SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.65 n.1 Pretoria Jan. 2009

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Akute trauma, en Rudolf Otto se godsdiens-psigologiese teorie as middel tot heling

 

Acute trauma, and Rudolf Otto's psychology of religion theory as means for healing

 

 

Annelize Endres; Yolanda Dreyer

Departement Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

Empirical studies confirm that quantitative research is limited as far as the analysis, description and explanation of traumatic experiences are concerned. It is after all virtually impossible to quantify emotions. This article aims to overcome this obstacle by applying Rudolf Otto's theory of psychology of religion, and more specifically his theory on the transformation of fear (tremens) into awe (fascinans), to pastoral care with traumatised persons. Trauma is the internal experience of an external event, and causes fear and alienation. In psychology of religion, fear pertains to alienation from God and fellow believers, whereas awe refers to the emotionally laden response to transcendence. Moving from fear to awe leads to wholeness within a person, and peace in human interactions. Wholeness overcomes alienation, and facilitates respect for God and fellow human beings. Both fear and awe belong to what Otto calls the 'numinous', which is conceptualised in terms of pastoral care in this article.

Keywords: getraumatiseerde jeug; innerlike heelheid; godsdiens-psigologiese teorie; transformasie; pastorale begeleiding


 

 

INLEIDING

Empiriese navorsing dui daarop dat kwantitatiewe ondersoeke betreklik beperk is wat die ontleding, beskrywing en verduideliking van traumatiese ervarings betref. Dit is immers baie moeilik om emosies te kwantifiseer. Hierdie artikel is derhalwe 'n kwalitatiewe ondersoek na getraumatiseerde jeug, en volg 'n multidissiplinêre teoretiese benadering. Aan die hand van Rudolf Otto se godsdiens-psigologiese teorie oor die 'numineuse', gaan dié studie nader in op die pastoraat se rol in heling by getraumatiseerde persone.1

Trauma is die interne ervaring van 'n eksterne gebeurtenis, en veroorsaak emosies soos vrees en vervreemding. Otto se teorie oor hoe om vrees (tremens) met verwondering (fascinans) te vervang dien dus in hierdie artikel as werktuig om getraumatiseerde persone tot heling te begelei. Sowel vrees as verwondering val volgens Otto se teorie onder die numineuse.

Binne die parameters van die godsdiens-psigologie verwys vrees na vervreemding van God en ander mense. Daarenteen is verwondering 'n emosiebelaaide reaksie op die belewing van die transendente. Deur van vrees tot verwondering te vorder, verkry die individu innerlike heelheid, sowel as vrede in menslike wisselwerking. Heelheid oorkom vervreemding, en skep respek vir God en ander mense.

Die fokus van hierdie artikel is dus op die 'religieuse psige'. In die geskiedenis was daar veral vier groot denkers wat op die 'religieuse psige' gekonsentreer het, naamlik die godsdiens-psigoloog William James (1842–1910), die teoloog Rudolf Otto (1869–1937), die fisioloog-psigoloog Carl Gustav Jung (1875–1961), en die ontwikkeling-psigoloog Erik Erikson (1902–1994). Vir die doeleindes van hierdie studie word Rudolf Otto se werk van nader bekyk. Sy omvattende vertolking van godsdiens en godsdienservarings kan met vrug op die pastorale begeleiding van getraumatiseerdes toegepas word om sodanige individue te help om weer heel te word. Otto (1923:22–57) bespreek die nie-rasionele deurtastend sonder om aan die rasionele afbreuk te doen. Aangesien die belewing van trauma 'n nierasionele aangeleentheid is, kan Otto se insigte dus lig daarop werp. Traumatiese ervarings is só ingrypend dat mense dikwels moeite het om woorde te vind om hulle ervaring te beskryf. Daar is eenvoudig te veel intense emosie by betrokke. Hulpverlening ná trauma konsentreer op die persoon se bepaalde ervaring en verwerking van die situasie.

Dié artikel toon hoe die transformasie vanaf tremens (die verskrikking van die trauma) na fascinans (verwondering as reaksie op God) pastoraal aangewend kan word om met die verwerking van akute trauma, en uiteindelik heling, te help. Soos vroeër aangedui, het die ervaring van die numineuse twee gevolge, naamlik vrees, synde diepe respek en afstand, en verwondering. Die toeëiening van die numineuse kan getraumatiseerdes se tremens (vrees) in fascinans (verwondering) omskep sodat hulle begelei kan word om God in hulle trauma te ontmoet.

 

RELEVANSIE

Suid-Afrika het 'n hoë misdaadsyfer, wat impliseer dat groot getalle mense tot slagoffer gemaak en erg getraumatiseer word. Geweld het die land in 'n knelgreep. Statistieke slaag egter soms daarin om dié realiteit te verbloem, te verwater of te verflou. So byvoorbeeld is daar geen statistieke beskikbaar oor hoeveel mense, gesinne en gemeenskappe deur moord, verkragting, kaping of marteling geraak word nie. Statistieke weerspieël ook nie die omvang en diepte van die lyding en ontwrigting wat misdaad veroorsaak nie. Die volgende statistieke toon die misdaadvlakke van die afgelope tien jaar, maar verteenwoordig slegs aangemelde oortredings; hou in gedagte dat nie alle oortredings (veral verkragtings) aangemeld word nie: In Suid-Afrika word tussen 121 en 127 per 100 000 mense daagliks verkrag, terwyl tussen 560 en 570 per 100 000 daagliks die slagoffers van swaar aanrandings, soos kapings, is. Boonop word daar daagliks 64 tot 70 pogings tot moord, en 42 tot 67 moorde per 100 000 mense aangemeld (Instituut vir Sekerheidstudies Jaar n.d.). De Beer (2007:4), 'n inligtingskundige van die Universiteit van Pretoria, wys daarop dat 30 000 mense in die tydperk 2001 tot 2006 gewelddadig vermoor is. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens staan die statistieke op 60 000 aangemelde verkragtings, 300 000 swaar aanrandings, en 22 270 moorde per jaar.

