SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.3 Pretoria Jul./Sep. 2008

 

^rND^sRicoeur^nP^rND^sRicoeur^nP^rND^sSchmalhausen^nS D^rND^sStiver^nD R^rND^sVan Wyk^nA H^rND^sWarner^nM^rND^sWorthington^nE L^rND^sZink^nD W^rND^1A01^nEben^sScheffler^rND^1A01^nEben^sScheffler^rND^1A01^nEben^sScheffler

Eros as godsdiens (of die religieuse viering van seks)1

 

Eros as religion (or the religious celebration of sex)

 

 

Eben Scheffler

Departement Ou Testament en ou Nabye Oosterse Studies. Universiteit van Suid-Afrika

 

 


ABSTRACT

This article unashamedly argues for the positive value of sexuality and its profound religious dimensions. A stance is taken that goes beyond moralizing and ethicizing. The relationship in the Bible between eros and religion is explored by referring to the sexual image of God in Genesis 1:26-27, the religious dimension of the book of Song of Songs and Jesus' stance in contrast with that of Paul. Through religion humans' sexual experience should be enhanced in stead of being suppressed. Society should be sexualized.


 

 

How wonderful sex can be,
when men keep it powerful and sacred,
and it fills the world!
Like sunshine through and through one!

D H Lawrence

 

1. INLEIDING: TEEN ONVANPASTE VROOMHEID

As seks ter sprake kom is baie van God se volgelinge vromer as Hy of Sy. Daarenteen wil hierdie bydrae onbeskaamd die erotiese religieus vier. Dit neem direk standpunt in teen enige poging wat die seksuele degradeer as sou dit die "vleeslike" bestaan van die mens verteenwoordig in teenstelling met die "geestelike". Inteendeel, dit huldig die standpunt dat die seksuele juis religieus is en dat die viering van die seksuele 'n religieuse viering is. Die degradering van die seksuele wat so dikwels in religieuse kringe gebeur (dikwels met die Bybel in die hand), is juis onreligieus, onchristelik en demonies.

Baie is al geskryf oor seks en godsiens waarin oor die verhouding tussen seks en godsdiens of die Bybel besin word (bv Kroeze 1970:96-103; Nelson & Longfellow 1994:71-114).2 Die seksuele en die religieuse word dan gesien as aparte lewensterreine of dimensies van die mens se lewe. Die godsdiens word heel vroom beskou as die belangrikste dimensie, want diens aan God (of die mens se siening van sy eie lewe in die lig van die ewige of goddelike) verteenwoordig daardie dimensie van die mens wat die stelreëls bevat in die lig waarvan die ander dimensies (bv die sosiale, politiese, ekonomiese en die seksuele, ens) beoordeel word.

Wanneer die religieuse só gesien word as die sogenaamde diens aan God wat probeer fokus op 'n bo-aardse werklikheid in 'n poging om van die hier en nou en konkrete van hierdie aardse werklikheid te ontsnap, neem God as die groot Reguleerder 'n hoofsaaklik etiek-verskaffende funksie in die mens se lewe in. Hy of Sy (in so 'n siening meesal Hy) word dan nie beleef of ervaar nie, maar hoofsaaklik gevrees. Ongelukkig funksioneer die groot wêreldgodsdienste (bv Christendom, Islam, Judaïsme en Hindoeïsme grotendeels op hierdie vlak, en soms ook die Boeddhisme en meer moderne religieuse bewegings wat klem lê op spiritualiteit (bv strominge in die New Age Beweging, vgl ook Wilber 2000:499-506).

In so 'n situasie kom die seksuele of erotiese bedroë daarvan af en speel dit tweede viool as verteenwoordigend van die mens se "laer drifte" en aardse drange wat wesenlik "sondig" is. Selfs al word seks verduur binne die voorgeskrewe ruimte van die huwelik, word dit steeds beskou as van 'n "laer aard" as die sogenaamde spirituele.

Intussen is die teendeel waar. As ons God as die skepper van die wêreld en onsself erken, moet ons terselfdertyd die ooglopende feit erken dat ons deur middel van die seksuele vereniging tussen man en vrou geskep is. Ons is die produk van die seksuele. Natuurlik weet ons almal dit, maar ooievaar- en bobbejaan-in-die-berg-stories is 'n teken van die feit dat ons die seksuele aard van ons oorsprong onder die mat probeer vee en ontken. Die uitdrukking "in sonde ontvang en gebore" is ook 'n poging om die seksuele te degradeer, indien dit dan nie ontken word nie.

Soos reeds gesê, leef ons eintlik in twee wêrelde ten opsigte van die seksuele. Aan die een kant weet ons dat dit aan die grond van ons bestaan lê en dus wesenlik deel van ons menswees is, maar aan die ander kant staan ons ongelukkig in 'n godsdienstige tradisie waarin die erotiese oor 'n tydperk van duisende jare swart gesmeer is, onderdruk is, of hoogstens as minder edel erken of dus bloot "toegelaat" is (vir 'n oorsig van hierdie negatiewe houding, vgl Janson 1995; Carr 2003:5-8). Ten einde ons van hierdie situasie te bevry, is 'n besinning rondom verskeie aspekte wat vir hierdie toestand van sake verantwoordelik is, dus nodig. Oor die filosofiese besinning hieroor (wat die skeiding tussen die religieuse en seksuele in terme van Plato se filosofie verklaar) word - as gevolg van beperkte ruimte - nie hier ingegaan nie. In wat volg, sal egter gepoog word om nie net op die negatiewe te fokus nie, maar om die positiewe religieuse viering van die erotiese steeds binne die gesigsveld te hou.

