.J. Labuschagne die direkte aanleiding daartoe dat hy uit die kerk bedank het. Professor A. van Selms het dieselfde gedoen. Hy het teenoor Beeld verklaar: 'Dit is vir my onmoontlik om lidmaat te wees van 'n kerk wat hom vereenselwig met die optrede van professor Pont.' Die St Andrews Presbiteriaanse Gemeente in Pretoria het op versoek van professor Van Selms geleentheid ingeruim vir Afrikaanse dienste. Die eerste is gelei deur doktor C.J. Labuschagne op Sondag 18 Junie en is volgens die Rand Daily Mail van 19 Junie 1967 bygewoon deur omtrent 150 persone. Op 18 Junie het Dagbreek berig dat ook doktor J.A.A.A. Stoop uit die kerk bedank het. Volgens die Sunday Express van 17 September 1967 het professore B.J. van der Merwe en J.A.A.A. Stoop van Unisa, professore A. van Selms en C.J. Labuschagne van die Universiteit van Pretoria, en dominees J.A. Swanepoel en J.J. Coetzee aansoek gedoen om predikantstatus in die Presbiteriaanse Kerk. Van hulle was J.A. Swanepoel wel ook sydelings betrokke by die verset rondom die Pontsaak, maar nie J.J. Coetzee nie. Die Adriaan Pont Verdedigingsfonds het sterk steun ontvang. Die Vaderland het op 16 Junie berig dat ook die Bantoestigting van Suid-Afrika 'n bedrag van R500 aan die fonds geskenk het.

Wat die opsig betref, sou daar aandag aan gegee moet word deur die bevoegde kerklike vergadering, in hierdie geval die Kommissie van die Ring van Pretoria. Handelinge is blykbaar uitgestel om die uitspraak van die appèlhof af te wag. Vir die appél moes Pont waarborge verskaf dat hy die regskoste van Geyser en Naude vir die appèlsaak sal kan dra en moes hy ook sowat 8 afskrifte van die Hooggeregshofstukke vir die appelregters laat voorberei. Op 07 Januarie 1968 het Beeld berig dat Pont sy appèl gewysig het en die uitspraak van Regter Trollip aanvaar. Die appèl sou nou net gaan oor die bedrag van die skadevergoeding en die koste van die saak. Pont het volgens Die Transvaler van 08 Januarie dit ontken en gesê hy moet nog daaroor besluit. Beeld het op 14 Januarie berig dat Pont blykbaar in die duister is oor sy appélsaak. Advokaat Swart het teenoor Beeld bevestig dat die appèl gewysig is. Die appèlverhoor het begin op 15 Februarie 1968 voor hoofregter L.C. Steyn, en regters P.J. van Blerk, D.H. Botha, G.N. Holmes en P.J. Wessels. Uitspraak is gelewer op 11 Maart 1968. Die appèl is met koste van die hand gewys.

Pont het intussen voortgegaan met sy akademiese werk en ook met politiek-kulturele betrokkenheid by verskillende organisasies. Hy was steeds lid van die Nasionale Raad vir Bestryding van Kommunisme en voorsitter van die Dirkie Uys Stigting. Op 26 Augustus 1967 het hy die Prinshoftak van die Nasionale Jeugbond toegespreek. In die week daarna het hy die Junior Rapportryerskorps op Pietersburg toegespreek oor 'Die Afrikaner en sy Kerk' (gepubliseer in die Almanak 1968). Hy skryf:

Die feit dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering my, na die lastersaak wat ek verloor het in 1967, gehandhaaf het as hoogleraar, het my laat besluit dat ek my werk so moet doen dat die kerk daarvan voordeel en nie nadeel sal hê nie. Daarby het ek ook tot die gevolgtrekking gekom dat ek deur navorsing en publikasie die kerk miskien die beste kan dien. Juis omdat ek nie meer populêr was nie, kon ek my in die studeerkamer terugtrek en voortgaan met studie, navorsing en publikasie. [Die terugtrek het natuurlik net kerklike sake geraak, vir 'n aktivis soos Pont was stille afsondering 'n onmoontlikheid, vandaar 'n snel toenemende partypolitieke betrokkenheid wat sou volg.]

Die Ringskommissie het blykbaar nie self inisiatief geneem met die oog op die opsig nie nie, soos blyk uit 'n skrywe van die Ringskommissie aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, gedateer 19 Maart 1968. Professor A.D. Pont het, nadat die uitspraak van die Appèlhof bekend geword het, 'n onderhoud met die Ringskommissie aangevra.

