SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue3Hearers' attitude as possible communication barrier in transferring the message of a sermon: Homiletical-empirical points of viewNagid: a re-examination in the light of the royal ideology in the ancient near east author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.64 no.3 Pretoria July/Sept. 2008

     

    Die dimensies "eenheid" en "katolisiteit" in die ekklesiologie van die Nederduitsch Hervormde Kerk sedert Ottawa 1982

     

    The dimensions "unity" and "catholicity" in the ecclesiology of the Netherdutch Reformed Church since Ottawa 1982

     

     

    Tanya van Wyk & Johan Buitendag1

    Departement Dogmatiek en Christelike Etiek. Universiteit van Pretoria

     

     


    ABSTRACT

    This article examines the current ecclesiology of the Netherdutch Reformed Church of Africa (NHKA) with reference to the extent to which the church understands unity and catholicity as biblical indicatives and imperatives. The article argues that the church's understanding of unity and catholicity is prejudiced and influenced by the prominence the church awards to the tenet of an ethnic "peoples church" ("volkskerk"). This has lead to the NHKA's ecumenical isolation. It is hence argued that the abolition of the church's "ethnic church theology" will result in the abolition of its ecumenical isolation and will enable the NHKA to confess anew with the "church of all ages", the "one, holy, apostolic and catholic Church".


     

     

    1. INLEIDING

    Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (hierna NHKA) verkeer veral die afgelope 25 jaar in 'n posisie van grootskaalse isolasie ten opsigte van internasionale ekumeniese liggame. Hierdie isolasie het finaal ingetree tydens en na die vergadering van die Wêreldbond van Hervormde Kerke (World Alliance of Reformed Churches, hierna WARC) te Ottawa 1982. Die NHKA is daar deur die WARC gevra om 'n duidelike uitspraak teen Apartheid te maak na hierdie vergadering se aanvaarding van 'n status confessionis oor hierdie aangeleentheid. Die NHKA het dit egter nie gedoen nie, is gevolglik gesuspendeer en het toe kort daarna uit hierdie liggaam bedank. Hierdie artikel beredeneer die tese dat die skeiding tussen die NHKA en die WARC verband hou met die voortgaande koestering van die volkskerklike denke in sekere kringe van die NHKA, soos wat dit destyds in Artikel III van die Kerkwet geïmpliseer is en sedert 1997 in Ordereël 4 van die huidige Kerkorde ook eksplisiet verwoord is. Hierdie Kerkordelike standpunt het op die verhouding met die NHKA se "dogterkerk" geïmpakteer. Dit kan onder andere gesien word in die naamsverandering van laasgenoemde kerk.2

    In 2006 is 'n nasionale Colloquium deur die 67ste Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die NHKA gereël en die basis van hierdie samespraak was 'n dokument getiteld: Die identiteit en relevansie van die NHKA aan die begin van die 21ste eeu in Suid-Afrika: 'n Selfverantwoording. Die doel van die byeenkoms, en so ook die strekking van die konsepdokument, was om opnuut oor die NHKA se identiteit en roeping (oftewel ekklesiologie) in veranderende tye (m a w die 21ste eeu) te besin. Hierdie Colloquium het gedurende 2006 as een van die basisdokumente gedien aan die hand waarvan gesprek tussen die NHKA en die WARC oor dié kerk se herstel van lidmaatskap van hierdie liggaam plaasgevind het.

    By Ottawa is op die volgende vereistes besluit vir die hertoelating van die NHKA tot die WARC.3

    I. Black Christians are no longer excluded from church services, especially from Holy Communion;
    II. Concrete support in word and deed is given to those who suffer under the system of apartheid (separate development);
    III. Unequivocal synod resolutions are made which reject apartheid in the spheres of Church and politics.

    Tydens die NHKA se 68ste Algemene Kerkvergadering (hierna AKV) van 23-28 September 2007, is daar onder andere besin oor bogenoemde vereistes, die debat oor die NHKA se ekumeniese isolasie, die volkskerklike denke en in aansluiting daarby, die verhouding met die MRCC (NHKA 2007b). Van hierdie sake is op die agenda geplaas omdat die 67ste AKV (in 2004) opdrag aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gegee het om lidmaatskap vir die NHKA by sowel die Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER) as die WARC te bekom. In hoofstuk 1 van die agenda van die 68ste AKV, is daar 'n beskrywingspunt wat vra dat die NHKA 'n uitspraak sal maak aangaande die wyse waarop die kwessie van kerklike eenheid en diversiteit in terme van die belydenis verstaan kan word. Die beskrywingspunt getiteld: Versoenende Verskeidenheid, vra dat die eenheid in Christus die diversiteit - alhoewel 'n gegewe - transendeer en dat die NHKA nie anders kan nie as om te bely dat die kerk een, heilig, algemeen en Christelik is (NHKA 2007b:9; vgl Dreyer 2007). In die agenda se hoofstuk oor die Verkondiging word oor die verhouding tussen die NHKA en die MRCC gehandel. Hier dien weer 'n beskrywingspunt wat handel oor die erkenning dat die eenheid tussen kerke in Christus 'n werklikheid is en die Kommissie van die AKV word versoek om die saak van kerklike eenheid te ondersoek en aan die volgende AKV te rapporteer. Wat die Ekumene betref, moet die aansoek van die NHKA om herstel van lidmaatskap by die WARC bespreek word. In die beskrywingspunte oor lidmaatskap by die WARC kom sake voor soos die NHKA se standpunt ten opsigte van Apartheid, die NHKA se eertydse teologiese begronding daarvan, die NHKA se verhouding met die MRCC asook die vraag of die volkskerkbegrip in die Kerkorde (Ordereël 4) nog hoegenaamd bruikbaar is en of dit nie steeds aangewend word - of minstens verstaan word - om lidmaatskap van die NHKA alleen tot blankes te beperk nie (vgl die Addendum van die 67ste AKV se agenda).

    Uit bogenoemde is dit dus duidelik dat die NHKA sedert veral 1982, maar ook na afloop van die 68ste AKV, opnuut oor 'n ekklesiologie moet besin - veral ten opsigte van die gemelde twee notae, te wete eenheid en katolisiteit (kyk veral Buitendag 2008:124). Dit is ook duidelik (en sal duideliker blyk) dat daar 'n verband bestaan tussen die NHKA se verstaan van hierdie notae en die kerk se belydenis, kerkbegrip en ekumenisiteit. Dat die NHKA se ekklesiologie die afgelope dekades onder ernstige druk is, kan geïllustreer word aan die volgende aanhaling van B Engelbrecht (1982:42): "Die besorgdheid van kerke in en buite Suid-Afrika oor wat lyk na 'n trouverbintenis ... aan die Apartheidsideologie het veral by kerke in die buiteland al meermale die vraag laat ontstaan of hulle ... die Ned Herv Kerk nog langer as Kerk van Christus kan erken."

    Derhalwe word die nadenke van die NHKA oor die ekklesiologie oor die afgelope 25 jaar nagegaan. Hierdie periode strek vanaf die gebeure by die 21ste Algemene Vergadering van die WARC te Ottawa tot en met die 68ste Algemene Kerkvergadering van die NHKA. Die oorsprong en die ontwikkeling van gemelde notae sal ondersoek word en die uiteindelike verband daartussen aangetoon word. Daarna sal histories en krities gekyk word na die NHKA se verstaan en interpretasie van eenheid en katolisiteit deur eers 'n oorsig van tersaaklike grepe van die geskiedenis te gee en dan die kerkbegrip van die NHKA in terme van die belydenis van die eenheid en die ekumenisiteit van die kerk, te ondersoek. Ten slotte word 'n bevinding gemaak.

     

    2. KERKWEES

    Die Belydenis van die Nicaeno-Constantinopolitanum van 381 nC verklaar dat die kerk een, heilig, algemeen en apostolies is. Hans Küng oordeel in sy boek, The church ([1968] 2001:265), dat die legitimiteit van hierdie vier "tekens" (notae) alleen oorweeg kan word as die vraag na die mate van hulle dinamiese verwesenliking terselfdertyd ook gevra word. Dit gaan nie oor "tekens" wat die kerk het nie, maar oor 'n aard wat die kerk is. Küng ([1968] 2001:266) verklaar gevolglik dat daar daarom eerder van die dimensies as van die "tekens" van die kerk gepraat moet word. Dit moet ook verstaan word as 'n taak of opgawe van die kerk (vgl Botma 1996:159) en beklemtoon dat die imperatief daarvan deurgaans gehoor moet word (Küng [1968] 2001:269). In die geskiedenis van die kerk is hierdie dimensies ongelukkig as statiese sake (notae) gesien en die imperatiewe aspek bloot as die idee of ideale vorm van die kerk. Küng beklemtoon dit egter dat die ware kerk nooit net 'n idee kan wees nie.

    Karl Barth (1949:142) sluit hierby aan wanneer hy sê dat die idee van onsigbaarheid eerder nie op die kerk toegepas moet word nie, anders sal daar by 'n civitas platonica of 'n Platonistiese ideaal geëindig word waar die Christene net inwendig en onsigbaar verenig is. As die kerk nie oor sigbaarheid beskik nie, is dit nie kerk nie. Credo ecclesiam beteken volgens hom dat geglo word dat die werk van die Heilige Gees in die sigbare samekoms van die gemeente plaasvind. Die ware aard van die kerk is dus 'n handeling, 'n dinamiese gebeure en een wat in die geskiedenis plaasvind en 'n bepaalde historiese gestalte aanneem (kyk ook Küng [1968] 2001:4).

    Ook Moltmann (1993:337) verklaar dat as die kerk se ontstaan en bestaan op grond van die werking van Christus is, dan is die kerk se eienskappe juis ook die eienskappe van Christus se werking. Die erkenning van die een, heilige, katolieke en apostoliese kerk is dan die erkenning van die verenigende, heiligende, komprehensiewe en opdraggewende heerskappy van Christus (Moltmann 1993:338). Daarom is hierdie vier dimensies geloofsuitsprake. Die heil in Christus is die wese van die kerk. Hierdie dimensies verkry sin en betekenis in die kragveld van die Heilige Gees. Aangesien die kerk gawe van Christus en die Heilige Gees is (kyk Hand 15:8, 28:1; 1 Kor 12:3, 12; Ef 3:16-19), is die dimensies van die kerk juis ook die karakter. Hierdie karakter wat aan geloof en hoop geken word, moet tot uitdrukking gebring word en in etiek oorgaan. Die legitimiteit van die dimensies kan ook hieraan gemeet word (Moltmann 1993:339).

