SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue3Hoofstuk 2: Die Klein Begin 1916-1933Hoofstuk 4: Interne spanning en stryd 1941-1953 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.66 no.3 Pretoria  2010

    http://dx.doi.org/10.4102/hts.v66i3.919 

    HOOFSTUK

     

    Hoofstuk 3: Twee afdelings van een fakulteit 1934–1940

     

     


    Die Universiteit benoem op voordrag van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk vir dominee G.M. Pellisier in die pos Godsdienswetenskap wat deur die bedanking van professor Macmillan vakant gelaat is. Dit word die begin van 'n ontwikkeling van twee feitlik selfstandige afdelings binne die Fakulteit Teologie. Die toetrede van H.P. Wolmarans as vierde dosent vanweë die Nederduitsch Hervormde Kerk bring nuwe teologiese aksente. Die verhouding tussen die Nederduitsch Hervormde Kerk en die Universiteit kry beslag in 'n skriftelike kontrak. In 1937 word dit gevolg deur 'n tweede kontrak waarin die ruimte geskep word vir die bestaan van twee fakulteitsafdelings. Vanaf 1938 funksioneer die twee afdelings naas mekaar met gelykluidende kontrakte. Hierdie kroniek volg dan verder die gang van Afdeling A, die afdeling beman deur ampsdraers van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die benoeming as lektore van A. van Selms in 1938 en C.H. Rautenbach in 1939 verhoog die akademiese kwaliteit van die afdeling verder.


     

     

     

    1934

    27 April 1934

    Die Raad besluit om so gou moontlik 'n aanstelling in Vergelykende Godsdienswetensakp en Wysbegeerte van die Godsdiens te maak in oorleg met die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk en versoek die sinode om drie persone aan te beveel.

    15 Mei 1934

    Op die 44ste Algemene Kerkvergadering is as voorsitter verkies dominee L.E. Brandt en as vise-voorsitter dominee J.J. Prinsloo Jsn, as skriba dominee A.J. Barger en as vise-skriba dominee T.F.J. Dreyer. Die vergadering het kennis geneem dat 'n skriftelike ooreenkoms met die Universiteit van Pretoria in onderhandeling is. Besluit is dat die kerklike eksamen opgehef word en dat die professore sal deelneem aan die proponentseksamen wat sal bestaan uit Dogmatiek, Christelike Etiek, Praktiese uitleg van die Heilige Skrif, Bybelgeskiedenis, Praktiese Godgeleerdheid en Kerkreg. Die status van professore was ter sprake en is na 'n kommissie verwys vir advies. Die kommissie het voorgestel dat professore die status van predikant sal hê en dat klagte oor hulle leer en lewe by die Kuratorium ingedien moet word vir voorlopige ondersoek en verwysing na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Die voorstel is aanvaar na lang bespreking. Daar is ook lang bespreking gevoer oor 'n rapport van die professore oor spiritisme wat nie byval gevind het nie. Hierdie vergadering het dominees Brandt, Prinsloo en Oosthuizen benoem om namens die kerk met die Universiteit te onderhandel en 'n ooreenkoms te beklink. Op die Kuratorium is verkies doktor B. de Loor, dominees L.E. Brandt, A.J.G. Oosthuizen, doktor H.C.M. Fourie, dominee J.J. Prinsloo Jsn, ouderling N.J. Campher en dominee S. Vermooten [van nou af net sewe lede].

    05 Junie 1934

    Die Fakulteit vergader. Teenwoordig was naas Engelbrecht, Greyvenstein en Gemser ook H.G. Viljoen en G. Cronje, asook dominee W. Nicol, moderator van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk. Na 'n uiteensetting van dominee Nicol is besluit om by die Senaat en Raad aan te beveel dat professor B.B. Keet van Stellenbosch benoem word in die vakante leerstoel Godsdienswetenskap. Die Senaat het die benoeming goedgekeur op 06 Junie.

    15 Junie 1934

    Die Raad besluit na aanleiding van 'n brief van die Sinodale Kommissie van die Verenigde Kerk om dominee G.M. Pellisier van Carolina aan te stel as professor in Wysbegeerte van die Godsdiens en Vergelykende Godsdienswetenskap. [Wat tussen 05 Junie en 21 Junie gebeur het, kan nie uit die stukke opgemaak word nie. Die brief van die Sinodale Kommissie was gedateer 23 Mei 1934, en dit maak die besluit van die Fakulteit op 05 Junie met doktor Nicol aanwesig, baie problematies.]

    21 Junie 1934

    Die skriba van die Algemene Kerkvergadering skryf aan die voorsitter en lede van die Raad van die Universiteit van Pretoria en spreek die ingenomenheid van die Kerk uit met die handhawing van die bestaande leerstoel in Sosiologie en die aanstelling van doktor G. Cronje in die leerstoel. Hy het afgesluit met die woorde:

    Die jongste Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk het dan ook reeds die wenslikheid uitgespreek dat ons Teologiese studente een of meer kursusse in Sosiologie by Dr Cronje moet volg.

    09 Augustus 1934

    Die Kuratorium vergader. Dominee Oosthuizen is weer as voorsitter gekies en na staking van stemme tussen dominee Brand en doktor De Loor is dominee Brandt met die lot as skriba aangewys. 'n Lening van £50 is toegestaan aan A. Brandt vir 'n jaar studie in Holland. Die vergadering het ook gehandel oor die vakature wat in die Fakulteit Teologie ontstaan het na die bedanking van dominee MacMillan. Berig is dat dominee G.M. Pellisier deur die Universiteit aangestel is op aanbeveling van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk maar dat hy eers in 1935 met lesings sal begin. Die Kuratorium het na lang bespreking op voorstel van dominee Prinsloo en doktor Fourie besluit om 'n afvaardiging te stuur na die voorsitter van die senaat om voor te stel dat doktor H.P. Wolmarans, wat reeds tydens MacMillan se verlof die lesings waargeneem het, intussen die lesings moet waarneem. In reaksie op 'n bewering van dominee H. Ziervogel van Zeerust op 'n konferensie van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk oor onderwys, as sou die studente van die Hervormde Kerk aangehits is en weier om onder dosering van professor Pellisier te sit, het die voorsitter en skriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in Die Volkstem van 17 September 1936 gestel dat die Kerkwet van die Nederduitsch Hervormde Kerk bepaal dat hoogleraars wat studente van die kerk oplei, aan 'n erkende Universiteit gepromoveer moet wees, en dat dominee Pellisier nie 'n doktorsgraad het nie. Daar was 'n aansienlike skrywery in Die Volkstem oor hierdie saak. Pellisier het in 1935 net een student gehad.

    14 Augustus 1934

    Die Fakulteit verander die naam van die Departement na Vergelykende Godsdienswetenskap en Wysbegeerte van die Godsdiens. Die Fakulteit het ook sterk kritiek uitgespreek op die Roos-rapport wat misleidende en foutiewe bewerings bevat het.

    Aan die Universiteit van Pretoria het intussen 'n voortslepende 'rektorskwessie' sy loop gehad. Professor A.E. du Toit, wat in 1927 rektor geword het en die Afrikaanswording van die TUK sowel as die universiteitswording suksesvol bestuur het, het op 28 Mei 1934 as rektor bedank en teruggekeer na die Wiskunde-leerstoel. Dit het gevolg op 'n mosie van die dekane in die Senaat wat op 02 Mei aanvaar is en wat gelui het:

    Dat dit teen die belange van die Universiteit sou wees om die dienstyd van professor AE du Toit as rektor te verleng, dat intussen 'n voorsitter van Senaat aangestel sou word en dat 'n nuwe rektor in oorleg tussen Raad en Senaat aangestel sou word.

    Die dekaan van die Fakulteit Teologie was een van die sewe dekane wat die mosie ingedien het en intens betrokke was by die verskille rondom de aanstelling van 'n volgende rektor. Op een of ander wyse het die toetrede van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk tot die Fakulteit Teologie hierby 'n rol gespeel. Dit is wat beweer is deur ondersteuners van professor Du Toit, maar die dekane het twee keer uitdruklik verklaar dat kerklike oorwegings geen rol speel in hulle standpunt nie. Byna 'n jaar lank kon die Raad en die Senaat mekaar nie vind oor 'n geskikte persoon vir die rektorskap nie. Name wat deur die Raad genoem is, was professor F. Postma van Potchefstroom, dominee W. Nicol van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk, professor T.J. Haarhoff van Wits, doktor S.P.E. Boshoff, en professor R.W. Wilcocks van Stellenbosch. Later was professor S.P.E. Boshoff, doktor E.G. Jansen en professor H.G. Viljoen die kandidate. Die Senaat het aanvanklik saam met die Raad gestem in die voorkeur vir professor Postma, maar die Raad het 'om sekere redes' besluit om hom tog nie te benoem nie. Later het die Raad en Senaat ooreengestem oor professor H.G. Viljoen, die dekaan van Lettere en Wysbegeerte wat as voorsitter van die Senaat opgetree het van Junie 1934 af. Ook die studentekorps het sy kandidatuur gesteun, soos blyk uit 'n skrywe van die voorsitter van die Studenteraad, Andries Nolte, op 26 Maart 1935. Professor Viljoen het hom egter die onguns van lede van sy kerk op die hals gehaal soos blyk uit die volgende brief, onderteken deur D. Nel, voorsitter van die Afrikaanse Nasionale Konvokasie Bond en gedateer 20 Maart 1935:

    Soos u seker al verneem het, het die Raad van die Universiteit van Pretoria die volgende drie persone aanbeveel uit wie 'n rektor vir die Universiteit van Pretoria gekies moet word, nl Adv EG Jansen, Professor SPE Boshoff en Professor HG Viljoen. Dit is geen geheim meer dat die Hervormde Kerk 'n openlike kerkistiese stryd van die saak gemaak het nie en dat Professor HG Viljoen gemene saak met die Hervormde Kerk en daarby met die vroeëre vyande van die Afrikanersaak gemaak het nie. Ons wil alles in ons vermoë doen om 'n kerkistiese stryd op die Universiteit te voorkom, daarom voel ons ons verplig om 'n beroep op u en ander predikante van ons Ned Herv of Geref Kerk te doen om sonder verwyl die nodige stappe te neem om die Raad van die Universiteit te versoek om nie Professor Viljoen aan te stel nie, daar dit uiters onwenslik is om 'n persoon aan te stel wat openlik kant met die Hervormde Kerk gekies het aangesien negentig persent van die studente van die Universiteit aan die Ned Herv of Geref Kerk behoort. Dit is dus in belang van ons Kerk en ons Afrikanersaak dat of Adv EG Jansen of Professor Boshoff aangestel sal word. Ek vertrou dus dat u dadelik die nodige stappe in die saak sal neem.

    Die Senaat het in 'n buitengewone vergadering op 27 Maart 1935 kennis geneem van hierdie skrywe maar nogtans besluit om professor Viljoen aan te beveel as die geskikste persoon. Die Volkstem het in 'n hoofartikel op 13 April 1935 die hoop uitgespreek dat die Raad die keuse van die Senaat sal onderskryf en onder andere die volgende oor professor Viljoen gesê:

    Die afgelope ses maande het getoon dat die Universiteit van Pretoria sy werk kan voortsit en aan sy roeping getrou kan bly sonder 'n spot en spektakel te wees vir die publiek. Die eer hiervoor kom grotendeels toe aan die gesonde invloed wat van die Senaatsvoorsitter uitgegaan het en die samewerking wat hy in staat was om te verkry – 'n prestasie wat des te hoër is omdat professor Viljoen bekend is as iemand wat vierkantig staan op die stuk van Afrikaanse belange en andersdenkendes met ope visier ontmoet.

    Die Raad het in sy vergadering van 17 April egter geswig voor die mening uit die kringe van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk en het professor S.P.E. Boshoff se naam opnuut aan die Senaat voorgelê. Die Sunday Times het soos volg geskryf op 21 April:

    Conditions at the University of Pretoria are rapidly reaching a climax as the result of the nomination of Dr SPE Boshoff, formerly Director of Education, Transvaal, as the next Rector...In the meanwhile such extraneous matters as the future of the theological faculties at the Pretoria University are entering the controversy.

    Daarop het die Senaat in 'n buitengewone vergadering op 24 April sy teleurstelling uitgespreek oor die optrede van die Raad en het die dekane opgedra om bestaande besluite onmiddellik onder die aandag van die Minister te bring en hom te versoek om 'n deputasie van die Senaat te ontmoet. Die Minister, meneer J.H. Hofmeyer, het die dekane ontmoet en toe die Raad op 19 Mei die naam van sy kandidaat aan die Minister voorlê, het hy die benoeming van doktor Boshoff geveto. Uiteindelik is meneer C.F. Schmidt, afgetrede kontroleur- en ouditeur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, as rektor benoem.

    27 Augustus 1934

    Die Raad besluit om die eregraad DLitt toe te ken aan die Bybelvertalers J.D. du Toit, H.C.M. Fourie, B.B. Keet, J.D. Kestell en E.E. van Rooyen.

    19 Oktober 1934

    Die Raad benoem 'n komitee om te handel oor 'n skrywe van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor die optrede van professor W.P. de Villiers.

    16 November 1934

    Die komitee wat deur die Raad benoem is om met professor De Villiers te praat, berig dat hy ontken het dat enigiets wat hy in die haastigheid gesê het bedoel was om die professore van die Teologiese Fakulteit te beskuldig en dat indien enigiets wat hy gesê het in dié gees opgeneem is, hy hier beslis ontken dat so 'n beskuldiging sy bedoeling was of nou is.

    04 Desember 1934

    Op sy volgende vergadering kon die Kuratorium verneem dat die deeltydse dosentskap in Godsdienswetenskap opgedra is aan doktor H.P. Wolmarans wat tydelik in Rhodesië was, en dat hy dit aanvaar het. Verneem is ook dat die Raad van die Universiteit besluit het dat die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 'n verteenwoordiger op die Raad mag hê met aanvang 27 Julie 1935, en dat die kontrak met die universiteit geteken is. Hierdie kontrak was die eerste skriftelike ooreenkoms tussen die kerk en die universiteit. Die volgende uittreksels is van belang:

    Nademaal die verhouding tussen die Universiteit van Pretoria en die Nederduits [sic] Hervormde Kerk van Afrika tot hiertoe berus het op mondelingse afspraak;
    Nademaal dit ook wenslik is om opening te laat vir uitbreiding van die Teologiese Fakulteit van en aan die genoemde universiteit so is dit dat die Universiteit van Pretoria aan die eenkant en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika aan die ander kant, hierby ooreenkom, as volg:

    I. (a) Daar sal hoogstens ses akademiese professore in die Fakulteit van Teologie aan die Universiteit wees.
    (b) Daar sal in die Fakulteit van Teologie steeds tenminste drie Akademiese Professorate in die Teologiese Wetenskappe wees, wat, soos in die verlede, beset sal word deur Professore in die Teologie aangestel deur die Universiteit uit 'n drie-tal deur die Kerk op versoek van die Universiteit aanbeveel, vir elke Professoraat.
    (c) Die Dekaan van die Fakulteit van Teologie sal beurtelings gekies word , die een keer uit die drie Akademiese Professore wat aangestel is op aanbeveling van die Kerk en die ander keer uit die Akademiese Professore wat aangestel is nie op aanbeveling van die Kerk nie, met dien verstande, dat solang die Professore wat aangestel is nie op aanbeveling van die Kerk nie, minder is as twee sal die dekaan gekies word uit die Professore wat aangestel is op aanbeveling van die Kerk.
    II. Die salaris, wat verbind is aan die drie onder 1(b) gemelde Akademiese Professorate, sal deur die Universiteit betaal word uit fondse waartoe die Kerk, soos in die verlede, jaarliks die bedrag van £1100 onderneem by te dra, watter bedrag die Universiteit sal kan verhaal van die Kerk.
    III. (a) Die Universiteit sal aan die te eniger tyd in die Fakulteit van Teologie bestaande Professorate 'n verdere dosent of dosente toevoeg, wanneer die Kerk met die oog op die onderwys en opleiding van sy toekomstige predikante dit nodig ag en 'n daartoe strekkende versoek by die Universiteit ingedien het; hierdie dosent (e) sal as assessorlid (-lede) sitting hê op die Fakulteit.
    (b) Die salaris van enige verder aan te stelle dosent (of dosente) soos onder 3(a) voorsien, sal betaal word deur die Universiteit uit 'n fonds, wat die Kerk onderneem om in sy geheel te betaal en watter bedrag die Universiteit kan verhaal van die Kerk ...
    6(a) Studente, wat van voorneme is om in die diens van die Kerk te tree, sal hulle studies vir teologiese grade voltooi onder die Professore aangestel op aanbeveling van die Kerk en indien die Kerk daarvoor toestemming gee, ook onder ander Professore ...
    (b) Indien die Kerk besluit om 'n einde te maak aan die opdrag aan 'n dosent, wat nie op aanbeveling van die Kerk aangestel is nie om onderwys aan sy toekomstige predikante te gee, sal die Universiteit op 'n daartoe strekkende versoek van die Kerk, van die begin van die volgende jaar, die betrokke dosent onthef van die genoemde opdrag vir sover dit die onderwys van die toekomstige predikante van die Kerk betref.
    Die kontrak is voorafgegaan deur 'n uitvoerige memorandum oor die fakulteit se inrigting en werksaamhede, opgestel deur professor Gemser, wat toe sekretaris van die Fakulteit was. Die onderwys was in die volgende vakke:
    Hebreeus vir meer gevorderdes 1 jaar, Oudheidkunde van Israel 1 jaar, Literêr-historiese inleiding tot die boeke van die OT 3 jaar, Eksegese van die OT 3 jaar, Eksegese van die NT 3 jaar, Literêr-historiese inleiding tot die boeke van die NT 2 jaar, Bybelse Teologie van die OT 2 jaar, Bybelse Teologie van die NT 2 jaar, Christelike Etiek 1 jaar, Algemene Geskiedenis van die Christendom 3 jaar, Geskiedenis van die Leerstellinge van die Christendom (Dogmengeskiedenis) 3 jaar, Algemene Kerkreg 1 jaar, Geskiedenis van die Godsdienste van die wêreld ½ jaar, Fenomenologie of verskynseleleer van die Godsdiens ½ jaar, Wysbegeerte van die Godsdiens 1 jaar en Sielkunde van die Godsdiens 1 jaar. Die vakke is verdeel in vier departemente, en is behartig deur drie dosente waarvan twee (Engelbrecht en Gemser) ook nog in die Fakulteit Lettere lesings gegee het.

    Beklemtoon is dat die genoemde vakke nie 'n kerklike karakter het nie. Vakke vir die kerklike praktyk soos Dogmatiek en Praktiese Teologie maak nie deel van die leerplan uit nie en word nie geëksamineer vir die BD graad nie.
    Deurdat die Nederduitsch Hervormde Kerk tot onlangs nog die enigste kerk was wat daadwerklik belanggestel het in die Universiteit van Pretoria en 'n universitêre opleiding vir sy predikante vereis het, het dit voor die hand gelë dat die professore in meerderheid lede van die Nederduitsch Hervormde Kerk was.
    Die huidige professore sal medewerking van ander kerke in die Fakulteit van Godgeleerdheid verwelkom op voorwaarde dat die streng universitêre krakter van die onderwys gehandhaaf bly ...
    Die werk in die Fakulteit is nagraadse werk, te vergelyk met die Magisterstudie in ander Fakulteite. As daar nie 'n Fakulteit Godgeleerdheid bestaan het nie, sou studente in die Fakulteit Lettere, veral in die departemente Grieks, Hebreeus, Latyn, Wysbegeerte, Sielkunde en die Kultuur-historiese vakke, hulle gevorderde studente gemis het.
    Die studente van die Fakulteit is min in aantal maar verteenwoordig 'n belangrike element in die studentegemeenskap as die meer ervare en stabiele akademieburgers wat geskik is om verstandige leiding te gee.
    Die Fakulteit moet beskou word as een van die goedkoopste fakulteite aan die Universiteit en dra 40% van sy koste self, in vergelyking met die 28 % van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte, 22% van Wis en Natuurkunde, 28 % van Handel en Publieke Administrasie, en 40 % van Regsgeleerdheid. Daarby is nie bereken die indirekte inkomste van die Universiteit weens die aanwesigheid van Teologie nie, en ook nie die voordeel wat die aanwesigheid van Teologie vir Lettere en Wysbegeerte het nie, en ook nie die dienste wat dosente van die Fakulteit Godgeleerdeheid vir Lettere en Wysbegeerte lewer nie.
    Deur hulle besondere maatskaplike posisie en hulle aanraking met huisgesinne oral in die land is die alumni van die Fakulteit van die beste propagandamakers vir die Universiteit van Pretoria. Ook die optrede van die dosente oral in gemeentes vestig telkens die aandag op die Universiteit.
    Die Fakulteit bevorder die verhoging van die peil van die predikantestand deur die nadruk wat by sy onderwys gelê word op die waarde van suiwer wetenskaplike metodes en deur die ruime, vir alle kultuurvorme oopstaande geestesgesindheid waarin die aanstaande predikante deur die Fakulteit opgevoed word, sodat verwag kan word dat sy alumni hulle plek in die maatskappy van hierdie tyd met eer sal inneem.
    Wat 'n vierde dosent van die kerk betref, het die Kuratorium verneem dat geld daarvoor ingesamel word en is besluit om die Finansiële Kommissie te vra om £300 voor te skiet.

