SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 no.3 Pretoria July/Sept. 2008

 

Hoordersgesindheid as moontlike kommunikasiesteurnis in die prediking: Homileties-empiriese gesigspunte

 

Hearers' attitude as possible communication barrier in transferring the message of a sermon: Homiletical-empirical points of view

 

 

C J H Venter en A P Du Preez

Vakgroep Praktiese Teologie. Noordwes-Universiteit (Potchefstroom Kampus)

 

 


ABSTRACT

The role of hearers in a worship service, especially as far as their experience and reception of the message of a sermon are concerned, has received ample attention in homiletical research. In research on this topic mainly basis-theoretical, meta-theoretical and practice-theoretical aspects have been taken into account. The focus of this article, however, is a homiletical-empirical investigation of the above-mentioned topic. After conceptualizing aspects central to this article, the responses of twenty two interviewees are treated. These people are from different denominations and had been individually interviewed by utilizing a qualitative/quantitive research method. Data thus obtained were analyzed by way of categorization (establishing the aim of the research) and thematization (establishing subsidiary aims). Issues dealt with under different themes include the following: general experience of a worship service by an interviewee, competence to listen to and understand a sermon, physical noise in the church as a possible communication barrier, the socio-economic situation of the hearer, the nature of preaching in a certain congregation, the emotional situation of the hearer and his or her involvement in church activities. Throughout the analysis of the obtained data, certain deductions and conclusions that may be useful to preachers and hearers have been formulated.


 

 

1. ORIËNTERING

Op die vlak van die Homiletiek is dit opvallend dat navorsing wat die breër spektrum van die hoorder in die prediking omvat, onder andere ook fokus op die gesindheid van die hoorder en van die prediker (vgl Immink 2003:40-46). Kruger (1999) wy sy navorsing aan die prediker en die gesindheid waarin die prediking geskied. In 'n opvolgstudie gaan Kruger (2002) in diepte in op die prediker en gesindheidsverandering langs die weg van die prediking (vgl ook De Wet 2006:598-617; Pieterse1991:8-30; Eswine 2004:8-12; Du Preez 2006:79 e v; Cilliers 2004:7; Nel 1999:85; Nel 2000:112; Vos 1999:126; De Wet 2006). In bogenoemde navorsing is besonder klem geplaas op basisteoretiese aspekte, byvoorbeeld op die hoorders en hulle situasie (vgl ook Pieterse 2005:410-412; Venter 2004:147-164; Venter 2005:663-664.) Kruger en Venter (2006:54-71) fokus op die prediking van geloofs-verantwoordelikheid en ontwerp homiletiese riglyne vanuit Hebreërs. Du Preez (2006:9-37) ontwerp basisteoretiese perspektiewe op die gesindheid van die hoorder as moontlike steurnis in die prediking deur te fokus op die gelykenis van die saaier. Hierdie basisteoretiese aspekte kan as waardevol en funderend beskou word vir Praktiese Teologie en in besonder vir die Homiletiek.

Tog is daar behoefte aan homileties-empiriese navorsing wat voortbou op sommige van bogenoemde basisteoretiese aspekte Op hierdie vlak het Kruger (2002) reeds 'n bydrae gelewer deur op metateoretiese vlak in sy empiriese navorsing gebruik te maak van die Likertskaal om gesindheid te meet (vgl ook Kruger & Venter 2003:461-484). Hierop wil die navorsing in hierdie artikel voortbou en as hipotese stel dat die gesindheid waarmee 'n hoorder na 'n preek luister, wel 'n kommunikasiesteurnis kan veroorsaak in die oordrag van die preek. Hierdie aanname hou beslis nie in dat die gesindheid waarmee 'n hoorder luister, nie ook die kommunikasie tussen prediker en hoorder kan bevorder nie. Die invalshoek van hierdie artikel is egter dat die gesindheid van die hoorder onder sekere omstandighede en afhangende van sekere faktore wat op hom/haar inwerk, kommunikasie in die wiele kan ry.

 

2. KONSEPTUALISERING VAN SENTRALE BEGRIPPE

Die sentrale begrippe wat agtereenvolgens behandel gaan word, is prediking, hoordersgesindheid en kommunikasiesteurnis.

2.1 Prediking

Voordat die begrip prediking nader gekonseptualiseer word, word as agtergrond die volgende gestel. In hierdie artikel word uitgegaan van die feit dat prediking 'n dialogiese aard het. Hierdie vertrekpunt hou onder andere in dat prediking 'n kommunikatiewe handeling in diens van de evangelie is waaraan die hele gemeente ook 'n aktiewe aandeel het, met ander woorde dat prediking tweerigtingverkeer veronderstel. Pieterse (2001:13) bring bogenoemde stelling soos volg onder woorde: "Kommunikatiewe handelinge in diens van die evangelie is gekleur deur ons Christelike hoop en verwagting van die komende koninkryk van God waartoe ons die werklikheid van gemeentelede en die samelewing wil verander." Dat prediking 'n dialogiese aard het, is 'n Reformatoriese waarheid wat verdiep en nader uitgewerk is deur onder andere Ricoeur (1991), Gadamer (1975) en Dingemans (1991) se hermeneutiese insigte. In Suid-Afrika is dit veral Pieterse (1991, vgl ook 2001) wat die rol van die gemeente in die prediking nader uitgewerk het.

