SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.66 no.1 Pretoria  2010

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Teologiese opleiding in die AGS-kerk: verkennende en ontwikkelende beskouings vir die nuwe millennium

 

Theological training in the AFM church: investigative and developing (perspectives) for the new millennium

 

 

Andries P.J. Putter

Department of Practical Theology, North-West University, Potchefstroom campus, South Africa

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

This article will focus on the findings of two Apostolic Faith Mission (AFM) pastors in their research concerning theological training. It may help role players in the AFM, as well as in the broader church context, to evaluate current theological training material, and indicates the importance of a continuous theological training programme for pastors. The need to equip pastors to be more effective in their different roles, poses an enormous challenge in these times. At the AFM's General Business Meeting in May 2008, constitutional amendments were approved that pave the way for having a single institution for theological training in the AFM. This new theological institution faces a major challenge, namely that of establishing relevant theological training for the South African context, in order to avert the danger of being identified as an elitist, irrelevant work group with its own pastor's language that is understood by a small group of insiders only.

Keywords: theological training; pastors; experience; role expectations; continuing education


 

 

INLEIDING

By die Apostoliese Geloof Sending (AGS) se Algemene Besigheid Vergadering in Mei 2008 is grondwetlike wysigings goedgekeur wat die weg baan vir 'n enkele instelling vir teologiese opleiding in die AGS met ingang van 2009. Dit word boonop al hoe belangriker om bestaande kursusmateriaal te beoordeel, aangesien teologiese opleiding wêreldwyd in 'n krisis verkeer (Maré 2005:432). Uit Europa word gereeld verneem van akademiese poste wat vakant bly, en van Teologiefakulteite wat ter wille van oorlewing saamsmelt, of andersins sluit (Joubert 2001:192). Dié artikel konsentreer bepaald op twee AGS-pastors se navorsing wat nie regstreeks met teologiese opleiding verband hou, naamlik Maré en Putter. Maré is tans 'n voltydse dosent sowel as die hoof van die Departement Ou Testament by die Aucklandpark Teologiese Seminarium (ATS), en het in 2003 navorsing onderneem oor AGS-pastors se belewing van hul teologiese opleiding by dié instelling. Hy het in besonder op pastors gekonsentreer wat sedert 1996 afgestudeer het, aangesien dit die eerste groep is wat hul teologiese opleiding aan die ATS voltooi het sedert dié instelling in samewerking met die destydse Randse Afrikaanse Universiteit graadprogramme begin aanbied het. In 2009 lewer Maré sinvolle kommentaar op sy navorsing van 2003, en maak voorstelle vir toekomstige tersaaklike teologiese opleiding. Op sy beurt het Putter, tans 'n voltydse AGS-pastor en wat ook 'n leidende rolspeler in die Ophir Netwerk was (die destydse Suidoos-Gauteng-streek van die AGS), in 2006 en 2009 navorsingstukke oor die rolverwagtinge van die AGS-pastor die lig laat sien. Putter se ondersoeke bring belangrike sake aan die lig wat in 'n unieke voortgesette teologiese opleidingsprogram (hierna 'VTOP') kan ontwikkel. Voormelde twee navorsers se voorstelle kan heel waarskynlik tot sinvolle en tersaaklike teologiese opleiding in die AGS en die Pinksterwêreld van die nuwe millennium lei.

 

VERKENNENDE EN ONTWIKKELENDE BESKOUINGE OOR TEOLOGIESE OPLEIDING IN DIE AGS

Maré 2003

Die doelstelling van Maré (2003:4) se studie was om pastors wat aan die ATS studeer het, se belewing van hul teologiese opleiding te verken en te beskryf. Hy het ook probeer om riglyne vir die doeltreffendste teologiese-opleidingsmodel aan die AGS en die ATS te bied. In sy studie het hy met sewe pastors wat hul teologiese opleiding aan die ATS ondergaan het, onderhoude gevoer. Die deelnemers was almal langer as vier jaar in die voltydse bediening, en hul ouderdomme het van 26 tot 41 jaar gewissel. In sy onderhoude met die deelnemers het hy die volgende oorkoepelende vraag gevra: 'Hoe beleef jy die teologiese opleiding wat jy aan die ATS ondergaan het as voorbereiding vir die bediening?' (Maré 2003:26).

Uitslae van die 2003-navorsingsondersoek

Die uitslae van Maré se navorsingsondersoek (2003:101-113) oor die pastors se belewing van hul teologiese opleiding aan die ATS, word hier onder in tabelvorm uiteengesit:

Die eerste tema wat Maré (2003:109) se deelnemers uitgewys het, is dat teologiese opleiding aan die ATS die pastor 'n goeie grondslag in die Teologie bied. Die deelnemers was dit eens dat 'n grondslag wat uit kennis, begrip en toepassing van die Ou én die Nuwe Testament, eksegetiese vaardighede, sowel as dogmatiek bestaan, die pastor kan help om suksesvol in die bediening te funksioneer. Volgens Maré se deelnemers het hul opleiding aan die ATS hulle in staat gestel om die Bybel met vertroue te hanteer. Die tweede tema wat uit die onderhoude na vore gekom het, is dat die opleiding van pastors hoofsaaklik kognitief georiënteerd en nie praktykgerig is nie. Opleiding moet meer uitkomsgerig wees met die oog op die aanleer van praktiese vaardighede om die 'hoe' van die pastoraat doeltreffender te kan hanteer. Insodanige praktykgerigtheid behoort pastors wat voltyds in die pastoraat staan, sowel as gemeentes, 'n groter rol te speel. Maré (2003:109) meld dat teologiese instellings praktikums by die opleiding moet insluit - onder andere in pastorale berading, evangelisasie, leierskapsrolvertolking, sowel as meer praktiese blootstelling aan prediking.

 

 

Die derde tema is die deelnemers se belewing dat hul eie potensiaal nie ontdek en ontwikkel is nie. Die respondente reken dat die ATS 'n verantwoordelikheid het om studente te help om hul unieke gawes en bedieningstalente te ontdek, en hierdie potensiaal in elke student te ontwikkel sodat hulle beter toegerus kan word om hul bediening uit te leef (Maré 2003:111).

Die vierde tema is 'n gebrek aan opleiding in interpersoonlike vaardighede. Dít het veral met die familie- en gesinslewe te make. Veral in die lig van die toenemende egskeidingsyfer onder pastors, is deeglike voorbereiding in hierdie verband uiters belangrik. Die bediening stel hemelhoë eise aan die pastor en sy gesin. Volgens Maré (2005:438-439) moet die wagwoord hier voorkoming wees, sodat die pastor en sy gesin hierdie eise die hoof kan bied.

