SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.66 n.2 Pretoria Jan. 2010

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Godsbeelde in die liturgie

 

Images of God in the liturgy

 

 

Cas J.A. Vos

Department Practical Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

In this article, the research hypothesis is that a one-sided liturgy leads to a watered-down image of God. When room for God is not created in the liturgy, God is not encountered in all God's glory. As a result, worshippers cannot fully bring homage to God's glory. From this perspective, the article explores the different faces of God in the liturgy. These diverse images of God lead to a rich diversity of views and experiences of God by worshippers.

Keywords: liturgy; God's image; Christology; pneumatology; homilist


 

 

INLEIDING

Invalshoek

Erediensgangers kom meestal met bepaalde verwagtings kerk toe. Een van die verwagtings is om die lewende God te ontmoet. Erediensgangers dra dikwels swaar aan Godsbeelde watvan kleintyd af gevorm word. Kinders word meestal met verskillende Godsbeelde groot (vgl. Biezeveld, de Boer, Brümmer, Muis 2001; Brown 2006; Durand 2007). Die erediens speel ook geen geringe rol in die vorming van Godsbeelde nie. 'n Eensydige liturgie het verskraalde Godsbeelde tot gevolg. Daar kan selfs van die 'afwesigheid' van God in die lewe en liturgie gepraat word. In dié verband sê Breyten Breytenbach (2007:118) in een van sy gedigte: 'Ek het God nooit geken, / die hemelse vaandels nie sien wapper op die wind, / nog enige van sy of haar klone'.

Hierdie bydrae ondersoek die verskillende gesigte van God in die liturgie as verskyningsruimte. Die Godsbeelde verskyn egter nie eenduidig in die verskillende liturgiese momente nie. Die spanning van die liturgiese verskyning van God, en die erediensganger se ervaring van God, word steeds gehandhaaf. Die artikel sal ook hierop klem lê. Die vermoede is dat die Godsbeelde in die liturgie 'n vormende invloed het op die beeld wat gelowiges van Hom het.

Die opskrifte volg die patroon van die liturgie, en vloei van die een liturgiese moment na die volgende.

 

'N VERLANGE NA GOD

'n Verlange na God is 'n grondmotief vir die ontmoeting met God. Dit is die aantrekkingskrag na die erediens. Die verlange na God word deur 'n ontmoeting met God in die erediens vervul. Om die motief van 'n verlange na God toe te lig word Psalm 42, wat die verlange goed verwoord, as voorbeeld gekies.

Die Psalmbundel bestaan uit vyf boeke (kyk Vos 2005). Psalm 42/43 kom in boek II en Psalm 84 in boek III voor. Psalm 42/43 maak een psalm uit (Schaper 2004:14-17; vgl. Zenger 1997:478; Schuman 2004:5-6;) en behoort tot die Koragitiese psalmreeks. Die kinders van Korag, poortwagters in die tempel, is 'n sangersgilde wat op 'n sekere verhoogde toon kon sing (Schuman 2004:11). Op teksvlak beeld Psalm 42/43 'n dramatiese voortgang van vervreemding en verlatenheid tot nuwe vertroue en nabyheid uit (Schuman 2004:9).

Die Psalmreeks 84-89 maak die Koragpsalms uit. Psalm 84 is die eerste in 'n reeks met 'n reistema (Ps 84-88, met uitsondering van Ps 86). In Psalm 84 hoor ons Psalm 42/43 eggo (vgl Hossfeld & Zenger 2000:517, 520-521; Schaper 2004:27, 29, 31-38). Psalm 42 is eweneens die begin van 'n reis. Wat hierdie uitleg betref, het Psalm 42/43 en Psalm 84 ongetwyfeld raakpunte as die openingspsalms van hul onderskeie komposisies. Albei hierdie psalms is individuele gebede van verlange na die ontmoeting met die God van Sion, voor wie se aangesig die bidders begeer om te verskyn (Hossfeld & Zenger 2000:357).

In Psalm 42 word die stem gehoor van iemand wat sy verblyf op aarde as ballingskap en chaos, vol bedreiging en vyandskap, ervaar (Schuman 2004:10-11; vgl. Zenger 1997:479). As wanhoop en angs die digter oorval, is daar net een uitweg, naamlik hunkering na God (strofe 1): 'Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God' (Ps 42:2, 3). Die waterstrome waarna die wildsbok hunker, keer in die tweede strofe terug (vers 8). In Psalm 84:3 tref ons dieselfde intense verlange na God aan. Hier is dit ook 'n verlange na die 'lewende God' (Ps 84:3). Hierdie hunkering word in stand gehou deur 'n pynlike herinnering (Ps 42:5) (Schaper 2004:55): Die digter se lewe speel soos 'n film voor sy oë af, en hy sien weer hoe hy na God se woonplek optrek. Hy loop voor 'n skare uit, met gejuig en lofsang.

