SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue3Hoofstuk 4: Interne spanning en stryd 1941-1953Hoofstuk 6: Ekumeniese isolasie en interne stryd 1961-1970 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.66 no.3 Pretoria  2010

    http://dx.doi.org/104102/hts.v66i3.920 

    HOOFSTUK

     

    Hoofstuk 5: Politieke spanning en ekumeniese druk 1954–1960

     

     


    Die vak Bybelkunde maak sy verskyning. Die emeritaat van Gemser, S.P. Engelbrecht en H.P. Wolmarans en die toetrede van E.S. Mulder, A.D. Pont en F.J. van Zyl tot Afdeling A bring 'n radikale verandering. Ekumeniese druk begin oplaai rondom die landspolitiek. Die Cottesloe-konferensie bring beroering. Die houding van A.S. Geyser en A. van Selms wek weerstand.


     

     

     

    1954

    23 Februarie 1954

    Die Fakulteit het vir professor Gemser terugverwelkom na 'n studiereis in die buiteland en het spesiale verlof aan professor S.P. Engelbrecht toegestaan vir die maande Mei en Junie. Sy lesings sal waargeneem word deur B.J. Engelbrecht en P.S. Dreyer. 'n Aansoek van dominee N.J.van Schalkwyk om vir DD in te skryf, is toegestaan. Die Afdeling het die instelling van 'n vak Bybelkunde goedgekeur onderhewig aan die volgende voorwaardes:

    I. Die vak sal hoogstens 'n tweejarige kursus beslaan en kan nie as hoofvak geneem word nie.
    II. Hierdie vak sal deur professore of dosente van die 2 afdelings gedoseer word en wel so dat elke afdeling 'n gelyke aandeel sal hê in die aantal lesings en leerstof .
    III. Die studieplan sal opgestel word deur die professore en dosente van die twee afdelings in oorleg met die Fakulteite van Lettere en Opvoedkunde.

    09 Maart 1954

    Die 51ste Algemene Kerkvergadering kom byeen. Dominee A.J.G. Oosthuizen is as voorsitter verkies, dominee T.F.J. Dreyer as skriba, dominee S. Vermooten as vise-voorsitter en dominee A.J. Nolte as vise-skriba. As predikantlede is verkies dominees J.G.M. Dreyer en D.F. Erasmus. Na aanleiding van die verslag van die Kuratorium is blydskap en trots uitgespreek oor die verskyning van die Hebreeuse Grammatika van professor B. Gemser. Die volgende voorstelle is aanvaar:

    • Dat die studie onder geen omstandighede verleng word nie. Aan die Kommissie en Kuratorium word opgedra om voorsiening te maak dat die praktiese gedeelte gedurende die BD studiejare gedoen word.
    • Dat die professore die gemeentes sal besoek om in 'n gemeentevergadering die saak te stel (werwing van studente).
    • Predikante sal beroepsvoorligting gee aan matrikulante.
    • Gemeentes word aangemoedig om erflatings aan die Studiefonds te laat toekom.
    • Beurse sal verhoog word.
    • Latynstudie op hoërskole moet aangemoedig word.
    • Die vergadering vra die Fakulteit om jaarliks kort vakansiekursusse in die Teologie te organiseer wat bygewoon kan word deur diensdoende predikante.
    • Dominee J.J. Prinsloo Jsn is afgevaardig om professor Greyvenstein geluk te wens met sy verjaarsdag.

    As lede van die Kuratorium is verkies doktore H. Muller, E.S. Mulder, dominees L.M. le Roux, G.J.J. Roos, F.J. van Zyl, W.F.H. Huyzers en S.P.J.J. van Rensburg. Professor S.P. Engelbrecht het van die vergadering afskeid geneem aangesien dit die laaste sou wees wat hy as professor bywoon.

    17 Maart 1954

    Die Senaat keur die aanstelling van P.S. Dreyer as Senior Lektor in die Departement Wysbegeerte goed.

    23 April 1954

    Die Kuratorium verkies doktor E.S. Mulder as voorsitter en dominee W.F.H. Huyzers as vise-voorsitter. Die Administrateur sal as skriba optree. Daar is besluit om die Raad van Finansies te versoek om die jaarlikse studielening aan studente te verhoog na £70. Kennis is geneem dat professor S.P. Engelbrecht op verlof na Nederland vertrek, en hy is 'n behoue terugkoms toegewens.

    27 April 1954

    Die Fakulteit keur goed dat P.S. Dreyer inskryf vir DD en beveel doktorale status aan vir L.M. le Roux op grond van 'n doktorale eksamen in Utrecht, E.J.C. Verfeck op grond van 'n doktoraal eksamen aan die Vrye Universiteit van Amsterdam en B.R. Kruger op grond van 'n MDiv aan Unisa.

    31 Augustus 1954

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verwelkom professor S.P. Engelbrecht en hy doen verslag van sy besoek aan Holland: Hy is oorlaai met eerbewyse wat hy geaksepteer het vir die kerk, hy het namens die kerk 'n Bybel aan die koningin oorhandig, hy het die groete van die kerk oorgedra aan die sinode van die Nederlandse Hervormde Kerk, die sinode het aan hom twee pennings van die Dortse Sinode oorhandig, hy is ook ontvang deur die Classis Amsterdam, hy het 'n gedenkplaat in die Weeshuis Leeuwarden onthul ter gedagtenis aan dominee Van Belkum en 'n silwer teepot aan die weeshuis geskenk namens ons weeshuis, hy het die studente A.D. Pont, B.J. van die Merwe en C.J. Labuschagne wat daar studeer, ontmoet.

    14 September 1954

    Daar is besware teen die dosering van Bybelkunde, akademiese en teologiese gronde van aard, by die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte en ook die Fakulteit Teologie. Die Afdeling besluit om kerke te beveel om liewers self in die onderrig van Bybelkunde te voorsien en dat hulle aan studente wat aan die vereistes voldoen het, erkenning sal gee by wyse van 'n afsonderlike kerklike sertifikaat.

    07 Desember 1954

    Die Kommissie neem kennis dat professor Gemser op 17 Mei 1955 die aftree-ouderdom bereik vanuit 'n brief van die Universiteit. Daar is besluit om die Kuratorium te magtig om 'n opvolger te benoem. Hierdie vergadering het ook 'n onderhoud gehad met die rektor van die Universiteit van Pretoria, professor C.H. Rautenbach, oor die verhoogde bydrae wat van die kerk gevra word.

    13 Desember 1954

    Die Kuratorium neem kennis dat die Raad van Finansies nie die studielening kan verhoog nie weens gebrek aan fondse. Kennis is geneem van eksamenuitslae, die BD studente vaar oor die algemeen goed. A.J.G. Dreyer en J.J. Engelbecht is gelukgewens met hul uitslag van lof. Besorgdheid is weer uitgespreek oor die swak vordering van voorgraadse studente.

     

    1955

    17 Januarie 1955

    Die Kuratorium beveel doktor E.S. Mulder met algemene stemme aan as opvolger van professor B. Gemser.

    Egge Simon Mulder is gebore op die plaas Sukkelaar in die distrik Bethal op 13 Augustus 1905 as derde kind van die hoof van die plaasskool De Krans, Cornelis Egges Mulder en Elsabe van Rheede van Oudtshoorn. Hy geniet sy hele laerskoolopleiding in die plaasskool, en matrikuleer in 1923 aan die Hoogenhout Hoërskool op Bethal. Hy skryf in as teologiese student aan die Transvaalse Universiteitskollege en behaal in 1926 die BA-graad met Sielkunde en Wysbegeerte as hoofvakke, die BD graad in 1929. In hierdie jaar word hy aangestel as studente-assistent in Semitiese Tale en voltooi die studie. Op 30 Mei 1930 word hy georden as predikant van Zwartruggens. Daar tree hy in die huwelik met Elizabeth Jacomina Schutte. Vervolgens bedien hy die gemeente Bronkhorstspruit totdat hy op 24 Julie 1938 na Utrecht vertrek vir doktorale studie onder leiding van Johannes de Groot. Einde 1939 lê hy die doktorale eksamen af onder De Groot en Obbink, maar die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog verhinder dat hy sy proefskrif kan voltooi. Hy keer terug na Bronkhorstspruit, en bedien later nog die gemeentes Springs, Pretoria en Pretoria-Oos. Akademies het Mulder van vroeg af betrokke geraak toe hy van 1929 af telkens Semitiese Tale moes doseer. Tydens die afwesigheid van Van Selms in die jare 1940-1946 het Mulder saam met Gemser die verantwoordelikheid vir Semitiese Tale gehad. In 1953 het hy na Groningen vertrek waar hy onder T.H.C. Vriezen gepromoveer het met die proefskrif Die Teologie van die Jesaja-Apokalipse. Kerklik het Mulder vroeg 'n sterk rol begin speel, onder andere deur sy limaatskap van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering as vise-skriba oor die jare 1948–1953.

