SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

HTS Theological Studies

Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.2 Pretoria Jun. 2008

 

Boekbesprekings / Book Reviews

 

 

Snyman, G 2007 – Om die Bybel anders te lees: 'n Etiek van Bybellees
Uitgewers: Griffel Media, Pretoria. Bladsye: 196. Prys: Onbekend.
Resensent: Dr G J Malan (Mosselbaai)

Gerrie Snyman is verbonde aan die Departement van Ou Testament en Ou-Nabye Oosterse Studies, Universiteit van Suid-Afrika. Sy vertrekpunt met hierdie boek is dat die gebruik van die Bybel vir die teologiese regverdiging van apartheid deur kerke uit die reformatoriese tradisie die huidige lees van die Bybel vir lidmate problematies gemaak het. Die Bybel kan nie meer vandag op dieselfde manier gelees word nie. Volgens hom het die ou manier van Bybellees meegebring dat sekere Bybellesers merke op ander mense gelaat het. Om hierdie rede moet die Bybel anders gelees word.

Die boek bestaan uit 11 hoofstukke wat op 'n inleidende hoofstuk volg en uitloop op die slot. In die inleiding meen Snyman dat Bybellees vir reformatoriese lidmate dieselfde gebly het: hulle is steeds vasgevang in raspolitiese diskriminatoriese denke wat hulle in die Bybel raakloop. Hy pas dit toe op rasseverhoudinge, die gay vraagstuk in die kerk en vroue se opdraande stryd om erkenning in die kerke. Hy reken dat apartheid 'n bepaalde sistemiese denkwyse agtergelaat het, veral by blanke lidmate. Anti-Afrika en Anti-Semitiese denke sou via filosowe en teoloë soos Hegel, Bauer, Heidegger, Bultmann, Funk en Crossan invloed op Reformatoriese kerke uitoefen. Snyman, self uit Gereformeerde kring, meen Totius het apartheid teologies regverdig. Die versoening wat Jesus bring sou vanweë die invloed van Plato en die belydenisskrifte eensydig klem lê op vergifnis van sonde ten koste van heiligmaking. Dit maak die versoening losstaande van ons verbondenheid met ander mense. Die enigste oplossing sou wees om anders te begin dink. Ten einde hierdie andersoortige denkwyse moontlik te maak, moet die Bybel anders gelees word.

Wat sou hierdie anders soort lees (Hoofstuk 1) behels?  Eerstens moet lidmate oortuig wees daarvan dat 'n ander soort Bybellees nodig is. Die redes: apartheid sou die gereformeerde tradisie kragteloos gemaak het, die nuwe politieke bedeling sou die Calvinisme met sy idee van verchristeliking van die samelewing in 'n krisis gedompel het. Dit is ten nouste verbonde aan 'n letterlike interpretasie van die Bybel en 'n meganiese verstaan van die leiding van die Heilige Gees by besluite wat kerklike vergaderings sou neem. Invloed van die positivisme sou die Godsbeeld beïnvloed naamlik dat God ongenaakbaar, partisaan en feitelik sou wees. Die menslike aspek van die tot standkoming van die Bybelse tekste is verruil vir 'n verstaan van die Bybel as letterlik God se Woord. Die gevolg is dat die tekste op gesigwaarde geneem word eerder as om na die betekenis van die tekste self te vra.

Die ideologie van heteroseksualiteit sou die hantering van die gay vraagstuk bepaal (hoofstuk 2). Letterlike lees van betrokke tekste sou hierdie ideologie bevorder het, asook Augustinus se siening van die seksdaad as sondig. Die verhouding tussen man en vrou sou dié wees van onderdaan en meester. Grade van seksuele oortredings sou beweeg tussen die pole van onnatuurlike seks en seks in die huwelik. Tog is prostitusie, verkragting en veelwywery toegelaat as synde deel van die natuur. Die negatiewe uitsprake van Bybelse tekste oor homoseksualiteit kan verstaan word binne die konteks van afgodery en die eksklusiwiteit van Israel en die godsdienstige en kulturele oorlewing. Hiermee kon, vanweë strukturele resonansie met huidige sienings van hetero-seksualiteit, hetero-normatiewe beginsels terugprojekteer word na die tekste.

'n Etiek van Bybellees (hoofstuk 3) beteken erkenning dat Bybellees verantwoordelikhede meebring deur subjektiwiteit in ag te neem van by huidige lesers, die skrywers en die destydse lesers. Begrip vir die konteks en denkraamwerk waarin tekste ontstaan het open moontlikhede vir eie verstaan van tekste in nuwe kontekste met ander denkraamwerke. In gemeentes met outoritêre denkraamwerke kom magsbelange van predikante in gedrang wanneer lidmate meer oor die Bybel leer. Sulke predikante verswyg daarom maklik inligting oor die tekste ter wille van beveiliging van inkomste en statuur. Demokratisering van die gemeenskap bring wel toleransie in baie gemeentes. Gebrek aan historiese lees van tekste veroorsaak gebrek aan insig oor die ideologiese perspektiewe waaruit tekste ontstaan het asook ideologiese perspektiewe van lesers soos met die opstel van die belydenisskrifte of huidige lesers s'n. Die oplossing is die historiese lees van tekste met verantwoording teenoor die teks en die erkenning van eie vooronderstellings.

