SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.3 Pretoria Jul./Sep. 2008

 

BOEKBESPREKINGS / BOOK REVIEWS

 

 

Renkema-Hoffman, M 2007 - Naar een nieuwe kerkenraad (Apeldoornse Studies, no 48)
Uitgewer: Theologische Universiteit Appeldoorn. 84 Bladsye. Prys: Onbekend
Resensent: Dr B J van Wyk (Pretoria)

Die vraag na die amp in kerke van Reformatoriese oorsprong is nie 'n onlangse probleem nie en derhalwe ook nie beperk tot Nederland nie. Juis daarom word met dankbaarheid geput uit navorsing wat buite die eie kerk gedoen word waaruit terselfdertyd beklemtoon word dat die eenheid van die kerk wyer loop as die grense van die eie kerk.

Die skrywer stel die probleem rondom die amp wat daarin bestaan dat die tradisionele beskouing onder druk gekom wat tot 'n bepaalde funksieverlies aanleiding gegee het. Die vraag kom na vore of bepaalde veranderinge steeds te rym is met die prinsipiële vertrekpunte wat die Bybel as uitgangspunt neem, nader besien in die verlenging lê van Christus wat die oorsprong en daarom Heer en Hoof van die kerk is. Christus regeer die kerk deur sy Woord en maak gebruik van mense wat die volmag ontvang het om die evangelie te verkondig en sakramente te bedien. Ampsdraers was derhalwe persone wat oortuig was van die roeping wat hulle ontvang het om in die kerk diensbaar te wees. Bogenoemde Skriftuurlike uitgangspunt het tot gevolg dat bepaalde Bybelse uitgangspunte nie losgelaat moet word wat werklik essensieel vir die amp is soos dit in die Bybel gevind word nie.

Nadat die tweede hoofstuk gewy is aan 'n Bybelse omlyning van die amp kom die skrywer tot die volgende slotsom: Christus regeer sy gemeente as Heer van die kerk. Hy doen dit deur sy Woord met gebruikmaking van mense wat Hy as dienaars roep. Te midde van vele gawes, dienste en funksies kom die oudste telkens na vore wat opsig oor die kudde moet hou deur woord en leer. Wanneer oudstes die verantwoordelikheid het om te preek en onderrig te gee, vorm hulle nie 'n aparte kring en ontvang nie 'n ander amp nie. Diakens staan naas die oudstes as dienaars van die gemeente. Oudstes vorm 'n vergadering waar gesamentlik verantwoordelikheid aanvaar is vir die opsig oor die gemeente.

In die derde hoofstuk word gekyk na die historiese ontwikkeling van die amp vanaf die vroeë Christelike kerk tot en met die Reformasie, die uitbou van die amp in die Nederlandse gereformeerde kerke gevolg deur resente ontwikkelinge in die funksionering van die amp. Hieruit volg die volgende slotsom: die opkoms van die episkopaat het gelei tot 'n devaluasie van die amp van die ouderling en diaken. In die Reformasie verander die gesag oor gelowiges tot 'n dienswerk (ministerium) onder die verkondiging van die evangelie. Die reformatore is oortuig dat die amp ten opsigte van die priesterskap van die gelowiges nie onderskat moet word nie maar daardeur ook nie oorbodig gestel moet word nie. Die een dienswerk (ministerium) kom in meer vorme voor, maar bly steeds 'n dienswerk. Die amp van diaken bestaan uit die versorging van armes, maar bly nie daartoe beperk nie. Die reformatore lei hulle opvattinge oor die amp uit die Skrif af wat hulle as Woord van God verstaan het. Die Nederlandse gereformeerde kerke het hoofsaaklik Calvyn gevolg wat die bedienaar van die Woord onderskei het in herder en leraar, maar ook ouderling. Aan die diaken word barmhartigheid opgedra met 'n woord en gebed van troos wat beklemtoon dat die diaken se taak nie in geld opgaan nie. Toenemende werkdruk en ongemak met die funksionering van die amp is redes waarom verandering aan die amp noodsaaklik beskou word. Daar is 'n groeiende aandag vir gemeentelede met hulle geestelike gawes en 'n tendens om die amp te demokratiseer deur ampsdraers te beskou as afgevaardigdes van die gemeente met die opdrag om die wense van die meerderheid uit te voer.

In die vierde hoofstuk word drie modelle voorgehou vir 'n nuwe kerkraadsopset naamlik, van die Christelike Gereformeerde Kerke Groningen en Veenendaal-Bethel, asook van die Gereformeerd Vormings Instituut te Zwolle. Die belangrikste kritiek teen die genoemde modelle is die feit dat die ampswerk uit mekaar gehaal word wat tot gevolg het dat nie alle ouderlinge deel het aan die werk wat eie aan hulle amp is nie. Dit as gevolg van die klem wat bestuur ontvang naas pastoraat en opsig. In die model wat die skrywer ten slotte aanbied word juis laasgenoemde as kritiek aangedui en voorgestel dat één kerkraadsvergadering behou word wat handel oor die herderlike taak van die gemeente waarin pastoraat en bestuur gesamentlik ter sprake kom. Dit word ook gestel dat die amp van diaken 'n ander amp is en dus apart in 'n diakensvergadering byeen moet kom. Daarnaas kan ook bepaalde gemeentelike taakvelde bestaan wat deur kommissies en werkgroepe beset word vir die uitvoer van vasgestelde beleid.

Bogenoemde publikasie is bruikbare leesstof wat die amp omlyn teen die agtergrond van die Bybelse en historiese ontwikkeling van die amp. Die positiewe waarde van die publikasie is die beklemtoning dat die amp 'n dienswerk is en wesenlik is teenoor bestuur wat hedendaags ook belangrik geag word. Dit is debatteerbaar of die oplossing gesoek moet word in radikaal nuwe strukture eerder as om te aanvaar dat ampsdraers steeds geroepe diensknegte is wat in diens van die Heer van die kerk hul dienswerk uitvoer.