Uit Maré se onderhoude met pastors blyk ook 'n groot behoefte dat persoonlike leierskap, wat tydsbestuur en karakterontwikkeling/spiritualiteit insluit, in die teologiese opleiding gedek moet word. Maré (2003:111) meen dat, alhoewel alle mense 'n eie verantwoordelikheid ten opsigte van hul geestelike verhouding met God het, die opleiding ruimte behoort te maak vir studentebegeleiding om hulle persoonlike spiritualiteit te ontwikkel. 'n Gebrek aan gesonde karakter kan 'n pastor se sukses en vooruitgang in die bediening kniehalter.

Die sesde tema, wat by die voorafgaande tema aansluit, is die behoefte aan mentorskap. Mentorskap speel 'n belangrike rol in 'n hele aantal fasette van die opleidingsproses. Volgens Maré (2003:111) kan onder andere mentorskap in voormelde behoefte aan karakter- en persoonlike spiritualiteitsontwikkeling voorsien. Mentorskap kan ook 'n rol speel in die praktiese sy van die opleiding.

Uit die onderhoude was dit baie duidelik dat die grootste tekortkominge in die ATS-opleiding volgens deelnemers, op die gebied van gemeentebestuur en -bediening lê. Dit sluit 'n groot aantal subtemas, soos leierskap, personeelbestuur en spanbou, visieformulering, bemarking en finansiering, in. Volgens Maré (2003:112) het die deelnemers gemeen dat hierdie fasette van die pastoraat heeltemal te min aandag in die opleiding ontvang. Dit is wél so dat hierdie aspekte op nagraadse vlak aan die orde kom, maar die deelnemers reken dat dit reeds op voorgraadse vlak deel kan uitmaak van die basiese teologiese opleiding. Volgens die deelnemers is die fokuspunt van die opleiding verkeerd (Maré 2005:439). Bogenoemde sake is immers aspekte van die pastoraat waarmee hulle daagliks te doen kry, terwyl teologiese vraagstukke dalk maandeliks hul pad kruis.

In die onderhoude het die pastors ook bepaalde tekortkominge in die opleiding ten opsigte van predikings- en kommunikasievaardighede uitgewys. Hier gaan dit bepaald daaroor dat predikingsontwikkeling nie genoeg aandag ontvang nie. Volgens Maré (2003:112) meen die deelnemers dat daar te min preekgeleentheid was, en boonop te min terugvoering om hulle te help om hul prediking te verbeter. 'n Saak wat ten nouste aan prediking verbonde is, is kommunikasievaardighede. Volgens Maré (2005:439-440) se deelnemers het die ATS-opleiding nie daarin geslaag om hulle doeltreffende kommunikasievaardighede te leer nie, en moes hulle dit eers later in die bediening op ander maniere ontwikkel en slyp.

Die deelnemers het voorts genoem dat hulle nie doeltreffend toegerus is om lidmate in bediening te mobiliseer nie (Maré 2003:113). Daarom is baie pastors vandag geneig om al die bedieningswerk alleen te probeer doen - iets wat eenvoudig nie moontlik is nie, en ook teenstrydig is met God se plan vir die kerk om as 'n liggaam te funksioneer.

Die deelnemers het ook 'n behoefte uitgewys aan praktiese opleiding in erediensbeplanning, sowel as in musiek en aanbidding gedurende die erediens (Maré 2003:113). Voorts bestaan daar oënskynlik 'n behoefte aan opleiding in tegniese bedieningsvaardighede. Een van die fasette wat hier onder ter sprake kom, is die aanwending van multimedia gedurende dienste. Nog 'n aspek wat met tegniese bedieningsvaardighede verband hou, is die gebruik van videoproduksies as deel van die liturgiese belewing van 'n gemeente. 'n Laaste faset van tegniese bedieningsvaardighede is rekenaarvaardighede. Volgens Maré (2003:113) meen die deelnemers dat moderne tegnologiese ontwikkelings vereis dat pastors behoorlik rekenaarvaardig moet wees, anders loop hulle (én die kerk) gevaar om irrelevant te raak.

'n Laaste subtema onder gemeentebestuur en -bediening is 'n aantal algemene bedieningsvaardighede waarin 'n heel paar deelnemers meer opleiding sou wou ontvang (Maré 2003:113). Dit sluit in die rol van statistiek in die bediening, praktiese opleiding in die bediening van die sakrament van die doop, sowel as praktiese opleiding in hospitaalbesoek. Hospitaalbesoek, en daarmee saam ook doodsbegeleiding, is immers iets waarmee die pastor gereeld in die bediening te doen kry (Maré 2005:441).

Die laaste tema wat sterk in die onderhoude beklemtoon is, is die behoefte aan spesialisasie. Volgens Maré (2003:113) meen die deelnemers dat teologiese opleiding nie algemene deskundiges, oftewel generaliste, moet oplewer nie, maar pastors wat ooreenkomstig hul talente en passie toegerus is om doeltreffend op 'n bepaalde bedieningsgebied te funksioneer. Die behoefte aan spesialisasie beteken nie dat 'n deeglike grondslag in Teologie nou skielik oorbodig is nie. Gespesialiseerde opleiding moet egter op verskillende bedieningsgebiede geskied. Dit sluit evangelisasie, jeug- en kinderbediening, musiek en aanbidding, videoproduksie, diensbeplanning, en die gebruik van multimedia, bemarking en selfs kerkbou in. Wat baie duidelik uit al hierdie onderhoude blyk, is dat daar 'n sterk behoefte aan spesialisasie in 'n wye verskeidenheid fasette van gemeentelike bediening bestaan. Wat voorts blyk, is die behoefte dat hierdie spesialisasievakke deur praktykkundiges op die betrokke gebied aangebied moet word (Maré 2003:113).

Maré 2009

Die volgende data het die outeur op 01 Julie 2009 deur middel van 'n semigestruktureerde fenomenologiese onderhoud met Maré in Roodepoort bekom. Fenomenologiese onderhoudvoering het ten doel om duidelike en akkurate beskrywings van 'n sekere aspek van menslike belewing te verkry (Polkinghorne 1989:20; kyk ook Krueger 1994:6). Die metode was daarop gemik om die algehele sistematiese struktuur van Maré se deurleefde ervaring uit sý oogpunt te verkry, sowel as om die betekenis van sodanige ervaring te beskryf (Omery 1983:50). Die onderhoud het in die vorm van 'n persoonlike ontmoeting plaasgevind, waarin Maré versoek is om sy kommentaar op sy navorsing van 2003 so volledig moontlik te bespreek. Gevolglik is die onderhoud met die volgende vraag begin: 'Wat is jou belewing van teologiese opleiding as dosent by die Aucklandpark Teologiese Seminarium, op grond van jou navorsingsondersoek in 2003?' Die data is volgens Tesch se beskrywende metode ontleed (Creswell 1994:156). 'n Bandopname van die onderhoud is in die outeur se besit, en veldnotas is as deel van die data by die bespreking geïntegreer. Ná die verwerking van die data is die resultate met tersaaklike literatuur en soortgelyke studies vergelyk. Sodoende kon beduidende ooreenkomste, verskille en unieke bydraes uit die onderhoud blootgelê word. Maré is doelbewus gekies om aan die ondersoek deel te neem, aangesien sy navorsingsondersoek van 2003 die nodige tersaaklike grondinligting vir hierdie ondersoek verskaf (Burns & Grove 1993:58), sowel as om die betroubaarheid van die artikel te verhoog (Holliday 2002:41). Die outeur se onderhoud met Maré op 01 Julie 2009 word derhalwe verder bespreek.