Indekse wat van tyd tot tyd gepubliseer word, skilder 'n ewe kommerwekkende prentjie van geweld en trauma. Een só 'n indeks wat oor vrede handel, plaas Suid-Afrika in die 99e plek uit 120 lande. In dié posisie bevind ons land hom tussen oorloggeteisterde nasies (De Beer 2007:4). Op sy beurt bestempel die Mo Ibrahim Indeks van 28 September 2007 Suid-Afrika as op twee na die onveiligste staat uit die 48 lande suid van die Sahara (De Beer 2007:4). Slagoffers van misdaad vind dit besonder moeilik om die gepaardgaande trauma te verwerk. Kerke is nie altyd genoegsaam betrokke nie, en pastorale hulpverleners weet dikwels nie hoe om slagoffers van traumatiese gebeurtenisse te begelei nie. Voorts worstel talle mense ook met die finansiële, sielkundige en emosionele gevolge van misdaad.

Die hoofdoel van die pastoraat is om mense in staat te stel om sinvol te leef (kyk Clinebell 1966; Oden 1966; Collins 1972; Stone 1994; Watzlawick, Weakland & Fisch 1974; Bandler & Grindler 1979; Capps 1980; Crabb 1985; Bridger & Atkinson 1988; Borg 1995; Louw 1999; Doehring 2006; Graham, Walton & Ward 2005; en Swinton & Mowat 2006). Om hierdie doel te bereik, wil die pastoraat mense tot versoening met God, en tot 'n lewe op grond van die beloftes in die Skrif begelei, sodat gelowiges vanuit die opstandingsperspektief weer sin kan vind in hulle bestaan (Louw 1999:426). In die geval van getraumatiseerde persone kan die pastor Otto se teorie gebruik om voormelde versoening en sinherstel te bewerkstellig.

 

TRAUMA

Omskrywing van trauma

In die omgang word die woord 'trauma' dikwels vir enige ontstellende ervaring gebruik. Trauma verskil egter van 'n alledaagse krisis. Dit verwys bepaald na lewensgevaarlike situasies waarin die individu besonder magteloos voel. In sulke situasies is dood of besering 'n besliste moontlikheid. Traumatiese gebeurtenisse val buite die normale beloop van die lewe (Roos, Du Toit & Du Toit 2002:5). Die Instituut vir Traumatologie beskryf trauma soos volg:

'n Persoon het 'n trauma beleef indien hy of sy blootgestel was aan gebeure wat te make het met sy of haar lewensomstandighede of met sy of haar lewensfase (bv die oorgaan van een lewensfase na 'n ander of omstandighede agv 'n nuwe lewensfase wat die persoon onhanteerbaar vind) en wat tot gevolg het dat daardie persoon se gewone hanteringsmeganismes lamgelê is en ten minste een van die volgende effekte waargeneem kan word: daar is 'n element van gelatenheid. Daar is 'n diep, amper onomkeerbare verandering in 'n basiese lewensiening of oortuiging. Daar is 'n ernstige oorbelading van die mens se normale hanteringmeganismes. Indien 'n mens 'n akuut ontstellende ervaring beleef het, maar dit beantwoord nie aan bogenoemde definisie nie, beleef die persoon 'n krisis.

(Retief 2004:18)

Volgens twee bekende Australiese psigiaters wat in seksuele trauma spesialiseer, Lisa McCann en Laurie Anne Pearlman (1994:6), begin trauma met blootstelling aan 'n hoogs ontstellende gebeurtenis wat die self ontwrig. Net soos die liggaam, kan die psige ook getraumatiseer word. Die woord 'trauma' kom van 'n Griekse woord wat 'wond' beteken. Trauma of verwonding kan op enige vlak van menswees ervaar word – fisiek, emosioneel, psigies, in verhoudings, sowel as geestelik. Omdat ál die dimensies van menswees met mekaar verweef is, spoel trauma op een gebied ook oor na al die ander aspekte van die persoon se lewe (Wink 1986:65). Psigiese trauma gaan oor die verwonding van mense se emosies, hulle gees, hulle wil om te leef, hulle selfbeeld, hulle siening oor die wêreld, en hulle gevoel van veiligheid. Volgens Aphrodite Matasakis (1996; 1998), 'n kliniese koördineerder by die Veterans Outreach Center in Maryland, Amerika, het 'n aanslag op die psige só 'n groot uitwerking op mense dat hulle gewone hanteringsvaardighede en denk- en handelswyses ontoereikend is om die nuwe situasie, wat weens die traumatiese gebeurtenis ontstaan, te hanteer (Matasakis 1996:17).

Akute trauma

Lenore Terr (1988:96–104), psigiater en kundige op die gebied van trauma, onderskei tussen akute en kroniese trauma. 'n Natuurramp, kaping, motorongeluk, plaasaanval, gewapende roof, terroriste-aanval en verkragting is gewoonlik 'n eenmalige traumatiese gebeurtenis. Dit word 'akute trauma' of 'tipe 1-trauma' genoem. Hierdie soort trauma word deur 'n enkele skielike en onverwagse gebeurtenis veroorsaak (Armfield 1994:739–746). Dit is dié soort akute trauma wat as 'n verskriklike gebeurtenis beskryf kan word, omdat dit aan 'n persoon se eie lyf ervaar word.Verwaarlosing, mishandeling en molestering vind gewoonlik herhaaldelik en oor 'n lang tydperk plaas. Dit word 'kroniese trauma' of 'tipe 2-trauma' genoem (Terr 1988:104).

 

RUDOLF OTTO SE GODSDIENS-PSIGOLOGIESE TEORIE

Inleiding

Rudolf Otto (1869–1937) se werk Das Heilige über das Irrationale in der Idee des Gottlichen und sein Verhältnis zum Rationalen (1917) word as een van die toonaangewendste Duitse teologiese werke van die twintigste eeu gereken, en is in twintig tale vertaal. In hierdie werk ondersoek Otto die ooreenkomste tussen godsdienservarings in verskillende godsdienstradisies. Hy konsentreer veral op mistieke ervarings. Die belangrikste algemene kenmerke van godsdienservarings is die emosies van ontsag en verwondering. Vervolgens kyk hierdie studie in meer besonderhede na die kenmerke van godsdienservarings.

A priori-vermoë

Rudolf Otto (1923) is veral deur die Duitse filosoof Immanuel Kant (1724–1804) se begrip van die 'a priori' beїnvloed. Volgens Kant (1952:211) het die a priori met die verkryging van kennis oor die sintuiglike werklikheid te doen. Hy voer 'kennis' of ervaring van die numineuse terug na die gevoel van 'grieseligheid van geeste' ('daemonic dread') in die heel vroegste godsdienste. Hierdie vroeë bewussyn van die numineuse het geleidelik in 'n hoërvlakervaring ontwikkel. Otto (1923:140) sluit by Kant (1952:211) aan wanneer hy aanvoer dat godsdienstige ontwikkeling op hierdie inherente menslike geneigdheid tot godsdienservaring voortbou. Hierdie geneigdheid was volgens Otto altyd ten diepste deel van menswees, maar het geleidelik ontwaak. Die proses van ontwaking het in alle groot godsdienste plaasgevind, maar het in die Christendom 'n hoogtepunt bereik. Die Christendom 'stands out in complete superiority over its sister religions' in hierdie verband (Otto 1923:142). Otto (1923:15) beskou die numineuse as die 'basic factor and basic impulse underlying the entire process of religious evolution'. Hiervolgens het mense 'n a priori-vermoë om die transendente of numineuse te ervaar. Die psige van die mens kan die Gans Andere aanvoel.

Mense se reaksie op trauma is 'n komplekse proses, en elke mens reageer ook anders (McCann & Pearlman 1994:6). Twee mense kan dieselfde traumatiese ervaring hê, maar verskillende reaksies daarop toon (Carlson 1997:25). Volgens McCann en Pearlman (1994:8) bepaal mense se eie betekenisgewing of 'n gebeurtenis vir hulle traumaties is, of nie. Uit Newman en Newman (1999:189) se ondersoeke oor die psigiese en fisieke reaksies op trauma blyk dat wat vir een persoon traumaties is vir 'n ander net 'n moeilike ervaring kan wees.

Hoewel elke psige anders op trauma reageer, het elke psige die inherente vermoë om die numineuse te ervaar. Ook getraumatiseerde persone kan dus die spirituele ervaar. Elke mens is in staat om ontsag en verwondering te ervaar, maar nie almal is ewe ontvanklik daarvoor nie. Die geneigdheid tot 'n numineuse-ervaring kom nie noodwendig in elke individu tot uiting nie.

Ten einde religieuse ervarings te hê, moet daar doelbewus op die emosies van ontsag en verwondering gefokus word. Volgens Otto (1923:20) kan die ervaring van die numineuse nie aangeleer word nie. Die vermoë setel reeds in die suiwer rede ('pure reason') van elke mens se verstand. Hierdie ingebore vermoë om religieuse ervarings te hê veroorsaak dat 'n mens soms net 'n betreklik klein stimulus nodig het om 'n numineuse-bewussyn te wek. Otto som dit soos volg op:

Where the wind of the Spirit blows, there the mere "rational" terms themselves are induced with power to arouse the feeling of the 'non-rational' and become adequate to tune the mood at once to the right tone

(Otto 1923:15)

Otto brei soos volg oor religieuse ervaring uit:

...[b]ecoming aware of the holy is an extraordinary sensation, not a common one and it stretches our idea of the nature of religion beyond ethics and belief to include vivid appreciation of the holy…

(Otto 1923:12)

Hierdie ervaring is die kern van godsdiensbelewing. Die algemene vermoë om die Heilige te kan ervaar, kan nie aan die hand van ander ervarings beskryf word nie. Daarom is dit nodig om vervolgens bepaald op die Heilige te fokus.

'Das Heilige'

Omdat die benaming 'God' nie vir alle godsdienstradisies geld nie, het Otto besluit om die gebruik van dié naam so ver moontlik te vermy. Hy omskryf nie die Heilige nie, maar verduidelik hoe mense die Heilige kan erváár. Volgens Otto (1923:14) kan die idee van die Heilige bespreek maar nie omskryf word nie, want 'n beskrywing sou van beperkte mensgemaakte konsepte gebruik moes maak wat nie aan die Heilige reg kan laat geskied nie (Otto 1923:15). God is 'n werklikheid, maar kan volgens Otto (1923:16) nie voldoende beskryf word nie.

Otto (1923:45) maak dit wél duidelik dat God die Gans Andere is – 'one so separate from all the rest...'. Vir Otto (1923:48) beteken die feit dat God heilig is dat Hy geheel en al anders is as enigiets anders wat bestaan. 'n Ontmoeting met God is 'n ontmoeting met heiligheid. Hierdie idee dat die godheid deur mense ontmoet kan word, bestaan in alle godsdienste. Die bepaald Christelike ervaring word in Jesus Christus gekonkretiseer. In Jesaja 6 is daar volgens Otto (1923:60) blyke van 'n ontmoeting tussen mens en God. God se teenwoordigheid is vir die mens oorweldigend. Selfs engele kon nie God se volle teenwoordigheid verduur nie, maar moes hulle gesigte met hulle vlerke bedek. Voor soveel heiligheid staan die mens moreel bankrot. Otto (1923:61) toon dat Jesaja homself as onheilig ag wanneer hy hom met die heiligheid van God vergelyk.

Wanneer Otto (1923:13) die mens se geestelike ervaring van die Heilige beskryf, maak hy van abstrakte terme gebruik. Otto (1923:14) skep die woorde 'numen' en 'numinous' ('die numineuse') as aanduiding van die Een by wie die mens diep, godsdienstige belewenisse ervaar.

Die numineuse

Die 'mysterium'

Die numineuse wat op 'n geestelike vlak deur die mens ervaar word, is nie 'n natuurlike verskynsel nie; kennis oor die numineuse kan nie empiries verkry word nie. Oor die numineuse sê Otto:

...[It] issues from the deepest foundation of cognitive apprehension that the soul possesses, and though it of course comes into being in and amid sensory data and empirical material of the natural world and cannot anticipate or dispense with those, yet it does not arise out of them, but only by their means

(Otto 1923:113)

Otto (1923:12) gebruik die woord 'numineuse' om die persoonlike ervaring van die geestelike te beskryf. Hy ontleen die woord aan die Latynse numen, wat gewoonlik met 'die teenwoordigheid van 'n goddelike krag' vertaal word. Hy gebruik numen om na God of goddelikheid te verwys. Die numineuse is 'n belangrike konsep in die geskrifte van Carl Jung (1875–1961) en outeur C.S. Lewis (1898–1963). Vir Otto (1923:15) is die numineuse die Heilige (God), maar sonder die gewone morele en rasionele aspekte wat met godsdiens gepaardgaan. Dit is 'n nierasionele, niesensoriese belewenis waarvan die 'hoofobjek' buite die self is. Dit beteken nie dat die numineuse irrasioneel of oneties is nie, maar dat vrae oor rasionaliteit en moraliteit nie ter sake is by die gevoel wat deur só 'n diepgaande belewenis gewek word nie. Die numineuse kan as 'n lens beskou word waardeur die irrasionele aspekte van godsdiens waargeneem word, aangesien die angswekkende misterie ('tremendous mysterium') daarvan nie in die rasionele kategorieë van die denke tot uiting kan kom nie.