    Hierdie vergadering het ook kennis geneem van 'n kopie van 'n brief van doktor W.P. de Villiers aan die voorsitter van die Raad van Universiteit van Pretoria, waarin hy die Hervormde Kerk beskuldig van 'n kerkistiese stryd, die antwoord van die sekretaris van die Raad en 'n rapport van die raadslede Botha, Moerdyk en Rautenbach. Dit blyk dat die studente 'n petisie teen doktor De Villiers, huisvader van Sonoptehuis, geteken het en gestuur het aan die kerkraad van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk, Pretoria-Oos, en dat die kerkraad hom as huisvader gehandhaaf het. Die stukke is verwys na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Die sekretaris van die Raad het op navraag aan dominee Brandt geskryf wat die Raadskommissie gerapporteer het: Die Eiendomskomitee van die Universiteit van Pretoria het op 08 April 1935 na aanhoor van getuienis van die studente en van professor De Villiers tot die volgende bevinding gekom:

    I. Dat professor De Villiers 'n politieke atmosfeer probeer skep het in die tehuis deur studente wat nie die konsepsie van 'n politieke republiek wou steun nie, van sekere van hulle regte te ontroof.
    II. Dat professor De Villiers ook kerkgeskille ingebring het ten gunste van studente wat lede van die Verenigde Kerk is, en ten nadele van studente wat lede van die Hervormde Kerk is.
    III. Dat die persoon van professor De Villiers nie die geskikte is om as Huisvader te dien nie omdat i sy onberekenbaarheid van humeur van die aard is dat hy studente vervreem.
    IV. Hy op verskillende geleenthede handgemeen was met studente en hulle op onbetaamlike manier aangespreek het, dreigemente gebruik het en in die algemeen die studente so te behandel dat 'n vyandige atmosfeer geskep word.
    V. Om hierdie redes beveel die komitee aan:

    a. Dat dit nie in belang van die Universiteit is dat professor W.P. de Villiers huisvader bly nie.
    b. Dat die Raad sy verlof terugtrek daaraan dat professor de Villiers hierdie private werk langer onderneem.

    04 Desember 1934

    Die Teologiese Kweekskool van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Stellenbosch herdenk sy 75 jarige bestaan. Professore H.P. Wolmarans en B. Gemser het namens die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika groete oorgebring en volgens Die Kerkblad nadruk gelê op die groot verantwoordelikheid van die kweekskool as die oudste in die land, en ook gemeld dat daar uitgesien word na 'n eie Suid-Afrikaaanse teologie.

    Doktor W. Nicol, moderator van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk, het daarop gewys dat 1859 (75 jaar gelede) die stigtingsjaar in Transvaal was van die Gereformeerde Kerk en ook die plantingsjaar van die Hervormde Kerk daar. Dat die Nederduits Gereformeerde Kerk toe sy voorsprong behou het, was grootliks te danke aan sy noue verband met die kweekskool. Maar nou het in Transvaal die Geref Kerk die Universiteitskollege op Potchefstroom verower waar hulle ook die opleiding van hulle predikante het en die Herv Kerk weer op Pretoria. Daarom is Transvaal nou besig om in verband met die Universiteit van Pretoria 'n opleiding van Nederduits Gereformeerde predikante te kry. [Presies so staan dit in Die Kerkbode van 10 Desember 1934. Die onkunde is moeilik begrypbaar.]

     

    1935

    30 Januarie 1935

    Professor Engelbrecht het die Kuratorium meegedeel dat die Minister van Onderwys beswaar gemaak het dat net die Hervormde Kerk 'n verteenwoordiger op die Raad van die Universiteit van Pretoria sal kry. Kennis is geneem van die bemaking van sy biblioteek aan die Teologiese Opleiding deur dominee Van Belkum. Hierdie vergadering moes ook handel oor die benoeming van 'n deeltydse dosent aan die Universiteit van Pretoria vanaf 20 Januarie 1935. In die lig van die latere geskiedenis word die notule volledig aangehaal:

    Dr Fourie stel voor dat dr Rautenbach benoem sal word. Ds Prinsloo stel voor dat dr Wolmarans benoem sal word. Hy wil die bekwaamste persoon benoem. Prof Greyvenstein: Ik bedoel niks persoonliks maar Dr Rautenbach doseer reeds in filosofie en is dus baie beset. As dit 'n pos in filosofie was, dan maak dit geen verskil, maar dit is 'n pos in Teologie en Dr Rautenbach is meer filosoof as teoloog. Vir die pos is iemand nodig wat meer teoloog is. Dr Rautenbach is filosofies-teologies. Prof Gemser: Van akademiese kant beskou is Dr Rautenbach meer filosoof en Dr Wolmarans meer teoloog, en dit is 'n teologiese vak. Dit is 'n vak met vier onderdele 1 Geskiedenis van die godsdiens, 2 Verskynseleleer van die godsdiens, 3 Wysbegeerte van die godsdiens, 4 Sielkunde van die godsdiens... Dr Wolmarans het 'n baie uitgebreide uitsig op die veld van Teologie en daarom is hy geskikter vir die pos. Dr Fourie: Die vakke is Wysbegeerte van die Godsdiens en Psigologie. Dr Rautenbach het die kwalifikasies en is dus die regte, aangewese persoon. Dr de Loor: Ek hel oor na die kant van dr Wolmarans ook omdat daar dan aan die UP 'n Hervormde meer is. Dr Rautenbach is reeds aan die UP. ... Dr Greyvenstein: Ek het dr Rautenbach se aanstelling in Filosofie aan die UP ondersteun. Die Voorsitter: Wat is die posisie van dr Rautenbach aan die UP? Prof Engelbrecht: Dr Rautenbach neem op die oomblik die pos van die hoof in filosofie waar . Verlede jaar en vanaf Junie a.s. beklee hy in die letterkundige fakulteit dieselfde posisie as die aan te stelle dosent. Voorsitter: Graag sien ek dat die aanstelling van iemand wat die minste finansiële laste veroorsaak gemaak word. Dr Rautenbach se aanstelling sal die minste laste meebring. Ek hoop ons kry eenstemmigheid en dat die Professore hulle weg oop sal sien met die aanstelling van Dr Rautenbach. ... Prof Engelbrecht: dit gaan nie om die persoon nie maar om die bekwaamheid. Dit is ook van groot betekenis vir die dept van Filosofie dat daarin 'n lektor is met Christelike oortuiging. Dit sal ook op die Raadslede 'n eigenaardige indruk maak indien, nadat dr Wolmarans 2 jaar gedoseer het, nou iemand anders benoem word. Dr Wolmarans het verbasend veel satisfaksie gegee. Dr Fourie vra: Kan Dr Rautenbach dit nie by sy teenwoordige lektorskap doen nie? Prof Greyvenstein antwoord: Ons moet werk in die rigting van 'n voltydse aanstelling van iemand spesiaal in Teologie soos Dr Wolmarans. Die voorsitter sê: Ek wil graag 'n stemming voorkom en dat die vergadering eenstemmig sal word. Dr Fourie sê: My voorstel het verval want niemand het dit gesekondeer nie. Die voors sê: Ek sou graag die voorstel van Dr Fourie wou sekondeeer omdat dr Rautenbach 'n bekwame dosent is en kleiner uitgaaf word deur sy aanstelling veroorsaak. Ek voel vir dr Wolmarans hy het ook meer tyd om aan die vak te bestee. Prof Gemser merk op: Die saak moet van akademiese standpunt beskou word. Daar is 'n neiging om Teologie oor al die ander fakulteite te verdeel, lettere, filosofie ens. Maar ons verlang 'n teoloog. Dit maak onderskeid of 'n mens 'n vak beskou vanuit 'n filosofiese of vanuit 'n teologiese standpunt. Dr Wolmarans het die teenwoordige krisis in Europa in die Teologiese wereld meegemaak. Dr Wolmarans het noukeurig kennis geneem van die Teologie en het spesiaal in Teologie gestudeer,. Die Voorsitter sê: Daar is geen teevoorstel, daar is die voorstel van ds Prinsloo – dr de Loor, algemeen aangeneem. Dr Fourie sê: Ek lê my neer by die meerderheid en stel voor dat dr Rautenbach as 2de geplaas word ... [Naskrif: Dit val op dat doktor Fourie self nie genoem is as moontlikheid nie. Dalk omdat dit 'n deeltydse pos was?]