Hierdie konseptualisering hou dus in dat die hoorder se situasie, behoeftes en gesindheid 'n kardinale plek het in die preek as dialogiese kommunikasie. Onder prediking word in hierdie artikel dan verstaan die dialogiese kommunikasie van God se Woord waarin ook die hoorder self, sy of haar vrese, hoop en behoeftes betrek word.

2.2 Hoordersgesindheid

Tweedens word aandag gewy word aan die gesindheid waarin geluister word na die Woord, in hierdie geval spesifiek die gesindheid van die hoorder. Die volgende aspekte is hierin van belang. Die Bron van die prediking is die Woord van God en die Heilige Gees is die Inspirator van die Woord. Die werk van die Heilige Gees staan dus sentraal in alle dienswerk. Dit is die Heilige Gees wat die kommunikeerder en ook die ontvanger van die kommunikasie verlig. Die Heilige Gees bewerk ook die regte gesindheid om die Woord te ontvang. Hy bewerk verandering en gee lewe.

Dit is ook die Gees wat steurnis in die kommunikasie teenwerk. Lukas 8:11 verklaar dan ook dat die saad die Woord van God is. Die saad verander nie. Die plek waar die saad val, verander wel en bepaal die groeipotensiaal (werk van die Heilige Gees) van die saad (Du Preez 2006:12).

Die hoorder as ontvanger van die Woord het egter 'n sekere ingesteldheid waarmee hy of sy na die erediens kom en na die Woord luister - hierdie ingesteldheid kan ook gekleur en aangetas wees deur die gebrokenheid van hierdie bedeling. Die hoorder kan byvoorbeeld emosies van opgewondenheid, hartseer en depressie ondervind, maar ook dié van verwagting en opgewondenheid (Killinger 1999:27-44). Litfin (1981:70-71) stel dat hoorders wel 'n gesindheid van ondersteuning vir die kommunikeerder kan openbaar, maar ook 'n gesindheid van apatie, twyfel of selfs van vyandigheid. Die hoorder kom dus met 'n bepaalde gesindheid en ingesteldheid na die erediens. Onder hierdie gesindheid kan aspekte soos die algemene ingesteldheid van die hoorder in sy of haar belewing tuisgebring word, en ook die spesifieke gesindheid teenoor die prediking, die ingesteldheid teenoor fisiese geraas tydens die erediens, sy of haar sosio-ekonomiese posisie en in watter mate dit sy/haar gesindheid beïnvloed in die belewing van die erediens en preek, die lidmaat se ingesteldheid teenoor die prediking en prediker en sy/haar belewing daarvan, die gemoedstoestand tydens die erediens en preek en ook die lidmaat se gesindheid teenoor sy kerk.

Met gesindheid word dan hier bedoel die ingesteldheid wat reeds bestaan by die hoorder by die aanvang van die erediens. Indien hierdie gesindheid positief is, kan die prediking van die Woord en die werking van die Heilige Gees 'n verdieping laat plaasvind wat die hoorder in staat stel om deur die geloof sy lewe voortdurend te rig op God se Woord. Indien die gesindheid egter negatief gekleur is, kan dit die werking van die Heilige Gees blokkeer.

2.3 Kommunikasiesteurnis

Derdens word aandag gewy aan die konsep kommunikasiesteurnis. Vir ons doeleindes kan kommunikasiesteurnis breedweg beskryf word as enige aspek wat die dialogiese kommunikasie van die preek negatief beïnvloed of blokkeer (vgl Bang 2004:131). Kommunikasiesteurnis kan gesetel wees in die prediker of in die sondige aard van die prediker of die lidmaat. Kommunikasiesteurnis kan ook weerstand teen die inwerking van die Heilige Gees, gebrek aan onderlegdheid in die Skrif en ontkenning van die uniekheid van Christus en sy werk impliseer (vgl Johnston 2001:102).

'n Kommunikasiesteurnis is dus die blokkering wat tussen prediker en hoorder kan ontstaan as gevolg van faktore wat die gesindheid beïnvloed waarmee die hoorder na die prediking luister.

 

3. DIE HOMILETIES-EMPIRIESE ONDERSOEK

3.1 Metode

Leuschner (2004:239) meld in sy navorsing oor atmosfeer in die erediens dat teologiese teorieë altyd beïnvloed word deur die konteks waarin daar geteologiseer word (vgl ook Heystek 2000:168). In die Praktiese Teologie is hierdie konteks die empiriese werklikheid van die plaaslike gemeente.