Die Engelse woord 'ominous' is nou verwant aan die konsep 'numineuse', en bevat elemente van ontsag, angs, oorweldiging én misterie wat die verstand nie kan peil nie. Numen verwys dus na die twee aspekte misterie en angs. Die numineuse is 'n misterie (mysterium) wat terselfdertyd angswekkend (tremendum) en fassinerend (fascinans) is. Die gevoelens wat 'n ontmoeting met die numineuse ontlok, is angs en ontsag. Otto noem dit 'mysterium tremendum et fascinans' (Otto 1923:55). In die omgangstaal is die numineuse die intense belewenis om 'onwetend te weet' ('unknowingly knowing') (Otto 1923:58). Dit kan nie gesien word nie, en kan 'n mens op enige plek en enige tyd verras – in 'n katedraal, langs 'n waterstroompie, op 'n eensame pad, vroeg in die môre, of met 'n mooi sonsondergang. Die misterie-komponent bestaan op sy beurt uit twee elemente. In die eerste plek verwys dit na 'n raaisel of geheim wat uiteraard nie begryp of verduidelik kan word nie. Mysterium word as die 'wholly other' beleef; dit kan dus nie met enigiets wat die mens al teëgekom het, of ooit sal teëkom, vergelyk word nie (Otto 1923:44). Dit is anders as alle gewone ervarings in dié sin dat dit 'n gevoel van verbasing by 'n mens wek.

Otto (1923:45) som dit as 'n '...blank wonder, an astonishment that strikes us dumb, amazement absolute' op. Getraumatiseerdes wat 'n numineuse ervaring kan beleef, kan verryk voel, ten spyte van hulle trauma. Die mysterium word tweedens ook as 'salig' beleef, en ook hierdie gevoel kan met niks anders vergelyk word nie (Otto 1923:76). 'n Mens kan die numineuse nie in woorde vaspen of met die verstand begryp nie. Die nierasionele kan nie met konsepte en rede benader word nie, want '...mysticism has nothing to do with "reason" and "rationality" ' (Otto 1923:4). Bespreking en redevoering bied geen sleutel tot die numineuse nie, want '...our knowledge has certain irremovable limits' (Otto 1923:4). Die Heilige word net deur middel van gevoelservaring geken.

Ook traumatiese ervarings word buite die rasionele domein beleef. Trauma laat mense dikwels sonder woorde. Getraumatiseerdes kan nie altyd rasioneel begryp wat met hulle gebeur het nie. Die rede daarvoor is dat die menslike brein trauma anders as ander inligting berg.

Die brein en trauma

Die brein laat die mens dink, optree, voel, lag, praat, skep en liefhê. Volgens Stein (2004:813–820), 'n psigo-ontleder wat in die werking van die brein spesialiseer, dien die brein as bemiddelaar tussen ál die eienskappe van die mens – goed én sleg. Die brein se belangrikste funksie is om te voel, waar te neem, te verwerk, te berg, en op inligting van die innerlike en uiterlike omgewing te reageer om sodoende te oorleef (Stein 2004:813–820). Die brein is 'n komplekse stelsel, en bestaan uit onderafdelings wat onderling met mekaar verbind is. Om die afskeiding van breinchemikalieë gedurende trauma, en die uitwerking daarvan op die mens, beter te verstaan, is dit nodig om kortliks die verskillende dele van die brein te bespreek.

Die korteks

Die korteks is die deel van die brein waar komplekse denkprosesse plaasvind, en sluit die frontale en prefrontale korteks in. Die prefrontale korteks reguleer die mens se vermoë om ander se denke en gevoelens te verstaan, en is gevoelig vir stres (Stein 2004:951–959).

Die limbiese stelsel

Die limbiese stelsel bestaan uit die amigdala, hippokampus, die septum en die limbiese korteks. Dit word ook die emosionele brein genoem (Jordaan & Jordaan 1987:146). Hierdie stelsel word gebruik wanneer die numineuse beleef word. Die limbiese stelsel beoordeel 'n gebeurtenis as negatief of positief. Daarna berg die limbiese stelsel dié beoordeling vir wanneer gedragsaanpassings nodig is, of om ander gebeurtenisse in toekomstige situasies met hierdie gebeurtenis te vergelyk. Dit bepaal of 'n gebeurtenis as traumaties beleef sal word, of nie. Kennis van die werking van die limbiese stelsel is noodsaaklik vir 'n pastor wat met getraumatiseerdes werk (Stein 2004:951–959). Twee gedeeltes van die limbiese stelsel is veral van belang wat trauma betref, en word dus hier onder in meer besonderhede bespreek:

Die amigdala

Die amigdala is 'n struktuur wat naby die breinstam geleë is. Die amigdala beoordeel ervarings om die emosionele betekenis daarvan vir die persoon te bepaal. Dit is vir emosionele leer en emosionele geheue verantwoordelik. Trauma veroorsaak dat mense se emosies gedereguleer word (Bremmer & Marmar 1998:76). Die amigdala stuur boodskappe oor die waargenome traumatiese gebeurtenis na die res van die brein, wat die byniere streshormone, soos kortisol en adrenalien, laat afskei wat die brein oorspoel (Bremmer & Marmar 1998:78). Die amigdala stel ook die breinstam van die waargenome gebeurtenis in kennis, waar besonderhede op 'n primitiewer manier geberg word. Die inligting in die breinstam word beskikbaar gestel wanneer 'n herinnering in die vorm van 'n terugflits spontaan of gedurende deurmekaar drome ontstaan (Retief 2004:34). Met aanhoudende stres kan die amigdala in 'n voortdurende toestand van aktiwiteit verkeer, wat tot hiperwaaksame gedrag kan lei (Retief 2004:35).

