SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue4 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.4 Pretoria Oct./Dec. 2008

 

BOEKBESPREKINGS / BOOK REVIEWS

 

 

Peels, H G L 2007 - God en geweld in het Oude Testament

Uitgewers: Theologische Universiteit Apeldoorn, Nederland

Resensent: Dr F J Boshoff (Ermelo)

Veral sedert die 20ste eeu kry mens die indruk dat ons in ons wêreld te doen het met 'n geweldsontploffing van ongekende omvang. Tegnologie maak dit ook moontlik om baie gou op hoogte te wees van waar oral geweld plaasvind.

Die kerk met die evangelie van Jesus Christus as riglyn kan nie anders nie as om hierdie geweld af te keur en teen te gaan. Die kerk het ook die taak om liefde, barmhartigheid en vergewingsgesindheid te verkondig.

Wanneer oor die verhouding tussen Ou Testament en Nuwe Testament gedink word, is dit juis die geweldstema wat verantwoordelik is vir baie van die kritiek teen die Ou Testament, ook vandag.

Peels hou hom in hierdie boek besig met die probleem van geweld in die Bybel en veral die Ou Testament. Hy toon aan dat die bewuswording van "geweld" as tema in die Bybel baie resent is aangesien die lemma "geweld" nie in vroeëre woordeboeke of ensiklopedieë voorkom nie. Dit begin eers verskyn laat in die tweede helfte van die twintigste eeu.

Hierdie boek is 'n bundel van vyf artikels en twee referate wat vroeër in ander tydskrifte verskyn het.

In hierdie boek word die kritiek van S Janse op Peels se standpunt oor geweld breedvoerig weergegee. Twee van Janse se artikels waarin hy ernstige kritiek uitspreek, is in hierdie boek opgeneem. Peels se antwoord verskyn telkens daarnaas.

Die ernstigste beswaar teen die Ou Testament as deel van die Bybel is dat geweld nie net telkens goedgekeur word nie, maar dat God self as Geweldenaar beskryf word.

Met meer as duisend tekste waar daar sprake is van geweld, toorn, straf, stryd, oorlog, moord, "is (het) niet overtrokken om de Bijbel te typeren als een van de bloedigste boeken uit de wereldliteratuur ..."

Dit klink nie goed in 2007 nie. In ons tyd word gesoek na 'n "sagte God", want daar word gevra wat die verskil sou wees tussen 'n Palestyn wat vandag in 'n selfmoordpoging homself in 'n bus of restaurant opblaas en onskuldiges vermink en vermoor en die Bybelse Simson wat met sy dood meer vyande dood gemaak het as gedurende sy lewe.

Die boek eindig met die akademiese rede wat Peels gehou het op 11 September 2006, 'n besondere datum presies vyf jaar nadat die wêreldgeskiedenis in sekere sin 'n nuwe wending geneem het. Sedertdien verskyn die tema van geweld hoog op die politieke, sosiale en godsdienstige agenda van die hedendaagse samelewing.

Vir die gemiddelde Bybelleser is dit 'n onthutsende ervaring om te ontdek dat die mees prominente antropologiese tema in die Ou Testament juis dié van geweld is.

Dit bring mee dat eksegese sowel as Bybelse teologie vandag voor die besondere uitdaging te staan kom om die vraag te probeer antwoord: Hoe moet geweld in die Ou Testament beskou word?

Die boek is in 'n gemaklike styl geskryf wat dit toeganklik maak vir enigeen wat meer wil weet oor hierdie aktuele tema. Dit word veral vir predikante aanbeveel om in ons gewelddadige tyd kennis te neem van die geweldstema in die Ou Testament.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License