 

2. VERBY MORALISERING EN ETISERING

Die gewone diskoers oor seks en godsdiens gaan gewoonlik oor morele vrae (kyk bv Kretzschmar 2001:27-38; Thielicke 1964). Meestal wanneer oor seks en godsdiens in een asem gepraat word, is dit wanneer seksuele gedrag vanuit godsdienstige perspektief beoordeel en (veral veroordeel) word. Wat is normaal? Wat mag mens doen? Hoe moet mens jouself beheer? Is seks voor die huwelik sonde? Is pornografie sonde? Is orale seks normaal? Wat van masturbasie? Is poligamie Bybels en dus toelaatbaar? Wat van homoseksualiteit? Wanneer is mens aan seks verslaaf? Is geboortebeperking toelaatbaar? Moet VIGSpasiënte kondome gebruik? Moet prostitusie gewettig word? Is VIGS God se straf op die mensdom se seksuele uitspattigheid?

Om die seksuele religieus te vier, beteken om verby hierdie en ander morele vrae van moets en moenies te beweeg. Daar waar die besinning rondom moets en moenies sig opdring, moet dit as 'n springplank gebruik word om weer eens by die religieuse viering van seksualiteit uit te kom.

Aangesien die seksuele 'n groteske mag is wat mens wesenlik raak, is dit waar dat 'n onvanpaste gebruik daarvan die vermoë het om groot menslike pyn en leed te veroorsaak. Bogenoemde vrae is dus nie ongeldig nie, maar dit sou uiters tragies wees indien (en ongelukkig gebeur dit meer dikwels as minder) hierdie vrae (en 'n legio derglikes) die totaliteit van die besinning oor die verhouding tussen godsdiens en die seksuele uitmaak. Die kern van die wesenlike eenheidsrelasie tussen die erotiese en die religieuse word so gemis. Die skeidsmuur tussen die seksuele en die religieuse wat gebou word met hierdie vrae (en die eindelose besinning daaroor) is op sigself gevaarlik en (by wyse van spreke) meer skadelik as die vermeende "sonde" wat dit probeer aanspreek.

Indien die eenheidsverhouding tussen die seksuele en die religieuse egter erken word, word bogenoemde vrae oorbodig. Dan funksioneer die seksuele op wat mens sou kon noem 'n "evangeliese" vlak. Dit werk soos Jesus se opsomming van die wet: indien liefde tot God en liefde tot die naaste deur die mens verinnerlik word, hoef daar eintlik nie meer besin te word oor valse getuienis, diefstal, egbreek en moord nie. Dan gaan dit nie meer oor die veroordeling of die vermyding van sulke aangeleenthede nie, maar oor die nastreef (sonder dwang en dus van harte) van die positief teenoorgestelde daarvan. In plaas van steel, sal mense uit vrye wil eerder vir ander gee; in plaas van valse getuienis, eerder goed praat van hulle (vgl Ef 4:28); in plaas van moor, veg vir die behoud van lewe; in plaas van egbreek en opbreek, die huwelik en liefdesverhoudings koester (o a met behulp van 'n gesonde sekslewe!).

'n Mens hoef nie (geïntimideer deur die verdraaide godsdienstige tradisie waaruit jy moontlik kom) skuldig te voel as jy die eenheid tussen die seksuele en die religieuse erken nie. Natuurlik loop mens die gevaar dat jy beskuldig sal word dat jy seks verafgod of vergoddelik. Dit is egter in beginsel onmoontlik, want mens kan nie verafgod of vergoddelik wat reeds goddelik is nie. Die probleem lê nie hier by die vergoddeliking van seks nie, maar by die "ontgoddelikking" of profanisering daarvan. Want seks is heilig en om dit te ontken is siek, onheilig en abnormaal.

