SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.66 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.66 no.1 Pretoria  2010

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die ontwikkeling van die menslike bewussyn: Kan die postmodernekerk ruimte bied vir 'mitologie'? Ken Wilber se bydrae tot die pastoraat

 

The development of the human consciousness: can a 'postmodern church' accommodate 'mythology'? Ken Wilber's contribution to pastoral care

 

 

I.W. (Naas) Ferreira

Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

Postmodern theologians like Hal Taussig are not very optimistic about the future of Christianity. To them, the theistic (mythological) understanding of God is of little use in the postmodern world of the 21st century. Taussig prefers the grassroots Christianity, which has room for persons of all sexual orientations, and advocates ecological sensitivity. The question is: What do the followers of this spirituality teach their children about God? The solution is what Wilber calls 'the conveyer belt' and God's 'Kosmic address'. Everyone starts at square one, 'traditional' and grassroots Christians alike, and move along this conveyer belt. Along the way, there are seven stages and three perspectives, i.e. the first, second and third-person perspective, through which human consciousness could evolve. That means that any given person could have one of 21 different possible understandings and experiences of God. A questionnaire could assist pastors to determine at which stage or level of evolution an individual is, as well as the 'Kosmic address' that God has for that individual. Through spiritual exercises, pastors could then support the individual's further growth towards mature human consciousness.

Keywords: psigoloog; mistikus; Oosterse Filosofie; godsdiens; grondbeginsels


 

 

INLEIDING

Die kosmiese adres van god

In sy boek A new spiritual home: Progressive Christianity at the grass roots beklemtoon Hal Taussig (2006) pluralisme in hedendaagse spiritualiteit. Hy voer aan dat die sogenaamde 'progressiewe Christene' (Taussig 2006:3) deur intellektuele ontleding en emosionele uitlewing hulle geloof met meer vertroue as die Christene van die sestiger-en sewentigerjare bevestig (Taussig 2006:2). Hierdie groep ondersteun die regte van vroue, homoseksuele en die omgewing. Hulle is moeg vir materialistiese verval, en verkondig 'n Christelike praktyk wat individue ondersteun om die oorheersende Amerikaanse paradigmas te weerstaan. Taussig se doel met sy boek is om hierdie nuwe stemme en hulle beweging aan die orde te stel. Hoewel hierdie groep progressiewe Christene nie homogeen is nie, wys Taussig (2006:5-52) vyf herkenbare karaktereienskappe uit wat die meeste van hulle in gemeen het.

Die eerste eienskap is geestelike vitaliteit (lewensvatbaarheid), want, sê Taussig (2006:7-21), progressiewe Christene word geken aan geestelike vernuwing; deelnemende aanbidding; kunsryke eredienste waar mense hulle kan uitleef; die terugeising van vroeë Christelike rituele, sowel as die aanvaarding van nie-Christelike rituele; en kleingroepontwikkeling vir geestelike groei en versorging. Taussig skilder 'n gans ander prentjie as wat die Amerikaanse media oor Christene berig, maar hou vol: 'No longer satisfied with clear thinking and good ethics, a new generation of Christian communities has developed an emotionally textured, deeply participatory, expressive creative, and globally eclectic spiritual pattern' (Taussig 2006:20).

Die tweede karaktereienskap van progressiewe Christene is intellektuele integriteit (Taussig 2006:23- 34). Mense praat anders oor God: Die grootste verandering is dat die klem nie meer op die persoonlike God val nie, maar dat God eerder as gees of energie beskou word. Vir die progressiewe Christen is God anders in die wêreld teenwoordig. Jesus word 'verlaag' tot 'n teken dat God in elke mens teenwoordig is. Dié beweging stel ook 'n ander verhouding tussen godsdiens en die wetenskap voorop. Baie Christene aanvaar nou dat evolusie korrek is en dat die aarde nié die middelpunt van die heelal is nie. Progressiewe Christene sien hulleself as deel van die postmoderne bewussyn. Taussig (2006:32) stel dit soos volg: 'Indeed, the addition of postmodern suspicion of objective knowledge makes the critical intellectual capacities of this new brand of searching Christians all the more rigorous.' Christene hoef nie meer te voel dat hulle hulle intellek ter wille van die gemeenskap van die gelowiges of geestelike ervarings opoffer nie.

Die derde eienskap is die deurbreking van geslagsgrense (Taussig 2006:35-42). Volgens Taussig (2006:35) is die uitstaande kenmerk van progressiewe Christene hulle aandrang op die gelykwaardigheid van sogenaamde GLBTs - gays, lesbiërs, biseksuele en transseksuele persone - voor God en in die kerk. Slegs een Amerikaanse kerkgroep, naamlik die United Church of Christ, het die tradisionele siening dat homoseksualiteit 'n sonde is reeds amptelik verwerp. Ander is egter vinnig besig om hulle voorbeeld te volg. Progressiewe Christene se drastiese vooruitgang wat homofobie betref, sou heel waarskynlik nie sonder die verdieping van die feministiese bewussyn onder Christene die afgelope veertig jaar plaasgevind het nie. Dít het tot die bevestiging van gelyke regte oor geslags-en seksueleoriëntasiegrense heen gelei. In hierdie verband kom Taussig (2006:42) tot die volgende gevolgtrekking: 'Progressive Christianity is gender-bended. As its creative grass roots and in its fledgling national efforts it has challenged the traditional gender roles of Christianity.'

Die vierde eienskap van progressiewe Christene is vitaliteit sonder meerderwaardigheid. Volgens Taussig (2006:43-48) het Christene twee geslagte gelede nog in 'n eksklusiewe Christelike borrel geleef, maar deesdae het byna elke Amerikaner persoonlike kontak met Boeddhiste, Jode, Moslems en Hindoes. Waar Christene voorheen meerderwaardig teenoor ander gelowe gestaan het, is daar nou 'n verdraagsamer houding teenoor ander. Taussig beskryf dié ontwikkeling soos volg:

American Christians across the spectrum of belief are opening up to a more respectful relationship to people of other faiths, despite a clear lag in the formal expressions of many mainstream churches. Progressive Christians do not just practice tolerance of other faiths or content themselves with policy statements. They are actively promoting a kind of Christianity that seeks mutuality of respect and relationships with other religions.