In die vergadering het professor Pont 'n verklaring van 16 bladsye aan die Kommissie voorgelê. Hierdie verklaring word met begeleidende aanmerkings aan die Hoogeerwaarde Kommissie voorgelê. [Die argivaris kon ook nie hierdie verklaring opspoor in die Kerkargief nie] Die (Rings) Kommissie is onder die indruk dat hierdie verklaring in groot erns opgestel is. Die Kommissie merk met blydskap 'n toon van verootmoediging aan die einde van die memorandum waar hy sy opregte spyt uitspreek en dan ook onderneem om nie meer foute en verkeerdhede te begaan nie. Op vrae wat deur die Kommissie gestel is oor sekere punte antwoord professor Pont onder andere dat daar van sy kant geen kwaadwilligheid teenoor professor Geyser en mnr Naude bestaan nie. Hy vind die standpunt wat hulle inneem onaanvaarbaar maar in sy gemoed dra hy geen kwade gevoelens teen hulle nie. Hy is ook heeltemal bereid om in gesprek met die twee here te tree as daar 'n geleentheid gereël kan word... Die Kommissie is van mening dat daar berou en spyt by professor Pont is – dit het vir ons duidelik geblyk met die antwoorde van professor Pont. Hiermee is die doel van die kerklike opsig bereik en die saak is, wat die Kommissie betref, dan ook afgehandel.

Na kennisname van hierdie skrywe het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering besluit:

1. Die vergadering neem met blydskap kennis van die rapport van die Ringskommissie en versoek die Kommissie om langs ingeslane weg voort te gaan, ook met die oog op 'n moontlike gesprek tussen die partye.

2. Die vergadering neem kennis van die verklaring van professor Pont aan die Ringskommissie

3. 'n Verklaring word aan alle kerkrade uitgereik met inhoud dat die Kommissie van die Ringskommissie, by wie die opsig oor dienaars van die Woord binne sy ressort berus, berig ontvang het oor die uitkoms van 'n samespreking met professor Pont onder die opsig, en dit hiermee aan die kerk meedeel. Die Verklaring word ook gepubliseer in Die Hervormer.

Die getakseerde koste van Geyser en Naude was sowat R39 000, en 'n uitwinningslasbrief vir die bedrag van R38 800 tesame met die R20 000 skadevergoeding is op 15 Maart 1968 deur die Randse Hooggeregshof uitgereik.

13 Junie 1967

Die Kuratorium verkies doktor P.J.T. Koekemoer as voorsitter en dominee G.J.J. Roos as vise-voorsitter. Op voordrag van die Vergadering van Professore is doktor J.I. de Wet aanbeveel vir vulling van die sesde leerstoel, dié in Praktiese Teologie.

Jacobus Ignatius de Wet is gebore op 24 Januarie 1926 te Clocolan. Hy groei op in Lichtenburg waar sy pa onderwyser en boer was. Sy pa sterf terwyl hy in standerd nege was. Vir die eerste ses maande van wat sy matriekjaar moes wees, werk hy in die boerdery van sy oupa Roothman op Gerdau, maar keer terug skool toe en voltooi matriek aan die Hoërskool Lichtenburg in ses maande. Hy skryf in as kerklike student aan die Universiteit van Pretoria in 1944 en voltooi die studie in 1950. Op 09 Desember 1950 tree hy in die huwelik met Anna Deborah Muller, suster van doktor Hilgard Muller. Hy word georden op 14 Februarie 1951 en dien as predikant in Melville, Johannesburg-Noord en Krugersdorp-Oos. In 1961 word hy medeleraar in die gemeente Pretoria-Oos met opdrag studente-bearbeiding, en in 1964 word hy predikant van die nuutgestigte studentegemeente Philadelphia. Hy promoveer in 1961 met 'n proefskrif getitel Die Kerklike Verkondiging in die huidige Tydsgewrig met professor B.J. Engelbrecht as promotor. Hy het sy kerklike intreerede op 31 Maart 1968 gehou tydens 'n erediens van die gemeente Philadelphia in die A.E. du Toit Ouditorium by die Universiteit van Pretoria.