Voorstelle vir sinvolle, bruikbare en tersaaklike teologiese opleiding

In die onderhoud (01 Julie 2009, Roodepoort) maak Maré dit eerstens duidelik dat sy voorstelle nie ten doel het om 'n nuwe kurrikulum vir die ATS daar te stel nie. Die presiese manier waarop die opleiding van pastors aan die ATS aangepas word, sal in die praktyk uitgewerk moet word.

Maré glo egter vas dat teologiese opleiding vir voornemende pastors meer as 'n drie- of vierjaarkursus moet wees. Teologiese opleiding met 'n stewige grondslag in die Teologie én die nodige vakdissiplines behoort volgens hom 'n sewejaarkursus te wees. Op grond van die teologiese basis moet daar dissiplines uitgewys word wat elke aspek van die pastorale bediening dek. Praktiese Teologie behoort vir ten minste twee jaar deel uit te maak van so 'n nuwe teologiese opleidingsterrein.

Volgens Maré het voortgesette teologiese opleiding ook 'n plek, en moet dit wyer bekend gestel word. Voortgesette opleiding behoort nie net honneursgrade, magisters en doktorate nie, maar ook kort verfrissingskursusse te behels. Hiermee bedoel hy dat voortgesette teologiese opleiding alle fasette van die bediening moet dek. Teologiese opleiding mag nooit verskraal word nie, maar moet eerder alle dissiplines so wyd moontlik probeer dek sodat niks verlore gaan nie. Die kerk het ook nodig dat hul pastors se gawes en talente verder uitgebou en ontwikkel word, sodat daar meer spesialiste in die bedieningspraktyk kan wees. 'n Pastor met die gawe om met jongmense te werk moet geleentheid kry om daardie gawe verder te ontwikkel; so ook iemand met 'n roeping om by Bybelvertaling betrokke te raak, of iemand wat 'n teoloog wil word. Elke pastor met 'n besondere gawe behoort met 'n grondiger kennis op daardie gebied toegerus te word. Soos wat 'n mediese dokter sekere teorieë moet ken om suksesvol te kan opereer, en 'n advokaat eers sekere wette moet ken voordat hy die wet kan toepas, moet pastors volgens Maré gesonde leraars van sowel die teorie as die praktyk wees.

Maré maan rolspelers by teologiese instellings om versigtig te wees om nie net op sekere vakdissiplines ten koste van ander te konsentreer nie. Wanneer Praktiese Teologie byvoorbeeld ten koste van die Ou en Nuwe Testament of Grieks of Hebreeus beklemtoon word, kan sekere belangrike komponente agterweë bly of dalk uitgelaat word. In plaas daarvan om tussen vakdissiplines te kies, behoort teologiese opleiding uit 'n gesonde kombinasie van alle dissiplines te bestaan.

Vir Maré is dit belangrik dat pastors die Bybel reg moet gebruik, en daarom is ses maande of 'n jaar se onderrig aan 'n teologiese instelling nie voldoende nie. Volgens hom kan pastors immers nie die Bybel reg verstaan, leer en vertolk as hulle nie meer Bybelse onderrig kry nie. Maré meen pastors moet die Bybelse inhoud en teologie goed verstaan en weet hoe om die Bybel reg te vertolk. Hy reken vele pastors gebruik nie die Bybel reg nie, lê Bybeltekste verkeerd uit, en wend dit bloot aan om hulle eie argumente te verdedig. Pastors moet opnuut besin oor hoe hulle die Bybel hanteer en gebruik om sekere slaggate te vermy.

Maré glo dat die werking van die Heilige Gees soos dit in Pinksterkerke beleef word, en wetenskaplike eksegese, mekaar goed aanvul, en dat daar as sodanig geen wrywing tussen die twee behoort te bestaan nie. As 'n Pinksterman byvoorbeeld sou sê 'Die Heilige Gees het hierdie teks of gedeelte aan my bekend gemaak', behoort die eksegetiese deel dié verklaring van die spreker te bevestig en te ondersteun. Alhoewel sekere teoloë deesdae die tersaaklikheid van Grieks en Hebreeus as teologiese vakke bevraagteken, glo Maré dat dié twee tale steeds besondere bydraes kan lewer om pastors te help met, en beter toe te rus vir, goeie eksegese wanneer hulle preke voorberei. Maré is beslis daaroor dat pastors moet besef en in gedagte hou dat die Bybel in 'n ander era en tyd as die postmoderne tyd geskryf is; dat daar dus twee verskillende wêrelde ter sprake is, en dat die Bybel dus in daardie konteks verstaan moet word wanneer teksgedeeltes uitgelê word. 'n Teks moet altyd in sy eiesoortige konteks verstaan en gelees word. Deesdae is daar volgens Maré te veel pastors en lidmate wat onverskillig met Bybeltekste omgaan. Dit word veral ook in ander dissiplines waargeneem. Meer kennis van die dogmatiek en etiek is nodig, aangesien vele pastors en lidmate nie goed ingelig is wat belangrike etiese aspekte betref nie. Die kerkgeskiedenis is ook hier van belang, aangesien pastors moet weet waar die AGS-kerk vandaan kom, en wat dié kerk se identiteit is.

Maré meen teologiese instellings behoort in samewerking met plaaslike gemeentes diegene uit te wys met wie die instellings kan hande vat om doeltreffender bydraes aan die teologiese student te lewer. Hier dink hy byvoorbeeld aan kerkleierskap, en vra: 'Wie behoort die beste leermeester vir 'n student te wees: iemand wat in praktyk 'n goeie kerkleier is, of iemand wat slegs oor kerkleierskap gepubliseer het?' Saam met die aanleer van vaardighede, moet die student egter ook weet watter hulpmiddele beskikbaar is om hom doeltreffend te laat funksioneer. Net soos mediese dokters en tandartse opleiding ontvang van personeel wat praktiseer, behoort pastors ook hulp te kry van persone wat daagliks die bedieningspraktyk beoefen.

Maré is wél oortuig dat die ATS gemeentes moet uitwys saam met wie die instelling kan werk om pastoropleiding doeltreffender te maak. Sodanige gemeentes en hul pastors kan 'n baie belangrike rol in die praktiese opleiding van kandidate vir die bediening speel.