    Die legitimiteit van die dimensies kan beskryf word in terme van die onderskeid tussen die sigbare en die onsigbare kerk. Die kerk kan nie anders as om voluit sigbaar te wees nie. Anders word daar in 'n Platonistiese utopie verval (o a Van Aarde 1987; Küng [1968] 2001; Pelser 1994; Buitendag 2006). Die idee van die kerk as 'n onsigbare grootheid voldoen nie aan die eis van die konkrete karakter van die kerk hier en nou of aan die "statements of action" nie (Moltmann 1993:342). Die feit dat die kerk wel 'n corpus permixtum (Augustinus) is, 'n gemeenskap wat tegelyk sondig en geregverdig is, maak hierdie indikatiewe en imperatiewe 'n eksistensiële uitdaging.

    In die Nuwe Testament word geen eenduidige definisie van die begrip "kerk" gevind nie. Die begrip "kerk" () word gebruik om onder andere die universele kerk (Gezamtkirche, Kirche en Kirche Gottes) aan te dui. Matteus 16:18,1 Korintiërs 12:28, Efesiërs 1:22 en Kolossense 1:18 is maar enkele voorbeelde. word ook gebruik om die lokale gemeente (Ortskirche en Lokalkirche) aan te dui en wel in die sin dat die "Ortskirche ist immer `Kirche', weil die Lokalkirche nichts anderes als eine Verlängerung der einen Kirche des Erlösers Jesus Christus ist" (Tofan 2005:35; Dunn 2006:12). Hiervan is enkele voorbeelde te vinde in Romeine 16:1, 1 Korintiërs 1:2, Kolosense 4:16. In Hebreërs 2:12 en 12: 22-23 word vertaal as gemeente en volgens Dunn (2008:5) kan daar hier 'n parallel getrek word met die begrip , wat vertaal word met die woorde "gemeente" of "samekoms", wat ook in die Evangelies dui op 'n klein dorp se samekoms. Dit moet egter verstaan word dat hierdie gemeente of Ortskirche is, "... nicht nur ein Teil der Kirche Gottes, sondern sie selbst ist im Vollsinnn, egal, wo sie sich befindet ... die Ortskirche [bringt] durch ihr Bestehen das christologische und pneumatologische Wesen der Kirche Gottes zum Ausdruck" (Tofan 2005:37). word ook gebruik om die Versammlung der Christen zur Feier des göttlichen Kultus aan te dui (Tofan 2005:35). Hier dui die begrip kerk op 'n plek of huis (in die geval van Priscilla en Akwila - Rom 16:19) waar gelowiges saamgekom het en hulle geloof gevier het. Paulus gebruik sowel die enkelvoud as die meervoud wanneer hy van die kerk praat, maar volgens Dunn dink Paulus dan aan beide as in direkte kontinuïteit met die samekoms (assembly) van Israel en aan beide as die samekoms (gemeente) van God. Die "kerk" en die "kerke" is die versameling van die een en dieselfde volk van God (Dunn 2008:12).

     

    3. DIE BEGRIPPE "EENHEID" EN "KATOLISITEIT"

    3.1 Nuwe-Testamentiese perspektiewe

    Deurgaans word die uitsprake oor eenheid in die Nuwe Testament te midde van krisis, konflik en verskeidenheid gevind. In Handelinge 15 en Galasiërs 2 word vertel van die Antiocheense konflik en die Apostelkonvent4 wat gevolg het op meningsverskille wat in die vroeë kerk bestaan het oor die voorwaardes vir verlossing. Die beslissende vraag waarby die eerste gelowiges te staan gekom het, was die vraag na die onverhandelbare van die boodskap van Jesus wanneer dit verkondig word onder mense wat nie dieselfde godsdienstige en kulturele waardes gehad het as die groep mense waarin die boodskap van Jesus oorspronklik oorvertel is nie (De Villiers 1987:25). Die praktiese uitvoering van die Konvent se uiteindelike bepalings dat die Joodse wette nie meer van toepassing was op die heiden-gelowiges nie, was egter nog problematies, veral met betrekking tot die Nagmaal. So het Petrus die heidense gelowiges as mede-gelowiges aanvaar en selfs saam met hulle geëet, maar hy onttrek homself toe later aan hulle as gevolg van die teenwoordigheid van Jakobus, wat die heidense gelowiges as 'n aparte groep beskou het. Hulle is beskou as kulties onrein omdat hulle nie besny was nie. Dit was vir Paulus onaanvaarbaar, aangesien Petrus se tafelgemeenskap met die medegelowiges die uitdrukking was van die nuwe werklikheid wat op grond van Jesus se koms en die betekenis van die aanbreek van die koninkryk van God tot stand gekom het (Botma 1996:52). Daardeur het Petrus die eenheid van die kerk in gedrang gebring. Let op hoedat hierdie eenheid, alhoewel nie eksplisiet genoem nie, tot stand kom. Dit kom tot stand deur tafelgemeenskap tussen medegelowiges. Hierdie tafelgemeenskap (eenheid) was die konkrete uitdrukking van die nuwe werklikheid wat deur geloof tot stand kom, of hulle nou 'n Jood of 'n Griek was (verskeidenheid) (Lategan 1987:11).

    Die Evangelie van Johannes bevat ook talle eksplisiete én implisiete verwysings na eenheid. In Johannes 10:26, 27 bevestig Jesus sy solidariteit met sy "skape". In vers 30 van dieselfde hoofstuk sê Jesus dat Hy en die Vader een is. Die skape behoort aan Jesus en God en staan in gemeenskap met Jesus en God (Joh 17:21-23). In Johannes 17 word Jesus se gebed om eenheid gevind. Die situasie wat in Johannes 17 gereflekteer word, is dié waarin die breuk met die sinagoge reeds plaasgevind het. Die Johannese gemeenskap het waarskynlik 'n groep uit die heidendom bevat wat die hoop gekoester het dat die wêreld nog verower moes word (Joh 17:21, 23). Hierdie gemeenskap het die fase bereik waar die gevaar groot was dat hulle kon los raak van die oorspronklike openbaring wat aan hulle gegee is (Joh 17:6, 8, 14, 17-19) (vgl Du Rand 1987:123). In hierdie gebed beklemtoon Jesus die eenheid tussen Hom en God die Vader. Geloof in die eenheid van die Vader en die Seun word die grond vir eenheid tussen gelowiges. Dit gaan oor 'n eenheid met God, maar ook oor 'n eenheid met mekaar wat moontlik reeds bedreig word deur die volgende geslag gelowiges (Joh 17:20) wat nie meer vashou aan dit wat oorspronklik oorgelewer is nie. In plaas daarvan om die onenighede en die verskille in die gemeenskap te belig, word die klem deurgaans geplaas op dit wat saambind, naamlik die verhouding tussen die Vader en die Seun, soos dit in Jesus se optrede duidelik geword het. Dit gaan nie oor eenheid in terme van gemeenskaplike doelwitte of 'n mistiese eenwordingsproses nie, maar wel eenheid in die geloof in God die Vader en Jesus (Groenewald & Buitendag 2006:1398), wat deur gelowiges in liefde en koinonia uitgeleef word.

    Ook in die eerste brief aan die gemeente in Korinte word verwysings na eenheid gevind. Paulus pleit by die Korintiërs om kerklike eenheid. Daar was verskeie konflikte wat die gemeente bedreig het, soos die groepvorming, die verdeeldheid oor die Nagmaalstafel (1 Kor 11:17-34) en die invloed van die stedelike omgewing. Paulus argumenteer egter vanuit die eenheid van die liggaam van Christus en die eenheid tussen Christus en die gelowige om die Korintiërs te help om nie aan die druk van die vreemdelinge toe te gee nie. Die liggaam van Christus is 'n bo-aardse werklikheid en het die funksie om al die afsonderlike verskyningsvorme van die kerk saam te bind. Volgens Paulus word gelowiges deur die doop deel van die liggaam (1 Kor 12:12). Die liefde moet alle pogings begelei om kerklike konflik te oorwin. Liefde is die sleutel tot eenheid in die kerk (1 Kor 13). Die Nuwe Testament bied dus duidelike riglyne vir die imperatief van hierdie eenheid, naamlik gedeelde tafelgemeenskap en liefdevolle optrede teenoor alle mense, ongeag die kulturele en godsdienstige agtergronde. Die grond vir hierdie eenheid is die geloof in die waarheid van Jesus Christus.

    Aangaande katolisiteit word baie min in die Nuwe Testament vermeld en dit is volgens Küng ([1968] 2001:297) ook die rede waarom baie verskillende betekenisse aan die woord geheg word. Die woord katoliek word in verband gebring met die adverbiale , wat "algemeen" of "universeel" beteken (Moltmann 1993:347) en word wel een keer in die Nuwe Testament gebruik as tekenend van deeglikheid en algeheelheid (Hand 4:18). In die bekende lesing wat Ernst Käsemann in 1963 voor die Faith and Order kommissie se vergadering in Montreal gehou het en waarin hy dit onomwonde gestel het dat daar nie net een nie, maar 'n veelheid van ekklesiologieë in die Nuwe Testament bestaan, maak hy ook die belangrike stelling dat veral die briewe aan die Kolossense en Efesiërs - benewens die boek Handelinge - die wêreldperspektief van die kerk oopmaak (Käsemann 1963:293). 'n Mens sou selfs kon sê dat die vroegste verstaan van eskatologie by die eerste Christene, die kontoere vir 'n ekklesiologie oopgemaak het. Die Una Sancta Apostolica beliggaam die katolisiteit van die kerk. Ten spyte van die verskeidenheid, het die vroeë Christendom die één kerk verkondig (Käsemann 1963:295). 'n Ekklesiologie kan nie anders as om in die gees van Efesiërs 2 die eenheid in Jesus Christus te sien nie.

