SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.65 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.65 no.1 Pretoria  2009

 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die metafoor 'saam met Christus gekruisig' in kultuurhistoriese verband

 

The metaphor 'being crucified with Christ' in sociohistorical context

 

 

Japie P. Malan

Skool vir Bybelwetenskappe & Antieke Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus, Suid-Afrika

Correspondence to

 

 


ABSTRACT

Crucifixion is a concept that is far removed from the experience and understanding of the 21st-century post-modern man. To understand the power of the message of the cross, one first has to determine what the meaning of crucifixion was to the person in antiquity. The relevant facts about the cross and crucifixion were intertwined with social and political realities of the time. This article endeavours to construct a valid and probable sociohistorical context for the metaphor χριστŵ συνεσταύρωµαι ('I am being crucified with Christ'). The relevant terminology as well as the practice of crucifixion in ancient nations also receive attention. Possible differences in the shape of the cross and crucifixion procedures are being debated. The article also tries to conceive of the shame and rejection the condemned had to endure. The sociohistorical implications of the preposition 'with' will be discussed to indicate its meaning to the person from ancient times. What would such a person have understood and experienced when told that he had to be crucified with Christ? To any individual from that social and historical context such a statement would have immediately conjured up a clear picture of the price that was to be paid. It would have meant the renunciation of everything that was dear and essential in the life of that person; rejection of family and friends; inhuman pain, both physically and emotionally, as well as the knowledge that the decision was irrevocable.

Keywords: God; kruisiging; kruisingspraktyk; kruisdood; kruis


 

 

INLEIDING

Die konsep van kruisiging val ver buite die verwysingsraamwerk van die 21e-eeuse mens. Christene leef vandag in 'n wêreld waar die kruis 'n mooi versiering om die nek of teen 'n muur is. Begryp hulle enigsins nog hoekom die boodskap van die kruis vir sommige na dwaasheid lyk [ 1 Kor 1:18 (Bybel 1953)] – dwaasheid om die Skepper God met iemand so vernederd en van alle waardigheid ontdaan, soos die gekruisigde gelyk te stel? Volgens Hengel (1977:1) was dit vir die Romeine 'n aanstoot om Christus as God te ag, omdat Hy as misdadiger aan 'n kruis vasgespyker is. Hy dui verder daarop dat van die kerkvaders selfs die skande van die kruis ontken het en dat dít 'n groot rol in die Dosetisme kon gespeel het (1977:3). Eweneens verstaan baie Christene vandag nie meer wat dit beteken om saam met Christus gekruisig te wees nie. Soos destyds, word daar steeds weggedeins van die skande om jou geheel en al met die Here Jesus Christus te vereenselwig.

Die grondrede vir hierdie artikel is om 'n geldige konstruk van die waarskynlike kultuurhistoriese verband van die metafoor 'saam met Christus gekruisig' te maak1. Bepaald in die lig van dié kultuurhistoriese verband, poog die artikel om uiteindelik 'n beter begrip van Paulus se gebruik van die metafoor in Romeine 6:6 () en Galasiërs 2:19 () teweeg te bring.

Paulus plaas hier twee sake langs mekaar wat skok, naamlik 'ek' en 'saam met Christus gekruisig.' Die uitdrukking beteken egter nie dat die Christen fisies gekruisig word nie. Dit dui eerder op twee sake wat met mekaar vergelyk word sonder dat daar 'n woord is wat vergelyking aandui. Daarom word die frase as 'n metafoor hanteer.2 Dit is onmoontlik om ten volle aan die metafoor reg te laat geskied sonder om aan Christus se fisiese kruisdood aandag te gee. Eweneens is dit onmoontlik om aan die fisiese kruisdood te dink asof dit die volle betekenis van die metafoor kan weergee (Morris 1966:14).

Dié navorsing handel oor die terminologie van die fisiese kruis wat in die kruisiging gebruik is, die vorm van die kruis, en die kruisingsgebruik as teregstellingsmedium in die Antieke Wêreld en ook Nuwe-Testamentiese tye. Die voorsetselfrase 'saam met' word ook in kultuurhistoriese verband nagevors om die implikasie te bepaal vir iemand wat saam met 'n ander persoon tereggestel is. Die resultate van die navorsing sal verreken word om die krag van die boodskap 'saam met Christus gekruisig' te verstaan. Die feite gaan nie net as agtergrond weergegee word nie, maar ook as konteks van die gebeure; met ander woorde, die gebeure word verweef met die sosiale en politieke werklikhede van daardie era aangebied.3 Die kruis was dus deel van 'n dinamiese samelewing waartoe onder andere Christene behoort het. Dít het sekere implikasies vir die Christen van vandag.

 

KRUIS EN KRUISIGING

Terminologie

Kruisiging dui op die vasspyker of vasbind van 'n lewende (of soms ook 'n gestorwene) aan 'n kruis, 'n regop paal ( of ) of 'n kruishout ().4 In die klassieke en sekulêre Griekse literatuur word ('paal') in verskeie kontekste en betekenismoontlikhede, onder andere as heining, fondasie of palissade, gebruik. Daarom kan beteken om 'n paal in te slaan of 'n palissade op te rig (Brandenburger 1980:391). Wanneer dit met straf of teregstelling in verband gebring word, het die werkwoordelike gebruik van die term egter 'n meer spesifieke betekenis. Die het later 'n dwarsbalk (soos die Latynse patibulum) bygekry wat op die skouers van die kruiseling gelê is. Die is ook later van tyd as martelings- en teregstellingsinstrument vir veroordeelde misdadigers gebruik (Schneider 1979:572).

Die werkwoord 'kruisig' () word baie keer saamgesteld gebruik, soos ('ophang', 'deurboor'), wat gewoonlik dieselfde beteken as en ('ophang', 'deursteek'). Hierdie terme, wat almal na die kruisigingshandelinge verwys, het waarskynlik altyd die bybetekenis van skande en afskrikking saamgedra.

Die Septuagint (LXX) gebruik nooit die selfstandige naamwoord nie. Die werkwoord kom slegs in Ester 7:9 (vir die Hebreeuse talah), Ester 8:12 ('n LXX-byvoeging) en Klaagliedere 5:13 voor. Die uitdrukking 'laat hy daarop gekruisig word' in Ester 7:9 word dadelik opgevolg deur 'hy is gehang', met verwysing na Haman wat aan die galg opgehang is. Ons kan aanvaar dat Klaagliedere 5:13 na 'n lewende persoon verwys wat aan die boom/kruishout opgehang is (). Die LXX-weergawe van Josua 8:29 wys dat die vertaler waarskynlik aan kruisiging gedink het; tog vermy hy die woorde en . Hy praat van ('hang aan 'n boom/kruishout') en voeg ook ('die tweevoudige boom/kruishout') by. Dit kan as 'n verwysing na die hang aan 'n kruis verstaan word. Dit kan egter ook bloot na 'n galg verwys (Brandenburger 1980:394). Uit die LXX-vertaling blyk dit dus dat die hellenistiese Jode van die kruisigingsgebruik in die Weste bewus was.