Die Kuratorium het verder besluit om in te gaan op die moontlikheid van 'n gedenkpenning na aanleiding van die halfeeufees van die fakulteit, en het ook aanbeveel dat die lesings in Bybelkunde voortaan waargeneem sal word deur J.P. Oberholzer en doktor W.C. van Wyk. Omdat Van Wyk nog nie georden was nie, is die problem van sy status na die Raad vir Regsadvies verwys. Die Raad was van oordeel dat Van Wyk nie georden kan word met die oog op so 'n benoeming nie. Dit het daarop uitgeloop dat Oberholzer die lesings in Bybelkunde I en II moes waarneem en dat professor E.S. Mulder die nuut ingestelde Bybelkunde III sou behartig.

15 November 1967

Professor J.H.J.A. Greyvenstein is in die Zuid-Afrikaanse Hospitaal oorlede na 'n drie weke lange siekte. Hy was voorsitter van die hospitaalraad vir 30 jaar. Die raad het in 1965 aan hom 'n erepenning oorhandig vir sy dienste. Professor H.P. Wolmarans het die begrafnisdiens in die kerkgebou van Pretoria gelei op 17 November 1967. Dominee A.J. Nolte het die woord gevoer namens die kerk en professor C.H. Rautenbach namens die Universiteit. Professor E.S. Mulder het die verrigtinge by die graf afgesluit.

23 November 1967

Die Rand Daily Mail berig dat doktor C.J. Labuschagne bedank het as dosent aan die Universiteit van Pretoria en 'n pos gaan beklee in die teologiese fakulteit van Groningen. 'My belangrikste rede om SA te verlaat, is akademies. Ek is primer 'n teoloog en ek voel dat daar nie geleenthede hier vir my is in enige teologiese fakulteit nie.'

Doktor W.C. van Wyk het in Desember 1967 na Duitsland vertrek met 'n beurs van die Von Humboldt Stigting. Hy het onder Professor G. Fohrer in Erlangen gewerk en het in sy tyd daar die Kongres van Ou Testamentici in Rome bygewoon en ook die Duitse Oriëntalistekongres waar hy 'n voordrag gehou het. Hy en sy gesin het op 18 Oktober 1968 terug na Suid-Afrika vertrek.

 

1968

05 Februarie 1968

Professor S.P. Engelbrecht is tuis verpleeg volgens die Pretoria News. Sy toestand het volgens sy vrou sorg gebaar.

16 Februarie 1968

Die Kuratorium het met dank kennis geneem van skenkings aan die Teologiese Opleidings fonds deur M.J. Hough en Hendrik Vermooten en dat die Raad van Finansies R200 per jaar bewillig het vir die aankoop van boeke vir die Teologiese Biblioteek aan die Universiteit van Pretoria. Die Kuratorium het ook kennis geneem dat drie studente aangestel is as deeltydse lektore aan die Universiteit van Pretoria, naamlik J.A. Loader, A.P.B. Breytenbach en P.J. van die Merwe.

03–04 Junie 1968

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering neem kennis dat dominees J.H. Steenekamp en E.C.B. Kotze wat op 17 Januarie 1966 'n formele klag teen professor A.S. Geyser ingedien het omdat hy met verbygaan van die kerklike prosedure hom op die hof beroep het, hulle klag op 27 Maart teruggetrek het en dat die skriba op 02 April aan Geyser meegedeel het dat sy suspendering as dienaar van die Woord opgehef word.

08 Augustus 1968

Die Kuratorium besluit om die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering te versoek om met die Nederduitse Gereformeerde Kerk te onderhandel met die oog op gesamentlike vertoë aan die Universiteit van Pretoria vir die aanstelling van voltydse dosente vir Bybelkunde en subsidiëring op dieselfde basis as die professore in die Fakulteit Teologie. Verder is besluit dat die naam van die voorgestelde gedenkpenning sal wees 'H.C.M. Fourie Erepenning.'

Professor E.S. Mulder moes siekteverlof neem in Augustus 1967. Sy lesings is met goedkeuring van die Kuratorium waargeneem deur J.P. Oberholzer. Professor Van Zyl was gedurende die eerste semester van 1968 met vakansie- en studieverlof. Sy lesings is waargeneem deur doktor C.J. Viljoen.