Pieterse (1998:191) wys daarop dat empiriese navorsing óf kwantitatief (met ander woorde 'n groot getal respondente) óf kwalitatief (met ander woorde minder respondente, maar 'n meer intensiewe werkswyse) of op albei maniere gedoen kan word. In die studie wat vir hierdie artikel onderneem is, is 'n kwalitatiewe werkswyse in die onderhoudvoering gevolg, terwyl ook kwantitatief te werk gegaan is in die verwerking van verkreë materiaal in die onderhoudvoering. Op grond van die gegewens wat deur onderhoude met mense bekom is, is dan (induktief) tot seker bevindings gekom (vgl Pieterse 1990:81). Vir die doeleindes van die studie wat onderneem is, is semi-gestruktureerde onderhoude met 'n groep deelnemers gevoer. Oor die gebruik van 'n vraelys in sodanige onderhoude laat Steyn, Smit en Du Toit (1987:39) hulle soos volg uit: "Die beste metode om 'n vraelys by data-insameling te gebruik, word verkry indien die veldwerker dit self invul in teenwoordigheid van die respondent."

3.2 Doel

Die doel van hierdie empiriese ondersoek was om vas te stel of, en indien wel, in watter mate die gesindheid van die hoorder wel 'n steurnis kan veroorsaak in die preek as dialogiese handeling. Verder is gelet op watter aspekte voor en tydens die erediens bepaalde aandagafleiers kan wees, en in watter mate die prediker en die prediking hierdie steurnis sodanig kan teenwerk dat die hoorder kan luister en die boodskap inneem.

3.3 Die navorsing op grondvlak

Vir hierdie artikel is persoonlike onderhoude met individue gevoer totdat dataversadiging plaasgevind het, met ander woorde totdat dieselfde toepaslike inligting herhaal is. Reeds vroeg in die onderhoudvoeringsproses is bemerk dat sekere inligting herhalend voorkom. Na veertien onderhoude was die data reeds versadig en 'n paar ekstra onderhoude is gevoer om die inhoud van die respons te bevestig. Twee-en-twintig onderhoude is gevoer met individue uit gemeentes uit twee areas in Bloemfontein. Die een area is in die omgewing van die stad self en die ander area 'n woonbuurt ongeveer 10 km buite die stad.

Die individue wat deelgeneem het aan die onderhoude verteenwoordig die volgende kerkgroepe:

• Sewe individue uit die gereformeerde tradisie (G)
• Agt individue uit die Pinkster-Charismatiese tradisie (P)
• Vier individue uit die Rooms-Katolieke Kerk (K)
• Drie individue uit onafhanklike kerke (O)

Tydens die onderhoudvoering is van deur tot deur beweeg, die individu (respondent) is kortliks ingelig oor die aard van die ondersoek en 'n onderhoud wat tussen 20 minute en hoogstens 45 minute geduur het, is gevoer. Die respondent is verseker van sy/haar anonimiteit by die aanvang van die onderhoud en ook weer by die beëindiging van die onderhoud, asook dat inligting vertroulik hanteer sal word. Hierdie onderneming is ook op die vraelys aangebring. 'n Vraelys is ingevul waarop die respondente se antwoorde weergegee is. Om te help met die opstel van die profiel van die respondent is sy/haar kerkverband, beroep, ouderdom, geslag en taalvoorkeur aangedui.

Aangesien van 'n semi-gestruktureerde ontwerp gebruik gemaak is, is die inhoud van die antwoorde geanaliseer om toepaslike data te bekom. Hierdie werkwyse impliseer die volgende:

• Die vraelys bevat basiese gestruktureerde vrae, maar die respondente kry steeds die geleentheid om kommentaar op die vrae en antwoorde te gee.
• Om blote ja- en nee-antwoorde sover moontlik te vermy het die veldwerker (navorser) van opvolgvrae gebruik gemaak. Respondente kon uitbrei op die aanvanklike vraag of verwante kwessies aanraak. Daar is uitgegaan van die standpunt dat die ondersoek gaan oor die respondent se subjektiewe belewenis van die vrae en antwoorde op die vraelys.

Oor die werkwyse wat gevolg word met hierdie tipe navorsing, merk Smit (1985:160-163) die volgende op:

• Hierdie metode gee die navorser die geleentheid om voorbeelde te selekteer en sodoende belangrike inligting in die navorsingsprogram te beklemtoon (Smit 1985:160).
• Die ontleding van die vraelyste sal oor die algemeen in terme van die konstruksie van taksonomieë wees, met ander woorde 'n klassifikasie volgens natuurlike verwantskappe (Smit 1985:160).
• Die werkwyse om inhoud analities te beskryf, impliseer 'n kwalitatiewe benadering (Smit 1985:60) met die doel om

•die onderliggende tendense in die inhoud van die kommunikasieproses te beskryf;
•die inhoud van die vrae wat gekommunikeer word, volgens bepaalde standaarde oor te dra;
•die oorredingstegnieke te ontleed;
•die styl van die kommunikasie te ontleed;
•die bydrae van die respondent in verband te bring met die boodskappe wat aan hulle voorgelê is; en
•om kommunikasiepatrone te beskryf.

