SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 número3 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


HTS Theological Studies

versión On-line ISSN 2072-8050
versión impresa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 no.3 Pretoria jul./sep. 2008

 

BOEKBESPREKINGS / BOOK REVIEWS

 

 

Afrikaanse omsetting: Piet Venter, Johann Symington & Amie van Wyk 2007 - Augustinus - Belydenisse: Getuienis oor 'n lewe in God
Uitgewer: Lux Verbi. 475 Bladsye. Prys R139.95.
Resensent: Ds C E C Hertzog (Middelburg)

Augustinus is een van die bekendste kerkvaders en sy Belydenisse een van die klassieke werke in die Christelike tradisie. Dit word onder andere duidelik uit die feit dat geen kerkvader so dikwels deur Calvyn aangehaal word as Augustinus nie. En dit bykans 1200 jaar nadat die werk voltooi is! Geen wonder dat Noordmans gesê het dat elke teologiese student die werk ten minste drie keer behoort te lees nie. Danksy 'n vertaling met die medewerking van Piet Venter, Johann Symington en Amie van Wyk is hierdie geestelike besinning nou in Afrikaans beskikbaar.

Augustinus vertel van sy eg persoonlike soeke na die waarheid sedert sy kinderdae. Alhoewel dit mag lyk of die verhaal 'n outobiografie kan wees bevat dit veel meer as 'n lewenskets. Op die agteromslag van die hardebandboek word Augustinus se soeke soos volg verduidelik:

Augustinus se Belydenisse is eintlik 'n reis, 'n soekende hart se ekspidisie tot in die hart van die lewende en genadige God. Dit is meer as 'n lewensverhaal; dit is 'n intieme leesavontuur, een lang gesprek met die God wat na jou uitreik en jou omvorm ... Aangrypend en openhartig vleg hierdie groot kerkvader uit Afrika die vertelling oor sy onstuimige lewensloop meesterlik ineen met kernsake van ons algemene geloof.

Die werk bestaan uit dertien boeke. Die eerste tien boeke begin deur te vertel van Augustinus se stormagtige kinder- en studentedae in Noord-Afrika (361 nC tot 383 nC). In hierdie tyd bestudeer hy Aristoteles en maak hy nader kennis met die Manicheërs wat aanvanklik 'n groot invloed op hom uitoefen, maar van wie hy hom later distansieer. Dit vertel ook van sy ontvlugting van sy moeder, Monica, en sy daaropvolgende omswerwinge in Europa waar hy onder andere as dosent in retoriek in beide Rome en Milaan onderrig gee. Hy vertel op aangrypende wyse van sy bekering in Augustus 386 nC en van sy moeder se sterwe in 387 nC nadat hy met haar versoen is. Kort na hierdie gebeure keer hy terug na Noord-Afrika waar hy as biskop gewy word en die res van sy lewe deurbring tot sy dood in 430 nC.

Die laaste drie boeke bestaan uit 'n allegoriese uitleg van die skeppingsverhaal in Genesis met heelwat minder biografiese gegewens. Hy weerlê dwalings oor wat God vóór die skepping sou gedoen het en ondersoek indringend die raaisel van tyd.

Hierdie Afrikaanse weergawe bied veel meer aan die leser as bloot 'n vertaling van Augustinus se Confessiones. Na die inhoudsopgawe volg 'n insiggewende tydlyn van belangrike datums en plekke wat 'n waardevolle hulpmiddel vir die leser is. Amie van Wyk bied daarna in vyf bladsye 'n net so insiggewende voorwoord wat bestaan uit 'n bekendstelling van Augustinus, 'n uiteensetting van sy nalatenskap en 'n kort verduideliking van sy betekenis vir vandag. In die dertien boeke is daar talle voetnote wat die teks verder vir die leser oopbreek deur óf na ander tekste te verwys óf kort verduidelikings oor die inhoud van die gedeelte te verskaf. Na die boeke volg 'n bylae met 'n indeks van Bybelgedeeltes en 'n bronnelys wat bedoel is as wegwyser vir studente en belangstellendes wat meer oor Augustinus wil nalees.

Onder die redakteurskap van Claude Vosloo is daarin geslaag om hierdie greep uit die denke van Augustinus in 'n lesersvriendelike Afrikaans toeganklik te maak vir die leser. Ek beveel graag hierdie publikasie aan vir beide hulle wat 'n ernstige teologiese studie onderneem en hulle wat geïnteresseerd is in die eg persoonlike belydenis van 'n gelowige sondaar wat rus vind in 'n genadige God. Die Belydenisse sal elkeen aanspreek wat dit lees.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons