SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.66 n.2 Pretoria Jan. 2010

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Prediking as pastorale uitnodiging tot deelname: 'n Kultureel-linguistiese beskouing

 

Preaching as a pastoral invitation to participate: a cultural-linguistic view

 

 

Hannes Reinecke; Julian C. Müller

Department Practical Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

As a practical theologian, the author of this article adopts a social-constructionist approach, namely Lindbeck's cultural-linguistic method, which focuses on narratives and grammar as vehicles of identity, and individuals' choice to be part of a group by accepting the group's traditions. This article discusses preaching as a pastoral action by examining the specific role that preaching has to fulfil in order to be pastoral within a cultural-linguistic model. The role of narratives, the Bible, the context of the group and individual, and the tradition of the group are also discussed. The article concludes by citing two specific homiletic proposals for narrative pastoral preaching.

Keywords: narrative preaching; pastoral; cultural-linguistic; intratextually played; narrative identity


 

 

INLEIDING

Prediking as pastoraat

Prediking as 'n teologiese gebeurtenis wat die praktyk van menswees raak, is in wese pastoraal. Pastoraat is die teologiese bemoeienis met mense se praktiese lewenservarings. Praktykgerigte prediking is daarom altyd pastoraal. Die praktiese sy van pastoraat in die prediking verleen dus aan prediking 'n soort ondersoeks-, fasiliterings- en dialogiese rol met betrekking tot die hoorder.

 

SOSIAAL-KONSTRUKSIONISTIESE MODEL VIR PREDIKING

Wanneer die term 'sosiaal-konstruksionisme' (epistemologie) ter sprake kom, is die eerste gedagte waarskynlik dat dit nie in Gereformeerde teologiese debatte die uitgangspunt kan wees nie. Vanuit die tradisionele beskouing van prediking klink dit seker nóg vreemder om 'sosiaal-konstruksionisties' oor prediking te dink.

In 'n teologiese raamwerk kan 'n sosiaal-konstruksionistiese beklemtoning van die sosiale oorsprong en bestaan van kennis, agterdog wek. Die aannames van die sosiaal-konstruksionisme kan egter wel gebruik word in die beoefening van Praktiese Teologie, omdat Praktiese Teologie fundamenteel met die sosiale werklikhede van gelowiges te doen het (Browning 1991:11-12). 'n Fundamenteel-prakties-teologiese benadering (Browning 1991) lê verbande tussen die ontwikkeling, ontstaan en herontwikkeling van teorie aan die een kant, en die praktyk van menslike ervarings aan die ander kant.

Veral narratiewe se rol in die verklaring en oordrag van 'n sosiale identiteit is vir die Praktiese Teologie baie insiggewend. Anthony Paul Kerby (1997) en ander (vgl Gerken 2002; Novitz 1997; Sauter & Barton 2000) beklemtoon dat die self nie as 'n metafisiese eenheid, wat sigself in woorde, dade, produkte en gesindhede uitdruk, beskou kan word nie. Die self is pragmaties gestruktureer deur taal, meer spesifiek, deur die poging om ervarings in narratiewe te omskep. Kerby (1997) stel dit soos volg:

Although there is no inherent psychic need to direct one's gaze upon one's life and fashion it into a narrative, certain situations activate this capacity, issuing in the creation of a character - the narrative subject, or the 'I' - moving through an emplotted landscape.

(Kerby 1997:128)

Wat die teologiese kwessie van 'die waarheidsvraag' in die sosiaal-konstruksionisme betref, is Van der Ven (2002:291-307) van oortuiging dat die praktiese teologie die aannames van die sosiaal-konstruksionisme met groot vrug kan gebruik, omdat dit die teologie sal verplig om prakties te word. Kennis word deur taal, in die vorm van taalhandelinge of die aksies van mense gedra en is daarom linguisties van aard. Drie spraakaksies kan onderskei word, naamlik illokusionêr (illucutionary), perlokusionêr (perlocutionary) en lokusionêr (locutionary). lllokusionêre aksies dra die voorneme van die spreker oor, terwyl perlokusionêre aksies oor die verwagte reaksie gaan wat die spreker by die luisteraar wil ontlok. Lokusionêr verwys na die voorgestelde inhoud/agtergrond (verwysingspunt) van die taalhandelinge; sonder die lokusionêre aspek kan kommunikasie nie plaasvind nie (Van der Ven 2002:297).