Dit is uiters belangrik dat die ATS veel meer sendingsgerig in sy opleiding moet wees. Dít veronderstel nie net die aanbied van Sendingkunde as vakgebied nie, maar dat elke vakgebied in diens van die kerk se sendingsopdrag sal staan. Die opleiding in sy geheel moet uiteindelik daarop gerig wees om pastors op te lei wat die sendingsopdrag van die kerk doeltreffend sal kan uitvoer.

Volgens Maré behoort die ATS-dosente verantwoordelikheid te aanvaar om as hul studente se mentors op te tree. Tans het elke klas bepaalde voogdosente wat vir dié doel aangestel is. Hierdie voogdosente ontmoet weekliks met hul onderskeie klasse. Dit blyk egter dat studente eerder na 'n persoonlike mentorsverhouding tussen dosent en student op soek is. Hierdie mentorsverhouding behoort nie net vir die duur van die opleiding te geld nie, maar moet ook tot 'n lewenslange mentorsverhouding kan ontwikkel.

In teologiese opleiding moet die ATS verantwoordelikheid aanvaar om die karakter en spiritualiteit van sy studente te ontwikkel. Die omgewing waarin die kerk funksioneer, raak al hoe vyandiger teenoor die kerk. In 'n tyd van groot spanning en uitdagings moet pastors voorberei word om geestelik nie net te oorleef nie, maar te floreer.

Dit is baie duidelik dat die ATS verantwoordelikheid moet aanvaar om sy studente tot die ontdekking van hul geestelike gawes en bedieningstalente te begelei. God skep elke mens met unieke persoonlike en bedieningstalente. Studente behoort op die laatste aan die einde van hul eerste jaar of aan die begin van hul tweede jaar geleentheid te ontvang om toetse af te lê wat hul unieke gawes sal toon. Sodanige toetse moet wetenskaplik ontwerpte meetinstrumente behels. Daarna behoort die studente gespesialiseerde opleiding te ontvang om hul besondere bedieningstalente doeltreffender aan te wend.

In sy opleiding moet die ATS ook plek maak vir spesialisasie. 'n Nuwe kurrikulum behoort studente die geleentheid te bied om op 'n bepaalde bedieningsgebied te spesialiseer, na gelang van hul eie potensiaal. Die basiese opleiding moet oor sekere vaste aspekte beskik, waarná gespesialiseerde opleiding aan die beurt moet kom.

Putter 2006

Met sy 2006-ondersoek wou Putter (2006:81-110) die onderskeie rolverwagtinge van pastors uitwys. Hy het riglyne aan die AGS-hoofkantoor, sy streekrade, plaaslike gemeentes en pastors voorgestel, waarvolgens die pastor by voortgesette akademiese ontwikkeling betrokke kon raak.

In die 2006-navorsing het die AGS-hoofkantoor 'n groep AGS-lidmate gekies om as verteenwoordigers van die groter AGS aan die studie deel te neem (Putter 2006:8-12). Deelnemers het gewissel van getroudes, tieners en senior burgers, tot leiers, nie-aktiewe lidmate, sowel as voltydse pastors. Met behulp van die AGS-hoofkantoor is werksessies oor die hele land gehou. Dié werksessies was verteenwoordigend van al die gemeentes, ongeag verskille in kultuur, taal en ekonomiese omstandighede, en het sowel plattelandse as stedelike AGS-gemeentes ingesluit ten einde die betroubaarheid van die ondersoek te verhoog (kyk Holliday 2002:41).

In Putter se 2009-navorsingsondersoek (2009:1-7) het die leierskap van die Ophir Netwerk hul pastors en eggenote gekies om aan die studie deel te neem. 'n Werksessie vir die Ophir Netwerk-pastors het by Alpine Heath in die Drakensberge plaasgevind. Weereens was die deelnemers uiteenlopend, onder meer jeug en medeleraars, AGS-pastors met een tot 15 jaar voltydse bedieningsondervinding, AGS-pastors met 16 tot 25 jaar voltydse ondervinding, en AGS-pastors met 26 en meer jaar voltydse ondervinding.

Al die deelnemers aan die 2006- en 2009-ondersoeke is doelbewus gekies om aan die navorsingsvereistes te voldoen, en die nodige inligting ten opsigte van die pastor se rolverwagtinge te verskaf (kyk Burns & Grove 1993:58). By al die werksessies is die ses maatstawwe waaraan deelnemers moes voldoen, gehandhaaf (kyk Polkinghorne 1989:19). Nadat hulle oor die aard en doel van die ondersoek ingelig is, en verseker is dat alle inligting sowel as hul identiteit as vertroulik beskou sal word (kyk Creswell 1994:147-148), het alle deelnemers hul naam op 'n presensielys aangeteken ten einde skriftelik toestemming te verleen dat inligting vir navorsing gebruik mag word. Die vraag 'Wat is die rolverwagtinge van die AGS-pastor?' was die snellervraag vir sowel die 2006- as die 2009-werksessie. Deelnemers is aangemoedig om alles te noem wat na húl mening deel uitmaak van die pastor se rolverwagtinge, omdat geen inligting verlore moes gaan nie. Voorts is veldnotas deur middel van sleutelwoorde en -frases gemaak om waarnemings akkuraat aan te teken. Die aantekeninge is later breedvoerig aangevul (kyk Knafl & Breitmayer 1989:434-436). Gedurende die ondersoek kon die navorser niks toevoeg, weglaat, verdraai of verwring nie; sy taak was slegs om die ondersoek te fasiliteer. 'n Objektiewe benadering is so ver moontlik gehandhaaf. Die inligting uit die werksessies is volgens Tesch (kyk Creswell 1994:154) se beskrywende ontledingsmetode verwerk. 'n Kundige op die gebied van sowel die Teologie as kwalitatiewe navorsing is as onafhanklike kodeerder aangestel. Nadat die gesprekke getranskribeer en gekodeer is, het die onafhanklike kodeerder 'n protokol vir die ontleding van die data ontvang. Sy het die data vervolgens onafhanklik gekategoriseer en gekodeer, waarna sy die inligting vanuit 'n teologiese agtergrond met die navorser bespreek en saamgestel het, sodat 'n eksterne kodeerder die betroubaarheid van die resultate kon nagaan (kyk Krefting 1991:217). Hierna het verskeie konsensusgesprekke tussen die navorser en die eksterne kodeerder gevolg, en is die finale en subkategorieë uitgewys.

