SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue3"God with us": faithfully reflected on Scripture author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    HTS Theological Studies

    Print version ISSN 0259-9422

    Herv. teol. stud. vol.64 no.3 Pretoria July/Sept. 2008

     

    "As jou broer verkeerd opgetree het teen jou ..." Enkele aspekte van kerklike dissipline uit die Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

     

    "If a brother sins against you ..." Certain aspects of church discipline from the Church Ordinance of the Netherdutch Reformed Church of Africa

     

     

    B J (Barry) van Wyk

    Hervormde Teologiese Kollege. Universiteit van Pretoria

     

     


    ABSTRACT

    Church discipline has been a substantial part of Church Ordinances since the Geneva Church Ordinance of 1541, and was pursued by and the development ed in the Netherlands and consequently also in South Africa. For obvious reasons church discipline forms part of the Church Ordinance of the Netherdutch Reformed Church of Africa. An effort is made to partly rewrite the church discipline and also to alter and to make the existing appeal possibilities more accessible, particularly with regard to the verdicts of the Synodical Commission.


     

     

    1. PROBLEEMSTELLING

    Gedurende die laaste aantal jare het dit duidelik geword dat die gedeelte van die Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika wat oor dissipline handel herformuleer moet word. Enersyds is dit problematies ondervind dat die woord klag onder opsig sowel as onder tug gebruik is. Daarnaas het dit ook nodig geword om te herbesin oor die Algemene Kerkvergadering, die sinodale vergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk, as appèlliggaam tydens tughandelinge. Die druk om die saak weer in oënskou te neem setel daarin dat geargumenteer word dat die Algemene Kerkvergaderings slegs eenmaal elke drie jaar in sitting is en indien die appèl vroeër gehoor moet word dit 'n redelik duur proses is om 'n buitengewone vergadering van ongeveer sewe honderd afgevaardigdes tussen normale sittings bymekaar te roep. Die kritiese vraag word hier gestel of in vergelyking met wêreldlike regsprosesse die kerklike weg noodwendig langer of duurder is. Waarskynlik is die lompheid van die vergadering wat met sy grootte saamhang, 'n sterker argument waarom na 'n ander appèlliggaam gesoek moet word. Die vraag ter aanvang is of dit nie doenlik sou wees om die hele gedeelte wat die dissiplinêre handelinge reël in hersiening te neem, sodat aanpassings gemaak kan word ter wille van groter bruikbaarheid. In 'n herbesinning is dit ook nodig om opnuut van die historiese agtergronde kennis te neem en te vergelyk met ander kerke wat ook uit die Reformatoriese tradisie put.

     

    2. HISTORIESE AANLOOP

    2.1 Inleidend

    Kerklike dissipline vorm 'n wesenlike deel van kerklike ordes sedert die formulering van die Geneefse Kerkorde, die Ordonnances Ecclésiastique van 1541 (Pont 1981:41-45), voortgesit in die Nederlandse kerkregtelike ontwikkeling vanaf Wezel 1568 tot Dordt 1618-19 (Kersten 1980; Rutgers 1980) en daarna. Ook in meer byderwetse tye word aan kerklike dissipline ruimte gegee soos aangedui in die ordes van die Nederlandse Hervormde Kerk (Nederlandse Hervormde Kerk=NHK 1969), Gereformeerde Kerken in Nederland (Gereformeerde Kerken in Nederland=GKN 1987), asook in die Kerkorde van die Protestantse Kerk in Nederland (Protestantse Kerk in Nederland=PKN 2004). Kerklike dissipline ontvang derhalwe ook ruimte in kerkordes van kerke in Suid-Afrika. Hier word verwys na die Kerkordes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (Nederduitse Gereformeerde Kerk=NGK 2002), die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika=GK 1979, asook die Afrikaanse Protestantse Kerk (Afrikaanse Protestantse Kerk=APK 1994) onder andere. As Reformatoriese kerk wat homself sien teen die kerkregtelike agtergrond wat deur bogenoemde kerkordes verwoord word en in die verlenging leef wat sedertdien plaasgevind het, word uit die aard van die saak ook aandag gegee aan kerklike dissipline volgens die Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika=NHKA 2004).

    Uitgaande van die standpunt dat 'n kerkorde 'n waagstuk is omdat dit mensewerk is wat in die kerk diensbaar moet wees, kan 'n kerkorde nooit met finaliteit bejeën, of as die laaste woord oor die orde van die kerk beskou word nie. Die stelling dat die kerkorde 'n genormeerde norm is wat deur die Skrif en die belydenis van die kerk daargestel word, dui op díé ongemak aangesien die vraag telkens aan die orde kom of die kerk in sy vergadering van die ampte goed geluister en die inhoud van die Skrif met betrekking tot sy orde, korrek weergegee het. Die kerkorde as dokument wat in die kerk moet funksioneer beteken dat daar 'n belydende verband bestaan tussen belydenis en organisasie (Noordmans 1984:444), anders gesê: dat dit onontwykbaar is dat kerklike orde as kerklike denke beleef moet word. Bogenoemde uitgangspunt dui nie op 'n lukrake beskouing van die kerkorde nie, maar verraai 'n onvoorwaardelike voorrang aan die Skrif as taak wat geen kerk wat in die Reformatoriese tradisie staan ooit as afgehandel kan beskou nie. "Binne die familie van hervormde kerke het die Woord nog altyd gegeld as primêre bron en norm vir die Kerkreg" (Botha 1993:4; kyk ook Coertzen 1989:5; 1991:122-126; Van der Watt 1983:3).

    2.2 Nederlandse agtergrond

    Wanneer 'n kerkorde soos die van Dordrecht 1618-1619 geraadpleeg word, is dit opvallend dat kerklike dissipline hoofsaaklik aan die kerkraad opgedra is (kyk Dordtse Kerkorde 1618-1619, Art 73-79; Kersten 1980:191-193). In bepaalde gevalle soos by 'n openbare versoening word naby geleë kerke (gemeentes) geraadpleeg (Art 75; Kersten 1980:192). Indien iemand wat 'n afstootlike sonde begaan het, daarin volhard, word hy van die Nagmaal geweer en indien hy steeds volhard van die gemeente afgesny, maar nie sonder vooraf advies van die classis (ring) nie (Art 76; Kersten 1980:192). Wanneer 'n ouderling of 'n diaken egter 'n ergerlike sonde begaan het wat vir die kerk onaanvaarbaar en ook strafbaar is deur die owerheid, word hy deur die kerkraad van die gemeente waaraan hy behoort en die kerkraad van 'n naby geleë gemeente van sy amp onthef. Maar dienaars van die Woord se ampspligte word opgeskort en die vraag of hy ook van sy amp onthef moes word, is gelaat in die oordeel van die classis (Art 79; Kersten 1980:193).

    Met betrekking tot die reg van appèl stel die Kerkorde van die Sinode van Emden reeds die volgende: "... Maar de dienaren des Woords zal men hun dienst voor een tijd lang opzeggen, doch of men ze ten enemale van hun dienst afzetten zal, daarvan zal de verzameling der classe oordelen, met welker oordeel, is het dat zij niet tevreden zijn, zo zulen zij zich beroepen op de Provinciale of Lands Synode" (Sinode van Emden 1571, Art 33; Kersten 1980:48). Die duidelik geformuleerde reg tot appèl is na Emden 1571 uit die artikels wat oor tug in besonder handel, verwyder en neem in die Dordtse Kerkorde van 1618-19 'n selfstandige plek in as Artikel 31 (Spoelstra 1989:431). Die appèlartikel staan in die Kerkorde van die Sinode van Dordrecht 1578 as Artikel 19 en word in die Kerkorde van Middelburg 1581 en daarna, gekombineer met Artikel 23 wat by Dordrecht 1578 nog 'n afsonderlike plek inneem. Laasgenoemde Artikel handel daaroor dat die meerderheid stemme bindend sal wees in 'n tugverhoor maar word terselfdertyd beperk met die prinsipiële uitgangspunt "... tenzij dat het bewezen worde te strijden tegen het Woord Gods, ..." (kyk Kerkordes van die Sinodes van Dordrecht 1578; Middelburg 1581, Art 23; 's-Gravenhage 1586, Art 29; Dordrecht 1618-1619, Art 31; Kersten 1980:94, 127, 160, 183).

    Sonder teenspraak kan waarskynlik beweer word dat kerkordes van Reformatoriese oorsprong formuleringe oor kerklike dissipline insluit omdat ten spyte van die verwagting dat almal eendragtig en in harmonie in gehoorsaamheid aan die Woord sal lewe, die praktyk dikwels anders is. Derhalwe sluit kerklike dissipline ook die moontlikheid tot appèl in, aangesien besluite van die kerk wat deur vergaderings geneem word, nie met outoritêre selfgenoegsaamheid gebeur nie en dus altyd aan korreksie onderhewig is (kyk GKN 1987:26; NHK 1969:179; NGK 2002:12, 28; GK 1980:21; APK 1994:37; NHKA 2007b 87-94). Die feit dat waarheid op grond van die Skrif relatief is, in die sin dat die Skrif die resultaat wat die pretensie dra om Skriftuurlik te wees, telkens weer aan die Skrif onderwerp, maak kerklike uitsprake nie sonder meer onfeilbaar en finaal bloot omdat onder die indruk verkeer word dat die Woord van God deur die kerk onfeilbaar geïnterpreteer is nie (Jonker 1965:28).