Kruisigingsgewoontes

Die presiese tegniese vorm en aard van die teregstelling blyk nie vanself uit die woorde en nie. Om die aard van die kruisiging te bepaal, moet die landstreek waarin en die owerheid waaronder dit plaasvind, in ag geneem word. Daarom word die kruisingsgebruik onder die verskillende volke in die Antieke Wêreld vervolgens kortliks bespreek.

Kruisiging onder die nie-Romeine

Die Perse was die eerste om kruisiging as 'n vorm van teregstelling te begin gebruik. Hulle het dit waarskynlik gedoen om nie die aarde, wat volgens hulle aan Ormuzd gewy was, met die liggaam van die tereggestelde persoon te ontheilig nie (Schneider 1979:573). Darius (530– 486 vC) het byvoorbeeld 3,000 inwoners van Babilonië gekruisig. Verwysings na dergelike kruisigings onder die Indiërs, Asiërs, Skitiërs, Tauriërs en ander volke kom ook voor (O'Collins 1992:1207). In die Griekse wêreld is die veroordeeldes op 'n plat bord vasgespyker, wat baie aan kruisiging herinner. Alexander die Grote (356– 323 vC) het dikwels van hierdie metode gebruik gemaak, soos die keer toe hy 2,000 oorlewendes van Tirus laat kruisig het (O'Collins 1992:1207). Alexander die Grote se opvolgers het by verskeie geleenthede opstande onderdruk deur van die opstandelinge te laat kruisig. Onder Antiochus Epifanus IV is mense wat aan die Joodse wet getrou gebly het in 267 vC in Judea gekruisig.

Gedurende die voor-Romeinse tydperk het die Griekssprekende Ooste kruisiging in oorlogsverband gebruik. Met die aanbreek van die Romeinse tydperk is kruisiging ook vir die teregstelling van slawe en gewelddadige misdadigers aangewend.

Kruisiging in die Ou-Testamentiese tyd

Die Ou Testament bevat aanduidings van teregstelling op die Oosterse manier, naamlik deur onthoofding. Die lyk is dan met 'n skerp paal deurboor, waarna die paal regop in die grond geplant is (Brandenburger 1980:393). Dít het met Saul gebeur nadat Israel deur die Filistyne oorwin is (1 Sam 31:9– 10) en was ook die ongelukkige lot van die bakker in die droom wat Josef uitgelê het (Gen 40:18– 19). Darius dreig ook dat elkeen wat 'n bevel van die koning verontagsaam, met 'n balk uit sy huis deurboor sal word (Esra 6:11).

Die lyk van die gekruisigde, deurboorde persoon mag volgens Ou-Testamentiese gebruik nie oornag aan die kruis gebly het nie, want dit sou die land onrein maak (Jos 8:29; 10:26).5 Die Ou Testament en die Joodse strafreg maak geen voorsiening vir kruisiging/hang aan 'n paal om'n misdadiger te martel of tereg te stel nie (Lane 1979:562). Dit is alleenlik gebruik om die oortreder te verneder, en aan die gemeenskap te toon dat die veroordeeldes deur God vervloek is (Deut 21:22– 23). Dít verklaar dan waarom die leiers van die Jode en die skare vra dat Jesus gekruisig moet word sodat Hy sy laaste asem aan die kruis as 'n 'vervloekte' van God kan uitblaas (Gal 3:13).

Later kom die kruisingspraktyk wél onder die Jode voor. In sy ampstermyn van 103 tot 76 vC, het die hoëpriester Alexander Jannes 800 Fariseërs gekruisig, en hulle vroue en kinders voor hulle oë doodgemaak terwyl hulle aan die kruis hang (Whiston 1991, Ant. 13.380– 83). Hierdie vorm van teregstelling is egter ernstig veroordeel, en was duidelik vir die Jode ‚n baie ongewone en onaanvaarbare gebruik (1:7; kyk Whiston 1991, Ant. 11, 261, 266v; 17, 295; 20, 102, 129, 161; Whiston1991. War 5, 449vv).

Deuteronomium 21:22– 236 is later op dié toegepas wat deur die praktyk van kruisiging gesterf het, soos uit die pesher van Nahum (gevind in Qumran-grot 4) blyk. Die tersaaklike dele word in fragmente 3– 4, kolom I, reëls 1– 11, en veral reëls 7– 8 gevind (Fitzmyer 1998:129). Dit word ook in die Qumran-/Dooie See-rol 11Q Temple 64:6– 13 aangetref, wat bostaande Skrifgedeelte met kruisiging verbind en waaruit blyk dat die Esseners waarskynlik ernstige oortredings in hulle gemeenskap deur dié metode gestraf het. In die rabbynse bronne word die Deuteronomium-skrifgedeelte as basis geneem en verder omskryf; dit het kruisiging ingesluit (Fitzmyer 1998:138).7 Die rabbyne het die hang van 'n godslasteraar aan 'n paal as 'n blote wetlike formaliteit gesien nadat die persoon gestenig is. Ná die stenigingsproses sou iemand die gestenigde persoon net aan die paal vasbind, en ander sou hom dadelik weer losmaak (Schneider 1979:574). Vanaf die middel van die eerste eeu voor Christus is die mag om die doodstraf op te lê vanaf die Sanhedrin na die verteenwoordiger van Rome verskuif.

Skrywers uit daardie era se bespreking van die kruisiging wys dat die Jode dié praktyk, wat saam met die Romeine gekom het, met afkeer bejeën het. Kruisiging is dus nie wetlik deur die Jode beoefen nie, en ook nie as 'n vorm van straf aangemoedig nie (Brandenburger 1980:394).

Kruisiging onder die Romeine

Sommige skrywers uit die Antieke Wêreld beskryf kruisiging as 'n barbaarse daad. Ander sê dit is wreed, maar aanvaar dit as 'n manier om die laer klasse van die gemeenskap en slawe in toom te hou en só openbare orde te handhaaf (Lane 1979:561). Watts, (1958) noem kruisiging crudelissimum taeterrimumque supplicium (V, 64, 165) ('die verskriklikste en wreedste teregstelling') en servitutis extremum summumque supplicium (V, 66, 169) ('die mees verregaande wyse van teregstelling'). Whiston (1991: War 7.203), wat kruisiging self aanskou het, sê dat dit die ('ellendigste dood') is wat 'n mens kan sterf.