03 September 1968

Professor A.S. Geyser het na ontvangs van die berig dat die klag teen hom teruggetrek en sy suspendering daarom opgehef word, op 11 Junie 1968 'n onderhoud met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aangevra 'om die Kommissie aan te spreek.' Die Kommissie het hom ontvang op 03 September 1968. Hy het 'n stuk voorgelees waaruit die volgende aangehaal word:

Sedert kort na Evanston het die indertydse Algemene Kommissie waarvan sommige van u lede was, begin om die Nederduitsch Hervormde Kerk te omskep in 'n blokondersteuning van die partypolitieke ideologie van rasseskeiding in die Kerk. Bedenkinge dat Skrif en belydenis so-iets altans nie in die universele Kerk billik nie, het u binne die kerk met die mag van u posisie en soms ook met middele daarbuite onderdruk. Plek-plek het u waarhede en feitlikhede selfs nie ontsien nie en persone en koste het u in u strewe nie gespaar nie. Deur die ketterproses wat u my aangedoen het en die daaropvolgende hofsaak van 1963, het u leiding die Nederduitsch Hervormde Kerk baie aan aansien, predikante en middele gekos. U leiding van die Algemene Kerkvergadering van 1964 het die aansien van die Kerk nog verder laat daal. Sedert 1964 het u professor Pont toegelaat om in Die Hervormer 'n volgehoue laster- en leuenkampanje teen my en andere te publiseer. Van onmiddellike belang is dat u optrede en leiding aan die kerk in die Pont-saak die faam van u as Kommissie en van die Kerk wat u lei, nog verder laat daal het. Te genertyd het u voor of na die regterlike uitsprake van ons hoogste howe, prof Pont met die eise van Gods Woord of die belydenisskrifte, met name van die Heidelbergse Kategismus oor lieg en laster gekonfronteer. Leuens en laster was vir u interpretasie van u opsig nie sonde nie. Die feit dat ek 'n skade-eis teen professor Pont ingestel het, was vir u darenteen 'n ergerlike sonde. en u het my, hangende u verhoor, twee jaar lank uit die amp gehou. Eerder as om professor Pont te beteuel, laat staan te betig, het u Voorsitter op twee agtereenvolgende predikantevergaderinge die versekering gegee dat u as Algemene Kommissie volledig agter professor Pont staan en lede van u Kommissie het die jongste Algemene Kerkvergadering gelei om die hele kerk met die optrede van professor Pont te vereenselwig. U wou dit voluit doen, maar u advokate het u beraad om minstens u redakteur van Die Hervormer skikking te laat soek en apologie aan te laat teken. Pas het hy dit gedoen of vier van u en een van u amptenare verkonstitueer uself met andere as 'n fondsinsamelingskommissie vir professor Pont. Die hoogste howe van ons land het bevind dat professor Pont dominee Naude en my kwaadwillig en swaar belaster het. Hulle het hom die swaarste skadevergoeding nog in SA opgelê. Beide howe het hom by herhaling 'n onbetroubare getuie bevind – dit is dat hy in die hof gelieg het. Maar u het selfs toe nie u taak van opsig en toesig oor professor Pont laat geld nie. Hierdie dinge sê ek om u nou vir die tweede maal en die laaste maal as predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk op te roep tot 'n afkeer van die weg wat u as leidende Kommissie van die Kerk nou al twaalf jaar loop en tot 'n bekering tot God. Die eerste oproep van die aard het ek tydens die Algemene Kerkvergadering van 1964 op u gedoen. Ek doen dit nou weer – indien moontlik – met dringender erns en vuriger gebed. U gewetens sal nie weier om u te beweeg nie – verder: die lewende Woord van God sal nie nalaat om u te verkwik nie en die belydenis waarop u verseker dat u staan sal nie ophou om u profeties, presies en onmiskenbaar te sê dat u as Algemene Kommissie die afgelope twaalf jaar die Nederduitsch Hervormde Kerk steeds meer met die merk van die valse kerk beteken. My vrou en ek reken nou dat onder u leiding die Nederduitsch Hervormde Kerk vir ons nie meer deel van die Kerk van Christus verteenwoordig nie en dat ons dit daarom in gehoorsaamheid aan God moet verlaat.

Die voorsitter het daarop gesê dat die Kommissie nie kan saamstem met Geyser se interpretasie van sake nie omdat dit geen rekening hou met die feite nie. Die Kerk het vir etlike jare reeds nie die indruk gehad dat professor Geyser saam met die Kerk wil leef en werk nie; ten spyte daarvan dat hy steeds ampsdraer van die Kerk was, was die enigste wat die Kerk van tyd tot tyd gehoor het dat hy steeds besig was om teen die Kerk op te tree. Sy bedanking is daarom geen verlies vir die Kerk nie maar alleen die logiese uitvloeisel van 'n optrede wat reeds oor jare strek. dit is tog bedroewend dat hy nou die Kerk, wat nie anders is as toe hy self in die kerk grootgeword het, wil uitmaak vir alles wat sleg is. Hy moet homself daarvan rekenskap gee hoe dat hierdie Kerk, ten spyte daarvan dat dit nie verander het nie, tog vir hom 'n valse kerk geword het."