    Uit die Kerkorde van die Protestantse Kerk Nederland setel appèl in die Generale College vir Opzicht wat deur die Generale Sinode benoem word (Kerkorde PKN 2004:120, 129). "Tegen een beslissing van een opzichtcollege - of dit nu een beslissing is van een plaatselijk college van predikant(en) en ouderlinge of van een regionaal college voor het opzicht - kan beroep worden ingesteld bij het generale college voor het opzicht" (Van den Heuvel 2004:243).

    2.3 Ander kerke in Suid-Afrika

    Volgens die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk kan vergaderings wat appèlle moet aanhoor, ook van appèlkommissies gebruik maak wat na goeddunke saamgestel word (Art 23, NGK 2002:12).

    As eerste stap van appèl neem die ring of sy gevolmagtigde appèlkommissie die appèlle van kerkrade, kerkraadslede en lidmate teen die besluite van kerkrade in behandeling. Appèl teen besluite van 'n ring of ringsappèlkommissie mag deur 'n lidmaat of kerkvergadering wat deur die besluit van 'n ring verontreg voel, of wat meen dat die besluit in stryd is met die Skrif, die Belydenis of Kerkorde, by die skriba van die sinode of die sinodale appèlliggaam indien (NGK 2002:12). Dit is opvallend dat die gronde vir appèl hier enersyds gerelativeer word tot besluite wat in stryd met die Skrif, die belydenis of die kerkorde is. Beslissings van die sinodale appèlliggaam is finaal ten opsigte van daardie aangeleenthede wat tot sy bevoegdheid behoort. Benewens die reg tot appèl kan 'n beswaarde teen besluite van die Sinode, op grond van die Skrif, die belydenis of die kerkorde 'n beswaarskrif indien by die ringskommissie onder wie die beswaarde ressorteer. Indien die beswaar aanvaar word, dien die saak by die sinode in die vorm van 'n beskrywingspunt. Naas appèlle teen besluite van die Algemene Sinode waarteen beswaar mag ontstaan en wat in stryd is met die Skrif, die Belydenis belydenis en die Kerkorde kerkorde, wat by die skriba van die Algemene Sinode ingedien word, kan ook 'n gravamen ingedien word by die beswaarde se sinode. Indien die beswaar daar gehandhaaf word, stuur die skriba die gravamen na die skriba van die Algemene Sinode. Sake in verband met leergeskille of geskille tussen sinodes onderling of tussen sinodes en mindere vergaderings word by wyse van appèl voor die Algemene Sinode of sy appèlkommissie gelê. 'n Tweederde meerderheid word vereis en indien dit nie verkry word nie, kan 'n verdere beroep op afsonderlike sinodes gedoen word en die gesamentlike volstrekte meerderheid van stemme van die afsonderlike sinodes is dan beslissend (NGK 2002:18).

    Volgens Artikel 65 word die appèl moontlikhede beperk naamlik, dat oor leerstellige sake en bevoegdheidsaangeleenthede tot by die Algemene Sinode geappelleer word. Oor ander sake wat met tug verband hou, kan daar nie verder as die sinode geappelleer word nie (NGK 2002:28).

    In die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika wat steeds van die Dordtse Kerkorde van 1618-1619, soos gewysig, gebruik maak, word appèl in Artikel 31 beskryf. Uit die formulering word gestel dat 'n appellant wat beswaard voel oor die uitspraak van 'n mindere vergadering kan appelleer tot by die nasionale sinode. Die Artikel bepaal egter verder dat die beroep van 'n Nasionale Sinode op 'n Algemene Sinode slegs moontlik is wanneer 'n beroep gedoen word op die Skrif, belydenis en kerkorde of 'n uitspraak van die Algemene Sinode (GK 1980:21).

    Met betrekking tot kerkordes van susterkerke in Suid-Afrika en ouer kerkordes wat in die kerkregtelike verlede lê, word nog verwys na Artikel 81 van die Dordtse Kerkorde van 1618-1619 wat na sy inhoud besonder naby kom aan wat die Nederduitsch Hervormde Kerk onder opsig verstaan. "Dit gaan hier spesifiek om die beklemtoning van die verantwoordelikheid wat die lede van die kerkraad ten opsigte van mekaar het" (Pont 1981:266). Nie alle sondes word met 'n klag of met 'n afsetting getug nie maar wil slegs vermaan sodat ampsdraers in leer en lewe vir die hele kudde 'n voorbeeld sal wees. Die onderskeid tussen ernstige en minder ernstige sondes word in die Dordtse kerkorde gereflekteer maar is reeds by die Konvent van Wezel 1581 ter sprake (Spoelstra 1989:445, 446; Pont 1981:89, 260, 261). In wese is die onderskeid na aanleiding van Matteus 18:15-17 waar enersyds van 'n broederlike vermaning sprake is, maar as iemand nie daaraan gehoor gee nie word die saak by die gemeente (kerklike vergaderinge) aangemeld.

    Die onderskeid word ook in die Kerkorde van die Protestantse Kerk Nederland gevind wanneer onderskei word tussen opsig en tug (kyk PKN 2004:119-128). Dieselfde onderskeid bestaan ook in die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK 2002:23).

     

    3. KERKLIKE DISSIPLINE IN DIE NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA

    3.1 Historiese aanloop

    Kerklike dissipline in die Nederduitsch Hervormde Kerk ontvang besondere aandag in Ordereël en Ordinansie 8 (NHKA 2004:97-105) waarmee saam ook die Tugreglement (NHKA 2004:121-128) gelees moet word. Die rede waarom opnuut aan kerklike dissipline, en aan die formulering en beoefening daarvan in die Nederduitsch Hervormde Kerk aandag gegee word, is soos inleidend gestel die gevolg van druk uit die reg van die burgerlike owerheid met betrekking tot dissipline oor dienaars van die Woord, asook die wyse waarop bevindinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering wat tugbevoegdheid oor predikante het, tot appèl gevoer kan word.

    Waarskynlik is dit verdienstelik om die ontstaan en herkoms van die huidige Kerkorde van die Kerk in herinnering te roep waaruit 'n beeld gevorm kan word waarom die huidige Kerkorde só daar uitsien. Ten spyte van verskillende interpretasies oor die naam en herkoms van die kerke wat uit die Kaapkolonie gevolg het op die besetting sedert 1652, was daar ook bepaalde kerkregtelike bakens wat gesamentlik die agtergrond vorm vir die huidige Kerkorde, en vir die kerklike dissipline in besonder. In die verband kan verwys word na die Provisioneel Kerken-Ordre van J A de Mist 1804, die Algemeen Reglement van 1824 wat later deur die 1842-Kerkwet vervang is waartydens ook die naam van die Kaapse kerk verander is van Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuid-Afrika na Nederduitsch Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika (kyk Pont 1991:170-269; Coertzen 2000:253). Hiervandaan word die kerkordelike vormgewing van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika aangedui deur die Reglementen van de Nederduitsche-Hervormde Kerk in de Zuid-Afrikaanse Republiek 1863, wat in 1869 hersien word en geld tot in 1904. Die Wet van 1904 het met wysigings bly geld tot in 1951, en word uiteindelik deur die Kerkorde in 1997 vervang (Van Wyk 2004:55).

    Wanneer die kerkregtelike verloop aan die hand van bogenoemde Kerkwette en Kerkordes in ag geneem word, blyk dat die kerklike dissipline al reeds vanaf 1904 uit opsig en tug bestaan het (NHKA 1904:23). Die onderverdeling word ook in die Nederlandse kerkregtelike verloop aangetref (NHK 1969:170). As gevolg daarvan en gesien in die lig van die invloed wat die 1951 Kerkorde van die Nederlandse Hervormde Kerk in die Hervormde Kerk in 1951 en daarna uitgeoefen het, is dit begryplik dat die kerklike dissipline steeds uitgedruk word aan die hand van die onderverdeling opsig en tug.

    3.2 Die Kerkwet van 1992

    In die Kerkwet van 1992 wat in sekere sin gesien kan word as afsluiting van 'n bepaalde era van kerkordelike denke in die Nederduitsch Hervormde Kerk, word die tweeledigheid van kerklike dissipline as opsig en tug ook aangetref. Hierin word opsig volgens Bepaling 99 1 aangedui as 'n handeling wat voortspruit uit die barmhartigheid van die Here en bedoel is om die ware godsdiens volgens die Bybel te onderhou en die suiwere leer te handhaaf, die dissipline en orde te handhaaf en sorg te dra dat die Wet en Bepalings, verordenings en besluite, deur vergaderings, ampsdraers en lidmate nagekom word (NHKA 1992:50). Die informele aard van opsig blyk uit Bepaling 104 1: "'n Beswaar, beklaging of klag wat slegs 'n gespanne verhouding of die toestand waaroor gekla word, uit die weg wil ruim sonder tughandeling, word, nadat die persoonlike broederlike gesprek misluk het, by die kerkraad aanhangig gemaak" (NHKA 1992:53).