Wanneer daar van God gepraat word (teologie), word verwysende taal gebruik: God bestaan wel buite die taal maar kan nie geken word nie. Gelowiges se taal verwys op lokusionêre wyse na metafisiese werklikhede. Hierdie sosiaal-konstruksionistiese manier van praat en dink oor God is sekerlik teologies verantwoordbaar. Geen teoloog sou wou probeer om die persoon en wese van God vas te vang in die verwysende taal waarmee hulle na God se openbarings verwys nie. Hoewel God buite menselike taal bestaan, kan mense God nie sonder taal beskryf nie.

Vir die prediking sou 'n intradissiplinêre benadering wat gebruik maak van die aannames van die sosiaal-konstruksionisme (Hermans & Dupont 2002:x-xii) en die aannames van die Praktiese Teologie, vrugbaar wees.

Vanuit 'n intradissiplinêre, prakties-teologiese benadering is die kultureel-linguistiese model van Lindbeck (1984) bruikbaar vir die prediking. Hierdie kultureel-linguistiese model beklemtoon die rol van die sosiale groep waartoe 'n individu behoort in die vorming, bestaan en ontwikkeling van persoonlike identiteit. Soos met die sosiaal-konstruksionisme, word die rol van die narratief in persoonlike en groepsidentiteit beklemtoon. Identiteitsvorming, -oordrag en -ontwikkeling geskied sosiaal-konstruksionisties en kultureel-linguisties, nie objektief en voorskriftelik nie. In die proses van narratiewe identiteitsvorming speel die narratief van die geloofsgemeenskap, die Bybelse narratief en die persoonlike narratief 'n dinamiese rol. Die konteks waarin lidmate hulle bevind, bring voortdurend die wese van narratiewe identiteitsvorming na vore. Kultureel-linguistiese narratiewe identiteitsvorming geskied dus in wisselwerking met die konteks waarin die groep en individu hulle bevind.

Uit 'n kultureel-linguistiese hoek beskou, ondersoek, fasiliteer en werk pastorale prediking in op die narratiewe identiteit van die lidmaat. Die teologiese pastorale gebeure van die prediking betrek die narratiewe tradisie van die groep waartoe die individu behoort, die Bybelse narratief én die persoonlike narratief, in voortdurende narratiewe wisselwerking met die konteks waarin die groep en individu hulle bevind.

 

DIE BYBEL EN PASTORALE PREDIKING

Die kultureel-linguistiese rol wat die Bybel speel, moenie onderskat word nie. Kultureel-linguisties word die Bybel as die grondnarratief, of die oorspronklike narratief, van die geloofsgemeenskap beskou. Dit bevat die verwysende (lokusionêre) taal wat die aksies van God beskryf. Pastorale prediking uit 'n kultureel-linguistiese hoek beklemtoon die eskatologiese, universele en Christelike hermeneutiese tradisie. Dit verleen 'n bepaalde kulturele identiteit aan die Christelike geloof (Goh 2000:118-126). In pastorale prediking kan die Bybelse narratief nie los van die hermeneutiese tradisie gelees en gepreek word nie; dít sou 'n kultureel-linguistiese breuk met die identiteitsnarratief van die Christelike geloof veronderstel. Die Bybel behoort egter intratekstueel gelees en vertolk te word.