'n Voorbeeld van die valse onderskeid tussen seks en godsdiens vind ons in die eens gesaghebbende en wyderkende boek van Nygren, getiteld Agape en eros (1969). Uitgaande van die vermeende Griekse betekenis van die woorde eros (= die seksuele drif) en agape (= onbaatsugtige liefde), maak Nygren dan 'n onderskeid tussen die seksuele wat op 'n laer vlak lê en die liefde wat op 'n meer gewenste vlak lê. Om na seksuele omgang te verwys as "liefde maak" sou dan 'n wanbegrip van liefde en 'n onregmatige skaking van die term verteenwoordig. Intussen is dit juis wat seks behoort te wees en is "liefde maak" 'n baie beter beskrywing van seksuele omgang as "saamslaap" of bloot "om seks te hê". Weer eens: die probleem lê nie by die gebruik van die term "liefde maak" nie, maar by die neiging (soos by Nygren en ander) om die seksuele los van liefde te sien en dus te degradeer. Wat Nygren se standpunt des te erger maak, is dat hy 'n twintigste-eeuse Nuwe Testamentikus is wat sy standpunt as Bybels aanbied en daarmee die droewige verhouding wat die Christelike kerk deur die eeue heen ten opsigte van die seksuele gehad het, kontinueer. Om Nygren vanuit die Bybel te weerlê sou maklik wees indien sodanige bewysvoering vir andersins voor-die-hand-liggende insigte vereis word. Die Efesiërbriefskrywer het dit reg gehad toe hy in Efesiërs 6 na die liefde tussen man en vrou verwys het met die begrip agape. Die hele evangeliese boodskap word daar ingespan om die man-vrou verhouding te defineer, en so word die man-vrouverhouding eintlik deel van die evangelie. In Efesiers 6:28-32 (kennelik nie deur Paulus geskryf nie!) funksioneer die seksuele en godsdiens duidelik as 'n onlosmaaklike eenheid:

So behoort mans hulle vroue lief te hê soos hulle eie liggame .... Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees3 word (Gen 2:24). Hierdie misterie is groot en ek sê dit met die oog op die gemeente. Maar ook met die oog op julle: elkeen van julle moet sy vrou liefhê net soos homself.

So gesien is seksualiteit inderdaad 'n konkrete bewys dat liefde bestaan.

'n Bekende en gewilde boekie van die sielkundige Erich Fromm moet ook in hierdie verband genoem word. In The art of loving (1957:37-71) maak Fromm die onderskeid tussen verskeie vorme van liefde. Hy onderskei tussen liefde tussen ouers en kinders, liefde tussen broers en susters, moederlike liefde, erotiese liefde, selfliefde en liefde tot God. Deurdat hy alles in een boek behandel, skep hy die indruk dat al hierdie vorme van liefde dimensies van die groot begrip "liefde", is. Indien mens die boek lees, is dit ongelukkig juis nie so nie. Veral die erotiese staan soms in teenstelling met moederlike liefde of liefde tot God. Dít terwyl siekundiges al lankal raakgesien het dat daar 'n erotiese konnotasie bestaan in die liefde van 'n ma vir haar kind (bv as die baba aan die bors drink). Deurdat Fromm die erotiese ook uitsluitlik of hoofsaaklik in term van die fisiese definieer, word die kenmerke wat dit met liefde tot God in gemeen het, onderspeel (bv totale aanvaarding, teerhartigheid, sorg en volkome oorgawe).

'n Gesonder siening sou wees om die bestaan (want ons bestaan!) van liefde te erken as 'n eenheidskonsep, wat in die praktyk nie verskillende vorme nie, maar verskillende wel fokuspunte aanneem. Sê die skrywer van die Johannesbriewe dan nie dat God liefde is en dat diegene wat liefde het, in God bly nie? (1 Joh 4:7-8). Diegene wat die bestaan van God ontken (sogenaamde ateïste), maar steeds in die wye sin van die woord liefhet, hoef ons dus nie te ontstel nie, want hulle ontken nie God soos wat Hy of Sy werklik is nie, maar die verdraaide drogbeeld van Hom of Haar wat hoogheilige aansprake op geloof maak, maar in die praktyk dit loënstraf (deur bv die brandstapels van eksklusiwiteit en veroordelende houdings).

Beteken bostaande dat 'n kritiese houding nooit ingeneem kan of moet word nie? Allermins! Kritiek is veral nodig teen die duiwel van liefdeloosheid (en seksloosheid) wat immer rondloop en soek waar hy die seksuele kan verdag maak en die liefde kan verslind. Hierdie duiwel moet met alle mag bestry word, veral waar hy hom omhul met geveinsde hoogheilige "reinheid" en "suiwere" geloof.

Beteken bostaande verder dat, indien 'n mens jou seksualiteit volledig erken en verby moralisering en etisering beweeg jy nie (uit vrees dat jy dalk 'n veroordelende houding gaan hê) oor die seksueel-etiese vrae hierbo 'n mening gaan hê nie? Natuurlik nie. Jy gaan juis 'n mening hê, maar nie 'n mening wat uit reëlboekies of uit die Bybel-gereduseer-tot-'n-reëlboekie gemotiveer word nie, maar 'n siening wat jy vir jouself vanuit jouself, uit die bron van die seksuele as religieuse wat in jou is, ontwikkel. Jy het dan juis 'n deurdagte standpunt (wat kan verder ontwikkel en verander) en nie bloot 'n oorgeneemde reël nie.

Kom ons pas wat so pas gesê is op van die voorbeelde toe. Die antwoorde kan kennelik nie bestaan in 'n "ja" vir dit en "nee" vir dat nie, of dat sekere gedrag "normaal" of "abnormaal" is nie, want dan val ons weer in die strik dat ons stelreëls voorskryf wat los van 'n mens in die lug hang en nie deur elkeen vir sigself vanuit sigself (met die erotiese as godsdiens as rigsnoer) vir 'n bepaalde tyd en situasie ontwikkel is nie. Hoe spreek ons dan die vraagstukke aan? Kennelik nie deur apodiktiese voorskrifte nie. 'n Beter weg, met die kriterium van die liefde (1 Kor 12:31), sou kon wees deur vrae te vra en die moontlikhede van verskeie opsies te ondersoek.