    3.2 Die eerste twee eeue nC tot en met die Reformasie

    Die vroeë kerkvaders was gekonfronteer met die spanning tussen 'n teoretiese geloof in een kerk en die duidelik waarneembare werklikheid van die veelheid van kerke. Na aanleiding hiervan het die Christelike skrywers benaderings ontwikkel om die waarneming met die teorie te probeer versoen (McGrath 2001:496). Een van hierdie benaderings was 'n Platonistiese benadering wat 'n skerp onderskeid tussen die waarneembare kerk en die ideale kerk getref het. Nog 'n ander was die eskatologiese benadering wat van die veronderstelling af uitgegaan dat die teenswoordige verskeidenheid in die kerk op die laaste dag opgehef sou word. Die teenswoordige situasie was volgens hierdie benadering slegs tydelik en sal opgelos word met die moment van eskatologiese vervulling. Volgens McGrath (2001:495) lê hierdie benadering agter Calvyn se onderskeid tussen die sigbare en die onsigbare kerk.

    Vir Klemens5 het die oplossing vir die spanning tussen die eenheid en die veelheid daarin gelê dat die eenheid van die gelowiges sigbaar moes word in hulle lojaliteit aan die gemeentelike hiërargie (Klemens, in Jurgens 1970:6-11). Vir Ignatius, die biskop van Antiogië,6 is die sigbare uitdrukking van hierdie eenheid belangriker as die grond daarvan. Ignatius praat "net soos Klemens" oor die eenheid in terme van die een lojaliteit aan die gemeentelike hiërargie (Klemens, in Jurgens 1970:17-20). Die gemeente is een wanneer hulle almal gehoorsaam is aan die ouderlinge en die biskoppe. Hy is egter tegemoetkomend teenoor diegene wat sogenaamd "buite" staan: hulle aggressie moet met liefde beantwoord word.

    Die ontwikkeling van die betekenis van die woord katoliek kan ook in die lig van die spanning tussen eenheid en verskeidenheid gesien word. Die woord katoliek word die eerste keer deur Ignatius van Antiogië in verband met die kerk gebring (vgl Küng [1968] 2001; Moltmann 1993): "waar ook al die biskop is, waar sy mense moet wees, net soos, waar Jesus Christus is, daar is die katolieke kerk" (eie vertaling; Ign, Smyrna 8.2). Manuskripte uit die tweede eeu (Eusebius) en die derde eeu (Tertullianus, Klemens van Aleksandrië) bevestig hierdie betekenis en gebruik van die woord katoliek. Vanaf die derde eeu het die klem van die woord egter begin verskuif van algemeen en universeel (met betrekking tot die kerk) na die kerk en daardie Christene wat katoliek is: diegene wat verenig is in die hele kerk en nie soos diegene wat dwaalleer versprei, buite die kerk staan nie. In plaas van die werklikheid van die katolisiteit, naamlik die algemene en die universele, ontwikkel daar `n neiging tot aanspraak op hierdie katolisiteit (Küng [1968] 2001:299). Die betekenis word verskraal. "Katolisiteit" kry 'n ortodokse betekenis, naamlik as tekenend van die suiwer leer en die ware kerk.

    Gedurende die negende en tiende eeu het die verstaan van die dimensies eenheid en katolisiteit weereens op die voorgrond getree met die verhouding tussen die Oosters-Ortodokse Kerk in Konstantinopel en die Westerse kerk in Rome wat geleidelik versleg het. Baie van die onenigheid was te wyte aan die filioque-toevoeging in die Niceense Geloofsbelydenis (kyk McGrath 2001:340). Die politieke wedywering tussen die Latynsprekende Rome en die Griekssprekende Konstantinopel, sowel as die groeiende onenigheid oor gemelde byvoeging, was uiteindelik bydraende faktore wat gelei het tot die breuk in die kerk tussen Ooste en Weste in 1054. Volgens Küng ([1968] 2001:299) was die katolieke kerk as verwysend na die ganse kerk, nie meer dieselfde voor as na die skeiding nie. Die ware, oorspronklike katolisiteit van die kerk het saam met die eenheid in die slag gebly. Dit het toenemend in hierdie periode gegaan om die vraag na die ware kerk.

    Al hierdie sake hou verband met die kwessie van kerkeenheid en gevolglik ontstaan daar in die tydperk van die Reformasie, die so genoemde Drie Formuliere van Eenheid, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Van hierdie drie, handel die NGB in vyf artikels die meeste breedvoerig oor die leer van die kerk. Dit word gestel dat alhoewel die kerk oor die hele wêreld versprei en verstrooi is, dit met hart en wil in een en deur dieselfde Gees saamgevoeg en verenig is (NGB 27). Die NGB dink vanuit die situasie van die een, universele, ongedeelde, sigbare kerk (vgl Jonker 1994:73). In dié sin is Calvyn se invloed op die NGB ook duidelik. Calvyn beklemtoon die roeping van die kerk om die kerk se sigbare eenheid te bewaar. Hy formuleer dit onder andere in sy Institusie IV 3.2: " ... dat de dienst der mensen, van welke God gebruikt maakt bij het besturen der kerk de voornaamste zenuw is, waardoor gelovigen in een lichaam verbonden zijn ...". Die sigbare kerk is die gemeenskap van gelowiges op aarde. Die onsigbare kerk is die gemeenskap van die heiliges en die gemeenskap van diegene wat uitverkies is. Hierdie onderskeid is vir Calvyn 'n eskatologiese onderskeid.

    In hierdie tydperk is daar dus besin oor kerklike eenheid in terme van die sigbaarheid daarvan. Die ware kerk se eenheid is sigbaar. Verskeidenheid kom slegs binne vasgestelde kerkstrukture na vore.

    3.3 Eenheid en katolisiteit as communio

    Die kerk is die een liggaam van Christus en een geestelike skepping (Küng [1964] 2001:272). Daarom is die eenheid van die kerk 'n geestelike eenheid. Daar moet volgens Küng nie gesoek word na teologiese regverdiging van verdeeldheid in die kerk nie en argumente soos dié wat eenheid voorstaan in terme van die onsigbaarheid en die eskatologiese vervulling daarvan, perpetueer hierdie verdeeldheid binne die kerk. Verdeeldheid bly 'n skande en 'n sonde (Küng [1964] 2001:283). Daarom moet die eenheid van die kerk wat reeds bestaan as 't ware herontdek en vernuwe word (Küng [1968] 2001:284). Daar moet in die eerste plek dus nie vergeet word nie dat die eenheid aan die kerk deur God in Jesus Christus gegee is. Hierdie eenheid van die kerk is nie in die hande van enige mense nie, want die lewende Jesus Christus is in sy eie krag self hierdie eenheid (Barth 1961:684). Hernuwing van die kerk se eenheid sal plaasvind as Christus se teenwoordigheid toegelaat word om 'n lewende gebeurtenis te word wat geglo word (Barth 1961:684).

    Küng ([1968] 2001:285-293) verklaar dat die taak wat ons in die uitvoering van hierdie eenheid as imperatief het, behels dat die bestaande kerklike realiteit en die eenheid in Christus erken moet word. Daar moet vir die vereniging tussen kerke gebid word en gelowiges moet hulleself daarvoor beywer. Die veelkleurigheid van die waarheid moet herontdek word, nie prysgegee word nie. Die gronde en die standaard vir die eenheid moet altyd die evangelie van Jesus Christus wees - die geheel van die evangelie. Die eenheid van die kerk kan gevind word in die gehoorsaamheid aan die opdrag van God, naamlik liefde vir jou naaste. Hier is die waarheid van die kerk se eenheid en katolisiteit geleë: in die kerk se Goddelike roeping en innerlike werklikheid (Bender 2005:189).

    Die ware katolieke kerk is altyd ekumenies gerig (vgl Küng [1968] 2001:303). Volgens Kärkkäinen (2002:79) is die doel van die ekumeniese beweging om die eenheid van kerke en Christene te bevorder. Dit kan dus weereens gestel word dat die begrippe eenheid en katolisiteit mekaar wedersyds insluit en impliseer, omdat beide 'n kontinuïteit veronderstel, ten spyte van die veelheid en verskeidenheid. Küng verklaar dat vanuit die perspektief van die oorsprong en die aard van die kerk, die kerk wêreldwyd is. Dit dink en handel in die verwysingsraamwerk van die hele aarde. Volgens hom hou hierdie katolisiteit gevolglik verband met die begrip ekumene (Küng [1968] 2001:303), verwysende na die Griekse term oikoumén wat die "bewoonde wêreld" beteken (Arndt & Gingrich 1957:563:564).

    Walter Kasper (2004:53) oordeel dat communio die leidende beginsel by ekumeniese teologie is en dus ook by die verstaan van die begrippe kerklike eenheid en katolisiteit. Die konsep communio (gemeenskap) is volgens hom die sentrale idee en uiteindelike doel van die ekumeniese beweging en in hierdie sin verwoord en vergestalt die konsep communio die Bybelse imperatief van kerklike eenheid in verskeidenheid. Hierdie communio is egter nie iets wat ekumenies bereik moet word nie. Dit is ook nie horisontaal te verstaan as byvoorbeeld 'n gemeenskap van mense wat tot stand kom as gevolg van die individue se begeerte tot gemeenskap nie. Dit is nie te verstaan as 'n demokrasie wat die gevolg is van die vereniging van vennote wat in beginsel vry en gelyk is nie. Die woord communio moet verstaan word na aanleiding van die Griekse woord vir communio, naamlik koinnía, wat "deelname" beteken (Kasper 2004:54). Die sakramentele basis van communio is die één doop. Deur die één doop is almal gedoop in die één liggaam van Christus. Die communio deur die doop veronderstel en impliseer die communio of koinnía in die gemeenskaplike geloof van die kerk en gemeenskap in die evangelie (Kasper 2004:55). Deur die geloof en die doop is almal reeds één in Jesus Christus. Dus bestaan daar reeds 'n fundamentele eenheid of communio. Die onderskeid wat dus gemaak moet word, is nie tussen volledige eenheid en geen communio nie, maar wel tussen volledige en onvolledige communio (Kasper 2004:51). Die kerk is in die oorgang tussen die "al reeds" en die "nog nie" en gevolglik in 'n toestand van onvolledige communio (Kasper 2004:71). Volledige gemeenskap in die voltooide sin kan slegs 'n eskatologiese hoop wees. Op aarde sal die kerk altyd 'n kerk wees wat worstel met spanning, skeuring en afvalligheid. Volgens Kasper moet daar egter onderskei word tussen spanning wat 'n teken van die lewe is en verskille wat gemeenskaplike lewe vernietig. Daarom is die taak van die ekumene nie om die spanning te probeer verwyder nie, maar om teenstellende uitsprake te verander tot komplementêre uitsprake. Die doel is volledige kerklike communio as eenheid binne 'n versoenende verskeidenheid (vgl Van Aarde 1987).