    22 Februarie 1955

    Die Fakulteit besluit dat P.S. Dreyer vrystelling verkry van Christelike Etiek op grond van sy studie in Groningen en dat hy Volkekunde onder professor P.J. Coertze mag aanbied as tweede byvak. Die titel van B.R. Kruger se proefskrif is goedgekeur en S.P. Engelbrecht is aangewys as promotor. Dominee C. van de Waal moet eers 'n eksamen ter bevrediging van die Fakulteit aflê voordat hy sy proefskrif kan indien.

    15 Maart 1955

    Mulder se benoeming word bekragtig deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. By dié geleentheid het dominee Johannes Dreyer die opmerking gemaak dat hy hom daaroor verbly dat Mulder reeds jare lank predikant was en gevolglik baie kan bydra tot die vorming van aanstaande predikante. Die Kommissie het op 'n wenk van doktor Mulder besluit om die Raad van die Universiteit te versoek om professor Gemser in tydelik-deeltydse hoedanigheid te kontinueer tot die einde van die jaar. Reëling van 'n afskeidgeleentheid vir Gemser is aan die Kuratorium toevertrou. Die Kommissie het op hierdie vergadering ook besluit, dat met die oog op die tekort aan fondse en die feit dat die uitgawe aan die opleiding steeds groter word en verder met die oog daarop dat sommige studente se ouers goed bemiddeld is, die Kuratorium versoek word om in die vervolg lenings so toe te ken dat die behoeftige studente beter gehelp kan word, en nie noodwendig aan alle studente lenings toegestaan word nie.

    Nadat die Kommissie 'n deputasie van teologiese studente te woord gestaan het, het die Kommissie besluit dat proefpreke voortaan in Junie gelewer moet word. Voorts het die Kommissie 'n voorstel aanvaar wat geformuleer is deur dominee Joh Dreyer en doktor P.S. Dreyer en wat uitvoerig handel oor die praktiese opleiding van studente onder andere deur inwoning in 'n pastorie en kennismaking met die gemeentelike praktyk in twee tydperke van drie weke, een in die vyfde en een in die sesde studiejaar, een in 'n stedelike en een in 'n plattelandse gemeente. Die Kuratorium is opgedra om die reëlings te tref.

    03 Mei 1955

    Die Fakulteit keur die aanstelling van E.S. Mulder in Ou Testamentiese Wetenskap goed.

    26 Mei 1955

    Die Kuratorium handel oor gebeure na aanleiding van politieke optrede van professore S.P. Engelbrecht en A.S. Geyser. Hulle het naamlik 'n petisie onderteken waarin daar beswaar gemaak word teen 'n wetsontwerp oor die vergroting van die Senaat van die land. Die wetsontwerp was bedoel om aan die regering die nodige meerderheid te besorg om kleurlinge van die algemene kieserslys te verwyder. Na verskyning van koerantberigte oor die petisie het die voorsitter en skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering 'n persverklaring uitgereik waarin hulle sterk afkeuring uitgespreek het oor die optrede van die betrokke professore, en verklaar het dat die kerk hom disassosieer van hulle optrede. Die verklaring is afgesluit met die woorde:

    Die Kerk betreur ten seerste die optrede van die twee professore wat hulle daardeur verbind het aan 'n party-politieke agitasie en so die verantwoordelikheid van hul hoë betrekking verontagsaam het.

    Professor S.P. Engelbrecht het betoog dat hy en Geyser die petisie in privaat hoedanigheid onderteken het en nie as professore van die kerk nie. Hy het regsadvies ingewin en is geadviseer dat die verklaring van die voorsitter en skriba lasterlik is, maar hy is nie van plan om 'n regsaksie in te stel nie. Die advies waarna hy verwys het, was van advokaat H.P. van Dyk, wat tot die slotsom gekom het dat die publikasie sonder twyfel lasterlik is. Nadat al die professore die vergadering verlaat het, het die Kuratorium besluit om die saak na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering te verwys vir afhandeling aangesien die opsig oor die dosente by die Kommissie berus.

    Die Kommissie het die volgende dag byeengekom in 'n spesiale vergadering. Die voorsitter en skriba het 'n skriftelike verslag ingedien waarin hulle hulle optrede soos volg gemotiveer het:

    Op Dinsdag 17 Mei het daar in die openbare pers 'n protesverklaring teen die voorgestelde Senaatswet verskyn. Die verklaring was onderteken deur dertien professore en dosente van die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Suid-Afrika. Twee van die ondertekenare was teologiese professore van ons kerk. Soos te verwagte was het die verklaring opskudding in kerklike kringe veroorsaak. Ondergetekendes is letterlik oorval deur telefoonoproepe van verontwaardigde kerkraadslede en predikante... Met die oog op al hierdie beroering het ondergetekendes beluit om 'n verklaring uit te reik... Ondergetekendes het tot die besluit geraak op die volgende gronde: a. dat dit reeds geruime tyd bekend gemaak is dat die die leier van die opposisie die aand van 16 Mei... sy protesveldtog van stapel sou stuur. Gelyktydig met hierdie loodsing van 'n partypolitieke veldtog deur opposisie word die protesverklaring van die 13 professore aan die pers oorhandig. Die verklaring word ook ingelei met die verklaring dat hulle nasionaliste en nasionaalgesindes is. Op genoemde gronde het ondergetekendes tot die slotsom geraak dat hierdie verklaring nie uitdrukking van 'n gevoelde gewetensbeswaar teen genoemde wetgewing is nie, en dat nie suiwer uit morele, godsdienstige en staatkundige oorwegings gehandel is nie. As dit wel die geval was sou dit nie nodig gewees het om hulle as partylede aan te kondig nie... Dit was daarom ons oorwoë mening dat dit 'n deelname is aan 'n politieke stryd oor 'n hoogs kontensieuse politieke vraagstuk. Ondergetekendes het op grond van die feit dat dit nog altyd die standpunt van ons kerk was dat die kerk wel die roeping het om teenoor owerheid en volk te getuig, die kerk dit altyd sal doen op die verhewe vlak van die Woord van God, en nie die van die partypolitiek nie. Daarom het die kerk dit nog altyd van sy Evangeliedienaars verwag dat hulle, hulle nie sal inmeng in die partypolitiek nie op 'n wyse waardeur hulle hoë roeping in die gedrang kan kom en die goeie orde in die gemeentes versteur word en die diens van die Evangelie belemmer word nie. Wat vir die leraars geld, geld natuurlik ook vir die hoogleraars van die kerk.

    Aan die Kommissie is ook voorgelees die betrokke protesverklaring, die persverklaring van die voorsitter en skriba, briewe en telegramme van predikante en lidmate waarin die optrede van die twee professore sterk afgekeur is. Die Kommissie het die verslag van sy voorsitter en skriba aanvaar en besluit om die professore op te roep om hulle standpunte te stel. Hulle kon egter nie telefonies bereik word nie, en is versoek om op die volgende gewone vergadering van die Kommissie teenwoordig te wees. Die Kommissie het ook kennis geneem van 'n brief van professor A. van Selms waarin hy vra of lede van die Fakulteit nie vry is om hulle standpunt oor staatkundige aangeleenthede uit te spreek nie. Hy het spoedig antwoord versoek aangesien dit sou bepaal of hy lid van die Fakulteit sal bly. Daarop was die besluit van die Kommissie dat hy op hoogte gebring sou word van die standpunt van die kerk en ook meegedeel sou word dat die Kommissie teleurgestel is met die bedekte dreigement in sy brief.

    14 Junie 1955

    Die voorsitter rapporteer aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering dat professore Engelbrecht en Geyser gewillig sou wees om die saak daar te laat as hulle nie voor die Kommissie hoef te verskyn nie. Die Kommissie het dit aanvaar maar nogtans besluit om aan professor Engelbrecht te skryf dat die Kommissie dit betreur dat hy gedreig het met 'n hofsaak teen die voorsiter en skriba. Aan die Kuratorium het die Kommissie laat weet dat hy met die persverklaring van die voorsitter en skriba volstaan en die saak as afgehandel beskou.

    16 Junie 1955

    Die Raad boekstaaf sy dank en waardering teenoor professor Gemser wat op 30 Junie 1955 aftree, vir die jarelange getroue diens, vir die hoë gehalte van sy akademiese werk en vir die bydrae wat hy gelewer het om die naam van die Universiteit hoog te hou.

    19 Augustus 1955

    Die Kuratorium besluit om die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering te versoek om so gou moontlik 'n broederlike samespreking te hou met die Kuratorium en die professore oor die moeilikhede wat ontstaan het tussen die Kommissie en die professore.

    06 September 1955

    Die samespreking word gevoer. Na 'n tyd van bespreking het professor Engelbrecht die volgende aan die hand gedoen as 'n oplossing: 'Dat die Kommissie besluit dat alles wat in verband met hierdie saak sedert 21 Mei 1955 gepraat en geskryf is deur die Kommissie as nie gepraat en geskryf beskou word'. Hy sal dan hiermee tevrede wees en met Die Transvaler onderhandel om tot 'n skikking oor die hangende hofsaak te kom.