 

INTRATEKSTUELE BYBELVERTOLKING

Lindbeck (1984:114) gebruik die term 'intratekstuele Bybelvertolking' om die Skrifgebruik in die kultureel-linguistiese model te beskryf. Goh (2000:184) brei daarop uit. Volgens hierdie benadering kan betekenis in semiotiese stelsels net intratekstueel gevind word.

'Intratekstueel' verskil van 'intertekstueel' omdat eersgenoemde op betekenis konsentreer wat op eie bodem, en nie in ander kontekste nie, gevind word. Vir doeltreffende pastorale prediking volgens die kultureel-linguistiese model, beteken dit dat die Bybel as selfverklarende, realistiese narratief saam met die vertolkingstradisie gelees en gepreek behoort te word. Intratekstualiteit is belangrik binne 'n kultureel-linguistiese benadering omdat dit mense help om as groep én individue hulle identiteit as geloofsgemeenskap binne die konteks waarin hulle leef, te kan behou. Persoonlike en groepsidentiteit is dus narratief van aard.

 

NARRATIEWE IDENTITEIT

Wanneer daar van die kultureel-linguistiese aanname uitgegaan word dat individuele en groepsidentiteit narratief van aard is, kry prediking 'n bepaalde kommunikasiefokus en -aard. Individue kan hulleself nie as los van 'n groep beskou nie, maar vind narratiewe identiteit in 'n kulturele tradisie. In die Christelike tradisie verbind Christene hulleself aan die lokusionêre taal en narratief van God en God se openbaring, soos dit in die teks en die kulturele tradisie vervat word. Dit maak die narratiewe identiteit van die individu en die groep dinamies en onderworpe aan voortdurende hervertolking binne die bepaalde konteks. Die narratiewe identiteit van die individu word gevorm en verander voortdurend in kultureel-linguistiese interaksie met die tradisie waarvan die groep die verteller (narrator) is. Wanneer identiteit vanuit 'n narratiewe perspektief gesien word, val die klem op die taal van die gemeente en individu. Deur die taal kan hulle in hulle konteks hulleself bly. Dit bied weer 'n vars blik op die rol van die teks en groepstradisie. Die narratief van Jesus Christus is die spil waarom die intratekstuele narratiewe identiteit van die gemeente én individu draai. Die narratief van Jesus Christus maak die groep se narratiewe verlede, hede en toekoms uniek.

Die vraag is vervolgens hoe pastorale prediking sal lyk wanneer 'n kultureel-linguistiese benadering gevolg word.

 

KULTUREEL-LINGUISTIESE, PASTORALE PREDIKING

Om pastorale prediking te ontwikkel aan die hand van Lindbeck se kultureel-linguistiese model, meen kan 'n spesifieke kommunikasiestrategie, naamlik 'n narratiewe vertolkingsmodel, bruikbaar sal wees.

Die werklikheidsbeskouing van die dialogiese realisme sluit goed aan by die kultureel-linguistiese benadering. Dit beklemtoon die narratiwiteit van die werklikheid waarmee die prediking werk. Dit is naamlik 'n dialogiese werklikheid wat deur middel van die narratief verwoord word. Derhalwe is dit 'n sosiaal gekontekstualiseerde en tydelike, dog betroubare werklikheid.

Narratief-pastorale prediking maak gebruik van 'n narratiewe vertolkingsmodel; daarom kan dit as 'n hermeneutiek van narratiewe in dialektiese beweging beskou word. Ricoeur se dialektiek van narratiewe hermeneutiek, soos wat Jervolino (1996:75), Demasure en Muller (2006:410-411) dit opsom, kan bruikbaar gemaak en toegepas word op intratekstuele, narratief-pastorale prediking. Prediking as narratiewe vertolking vervul 'n pastorale rol deur op narratief-hermeneutiese wyse die finale fase van Ricoeur se dialektiese proses, naamlik refigurasie, teweeg te bring.