Die hippokampus

Die hippokampus is die kern van 'n mens se geheue. Dit is die deel van die brein wat by leer en verbale geheue betrokke is, en is besonder gevoelig vir stres (Stein 2004:951–959). Die hippokampus orden inligting logies, handhaaf 'n balans tussen die interne en eksterne wêreld, en sit die afskeiding van hormone aan die gang (Retief 2004:39). Dié deel van die limbiese stelsel beoordeel onverwante gebeure, en vergelyk dit met vorige inligting om enige verband vas te stel. Die hippokampus ontwikkel stadig, en is nie ten volle ontwikkel voor die derde of vierde jaar van 'n mens se lewe nie. Dít sou 'n toestand soos kinderamnesia verklaar. Wanneer dit ten volle ontwikkel is, kan die hippokampus ondervindings kategoriseer en met behulp van bestaande breinskemas verbind. 'n Traumatiese gebeurtenis kan die hippokampus ontwrig (Bremmer & Marmar 1998:76). Gedurende trauma word te veel kortisol afgeskei, wat die hippokampus dermate kan beskadig dat dit nie die traumatiese geheue behoorlik kan kodeer nie. Gevolglik word die persoon se geheue gefragmenteer. 'n Verskeidenheid eksterne en interne stimuli, soos stres en trauma, kan dus die doeltreffendheid van die hippokampus verminder (Retief 2004:39).

Die breinstam

Die breinstam beheer basiese oorlewingsfunksies – 'n mens het geen beheer daaroor nie. Die breinstam reguleer kardiovaskulêre en asemhalingsfunksies, sowel as homeostase. Die veg-, vlug- en vriesreaksie ontstaan in hierdie gedeelte van die brein. Hierdie reaksies kom voor wanneer die liggaam van gevaar of stres bewus word, en voorberei om te veg of te vlug. Gedurende bedreiging word 'n reeks psigologiese reaksies in werking gestel. Adrenalien word afgeskei, wat die hartklop versnel en die bloeddruk verhoog. Só word daar vir die nodige optrede voorberei (Stein 2004:951–959). Terselfdertyd stel die liggaam hormone soos kortisol vry wat die liggaam ook help om op gevaar te reageer. Retief (2004:39) is van mening dat ernstige trauma 'n skadelike kortisolwanbalans in die brein tot gevolg kan hê. 'n Oormaat kortisol kan tot skade in die hippokampus lei, en kan geheueverlies, angs en onbeheerste emosionele uitbarstings veroorsaak. Kortisol en ander breinchemikalieë kan ook die dele van die brein wat aandag en toegeneentheid reguleer, beïnvloed (Retief 2004:39).

Senuweeverbindings

Volgens Jordaan en Jordaan (1987:140) bevat die brein ongeveer tien biljoen senuwees. Een so 'n breinsenuwee kan 'n hele paar duisend verbindings met ander senuwees hê. Dendriete is kort uitsteeksels wat fyn uit die selliggaam vertak. Hierdie fyn vertakkings is die belangrikste strukture vir die ontvangs van inligtingseine. Die neuron het ook 'n lang uitsteeksel wat as die akson bekend staan. Hierdie uitsteeksel voorsien 'n pad waarlangs die inligtingseine, wat deur die dendriete ontvang word, na verskillende dele van die senuweestelsel gaan. Die kontakpunte tussen die aksoneindpunte van een senuwee, en die dendriete van 'n volgende is funksionele eerder as strukturele verbindings, omdat 'n klein opening, die sinaptiese opening, die membraan van die aksoneindpunte en dié van die dendritiese ontvangspunte skei. Die kontak oor hierdie klein opening tussen die aksoneindpunte van een senuwee en die dendritiese ontvangspunte van 'n volgende geskied deur 'n chemiese proses wat 'n sinaps genoem word (Jordaan & Jordaan 1987:146). Die getal sinapse in die brein is na raming ongeveer 10 triljoen.

Elke ondervinding – hetsy 'n goeie een soos 'n ervaring van die numineuse, of 'n slegte een soos verkragting – veroorsaak veranderinge in die brein en die doeltreffendheid van die senuweeverbindings. Die brein is immers ontwerp om in reaksie op herhaalde stimuli te verander. Deur 'n persoon se lewe heen word die brein deur die kombinasie van gene en ervaring gevorm. 'n Traumatiese ondervinding aan die begin van 'n mens se lewe kan 'n meer vormende uitwerking op die dieper strukture van die brein hê, wat die brein later op 'n bepaalde manier op stres laat reageer (Kalat 2006:25).

'n Enkele traumatiese ervaring kan ook 'n volwassene se brein aantas. 'n Afgryslike geveg kan byvoorbeeld die getraumatiseerde herhaaldelik in terugflitse teister (Stein 2004:951–959). 'n Erg traumatiese gebeurtenis, soos 'n tsunami, gewapende roof, moord of verkragting, kan 'n langdurige effek op breindele hê wat by geheue en emosies betrokke is. Stimuli wat vrees en trauma tot gevolg het, veroorsaak verandering in die brein. Hoewel alle ondervindings die brein verander, het nie alle ervarings dieselfde uitwerking op die brein nie. Omdat die brein in die eerste lewensjare baie vinnig ontwikkel en organiseer, kan ervarings veral gedurende hierdie tydperk die brein positief of negatief beïnvloed (Stein 2004:951–959).

Geheue gedurende en ná trauma

Wetenskaplikes is dit eens dat daar vier geheuefases bestaan: die inneem, berging, herroeping en ontsluiting van inligting (kyk Matasakis 1996:151; Stein 2004:951–959). Traumatiese herinneringe word anders as gewone kliniese geheue in die brein geberg. Ondersoeke toon dat traumatiese herinneringe in die limbiese stelsel geberg word wat emosies en sensasies, maar nie taal nie, kan verwerk (Kalat 2006:138). Daarom kan mense wat trauma beleef herinneringe van die woede, verskrikking en hartseer van die trauma hê, maar is dit vir hulle moeilik om dié gevoelens te verwoord.

