SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.3 Pretoria Jul./Sep. 2008

 

BOEKBESPREKINGS / BOOK REVIEWS

 

 

Vos, Cas & Human, Dirk (reds) 2007 - Liefde is die grootste: Oor erotiek en seksualiteit
Uitgewer: Protea Boekhuis, Pretoria. 434 bladsye. Prys: Onbekend.
Resensent: Prof Dr P M Venter (Universiteit van Pretoria)

Menslike seksualiteit is 'n saak waaroor daar nooit klaar gepraat kom nie. Dit is egter die verdingliking van seksualiteit en die aanwending daarvan as verhandelbare kommoditeit wat teenreaksie uitlok. Seksualiteit het met die hele mens te doen. Dit is nie iets wat hy"het" nie, maar iets wat deel is van sy menswees. Om daaroor te praat, is om na te dink oor wat dit beteken om mens binne die totaliteit van die werklikheid te wees. En dit is die deurlopende tema in hierdie publikasie. 'n Totaal van 27 bydraes is hier versamel wat na seksualiteit en erotiek vanuit bykans elke denkbare hoek kyk.

Die bydraers sluit bekende name vanuit veral die teologiese wêreld in, maar dan ook vanuit die Afrikaanse letterkunde, die beeldende kunste, die sielkunde, die regswese en die biologiese wetenskap. Dit is uit hierdie potpourri - of feesmaal met verskillende kokke, soos die redakteurs dit in hulle voorwoord noem - duidelik dat seksualiteit gesien word as iets wat binne 'n baie breë perspektief en 'n holistiese konteks verstaan moet word. Die bydraes is dan ook in nege kategorië ingedeel: Antieke wêreld(e), Bybelse perspektiewe, Poëtiese stemme en 'n kortverhaal, Kuns, Lewenstyl, Lewe en denke, Geloof en lewe, Reg en erotiek, Liggaam en gene. Alhoewel daar begrip is vir die problematiek om so 'n wye spektrum van bydraes byeen te bring in een bundel, is dit tog 'n vraag of bydraes altyd in die beste kategorie geplaas is. So, byvoorbeeld, sou die bydrae van Daniël Veldsman oor estetiek en erotiek veel beter in die kategorie Kuns gepas het waar dit juis gaan oor die verhouding tussen kuns en erotiek binne die raamwerk van menslike kommunikasie. Jurie le Roux se bydrae wat hoofsaaklik oor die boek Prediker, gaan sou beter inpas by die kategorie Bybelse perspektiewe.

Die meeste bydraes kom uit teologiese kringe, juis omdat die kerk tans gekonfronteer word met sake soos die huwelik en homoseksualiteit - waarvoor daar 'n lang uitstaande rekening teen die kerk se naam staan. In die afdeling Antieke wêreld(e) (bls 15-88) gee die bydraes aandag aan die antieke sosio-kulturele wêreld waaruit die Bybel kom. Dit is die gebiede van die ou Nabye-Ooste en die Mediterreense wêreld. Vanuit literêre, ikonografiese en argeologiese navorsing word aangetoon dat ons hier met 'n antropologie en gevolglik seksuele beskouings te doen het wat sterk verskil van die van die huidige Westerse wêreld.

Die bydraes in die afdeling oor Bybelse perspektiewe (bls 89-204) hanteer materiaal uit beide Ou en Nuwe Testament. Literêr-sosiale studies word hier aangebied oor gedeeltes soos Hooglied en Romeine 1:26-28. Die sosiale aspekte van seksualiteit soos homoseksualiteit, vrouwees in die antieke wêreld en die huwelik, kom ook hier ter sprake. 'n Tema wat hier na vore kom is dat seksualiteit in die antieke wêreld gesien is as inherente deel van menswees wat vanuit 'n etiek van verantwoordlikheid geleef moes word. 'n Ander tema wat by die meeste teologiese bydraes in die hele bundel voorkom, is die dringende behoefte dat die kerk sal moet herbesin oor sy tradisionele standpunte oor seksualiteit vanuit 'n baie meer genuanseerde Skrifondersoek as wat tot hier toe die geval was.