    Om dit te bereik moet hierdie oorgangstydperk gevul word met waaragtige lewe. Die ekumenisiteit van liefde en die ekumenisiteit van waarheid, wat albei steeds uiters belangrik is, moet gekomplementeer word deur 'n ekumenisiteit van lewe. Kasper (2004:72) verklaar dat kerke nie net van mekaar verwyderd geraak het deur vergaderingsbesluite nie, maar ook deur die manier waarop hulle geleef het. Daarom moet kerke nader aan mekaar kom in die wyse waarop hulle lewe. Hulle moet weer gewoond word aanmekaar, saam bid, saam werk en saam lewe en saam die seer dra van hulle onvolledige communio. Die ekumenisiteit van lewe is dus nie staties te verstaan nie, maar wel as 'n proses van groei en genesing. Dit beteken egter dat al die verskillende kerke opnuut verdere studie sal moet onderneem, sodat die aard en sending van die kerk verstaan en beter verduidelik kan word. Dit sal nodig wees om die verstaan van kerk en communio te verhelder en 'n ooreenkoms te bereik op die basis van die ekumeniese imperatief.

     

    4. 25 JAAR SE GESKIEDENIS

    Die debat oor die NHKA as volkskerk, Artikel III van die vorige Kerkwet wat lidmaatskap van die NHKA tot wit mense beperk het en ook die bestaan van twee afsonderlike Hervormde kerke wat etnies gerig was, het die geskiedenis van die NHKA na die Tweede Wêreldoorlog oorheers (Dreyer 2006:1337). Die eerste breuk met ekumeniese liggame het plaasgevind met die Cottesloe-beraad van die Wêreldraad van Kerke wat in 1960 na aanleiding van die gebeure by Sharpeville plaasgevind het en waartydens lidkerke gevra is om Apartheid as strydig met die evangelie te veroordeel. Die Afrikaanse kerke en spesifiek die NHKA, was nie bereid om dit te doen nie (Dreyer 2006:1356). Die AKV van die NHKA besluit gevolglik tydens die sitting van 1961 om die lidmaatskap by die Wêreldraad van Kerke op te sê.

    In die Herderlike Skrywe van 1973 van die Kommissie van die AKV, word die volkskerklike denke van die NHKA as die teologiese begronding van afsonderlike ontwikkeling en aparte volkskerke as 'n Skriftuurlike beginsel aangebied. Dit word onomwonde gestel dat die NHKA sigself deur Artikel III7 van die 1951-Kerkwet, te midde van ander kerke, wil identifiseer (NHKA 1973:2). Daarin is 'n lewensoortuiging vervat, naamlik die uitsluitlike verbondenheid van die Hervormde Kerk aan die Afrikanervolk. Verder was Artikel III die erkenning en die aanvaarding van die NHKA se sendingtaak en sendingbeleid (NHKA 1973:5) en rig die sending deur die verkondiging aan ander volke. Apartheid word aangebied as 'n beleid wat in lyn is met Skriftuurlike beginsels, soos die feit dat God verskillende volke geskep het. Wat die NHKA se verstaan van eenheid en katolisiteit betref, word gestel dat die vraag oor eenheid van die kerk nie om 'n kwantitatiewe saak gaan nie, maar wel om 'n kwalitatiewe saak (NHKA 1973:8). Hierdie "saak" behels nie strukturele eenheid tussen gelowiges nie, maar 'n eenheid in die geloof tussen gelowiges. Eenheid hoef net verkondig te word en nie uitgeleef te word nie - daar is 'n verskil tussen Woordverkondiging en daadverkondiging (NHKA 1973:5). Laastens was ekumeniese liggame nie as dienlike instrumente vir egte ekumeniese kontak beskou nie.

    Die skeiding wat in Hervormde geledere gemaak word tussen die sigbare en die onsigbare kerk is duidelik. In Die Hervormer van Januarie 1961 se inleidingsartikel verdedig ds Joh Dreyer, toenmalige redakteur van Die Hervormer, die herkoms en teologie van die "leer dat die kerk van die Here nie alleen sigbaar, waarneembaar is nie, maar ook onsigbaar is" (Dreyer 1961:1). Hy verklaar dat kerkeenheid geestelik van aard is en gevolglik is dit moontlik vir "eenheid" om te bestaan ten spyte van uitwendige kerklike "gedeeldheid". Ter stawing daarvan verwys hy na Efesiërs 4:3-6. By hierdie standpunt kan dié gevoeg word van F J van Zyl en B J Engelbrecht. Eersgenoemde verklaar dat kerkvereniging te na is aan kerklike sinkretisme (Van Zyl 1978:23-26) en laasgenoemde verklaar dat die gesprek oor die eenheid van die kerk nooit die sigbare vereniging van kerke as uitgangspunt kan hê nie (Engelbrecht 1978a:14). Teenoor hierdie standpunt verklaar A S Geyser in 'n skrywe getiteld Vertraagde aksie, dat die Skrif die sigbare eenheid van die liggaam van Christus in die nagmaal eis (Geyser, in Van Wyk 1978:54). A van Selms sluit hierby aan en stel in dieselfde skrywe dat die Bybel nie die begrip "onsigbare kerk" ken nie (Van Selms, in Van Wyk 1978:53).

    Tydens die sitting van die WARC te Ottawa 1982 word 'n resolusie deur die vergadering aanvaar wat Apartheid veroordeel. Die volkskerklike denke van die NHKA as ekklesiologiese onderbou van Artikel III, en dus van Apartheid, word deur die vergadering skerp gekritiseer en meer as 'n honderd hervormde kerke bestempel so 'n "teologiese" denke as dwaalleer. Gevolglik vra die WARC van die NHKA 'n uitspraak teen Apartheid. In 'n skerp bewoorde verklaring weier die Kommissie van die AKV egter om dit te doen. Trouens, die NHKA verklaar dat hy die pogings van die WARC verwerp om aan hulle 'n politieke beleid te dikteer wat sal veroorsaak dat die NHKA teologie misbruik. Die NHKA beskuldig die WARC dat hulle God, Jesus Christus en die Heilige Gees misbruik om politieke en sosiale ideale te bereik (NHKA 1982a:4). Die Herderlike Skrywe van 1973 het hierdie volkskerklike denke bestendig deur Artikel III as Skriftuurlik te verklaar.

    Tydens die AKV van 1986 word die dokument getiteld: "Kerk en Wêreld 2000" aanvaar as die kulminasie van 'n ondersoek wat gedoen is na die omstandighede waaronder die NHKA se roeping en taak in die daaropvolgende twee dekades uitgeleef sou word. Dit was in baie opsigte die NHKA se antwoord op die resolusie van die 1982- vergadering van die WARC, waarin Apartheid as sonde en die teologiese fundering daarvan as dwaalleer beoordeel word (Dreyer 2006:1353). In hierdie dokument staan die volkskerklike interpretasie wat die NHKA aan kerkwees verbind, op die voorgrond. Onder die begrip "volkskerk" word verstaan: "'n kerk wat in die volk ingroei, nie om die volk en volkslewe by voorbaat te sanksioneer nie, maar juis om dit in kritiese solidariteit en met die profetiese appèl van die Woord, tot verheerliking van God te kersten" (NHKA 1985:4). Die NHKA is eerste vir die Afrikaner en daarna en deur hulle vir al die ander. Dit word verklaar dat hierdie die konteks is waarin die NHKA se roeping verstaan word (NHKA 1985:5). So word die NHKA se steun aan die beleid van afsonderlike ontwikkeling ook verdedig (NHKA 1985:66-67).

    Wat die verhouding tussen die NHKA en ander denominasies, susterkerke of dogterkerke betref, word dit onomwonde gestel dat daar geen verwagtinge gekoester word van kontak met kerke wat die "ekumeniese teologie" aanhang nie (NHKA 1985:7). Met betrekking tot lidmaatskap aan ekumeniese organisasies word daar verklaar dat dit nie vir die NHKA moontlik was om met "'n behoud van 'n skoon gewete langer lid daarvan [te kon] bly nie" (NHKA 1985:7). Trouens, in die dokument word aangetoon dat die NHKA sterk bedenkinge het oor ekumeniese organisasies, aangesien die NHKA iets van sigself moet prysgee as die kerk van so 'n organisasie sou deel wees (NHKA 1985:12). Volgens Van der Merwe (1990:676) word daar in soveel woorde erken dat die NHKA by geen respektabele ekumeniese organisasie aanvaarbaar is of geen sodanige organisasie aanvaarbaar vind nie. Die teologiese implikasies van hierdie toedrag van sake word glad nie in die dokument beredeneer nie en die redes waarom dit tot op daardie punt ontwikkel het, is nie diepgaande nie (Van der Merwe 1990:676). Dit word baie duidelik gestel dat die NHKA slegs betrokke sal raak waar die NHKA teologies tuis kan wees en waar dit teologies 'n bydrae kan lewer.

    In hierdie publikasie van die AKV blyk 'n aantal diskrepansies: die NHKA kies bewustelik om in die eerste plek kerk vir die Afrikaner te wees, maar verklaar ook dat die kerk net aan Een (= God) diensbaar is (NHKA 1985:5). Daar word ook paradoksaal verklaar dat die NHKA nie in isolasie afgesonder wil wees van die res van die kerk van Jesus Christus nie, maar dat dit tog kontak met ekumeniese organisasies sal ontbeer. Daar is tegelyk 'n dogmatiese eensydigheid as 'n eksistensiële soepelheid by die lidmate teenwoordig (Buitendag 1990:706). Die skeiding tussen die sigbare en die onsigbare kerk word egter gehandhaaf.