Wanneer sal hy weer in God se teenwoordigheid verskyn (vers 3)? Dié vraag is vol onsekerheid (Schuman 2004:8). Sy onsekerheid word versterk deur die vyand se daaglikse spotvraag: 'En waar is jou God nou?' (vers 4), wat in die tweede strofe (vers 11) herhaal word. Die verdrukkers laat die digter glo dat God hom vergeet het (vers 10). Die formulering in die tweede strofe van Psalm 43 is selfs sterker: 'Waarom het U my verwerp?' (Ps 43:2). Die spot en wanhoop is des te pynliker omdat hy voel dat God sy rug op hom gedraai het. Die dorstige word dus 'n drenkeling omdat hy God nie meer as sy Rots ervaar nie. God laat die golwe oor hom slaan (Ps 42:8), en hy het niemand om aan vas te hou nie.

 

VOTUM

Die liturgie word deur ritualisme gekenmerk. Volgens die digter Laurie (2007:51) het 'n rite die volgende funksies: 'Die reëlmaat van 'n rite / word 'n anker in 'n mens se lewe, / iets om aan te hang, na uit te sien, / iets om na terug te verlang.'

Vervolgens kom elke liturgiese moment as 'anker', 'iets om na uit te sien' en 'iets om na terug te verlang' aan die orde.

In die liturgie kan die votum verskillende funksies hê (kyk Jossutis 1991:226-229; Vos & Pieterse 1997:201-206; Oskamp & Schuman 1998:159-160;). In hierdie bydrae val die klem op die votum as erkenning en aanvaarding van die lewende God se teenwoordigheid by die feesvierende skare. Psalm 24 en 42 dien as voorbeelde in dié verband.

Psalm 24 oor God as eienaar van die kosmos

Die 'aarde' en die 'wêreld' behoort volgens Psalm 24 aan die Here. Met 'aarde' word die kosmiese realiteit bedoel, terwyl 'wêreld' op die makgemaakte, getemde en lewegewende land dui. 'Die aarde en alles wat daarop leef,' verwys na die lewende wesens op die aarde, veral die mens. As die mens in die liturgiese ruimte verskyn, verteenwoordig hy/sy die ganse kosmos, en word die Here se eienaarskap van die hele kosmos dus gevier. So groot is God.

In die liturgie word die God as Meesterbouer, as koninklike Bouer erken (Spieckermann 2006:283). God het die wêreld sorgvuldig soos 'n tempel, paleis of stad opgerig (Vos 2005:143-144). In die liturgie word die ontstaan en bestaan van die wêreld gevier. Die wêreld is geen toeval nie, maar kom uit God se hand. In die liturgie word God, mens en wêreld opnuut aan mekaar verbind. Dit móét ook gebeur. In Psalm 24:2 is daar immers ook 'n verwysing na die 'see' en die 'waters', wat op die bedreiging deur die chaosmagte dui (Spieckermann 2006:284; vgl. Vos 2005:144). Dié magte kan net deur God in toom gehou word. Die liturgie is dus vir die volk van God 'n veilige hawe.

Psalm 42 - van vertwyfeling na hoop

In Psalm 42 is daar 'n beweging van hunkering en vertwyfeling na vervulde hoop en dank. Hierdie verskuiwing word onderbou deur vertroue (Ps 42:6,12; 43:5; kyk ook Ps 84:13). Vertroue is om 'n beroep op God te doen: 'Verskaf reg aan my in my geding. Voer my geding' (Ps 43:1). Hierdie dubbele beroep sluit aan by 'Stuur u lig en u waarheid...' (Ps 43:3). Die gebruik van 'u lig' en 'u waarheid' staan teenoor 'u bare (waters?)' en 'u waterstrome' (Ps 42:8). Die 'lig' verdryf die angs en die onheil (kyk Ps 27:1). Dít is vir die Psalmdigter die teken dat God Hom welwillend en liefdevol tot hom toewend (Ps 31:17) (kyk Zenger 1997:484). God se volk en die enkeling in die geskiedenis het al die trou van God ervaar waarop die digter hier hoop (Zenger 1997:484-485). Teenoor die digter se vertwyfeling staan God se trou. Die wanhoop word deur hoop vervang, en bring die digter nader aan die gewenste, of 'op gehoopte' werklikheid (Schuman 2004:9).

Ná die votum spreek die liturg die seëngroet in die Naam van God uit.

 

SEËNGROET

In die liturgie trek God mense in in die dampkring van God se seën. Die seëngroet is die guns wat God aan mense toesê. Met dié guns kan mense God in die volgende gestaltes ontmoet.

 

DIE GEDULDIGE EN GENADIGE GOD

Die misterie van God

Wanneer daar na die geduldige en genadige God verwys word, moet in gedagte gehou word dat dit nie God se misterie ophef nie. Soms kan mense God eenvoudig nie begryp nie. In dié verband kan daar na die 'donker psalm', Psalm 88, verwys word. In die psalm is God se handelinge duister. God kom afwesig voor, of is, in soverre God wel aanwesig is, 'n onpersoonlike en vyandige mag (Schuman 2008:105).

