SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue4 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.4 Pretoria Oct./Dec. 2008

 

'n Proloog tot hierdie bundel: 'n Unieke groep en perspektief op die Bybel en die Nuwe-Testamentiese Wetenskap

 

A prologue to this volume: A unique group and perspective on the Bible and New Testament Studies

 

 

Pieter G R De Villiers

Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat

 

 


ABSTRACT

This introduction explains the motivation for and background of a unique meeting between Dutch, Flemish and Afrikaans New Testament scholars that took place in January 2008 in Stellenbosch, South Africa. The conference focused on the theme of "Violence and the New Testament". The introductory essay explains the nature, proceedings and outcomes of the meeting. It points out the historic nature of the meeting and that the members of the conference decided to promote a regular forum where Dutch-speaking scholars from different continents (where forms of Dutch are spoken by 60 million people) can meet.


 

 

Hierdie publikasie is die vrug van 'n interessante eerste ontmoeting van 'n aantal Nuwe-Testamentici wat in Januarie 2008 in Suid-Afrika plaasgevind het. Die byeenkoms gaan terug op 'n insidentele ontmoeting van Pieter de Villiers met Bert-Jan Lietaert Peerbolte in November 2005 tydens die SBL-konferensie in die V S A oor die moontlikheid om Dietse Nuwe-Testamentici gereeld op 'n georganiseerde basis oor 'n aktuele tema bymekaar te bring. Daar is vele bande wat Bybelwetenskaplikes uit die Dietse taalgebied (veral Suid-Afrika, Nederland en België) met mekaar bind. Ongeveer sestig miljoen mense wêreldwyd behoort tot hierdie taalgroep - wat samewerking alreeds sinvol maak. Samewerking sou egter nie net interessant wees vanuit die perspektief van hulle gedeelde taal nie, maar ook vanweë 'n gedeelde teologiese konteks. Histories gesien is daar opvallend sterk bande van Afrikaanse Bybelwetenskaplikes met Nederland wat in sommige gevalle reeds ongeveer 150 jaar lank duur. 'n Beduidende groep Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentici het in Nederland gestudeer, op 'n navorsingsverblyf daar vertoef of by universiteite opgetree. Voorts word publikasies deur wetenskaplikes in hierdie lande oor en weer gelees, is daar gereeld spontane, goeie kontak tydens internasionale konferensies en vind samewerking plaas in publikasies en formele uitruilprogramme van universiteite - onder andere tussen die Katholieke Universiteit in Leuven en universiteite in Bloemfontein, Pretoria en Stellenbosch.

Dit sou egter veral interessant wees om die intuïsie dat daar in Bybelwetenskaplike werk in die Dietse taalgebied 'n sekere akademiese en teologiese unicum dalk te bespeur is, te kon toets deur durende en meer geformaliseerde kontak, spesifiek afgestem op Dietssprekende kollegas uit Suid-Afrika, Nederland en België. Dit sou die internasionale toneel met sy kenmerkende Anglo-Amerikaanse en Duitse trajekte net verder kon verryk. Van die begin was die gedagte daarom dat die byeenkomste uitsluitlik in die drie verwante tale aangebied sou word.

Sekere uitdagings maak so 'n samewerking ook nuttig. Weens die beperkte en selfs dalende getalle van Bybelwetenskaplikes, die druk waaronder teologie verkeer en besuinigingsmaatreëls by universiteite, sou samewerking 'n lang tradisie van Bybelwetenskaplike werk alleen maar kon ondersteun en sterker maak. Voorts sou so 'n byeenkoms vanweë die onderskeie Wes-Europese en Suid-Afrikaanse kontinente met al hulle eie identiteite en uitdagings ook 'n unieke uitruil van idees kon meebring en moontlik nuwe kennis kon genereer. Uiteindelik is die bevordering van taalspesifieke navorsing weens die betekenisskeppende aard van taal en die beskerming van inheemse tale, soos deur die Verenigde Nasies voorgestaan, indirek ook van belang.

Na die ontmoeting tussen De Villiers en Lietaert Peerbolte, is die gedagte getoets in verdere gesprekke met kollegas in die drie lande. Die reaksie was besonder positief, sodat daar uiteindelik 'n informele reëlingskomitee met Jan van der Watt en Pieter de Villiers (Suid-Afrika), Jan-Willem van Henten en Bert-Jan Lietaert Peerbolte (Nederland) saam met Jos Verheyden (België) gevorm is om die eerste byeenkoms te organiseer. Uitnodigings is wyd gesirkuleer aan kollegas in die drie lande en van verskeie van hulle is 'n positiewe terugvoer ontvang en uiteindelike deelname afgespreek.

As eerste tema vir die byeenkoms van Dietse Nuwe-Testamentici is besluit op Geweld en Die Nuwe Testament. Die konferensie is van 21 tot 23 Januarie 2008 deur 'n twintigtal Nuwe-Testamentici in die skilderagtige Stellenbosch oor 'n tydperk van drie dae in volmaakte hoogsomer weer bygewoon. Die voertaal was uitsluitlik in die sprekers se moedertaal (Afrikaans, Nederlands en Vlaams). Die gedagte om referate van kwaliteit oor 'n koherente tema aan te bied wat dan in 'n geslote konteks uitvoerig bespreek kon word, het uiteindelik goed gerealiseer en sinvolle gesprekke kon gevoer word. Dit was interessant om te merk hoedat die aanvanklike taal-verskille tussen die taalgroepe spoedig oorbrug is vir 'n natuurlike en indringende gesprek in 'n ontspanne konteks.