(Taussig 2006:47)

Die vyfde en laaste kenmerk van progressiewe Christene is geregtigheid en ekologie. Taussig (2006:49-52) wys daarop dat die ontwikkeling van progressiewe Christenskap, en dié van feminisme en ekologiese sensitiwiteit of bewussyn tegelyk plaasgevind het. Laasgenoemde twee waardes is egter nie al waaraan progressiewe Christene aandag gee nie. Hulle is ook besorg oor maatskaplike geregtigheid, wat by tradisionele Christene se barmhartigheidsdiens aansluit.

Ná 'n grondige bespreking van 'n hele aantal gemeentes en kerkgroepe (Taussig 2006:53-142), waarin Taussig ook die beperkinge van progressiewe Christenskap aan die kaak stel, bied hy 'n toekomsblik op die progressiewe. Taussig (2006:164-165) se grondliggende opdragte aan progressiewe Christene sluit dan ook by voormelde vyf kenmerke van die progressiewe groep aan, en lui soos volg:

• Konsentreer op deelnemende, skeppende aanbidding en spiritualiteit waarin mense hulle ten volle kan uitleef.

• Help mense om helder en analities oor alles te dink.

• Moedig die volle deelname van vroue en GLBTs openlik aan.

• Christenskap is nie die enigste of beste godsdiens nie.

• Toewyding aan geregtigheid en ekologie is nodig.

Taussig (2006:165) wys ook op 'n aantal moenies in die uitbouing van 'n progressiewe kerk. Hy maan byvoorbeeld daarteen dat mense soos gewoonlik aanbid; hulle moenie ortodoksie en manlike of heteroseksuele vooroordele verdedig nie. Tog voorsien Taussig (2006:124-125) nie 'n merkwaardige uitbreiding in die progressiewe Christenbeweging nie en glo hy hulle sal altyd maar 'n randverskynsel bly.

Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat Taussig hier van die pluralistiese fase in die spirituele lynontwikkeling van die menslike bewussyn praat. Eerstens verteenwoordig geestelike vernuwing die wegbeweeg van teïsme na postmoderniteit - die deur staan dus oop vir nuwe invloede. Intellektuele integriteit sien reeds ander strukture en moontlikhede raak, maar verwerp steeds die fases onder en bo pluralisme. God word tot 'n objektiewe derdepersoonsgees of -energie beperk. Die verbreding van geslagsgrense, sowel as die aanvaarding van ander godsdienste, maak deel uit van die wêreldsentriese ontwikkelingsvlak, terwyl geregtigheid en ekologie reeds sedert die sestigerjare met die ontwikkeling van postmoderniteit en pluralisme voorkom. Tog sou die leser sekere kritiese vrae aan die progressiewe Christen wou stel: Hoekom net een siening van God as geldig aanvaar? Wat van die teïsme van die mitologiese fase? Wat leer progressiewe Christene hulle kinders van God? Bied hulle 'n volwasse inhoud en begrip van God vir kleuters aan? Dit sou dieselfde rampspoedige gevolge hê as om 'n tienjarige vir die Blou Bulle te laat uitdraf. Wat het geword van die tweede en derde ontwikkelingslaag, oftewel die mistieke ontwikkeling van die bewussyn? Is daar regtig geen hiërargieë in die wêreld nie; geen ruimte in die ganse bewussynspektrum vir manlike of heteroseksualiteit nie? Die feit dat Taussig nie die verdere ontwikkeling van progressiewe Christene in die vooruitsig stel nie is 'n ontkenning van die ontwikkeling van die menslike bewussyn. Dit is immers nie net individue wat ontwikkel nie, maar ook die gemeenskap.

Hoewel Taussig se ontleding sekerlik akkuraat is en sy lys moets en moenies prysenswaardig kan wees, verabsoluteer dit die saak, en getuig van oningeligtheid. Volgens Beck en Cowan (2006:274-275) is Claire Graves se uitspraak, 'a momentous leap which takes us over from First Tier Subsistence Levels to the Second Tier's Being levels', waar mense vir die eerste keer van alle sieninge bewus word en dit waardeer, hier ter sprake. Taussig beskik skynbaar nie oor die oorpeinsingsvermoë om ook ander bewussynsvlakke raak te sien of te waardeer nie. Die baba word dus met die badwater uitgegooi: Taussig kan nie aanvaar dat 'n mitologiese God ook plek het in die kerk nie.

 

DIE VERVOERBANDMETAFOOR EN GOD SE KOSMIESE ADRES

Aan die hand van Ken Wilber se psigologiese-ontwikkelingsteorie is onder andere Hal Taussig en Beck en Cowan se insigte ter sake vir wat Wilber die 'vervoerbandmetafoor' noem. Volgens Wilber (2006:197) se teorie behoort die ontwikkeling van menslike bewussyn teen die agtergrond van verskeie bewussynsvlakke begryp te word (kyk Ferreira 2008a, 2008b, 2008c). Hierdie vlakke - elk verteenwoordig deur 'n kleur, byvoorbeeld rooi, amber, oranje, groen, ensovoorts - kan as 'n vervoerband uitgebeeld word. Die pastoraat behoort daarvoor voorsiening te maak dat verskillende mense op verskillende vlakke verkeer, en dat 'n persoon van die een vlak na 'n volgende kan ontwikkel. Wilber (2006:197) stel dit soos volg:

An enlightened society would always make room for that by recognizing that stages in development are also stations in life. And somebody can stop at any of those stations (of Spirit's own unfolding) and they deserve honor and respect at whatever station they are at.

(Wilber 2006:197)

Volgens Wilber (2006:179) verkeer ongeveer 70% van die wêreldbevolking op die mitologiese en laer vlakke, oftewel die 'Nazivlak'. Daarom is daar soveel oorloë in die wêreld namate ekstremiste teen sekularisasie in opstand kom. In dié trant het Wilber oor terrorisme navorsing gedoen, en die volgende bevind:

They all maintained that the modern (orange)1 world will not make room for my sacred (amber) beliefs, and therefore I am going to blow up that world every chance I get, in God's name and with His blessings. Those whom I kill have, in every way, brought this on themselves, which is why my acts are not murder, not wrong, and not punishable. In fact, if I am killed in this sacred cause, I will go to heaven. (In some cases, particularly Muslim and Sikh, suicide is viewed as a career promotion.)