Persoonlike klagtes

Persoonlike klagtes is die hartklop van die Psalmbundel. Nie minder nie as 'n derde van die psalms behoort tot dié genre (kyk onder andere Ps 3-7, 13, 17, 22, 25-28, 31, 35, ens) (Vos 2005:79). Klagtes is egter nie net persoonlik nie, maar ook gemeenskaplik. Die liturgie is 'n ruimte waarin sowel die persoonlike as die gemeenskaplike skuld voor God bekla kan word. Voor God het mense net één status: Hulle is skuldig. Dit is die werklikheid. Hiervan is die brief aan die Romeine afdoende getuienis.

Romeine kondig die verdorwenheid van die mens aan (Rom 1 e.v.). Almal het gesondig (Rom 3:24). Dít is die spanning in Romeine. Mense is sondaars en bedelaars, maar die geloof in God se handelinge deur Jesus Christus en die Heilige Gees maak ook van hulle heiliges in God se oë (Rom 8:27) (kyk Klauck 1999:94). Dit is Christologies geanker en word pneumatologies verwerklik. Die Gees laat die mens die heil, die heiligheid ervaar.

Klag neem in die liturgie die vorm van verootmoediging en belydenis aan. God luister na en verdra mense se klagtes. God vergewe mense boonop die redes vir hulle klagtes. Een van die oudste liturgiese formules in Eksodus beeld God as die genadige, vergewensgesinde God uit (Eks 34:6). God maak God-self as 'n God van liefde en trou bekend.

Die genadige God

God se selfopenbaring, of teofanie, (Eks 34:6-7) vind ná die episode van die goue kalf plaas (Eks 32), en gaan die hernuwing van die verbond vooraf. Daar kan drie fases in Eksodus 19-34 onderskei word: (1) verbondsluiting op grond van die Dekaloog en die sogenaamde Verbondskode (Eks 19-24); (2) verbondsbreuk as gevolg van die aanbidding van die goue kalf (Eks 32), en (3) verbondshernuwing (Eks 33-34). Eksodus 34 word dus by die netwerk van sonde en vergifnis gevoeg deur dit met Eksodus 32 en 33 te verbind. Eksodus 32 verwys na die verbondsbreuk, terwyl Eksodus 34 oor die herstel daarvan handel. Eksodus 33 dien as 'n brug tussen die twee dele. Die narratief is 'n verslag van Moses se intrede, wat die verbondsbreuk heel. Die plasing van die teofanie in die konteks van die verbondsherstel verskuif die fokus van Moses se individuele ervaring, na die bekragtiging van God se verbondsverhouding met Israel deur 'n bemiddelaar (Groenewald 2007).

God is die God van genade, standvastige liefde en oordeel. Hierdie God is 'n genadige God, oorvloedig in liefde. Daarom vergewe God die volk se sondes. God se wil om te vergewe is vir die mens onbegryplik. Hierdie genadige toesegging kom in die loop van die teofanie uit God se eie mond. (Die voorvoegsel rab beklemtoon sowel die plegtigheid van die geleentheid as die oorvloed van die hesed we-emet wat God aan sy koppige volk toesê) (Groenewald 2007).

Psalm 86 oor die genadige God

Die belydenis wat op die dubbele Godsnaam volg, kom in agt Ou-Testamentiese tekste voor. Drie daarvan word in die Psalms aangetref, naamlik Psalm 86:15, 103:8 en 145:8. Die ander tekste waarin dit voorkom, is Numeri 14:18, Joël 2:13, Nahum 1:3, Nehemia 9:17 en Jona 4:2. Die kreatiwiteit van die digter van Psalm 86 blyk uit die kunstige inwewing van konvensionele psalmtaal wat Psalm 86 na 'n 'samevatting' van die 'Dawidiese' psalms laat lyk, veral die gedeeltelike komposisies Psalm 40-41 en 69-71, 72, wat die twee 'Dawidiese psalters', Psalm 3-41 en 51-71, 72, voltooi. Dit kom ook na vore in die invoeging van Eksodus 33-34 se Sinaïteologie, wat binne die raam van die psalter 'n verdere betekenisnuanse aan die psalm verleen (Groenewald 2007).

Vir die doeleindes van hierdie artikel word Psalm 86, wat duidelike karaktereienskappe van die genadige God weergee, onder die loep geneem. Die psalm is 'n versoek waarin God as 'U' aangespreek word (Hossfeld & Zenger 2000:537). Die bidder soek na die reddende en troostende nabyheid van God. Die digter vra vir bevryding van bedreigende magte sodat die 'aard' van Jahwe, met ander woorde die misterie van God se Naam, in en deur die redding onthul sal word (Hossfeld & Zenger 2000:538; vgl. Groenewald 2007).