    In laasgenoemde formulering word die broederlike gesprek aangedui as 'n belangrike invalshoek van kerklike dissipline wat herinner aan die Bybelse uitspraak in Matteus 18:15. Alle verdere kerklik dissiplinêre handelinge dui daarop dat die persoonlike broederlike gesprek misluk het. Verder is dit opvallend dat die handeling onder die opsig tipeer word as 'n beswaar, beklaging of klag wat nie die bedoeling het om deur formele tughandelinge die saak op die spits te dryf nie. Die redelik informele aard van opsig word ook verwoord in die aanduiding volgens Bepaling 104 2 dat opsighandelinge skriftelik of mondeling by die kerkraad aanhangig gemaak word "nadat die persoonlike broederlike gesprek misluk het" (NHKA 1992:53). Alhoewel die woord klag ook gebruik word om die toestand waaroor gekla word, te tipeer is dit in die kerkordelike praktyk skerp onderskei van die gebruik van die woord onder die tug waar in Bepaling 108 1 gemeld word dat 'n bevoegde vergadering tug uitoefen nadat 'n klagskrif ontvang, die saak ondersoek en die klag gegrond bevind is (eie kursivering) (NHKA 1992:108). Die gebruik van die woord klagskrif as deel van die prosedure wanneer tughandelinge ter sprake kom, ondersteun die argument dat klag onder die opsig, en klag onder die tug, nie met mekaar verwar moes word nie. Verder word die onderskeid versterk deur die voorgeskrewe prosedure wat met die hantering van 'n klag soos verwoord in 'n klagskrif gepaard gaan. Die erns van handelinge onder die tug blyk uit die uitvoerige uiteensetting wat in die 1992 Kerkwet (Bepalings 118-124) weergegee is wanneer 'n tugsaak hanteer is (NHKA 1992:57-62).

    3.3 Die Kerkorde van 1997 en daarna

    Die invoering van die Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in 1997 (NHKA 1997) het 'n nuwe stel kerkordelike maatreëls tot gevolg gehad waarin ook duidelik afgewyk is van die 1951 Kerkorde van die Nederlandse Hervormde Kerk wat grootliks vir die 1951 Kerkwet van die NHKA as voorbeeld en grondplan gedien het. Dit is reeds gestel dat die wysiging om nie meer van kerkwet te praat nie maar liewer die veel meer gebruiklike begrip kerkorde te gebruik (Van Wyk 2004:58), meer is as bloot 'n woordkeuse. Daarom verskil die Kerkorde inhoudelik redelik sterk van die Kerkwet wat met die invoering van die Kerkorde vervang is, maar kom daar ook opvallende ooreenkomste na vore, soos onder andere die behoud van die volkskerklike uitgangspunt in Ordereël 4 (NHKA 2004:69), asook die verdeling van kerklike dissipline in opsig en tug (Ordereël en Ordinansie 8).

    Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het egter op sy vergadering van 9-10 Junie 2005 na aanleiding van 'n klag teen 'n predikant 'n ander interpretasie aan die gebruiklike kerkordelike handeling gegee as wat tot nog toe in die Kerkorde, en daarvoor, gebruiklik was. Die rede vir die interpretasie was na aanleiding van 'n opmerking van 'n predikant wat in die vergadering teenwoordig was en met 'n beroep op Ordinansie 8.2.71 daarop gewys het dat 'n klag wat tughandelinge tot gevolg het, eers by die betrokke ouderlingevergadering ingedien moet word, maar uit die oog verloor het dat Ordinansie 8.2.7 volledig oor opsig handel. Dit kom daarop neer dat 'n klag volgens díé uitleg van Ordinansie 8.2.7 nie by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering ingedien word nie soos Ordinansie 8.3.1 vereis nie, maar wel by die ouderlingevergadering (sic!) (NHKA 2004:100). Die Kommissie het derhalwe in 'n omsendskrywe die herinterpretasie van Ordinansie 8.2.7 met verwysing na die hantering van 'n klag, in die Hervormde Kerk bekend gemaak (NHKA 2005b).

    Vooraf moet daarop gewys word dat die Kerkorde se hantering en uiteensetting van kerklike dissipline nou verwant is aan die wyse waarop dit in die Kerkwet geformuleer was. Oor die behoud van kerklike dissipline as opsig en tug is reeds gewys. Ook die meer informele karakter van die opsig in vergelyking met tughandelinge is behou en word verwoord in Ordinansie 8.1.3, met die formulering dat die opsighoudende lidmaat, ampsdraer of vergadering self die wyse bepaal waarop die opsiggesprek sal plaasvind (NHKA 2004:99). Dit word verder gemotiveer met die aanduiding dat opsig plaasvind met die oog op die behoud van die regte geloof en lewenswandel (Ordinansie 8.1.1) en daarom vind dit plaas aan die hand van gesprek waar raadgewend, waarskuwend, teregwysend of bestraffend in liefde gesprek gevoer word (Ordinansie 8.1.2). In die Kerkorde word ook die moontlikheid oopgelaat dat die broederlike gesprek onder die opsig kan misluk en indien dit gebeur, word 'n beswaar skriftelik met ondersteunende getuienis aan die bevoegde opsighoudende vergadering voorgelê (Ordinansie 8.1.4). Dit is die bedoeling van Ordinansie 8.2.7 ten spyte van die feit dat die woord klag as aanduiding van 'n beswaar of beklaging gebruik is.

    'n Vergelyking van die prosedure in Ordinansie 8.2.7 met Ordinansie 8.3.12 dui aan dat enersyds 'n handeling onder die opsig beskryf word, en andersyds 'n handeling onder tug. Ordinansie 8.2.7 stel dat die ouderlingevergadering opsig hou oor lidmate, ouderlinge, diakens en predikante. 'n Klag onder die opsig teen 'n lidmaat word deur die ouderlingevergadering afgehandel, terwyl 'n klag teen 'n ouderling of diaken na die ringsvergadering verwys kan word vir afhandeling, en 'n klag teen 'n predikant kan selfs na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verwys word vir afhandeling indien die ouderlinge- en ringsvergadering nie daarin kon slaag nie. In beide Ordinansies 8.2.7 (ii) en (iii) word met betrekking tot ouderlinge en diakens, asook predikante, die moontlikheid gemeld dat 'n klag onder die opsig nie afgehandel kan word nie (NHKA 2004:100). Hieruit kan afgelei word dat opsighandelinge gevolg word deur tughandelinge. Uit die aard van die saak word alle handelinge in die Kerkorde onder Ordinansie 8.1 tot 8.2.9 as opsig aangedui wat Ordinansie 8.2.7, waaroor die verskil van mening ontstaan het, insluit.

    Dat 'n klag onder die opsig en 'n klag onder tug dus nie op dieselfde vlak staan nie, word duidelik wanneer die bevoegde vergaderings om wat ondersoek te doen en tug uitoefen, soos aangedui in Ordinansie 8.3.1, vergelyk word met Ordinansie 8.2.7. Ordinansie 8.3.1 baken die bevoegdheid duidelik af, en 'n klag teen 'n predikant, by voorbeeld, word volgens Ordinansie 8.3.1 (iii) slégs deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering hanteer (NHKA 2004:100).

    Hierby sluit die meer formele karakter van die tug aan wanneer van die klaer(s) verwag word om by die indien van 'n klag aan te dui (Ordinansie 8.3.3.2 (iii)) hoe daar onder die opsig gehandel is (NHKA 2004:101). Die uitsondering is wanneer die weg van Ordinansie 8.3.4 gevolg word en 'n klag met verbygaan van die opsig gelê word. Die ander moontlikheid is waar iemand uit eie beweging skuld sou bely oor 'n oortreding en tug toegepas word selfs sonder 'n klag, of dat die handeling deur opsig voorafgegaan is (Ordinansie 8.3.2 (ii)). Die formele karakter van die tug word verder ondersteun wanneer die Tugreglement (NHKA 2004:121-128) hierby in ag geneem word as aanduiding dat opsig en tug twee parallelle handelinge is wat nie met mekaar verwar moet word nie. Opsig is gesprekvoering tussen gelowiges oor leer en lewe met die oog op die behoud van die regte geloof en lewenswandel (Ordinansie 8.1.1) terwyl tug volgens Ordinansie 8.3.7 daartoe aanleiding gee dat iemand gewaarsku, die gebruik van die sakramente ontsê, lidmaatskap beëindig, uit die amp onthef of vir 'n bepaalde tyd van ampsvoorreg ontneem word, of selfs uit die gemeenskap van die gelowiges uitgesluit kan word (NHKA 2004:102).

    Dit is betekenisvol om die tweedeling van kerklike dissipline as opsig en tug te handhaaf aangesien die verwagting bestaan dat gelowiges onder mekaar daartoe in staat is om onderlinge geskille op te los. Die feit dat dit nie gebeur nie, word ook in die Skrif aangedui (Matt 18:16). Daarom kan kerklike tug as noodreg beskou word wat moet doen wat nie in die kerk van die Here behoort te gebeur nie. Die broederlike gesprek vorm die harde kern van kerklike dissipline wat as dit goed gaan, daarin slaag om alle geskille uit die weg te ruim. "De private vermaningen zijn het fundament der kerkelijke tucht. Het verloren gaan der bijzondere broederlijke vermaning heeft het verval van de kerk ten gevolge" (Bouwman 1985:619).