Die Bybel is letterlik verstaan as welwillende teks en daarom kamoefleer dit ons moontlike gebruik van die Bybel as wapen (hoofstuk 4). Omdat geweld deel is, veral van die Ou-Testamentiese leefwêreld, is die regverdiging van geweld met kolonialisme, lyfstraf, en die doodstraf soms maklik gepleeg. Die harde, wrede en ongenaakbare lewensetiek van die antieke wêreld kan nie bindend wees vir mense van die 21e eeu nie. 'n Bybellees met suspisie word voorgestel. Snyman ontbloot Totius se standpunte oor die Bybelse regverdiging van apartheid en die Gereformeerde sinode van 2003 oor die plek van die vrou in die kerk as destruktiewe lees van die Bybel as wapen in diens van bepaalde ideologieë.

Die letterlike lees van die Bybel word as mite ontmasker (hoofstuk 5). Letterlike lees berus op monologisiteit, naïewe realisme se onmiddellikheid van kennis en die gebruik van natuurlike oordeel ("common sense") en 'n verstaan van die waarheid wat gegrond is in die geletterdheid van 'n skrifkultuur. So 'n kontekslose lees van die Bybel bestaan eintlik nie, omdat kontekste altyd ter sprake kom.

Die beskouing oor die Bybelteks as kanon en deur God geïnspireer is die gevolg van die skrifkultuur se verstaan van waarheid (lees: letterlike lees van die Bybel) (hoofstuk 6). Inspirasie is in die Gereformeerde tradisie gesien as die manier waarop geskryf is. Kuyper en Bavinck se teorie oor inspirasie kon nie probleem van die rol van die mens met die tot standkoming van Bybeltekste oplos nie. Volgens Snyman is inspirasie eerder 'n geloofsuitspraak oor die waarde van die Bybel as dat dit iets sê oor die wyse van tot standkoming van die Bybel.

Hoofstuk 7 spreek die probleem van Skrifgesag en magsbelange aan. God se almag waaraan gelowiges hulle moet onderwerp, is die godsdienstige werklikheid wat prakties in die kerk as ideologie funksioneer. 'n Amptenary word geskep om die wil van God uit te voer aan die hand van tekste soos die belydenisskrifte en kerkordes. Mense wat nie hieraan gehoor wil gee nie, word weggewys of nie toegelaat nie. Kerke het sodoende 'n monologiese stem wat nie ander stemme toelaat nie. Voorbeeld hiervan is die hantering van die "Nuwe Hervormers" deur teologiese professore en amptenary van die NG Kerk. Aanwending van die belydenisskrifte sonder in ag neming van hulle historiese kontekste lei daartoe dat hulle as wapens kan dien vir sekere magbelange. Letterlike lees van uitsprake van Jesus oor kinders as voorbeelde van hoe mense moet glo, het Bybellees sonder rasionaliteit en kritiese vraagstelling meegebring asook Bybelonkunde. Op outoritêre manier moes lidmate aanvaar wat godsdienstige leiers se interpretasie was.

Die etiese moment in die ontmoeting met ander word aan die hand van Emmanuel Levinas se filosofiese etiek gedoen. Wat Jesus oor kinders en die koninkryk gesê het, het te make met die aanvaarding van die koninkryk as magtelose mense sonder status. Matteus 5:38-9 word in hierdie verband toegepas (hoofstuk 8).

In antwoord op die vraag hoe ons Bybellees ander raak word die teks as die "Ander" hanteer. So behou die teks integriteit sonder om 'n ideologie te dien (hoofstuk 9). Bybellees is 'n etiese handeling wat geregtigheid aan die teks moet laat geskied en nie die andersheid daarvan mag vernietig nie.

Die etiese lees van Bybeltekste is sensitiewe lees (hoofstuk 10). Die proses is kompleks en het te make met die verhoudings tussen die skrywer, die teks, die leser en die "Ander". So word gevra na die optrede, houding of gedagte wat deur die betrokke lees van 'n teks gesanksioneer word. Snyman illustreer dit aan die hand van die lees van die boek Ester.

Snyman wys in Hoofstuk 11 op die implikasies vir die verstaan van die Bybel as kanon. Kanon dui op herhaling en herinterpretasie van verhale vir nuwe omstandighede. Historiese bewussein moet lesers help om die onstaan van Bybeltekste te verstaan as langsaam en nie reglynig nie. Die verskil tussen Ou en Nuwe Testament moet erken word en magsbesluite moet erken word met die samestelling van die kanon.

Ten slotte stel Snyman: die Bybel behoort as sosiale en kulturele verskynsel gelees te word op "etieke" (etic) manier. Dit staan tenoor 'n "emiese" (emic) lees soos dié wat apartheid regverdig het.

Die boek lewer 'n belangrike bydrae tot die debat oor Skrifbeskouing. Snyman verdien lof vir sy hermeneutiese benadering, veral binne die Gereformeerde kring. Hy stel magsbelange aan die kaak en roep op tot Bybellees wat verantwoordelik is teenoor die teks en die "Ander". Dis net jammer dat die vertrekpunt veral die teologiese regverdiging van apartheid, (met in mindere mate die vrou se plek in die kerk en die gay kwessie) is, eerder as die krisis waarin post-moderniteit die letterlike lees van die Bybel geplaas het. Predikante en lidmate kan baie baat vind by die boek.