SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue3Exodus, Psalms and Hebrews: a God abounding in steadfast love (Ex 34:6)The portrait of a prophet: why is Wright not right about Jesus? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.3 Pretoria Jul./Sep. 2008

 

Die dodekapropheton: Twaalf klein profete of een geheel?

 

The dodekapropheton: Twelve minor prophets or a larger unit?

 

 

Gerda De Villiers

Departement Ou-Testamentiese Wetenskap. Universiteit van Pretoria

 

 


ABSTRACT

The Book of the Twelve or the twelve minor prophets received scholarly attention through the ages. Historical criticism pointed out that these prophets lived in different times, in different historical situations and articulated the "word of the Lord" for different circumstances. However, recent scholarship tends to read the corpus of the minor prophets as a structured whole. Such a reading raises a number of problems: the Twelve do not follow one another chronologically and the order of the Masoretic Text does not agree with that of the Septuagint, whilst Qumran follows yet another order. This article probes - albeit cursory - some of these questions from different perspectives. Eventually it appears that a continuous process of "Fortschreibug" shaped and reshaped prophetic messages to keep them alive for following generations. A unity is created by maintaining the tensions and differences amongst the Twelve, thereby reflecting the creative articulation and re-articulation of prophecy in the different times of the history of Judah and Israel.


 

 

1. INLEIDING: KORT OORSIG

Die twaalf kleinprofete, ook genoem die dodekapropheton verkondig God se genade en God se oordeel om die beurt. In die negentiende en twintigste eeue met die opkoms van die moderne kritiese Bybelwetenskappe, is die twaalf kleinprofete as individuele profetiese boeke gelees (Nogalski & Sweeny 2000:vii). Volgens die diakroniese benadering is elke boek histories geïnterpreteer en geplaas binne die sosio-kulturele konteks waarop hulle betrekking het. Kronologies verloop die geskiedenis min of meer soos volg: Hosea en Amos, twee van die vroegste kleinprofete, se optredes word gedateer tydens die regering van Jerobeam II van Israel, ongeveer 790-150 vC (Boshoff 2000:107, 110). Gedurende hierdie tyd is Israel sowel as Juda erg afvallig, ontrou aan die Here, en sosiale wanpraktyke is aan die orde van die dag. Amos voorspel dat die Here se toorn gaan ontvlam, nie net teen die nasies nie, maar ook teen sy eie volk, terwyl Hosea Israel se afgodery en ontrou met aangrypende beeldspraak - die verhouding tussen 'n man en sy ontroue vrou - skilder.

Die tienstamme, Israel, verdwyn inderdaad van die toneel. Alhoewel Nahum (ongeveer 663 vC) (Boshoff 2000:127) 'n gewelddadige en brutale God uitbeeld, is dit veronderstel om hoop te gee: alhoewel God die Assiriërs gebruik het om sy volk te straf, gaan Hy eersdaags Nineve die onderdrukker, gelyk met die grond vee, en sy volk weer begenadig.

Na afloop van die ballingskap, begin hoop opvlam. Onder die Persiese regering word Juda toegelaat om na hul land terug te keer. Haggai en 'n ywerige jong Sagaria (Sag 1-8) - ongeveer 520-518 vC (vgl Spangenberg 2000:175-177) - moedig die volk ywerig aan om die huis van die Here te herbou. Die tyd om dit te doen, is nou, terwyl die Perse aan bewind is en terwyl hulle die geleentheid het.

Drome word egter verpletter toe die Grieke die wêreld begin inneem en die politieke en godsdienstige situasie in Juda verdonker. So voorspel Joël (2:28-3:21) (vgl Spangenberg 2000:182-183) dat die dag van die Here 'n oordeelsdag vir die nasies gaan wees wat met skrikwekkende kosmiese verskynsels gepaard gaan. Juda en Jerusalem gaan weer begenadig word, en die Here gaan weer op sy heilige berg woon.

Die Grieke het egter ook weer die groter wêreld oopgemaak. Eksklusiewe nasionalisme sou nie veel langer geduld word nie. 'n Groter bewuswording van God se universele liefde, ook vir ander, begin posvat. So kry die boek Jona gestalte, en vertel van 'n verloopte profeet met 'n onvergenoegde houding. Hierdie gesindheid dra beslis nie God se goedkeuring weg nie, en Jona se voorbeeld moet liefs nie nagevolg word nie!