    Engelbrecht het inderdaad op 25 Julie 1955 'n eis ten bedrae van £2000 teen Voortrekkerpers ingedien. Die volgende dag het die Kommissie besluit om aan die here professore mee te deel dat die Kommissie

    die versekering van professor Engelbrecht aanvaar dat dit nie sy bedoeling was om die voorsitter en skriba met die hof te dreig nie en in die lig hiervan neem die Kommissie sy vorige besluit in dié verband terug.

    Die Kommissie aanvaar ook die versekering van die professore dat dit nie hulle bedoeling was om die kerk met hulle verklaring in die koerant in die gedrang te bring nie'.Die kerk verwag van professor Engelbrecht die versekering dat hy nie sal voortgaan met sy hofgeding teen die Voortrekkerpers nie want op die wyse sal die kerk weer in die gedrang kom.

    Nadat hierdie besluit aan die twee professore meegedeel is, is die volgende besluit tot bevrediging van die Kommissie en altwee professore geneem:

    Nadat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering 'n lang en broederlike samespreking met die Kuratorium en al die professore gehad het, aanvaar die Kommissie die versekering van professor SP Engelbrecht dat hy nooit die voorsitter en skriba met 'n hofaksie gedreig het of van plan was om hulle daarmee te bedreig nie. Op grond van die verklaring van proff Engelbrecht en Geyser dat hulle dit jammer vind dat hulle ondertekening van die petisie teen die voorgenome Senaatswetsontwerp saamgeval het en geassosieer is met 'n partypolitieke veldtog teen genoemde wetsontwerp en op grond van hulle versekering dat hulle nooit deelgeneem het of bedoel het om deel te neem aan 'n partypolitieke agitasie nie, aanvaar die vergadering hulle versekering en besluit hy om te notuleer dat hy die tweede gedeelte van die verklaring rakende die twee professore in Die Transvaler van die 21st Mei 1955 terugneem. [Daarmee was hierdie storm vereers verby, duidelik tot verleentheid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, wie se voorsitter en skriba in die hitte van die politieke situasie van destyds dalk 'n bietjie oorhaaastig was met hulle persverklaring, en ook nie versigtig was met die bewoording nie. Die politieke alliansies van hulle albei was bowendien alombekend.]

    Die Kommissie het op sy vergadering van 06 September 1955 ook nog vir dominee A.J.G. Oosthuizen benoem as verteenwoordiger van die Kerk op die Raad van die Universiteit, in die plek van doktor E.S. Mulder wat nou dosent sou word.

    19 Augustus 1955

    Die Kuratorium besluit om 'n broederlike samespreking met die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aan te vra oor die moeilikhede wat tussen die Kommissie en die professore ontstaan het. Hierdie vergadering het ook kennis geneem dat A.D. Pont intussen gepromoveer het en dat C.J. Labuschagne en B.J. van die Merwe goed vorder met hulle studie in Holland.

    03 November 1955

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering stel doktor B.J. van der Merwe beroepbaar na sy terugkeer en suksesvolle promosie in Groningen.

    24 November 1955

    Die Raad neem kennis dat dominee A.J.G. Oosthuizen deur die Nederduitsch Hervormde Kerk benoem is as sy verteenwoordiger op die Raad in die plek van doktor E.S. Mulder wat vanaf 01 Februarie as professor benoem is, en dat professor J.H. Greyvenstein deur die Goewerneur-Generaal op die Raad herbenoem is vir die tydperk 10 Oktober 1955 tot 09 Oktober 1959.

    05 Desember 1955

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering ontvang verslag van sy verteenwoordiger op die reëlingskomitee vir die voorgenome volkskongres oor die Tomlinsonverslag, professor P.J. Coertze, en besluit om 'n geldelike bydrae te maak vir die oproep van die kongres.

     

    1956

    31 Januarie 1956

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering benoem dominee S. Vermooten as lid van die Kuratorium in die plek van doktor E.S. Mulder. Hierdie vergadering het in antwoord op 'n skrywe van doktor P.W. Venter oor die vraag of hy as predikant openlik en daadwerklik aan die partypolitiek kan deelneem, geantwoord dat dit nie mag nie. Die vergadering het ook kennis geneem dat volgens koerantberigte professor A.S. Geyser aktief aan partypolitiek deelneem, en het die Kuratorium versoek om daaraan aandag te skenk.

    28 Februarie 1956

    Die Fakulteit aanvaar die proefskrifte van dominee B.R. Kruger Die Ontstaan van die Gereformeerde Kerk in SA en D. van der Waal Oudtestamentsche Priesterlijk Motieven in de Apocalyse.

    04 Maart 1956

    Professor E.S. Mulder hou sy intreerede.

    12 April 1956

    Die Raad besluit om voortaan formuliergebede te gebruik by opening en afsluiting van sy vergaderings.

    14 April 1956

    Professor B. Gemser voer die rede by die gradeplegtigheid van die Universiteit. Sy rede, getitel 'Vereensaamde Wetenskap' is in brosjurevorm gepubliseer deur die Universiteit.

    09 Mei 1956

    Die Fakulteit bekragtig die uitslag van F.J. van Zyl se doktorale eksamen.

    14 Junie 1956

    Die Kuratorium kies dominee W.F.H. Huyzers as voorsitter. Na magtiging deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering handel die Kuratorium oor die benoeming van 'n opvolger vir S.P. Engelbrecht. Die keuse was uiteindelik tussen J.A.A.A. Stoop en A.D. Pont. Die professore het 'siende' die besondere studie van doktor Pont hom as kandidaat aanbeveel, en die Kuratorium het dit eenparig aanvaar.

    Adrianus Drost Pont is gebore in Kroonstad op 21 September 1927 as oudste seun van 'n Hollandse immigrantepaar Johannes Wilhelm Pont en Jeanne Louise Agatha Drost. Johannes Wilhelm Pont was 'n seun van professor J.W. Pont, 'n Lutherse teologiese professor in Holland wat sekretaris van die Studiefonds vir SA studente en voorsitter van die Nederlands Suid-Afrikaanse vereniging was. Adriaan Pont het skoolgegaan in Fauresmith, Grahamstad, Pretoria-Oos Laerskool en het gematrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hy het die BA BD studie aan die Universiteit van Pretoria afgehandel in die jare 1944–1949. Gedurende sy studentejare was hy lid van die Binnemuurse Studenteraad, sekretaris van die Sentrale Studenteraad en in 1950–1951 voorsitter van die Studenteraad. In 1949 was hy ook voorsitter van die Dagstudente Huiskomitee en assessor van die Van der Hoff Teologiese Vereniging. By voltooiing van sy studie was hy te jonk om beroepbaar gestel te word [Die Kerkwet het destyds vereis dat 'n kandidaat vir die heilige diens minstens 23 jaar oud moet wees], en hy het as proponent die gemeente Silverton bearbei gedurende 1950. Terselfdertyd pak hy die MA studie aan met Grieks as hoofvak. Hy ontvang ook die Abe Bailey studiebeurs en vertrek in 1951 na Engeland, daarna na Utrecht waar hy van Januarie 1952 tot Junie 1955 doktorale studie doen. In 1952 voltooi hy die MA studie met lof onder leiding van professor P.V. Pistorius (deur korrespondensie) met 'n verhandeling oor Die Britse Museum Papyri nos 19131919, van 'n inleiding, vertaling, en enkele aantekenimge voorsien. Op 30 Junie 1955 promoveer hy onder professor M. van Rhyn met die proefskrif Nicolaas Jacobus van Warmelo 1835–1892. In 1952 was hy mede-oprigter en voorsitter van Die Genootskap van Afrikaners in Utrecht en help hy beplan aan die Van Riebeeckfees in Culemborg. Saam met twee ander Suid-Afrikaners publiseer hy in 1954 die boek Suid-Afrikaners in Utrecht 17621954. Na sy terugkeer in Julie 1955 aanvaar Pont 'n beroep na die gemeente Elsburg waar hy werk totdat hy op 01 Februarie 1957 diens aanvaar as hoogleraar. Later daardie jaar het die ramp hom getref dat sy boekery tesame met sy persoonlike besittings in 'n brand vernietig is. Hy is in April 1958 getroud met Leonie Jansen van Vuuren, uit 'n Voortrekkergeslag, wat mede daartoe gelei het dat hy hom volkome vereenselwig het met die kutureel-politieke erfenis van die Afrikaner.

    Op dieselfde vergadering het die Kuratorium gehandel oor die skrywe van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor die partypolitieke optrede van Geyser. Dit het geblyk dat hy wel lid is van die SA Bond en die Suid-Afrika Eerste Beweging en hy het dit as sy burgerreg beskou om sy mening uit te spreek oor politieke aangeleenthede. Die Kommissie het vir die huidige volstaan met 'n vorige besluit van die Kommissie, naamlik dat die Kerk van sy leraars en hoogleraars verwag dat hulle in die eerste plek aan die evangelie van Jesus Christus gebonde is en ook wat hulle optrede in die politiek aangaan nooit so moet optree dat die evangelie geskaad word nie.