    Vanuit die daaropvolgende Herderlike Skrywe van 1990 word dit duidelik dat die NHKA se onkritiese identifisering van kerk en volk toenemend problematies geword het (Dreyer 2006:1354). In teenstelling met die vorige belangwekkende en belydenisagtige dokumente van en deur die NHKA, word daar in hierdie Herderlike Skrywe geen uiteensetting van die NHKA se Skriftuurlike begronding en verdediging van afsonderlike ontwikkeling en Artikel III gevind nie (soos die geval in 1973 se Herderlike Skrywe nie). Die verskyningsvorm en gevolge van afsonderlike ontwikkeling en Artikel III word veroordeel, maar oor die wese van die saak van afsonderlike ontwikkeling en Artikel III word niks gesê nie. Sending na ander volke word eerder beklemtoon as die belangrikste roeping van die kerk (NHKA 1990:11). Die na-binne gerigtheid van die NHKA word duidelik in die verklaring dat die NHKA in die eerste plek (eie beklemtoning) 'n kerk vir die Afrikaner is, en deur middel van die apostolaat ook 'n kerk vir al die nasies wil wees. Dieselfde definisie wat in Kerk en Wêreld 2000 vir die begrip "volkskerk" gegee is, word hier gebruik. Die NHKA oordeel steeds dat die gestalte van die volkskerk die beste wyse is waarop die kerk die apostolêre opdrag kan uitvoer.

    Wat met 'n eerste oogopslag gelyk het asof dit nie 'n wesensaak by die NHKA is nie, blyk toe wel een te wees. Dit word duidelik met die goedkeuring van die nuwe Kerkorde in 1997. In Ordereël 1 van Kerkorde word die kerk beskryf as 'n "heilige volk" en in Ordereël 4 word die kerk beskryf as "'n volkskerk met 'n eie kerklike kultuur, geskiedenis, taal en tradisie wat geroepe is tot die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus aan die Afrikanervolk en tegelyk aan alle mense" (NHKA 1997:69; my beklemtoning). Laasgenoemde frase was as kompromis op voorstel van die dogmatikus J H Koekemoer tydens die AKV tot die Kerkorde toegevoeg. Die Nuwe-Testamentikus A G van Aarde het, deur hom op Karl Barth te beroep, beswaar teen die kompromisvoorstel gemaak. Hy het die AKV versoek om nie in die Kerkorde 'n partikuliere apostolaat te verwoord nie en die AKV daarop gewys dat die toekoms nog sal leer dat lidmate die verwysing na volkskerk op 'n natuur-teologiese wyse as verburgerlike teologie kan misbruik. So sal die NHKA dus die toets om waarlik kerk vir alle mense te wees, nie slaag nie.8

    Om die neweskikkende stelling, "aan Afrikanervolk en aan alle mense",in perspektief te plaas, kan daar gewys word op die verskil tussen 'n Ordereël en 'n Ordinansie. Ordereëls is "wesenlike sake" en Ordinansies is die "praktiese maatreëls" vir die uitvoer van die wesensaak. Daar word soveel gewig aan 'n Ordereël verleen dat dit volgens Ordereël 10.1 (iii) slegs deur 'n twee derde meerderheid van stemme gewysig kan word (NHKA 1997:112). 'n Ordereël dra dus aansienlik meer gewig as 'n Ordinansie. Dat die NHKA in 'n Ordereël bely dat die kerk 'n volkskerk is, dui dus daarop dat die NHKA die "volkskerk" as 'n wesensaak sien, dit verskans en dat die begrip "volkskerk" die wese van die kerkwees van die NHKA beskryf, nie net die praktiese uitvoering van hierdie kerkwees nie.

    Tydens die 67ste AKV is besluit dat die NHKA aansoek moet doen om die herstel van lidmaatskap van die Reformed Ecumenical Council (hierna REC) asook die WARC. Hierdie aansoek is ook in Julie 2006 in Utrecht deur die REC goedgekeur. Die WARC sou die aansoek eers in 2007 oorweeg, indien die NHKA aan die vereistes van die 1982-Ottawa resolusie voldoen het.

    Intussen het die destydse Kommissie van die AKV moeite gedoen om die identiteit en relevansie (wese en roeping) van die NHKA gedefinieer te kry. In Maart 2006 word 'n Nasionale Colloquium gereël. Die bedoeling was om so wyd moontlik 'n verteenwoordigende stem van die NHKA te hoor. Na afloop van hierdie byeenkoms is 'n gesamentlike Verklaring van Voorneme deur die konferensiegangers aanvaar (NHKA 2006a). In die afdeling oor die kerk word verklaar dat die kerk geroep word om die evangelie te verkondig teenoor alle mense en dat die term "volkskerk" die kerk in die uitleef van hierdie roeping kan beperk. Dit is benadruk dat die eenheid van die kerk en nie die verskeidenheid van die kerk nie, die evangeliese eis is. In die afdeling wat handel oor die NHKA se verhouding met die MRCC is erken dat hierdie eenheid in die verlede nie genoegsaam uit wedersydse optrede geblyk het nie en die oortuiging is uitgespreek dat die eenheid tussen die NHKA en die MRCC kerkordelike gestalte moet kry deur 'n proses wat rekening hou met die eie identiteit van die onderskeie geloofsgemeenskappe (NHKA 2006a). Die standpunt wat in die verklaring gehuldig word, is dat ekumeniese betrokkenheid wesensbelangrik is vir die kerk en daarna gestreef moet word om op gemeentelike vlak ekumenies te lewe. Op hierdie manier word die een, heilige, algemene en Christelike kerk sigbaar. Die Kommissie van die AKV het hierdie inhoud van die Gesamentlike Verklaring aanvaar en ook die wysiging van die betrokke Ordereëls aan die AKV voorgestel. Die uitgangspunt van voorgestelde wysiging het behels dat daar in die Kerkorde na die NHKA en die gemeentes van die NHKA alleen in die gees van die Woord van God en die kerklike belydenis verwys word en dat sosiale terme soos volk wat nie noodwendig op gelowiges dui nie, vermy moet word (NHKA 2006b).

    In Junie 2006 het die WARC die NHKA besoek. Hierdie besoek het voortgevloei uit die NHKA se aansoek in 2005 (in opdrag van die AKV 2004) om hertoelating tot die WARC. Die WARC het gevolglik besluit om 'n feitesending na Suid-Afrika te onderneem. Tydens die besprekings het die Kommissie van die AKV die NHKA se herbesinning oor ekklesiologie aan die WARC-vergadering voorgehou, soos geïllustreer deur die Colloquium, wat toe reeds plaasgevind het. In die lig van die opdrag van die 67ste AKV is daar gesprek gevoer oor die vereistes vir die herstel van die lidmaatskap van die NHKA aan WARC en die mate waarin die NHKA daaraan voldoen het.

    Net voor die 68ste AKV van die NHKA het die Kommissie van die AKV 'n Herderlike Brief na die gemeentes van die kerk uitgestuur. Die titel van die brief was die Identiteit en Relevansie van die Kerk in die 21ste eeu (NHKA 2007a:1). Die informele en nie-amptelike nadenke oor die NHKA wat tydens die Colloquium plaasgevind het, is hierdeur geformaliseer. Die gewigtigheid van die dokument blyk uit die feit dat die Herderlike Brief 'n bepaalde status en gesag het (teenoor 'n samespraak soos die Colloquium). In Ordinansie 5.5.1 staan daar juis dat in herderlike briewe beredeneerde standpunte oor aangeleenthede wat vir die kerk van wesenlike teologiese belang is, ingeneem en verduidelik word (NHKA 1997:87). Daar het dus weliswaar 'n verskuiwing van denke plaasgevind. Dit het egter later geblyk dat hierdie verskuiwing net by 'n gedeelte, in der waarheid 'n geringe meerderheid, plaasgevind het.

     

    5. DIE NHKA SE KERKBEGRIP

    5.1 Volkskerk

    Die volkskerk as ekklesiologiese model in die NHKA kan teruggevoer word onderskeidelik na die Nederlandse volkskerklike denke (Van Aarde 1986:80) en in besonder na Nederlandse teoloë soos A A van Ruler (teokratiese volkskerklike denke en die verband tussen die volkskerkgedagte en die verbondsleer), J C Hoekendijk, P J Hoedemaker (hy plaas klem op die teokratiese visie van artikel 36 van die NGB), H Kraemer (apostolêre volkskerkidee), K S Latourette, O Noordmans en S Niel (Van der Westhuizen 1981:21-24). In die Duitse teologie kan die volkskerkbeskouing teruggevoer word na 'n beskouing rakende sending. Gustav Warneck grond sy sendingleer op sy uitleg van Matteus 28:19. Vir hom gaan dit oor die Christianisierung der Heiden als Völker (vgl Hoekendijk 1948:84). Hy plaas die klem op die "heidenvolke" wat die arbeidsveld is van die sending. Volgens iemand soos Graul is die kerk die plek waar die veredeling van die volk se sedes plaasvind, maar dit kan slegs gebeur as die kerk geheel en al op die kerk se volk afgestem is en diep in die volk gewortel is, wat hy na verwys as die bodenständige Volkskirche (vgl Hoekendijk 1948:41 e v).

    Ander aspekte wat die volkskerk as ekklesiologiese model in die NHKA ondersteun het, was die vryheidsbegrip van Afrikaners wat hulleself definieer in terme van hulle andersheid teenoor swart mense en Engelssprekendes. Hierby kan ook genoem word die bepaalde geskiedenisvisie van die NHKA wat berus het op die aanname dat die Afrikaner se vryheidsgeskiedenis die wil van God is (I W C Van Wyk 1999:272). Die volkskerklike denke van die NHKA het op verskillende maniere uitgekristalliseer. Dit was:

    • dat die volkskerk 'n verbondsmatige ekklesiologie veronder-stel wat geen onderskeid tussen Ou Testament en Nuwe Testament tref nie;
    • dat die begrip volkskerk nie rassisme as grondslag het nie;
    • dat die volkskerk die teokrasie op Calvinistiese wyse beklemtoon, naamlik dat die staat nie in die kerk se sake inmeng nie;
    • dat die volkskerk Christus-belydend van aard is;
    • dat die volkskerk 'n positiewe ver-Christelikende beïn-vloeding van die kultuurlewe as oogmerk het;
    • en dat die volkskerk in die bestaande politieke en sosiale konteks in Suid-Afrika wenslik vir apostolaat was (is).