2.1 Oor voorhuwelikse seks (as voorbeeld)

Diegene wat voorhuwelikse seks summier veroordeel as sonde reduseer seksualiteit tot penetrasie. Indien mens met Bybelteksies wil werk het elke ketter sekerlik sy letter. Deuteronomium 22:13-30 veroordeel sogenaamde voorhuwelikse seks, maar Hooglied besing seksualiteit in sy totaliteit sonder vermelding van die huwelik. Tradisioneel word dit deur die Christelike tradisie veroordeel, maar selfs uit Christelike kringe word soms beweer dat voorhuwelikse seks met die oog op minder egskeidings eintlik gewens is (vgl die argumente by Kretzschmar 2001:72; vgl ook Müller 2007:372-382).

In die Bybel is daar 'n kaleidoskopiese verskeidenheid sieninge oor die seksuele wat wissel van vrywillige selfkastrering (Matt 19:12) met die oog op die koninkryk van God (iets wat in die selibaat verword het tot 'n wet) tot die a-huwelikse perspektief van die boek Hooglied. Hierdie verskeidenheid sieninge onderstreep juis die standpunt dat sieninge oor hierdie aangeleenthede kontingent behoort te wees, nou gekoppel aan spesifieke mense in spesifieke situasies. Voordat 'n spesifieke gedrag dus summier veroordeel word, is dit meer aangewese om die spesifieke situasie te bekyk. Indien outentieke seks tussen mense plaasvind, vind dit plaas as 'n godsdienstige gebeure. Gaan dit gepaard met deernis, totale aanvaarding, teerhartigheid, sorg en volkome oorgawe? Is seksuele omgang wat op hierdie wyse voor die huwelik plaasvind, nie beter as die funksionering van seksualiteit binne die huwelik as 'n vanselfsprekende "huweliksreg", manipulerende magsmiddel of bloot fisieke daad nie? Tog interessant dat in die Christelike (en ander) tradisies daar dikwels meer bekommernis heers oor die wanneer van die seksuele daad as oor die kwaliteit (= religieuse aard) daarvan. Kerklui, onderwysers, ouers en ander agente van 'n superego-gedomineerde samelewing is dikwels meer bekommerd dat mense dit dalk buite die huwelik doen, as dat hulle dit binne die huwelik met liefde of hoegenaamd doen. Miskien moet dit vir eens hard en duidelik gese word: Voorhuwelikse seksualiteit is nie die noodwendige oorsaak van egskeidngs nie, maar eerder die afwesigheid van goeie seks (of religieuse eros of heilige seks, of kortom: liefde, God) binne die huwelik.

Impliseer wat hier gesê is, dat voorhuwelikse seksualiteit die ideaal is of selfs verpligtend behoort te wees? Indien seksualiteit slegs gesien word as die fisiese en veral penetrasie, sou die antwoord nee wees. Indien seksualiteit gesien word as 'n ruimer liefdevolle religeuse gebeure (wat selfs sonder penetrasie kan plaasvind), is dit steeds nie verpligtend nie, maar voor-die-hand-liggend. Dit is tog net in "matchmaker"-huwelike dat die erotiese nie ter sprake is met die sluiting van die huwelik nie. En daarvan het die moderne westerse samelewing reeds lankal al afskeid geneem.

Elkeen moet hom- of haarself afvra: wat is in my situasie van pas? Wat is in mý situasie die uitlewing van deernis, totale aanvaarding, teerhartigheid, sorg en volkome oorgawe? Pleks daarvan om voorhuwelikse seks te verdoem, te verban of te probeer uitroei, behoort dit tot die pastorale taak van predikante, sielkundiges en seksuele beraders om eerder mense aan te moedig om hulle seksualiteit (binne of buite die huwelik) religieus te beleef en uit te leef. Daarom behoort diegene wat in elk geval saambly, aangemoedig word om dit in liefde te doen en hulle seksuele verhouding steeds religieus te interpreteer, eerder as wat hulle reken dat omdat hulle nou volgens die samelewing se waardes in elk geval in sonde leef, hulle seksuele verhouding niks meer met die religieuse te doen het nie. So ook behoort getroudes nie maar net aan hulle lot oorgelaat te word so lank hulle maar net ten alle koste getroud bly nie, maar moet hulle seksuele verhouding steeds tot groter hoogtes aangemoedig en gestimuleer word. Juis dit sou die evangeliese opdrag van die kerk wees (teenoor laasgenoemde se swak "track record" van die verlede). Juis dit voorkom egskeidings. Baie keer sê die superego-agente: "Moet tog net nie skei nie, al is die seksuele afwesig, veral ter wille van die kinders." Maar niks is so goed vir kinders en maak hulle so gelukkig as om so veel as moontlik hulle ouers in omhelsing te sien nie. Kerklui en beraders moet hulle dus eerder beywer vir die bevordering van seks binne die huwelik (waaraan hulle dalk iets kan doen) as om voorhuwelikse seks te beveg (wat hulle helaas nie kan keer nie).