Die Kommissie het daarna onder andere besluit:

1. Die Kommissie het, nadat hy die beweringe van professor Geyser oor die leiding van die Kommissie gehoor het en sy beskuldigings dat die Kerk die gestalte van 'n valse kerk aangeneem het, oorweeg het, tot die bevinding gekom dat hy nie anders kan as om die beweringe van professor Geyser in totaal te verwerp nie en dit te beskou as volkome ongegrond en in botsing met die historiese feite van die afgelope twaalf jaar.

2. Die Kommissie beskou die bedanking van professor Geyser as die logiese uitvloeisel van sy weiering om met die Kerk mee te leef tydens die afgelope jare en van sy volgehoue optrede teen die Kerk.

 

1969

31 Januarie 1969

Die regulasies vir die H.C.M. Fourie Erepenning word vasgestel op die vergadering van die Kuratorium. Die basiese bepalings lui soos volg:

1. Die penning, uit goud geslaan, sal bekendstaan as die H.C.M. Fourie Erepenning.
2. Die penning sal, indien dit toegeken word, elke keer tydens die sitting van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk op 'n gepaste wyse deur die dienende voorsitter van die Kuratorium oorhandig word aan die persoon wie se arbeid op dié manier bekroon word.
3. Voorwaardes vir toekenning:
3. Die penning word toegeken as:

A. Bekroning van gepubliseerde akademiese werk wat (i). berus op selfstandige navorsing, studie en eie insig, (ii) 'n positiewe bydrae is tot de bestendiging en uitbouing van die Bybels-reformatoriese teologie
B. Bekroning van besondere diens in of aan die Kerk deur geskrif, persoonlike leiding en optrede wat bygedra het tot die groei en vooruitgang van die Nederduitsch Hervormde Kerk of die bestendiging en uitbouing van die standpunt en houding van die Nederduitsch Hervormde Kerk

Verder volg daar dan nog regulasies oor die moontlike ontvangers en die werkwyse van toekenning.

09 April 1969

Studente en oudstudente onthul 'n borsbeeld van professor C.H. Rautenbach in die foyer van die Aula by geleentheid van die 21ste herdenking van sy ampsaanvaarding as rektor.

18 September 1969

Die Raad stel professor E.M. Hamman aan as rektor vir die tydperk 01 Julie 1970 tot 31 Desember 1977.

27 November 1969

Die Raad besluit onbestrede om die eregraad MD aan professor C.H. Rautenbach toe te ken op 22 Maart 1970.

 

1970

30 Januarie 1970

Die ontwerp van die H.C.M. Fourie Erepenning word vasgestel op die Kuratoriumvergadering. Besluit is dat 'n heraldikus geraadpleeg sal word en die afhandeling van die ontwerp aan die skriba opgedra word. Met verloop van tyd is die penning aan die volgende persone toegeken: H.P. Wolmarans (1970), J.G.M. Dreyer (1976), J.P. Oberholzer (1982), B.J. Engelbrecht, P.S. Dreyer, A.D. Pont, A.B. van N. Herbst (1986), W. Mathlener (1989), F.J. van Zyl, H.G. van der Westhuizen (1992), P.M. Smith (1995), D.J.C. van Wyk, A.J.G. Dreyer, S.J. Botha (1998), J.H. Koekemoer (2001), A.P.B. Breytenbach, P.J. de Beer (2004), T.F.J. Dreyer en A.G. van Aarde (2007).

Volgens 'n verslag aan die Kuratorium op 28 Mei 1970 was die koste van die eerste erepenning R278.67. Die Kuratorium het op sy vergadering van 30 Januarie 1970 ook besluit om by die Raad van Finansies aan te beveel dat beurslenings verhoog word na R260 per jaar, voorsiening gemaak word vir een ekstra studiejaar, en vir merietebeurse.