 

2. PROBLEEMSTELLING

Dit is duidelik dat die Twaalf nie kronologies gerangskik is nie. Byvoorbeeld, Joël en Jona, twee boeke wat reeds binne die eerste ses in die reeks voorkom, word laat gedateer. Maar dis veral die volgorde Jona-(Miga)-Nahum wat eksegete hoofbrekings verskaf het. As 'n mens bogenoemde datering aanvaar, en aanvaar dat Nineve reeds in 612 vC deur Nebukadneser platgevee is (vgl Ego 2003:169), het die stad teen die tyd wat die boek Jona op skrif gestel is, lankal nie meer bestaan nie. Verder was Nineve wel die hoofstad van die Assiriese Ryk, maar nooit 'n onafhanklike stadstaat met 'n eie koning nie. Wat veral nie sin maak nie, is dat die groot stad Nineve volgens Jona deur God gespaar word, en in Nahum, twee boeke later word sy meedoënloos en brutaal uitgedelg. Aan die een kant is God genadig, barmhartig en bereid om sonde te vergewe. Aan die ander kant word God wreed en wraakgierig teenoor dieselfde stad uitgebeeld. Hoekom so?

Vroeëre geskrifte het die twee boeke op 'n manier probeer harmoniseer. Tobit, een van die vroeëre apokriewe boeke verwys na hierdie scenario. Hierdie boek is waarskynlik in die oostelike Joodse diaspora so ongeveer 200 vC op skrif gestel (Ego 2003:156). 'n Stokou Tobit roep sy seuns en sy kleinseuns, en sê vir sy seun Tobias: "My seun, ek is nou oud en dit is nie meer lank voor ek moet doodgaan nie. Vat jou kinders en gaan na Medië, my seun, want ek is vas oortuig dat dit wat die profeet Jona oor Nineve gesê het, gaan gebeur. Dit sal vernietig word ..." (Tobit 14:3-4). En in Tobit 14:15 word inderdaad vertel: "Voor hy dood is, het hy gehoor dat Nineve deur Nebukadneser en Ahasveros ingeneem en vernietig is en hy was bly dat dit gebeur het" (kyk ook Ego 2003:156; Jones 2000:73). Deur te fokus op die eerste gedeelte van die boek Jona, identifiseer Tobit Jona se profesie met die van Nahum: Nineve gaan vernietig word.

Volgens Josefus se interpretasie in Antiquitates 9.214 bid Jona tot die Here om sy sondes te vergewe (sien Ego 2003:157). Daarna verkondig hy dat die stad "Ninos" haar oorheersing oor Asië sal verloor en beklemtoon daarmee die boodskap van oordeel. In die lig van die aanname dat 'n ware profeet daaraan gekenmerk word dat sy woord uitkom, het hierdie vroeëre interpretasies waarskynlik geworstel met die vraag of Jona 'n ware of 'n vals profeet is: 'n vals profeet verdien immers nie 'n plek in die kanon nie!

In die rabbynse tradisie speel die berou van Nineve 'n baie belangrike rol. Enersyds word die berou van die heidense Nineve voorgehou as 'n skitterende voorbeeld van wat ware berou eintlik moet wees. Die Gemara van die Babiloniese Talmud (b.Taan.16a - kyk Ego 2003:159) borduur voort op die berou van die mense van Nineve. Hulle het nie slegs gevas en gebid nie, hul gedrag het ook verander. Met hul dade het hulle duidelik bewys dat hulle vasberade was om 'n beter lewe te lei. As iemand 'n ander se eiendom wederregtelik toegeëien het, het hy sy bes gedoen om die saak reg te stel. Sommige het nie slegs die besittings teruggegee nie, maar so ver gegaan om hul eie paleise te vernietig sodat hulle 'n enkele baksteen aan die wettige eienaar kon teruggee.

Die Gemara van die Jerusalem Talmud (y.Taan 2.1, 65b - kyk Ego 2003:161) gee egter 'n ander perspektief. Volgens Rabbi Simeon ben Laqish en Rabbi Yohanan was die berou van die mense van Nineve blote skyn en bedrog. Wat hulle in hul hande gehad het, het hulle wel teruggegee, maar wat hulle in hul kiste en kaste weggesteek het, het hulle nie teruggegee nie. Hierdie tipe berou is oppervlakkig en skynheilig.