    22 Februarie 1935

    Op die Fakulteitsvergadering is professor Pellisier verwelkom. Hy is verkies as sekretaris van die Fakulteit. Besluit is om aan te beveel dat doktor H.P. Wolmarans as tydelik-deeltydse dosent vanweë die Nederduitsch Hervormde Kerk aangestel word. Wolmarans het reeds in 1932 en 1934 die lesings waargeneem in afwesigheid van dominee MacMillan.

    15 Maart 1935

    Die Raad benoem 'n komitee om te handel oor die aanstelling van doktor H.P. Wolmarans en regsadvies in te win.

    11 April 1935

    Dominee Pellisier hou sy intreerede. Hy is voorgestel deur professor S.P. Engelbrecht wat sy koms na die Universiteit as 'n mylpaal in die geskiedenis van die Universiteit beskryf het en van die geleentheid gebruik gemaak het om verhale wat die ronde doen as sou daar onwelwillendheid in die Fakulteit bestaan te ontken. Pellisier het dit bevestig. Op 'n ontvangs wat vir hom gereël is deur die Pretoriase gemeentes het hy onder andere verklaar dat sy indruk van die Fakulteit Teologie is dat die jongste kennis uit die ander lande van die wêreld verkry is en hy wil getuig van die hulp en ondersteuning wat hy van die professore aan die Fakulteit ontvang het. Pellisier se aanstelling het gevolg op 'n besluit van die sinode van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk in 1934 waar 'n kommissie benoem is wat met die Nederduits Gereformeerde Kerke in die ander provinsies moes onderhandel ter wille van 'n goeie verstandhouding met die Universiteit van Pretoria insake leerstoele, kursusse ensovoorts, gemeentes moes inlig, planne moes beraam om fondse te vind en met die regering oor staatsteun moes onderhandel.

    Met die oog op die voorgaande en omdat aan die Universiteit van Pretoria 'n aantal teologiese studente van ons kerk is, en omdat 60 persent van die studente in die algemeen aan die Universiteit van Pretoria tot ons kerk behoort, word die outoriteite van die Universiteit versoek om die huidige vakature in die teologiese fakulteit aan te vul in oorleg met en op aanbeveling van die kommissie hierbo genoem.

    Die aanstelling van dominee Pellisier was dus resultaat van inisiatief van die kant van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde kerk. Daar is telkens daarna verwys dat 'n aantal studente van dié kerk reeds opleiding ontvang by die Fakulteit in Pretoria. Een van hulle, by name S. Enrico, is gelegitimeer deur die Proponentseksamenkommissie van die Nederduitsch Hervormde Kerk en is na 'n Colloquium Doctum beroepbaar gestel in die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk.

    17 April 1935

    Die Raad verneem dat regsadvies ingewin is en stappe geneem is om 'n samespreking met die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika te bewerkstellig insake die aanstelling van H.P. Wolmarans as tydelike lektor.

    02 Mei 1935

    Die Universiteit vra in 'n skrywe die kerk of hy sal toestem dat studente wat van voorneme is om in diens van die Kerk te tree, hulle studies sal voortsit onder professor Pellisier. Die Kuratorium het besluit om sy versoek vir die tydelike en later permanente aanstelling van doktor Wolmarans te handhaaf.

    17 Mei 1935

    Die Raad besluit om doktor H.P. Wolmarans aan te stel as tydelik-deeltydse lektor tot die einde van die eerste semester hangende finale bekragtiging van die ooreenkoms tussen die Kerk en die Universiteit, mits die salaris van £300 per jaar aan die pos verbonde betaal word aan die Universiteit deur die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.

    11 Junie 1935

    Die Fakulteit verwelkom vir doktor H.P. Wolmarans as assessorlid.

    28 Junie 1935

    Die Raad besluit na aanleiding van 'n skrywe van die Kerk gedateer 11 Februarie 1935:

    I. Dat die versoek van die Kerk toegestaan word, en dat doktor H.P. Wolmarans aangestel word as deeltydse lektor in Wysbegeerte van die Godsdiens en Vergelykende Godsdienswetenskap.
    II. Dat die Universiteit afsien van die bepalings van klousule 4 van die Ooreenkoms, wat bepaal dat die Universiteit 'n dosent sal aanstel uit 'n drietal name deur die Kerk op versoek van die Universiteit aanbeveel vir elke pos, aangesien doktor Wolmarans alreeds vantevore in genoemde hoedanigheid ageer het.

    Die Raad het ook besluit om die kontrak met die Kerk in sy gewysigde vorm goed te keur en te laat onderteken.

    16 Augustus 1935

    Die Raad verneem dat die Minister die aanstelling vir drie jaar van 'n verteenwoordiger van die Kerk op die Raad goedgekeur het met aanvangsdatum 27 Julie 1935 en dat die Kerk dominee J.J. Prinsloo as sy verteenwoordiger benoem het. Dominee Prinsloo het op dieselfde dag sitting geneem op die Raad.

    15 November 1935

    Die Raad gee verlof dat professor S.P. Engelbrecht op versoek van die Minister van Spoorweë help met die Suid-Afrikaanse rolprent.

    12 Desember 1935

    Die Kuratorium voer 'n bespreking oor die verteenwoordiger van die kerk op die Raad van die Universiteit. Dominee Vermooten het daarop gewys dat die Kuratorium besluit het dat sy voorsitter die verteenwoordiger sal wees, en wou weet waarom dit nou anders is. Dit het geblyk dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering dominee J.J. Prinsloo benoem het. Volgens die voorsitter was dit die regte man op die regte plek, maar daar was tog 'n ongenoeë met die optrede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering.

    25 Desember 1935

    Die Hervormer kondig in 'n hoofartikel die verskyning aan van S.P. Engelbrecht se nuwe, hersiene uitgawe van die Geskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

     

    1936

    09 Junie 1936

    Die Fakulteit Teologie keur wysigings van regulasies goed vir Godsdienswetenskap en vir doktorale studie.

    08 September 1936

    Die Fakulteit besluit om S.P. Engelbrecht weer as dekaan te benoem.

    01 Desember 1936

    Die Kuratorium vergader. Die studenteposisie was soos volg:

    • Sesde jaar: P.J.L. Bierman, W.M. Wolmarans, J.C. du Plessis
    • Vyfde jaar: P.W.A. Bierman, P.J. Booysen, C.H. Muller, A.J. Nolte
    • Vierde jaar: H. Muller, F.J. van Zyl
    • Derde jaar: H.J. Geyser, A.S. Geyser, J.P. Labuschagne
    • Tweede jaar: G.J.J. Roos, H.M. Rex, A.H. Cornelissen

    Besluit is dat studente jaarliks opnuut aansoek moet doen vir ondersteuning en 'n vroeëre besluit om nie meer as £50 jaarliks aan 'n student toe te ken nie, is herroep. Daar was 'n navraag van doktor H.P. Wolmarans oor die bedoeling met die £300 wat aan hom toegestaan is. Dit was 'n reëling tussen die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en doktor Wolmarans, en die Kuratorium het besluit om die Kommissie mee te deel dat dit sy sienswyse is dat doktor Wolmarans aangestel is teen 'n salaris van £300 per jaar. Uit 'n omsendskrywe van die Administrateur aan gemeentes blyk egter dat die £300 soos volg verdeel is: £100 vir reis- en veblyfkoste van doktor Wolmarans, £100 vir hulp met gemeentelike werk en £100 as vergoeding. Doktor Wolmarans bly predikant van Pietersburg en moes elke week vir twee dae na Pretoria kom om lesings te gee. Dominee J.J. Prinsloo is na Pietersburg afgevaardig om die kerkraad in te lig en hulle instemming te verkry. Dit het plaasgevind op 07 Maart 1935. Die begroting vir 1937 is vasgestel op £2010.