Na 'n inleidende aanbieding oor enkele belangrike tendense en skrywers oor geweld en die Nuwe Testament deur Jan-Willem van Henten (Geweld in het Nieuwe Testament: Oriëntatie in relevante theorieën) het die konferensie begin met bydraes oor die Johannese tekste deur Jan van der Watt (Geweld in 'n Evangelie van Liefde) en Wim Weren (Het gebruik van geweld bij het bestraffen van seksuele vergrijpen: Johannes 7, 53-8, 11 in het licht van andere bijbelse teksten).1 Weens die beperkte tyd en die groot aantal referate, kon daar op die konferensie slegs een respons georganiseer word. Vir hierdie oefening, veral om te illustreer hoe dieselfde teks uiteenlopende perspektiewe op geweld kan genereer, het Jos Verheyden gereageer op Wim Weren se bydrae. Die organiseerders is dank verskuldig aan beide referente dat hulle bereid was om hierdie eksperiment op te neem en vir die belangrike gesprek wat daar tussen hulle plaasgevind het.

Referate oor Openbaring is daarna gelewer deur Paul Decock (Schepping as oorlog tegen en overwinning over de chaotische krachten), Pieter de Villiers (Openbaring 18 as toetsteen vir nadenke oor geweld) en Tobias Nicklas (Openbaring 19:11-21. Die finale eskatologiese stryd en die verhouding daarvan tot Bybelse Teologie). Oor die Pauliniese literatuur is insette gelewer deur Andries van Aarde (Geweld en toleransie by Paulus), Francois Tolmie (Geweld in Galasiërs) en Rob van Houwelingen (Een godvechter wordt voorvechter).

Ander Nuwe-Testamentiese materiaal en teorievorming is aangespreek deur Johan Thom (Geweld in die Bergrede), Bert-Jan Lietaert Peerbolte (Het martyrium van Stefanus - geweld as uiting van cultureel conflict), Pieter Botha (Bloedoffers en morele vorming: Gewelddadigheid as faset van Christelike tradisies). Ten slotte is kontekstuele en post Nuwe-Testamentiese materiaal ter sprake gebring deur Jeremy Punt (Verwarrende boodskappe oor geweld in die Nuwe Testament: Agentskap en ambivalensie in 'n imperiale konteks), Ernest van Eck (Jesus en geweld: Markus 12:1-12 [par] en Tomas 65 A) en Annemaré Kotze (Augustinus se Confessiones: 'n Konteks van geweld?).

Met uitsondering van twee referate, is al hierdie bydraes na afloop van die konferensie deur die referente na aanleiding van die gebruiklike eweknie-evaluering verwerk met die oog op publikasie in hierdie uitgawe van HTS. Van Nicklas word 'n alternatiewe artikel gepubliseer wat 'n belangrike perspektief op die debat bied. Die bundel word afgesluit deur 'n bydrae van De Villiers waarin enkele lyne wat die artikels in die bundel kenmerk en wat in toekomstige navorsing aandag kan kry, uitgespel word.

By 'n besigheidsvergadering ter afsluiting van die konferensie is eenparig deur al die deelnemers besluit om die samewerking op 'n tweejaarlikse basis voort te sit oor 'n onderwerp wat die tema van die eerste konferensie sinvol sou ontwikkel. Die bestaande organiserende komitee is aangewys om die reëlings daarvoor te tref. Ook is besluit om die referate te verwerk met die oog op publikasie in HTS Teologiese Studies onder redaksie van prof A G van Aarde. Met die oog op 'n internasionale gehoor sal die referate uiteindelik ook in Engels verwerk en gepubliseer word. Met hierdie uitgawe van HTS word die diskussie en navorsing van die historiese gebeurtenis in Stellenbosch aan 'n Dietse gehoor bekend gestel, terwyl die Engelse weergawe in die loop van die volgende jaar sal verskyn. Die organiserende komitee is besondere dank verskuldig aan Professor Van Aarde as redakteur van HTS en Mevrou Adri Goosen, HTS se Publikasie-koördineerder, vir hulle harde werk en baie ure van toewyding wat hierdie publikasie moontlik maak.2

Hoewel daar in die verlede by geleentheid ontmoetings tussen Nederlandse en Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentici was, was hierdie byeenkoms histories in die sin dat die betrokkenes uiteindelik besluit het om hulle samewerking op 'n gereelde basis in die toekoms voort te sit en, tweedens, om dit in die vorm van publikasies gereeld aan 'n breër (ook nie-Dietse) publiek bekend te stel.

Die geleentheid het nie net besondere gesprekke oor en groter begrip van die tema van die byeenkoms moontlik gemaak nie, maar het ook tot kontak op ander terreine en tot individuele samewerking tussen die deelnemers gelei. Die deelnemers het eksplisiet gemeld hoe positief hulle die aanbieding en gesprekke in hulle moedertaal ervaar het, hoe verrykend die gefokusde en gerigte bespreking en gesprekskarakter van die byeenkoms was, watter voordele uit die diversiteit van aanbiedinge na vore gekom het, watter nuwe moontlikhede vir navorsing gegenereer is en watter belowende moontlikhede vir toekomstige kontak deur die byeenkoms na vore gekom het. Hierdie unieke groep van Dietssprekende Nuwe-Testamentici wat op 'n eerste byeenkoms vanuit 'n besondere perspektief van geweld na die Nuwe Testament gekyk het, het 'n verrykende ervaring gehad wat hopelik in die toekoms deur meerdere kollegas meegemaak sal word.

 

 

1 Die volgorde van die artikels in die HTS kom nie met dié van die konferensieprogram ooreen nie - Redakteur.
2 Die redakteur, prof Andries van Aarde, bedank prof Pieter de Villiers vir ondersteuning in die redigeringsproses van hierdie versameling artikels.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License