03 April 1970

Die tydskrif Ster Aktueel wy 'n aantal anonieme artikels aan die Nederduitsch Hervormde Kerk met die volgende inleiding:

Die Afrikaner is hierdie Kerk veel verskuldig vir die belangrike rol wat hy sedert die dae van die Voortrekkers gespeel het om die erwe van ons vaders vir ons nageslag te bewaar. Veral in die jongste jare het die Nederduitsch Hervormde Kerk soos 'n toring van krag bly staan in die storms wat die Afrikaner en sy kerke wil dwing tot die aanvaarding van liberalisme.

27 April 1970

Die 56ste Algemene Kerkvergadering neem sitting. Die Moderamen is herkies, naamlik dominees A.J. Nolte as voorsitter, P.M. Smith as skriba, S.P. Viljoen as vise-voorsitter en J.P. Oberholzer as vise-skriba. Professor B.J. Engelbrecht en doktor C.J. Mans is verkies as Predikantelede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering.

Wat die predikantetoga betref, het die Predikantevergadering by sy lede aanbeveel:

Aangesien die toga uitdrukking is van die akademiese bevoegdheid om die evangelie te verkondig en dié besondere werk te doen, beveel die vergadering aan dat die toga die akademiese toga sal wees van die plek waar die persoon gestudeer het.

Die Algemene Kerkvergadering het op sy beurt by die Predikantevergadering aanbeveel: ''n Aangepaste kerklike toga by die universiteitstoga soos in die agenda aanbeveel.' Na aanleiding van vier beskrywingspunte het die vergadering verder besluit:

1. Die bepaling oor kleding van ampsdraers in amptelike vergaderinge (Hoofstuk 1 van die Bepalings) word geskrap.

2. Die vergadering bepaal dat ampsdraers ter wille van die netheid en die waardigheid van die vergaderinge geklee sal gaan in donkerkleurige pakke met 'n wit strikdas.

Wat die professore en dosente in die Godgeleerdheid betref, is besluit dat hulle sowel as die emeriti-professore indien daartoe opgeroep, sitting op die Ringsvergadering het met adviserende stem. Artikel 77 is gewysig om te lees

Professore en ander dosente in die teologie het sitting op die Algemene Kerkvergadering met gewone stem en op die Ringsvergadering met adviserende stem indien daartoe opgeroep. Op die Kuratorium het die professore en ander dosente in die teologie sitting met adviserende stem, en kan hulle voorstelle indien.

Kennis is geneem dat professor E.S. Mulder vanaf Julie tot September 1967 met siekteverlof was en dat sy lesings waargeneem is deur J.P. Oberholzer, dat professor Van Zyl met langverlof was gedurende die eerste semester van 1968 en dat sy lesings deur doktor C.J .Viljoen waargeneem is, dat professor Van Rensburg gedurende die eerste semester van 1969 op siekteverlof was en dat sy lesings waargeneem is deur dominees J.J. Engelbrecht en G.M.M. Pelser. Hierdie vergadering het ook die besluit geneem om vroue tot die diakenamp toe te laat. Daar was teenstemme van 29 lede.

Oor die samestelling van die Algemene Kerkvergadering is besluit dat uit elke gemeente van die kerk een lid van die kerkraad afgevaardig mag word (dus ook 'n diaken). Die H.C.M. Fourie-erepenning is oorhandig aan professor H.P. Wolmarans. Die voorsitter van die Kuratorium, doktor P.J.T. Koekemoer, het onder andere gewys op die vernuwing in die teologiese wetenskap van die Fakulteit wat deur professor Wolmarans bewerk is toe hy sommige van die grondgedagtes van die dialektiese teologie in sy lesings ter sprake gebring het, veral soos dit geformuleer is in die werke van Emil Brunner.

Die S.P. Engelbrecht-penning is aan doktor C.J. Mans oorhandig as bekroning vir sy proefskrif oor Die lewe en werk van die dogmatikus P.J. Muller. Teenwoordig by dié geleentheid was twee dogters en 'n kleindogter van professor P.J. Muller.

Op versoek van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het die vergadering sy Kommissie gemagtig om vertalers te benoem en te reël dat hulle minstens die helfte van hulle tyd aan die vertaling sal kan wy. Die besluit van 'n vertalerseminaar wat oorspronklik deur professor E.S. Mulder geformuleer is, is bekragtig. Dit het gelui:

Die vergadering is van oordeel dat, aangesien die bestaande Afrikaanse Vertaling in 1933 deur die Afrikaanse kerke in SA aanvaar is, slegs nege jaar nadat Afrikaans amptelike taal geword het, die tyd nou aangebreek het dat gewerk word aan 'n vernieude vertaling, wat rekening hou met die ontwikkeling van Afrikaans in die afgelope tydvak en die resultate van wetenskaplike ondersoek, so getrou as moontlik aan die grondteks; 'n waardige vertaling wat ons volk aanspreek, binne en buite die kerk, in die erediens en in huislike gebruik, in ons teenswoordige situasie en tyd.