     

    1937

    25 Mei 1937

    Op die 45ste Algemene Kerkvergadering is dominee J.J. Prinsloo Jsn verkies as voorsitter en dominee T.F.J. Dreyer as skriba. Daarmee het die 21-jarige voositterskap van dominee Brandt tot 'n einde gekom, sekerlik nie sonder pyn vir homself nie, want hy is uitgestem met 85 teenoor 46 stemme. Dominee Barger, wat skriba was van 1922 af, het op hierdie vergadering net 11 stemme gekry. [Dit was duidelik 'n anti-Hollander demonstrasie] Dominee A.J.G. Oosthuizen is verkies as vise-voorsitter na 'n herstemming tussen hom en dominee Brandt, en dominee E.S. Mulder as vise-skriba na herstemming tussen hom en dominee D.F. Erasmus. Die Kommissie het gerapporteer dat professor S.P. Engelbrecht benoem is tot lid van die Sociedade de Geographia de Lisbon, die Maatschapij der Nederlandse Letterkunde te Leiden en die Provinciaal Utrechtsch Genootschap van Kunsten en Wetenshappen, en Professor B. Gemser as lid van die Koninklike Akademie van Wetenschappen te Amsterdam. Die vergadering het eenparig besluit om die stigting van 'n mediese fakulteit by Universiteit van Pretoria te ondersteun. Dominees Brandt, Oosthuizen, Vermooten en J.G.M. Dreyer is benoem om 'n kommissie van die universiteit te ontmoet in verband met die kontrak tussen kerk en universiteit. Besluit is om kerkrade te versoek om donateurs van die universiteit te word. Doktor H.C.M. Fourie is gelukgewens met die ontvangs van 'n ere doktorsgraad in die Lettere by Universiteit van Pretoria (in 1934) saam met drie ander Bybelvertalers. Die Kuratorium het gerapporteer dat student H. Muller 'n Rhodesbeurs ontvang het vir drie jaar studie in Europa.

    Die nuwe kontrak tussen die kerk en die universiteit het tegelyk die begin van 'n nuwe bedeling ingelui. Die kontrak is gefinaliseer op 11 Oktober 1937 en op 07 Desember 1937 het die Universiteit die Kerk in kennis gestel dat dit goedgekeur is. Die volgende uittreksels is van belang:

    A. Die Universiteit verbind hom as volg:

    1. Die tansbestaande Teologiese Fakulteit aan die Universiteit word gekontinueer;
    2. In daardie Fakulteit sal twee van mekaar onafhanklike afdelings bestaan, nl

    I. die Afdeling van die Nederduits Hervormde Kerk van Afrika;
    II. die Afdeling van die Nederduits Hervormde of Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika.

    3. a. Die Afdeling van die Nederduits Hervormde Kerk van Afrika sal bestaan uit vier onafhanklike departemente van die Fakulteit, nl:

    I. die Departement van Ou-Testamentiese Wetenskap,
    II. die Departement van Nu-Testamentiese Wetenskap,
    III. die Departement van Geskiedenis van die Christendom,
    IV. die Departement van Dogmatiek en Sendingwetenskap.
    [3.b het 'n identiese formulering vir die Nederduitsch Hervormeerde of Gereformeerde Kerk]

    4. Op versoek van die betrokke kerk sal die Universiteit 'n professor as hoof van ieder van die onder A.3(a) ... genoemde departemente aanstel; met dien verstande dat die professore waarvoor die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in die verlede £1100 per jaar in die kas van die Universiteit gestort het, drie van die professorate onder A. 3(a) sal beklee....
    10. Die Dekaan van die Fakulteit word op die gewone manier uit die lede van die Fakulteit gekies ...met dien verstande dat die verkiesing sal geskied om beurte uit die professore van die een en van die ander Afdeling op aanbeveling van die Komitee van die betrokke Afdeling telkens vir die gewone periode van drie jaar; met dien verstande verder dat die Komitee van die Afdeling waaruit die Dekaan nie verkies is nie, 'n adjunk-Dekaan vir verkiesing sal aanbeveel, wat elke jaar by die Senaat aanbeveel sal word ...

    B. Die Kerk verbind hom as volg:

    1. Die Kerk sal jaarliks die volgende bydraes in die kas van die Universiteit stort tot gedeeltelike dekking van die salarisse van die Professore en volledige dekking van die salarisse van die Lektore wat onder A.4 genoem word;
    [vir elk van die vier professorate £367; vir elke Lektor: sodanige salaris as wat die Kerk self bepaal]
    2. 2. Die Kerk sal verplig wees om ingeval van 'n vakature die voordrag .. vir die vulling daarvan so spoedig moontlik te maak, met dien verstande dat daar nooit minder as drie Professore van die Kerk onder B1 in diens van die Universiteit sal staan nie.
    3. Die Kerk vrywaar die Universiteit teen enige eise vir skadevergoeding wat onder C1 en C2 ingestel mag word.

    C. Algemeen:

    2. Die Universiteit verbind hom by die aanstelling van persone onder A5.(1) en (2)om as 'n voorwaarde in hulle Dienskontrak op te neem dat genoemde persone met drie maande kennisgewing uit die diens van die Universiteit ontslaan kan word, ingeval die Universiteit kennis van die Kerk kry ...

    Die Kuratorium is saamgestel uit die lede dominees L.E. Brandt, A.J. Barger, J.J. Prinsloo Jsn, A.J.G. Oosthuizen, J.G.M. Dreyer, doktor H.C.M. Fourie en doktor B. de Loor.

    18 November 1937

    Die Raad staan spesiale verlof toe aan professor S.P. Engelbrecht om eers in die tweede helfte van Maart 1938 uit Europa terug te kom, mede vanweë 'n opdrag wat hy ontvang het van die Beweging 1652.

    19 November 1937

    Op die vergadering van die Kuratorium is dominee Brandt as voorsitter en dominee J.G.M. Dreyer as skriba verkies. Die vergadering is saamgeroep omdat die Universiteit versoek het dat die kontrak so gou moontlik nagegaan en goedgekeur word en die vierde professor benoem word. Op voorstel van doktor Fourie is doktor H.P. Wolmarans, wat intussen na Boksburg verhuis het, benoem as vierde professor.

    07 Desember 1937

    Toe die Kuratorium weer vergader, was slegs dominees Brandt en Barger en doktor De Loor aanwesig naas die Administrateur. Hulle het die werk as kommissie afgehandel en beurstoekennings gemaak.

    11 Desember 1937

    Professor Greyvenstein se naam verskyn op die gradedagprogram as kanselier van die Konvokasie.

    17 Desember 1937

    Die Vakansiekomitee van die Raad keur die aanstelling van doktore J.H. Kritzinger, E.P. Groenewald en D.J. Keet (al drie promovendi van die Vrye Universiteit in Amsterdam) in Afdeling B en van doktor H.P. Wolmarans in die vierde professoraat in Afdeling A goed.

     

    1938

    23 Februarie 1938

    Die Hervormer gee in 'n hoofartikel aandag aan die 21-jarige bestaan van die Fakulteit, verwelkom doktor A. van Selms ('In hierdie jong geleerde dokter het die teologiese fakulteit 'n groot wetenskaplike aanwins') en wens die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk geluk met die totstandkoming van 'n eie opleiding in Afdeling B van die Fakulteit.