Prediking geskied nie los van die gemeente nie. Daarom is die ekklesiologie belangrik vir narratief-pastorale prediking. Die tradisie en teks van die Christelike geloof beskryf die gemeente as 'n geroepe en 'n sorgsame gemeenskap. Die prediking herinner die gemeenskap voortdurend op 'n pastorale wyse aan hulle unieke roepingsnarratief. Die prediking vervul dus 'n pastorale (of sorg-)funksie in die gemeente deur die tradisie, teks, konteks en persoonlike narratief voortdurend by 'n narratiewe hermeneutiek te betrek.

Die gebruik van beelde en verbeelding is belangrik vir prediking. Met die oog op pastorale prediking volgens 'n kultureel-linguistiese model, is die gebruik van narratiewe beelde en verbeelding belangrik. Dit sal die groep en individue (met hulle narratiewe identiteit) help met narratief-hermeneutiese vertolking.

 

PREDIKING AS NARRATIEWE UITNODIGING TOT DEELNAME

Kultureel-linguisties beskou, het prediking 'n intratekstuele fokus en bly dit altyd nou verbonde met die oorspronklike narratief van die Christelike geloof, soos verwoord in die taal van die Bybelse narratief en in die tradisie. Die konteks word nooit die hooftaal van die groep nie. Die groep en individu word voortdurend teruggebring na die taal van hulle eie identiteitsnarratief wanneer hulle die eise van hulle wêreld opnuut wil vertolk.

Intratekstuele prediking wat kultureel-linguisties funksioneer, is narratief van aard. Die identiteit van die gemeente en die individu is ook narratief van aard, en word op 'n sosiaal-konstruksionistiese, kultureel-linguistiese manier gevorm en hervertolk.

Prediking kan net pastoraal wees as dit kultureel-linguisties funksioneer. Hoorders word genooi om op 'n narratief-hermeneutiese en dialogiese wyse hulle persoonlike narratiewe aan die hand van die geloofsgemeenskap se narratief te hervertolk.

Hierdie soort prediking kan 'n 'uitnodiging tot deelname' genoem word, want, volgens die aannames van die sosiaal-konstruksionisme en die kultureel-linguistiese benadering, kies persone self om tot die geloofsgemeenskap te behoort. Individue kies om hulleself te verbind aan 'n narratiewe identiteit wat sin en betekenis verleen aan hul ervarings en aksies. Die term 'deelname' beklemtoon voorts die dinamiese onafgehandelde aard van die proses - die narratief het 'n oop einde. Die werlikheid word gedeel deur middel van taal, beelde en simbole wat in narratiewe vervat word. Hierdie kommunikasie verteenwoordig 'n onophoudelike dialektiese vertolkingsproses.

Om 'deelname' te fasiliteer, vra 'n ingesteldheid en kreatiwiteit wat heelwat van die prediker verg. Die prediker dra nie net feite of duidelik geformuleerde 'waarhede' oor nie, maar raak betrokke by 'n narratiewe hermeneutiek, met narratiewe taal en simbole, waarmee die prediker die hoorder in sy of haar eie narratiewe identiteit moet ontmoet. Die prediker moet intratekstueel, vanuit die teks en tradisie van die Christelike gemeente, die hoorder in sy/haar konteks ontmoet. As die predikers dit nie doen nie, tree hulle nie kultureel-linguisties getrou op nie.

 

NARRATIEWE PASTORALE PREDIKING

Met 'n kultureel-linguistiese vertrekpunt is narratiewe prediking die voor die hand liggende keuse. Lowry (2001:7, 8), wat die hele ontwikkeling van die preekmaakproses as 'n narratief of plot beskou, het die weg vir egte narratiewe prediking gebaan. Ook Bosman en Müller (2008:1419-1422) se idee om Lamott se ABDCE-model vir fiksieskryf as raamwerk vir die preekmaakproses te gebruik, is van waarde.