Luidens die Midrash Pirke van rabbi Eliezar - 'n dokument uit die vroeë middeleeue - was dit inderdaad so dat Nineve op Jona se prediking tot bekering gekom het. Dit was egter van korte duur en gou het hulle weer na hul ou weë begin teruggly. Veertig jaar later - die tydperk wat tussen Jona en Nahum sou verloop - is God se oordeel voltrek (Ego 2003:160; Jones 2000:73; Reddit 2000:30; Schart 1998:27-28). Hierdie interpretasie maak van Jona 'n proleptiese profeet, eerder as 'n vals een!

Hedendaagse geleerdes respekteer die afstand en verskil tussen die twee boeke. Vir Jona sowel as Nahum gaan dit om die lot van Nineve. Nineve is nie noodwendig 'n historiese werklikheid nie, maar 'n simbool van 'n tipiese vyand wat verdien om uitgedelg te word (Mason 1991:83; Coggins & Re'emi 1985:12-13). Dit het veral te make met vals godsdiens en onmenslike onderdrukking en wreedheid. Nahum verkondig dat die Here die bevolking van Nineve gaan uitdelg as gevolg van hul selfvoldane hoogmoed en arwaan. Jona hou die moontlikheid voor dat selfs die verderflikste vyand gespaar kan word mits hulle berou betoon en hulle bekeer.

Jona en Nahum word ook op ander maniere met mekaar in verbinding gebring. In die Septuaginta word hulle nie deur Miga geskei nie, maar volg die een direk op die ander (die Septuaginta word by punt 6 in hierdie artikel bespreek). Verder is daar is 'n paar interessante parallelle bewegings tussen die twee (Mason 1991:83). Jona 4:2 en Nahum 1:3 vertoon besonder sterk ooreenkomste met Eksodus 34:6 (kyk ook Schart 2000:41) - waar God beskryf word as barmhartig, lankmoedig en genadig, vol liefde en trou. Verder is hierdie twee boeke min of meer ewe lank. Laastens, maar beslis nie die minste nie, is Jona en Nahum die enigste twee boeke in die Ou Testament wat met 'n vraag eindig. Die antwoord op hierdie vraag word oor 'n teologiese boeg gegooi en die vreemde nasies word die "draer" om die soewereiniteit van die Here te beklemtoon: beide sy genade en oordeel word voltrek om uiteindelik geregtigheid en orde in hierdie wêreld te laat uitwerk.

 

3. EEN BOEK, OF TWAALF?

Die meeste vertalings - Afrikaans en Engels - plaas die twaalf kleinprofete wel as 'n reeks, maar as afsonderlike boeke van die Ou Testament. Daarenteen word hulle in die inhoudsopgawe van die Hebreeuse Bybel onder een hoofopskrif gegroepeer, naamlik Librum XII Prophetarum. Verder begin nie elke kleinprofeteboek noodwendig bo-aan 'n nuwe bladsy nie, maar die einde van die een loop doodnatuurlik oor na die begin van die volgende.

Hedendaagse eksegete, onder die invloed van die redaksie-kritiek gebruik die finale gestalte van die teks as basis om die ontstaan en ontwikkeling van 'n teks te ontsluit (die inleiding in Nogalski & Sweeny 2000:vii), en kom toenemend onder die indruk dat die dodekapropheton as een boek gelees moet word. Daar is heelwat bewyse (kyk Reddit 2003:1; Petersen 2000:4; Nogalski 1993:2-3):