    Die vergadering het 'n voorstel van professor Van Selms aanvaar wat die Kommissie versoek het om 'n gemotiveerde rapport met definitiewe konklusies te laat opstel oor die verhouding tussen die Kerk en Politiek.

    16 Junie 1956

    Die Fakulteit bekragtig die uitslag van P.S. Dreyer se doktorale eksamen.

    06 September 1956

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gee aan dominee Joh Dreyer opdrag om 'n studie te maak van die vraag oor die predikant en die politiek.

    11 September 1956

    Die Fakulteit beveel vir H.P. Wolmarans aan as dekaan en onderskryf die benoeming van A.D. Pont.

    03 Oktober 1956

    Die Senaat neem afskeid van professore S.P. Engelbrecht en E.M. Robinson as twee van die laatse oorblywende lede van die Transvaalse Universiteitskollege en boekstaaf sy dank teenoor hulle.

    25 Oktober 1956

    Die Raad keur goed dat Bybelkunde as 'n tweejarige graadkursus in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte vanaf 1958 ingestel word maar dat dit nie 'n hoofvak sal wees nie en dat die doseerwerk aan dosente in die Fakulteit Teologie opgedra word. Alleen bona fide kandidate vir die onderwys sal toegelaat word om die kursus te volg.

    Die leerplan is soos volg vasgestel:

    • Eerste jaar: a. Aardrykskunde en Argeologie van Bybellande, b. Bybelse Geskiedenis en Kronologie van die Ou en Nuwe Testament met aandag vir die kultuurhistoriese agtergrond van altwee, c. Ontstaan en Bewaring van die Ou Testament en die Nuwe Testament, d. Die godsdienstige gedagtewêreld van die Bybel.
    • Tweede jaar: a. Inleiding tot die Ou Testament, b. Inleiding tot die Nuwe Testament, c. Voorgesette Bybelse Geskiedenis met aandag aan die Kultuurhistoriese agtergrond van die Bybel, d, Die godsdienstige gedagtewereld van die Bybel.

    14 November 1956

    S.P. Engelbrecht aanvaar emeritaat met 'n afskeidsdiens in die kerkgebou van Pretoria. Hy het dieselfde teks gebruik as vir sy proefpreek, naamlik Hebreërs 13:8. (Die teks van die preek is gepubliseer in Die Hervormer van Januarie 1957). Die voorsitter van die Algemene Kerkvergadering, dominee A.J.G. Oosthuiuzen, het daarna die woord gevoer en 'n adres namens die kerk aan Engelbrecht oorhandig. Die volgende aand, 15 November 1956, is 'n afskeidsdinee vir hom aangebied in die Hotel Culemborg. Onder die gaste was oud-minister N.C. Havenga, minister J.H. Viljoen en die Ambassadeur van Nederland. Professor C.H. Rautenbach het namens die Universiteit die woord gevoer, D.F. Erasmus namens die studente, en professor B. Gemser het die heildronk ingestel. Tevore het Engelbrecht in die kerkgebou van Pretoria-Oos (tans van Philadelphia) vir oudstudente 'n afskeidslesing gehou oor die geskiedenis van kerkgeskiedskrywing in SA.

    28 November1956

    Die Fakulteit besluit om die S.P. Engelbrecht-Erepenning aan A.D. Pont toe te ken.

    06 Desember 1956

    Die afskeidsfunksie vir professor Gemser vind plaas. Gemser het in 1957 verhuis na Groningen as opvolger van Th.C. Vriezen wat na Utrecht verhuis het. Daar het Gemser sy akademiese loopbaan afgesluit toe hy in 1960 emeritaat aanvaar het. Na sy vestiging in Groningen het hy voortgegaan met wetenskaplike publikasies in verskillende tydskrifte.

     

    1957

    01 Februarie 1957

    Die Kuratorium verwelkom vir A.D. Pont wat die eerste keer teenwoordig is. Hierdie vergadering het 'n bespreking gewy aan die probleem van geestelike vorming van toekomstige predikante. Die voorsitter en skriba van die Algemene Kerkvergadering het deelgeneem aan die bespreking. Die Skriba, dominee T.F.J. Dreyer, het gesê die Kommissie dra kennis daarvan dat die wetenskaplike vorming so is dat almal daar trots op kan wees, maar die skyn bestaan dat daar nie genoeg deur die kerk gedoen word vir die geestelike vorming van die studente nie. Die voorsitter, dominee A.J.G Oosthuizen, het daarop gewys dat die studente vir die eerste drie jaar oorgelewer word aan die groot groep studente en deur hulle geïndoktrineer word. Die dekaan, professor H.P. Wolmarans, het gesê die vak Praktiese Teologie en die onderrig van die student oor sy toekomstige taak moet apart gesien word. Professor Geyser was van mening dat die vry verkeer onder studente ook sy vormende invloed het. Daar moet gewaak word teen die kweekskool-idee. Hy kan nie anders as om die eerste drie jaar ook as 'n siftingsperiode te sien nie. Die vergadering het besluit dat die professore die saak moet bespreek en 'n rapport moet uitbring en dat die volgende byeenkoms van die Kuratorium aan hierdie saak gewy moet word. Op versoek van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die professore ook opdrag gekry om in te gaan op die moontlikheid van Buitemuurse studie in die Teologie met die oog op die tekort aan predikante.

    15 Februarie 1957

    A.D. Pont woon sy eerste fakulteitsvergadering by, maar volgens die notules is hy eers op die volgende vergadering op 27 Februarie deur die Dekaan verwelkom.

    07 Maart 1957

    Die 52ste Algemene Kerkvergadering open. Dominee A.J.G. Oosthuizen is as voorsitter, dominee T.F.J. Dreyer as skriba, dominee J.G.M. Dreyer as vise-voorsitter en dominee A.J. Nolte as vise-skriba verkies. Op hierdie vergadering was teenwoordig doktor Emmen, gedelegeerde van die Nederlandse Hervormde Kerk. In sy openingsrede het dominee Oosthuizen gedagtes uitgespreek wat telkens na vore sou kom in die volgende jare: 'Die groot nood is nie kos en klere en stemreg nie, maar dat ons deur die sonde van God vervreem is... Die kerk se taak is nie sosiale hervorming nie.'

    Dominee Oosthuizen het die kerk verteenwoordig op die tweede vergadering van die Wereldraad van Kerke te Evanston op 15–31 Augustus 1954. Die volgende aanbevelings van hom is deur die Algemene Kerkvergadering aanvaar:

    • Dat ons Kerk meer aktief moet deelneem aan die werk van die Wêreldraad van Kerke en dat in die vervolg nie alleeen een afgevaardigde nie maar minstens twee gestuur sal word.

    • Dat 'n diepgaande studie gemaak sal word van die vrae, (1) wat die kerk se beskouing van die wêreld, die Christelike hoop en Christus as die Hoop van die wêreld is, (2) wat verstaan ons onder die eenheid van die kerk en (3) watter Bybelse gronde is daar vir of teen ons beleid aangaande die skeiding van rasse op grond van kleur.

    Die vergadering het ook besluit dat 'n Raad vir Ekumeniese Sake benoem sal word om voortdurende studie van die saak te maak. Etlike teenstemme teen hierdie besluite is aangeteken. 'n Uitvoerige motivering van die teenstem van dominees D.F. Erasmus snr, J.J. Engelbrecht, T.N.H. Janson, J.P.B. Viljoen, D.F. Erasmus jnr, P.J.J. Venter, professor H.P. Wolmarans en ouderlinge C.J. Botma en H.J. Visser is opgeneem in die notule van die vergadering, bladsye 37–42.

    Die verslag van die Kuratorium is aanvaar, met dank aan die gemeente Pretoria vir die stigting van 'n studiefonds by geleentheid van die eeufeesviering van die gemeente. Die vergadering het besluit dat proefpreke gedurende die eerste semester gehou moet word. Op die Kuratorium is verkies dominees L.M. le Roux, G.J.J. Roos, J.J. Prinsloo Jsn, S.P.J.J. van Rensburg, S. Vermooten, S.P. Viljoen en doktor C.K. Oberholzer.

    11 April 1957

    Die Raad keur die instelling van BA Hons grade goed.