Psalm 86:15 bevat 'n woordelikse herhaling van die Eksodusformule. Die digter beroep hom op die 'goddelike profiel' van die God van Sinai, en op God se geopenbaarde wese. Die God wat deur die tradisie aan die digter bekend geword het, is ook die God wat hy nou ontmoet (Hossfeld & Zenger 2000:537, 545-546).

Die God wat Israel sedert Egipte leer ken het, is die een wat ondanks opstand in die woestyn nie die volk verwerp het nie (Hossfeld & Zenger 2000:546). God is 'genadig': Al het die volk die verbond verbreek, het God getrou gebly. Die Psalmdigter beroep hom op dié God. Jahwe is 'barmhartig': God sién lyding raak en word daardeur geraak (Hossfeld & Zenger 2000:546). Al is God magtig en verhewe, buig God beskermend na wanhopiges en sorg vir hulle. God is 'lankmoedig' en 'stadig om te kwaad te word', geduldig en ruimhartig. God is ook 'vol liefde en trou': God se liefde is nie net onuitputlik nie, maar betroubaar en onvernietigbaar daarby. God se hesed is 'n grondhouding van sorg en omgee vir hulpbehoewendes met wie God 'n besondere verhouding het. Die bidder vra nou die God van Israel om hom op so 'n wyse aan 'n enkeling te openbaar dat die vyande kan sien dat God aan sy kant staan (Hossfeld & Zenger 2000:546). Wanneer God stelling inneem, kan die vyande in die openbaar beskaam en ontmagtig word.

Die vroulike kant van God

Die vroulike kant van God kom in Psalm 131 na vore (kyk Hossfeld & Zenger 2008). Veral die woorde 'Soos 'n kindjie wat by die moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind' (Ps 131:2) dui op dié eienskap van die Here. Soos 'n moeder haar kind rustig en tevrede stem, so maak die Here met die digter. Hierdie karaktereienskap van die Here verryk die liturgie, en bring rus en tevredenheid aan die erediensganger.

Die genadige God in die Nuwe Testament

In die Nuwe Testament word die begrip eleos op die Christologiese gebeure gegrond. God beantwoord die roep om hulp, 'Wees my genadig' (Mark 10:47, 48), met God se teenwoordigheid en ingryp in nood. In die voorrede maak Lukas sy tema in twee lofpsalms bekend (Luk 1:46-55, 68-79). Die verbondstrou van God wat in die Ou Testament beloof en in die geskiedenis van Israel gesien en beleef is, bereik 'n hoogtepunt in Jesus se genadige ontferming oor die armes (Luk 4:18-19) (Wilckens 2005:101-102). Hebreërs stel Christus weer as Hoëpriester voor. Die skrywer gebruik die konsep eleos (hesed) om Christus se solidariteit met mense aan te dui (Heb 2:17). Christus se genadige toewending bemoedig die eerste-eeuse gelowiges om die ketting van ou tradisies in 'n nuwe wêreld te verbreek. Volgens Hebreërs 4:16 gee hierdie feit gelowiges as die nuwe Israel die vertroue om tot die troon van genade te nader. Hulle is getuies van die hoogtepunt van God se verbondsverhouding met mense - eers Israel en nou die kerk. Hierdie verbondsverhouding berus op die genade wat God in Christus betoon het. Te midde van versoekings en verleidings kan God se volk die eleos van God ervaar en openbaar.

In die liturgie doen die enkeling en die volk 'n beroep op God om God se genadige gesig na hulle te draai.

 

KLAG EN LOF

Dit is opvallend dat klag en lof in die Psalms soms naas mekaar staan (kyk Ps 13). Gerstenberger (2007) het dan ook gelyk wanneer hy sê dat hierdie verskynsel aan die liturgiese agtergrond en oogmerke van die poësie in die Psalms (kyk Crüsemann 1969; Mowinckel 1961), en dus nie net literêre oorwegings nie, toegeskryf kan word. 'n Klein persoonlike himne in die konteks van klag, smeking en vervloeking van vyande versteur ons literêre logika, maar strook met die liturgiese agenda:

Hoe groot is u goedheid: / dit is altyd daar vir dié wat U dien, / U bewys dit / voor die oë van die mense / aan dié wat by U skuil. / Deur u teenwoordigheid / beskerm U hulle teen / die sameswering van mense. / U steek hulle weg / vir dié wat vir hulle beskuldig. / Aan die Here kom die lof toe, / want Hy het sy trou / op wonderbaarlike wyse / aan my betoon / toe ek beleër was.

(Ps 31:20-22)

By die heilige berg en God se altaar vind die vervulling plaas (Ps 43:3, 4). Die hoop word in die liturgie vervul:

Tog sal die Here weer op 'n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag 'n lied vir Hom sing, 'n gebed tot die God van my lewe.