• Die deutero-kanoniese boek, die Wysheid of Spreuke van Ben Sirag (2e eeu vC) verwys in 'n gebed na die "beendere van die twaalf profete". Geleerdes maak die afleiding dat die Twaalf reeds in hierdie tyd as 'n enkele boek beskou is.
• Die Joodse historikus Flavius Josefus (1e eeu nC) beskou die Twaalf as een van die twee en twintig boeke in die Bybel (Ag Ap 1.8).
• Esra 14:41 noem die Twaalf as een van die vier en twintig heilige boeke wat deur Esra oorgeskryf is.
• Die kerkvader Origenes (2e tot 3e eeu nC) tel ook die Twaalf as een boek in die Joodse Ou Testament.
• In die Babiloniese Talmud, Baba Batra 13b-15a is twee verwysings wat die eenheid van die Twaalf bevestig: (a) Noukeurige instruksies word gegee vir die oorskryf van Bybelboeke. Tussen kanoniese boeke moet vier blanko reëls gelaat word, maar die Twaalf word slegs deur drie oop reëls geskei; (b) Die orde waarin die Bybelboeke moet voorkom, word uitgestippel. Hier word kollektief na die Twaalf as een boek verwys.
• 'n Ietwat latere Hieronimus bevestig die eenheid eksplisiet: "unum librum esse duodecim prophetarum" (aanhaling uit Nogalski 2000:3).
• Intussen is antieke Hebreeuse en Griekse tekste ontdek waar die meeste van die kleinprofete - in sommige gevalle almal - op een rol opgeteken is (sien ook Tov 1990).

Natuurlik word hierdie bewyse deur ander geleerdes weerlê. Reddit (2003:3) verwys na die besware van Ehud ben Zvi (2003:283-292) wat onder andere aanvoer dat: (a) 'n Versameling impliseer nie noodwendig 'n samehangende geheel nie. 'n Boek soos Spreuke is 'n duidelike bewys van 'n tipe antieke bloemlesing wat deur antieke skrywers saamgestel is, sonder 'n koherente plan; (b) Latere gemeenskappe sedert Qumran tot die rabbi's, het die Twaalf as 'n bloemlesing beskou; (c) Die gebrek aan 'n vaste orde wat betref die eerste ses boeke (bespreking volg by punt 6), is verdere getuienis teen enige "korrekte" lesing; (d) Die opskrifte en aankondigings skei die profete van mekaar. Petersen (2000:3-10) volg 'n soortgelyke argument en beskou die versameling kleinprofete as 'n bloemlesing.

Hierdie argumente is egter besig om veld te verloor, en al hoe meer geleerdes verkies om die twaalf kleinprofete as 'n eenheid te lees.

 

4. MOONTLIKE BEWYSE VIR 'N SAMEHANGENDE GEHEEL

4.1 'n Sistematiese groei van die profetekorps

Nogalski (1993:5-7) en Schart (1998:6-8) sit kortliks navorsing rakende die sistematiese groei van 'n profetekorps uiteen. In 1921 het Budde aangevoer dat die Boek van die Twaalf gegroei het weens 'n sistematiese redaksie wat in die vierde eeu vC plaasgevind het (Nogalski 1993:5). Volgens hierdie teorie sou daar gepoog word om alle nie-goddelike materiaal in die Boek van die Twaalf te elimineer, insluitende narratiewe en eerste-persoonsvertellings. Boeke soos Jona, die styl van Haggai en Sagaria se naggesigte het hierdie hipotese egter laat misluk.

In 1935 verskyn Wolfe op die toneel (Schart 1998:6-7; Nogalski 1993:5-6). Hy doen baanbrekerswerk. Volgens sy hipotese was daar 'n historiese ontwikkeling wat in dertien redaksionele lae onderskei kan word. Hierdie lae kan gesien word in die groei van die korpus wat ontwikkel uit stadia bestaande uit eers twee, dan ses, dan nege en uiteindelik die twaalf boeke. Die vier stadia word soos volg aangetoon:

1. Hosea en Amos is die eerste twee kleinprofete;.
2. Bogenoemde word dan deel van die volgende ses: Amos, Hosea, Miga, Nahum Habakuk en Sefanja. Hierdie ses is die voor-eksiliese profete;
3. Vervolgens word Joël, Jona en Obadja ingevoeg en vorm die sogenaamde "boek van die nege";
4. Uiteindelik kom Haggai, Sagaria en Maleagi by, en die kleinprofete-reeks word voltooi.