Die intensiteitsorde van die metodes van teregstelling was onthoofding (decollatio), verbranding (crematio) en dan die kruisdood (crux) as die ergste vorm. Dit het as die drie summa supplicia ('die drie uiterste vorme van straf') bekend gestaan (Hengel 1977:33). Soms is slagoffers in plaas van onthoofding vir die wilde diere gegooi (bestiis obici). Kruisiging was egter ‚n eenvoudiger metode van teregstelling, omdat wilde diere en ‚n arena nie nodig was nie. Dit was ook ‚n doeltreffende afskrikmiddel vir voornemende misdadigers. In die tyd van Kaligula (37– 41 nC), onder die goewerneur Flaccus, is Jode vir die vermaak van diegene in die amfiteater in Aleksandrië gepynig en gekruisig (O'Collins 1992:1207). Gewoonlik is Romeinse burgers, veral dié van die hoër klas, nie gekruisig nie, wat ook al die misdaad waaraan hulle hulle skuldig gemaak het (Siede 1980:390; kyk ook O'Collins 1992:1207 vir ‚n paar voorbeelde van uitsonderings). Die dood aan die kruis is meestal vir uitlanders, muiters, gewelddadige rowers en mense van die laer stand, veral slawe, gehou.8 Watts (1958) het gesê dat net die noem van die woord 'kruis' vir ‚n gerespekteerde Romeinse burger onaanvaarbaar was.9 Die veroordeeldes is dikwels naby die misdaadtoneel gekruisig, en verkieslik langs ‚n besige pad of kruising. Sodoende het dit veel meer impak as afskrikmiddel gehad (Schneider 1979:574). Skrywers uit die Antieke Wêreld gee nie ‚n uitvoerige beskrywing van dié wreedaardige vorm van teregstelling nie en daarom bly baie vrae daaroor onbeantwoord.10

Die Romeine – en nooit die Grieke nie – het kruisiging ook metafories gebruik (Hengel 1977:68). Basore (1928– 1935) vergelyk begeertes (cupiditates) met cruces, in quos unusquisque uestrum clauos suos ipse adigit ('kruise waarin elkeen van julle sy eie spykers slaan'); stipitibus singulis pendent ('almal hang aan hulle eie kruise') ad supplicium acti ('asof hulle tot straf gebring word'). Verder verklaar hy: Quot cupiditatibus tot crucibus distrahunter ('Hulle word uitmekaar geskeur deur baie begeertes soos deur kruise') (Dialogue 7, De vita beata 19.3). Die kruisigingsbeeld het egter nog nooit 'n positiewe konnotasie gehad nie en is wyd gebruik om aan te dui dat elkeen sy eie lot moet dra. Selfs metafories gebruik, is dit as 'n beeld beskou waarin die grusaamheid 'n onvergeetlike werklikheid was (Hengel 1977:31).

Kruisiging

Die vorm van die kruis

Die kruis kon fisies die vorm van 'n paal, 'n T (crux commissa) of 'n + (crux immissa) hê (Louw & Nida 1988b:57).11 Die hoofbronne van dieselfde tyd as die Nuwe Testament gee nie duidelik omskrewe aanduidings van hoe die kruis presies gelyk het nie. Die vorm van die kruis kan slegs afgelei word. Die gebruik van die Romeine was dat 'n plakkaat () voor die veroordeelde uitgedra word, of om sy nek gehang is, waarop die klag teen hom uitgestippel is. Die veroordeelde is op hierdie manier selfs verder aan die spot van die skare onderwerp. Hierdie bord is dan bo-aan die kruis vasgemaak (Schnackenburg 1982:271).12 Die feit dat die bord () bo-aan die kruis nie altyd gebruik is nie, beteken nie noodwendig dat die kruis in sulke gevalle die crux immissa was nie. Tog is dit waarskynlik die geval (Hendriksen 1976:648).

Kruisigingsmetode

Daar was geen voorgeskrewe metode waarvolgens die kruisiging uitgevoer moes word nie (Green 1993:198). Die metode het van die sadistiese ondernemingsgees van die laksmanne wat die teregstelling moes uitvoer, afgehang. Tog kan die tipiese prosedure taamlik akkuraat gekonstrueer word:

  • Eerstens was kruisiging vir iemand bedoel wat deur die hof veroordeel is. In tye van oorlog kon die verhoor ook op die kruisingsplek plaasvind. As die kruisiging op'n ander plek as die verhoor plaasgevind het, het die veroordeelde sy kruis, waarskynlik net die dwarsbalk (patibulum), self na die plek van kruisiging gedra.13 Diegene in die Ou-Testamentiese tyd (Lev 24:14; Num 15:35; 1 Kon 21:13), die Jode (Hand 7:58; Joh 19:20) en die Romeine (Lane 1979:563) het die gebruik gehad om die teregstellings buite die stad te hou.

  • Tweedens is die veroordeelde se klere uitgetrek – hy is kaal tereggestel. Die Jode het egter bepaal dat niemand heeltemal kaal tereggestel mag word nie, en het met die steniging toegelaat dat die persoon 'n heupskort dra. Of die Romeine die Jode se voorkeur oor die saak in ag geneem het, is nie bekend nie (Lane 1979:566). Die Romeinse wet het bepaal dat die laksmanne die klere en kleiner besittings van die veroordeelde kon kry.

  • Derdens is die veroordeelde by die plek van kruisiging gegesel. Dit is as 'n belangrike oorgang tussen die verhoor en die kruisiging beskou (Geldenhuys 1979:599).14

  • Vierdens is die veroordeelde aan die kruis vasgemaak/vasgespyker en só gekruisig. Hier het die tradisie gegeld dat vroue uit Jerusalem 'n dwelmdrankie aan die veroordeeldes gegee het voordat hulle gekruisig is om die kruiselinge die pyn te help verduur. Die tradisie is waarskynlik op Spreuke 31:6– 715 gegrond.16 Die drankie was moontlik wyn gemeng met mirre.

Fisiese oprigting van die kruis

Daar was twee moontlike maniere waarop die kruis opgerig is:

  • Die vertikale en die horisontale balk van die kruis is as 'n eenheid hanteer. Op die plek van die teregstelling is die veroordeelde op die horisontale kruis laat lê en daaraan vasgebind of vasgespyker. Daarna is die kruis opgelig en in die gat vir die voetstuk van die paal staangemaak. Die vertikale paal is met spye in die gat vasgekap om dit stewig te laat staan.

  • Die ander manier was om die paal voor die teregstelling reeds in die grond te plant.17 Die veroordeelde word aan die dwarsbalk vasgebind of vasgespyker en dan opgehys, waarna die horisontale balk aan die vertikale balk vasgemaak word (Brown 1982:900). Daar was 'n klein sitblokkie van hout (sedicula) ongeveer in die middel van die vertikale paal wat die hangende liggaam ondersteun het (Van der Walt 1988:121). Die kruiseling se voete is aan die vertikale balk vasgemaak of vasgespyker. In die klassieke weergawes kry ons geen aanduiding of bewys van 'n voetrus op die vertikale paal nie (Schneider 1979:573).

Die stelsel waarin die vertikale paal vooraf reeds in die grond geplant was, het dit 'n heelwat eenvoudiger kruisigingsmetode gemaak. Die dra van die dwarsbalk deur die veroordeelde het dalk gemaak dat die crux immissa die algemener praktyk was.

Die argeologiese getuienis van die beendere van 'n kruiseling wat in huis 4, grafkelder 1 by Giv'at ha-Mivtar gevind is, hou waarskynlik geen verband met die kruisiging van Jesus nie.18 Dit bly egter 'n waardevolle stuk getuienis uit die eerste eeu ná Christus van Palestynse teregstellings deur middel van kruisiging. Die bewyse van die praktyk van kruisiging is nie meer net tot buite-Bybelse literêre bronne beperk nie, maar die praktyk kan nou ook argeologies gestaaf word (Fitzmyer 1998:129).