(Wilber 2006:181)

Volgens Wilber (2006:181) aanvaar amber 'n mitologiese wêreld juis as gevolg van die premoderne religieuse aard daarvan. Op sy beurt veronderstel oranje rasionaliteit op grond van die invloed van die moderne wêreld se wetenskaplike ingesteldheid. Die probleem is dat mense nie weet hoe om hulle geloof van amber na oranje te verander nie. Geloof op die mitologiese vlak is gewoonlik geyk. Wilber (2006:182) wys egter op die invloed wat 'kultuurrevolusies' op universiteitskampusse gehad het, en hoe dit na die samelewing uitgekring het. Gelowiges wat hulle op die mitologiese vlak bevind, kom byvoorbeeld op universiteit voor moderne (rasionele) en postmoderne (plurale) denke te staan. Christene beleef dus spanning in die hedendaagse samelewing. Progressiewe gelowiges is reeds lank by die mitologiese verby, en het vrede gemaak met die idee van die 'dood van die mitologiese God'.

Onder andere is Spong (2007:37) daarvan oortuig dat 'n Christelike geloof wat op die 'onkunde van gister' gebou is, nie in die 21e eeu sal kan voortbestaan nie:

If God continues to be defined theistically as a miracle working, invasive deity, then Christianity becomes little more than a dying superstition. The question remains, however, as to whether theism is so deeply part of this faith that removing it would prove to be fatal. Once the theistic God is dismissed then the entire superstructure of traditional Christianity collapses. A twenty-first-century Christian must have the courage to let that happen and so we continue this journey.

(Spong 2007:37)

Spong verabsoluteer dus die postmoderne (plurale) vooronderstellings. Die vraag is egter of dit nodig is om só radikaal van teïsme af te sien. Dit sou ernstige implikasies vir kinders inhou wat nie anders kan as om op hierdie vlak te glo nie. Kinders dink immers mitologies en egosentries. Hulle behoort dit nie ontneem te word nie, want dit veronderstel 'n afwesigheid van 'n natuurlike spiritualiteit wat noodsaaklik is in die ontwikkeling van kind na adolessent, en van adolessent na volwassene. Teen die agtergrond van die postmoderne paradigma is God vir Spong (2007:45) die 'grondslag vir alle bestaan', en voer hy op grond daarvan soos volg aan: '...then the only way I can worship God is to have the courage to be all that I can be.' Hy beskou Jesus as iemand wat so geheel en al vervuld geleef het dat Hy die 'Oorsprong van die Lewe' verteenwoordig. Indien Spong se beskouing met Wilber se kwadrante vergelyk word, naamlik die innerlike en die uiterlike, en 'n enkelvoud en 'n meervoud, wat die ek, die ons en die dit/ditte verteenwoordig, sou God nie die een wees met wie 'n mens in gesprek kan tree nie. 'n Mens kan slegs met 'n 'tweede persoon' in gesprek tree. Die plasing van God as 'die grondslag vir alle bestaan' beteken dat God nie 'n 'tweede persoon' kan wees nie. Die plasing van Jesus in die tweedepersoonskwadrant ontneem Hom op sy beurt van sy posisie as geheel en al 'vervulde' mens (met ander woorde die een wat werklik met God kon praat; die 'eerste persoon'). Hieruit volg dat daar ook nie 'n verwantskap tussen Jesus en God kan wees nie, synde nie een op tweedepersoonsvlak nie. Al wat volgens Spong oorbly, is die sogenaamde 'derdepersoon- objektiewe perspektief'. Dit is egter onaanvaarbaar dat die ander twee perspektiewe (eerste en tweede persoon) en die ander vlakke volgens hierdie soort denke dus nie 'n rol te speel het nie.

Ken Wilber bied 'n oplossing vir dié dilemma. Volgens Wilber (2006:255) ís God ook ter sake wat die ander twee perspektiewe betref, want God het 'n 'kosmiese adres'. Hy vat dié begrip soos volg saam (Wilber 2006:255): 'So we need the altitude and the perspective of both the perceiver and the perceived.' We can represent this simplistically as follows: 'Kosmic address = altitude + perspective.' 'n Mens se hoogste ontwikkelingsvlak is om van die inklusiewe perspektief, wat die eerste, tweede én derde persoon insluit, bewus te wees. Indien 'n persoon op die mitologiese vlak is en God dus net as die transendentale, teïstiese Een (tweede persoon) sien wat nooit een met die mens kan word nie, behalwe in Jesus Christus, dan is God se kosmiese adres vir daardie mens volgens Wilber 4,2, oftewel die vierde vlak (mitologiese) gekoppel aan die tweede persoonperspektief. Spong se idee van God as 'Oorsprong van die Lewe' impliseer 'n 6,3- kosmiese adres - die sesde (postmodern-plurale) vlak wat op die derde persoonperspektief betrekking het.

Hierteenoor behels Meester Eckhart se Godsbeskouing dié van eenwording met God (eerste persoonperspektief). Dit verskil van Spong se siening, en verteenwoordig 'n transpersoonlike ontwikkelingsvlak. Hiervolgens het God 'n 7,1-kosmiese adres, met ander woorde die sewende (of agtste) ontwikkelingsvlak gekoppel aan die eerste persoonperspektief.

