SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.64 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.64 n.2 Pretoria Jun. 2008

 

Boekbesprekings / Book Reviews

 

 

Doedens, U 2005 In het teken van tegenspraak: Steekhoudende gedachten van Søren Kierkegaard
Uitgewers: Zoetermeer: Uitgeverij Meinema. 120 Bladsye. Prys: €12,80.
Resensent: Dr Johann Beukes (Universiteit van Johannesburg)

Udo Doedens (1968-) is 'n predikant van die Protestantse Kerk in Nederland in Suid-Beierland en 'n gevestigde Kierkegaard-navorser. Hy het in 1999 in die filosofie gepromoveer aan die Universiteit van Leiden met 'n proefskrif getitel Het eenvoudige leven volgens Søren Kierkegaard. Sy behendigheid in terme van die hantering van sleutelgedagtes in die oeuvre van Kierkegaard kom hom baie goed te pas in hierdie pragtige publikasie, netjies en bekostigbaar uitgegee deur Meinema.

Hierdie boek is ten diepste 'n blootlegging van die problematiek wat daarop volg wanneer die kerk – en natuurlik gelowige enkelinge self – aan die eietydse verbruikerskultuur konformeer. Dit is ook die kultuurkritiese aspek in die boek waarop hierdie resensie die aksent laat val. Die boek wil ons naamlik deur die aanbod van enkele gedagtes van die 19e eeuse Deense filosoof Søren Kierkegaard terugvoer na die waardige eenvoud daarvan om 'n onderbeklemtoonde, eksistensieel-gelowige mens in die problematiese kulturele bedding van die vroeg 21e eeu te wees. In het teken van tegenspraak is dus nie 'n Kierkegaard-monografie nie, maar 'n boek wat eerder sleutelgedagtes van Kierkegaard as 'n kontrapunt inspan om oor die eietydse samelewing, kultuur, kerk, geloof en God self te mymer. Dit is dan ook die stemming wat die boek by 'n mens agterlaat: Eg-Kierkegaardiaans, bestaan die boek eerder uit eksistensiële mymeringe as wat dit pretendeer om 'n sistematies-filosofiese analise van die kultuur, die kerk en die teologie daar te stel.

In die Hervormde teologiese konteks, waar die verhouding tussen filosofie en teologie grootliks as kosbaar geag word, sou die vrugbare ontmoeting tussen filosofie en teologie dan ook waardeer word: die boek is onder meer 'n uitstalling van die homiletiese en pastorale potensiaal wat in die ontmoeting tussen teologie en filosofie opgesluit lê. Natuurlik is dit so dat Kierkegaard die post-Kantiaanse filosoof is wat hierdie ontmoeting minder problematiseer as enige van sy 19e eeuse tydgenote en 20e eeuse eksponente. Maar dat Kierkegaard 'n altyd-belofteryke teenwoordigheid in die kerk en teologie daarstel, weliswaar dikwels teen die grein in van dit wat normaalweg deur die kerk as vanselfsprekend geag word, blyk ook in hierdie teks weer baie duidelik.

Die teks beslaan 14 diggeskrewe hoofstukke, 'n verwysingsregister en 'n gekondenseerde Kierkegaard-bibliografie. Elkeen van die hoofstukke word deur Doedens ingelei met 'n aktualiserende refleksie oor eietydse kultuur- en geloofskwessies, wat dan opvolgend vanuit die Kierkegaard-fragmente toegelig word. Dit bring 'n inspirerende leeservaring mee. Predikante sou veel beter preekgeleiers hier vind as in sogenaamde preekbundels en die talle homiletiese "gidse" wat in die handel beskikbaar is: Vir iemand soos Kierkegaard sou dit trouens ondenkbaar wees dat 'n predikant iemand anders se preek oorpreek – hoogstens sou die prediker van eksistensiale geleiers gebruik kon maak wat self weer hermeneuties-eksistensieel begrond moet word. Maar daardie geleiers moet baie versigtig gekies word. Wanneer Kierkegaard dan wel as so 'n geleier gekies word, word die eksistensiële geloofsbegrip na die diepsinnige, die eenvoudige, die gestroopte gevoer: Kierkegaard voorsien ons van "die ander geluid" (p 7) en hy begelei ons om dié ander geluid in ons eie bestaan te kan oorsê sonder om dit bloot na te sê. Doedens munt daarin uit om Kierkegaard só aan die woord te bring dat ander enkelinge self weer tot 'n woord gebring kan word; om Kierkegaard te laat praat sodat ons self weer kan praat.