    (NHKA 2007b:344)

    In die aanloop tot die 68ste AKV word sterk ondersteunende, maar ook uiteenlopende, menings oor die volkskerklike gedagtes gevind. Pretorius (2007:6) argumenteer dat die volkskerklike van die Christus-belydende kerk nie 'n vertrek- of eindpunt verabsoluteer nie, maar opgeneem is in die vrymagtige handelinge van die Drie-enige God wat op grond van die gekruisigde Here die kerk ten spyte van weerstand, teenstand en onbegrip plant, bou en in stand hou. Ook die Poort-gemeente van die NHKA verklaar dat die poging tot die verwydering van die volkskerkgedagte uit die Kerkorde geen teologiese agtergrond het nie en dat 'n volkskerk op 'n besondere manier moontlikhede bied om die Christelike getuienis en die Christelike diens op die wydste manier in die openbare lewe te laat deurwerk (NHKA 2007c:17-42)

    In die Addendum tot die Agenda van die 68ste AKV word die na-binne gerigtheid van die NHKA egter steeds opgemerk, sowel as etnies-gedrewe klemtone. Aangaande die eise wat deur WARC reeds te Ottawa 1982 gestel is, verklaar die gemeente Poort dat dit politieke eise van die ANC is en dat die toegewing aan hierdie eise die NHKA sal omvorm tot 'n instrument vir die ANC om laasgenoemde se doelstellings te bereik waarvan een die oordrag van wit mense se bates aan swart mense sou wees (NHKA 2007c:41). Die gemeente Tarlton betreur samewerking en vereniging met "'n kerk wat 'n ander taal, kultuur, eties en morele waardes, ras, Bybelse beskouing en Godsbeskouing as ons het" (eie beklemtoning) (NHKA 2007c:8). Gemeente Utrecht verklaar dat die voorgestelde wysigings aan die Kerkorde die wese van die NHKA sal raak, want dan sal die kerk oop wees vir almal. Laasgenoemde is betreurenswaardig vir "hierdie gemeente" (Utrecht) (NHKA 2007c:12). Die na-binne gerigtheid word duidelik in 'n vraag wat die genoemde gemeente vra, naamlik, "watter nut het die WARC vir die gewone lidmaat van die NHKA" (NHKA 2007c:13)?

    'n Teologiese denkwyse teenoor die vorige is ook duidelik uitgespreek. So byvoorbeeld het die Hervormde Dosentevergadering van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria positiewe kommentaar gelewer op die Kommissie van die AKV se beskrywingspunt dat die 68ste AKV die begrip "volkskerk" uit die Kerkorde moet haal. In die Dosentevergadering se studiestuk word verklaar dat die NHKA op grond van teologiese worsteling behoort te erken dat 'n Bybels-teologiese regverdiging van 'n politieke ideologie soos Apartheid nie aanvaar kan word nie en dat die begrip volkskerk in eietydse apostolaat en kerkwees agterhaal is. Die gronde wat onder andere hiervoor gestel word is:

    • Enige teologie wat in sy kerkbegrip iets anders soos die natuur (kultuur, taal, tradisie, volk) verreken, (is) problematies .... Dit kom neer op die verburgerliking van die evangelie, terwyl geloof in Christus alleen konstitutief vir lidmaatskap van die kerk is. In die begrip volkskerk word twee genera met mekaar vermeng en word die kerk "van bo" (genade) en "van onder" (natuur) verstaan. Daarmee word veronderstel dat die raakvlak tussen God en mens nie 'n saak van die geloof is nie, maar wel een van die natuur; dat daar beide in die Ou Testament en die Nuwe Testament profetiese kritiek teen die sakralisering van die natuur- en volkslewe aangetref word
    • dat die tendens wat voorheen in die NHKA se teologie voorgekom het, naamlik die onderskeid tussen die sigbare en onsigbare kerk, Bybels-teologies problematies is;
    • dat enige politieke model wat teen mense diskrimineer en hulle menswaardigheid aantas, soos Apartheid, nie Skriftuurlik begrond kan word nie.

    (NHKA 2007b:342-348)

    Dit is dus duidelik dat 'n volkskerklike denke reeds 'n geruime tyd kritiek in die NHKA ondervind. Hierdie kritiek het vanuit die NHKA se eie geledere en vanuit die buiteland gekom. Reeds in 1986 skryf Van Aarde (1986:77-93) 'n artikel in die HTS Teologiese Studies waarin hy die gebruik van die apostolêre, volkskerklike denke om lidmaatskap van die NHKA te bepaal, kritiseer. Ook J A Loader distansieer homself van die volkskerklike denke soos dit uitdrukking vind in Artikel III van die vorige Kerkwet op die AKV van 1986. Oberholzer (1999:457) lewer skerp kritiek teen die inhoudelike teenstrydighede wat in die formulering van Ordereël 4 vervat is deur eers te verwys na die gemeenskap van gelowiges en eenheid in geloof en belydenis en daarna te verwys na 'n volkskerk met 'n ondubbelsinnige gerigtheid op die Afrikanervolk. Hy verklaar dat die begrip volkskerk nie meer te red is nie.

    Kritiek teen die volkskerk-idee word ook al hoe meer vanuit die kerke in Nederland gehoor. Dingemans het 'n "pleidooi gelever voor een open kerk" - die titel van 'n lesing van hom in 1989. Heitink sluit ook aan by die pleidooi vir 'n oop kerk as hy verklaar dat die ware katolieke kerk gedwing word om oor eie grense van volk, ras, taal, stand en geslag heen te kyk (Heitink 2007:31). Hy beskryf die volkskerk as 'n kerk-tipe waar amptelike spreke en sakramentele handelinge sentraal staan, maar "het godsdienstige besef van de leden is vaak niet meer dan een dun laagje vernis" (Heitink 2007:161). Trouens, volgens hom het Nederland nog nooit 'n staats- of volkskerk geken nie, daarvoor was die aanhang te gering en Nederland "kende bovendien de eeuwen door een grote mate van tolerantie en vele vrijdekenkers" (Heitink 2007:162). Daarom praat hy van die begrip "publieke kerk" in plaas van "volkskerk".

    Die gevolg is dat, as die NHKA die volkskerkbeskouing na die Nederlandse teologie toe wil terugvoer, die NHKA ook ag sal moet slaan op die kritiek vanuit die Nederlandse geledere in eietydse teologiese publikasies.

    5.2 Ander kerke

    Ook in die NHKA se verhouding met ander denominasies kom daar 'n bepaalde identiteit van kerkwees na vore, vanweë die NHKA se verstaan van eenheid en katolisiteit. Daar is hoofsaaklik sprake van twee ekumeniese verhoudings wat die NHKA het. Die een daarvan is tussen die NHKA en twee ander Afrikaanssprekende kerke, naamlik die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA). Georganiseerde samesprekings tussen die drie kerke vind sedert 1958 plaas op die basis van 'n gespreksforum wat as die Tussenkerklike Kommissie (TKK en later TKR) bekend staan (NHKA 1991:74). Die inhoud van die gesprek tussen die drie kerke het veral gehandel oor die betekenis van die begrip "kerk" (Geyser 1999:315). Die verskil oor die kerkbegrip het uitgekristalliseer in 'n verskil oor die eenheidsbegrip. In 'n dokument wat deur B J Engelbrecht in 1970 opgestel is en waarin die verskille en ooreenkomste tussen die drie kerke uiteengesit word, is hierdie tendens duidelik. Dit word gestel dat die verskil tussen die NHKA en die GKSA op die twee kerke se verstaan van "kerklike eenheid" berus. Volgens die GKSA moet die onsigbare kerk wat een is in waarheid, sigbaar tot uitdrukking kom in die eenheid van die kerkverband, terwyl daar geen nasionale grense vir die kerk mag wees nie. Die NGK weer het geoordeel dat die verdeling tussen die genoemde drie Afrikaanssprekende kerke 'n sondige verskeurdheid is omdat daar nie 'n natuurlike verskeidenheid onder die Afrikaners as volk ten opsigte van taal en kultuur voorkom nie. Hierteenoor het die NHKA geoordeel dat eenheid in waarheid nie tot een denominasie hoef te lei nie (Historiese Agtergrond van die TKK, in NHKA 1991:74). 'n Voorbeeld van hierdie denke word by Engelbrecht (1978b:288) gevind wanneer hy argumenteer dat die verskeidenheid nie as sondige verskeurdheid beskou moet word nie, daar dit slegs sondige verskeurdheid sou wees as 'n groep binne 'n bepaalde kerkgenootskap sou afskei. Wat die ekumene met die genoemde Afrikaanssprekende kerke dus betref, wil dit voorkom asof (natuurlike) diversiteit hier deur die NHKA bo geloofseenheid verkies is.

    Die enigste ander ekumeniese betrekking wat die NHKA handhaaf, is dié met die MRCC. In 1977 het die eerste Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika sitting geneem. Aanvanklik was dit die vergestalting van die NHKA se ideaal van afsonderlike kerke wat kerkregtelik gestalte gekry het (Dreyer 2006:1351). Beyers (2007:2) verklaar dat daar tot op hede twee benaderingswyses was wat gegeld het vir die verhouding tussen die NHKA en die MRCC. Die eerste was dié van 'n suiwer ekumeniese verhouding. Hierdie ekumeniese verhouding het berus op formele bande wat simboliese tekens was van deelname aan die een kerk van Christus. Binne hierdie gedagtekring was die veronderstelling dat daar met twee volkskerke gewerk word, waar die twee kerke dan verskillende kulture en volke bedien. Dit was dus genoegsaam om slegs formele bande aan te knoop en hierdie ekumeniese bande hoef nie noodwendig op eenheid uit te geloop het nie. Die tweede was dié van 'n missionêre verhouding. Daarvolgens is die bestaan van die MRCC vir baie lank as die vergestalting van die sendingbeleid van die NHKA gesien, naamlik dié van verinheemsing van die evangelie in Afrika (Beyers 2007:2). Die band wat dus tussen die twee kerke was, was dié van 'n sendingverhouding. Aan die MRCC is gedink in terme van sending. Die veronderstelling hier was dat dit nie nodig is om oor kerkeenheid te besin nie, aangesien albei die NHKA en die MRCC so nou aanmekaar verbonde is, dat daar in elk geval nie van iets anders as eenheid sprake kan wees nie.