Op die Kuratorium is verkies doktor P.J.T. Koekemoer, doktor L.M. le Roux, dominees G.J.J. Roos, H.J. Geyser en C.L. van den Berg, professor C.H. Rautenbach en doktor J.L. van Staden. Die verslag van die Kuratorium waarby die Dekaansverslag opgeneem is, is aanvaar en so ook die verslag van die Redaksie van Hervormde Teologiese Studies.

Na aanleiding van 'n studiestuk oor die gewetensklousule in die wetgewing op hoër onderwys, opgestel deur J.P. Oberholzer met medewerking van doktor N.S. Botes, is besluit dat die Nederduitch Hervormde Kerk sy beproefde standpunt van handhawing van die beginsel in die gewetensklousule vervat, herbevestig en dring by enige poging tot herformulering daarvan aan op handhawing en behoud van sowel die reg van die gemeenskap om die gees en rigting van die onderwys te bepaal as die beginsel van godsdiensvryheid soos verskans in die grondwet van die RSA,

Wysigings van die artikels in die Kerkwet oor die toelating van kandidate tot die heilige diens is goedgekeur. Voortaan moes 25 eksemplare van die te houe proefpreek (in plaas van 20) ingehandig word, die eksamenkommissie sou uit ses lede bestaan, en Artikel 70 is in sy geheel verander om soos volg te lees:

a. Die proponentseksamen is 'n gesprek oor die amp van die dienaar van die Woord in die geheel van die lewe en werk van die kerk
b. Hierdie gesprek vind plaas na aanleiding van die proefpreek wat elke kandidaat tot bevrediging van die eksamenkommissie in die teenwoordigheid van minstens twee lede van die eksamenkommissie in 'n gemeente gehou het
c. Die voorsitter van die eksamenkommissie reël die tyd en plek van die proefpreke en gee minstens 'n maand voor die tyd daarvan kennis aan die skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering
d. Die gesprek vind plaas om te bepaal:
e. of elke kandidaat voldoende kennis van die Heilige Skrif met die oog op die ampspraktyk besit en
f. in hoeverre die akademiese opleiding deur die Teologiese Opleiding van die Kerk deel geword het van die hart en lewe van die betrokke kandidaat
g. Kandidate word afsonderlik geëksamineer
h. Na suksesvolle aflegging van die proponetseksamen kan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering preekvergunning aan 'n proponent verleen. Hierdie preekvergunning bly van krag totdat hy in die diens van die Woord georden is of tot so 'n datum as wat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering dit nodig ag om dié vergunning weer terug te neem.

'n Voorlegging tot wysiging van die opleidingsvereistes wat 'n sesjarige BD graad beoog, is verwys na die Kuratorium saam met die voorsteller en sekondant vir rapport aan die volgende vergadering.

Na aanleiding van 'n bespreking oor die predikantetekort het die vergadering opdrag gegee aan kerkrade en veral aan predikante om in die komende drie jaar in elke gemeente 'n besondere, volgehoue, planmatige poging aan te wend om studente vir die teologiese opleiding te werf en aan die Kuratorium om in oorleg met die Predikantevergadering met die verloop hiervan in voeling te bly.

Die vergadering het ook kennis geneem van die volgende voorlegging van die Kommissie oor beskuldigings teen die kerk:

Die beskuldigings wat deur verskillende vroeëre dienaars van die Woord teen die kerk ingebring is, is steeds ernstig deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oorweeg. Die Kommissie moes egter telkens tot die gevolgtrekking kom dat die broeders ter regverdiging van hul eie optrede die weg van beskuldiging gekies het, en daarin nie geskroom het om die kerk te belaster nie. Omdat die broeders se optrede alleen in perspektief gesien kan word teen die agtergrond van die ontwikkeling op kerklike, ekumeniese en politieke gebied in die afgelope drie dekades, is dit nou die taak van die kerkhistorici om die gebeure nugter en wetenskaplik te beskryf ten einde die toekomstige geslagte voor te lig oor hierdie tyd van beproewing vir die kerk. Tegelyk is dit die dure plig van die kerk in sy amptelike vergaderinge om in ootmoed en met die besef van sy eie skuld ernstig te bly vra na die waarheid van Gods handelinge met ons, en te streef na gehoorsame dienswerk.