Inligtingsberging

Nadat die Challenger-ruimtetuig ontplof het, het Lenore Terr (1994:15) die eerste keer vyf weke ná die voorval, en toe weer 14 maande daarna met 153 kinders gepraat. Ál die kinders het by albei geleenthede herinnerings van die gebeurtenis gehad. Terr (1994:9) het ook volwassenes bestudeer wat as kinders herhaaldelik getraumatiseer is, sowel as 'n groep wat slegs voor die ouderdom van 5 getraumatiseer is. Uit die vergelyking van die twee ondersoekgroepe se data het sy bevind dat diegene wat herhaaldelik getraumatiseer is nié so goed onthou soos die wat slegs een keer getraumatiseer is nie (Terr 1994:8–10).

Vir die doeleindes van hierdie ondersoek val die klem op hoe inligting ná akute trauma geberg word. Veral die manier waarop die regter- en linkerbrein inligting berg, is hier van belang. Die wyse waarop mense akute trauma onthou, word deur die linker- en regterbrein se verskillende inligtingsbergingsmetodes geraak. Die linker- en regterhelftes van die brein bestaan langs mekaar; tog gebruik elkeen unieke strategieë om inligting te verwerk en te berg. Die twee breinhelftes weet om die waarheid te sê min van mekaar (kyk Joseph 1992:40; Schacter 1996:65). Die linkerhelfte berg verbaal-logiese inligting, en is aan die willekeurige senuweestelsel verbind. Verbale inligtingsoorheersing kom ná die ouderdom van 7 voor. Op hierdie ouderdom kan die linkerspraakarea inligting met behulp van linguistiese kodes organiseer en kategoriseer. Op sy beurt berg die regterhelfte emosionele inligting. Die onwillekeurige senuweestelsel hou verband met emosie, en is aan die regterbrein gekoppel. Die regterhelfte berg dus inligting onwetend, emosioneel eerder as rasioneel, en sonder enige tydsverband. Die regterbrein lees gesigte, nuanses, melodieë, intuїsies en gevoelens, veral voor die ouderdom van 5. Later verskaf dit beelde en inligting oor motiewe, betekenis en moraal (Joseph 1992:45–47). Die regterhelfte is dominant tot op die ouderdom van 3, wanneer 'n kind begin dink en praat. Tot op die ouderdom van 5 is die kommunikasie tussen die twee hemisfere beperk (Stein 2004:951–959).

Die numineuse word met die regterbrein beleef, omdat emosies daar gesetel is. Uit 'n groep van 20 kinders met 'n gedokumenteerde geskiedenis van vroeë trauma bevind Lenore Terr (1988:96–104) dat nie een van hulle verbaal kan beskryf wat voor die ouderdom van 2½ met hulle gebeur het nie. Die herinnering was egter die hele tyd in hulle geheue geberg. Agtien van die 20 kinders het in hulle gedrag en spel tekens van die traumatiese herinnering getoon. Hulle het bepaalde vrese geopenbaar wat aan die traumatiese gebeure verbind was. Terr gebruik die voorbeeld van 'n kind wat in die eerste twee jaar van sy lewe seksueel deur 'n babawagter gemolesteer is. Op 5 kon hy nie die naam van die babawagter onthou nie. Hy het geen kennis van enige mishandeling gedra nie. Sy spel het egter weerspieël wat die babawagter aan hom gedoen het. Die herinnering aan traumatiese gebeure word dus in die regterbrein geberg, waar dit onbewus bly. Só word die linkerbrein teen oorweldigende linguistiese boodskappe beskerm. Mense wat onder geweldige stres verkeer se feite is nie altyd korrek nie. Hulle kan sekere dinge reg onthou, en ander nie (Terr 1994:27). Hulle onthou byvoorbeeld die een keer dat die traumatiese voorval in die oggend plaasgevind het, maar vertel 'n volgende keer dat dit in die aand was. Ten spyte hiervan bly die verhaal wat getraumatiseerde kinders vertel egter betreklik getrou aan die gebeure wat hulle beleef het.

Die regterbrein berg die traumatiese inligting in nieverbale kodes, soos beelde en drome. Met 'n traumatiese ervaring kan hierdie onbewuste kodes met onbewuste elemente uit 'n individu se vroeë kinderjare, toe die regterbrein dominant was, verbind word. Dít verklaar dalk waarom akute trauma dikwels weer kinderjaretrauma opdiep. Die brein het sy eie taal, en kan soos die natuur en musiek ook deur middel van die regte kodes gelees word. Daarom kan mense wat met getraumatiseerde persone werk, leer om emosies, drome, versprekings, nieverbale gedrag, handelingspatrone en psigosomatiese simptome te lees (kyk Stein 2004:951–959).

In die lig van bogenoemde is dit duidelik dat die numineuse slegs deur middel van metafore en verbande begryp kan word. Selfs dán is die kennis wat 'n mens só verwerf,onvoldoende. Hierdie ervaring verander 'n mens vir altyd. 'n Mens bly nie dieselfde ná 'n ontmoeting met die numineuse nie. Só 'n ontmoeting kan vir 'n getraumatiseerde verandering ten goede meebring. Om te begryp hoe 'n ontmoeting met die numineuse vir die heling van getraumatiseerde persone aangewend kan word, word die twee emosionele uitwerkings van 'n ontmoeting met die numineuse, naamlik vrees (tremens) en verwondering (fascinans), vervolgens bespreek.

'Tremens'

Die gevoel van ontsag verwys na 'n spesiale soort vrees of angs in die teenwoordigheid van 'n misterie. Hierdie vrees is iets anders as om bang te wees. Dit verwys eerder na diepe respek en afstand (Otto 1923:65). C.S. Lewis verduidelik die verskil tussen vrees voor die numineuse, en gewone bang wees soos volg:

Suppose you were told that there was a tiger in the next room: you would know that you were in danger and would probably feel fear. But if you were told there is a ghost in the next room and believed it, you would feel, indeed, what is often called fear, but of a different kind. It would not be based on the knowledge of danger, for no one is primarily afraid of what a ghost may do to him, but of the mere fact that it is a ghost. It is "uncanny" rather than dangerous, and the special kind of fear it excites may be called dread. With the uncanny one has reached the fringes of the Numinous. Now suppose that you were told simply: "There is a mighty spirit in the room" and believed it. Your feelings would then be even less like the mere fear of danger: but the disturbance would be profound. You would feel wonder and a certain shrinking – described as awe, and the object which excites it is the Numinous.