    In die aanloop tot die 68ste AKV beklemtoon Beyers (2007:3) 'n sogenaamde konvivensie van hierdie twee kerke. Hierdie benadering behels dat kerkeenheid die basis is waarvolgens die verhouding tussen die MRCC en die NHKA geskied. Dit veronderstel beide die ekumeniese en die missionêre bande tussen die kerke. Vanuit 'n ekumeniese perspektief erken die NHKA die selfstandigheid en outonomie van die MRCC. As die MRCC van sigself as 'n dogterkerk van die NHKA praat, dan verwoord dit iets van die historiese missionêre ontstaansproses van die MRCC (Beyers 2007:3). Die MRCC word egter nie meer as die sendingobjek beskou nie, maar eerder as sendingvennoot van die NHKA. Die twee kerke deel in die opdrag om die evangelie te verkondig, nie meer aan mekaar nie, maar saam aan Afrika en die wêreld. Kerkeenheid kan dus nie op grond van 'n missionêre band veronderstel word nie of op ekumeniese gronde geïmpliseer word nie. Die rede daarvoor is (en dit het die bespreking bo uitgewys) dat eenheid nie opsioneel is nie, maar wel 'n evangeliese eis.

    Dit bring die vraag oor die moontlikheid en die aard van strukturele eenheid tussen die twee kerke na vore. Hierdie moontlikheid sal volgens Groenewald & Buitendag (2006:1415) van verskillende faktore afhang. Dit is dat beide kerke opnuut oor eenheid, en wat dit behels, sal moet besin. Daar sal ook geskikte modelle gevind moet word waarvolgens hierdie eenheid moontlik sal wees en die spesifieke model sal albei kerke se aard en strukture in ag moet neem.

     

    6. QUO VADIS?

    Kerklike eenheid is 'n Skriftuurlike indikatief. Hierdie indikatief bestaan ten spyte van verskille, verskeidenheid en diversiteit. Dit is egter tegelyk ook 'n Bybelse imperatief en gelowiges en Christelike kerke kan nie anders as om hulle daartoe te verbind nie. Die besonderheid wat daar in die verskeidenheid van Christelike kerke teenwoordig is, moet egter bevestig word deur 'n verbintenis aan dit wat sentraal staan. Die katolisiteit van die kerk is dus tegelyk 'n indikatief én 'n imperatief.

    Die grond vir hierdie eenheid en katolisiteit is Jesus Christus (Käsemann 1963:293). Hierdie eenheid en katolisiteit word sigbaar waar saam geluister word na Jesus Christus en waar die karakter van die kerk op grond van hierdie saam luister na Jesus Christus oral en altyd deur die Gees bepaal word. Katolisiteit word aangedui deur die eenheid van die kerk se essensie. Hierdie essensie mag egter nooit 'n Platonistiese utopie wees nie. Daar kan nie volstaan word met die blote idee van 'n kerk wat een en algemeen is nie. Die abnormale, naamlik die verskeurdheid, kan nooit op gronde van die idee van `n eskatologiese, verenigde, katolieke kerk as die normale voorgehou word nie. Dialekties gesproke, is die eenheid en die katolisiteit nie afgehandel nie. Dit is 'n eskatologiese verwesenliking. Maar aan die ander kant kan laasgenoemde nie gebruik word om by die idee van 'n verenigde katolieke kerk te volstaan nie. Eerder moet hierdie sake gesien word as verteenwoordigend op 'n organiese kontinuum, waar die eenheid en die katolisiteit toenemend meer volledig word op pad na die voleinding toe. Hierdie eenheid en katolisiteit word telkens weer en weer 'n werklikheid. Daar kan dus nooit volstaan word met die skeiding van die onsigbare kerk en die sigbare kerk nie, want dit sou beteken dat eenheid en katolisiteit statiese konsepte word. En dit is nóg staties nóg konseptueel. Dit is dinamiese werklikhede.

    Vanuit die geskiedenis van die NHKA is dit duidelik dat die indikatiewe aard van die eenheid en katolisiteit wel deeglik mee rekening gehou is. In hierdie sin was dit helaas statiese konsepte. Die imperatiewe aard van eenheid en katolisiteit is egter nooit volledig laat hoor nie. Dit is nie gesien as dinamiese werklikhede nie. Laasgenoemde is bewys deur die volkskerklike denke van die kerk en het geblyk in die kerk se verhouding met ander kerke, veral die MRCC. Dit is egter wel ook duidelik dat daar 'n denkskuif binne 'n groot deel van die NHKA plaasgevind het. Hierdie denkskuif het in terme van die verstaan van eenheid en katolisiteit, die belydenis en die ekumenisiteit van die kerk, plaasgevind. Op die 68ste AKV van 2007 is daar met 51% teenoor 49% ten gunste van die verwydering van die woord "volkskerk" uit die huidige Kerkorde van die NHKA gestem. Dit kon egter nie verander word nie, want soos reeds aangetoon, kan 'n besluit van hierdie aard slegs deurgevoer word as daar `n meerderheid van twee-derdes van die stemme is (Ordinansie 10.1). Dit getuig nietemin van 'n duidelike skuif in die denke van die lidmate van die NHKA, maar terselfdertyd getuig dit ook van 'n impasse ten opsigte van ekklesiologie.

    Vanuit die geledere van die NHKA het die betoog dus gekom dat eenheid in terme van versoenende verskeidenheid verstaan moet word. Met die gebruik van die woord versoenende teenoor versoende eenheid word daar dus getuig dat die oproep tot eenheid binne die gegewe realiteit nooit as afgehandel gesien kan word nie. Dit getuig ook dat die eenheid op verskillende vlakke tot uitvoering gebring kan word. Die uitdaging is om die geskikte model te vind waarvolgens hierdie eenheid en katolisiteit tot uitvoering gebring kan word.

    In die lig van bogenoemde versoenende verskeidenheid is die model van koinnía of communio 'n singewende model in terme waarvan eenheid en katolisiteit uitvoering gegee kan word, veral in die lig van die diverse samelewing waarin die NHKA teenswoordig kerk moet wees. Dit kan die basis vorm van die NHKA se eenheid met ander kerke sonder dat die verskeidenheid opgehef word. Hierdie communio of koinnía vergestalt die Bybelse imperatief van kerklike eenheid in verskeidenheid. In die ruimte van die koinnía kan daar dialoog plaasvind. Hierdie dialoog word nie beperk deur die verbintenis aan 'n volk, 'n staat, of 'n kultuur nie. Hierdie dialoog vind plaas in eerlikheid en openhartigheid en waar daar openlik en deeglik na mekaar geluister word. Dit vind ook plaas waar die gespreksgenote hulleself verbind tot gemeenskaplike respek en Christelike liefde (vgl Peters 1992:338-339).

    Hierdie eis tot koinnía vereis egter van die kerk 'n keuse. Hierdie beslissing gaan behels dat die kerk die spreekwoordelike hand in eie boesem moet steek. Die na-binne gerigtheid van die NHKA se ekklesiologie mag en kan nie in die lig van die eis tot koinnía of communio bly voortbestaan nie. Die koinnía kan slegs realiseer waar die kerk die gesig van Christus aan die wêreld wys. Koinnía impliseer deelname. Die NHKA kan nie kerk van Christus in isolasie wees nie. Die allesomvattende liefde van Christus kan nie verkondig word as die kerk op grondvlak verdeel is nie. Dit beteken dat die NHKA onomwonde en onvoorwaardelik die prinsipiële volkskerklike denke sal moet opsê. Doen die NHKA dit, sal die kerk in staat wees om saam met die kerk van alle eeue te bely: Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.

    Die lakmoestoets vir die NHKA se ekklesiologie lê in die 68ste AKV se agenda, Beskrywingspunt 64 (NHKA 2007b:181) wat ongelukkig nie tydens hierdie vergadering ter tafel geneem is nie. Aanvaarding hiervan, is die sleutel tot die eenheid en die katolisiteit van die NHKA:

    Die 68ste Algemene Kerkvergadering maak onomwonde die teologiese uitspraak:

    • dat Apartheid nie geregverdig kan word nie
    • en dat ons Apartheid verwerp omdat dit,

    • in stryd met die evangelie van Jesus Christus is,
    • gebaseer is op die idee van onderlinge onversoenlikheid,
    • onreg sanksioneer, en
    • die beeld van God in mense aantas.

    Ons beklemtoon die teologiese aard van hierdie uitspraak.

    (NHKA 2007b:342-348)

     

    Literatuurverwysings

    Arndt, W & Gingrich, F W 1957. A Greek-English Lexicon of the New Testament and other early Christian literature. Chicago, IL: University of Chicago Press.         [ Links ]

    Barth, K 1949. Dogmatics in outline, tr by G T Thomson. London: SCM.         [ Links ]

    Barth, K 1961. Church dogmatics IV/1: The doctrine of reconciliation, edited by G W Bromiley et al and translated by A T Mackay & T H L Parker. Edinburgh: T & T Clark.         [ Links ]

    Bender, K J 2005. Karl Barth's christological ecclesiology. Hampshire: Ashgate. (Barth Studies Series.         [ Links ])

    Beyers, J 2007. Die verhouding tussen die NHK en die MRCC. Ongepubliseerde Referaat gelewer op die Inligtings- en besprekingsvergadering wat gehou is op 14 Februarie 2007 te NHK Montana.         [ Links ]

    Botma, M A 1996. 'n Krities-realistiese ondersoek na die verskynsel eenheid-pluraliteit van die Kerk. DD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

    Breytenbach, C (red) 1987. Eenheid en konflik. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

    Buitendag J 1990. Die paradigmas van "Kerk en Wêreld 2000". HTS 46(4), 690-707.         [ Links ]

    Buitendag, J 2006. "Nuwe wyn in nuwe sake en die behoud van altwee": 'n Herbedinking van die Hervormde Kerk se identiteit aan die begin van die 21ste eeu in Suid-Afrika. HTS 62(2), 343-362.         [ Links ]

    Buitendag, J 2008. Ecclesia reformata semper reformanda - die ongemaklike eis. HTS 64(1), 123-138.         [ Links ]

    De Villiers, P 1987. Die Apostelkonvent (Handelinge 15), in Breytenbach 1987:23-47.         [ Links ]

    Dingemans, G D J 1989. Pleidooi voor een open kerk, in Leidse lezingen. De kerk verbouwen: Dingemans' ecclesiologie kritisch bekeken, 177-187. Callenbach: Nijkerk.         [ Links ]