    Vanselfsprekend kom dit daarop neer dat indien die broederlike gesprek misluk, ander daarby betrek moet word wat in die kerklike praktyk bestaan uit ander gelowiges, ampsdraers of vergaderings van die ampte. Die prosedure het in die Kerkwet bestaan soos aangedui in Bepaling 104 1 (NHKA 1992:53) en word in die Kerkorde volgens Ordinansie 8.1.4 voortgesit (NHKA 2004:99). Die Kerkorde het egter die meer formele sy van die opsig soos uiteengesit in Ordinansie 8.2.7 begripsmatig vereng deur slegs na 'n klag te verwys, terwyl die Kerkwet die probleem breër aangedui het as besware, beklagings en klagtes (NHKA 1992:53).

    Wanneer die huidige kerkordelike formulering met betrekking tot opsig beskou word uit die kerkregtelike agtergrond en aanloop soos verwoord deur die Kerkwet en die Kerkorde tot en met die sewe en sestigste Algemene Kerkvergadering in 2004, en die reg van usansie hier van toepassing gemaak word soos aangedui in Ordereël 3.1 (ii) en Ordereël 10.4 (NHKA 2004:38, 112), kan daar nie verwarring bestaan nie. 'n Herformulering mag nodig blyk sodat misverstand uit die weg geruim word, en die werk van vergaderings van die ampte wat daarmee gemoeid is, vergemaklik word. Daaraan is tydens die agt en sestigste Algemene Kerkvergadering uitvoering gegee deur die woord klag in Ordinansie 8.2.7 uit die opsig te verwyder en te vervang met beswaar (NHKA 2007a:232; NHKA 2007b:89).

    Verwydering van die woord klag uit die opsig sal hopelik alle ongemak om die opsig volgens Kerkorde te hanteer besweer, daar dit ietwat duideliker sal wees dat handelinge onder opsig anders verloop as die onder tug. Waarskynlik sal dit egter goed wees om opnuut die geheel in oënskou te neem en die vraag te beantwoord wat as maksimum-minimum beskou kan word waardeur opsig in die kerklike dissipline op goeie voet geplaas kan word, om sodoende verwarring te voorkom. Gedagtig aan die feit dat opsig 'n informele, maar nie minder belangrike handeling as tug is nie, moet in die gedeelte oor die opsig aangedui word

    • wat opsig is,
    • wie daarvoor verantwoordelik is,
    • oor wie opsig gehou word, en
    • hoe opsig gesprekke kan verloop.

    Die vraag wat opsig is, word in Ordereël 8.3.2 aangedui as: "... die verantwoordelikheid van lidmate, ampsdraers en vergaderings om vir mekaar sorg te dra, deur in liefde mekaar by te staan, te bemoedig en tereg te wys." Dit word voorafgegaan deur 'n aanduiding van die oorsprong van opsig wanneer gestel word dat opsig voortspruit "uit die barmhartigheid van die Here met die bedoeling om die ware diens aan God te onderhou en die suiwer leer en die goeie orde te handhaaf" (Ordereël 8.3.1) (NHKA 2004:97).

    Dit was by die formulering van die Kerkorde as uitgangspunt gebruik dat álmal oor álmal opsig hou. Daarom kan die opsig van die ouderlingevergadering, ringsvergadering en ringskommissie, asook die Algemene Kerkvergadering en sy Kommissie reeds as opsig in tweede linie, of ietwat meer formeel, ernstiger, beskou word omdat die broederlike gesprek wat tussen gelowiges onderling (kyk Ordinansie 8.1.1) plaasvind, misluk het. Waarskynlik kan die broederlike gesprek bestempel word as opsighandeling by uitnemendheid, aangesien op die keper beskou, alle kerklike dissipline hier begin en hier ten einde behoort te loop. Die verwagting bestaan immers dat die Skrif die normerende norm is waaraan alle gelowiges hulle graag wíl onderwerp en in die lig van die Skrif daadwerklik sal poog om alle geskille op gepaste wyse in 'n broederlike gesindheid op te los. Helaas is dit prinsipieel-teologies korrek, maar strook nie met die reële lewe nie, bloot vanweë die sondige gebrokenheid wat ook in die kerk teenwoordig is. Dit word beklemtoon dat alle gelowiges oor mekaar opsig hou deur broederlike gesprekke te voer oor leer en lewe met die oog op die behoud van die regte geloof en lewenswandel.

    Tweedens hou die ouderlingevergadering opsig oor lidmate, diakens, ouderlinge, predikante, vergaderings van ampsdraers en komitees in gemeentes (Ordinansie 8.2.1). Derdens hou ringsvergaderings en ringskommissies opsig oor gemeentes, vergaderings van die ampte op plaaslike vlak, ringskomitees, predikante, ouderlinge en diakens wat in die ringsgebied val (Ordinansie 8.2.2). Vierdens hou die Algemene Kerkvergadering en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering opsig oor ringsvergaderings en oor rade en komitees van die Algemene Kerkvergadering (Ordinansie 8.2.3). Hier word die opsigtaak van die Kommissie oor predikante doelbewus uitgelaat in die lig van die Kommissie wat tydens die sewe en sestigste Algemene Kerkvergadering verkies is, se interpretasie dat skrywes, beklagings en klagtes oor ampsdraers nie by die Kommissie ingedien mag word nie (Omsendskrywe 19/2005, gedateer 11 Oktober 2005), waarmee die situasie effektief gewysig is soos tydens die Kerkwet (Bepaling 100 3, NHKA 1992:51). Die agt en sestigste Algemene Kerkvergadering het egter die opsigtaak van die Kommissie behou (NHKA 2007, Ordinansie 8.2.3). Hier kan moontlik die opmerking gemaak word dat indien 'n opsighandeling gevoer word tot by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, soos tans moontlik is (kyk Ordinansie 8.2.7 (iii)), sodanige pogings misluk en die klag onder die opsig verder as klag onder tug deur die Kommissie hanteer word, die juridiese argument gevoer kan word dat die Kommissie geprejudiseer mag wees, of ten minste daarvan verdink kan word. Die siening dat die Kommissie nie opsig oor predikante uitoefen nie, kan gesien word as `n beklemtoning van die opsig wat by ouderlinge- en ringsvergaderings tuishoort.

    Die standpunt dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering wél 'n opsigtaak het en dit moet uitvoer is egter nie sonder meriete nie. In die herformulering van opsig wat later volg, word egter aangedui dat die opsigtaak van die Kommissie eers aan die orde kom nadat die ouderlinge-vergadering en ringskommissie die saak hanteer het. Op die wyse word die neiging om alle sake direk met die Kommissie in eerste linie te hanteer ondervang. Voorrang word aan die vergaderings naas die Kommissie verleen wat hulle toekom en sodoende word verhoed dat die Kommissie onnodig belas en uiteindelik oor alles moet praat wat in die kerk gebeur.

    Laastens moet in díé verband 'n aanduiding gegee word hoe opsig gesprekke moet verloop. Eerstens kan verwys word na die huidige formulering in Ordinansie 8.1.1 wat stel dat opsig plaasvind "deur middel van gesprekke tussen gelowiges oor leer en lewe met die oog op die behoud van die regte geloof en lewenswandel." Dit dui op die eerste linie van opsig waarin almal oor almal opsig hou en alle gelowiges die voorreg het om met mekaar in gesprek te verkeer en derhalwe verplig is om in gesprek te tree met die medebroeder wat struikel (Matt 18:15). 'n Opregte kerklike gesindheid en lewenshouding van beide partye sal waarskynlik daartoe lei dat alle besware en beklagings uit die weg geruim sou word maar wat ongelukkig, soos reeds aangedui, nie altyd gebeur nie. Daarom sal onopgeloste besware en beklagings wat in 'n broederlike gesprek nie opgelos kon word nie, verwys moet word na vergaderings van die ampte wat met opsig gemoeid is. In die gemeente is dit die vergadering van die ouderlinge soos geformuleer in Ordinansie 8.2.1: "Die ouderlingevergadering hou opsig oor lidmate, diakens, ouderlinge, predikante, vergaderings van ampsdraers en komitees in die gemeente" (NHKA 2004:99). Wanneer die persoonlike broederlike gesprek misluk het, word die saak aanhangig gemaak by die ouderlingevergadering en dit kan skriftelik of mondeling geskied. Miskien moet hier 'n bepaalde voorrang ingebou word gesien in die lig van die feit dat die gemeente die plaaslike verskyningsvorm van die kerk is en vergaderings op gemeentevlak as primêre vergaderings van die ampte beskou word. Dit beteken dat opsighandelinge deur die ouderlingevergadering hanteer word, en eers nadat pogings om die besware uit die weg te ruim misluk het, word die aangeleentheid na die ringsvergadering en sy kommissie verwys om die saak te probeer afhandel. Waarskynlik sal die beswaar na die ringsvergadering en sy kommissie skriftelik moet wees, aangesien 'n opsighandeling op díé vlak meer formeel van aard sal wees en omdat die lede van die ringskommissie nie noodwendig deel vorm van die ouderlingevergadering wat aanvanklik met die beswaar gehandel het nie.