(Ps 42:9)

Hierdie liturgiese versreël, wat die presiese middelpunt van Psalm 42 en 43 uitmaak, vereis aandag. Die heilige Godsnaam 'Jahwe' kom slegs hier voor, te midde van tien (vyf dubbele) verwysings na Elohim en elf gebruike van Elohim, gevolg deur nadere bepalings soos 'jou God', 'my God' en 'God van my lewe' (Schuman 2004:4). Schuman (2004:4) vermoed dat dit hier oor 'n formule uit die tempelliturgie gaan. Die digter sal God as Helper, wie se hulp persoonlik ervaar word, prys: 'Hy is my helper en my God' (Ps 43:5). Die mossie het 'n nes, en 'n swaeltjie 'n plek vir haar kleintjies by die Here se altare (Ps 84:4). Soos 'n slak in sy skulp vind dié wat op God vertrou ook rus by God.

 

DIE GOD VAN LIEDERE

'n Reformatoriese gemeente is 'n singende gemeente (Strydom 1994:279-292; vgl. Kloppenburg 1998:266). Die lied is 'n manier om singend voor God te staan, en dra verskillende geloofstemminge, soos lof, gebed, verootmoediging, belydenis, dank, of 'n oproep tot die sendingtaak van die gemeente, oor. Aangesien die psalms aan soveel geloofservarings uiting gee, word dit in die liturgie sekerlik by uitstek in die Liedboek van die kerk geopenbaar (Vos 2005; vgl. Kloppenburg 1998:274-278; Oskamp & Schuman 1998:165-175).

'n Lied is nie maar net 'n lukrake sameflansing van Christelike gedagtes nie, maar 'n kunsskepping. Daarom moet dit aan poëtiese vereistes, soos rym, ritme en metaforiek, voldoen. Die lied moet singbaar wees, en daar moet noukeurig aan die woord-toon-verhouding aandag gegee word. 'n Lied moet ook aanbepaalde teologiese vereistes voldoen. Dit dra immers 'n bepaalde teologie oor. Wie God is en wat God doen, kom in die lied na vore. 'n Voorbeeld in dié verband is Lied 281 (2001):

Lei ons, Here, groot en magtig,
U alleen ons hulp en krag.
As die nag se kleed ons sluier,
bly ons steeds u heil verwag.
Ons Bevryder, ons Bevryder,
U, die God van ons behoud -
U, die God van ons behoud.

Lei ons, Here, groot en magtig,
U alleen ons sorg en stut.
As die toekoms ons bekommer,
sal U, Here, ons beskut.
Ons Beskermer, ons Beskermer,
U, die God wat ons behoed -
U, die God wat ons behoed.
Lei ons, Here, groot en magtig,
U alleen ons borg en steun.
As die donker ons laat steier,
vind ons rus by U alleen.
Ons Bewaker, ons Bewaker,
U, die God wat ons bewaar -
U, die God wat ons bewaar.

(Lied 281, Liedboek van die Kerk 2001)

 

DIE GOD WAT HOOR

Gebed is 'n wesenlike deel van die Christelike godsdiens (vgl. Jossutis 1991; Oskamp & Schuman 1998:217-225). Dit gee te kenne dat God die lewende en horende God is. God het met mense in 'n verhouding getree. Die verhouding word deur gebed onderhou. God verwag van die mens om God te aanbid. Op dié manier word dit wat eie is aan 'n verhouding, naamlik liefde, vertroue, verwagting, ensomeer, versterk.

In die liturgie kan gebed verskillende vorme aanneem. Daar is die skuldbelydenis, die lof- en dankgebed, die smeekgebed, en die klag en protes. Gebed as geloofsuiting teenoor die God wat luister, verwoord die bidder se afhanklikheid van God. In die afhanklikheid is daar die verwagting van uitkoms of 'n ommekeer. In Hosea 11 word die ommekeer van God beskryf. Teenoor God se gloeiende toorn ontbrand daar 'n ander krag: dit verteenwoordig 'n intensiewe vorm wat die kookpunt van energie is (Jeremias 2002:54). Dié krag laat God se toorn bedaar, en dus kan God nie God se gloeiende toorn voltrek nie (Jeremias 2002:54). God se toorn is die reaksie op menslike skuld (kyk Hos 5:10, 8:5). God se 'energie' is egter sterker. Daarom draai God se hart weg van toorn (Jeremias 2002:54-55).

 

GOD WAT PRAAT

In die preek word die vryspraak aangekondig. Anders gestel: die preek nooi mense om in die vryspraak te deel.