    24 April 1957

    Dominee Johannes Dreyer se rapport oor politieke bertrokkenheid van predikante dien voor die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Die Kommissie het sy instemming betuig en besluit om die stuk in Die Hervormer te publiseer. Dit het verskyn in Die Hervormer van Junie 1957. Wat die kerk as liggaam betref, is voorkeur gegee aan die gedagte dat die kerk 'n roeping het om die soewereiniteit van God oor elke terrein van die lewe uit te roep en geroepe is om die dade van die owerhede en van die volke te toets aan die Woord van God, dat die kerk hom egter nie mag vereenselwig met een of ander politieke party nie, want dan sou hy sy kritiese funksie en vryheid verloor en die gevolge van bepaalde partypolitieke optredes oor homself bring. Wat kerkraadslede betref, word gestel dat daar geen beswaar is dat hulle aktief gemoeid sal wees met partypolitiek nie, en dat dit selfs as wenslik beskou word met dien verstande dat deelname op 'n waardige wyse sal geskied. Hierdie vryheid word egter nie aan predikante gegun nie. Hulle posisie as die mondstukke en eerste verteenwoordigers van die kerk maak dit nie wenslik nie. Die vryheid van 'n predikant om partypolitieke opinies daarop na te hou, word erken, maar die kerk kan wel van hulle verwag om nie aktief daaraan deel te neem nie. Die band tussen 'n predikant en 'n politieke party moenie te nou wees nie. As 'n predikant hom in sy gewete verplig voel om te getuig teen die optrede van een of ander party, mag dit nie oorhaastig geskied nie en liefs nie sonder raadpleging van sy kerklike instansies nie.

    Op 'n spesiale vergadering van die Fakulteit waarby die rektor ook teenwoordig was, is die S.P. Engelbrecht-Erepenning aan Pont oorhandig deur S.P. Engelbrecht self.

    17 Junie 1957

    Die Kuratorium vergader. Dominee S. Vermooten word as voorsitter en dominee J.J. Prinsloo Jsn as vise-voorsitter verkies. Kennis is geneem dat professor A.D. Pont sy intreerede gehou het tydens die sitting van die Algemene Kerkvergadering. Die dekaan, professor Wolmarans, en sy eggenote het daarna 'n gesellige ontvangs by hulle aan huis gereël. Die Kuratorium het kennis geneem van 'n verslag van die professore oor die Praktiese Teologie en het besluit om aan te beveel dat 'n dosent benoem sal word vir Praktiese Teologie. Die professore het ook verslag gedoen oor die geestelike versorging van die teologiese studente, en het die Kuratorium verseker dat die sedelike en godsdienstige lewe van die studente wat tans ingeskryf is, geen rede vir sorg van die kant van die Kuratorium hoef te gee nie. Die professore het beplan om BA studente deur middel van oriënterende en inleidende lesings voor te lig oor die teologiese studie en die ampspraktyk van die predikant en om die ingeskrewe teologiese studente in vyf groepe te verdeel wat elk aan 'n teologiese professor as mentor toegewys sal word. Die Kuratorium het sy instemming met die voorneme betuig en dit sy besluit gemaak. Wat proefpreke betref, het die vergadering van professore die Kuratorium daarop gewys dat die besluit van die Algemene Kerkvergadering die studente baie nadelig sal tref.

    17 Junie 1957

    Die Fakulteit vergader aan huis van professor Wolmarans en benoem die professore van Ou Testamentiese Wetenskap en Nuwe Testamentiese Wetenskap as dosente in Bybelkunde.

    20 Junie 1957

    Die Raad gee opdrag aan 'n komitee met die rektor as voorsitter en waarop professor S.P. Engelbrecht ook dien, om 'n beknopte geskiedenis van die Pretoriase Universiteitsinrigting saam te stel ter viering van die vyftigste herdenking van die Akte van Inkorporasie van die Transvaalse Universiteitskollege op 27 April 1910 deur die destydse Goewerneeur-Generaal.

    24 Julie 1957

    Professor A.S. Geyser het in 'n brief aan Die Vaderland standpunt ingeneem oor die sogenaamde kerkklousule. Hierdie klousule in die Naturelle-wysigingswetsontwerp is deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering op 24 April 1957 gebillik met die volgende besluit:

    Dat die standpunt van ons kerk is dat die kerk ten volle die beginsel van apartheid ook in die kerke onderskryf en dat die Minister telegrafies so verwittig sal word; verder dat die kerk sy waardering vir die optrede van die Minister in die verband betuig, terwyl die kerk die versekering van die Minister aanvaar dat hy met die artikel nie die reg van vrye spraak aan bande wil lê nie.

    In dieselfde byeenkoms het die Kommissie 'n Herderlike Skrywe goedgekeur waarin hy beklemtoon dat die kerk in die uitvoering van sy taak hom stiptelik moet hou aan Artikel III van die Kerkwet, wat soos volg gelui het:

    Die Kerk, bewus van die gevare wat vermenging van blank en nie-blank vir altwee groepe inhou, wil geen gelykstelling in sy midde toelaat nie, maar be-oog die stigting van eie volkskerke onder die verskillende volksgroepe, in die oortuiging dat aldus die bevel van die Here – Maak dissipels van al die nasies, Mat 28:19, die beste tot sy reg sal kom en dat die eenheid in Christus deur so 'n werkverdeling nie geskaad sal word nie. Tot die Nederduitsch Hervormde Kerk behoort daarom slegs blanke persone.

    Die skrywe lui verder onder andere:

    Die Kommissie wil ten sterkste beklemtoon dat niemand ter wille van valse vroomdoenery of watter ander rede ook mag handel in stryd met hierdie artikels van ons Kerkwet nie. Ons Kerk verwelkom dan ook die optrede van die landsowerheid en is dankbaar dat die betrokke minister 'n wet gemaak het om te voorkom dat hierdie beginsel wat al so lank deur ons Kerk aanvaar is, verontagsaam sal word.

    Die Kommissie het op 11 Junie 1957 aan drie van sy lede opgedra om 'n herformulering van Artikel III op te stel vir voorlegging aan die Algemene Kerkvergadering ter gelegener tyd. Hierdie herderlike skrywe het beswaar ontlok van dominees H.J. Geyser, J.A. Don, K. Papp, doktor J.A.A.A. Stoop en professor A.S. Geyser. Hulle het die Kommissie ontmoet op 10 September 1957. Dominee H.J. Geyser het namens die ander die standpunt gestel dat die owerheid hoegenaamd geen reg het om in te gryp in verband met die hou van godsdiensoefening nie. Hulle voel onrustig oor die interpretasie van Artikel III deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering soos uiteengesit in die herderlike skrywe. Die betrokke artikel is deur die herderlike skrywe verhef tot beginsel wat ten volle op Gods Woord gegrond is en dat die skrywe ook die gewetens bind, verder dat die skrywe ook in stryd is met Artikel 32 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Die voorsitter, dominee Oosthuizen, het daarop gewys dat die Kerkwet bindend is en dat die bedoeling van die 'kerkklosule' in die wet van 1957 aan die minister geen mag gee om in die bedrywighede van 'n kerk in te gryp nie; die minister kan slegs optree wanneer gemengde godsdienstige samekomste 'n oorlas word en die betrokke plaaslike owerheid die minister adviseer om so 'n gemengde samekoms te verbied. Die kerkraad van Plaston het op grond van die brief in Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Die Kuratorium het ook besluit om die Kommissie te versoek om dit daartoe te lei dat 'n kerklike gesprek oor die hele aangeleentheid van Artikel III en aanverwante sake gevoer sal word.

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die klag van Plaston teen professor Geyser behandel op 10 September 1957. Die voorsitter van die kerkraad, dominee J.P.B. Viljoen, het die saak gestel, en professor A. van Selms en doktor J.A.A.A. Stoop het getuig dat in die Ou Testament en die oudste kerk daar nie gronde gevind word vir etniese skeiding in die kerk nie. Die Kommissie het uiteindelik die volgende besluit geneem:

    Die Kommissie is van oordeel dat die saak waaroor die klag eintlik gaan, van veel groter omvang is as wat deur die punte in die klagskrif soos hulle geformuleer is, na vore gebring word. Daarom besluit die Kommissie na ernstige beraad om geen uitspraak te gee oor die klagtes soos in die klagbrief genoem nie, maar om die volgende verklaring uit te reik:
    A. Dat die kerk in sy Belydenisskrifte en Formuliere, sy amptelike uitsprake sowel as sy Kerkwet in gehoorsaamheid aan Gods Woord spreek, en dat al die uitsprake bindend is vir almal wat tot die kerk behoort en deur almal gerespekteer moet word, tot tyd en wyl die kerk 'n ander uispraak gee.
    B. Dat die kerk deur sy bepalings die teologiese denkarbeid en ondersoek geensins aan bande wil lê nie, en dat daarom in die kerk ook die amp van die Doctores of Hoogleraars bestaan aan wie die teologiese arbeid as besondere taak opgedra is.
    C. Dat, hoewel ouderlinge en leraars die taak het om voortdurend Gods Woord te ondersoek, dit die besondere taak van die hoogleraars is om hierdie arbeid in diens van die kerk te verrig, sodat hulle gedurig die kerk kan adviseer en sodoende help om 'n suiwere en regte woord te spreek ooreenkomstig Gods Woord. Dit staan enige ampsdraer of lidmaat vry om die vrugte van sy teologiese studie in die daarvoor geskikte organe te publiseer en te bespreek in bevoegde kerklike vergaderings.
    D. Geen ampsdraer of lidmaat is egter geregtig om enige leer of teologiese beskouing te verkondig of te leer in openbare vergaderings of van kansels of van die kateder of in die openbare pers of op ander dergelike wyse nie, as die leer wat hy so verkondig strydig is met die uitspraak van die kerk soos vasgelê in sy belydenisskrifte, formuliere, amptelike besluite of Kerkwet.
    E. Dat ten einde die goeie orde in die kerk te bevorder en te voorkom dat onnodige skadelike misverstande en beroeringe in die kerk sal ontstaan deur onversigtige en onverantwoordelike optrede van ampsdraers, word hierdie verklaring aan alle hoogleraars en predikante en kerkrade gestuur, met die opdrag om ooreenkomstig te handel.
    Verder besluit die Kommissie om aan Plaston te antwoord dat die Kommissie vertrou dat hulle die verklaring sal aanvaar as antwoord op die klag en daarby sal berus.
    Aan Professor Geyser sal geantwoord word dat die Kommissie bevind dat hy 'n onversigtigheid begaan het waardeur misverstand en ontevredenheid veroorsaak is wat skadelik vir die diens van die evangelie kan wees. Die Kommissie wil hom dus dringend versoek om met groter versigtigheid te handel en in ooreenstemming met die verklaring wat deur die Kommissie gemaak is.