Smit (1985:161) beveel die volgende stappe aan by die metode om die inhoud van die antwoorde te analiseer: stel verteenwoordigende vraelyste op en definieer die inhoud van die kategorieë (die inhoud van die kategorieë word deur die doel van die navorsing bepaal). Definieer ook die volgende: die eenhede wat ontleed moet word, die kontekseenhede, die kwantifiseringstelsel.

3.4 Kategorisering en tematisering

Hierbo is gestel dat die inhoud van kategorieë bepaal word deur die doel van die bepaalde navorsing. Die belangrikste kategorie vir die navorsing wat onderneem is, was om vas te stel of die gesindheid van die hoorder 'n kommunikasiesteurnis tussen prediker en gehoor kan veroorsaak in die oordrag van die preek. Binne die dimensie van kategorisering is tematisering ook 'n kernelement (Smit 1985:161-162). Juis daarom is sekere toepaslike temas in die vraelys verwoord. Die doel met die insluiting van hierdie temas was om die data wat bekom is, na afloop van die onderhoude en die voltooiing van die vraelyste te ontleed. Dit moet deurgaans in gedagte gehou word dat gesindheid betrek word in alle fasette wat deur die verskillende temas aangeraak word.

Kategorie: Die gesindheid van die hoorders as kommunikasisteurnis in die oordrag van die preek.

Algemene vraag
Tema 1 Bepaal die algemene gesindheid van die respondent teenoor sy/haar belewing van die erediens en die prediking.

Spesifieke vrae
Tema 2 Die respondent se spesifieke gesindheid teenoor die prediking.
Tema 3 Die respondent se gesindheid teenoor fisiese geraas tydens die erediens
Tema 4 Die respondent se sosio-ekonomiese posisie en in watter mate dit sy/haar gesindheid beïnvloed in die belewing van die erediens en die preek
Tema 5 Die respondent se gesindheid teenoor die prediking en prediker en sy/haar belewing daarvan
Tema 6 Die respondent se gemoedstoestand tydens die erediens en prediking
Tema 7 Die respondent se gesindheid teenoor sy/haar kerk

 

 

Op grond van bogenoemde semi-gestruktureerde ondersoek wat gekategoriseer en verder in kleiner temas verdeel is, kon wetenskaplik verantwoorde afleidings gemaak word oor die respondent se ervaring van die onderwerp wat ondersoek is.

 

4. SAMESTELLING EN INHOUD VAN VRAELYS

Een algemene en sewe spesifieke, uiteenlopende gesindhede van die kerkganger as hoorder is getoets om te bepaal of gesindheid enigsins 'n steurnis in die homiletiese proses veroorsaak. Tema 6 handel spesifiek oor die gemoedstoestand van die hoorder, omdat gemoedstoestand 'n sekere ingesteldheid kan aktiveer.

Die tendense wat in die respondente se terugvoer voorgekom het, sal verderaan bespreek word. Die bevindings op grond van die terugvoer word ook weergegee, ontleed en geëvalueer.

Met bogenoemde in gedagte lyk die basiese vraeraamwerk waarvolgens die gesprek gevoer is, soos volg:

4.1 Tema 1: Algemene belewenis van die respondent

Vrae soos die volgende is gestel: Vertel my wat u beleef wanneer u tydens 'n erediens in die kerk is. Watter gevoelens, u gemoedstoestand en ander faktore kan byvoorbeeld spesifiek u aandag aflei? (Die doel met hierdie algemene vraag was om die respondent op sy gemak te stel.)

Meer spesifieke vrae (tema 2 tot 7)

Die inleidende vraag in elke stel vrae is die kernvraag. Opvolgvrae op die inleidende vraag en vrae wat voortgekom het uit die hoordersresponse is egter deurentyd in die gesprek geakkommodeer om uiteindelik 'n meer veelkantige antwoord te verkry. Voorbeelde van "invul-vrae" en "reaksievrae" word tussen hakies aangedui. Dit sluit egter nie alle vrae in wat aangewend is of wat spontaan geuiter is nie. Die navorser het deurentyd op 'n blanko vorm notas gemaak en die response weergegee. Hier en daar word, vir die doeleindes van hierdie artikel, ook toeligting gegee waarom 'n spesifieke stel vrae ingesluit is.

4.2 Tema 2: Die hoorder se spesifieke gesindheid teenoor die prediking

Met hierdie stel vrae is gepoog om onder andere die kerkganger se vermoë om 'n preek te volg vas te stel. Daarom is opvolgvrae en hoorders se reaksie hierop ook in die loop van die gesprek betrek.