Mense wat in die erediens byeenkom, bring hulle wanhoop, angs, vrees, twyfel, pyn, droefheid en onsekerheid saam. Al het sommige mense paleise en skatte, is alle mense 'vreemdelinge' en 'swerwers'. In die Nuwe Testament word die tema van 'vreemdelingskap' voortgesit (1 Pet 2:11; Heb 11:3). Die 'vreemdeling' (paroikos) staan teenoor die katiokos, die vaste bewoner van 'n land wat volle burgerskap geniet. Aangesien gelowiges pariokoi is, het hulle volle burgerskap in die hemel, van waar hulle dieVerlosser, die Here Jesus Christus, verwag (Fil 3:20). In die woorde van Noordmans is gelowiges te vroeg vir die hemel, maar te laat vir die aarde. Die onrus sal nie ophou nie totdat hulle in die Vaderland, die Vaderhuis, rus vind (Heb 11:13,14).

Een van die kwellendste ervarings van mense is dié van hul eie eensaamheid, en God se afwesigheid. In lyding weerklink die spotvraag 'En waar is jou God nou?' (Ps 42). Dit voel soms asof God mense die rug toekeer en al wat oorbly, is 'n herinnering aan die goeie ou dae toe God nog in die erediens ontmoet kon word. Daar kon God gesien en ervaar word, so naby was God. 'n Mens hoor nog die feesgedruis.

In die liturgie is die vraag oor en na God brandend. In die liturgie moet God weer 'n gesig kry; moet God se teenwoordigheid ervaar word. Die liturgie moet sin gee aan die teenwoordigheid van God te midde van die 'einas en amens' van die lewe (Vos 1995:5). Die verskillende en wisselende liturgiese elemente moet tot 'n ervaring van God se teenwoordigheid in pyn én vreugde bydra.

Die preek is 'n belangrike manier om God in die liturgie te hoor praat. Volgens Karl Barth (1947:89-101) is die preek een van die gestaltes van God se Woord. Die homiletiek moet aan hooplose mense hoop gee. Dit kan gedoen word deur die hoorders se verlange na God te versterk. Die hoorders moet as't ware die dors na God in hulle mond voel brand.

In die erediens moet God se lig deurbreek, en moet God se trou soos 'n rots wees. Die preek moet chaos en donkerte verdryf, en mense oorreed om op God te vertrou. Wanneer dit gebeur, klink 'n lied op wat God as Helper prys. Die homileet lei die gemeente na die Nuwe-Testamentiese landskap waar die spotvraag 'En waar is jou God nou?' teen 'n kruis vasslaan. Dit is die Christologiese diepte van die preek wat verklaar: 'Jou God is aan die kruis, maar as jou Helper, jou Redder.' Hierbenewens is Hy uit die dood opgewek, het Hy uit die dood opgestaan, om die chaos en die donker te verdryf. Uit 'n homiletiese hoek maak die pneumatologie ons bewus van die Gees as Parakleet wat hoop uitdeel. In die Vaderhuis is daar baie woonplek, en hoop in oorvloed.

Die preek as draer van hoop

Romeine 8 bied die stramien vir die preek as draer van hoop. In die konteks en ervaring van hoop-loosheid, ontsluit die Christologie en die pneumatologie hoop. Elkeen wat in Christus is, het hoop. 'n Homiletiese Christologie wat op Psalm 42/43 en Romeine 8 bou, open die perspektief dat daar hoop is in Christus. Die 'in Christus' beteken om aan Christus verbonde te wees en op Hom te vertrou. Hy is die Helper en die Een wat hoop gee. Hierdie gebeure is dinamies, met die Gees wat mense woordeliks oorreed om die vryspraak in Christus te ontvang. In Romeine 8:16 tree die Gees van God met die menslike gees in verbinding. Die Gees bevestig mense se kindskap wat in die doop aan hulle toegesê word (vgl. Käsemann 1974:219; Klauck 1999:91). Die Gees maak mense Christus se eiendom en mede-erfgename (Rom 8:9, 17). Die Gees waardeur mense as Christus se kinders aangeneem word, laat hulle roep: 'Abba, Vader!' (Rom 8:15). Hierdie gebeure word in die homiletiek gevier.

Die homileet as woordmaker

Die homileet is 'n woordmaker:

On Sunday, the preacher helps the followers of Christ by means of poetic activity. The preacher makes ('poiein') words, approximately fifteen hundred of them on a Sunday morning, three million in a career, and over the long haul of ministry, he or she speaks into existence an alternative world.

(Lischer 2005:104)

In die woorde van die digter Van Heerden (1987:84) is die homileet '...die kersemaker, / uitdager van die donkertes, / wat van 'n vlam 'n lied maak'.

Dit is presies wat homilete doen: Hulle maak 'n lied in die donkertes van 'n vlam.

Die teks is die draer van 'n 'sinweefsel' (textum) waarin vele drade verknoop is wat elk op sigself ook 'n sindraer is (Rossouw 1981:48). Die woord 'teks' kom van die werkwoord texo, oftewel 'om te weef'. Elke teks suggereer verskeie vertolkingspatrone, en die homileet kan elke jaar 'n ander een weef (Lischer 2005:74). Lischer (2005:63) stel dit soos volg: 'Thus we may say the preacher winkles out the text until its life-changing power is disclosed.' Dit is harde werk, omdat geen teks die verskillende skanse en lae sonder meer prysgee nie (Lischer 2005:63).