Wilber se siening oor God se kosmiese adres bied dus 'n oplossing vir hedendaagse teoloë se probleem om die korrekte beskouing van God presies vas te pen. Dit is nie nodig om verskillende soorte spiritualiteit op grond van verskille of selfs konflikte van mekaar te onderskei nie. Mense behoort hulle nie blind te staar teen 'n keuse tussen 'n teïstiese, panenteïstiese, 'n nie-realistiese of 'n voetsoolvlakspiritualiteit nie. Dit gaan nie daaroor om 'die beste' Godsbeskouing te kies nie. Soos dié artikel toon, is daar vir elkeen van hierdie sienings ruimte in Wilber se integrale model. Verskeie invloedryke teoloë bevind hulle skynbaar reeds op die postmodern-plurale vlak van geloofsontwikkeling. Volgens Wilber se teorie is dit hierdie teoloë wat na die volgende vlakke, naamlik die mistieke, kan verskuif. Die hoop vir die hedendaagse kerk en die klaarblyklike dooiepunt in die hedendaagse pastoraat lê in die insigte van hierdie teoloë opgesluit, mits hulle na die eerste mistieke vlak, naamlik die psigiese vlak, beweeg. Deur gelowiges in hulle ontwikkeling by te staan kan hierdie teoloë sorg dat die Christelike kerk nie net aanneemlik is nie, maar ook geloofwaardig. Voordat dít kan gebeur, moet hierdie teoloë, én ander gelowiges wat hulle op die pluralistiese vlak bevind, egter eers ander 'geestelike aktiwiteite' beoefen om 'n hoër bewussynsvlak te bereik. Dit sluit aktiwiteite soos meditasie, peinsgebed, Thomas Keating (1994) se sentreringsgebed ('centering prayer') en selfs joga in. Dié aktiwiteite kan gelowiges in staat stel om die ego van die 'ware self' te skei, en weer met die 'siel' erns te maak. Hiervoor is dit eerstens nodig om aan die hand van die enneagram-(negelyn-diagram-)stelsel van verskillende persoonlikheidstipes bewus te word. Richard Riso en Russ Hudson (2004:4) is kenners van hierdie stelsel, en beskryf die waarde daarvan soos volg:

The Enneagram can help because it is an invaluable map for guiding us to the points of blockage in our particular personality structures. The fundamental premise of the Enneagram is that there are nine basic personality structures in human nature - nine points of view, nine value systems, nine ways of being in the world. They have much in common with each other, although each manifests its own set of attitudes and behaviors, reactions and defenses, motivations and habits. And each requires its own unique prescriptions for growth.

(Riso & Hudson 2000:4)

Richard Rohr en Andreas Ebert (2008:xiv) bekyk op hulle beurt die enneagram vanuit 'n Christelike perspektief: 'I believe that the Enneagram can help us to find a deeper and more authentic relationship with God.' In hierdie verband voer Almaas (2000:ix) aan dat mense glo dat spirituele verryking beteken dat hulle gelukkiger, vryer en eerbaarder mense sal wees. Die probleem is egter dat hulle lewens dikwels slegs van ervarings op die 'laer' vlakke getuig. Volgens Almaas (2002:ix) veronderstel geestelike transformasie 'n algehele verandering: 'What goes through a radical transformation is specifically our view of what truly exists, and the mode of this existence.'

Die enneagram is egter nie die enigste manier waarop so 'n transformasie bewerkstellig kan word nie. Joga byvoorbeeld is 'n bekende Oosterse meditasie-oefening wat die liggaam en siel as 'n eenheid wil laat funksioneer. Hieroor het Stephen Sturgess die volgende te sê:

Whether you realize it or not you are a soul, a spiritual being in a physical body. The body is the temple of the soul, and the soul is a reflection of God...Due to ignorance and lifetimes of concentration on the material body...the Self has forgotten its omnipresent nature.

(Sturgess 2002:xii)

Sturgess (2002:xiii) wys daarop dat joga 'n geestelike dissipline is wat die verstand en die siel integreer en balanseer.

 

DIE PSIGOLOGIESEONTWIKKELINGSTEORIE EN DIE PASTORAAT

In hierdie en voorafgaande artikels word aangevoer dat Ken Wilber se integrale psigologiese-ontwikkelingsteorie twee belangrike aspekte beklemtoon: Daar is vier kwadrante, naamlik 'n innerlike en 'n uiterlike, en 'n enkelvouds-en 'n meervoudsperspektief, wat op die verskillende bewussynsontwikkelingsvlakke van gelowiges van toepassing is. Volgens Marquis (2008:24) maak dié vier kwadrante 'n sentrale deel uit van die model wat Wilber in reaksie op die oënskynlik geweldig teenstrydige aannames van uiteenlopende dissiplines en teoretiese modelle ontwikkel het. Marquis betoog soos volg:

...[t]his model allows therapists to situate diverse perspectives such that they augment and complement, rather than compete with and contradict one another. The four quadrants are formed by the intersection of two axes: interior-exterior and individualcollective.

(Marquis 2008:24, 26)

Die vier kwadrante verteenwoordig met ander woorde aspekte van, en beskouinge oor, die werklikheid waaruit vier onderling verwante dog duidelik onderskeibare domeine of perspektiewe na vore tree. Enige bepaalde perspektief is immer aan ander perspektiewe verwant: Die ervarings- of subjektiewe kwadrant verwys na die individu wat van binne bekyk word; die behavioristiese of objektiewe perspektief verwys na die individu wat van buite ontleed word; die kulturele, en dus intersubjektiewe, perspektief is die kollektief wat van binne bekyk word, terwyl die sosiale, oftewel die interobjektiewe, perspektief na die kollektief verwys wat van buite ondersoek word.

Vir die terapeut en pastor is dit belangrik om genoemde onderskeid te tref in 'n poging om gelowiges op die pad na volwassenheid te begelei. Marquis (2008:25) wys die individu se verskillende ervarings soos volg uit: Die intern-individuele ervaring - die individu van binne bekyk - lig enige opmerklike patrone in die persoon se selfbelewing uit. Hoe beskou persone hulleself - het hulle respek vir, en is hulle in voeling met, hulleself? Toon hulle lewensvreugde en -lus; is hulle doelgerig en gemotiveerd, of is hulle dalk eerder depressief en bedroef, en voel hulle leeg? In hierdie kwadrant behoort die pastor ook te bepaal of die persoon angstig en onrustig is. Enige politieke, godsdienstige en of spirituele oortuigings en ervarings, sowel as die gelowige se beeld van Jesus en God, kom ook hier na vore. Die bewussyn word hier as verstand beleef. Dit gaan hier oor die persoon se ervaring van depressie, droefheid, verlies aan belangstelling in plesierige aktiwiteite, moegheid, gevoelens van waardeloosheid, konsentrasietekorte, en gereelde dood- en selfmoordgedagtes. Hieruit kan die pastor ook bepaal hoe die persoon gebeure soos die dood van 'n geliefde, egskeiding en enige ander groot verlies vertolk. Die belangrikste aspekte wat hier vasgestel kan word, is die ontwikkelingsvlak waarop die persoon/lidmaat verkeer, en of die persoon enige begeerte het of spirituele oefening doen om verder te vorder.