Uitslae van die 2006-navorsingsondersoek

Die uitslae van Putter (2006:81-110) se navorsingsondersoek oor die AGS-pastor se rolverwagtinge word vervolgens hier onder in tabelvorm uiteengesit:

Volgens Putter se 2006-navorsingsondersoek, het AGS-lidmate en -pastors eerstens uitgewys dat hul pastors oor sekere persoonlike kenmerke en deugde moet beskik om hul rolle doeltreffend te vervul (Putter 2006:88-91). So moet die pastor deurgaans Godvresend wees, met die Heilige Gees vervul wees, 'n lewende verhouding met God hê, en volgens die volmaakte wil van God leef. Dit word as 'ononderhandelbaar' beskryf. Die deelnemers meen die pastor moet alles moontlik doen om voormelde in die hand te werk (soos gereelde afsondering, vaste gebedstye, en Bybelstudie).

Voorts word daar van die pastor verwag om deurlopend 'n rolmodel te wees (Putter 2006:91-92). Om al die persoonlike kenmerke en deugde te ontwikkel wat as noodsaaklike 'bestanddele' vir doeltreffende rolfunksionering deur die pastor beskou word, is dit volgens die deelnemers belangrik dat die pastor deur middel van voortgesette onderrig en opleiding op tersaaklike studiegebiede, voortdurend intellektuele, emosionele en geestelike groei ondergaan. Fisieke versorging is ook belangrik (Putter 2006:107-109).

Die interpersoonlike vaardighede waaroor pastors moet beskik om doeltreffende geestelike bemagtigers, predikers, leiers, bestuurders, onderwysers, opleiers, beraders, maatskaplike werkers en fasiliteerders te wees, vereis dat die pastor doeltreffende kommunikasie-, konflikhanterings-, bemiddelings- en besluitnemingsvaardighede sal hê om verhoudinge met die medemens bevorder (Putter 2006:94-107). Wat verhoudinge met die medemens betref, moet pastors deurlopend liefde, omgee, sensitiwiteit, gasvryheid en barmhartigheid in hul omgang met mense betoon.

Putter 2009

Daar is tans 'n groot behoefte in die AGS-kerk in sy geheel dat hul pastors met 'n vorm van voortgesette ontwikkeling toegerus moet word. Die Ophir Netwerk is een van die streke in die AGS wat die voorloper in dié verband wil word. By 'n Ophir Netwerk-vergadering in November 2008 is Putter as een van die leiers van dié Netwerk aangestel wat bepaald met die voortgesette opleiding van die Ophir Netwerk-pastors moet help (Ophir Netwerk 2008:61). Teen die agtergrond van die 2006- kwalitatiewe navorsingsondersoek, het Putter in 2009 'n soortgelyke ondersoek oor die rolverwagtinge van die Ophir Netwerk-pastors onderneem. Hiermee wou Putter en die ander Ophir Netwerk-leiers bepaal wat gedoen kan word om die pastor deurgaans tersaaklik en ingelig te help bly. Hierdie voorstelle kan dan heel waarskynlik tot 'n voorlopige VTOP ontwikkel word. Vervolgens kom die 2009-navorsingsondersoek onder die loep.

 

Tabel 2

 

Uitslae van die 2009-navorsingsondersoek

Die inligting uit Putter (2009) se navorsingsondersoek is gekodeer op grond van die pastors se eie beskouing van wat hulle van die rol van pastor verwag. Dié beskouinge word hier onder in tabelvorm uiteengesit, gevolg deur 'n bondige samevatting (Putter 2009:1-7).

Die deelnemers glo dat Jesus Christus die kernfiguur in pastors se lewens moet wees. 'n Toegewyde verhouding met Hom is dus 'n vereiste (Putter 2009:1-2). Vir deelnemers is dit byvoorbeeld belangrik dat pastors God se stem duidelik moet kan hoor ten einde volgens sy volmaakte wil te leef. Voorts meen die deelnemers dat pastors se daaglikse wandel met God hulle beter vir die eise van die dag sal toerus. Daarom behoort pastors meer te vas, en tye van afsondering te beplan. Die Heilige Gees se leiding en vervulling in die pastors se lewens moet beslis duidelik blyk (Putter 2009:2-3). Hiervoor meen deelnemers moet die pastor God volkome vertrou, en bereid wees om te alle tye sy onderdaan te wees. Só sal hulle ook in staat wees om hul eie tekortkominge beter te besef, en eerlik daaroor te wees. 'n Onderdaan van Jesus is ook iemand wat maklik aanpasbaar is. Hierbenewens moet pastors groot ywer vir die 'groot opdrag' van die Bybel (kyk Matt 28:19) openbaar, sodat hulle lidmate kan begelei om mense dissipels van Jesus te maak (Putter 2009:3). Dít is immers God se bevel, glo die deelnemers.

Ten einde holisties te groei moet pastors gedissiplineerd, deursigtig, geduldig en wetsgehoorsaam wees, selfkennis openbaar, en deurgaans betroubaar, met integriteit, eerlik en opreg optree. Hulle moet meegevoel, nederigheid, beskeidenheid en gasvryheid betoon, en onselfsugtig teenoor ander optree. Dit is belangrik dat pastors hul lidmate in vergewensgesindheid voorgaan, altyd gebalanseerd en standvastig optree, en aan niks verslaaf sal wees nie (Putter 2009:3-4).

Die hoofrolle wat van die pastor verwag word (onder andere dié van apostel, profeet, evangelis, herder en leraar, spirituele/geestelike leier/prediker, bestuurder, opvoeder en opleier/bemagtiger, berader, adviseur, maatskaplike werker/fasiliteerder, motiveerder, beïnvloeder en kerkplanter) noodsaak dat die pastor oor sekere vaardighede (soos verhoudings-, luister-, bestuurs-, pastorale, tegnologiese, terapeutiese, kommunikasie-, konflikhanterings-, bemiddelings- en tegniese vaardighede) beskik, óf dit aanleer, ten einde doeltreffend aan voormelde rolverwagtinge te voldoen (Putter 2009:4-5).

Volgens die deelnemers is die noodsaaklike 'bestanddele' vir holistiese groei in die rol van pastor onder meer voortdurende, volgehoue geestelike, emosionele en intellektuele groei deur middel van voortgesette onderrig en opleiding op tersaaklike studiegebiede. Fisieke versorging is ook belangrik. Dit het duidelik geblyk dat pastors 'n groot behoefte het om deurlopend relevant en ingelig te funksioneer (Putter 2009:6-7).