(Lewis 1940:66)

'Fascinans'

Trauma verwys na situasies waarin die individu magteloos en oorweldig voel (Roos, Du Toit & Du Toit 2002:5). Dit bring ook onstabiliteit en 'n verlies aan sekuriteit mee. Volgens Van der Kolk (1984:194–267) word onderstaande simptome ná 'n traumatiese gebeurtenis beleef:

• ontkenning;
• angs;
• woede;
• magteloosheid;
• neerslagtigheid;
• versteurde slaappatrone;
• die gevoel dat alles chaoties is;
• versteurde eetpatrone;
• skuldgevoelens;
• nagmerries en terugflitse;
• hiperwaaksame gedrag;
• denkversteurings; en
• 'n gevoel van waardeloosheid.

Vrees is 'n negatiewe emosie wat mense uiteindelik van die numineuse kan laat wegvlug. 'n Gevoel van verwondering hou 'n mens egter geboei, en kan jou daartoe lei om jou vrees uiteindelik vir algehele verwondering te verruil. Ongelukkig slaag min mense daarin om hulle vrees deur verwondering te vervang, en dus word verwondering selde ervaar. Wanneer dit egter gebeur, is dit oorweldigend. Volgens Otto (1923:65) is dít die ervaring wat in die openingsverse van Jesaja 6 beskryf word. Getraumatiseerde persone kan begelei word om van hulle oorweldigende vrees afstand te doen, en om verwonderd te ervaar hoe God hulle traumaomstandighede betree. In reaksie hierop kan hulle óf oorweldig voel, óf vrede ervaar. Hulle kan God te midde van die verwarring en onstabiliteit ontmoet, en die ervaring van verwondering kan weer hulle vertroue in God herstel. Die ontsag en vrees kan só oorweldigend wees, dat dit voel asof dit die kern van hulle wese binnedring. Dit kan egter ook so sag soos 'n briesie wees wat oor hulle gemoedere waai.

Na afloop van 'n numineuse ervaring kom baie energie vry. Dit voel asof hulle nuwe mense is met nuwe krag (Otto 1923:43). Trauma, aan die ander kant, veroorsaak 'n emosie van wanhoop wat gepaard gaan met 'n passiewe gevoel van hulpeloosheid (Van der Kolk 1987:88). Die energie wat loskom na 'n numineuse ervaring kan die gevoel van depressie na trauma teenwerk. Na 'n trauma-ervaring is mense geneig om hulle doelwitte, vrese en die konflikte wat meegebring is deur vroeëre verhoudings, te herevalueer (Blos 1962:56). Dit is gevolglik 'n goeie tyd om te belê in godservaring, sodat ook hulle verhouding met God herevalueer kan word.

 

BEVINDING

Rudolf Otto (1923:108) reken dat die nierasionele aspekte van die Hervormers se geloofsoortuigings nie genoeg aandag kry nie. Hy stel dit soos volg:

...[t]he Lutheran school has itself not done justice to the numinous side of the Christian idea of God. By the exclusively moral interpretation it gave to the term, it distorted the meaning of "holiness" and "wrath"

(Otto 1923:108).

Otto (1923:112) waarsku teen 'n eensydige siening van die geloofsverhouding, soos byvoorbeeld dat die kern van goddelikheid geheel en al rasioneel weergegee kan word. Hy is van mening dat geloof juis nié ten volle deur rede en rasionele denke tot uiting kan kom nie. Postmoderniste ontdek hulle waarheid nie net deur die rede nie, maar hoofsaaklik deur ervaring en betrokkenheid. Die rede is steeds belangrik, maar moet vir postmoderniste in ervaring geklee wees. Otto se teorie, met die klem op die nie-rasionele, is dus in trauma-studies baie bruikbaar. Die nierasionele mag nie in die geloofservaring deur die rasionele uitgesluit word nie. Nét so mag die nierasionele nie die rasionele uitskuif nie. Ten einde 'n getraumatiseerde tot heling te begelei, behoort sowel die rasionele as die nierasionele elemente aandag te kry.

Getraumatiseerdes wat die numineuse – die vrees én die verwondering – beleef het, begryp weer die betekenis en waarde van die lewe, en hulle godservaring versterk hulle besef van waardes en norme, wat op sy beurt tot heling kan bydra. 'n Betekenisvolle implikasie van Otto se teorie is dat dit nie Gód is wat Hom aan die mens bekend maak nie, maar dat dit die numineuse is wat God bekend maak. Dit was nie Otto se bedoeling om 'n teorie te formuleer oor die 'objek' wat sulke belewenisse veroorsaak nie. Hy wou eerder 'n fenomenologiese beskrywing van die verskynsel gee. Wat in die Bybel bekend gemaak word, is kenbaar, maar is nie ál wat daar is nie. Die Christelike geloof kan God rasioneel omskryf, maar so 'n rasionele omskrywing omsluit nie die volle grootheid van God nie. Veral uit 'n postmoderne hoek sou dit beslis onvoldoende wees.

Dié teorie probeer ook geensins voorgee dat alles skielik ná trauma verklaar- en verstaanbaar word nie. In baie opsigte is dit egter slegs aanvaarding wat nodig is. Ná 'n ervaring van die numineuse besef die getraumatiseerde dat die Christelike lewe nie hoofsaaklik oor geloof – hetsy geloof in God, die Bybel, of die Christelike tradisie – gaan nie. Die Christelike lewe beteken om in 'n persoonlike verhouding te staan met die Een na wie die Bybel en die Christelike tradisie verwys. Slegs in só 'n verhouding met God – 'n lewe coram Deo – kan gesonde, 'heel' mense sinvol lewe. Indien pastors getraumatiseerdes tot só 'n verhouding met God kan begelei, voldoen hulle nie net aan die hoofdoel van die pastoraat nie, maar help hulle die getraumatiseerde om deur die vrees, deur die verwondering, weer vrede te ervaar.