    Dreyer, J 1961. Die onsigbare kerk en die rasseprobleem. Die Hervormer, Januarie 1961.         [ Links ]

    Dreyer, W A 2006. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika as volkskerk: Oorsig en herbesinning. HTS 62(4), 1337-1368.         [ Links ]

    Dreyer, W A 2007a. Die Agenda is gereed. Die Hervormer, 1 Augustus 2007, bl 3. NHKA: Pretoria.         [ Links ]

    Dunn, J D G 2008. One church - Many churches, in Einheit der Kirche im Neuen Testament, 3-23. Dritte europäische orthodox-westliche Exegetenkonferenz in Sankt Petersburg 24-31 August 2005. (WUNT 218.         [ Links ])

    Du Rand, J 1987. Johannes 17: Jesus se gebed om eenheid en solidariteit te midde van krisis en konflik, in Breytenbach 1987:105-130.         [ Links ]

    Engelbrecht, B 1982. Ter wille van hierdie wêreld: Politiek en Christelike heilsbelewing in Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

    Engelbrecht, B J 1978a. Die onderskeiding tussen "onsigbare" en "sigbare" kerk en die betekenis daarvan ten opsigte van die eenheid van die kerk. Almanak 72, 8-15.         [ Links ]

    Engelbrecht, B J 1978b. Teologie in die kerk, onder redaksie van J P Oberholzer. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

    Geyser, P A 1999. Gesprek met ander kerke, in Van Wyk 2000:314-319.         [ Links ]

    Groenewald, A J & Buitendag, J 2006. Is strukturele eenheid tussen die Maranatha Church of Christ en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika moontlik? HTS 62(4), 1395-1422.         [ Links ]

    Heitink, G 2007. Een kerk met karakter. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Hoedemaker, B, Houtepen, A & Witvliet, T 1995. Oecumene als leerproces: Inleiding in die Oecumenica, 2e druk. Utrecht: Interuniversitair Instituut voor Missiologie en Oecumenica. (IIMO Research Publication 37.         [ Links ])

    Hoekendijk, J C [1948]. Kerk en volk in de Duitse Zendingswetenschap. [Utrecht]         [ Links ].

    Jonker, W D 1994. Bevrydende waarheid: Die karakter van die gereformeerde belydenis. Wellington: Hugenote Uitgewers.         [ Links ]

    Jurgens, W A 1970. The faith of the early fathers, vol 1. Collegeville, MN: Liturgical Press.         [ Links ]

    Käsemann, E 1963. Unity and diversity in New Testament ecclesiology. Novum Testamentum 6(4), 290-297.         [ Links ]

    Kasper, W 2004. That they may all be one: The call to unity today. London: Burns & Oats.         [ Links ]

    Kärkkäinen, V M 2002. An introduction to ecclesiology: Ecumenical, historical and global perspectives. Illinois, IL: Intervarsity Press.         [ Links ]

    Küng, H [1968] 2001. The Church. London: Burns & Oats.         [ Links ]

    Lategan, B 1987. Die krisis in Galasië, in Breytenbach 1987:6-22.         [ Links ]

    McGrath, A E 2001. An introduction to Christian theology. Oxford: Blackwell.         [ Links ]

    Moltmann, J 1993. The church in the power of the Spirit. Minneapolis, MN: Fortress.         [ Links ]

    NHKA Algemene Kerkvergadering 1973. Herderlike skrywe van die AKV van die NHKA aan die lidmate van die kerk oor sy opvatting met betrekking tot volkereverhoudings in die RSA. Kerkargief Pretoria.         [ Links ]

    NHKA Kommissie van die AKV 1979. Handelinge 1979 (April tot Junie). Kerkargief: Pretoria.         [ Links ]

    NHKA Kommissie van die AKV 1982. Samevattende verslag oor die vergadering van die Wêreldbond van Hervormde Kerke gehou te Ottawa vanaf 16-27 Augustus 1982. Handeling van die Kommissie van die AKV Julie tot September 1982, Volume 110, Bylae AA 1.         [ Links ]

    NHKA Kommissie van die AKV 1985. Kerk en wêreld 2000. Pretoria: Kital.         [ Links ]

    NHKA Kommissie van die AKV 1990. Kerk en politiek. Kerkargief: Pretoria.         [ Links ]

    NHKA Kommissie van die AKV 1991. Resultate van die TKK. Handelinge van die Afvaardiging van die NG Kerk, die NH Kerk en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Januarie 1991-Desember 1993. Kerkargief: Pretoria         [ Links ]

    NHKA Algemene Kerkvergadering 1997. Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Kerkargief: Pretoria.         [ Links ]

    NHKA Algemene Kerkvergadering 2001. Agenda/besluitebundel van die 66ste Algemene Kerkvergadering, Bylae F. Kerkargief: Pretoria.         [ Links ]

    NHKA Algemene Kerkvergadering 2004. Besluitebundel van die 67ste AKV. Kerkargief: Pretoria.         [ Links ]

    NHKA Kommissie van die AKV 2006a. Notule Maart 2006. Kerkargief: Pretoria.         [ Links ]

    NHKA 2006b. Die voorstel tot wysiging van Ordereël 1 en Ordereël 4 deur die Algemene Kommissie. Kerkargief: Pretoria.         [ Links ]

    NHKA Kommissie van die AKV 2007a. Herderlike Brief 2007. Identiteit en Relevansie van die Kerk in die 21ste eeu. Kerkargief: Pretoria.         [ Links ]

    NHKA Kommissie van die AKV 2007b. Agenda van die 68ste Algemene Kerkvergadering. Kerkargief: Pretoria         [ Links ]

    NHKA Kommissie van die AKV 2007c. Addendum tot die Agenda van die 68ste Algemene Kerkvergadering. Kommentaar oor die wysiging van Ordereëls 1 en 4. Kerkargief: Pretoria.         [ Links ]

    Oberholzer, J P 1999. Terug op die pad, in Van Wyk 1999:449-461.         [ Links ]

    Pelser G M M 1994. Enkele opmerkings oor die wese van kerk. HTS 50(1&2), 311-329.         [ Links ]

    Peters, T 1992. God - the world's future: Systematic theology for a postmodern era. Minneapolis, MN: Fortress.         [ Links ]

    Pretorius, C 2007. Waarheid en werklikheid. Die Hervormer, 15 Augustus 2007, bl 6. NHKA: Pretoria.         [ Links ]

    Tofan, S 2005. Die Beziehung zwischen der lokalen und universalen Kirche, in Einheit der Kirche im Neuen Testament, 24-31. Dritte europäische orthodox-westliche Exegetenkonferenz in Sankt Petersburg 24-31 August 2005. (WUNT 218.         [ Links ])

    Van Aarde, A G 1986. Die Wirkungsgeschichte van Matteus 28:16-20 in die volkskerklike apostolaat. HTS 42(1), 77-93.         [ Links ]

    Van Aarde, A G 1987. Gedagtes oor die begin van die kerk - 'n geskiedenis van versoenende verskeidenheid. HTS 43(3), 325-351.         [ Links ]

    Van der Merwe, P J 1990. Die Nederduitsch Hervormde Kerk en sy bediening in 'n toekomstige Suid-Afrika: Die visie van Kerk en Wêreld 2000. HTS 46(4), 672-689.         [ Links ]

    Van der Westhuizen, H G 1981. Volkskerk en sending. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

    Van Selms, A 1961. Slae in die lug. Die Hervomer, Maart 1961.         [ Links ]

    Van Zyl, F J 1978. Vereniging of samewerking? Almanak 72, 23-26.         [ Links ]

    Van Wyk, D J C 1978. Stemme uit die verlede. Pretoria:HAUM.         [ Links ]

    Van Wyk, D J C (red) 1999. 20ste eeu Hervormde Teologie. Pretoria: Sentik.         [ Links ]

    Van Wyk, I W C 1999. Wat glo ons van die kerk?, in Van Wyk 1999:270-285.         [ Links ]

    WARC General Council 1982. Racism and South-Africa. A composite statement from section II - "The power of grace and the graceless powers." The Policy Reference Committee, and the Special Committee on Reformed Witness Today. http://warc.ch/where/21gc/study.         [ Links ]

     

     

    1 Hierdie artikel is 'n verkorte weergawe van 'n mini-verhandeling met as titel, 'n Histories-kritiese ondersoek na die ekklesiologie van die Hervormde Kerk met betrekking tot die dimensies van eenheid en katolisiteit sedert Ottawa 1982, ter vervulling van 'n gedeelte van die vereistes vir die Magister Divinitatis in 2007 aan die Universiteit van Pretoria met prof dr Johan Buitendag as studieleier.
    2 Voor 2006 was hierdie Engelssprekende kerk met swart lidmate op die Afrikaanse naam as die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika bekend en tans as die Maranatha Reformed Church of Christ (hierna MRCC).
    3 Kyk WARC General Council 1982. Racism and South Africa. A composite statement from section II - "The power of grace and the graceless powers". The Policy Reference Committee, and the Special Committee on Reformed Witness Today. http://warc.ch/where/21gc/study.
    4 Daar is verskillende nuanses in hierdie twee gedeeltes wat oor dieselfde gebeurtenis handel. Dit is te vinde in die verskillende perspektiewe van beide geskrifte (Groenewald & Buitendag 2006:1399; vgl ook De Villiers 1987:35-47).
    5 In ongeveer 96 nC word daar nog 'n brief (benewens die genoemde brief van Paulus) vanuit Rome aan die gemeente Korinte geskryf. Hierdie skrywer staan tradisioneel as Klemens Romanus bekend.
    6 In 'n brief wat hy in ongeveer 110 nC aan die gemeente van Efese skryf.
    7 Hierdie Artikel het gelui: "Die Kerk, bewus van die gevare wat blank en nie-blank vir altwee groepe inhou, wil geen gelykstelling in sy midde toelaat nie, maar beoog die stigting van eie volkskerke onder die verskillende volksgroepe, in die oortuiging dat aldus die bevel van die Here - `maak dissipels van alle nasies' (Matt 28:19), die beste tot sy reg sal kom en dat die eenheid in Christus deur so 'n werkverdeling nie geskaad sal word nie. Tot die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika behoort daarom net blanke persone" (NHKA 1951).
    8 Hierdie opmerking is nie genotuleer nie. Bevestiging daarvoor is mondelings deur betrokkenes betuig.