    Ordinansie 8.2.4 dui aan dat die opsighoudende vergadering binne veertien dae aan die saak aandag skenk en ernstig probeer om die saak af te handel. Ordinansie 8.2.5 kan verwarrend wees aangesien in 8.2.4 reeds aangedui word dat die opsighoudende vergadering aan die saak aandag skenk wat beteken dat die vergadering met iemand gesprek voer, terwyl 8.2.5 die indruk skep dat iemand eers opgeroep word vir 'n gesprek indien die saak nie besleg word nie.

    Die vraag kom hier ter sprake wat moet gebeur as iemand nie aan 'n gesprek wil deelneem nie? In die verband kan 8.2.6 net so gehandhaaf word omdat dit hier gaan oor verdere handelinge nadat die moontlikhede onder opsig benut, maar nie die gewenste uitwerking gehad het nie. Hier word dus teen iemand 'n klag gelê omdat opsig misluk het en oorgegaan word na tug wat verder verloop volgens Ordinansie 8.3.1 waarin die tugbevoegdheid van verskillende vergaderings aangedui word. Ordinansie 8.2.6 het die persoon in gedagte wat deur 'n vergadering van die ampte opgeroep is vir 'n opsiggesprek en geweier het om daaraan deel te neem en derhalwe aangekla word onder die tug. Die Ordinansie dui nie op tughandelinge wat moes verloop soos verkeerdelik in die vooruitsig gestel is op grond van Ordinansie 8.2.7 voor die woord klag met beswaar vervang is nie. Die wysiging van Ordinansie 8.2.7 dra ook daartoe by om die meer informele aanslag van opsig te handhaaf teenoor tug wat 'n formele handeling is wat langs vaste bane beweeg. Opsig wil slegs die gespanne toestand waaroor gekla word, uit die weg ruim sonder tughandeling (Bepaling 104 1) (NHKA 1992: 53).

    In die lig van die mening dat die huidige Kerkorde hersien moet word (NHKA 2007:196, 198), sou dit vanselfsprekend wees dat kerklike dissipline ook krities nageloop moet word. Hiermee word 'n voorlopige herformulering van opsig en tug (NHKA 2007b: 88-93) as 'n voetnoot ingesluit vir oorweging wat hoofsaaklik deur advokaat Joël Fourie geformuleer is en op `n vergadering van die Raad vir Regsadvies gehou op 13 Augustus 2008 ter tafel geneem is.3

     

    4. APPÈL TEEN BEVINDINGE VAN DIE KOMMISSIE VAN DIE ALGEMENE KERKVERGADERING

    'n Verdere saak wat aandag verdien, is die huidige bedeling waarin die Algemene Kerkvergadering as appèlliggaam vir die bevindinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering optree in tugsake (Ordinansie 3.8.2 (iii); 8.3.8 (d)) (NHKA 2004:56, 104). Die besware wat in die verband na vore gebring word, is dat die Algemene Kerkvergadering slegs een maal elke drie jaar in sitting is, of dat 'n tussentydse vergadering te duur is (Tugreglement 4.8, Kerkorde 2004:126). Die koste-argument is natuurlik ietwat genuanseerd aangesien iemand wie se beroep slaag, geen finansiële verpligting tot die vergadering het nie. Dit geld ook indien iemand bereid is om te wag vir die volgende gewone vergadering wanneer 'n appèl kosteloos aangehoor word ongeag die uitslag. Die risiko vir die appellant met betrekking tot die koste van die vergadering geld slegs wanneer sy beroep op die vergadering nie slaag nie en die beroep op 'n buitengewone vergadering gedoen is.

    Die kosteloosheid van die Algemene Kerkvergadering geld hier natuurlik net vir die appellant en ook in bogenoemde voorwaardes. Die Hervormde Kerk in die breë en elke gemeente in besonder dra by tot die uitgawes van 'n Algemene Kerkvergadering wat inderdaad nie kosteloos is nie. Maar die argument gaan hier nie oor die koste van 'n Algemene Kerkvergadering as sodanig nie, maar oor die vraag of die Algemene Kerkvergadering as appèlliggaam vir 'n appellant 'n finansiële risiko inhou al dan nie. Hier moet ook beklemtoon word dat drie jaar, die periode tussen twee opeenvolgende Algemene Kerkvergaderings, die langste is wat 'n appellant hoef te wag voor sy appèl gehoor kan word.

    Ter oorweging word gestel dat navraag gedoen is by 'n lid van die Pretoria Balie wat te kenne gegee het dat appèlle op bevindinge van landdroshowe ongeveer ses maande duur, maar dat uit die aard van die saak nie alle gedinge aanvanklik deur landdroshowe gehoor kan word nie. Dit beteken dat sake wat deur die hooggeregshof aangehoor moet word, ongeveer twee jaar duur van die moment dat alle pleitstukke uitgeruil en 'n verhoordatum aangevra word. Die uitruil van pleitstukke is eweneens 'n tydsame proses wat ongeveer agt maande duur, of selfs langer. Die beswaar oor die tydsverloop wanneer 'n appèl tydens 'n gewone Algemene Kerkvergadering aangehoor moet word, is dus nie sonder meer problematies nie. Die lang tydsverloop om sake aan te hoor en uitspraak te lewer is onlangs deur 'n senior lid van die Regterlike Diens Kommissie (RDK), J H van der Merwe, bevestig. Daarmee saam word tans ook soms maande gewag op uitspraak, selfs langer. "Daar is egter gevalle waar dit vier jaar geduur het voordat 'n uitspraak gelewer is .... Nog 'n haakplek is die lang wagtydperke vir verhoordatums. In Pretoria word nou twee jaar ná die sluiting van pleitstukke op verhoordatums gewag" (Rapport, 1 Junie 2008, bl 17).

    Die koste-argument saam gesien met die tydsverloop tussen vergaderings van die Algemene Kerkvergadering wat die appèl moet hoor, in vergelyking met regskoste en tydsverloop in die reg buite die kerk, laat die gevoel ontstaan dat koste en tydsverloop nie die grootste probleme van die Algemene Kerkvergadering as appèlvergadering is nie. Die werklike koste van regsprosesse en gevolglike appèlle in die howe tot by die Appèlhof of selfs die Grondwetlike Hof, word hier met rus gelaat aangesien die mening bestaan dat dit hoegenaamd nie met die kerk se tugprosedures vergelykbaar is nie.

    Die moontlikheid van appèl na die Algemene Kerkvergadering is in die verlede selde benut (NHKA 1992b:195 e v). Dit bly merkwaardig dat in die lig van die eiesoortigheid van die kerk en die kerklike dissipline iemand nie op broederlike wyse tot tevredenheid kan kom nie. In bogenoemde appèl is die beroep van die appellant gehandhaaf en in sy amp herstel, maar die suksesvolle appèl het klaarblyklik nie daartoe bygedra om verdere dienswerk in die kerk te verseker nie.

    Die feit dat ter aanvang 'n voorsitter en skriba vir die aanhoor van die appèl gekies moet word (Tugreglement, 5.2 en 5.3, Kerkorde 2004:126) loop uit op 'n verleentheid aangesien 'n verkosene die saak as 't ware onvoorbereid moet hanteer. Die verleentheid het ook te make met 'n mate van onbeholpenheid wat die groot vergadering gekenmerk het en die vraag na vore laat kom of so 'n groot vergadering appèlle effektief kan hanteer. Die problematiek oor die Algemene Kerkvergadering as appèlliggaam setel dus nie soseer in koste of tydsverloop nie, maar in die grootte en samestelling van die vergadering wat in die praktyk die indruk van onbeholpenheid skep.

     

    5. DIE AGT EN SESTIGSTE ALGEMENE KERKVERGADERING 2007

    Die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk het in sy driejaarlikse samekoms in 2007 daartoe oorgegaan om enkele wysigings aan die opsigrubriek van kerklike dissipline in die Kerkorde aan te bring. Eerstens is Ordinansie 8.1.3 gewysig om slegs te lees die "bevoegde opsighoudende vergadering bepaal, ná of sonder advies, die wyse waarop die opsiggesprek plaasvind" (NHKA 2007b:89). Die rede waarom "opsighoudende lidmaat, ampsdraer" uitgelaat is, was die interpretasie dat lidmate of ampsdraers wat oor een of ander rede beswaard geraak het oor die bevoegdheid beskik om selfs vergaderings te ontbied om met hulle in gesprek te tree ongeag waar hulle ook al woonagtig is.

    Daarnaas is Ordinansie 8.2.7 gewysig deur die woord klag te vervang met beswaar sodat die verwarring en ongemak wat daarin gevind is in die kiem gesmoor kon word. Dit gaan hier oor 'n meer formele sy van opsig wat steeds slegs die gespanne toestand waaroor gekla word uit die weg wil ruim, sonder tughandelinge waar iemand aangekla en selfs by skuldig bevinding van sy amp onthef kan word. Die hantering van 'n klag verloop anders as onder opsig. 'n Vergelyking van Ordinansies 8.2.7 met Ordinansies 8.3.1 dui dit aan (NHKA 2007b:89-90).