Enkele kritiese opmerkings oor Putter se 2006- en 2009-ondersoek

Putter se ondersoeke het 'n oorspronklike bydrae tot die debat oor voortgesette opleiding gelewer, in besonder met betrekking tot die AGS-pastor. Dit is die eerste studie waarvoor die AGS-hoofkantoor 'n deel van die groter AGS-lidmaatskap as verteenwoordigers gekies, en waarvoor 'n streekraad van die AGS (Ophir Netwerk) sy pastors aan 'n wetenskaplik getoetste navorsingsondersoek laat deelneem het. Die ondersoeke het tot 'n aantal belangrike temas en subtemas gelei, wat as riglyne kan dien om voortgesette teologiese opleiding vir die AGS-pastor in die toekoms te rig. Die waarde van die Putter-ondersoeke ten spyt, bestaan daar dalk egter steeds sekere navorsingstekortkominge en -moontlikhede wat aandag verg voordat 'n werklik doeltreffende VTOP ontwikkel kan word. Die belangrikste hiervan word hier onder uiteengesit:

• Deurlopende navorsing is nodig om vas te stel of die inhoud van voorgraadse en nagraadse teologiese opleiding tersaaklik is. Dit sou belangrik wees vir die nuwe teologiese instelling in die AGS wat nuut oor opleiding gaan besin. In aansluiting hierby kan kursusse van die destydse teologiese instellings van die AGS, én hul aanbiedingstyl, beoordeel word. Die AGS-hoofkantoor behoort dus 'n samewerkingsproses tussen al die teologiese rolspelers in die AGS te fasiliteer.

• Deurlopende navorsing behoort ook in die toekoms onder die lidmate en pastors van die AGS onderneem te word om vas te stel hoe hulle teologiese opleiding vir die AGS-pastor beleef. Hierdie navorsing behoort onder alle bevolkingsgroepe, in sowel stedelike as plattelandse gebiede, uitgevoer te word.

• Die Putter-navorsing was kwalitatief van aard. Dit skep die moontlikheid vir verdere kwantitatiewe navorsing, waarin die resultate van die kwalitatiewe studie met behulp van vraelyste onder 'n groter groep AGS-pastors getoets kan word. Verdere kwantitatiewe ondersoeke kan help om voortgesette opleiding van pastors in die hand te werk wat die doeltreffendste en mees tersaaklike rolfunksionering tot gevolg sal hê.

 

Tabel 3

 

Dit is veral van die allergrootste belang dat alle kerke en hul leiers sal toesien dat die verwerwing van twyfelagtige teologiese kwalifikasies ten sterkste afgekeur word. Indien die AGS-kerk hierin sou slaag, sal dit 'n beduidende bydrae lewer om enersyds geloofwaardige voortgesette opleiding tot sy reg te laat kom, en andersyds te keer dat pastors by akademiese erkenning betrokke raak wat nie eties verantwoordbaar is nie. Op grond van voormelde, sien die voorstelle vir 'n voorlopige VTOP dus soos volg daar uit:

Voorstelle vir 'n voorlopige voortgesette teologiese opleidingsprogram (VTOP)

Op grond van die navorsingsondersoeke (Maré 2003; Putter 2006, 2009) en 'n literatuurkontrole wat Maré en Putter onderskeidelik in 2003 en 2006 oor teologiese opleiding gedoen het, kan 'n voorlopige VTOP soos volg daar uitsien:

Voorstel 1: 'n Gevorderde kursus vir pastors, met vier temas.
Voorstel 2: Formele nagraadse opleiding vir pastors (BA, honneurs, magister en doktoraat) by erkende universiteite in Suid-Afrika.
Voorstel 3: Tersaaklike korter kursusse vir pastors, by geakkrediteerde teologiese instellings.
Voorstel 4: Kursusse vir pastors ten einde lidmate tot doeltreffende dienswerk aan te spoor.

Bogenoemde voorstelle word vervolgens kortliks onder die loep geneem.

Voorstel 1: 'n Gevorderde kursus vir pastors, met vier temas

Hierdie gevorderde kursus moet van 'n hoë gehalte wees. Die inwerkingstelling van hierdie voorstel behels dat pastors ten minste twee keer per maand klas bywoon. Die klasdatums en -tye kan onderling bepaal word. Dié kursus kan min of meer soos volg daar uitsien:

Tema 1: Noodsaaklike kenmerke en deugde van 'n pastor: Hierdie deel van die kursus behoort ten minste 'n semester te duur. Hieruit kan die volgende subtemas volg: 'n Uitgebreide kennis oor die Bybel en die wese van God', 'Spangesprekke oor toewyding en afsondering', en 'Goddelike leiding, en die rol van die Heilige Gees in die lewe van die pastor'. Aangesien pastors na 'n persoonlike verhouding met God streef, en oor 'n uitgebreide kennis van die Bybel moet beskik, kan hierdie tema hul verhouding met God help ontwikkel, versterk en verdiep.

Tema 2: Opleiding in interpersoonlike vaardighede: Dié kursusafdeling behoort met die hulp van spesialiste (vakkundiges) aangebied te word, aangesien interpersoonlike vaardighede 'n gespesialiseerde gebied is. Dit behoort ook ten minste 'n semester te duur. Spesialisopleiding, en daarmee saam geestelike vorming, kan verlore gaan wanneer plaaslike gemeentes en streeksrade self pastors wil oplei, aangesien dit die gehalte van die opleiding verlaag, en opleiding dan gevaar kan loop om net op die praktiese te fokus. Die kerk in sy geheel sal moet besef dat pastors nie doeltreffend kan funksioneer sonder spesialisopleiding nie.

Tema 3: Opleiding in sekere hoofrolle: Onder hierdie tema kan pastors vir sekere belangrike hoofrolle in die bediening opgelei word.

Tema 4: Opleiding op tersaaklike gebiede: Hierdie afdeling kan selfs rekenaar-, internetgebruik- en tydsbestuuropleiding behels.

Pastors wat hierdie kursus suksesvol voltooi, kan 'n sertifikaat vir voortgesette leer van die betrokke teologiese instelling en/of universiteit ontvang. Die kursus kan pastors ook vir formele nagraadse studie motiveer.

Voorstel 2: Formele nagraadse opleiding vir pastors (BA, honneurs, magister en doktoraat) by erkende universiteite in Suid-Afrika

Erkende universiteite behoort meer dikwels voorstelle aan die AGS-hoofkantoor te maak oor hoe pastors by nagraadse studie betrokke kan raak. Dit sou inligting oor beskikbare beurse en studierigtings insluit. Vele AGS-pastors wat reeds by nagraadse studie betrokke geraak het, het ervaar dat verskeie universiteitsdosente meer as net goeie begeleiding en ondersteuning bied.

Voorstel 3: Tersaaklike korter kursusse vir pastors, by geakkrediteerde teologiese instellings

Indien pastors bewus gemaak word van al die jongste kursusse wat verskeie universiteite en ander geakkrediteerde instellings oor kerkleierskap, gemeentemobilisasie, kennis van die Bybel en talle ander aspekte met betrekking tot die pastoraat aanbied, kan dit baie daartoe bydra om die vooroordele wat hulle - hetsy geregverdig of ongegrond - jeens formele studie koester, uit die weg te ruim.