    05 Mei 1938

    Daar is 'n werkmetode vasgestel vir die twee afdelings van die Fakulteit.Kortliks het dit die volgende behels:

    a. Elke afdeling vergader afsonderlik en stuur sy notule deur aan die Registrateur, waarvandaan die notule gestuur word na die Fakulteit en daarna na die Uitvoerende komitee.
    b. Die sekretaris van die Fakulteit word gekies op voordrag van die afdeling waartoe die Adjunk-Dekaan behoort.
    c. Elke afdeling sal 'n verteenwoordiger hê op die Biblioteek- en Publikasiekomitee. Die dekaan en adjunk-dekaan sal albei sitting hê op die Uitvoerende Komitee, die Propaganda-komitee en die Eregraadkomitee.
    d. Elke afdeling se leergang word afsonderlik in die Jaarboek gedruk, die inhoud sover moontlik dieselfde.
    e. Afdeling A handhaaf die bestaande vereistes vir BA wat Grieks, Hebreeus en Latyn betref.
    f. Elke afdeling is verantwoordelik vir sy eie BD eksamens.
    g. 'n Student wat vir die Doktoraalstudie inskryf, studeer onder leiding van die professore van sy eie afdeling, die eksamen word egter deur die hele Fakulteit afgeneem.

    Hierdie werkmetode is goedgekeur op 'n Fakulteitsvergadering op 10 Mei, deur die Senaat op 01 Junie 1938 en deur die Raad op 15 Junie 1938. [Later, in 1947, is punte (f) en (g) vervang deur 'Elke afdeling is verantwoordelik vir sy eie eksamens.]

    Die eerste dosente van Afdeling B was professore G.M. Pellisier, J.H. Kritzinger, E.P. Groenewald en D. Keet. Professor Pellisier is na sy emeritaat in 1945 vervang deur professor A.B. du Preez en professor Keet in 1954 deur professor B.J. Marais. So het die opleiding van predikante vir die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk sy beslag gekry nadat so 'n moontlikheid telkens vanaf 1922 op sinodes geopper is. In 1934 is uiteindelik daartoe besluit. Dominee Nicol het egter telkens dit uitgespel dat dit om meer as opleiding van predikante gaan. Die invloed van die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk wat die grootste is in die Transvaal, moes aan die Universiteit versterk word, want die Hervormde Kerk begin die Universiteit verower. Die Afdeling van die Nederduits Gereformeerde Kerk het sy eerste Fakulteitsvergadering gehou op 04 Maart 1938.

    05 Mei 1938

    Afdeling A besluit om Christelike Etiek te laat ressorteer onder die Departement van Dogmatiek en Godsdienswetenskap. Die onderwys in Dogmatiek en Christelike Etiek is egter opgedra aan professor Greyvenstein so lank hy nog in funksie is. Dit het beteken dat die onderwys in hierdie twee vakke sou terugval na die Professor in Godsdienswetenskap na die aftrede van professor Greyvenstein, iets wat nie gebeur het nie, want op 12 Mei 1938, dus pas 'n week later, het die Fakulteit besluit dat Christelike Etiek onder die Departement Nuwe Testament moet ressorteeer. H.P. Wolmarans, wat deeltyds dosent was van 1935 af, het in 1938 professor geword in die leerstoel Godsdienswetenskap.

    Hendrik Petrus Wolmarans is gebore op die plaas Transvalia in die distrik Ermelo op 07 September 1894. Hy was die vierde kind van Douw Gerbrand Steyn Wolmarans en Anna Eleonora Geldenhuis. Sy pa was 'n jonger broer van A.D.W. Wolmarans. Saam met sy ma en vyf ander kinders beland hy in 1900 in die konsentrasiekamp op Volksrust. Anders as baie ander het ma en al die kinders die ontberinge van die kamp oorleef. Omdat hy weens die armoede van die gesin ná die Engelse oorlog eers laat in die skool gekom het, was hy reeds 22 jaar oud toe hy matriek geslaag het aan die hoërskool op Ermelo. In 1917 word hy een van die eerste drie studente van die Nederduitsch Hervormde Kerk aan die TUC, waar hy hard studeer en naas die BA BD ook 'n MA graad verkry. Hy presteer ook op sportgebied en ontvang erekeure vir rugby. Op 08 Julie 1922 word hy georden as predikant van Zeerust. Op 30 Oktober 1922 tree hy in die huwelik met Cornelia Susanna Human, ook 'n Ermeloër, gebore in die konsentrasiekamp op Merebank. In 1927 aanvaar hy 'n beroep na Pietersburg, waarvandaan hy na Nederland vertrek vir doktorale studie. In 1932 promoveer hy in Groningen met 'n proefskrif God en mens I: Die mens naar die beeld van God. Terug in Pietersburg gaan hy voort met die werk in daardie uitgebreide gebied. Vanaf 1935 behartig hy die lesings in Godsdienswetenskap deeltyds. Dit beteken weeklikse treinreise na Pretoria.

    05 Mei 1938

    Die Fakulteit besluit om nie die versoek van dominee S.P.J.J. van Rensburg om die doktoraal-eksamen in twee dele te doen, toe te staan nie. Hy is ook daarop gewys dat kennis van Latyn noodsaaklik is vir die aflê van die doktoraal-eksamen. H. Muller het sy eksamen in BD II skriftelik in die buiteland gedoen.

    25 Mei 1938

    Die Hervormer bied 'n hoofartikel oor die mondigwording van die opleiding, byraes oor professor Greyvenstein deur H.P. Wolmarans en T.F.J. Dreyer en 'n kort oorsig van die geskiedenis van die Fakulteit.

    01 Junie 1938

    Die Senaat besluit dat professor Greyvenstein, wat die ouderdom van 60 bereik het, vanaf begin 1939 van jaar tot jaar aangestel word.

    02 Junie 1938

    Die Hervormer van 29 Junie 1938 berig dat die mondigwording van die Fakulteit feestelik herdenk is op 02 Junie. Die meeste predikante was teenwoordig, en verskillende sprekers het hulde gebring aan professor Greyvenstein. Sy oudstudente het 'n goue sakhorlosie aan hom oorhandig as geskenk:

    Wat opvallend was, was die hartlikheid en eensgesindeheid wat op die feestelikheid aan die dag gelê is. Die samewerking tussen die kerk en sy opleiding, tussen die professore en predikante is van die beste... Op besondere treffende wyse het ds Vermooten in die dankdiens, wat die aand in die kerk gehou is, hieraan uiting gegee.

    Die feesrede van dominee Vermooten is opgeneem in Die Hervormer van 29 Junie 1938. Net dominees Brandt, Oosthuizen, Prinsloo en Dreyer is teenwoordig in die vergadering van die Kuratorium op 02 Junie. Hierdie vergadering het kennis geneem dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering op versoek van die Universiteit goedgekeur het dat doktor A. van Selms prof Gemser assisteer in die Teologiese Fakulteit, en dat die Kuratorium versoek word om doktor Van Selms as lektor te benoem. Die Kuratorium het dit gedoen.

    Adrianus van Selms is gebore in Amsterdam op 22 Januarie 1906. Sy skoolopleiding geniet hy aan die Laerskool en Gimnasium in Hilversum. Hy skryf in aan die Ryksuniversiteit in Utrecht in 1923. In 1926 assisteer hy vir F.M.T. de Liagre Böhl by die argeologiese opgrawings van Sigem en volg hy ook 'n kursus aan die Deutsch-evangelisches Institut für Altertumswissenschaft des Heiligen Landes in Jerusalem onder leiding van Albrecht Alt. Hy lê die kandidaatseksamen in 1927 af en in 1928 ook die kandidaatseksamen in Semitiese Tale in Utrecht, en word in 1930 predikant van Hansweert in Zeeland. Op 21 Mei 1930 tree hy in die huwelik met Johanna Schrijvers van Arnhem. Tydens sy dienstyd in Hansweert werk hy aan die doktorale studie en promoveer in 1933 onder H.W. Obbink met 'n proefskrif oor die Babiloniese terme vir sonde. In 1935 aanvaar hy 'n beroep na Culemborg. Naas verskillende bydraes in Ex Oriente Lux en Nederlandsche Teologische Tijdschrift publiseer hy reeds in 1925 sy kommentaar oor Esra en Nehemia in die bekende Hollandse reeks Tekst en Uitleg. Toe hy dus in 1938 na Suid-Afrika vertrek, was hy 'n bekende en gerespekteerde akademikus.