Die intern-kollektiewe ervaring is die groep se ervaring van binne bekyk. Hier kyk die pastor na die lidmaat se siening van etnisiteit, en ervarings van familiedinamiek. In hierdie kwadrant kan die pastor 'n idee vorm van die stelsels wat lidmate as betekenisvol beleef, sowel as hulle verhoudings met geliefdes, vriende, kollegas, base en familielede. Die medium van die pastorale/terapeutiese verhouding, en die lidmaat en pastor se belewing van hulle intersubjektiwiteit (onderlinge betrokkenheid) kom hier duidelik na vore. In hierdie kwadrant vind die pastor ook die kulturele betekenisse wat die lidmaat aan depressie, siekte, luiheid, onverantwoordelikheid, hartseer, vloektaal en towery heg.

Die ekstern-individuele ervaring - die individu soos van buite gesien - verteenwoordig die derde kwadrant. Hier ondersoek die pastor enige opmerklike gedragspatrone by die lidmaat, byvoorbeeld gedrag wat die lidmaat oortuig het om pastorale hulp te soek, sowel as bepaalde gedragspatrone wat as 'n suksesvolle verandering bestempel kan word. Die pastor kan ook hieruit vasstel watter mediese probleme die lidmaat ondervind, watter medikasie gebruik word, watter dieet gevolg word, en of daar enige alkohol- of dwelmmisbruik voorkom. Vrae oor lidmate se aktiwiteitsgraad - aërobiese en/of kragoefeninge - en slaap- en ruspatrone kan ook lig op hulle fisieke gesondheid werp. Bewussyn word hier aan die hand van senustelsels en die funksionering van breinstrukture beskryf. In hierdie kwadrant kan die pastor enige sigbare gedragsverandering by die lidmaat bepaal. Wat depressie betref, kan die pastor byvoorbeeld vra: Is die persoon huilerig; onttrek die individu aan alle plesierige en sosiale aktiwiteite; was daar enige merkbare gewigsverlies; of is die persoon se serotonienvlakke laer as voorheen?

Die laaste kwadrant is dié van ekstern-kollektiewe ervarings of sosiale stelsels, met ander woorde die groep se gedrag van buite gesien. Die lidmaat se sosio-ekonomiese status, en die toestand van die omgewing waarin die lidmaat leef, speel hier 'n belangrike rol. Watter omgewingstres-of -geriefsfaktore het op die lidmaat betrekking? In dié kwadrant ontleed die pastor die lidmaat se interpersoonlike dinamiek, wat familiegeskiedenis insluit. Watter berading het die lidmaat al ontvang, en indien enige, in watter omstandighede en plekke? Nóg belangrike faktore is die sosiale stelsels wat tot die lidmaat se gemoedstoestand bydra: Hang depressie/neerslagtigheid onder meer saam met die ekonomie (armoede, en dwelm- en bendegeteisterde buurte), opvoeding (swak gehalte onderrig en gevaarlike skole), mediese sorg (minimale toegang tot gesondheidsorg, en weinig of geen berading), rassisme, seksisme, klassisme en ouderdomsdiskriminasie? Voormelde kwadrante kan dus die pastor help om 'n vollediger prentjie van die lidmaat se probleem te ontwikkel.

Die volgende stap is om die lidmaat 'n vraelys te laat deurwerk om die nodige inligting in te samel. Marquis (2008) het reeds so 'n vraelys ontwikkel wat met groot vrug deur die pastoraat gebruik kan word. Die lys kan hetsy voor die eerste afspraak aan die lidmaat beskikbaar gestel word om gedurende die eerste ontmoeting te bespreek, of dit kan ten tyde van of ná die eerste ontmoeting aan die lidmaat gegee word.

Die pastor kan die volgende inleidende vrae vra om te bepaal watter vorige berading die lidmaat al ontvang het:

Wat is die hoofbekommernis of -probleem waarvoor jy hulp soek?

Wat maak dit beter en wat vererger dit? Is daar enige onmiddellike uitdagings of sake wat ons dringende aandag nodig het?

Het jy al voorheen enige psigiatriese behandeling, berading of psigoterapie ontvang? Wanneer, vir hoe lank, en by wie? Hoe het jy die terapie beleef?

Watter gedeelte van die terapie het die meeste gehelp? Wat het die minste gehelp? Wat het jy van jouself in die terapiesessies geleer?

Wat verwag jy van my en ons werk saam?

(Marquis 2008)

Met die verkenning van die intern-individuele kwadrant kan die pastor die volgende vrae vra:

Wat is van jou sterk punte?

Wat is van jou swak punte?

Hoe sou jy jou algemene gemoedstoestand/gevoelens oor die afgelope twee weke beskryf?

Watter emosies beleef jy gewoonlik die sterkste?

Op watter maniere versorg/vertroos jy jouself wanneer jy spanning beleef?

Hoe hanteer jy sterk emosies binne jouself? Hoe reageer jy op stresvolle situasies en probleme?

Hoe neem jy besluite (byvoorbeeld gebruik jy logika en rede, of vertrou jy op jou intuïsie en hart)?

Is jy bewus van enige beelde of gedagtes (hetsy wanneer jy wakker is of droom)? Indien wel, beskryf dit. Het jy al ooit probeer om jou of enigiemand anders te beseer of dood te maak? Indien wel, beskryf asseblief hoe dit gebeur het. Koester jy tans enige selfmoordgedagtes of gedagtes om iemand anders leed aan te doen?

Indien wel, beskryf dit. Was daar enige ernstige siektes, geboortes, sterftes of enige ander verlies in jou familie wat jou ernstig geraak het?

Indien wel, beskryf dit. Wat is jou pynlikste herinnering?

Waar in jou liggaam voel jy wanneer jy gespanne is (in jou skouers, rug, kake, ensovoorts)?

Op watter maniere leef jy jou skeppend of deur kuns uit?

Beskryf jou vryetydsbesteding (stokperdjies/genot). Was jy al ooit 'n slagoffer of getuie van verbale, emosionele, fisieke en/of seksuele mishandeling?

Indien wel, beskryf jou ervaring(s) kortliks. Raak dit jou steeds?