    Verder het die Vergadering aandag gegee aan ander moontlikhede om appèlle aanhangig te maak as die huidige. 'n Voorstel is in die verband in beginsel aanvaar wat twee moontlikhede stel, naamlik óf die sekundi lede van die Kommissie, óf die nuut verkose Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (NHKA 2007a:235). Die laaste moontlikheid sal waarskynlik nie aanvaarbaar wees nie in die lig van die feit dat appèlle tot drie jaar kan duur om gehoor te word, en ingepas moet word in 'n druk werkprogram van elke verkose Kommissie. Die sekundi lede is egter ook deur die Vergadering verkies en sodoende word nader gehou aan die vergadering van die ampte uitgangspunt, wat boonop 'n meer kerklike gestalte aan sodanige liggaam gee as bloot net 'n tugkommissie. Krities beskou is dit waarskynlik nie wys om die Raad vir Regsadvies as geheel by enige appèl te betrek anders as om advies te gee aan almal wat daarom vra nie (NHKA 2005:124).

    Die Vergadering het ook die moontlikhede van tughandelinge oor predikante wat aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verleen word, uitgebrei. Voorheen kon die Kommissie iemand slegs waarsku, vir 'n tydperk van ampspligte onthef met gedeeltelike verlies van ampsvoordele, of van die amp onthef (NHKA 2004:103). Nou kan die Kommissie 'n aangeklaagde in oorleg met die kerkraad en ringskommissie van sy standplaas losmaak, die tughandeling vir drie jaar uitstel of opskort met of sonder voorwaardes wat verband hou met opleiding en berading, toesig en beheer, verpligte bywoning by 'n bepaalde sentrum, goeie gedrag en enige ander gepaste geleentheid (NHKA 2007a: 233; 2007b:93).

    'n Belangrike verandering het ook plaasgevind deur die moontlikhede vir appèl op elke vlak te beperk tot slegs een appèlmoontlikheid. Verskil van mening het ontstaan of Ordinansie 8.3.8 (NHKA 2004:103) so geïnterpreteer kan word dat indien 'n beroep op 'n ouderlingevergadering nie suksesvol is na die mening van die appellant nie, die aangeleentheid deur appèl geneem kan word tot by die Algemene Kerkvergadering. Die rede vir die wysiging kom by implikasie daarop neer dat geoordeel word dat iemand slegs een appèlmoontlikheid het. Tog word 'n belangrike uitsondering daaraan toegevoeg naamlik, wanneer 'n leeraangeleentheid ter sprake is onderhewig aan die interpretasie van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (NHKA 2007a:234; NHKA 2007b:94).

     

    6. SLOTOPMERKINGS

    Laasgenoemde wysigings wat deur die agt en sestigste Algemene Kerkvergadering aangebring is, het enkele lastige probleme ondervang waaroor groter duidelikheid gekom het en nie meer op interpretasie hoef te berus nie. Ander moontlikhede met betrekking tot kerklike dissipline kan ook oorweeg word wat moontlik saamhang met die mening dat die Kerkorde herskryf moet word (NHKA 2007a:196, 198).

    Een moontlikheid is om kerklike tug af te wentel na ringskommissies. Sodanige reëling sou natuurlik gesag aan ringsvergaderings verleen en die verantwoordelikheid verswaar om persone op die ringskommissie te verkies wat 'n saak soos kerklike tug met verantwoordelikheid kan hanteer. Op die terrein sal baie toerusting gegee moet word om die Kerkorde meer toeganklik te maak en predikante in te lig oor die hantering van tugsake. Indien díé moontlikheid gevolg word sal dit beteken dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering as appèlliggaam aangewend kan word. Die Kerk sal oor die moontlikheid baie deeglik moet besin aangesien dit alleen moontlik is indien daar 'n radikale vernuwing met betrekking tot gesindheid en dienswerk in die kerk teweeggebring kan word. Waarskynlik moet die moontlikheid nie oorweeg word nie.

    'n Ander alternatief sou wees om te dink aan 'n verkleinde Algemene Kerkvergadering wat trapsgewys saamgestel word soos wat in die vergaderings van die diakonaat reeds bestaan. Indien 'n verkleinde vergadering saamgestel word uit twee bedienaars van die Woord en twee ouderlinge uit elke ring, beteken dit dat sodanige vergadering uit 156 afgevaardigdes bestaan (39 ringe x 4), saam met die Raad vir Regsadvies en ander kundiges wat nodig geag mag blyk. Indien sodanige verkleinde vergadering in die lewe geroep word sal appèlle makliker hanteer kan word en tegelyk veel goedkoper as die huidige situasie met 'n groot vergadering van ongeveer sewe honderd afgevaardigdes. 'n Verkleinde Algemene Kerkvergadering kan ook meer dikwels vergader, selfs jaarliks. 'n Verkleinde Algemene Kerkvergadering het opnuut weer ter sprake gekom in die Vergadering (NHKA 2007a:219).

    Verder kan oorweeg word om deel 4.1 van die Tugreglement te beperk sodat slegs die aangeklaagde (en nie ook die klaers volgens die huidige formulering nie) die reg het op appèl na 'n skuldigbevinding. Dit sal die kerk en vergaderings van die ampte wat met tug gemoeid is, moontlik vrywaar van allerlei onverkwiklike pogings tot appèl.

    Kerklike dissipline wil niks meer as om die welwese van die kerk te bevorder nie. Daar hier sprake is van kerklike dissipline, of kerklike reg moet in gedagte gehou word dat beide eiesoortige reg is wat as ius in sacra tipeer moet word en wesenlik daarop neerkom dat op die wyse 'n poging aangewend word om die lewe wat in die verlenging van die leer van die kerk staan, te bevorder. Anders gestel: die inhoud van God se Woord noop gelowiges om daarvolgens te leef en nougeset te voorkom dat daar 'n gaping tussen leer en lewe ontstaan. Kerklik gesproke kom dit daarop neer dat kerklike denke die voorwaarde is vir kerklike handelinge.

    Moontlik is die bepaling dat niemand hom op 'n wêreldlike hof met verbygaan van die kerklike vergaderings beroep nie (Ordereël 8.3.3; Ordinansie 8.2.9) (NHKA 2004:97, 100), 'n belangrike kerkordelike formulering wat aan die eiesoortigheid van die kerklike reg en kerkregering gevolg probeer gee. Berigte dat ampsdraers mekaar deur die wêreldlike reg na afloop van die agt en sestigste Algemene Kerkvergadering tot orde wou roep, is nie alleen 'n verbygaan van die kerklik reg nie (kyk Ordereëls 8.3.3, 8.5.3, Ordinansie 8.2.9 NHKA 2004:97, 98, 100) maar kan nie anders as om betreur te word nie.

    'n Herformulering van die opsig en tug as vorm van kerklike dissipline lyk wenslik as poging tot verbetering van die huidige en verwydering van enige moontlikheid tot misverstand. Daarbenewens is dit waarskynlik ook belangrik om aandag te gee aan verdere appèlmoontlikhede wat eenvoudiger en spoediger aan verskille aandag kan gee.

    Naas alles wat gestel is, moet beklemtoon word dat die Kerkorde nie 'n regsdokument is nie. Spoedige appèl is seker uit 'n wêreldse regsoogpunt belangrik, maar dit bestaan wesenlik tog ook nie daar nie. Daarnaas is appèlle, krities beskou vanuit die kerklike reg, anomalieë aangesien dit daarop neerkom dat partye nie so sterk onder die appèl van die Heilige Skrif kon kom om in 'n broederlike gesprek alle geskille op kerklike wyse by te lê nie.

     

    Literatuurverwysings

    Afrikaanse Protestantse Kerk. Kerkorde van die Afrikaanse Protestantse Kerk 1994. Pretoria: Publikasiekommissie APK.         [ Links ]

    Bouwman, H 1985. Gereformeerd Kerkrecht, Deel 2. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Botha, S J 1993. Die heil, gehoorsaamheid, struktuur en kerkreg. Professorale intreerede gelewer op 16 Junie 1993, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

    Coertzen, P 1989. Vanaf Genève na die Suidpunt van Afrika. Stellenbosch Teologiese Studies 17.         [ Links ]

    Coertzen P 1991. Gepas en ordelik. Pretoria: RGN-Uitgewers.         [ Links ]

    Coertzen, P 2000. Die herkoms van die legitimasieverklaring. NGTT XXXXI (3&4), 115-122.         [ Links ]

    Gereformeerde Kerken in Nederland. Generale Synode van Gouda 1985. Kerkorde van die Generale Synode 1987. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 1979. Kerkorde van die Nasionale Sinode 1979. Silverton: Pro Media.         [ Links ]

    Jonker, W D 1965. Om die regering van Christus in sy kerk. Professorale intreerede, Mededelings van die Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

    Kersten, G H 1980. Kerkelijk Handboekje. Utrecht: De Banier.         [ Links ]