 

 

4.3 Tema 3: Fisiese geraas in die kerk

 

 

4.4 Tema 4: Kerkganger se sosio-ekonomiese situasie

[Hoorders se gesondheidstoestand is ook in hierdie kategorie betrek omdat byvoorbeeld 'n goeie inkomste, bekostigbare leefstyl en toegang tot 'n mediese fonds dikwels korreleer met 'n ervaring van geestelike welsyn en 'n positiewe gesindheid teenoor die lewe - ook teenoor die boodskap van die prediking.]

 

 

4.4 Tema 5: Die hoorder se gesindheid teenoor die aard van die prediking

 

 

4.5 Tema 6: Die kerkganger se gemoedstoestand

 

 

4.7 Tema 7: Die hoorder se gesindheid teenoor sy/haar gemeente/kerk

[Met hierdie stel vrae is gepoog om die kerkganger se betrokkenheid in die gemeente vas te stel.]

 

 

Nadat die vraelys ingevul is, is die die persoon bedank en verseker van sy/haar anonimiteit en die vertroulikheid van die inligting. Ook is gevra of daar enige laaste opmerking is.

4.8 Nadere verduideliking van vraelys

Tema 1 is ingelei deur 'n algemene vraag om die respondente op hulle gemak te stel. Met hierdie vraag is die eerste tema van die ondersoek betrek, naamlik die algemene gesindheid van die respondent teenoor sy belewenis van die erediens en die prediking. Gesindheid word op drie vlakke getoets, naamlik die gevoelens wat die hoorder ervaar, die gemoedstoestand waarin hy/sy tydens die erediens is en die aandagafleibare aspekte in die algemeen waarvan hy/sy bewus is.

Vanaf tema 2 tot tema 7 is meer spesifieke vrae gevra - soos hieronder uiteengesit. Met tema 2 is begin deur te probeer vasstel wat die kerkganger se algemene vermoë is om 'n preek te volg. Met tema 3 is die faktor van fisiese geraas in die kerk aangeraak en hierop volg onder tema 4 vrae oor die kerkganger se sosio-ekonomiese posisie en die kommunikasiesteurnis al dan nie wat dit moontlik in die luisterproses kan veroorsaak. Onder tema 5 is veral die laaste twee subvrae van belang, naamlik of die kerkganger notas maak van die preek en die vraag oor die invloed van die voorkoms en styl van die prediker. Tema 6, wat handel oor die gemoedstoestand van die kerkganger, is veral belangrik vir die onderwerp wat nagevors is. Laastens is gepoog om met tema 7 te bepaal hoe aktief die kerkganger in sy gemeente is. Hierna is die respondent bedank vir sy tyd en was die onderhoud afgehandel.

 

5. RESPONSE

Vervolgens word die antwoorde van die respondente weergegee en bespreek. Waar nodig word sekere bevindings in tabelvorm weergegee. Ja- en nee-antwoorde is, waar dit wel voorkom, met omsigtigheid hanteer; daarom word eerder verwys na positiewe en minder positiewe reaksie op die vrae. Deur die response te ontleed, is gepoog om na te gaan of die gesindheid van die hoorder in die algemeen en ook op spesifieke punte, 'n steurnis in die hermeneutiese proses kan wees.

5.1 Respons op tema 1

Die eerste vraag handel oor gesindheid oor die algemeen. Hierdie inleidende en eerste vraag toets die algemene gesindheid van die respondent aangaande sy belewing van die erediens en die prediking (tema 1). Die respondent is toegelaat om die praatwerk te doen. Dit was opmerklik dat nie al die respondente hulle gevoelens en gemoedstoestand kon beskryf na aanleiding van die algemene vraag nie, maar dat die aard van aandagafleiers prominent voorgekom het in hul antwoorde. Aangesien die artikelonderwerp handel oor kommunikasiesteurnis, word moontlike aandagafleiers vervolgens behandel:

 

Aandagafleiers

 

 

Oor die algemeen blyk dit dat kinders wat in die kerk rondloop en mense wat laat kom, die grootste aandagafleiers is. 'n Interessante feit is dat 18,18% van die respondente aangedui het dat hulle eie gedagtes hulle aandag aflei. In hierdie verband is aspekte soos die volgende genoem: onafgehandelde beroepswerk, pligte wat tuis wag, vroue se gedagtes oor maaltydbeplanning, bekommernisse oor finansies of kinders, of allerhande ander dinge wat kerkgangers se gedagtes beset. Dat hoorders se aandag wel afgelei kan word, is ervaar deur 86,36% van die respondente.