Hoe tevrede is jy in die algemeen met jou lewe? Hoe voel jy in die algemeen oor jouself (selfbeeld)?

Hoeveel beheer dink jy het jy in die algemeen oor jou lewe en jou gevoelens?

Merk asseblief enige van die volgende gevoelens of ervarings wat jy onlangs of voorheen beleef het: woede; swak konsentrasie; terneergedruktheid; min belang by of plesier in dit wat jy doen; eensaamheid; swak of uitermatige eetlus; vrees; hopeloosheid; angstigheid; hulpeloosheid; skaamte/skuld; meer energie as gewoonlik; jaloesie; gedagtes maal deur jou kop; geluk; het meer slaap as gewoonlik nodig; dankbaarheid; dink dit sal beter wees as jy dood is; seksuele/erotiese begeertes; drang om jouself seer te maak; opwinding; hoor of sien dinge wat nie daar is nie; energie; vreemde dog onstuitbare gedagtes; hoopvolheid wat skielik verdwyn; ontspannendheid; vrees dat iemand jou sal leed aandoen; of enige ander emosies wat jy beleef.

(Marquis 2008)

Wanneer die pastor in dieselfde kwadrant meer oor die lidmaat se godsdienstige ervarings en spirituele ontwikkelingsvlak te wete wil kom, kan vrae soos die volgende gevra word:

Wie is Jesus vir jou? Waar is God? Motiveer jou antwoord. Is Jesus die enigste Verlosser in die wêreld? Hoekom? Watter rol speel die Bybel en die belydenisskrifte in jou lewe? Hoe maak jy in moeilike tye op God staat? Wat maak jou gelukkig?

(Marquis 2008)

Wanneer die ekstern-individuele optrede van die lidmaat ondersoek word, kan die volgende vrae gebruik word:

Watter medikasie gebruik jy tans (dosis/hoeveelheid en rede)?

Het jy 'n vaste mediese praktisyn? Indien wel, wie is dit?

Hoe lank is jy, en hoeveel weeg jy?

Wanneer was jou laaste mediese ondersoek? Wat was die resultate (infeksies, bloeddruk, cholesterol, ensovoorts)?

Het jy al ooit ernstige kop- of ander beserings opgedoen? Indien wel, beskryf dit asseblief.

Watter ander beduidende mediese probleme het jy al gehad of het jy nou?

Merk asseblief enige van die volgende gedragspatrone of fisieke gevoelens wat op jou van toepassing is: drink te veel; gebruik onwettige dwelms en/of psigedeliese middels; eet te veel of te min; skeep familie en vriende af; skeep jouself en jou behoeftes af; vind dit moeilik om jouself te aanvaar en lief te hê; eie dade het dikwels pynlike gevolge vir jouself én ander; verloor maklik jou humeur; lyk asof jy van jou gedrag nie kan beheer nie; dink aan selfmoord; konsentreer baie moeilik; spandeer meer geld as wat jy verdien; is huilerig; of enige ander. Is daar enige ander gedrag waarvan ek behoort te weet? Ervaar jy hoofpyne, probleme met jou menstruele siklus, duiseligheid, hartkloppings, angstigheid, seksbeheptheid, tinteling/styfheid, uitermatige moegheid, hallusinasies of floutes?

Het jy enige ander fisieke pyne of probleme? Indien wel, wat is dit?

Hoe sou jy jou fisieke gesondheid oor die algemeen beoordeel?

Beskryf jou slaappatrone. (Wanneer slaap jy? Hoeveel ure per dag slaap jy? Slaap jy deur die hele nag, of word jy dikwels wakker?) Voel jy uitgerus wanneer jy wakker word?

Beskryf jou eetgewoontes (kossoorte en -hoeveelheid).

Neem jy vitamiene en ander voedingsaanvullings? Indien wel, watter? Beskryf jou middel-en alkoholgebruik (voorheen én nou). Doen jy enige vorm van fisieke oefening (aërobiese en/of kragoefeninge)? Indien wel, beskryf dit asseblief.

Ly jy aan enige kommunikasiebelemmering (sig, gehoor, spraak)? Indien wel, beskryf dit asseblief.

(Marquis 2008)

Die kulturele of intern-kollektiewe gesteldheid kan met die volgende vrae bepaal word:

Beskryf jou verhoudings met jou familie, vriende en kollegas.

Watter daarvan het vir jou die meeste belang en betekenis?

Hoe tevrede is jy in die algemeen met jou vriendskappe en ander verhoudings?

Hoe gemaklik is jy in die algemeen in sosiale situasies?

Hoe tevrede is jy in die algemeen met jou godsdiens/spiritualiteit?

Watter rol speel kerklike en/of Bybelse voorskrifte in jou morele besluitneming?

Sal enige nie-Christen die ewige lewe bekom?

Watter emosies is kleintyd in jou gesin aangemoedig?

Watter emosies was verbode?

Met watter emosies voel jy nou op jou gemak?

Watter emosies maak jou baie ongemaklik?

Hoe identifiseer jy jouself etnies?

Hoe belangrik is jou etniese kultuur vir jou, en hoekom?

Hoe het die gesin waarin jy grootgeword het aan liefde en versorging uiting gegee?

Hoe gee jou huidige gesin daaraan uiting?

Hoe het die gesin waarin jy grootgeword het aan afkeur uiting gegee? Hoe doen jou huidige gesin dit?

Beskryf jou romantiese/liefdesverhouding(s), indien enige.

Beskryf jou sekslewe. Hoe tevrede is jy met jou sekslewe?

Watter sienings het jy oor seks? Hoe belangrik is hierdie sienings vir jou?

Het jy enige godsdienstige/geestelike bande en/of gewoontes? Indien wel, beskryf dit asseblief.

Watter geloofsoortuigings het jy oor godsdiens/spiritualiteit? Hoe belangrik is dié oortuigings vir jou?

Wat is jou belangrikste morele waardes? Hoe belangrik is dié waardes vir jou? Beskryf enige politieke of burgerlike aktiwiteite waarby jy betrokke is. Beskryf enige omgewingsbewaringsaktiwiteite waaraan jy deelneem (herwinning, besparing, fietsry, ensovoorts).