2.2 Oor masturbasie (as nog 'n voorbeeld)

Wat van masturbasie? In Christelike kringe is dit in die verlede dikwels veroordeel as onkuisheid en onreinheid en sekere Bybelse tekste (soos bv oor Onan, vgl Gen 38:9) is valslik daaraan gekoppel, selfs nadat die Kinsey-verslag in die vyftiger jare gekom het met gegewens dat feitlik 100% van alle mans dit doen (selfs die veroordelers) en 70% vrouens. Natuurlik is die feitlik 100% van mans verklaarbaar. Dit is 'n biologiese wet dat die man se saad wat opbou, gestort moet word. Indien dit nie by wyse van masturbasie geskied nie, dan gebeur dit onwillekeurig tydens 'n erotiese droom. Plaas daarvan dat God geprys word vir die wonder van die natuur wat so werk, word masturbasie egter steeds dikwels in religieuse kringe veroordeel of gedegradeer en word skuldgevoelens daar rondom opgewek. Intussen is dit 'n wonderlike hulpmiddel vir ongetroudes of getroudes met seksuele frustrasie (bv tydens swangerskap en geboorte, of binne "verkoelde" verhoudings). Dat masturbasie sonde sou wees, omdat dit selfsugtig of selfgerig sou wees is 'n mite, want om jou eie liggaam nie te waardeer nie, is om ondankbaar teen God te wees. Juis die fantasering oor seks en die seksuele selfekspressie deur middel van masturbasie is noodsaaklik in die seksuele volwassewording met die oog op 'n gesonde volwasse sekslewe. Die probleem hier is nie die masturbeerders nie, maar die skynvromes wat pakke op mense se rûens laai wat hulle nie kan dra nie en sodoende die grondslag lê vir distorte seksuele opvattings wat weer aanleiding gee tot seksueel onvervulde huwelike, wat weer aanleidings gee tot egskeidings.

Weer eens moet die vraag gevra word: wat dra by tot liefde, deernis en sorg? Die veroordeling van masturbasie as teen die mens se natuur, is nie net ongesond nie, maar liefdeloos, onchristelik en demonies. Eerder moet jongmense (en selfs ouer mense wie se partners hulle ontval het) aangemoedig word om die erotiese opwelling in hulle liggame religieus te interpreteer, om dit te sien as deel van liefde in die breër sin en om God daarvoor te dank.

Nog iets oor masturbasie by vroue. Gewoonlik is die 30% vroue wat nooit masturbeer nie (dikwels as gevolg van manipulering deur oorbekommerde neorotiese en ongeligte moeders) diegene wat later ly aan die (gelukkig meesal geneesbare) siekte van seksuele koudheid (frigiditeit). En hoe behandel seksuele beraders meesal frigiditeit? Deur vrouens te leer om eers te masturbeer, om sodoende hulle eie seksualiteit te aanvaar. Hierdeur is menige huwelik al gered en egskeidings voorkom (met liefde, deernis en sorg die resultaat vir alle partye). Weer eens lê die seksuele en religieuse op 'n kontinuum en staan sekslose godsdiens wat God se gawes veroordeel, as valse godsdiens ontbloot.

Wat pas oor masturbasie gesê is, klink na 'n ongekwalifiseerde ja daarvoor, wat (hoewel positief) na apodiktiese moralisering kan klink. Inderdaad sou daar situasies kon voorkom dat masturbasie ongewens is. Die grootste voorbeeld sou wees indien mens dit in plaas van seksuele omgang met jou lewenspartner verkies en sodoende jou partner tart, afpers of seermaak. Dan dien dit haat en liefdesloosheid en nie deernis en sorg nie. Dan funksioneer dit goddeloos en nie goddelik nie.

Voorhuwelikse seks en masturbasie is hier bespreek as voorbeelde oor hoe denke oor sogenaamde "etiese probleme" kan funksioneer as springplank om die seksuele religieus te vier. Om op alle vraagstukke4 hier in te gaan sou maklik weer kon lei tot moralisering, wat nie die doel hier is nie.

 

3. EROS AS GODSDIENS IN DIE BYBEL

Omdat die Bybel as basisdokument in ons kultuur funksioneer en veral deur kerklui gebruik word om die seksuele te degradeer, is 'n herwaardering van sekere gedeeltes uit die Bybel van pas. Sodoende kan diegene wat hulle eie seksualiteit wil erken en religieus wil vier, weet dat hulle daardeur nie handel teen die die Bybel as sodanig is nie, maar teen 'n verengde en verdraaide siening oor die Bybel. Meer nog: Die positiewe besinning rondom sekere Bybelgedeeltes kan mens juis help om tot seksuele vryheid te kom en die seksuele godsdienstig te vier, ten spyte van die aanslae van veroordelende morele sedebewakers en skynvromes. In wat volg, word seksualiteit in die Bybel geensins volledig bespreek nie, maar word gekonsentreer op aspekte wat die motief van eros as godsdiens ondersteun.