5.2 Response op tema 2

Met temas 2-7 is meer spesifieke vrae gestel en is gepoog om die voorkoms van moontlike kommunikasiesteurnisse nader te omlyn. Met tema 2 is gepoog om vas te stel in watter mate die respondent luister na die prediking, sonder om net aan te neem dat 'n aandagafleier die rede is dat hy/sy nie luister nie. Die bevindinge word skematies soos volg voorgehou:

Tema 2: Gesindheid teenoor die prediking

 

 

Dit was interessant dat slegs 68,18% van die respondente die laaste preek waarna hulle geluister het, kon onthou, maar dat 95,45% kon onthou of die preek kort of lank was. Hierdie inligting toon aan dat die lengte van 'n preek 'n invloed op die luisteraksie het. Aanvullende vrae wat in hierdie verband ook aan die orde gekom het, was byvoorbeeld: Wat onthou u van die laaste preek: die hoofsaak van die gedagtelyn of net 'n enkele aspek? Is die inhoud van die preek byvoorbeeld later in gesinsverband bespreek? 'n Verblydende aspek is dat 90,91% van die respondente aangedui het dat hulle die betekenis van die laaste boodskap wat hul gehoor het, wel kon onthou.

Die antwoorde op hierdie stel vrae het egter ook raakpunte met hoordersreaksies op die aard van preke (kyk tema 5). Opbouende preke, preke oor die liefde en preke wat insig verdiep, is die tipe preke waarvan die respondente die meeste hou en wat die langste nawerking in hulle gedagtes gehad het. Respondente uit die Pinkstertradisie het ook genoem dat demonstratiewe preke vir hulle baie beteken.

Preke oor die eindtyd en hel, asook "klipgooi"-preke, dit wil sê aanvallende preke, is uitgesonder as die tipe preke wat respondente die meeste ontstel. Predikers wat te hard praat of langdradig preek, blyk ook 'n probleem te wees.

5.3 Response op tema 3

Die bevindinge aangaande fisiese geraas as aandagafleier tydens die prediking word soos volg uiteengesit:

Tema 3: Gesindheid teenoor fisiese geraas

 

 

Dit is insiggewend dat 68,18% van die respondente voel dat dit in 'n kerk stil moet wees. Aspekte wat ook uit die terugvoer na vore gekom het, is die aard van hoorder se gevoelens na aanleiding van fisiese geraas, en spesifieke aandagafleiers. Fisiese geraas binne en buite die kerk is as steurend ervaar, lei tot gevoelens van frustrasie en is sterk aandagafleiers.

5.4 Response op tema 4

Tema 4 toets in watter mate die respondent se sosio-ekonomiese posisie sy/haar gesindheid beïnvloed in die belewing van die erediens en die preek. Die mate van gesondheid wat jy geniet, kan soms ook saamval met die graad van gesondheidsorg en leefstyl wat jy kan bekostig - vandaar dat gesondheid in die kategorie sosio-ekonomiese situasie geplaas is. Gesondheid dra onteenseglik ook by tot 'n mens se algemene gevoel van "well-being" - dikwels ook jou geestelike en spirituele welsyn. 'n Mens se ervaring van gesondwees kan dus ook die gesindheid waarin jy na die prediking sal luister, beïnvloed. Die bevindinge word skematies soos volg uiteengesit:

Tema 4: Sosio-ekonomiese situasie en gesindheid

 

 

Hierdie resultate bevestig dat 'n mens se behoeftes 'n groot invloed het op die gesindheid waarmee kerkgangers luister na die preek. Gesondheidstoestand as moontlike aandagafleier is die enigste faktor wat minder as 80% geregistreer het. Die rede hiervoor is dat heelwat respondente aangedui het dat hulle nog nooit ernstig siek was nie, maar tog glo hulle dat jou gesondheidsgraad 'n invloed op jou gemoedstoestand kan hê.

Die vraag waarom skuldgevoelens onder hierdie tema (sosio-ekonomiese situasie) bespreek is, is omdat mense skuldig mag voel oor sekere besluite wat hulle dalk oor hul finansies en selfs hulle huwelik of werk geneem het. In hierdie verband het 95,45% van die respondente gevoel dat hulle gewete hulle dikwels aankla terwyl hulle na die prediking luister. Met al die onderhoude was die atmosfeer wat na aanleiding van hierdie vrae ontstaan het meer ernstig en selfs somber. Verdere studie op hierdie gebied kan oorweeg word.

5.5 Response op tema 5

Met hierdie tema is gepoog om die respondent se gesindheid en erns ten opsigte van die prediking, die gesindheid waarmee die persoon van die prediker beleef word, asook die belewing van die erediens te toets. (Kyk ook die afleidings by tema 2 oor die rol van die aard van preke.)

Belangrik vir hierdie artikel is die respons op onderstaande twee vrae onder hierdie tema. Met die eerste vraag is gepoog om vas te stel tot watter mate hoorders erns maak om die hoofgedagtes van die preek te behou. Met die tweede vraag is gepoog om vas te stel of die persoon en voorkoms van die prediker enige rol speel. Die resultate van hierdie vrae kan skematies soos volg weergegee word:

Tema 5: Gesindheid teenoor prediking en prediker

 

 

Die vraag oor die maak van notas oor preke wat aangehoor word, is met 'n sekere doel gevra, want respondente wat notas maak, is geneig om meer aandagtig na die prediking te luister en die afneem van en konsentrasie op die notas kan help om steurnis in die kommunikasie-oordrag teen te werk.