    06 Desember 1938

    Daar is weer nie 'n kworum vir die vergadering van die Kuratorium nie. Dominees Brand en Dreyer en doktor Fourie was teenwoordig saam met professore Greyvenstein, Engelbrecht en Wolmarans. Kennis is geneem dat student F.J. van Zyl die BD eksamen met lof geslaag het. Beurstoekennings is gemaak en besluit is dat studente voortaan in Kollegetehuis moet tuisgaan.

    28 Junie 1939

    Die Hervormer kondig die verskyning aan van die Voortrekker gedenkboek van die Universiteit van Pretoria, en beveel dit aan.

     

    1939

    06 Desember 1939

    Deelneming is in die vergadering van die Kuratorium betuig met die naasbestaandes van dominee L.E. Brandt en doktor H.C.M. Fourie wat albei intussen oorlede is. In hulle plek het die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering domiee T.F.J. Dreyer en ouderling J.P. Prinsloo benoem. As voorsitter is verkies dominee A.J.G. Oosthuizen. Dominee Barger het per telegram laat weet dat hy nie teenwoordig kan wees nie. Die skriba het die volgende dag aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gerapporteer oor die toelating van studente vir die volgende jaar, 'n totaal van 37. 'n Begroting van £2488 is goedgekeur.

     

    1940

    21 Mei 1940

    Die 46ste Algemene Kerkvergadering kom byeen. As voorsitter is verkies dominee J.J. Prinsloo Jsn, as vise-voorsitter dominee A.J.G. Oosthuizen, as skriba dominee T.F.J. Dreyer en as vise-skriba dominee J.G.M. Dreyer [Dominee J.G.M. Dreyer het na die vertrek van dominee Mulder na Nederland vir verdere studie reeds as sekundus Mulder se plek op die Moderamen ingeneem]. Die vergadering het 'n mosie van deelneming aanvaar met die afsterwe van dominees Poen, Brandt, Barger en doktor Fourie. Verder is 'n mosie aanvaar van simpatie met die Nederlandse vorstehuis, die Nederlandse nasie en die Nederlandse Hervormde Kerk met die nood in Nederland [besetting deur die Duitse magte]. Besluit is om tesame met die eeufees op Potchefstroom in 1842 ook die kwarteeufees van die teologiese opleiding te vier. Dominee Vermooten het die vergadering meegedeel dat verskillende leiers van die Ossewa-Brandwag reeds gearresteer is om geïnterneer te word. Hy het voorgestel dat die moderamen opgedra word om die volgende oggend so vroeg moontlik na die Minister van Justisie te gaan en hom te versoek om nie van ons predikante en ouderlinge te interneer nie, aangesien hulle nie staatsgevaarlik is nie. Die vergadering het die voorstel aangeneem. Die verslag van die Kuratorium is met dank aanvaar. Die Kommissie het gerapporteer dat doktor H.P. Wolmarans in 1937 aangestel is as professor, doktor A. van Selms in 1938 en doktor C.H. Rautenbach in 1939 as lektor in die Fakulteit Teologie.

    Casper Hendrik Rautenbach is gebore op Zeerust op 05 Maart 1902. As vierde kind van Lucas Johannes Rautenbach (tweede kind uit die tweede huwelik met Maria Magdalena Coetzee). Hy slaag matriek in die eersteklas in 1918, en skryf in by die Transvaalse Universiteitskollege op 03 Maart 1919 met die doel om onderwyser te word maar mede onder invloed van die Dreyer-broers en A.J.G. Oosthuizen verander hy van kursus en slaag BA met lof in 1921, MA (Wysbegeerte) met lof in Junie 1923 en BD einde 1923. Omdat hy toe pas 21 jaar oud was en die Kerkwet bepaal het dat 'n predikant minstens 23 jaar oud moes wees, kon hy nie beroepbaar gestel word nie. Die Transvaalse Universiteitskollege het hom aangestel as lektor in Wysbegeerte. In 1924 het hy ook lektor in Sielkunde geword. Hy is op 22 Januarie 1927 georden as predikant van Bronkhorstspruit, en word in 1930 predikant van Pretoria as medeleraar van dominee S. Vermooten, in 1934 van Noordelike Pretoria. In 1932 promoveer hy met die proefskrif Sedelike keuring, kritiek op McDougal. Van 1934 tot 1939 is hy deeltydse lektor in Wysbegeerte, en in 1939 word hy voltydse professor, en gee ook lesings in Opvoedkunde en Sielkunde, terwyl hy as lektor in die Fakulteit Teologie ook Christelike Etiek doseer. Hy is op die Fakulteitsvergadering van 14 Maart 1940 verwelkom.

    Die 21ste bestaan van die Teologiese Opleiding is gevier by wyse van 'n fees in die Stadsaal van Pretoria. Op dieselfde geleentheid is ook herdenk dat dit 21 jaar is sinds die aanstelling van prof Greyvenstein. 'n Deel van die boekery van die Hersteld Luthers Seminarium in Nederland is deur bemiddeling van professor J.W. Pont gratis vir die Teologiese Opleiding verkry. Die universiteitskoshuis Buxton House is aangekoop.

    22–23 Mei 1940

    Professor B. Gemser spreek die eerste kongres van die NHSV toe oor 'Wat leer die Ou Testament ons van die vrou in die volkslewe?', professor J.H.J.A. Greyenstein oor 'Die plek van die vrou in die gemeente volgens die Nuwe Testament', mevrou Greyvenstein oor 'Belangstelling in die Teologiese Opleiding,' professor S.P. Engelbrecht oor 'Die vrou in die opbou van die gemeente en die kerk'. Mevrou Greyvenstein se toespraak is opgeneem in Die Hervormer van 31 Julie 1940.

    30 Augustus 1940

    Die nuutverkose Kuratorium vergader. Lede was dominees A.J.G. Oosthuizen, S. Vermooten, J.J. Prinsloo Jsn, J.G.M. Dreyer, P.J. Smit en E.S. Mulder en professor B. de Loor. Dominee Oosthuizen is as voorsitter en professor De Loor as skriba verkies. Naas ander beurstoekennings aan studente is aan A.S. Geyser 'n bedrag toegeken om sy studie vir die MA graad voort te sit. Die twee broers H.J. en A.S. Geyser het in Desember 1940 saam met J.P. Labuschagne (laasgenoemde oorspronklik uit die Nederduits Gereformeerde Kerk in die OVS) proponentseksamen gedoen. Toe die Kuratorium daarna weer vergader, op 02 Januarie 1941, was Voortrekkertehuis voltooi en is besluit dat teologiese studente daar moet inwoon. Die Kuratorium sou studente ontmoet in Maart vir bespreking oor hulle studies en oor die klem op die studie van Latyn. Eienaardig genoeg staan hier ook genotuleer: 'Prof Engelbrecht stel voor dat 'n album aangelê word waarin alle teol studente ingeskryf sal word.'

     

     

    DOI: 10.4102/hts.v66i3.919