    Nederduitse Gereformeerde Kerk. Algemene Sinode 2002. Kerkorde met Reglemente, Kerkordelike Riglyne en Funksionele Besluite soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 2002. Wellington: Lux Verbi.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Zuid-Afrika. Algemene Kerkvergadering 1904. Wetten en bepalingen voor de Nederduitsch Hervormde Kerk van Zuid-Afrika 1904. Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Pretoria.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Algemene Kerkvergadering 1992. Kerkwet en Bepalings van die Algemene Kerkvergadering 1992. Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Pretoria.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Algemene Kerkvergadering 1992. Notule van die Algemene Kerkvergadering 1992b. Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Pretoria.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Buitengewone Algemene Kerkvergadering. Notule van die buitengewone Algemene Kerkvergadering 1997. Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Pretoria.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Algemene Kerkvergadering 2004. Kerkorde van die Algemene Kerkvergadering 2004. Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Pretoria.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Almanak en Bybelse Dagboek 2005. Pretoria: Sentik.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Kommissie van die Algemene Kerkvergadering. Omdendskrywe 19/2005b, 4 Julie 2005.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Algemene Kerkvergadering 2007. Besluitebundel van die Algemene Kerkvergadering 2007a. Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Pretoria.         [ Links ]

    Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. Algemene Kerkvergadering 2007. Kerkorde van die Algemene Kerkvergadering 2007b. Argief van die Nederduitsch Hervormde Kerk, Pretoria.         [ Links ]

    Nederlandse Hervormde Kerk. Generale Sinode. Kerkorde van die Generale Sinode 1969, met wysigings tot 1986. `s-Gravenhage: Boekencentrum.         [ Links ]

    Noordmans, O 1984. Verzamelde Werken, Deel V. Kampen: Kok.         [ Links ]

    Pont, A D 1981. Historiese agtergronde van ons kerklike reg, Deel 1. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

    Pont, A D 1991. Historiese agtergronde van ons kerklike reg, Deel 2. Pretoria: Kital.         [ Links ]

    Protestantse Kerk in Nederland. Generale Synode van de Protestantse Kerk in Nederland 2003. Kerkorde van die Generale Synode 2004. Zoetermeer: Boekencentrum.         [ Links ]

    Rapport 1 Junie 2008. Transformasie + regbank = minus slaankrag, bl 17.         [ Links ]

    Rutgers, F L 1980. Acta van de Nederlandsche Synoden der zestiende eeuw. Utrecht: Van den Tol.         [ Links ]

    Spoelstra, B 1989. Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering, Handboek by die Kerkorde. Hammanskraal Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.         [ Links ]

    Van den Heuvel, P 2004. De toelichting op de Kerkorde van de Protestantse Kerk in Nederland. Zoetermeer: Boekencentrum.         [ Links ]

    Van der Watt, P B 1983. Kerkregering deur kerkvergaderinge. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers.         [ Links ]

    Van Wyk, B J 2004. Die Kerkorde en die kerklike reg in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika aan die hand van die Presbiteriaal-sinodale kerkbegrip. PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

     

     