28 Mei 1970

Die Kuratorium vergader. Doktor P.J.T. Koekemoer is verkies as voorsitter en doktor L.M. le Roux as vise-voorsitter. Dominee H.J. Geyser het bedank as lid van die Kuratorium, en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het doktor S.J.L. Gouws in sy plek benoem. Die vergadering het kennis geneem dat professor E.S. Mulder emeritaat aanvaar teen die einde van die jaar en het besluit om J.P. Oberholzer aan te beveel vir benoeming as sy opvolger.

Johannes Petrus Oberholzer is gebore op 03 Oktober 1927 as vierde kind van Nicolaas Christoffel Oberholzer en Jacoba Cornelia Aletta Sophia Nel, en groei op op die Oos-Transvaalse Hoëveld. Hy gaan skool in Cyferfontein Laerskool, 'n tweeman plaasskool naby Trichardt, en in Hoogenhout Hoërskool op Bethal, waar hy in 1944 matrikuleer in die eersteklas. Hy voltooi die BA, BD studie in 1950 en ontvang 'n MA graad in Semitiese Tale in 1957 en die DD graad met lof in 1967 met 'n proefskrif Die Kneg van die Here in die Ou Testament, onder leiding van professor E.S. Mulder. Hy is georden op 11 Februarie 1951 en was agtereenvolgens predikant van die Salisbury-kombinasie, Boksburg, Middelburg, Rustenburg, Pretoria en Lyttelton. Hy is aangestel as professor met ingang 01 Januarie 1971.

30 Junie 1970

Professsor C.H. Rautenbach tree uit as rektor van die Universiteit van Pretoria. Die Senaat het op 27 Mei 1970 sy waardering vir die dienste van professor Rautenbach betuig, en die Raad het op 18 Junie 1970, 'sy diepe erkentlikheid bevestig teenoor een van die groot manne van Suid-Afrika wat begenadig is met buitengewone gawes.' Tydens 'n oggendfunksie op 17 Junie voor die Aula het personeel en studente by monde van die voorsitter van die Raad hulde gebring vir die uitstaande diens van 22 jaar as rektor en is 'n praguitgawe van Skakelblad, wat in geheel aan hom en mevrou Rautenbach gewy is, aan hom oorhandig. Die betrokke uitgawe is Jaargang 17 nommer 01 Mei 1970, en dit dek die hele wye verskeidenheid van Rautenbach se lewe en aktwiteite.

Van die kant van die by Nederduitsch Hervormde Kerk is daar artikels van professor E.S. Mulder oor Rautenbach as Kerkman, professor C.K. Oberholzer oor Rautenbach as mens, mevrou M.R. Oosthuizen oor mevrou Rautenbach, professor P.S. Dreyer oor Rautenbach as filosoof ook ingesluit in die betrokke uitgawe.

23 September 1970

Die Kuratorium keur 'n skrywe aan kerkrade en predikante goed oor die werwing van kandidate vir opleiding. Oor Bybelkunde is besluit dat J.P. Oberholzer verantwoordelik sal bly vir Bybelkunde III en dat dominees A.P.B. Breytenbach en J.A. Loader onderskeidelik Bybelkunde I en Bybelkunde II sal waarneem met die voorbehoud dat indien dominee Breytenbach beskikbaar is, hy Bybelkunde I en II sal behartig.

Die Kuratorium het ook kennis geneem dat J.P. Oberholzer benoem is as deeltydse Bybelvertaler en het aanbeveel dat doktor W.C. van Wyk die lesings vir die eerste jaar BD sal waarneem terwyl Oberholzer self die lesings vir BD II en III sal behartig.

26 November 1970

Die Raad boekstaaf sy dank en waardering aan professor E.S. Mulder wat as dekaan en lid van die Uitvoerende Komitee van die Senaat 'n groot bydrae gelewer het tot die vooruitgang van die Universiteit.

02 Desember 1970

Professor E.S. Mulder lei 'n erediens in Aula by sy uittrede. Geleentheidswoorde is uitgespreek deur dominee A.J. Nolte, voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, professor E.M. Hamman, rektor van die Universiteit van Pretoria, professor E.P. Groenewald namens die Fakulteit Teologie (Afdeling B) en

 

 

DOI: 104102/hts.v66i3.936

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License