    Professor Geyser het op hierdie besluite gereageer in twee briewe, gedateer 17 Oktober en 03 Desember 1957, waarin hy navraag doen oor bepaalde uitdrukkings in die besluite. Die Kommissie het besluit dat hy niks wil byvoeg by sy skrywe nie.

    06 Augustus 1957

    Die Fakulteit beveel vir H.P. Wolmarans aan as dekaan. Die vergadering het ook 'n voorstel van Afdeling B aanvaar oor Bybelkunde, naamlik dat Afdeling A verantwoordelik sal wees vir Ou Testament en Afdeling B vir Nuwe Testament, en dat oor en weer as eksterne eksaminatore opgetree sal word.

    03 September 1957

    Die Fakulteit bekragtig die uitslag van J.I. de Wet se doktorale ekesamen.

    10 September 1957

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verwelkom professor S.P. Engelbrecht terug na 'n studiereis in die buiteland. Hy het die groete van die Kerk oorgedra aan die Nederlandse Bybelgenootskap en aan die sinode van die Nederlandse Hevormde Kerk, en het groete van dié liggame teruggebring, asook van doktor Gravemeyer en doktor Emmen.

    19 September 1957

    Die Fakulteit bekragtig die uitslag van P.G. Geertsema se doktorale eksamen.

    21 November 1957

    Die Raad neem kennis dat die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap nie beswaar het teen die instelling van Bybelkunde as graadvak nie en keur goed dat professore E.P. Groenewald en E.S. Mulder die doseerwerk sal waarneem. Professor Mulder het sy opdrag afgewentel op J.P. Oberholzer, wat saam met professor Groenewald die vak gevestig het.

    03 Desember 1957

    Die kerk het hom in hierdie tye toenemend in die ekumeniese branding bevind. In sy sitting op dié datum het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering 'n memorandum aan die Sentrale Komitee van die Wereldraad van Kerke goedgekeur. Die memorandum is opgestel deur die voorsitter, dominee A.J.G. Oosthuizen. Dit was 51 jaar nadat teologiese opleiding begin het. In dié tydperk het volgens 'n berekening van destyds 244 persone ingeskryf vir die studie, waarvan 157 (64%) die studie voltooi het. Van die 157 het 9 die studie in 5 jaar voltooi, 85 in ses jaar (50% van die ingeskrewe getal), 34 in 7 jaar, 13 in 8 jaar, 5 in 9 jaar, 2 in 10 jaar, terwyl nog twee langer geneem het.

     

    1958

    06 Februarie 1958

    Die Kuratorium neem kennis dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering nie die instelling van 'n leerstoel vir Praktiese Teologie goedgekeur het nie, en neem ook kennis van 'n voorstel om die werk in hierdie verband tussen die bestaande professore te verdeel.

    18 Februarie 1958

    Die Fakulteit neem kennis dat 21 studente vir Bybelkunde ingeskryf het. Aansoeke vir doktorale studie van D.J.A.G. du Toit en J.A. Don in Nuwe Testament en van J.P. Oberholzer in Ou Testament is goedgekeur. Op 09 April 1958 is W.C. van Wyk se aansoek om reeds in sy vierde jaar vir MA Semitiese Tale in te skryf, goedgekeur 'op grond van sy buitengewone prestasie'.

    26 Mei 1958

    Die Fakulteit formuleer wysigings van die regulasies vir voorlegging aan die Senaat. Die leergang vir die BD graad het nou soos volg daar uitgesien:

    • Ou Testament 1ste jaar Eksegese, Inleiding, Argeologie, 2de en 3de jaar Eksegese, Inleiding, Teologie.
    • Nuwe Testament 1ste en 2de jaar Eksegese en Inleiding, Teologie, 3de jaar Eksegese, Inleiding en Kanongeskiedenis.
    • Geskiedenis van die Christendom 1ste jaar Kerkgeskiedenis, Dogmengeskiedenis, 2de en 3de jaar Kerkgeskiedenis, Kerkreg, Dogmengeskiedenis.
    • Dogmatiek 1ste tot 3de jaar.
    • Christelike Etiek 1ste jaar.
    • Godsdienswetenskap Godsdiensgeskiedenis 1ste en 2de jaar, Fenomenologie 1ste en 2de jaar, Sielkunde van die godsdiens 2de en 3de jaar Wysbegeerte van die godsdiens 2de en 3de jaar.
    • Sendinggeskiedenis en Sendingteorie, 1ste tot 3de jaar.
    • Ensiklopedie van die Teologie 2de jaar.
    • Onafhanklike studie 3de jaar.

    29 Julie 1958

    Die Fakulteit aanvaar die proefskrif van P.J.T. Koekemoer nadat die vereiste korreksies aangebring is. Die onderwerpe van P.S. Dreyer:'n Kritiese studie van die begrippe Geskiedenis en Openbaring in die werke van Arnold J Toynbee en F.J. Van Zyl Die Analogia Entis. 'n Godsdiensfilosofiese Studie is goedgekeur.Albei titels is later verander om soos volg te lui: Gekiedenis en Openbaring. 'n Kritiese studie van die beskouings van Arnold J. Toynbee en Die Analogia Entis. 'n Godsdiensfilosofiese ondersoek.

    03 September 1958

    Die Senaat betuig sy dank aan professore H.P. Wolmarans en E.P. Groenewald vir die leiding van die roudiens ter gedagtenis van advokaat J.G. Strydom op 25 Augustus 1958, en neem kennis dat 'n roudiens in Toronto gelei is deur die rektor, professor C.H. Rautenbach.

    23 September 1958

    Die Fakulteit het die volgende onderwerpe vir proefskrifte goedgekeur: J.I. de Wet: Die begrip van die leiding van die Heilige Gees by die Afrikaanse Kerke soos dit tot uitdrukking kom in die kerklike en teologiese publikasies. 'n Studie in die Pneumatologie. P.G. Geertsema: Enkele Christelik-etiese aspekte van die Dekaloog met betrekking tot die Sending.

    26 September 1958

    Die Raad wens die rektor, professor C.H. Rautenbach, geluk met die ontvangs van 'n ere doktoraat van die Universiteit van Montreal.

    06 November 1958

    Die Vergadering van Professore gee kennis dat hulle die voorstel van professor Geyser aanvaar het dat hy die werk in Praktiese Teologie sal bly behartig totdat 'n dosent vir die doel aangestel word. Die jaarverslag van die dekaan vir 1957–1958 meld dat 15 studente met BD studie, 45 met BA studie en 11 met DD besig was.

     

    1959

    27 Januarie 1959

    Die Fakulteit bekragtig die finale uitslae vir DD. P.S. Dreyer het geslaag en S.P.J.J. van Rensburg sowel as F.J. van Zyl het met lof geslaag.

    17 Februarie 1959

    Die Fakulteit besluit dat hy dit as essensieel beskou dat BD studente die kursus in Na-Bybelse Joodse Literatuur bywoon wat deur professor honorêr J. Newman aangebied sal word. Die Senaat het egter versoek dat die besluit moet oorstaan totdat die werksaamhede van 'n honorêre dosent noukeuriger omskryf is. Professor A.D. Pont het 'n handleiding voorsien vir die verwysingsisteem in proefskrifte en dit is deur die Fakulteit goedgekeur. Die aansoek van dominee C.J. Labuschagne om vrystelling van die doktorale eksamen op grond van die eksamen wat hy in 1955 in Groningen afgelê het, is goedgekeur.