Voorstel 4: Kursusse vir pastors ten einde lidmate tot doeltreffende dienswerk aan te spoor

Sowel lidmate as pastors wil graag hê dat lidmate self ook deurlopend toegerus word. Sodanige toerusting kan teoretiese én praktiese opleiding in interpersoonlike vaardighede, leierskap, personeelbestuur en spanbou, visieformulering, bemarking en finansiering, predikings- en kommunikasievaardighede, lidmaatmobilisasie, die sendingsopdrag van die kerk, jeug- en kinderbediening, diensbeplanning, musiek en aanbidding, en tegniese bedieningsvaardighede insluit, en behoort by 'n VTOP geïntegreer te word.

Samevatting van navorsingsondersoeke

Maré en Putter se ondersoeke oor teologiese opleiding in die AGS kan dus soos volg saamgevat word:

Praktykgerigte opleiding

'n Vorm van praktykgerigte, uitkomsgegronde opleiding kan pastors help om verskillende vaardighede te ontwikkel. Dit sal hulle ook waarskynlik doeltreffender maak in hul bedieningsrolle. Vir die pastor is intra- en interpersoonlike vaardighede onontbeerlik. Pastors het psigologiese kennis nodig wat hulle in berading kan help om menslike gedrag beter te verstaan. Dit stel hulle ook aan die verskillende soorte probleme bloot waarmee mense dikwels worstel, en verskaf toepaslike strategieë om probleme op te los. Hierdie interpersoonlike vaardighede waaroor die pastor moet beskik om sy rolle doeltreffend te kan vervul, sal heel waarskynlik in die toekoms as voorrangsaak hanteer moet word. Die behoefte aan praktykgerigte opleiding beteken nie dat akademiese voortreflikheid in die slag hoef te bly nie. Inteendeel, die eise van die hedendaagse wêreld skep juis 'n behoefte aan goeie teologiese opleiding. Die vraag is nie óf Teologie nodig is nie, maar eerder watter sóórt Teologie nodig is. Daar is inderdaad 'n behoefte aan teologiese opleiding wat pastors met die vaardighede toerus om die Bybelse teks in die hedendaagse verband toe te pas (Gibbs & Coffey 2001:94,100). Indien teologiese instellings praktikums by die opleiding insluit, onder andere in pastorale berading, evangelisasie, leierskapsrolvervulling, sowel as meer blootstelling aan prediking, kan die pastor, die gemeente, sowel as die verskillende teologiese instellings daarby baat vind.

Leierskap

Leiersvaardighede, bepaald wat persoonlike leierskap betref, is belangrik. In hierdie verband is dit nodig om te let op die verandering in leierskapsfilosofie wat besig is om in te tree, wat 'n dinamieser leierskap in die visier stel (Barna 2001:107). Leierskapsverwante opleiding wat uitgewys is, sluit in beplanning, organisasie, spanbou, visieformulering, bemarking en finansiering, prediking, lidmaatmobilisasie, die sendingsopdrag aan die kerk, jeug- en kinderbediening, diensbeplanning, musiek en aanbidding, en tegniese bedieningsvaardighede.

Spesialisasie in teologiese opleiding

Die studies dui op 'n behoefte aan meer spesialisasie in teologiese opleiding, op grond van elke pastor se ervaring, gawes en roeping (Gibbs & Coffey 2001:110, 117). Indien 'n nuwe kurrikulum 'n sterk en gesonde grondslag in die Teologie as kern sou hê, kan meer gespesialiseerde aspekte van hul opleiding in die toekoms daarop gebou word.

Bybelkennis en die toepassing daarvan

Begrip en kennis van die Bybel moet pastors tot teologiese kennis, bepaald kennis van God en Jesus Christus, lei, sodat pastors in staat is om hul gemeentes in Bybel- en Godskennis te leer groei (De Kok 2001:118). Die pastor moet oor die nodige vaardighede beskik om hul eie kennis met dié van ander deur die kerk se geskiedenis heen te vergelyk. Bybelse kennis word as noodsaaklike onderbou vir lering, berading, prediking en leierskap beskou (Lewis 2000:181).

Gemeentebestuur

Die navorsers het getoon dat gemeentebestuur en -bediening een van die groter opleidingsbehoeftes by teologiese seminariums is.

Verhoudingsbou

Pastors moet ook oor die vermoë beskik om gesonde verhoudings te bou - met hulself, hul gesin en familie, lidmate van die gemeente, en die groter gemeenskap. Aangesien baie van die pastorale verantwoordelikhede in verhouding met ander mense geskied, is dit uiters belangrik dat hierdie aspek doeltreffend hanteer word. Dit is ook belangrik dat die pastor in 'n veelkulturele gemeenskap verhoudings moet kan bou (Hattingh 2005:2). Hierdie vaardighede moet deur middel van 'n kursus aan pastors geleer word.

Kommunikasievaardighede

Kommunikasievaardighede hou met verskillende fasette van die pastoraat verband. Uiteraard word dit direk met prediking verbind, en moet die pastor kommunikasievaardighede aanleer. Die pastor moet, hetsy deur middel van lering, prediking of berading, betekenis op 'n sinvolle wyse oordra. Aangesien kommunikasievaardighede so baie verskillende fasette van die pastoraat raak, moet dit deel uitmaak van 'n pastor se permanente toerusting (Gibbs 2005:187).

Mentorskap

'n Lewenslange mentorsverhouding tussen dosent en student word al hoe noodsaakliker. Die twee navorsers het getoon dat die ATS se dosente reeds 'n groot bydrae lewer wat die student se spiritualiteitsontwikkeling betref. In hierdie mentorsverhouding kan die pastor se geestelike groei deur die beoefening van geestelike dissiplines beoordeel en verhoog word. Met voortgesette opleiding kan pastors begelei word om die geestelike dissiplines te beoefen, sodat dit 'n wesenlike deel van hul daaglikse lewe kan bly.

Opleiding van gehalte

Die beskerming van opleidingsgehalte word sterk beklemtoon. Kerke en seminariums moet besef dat hulle afhanklik is van mekaar, en baie nouer moet saamwerk wat die opleiding en ontwikkeling van pastors betref (Placher 2004:36-46).

Die vorming van die pastor

Dit behels karakterbou, spiritualiteit, emosionele intelligensie, persoonlike ontwikkeling, persoonlike leierskap, en verhoudings.

Vorming duur lank en verg persoonlike kontak. Daarsonder kan pastors nie hul rolle doeltreffend vervul nie. Die pastor moet waardes en houdings weerspieël wat van Christelike karakter getuig. Dít kan slegs gebeur wanneer die pastor hom deur onder andere Bybelstudie en gebed aan God toewy. Karakter- en integriteitsontwikkeling hou ook regstreeks verband met die pastor se Bybelkennis. Daarby rugsteun gebed leierskap en visie. Elemente van Christelike karakter sluit in eienskappe soos nederigheid, respek, liefde, integriteit en diensbaarheid (Nel 2002:159-161).