3.1 Die seksuele beeld van God

Ongelooflik baie is al geskryf oor die mens as imago Dei (beeld van God) na aanleiding van Genesis 1:26-27. Min is egter al geskryf oor die seksuele implikasies van die teks en wat dit vir die verhouding tussen die seksuele en die religieuse inhou.

Volgens die Genesis 1-skeppingsverhaal het God die mense en diere op die sesde dag geskape. 'n Belangrike motief van Genesis 1:24-31 is die mens se ekologiese verantwoordelikheid, wat gewoonlik baie (en geregverdigde) aandag in die besinning rondom hierdie teks ontvang, soveel só dat die seksuele implikasies van die idee van die mens as beeld van God onderspeel word. In Genesis 1:26 besluit God: "Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis ..." Dan volg die heersmotief. In Genesis 1:27 word in die derde persoon oor God berig dat hy sy voorneme uitgevoer het. Genesis 1:27 en 28a bevat egter motiewe wat belangrik is vir die outeur se siening oor God en seksualiteit:

So het God die mens geskape na sy eie beeld
na die beeld van God het hy hom geskape
manlik en vroulik het hy hulle geskape;
en God het hulle geseën en vir hulle gesê:
Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde ...

In Genesis 1:26 word by die term "ons beeld" ook die term "ons gelykenis" toegevoeg (wat nie gebeur in vers 27 nie). Die term "ons gelykenis" beteken eenvoudig "soos ons" en verduidelik die imago Dei. Dat die mens volgens die teks "soos" God is, beteken nie dat die mens soos God lyk nie (van beeldvoorstelllings van God wil die Oud-Israelitiese denke juis wegkom - vgl Eks 20:1). Wat wel bedoel word, word in verse 26-30 verduidelik, en inderdaad staan die idee van heers oor die aarde (en veral die diereryk) voorop. Vers 27 verraai egter 'n ander belangrike aspek van die konsep "beeld van God".

Volgens vers 27 volg die uitdrukking "manlik en vroulik het hy hulle geskape" direk op die stelling dat God die mens na sy beeld geskape het. As sodanig verduidelik dit ook die uitspraak. "Manlik en vroulik" saam vorm die beeld van God, nie net die man alleen (soos wat dikswels gedink word nie). In God se beeld, in sy natuur, dit wil sê hoe Hy of Sy is, lê daar dus manlikheid en vroulikheid.5

Meer nog: die Hebreeuse woordkeuse onderstreep die seksuele aard van wat met manlikheid en vroulikheid bedoel word. Die gebruiklike Hebreeuse woorde vir man en vrou is "isj" en "isja" en word byvoorbeeld in die tweede skeppingsverhaal in Genesis 2:21-24 (waar daar 'n volgorde in die skepping van die geslagte is en waar nie van die man en vrou as beeld van God sprake is nie) gebruik. In Genesis 1:27 (waar man en vrou saam beeld van God is) word van die gebruiklike terme afgewyk en die Hebreeuse terme "zakar" en "neqeba" gebruik. Nou is die mooie dat hierdie terme die seksuele beklemtoon op 'n heel eksplisiete wyse. Die term "zakar" (=manlik) beteken oorspronklik "dit wat regopstaan" en "neqeba" beteken "holte". Saam vorm dit die beeld van God! Hierdie seksuele konnotasie word nog verder onderstreep in vers 28a waar daar onmiddellik verwys word na die vrugbaarheid van man en vrou en hulle vermeerdering. Dit is dus duidelik dat die seksuele en religieuse hier nie net na aanmekaar kom nie, maar as 't ware oorvleuel. Nie net die man is die beeld van God nie, ook nie man en vrou as bloot mense nie, maar man en vrou in hulle seksuele vereniging. God is nie manlik of vroulik nie, maar manlik én vroulik (veral wanneer hulle liefde maak).

God is dus alles behalwe a-seksueel. In die godsdiensgeskiedenis van Oud-Israel, in die Jodedom en in die Christendom is God wel al hoe meer "ontseksualiseer", maar diegene wat hulle seksualiteit religieus wil vier kan die bykomende genoegdoening hê dat hulle (minstens wat Genesis 1:27 betref) nie teen die Bybel dink nie.

3.2 Oor Hooglied se religieuse aard

Hooglied is die boek in die Bybel waaroor die meeste kommentare verskyn het. Indien dit sou wees omdat die boekie oor erotiek handel moet dit beslis op die onbewuste vlak lê by die kommentatore, aangesien die meeste kommentare nie Hooglied se seksualiteit besing en vier nie, maar juis probeer (weg)verklaar hoekom so 'n "profane" boek wat oor seks handel, in die Bybel tussen al die ander "heilige" boeke is. Die meeste kommentare het dus deur die eeue heen gestaan in die teken van die allegorie, wat die liefde tussen minnaars wat in Hooglied besing word nie interpreteer as 'n viering van die seksuele nie, maar as verwysende na die verhouding tussen God en Israel of tussen Christus en sy kerk (oorsig by Pope 1977:179-183). Hierdeur word Hooglied op sy kop gekeer binne 'n hermeneutiese raamwerk waar die seksuele teenoor die religieuse staan. Volgens die allegoriese interpretasie gaan dit nie in Hooglied om die seksuele nie, maar oor die a-seksuele-religieuse, nie om seksuele liefde nie, maar om vermeende "heilige, goddelike liefde".