Is jy by enige kulturele aktiwiteite of instansies betrokke? Indien wel, beskryf dit asseblief. Was jy al ooit 'n slagoffer van enige vorm van diskriminasie of vooroordeel (byvoorbeeld wat ras of geslag betref) of het jy al minderwaardig gevoel met betrekking tot mag en voordeel in die gemeenskap? Indien wel, beskryf asseblief.

(Marquis 2008)

Laastens kan die pastor die ekstern-kollektiewe ervaring of sosiale stelsels met die volgende vrae bepaal:

Beskryf jou fisiese huislike omgewing, byvoorbeeld die uitleg van jou huis, en ander algemene omstandighede soos jou privaatheid, huisverligting en -belugting, is jou huis omgewingsvriendelik of gebruik dit baie krag, ensovoorts.

Beskryf jou woonbuurt. (Is dit veilig/gevaarlik, aangenaam/ onaangenaam, stil/raserig?)

Beskryf jou huidige sosiale omgewing tuis. (Hoe sou 'n buitestander byvoorbeeld jou verhouding met jou huismense en bure beskryf?)

Beskryf jou werksomgewing (wat jou kollegas en toesighouers wat jou regstreeks raak, insluit).

Het jy 'n romantiese maat?

Was jy al voorheen getroud? Indien wel, beskryf asseblief jou vorige huwelik.

Het jy enige troeteldiere? Indien wel, hoe belangrik is hulle vir jou?

Het jy al ooit militêre diens gedoen? Indien wel, beskryf van jou ervarings.

Is jy tans in 'n geskil gewikkel oor toesig oor jou kinders? Indien wel, beskryf dit asseblief.

Het jy al ooit met die gereg gebots? Indien wel, beskryf asseblief.

Watter aspekte van jou lewe is vir jou baie stresvol? Beskryf dit asseblief.

Watter soort ondersteuningstelsel het jy (vriende, familie, geloofsgemeenskap) wat kan help in tye van nood?

Noem al die lede van die gesin waarin jy grootgeword het, van die oudste tot die jongste, en sluit jou ouers en jouself in (naam: ouderdom: geslag: verhouding).

Wat is jou opvoedkundige agtergrond?

Watter beroep beoefen jy?

Hoe tevrede is jy met die soort werk wat jy doen?

Wat is jou jaarlikse inkomste?

Hoe tevrede is jy met jou lewenstandaard?

Noem al die lede van jou huidige gesin, of al die mense saam met wie jy woon, van die oudste tot die jongste, en sluit jouself in (naam: ouderdom: geslag: verhouding).

Beskryf enige geestesongesteldheid in jou familie.

Is jy by enige organisasie betrokke? Indien wel, beskryf asseblief.

Is jy by enige vrywillige werk betrokke? Indien wel, beskryf dit asseblief.

Merk asseblief aan die linkerkant enige van die volgende waarmee jy probleme ondervind (het). Toon tussen die hakies aan op watter ouderdom jy die probleme ondervind het:

_____ Voeding en/of eetgewoontes ( )

_____ Toiletgewoontes ( )

_____ Kruip en loop ( )

_____ Praat ( )

_____ Naelbytery en ander senuweeprobleme ( )

_____ Skoolbywoning/skeiding van versorgers ( )

_____ Wreedheid teenoor diere en mense ( )

_____ Ernstige siekte of beserings ( )

_____ Akademiese probleme ( )

_____ Sosiale probleme ( )

_____ Verhuising of ander gesinstraumas ( )

_____ Mishandeling (emosioneel, fisiek of seksueel) ( )

_____ Enige probleme met seksuele volwassenheid ( )

_____ Gespot by die skool, tuis of op enige ander plek ( )

_____ Selfvernietigende optrede (onverantwoordelike seks, eetprobleme) ( )

_____ Inskakeling by sosiale groepe ( )

_____ Neem standpunt in teen die sienings van jou groep ( )

_____ Belangrike besluitneming, veral as dit met dié van jou groep verskil ( )

_____ Enige bestaanskrisisse ( )

_____ Enige godsdienstige en/of spirituele ervarings (kan positiewe gevolge hê) ( )

(Marquis 2008)

Die volgende is 'n lys van verskeie aspekte of subpersoonlikhede wat mense al in sekere omstandighede by hulleself opgemerk het, maar nooit by ander nie.

Merk asseblief aan die linkerkant enige van die volgende waarmee jy al probleme gehad het. Soms besef ons eers ná die tyd dat ons op 'n sekere negatiewe manier opgetree het. Toon ook regs langs die probleem aan in watter situasie of konteks jy die gedrag geopenbaar het:

______ Onverantwoordelike kind _________________________

______ Kritiese ouer ___________________________________

______ Dominerende 'baas van die plaas' ___________________

______ Gedoem tot mislukking; niegunsteling _______________

______ Uitermatig streng regter of kritikus _________________

______ Vals ____

______ Onwaardig, nie goed genoeg nie ____________________

______ Spoggerigheid, beter as enigiemand anders ___________

______ Ander, beskryf asseblief ___________________________

Die vraelys kan afgesluit word met die volgende vraag: 'Is daar enigiets wat jy dink ek behoort te weet?'

Deur bloot vas te stel op watter ontwikkelingsvlak lidmate hulle bevind, is egter nie genoeg om hulle tot geestelike volwassenheid te begelei nie. Dit verg geestelike oefening om van die een vlak na die volgende te beweeg, veral op die post-rasionele vlakke. Teasdale (1999:128) stel dit soos volg: 'Spiritual practice, the work of our transformation, is the means of inner growth towards human maturity glimpsed in the best of religious experience. It is critically important in authentic spirituality.' Daaglikse geestelike oefening is die tegnologie van innerlike transformasie. In haar ontleding en modernisering van Theresa van Avila se Interior castle beklemtoon Caroline Myss (2007:50) die waarde van geestelike oefening vir die gelowige se lewe. Geestelike oefening is die ruggraat waarsonder 'n mens geen transformasie kan aanpak nie. Oor algehele toewyding aan die transformasieproses spreek Myss (2007:51) haar soos volg uit: 'Personal transformations require the inner work of self-examination, contemplation, and prayer. You must learn to love the discipline of the interior life and all that it requires of you.' Nadat Roger Walsh (1999) wêreldgodsdienste en hulle onderskeie oefeninge vir geestelike groei bestudeer het, wys hy die volgende sewe oefeninge uit (Walsh 1999:14):

• Herskep jou motivering: Beperk hunkering, en bepaal jou sielsbegeerte.