Die hoogte van die kruis

Die kruis was waarskynlik nie veel hoër as 'n man se lengte nie. Indien die veroordelaars wou hê dat die veroordeelde sigbaarder moes wees, is die kruis hoër gemaak (Lane 1979:565). Jesus se kruis was waarskynlik 'n bietjie hoër gewees, omdat die soldaat wat die asyn19 by sy mond wou bring 'n riet nodig gehad het om dit te kon doen (Mark 15:36).

Die dood aan die kruis

Die doel van die kruis was om die slagoffer aan die grootste mate van pyn, skande en verwerping te onderwerp (Hengel 1977:22). In die kruisigingsproses is geen lewensnoodsaaklike organe direk beskadig nie en daarom het die dood stadig en eers ná geweldige lyding ingetree. In die meeste gevalle het bloedverlies, wondontsteking, bloedvergiftiging, wondskeure weens die gewig van die kruiseling se liggaam, spierkrampe, gewrigbreuke, dreigende orgaanversaking, asemnood, vertraagde bloedsomloop, blootstelling aan die elemente (son, wind en weer) en 'n ontsettende dors mettertyd die kruiseling se dood veroorsaak (Van der Walt 1988:119). Ten einde die dood te bespoedig, is die bene van die kruiseling later gebreek (kyk Joh 19:31– 33).

Die liggaam ná die kruisiging

Die liggaam is dikwels aan die kruis gelos om as waarskuwing vir die mense te dien, en het dus later kos vir roofdiere en -voëls geword.20 Aangesien die slagoffers baie keer nie begrawe is nie, het dit die skande en vernedering vererger; om nie begrawe te word nie is immers in die ou tyd as 'n groot oneer beskou (Hengel 1977:87). Daar is ook bewyse dat die liggaam soms aan die familie gegee is – hieroor het die landdros beslis (Brandenburger 1980:393). Kruisiging as teregstellingsmetode is later deur Konstantyn die Grote (wat in die jaar 337 gesterf het) beëindig (Schneider 1979:574).

Die skande van die kruis

Die kruis het die veroordeelde van alle menswaardigheid ontneem. Dit is daarom vir die laagste klasse van die samelewing en die ergste kriminele oortreders gehou (verwys na die paragraaf Kruisiging onder die Romeine aangedui in die teks). Die rabbi's het dit selfs met Deuteronomium 21:22– 23 verbind, waar die kruiseling deur God vervloek is. Ná die veroordeling, terwyl die veroordeelde sy kruis en die plakkaat () om sy nek dra, is hy deur die mense gehoon en bespot. Die veroordeelde is uit die stad geneem, langs die besigste paaie en verby kruispaaie, na die plek waar daar met die stad se vullis weggedoen is, sodat soveel moontlik mense hom kon sien, kon bespot en belaglik kon maak. Sonder klere, as't ware ten toon gestel, vir almal om na te kyk en voor te lag, het die kruiseling daar gehang. Sy oordromme wil naderhand bars en sy oë wil ingee, maar tog gee dié organe steeds die spot en die hoon meganies na die brein deur (Van der Walt 1988:119). Aan die kruis was die veroordeelde hulpeloos vasgespyker, met die seker vooruitsig van die dood, en sonder enige moontlikheid van redding of begenadiging. Die dood kon genadiglik binne 'n paar uur intree, maar soms selfs eers ná twee of drie dae van intense lyding.

Kruisiging in die Nuwe Testament

Die werkwoord word gewoonlik in die Nuwe Testament vir kruisiging gebruik. Vir die kruis van Jesus word (en nooit nie) deurentyd gebruik. Die woorde ('kruis'), en ('kruisig'), en ('saam kruisig') kom hoofsaaklik in twee tekstuele verbande voor:

  • Eerstens kom dit in die narratiewe oor die kruisiging van Jesus voor (Mark 15:1– 47; Matt 27:1, 11– 61; Luk 23:1– 56; Joh 18:28– 19:24). Hierby hoort ook Matteus 20:19 (die verwysing na die kruisiging in Jesus se voorspelling van sy lyding); Matteus 26:2 (verdere voorspellings van die kruisiging); Lukas 24:20; Handelinge 2:36 en 4:10 (stellings oor die Jode se aandeel aan die kruisiging) en Openbaring 11:8 (die vergelyking van " die groot stad ... waar [ die] Here ... gekruisig is" met Sodom en Egipte).

  • Tweedens kom dit ongeveer 20 keer in Paulus se briewe voor.21 Hierby kan as gevolg van hulle inhoud ook die volgende nie-Pauliniese gedeeltes gevoeg word: Hebreërs 6:6, 12:2, en die sinoptiese opdragte om jou kruis op te neem en te dra (Mark 8:34; Matt 10:38, Matt 16:24; Luk 9:23; Luk 14:27).22 Paulus was die vroegste skrywer wat na die kruis verwys het sonder om aan die fisiese besonderhede van die gebeure aandag te gee. Dit beteken egter nie dat die historiese gebeure minder belangrik geword het of dat die teologiese konsep die historiese vervang nie. Vir Paulus kom die teologiese saam met en bly verbonde aan die historiese gebeure – die verlossingsgeskiedenis waarna hy verwys (Ellis 1974:69). Die kruis en die kruisiging van Jesus is en bly die hart van die Christelike geloof (Fitzmyer 1998:125); tog is dit 'n aanstoot vir baie (Hengel 1977:89).

'n Gekruisigde persoon is as 'n vervloekte van God beskou – iemand wat nie God se seën wegdra nie. Daarom is die boodskap van die kruis vir baie 'n struikelblok23 en dwaasheid ()24 [ 1 Kor 1:23; Gal 5:11 (Bybel 1953)] . Justinus beskryf die aanstoot wat die kruis gee as malheid (), en reken die probleem van die Christelike geloof is dat dit goddelike status aan die gekruisigde Jesus gee; die kernbetekenis van die redding van die mens.25 Tog bly die kruis die krag en die wysheid van God. Jesus dra die goddelike oordeel vanweë die sonde. Die gehoorsaamheid wat Hy openbaar deur Hom aan die kruis te laat spyker, bring 'n ommekeer in die ongehoorsaamheid waarmee Adam en Eva begin het (Lane 1979:562). Aan die kruis vereenselwig Jesus Hom met die mens as oortreder, en oorkom Hy die skeiding tussen mens en God deur in die mens se plek as 'n vervloekte te sterf.

Die gekruisigde Jesus was vir die vroeë kerk nie iets waaroor daar bespiegel is nie, maar wel 'n aanstoot en 'n las (Hengel 1977:18). Die tradisie van die lyding en kruisiging van Jesus gee ook 'n voorskou van wat die navolgers van Jesus, die kerk, kan verwag. Die Redder wys die pad as 'n noodwendige lydingsweg vir sy volgelinge aan.

 

SAAM MET ()

Inleiding

In die metafoor word die term 'saam' gebruik. Watter kultuurhistoriese konstruksie moet van die begrip 'saam gekruisig' gemaak word? Watter gedagtes en gevoelens sou 'saam' by die hoorder oproep? Watter boodskap wil Paulus by die leser tuisbring?