Al die respondente was dit eens dat die voorkoms en styl van die prediker wel 'n invloed op die luisteraksie het. Die respondente van die Rooms-Katolieke Kerk het wel aangedui dat hulle kerkgebou groot is en die prediker se voorkoms nie altyd duidelik sigbaar is nie; tog is hulle van mening dat die prediker te alle tye netjies moet voorkom.

5.6 Response op tema 6

Hierdie tema, naamlik die gemoedstoestand van die kerkganger, was 'n kernmoment vir voorafstudie en vir die doeleindes van hierdie artikel. Tydens die gesprekvoering en na 'n paar algemene vrae is Galasiërs 5:22 voorgelees. Daarna is die respondente gevra watter vrug in die Skrifgedeelte ooreenstem met hul sterk punte en daarna watter vrug ooreenstem met hul swakker punte. Ook is die respondente gevra of hulle self voel dat hulle kritiese of sensitiewe persone is. Hiermee is die aandag op hul tipiese reaksies en gemoedstrekke gevestig. Daarna is die laaste twee vrae gevra. Die resultate van die vrae word skematies soos volg weergegee:

Tema 6: Die respondent se gemoedstoestand

 

 

Die response op die vrae in tema 6 bevestig dat die gesindheid van die hoorder 'n kommunikasiesteurnis tussen prediker en hoorder in die oordrag van die preek kan wees. Daarteenoor het al die respondente bevestig dat die erediens en die prediking wel hul gemoedstoestand kan verander. Dataversadiging op hierdie twee vrae is reeds na 'n paar onderhoude bereik. Die woord "definitief" is deur baie van die respondente gebruik om die gewig van hulle antwoord op hierdie vraag weer te benadruk.

5.7 Response op tema 7

Deur hierdie aspek te betrek, is gepoog om die betroubaarheid van die respondente se antwoorde as bron vir hierdie ondersoek te bevestig. Die resultate word skematies soos volg weergegee:

Tema 7: Gesindheid teenoor kerk

 

 

Sommige van die redes waarom 86,36% van die respondente al van kerk verander het, was die volgende: Persoonlike aandag was vir agt van die respondente die rede vir hul oorgaan na 'n ander kerk, die predikant was vir vier die rede om oor te gaan na 'n ander kerk. Verder het vier respondente weens geloofsoortuiging en drie weens verhuising 'n verandering gemaak. Drie van die respondente het aangedui dat hulle nog nooit van kerk verander het nie.

 

6. GEHEELBEELD VAN RESPONSE

Die gemiddeld van al die vrae uit tema 2 tot 7 kan grafies soos volg weergegee word:

Gesindheidskaal

 

Die kolomme dui temas 2 tot 7 aan asook die gemiddelde persentasie response op die vrae. Op grond van hierdie gegewens kan afgelei word dat hoorders se gesindheid tydens die aanhoor van die prediking beïnvloed kan word deur veral die volgende twee aspekte: sy/haar sosio-ekonomiesie posisie (86,36% is geregistreer by tema 4) en die gemoedstoestand van hoorders (97,73% by tema 6). Hierdie twee aspekte is dus spesifiek uitgesonder as die grootste steurnisse in die hermeneutiese proses.

 

7. SAMEVATTENDE GEDAGTES OOR DIE RESPONSE

Aangaande tema 1 (die algemene gesindheid van die hoorder teenoor die belewing van die prediking) het die respondente aangedui dat net 18,18 % deur hul eie gedagtes gekwel word tydens 'n erediens en die aanhoor van die prediking. Die antwoorde op die spesifieke vrae (temas 2 tot 7) het 'n baie hoër persentasie geregistreer wat beslis daarop dui dat die kommunikasiesteurnisse wat die hoorders ervaar het, beduidend groter was. Die antwoorde byvoorbeeld het na vore gebring dat 95,45 % van die respondente ervaar dat skuldgevoelens 'n belemmering is wanneer hulle na die prediking luister tydens 'n erediens. So ook het 95,45% van die respondente aangedui dat hulle gemoedstoestand 'n invloed op hulle gesindheid het as hulle luister. Op die vraag of hulle dink dat die inhoud van die prediking hulle gemoedstoestand kan verander, het 100% van die respondente geantwoord dat hulle wel so dink.

Op grond van bogenoemde gegewens kan afgelei word dat die gesindheid van die hoorder wel kan funksioneer as kommunikasiesteurnis in die oordrag van die preek. Die atmosfeer in die erediens, die prediking en die persoon van die prediker kan egter 'n beduidende invloed hê om hierdie gesindheid teen te werk.

 

8. SKEMATIESE VOORSTELLING VAN RESULTATE

Skematies word die resultate weergegee in terme van die metode van inhoudsanalise.

