SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue3Deur die voorsitter van die Kuratorium vir Teologiese OpleidingHoofstuk 1: Die aanloop 1909-1916 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.66 n.3 Pretoria Jan. 2010

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v66i3.946 

VOORWOORD

 

Deur die voorsitter van die Hervormde Dosentevergadering

 

 

 

Met die publikasie, Honderd jaar kerk en teologiese opleiding: 'n Kroniek, word die 100-jarige bestaan van die Kuratorium vir Teologiese Opleiding van die Nederduitsch Hervormde Kerk gevier. Dit gaan egter oor veel meer as net die handelinge van die Kuratorium die afgelope 100 jaar. Die aard van die teologiese nadenke van die Kerk en verwante gesprekke tydens en besluite van verskeie Algemene Kerkvergaderings vorm ook deel van die verhaal.

Die eerste gewaarwording met die lees van die kroniek, is: 'terwyl alles verander, verander niks eintlik nie'. Baie sake en vrae waaraan die Kerk vandag aandag gee, was reeds sedert 1917 ter sake. Soos die afgelope 100 jaar, word die volgende vrae vandag nog gevra: 'Behoort die kerk se teologiese studente aan 'n universiteit of kweekskool opgelei te word?' 'Hoort 'n teologiese fakulteit aan 'n universiteit?' 'Wat is die status van dosente in terme van gemeentewerk?'

Die Kuratorium het hierdie vrae oor die afgelope 100 jaar met nugterheid benader. Universitêre opleiding is deurgaans as belangrik beskou. Dosente is aangemoedig en die ruimte gebied om wetenskaplike Bybels-Reformatoriese teologie te beoefen tot voordeel van die studente en die Kerk. Die doel van die Kuratorium was nog altyd om die Teologiese Opleiding uit te brei. Daarvoor moes fondse gevind en nuwe poste geskep word. Die vlak van teologiese uitnemendheid wat die Fakulteit bereik het, is mede te danke aan die Kuratorium. Die Kuratorium was deurentyd betrokke by kurrikulering en het beurse voorsien aan studente van die Kerk wat teologie wou studeer.

Verskeie sake het tussen 'toe' en 'nou' nie veel verander nie. Soos 'toe', hou die Kuratorium steeds in samewerking met die dosente 'n wakende oog oor studente se klasbywoning en lewe – hoewel studente vandag, anders as in 1930, darem mag dans! En soos 'toe', is daar soms spanning tussen die Kuratorium en studente. Die Kuratorium se intense en opregte belangstelling in die Kerk se teologie-studente was egter altyd bo verdenking. Ons bede is dat die mooi verhouding en gesindheid steeds sal verdiep.

Soos 'n goue draad deur die kroniek is die dank wat Kuratorium en Algemene Kerkvergadering uitspreek teenoor die dosente wat deurentyd akademiese uitsette en werk van hoogstaande gehalte gelewer het, soms onder moeilike omstandighede. Die Kerk se kontraktuele ooreenkoms met die Universiteit moet van tyd tot tyd hersien word soos omstandighede verander. Opmerklik is ook die jarelange samewerking wat daar tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk en Nederduitsch Hervormde Kerk aan die Teologiese Fakulteit bestaan. Uit die kroniek word duidelik dat die huidige situasie eintlik maar 'n uitvloeisel is van 'n fondament wat lankal reeds gelê is. Wat ook opval, is die groot hoeveelheid proefskrifte wat deur soveel predikante van 'n klein kerkie geskryf is. Hiervoor moet die dosente, ondersteun deur die Kuratorium, inderdaad die dank ontvang. Die Kerk kan trots op hierdie stukkie van sy geskiedenis wees.

Wat die aanstelling van dosente betref, onthul die kroniek dat feitlik nie een sonder spanning en ernstige meningsverskil verloop het nie. Wat die redes hiervoor betref, wil dit lyk asof ander belange as die van die evangelie van Jesus Christus soms 'n rol gespeel het. Die kroniek bring ook die afgelope 100 jaar se meningsverskille in die debatte tydens verskeie Algemene Kerkvergaderings oor die verstaan van die ekklesiologie na vore.

Dit is goed vir die Kerk om met die positiewe en negatiewe uit die verlede gekonfronteer te word. Enersyds is die weg na die toekoms gebaan en andersyds kan die Kerk leer uit die verlede. Uit die kroniek word dit duidelik dat die Kerk moet bly besin ('n kerk van die Reformasie bly tog 'altyd hervormend'!) oor hoe om die evangelie van Jesus Christus op 'n eie unieke manier met woord en daad relevant te maak vir die huidige tydsgewrig. Die vraag vandag bly steeds – soos oor die afgelope 100 jaar – wat God van ons as gelowiges en kerk verwag. Die dosente van die Kerk beskou dit as 'n voorreg om veral op hierdie terrein 'n bydrae te lewer.

Ons bede is dat die teologiebeoefening in die Kerk in die toekoms van krag tot krag sal gaan, en dat die Heer van die kerk die werksaamhede van die Kuratorium sal seën. Mag die betrokkenheid van die dosente en die Kuratorium by die voornemende predikante van die Kerk hulle in staat stel om teologies-krities te kan nadink oor die veranderende wêreld. Mag hulle die evangelie van Jesus Christus, getrou aan ons tradisie, sinvol en relevant voorleef en verkondig aan ander.

Die kroniek eer ons voorgangers, maar roep ook op tot 'n verantwoordelike lewe voor God in die toekoms. Mag ons almal – Kerk, Kuratorium, dosente en studente – dit met oorgawe doen deur eensgesind vas te hou aan die Heer van ons Kerk!

 

 

DOI: 10.4102/hts.v66i3.946

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License