Terminologie

In klassieke én Koine Grieks beteken 26 '(saam) met' en word dit in uitdrukkings van 'saamwees' of 'saamkom' gebruik. Louw en Nida (1988a:791) voer drie moontlike betekenisse aan:

  • Koppeling tussen voorwerpe of gebeure sonder om 'n spesifieke verhouding of funksie te beskryf (subdomein 89.105: 'met, op, saam met, by, handel saam')

  • Assosiasie as 'n merker wat gesamentlike deelname aan sekere aktiwiteite aandui (subdomein 89.107: 'met, saam met, om saam te wees en te handel om mekaar te ondersteun en te help')

  • Merker van 'n geassosieerde agent (subdomein 90.2 (): ('n idioom, letterlik 'met die hand van' of 'deur, met die hulp van')

en is na verwant en word baie keer verwisselbaar gebruik. Grundmann (1979:768) wys egter op die veelseggendheid daarvan dat Paulus sy briewe afsluit met die gebed dat die genade van God met (, nie nie) die geadresseerdes sal wees om aan te dui dat dit in húlle omstandighede so sal wees. Hy beskryf egter die Christen se lewe as een van vereenselwiging 'met' Christus, en die Christen se lewensdoel as 'n bestaan 'met Christus' (in albei gevalle , en nie nie). dui dus meer op die intieme persoonlike verhouding (kyk Kol 3:4) en op die intieme assosiasie met die gepaardgaande omstandighede (kyk 1 Tess 3:13) (Harris 1978:1206).

Die betekenis van in die metafoor

Dit is dus duidelik dat Paulus die voorsetsel gebruik om 'n intiem persoonlike verhouding aan te dui. Die assosiatiewe datief wat saam met gebruik word, voltooi die voorsetsel en die betekenis wat die skrywer wil oordra. In dié metafoor word met voltooi, en dui dus op 'n persoonlike 'inbegrepenheid' by die Christus-gebeure.27 Die saamgekruisigde se lewe word begin en voortgesit (), en geleef () (Grundmann 1979:767).

Die objek wat 'saam gekruisig' is

Wanneer Paulus dié metafoor gebruik, naamlik dat hy 'saam met' Christus gekruisig is, moes die mense onwillekeurig aan die rowers gedink het wat saam met Jesus gekruisig is. Die persone wat saam met Jesus gekruisig is, was misdadigers. Matteus en Markus beskryf elk van dié mans as 'b ('dief', 'rebel'). Dié beskrywing kan ook op die Selote van toepassing wees. Lukas noem hulle ('booswig'). Dalk was dit diegene wat in dieselfde opstand as Barabas gevange geneem is.

As Paulus se toehoorders dus sou terugdink aan dié wat saam met Jesus gekruisig is, sou die aanhoor van die gedagte dat húlle nou 'saam met' Jesus gekruisig moes word net die vernedering en skande vir hulle vererger. Dit was sekerlik vir die Jode en ander toehoorders 'n afstootlike gedagte. Dit sou beteken dat hulle as booswigte en misdadigers gereken kon word, want net dié soort mense is immers saam met Jesus gekruisig.28

Die skande wat 'saamkruisiging' bring

Die individu en die gemeenskap29

Westerlinge word met die beginsel groot dat hulle as individue, mans én vroue, 'op hulle eie voete moet staan'. Die persoon word gemotiveer om reg op te tree, al is dit as enkele individu, onafhanklik van wat ander dalk dink of sê. Die mens is dus alleen verantwoordelik vir sy eie handelinge, omdat hy ten opsigte van gevoelens en kennis, of oordeel en handel, 'n individu is. Indien die individu in die Westerse kultuur met ander omgaan, voel hy dat die ander ook eiesoortige wesens is, en só leef hy in sy sosiale en natuurlike omgewing. Dié soort individualisme is skaars in ander kulture, en waarskynlik heeltemal afwesig in die Nuwe Testament.30

In die eerste-eeuse Mediterreense wêreld vind ons die diadiese (groepsgerigte) persoonlikheid. So 'n persoon het voortdurend ander mense nodig om te weet wie hy is. Dít beteken dat die persoon homself altyd in verhouding tot ander persone beskou. Elkeen het 'n bepaalde sosiale verhouding tot ander, sowel horisontaal (met ander wat dieselfde status het) as vertikaal (met ander van 'n hoër of laer sosiale stand). Die belangrikste waardes vir so 'n persoon is eer en skande, nie skuld nie.

Eer is 'n aanspraak op waarde sowel as openbare erkenning van daardie waarde.

Die aanspraak op eer is altyd 'n openbare saak, want dit vereis die oordeel en goedkeuring van die publiek om dit te kry. Skande is 'n sensitiwiteit oor iemand se eer; 'n besorgdheid oor wat ander met betrekking tot die persoon dink, sê en doen. Dit gaan oor die voortdurende soeke na 'n goeie reputasie in ander se oë. Wat eer betref, is die woordeskat van die Bybel dus uitgebreid; vir skuld is daar egter nie baie woorde nie (Malina 1979:134).

In die Grieks-Romeinse wêreld sal die een persoon hom altyd deur die oë van ander sien, want eer kan hy net van ander kry. Wat ander sien, en die voortdurende bewustheid van dit wat ander sien, is dus baie belangrik. Gewete is daarom die persoon se sensitiwiteit om van die openbare mening oor sy eie optrede bewus te bly. 'n Persoon wat só optree, is 'n agtenswaardige, eerbare persoon. Om een lid van die groep te ken, is om almal te ken, want die individu is die verteenwoordiger van die groep. Die individu is in die groep veranker, en die individu se gedrag word bepaal deur die siening en verwagting van dié wat saak maak.

Die Nabye-Oosterse individu en 'saamkruisiging'

'n Mens uit die antieke Nabye-Ooste wat sou hoor dat hy 'saam gekruisig moet word' of 'sy kruis moet opneem', sou dadelik 'n krisis ervaar. Hy sou dadelik besef dat dit geen eer sou meebring nie. Die gemeenskap sou dit inteendeel as 'n baie oneervolle saak beskou. Trouens, dit sou die grootste skande wees en moes ten alle koste vermy word. Die persoon se eer sou vir hom vooropstaan en hy sou dit daarom wou beskerm. Die kruis is vir die laagste klasse van die samelewing en vir die ergste misdadigers gehou (verwys na die paragraaf Kruisiging onder die Romeine aangedui in die teks). Indien iemand dus gekruisig moes word, sou dit beteken dat hy met daardie groep misdadigers vereenselwig word – dít sou sy eer verder aantas.

Die skande om as veroordeelde sy kruis en selfs die plakkaat () om sy nek te dra, sou beteken dat hy nie vir sy eer kon opkom en homself kon verdedig nie. Hy sou die mense se spot maar gelate moes aanvaar. Die feit dat die kruisiging langs die besigste paaie en kruispaaie plaasvind, beteken dat dit nie iets is wat weggesteek kon word nie; baie mense sou die kruiseling sien, met hom die spot dryf en hom belaglik maak. Die skande gaan egter verder: Die veroordeelde hang daar geheel en al nakend, met geen hand (vasgespyker of vasgebind) of kledingstuk (deur die soldate gevat) om sy skaamte te bedek nie. Almal kan kyk en lag.