Binne die metode wat geselekteer is om hierdie onderhoude te voer, naamlik die metode van inhoudsanalise, kan die resultate en afleidings soos volg weergegee word:

 

 

9. SLOT

In die inleiding is gestel dat hierdie artikel 'n homileties-empiriese ondersoek op metateoretiese vlak en vanuit verskillende gesigspunte is. Sekere tendense vir verdere navorsing oor die onderwerp van die gesindheid van die hoorder as kommunikasiesteurnis is ook deurgaans uitgelig en beklemtoon met die hoop dat verdere ondersoek waardevolle praktykteoretiese riglyne sal kan bied.

 

Literatuurverwysings

Bang, S J 2004. The form of the sermon and effective communication: A homiletical study. PhD Thesis. North-West University, Potchefstroom Campus.         [ Links ]

Cilliers, J 2004. Die lewende stem van die evangelie. Stellenbosch: Sun Press.         [ Links ]

De Wet, F W 2006. Die kommunikatiewe struktuur in eietydse gereformeerde prediking - van liniêre na sirkulêre gang? In die Skriflig 40(4), 617-647.         [ Links ]

Du Preez, A P 2006. Die gesindheid van die hoorder as moontlike stoornis (kommunikasiestoornis tussen prediker en gehoor) in die oordrag van die preek: 'n Homiletiese studie. MA-verhandeling, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.         [ Links ]

Eswine, Z 2004. Spiritual warfare and preaching: Toward a theology of "noise" for evangelical homiletics. http://www.ehomiletics.com. (Datum van gebruik: 8 Feb 2006.         [ Links ])

Gadamer, H-G 1975. Truth and method. London: Sheed & Worth.         [ Links ]

Heystek, P H 2000. 'n Prakties-teologiese ondersoek van die "mekaar-opdragte" in die corpus Paulinium met die oog op kerklike geloofsgemeenskap. ThD-proefskrif, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.         [ Links ]

Immink, F G 2003. In God geloven? Zoetermeer: Meinema.         [ Links ]

Johnston, G 2001. Preaching to a postmodern world. Grand Rapids, MI: Baker.         [ Links ]

Killinger, J 1999. Preaching the new millennium. Nashville, TN: Abingdon.         [ Links ]

Kruger, F P 1999. Prediker en preekgesindheid. 'n Prakties-teologiese studie in die lig van die Pastorale Briewe. ThM-verhandeling, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.         [ Links ]

Kruger, F P 2002. Prediking en gesindheidsverandering: 'n Prakties-teologiese studie in die lig van Hebreërs. ThD-proefskrif, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus.         [ Links ]

Kruger, F P & Venter, C J H 2003. 'n Homileties-empiriese ondersoek van prediking en gesindheidsverandering. In die Skriflig 37(3), 461-484.         [ Links ]

Kruger, F P & Venter C J H 2006. Die prediking van geloofsverantwoordelikheid: Homiletiese perspektiewe vanuit Hebreërs. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 21(2), 54-71.         [ Links ]

Leuschner, F W 2004. Atmosfeer in die erediens. PhD-proefskrif, Noordwes-Univer-siteit, Potchefstroomkampus.         [ Links ]

Litfin, D 1981. Public speaking. Grand Rapids, MI: Baker.         [ Links ]

Nel, M 1999. Images of Jesus among the South African youth. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 14(2), 62-86.         [ Links ]

Nel, M 2000. Persoonlike prediking. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 15(2), 112-135.         [ Links ]

Pieterse, H J C 1990. Die praktiese teoloog en empiriese navorsing, in Heyns, L M & Pieterse, H J C. Eerste treë in die Praktiese Teologie, 75-87. Pretoria: Gnosis.         [ Links ]

Pieterse, H J C 1991. Gemeente en prediking. Halfweghuis: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Pieterse, H J C 1998. A theological theory of communicative actions. Religion and theology 5(2), 176-194.         [ Links ]

Pieterse, H J C 2005. Die rol van Godskennis in die ontmoetingsgebeure met God in die prediking. In die Skriflig 39(3), 409-422.         [ Links ]

Ricoeur, P 1991. From text to action. Chicago, IL: Evanston.         [ Links ]

Smit, G J 1985. Navorsingsmetodes in die geesteswetenskappe. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

Steyn, A G W, Smit, C F & Du Toit, S H C 1987. Moderne statistiek vir die praktyk. Pretoria: Van Schaik.         [ Links ]

Venter, C J H 2004. Die prediker as preek: Basisteoretiese perspektiewe uit Handelinge. Acta Theologica 24(2), 147-164.         [ Links ]

Venter, C J H 2005. Die Areopagusrede (Handelinge 17:22-31) - 'n verkenning van homiletiese elemente. In die Skriflig 39(4), 655-671.         [ Links ]

Vos, C J A 1999. The composition of a sermon. Praktiese Teologie in Suid-Afrika, 14(2), 120-128.         [ Links ]