Bybelgegronde opleiding

Soos met alle wetenskappe, sal teologiese opleiding altyd gevaar loop om te akademies en krities te raak. In die meeste van die besprekings oor die inhoud van teologiese opleiding was almal dit eens dat die opleiding oor goeie Bybelse kennis en hermeneutiese vaardighede moet gaan. Vele navorsers bevestig ook dat opleiding in eksegetiese vaardighede, Bybelkennis, Teologie en kerkgeskiedenis noodsaaklik is. Navorsers se kommentaar oor aspekte van teologiese opleiding toon dat goeie teologiese kennis noodsaaklik is vir 'n pastor wat deesdae doeltreffend in die bediening wil funksioneer (Hattingh 2005:4).

Tersaaklik

Tersaaklikheid gaan daaroor dat pastors na aan hul mense moet wees, en tersaaklik moet wees in die tyd waarin hulle leef. Placher (2004:37-38) stel dit goed: '... [T]he church needs smart educated pastors...'.

 

GEVOLGTREKKING

In hierdie artikel is die studieresultate van twee AGS-navorsers bespreek wat ondersoek ingestel het na AGS-pastors se belewing van hul teologiese opleiding aan die ATS, en die rolverwagtinge wat van pastors gekoester word. Aan die hand van die bespreking is aangetoon dat teologiese instellings voor vele uitdagings en eise te staan kom wat die rolverwagtinge van die pastor betref. Dit klink na 'n onbegonne taak vir teologiese instellings én pastors om deurlopend doeltreffend te funksioneer. Daarom moet daar voortdurend besin word oor die tersaaklikheid, doeltreffendheid en sukses wat teologiese instellings en pastors in hul onderskeie funksionering behaal. Navorsers glo onomwonde dat teologiese instellings en pastors al hoe verder uit hul gemaksone sal moet beweeg, en toenemend uitgedaag gaan word om nuut oor teologiese opleiding en die rolverwagtinge van pastors te dink. Rolspelers in teologiese opleiding sal daarteen moet waak om gebrandmerk te word as 'n elitistiese, nietersaaklike werkgroep met 'n eie pastorstaal wat slegs deur 'n klein groepie ingewydes verstaan word. Dit is veral van deurslaggewende belang dat alle kerke en hul leiers die verwerwing van twyfelagtige teologiese kwalifikasies ten sterkste afkeur. Indien die AGS-kerk hierin sou slaag, sal dit 'n beduidende bydrae lewer om enersyds geloofwaardige voortgesette opleiding tot sy reg te laat kom, en andersyds te keer dat pastors by akademiese erkenning betrokke raak wat nie eties verantwoordbaar is nie. Die grootste uitdaging waarvoor teologiese instellings te staan kom, is om toe te sien dat opleiding deurlopend tot nuwe en groter hoogtes gevoer word. Die AGS, wat in 2008 haar eeufeesjaar gevier het, se leierskap sal ernstig en indringend moet nadink oor die belangrike rol wat teologiese opleiding voortaan sal speel.

 

LITERATUURVERWYSINGS

Barna, G., 2001, Boiling point, Rega, Ventura.         [ Links ]

Burns, N. & Grove, S.K., 1993, The practice of nursing: Conduct, critique and utilization, Saunders, Philadelphia.         [ Links ]

Creswell, J.W., 1994, Research design: Qualitative and quantitative approaches, Sage, Thousand Oaks.         [ Links ]

De Kok, P.O., 2001, 'A relevant curriculum framework for the training of pastors', MEd-verhandeling, Departement Bybelkunde, Randse Afrikaanse Universiteit.         [ Links ]

Gibbs, E. & Coffey, I., 2001, Church next: Quantum changes in Christian ministry, Inter-Varsity, Leicester.         [ Links ]

Gibbs, E., 2005, Leadership next: Changing leaders in a changing culture, Inter-Varsity, Leicester.         [ Links ]

Hattingh, W.J., 2005, 'Prinsipaal verslag van die Aucklandpark Teologiese Seminarium', Johannesburg, 14 November.         [ Links ]

Holliday, A., 2002, Doing and writing: qualitative research, Sage, Thousand Oaks.         [ Links ]

Joubert, S J., 2001, 'Teologiekroniek: Die relevansie van teologie in millennium drie', Verbum et Ecclesia 22(1), 191-197.         [ Links ]

Knafl, K. & Breitmayer, B.J., 1989, 'Triangulation in qualitative research: Issues of conceptual clarity and purpose', in J. Morse (ed.), Qualitative nursing research: A contemporary dialogue, pp. 193-203, Aspen, Rockville, Maryland.         [ Links ]

Krefting, L., 1991, 'Rigor in qualitative research: The assessment of trustworthiness', American Journal of Occupational Therapy 45(3), 214-222.         [ Links ]

Krueger, R.A., 1994, Focus groups, Sage, Thousand Oaks.         [ Links ]

Lewis, J., 2000, 'Teaching, technology and transformation. Thinking through distance education methodology', Evangelical Mission Quarterly 36(4), 490-496.         [ Links ]

Maré, L.P., 2003, 'AGS-pastors se belewenis van hulle teologiese opleiding', MA- verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit.         [ Links ]

Maré, L.P., 2005, 'AGS pastors se belewenis van hulle teologiese opleiding', In die Skriflig 26(2), 432-446.         [ Links ]

Nel, M., 2002, 'Predikante opleiding: Roeping, keuring en legimentering', Verbum et Ecclesia 23(1), 151-167.         [ Links ]

Omery, A., 1983, 'Phenomenology: A method for nursing research', Advances in nursing science 5(2), 49-63.         [ Links ]

Ophir Netwerk, 2008, 'Notule van die Ophir Netwerk-pastorsvergadering', Johannesburg, 4 November.         [ Links ]

Placher, C., 2004, 'The seminary's impossible task: Spread too thin', Christian Century 120(4), 36-46.         [ Links ]

Polkinghorne, D.E., 1989, Phenomenological research methods, in R.S Valle & S. Halling (eds.), Existential-phenomenological perspective in psychology: Exploring the breadth of human experience, pp. 19-20, Plenum, New York.         [ Links ]

Putter, A.P.J., 2006, 'Die voortgesette akademiese ontwikkeling van die AGS-pastor', D.Litt. et Phil.-proefskrif, Departement Bybelkunde, Universiteit van Johannesburg.         [ Links ]

Putter, A.P.J., 2009, 'Die Ophir Netwerk-pastor se onderskeie rolverwagtinge', Uitslae van die eksterne kodeerder, Medunsa-kampus, Universiteit van Limpopo.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Andries Putter
Postal address: Northern Pretoria 0116
PO Box 17584, South Africa
email: andriesputter@telkomsa.net

Received: 15 Nov. 2009
Accepted: 26 Mar. 2010
Published: 23 July 2010

 

 

This article is available at: http://www.hts.org.za