Die kruis het die veroordeelde van alle menswaardigheid ontneem. In hulpeloosheid is hy vasgespyker, in algehele onvermoë om sy eer te verdedig, met net die dood wat hom van die skande kan red. Die dood sou egter in baie gevalle talm en te stadig kom. Daarom sou die persoon wat voor die keuse van 'saamkruisiging' te staan kom dit nie kies nie. Dit sou immers net tot skande lei en geen eer vir hom of sy familie bring nie.

Die pyn wat 'saamkruisiging' bring

Die pyn wat met kruisiging gepaardgegaan het, kan sekerlik nooit volledig beskryf word nie (sien skrywers uit Antieke Wêreld se kommentaar onder die seksie Kruisiging onder die Romeine). Basore sê:

Inveniture aliquis, qui velit inter supplicia tabescere et perire membratim et totiens per stilicidia emittere animam quam semel exhalare? Invenitur, qui velit adactus ad illud infelix lignum, iam debilis, iam pravus et in foedum scapularum ac pectoris tuber elisus, cui multae moriendi causae etiam citra crucem fuerant, trahere animam tot tormenta tracturam?31

(Basore 1928– 1935)

Indien 'n persoon hoor dat hy 'saam gekruisig' moet word, sal die lyding wat hy weet vir hom voorlê vrees in hom wakker maak. So 'n persoon sal alles in die werk stel om dié lot te ontvlug, want hy weet: As jy eers aan die kruis hang, is daar geen moontlikheid van ontvlugting nie!32

 

GEVOLGTREKKING

Die geskiedenis het gewys dat kruisiging aan die begin net in uiterste gevalle gebruik is en dikwels net in oorloë. Later met die Romeine het dit algemener geword, hoewel dit steeds net vir die laagste klasse en uiterste gevalle gebruik is. Die manier waarop 'n kruiseling behandel is, wys dat hy geheel en al van menswaardigheid ontneem is. Die skrywers van dié tyd noem kruisiging 'n barbaarse praktyk. Om 'saam gekruisig' te word, sou impliseer dat jy jou met die skande en pyn van kruising moes vereenselwig.

Die kultuurhistoriese ondersoek wys dat die oproep om 'saam gekruisig te word' elke persoon in die Middellandse See-gebied dwars in die krop sou steek. Dit sou beteken om persoonlik en op die mees finale en skandelike manier denkbaar met Christus vereenselwig te word. Om saam met Christus aan die kruis te hang en sy skande en verwerping te deel, sou 'n einde aan jou eie lewe en begeertes bring. Dit impliseer 'n finale en algehele vereenselwiging met Christus, en die agterlaat van die ou lewe, vriende en werklikhede waaraan jy so gewoond was. Paulus wil met die metafoor aandui dat die nuwe lewe in Christus nie deur blote wetsonderhouding verkry kan word nie, maar alleen deur die geloof – deur algehele vereenselwiging met Christus.

Die hart van die Christelike godsdiens wat Paulus as 'die woord van die kruis' () beskryf, druis nie alleen geheel en al teen die Romeinse politieke denke in nie, maar ook teen die hele etos van godsdiens in die Antieke Wêreld, en in besonder teen geleerdes se oortuigings oor gode. Die ware Romeinse en Griekse gode is as onsterflik beskou. Hulle het hoegenaamd niks met 'n kruis – die teken van skande ( Heb 12:2), skandpaal (infamis stipes), die droë (infelix lignum) of misdadigershout (), of die verskriklike kruis (maxuma mala crux) van die slawe – in gemeen gehad nie (Hengel 1977:5). Tog is die kruis – dié barbaarse manier van straf, dié vervloeking deur God, dié wreedste vorm van dood, dít wat nie eens teenoor 'n gerespekteerde Romeinse burger genoem is nie – juis die plek waar God tussen Hom en die sondige, afvallige mens versoening bewerk. Dit is dus te begrype dat hierdie evangelie 'n struikelblok is vir die Jood, en dwaasheid vir die Griek.

Verstaan die kerk vandag nog dié metafoor, of is die hele werklikheid van die kruis maar net metafories? Is die kerk bereid om hom met Christus te vereenselwig, en die skande en pyn te verduur om 'n getuie in die wêreld te wees? Of wil die kerk net die goeie geniet, die aanvaarding van die gemeenskap ervaar, die goedkeuring van mode-leiers hê en die groen lig by jongmense kry? Verwater die kerk dalk die boodskap van die kruis om die Christelike geloof so maklik en tegemoetkomend moontlik te maak sodat lidmate tog net nie aanstoot neem nie?

Met sy treffende metafoor dui Paulus aan dat hy klaar is met die ou lewe, en dat hy voortaan net in Christus kan lewe, en Christus in hom. Dít kan slegs deur die geloof gebeur. Die implikasie van 'n gekruisigde lewe, dat die ou lewe vir goed verby is, sou nie ongemerk by Paulus se toehoorders verbygegaan het nie. Hulle sou dadelik begryp het dat 'saamkruisiging' vir hulle geen eer sou bring nie. Die metafoor sou hulle tot stilstand ruk, tot diepe nadenke bring, en voor 'n besliste keuse plaas.

 

LITERATUURVERWYSINGS

Basore, J.W. (vertl), 1928– 1935, Epistulae morales ad Lucilium, deur L.A. Seneca, Heinemann, London.         [ Links ]

Bekker, J., 2002, 'The characteristics of poetry', in B. Wolfvaardt (red.), How to interpret the Bible: A do-it-yourself manual, pp. 127– 142, Bookcraft, Surrey.         [ Links ]

Brandenburger, E., 1980, 'Cross, wood, tree', in C. Brown (red.), The new international dictionary of the New Testament theology, vol. 1, pp. 391– 405, Paternoster, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Brown, R.E., 1982, The Gospel according to John: Introduction, translation, and notes, vol. 2, pp. XII-XXI, Anchor Bible, Camelot, Southampton.         [ Links ]

Bybel, 1953, Die Bybel in Afrikaans, Hersiene uitgawe, Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Kaapstad.         [ Links ]

Bybel, 1992, Die Nuwe Afrikaanse Vertaling met herformulerings, Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Kaapstad.         [ Links ]

Deissmann, A., 1911, Light from the ancient east: The New Testament illustrated by recently discovered texts of the Graeco-Roman world, Hodder & Stoughton, Londen.         [ Links ]

Ellis, E.E., 1974, 'Christ crucified', in R. Banks (red.), Reconciliation and hope: New Testament essays on atonement and eschatology presented to L L Morris on his 60th birthday, pp. 69– 75, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Fitzmyer, J.A., 1998, To advance the Gospel: New Testament studies, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Geertz, C., 1976, 'From the native's point of view: On the nature of anthropological understanding', in K.H. Basso & H.A. Selby (reds.), Meaning in anthropology, University of New Mexico Press, Albuquerque.         [ Links ]

Geldenhuys, N., 1979, Commentary on the Gospel of Luke: The English text with introduction, exposition and notes, New International Commentary on the New Testament, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Green, J.B., 1993, 'Crucifixion', in G.F. Hawthorne, R.P. Martin & D.G. Reid (reds.), Dictionary of Paul and his letters, pp. 197– 199, Inter-Varsity Press, Downers Grove, Illinois.         [ Links ]