    18 Mei 1959

    Die dienstyd van professor H.P. Wolmarans sou verstryk teen einde 1959. Die Kuratorium het agter geslote deure aan die benoeming van 'n opvolger aandag gegee. Die Vergadering van Professore het doktor F.J. van Zyl voorgestel, en uit die vergadering is ook doktor P.S. Dreyer voorgestel. Daar is met 4 teenoor 3 stemme besluit om doktor van Zyl aan te beveel. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die benoeming bekragtig op 09 Junie 1959 en die Fakulteit het dit goedgekeur op 29 Julie 1959.

    Frans Jacobus van Zyl is gebore op 06 Mei 1913 in Marico as seun van Francois Jacobus van Zyl en Magdalena Elizabeth Nortje. Hy matrikuleer in 1932 in Zeerust, en voltooi sy teologiese studie aan die Universiteit van Pretoria oor die jare 1933–1938. Hy slaag die BA en BD eksamens met lof en word georden op 28 Mei 1939. Hy was agtereenvolgens predikant van Johannesburg, Standerton, Lydenburg, Springs en Wonderboompoort. Hy promoveer in 1958 met lof onder leiding van sy voorganger, professor H.P. Wolmarans, met die proefskrif Die Analogia Entis, 'n Godsdiensfilosofiese Ondersoek. Teen die tyd van sy benoeming was hy reeds 'n hoog gerespekteerde teoloog en kerklike denker wat etlike publikasies gelewer het.

    09 Junie 1959

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aanvaar 'n advies van professor B.J. Engelbrecht oor die belydenis 'opstanding van die vlees'. Dieselfde vergadering het ook 'n rapport van die professore ontvang oor die Dankseggingsdiens en die bediening van Nagmaal daarby. Die Kommissie het die rapport aanvaar met die voorbehoud dat geen wisselvorm van die formulier gebruik mag word nie en dat die hele formulier ook by die tweede bediening gelees moet word. 'n Afvaardiging van die Kuratorium het met die Kommissie samespreking gevoer oor die keuring van studente en die probleem dat so baie studente nie die studie voltooi nie. Besluit is om die Universiteit te nader met die versoek dat Patristiese Latyn as vak ingestel word.

    Professor A.S. Geyser het met studieverlof oorsee vertrek om aan die Sorbonne in Parys saam met die professore in Nuwe Testamentiese Wetenskap daar te werk. Sy lesings is waargeneem deur doktor S.P.J.J. van Rensburg en doktor J.A.A.A.Stoop. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het die volgende besluit oor die langverlof van professore geneem:

    ...die Dekaan met die Kuratorium vooraf moet reël in verband met die tyd van die verlof en die plaasvervanger vir die tyd van sy afwesigheid. Eers nadat dit met die Kuratorium gereël is, kan aansoek by die Universiteit om verlof gedoen word.

    Die Kommissie het op versoek van die Kuratorium die bewoording van hierdie besluit soos volg verander in sy vergadering van 22 September 1959:

    ...moet die Dekaan aan die Kuratorium vooraf daarvan kennis gee van die tyd van die verlof en oor die reëling van die plaasvervanger; dat hiervan deur die Kuratorium aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering kennis gegee sal word vir sy goedkeuring wat die plaasvervanger aangaan.

    28 Julie 1959

    Professor E.S. Mulder word deur die Fakulteit as dekaan genomineer vir die onverstreke dienstermyn wat eindig op 09 Oktober 1960. Professor S.P. Engelbrecht het in hierdie tyd op uitnodiging 'n reeks lesings in die Ryksuniversiteit van Utrecht aangebied.

    17 September 1959

    Die Raad behandel die versoek van eerwaarde P.G. Pakendorf namens die Lutherse gemeenskappe in SA en SWA oor die instelling van 'n Afdeling C in die Fakulteit Teologie wat hierdie gemeenskappe kan bedien en spreek hom uit ten gunste daarvan. Die saak word verwys na die die twee afdelings van die Fakulteit.

    12 November 1959

    Die Raad neem kennis dat professor J.H.J.A. Greyvenstein wat reeds 81 jaar oud is en vanaf 1952 op die Raad dien, hom nie weer vir benoeming beskikbaar gestel het nie. Tot aan sy aftrede as professor in 1945 was hy lid van die Komitee vir Dissipline en President van die Konvokasie. Die Raad het besluit om hom per brief te bedank vir sy belangstelling en hartlike samewerking. Die Raad het goedgekeur dat die te stigte Afdeling C uiteindelik gelywaardig sal wees aan die ander twee afdelings.

    25 November 1959

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aanvaar 'n studiestuk oor die Sondag van doktor F.J. van Zyl met waardering. Op dieselfde vergadering is weereens gehandel oor die dosering van Praktiese Teologie. Besluit is dat met die Kuratorium geskakel sal word oor 'n meer eweredige verdeling van lesings en verdeling van die onderrig in Praktiese Teologie tussen die professore. In plaas van doktor C.K. Oberholzer wat bedank het as lid van die Kuratorium, is doktor A.P. Grove benoem.

    Die Kommissie het die Kuratorium versoek om ondersoek in te stel na die redes waarom so baie teologiese studente veral gedurende die eerste studiejaar uitsak en daaroor te rapporteer, om te help met die werwing van teologiese studente maar tewens ook strenger op te tree by die keuring en toelating van studente, en om met die Raad van Finansies te skakel in verband met groter leningsbeurse aan studente wat dit nodig het.

     

    1960

    08 Februarie 1960

    Die Kuratorium verwelkom vir professor F.J. Van Zyl, bedank vir professor Van Selms dat hy 'n benoeming as hoogleraar in Groningen van die hand gewys het, en verwelkom vir professor Geyser (in afwesigheid) terug na sy oorsese studieverlof.

    Die Kuratorium het besluit om die versoeke van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering te verwys na 'n kommissie en dat alleen studente wat volle vrystelling vir matriek verkry het, toegelaat sal word om in te skryf. Die Kuratorium het by hierdie geleentheid ook kennis geneem dat Van der Hoff en die Hervormde Studentevereniging gedurende die Julievakansie 'n konserttoer sou onderneem. Hierdie toere het 'n instelling geword en is vir jare volgehou. Die opbrengs van die toere is aangewend vir stywing van die teologiese studiefonds.

    16 Februarie 1960

    Professor Van Zyl woon sy eerste Fakulteitsraadsvergadering by. Hy word benoem as promotor vir die proefskrif van dominee P.G. Geertsema. As eksterne eksaminator is naas die ander fakulteitslede benoem professor J.H. Bavinck van die Vrye Universiteit, Amsterdam.

    29 Maart 1960

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering voer 'n bespreking oor professor Geyser se houding ten opsigte van die landsbeleid en Artikel III. Die voorsitter het gesê Geyser maak die fout om sy standpunt oor gelykstelling met die Skrif te regverdig, en dat die Kommissie hom daarop moet wys dat hy dislojaal is aan die kerk deur hom nie aan Artikel III te onderwerp nie. Die Kommissie het 'n kommissie benoem om te rapporteer oor 'n beskrywingspunt waarin gevra word dat Artikel III strydig met die Skrif verklaar word of in ander woorde omskryf word. Die lede van die kommissie was A.D. Pont (sameroeper), B.J. Engelbrecht, H.P. Wolmarans, S.P.J.J. van Rensburg en J.P. Oberholzer. Op dieselfde vergadering het die Kommissie met professore en lede van die Kuratorium samespreking gevoer oor die moontlikhede om die teologiese leerplan te wysig, deur onder andere Grieks III nie meer verpligtend te maak nie.

    07 Junie 1960

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering ontvang verslag van twee samesprekings van dominees A.J.G. Oosthuizen, J.G.M. Dreyer en P.M. Smith met doktor R. Bilheimer, assistent-sekretaris van die Wereldraad van Kerke. Die Kommissie het ook skrywes van die Nederlandse Hervormde Kerk en die Australiese Presbiteriaanse Kerk oor die onlangse rasse-onluste behandel tesame met die antwoorde van die Moderamen daarop. Die Kommissie het ook die rapport van die kommissie oor Artikel III bespreek en bepaalde wysigings voorgestel.

    26 Julie 1960

    Die Fakulteit nomineer vir professor E.S. Mulder as dekaan. Die jaarverslag van die Fakulteit oor 1959–1960 meld dat die voltooiing van die nuwe gebouekompleks agter die Ou Letteregebou dit moontlik gemaak het dat elke dosent 'n eie kantoor kon betrek. Vir BA was 27 studente, vir BD 23 en vir DD 11 studente ingeskryf.