• Ontwikkel emosionele wysheid: Genees jou hart, en leer om lief te hê.

• Lewe eties: Voel goed deur goed te doen.

• Konsentreer en kalmeer jou gedagtes.

• Wakker jou geestelike visie aan: Sien en herken die goddelike in alle dinge.

• Ontwikkel geestelike intelligensie: Word wys, en begryp die lewe.

• Wees 'n lewende bewys van die Gees: Wees goedhartig, en beleef die vreugde van onbaatsugtige diens.

Bo en behalwe die fisieke en psigiese voordele wat daaruit spruit, glo Walsh (1999:4, 5) ook geestelike oefening het die volgende doel:

The ultimate aim of spiritual practice is awakening; that is to know our true Self and our relationship to the sacred...We see that we are a creation of the sacred, intimately and eternally linked to the sacred, and forever graced and embraced by the sacred.

(Walsh 1999:4, 5)

Teasdale (1999:24) beskryf weer die invloed wat verskeie ander vorme van geestelike oefening op die innerlike lewe van gelowiges kan hê soos volg:

All spiritual practices are transformative, be they contemplative forms of prayer, meditation and sacred reading; a restful, active participation and presence in liturgy and ritual; music and chanting; yoga and certain martial arts; hiking and even walking. They change us within and make this inner change consistent with our actions in the world in our daily lives.

(Teasdale 1999:124)

Selfs in die institusionele kerk is geestelike oefening dus noodsaaklik - eers om die ontwikkelingsvlakke en -kwadrante te herken, en om lidmate dan te begelei om op hulle eie tyd en volgens hulle eie vermoëns te ontwikkel.

Wilber se bydrae tot die pastoraat lê daarin dat hy aantoon dat postmoderne christenskap slegs een tree op die 'geestelike vervoerband' is en nie die hele vervoerband is nie. Die pastoraat behoort dus ruimte te hê vir gelowiges wat op ander vlakke, soos die mitologiese, verkeer. Alle gelowiges is immers op 'n ontwikkelingspad; almal is in verskillende stadia van die 'geestelike vervoerband', nie een minder of meer geldig as die ander nie. Alle gelowiges moet tog iewers begin, en kan deur pastorale begeleiding en geestelike oefening vorder tot die bewussynsvlak waar hulle wil wees.

 

LITERATUURVERWYSINGS

Almaas, A.H., 2000, Facets of unity: The Enneagram of holy ideas, Shambhala, Boston/Londen.         [ Links ]

Beck, D.E. & Cowan, C.C., 2006, Spiral dynamics: Mastering values, leadership, and change, Blackwell Publishing, Malden, Massachusetts.         [ Links ]

Ferreira, I.W., 2008a, 'Die ontwikkeling van die menslike bewyssyn: Die postmoderne vraag na God [The development of the human consciousness: The postmodern quest for God]', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #178, 6 pages. DOI: 10.4102/hts.v65i1.178         [ Links ]

Ferreira, I.W., 2008b, 'Die ontwikkeling van die menslike bewyssy: Teorieë oor die ontwikkeling van menslike bewussyn - die ontdekking van die ''misterie van die siel'' [The development of the human consciousness: Theories of the development of human consciousness - discovering the ''mystery of the soul'']', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #179, 7 pages. DOI: 10.4102/hts.v65i1.179         [ Links ]

Ferreira, I.W., 2009, 'Die ontwikkeling van die menslike bewussyn: Ken Wilber se AQAL-teorie [The development of the human consciousness: Ken Wilber's AQAL theory]', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66(1), Art. #180, 8 pages. DOI: 10.4102/hts.v66i1.180         [ Links ]

Keating, T., 1994, Intimacy with God: An introduction to centering prayer, The Crossroads Publishing Company, New York.         [ Links ]

Marquis, A., 2008, The integral intake: A guide to comprehensive idiographic assessment in integral psychotherapy, Routledge, New York.         [ Links ]

Myss, C., 2007, Entering the caste: An inner path to God and your soul, Simon & Schuater, Londen, GB.         [ Links ]

Riso, R. & Hudson, R., 2000, Understanding the Enneagram: The practical guide to personality types, Houghton Mifflin Company, Boston, New York.         [ Links ]

Rohr, R & Ebert, A., 2008, The Enneagram: A Christian perspective, The Crossroad Publishing Company, New York.         [ Links ]

Spong, J.S., 2007, The future of the Christian tradition: The Jesus Seminar, R.J. Miller (red.), Polebridge, Santa Rosa, Kalifornië         [ Links ].

Sturgess, S., 2002, The Yoga book: A practical & spiritual guide to self-realization, Watkins Publishing, Londen.         [ Links ]

Taussig, H., 2006, A new spiritual home: Progressive Christianity at the grass roots, Polebridge Press, Santa Rosa, Kalifornië         [ Links ].

Teasdale, W., 1999, The mystic heart: Discovering a universal spirituality in the world's religions, New World Library, Novato, CA.         [ Links ]

Walsh, R., 1999, Essential spirituality: The 7 central practices to awaken heart and mind, John Wiley & Sons Inc, New York.         [ Links ]

Wilber, K., 2006, Integral spirituality: A startling new role for religion in the modern and postmodern world, Integral Books, Boston/Londen.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Naas Ferreira
Postal address:
Posbus 12402, Elspark 1418, Suid-Afrika
email: naasf@mweb.co.za

Received: 23 Apr. 2009
Accepted: 08 June 2009
Published: 09 Apr. 2010

 

 

Note: Hierdie artikel is 'n verwerking van 'n deel van I.W. Ferreira se MThverhandeling getiteld 'Die relevansie van Ken Wilber se integrale ontwikkelingsteorie vir die pastoraat' onder studieleiding van prof. dr Yolanda Dreyer, voorgelê en aanvaar in Augustus 2008 deur die Departement Praktiese Teologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria.
1. Alle beklemtonings in aanhalings inn hierdie artikel kom in die oorspronklike bron voor.