Wolfe se werk beïnvloed Dale Allen Schneiders om in 1979 ook met 'n hipotese rakende die "groei van 'n profetiese korpus" vorendag te kom (Schart 1998:8; Nogalski 1993:7). Hy stel 'n vier-fase groei van profetiese tradisies voor:

1. Hosea, Amos en Miga;
2. Nahum, Habakuk en Sefanja;
3. Joël, Obadja en Jona;
4. Haggai, Sagaria en Maleagi.

4.2 Die "dag van die Here"

Die "groei van 'n profetiese korpus" is egter maar een kant van die munt. Sommige geleerdes wil 'n "tematiese" verbinding tussen die Twaalf kleinprofete insien. "Die dag van die Here" is byvoorbeeld 'n tema wat deurlopend en herhalend voorkom (Nogalski 2003:193). Tematies gesproke is die implikasie dat die betekenis van "die dag van die Here" wyer strek as die presiese woorde. Frases soos "op daardie dag" en "die dag" ensovoorts, is gelaai met betekenis. Dus, ten spyte daarvan dat die woorde jôm JHWH nie eksplisiet in die boeke Jona en Nahum voorkom nie, is die tema nietemin implisiet aanwesig.

4.3 Stichworten

Volgende "bindingsmiddel" is die sogenaamde Stichworten, oftewel catchwords. So vroeg soos 1851 bemerk Delitzch sekere woorde wat die twaalf kleinprofete bind - hetsy woordeliks of tematies. Bykans 'n eeu later tel Umberto Cassuto (1947) dieselfde fenomeen op en brei hierop uit (Nogalski 1993:6). Uiteindelik is dit Erich Bosshard (kyk Nogalski 1993:9; Schart 1998:9) wat die aandag vestig op parallelle tussen die twaalf kleinprofete en veral Jesaja. Byvoorbeeld, Hosea 1:1 // Jesaja 1:1 - identiese verwysings na die vier Judese konings; Joel 2:1 // Jesaja 13:6 - die dag van die Here; Miga 4:1-4 en Jesaja 2:2-4 is identies.

Hierdie verbindinge tussen die kleinprofete is nie maar toevallig nie. Bogenoemde geleerdes is daarmee eens dat 'n redaksionele vormingsproses aan die werk was. Die Twaalf het doelbewus en beredeneerd motiewe van Jesaja oorgeneem en daarop voortgebou.

 

5. DIE RESENTE DEBAT: DIAKRONIE OF SINKRONIE?

5.1 James Nogalski en Aaron Schart: Diakronie

Nogalski (1993) is een van die mees resente navorsers oor die eenheid van die Twaalf en bou voort op die teorie van Stichworten: sy argument is dat die Twaalf Kleinprofete aan mekaar ge"ryg" word deur eerste en laaste woorde, met ander woorde, die laaste woorde van die vorige profeet, is die eerste woorde van die volgende. Sy navorsing sit hy in twee volumes uiteen: Literary precursors to the Book of the Twelve en Redactional processes in the Book of the Twelve, albei 1993. In die eerste werk verduidelik hy sy metodologie (Nogalski 1993:12-19). Hy teken eers beswaar aan teen navorsers wat te eenvoudig en eensydig met die finale gestalte van die teks werk. Vir Nogalski is so 'n benadering nie aanvaarbaar nie. Hy verkies om literêr en redaksie-krities te werk te gaan. Uiteraard kan sy twee volumes nie uitvoering binne die bestek van hierdie artikel bespreek word nie, derhalwe gaan ek sy redenasie baie kursories probeer uiteensit aan die hand van die lyne wat hy tussen Hosea en Joël trek (Nogalski 1993:58-73).

Binne die makrostruktuur van Hosea is dit baie duidelik dat Hosea 14:2-10 'n latere byvoeging is. Veral Hosea 14:8 besonder beduidend en die volgende Stichworten aan die einde van Hosea en die begin van Joël verdien aandag: beelde rondom koring, wingerd, wyn. Hierdie vers kyk enersyds terug na Hosea 2:8 en verder. Hier, in die vroeëre Hosea word Israel verwyt omdat sy die wyn en die graan, die landbouprodukte wat Jahwe haar gegee het, misbruik deur dit vir diens aan Baäl te wy. Hosea 14:8 spreek die hoop uit dat hierdie situasie reggestel gaan word, en die verhouding tussen die Here en die ontroue volk weer in ere herstel gaan word. Andersyds kyk Hosea 14:8 egter ook vorentoe na Joël, maar die verhouding met Joël is paradoksaal. 'n Geweldige spanning word geskep wanneer Hosea die prentjie van redding voorhou, maar Joël as 't ware 'n streep daardeur trek: niks bly oor van die wyn, die wingerde en die koring nie, alles is daarmee heen.

Joël eindig egt