 

LITERATUURVERWYSINGS

Bosman, L. & Müller, J., 2008, 'Prediking aan die hand van die metafoor van fiksieskryf', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 64(3), 1413-1423.         [ Links ]

Browning, D.S., 1991, A fundamental practical theology ['n Fundamentele praktiese teologie], Fortress, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Demasure, K. & Müller, J., 2006, 'Perspectives in support of the narrative turn in pastoral care [Perspektiewe in die ondersteuning van die narratief draai om pastorale sorg]', Ned Geref Teologiese Tydskrif 47(3&4), 410-419.         [ Links ]

Gerken, K.J., 2002, 'Social constructionism and theology [Sosiale konstruksionisme en teologie]', in C.A.M. Hermans, G. Immink, A. de Jong & J. van der Lans (eds.), Social constructionism and theology: The dance begins, pp. 134-163, Brill, Leiden.         [ Links ]

Goh, J.C.K., 2000, Christian tradition today: A postliberal vision of church and world [Christelike tradisie vandag: 'n Post-liberale visie van die kerk en wêreld], Peeters, Leuven.         [ Links ]

Hermans, C.A.M. & Dupont, J., 2002, 'Social constructionism and theology [Sosiale konstruksionisme en teologie]', in C.A.M. Hermans, G. Immink, A. de Jong & J. van der Lans (eds.), Social construction of moral identity in view of a concrete ethics, pp. 98-131, Brill, Leiden.         [ Links ]

Jervolino, D., 1996, 'Gadamer and Ricoeur on the hermeneutics of praxis [Gadamar en Ricoeur oor die hermeneutiek van die praktyk]', in R. Kearney (ed.), Paul Ricoeur: The hermeneutics of action, pp. 63-80, Cromwell, Wiltshire.         [ Links ]

Kerby, A.P., 1997, 'Memory, identity, community: The idea of narrative in the human sciences [Geheue, identiteit, gemeenskap: Die idee van die narratief in geesteswetenskappe]', in L.P. Hinchman & S.K. Hinchman (eds.), The language of the self, pp. 88-104, Staatsuniversiteit van New York, Albany, NY.         [ Links ]

Lindbeck, G.A., 1984, The nature of doctrine: Religion and theology in a postliberal age [Die natuur van geloofsleer: Godsdiens en teologie in 'n post-liberale tyd], Westminster, Philadelphia.         [ Links ]

Lowry, E.L., 2001, The homiletical plot: The sermon as narrative art form [Die homiletiese plot: Die preek as 'n kunsvormige narratief], Westminster John Knox, Louisville, KY.         [ Links ]

Novitz, D., 1997, 'Memory, identity, community: The idea of narrative in the human sciences [Geheue, identiteit en gemeenskap: Die idee van die narratief in geesteswetenskappe]', in L.P. Hinchman & S.K. Hinchman (eds.), Art, narrative and human nature, pp. 141-167, State University of New York, Albany, NY.         [ Links ]

Sauter, G. & Barton, J., 2000, Revelation and story: Narrative theology and the centrality of story [Openbaring en verhaal: Narratiewe teologie en die sentraliteit van die verhaal], Ashgate, Aldershot.         [ Links ]

Van Der Ven, J.A., 2002, 'Social constructionism and theology [Sosiale konstruksionisme en teologie: 'n Dans om uit te stel]', in C.A.M. Hermans, G. Immink, A. de Jong & J. van der Lans (eds.), Social constructionism and theology: A dance to be postponed?, pp. 182-206, Brill, Leiden.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Hannes Reinecke
Postal address:
PO Box 31, Schweizer-Reneke 2780
South African
email: hannesr@telkomsa.net

Received: 14 Oct. 2009
Accepted: 07 May 2010
Published: 12 Aug. 2010

 

 

This article is available at: http://www.hts.org.za
© 2010. The Authors. Licensee: OpenJournals Publishing. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.