In taal kommunikeer 'n mens nie net met mekaar nie, maar ook oor iets. Die invloed wat die een mens op 'n ander uitoefen in en deur wat gesê word, het nie in die eerste plek betrekking op die uniekheid van mense se besondere geesteslewe nie. Dit het ook betrekking op 'n bepaalde saak, of stand van sake, waarvan hulle die sin of tersaaklikheid vir hulle lewe op 'n unieke wyse ervaar, en daarom ook op 'n unieke wyse ter sprake bring ten einde die aangesprokene in hierdie sinervaring te laat deel (Rossouw 1981:31). Dit is taal as mededeling.

 

DIE GOD VAN DANK

Dank is 'n wesenlike deel van die Christelike godsdiens. Ten diepste spruit dank uit die genadige reddingshandelinge van God teenoor die mens. In die liturgie word die heil van God deur verskillende liturgiese handelinge gevier. Daarom is dank 'n vanselfsprekende uitdrukking van die ontvangende mense se dank teenoor God.

Psalm 116 vertoon 'n tipiese dankpatroon, naamlik 'n narratief waarin die benoude situasie uitgebeeld word (vers 3); die gebed om bevryding (vers 4), en God se reddende handelinge (vers 6b). Hierna volg die dank in die vorm van 'n himne (vers 12-19) (Janowski 2003:312-325; Vos 2005:79).

Bevryde mense is nie net dank aan God verskuldig nie; om dankbaar te lewe, is 'n bepaalde lewenshouding teenoor God. En God lééf van hulle dank.

 

GOD WAT SEËN

God, wat mense met sy seëngroet ontvang, stuur hulle ook met seën die lewe in. Seën omvat die ganse lewe, van geboorte tot sterwe.

Die Here se lewensbeskerming en hulp kom uit Sion (Ps 134:3). Op die lewenspad neem die geseëndes sy seën as geskenk saam. Dit is dié seën wat hulle ook in die alledaagse lewe aan mekaar behoort uit te deel.

Uit die mond van die Nuwe Testament kom daar ook 'n seëngebed: 'Die genade van die Here Jesus Christus ... sal by julle almal wees ...' (2 Kor 13:13). Jesus Christus se seën is alles wat Hy deur sy lewe en sterwe gedoen het; dit is die vrede en versoening wat Hy gebring het. '...[D]ie liefde van God...sal by julle almal wees...': God se seën is sy liefde wat soos vlerke oor die geseëndes oopvou. '[D]ie gemeenskap van die Heilige Gees...sal by julle almal wees...': Die Heilige Gees laat die geseëndes in die Here se seën deel; Hy laat mense God ervaar.

 

GOD SE VERSKILLENDE GESIGTE

Op die liturgiese weg van die artikel het die leser God se verskillende gesigte aanskou. Hierdie verskillende liturgiese gesigte lei tot 'n verskeidenheid sienings en ervarings van God. So ryk en groot is God. Te midde van al hierdie Godsbeelde word die misterie van God egter ook volledig en onverwater eerbiedig.

 

LITERATUURAANWYSINGS

Barth, K., 1947, Kirchliche Dogmatik [Kerk Dogmatiek], Evangelische Verlag, Zürich.         [ Links ]

Biezeveld, K., De Boer, T., Brümmer, V. & Muis, J., 2001, Wie God zegt ... Spreken over God in een wereld zonder God [Wie sê God is nie ... Praat oor God in 'n wêreld sonder God], Kok, Kampen.         [ Links ]

Breytenbach, B., 2007, Die windvanger, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Brown, D., 2006, 'Four Gods of Christian Faith [Vier Gode van die Christelike geloof]', in F. Le Ron Shults (ed.), The Evolution of Rationality, pp. 294-305, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Crüsemann, F., 1969, Studien zur Formgeschichte von Hymus und Danklied in Israel [Studies oor die aard en geskiedenis van die Hymus danksegging in Isreal], Monographien zum Alten und Neuen Testament 32, Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.         [ Links ]

Durand, J., 2007, The many faces of God [Die vele gesigte van God], SUN Press, Stellenbosch.         [ Links ]

Gerstenberger, E.S., 2007, 'Praise and Lament in the Psalms [Lofprysing en klaaglied in Psalms]', ongepubliseerde artikel.         [ Links ]

Groenewald, A., 2008, 'Exodus, Psalms and Hebrews: a God abounding in steadfast love (Ex 34:6) [Exodus, Psalms en Hebrieërs: 'n God vol standvastige liefde]', HTS Theological Studies/Teologiese Studies 64(3), 1365-1378        [ Links ]