Doedens adem 'n welkome kultuurpessimisme in sy mymeringe. Hy reflekteer oor die eietydse leefwêreld as een wat slegs nog die skyn van 'n maalstroom van opwindinge vertoon, maar vanweë die hiperreële verbruikerskultuur eintlik volkome lusteloos geword het. Die begrip "hiperreële verbruikerskultuur" (ek ontleen dit vanuit Jean Baudrillard se kultuurkritiek) beteken dat die wyse van die bevrediging van behoeftes (gegewe die tempo waarmee verbruikersitems as intrinsiek betekenisgewend verselfstandig word) belangriker as die behoefte self geword het. En mense is in ons tyd werklik onvervuld en angstig. Hulle put geen vervulling en sinswaarde uit die eindelose fetisjering van verbruikersitems nie. Die hoop wat hierdie lewe en die waarborge vanuit hierdie lewe moet oorstyg, is afwesig. Die geloof wat die lewe rig én telkens weer relativeer, het in die hiperrëele kultuurbegrip van ontsakralisering, die ontwaardiging van die individu, onmiddellike verbruik en sikliese vervangbaarheid verdwyn. Daar is nou nog net "zoete broodjes en goedkoop genade" (p 7) te bespeur.

Ek het persoonlik in verskeie publikasies probeer aandui dat 'n kritiek van die verbruikerskultuur die grootste enkele uitdaging is waarvoor die Protestantse kerk in Suid-Afrika te staan gekom het. Die kerk moet teenoor hierdie kultuur te staan kom as esoteries, ánders. Die kerk mag eenvoudig nie aan hierdie kultuur konformeer nie. Tog is die wrange vrugte van daardie bondgenootskap oral op die kerklike landskap rondom ons te bespeur. 'n Menigte kerke het lank terug al weggedeins van die uitdaging om hierdie massaverbruikers van tyd, ruimtes, medemens en die natuur filosofies-eksistensieel én evangelies-eksistensieel te begelei tot 'n lewe wat bo die verbruikerskultuur uitstyg. In Doedens se gemoed is daar genadiglik nie plek vir "kliëntgerigte" predikante wat 'n "diens" lewer en 'n "produk" aflewer aan die hand van Amerikanistiese (presies 40 dae!) "programme" in lugversorgde "diensruimtes" nie. Hy het daar geen erg aan nie. Doedens is juis geïnteresseerd in predikante en gelowiges wat dwarsdeur die stompsinnigheid en oppervlakkigheid van die grootskaalse eietydse verbruikerspopularisering van die Christelike geloof kyk – daardie sosiale fenomeen wat die gerespekteerde Suid-Afrikaanse kultuurkritikus Johann Rossouw in sy opspraakwekkende boek 'n Rooi Z4 en 'n Renaissance-kasteel (Kaapstad: Zebra) met 'n skerp diskursiewe skalpel as die "gnossies" ontbloot het. Trouens, die parallelle tussen Doedens (vanuit die religie) en Rossouw (vanuit die kultuurkritiek) se nadenke oor die kultuur is hoogs insiggewend, getuienisdraend daarvan dat die verbruikerskultuur die hand in die sfeer van die religie oorspeel het en dat die pendulum stadig maar seker besig is om terug te draai na die waarde van eenvoud en onopgesmuktheid in die geloofslewe.