Grundmann, W., 1979, 'σύν & µετά,' in G. Friedrich (red.), Theological dictionary of the New Testament, vol. VII, pp. 766– 796, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Haas, N., 1970, 'Anthropological observations on the skeletal remains from Giv`at ha-Mivtar, Jerusalem', Israel Exploration Journal 20, 38– 51.         [ Links ]

Harris, M.J., 1978, 'Prepositions and theology in the Greek New Testament', in C. Brown (red.), The new international dictionary of the New Testament theology, vol. 3, pp. 1171– 1215, Paternoster, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Hays, R.B., 2004, The moral vision of the New Testament: A contemporary introduction to New Testament ethics, Biddles, Londen.         [ Links ]

Hendriksen, W., 1976, The Gospel of Mark, Banner of Truth, Edinburgh.         [ Links ]

Hengel, M., 1977, Crucifixion in the ancient world and the folly of the message of the cross, Fortress, Philadelphia, Pennsylvania.         [ Links ]

Lane, W.L., 1979, The Gospel according to Mark: The English text with introduction, exposition and notes. New International Commentary on the New Testament, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E.A. (reds.), 1988a, Greek-English lexicon of the New Testament based on Semantic domains, vol. 1, United Bible Societies, New York.         [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E.A. (reds.), 1988b, Greek-English lexicon of the New Testament based on Semantic domains, vol. 2, United Bible Societies, New York.         [ Links ]

Malan, J.P., 2007, 'Saam met Christus gekruisig, en die etiek in die briewe van Paulus: 'n Eksegetiese studie', MTh-proefskrif, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.         [ Links ]

Malina, B., 1979, 'The individual and the community: Personality in the social world of early Christianity', Biblical Theology 9, 126– 138.         [ Links ]

Meyboom, H.U., 1922– 1923, Justijn de Martelaar, Sijthoff, Leiden, Netherlands.         [ Links ]

Morris, L., 1966, 'The centrality of the cross: The firm conviction of the permanent efficacy of the crucifixion leads Paul to say that he will glory in the cross', Christianity Today 10, 14– 17.         [ Links ]

O'Collins, G.G., 1992, 'Crucifixion', in The Anchor Bible Dictionary, vol. 1, pp. 1207– 1210, Doubleday, New York.         [ Links ]

Schnackenburg, R., 1982, The Gospel according to St John, vol. 3, hoofstuk 13– 21, Biddles, Guildford.         [ Links ]

Schneider, J., 1979, ' σταυρός ', in G. Friedrich (red.), Theological dictionary of the New Testament, vol. VII, pp. 572– 584, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Siede, B., 1980, 'Cross, wood, tree', in C. Brown (red.), The new international dictionary of the New Testament theology, vol. 1, pp. 389– 391, Paternoster, Grand Rapids, Michigan.         [ Links ]

Tzaferis, V., 1970, 'Jewish tombs at and near Giv'at ha-Mivtar, Jerusalem', Israel Exploration Journal 20, 18– 31.         [ Links ]

Van der Walt, T., 1988, Openbaringsgeskiedenis van die Nuwe Testament: 'n gids vir Bybelkundestudente, Departement Sentrale Publikasies, Potchefstroomse Universiteit vir Cristelike Hoër Onderwys, Potchefstroom.         [ Links ]

Van der Watt, J.G., 2000, Family of the King: Dynamics of metaphor in the Gospel to John, Brill, Leiden.         [ Links ]

Van Rensburg, F.J., 2000, 'Dekor of konteks?: Die verdiskontering van sosio-historiese gegewens in die interpretasie vir die prediking en pastoraat van 'n Nuwe Testamentteks, geïllustreer aan die hand van die 1 Petrus-brief', Skrif en Kerk 3, 564– 582.         [ Links ]

Watts, N.H. (vertl), 1958, The speeches: pro T Annio Milone, in L Calpurnium Pisonem, pro M Aemilio Scaura, pro M Foteio, pro C Rabirio Postumo, pro M. Marcelleo, pro Q Ligario, pro rege Deiotaro, deur M.T. Cicero, Heinemann, London.         [ Links ]

Whiston, W. (vertl), 1991, The works of Josephus: Complete and unabridged, deur F. Josephus, Hendrickson, Peabody, Massachusetts.         [ Links ]

 

 

Correspondence to:
Japie Malan
Posbus 7077, Secunda
2302, South Africa
e-mail: japiemalan@evander.co.za

Received: 16 May 2008
Accepted: 01 July 2008
Published: 16 Apr. 2009

 

 