Natuurlik is dit so dat elders in die Bybel die verhouding tussen God en Israel of tussen Christus en die kerk wel in terme van die man-vrou-verhouding uitgedruk word. In beide gevalle (Hos 1-3 en Ef 6) is dit egter duidelik uit die teks afleibaar. In Hosea 1:2 kla God dat sy volk ontrou aan hom geword het en soos 'n "hoer" agter ander gode aanloop. In Efesiërs 6 betrek die briefskrywer die een-vlees-wording van man en vrou as "diepe misterie" op die gemeente. In hierdie tekste word die seksuele dus nie gedegradeer of ontken nie. Inteendeel, die religieuse kwaliteit daarvan word beklemtoon deurdat dit as metafore dien vir God se verhouding met sy mense.

Anders is die geval met die allegoriese interpretasie van Hooglied. Hooglied is seksueel uiters eksplisiet met openlike (a-huwelikse!) verwysings - nie net na die naakte manlike en vroulike liggaam nie, maar veral die seksuele organe (bv die vrou se borste en vagina), asook seksuele aktiwiteit (bv soene, seksuele danse, orale seks en koitus - vgl bv Hoogl 1:1; 7:1-10). Nêrens in die boek is daar 'n aanduiding dat hierdie aspekte moet (weg)verklaar word in terme van God se verhouding met sy mense nie. Trouens, in die boek Hooglied is daar geen verwysing na God nie. Ook nie in Hooglied 8:6 waar verwys word na die (erotiese) liefde as 'n "vlam van die Here" nie. Hooglied 8:6 wil beklemtoon hoe sterk erotiese liefde is: soos die dood, soos 'n magtige vlam. As sodanig is dit wonderlik en feitlik onuitroeibaar. Maar selfs indien die Hebreeuse term in vers 6 (sjalhebetjah) na Jahwê sou verwys, staan dit geensins in die teken van 'n anti-godsdienstige interpretasie van die seksuele soos by die allegorie nie. Inteendeel: seks is dan 'n vlam wat van die Here kom.

Die vraag kan gevra word of Hooglied nie so 'n sekulêre boek is dat dit glad nie met godsdiens in verband gebring kan word nie? Word die eerste wig tussen godsdiens en seks nie dalk juis in Hooglied geslaan nie? Afgesien van die feit dat 'n a-religieuse interpretasie van die werklikheid in die tyd van die boek se ontstaan feitlik ondenkbaar is, kan verskeie argumente hierteen genoem word (vgl ook Walsh 2000:187-116; Carr 2003:91-154).

Eerstens is Hooglied ingesluit in die Bybel wat in sy geheel 'n religieuse kanon verteenwoordig. Indien die mens se liggaam en al sy seksuele eienskappe daarin positief besing word, dan sou dit sekerlik die implikasie hê dat seksualiteit uit 'n religieuse oogpunt gekondoneer word. So betoog die bestaan van die boek Hooglied in die Bybel dus teen skynvromes wat seksualiteit wil afmaak as iets vuils of ongodsdienstig (of slegs binne die eng ruimte van die huwelik toelaatbaar).

Tweedens kan Hooglied slegs a-religieus geïnterpreteer word indien die kriterium vir godsdienstigheid is dat vir elke saak om godsdienstig te wees, God se naam eksplisiet daar moet by staan. In Hooglied speel die vrye natuur 'n groot rol as lokus waarin die seksuele sig voltrek (naas bv die slaapkamer van die koning). Hierdie natuur is God se skepping in sy ongereptheid en 'n siening van godsdiens wat altyd menslike woorde daarby vereis, vereng dit juis. Inteendeel, mens sou kon sê dat Hooglied juis die tradisionele religieuse woorde verminder sodat die mens sonder God (of die dogters van Jerusalem) as spelbreker die seksuele kan geniet.6 Juis hierin lê 'n besondere religieuse aspek van die seksuele.

Derdens besing Hooglied seksualiteit as liefde. Die term wat vir "liefhê" gebruik word is die gebruiklike (ahab), wat ook gebruik word as van liefde tot God en tot die medemens gepraat word. Alhoewel eksplisiet, word seksualiteit in Hooglied dus nie gebanaliseer nie. Die Hoogliedskrywer sien dus nie die seksuele as apart van ander liefdes nie. Inteendeel, die seksuele vind in harmonie met ander verhoudings plaas. Die ouers word nie beleef as veroordelende superego-figure nie, maar word dikwels na verwys gedurende die liefdesspel (3:4; 8:5). Plaas daarvan om die ouerhuis te vermy, is dit die meisie se begeerte om haar minnaar na haar ouerhuis te neem om daar deur haar minnaar ingewy te word in die fynste liefdeskunsies (8:2). Juis hierdeur word die ouers geëer (vgl Eks 20:3) en verhoog die religieuse die seksuele kwaliteit. Ouers wat dus gedurigdeur hulle kinders se seksualiteit ontken of probeer tem, tree dus juis onreligieus op.