Hossfeld, F.L. & Zenger, E., 2000, Psalmen, Psalmen 51-100 [Psalms, Psalms 51-100],Herder Verlag, Freiburg-Basel-Wene.         [ Links ]

Hossfeld, F.L. & Zenger, E., 2008, Psalmen, Psalmen 101-150 [Psalms, Psalms 101-150], Herder Verlag, Freiburg-Basel-Wene.         [ Links ]

Janowski, B., 2003, Konfliktgespräche met Gott: Eine antropologie der Psalmen [Die hantering van konflik met God: 'n Antrolopogie van die Psalms], Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.         [ Links ]

Jeremias, J., 2002, Die Reue Gottes: Aspekte alttestamentlicher Gottesvorstellung [Bekering van God: Ou Testament opvatting van God aspekte], Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.         [ Links ]

Josuttis, M., 1991, Der Weg in das Leben. Eine Einführung in den Gottesdienst auf verhaltenswissenschaftlicher Grundlage [Die pad in die lewe. 'n Inleiding tot die kerk gebaseer op 'n gedrag wetenskapl], Chr Kaiser, München.         [ Links ]

Käsemann, E., 1974, An die Römer [Aan die Romeine], JCB Mohr, Tübingen.         [ Links ]

Klauck, H.J., 1999, Vom Zauber des Anfangs: Biblische Besinnungen [Die betowering van die begin: Byblese refleksies], Dietrich-Coelde-Verlag, Werl.         [ Links ]

Kloppenburg, W., 1998, 'Het kerklied [Die kerklied]', in P. Oskamp & N. Schuman (reds.), De weg van de liturgie: Tradities, achtergronden, praktijk, Meinema, Zoetermeer.         [ Links ]

Laurie, T., 2007, Sonskyf, Protea Boekhuis, Pretoria.         [ Links ]

Liedboek van die Kerk, 2001, NG Kerk-uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Lischer, R., 2005, The end of words: The language of reconciliation in a culture of violence [Die einde van woorde: Die taal van versoeining in 'n kultuur van geweld], Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Mowinckel, S., 1961, Psalmenstudien 1-V1, P. Schippers, Amsterdam.         [ Links ]

Oskamp, P. & Schuman, N., 1998, De weg van de liturgie: Tradities, achtergronden, praktijk [Die weg van die liturgie:Tradisies, agtergrond en praktyk], Meinema, Zoetermeer.         [ Links ]

Rossouw, H.W., 1981, Die sin van die lewe, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Schaper, J., 2004. Wie der Hirsch lechzt nach frischem Wasser: Studien zu Ps 42/43 in Religionsgeschichte und Kirchlicher Praxis [Soos 'n hert smag na water: Studies oor Psalm 42/43 in die godsdien, geskiedenis en kerklike praktyk], Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.         [ Links ]

Schuman, N., 2004, Het hert, het water en het heimwee [Die hert, die water en die heimwee], Vrije Universiteit Amsterdam, Amsterdam.         [ Links ]

Schuman, N., 2008, Drama van crisis en hoop [Drama van krises en hoop], Meinema, Zoetermeer.         [ Links ]

Spieckermann, H., 2006, 'Des Herrn ist die Erde': Ein Kapitel altsyrisch-kanaanäischer Religionsgeschichte' [Die Here is die Aarde: 'n Hoofstuk van die Kanaäniete godsdiens, Siries-geskiedenis] , in R. Kratz & H. Spieckermann (Hrsg.), Götterbilder Gottesbilder Weltbilder Band 1. Politheismus und Monotheismus in der Welt der Antike, pp. 283-301, JCB Mohr, Tübingen.         [ Links ]

Strydom, W.M.L., 1994, Liturgie en lied: 'Sing Nuwe Sange, Nuutgebore', NG Sendingpers, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Heerden, E., 1987, Amulet teen die vuur, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Vos, C.J.A., 1995, Die blye tyding, RGN Uitgewers, Pretoria.         [ Links ]

Vos, C.J.A., 2005, Theopoetry of the Psalms [Teo-poësie van die Psalms], T & T Clark, New York & Londen.         [ Links ]

Vos, C.J.A. & Pieterse, H.J.C., 1997, Hoe lieflik is u woning, RGN Uitgewers, Pretoria.         [ Links ]

Wilckens, U., 2005, Theologie des Neuen Testaments [Teologie van die Nuwe Testament], Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.         [ Links ]

Zenger, E., 1997, Die Nacht wird leuchten wie der Tag: Psalmenauslegung [Die nag sal skyn soos die dag: Psalm interpretasie], Akzente, Freiburg-Basel-Wene.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Cas Vos
Postal address:
PO Box 754, Faerie Glen
Gauteng 0043, South Africa
email: cas.vos@up.ac.za

Received: 27 Jan. 2010
Accepted: 15 May 2010
Published: 12 Aug. 2010

 

 

This article is available at: http://www.hts.org.za
© 2010. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.