    05 Augustus 1960

    Die Kuratorium behandel 'n rapport van 'n komitee bestaande uit dominee C.L. van die Berg (sameroeper), doktor P.S. Dreyer en professor B.J. Engelbrecht oor die swak vordering van teologiese studente veral gedurende die eerste studiejare. Hierdie rapport, duidelik deur dominee Van den Berg bewoord, is deur die Kuratorium aanvaar en deurgestuur na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Dominee J.J. Prinsloo en doktor S.P.J.J. van Rensburg het hulle teenstemme laat aanteken teen sekere bewoordings in die rapport, nie by name aangetoon nie. Die volgende is 'n paar uittreksels uit die lang rapport:

    Dit gaan oor meer as onbevredigende akademiese vordering .. Ook die gesindheid en belangstelling van studente wat reeds in die BD studiejare is, .. laat skynbaar heelwat te wense oor. Die Kuratorium meen dat die verskynsels met mekaar in verband staan en soek die gemeenskaplike agtergrond daarvan in die wyse waarop daar in die breë lae van die kerk, in die huise waarin die toekomstige lidmate en predikante van die kerk opgroei, oor die amp van dienaar van die Woord gedink word... Na die mening van die Kuratorium kan aangetoon word dat I. die gehalte, sowel intellektueel asook wat algemene geestestoerusting, byvoorbeeld deursettingsvermoë, toewyding en bereidheid tot opoffering, aanbetref, merendeel nie die beste is wat in die kerk beskikbaar is nie, II die aanpak van die studie deur diegene wat hulle wel aanmeld, gekenmerk word deur 'n gees van traak-my-nie-agtigheid en gebrek aan deursettingsvermoë ... Daar leef 'n aansteeklike besmetting in die kerk wat nie meer geïsoleerd voorkom nie en wat nie meer geïsoleer kan word nie: Die predikantekorps is siek; daarom is die kerk siek; daarom is die opleiding siek. Of: Die kerk is siek; daarom is die opleiding siek; daarom is die predikantekorps siek. Of: Die opleiding is siek; daarom is die predikantekorps siek; daarom is die kerk siek ... Van hierdie siekte was en is geslag na geslag professore, predikante en studente erfgename, slagoffers, produkte en verspreiders... Was daar ooit 'n tyd in die geskiedenis van ons kerk en opleiding toe die professore of van die professore nie oor een of ander saak onenig, en verdeeld, maar ook verbitterd, selfs in openlike verset teen mekaar, of teen die Kuratorium, of teen die Algemene Kommissie, of teen sommige predikante of instansies van die kerk was nie? Was daar ooit 'n tyd toe hierdie onenigheid en verdeeldheid en verbittering en verset teen ander professore of teen predikante of teen die regering van die kerk vir die studente 'n geheim was? Was daar ooit 'n tyd toe dit nie doelbewus onder studentegeledere oorgeplant is nie? Was daar ooit 'n dag dat predikante of toekomstige predikante of professore of doodgewone lidmate van die kerk die skouspel te sien gekry het van onvoorwaardelike lojaliteit aan die kerk, sy amptelike instansies en sy offisiële besluite?

    Hierdie sterk uitsprake, ook wat nie hier aangehaal is nie, het ook by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verset ontlok.

    13 September 1960

    Die Kommissie besluit om nie die rapport te aanvaar nie, maar wel al die aanbevelings met die uitsondering van een oor die keuring van aspirant-studente.

    06 September 1960

    Die Kuratorium behandel in 'n buitengewone vergadering briewe van die gemeentes Villieria, Naboomspruit, Edenvale en Ermelo en van die broeders C.H. Buitendag van Ermelo en Carel Buitendag van Edenvale waarin verwys word na artikels wat verskyn het in die Sunday Times

    13 September 1960

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering keur die volgende skrywe aan professor Geyser goed:

    Die Kommissie het ... 'n paar briewe uit die Kerk voor hom gehad waarin ontevredenheid uitgespreek word teen u optrede op die kansel en op die kateder, wat u dan sou gebruik om propaganda te maak vir u standpunt ten opsigte van Art III ... Die Kommissie wens u te verwys na die ondertekeningsformule ... Die Kommissie wens u beleefd te vra in belang van die kerk en van uself om tog versigtig te wees om die verdenking teen u nie aan te wakker nie, en sodat so ook 'n end kan kom aan die beroering in die kerk.

    21 September 1960

    Die Fakulteit keur die inskrywings vir doktorale studie van dominees J.J. Engelbrecht en C.L. van den Berg goed en ook 'n wysiging van die proefskrif-onderwerp van J.I. de Wet na Die Kerklike verkondiging in die huidige tydsgewrig.

    11 Oktober 1960

    Die Predikantevergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk het op 21–22 Junie 1960 'n bespreking gevoer oor die punte van diskussie wat beoog is vir die konferensie van die Suid-Afrikaanse lidkerke van die Wereldraad van Kerke in Johannesburg in Desember 1960. Die voordragte op die Predikantevergadering is gepubliseer in Hervormde Teologiese Studies, Oktober 1960, en het omvat Die ontwikkelingstempo binne Bantoegebiede by Afsonderlike Ontwikkeling (R.D. Coertze), Feitelike toestande en prinsipiële siening van die rasseverhoudingspatroon in Suid-Afrika (P.J. Coertze), Kerk en owerheid, en die rassevraagstuk in Suid-Afrika (C.L. van die Berg), Artikel III van die Kerkwet van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (H.P. Wolmarans), Die apostolaat van die kerk in hierdie tyd ten opsigte van binne- en buiteland (J.P. Oberholzer), Die kerk se visie op die resente gebeure in Suid-Afrika (A.J.G. Oosthuizen), en Die kerk se visie op die ontwikkelende situasie in Afrika (C.J. Mans).

    Hierdie materiaal saam met 'n handgeskrewe stuk van dominee J.G.M. Dreyer oor die profetiese taak van die kerk en 'n paar publikasies van die Wereldraad van Kerke was tot beskikking van die twee persone wat die memorandum van die kerk in Engels moes opstel vir die konferensie. Om een of ander rede is die Kommissie se versoek aan die twee persone nie amptelik deur die Skriba gerig nie, maar deur 'n memo-nota van die Administrateur, meneer A.B. van N. Herbst. Die Memorandum on the five matters of discussion put forward by the secretariat of the World Council of Churches for discussion b y the conference of member churches, to be held in Johannesburg from the 7th to 14th December 1960, submitted by the Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika is in konsep opgestel deur die predikante J.P. Oberholzer en C.J. Mans, en is 'n samevattende weergawe van die kerk se denke rondom die politieke, ekonomiese, kulturele en kerklike feitelikhede binne die situasie en tyd. Dat daar ook ander beskouings in die kerk geleef het, blyk uit die verskyning van die boek Vertraagde Aksie begin November 1960 waarin van Hervormde kant bydraes verskyn van A.S. Geyser, A. van Selms, M.J. Redelinghuys en J. Stutterheim, en ook uit die versoek van Geyser en Van Selms om vergunning om ook 'n voorlegging te maak aan die konferensie wat bekend sou word as die Cottesloe-konferensie

    28 November 1960

    Die konsepmemorandum word deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering goedgekeur. As lede van die afvaardiging na die konferensie word benoem dominees A.J.G. Oosthuizen, T.F.J. Dreyer, J.G.M. Dreyer, P.M. Smith, J.P. Oberholzer, doktore P.S. Dreyer, B.J. Engelbrecht, F.J. van Zyl, S.P. Engelbrecht en L.I. Coertze. Geyser en Van Selms is geantwoord dat die konferensie op amptelike vlak is en dat hulle stuk dus nie ingehandig kan word nie.

    07–14 Desember 1960

    Die konferensie is bygewoon deur tien afgevaardigdes van die Wereldraad van Kerke en van elk van die Suid-Afrikaanse ledekerke, nl die Bantu Presbyterian Church, die Church of the Province of South Africa, die Congregational Union , die Methodist Church, die Presbyterian Church, die Nederduits Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (Kaapland), die Nederduits Gereformeerde Kerk van Transvaal, en die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die Cottesloe-konferensie het geëindig met 'n verklaring waarin bestaande regeringsbeleid en wetgewing afgekeur is en gesamentlike aanbidding beklemtoon is. Die Hervormde afvaardiging het 'n verklaring voorgelees en ingehandig wat soos volg lui:

    Ons as afvaardiging van die Nederduitsch Hervormde Kerk is dankbaar dat ons die geleentheid gehad het om te luister na die getuienis van die verskillende kerke, en dat ons die geleentheid gehad het om ons eie getuienis te lewer. Ons wil egter met nadruk verklaar dat dit ons vaste oortuiging is dat apartheid of eiesoortige ontwikkeling die enigste regverdige oplossing is vir die rasseprobleme van ons land. Ons verwerp enige vorm of graad van integrasie. Die ooreenkoms wat bereik is, bevat 'n paar sake wat so ingrypend is dat ons dit nie mag onderskryf nie. Ons kan ons daarom nie met die verklaring vereenselwig nie. Verder wil ons ons waardering boekstaaf teenoor die regering van ons land vir die positiewe stappe wat geneem is vir die oplossing van die vraagstuk en die bevordering van die welsyn van die verskillende groepe. Ons kerk wil in die toekoms soos in die verlede sy verantwoordelikheid aanvaar om teenoor volk en owerheid te getuig in ooreenstemming met die voorskrifte van Gods Woord.

     

     

    DOI: 104102/hts.v66i3.920