Vierdens gebruik die boek Hooglied verskeie religieuse terme en beelde. Daar word telkens na die godstad, Jerusalem, verwys wanneer die vroue van Jerusalem versoek word om nie die verliefdes te steur terwyl hulle liefde maak nie. Dieselfde geld ten opsigte van die Dawidstoring in die stad en na offerplekke. Weliswaar is daar geen direkte koppeling met byvoorbeeld die religieuse dogmas, kultus, "verbondsreligie" of die heilsgeskiedenis nie. Juis dít kommunikeer binne die breër godsdienstige konteks van die dag dat die seksuele soos wat dit is, op sigself religieus is en deel van die konsep van liefde in die wydste sin van die woord. Deur die seksuele heel voor-die-hand-liggend en "sekulêr" uit te beeld, verhoed die boek Hooglied juis dat daar deur 'n suiwer tradisioneel-godsdienstige intepretasie van die boek 'n wig tussen godsdiens en die seksuele ingedryf word en dat die erotiese liefde tussen man en vrou uitgeskuif word as 'n "vleeslike" ongodsdienstige liefde wat nie opsigself religieus is nie.

Só gesien ondersteun die boek Hooglied dus die idee dat seks en godsdiens verlengstukke van mekaar is. Die liefde tussen die geslagte is deel van die goddelike liefde. Hierdie siening wat deur die boek Hooglied gekommunikeer word, sal egter vir vele te goed klink om waar te kan wees. Is dit nie alles fantasie wat nooit in die werklikheid gebeur nie? En indien dit sou gebeur, dan gebeur dit nie met almal nie en beslis met sommiges nooit nie. Wat van onvervulde liefde? Wat van iemand wat nooit sukses het op seksuele gebied nie? Wat van liefde wat verkoel, huwelike wat misluk, liefde wat tot haat skif?

In 'n insiggewende artikel spreek David Clines (1995:94-121) hierdie probleem aan. Hy oordeel taamlik negatief oor die positiewe uitbeelding van seksualiteit in die boek Hooglied. Anders as die allegoriste is dit glad nie omdat hy die spesifiek seksuele aard van die boek wil ontken nie. Trouens, hy gaan so ver om te beweer dat die boek "sagte pornografie" is. As pornografie is dit skadelik, want pornografie is fantasie, seks wat slegs in die mens se verbeelding bestaan. Die werklikheid buite hierdie fantasie is heeltemal anders. Die boek Hooglied tower dus 'n paradysagtige wêreld aan die leser op wat indien hulle dit in die praktyk sou soek, hulle net hulle koppe sou stamp. Want die wêreld daarbuite is alles behalwe 'n paradys. Elkeen moet swoeg om 'n bestaan. Armoede, konflikte en vele ander vorme van lyding is alomteenwoordig. Dit is goed dat Clines ons hieraan herinner, want inderdaad is die lewe op aarde geen paradys nie. Hiermee hou die boek Hooglied ook self rekening as daar gepraat word oor die jakkalsies wat die wingerd verniel, of as die meisie aangeval word wanneer sy na haar geliefde soek.

Om die boek Hooglied af te skryf op grond van die "fantastiese" (!) aard daarvan, is egter ook nie wenslik nie. Dit sou wees om die liefde af te skryf omdat daar haat en lyding in die wêreld is; om godsdiens af te skryf omdat alles nie volmaak is nie. Dat die wêreld vandag so oorbevolk is, is immers 'n direkte resultaat van die uitvoering van Genesis 1:27 se opdrag. Verder is dit 'n feit dat seksualiteit vandag deur baie mense geniet word (as rekreasie en nie as prokreasie nie), of minstens soms geniet word. Die feit dat dit nie meermale gebeur nie is minstens onder andere omdat mense die slagoffers is van verdraaide anti-seksuele pseudo-godsdienstige sienings, of omdat hulle verdraaide prioriteite het (deur bv besittings en roem hoër te ag as die liefde).

Verder speel die voyeuristiese, deels-fantastiese aard van die boek Hooglied (of enige seksuele fantasie) 'n uiters belangrike terapeutiese rol. Vir diegene wat ontdaan is aan die voorregte van die liefde, bied dit steeds hoop op die toekoms, of kan dit opsigself as fantasie geniet word. Dit is juis diegene wat slegs die negatiewe in die werklikheid raaksien wat bydra tot die nagatiewe ('n "self-fulfilling prophecy"), terwyl diegene wat die erotiese religieus vier juis tot die erotisering van die werkliheid bydra en die negatiewe verminder. Juis daarom moet die erotiese as religieus gesien word, aangesien dit in die seksuele nie slegs om 'n egoïstiese selfbevrediging behoort te gaan nie, maar ook om 'n positiewe inspuiting in 'n werklikheid wat nog in vele opsigte ontdaan is van liefde. Deur seks moet God dus gedien word. Om dus in die naam van God seks as "sondig, vleeslik en vieslik" te beskou is, (spreekwoordelik gesê) die grootste truuk in die duiwel se boek.

3.3 Jesus van Nasaret en die seksuele

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License