In die afdeling Poëtiese stemme en 'n kortverhaal (bls 205-239) kom bydraes voor van bekende skrywers, digters en letterkundiges soos Joan Hambidge, Daniel Hugo, Cas Vos en H J C Pieterse. Vanuit literêre kritiek skryf Hambidge oor die verkenning van die geslagtelike in die letterkunde, veral op die terrein van die lesbiese en homoseksuele. Hugo skryf oor die gebruik van landskapstonele in die letterkunde as uitbeelding van erotiek. Vos lewer sy poëties-georiënteerde hooglied oor die liefde. Pieterse se Afdruk is 'n bondige kortverhaal in die eerstepersoon oor liefde en die teleurstelllings wat dit bring.

In twee interessante bydraes onder die opskrif Kuns (bls 242-259) word aangetoon hoe erotiek in die kunste gebruik word, veral hoe in die handelswêreld erotiek in die advertensiewese uitgehol word en van sy wesenlike kenmerk van verwagting beroof word. Daaraan verwant is die bydraes onder Lewenstyl (bls 262-328) wat, soos reeds aangedui, bydraes bevat wat eerder onder 'n ander rubriek tuishoort. Een van die twee vertaalde artikels in die bundel wat deur buitelanders geskryf is (Eckart Otto en hier Michael P Haspel), kom in hierdie afdeling voor. Wat veral in die bydraes van hierdie afdeling opval, is die pleidooi dat die Christelike etiek holisties en multi-dissiplinêr sal moet nadink oor seksualiteit en sy verskillende vorms in die maatskappy. Ook in sy nadenke oor die fenomeen homoseksualiteit sal die kerk baie meer pastoraal en omvattend moet dink. Erotiek moet as verlengstuk van spiritualiteit hanteer word en nie as die teenstander daarvan nie. In die artikel van A van Niekerk word die kern van die bundel myns insiens saamgevat wanneer hy pleit vir 'n verandering en 'n "bereidheid van kerklike kant om mense se huidige seksuele behoeftes te begryp, 'n herwaardering van die seksuele realisme van die Bybel, 'n hersiening van ons Godsverstaan en 'n nouer verbinding tussen seksuele en Godservaring" (bl 321).

Die rol van sielkunde in die verstaan van menslike seksualiteit kom ter sprake in die afdeling oor Lewe en denke (bls 329-369). Daar word nie net gewys op die noodsaaklikheid om seksualiteit binne 'n breër humane raamwerk te sien nie, maar ook aandag te gee aan die talle aspekte wat wesenlik deel uitmaak van geslagtelike verhoudings. Die enkele bydrae onder Geloof en lewe (bls 371-381) bepleit 'n narratiewe pastorale benadering tot seksualietit wat nóg wetties nóg vrysinnig daarmee omgaan, maar eerder klem lê op die kwalietit daarvan in menslike verhoudings. Die regsperspektief kom ter sprake in die afdeling Reg en erotiek (bls 383-394). Die probleme wat ondervind word in die regswese onder 'n nuwe grondwet met sake soos pornografie en erotiek word hier in regsterme bespreek.

Die laaste afdeling oor Liggaam en gene (bls 395-434) bevat twee bydraes, die een vanuit die mediese wêreld oor die biologie van menslike seksualiteit en die ander vanuit eko-teologiese perspektief wat oor die rol van gene en menslike gedrag handel.

Die bundel met sy omvattende benadering tot seksualiteit en erotiek bevat artikels wat wissel vanaf populêre benaderings tot redelik ingewikkelde beredenerings. Die teikenlesers sal dus nie 'n homogene groep wees nie, maar persone wat veral teologies in die onderwerp van seksualiteit geïnteresseerd is. Afhangende van die kompetensie van die leser sal sy/haar waardering dus van bydrae tot bydrae wissel. Elke bydrae bevat ook 'n uitvoerige bibliografie. Die bundel is voorsien van 'n lys van skrywers wat hulle affliliasies volledig aangee.

Drukfoute en spelfoute kom uiters selde voor (net sowat vyf in die hele bundel). Die drukwerk is keurig versorg en die slapband omslag kleurryk versier. Die bindwerk is van hoë gehalte.

In die lig van die aktualiteit van die tema van die boek en sy tydigheid, die hoë vlak van die bydraes wat opgeneem is en die keurige openlikheid en omvattendheid waarmee die saak hanteer word, word hierdie publikasie van harte by die breë publiek aanbeveel.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License