 

LITERATUURVERWYSINGS

Armfield, F., 1994, 'Preventing PTSD resulting from military operations', Military Medicine 159, 739–746.         [ Links ]

Bandler, R. & Grindler, J., 1979, Reframing: Neuro-linguistic programming, Real People Press, Moab.         [ Links ]

Blos, P., 1962, On adolescence, Free Press, New York.         [ Links ]

Borg, M., 1995, The heart of Christianity, HarperSanFrancisco, San Francisco.         [ Links ]

Bremmer, J.D. & Marmar, C., 1998, Trauma, memory and dissociation, APA Press, Washington DC.         [ Links ]

Bridger, F. & Atkinson, D., 1988, Counseling in context: Developing a theological framework, Redwood Books, Londen.         [ Links ]

Capps, D., 1980, Pastoral counseling and preaching: A quest for an integrated ministry, Fortress Press, Minneapolis.         [ Links ]

Carlson, E.B., 1997, Trauma assessments, Guilford Press, New York.         [ Links ]

Clinebell, H.J., 1966, Basic types of pastoral counseling, Abingdon, Nashville.         [ Links ]

Collins, G.R., 1972, Effective counseling, Word Books, Dallas.         [ Links ]

Crabb, L.J., 1985, Effective biblical counseling, Zondervan, Grand Rapids.         [ Links ]

De Beer, C.S., 2007, 'Filosofiese besinning oor geweld: Uitdagings aan informatiseringstrategieë', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 47(4), 4–7.         [ Links ]

Doehring, C., 2006, The practice of pastoral care, John Knox Press, Louisville.         [ Links ]

Endres, A. & Dreyer, Y., 2009, 'Die pastoraat en jeugtrauma, die "sondebokmodel", en Jesus as rolmodel', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #196, 6 pages. DOI: 10.4102/hts.v65i1.196         [ Links ]

Erikson, E., 1968, Identity, growth and crisis, Faber, Londen.         [ Links ]

Graham, E., Walton, H. & Ward, F., 2005, Theological reflection methods, SCM Press, Londen.         [ Links ]

Instituut vir Sekerheidstudies n.d., SAPS Crime Statistics 1994–2004 [Intyds], besigtig n.d., by http://www.iss.co.za/CJM/statgraphs/index.htm.         [ Links ]

Jordaan, W. & Jordaan, J., 1987, Mens in konteks, Lexikon Uitgewers, Isando.         [ Links ]

Joseph, R., 1992, The right brain and unconscious: Discovering the stranger within, Plenum Press, New York.         [ Links ]

Jung, C.G., 1933, Modern man in search of a soul, Harvest, New York.         [ Links ]

Kalat, J.W., 2006, Biological psychology, Wadsworth, Belmont.         [ Links ]

Kant, I., 1952, The critique of judgement, vertl J.C. Meredith, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Lewis, C.S., 1940, The problem of pain, HarperCollins, New York.         [ Links ]

Louw, D.J., 1999, Pastoraat as vertolking en ontmoeting, RGN-Uitgewery, Pretoria.         [ Links ]

Matasakis, A., 1996, I can't get over it, New Harbinger Publications, New York.         [ Links ]

Matasakis, A.,1998, Post-traumatic Stress Disorder: A complete treatment guide, New Harbinger Press, New York.         [ Links ]

McCann, L. & Pearlman, L.A., 1994, Psychological trauma and the adult survivor: Theory, therapy and transformation, Brunner, New York.         [ Links ]

Newman, B.M. & Newman, P.R., 1999, Development through life: A psychosocial approach, Wadsworth, Belmont.         [ Links ]

Oden, T.C., 1966, Kerugma and counseling, Westminster, Philadelphia.         [ Links ]

Otto, R., 1923, The idea of the holy, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Retief, Y., 2004, Genesing vir trauma in die Suid-Afrikaanse konteks, Struik Christelike Boeke, Paarl.         [ Links ]

Roos, V., Du Toit, R.S. & Du Toit, M., 2002, A counselor's guide in dealing with trauma, death and bereavement, Universiteit van Pretoria, Pretoria.         [ Links ]

Schacter, D.L., 1996, Searching for memory: The brain, the mind and the past, Basic Books, New York.         [ Links ]

Stein, M.B., 2004, Hippocampal volume in women victimized by childhood sexual abuse', Psychol Medicine 27, 951–959.         [ Links ]

Stone, H., 1994, Brief pastoral counseling, Fortress, Minneapolis.         [ Links ]

Suid-Afrikaanse Polisiediens n.d., Crime statistics [Intyds], besigtig n.d., by http://www.saps.gov.za/statistics/reports/crimestats/2004/crime_stats.htm.         [ Links ]

Swinton, J. & Mowat, H., 2006, Practical theology and qualitative research, SCM, Aberdeen.         [ Links ]

Terr, L.,1988, 'What happens to early memories of trauma?, A study of twenty children under age five at the time of documented traumatic events', Journal of the American Academy of Child and Adolescent Psychiatry 7, 96–114.         [ Links ]

Terr, L.,1994, Unchained memories, Basic Books, New York.         [ Links ]

Van der Kolk, B.A., 1984, 'Nightmares and trauma', American Journal of Psychiatry 141, 187–190.         [ Links ]

Van der Kolk, B.A., 1987, The psychological consequences of overwhelming life experiences: Psychological trauma, American Psychiatric Press, Washington DC.         [ Links ]

Watzlawick, P., Weakland, J. & Fisch, R., 1974, Change: Principles of problem formation and problem resolution, Norton, New York.         [ Links ]

Wink, W., 1986, Unmasking the powers, Fortress, Philadelphia.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Yolanda Dreyer
e-mail: yolanda.dreyer@up.ac.za
Departement Praktiese Teologie
Universiteit van Pretoria
Lynnwoodweg, Hatfield 0083, Suid-Afrika

Received: 25 Feb. 2009
Accepted: 17 June 2009
Published: 20 Aug. 2009

 

 

DOI: 10.4102/hts.v65i1.295
This article is available at: http://www.hts.org.za
Nota: Hierdie artikel is een van twee wat spruit uit die PhD-proefskrif van Annelize Endres onder leiding van Prof. dr Yolanda Dreyer, voorgelê en aanvaar in die Departement Praktiese Teologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria (2009).
1. In 'n vorige artikel is spesifiek aandag gegee aan die pastoraat met getraumatiseerde persone (kyk Endres & Dreyer 2009). In hierdie artikel word op getraumatiseerde persone in die algemeen gefokus.