Doedens is net so ernstig as sy Deense voorganger oor die outentisiteit van die eenvoudige geloofslewe en soek opnuut waarde in begrippe soos die enkeling, eenvoud, die sonderlinge eie-aardigheid van die Christelike geloof, lyding, gestrooptheid, ewigheid, die paradokse van liefde en die (inderdaad gekwelde) vreugdes van gelowigwees. Doedens vind in Kierkegaard die ideale eksistensiale geleier om self eksistensieel oor geloof in die 21e eeu na te dink. Die volgende temas word hoofstukgewys in die boek hanteer: (1) Die enkeling en mense, (2) Eksistensie, (3) Geloof, (4) Sonde en vergifnis, (5) Eenvoudige wysheid, (6) Die teken van die teenspraak – Jesus Christus, (7) Die Woord van God, (8) Gebed, (9) Waarvoor ek sal leef en sterf, (10) Gesag, (11) Getuienis, (12) Die vreugde van herhaling, (13) Liefde & (14) Hierdie hartstoglose tyd. Elkeen van hierdie hoofstukke bevat aforistiese kosbaarhede van Doedens se Kierkegaardiaanse anatomisering van die verbruikerskultuur. Net enkele snedes ter prikkeling, telkens vry en kontekstueel vertaal uit die Nederlands:

"Verwag geen troos van romerige sjokolades en robuuste 4x4's nie – voor die dood gaan die ruilhandel reguit berg-af ..." (p 10);

"Volgens Kierkegaard is daar in hoofsaak twee maniere waarop die enkeling oor die ewigheid kan leer praat. Die eerste manier leer die enkeling vanuit die filosofie, veral van die mees konsekwente van haar beoefenaars, die Griekse filosoof Sokrates. Die tweede manier is verbonde aan die Christelike geloof en die figuur van Jesus Christus. Sokrates en Christus was ware enkelinge, wat elk op hul eie wyse geleef het kragtens 'n nie-ekonomiese absolute" (p 11);

"Die bepaling van die gees is: die enkeling. Die bepaling van die dier is: die massa. Die Christendom is gees en staan dus in betrekking tot die kategorie van die enkeling en nie die massa nie" (p 14);

"Die keuse vir 'n onvryheid voor die verbruikerskultuur sou Kierkegaard sonde noem" (p 18);

"Die hoogste waartoe 'n mens in staat is, is om te kies dat God hom sal help" (p 22);

"Die lewe moet beproef juis ter wille van die geloof: solank mense nie beproewing ervaar nie, sal daar altyd die geneigdheid wees om die gansandere God 'Onze Lieve Heer Gerritje' te noem" (p 30);

"Alle kwaad, alle onreg, kan teruggevoer word na die wantroue, die ongeloof van die enkele mens" (p 38);

"Sokrates is vir Kierkegaard 'die eenvoudige wyse' – daarom kan Sokrates sê: 'Ek weet dat ek nie weet nie'" (p 46). Die Christendom het vergeet wat dit beteken om eenvoudig te wees, om te sê dat ek weet dat ek nie weet nie;

"In die naam van die lewende paradoks Jesus Christus kry menslike onmag, verlatenheid en gebrekkigheid deel aan God se almag, voorsienigheid en barmhartigheid. Dit is die soort ruilhandeling waarop ons eerder behoort te fokus" (p 69);

"Jy kan jouself uitbid net soos wat jy jouself kan uithuil, wanneer daar geen trane meer oor is nie. En wanneer jy jouself so uitgebid het, bly daar net een woord oor: Amen" (p 70);

"Die krisis van die kerk, die krisis van die moderne wêreld, is 'n gesagskrisis – mense plaas hulle nie meer stilswyend en gedemp onder God se gesag nie. Mense klou nou nog net aan mekaar, mense vertrou nog net die groot groep. Mense het God dood verklaar en daarmee 'n streep getrek deur onvoorwaardelike gesag. Getuig dit van 'n buitengewone werklikheidsin of 'n geslepe ongehoorsaamheid?" (p 82).

Die boek bestaan uit tientalle sulke intrigerende opmerkings, afgesien van die ruim gesiteerde Kierkegaard-tekste, wat natuurlik self altyd boeiend is. Udo Doedens se In het teken van tegenspraak sal nog vir geruime tyd 'n welkome plek op my studeertafel hê. Ek voorsien dat ander lesers ook so daaroor mag oordeel.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License