    1 8.2.7: 'n Klag teen 'n lidmaat of ampsdraer word by die ouderlingevergadering ingedien. (i) 'n Klag teen 'n lidmaat word deur die ouderlingevergadering afgehandel. (ii) Indien 'n klag teen 'n ouderling of diaken nie deur die ouderlingevergadering onder opsig afgehandel kan word nie, word dit na die ringsvergadering verwys vir afhandeling. (iii) Indien 'n klag teen 'n predikant nie deur die ouderlinge- en ringsvergadering onder die opsig afgehandel kan word nie, word dit na die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verwys vir afhandeling (NHKA 2004:100).
    2 8.3 Tug 8.3.1: Ondersoek en tugvergaderings. Die bevoegde vergaderings om ondersoek te doen en tug uit te oefen is (i) ouderlingevergadering oor lidmate en vergaderings van komitees in die gemeente (ii) ringskommissie oor ouderlinge, diakens, vergaderings van die ampte in die gemeentes, en vergaderings van ringskomitees (iii) Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor predikante, bykomende vergaderings van die ampte van die ring, en vergaderings van die rade, kommissies en komitees van die Algemene Kerkvergadering en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (NHKA 2004 2004:100).
    3 8.1 OPSIG
    8.1.1 Opsig vind plaas deur middel van gesprekke tussen gelowiges oor leer en lewe met die oog op die behoud van die regte geloof en lewenswandel.
    8.1.2 Opsiggesprekke word in liefde gevoer en kan raadgewend, waarskuwend, teregwysend of bestraffend wees.
    8.1.3 Opsiggesprekke kan plaasvind tussen lidmaat en lidmaat, lidmaat en ampsdraer, ampsdraer en ampsdraer, ampsdraer en vergadering en tussen vergaderings.
    8.1.4 Indien opsiggesprekke misluk, word die opsig voortgesit deur 'n beswaarskrif aan die bevoegde opsighoudende vergadering voor te lê.
    8.1.5 Die beswaarskrif moet aandui: (i) Waar en wanneer die opsiggesprekke gevoer is; (ii) volledige besonderhede van die onderwerp van die gesprekke; (iii) alle inligting wat ter sake mag wees asook enige bewysstuk wat daar mag wees; en (iv) waarom die gesprekke misluk het.
    8.2 BEVOEGDE OPSIGHOUDENDE VERGADERING
    8.2.1 Die ouderlingevergadering hou opsig oor lidmate, diakens, ouderlinge, predikante, vergaderings van ampsdraers en komitees in die gemeente.
    8.2.2 Die ringsvergadering en ringskommissie hou opsig oor predikante, ouderlinge en diakens wat in die ringsgebied val, oor die gemeentes in die ring, die vergaderings van ampsdraers op gemeente- en ringsvlak en ringskomitees.
    8.2.3 Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering hou opsig oor, predikante, ringe, vergaderings van ampsdraers op ringsvlak en oor rade van die Algemene Kerkvergadering.
    8.2.4 Die Algemene Kerkvergadering hou opsig oor die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering.
    8.3 HANTERING VAN 'n BESWAARSKRIF
    8.3.1 'n Beswaarskrif teen 'n lidmaat of ampsdraer word by die ouderlingvergadering ingedien.
    8.3.2 'n Beswaarskrif teen 'n lidmaat word deur die ouderlingvergadering afgehandel.
    8.3.3 'n Beswaarskrif teen 'n ouderling of diaken word deur die ringskommissie afgehandel indien dit nie deur die ouderlingvergadering afgehandel kan word nie.
    8.3.4 'n Beswaarskrif teen 'n predikant word deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering afgehandel indien dit nie deur die ouderlingvergadering of die ringsvergadering afgehandel kan word nie.
    8.3.5 'n Beswaarskrif teen 'n vergadering, komitee of raad word by die opsighoudende vergadering ingedien en afgehandel deur die bykomende vergadering wat die bevoegdheid het om dit te besleg, indien dit nie reeds vroëer besleg kon word nie.
    8.4 UITOEFENING VAN OPSIG
    8.4.1 'n Opsighoudende vergadering skenk binne 14 dae na ontvangs van 'n beswaarskrif daaraan aandag, voer gesprekke met die betrokke partye en doen alles in sy vermoë om die saak af te handel.
    8.4.2 'n Bykomende vergadering wat daarvan oortuig is dat 'n bevoegde vergadering nie sy opsigtaak uitvoer nie, kan self ingryp en die saak besleg.
    8.4.3 'n Lidmaat, ampsdraer, vergadering, komitee of raad wat sonder grondige rede versuim om aan 'n opsiggesprek deel te neem word verder mee onder die tug gehandel.
    8.5 BEROEP OP 'n WÊRELDLIKE INSTANSIE
    Indien 'n lidmaat of ampsdraer hulle op 'n wêreldlike instansie beroep of aandui dat hulle hulle op so 'n instansie wil beroep om onderlinge geskille uit die weg te ruim, sonder om die kerklike weg volledig te volg, word onder die tug hanteer.
    8.6 TUG
    8.6.1 Tug word toegepas deur 'n bevoegde vergadering nadat optrede onder die opsig nie geslaag het nie, 'n tugklagskrif ontvang, dit ondersoek en gegrond bevind is.
    8.6.2 Een of meer belydende lidmaat of lidmate wat nie onder sensuur is nie, ampsdraer of ampdraers of opsighoudende vergadering, het die bevoegdheid en verantwoordelikheid om 'n lidmaat, ampsdraer of vergadering wat klaarblyklik volhard in 'n verkeerde leer, houding of gedrag, skriftelik by die bevoegde vergadering aan te kla, nadat onder die opsig gehandel is.
    8.7 BEVOEGDE VERGADERINGS TEN AANSIEN VAN TUG
    Die bevoegde vergaderings om 'n tugondersoek te doen en tug uit te oefen is:
    (i) Die ouderlingevergadering oor lidmate en vergaderings van komitees in die gemeente; (ii) die ringskommissie oor ouderlinge, diakens, vergaderings van die ampte in die gemeentes, en vergaderings van ringskomitees; (iii) Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oor predikante, vergaderings van die ampte van die ring, en vergaderings van die rade, kommissies en komitees van die Algemene Kerkvergadering en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering; en (iv) Die Algemene Kerkvergadering oor die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering.
    8.8 DIE TUGKLAGSKRIF
    'n Tugklagskrif moet aan die volgende vereistes voldoen:
    (i) dit moet skriftelik en duidelik leesbaar wees; (ii) dit moet ingedien word nadat opsiggesprekke plaasgevind en misluk het en binne een maand nadat die bevoegde vergadering besluit het dat tugstappe geneem moet word of indien die klagte gelê word met verbygaan van die opsig, binne 14 dae nadat die klaer van die verkeerde leer, houding of gedrag van 'n lidmaat, ampsdraer, komitee, kommissie, raad of vergadering kennis geneem het; (iii) daar moet duidelik vermeld word hoe daar onder die opsig gehandel is, of waarom daar met verbygaan van die opsig 'n klag gelê word; (iv) dit vermeld: (a) die verkeerde leer, houding of gedrag van 'n lidmaat, ampsdraer, komitee, kommissie, raad of vergadering; (b) die aard van die verkeerde leer, houding of gedrag, en waar van toepassing, enige datum, tydperk, plek en geleentheid van elke oortreding; (c) in watter opsig in ongehoorsaamheid aan die Woord en belydenis opgetree is en of die Kerkorde of kerklike besluit oortree is. (v) Die tugklagskrif moet deur die klaer en twee getuies wat slegs die klaer se handtekening bevestig, onderteken wees. (vi) Die tugklagskrif bevat die name en adresse van getuies wat die inhoud van die aanklag bevestig.
    8.9 OPSKORTING VAN KERKLIKE VOORREGTE EN AMPSPLIGTE
    8.9.1'n Vergadering van ampte of bykomende vergadering kan die kerklike voorregte van 'n lidmaat, die ampsvoorreg van 'n ampsdraer, of die lidmaatskap van lede van 'n vergadering, komitee, raad of kommissie opskort nadat die lidmaat, ampsdraer of lede van 'n vergadering, komitee, raad of kommissie aangehoor is en waar daar redelike gronde bestaan om te vermoed dat so 'n lidmaat, ampsdraer of lede van 'n vergadering, komitee, raad of kommissie 'n aanstootlike sonde pleeg wat die eer van God, die welsyn van die gemeente, die behoud van die gelowige of die goeie orde aantas.
    8.9.2 Die opskorting van die bogenoemde voorregte is nie 'n tughandeling nie en daarom moet die betrokke vergadering toesien dat binne 7 dae (Saterdae, Sondae en verklaarde Openbare Vakansiedae uitgesluit) na sodanige opskorting 'n skriftelike tugklagskrif ingedien word, soos bepaal in die Kerkorde, by gebreke waarvan die opskorting onmiddellik verval.
    8.10 TUGPROSEDURE
    8.10.1 Die prosedures by ontvangs van 'n tugklagskrif, ondersoek na 'n klag en beroep op 'n bykomende vergadering, word benewens soos in die Kerkorde bepaal, aangevul in die reglement vir prosedure by tug, soos deur die Algemene Kerkvergadering vasgestel.
    8.10.2 Indien daar enige verskil tussen die Kerkorde en die reglement is, sal die bepalings van die Kerkorde voorrang geniet.
    8.11 RIGLYNE VIR DIE ONDERSOEK VAN 'N TUGKLAG
    Vergaderings laat hulle by die ondersoek, die bevinding en die vorm van tug lei deur die
    (i) Bybel (ii) Kerkboek (iii) besluite van vergaderings van die ampte (iv) gebruike van die Kerk (v) beroepsdokumente en dienskontrakte.
    8.12 TUGHANDELING
    8.12.1 'n Bevoegde vergadering kan die tug toepas indien 'n aangeklaagde te enige tyd in die loop van 'n ondersoek skuld op sommige of al die klagtes in 'n tugklagskrif bely.
    8.12.2 De ouderlingevergadering kan, nadat bevind is dat 'n lidmaat of lede van 'n komitee of kommissie van die gemeente hom, haar of hulle skuldig gemaak het aan 'n handeling wat tugwaardig is, so 'n persoon of lid: (i) vermaan en waarsku; (ii) die gebruik van die sakramente ontsê (sensuur); (iii) van lidmaatskap van die Kerk onthef; (iv) uit die gemeenskap van die gelowiges uitsluit; en/of (v) sondanige stappe neem as wat deur die omstandighede geregverdig mag wees.
    8.12.3 Die taak van vermaning word aan die voorsitter van die ouderlingvergadering of 'n kommissie uit die ouderlingevergadering saamgestel, opgedra.
    8.12.4 Die ouderlingevergadering kan 'n lidmaat wat onder sensuur is en wat, ten spyte van getroue en volgehoue bearbeiding geen berou nie, maar verset toon, volgens die prosedure soos omskryf in die formulier vir die ban, uit die gemeenskap van die gelowiges uitsluit.
    8.12.5 'n Lidmaat word van lidmaatskap van die Kerk onthef indien die formulier van die ban nie toepaslik is nie, en sensuur nie doelmatig is nie.
    8.12.6 Wanneer 'n lidmaat van sy lidmaatskap van die kerk onthef is, word dit aan die gemeente bekend gemaak, maar wanneer die lidmaat onder sensuur geplaas word, sal die ouderlingevergadering na goeddunke handel.
    8.12.7 Die formulier van die ban word in 'n erediens gelees.
    8.12.8 die ringskommissie kan, nadat bevind is dat 'n persoon, lede van vergaderings van die ampte in die gemeentes, en vergaderings van ringskomitees hom, haar of hulle skuldig gemaak het aan 'n handeling wat tugwaardig is, so 'n persoon of lid: (i) vermaan en waarsku; (ii) vir 'n bepaalde tydperk van ampspligte onthef; (iii) van ampsvoorreg ontneem; en/of (iv) sodanige stappe neem as wat deur die omstandighede geregverdig mag wees.
    8.12.9 Die ringskommissie moet die ouderlingevergadering van sy bevinding in kennis stel en indien nodig versoek om die lidmaat die gebruik van die sakramente te ontsê (sensuur).
    8.12.10 Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering kan, nadat bevind is dat 'n persoon of lede van vergaderings van die ampte van die ring, en vergaderings van die rade, kommissies en komitees van die Algemene Kerkvergadering en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering hom, haar of hulle skuldig gemaak het aan 'n handeling wat tugwaardig is, so 'n persoon of lid: (i) vermaan en waarsku; (ii) vir 'n tydperk van ampspligte onthef met gedeeltelike verlies van versorgingsvoordele; (iii) van die amp onthef; of (iv) sodanige stappe neem as wat deur die omstandighede geregverdig mag wees.
    8.12.11 Indien 'n ouderlingevergadering, ringskommissie of die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering na 'n tugverhoor die tugklag gegrond bevind, kan die tughandeling vir 'n tydperk van hoogstens drie jaar uitgestel of opgeskort word met of sonder voorwaardes wat verband hou met die volgende: (i) Onderwerping aan opleiding en berading; (ii) onderwerping aan toesig of beheer; (iii) verpligte bywoning of inwoning by een of ander bepaalde sentrum vir 'n bepaalde doel; (iv) goeie gedrag; of (v) enige ander gepaste aangeleentheid.
    8.12.12 In gepaste gevalle kan die tughandelinge en voorwaardes vir tug, hierbo genoem, gekombineer word.
    8.12.13 Die bevoegde vergadering kan te enige tyd voor verstryking van die tydperk wat die tughandeling uitgestel is, indien daar goeie redes voor bestaan, die aangeklaagde oproep sodat oor die tughandeling besluit word.
    8.12.14 Voordat op 'n gepaste tughandeling besluit word, kan die bevoegde vergadering weer sodanige getuienis aanhoor as wat hy goeddink ten einde homself in staat te stel om 'n gepaste tughandeling te neem.
    8.12.15 Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gee aan die ouderlingevergadering en ringskommissie kennis van sy bevinding en tughandeling en kan indien nodig, die ouderlingevergadering versoek om die lidmaat die gebruik van die sakramente te ontsê.
    8.13 BEROEP OP 'N BYKOMENDE VERGADERING
    8.13.1'n Lidmaat kan 'n beroep op die toepaslike ringskommissie doen om die bevinding van 'n ouderlingevergadering te heroorweeg.
    8.13.2 Ouderlinge en diakens kan 'n beroep op die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering doen om 'n bevinding van 'n ringskommissie te heroorweeg.
    8.13.3 'n Predikant, vergaderings van die ampte van 'n ring, vergaderings van rade, kommissies en komitees van die Algemene Kerkvergadering of van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, kan 'n beroep doen op 'n vergadering wat spesiaal vir hierdie doel saamgestel word, bestaande uit die sekundi lede van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering wat nie reeds by die aangeleentheid betrokke was nie, asook 'n regsgeleerde wat deur die Raad vir Regsadvies vir hierdie doel benoem is, asook die voorsitter van die Raad vir Regsadvies wat as voorsitter van die vergadering dien, om 'n bevinding van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering te heroorweeg.
    8.13.4 Ongeag die voorafgaande kan 'n lidmaat, predikant, ouderling of diaken 'n finale beroep op die Algemene Kerkvergadering doen om 'n besluit te heroorweeg indien die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering oortuig is dat die tugklag handel oor 'n leeraangeleentheid.