DOI: 10.4102/hts.v65i1.136
This article is available at: http://www.hts.org.za
1. Hierdie artikel konsentreer net op die kultuurhistoriese verband. Vanweë die beperkte omvang en fokus van die artikel, kan die volledige eksegese van die betrokke gedeeltes nie hier weergegee word nie. Dit is egter beskikbaar in Malan (2007:19– 64).
2. ʼn Metafoor is ʼn beknopte vergelyking waar die woorde wat vergelyking aandui, ontbreek. ʼn Metafoor plaas twee begrippe op ʼn ongewone wyse langs mekaar, sodat dit lesers/hoorders in hulle denke skok en hulle dwing om verhoudings en opvattings rakende die betrokke saak te heroorweeg. Op dié manier kry lesers/hoorders klarigheid oor die saak, en bring dit hulle voor sekere keuses te staan. ʼn Volledige bespreking van die begrip en verklaring van die metafoor val buite die doelstellings van hierdie artikel, maar is te vinde in Bekker (2002), Hays (2004) en Van der Watt (2000).
3. Vir ʼn volledige bespreking van die onderwerp, agtergrond en konteks, kyk Van Rensburg (2000:564– 582).
4. In Handelinge 5:30 word gebruik om na die kruis van Jesus te verwys. Louw & Nida (1988b:57) dui egter daarop dat buite die Nuwe Testament ook met verwysing na 'galg' gebruik word.
5. Dié gewoonte verskil van dié van die Romeine wat soms die persoon doelbewus aan die kruis laat bly het om so as langdurige en doeltreffender afskrikmiddel te dien.
6. .22 'Wanneer iemand tereggestel word vir ʼn oortreding wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan ʼn paal op, 23 mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe, want wie opgehang word, is deur God vervloek. Jy mag nie die land wat deur die Here jou God aan jou as besitting gegee is, verontreinig nie.' (Bybel 1992)
7. Paulus koppel juis Deuteronomium 21:22– 23 aan Deuteronomium 27:26 [ " Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou en nie daarvolgens lewe nie!" (Bybel 1992)] in sy argument in Galasiërs 3:13 om die verband tussen Jesus en die vloek van die kruis en die wet duidelik te maak (Fitzmyer 1998:138).
8. Kyk O'Collins (1992:1208) vir voorbeelde van slawe wat deur kruisiging tereggestel is, soms tot 6 000 op ʼn slag. Soms, as die eienaar vermoor is, is al die slawe van ʼn huishouding gekruisig. In sy toneelstuk Bacchides (362) vertel Plautus van die skelm slaaf wat bang is dat sy eienaar van sy skelmstreke sal uitvind en sy naam sal verander: facietque extemplo Crucisalum me ex Chrysalo ('Hy sal my naam dadelik van Chrysalus na Crucisalus verander'.) In plaas van 'gouddraer', word hy dus ʼn 'kruisdraer'.
9. Watts, (1958:Pro Rabirio V.16): nomen ipsum cruces absit non modo a corpore civium Romanorum, sed etiam a cogitatione, oculis, auribus ('Die woord 'kruis' moet nie net ver van die lippe van Romeinse burgers bly nie, maar ook van hulle gedagtes, hulle oë, hulle ore.')
10. Titus wat Jerusalem beleër het, het tot 500 van die Joodse vlugtelinge per dag gekruisig, sodat almal wat nog in die stad was dit kon sien, totdat daar nie meer plek vir kruise was nie en geen kruise meer vir liggame nie (Whiston 1991; War 5.449– 51). Die besonderhede van die kruisigings word nie beskryf nie, waarskynlik omdat dit so ʼn algemeen bekende verskynsel in die destydse Grieks-Romeinse wêreld was.
11. Daar is ook ander minder bekende kruisvorms, soos die kruis van Andreas (wat soos ʼn X gelyk het) en die gaffelkruis (wat soos ʼn Y gelyk het) (Van der Walt 1988:120).
12. Pilatus gebruik ook die opskrif om te spot, maar nie met Jesus nie; hy spot met die Joodse leiers, want hy weet Jesus is onskuldig. Hy waarsku eintlik die Jode dat hulle geen ander koning as die keiser moet soek nie. Onwetend praat hy ook die waarheid, naamlik dat Jesus die Koning oor alles is (Geldenhuys 1979:610).
13. Die uitdrukking 'om jou kruis (stauro&j) te dra', wat ʼn tipiese uitdrukking vir die straf van slawe was, het waarskynlik hieruit ontstaan (Brandenburger 1980:392).
14. By die geseling van Jesus was dit Pilatus se plan om Jesus daarna vry te laat. Die geseling het egter soms die kruiseling se dood veroorsaak of verhaas.
15. Spreuke 31: 6 'Gee drank aan dié wat besig is om onder te gaan, laat dié wat swaar ly, drink;7 as so ʼn mens drink, vergeet hy van sy armoede en dink hy nie meer aan sy moeilikheid nie.' (Bybel 1992)
16. Lane (1979:564) reken dat dit hierdie vroue is wat dit ook vir Jesus aangebied het (kyk Mark 15:23) omdat dit ʼn Joodse eerder as ʼn Romeinse gebruik was.
17. Brown (1982:898) voer oortuigende bewyse aan dat die vertikale gedeelte van die kruis dikwels permanent op die plek van teregstelling geplant was.
18. Tzaferis (1970:18vv) berig dat die beendere van ʼn jong man wat vermoedelik in die eerste eeu ná Christus gekruisig is in Junie 1968 opgegrawe is. ʼn Spyker is deur elk van sy voorarms gedryf, en ʼn derde spyker (17– 18 cm lank) was steeds deur albei enkels. Sy bene was gebreek, soos ook van die twee wat saam met Jesus gekruisig is, vertel word (Joh 19:32).
19. Suur wyn is in die Ou Testament as verfrissende drankie/sous beskou [ Num 6:3 (Bybel 1992); Rut 2:14 (Bybel 1953)] . Ook in die Romeinse en Griekse literatuur blyk dit ʼn algemene drankie vir arbeiders en soldate te wees omdat dit ʼn goedkoop en doeltreffende dorslesser was (Lane 1979:573).
20. Volgens getuienis het veroordeeldes hulle eiendom verloor en soms ook die reg om begrawe te word, verbeur (Lane 1979:578).
21. Die betrokke Skrifgedeeltes is die volgende: 'kruisig' (stauro&w) 1 Kor 1:13, 23; 2:2, 8; 2 Kor 13:4; Gal 3:1; 5:24; 6:14; 'saam kruisig' (sustauro&w) Rom 6:6; Gal 2:19; en die selfstandige naamwoord 'kruis' (stauro&j) 1 Kor 1:17, 18; Gal 5:11; 6:12, 14; Ef 2:16; Fil 2:8; 3:18; Kol 1:20; 2:14 (Vertaling is vry uit die Griekse teks gedoen).
22. Die Evangelies verstrek baie min besonderhede oor die kruisiging en die lyding, waarskynlik sodat gelowiges nie só daarop konsentreer dat hulle nie besef en beleef wat Jesus vir hulle gedoen het om die vloek en straf van God te dra nie (Geldenhuys 1979:608).
23. Daar is ʼn bekende illustrasie van ʼn gekruisigde figuur met ʼn donkiekop op die Palatyn met die inskripsie ('Alexamenos aanbid God'). Dit is die anti-Christelike bespotting van die gekruisigde Jesus, die Joodse afleiding van die Christelike geloof (Hengel 1977:19).
24. Dié woord dui nie op ʼn intellektuele gebrek nie, maar eerder die dwaasheid om in ʼn gekruisigde Verlosser te wil glo (Hengel 1977:1).
25. Meyboom (1922– 1923) Die malheid wat die heidene sien, lê volgens hom in die feit dat die Christene ʼn gekruisigde man as die belangrikste ag naas die onveranderlike en ewige God wat die Skepper van die wêreld is (Apologie I 13.4).
26. Die etimologie van is onbekend en dit word reeds van die vroegste tye af saam met ʼn assosiatiewe datief gebruik (Grundmann 1979:768).
27. Deissmann (1911:305) voer aan dat die formule 'saam met Christus' () bykans altyd op die gemeenskap van die gelowiges met Christus ná hulle dood of ná sy koms dui. Hy vestig die aandag op ʼn graffito van Aleksandrië met die woorde ('Ek pleit dat ek spoedig saam met jou sal wees') wat uiting gee aan die hoop om ná die dood saam met die ander een te wees.
28. ʼn Joodse wet het verder bepaal dat nie meer as een persoon op ʼn dag veroordeel kon word nie. Dit is nie duidelik of dié wet al in Jesus se tyd in werking was en of die Romeine dit net nie in ag geneem het nie (Brown 1982:900).
29. Vir ʼn volledige beskrywing, kan die goeie samevatting van Malina (1979:126– 138) geraadpleeg word.
30. Vir verdere toeligting, kyk Geertz (1976:221– 237).
31. 'Kan iemand gevind word wat verkies om weg te kwyn in pyn, en ledemaat vir ledemaat te sterf, of om sy lewe druppel vir druppel prys te gee, eerder as om dit onmiddellik af te gee? Kan enige man gewillig wees om aan ʼn vervloekte kruis vasgemaak te word, reeds verswak, alreeds vervorm, met lelike swelsels op die skouers en bors, en om die asem van lewe te laat uittrek in uitgerekte pyn? Hy sal baie verskonings hê om te sterf voordat hy op die kruis vasgemaak word.' (Dialogue 3, De ira I.2.2)
32. Die man van Giv'at ha-Mivtar (vgl voetnoot 18 hier bo) is met ʼn stuk van sy kruis en ʼn spyker steeds deur die enkels begrawe, want dit was waarskynlik te moeilik om die spyker te verwyder en sy liggaam van die kruis los te kry (Haas 1970:40).